SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.73 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Town and Regional Planning

On-line version ISSN 2415-0495
Print version ISSN 1012-280X

Town reg. plan. (Online) vol.73  Bloemfontein  2018

 

VAN DIE REDAKTEUR

 

From the Editor

 

 

Stadsbeplanning het saam met verstedeliking van die mens ontwikkel. Die oudste geskrif bekend oor beplanning is dié van die Griek Hippodamus (vyfde eeu voor Christus), maar ongelukkig is daar geen kopie bewaar nie en ons weet slegs daarvan deur Aristoteles se geskrifte. Die volgende werk wat bekend is, is die Romeinse argitek Vitruvius se De Architecture, 'n verhandeling in tien antieke boekdele oor Griekse en Romeinse argitektuur, in Engelse vertaling bekend as The ten books on architecture. Dit kom uit ongeveer 28 v.C. en een boek handel oor die ontstaan en uitleg van stede. Die volgende vername werk oor argitektuur en stadsbeplanning wat eers in 1452 gepubliseer is, is Leon Battista Alberti se De re aedificatoria (Oor die boukuns). Vanaf die vyfde eeu voor Christus tot aan die begin van die twintigste eeu was stadsbeplanning gebaseer op die uitleg en ontwerp van stede, meestal deur argitekte. Hierdie tipe beplanning is bloudrukbeplanning genoem want dit was 'n uitleg wat slaafs nagevolg moes word soos met 'n bouplan. Die plan was staties en verandering het maar stadig plaasgevind.

Stadsbeplanningsteoretici begin nou om hulle in die tyd besigte hou met die WAT-vraag in beplanning. Die inhoud van beplanning is nou onder bespreking, en word die Teorie IN Beplanning genoem, ook bekend as Substantiewe Teorie.

In 1909 word die eerste twee universiteitsdepartemente van stadsbeplanning in onderskeidelik Harvard (VSA) en Liverpool (Engeland) geopen. Beplanners se werk was nou om planne te maak, om riglyne op te stel waardeur planne afgedwing kon word en dan te sorg dat dit toegepas word. Die hele begrip "civic design" van Abercrombie in sy Town end country planning (1933) laat mens besef dat stadsbeplanners aan die begin meer holisties oor sake gedink het.

Saam met die Tweede Wereldoorlog kom geweldige ontwikkeling in die natuurwetenskappe, nuwe benaderings tot ekonomie en bestuur maar ook die uitvinding van medisyne soos penisillien. Dit lei tot 'n bevolkingsontploffing in die eerste twee dekades ná die oorlog en lewer die term "baby-boomers" op. Nou werk die bloudrukbeplanning nie meer nie en planne moet voortdurend aangepas word. Beplanning word nou beheer deur die proses van beplanning eerder as die produk en word prosesbeplanning genoem. Die kernvraag nou is die HOE-vraag. Stadsbeplanningsteoretici hou hulle besig met die Teorie VAN Beplanning bekend as Prosedurele Teorie.

Hall (1990: 327) beskryf die verwikkeling soos volg:

"... the discipline of physical planning changed more in the 10 years from 1960 to 1970, than in the previous 100, possibly even 1000 years. The subject changed from a kind of craft, based on personal knowledge of a rudimentary collection of concepts about the city, into an apparently scientific activity in which vast amounts of precise information were garnered and processed in such a way that the planner could devise very sensitive systems of guidance and control, the effects of which could be monitored and if necessary modified."

Hierdie rasioneel-omvattende beplanningsproses soos beskryf deur Meyerson (1956) en Banfield (1959) word deur Lindblom (1959) en ander bevraagteken omdat dit, volgens hulle, nie haalbaar is nie. Davidoff (1965) kom tot die gevolgtrekking dat beplanners nie meer neutraal ten opsigte van waardes kan staan nie. Dit lei uiteindelik daartoe dat Klosterman (1978) bevind dat waardevrye beplanning in beginsel onmoontlik is, aangesien beplanning wesenlik polities van aard is. Dit gaan oor wie kry wat, wanneer, waar en hoe. Beplanning word nou beheer deur waardes en staan bekend as Normatiewe Beplanning. Normatiewe Teorie handel oor normatiewe beplanningsvrae, die Teorie VIR Beplanning, en dit poog om die WAAROM-vraag te beantwoord (Steyn, 2015: 9).

Die moderne lewe met sy kompleksiteit het plek gemaak vir 'n hele reeks van professies wat elk net een deel van die taak van die vroeëre argitek sou doen. In Suid-Afrika het die skakeling met argitektuur in die akademie vir jare voortgeduur en het verskeie departemente van Stads- en Streekbeplanning vanuit argitektuur ontstaan. Daar was dus vir 'n lang tyd persone wat beide argitekte en stadsbeplanners was. Hulle was dan instaat om, alhoewel stadsbeplanning meestal twee-dimensioneel is, ook drie-dimensioneel te dink. Later het hierdie kontak met argitektuur tot 'n groot mate verdwyn met die koms van die beplanningspan wat bestaan uit beplanners vanuit verskillende vakgebiede soos geografie, ekonomie en sosiologie. Baie van hierdie tipe beplanners is meesters op hul eie gebied maar het nie meer die vermoë om drie-dimensioneel te dink nie.

