SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.8 número1Gender and Christology in Africa for social and political involvementThe female body on the dance floor: Reclaiming power from the dance floor in Mark's Herodian daughter índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Stellenbosch Theological Journal

versão On-line ISSN 2413-9467
versão impressa ISSN 2413-9459

STJ vol.8 no.1 Stellenbosch  2022

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2022.v8n1.a5 

GENERAL ARTICLES (ARTICLES FROM ALL THEOLOGICAL DISCIPLINES)

 

Verskuiwing van die Teologiese Skool van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika na die Universiteit van Stellenbosch

Conversion of the School of Theology of the United Reformed Church in South Africa to the University of Stellenbosch

 

N.C. Philander

Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika nphil@sun.ac.za

 

 


ABSTRACT

In September 1998, the University ofthe Western Cape (UWC) terminated employment contracts of 51 lecturers, including six lecturers of the Uniting Reformed Church in Southern Africa (URCSA), due to a process of rationalisation. UWC unilaterally suspended the employment contracts of six church lecturers. The curatorium considered this action as a breach of contract, in view of the 1973 agreement of the church with UWC. In response to a presentation by Prof. G.D. Cloete at the URCSA Cape Regional Synod 1998 entitled: "Report of the future of the Faculty at the University of Western Cape," the Synod assigned the task to the Cape Regional Synod Curatorium "to protect the interests of its students and lecturers; then (b) ensure the best possible theological training for future ministers."
A historical overview about the move of the Theological School of the Uniting Reformed Church in Southern Africa (URCSA) to Stellenbosch University (SU) follows. The article comprises letters, reports and collective decisions of the church that deal with the relocation of the Religion and Theological Faculty from UWC to SU.

Keywords: Theological training; URCSA; curatorium; University of the Western Cape; Stellenbosch University


 

 

1. Proses van rasionalisasie

In Die Ligdraer, amptelike nuusblad van die VGKSA, jaargang 60, nommer 7, van 14 November 1999, het die voorsitter van die Kuratorium van die VGKSA, dr. J.N.M. Hartney in 'n artikel onder die titel: "Beëindiging van die kontrak vir die kerk veel pynliker as vir UWK1" soos volg gereageer op die opmerkings van prof. Peter Vale, viserektor van die UWK:

Dit is die Kuratorium se verantwoordelikheid om te waak oor die gehalte en die inhoud van die teologiese opleiding van die Kerk se predikante. Vanweë verskeie ontwikkelings oor die afgelope twee jaar moes die Kuratorium telkens met groot versigtigheid vra of die opleidingsbehoeftes soos vereis deur die Kerk aan die UWK bevredigend vervul word. Na die afdanking van ses dosente aan die Teologiese Fakulteit (September 1998), insluitende vier lidmate van die VGKSA waaronder alle dosente in kerkgeskiedenis, kerkreg en Grieks en insluitende prof. JC Adonis, een van die drie kerklike dosente wie se pos deur die kontrak gewaarborg moes wees en waartoe die VGKSA jaarliks 'n finansiële bydrae maak, was dit duidelik dat dit onder die omstandighede nie langer sou kon gebeur nie" (Beëindiging van die kontrak vir die kerk).

In die lig van hierdie verwikkelinge moes die kuratorium poog om uitvoering te gee aan die opdrag van die sinode. 'n Voorstel van die rektoraat dat die VGKSA en UWK 'n'n fees reël ter beëindiging van die kontrak, is deur die kuratorium van die hand gewys. Die kuratorium verseker die viserektor van die UWK, prof. Peter Vale, daarvan dat die beëindiging van die kontrak met die VGKSA des te meer pynlik is na die intense verhouding van sewe-en-twintig jaar en 'n trotse gemeenskaplike geskiedenis. Die kuratorium het egter die opdrag om die belange van die studente en die teologiese opleiding van die kerk te dien. Die viserektor van die UWK stel 'n universiteitskommissie saam om die oorgangsmaatreëls vir die beëindiging van die ooreenkoms tussen die kerk en die universiteit teen 31 Desember 1999 te laat realiseer. Die dokument ter uitvoering hiervan is opgestel deur die universiteitskommissie, gedateer 29 Junie 1999 en lui soos volg:

Die volgende reëlings word deur die Universiteit voorgestel:

1. Die BTh- en die BD-kursusse word uitgefaseer. Geen nuwe studente sal ingeskryf word vanaf 2000 nie, maar die Universiteit onderneem om die nodige modules vir huidige ingeskrewe studente te bly aanbied.

2. Formele beëindiging van die ooreenkoms:

3. Die Universiteit is bereid om van die vyf jaar-kennisgewingstydperk wat deur die kontrak bepaal word, afstand te doen en stel beëindiging van die kontrak op 31 Desember 1999 voor.

4. Vir 1999 eis die Universiteit slegs twee derdes van die VGKSA se finansiële bydrae (in die lig van prof. Adonis se afdanking). Na die beëindiging van die ooreenkoms sal die VGKSA geen verdere finansiële verantwoordelikhede met betrekking tot personeel hê nie (Beëindiging van die kontrak vir die kerk).

As gevolg van onsekerhede met betrekking tot die voorgestelde verskuiwing van teologiese opleiding vanaf die UWK na die Universiteit van Stellenbosch (US), het Die Ligdraer, amptelike nuusblad van die VGKSA, die nuuskorrespondent, ds. Danie Kuys, gevra om 'n onderhoud met prof. Peter Vale van die UWK te voer.

Laasgenoemde het soos volg gereageer:

The Uniting Reformed Church made us, and the University of the Western Cape made the URCSA.

Hy wys voorts daarop dat hy die voorgestelde verskuiwing van teologiese opleiding van die VGKSA na die US as 'n persoonlik verlies ervaar. Hy is egter nie onkundig oor die historiese bande tussen hierdie twee instellings nie en is gretig om die skeiding te aanvaar. Professor Vale is egter realisties betreffende die finansiële uitdagings waaronder universiteite, insluitend die UWK, gebuk gaan. Hy wys daarop dat wanneer universiteite genoop word om die aanwending van hul finansiële bronne in lyn te bring met die aanvraag na akademiese kursusse, teologie onder andere meestal aan die kortste end trek. Ongeag die universiteit se finansiële dilemma is Vale van mening dat die UWK nie die kwessie rakende die VGKSA goed hanteer het nie. Hy beskou die feit dat die VGKSA se behoeftes nie na behore aangespreek is nie as 'n pynlike en ongelukkige gebeurtenis. Vale is van mening dat dié afloop die UWK emosioneel en spiritueel armer laat. Vale het gesê: "Severing our ties with the URCSA and its students, will jettison part of our birth right."

Hy is egter steeds optimisties daaroor dat die moontlikheid bestaan om met die VGKSA te heronderhandel ten einde die historiese bande met die VGKSA te herstel en die teologie-studente sodoende by UWK te akkommodeer. Indien die deur egter van die kant van die VGKSA af toegemaak blyk te wees, hoop hy dat dit tog oopgedruk kan word. In aansluiting by die voorstel van die Nasionale Departement van Opvoeding in die gees van samewerking op streeksvlak glo Vale dat die UWK, die VGKSA en die US kan saamspan in die opleiding van die VGKSA-predikante. Volgens hom kan die graad wat studente in hierdie geval ontvang die stempel van die UWK sowel as die US dra. Hy kom tot die slotsom dat dit waaroor onderhandel moet word tot voordeel van al die betrokkenes moet wees.

Prof. G.D. Cloete van die Teologiese Skool, UWK, skryf in Die Ligdraer 60(7) van 14 November 1999 onder die opskrif: "Werk liewer saam met US, UWK":2

Daar word in die reaksie van die Kuratorium op die onderhoud met prof. Peter Vale tereg daarna verwys dat ek die voordrag aan die Sinode gedoen het om "ander opsies te oorweeg". Daarmee mag dalk die indruk geskep word dat ek die huidige inisiatiewe om die VGK se opleiding na Stellenbosch te verskuif, steun. Ek is net so ongelukkig oor die wyse waarop die UWK die VGK behandel het met betrekking tot die Fakulteit en die afdanking van kollegas. Alles wat in die genoemde verslag hieroor staan, steun ek ook persoonlik met my hele hart. Of dit in hierdie stadium al moes lei tot 'n breuk met die UWK is ek nie so oortuig van nie. As iemand wat die hele tyd by die proses van onderhandelinge betrokke was, glo ek dat daar nog 'n baie goeie gesindheid en openheid vir die VGK by die UWK is.

