SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.72 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Town and Regional Planning

On-line version ISSN 2415-0495
Print version ISSN 1012-280X

Town reg. plan. (Online) vol.72  Bloemfontein  2018

 

EDITORIAL

 

Van die redakteur

 

 

Prof. Das Steýn 2018

Om die hede te verstaan, is dit nodig om die verlede te verstaan. Ongelukkig het ons dikwels ook te doen met fopnuus en die verdraaiing van die verlede. Geen wonder dat George Orwell gewaarsku het dat "Who controls the past controls the future. Who controls the present controls the past" Dus moet beplanners hul feite kontroleer, aangesien foutiewe inligting die toekoms in 'n verkeerde rigting kan stuur.1 Verder moet onthou word dat inligting/gebeure deur 'n ideologiese bril bekyk word. Die geskiedenis word dus deur 'n waardebril beoordeel. Mense met verskillende waardes sal dus die geskiedenis verskillend beoordeel. Dit is hier waar beplanners koelkop ideologiese stellings met feite moet konfronteer. 'n Mens kan die mooiste ideologiese planne hê, maar dit moet aan die werklikheid (feite) getoets word. Ons leef egter in 'n tydperk waar feite nie meer deur sommige politieke rolspelers as belangrik beskou word nie, maar eerder die politieke steun wat deur populisitiese praatjies verkry kan word (sien derde tydvak hieronder).

Die aanloop hiertoe is te verstane as J.H. van den Berg (1977) twee geestesomwentelinge wat die Westerse geskiedenis in drie tydvakke deel, onderskei. Die eerste omwenteling vind kort voor 1700 en die tweede omstreeks 1900 plaas.

Die eerste tydvak is die van vóór 1700 wat deur geloof in God gekenmerk is. Toe word algemeen aanvaar dat alle mag deur God gegee is met die teokrasie as regeringswyse (Van den Berg, 1977: 150).

Die tweede tydvak strek van ±1700 tot ±1900 en dit word gekenmerk deur die mens wat op rasionele wyse die natuurwetenskappe beoefen, maar alles in die geesteswetenskappe ook só wil bedryf. In hierdie tydvak van die wetenskap word die parlementêre demokrasie as die ideale staatsvorm geag.

Die derde tydvak is dié van die politiek waaroor alles gepraat word en alles relatief is. Van den Berg (1977: 157) noem hierdie staatsvorm "psythokrasie" wat afkomstig is van die Griekse woord "psythos" wat volgens hom "oorbabbeling" beteken oftewel die heerskappy van die babbelaars in die tyd van demokratisering waar die mening van die medemens die maatstaf is. In wetenskaplike terme val dit saam met die post-modernisme.

Godsdiens, en meer spesifiek die Christendom het 'n leidende rol gespeel in die ontwikkeling van die boublokke van die Westerse beskawing. Dit het die reëls van die samelewing, die regspraak asook die klem op individuele vryheid met gepaardgaande verantwoordelikheid, die rede asook kapitalisme en deelnemende regering tot stand gebring. Ongelukkig het die nuttigheidsleer asook die sosialisme in die vorige eeu, nuwe filosofiese benaderings tot probleme beklemtoon. Hoewel die Europese beskawing hoogs suksesvol was, is dit na die Tweede Wereldoorlog en die student-opstande van 1968/1969, deur die kulturele Marxisme2bevraagteken en in die beskuldigde bank geplaas.

Dit is dus nodig om te verstaan wie Karl Marx is en wat sy begrip van die geskiedenis behels. Hy karakteriseer die geskiedenis as negatief; elke historiese tydperk word as 'n proses van vervreemding beskou, waarin mense deur hul afhanklikheidsverhoudings ingedeel word as slagoffers of onderdrukkers. Dit wat met jou gebeur, is iemand anders se skuld en die staatsmag moet nou gebruik word om dit reg te stel. In hierdie era van die babbelaars is selfs die waarheid nie 'n faktor nie want die waarheid is wat die meerderheid besluit3 en die stryd is dus nou om die hart en rede van die babbelaars aan te spreek.

Die slagspreuk in beplanning wat alle probleme moet oplos is 'sosiale geregtigheid', maar mense besef nie dat geregtigheid 'n etiese vraag is nie. Die oorsprong is normaalweg vanuit waardebegrippe of godsdienstige standpunte of filosofiese benaderings tot die lewe en gemeenskap waar dit afspeel. Dit het te make met die verhouding tussen individue asook die verhouding met die gemeenskap, ook tussen verskillende gemeenskappe en teenoor die groter wêreld. Dit is geen waardevrye begrip nie maar 'n Marxistiese siening van die geregtigheid. Nou moet afstand gedoen word van onreg van die verlede om te toon dat jy in pas is met die hede. Hoe meer afstand jy kan doen, wys dat jy deugdelik is. Wie dus die verste verwyder is van die onderdrukker en die minste na hom lyk, praat die waarheid!

Geregtigheid beteken dat alle mense voor die wet as gelyk geag word en so behandel moet word. Die reg moet nie oorboord gegooi word om multikulturalisme te bevorder en die individu aan bande te lê deur selektiewe vryspraak en wetgewing om sogenaamde gelykheid af te dwing nie. In beplanning moet populistiese uitsprake deur politici deur feite gekonfronteer word. Goeie bedoelings of die herverdeling van rykdom gaan nie in Suid-Afrika die werksgeleendhede skep om die armoede vraagstuk op te los nie. In alle lande waar die resep gevolg is, het dit gelei tot groter armoede en agteruitgang.

Die Nobelpryswenner Friedrich von Hayek waarsku in sy boek The road to serfdom dat vryheid beteken dat die individu beide die geleentheid asook die verantwoordelikheid van keuse het, want elke aksie het gevolge -vryheid en verantwoordelikheid is onlosmaaklik verbind.

From the fact that people are very different it follows that, if we treat them equally, the result must be inequality in their actual position, and that the only way to place them in an equal position would be to treat them differently. Equality before the law and material equality are therefore not only different but are in conflict with each other; and we can achieve either one or the other, but not both at the same time. (Friedrich August von Hayek).

 

 

1 In 'n artikel "Planning in the face of power", in die Journal of the American Planning Association 48(1), pp. 67-80, het Forester, J. daarop gewys dat inligting (information) verskillende tipe mag vir beplanners kan inhou, maar dat hul dikwels deur vals inligting (misinformation) gekonfronteer word.
2 "The standard definition of cultural Marxism is that, unlike classical Marxism, it is an ideology preoccupied with the transformation of Western culture generally rather than the replacement of Capitalism with Communism. Cultural Marxists are dedicated to gender equality through the abolition of male and female traditional roles in society; to sexual equality through the downgrading of heterosexuality and the celebration of polymorphous sexual relations; to the replacement of Christian morals with politically correct morals." (Duchesne, R. 2017. Faustian man in a multicultural age. London, Arktos).
3 As die meerderheid sou besluit dat 1 + 1 = 3, dan is dit drie.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License