Dit bring die gesprek nou by stedelike ontwerp waaroor hierdie spesiale uitgawe dan ook gaan. Prof Paul Kotze sou aanvanklik die Gasredakteur wees, maar het ongelukkig onttrek. Hy is die geskikste persoon om hierdie inleiding te skryf. Hy was by beide Kaapstad en Wits Universiteite betrokke waar 'n meestersgraad in stedelike ontwerp in Suid-Afrika aangebied word. Baie persone in Suid-Afrika het ook 'n kwalifikasie in die buiteland verwerf.1

Volgens Van den Berg (1981: 35), in sy Inleiding tot de Planologie, beteken die begrip Stedebouw2"het ruimtelijk vormgeven aan een groep gebouwen: hun (rang) schikking in de concrete ruimte, ten opzichte van elkaar en van die onbebouwd te houden terreinen ertussen en eromheen, met het oog op een wijder ruimtelijk verband. ... Het begrip 'stedebouw" moet men derhalve niet erg betrekken op een stad, maar op elke plaats of nederzetting: het slaat ook op een dorp of gehucht, of op een recreatiecomplex." Barnett (1982: 12) skryf: "Urban design is the generally accepted name for the process of giving physical design direction to urban growth, conservation, and change. It is understood to include landscape as well as buildings, both preservation and new construction, and rural areas as well as cities." Dit gaan dus om stedelike omgewings te ontwerp sonder om die geboue te ontwerp, maar om oop ruimtes te skep wat gebruikersvriendelik is en aangenaam is om te gebruik. 'n Balans moet gevind word tussen die belange van die privaatsektor, die regering, die publiek as gebruikers, en die omgewing (natuur- en/of kultuuromgewing) waarin dit plaasvind.

Die idee van hierdie spesiale uitgaw was om stads- en streekbeplanners bloot te stel aan sommige stedelike ontwerpprojekte en -benaderings. In die keuringsproses het enkele artikels gesneuwel en moes twee artikels wat ander aspekte van stedelikheid aanspreek ook in die bundel ingesluit word.

Die volgende artikels spreek stedelike ontwerp aan:

Schoulund & Landman argumenteer dat hoë kwaliteit openbare ruimtes soms deur spontane ontwikkeling van projekte ontstaan, en waarsku teen 'n te rasionele benadering tot stedelike ontwerp.

Viviers argumenteer dat in die Verkykerskop -projek die kombinasie van ontwerp-benaderings 'n moontlike antwoord vir multi-funksionalite kan wees. Die artikel toon dat indien genoeg denke en fondse in 'n plattelandse projek belê word, dit dinamiese oplossings kan bied.

Cloete & Yusuf se artikel kyk na enkele openbare oop ruimtes in Durban soos die Goue Myl wat as suksesvol beskryf kan word, want dit word goed gebruik en is hoogs leefbaar, terwyl ander openbare ruimtes minder veilig is en soms glad nie snags gebruik kan word nie

Die ander twee artikels spreek elemente van stedelikheid aan:

Van Niekerk argumenteer dat Suid-Afrika 'n nuwe beleid tot die rol van behuising as stedelikheid moet ontwikkel om stadskruip teen te werk.

Conradie ontwikkel

'n navorsingsplatvorm wat dit moontlik maak om die stedelike skaduwee-ontwerp te bestudeer. Die effek van straatwydte, gebou hoogte, straatuitleg, oriëntasie en hoeveelheid sonlig beskikbaar vir bome en plante sal 'n groot invloed uitoefen om leefbare oop ruimtes en strate te voorsien.

 

VERWYSINGS / REFERENCES

Barnett, J. 1982. An introduction to urban design. New York: Harper & Row Publishers.         [ Links ]

Hall, P. 1988. Cities of tomorrow. Oxford: Basil Blackwell.         [ Links ]

Steyn, J.J. 2015. Reforming normative planning: Essays on a Christian approach to planning / Hervorming vir normatiewe beplanning: Opstelle oor n Christelike benadering tot beplanning. Orania: Prisca Uitgewers.         [ Links ]

Van den Berg, G.J. 1981. Inleiding tot de planologie: Voor ieder een plaats onder de zon? Alphen aan den Rijn: Samson Uitgewerij.         [ Links ]

 

 

1 Skrywer het in 1979 aan Toronto Universiteit die graad M.Arch (Urban Design) verwerf.
2 Stedebouw is die Nederlands vir Stedelike Ontwerp.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License