Dit word ook weerspieël in die "skuldbelydenis" en die uitnodiging van prof. Peter Vale om weer te kom praat. Ek sou liewer ernstig wil pleit dat ons in hierdie aangeleentheid 'n ander opsie oorweeg, naamlik samewerking. 'n Mens sou op die verloop van die proses kon ingaan en allerlei beskuldiginge teenoor mekaar kon maak. Ek dink nie dat dit ons ver sal bring nie. My voorstel is dat ons dringend sal soek na 'n gesamentlike gesprek tussen die US, die UWK en die VGK. Ek dink dat die VGK daarin die inisiatief moet neem. Dit pas by ons aard as kerk. Waarom samewerking? Om verskillende redes. Ek noem 'n paar: Die huidige inisiatiewe geskied in 'n sfeer van emosie. Alhoewel die Kuratorium sê dat die besluit gebaseer is op die feit dat UWK nie meer aan die VGK se behoeftes vir teologiese opleiding voldoen nie, weet almal dat dit eintlik emosioneel gedra word deur die ongelukkige gebeure wat die afgelope tyd plaasgevind het. As dit ons diepste beweegredes word, sal ons gou genoeg rede vind om ook by Stellenbosch te wil weggaan. Samewerking erken die lang geskiedenis tussen die UWK en VGK waarin pragtige dinge gebeur het. Ons was instrumenteel om 'n fakulteit met 'n sterk ekumeniese karakter daar te stel. Ons gee nou die indruk dat ons die ander kerke in die steek laat. Uit ons verbintenisse is die Belydenis van Belhar gebore met mense soos pro ff. Bam, Durand en Smit wat 'n rol gespeel het. So het ons saam met die UWK nasionaal en internasionaal bekendheid verwerf. Ons studente word by UWK opgelei in 'n sfeer wat baie nader aansluit by dit waaruit hulle kom en waar hulle ook weer sal gaan bedien. Met alle respek is Stellenbosch nog in vele opsigte "vreemd" vir ons en is daar ook nog ideologiese drempels wat oorgesteek sal moet word. Alhoewel dit nie 'n verskoning mag wees nie, sal ons ook oneerlik met onsself wees as ons dit nie erken nie. Dit is ook die soort sentimente wat binne die kerk en onder die studente 'n rol mag speel. Akademiese gehalte moet sentraal staan, maar ons mag hierdie sentimente nie ignoreer nie. In 'n periode waar ons nog besig is om te besin oor die toekoms van teologiese opleiding vir die VGK lyk dit my dat dit dalk 'n oorhaastige besluit is om 'n skuif te maak. Samewerking binne breër verband is juis 'n goeie eksperiment vir die kerk. Hoe moet hierdie soort samewerking lyk?

Uiteraard sal die detail daarvan uitgewerk moet word en daarvoor het ons hier nie die ruimte nie. Maar dit sal daarop moet neerkom dat die VGK-studente 'n deel (die begin) van hulle opleiding by die UWK open en die res by US. Dit gee aan hulle ekumeniese blootstelling, maar ook 'n sterk afronding in hulle eie gereformeerde tradisie. Dit gee aan hulle 'n blootstelling van die "wêreld" van die VGK en die "wêreld" van die NGK. So bevorder ons eenwording, veral as die NGK dieselfde kan doen.

Is dit prakties uitvoerbaar? Ek dink so, en ons moet ook ons bronne en kragte met mekaar deel, gegee die huidige krisis in teologiese opleiding. Baie van die beplanning wat reeds gedoen is, kan behou en aangepas word. Dit hang af of daar 'n goeie wil is. Met my jare van ervaring met Stellenbosch, kan ek my nie indink dat hulle nie hiervoor te vinde kan wees nie. En die UWK gee duidelike seine dat hulle dit sal wil ondersteun. Op ander vlakke werk die universiteit in die streek reeds saam. Die VGK het nou 'n wonderlike geleentheid om samewerking te bevorder tussen twee histories belangrike fakulteite in 'n gees van versoening wat die land wil hê en waartoe die kerk geroep is.

 

2. Verskuiwing na die Universiteit Stellenbosch 1998-2000

Hartney se interpretasie van die UWK se besluit was dat dit in wese daarop neerkom dat die opleiding van leraars by die UWK gestaak is. Die kuratorium moes inderhaas 'n nuwe plek vir die opleiding van leraars van die VGKSA vind. Na vele oorwegings is besluit op die Fakulteit Teologie aan die US (Hartney NGTT Deel 51 Supplementum Teologie 150+ 2010:118). Volgens Hartney sou die verskuiwing van die teologiese opleiding van die VGKSA vanaf die UWK na die US die beoefening van teologie aan die Fakulteit Teologie van die US ingrypend verander. Hartney maak die volgende stelling:

Na die val van apartheid en die uiteindelike oopmaak van die deure van geleerdheid (uit die Vryheidsmanifes oorgeneem) vir alle burgers van die land, sou vanaf 2000, met die eeuwisseling, die opleiding van leraars saam met dié van die Universiteit van Stellenbosch by een en dieselfde plek wees. Uiteindelik sou al die verskillende strominge nou saamvloei in 'n groter wordende stroom (Hartney 2010:118).

Hartney stel dit duidelik dat die Kuratorium van die VGKSA Streeksinode, Kaapland, ander opsies oorweeg het, naamlik om alle universiteite waar die teologiese opleiding voortgesit kon word as "nasionale bates" te benader (2010:118). Die gevolg van die rasionaliseringsproses by UWK was dat die verkleinde Fakulteit Godsdiens en Teologie nie langer as onafhanklike fakulteit sou voortbestaan nie, maar voortaan as deel van die Departement van Lettere sou funksioneer (2010:118). Prof. G.D. Cloete was van mening dat daar eerder met die Universiteit van Stellenbosch saamgewerk moes word, as om die Teologiese Skool daarheen te verskuif (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US).

Tydens die Streeksinode van Kaapland, September 1998, is soos volg besluit:

Die Sinode doen 'n beroep op kerkrade en lidmate om ons studente in die teologie en veral proponente met spesiale verwysing na vroue-proponente hartlik te ondersteun deur voorbidding en gawes.

Die Sinode gee opdrag aan die kuratorium om weer eens te kyk na die opleidingsaspek van studente insake die kerkleer en algemene regsleer.

Die sinode versoek die kuratorium om deur die kerk se regsverteenwoordigers die moontlikheid van regsbenadeling van die VGK in die afdankings by die Fakulteit Godsdiens en Teologie aan die UWK te ondersoek.

Die sinode is van oordeel dat die huidige beklemtoning van natuurwetenskaplike opleiding ten koste van onderrig in die sosiale wetenskappe, insluitende teologie, 'n ernstige gevaar vir die toekoms van die gemeenskapslewe in Suid-Afrika inhou.

Die Sinode besluit om sover moontlik en steeds biddend die taak van die kerk ten opsigte van die teologiese opleiding te midde van die agtergeblewe gemeenskappe en histories swart universiteite te handhaaf en te versterk. Die kerk se opleiding moet ten alle tye binne die konteks en konflik van die arm gemeenskappe geskied.

Die Sinode wens die persone wat in die reses gepromoveer het met magister en doktorale studies geluk met hul prestasies, en spreek die hoop uit dat hulle sal voortgaan om 'n positiewe bydrae te lewer met betrekking tot die teologiese vorming en denkrigting binne die kerk.

Die sinode spreek sy opregte waardering uit teenoor alle dosente vir hul toegewydheid met betrekking tot die voorbereiding van studente vir die bediening.

Die sinode versoek die kuratorium om aandag daaraan te gee dat:

8.1 Die saak van die kerk se bediening in die arbeidslewe toegespitste aandag in die opleiding van teologiese studente geniet, en

8.2 Die sentra vir die voortgesette teologiese opleiding meewerk in die organiseer van werksessies en kursusse sodat die saak van die bediening in die arbeidslewe onder die aandag van die kerk kan bly.

8.3 Arbeidsbediening se navorsingskomponent by wyse van voortgaande studie seker te maak dat die Kerk op hoogte bly van die veranderende arbeidswêreld ten einde kundig betrokke te kan bly.

Die Sinode

9.1 Neem kennis van die ontwikkelinge van die UWK in dié mate waarin dit die opleiding van sy studente aan die Fakulteit Godsdiens en Teologie raak.

9.2 Gee sy kuratorium (Kaapland) opdrag om binne die raamwerk van die Algemene Sinode se opdrag aan die Algemene Sinode se Kuratorium met die Universiteit hieroor te onderhandel om met die Universiteit (a) die belange van sy studente en sy dosente te beskerm en (b) die beste moontlike teologiese opleiding vir sy toekomstige predikante te verseker.

9.3 Besluit om die huidige voorgestelde programme vir die opleiding aan te beveel.

9.4 Onderneem om deur prediking en gebed tot die Here van die oes baie tot die oortuiging te bring om hulle tot beskikking van die werk van dié in die voltydse bediening te stel, veral in die krisistye wat ons kerk, land en wêreld tans beleef (Besluiteregister VGKSA Kaapland, September 1998).

Dit behels ook die oorweging van ander opsies indien bovermelde nie meer by UWK moontlik is met die huidige voorgestelde struktuur en inhoud nie (Hartney 2010:118). In die lig hiervan reageer die sinode soos volg:

Die Sinode betuig sy meelewing met al die persone en hulle families wat hierdeur geraak is.

1. Die Sinode spreek sy skok en teleurstelling uit met die wyse waarop hierdie oënskynlik noodsaaklike rasionalisering deur die UWK geïmplementeer is.

2. Die Sinode betreur die wyse waarop die gees van die jare lange ooreenkoms en die goeie trou tussen die VGKSA en die UWK deur hierdie optrede van die bestuur en die raad van die Universiteit nou in gedrang gekom het;

3. Die Sinode gee opdrag aan die kuratorium (Kaapland) om dringend hierdie verwikkelinge te onderhandel en weë te ondersoek en ooreenkomste te beding ten einde die integriteit van die volle opleiding (dosente, studente, kerklike toesig) te verseker en te vestig.

4. Die Sinode betuig verder sy solidariteit met die Congregational Kerk wat hierdeur sy enigste dosent en kapelaan, dr. R. Petersen, verloor.

5. Die Sinode versoek die moderatuur om in samewerking met leiers van ander kerke die belange van teologiese opleiding en morele vorming in hierdie krisistye finansieel en andersins te bevorder.

6. Die Sinode verseker alle studente dat die VGKSA in samewerking met ander rolspelers alles in sy vermoë sal doen om hul belange te beskerm (Besluiteregister VGKSA Kaapland, September 1998).

Slegs drie predikante, te wete ds. S. Haai, ds. M.A. Plaatjies-Van Huffel (Robertson-Oos VGKSA) en ds. C.P. du Toit (Wagenmakersvallei VGKSA) asook die kerkraad van Montagu het beswaar gemaak teen die verkoop van die Teologiese Skool-geboue by UWK. Die res in die Streeksinode Kaapland van 1998 het stilswyend hul goedkeuring aan die belangrike saak verleen (SK Notule 4-5 Februarie 1997).

Hartney het daarop gewys dat die volgende faktore 'n beduidende rol. in die verskuiwing na US gespeel het:

Die belang van standaarde in die opleiding wat nie in die gedrang gebring moes word nie, en ten alle tye vermy moes word. (Hartney 2010:118).

Hy was van mening dat die verskuiwing na die US voordele vir die VGKSA se Teologiese Skool asook vir die US inhou:

'n Ryke verskeidenheid van agtergronde, tradisies, tale - die taalmedium in die klasse sou o.a. 'n uitvloeisel hiervan wees - asook kulture, gesamentlike gebede en aanbidding en denominasionele verskuiwings.

Inklusiwiteit op velerlei gebiede.

Die Belydenis van Belhar word opnuut en op 'n ander wyse op die tafel geplaas, en die geestelike, teologiese en kerklike tradisies wat dit verteenwoordig.

Verbreding van teologiese denke waaronder bv. bevrydingsteologie 'n nuwe dimensie sou verkry.

Verskeidenheid van bydraes tot die akademiese-teologiese, bv. geïntegreerde teologie, spiritualiteit, ekumeniese studie, kontekstuele en publieke teologie. (Hartney 2010:118).

 

3. Besware en teenkanting oor die verskuiwing vanaf die Universiteit van Wes-Kaapland na die Universiteit van Stellenbosch

'n Brief is ontvang van 'n aantal predikante, alumni van die UWK, waarin hulle hul teenkanting oor die verskuiwing opper (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:50). In die brief versoek hulle die VGKSA Kuratorium om saam met hulle te vergader en maniere te bespreek om die verskuiwing na die US te vermy of uit te stel (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:50). Hulle wou die kuratorium graag op 29 Oktober 1999 in dié verband ontmoet. Die voorgestelde datum was egter vir die meeste van die lede van die kuratorium ongeleë (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:50). Die skriba van die kuratorium, ds. L.L.M. MacMaster, het die groep op 16 November 1999 ontmoet om hul besware rakende die verskuiwing na die US aan te hoor (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:50).

Die vergadering van die beswaardes met die skriba van die kuratorium was onsuksesvol omdat die proses van die verskuiwing in daardie stadium reeds in die finale fase was. Die VGKSA-predikante het 'n beswaarskrif aan die skriba van die Algemene Sinode, ds. L.A. Appies, gestuur waarin sterk protes daarteen aangeteken is (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:50). 'n Groep besorgde oud-studente van die Fakulteit Teologie by die UWK en huidige leraars van die VGK, het in 'n skrywe hul besorgdheid uitgespreek oor die beplande verskuiwing van die teologiese opleiding van die VGKSA vanaf die UWK na die US.3

Hulle besorgdheid het gegaan oor:

Die gebrek aan deursigtigheid van die proses in die kerk as geheel;

Die indruk van finaliteit wat voortydig - ook in Kerkbode - aan die proses gekoppel is;

Die historiese bande van 27 jaar wat met die Universiteit Wes-Kaapland verbreek word;

Die teologiese bande met die NGK wat nie die Belydenis van Belhar aanvaar nie.

Die besorgdes stel die volgende praktiese vrae aan die ASK na aanleiding van Die Ligdraer van 21 September se verwysing deur die voorsitter van die Kuratorium na verskillende opsies wat oorweeg is en waarop die teologiese opleiding op Stellenbosch na 'n interim tydsverloop voortgesit kan word. Die vraag is: (a) watter alternatiewe opsies is ondersoek en nagegaan (b) hoe lank duur die interim periode en wat gebeur nadat die interim ondersoek verstryk het?

In 'n onderhoud van Die Ligdraer met die viserektor kom dit aan die lig dat die teologiese fakulteit opdrag ontvang het om in samewerking met die kerk 'n kurrikulum wat die behoeftes van die VGK vervat, uit te werk en voor te lê. Hierdie opdrag is bevestig deur 'n daaropvolgende gesprek met die registrateur van die universiteit.

Die volgende vraag onstaan: Op watter manier het die kuratorium 'n leidende rol in belang van die kerk in hierdie voorlegging aan die senaat vervul wat later tot die afskaffing van die B.Th. en BD. sou lei? In watter mate kon die "samewerkingsmodel" soos voorgestel deur prof. Daan Cloete in toekomstige gesprekke 'n rol speel? (Verwys na Die Ligdraer van 14 November 1999.)

Hoe finaal is hierdie onderhandelinge met die Universiteit Stellenbosch -veral in die lig van die "ope deur" van die UWK en veral met betrekking tot die huidige tweede-, derde- en vierdejaar studente wat nog hul opleiding by UWK moet voltooi?

Watter waarborge word deur Universiteit Stellenbosch (US) gegee dat die dosenteposte van die VGK (wat verskuif) ook in die toekoms vir die VGK sal voortbestaan?

In watter mate is die huidige teologiese student by UWK ingelig omtrent die implikasies van die verskuiwing ten opsigte van die voortsetting van kursusse, beurse, losies, uitstaande skulde, ensovoorts?

As alumni betreur hulle die wyse waarop die historiese band tussen die VGK en die UWK beëindig word. Hulle bid die ASK, die Kuratorium, die Raad van Dosente en die studente die Here se krag en wysheid toe op die onsekere pad vorentoe (Brief van oud-studente van UWK insake verskuiwing van die teologiese opleiding van UWK na US, 16 November 1999).

Volgens Hartney het die verduideliking skynbaar nie alle beswaardes tevrede gestel nie. (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:50). In Desember 2001 het prof. D.J. Louw, dekaan van die Fakulteit Teologie (US) soos volg aan die Kuratorium van die VGKSA, Kaapland geskryf:

Ek is maar altyd intens bewus van hoe moeilik en pynlik die koms na US was. Was dit nie die Gees van God nie, dan moes dit eintlik tot 'n mislukking gedoem gewees het. Tog kry ek al meer die indruk dat "daai plek", "ons" word (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:50). In meer as een geval is die voorsitter van die kuratorium, ds. J.N.M. Hartney, en die moderator van die streeksinode van die VGKSA, Kaapland) ds. J.D. Buys, ingeroep om gemoedere onder die studente te kalmeer (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:50). By een geleentheid het 'n student, Rothney Tshaka, in 'n woedebui aan dr. J.N.M. Hartney en ds. J.D. Buys gevra: "Why did you bring us here? We were happy at UWC." Dieselfde student sou twee jaar later heel gelate verklaar: "We have come to stay. This is our place, our intellectual home, and we do not intend moving from here." Hy sou hom nie net as predikant van die VGKSA aan die US bekwaam nie, maar ook sy doktorale studies aan dieselfde fakulteit voltooi (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:50).

By 'n kamp van 14-16 April 2000 in Wellington, bygewoon deur die VGKSA se teologie-studente, is die eerste kwartaal van die akademiese jaar aan die US geassesseer. Deur baie beraadslaging het die VGKSA sowel as die teologie-studente aan die kweekskool tydens die byeenkoms bydraes van belang gelewer. 'n Komitee bestaande uit ses studente (verteenwoordigers uit die verskillende jaargroepe) het die opdrag en mandaat ontvang om 'n verslag te skryf wat die studente se ontevredenheid uitdruk ten opsigte van die verontagsaming van die kontrak tussen die VGKSA en die US, 'n kontrak wat bevestig het dat geen student op enige manier benadeel sou word nie.

Op 8 Mei 2000 het een van die studente, Rothney Tshaka, namens 'n groep beswaarde studente die volgende brief aan die dekaan van die Fakulteit Teologie oorhandig (Brief van Rothney Tshaka, 8 Mei 2000). Areas van ontevredenheid wat onder meer bespeur is, is in die volgende punte opgesom:

Die kurrikulum wat by die US gevolg word, vind nie aansluiting by die VGKSA se konteks nie, dit wil sê die betrokke kuratorium fokus op die opleiding van studente eksklusief vir die NGK en oorheersend wit hoërstand-gemeenskappe en nie vir swart laerstand-gemeenskappe nie..

Dit lyk of die "Kweek" die teenwoordigheid van die VGKSA ignoreer - dit blyk uit die Maandagoggenddienste, in verskillende klasse asook die simbole wat in die "Kweek" uitgestal word,

Die medium van onderrig ostraseer duidelik studente van oorwegend swart gemeenskappe. In hierdie opsig voel ons as VGKSA studente dat die kontrak wat deur die US en ons Kerk aangegaan is, duidelik oortree word, want ons word negatief hierdeur geaffekteer.

Studente glo die Kuratorium staan afsydig teenoor die huidige probleme waarmee ons te kampe het. Ons glo ook dat die Kuratorium daarin faal om die huidige konteks te assesseer en ons oorlaat om alleen te worstel.

 

Voorstelle

Die VGKSA studente stel voor dat die huidige kurrikulum geassesseer word volgens 'n mosie vir 'n kurrikulum wat ons swart konteks akkommodeer, 'n kurrikulum waarby ons aanklank vind..

Ons eis 'n spoedige oplossing van die taalprobleem. Ons glo dat, sou hierdie kwessie van die medium van onderrig nie ernstig benader word nie, dit die vereniging (voormalige NGKA en NG Sendingkerk) van die VGKSA ernstig belemmer. Dit beteken daar sal 'n besliste staking wees van studente wat van oorwegend swart nie-Afrikaanssprekende gemeenskappe kom.

Ons eis ook 'n bilaterale vergadering met u en die fakulteitsraad. Die datums vir hierdie vergadering sal later vandeesweek bevestig word na 'n ontmoeting met die Kuratorium (Wat vir u tyd bied om hierdie brief te bespreek met personeellede). Ons as studente glo as hierdie saak nie die nodige aandag kry nie, loop die VGKSA beslis die gevaar om sy identiteit te verloor.

Ons as studente wat trots is op ons kerk, sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat ons trots op ons kerk bly (Brief van Rothney Tshaka, 8 Mei 2000).

Prof. G.D. Cloete het in September 1999 'n breedvoerige skrywe aan die kuratorium gerig waarin hy puntsgewys met teenargumente reageer het op die besluit om die VGKSA Kaapland se teologiese opleiding aan UWK na die US te verskuif (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US). Hy het die mening uitgespreek dat die besluit om die teologiese opleiding na US te verskuif prematuur was. Volgens hom het die VGKSA sy misnoeë ten opsigte van die rasionaliseringsproses van die UWK duidelik uitgespreek (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US). Cloete was verder van mening dat die ooreenkoms tussen die UWK en die VGKSA deur die rasionaliseringsproses in die gedrang gekom het. Hy konstateer verder dat die kuratorium in onderhandelinge met die US ooreengekom het dat die ooreenkoms tussen dien UWK en die VGKSA opgehef word (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US).

Prof. Cloete bevraagteken verder die besluit om die teologiese opleiding aan die UWK te beëindig vanweë sogenaamde "onvoldoende nakoming" van die vereistes wat die kerk vir sy predikante stel. (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US). Hy konstateer dat die kuratorium se oorweging dat die UWK die B.Th.-graad in dié fakulteit afskaf, gegrond is op die mening dat die kerk se opleidingskursusse by UWK gestaak sou word aangesien dit wel op Stellenbosch aangebied word. Hy was van mening dat die aangeleentheid nie weldeurdag was nie. Uit die daaropvolgende gesprekke het dit vir hom duidelik geblyk dat die belangrikste boodskap te vinde was in die besluit van die Kuratorium, VGKSA om teologie-opleiding by die UWK weg te neem en na die US te verskuif (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US).

Hy het verder daarop gewys dat hy tydens die besprekings deurgaans voorgestel het dat die aangeleentheid binne die raamwerk van die gekonsolideerde aanbod in die Wes-Kaap oorweeg moes word. Prof. B.C. Lategan het die konsep van die gekonsolideerde aanbod tydens een van die diskussies tussen die US en die UWK ter sprake gebring. Die basiese idee daaragter was om die godsdiens- en teologie-aanbod binne die Wes-Kaap te konsolideer aangesien die huidige onderwyswet nie veel ruimte vir die akademiese studie van godsdiens en teologie gebied het nie en daar by al die universiteite 'n afname in studentegetalle rakende dié vakgebiede was (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US). Prof. Cloete konstateer dat hy sy hoop gevestig het op die konsep van die gekonsolideerde aanbod. Verder het hy geoordeel dat die nadruk in teologie eerder op streeksamewerking gelê moes word sodat die verskuiwing die proses van eenwording met die NGK kan bevorder.

Hy was ook van mening dat die bevordering van die eenheid binne die geledere van die VGKSA prioriteit moes geniet en dat dit daarom wys sou wees om teologiese opleiding binne die VGKSA deeglik te ondersoek alvorens oor dié verskuiwing besluit word. 'n Verdere onsekerheid was die teologiese opleiding van die NGK self. Dit was volgens prof. Cloete natuurlik nie ondenkbaar nie dat die NGK vanweë sy monopolie op teologiese fakulteite ook genoodsaak sou word om sy teologiese opleiding op een punt te konsentreer nie. Hy vra daarom: "En wat gebeur as dié punt Pretoria word?" (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US). Prof. Cloete was verder van mening dat die Fakulteit Teologie in die byna 30 jaar van verbondenheid aan die UWK 'n besondere bydrae tot transformasie van dié universiteit en dus die land gelewer het (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US).

Volgens prof. Cloete het die VGKSA se bydrae onder andere bestaan uit die leidende rol wat dit onder studente en dosente gespeel het, die akademiese werk, internasionale kontakte en erkenning daardeur opgebou. Hy vra verder of die ontstaan van die Belydenis van Belhar (1986) asook die toetrede van die vrou tot die kerklike amp werklik losgemaak kan word van die VGKSA se verbondenheid aan die UWK. (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US). Dit was vir die VGKSA belangrik dat laasgenoemde vraag teen die agtergrond van hierdie geskiedenis verwerk moes word. Hy was ook van mening dat die noue verbintenis tussen die VGKSA en die UWK nie summier verbreek moes word nie. (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US).

Hy kon begryp dat die VGKSA diep ongelukkig was met die wyse waarop die rasionaliseringsproses hanteer is, maar meen die VGKSA kon ook op 'n meer relativerende wyse na die rasionaliseringsproses gekyk het (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwingvan die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US). Die VGKSA kon volgens hom die tyd uitgekoop het deur te kyk of die situasie by die UWK nie ten goede kon draai nie. Hy was van mening dat alles in daardie stadium nog vloeibaar was en dat die VGKSA spoedig weer rede sou kon vind om ongelukkig te raak met die US.

Prof. Cloete was verder van mening dat 'n kritiese solidariteit ten opsigte van die UWK in hierdie stadium gepas was, dit wil sê, hy het juis die rasionaliseringsproses en die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US gekritiseer uit lojaliteit teenoor die UWK (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US). Prof. Cloete konstateer verder dat hy na 20 jaar by UWK dit moeilik sal vind om skielik 'n nuwe lojaliteit te ontwikkel. Volgens hom sou die US dit eweneens moeilik vind om aan te pas by die nuwe omstandighede. (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US). Volgens prof. Cloete sou die uitgangspunte vir sodanige gekonsolideerde aanbod die volgende kon wees:

1. Daar moet optimaal daarna gestreef word om as universiteite en fakulteite saam te werk en so 'n gees moet weerspieël word.

2. Die behoeftes van die betrokke kerke moet bevredig word.

3. Dit moet prakties en implementeerbaar wees en onnodige duplisering uitskakel.

4. Dit moet koste-effektief wees.

5. Dit moet al die benaderinge van die akademiese studie van godsdiens en teologie in ag neem.

6. Dit moet die voortbestaan van godsdiens en teologie by al drie universiteite soek en verseker.

7. Dit moet die gedeelde onderlinge deskundigheid van die doserende personeel aanmoedig.

8. Dit moet die geskiedenis van die studie van godsdiens en teologie by die institute in ag neem.

9. Dit moet die studente en dosente aan die verskillende leefwêrelde van die institute blootstel, ensovoorts (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US).

Prof. Cloete het aan die kuratorium voorgestel dat die BTh-graad steeds by UWK aangebied word, maar dat die BD-graad by die US gedoseer word. Die VGKSA-studente kon steeds hul eerste vier jaar by die UWK deurbring, maar moes vir hul afrondingsjare na Stellenbosch gaan (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US). Hy het opgemerk dat slegs VGKSA-lidmate die B.Th.-graad by die UWK gevolg het. Prof. Cloete was ook van mening dat daar op grond van die VGKSA- behoeftes, deskundigheid, ensovoorts onderling onderhandel kon word om albei leerplanne koste-effektief aan te bied. Hy was ook van mening dat die uitruil van studente en/of dosente sou kon inhou, dat die US blootgestel word aan 'n Derde Wêreld- en UWK aan 'n Eerste Wêreld-konteks. Dit sou volgens hom die verplasing van dosente tot die minimum beperk (Skrywe van prof. G.D. Cloete rakende die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf die UWK na die US).

 

4. Universiteit van Stellenbosch en Streeksinode Kaapland Kuratorium-Werksgroep

Die eerste ontmoeting tussen die rektor van die US, prof A.H. van Wyk, en die VGKSA-afvaardiging van die Kuratorium van die Streeksinode, Kaapland bestaande uit drs. J.N.M. Hartney (voorsitter), dii. L.L.M. MacMaster en A. Rust het op Vrydag 27 November 1998 plaasgevind. Ten tye van hierdie byeenkoms is samesprekings gevoer onder andere oor die posisie van die VGKSA-dosente en hul toetrede as dosente van die US, asook die toelatingsvereistes vir die studente uit 'n voorheen benadeelde-groep wat hoewel hulle nie oor matrikulasievrystelling beskik het nie, genoegsame vakke op hoër graad geslaag het wat die instelling van 'n diplomakursus geregverdig het (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:48).

'n Tweede vergadering vind op 15 Desember 1998 plaas met die rektor, prof A.H. van Wyk, die dekaan van die Fakulteit Teologie, prof. H.J.B. Combrink, asook ander lede van die rektoraat. Dié vergadering sou die weg baan vir die verskuiwing van die teologiese opleiding van die VGKSA-predikante vanaf die UWK na die US (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:48).4(Verslag van die VGKSA en die Universiteitswerkgroep). Dr. J.N.M. Hartney en prof. H.J.B. Combrink het op roterende basis as voorsitter opgetree. Na die vergaderings is 'n ooreenkoms bereik met betrekking tot die kurrikulum: (Erkenning van die eiesoortige hantering van die teologiese student deur die denominasie en die universiteit sonder dat die een op die terrein van die ander oortree); aanstellingsprosedures ten opsigte van dosente; die kerklike skakelraad; die aard van die akademiese program vir teologiese opleiding wat deur die Fakulteit Teologie (US) aangebied word; akademiese oorgangsmaatreëls; medium van onderrig (Verslag van die VGKSA en die Universiteitswerkgroep).

Op 21 Januarie 1999 vergader die US/VGKSA-Werkgroep vir die eerste keer. Gedurende 1999 verkry die samesprekings momentum. Daar is finaal besluit teen die opsie van 'n eie seminarium vir die VGKSA aangesien die koste daaraan verbonde te hoog was. (Teologie Stellenbosch 150 + 2009:48). Op die vergadering van die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) van die VGKSA (29-30 Maart, 1999 in Bloemfontein) is besluit om op 31 Desember 1999 die teologiese opleiding van die VGKSA aan die UWK te beëindig en met ingang 1 Januarie 2000 die teologiese opleiding van die VGKSA na die US te verskuif (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:48).

Die Kuratorium van Streeksinode, Kaapland was van mening dat die UWK nie aan die akademiese standaard en vereistes vir die opleiding van predikante van die VGKSA sou kon voldoen nie en het in ooreenstemming met die ASK besluit om die teologiese opleiding aan die UWK einde 1999 te beëindig en met die US te onderhandel insake die verskuiwing van dié opleiding na die Fakulteit Teologie aan die US. Hierdie besluit van die ASK van die VGKSA is bevestig deur opvolgsamesprekings van die ASK wat van 23 tot 25 September 1999 te Keetmanshoop plaasgevind het. Die weg was nou gebaan vir die US/VGKSA-Werkgroep5 om hul opdragte uit te voer. Samesprekings tussen die kerklike vennote en die US met die oog op die samestelling van 'n kerklike skakelraad was op dreef (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:48). Op 7 Oktober 1999 begin dié onderhandelinge in die kantoor van die registrateur van die UWK. Die byeenkoms het volgens Hartney in 'n goeie gees plaasgevind. Daar is ooreengekom dat die studente wat hul studies op Stellenbosch wou voltooi soos volg hanteer sou word:

Aangesien 'n student minstens twee jaar by 'n bepaalde universiteit ingeskryf moet wees alvorens 'n graad deur daardie bepaalde universiteit aan hom/haar toegeken kan word, sal dié betrokke studente hul grade van die UWK ontvang, en nie van die US nie. Die studente van UWK wat vir langer as twee jaar aan die US studeer, sal hul grade van die US ontvang.

Daar is besluit dat 'n gesamentlike werkgroep aan bepaalde sake aandag moes gee, onder meer:

1. 'n Raamwerk vir 'n bevredigende ooreenkoms tussen die VGKSA en die US ten opsigte van teologiese opleiding vir die VGKSA aan die US moes met ingang 2000 opgestel word.

2. Die VGKSA se verwagtings van die US en omgekeerd, moes duidelik uiteengesit word.

3. Daar is ooreengekom dat sake duidelik geformuleer moes word. Besluite moes spesifiek en duidelik uitgespel word en nie vaag of algemeen en oop vir aannames en afleidings wees nie.

4. Oorgangsmaatreëls en die getal studente en dosente ter sprake, asook die medium van onderrig en die visie en missie van die Fakulteit

in samewerking met sy vennote, moes geformuleer word (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:48).

Die opdrag van die onderhandelingspan van die Kuratorium van die VGKSA (Kaapland) het onder andere behels:

1. Dat die gereformeerdheid van die Fakulteit Teologie van die US waar die opleiding sou geskied en 'n akademiese program wat aan die vereistes van die VGKSA sou voldoen, verseker word.

2. Dat 'n bevredigende ooreenkoms bereik word ten opsigte van die studente en dosente van die VGKSA (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:48).

Tydens die onderhandelings is ook ooreengekom, dat:

1. Die US nie meer seksionele kerklike belange kon dien nie en dat die partye in die hoogste goeie trou sal saamwerk;

2. 'n Kerklike Skakelraad, wat sal omsien na die belange van al die kerklike vennote sal ontwikkel en gevestig word;

3. Die VGKSA die US, en daarmee die Fakulteit Teologie, as 'n nasionale bate sal beskou. Die VGKSA sou graag met hul teenwoordigheid in die Fakulteit Teologie van die US 'n bydrae lewer tot die noodsaaklike transformasieproses wat ook by die US aan die gang was (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:48).

Op 1 Desember 1999 is die ooreenkoms tussen die US en die Kuratorium van die VGKSA onderteken. Gedurende die jaar 2000 is die teologiese opleiding van die VGKSA, Kaapland inderdaad na US verskuif. 'n Nuwe Dosenteraad is met ingang 1 Januarie 2000 in die lewe geroep (Teologie Stellenbosch 150+ 2009: 50). Op 6 April 2000 is die interim skakelraad as volwaardige skakelraad gekonstitueer (Teologie Stellenbosch 150+ 2009:49).

Die VGKSA Streeksinode Kaapland het 'n ooreenkoms met die US beding en dit op 13 Desember 1999 onderteken.6 Voortaan sou teologiese opleiding aan die US deur die ooreenkoms genaamd die Kerklike Skakelraad aan die US (KSRUS) bestuur word. Die NGK Streeksinode Wes- en Suid-Kaapland het hul ooreenkoms met die Universiteit reeds op 02 Desember 1999 onderteken.7

 

5. Memorandum oor die inskakeling van teologiese studente van die Universiteit van Wes-Kaapland aan die Universiteit Stellenbosch in 2000

Op 20 Augustus 1999 skryf die viserektor (akademies) van die US aan prof. S. Kritzer, die registrateur en mnr. J. Aspeling, adjunkregistrateur, albei verbonde aan die US, soos volg:

Die gesprekke met die VGK oor die toekomstige opleiding van hulle toekomstige leraars aan die US het intussen ver gevorder. Daar is nog sekere sake wat op die vlak van die kerklike liggame uitgesorteer moet word, maar ons kan aanvaar dat die inskakeling met ingang van 2000 sal geskied.

Hierdie skuif het vir die US implikasies op verskeie vlakke:

i) Die inskakeling van personeel van die UWK aan die US. Hierdie saak sal te gelegener tyd die aandag van die Rektor geniet.

ii) Die inskakeling van huidige en toekomstige studente van die UWK by die US.

Die volgende memo handel oor sake i.v.m. die inskakeling van studente.

A. Oorsig van relevante sake

Daar is verskeie sake wat, in afwagting van die nuwe reëling, gehanteer is op spesiale maniere, of so hanteer sal moet word in die toekoms.

1. Die huidige finalejaarstudente sal hul onderrig deur personeel van die US moet ontvang (moontlik by die UWK, moontlik by die US; nog uit te klaar), maar sal nog hul grade van die UWK moet ontvang (dit geld vir BTh en Diploma in Teologie), en sal dus daar ingeskrewe bly (op grond van bepalings van die Gemeenskaplike Statuut).

2. Nuwe eerstejaarstudente vir 2000 se aansoeke om as leraars van die VGK opgelei te word, is eers "ondervang" deur een van die lede van die Kuratorium van die VGK, in afwagting op groter duidelikheid oor die pad vorentoe. Hierdie aansoeke sal nou aan die US deurgegee moet word. Hieroor sal die Registrateursafdeling (voortaan: RA) die saak moet opneem met die betrokke persoon.

3. Huidige studente wat nie finalejaarstudente is nie, sal formeel na die US moet oorkom en vanaf 2000 hier registreer. Hiervoor sal onderlinge reëlings tussen die twee inrigtings getref moet word. (Kyk B hieronder.)

4. Studente wat tans aan die UWK vir die vierjarige diploma in teologie ingeskryf is (of wat van plan was om aanstaande jaar vir die diploma in te skryf), sal in terme van die ooreenkoms hier geakkommodeer moet word (d.w.s. by wyse van Senaatstoelating). (Daar sal 'n reëling in hierdie verband getref moet word. Hierdie is 'n saak van groot dringendheid.)

5. Daar is ooreengekom dat geen verswarende vereistes aan VGK-studente gestel sal word nie; alleen 3 semesters Grieks en Hebreeus word deur die VGK as vereiste vir die BD gestel.

6. Huidige studente en voornemende eerstejaarstudente se beurs- (en beurslenings) behoeftes sal op 'n sensitiewe wyse aangespreek moet word. Hierdie studente het moontlik groter beurse aan die UWK ontvang as wat hulle aan die US sou ontvang het. Spesiale reëlings sal moontlik getref moet word vir hierdie studente, in elk geval in die oorgangsituasie.

7. Koshuisakkommodasie van hierdie studente sal spesiale aandag verdien.

8. Die kwessie van moontlik uitstaande klasgelde by die UWK sal eweneens versigtig gehanteer moet word.

B. Voorgestelde benadering

Spesiale reëlings sal getref moet word om hierdie sake te hanteer, en wel op 'n sensitiewe en tegemoetkomende wyse.

Ek doen die volgende aan die hand:

1. Die omvang van relevante sake word geïdentifiseer en alle raakpunte word vooraf uitgeklaar. (Aangesien die Dekaan van die Fakulteit Teologie so nou by die onderhandelinge betrokke was, moet hy ten nouste by die identifikasie van moontlike probleme betrek word, asook by die wyse waarop die probleme uitgeklaar kan word.)

2. Daar word met die Registrateur van UWK ooreengekom oor hoe sake hanteer sal word wat betref huidige studente. (Kyk ook B3 hieronder.) (Dr. Russel Botman van die Fakulteit Teologie was alreeds in gesprek met die Registrateur van UWK oor hierdie sake.)

3. In oorleg met die Registrateur van UWK, gaan 'n span belanghebbende en ingeligte persone van die RA na UWK, nadat studente vooraf daaroor ingelig is, om alle sake rakende hierdie studente daar op die perseel van die UWK met die studente uit te klaar. Die bedoeling moet wees om 'n eenstopdiens te lewer.

Volgens my is die volgende sake, onder andere, aan die orde:

4. aansoeke/registrasie van studente (waarby aansoekgeld nie weer betaal moet word nie);

5. die erkenning van vakke van studente vir hul programme aan UWK gevolg vir die graad aan die US waarby hulle moet inskakel;

6. die hantering van moontlik agterstallige vakke;

7. gevalle waar studente nie oor die nodige universiteitstoelating beskik nie, en dan net tot 'n diploma aan UWK toegelaat is (moontlik kan hier gevalle van Senaatstoelating wees);

8. die wyse waarop moontlike behoeftes m.b.t. rekenaarvaardighede opgevang moet word, ten einde by veronderstellinge aan die kant van die US in te skakel;

9. beurse en beurslenings;

10. moontlik uitstaande studentegelde aan UWK;

11. Afsonderlike reëlings word skriftelik met die betrokke studente uitgeklaar, ten einde enige misverstande te voorkom.

Hierdie verskuiwing van die opleiding van die studente van die VGK is van besondere strategiese belang vir die US en die onderhandelinge het oor 'n lang tyd en moeisaam verloop. Dit is dus van die allergrootste belang dat die saak met die nodige sensitiwiteit en tegemoetkomendheid hanteer moet word en dat al die moontlike gedoen sal word om moontlike probleme en ongelukkigheid te vermy. Ek bespreek hierdie sake graag verder met u. Baie dankie. W.T. Claassen (Memorandum van Ooreenkoms aangegaan tussen die VGKSA 2000).

 

6. Konklusie

'n Historiese oorsig word gegee oor die verskuiwing van die Teologiese Skool van die VGKSA na die US. Die artikel bestaan uit die briewe, verslae en vergaderingbesluite wat handel oor die hervestiging van die Teologiese Skool van die VGKSA. Tydens die vergadering van die ASK van die VGKSA (29-30 Maart 1999 in Bloemfontein) is besluit om die teologiese opleiding van die VGSKA by die UWK te beëindig.

Die kuratorium moes as gevolg van die rasionalisasieproses 'n nuwe heenkome vir die opleiding van leraars vir die VGKSA vind. Die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf UWK na US het die beoefening van teologie aan die US ingrypend verander. In September 1998 het UWK weens 'n proses van rasionalisasie 51 dosente van die Universiteit, insluitende ses dosente van die VGKSA, se dienskontrakte beëindig. Die UWK het eensydig die dienskontrakte van 6 dosente, insluitende drie kerklike dosente, te wete proff. P.J.J.S. Els, J.C. Adonis en P.J. Robinson opgeskort. Prof. J.C. Adonis, een van die drie kerklike dosente wie se pos deur die kontrak gewaarborg moes wees en waartoe die VGKSA jaarliks 'n finansiële bydrae gelewer het, is ook afgedank. Die kuratorium het die optrede as kontrakbreuk beskou aangesien die kuratorium sedert 1973 'n ooreenkoms in dié verband met die UWK gehad het.

Met die aanbreek van die jaar 2000 het die VGKSA Teologiese skool weer eens 'n nuwe pad in die gesig gestaar. Die US het die nuwe akademiese tuiste vir die Teologiese Opleiding van die VGKSA geword. Die hervestiging van die teologiese opleiding van VGKSA van UWK by die US het die praktyk van teologie by die Fakulteit Teologie, US, verander.

 

Bibliografie

Coertzen, P. 2009.Teologie Stellenbosch 150+. Die verhaal van teologiese opleiding op Stellenbosch - die mense en geboue. Wellington: Bybel-Media.         [ Links ]

Philander, N.C. 2019. 'n Ekklessiologies-teologiese ondersoek na die teologiese opleiding en bedieningsvorming praxis in die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika (Ongepubliseerd).

Agrivale bronne

Acta NGSK Sinode 1970.

Acta NGSK Sinode 1974.

Acta NGSK Sinode 1978.

Acta NGSK Sinode 1994.

Agenda en Skema van werksaamhede VGKSA Algemene Sinode 1994.

Acta VGKSA Algemene Sinode 1994.

Skema van Werksaamhede NGSK 1970.

Skema van Werksaamhede NGSK 1978.

Skema van Werksaamhede NGSK 1990.

Skema van Werksaamhede NGSK 1994.

Ander dokumente

Besluiteregister VGKSA, Kaapland, September 1998.

Brief van Professor GD Cloete oor die verskuiwing na die Universiteit van Stellenbosch.

Die Ligdraer 12 September 1999

Die Ligdraer 14 November 1999

Daniel Kuys in Die Ligdraer 12 September 1999

Sinodale Kommissie Notule, 4-5 Februarie 1997.

Ooreenkoms tussen die Universiteit van Wes-Kaapland en die Kuratorium van die teologiese skool van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika, namens die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.

Ooreenkomste tussen die Universiteit van Wes-Kaapland en die Kuratorium 1973.

Riglyne vir kerklike adviesraad vir teologiese opleiding aan die teologie, Universiteit van Wes-Kaapland.

Memorandum oor die inskakeling van die Teologiese Studente van die UWK aan die US in 2000.

Verslag van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika en die Universiteitswerkgroep.

Memorandum van Ooreenkoms aangegaan tussen die Verenigende gereformeerde Kerk in Suider Afrika 2000.

Voorgestelde Riglyne vir die Kerklike Skakelraad aan die Universiteit van Stellenbosch.

Verslag van die Sameroeper, R Tshaka aan die Dosente en Kuratorium van die VGKSA.

 

 

1 Die ooreenkoms tussen die UWK en die Kuratorium van die Teologiese Skool van die NGKSA, namens die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika word in Addendum 1 beskryf. Vir historiese belang is die langer aanhaling in die artikel ingesluit.
2 Die outeur publiseer die volledige brief van prof. G.D. Cloete omdat 'n opsomming van die brief die inhoud daarvan verskraal.
3 Geteken: W.J. Mckay (Bellville), D.J.J. Kuys (Bellville), Donald Gantana (Grabouw), Nico Koopman (Hugenote-Kollege), George Cloete (Saron), Ronnie Noemdoe (Montagu), Lysander Prins (Moorreesburg), Walter Philander (Piketberg), Allistair De Klerk (Laaiplek), Walter van Eck (Robertson), Rafle Cloete (Elsierivier).
4 Die VGKSA en die Universiteitswerkgroep, het bestaan uit prof. J.C. Adonis (VGKSA), dr. H.R. Botman (VGKSA), ds. J.D. Buys (VGKSA), proff. G.D. Cloete (VGKSA), H.J.B. Combrink (US), J.P. Groenewald (US), dr. J.N.M. Hartney (VGKSA), prof. D.J. Louw (US), en mnr. W. Vermaak (US).
5 Die persone wat die vergadering bygewoon het, was soos volg: registrateur, UWK (dr. J.F. Smith); registrateur, US (prof. S. Kritzinger); dekaan, Fakulteit Teologie UWK (prof. H.R. Botman); dekaan, Fakulteit Teologie US (prof. H.J.B. Combrink); adjunkregistrateur, US (mnr J.A. Aspeling); adjunkregistrateur, UWK (mnr. O.N. Gelderblom); fakulteitsbeampte, US (mnr. D.P. Solomons): fakulteitsbeampte, UWK (me. R. van der Schöltz).
6 Die ooreenkoms vir Teologiese Opleiding aan die US is onderteken deur die volgende lede: Namens die Universiteit van Stellenbosch: Proff. A.H. van Wyk (rektor: US en H.J.B Combrink (dekaan: Fakulteit Teologie). Namens die VGKSA Streeksinode Kaapland: drs. J.N.M Hartney (voorsitter:Kaapland), Dii. L.L.M MacMaster (skriba: VGKSA-Kuratorium), A. Rust (: VGKSA-Kuratorium). Sien Addendum 2 vir die volledige Memorandum van Ooreenkoms wat vir historiese belang by die artikel ingesluit is.
7 Die ooreenkoms vir Teologiese Opleiding aan die US is onderteken deur die volgende lede: Proff. A.H. van Wyk (rektor: US) en. H.J.B. Combrink (dekaan: Fakulteit Teologie), drr. C.W. Burger (voorsitter: NGK Kuratorium), M.D.J Smith (NGK: Predikant in Sinodale Diens), mnr. J.J. Visagie (Senior Direkteur Bemarking en Kommunikasie: US). Sien Addendum 2 vir die volledige Memorandum van Ooreenkoms wat vir historiese belang by die artikel ingesluit is.
8 Die ooreenkoms vir Teologiese Opleiding aan die US is onderteken deur die volgende lede: Namens die US: Proff. A.H. van Wyk( rektor: US) en H.J.B Combrink (dekaan: Fakulteit Teologie). Namens die VGKSA Streeksinode Kaapland: Drs. J.N.M Hartney (voorsitter:Kaapland), dii. L.L.M MacMaster (skriba: VGKSA-Kuratorium), A. Rust lid: VGKSA-Kuratorium.
9 Die ooreenkoms vir Teologiese Opleiding aan die US is onderteken deur die volgende lede: Proff. A.H. van Wyk (rektor: Universiteit van Stellenbosch), H.J.B. Combrink (Dekaan: Fakulteit Teologie), drr. C.W. Burger (Voorsitter: NGK Kuratorium), M.D.J Smith (NGK: Predikant in Sinodale Diens), mnr. J.J. Visagie (Senior Direkteur: Bemarking en Kommunikasie, US).

 

 

Addendum 1

Die ooreenkoms tussen die UWK en die Kuratorium van die Teologiese Skool van die NGKSA, namens die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika

1. Algemeen

1.1 Met UNIVERSITEIT word in die vervolg bedoel "Die Universiteit van Wes-Kaapland" en met KERK die "Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika of sy opvolger in regte".

1.2 Daar word ooreengekom dat 'n fakulteit van teologie aan die UNIVERSITEIT gestig sal word, wat as 'n ope fakulteit sal dien vir die kerke wat daarvan gebruik wil maak.

1.3 Die stigting van 'n tweede afdeling vir die ander Gereformeerde Kerke (met Engels as voertaal) word nie, wanneer die behoefte daarvoor mag ontstaan, buite rekening gelaat nie.

1.4 Hierdie ooreenkoms vir die stigting vir die genoemde fakulteit sal slegs betrekking hê op die verhouding tussen KERK en die UNIVERSITEIT.

1.5 Aangesien elke party gebonde is aan sy eie statutêre bepalinge en 'n outonome karakter dra, word hierdie ooreenkoms aangegaan met dien verstande dat sodanige outonome karakter nie geskend sal word nie. Ondanks enige bepaling in hierdie ooreenkoms wat die teendeel mag aandui, word die selfstandigheid van die Kerk en die UNIVERSITEIT ten volle gehandhaaf en erken.

1.6. Met DEPARTEMENT word in die vervolg bedoel "Die Departement van Kleurlingbetrekkinge en Rehoboth-Aangeleenthede."

2. Finansies

2.1 Die UNIVERSITEIT aanvaar vanaf 1 April 1973 volle finansiële verantwoordelikheid vir sowel die admissie- as die teologiese kursus insluitende die salarisse van dosente, met dien verstande dat die Kerk die verantwoordelikheid aanvaar vir die salaris van een professor bereken teen die gemiddelde van die totale jaarlikse salarisse wat aan al die professore in die Teologiese Fakulteit uitbetaal word.

2.2 Die Kerk stel geboue (Skoolgebou en koshuis)waarvan die oprigtingskoste

R200 000 beloop het tot beskikking van die UNIVERSITEIT, met dien verstande dat die KERK die geboue vir kerklike doeleindes mag gebruik in oorleg met die UNIVERSITEIT. Die UNIVERSITEIT betaal vanaf 1 April 1937 2½% (twee-en-'n-half persent) instandhoudingstoelae per jaar aan die KERK, op die KERK se belegde kapitaal van R200 000 (Tweehonderd duisend rand).

2.3 Die Kuratorium van die Teologiese Skool vir die N.G. Sendingkerk in S.A. namens die KERK, sal finansieel verantwoordelik wees vir die versiening en reparasies van die geboue elke vyf jaar ooreenkomstig die patroon gevolg deur die Departement Openbare Werke ten opsigte van die Universiteitsgeboue. Buitengewone reparasies wat nodig mag wees as gevolg van beskadiging van eiendom deur studente, sal die verantwoordelikheid van die UNIVERSITEIT wees.

2.4 Die Kuratorium sal verantwoordelikwees vir plaaslike owerheidsbelasting, en die premie op versekering, terwyl die UNIVERSITEIT verantwoordelik sal wees vir water- en elektrisiteitsverbruik en vullisverwydering.

2.5 Die Kuratorium voorsien alle ameublement vir die Teologiese Skool en die koshuis en dra dit by wyse van 'n volledige inventaris aan die UNIVERSITEIT oor. Die UNIVERSITEIT aanvaar daarna verantwoordelikheid vir instandhouding, vervanging en aanvulling. Indien die geboue by 'n moontlike beëindiging van die ooreenkoms deur die Kuratorium teruggeneem word, sal die ameublement, soos in die oorspronklike inventaris gespesifiseer, in goeie toestand terugbesorg word. Die normale beheer oor die ameublement soos die merking, gereelde voorraadopname en afskrywings word deur die UNIVERSITEIT onderneem. Die administratiewe personeel van die Fakulteit Teologie word deur die UNIVERSITEIT besoldig.

2.6 Die bestaande biblioteek in die Teologiese Skool bly die eiendom van die KERK, maar is toeganklik vir alle studente van die UNIVERSITEIT, en kan van tyd tot tyd aangevul word uit kerklike fondse. Die UNIVERSITEIT sal in sy eie biblioteek 'n teologiese boekery opbou.

2.7 Die KERK onderneem om die uitgawes ten opsigte van die salarisse van die Doseerpersoneel vir die kwartaal 1 Januarie tot 31 Maart 1973 te dra en ook verantwoordelikheid te aanvaar vir die salaris van die klerklike eenheid vir die periode 1 Januarie 1973 tot 31 Maart 1974. Daarna is dit behoudens die bepalings van Artikel 2.1, die verantwoordelikheid van die UNIVERSITEIT.

2.8 Daar word voorts ooreengekom dat die huidige bekleër van die pos van Klerk Graad I, ds. C.A.J. Venter, in die pos aanbly tot 31 Desember 1974.

3. Personeel

3.1 Vyf dosente word deur die UNIVERSITEIT vir die teologiese opleiding aangestel. Die huidige vier professore van die Teologiese Skool word ipso facto as professore van die UNIVERSITEIT aangestel. Personeeluitbreiding geskied hierna op die gebruiklike wyse, en die aanstellings ooreenkomstig Artikel 3.3.

3.2 Administrasiekursus: Die aanstelling van en beheer oor die personeel van die admissiekursus sal die verantwoordelikheid van die Raad van die UNIVERSITEIT wees.

3.3 Prosedure by aanstelling van dosente aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland:

3.3.1 Die kieskollege van die KERK beroep 'n dosent volgens kerklike bepalings.

3.3.2 Die skriba van die Kuratorium gee onmiddellik aan die UNIVERSITEIT kennis van die beroep wat uitgebring is, met voorlegging van die curriculum vitae van die beroepene.

3.3.3 Indien die beroepene nie vir die Raad aanvaarbaar is nie, word die betrokke nominasie na die KERK terugverwys vir heroorweging, en desnoods na 'n gesamentlike vergadering van die Kuratorium en die Raad van die UNIVERSITEIT met die oog op die bereiking van 'n ooreenkoms.

3.3.4. Die beroepene word deur die skriba van die Kuratorium VERTROULIK van die beroep in kennis gestel, met vermelding van die feit dat sy aanstelling onderhewig is aan Ministeriële goedkeuring via die DEPARTEMENT. Geen amptelike kennisgewing word in hierdie stadium in die amptelike organe gegee nie.

3.3.5. Die UNIVERSITEIT stel die skriba van die Kuratorium so gou moontlik in kennis of die genomineerde aanvaarbaar is vir aanstelling, nadat Ministeriële goedkeuring via die DEPARTEMENT verkry is.

3.3.6. Na ontvangs van hierdie kennisgewing stel die skriba van die Kuratorium die beroepene amptelik in kennis dat sy aanstelling deur die UNIVERSITEIT goedgekeur is en stuur aan hom die amptelike kerklike beroepsbrief tesame met die dokumente deur die UNIVERSITEIT vir aanstelling vereis. Hy publiseer in die kerklike organe die amptelike kennisgewing van die beroep.

3.3.7. Agt dae na ontvangs van die beroepsbrief moet die beroepene die skriba van die Kuratorium in kennis stel of hulle die beroep laat welgeval.

3.3.8 By ontvangs van die kennisgewing dat die beroep geslaag het, stel die skriba van die Kuratorium die UNIVERSITEIT in kennis dat die beroepene in die pos aangestel kan word.

3.3.9 Die UNIVERSITEIT doen die aanstellings volgens sy gewone prosedure.

3.4 Die heersende diensvoorwaardes vir die universiteitpersoneel sal van toepassing wees op die personeel van die Fakulteit van Teologie.

3.5 Ten opsigte van die personeel van die Fakulteit van Teologie sal die tug- en beheermaatreëls van die UNIVERSITEIT en van die KERK beide geld en bindend wees.

4. Kursusse

4.1 Die opleiding van die leraars vir die N.G. Sendingkerk sal die volgende behels: 'n Administrasiekursus waarvan die vakkeuse en die tydsduur deur die KERK en UNIVERSITEIT deur onderlinge ooreenkoms bepaal word. 'n Driejarige graad- of diplomakursus in teologiese vakke wat tot die B.Th-graad of die Dipl.Th lei. 'n Verdere jaarkursus waarin kerklike afrigting afgerond word met die oog op kerklike legitimasie.

4.2 Matrikulasievrystelling is 'n toelatingsvereiste vir die graadkursus in Teologie terwyl die skooleindsertifikaat toelating tot die diplomakursus in Teologie verleen.

4.3 Alle studente (ongeag hulle kerkverband) wat aan hierdie toelatingsvereistes voldoen, kan aanvaar word, maar die KERK keur sy studente, wat tot die bediening wil toetree, voor en na die voltooiing van hulle opleiding.

4.4 Die admissiekursus tot die B.Th-graad en die diplomakursus sal van tyd tot tyd deur die KERK en die UNIVERSITEIT gesamentlik in heroorweging geneem word.

4.5 Hellenistiese Grieks I en Spesiale Hebreeus is 'n voorvereiste vir die B.Th-graadkursus en vir die Diploma in Teologie word Hellenistiese Grieks I en/of Spesiale Hebreeus as voorvereistes gestel.

4.6 Die B.Th.- of Dipl.Th.-kursusse sal bestaan uit 'n driejarige Teologiese opleiding, waarvan die inhoud deur die KERK en die UNIVERSITEIT deur onderlinge ooreenkoms bepaal word.

4.7 Die eksamen- en promosieregulasies van die UNIVERSITEIT is ook van toepassing op teologiese studente wat by die UNIVERSITEIT ingeskryf is. Die Fakulteit van Teologie sal by tye voorstelle met betrekking tot hierdie regulasies aan die Senaat vir oorweging voorlê.

4.8 Studente in die Fakulteit van Teologie skryf in as die UNIVERSITEIT.

4.9 Alle studente van die KERK wat met hulle leraarsopleiding besig is, kry voorkeur by koshuisakkommodasie tot 'n ekwivalent van die akkommodasie waarvoor die KERK se koshuis voorsiening maak.

4.10 Ten opsigte van studente van die Fakulteit van Teologie sal die Tug-en beheermaatreëls van die UNIVERSITEIT en die KERK albei geld en bindend wees.

5. Wysiging en opsegging van ooreenkoms

5.1 Hierdie ooreenkoms kan by tye met toestemming van albei partye skriftelik gewysig word.

5.2 Albei partye behou die reg om hierdie ooreenkoms na wedersydse kennisgewing van vyf kalenderjare te beëindig.

6. Datum van inwerkingtreding

Behoudens die bepalings van hierdie ooreenkoms vind die akademiese inskakeling op 1 Januarie 1973 plaas terwyl die ooreenkoms ten opsigte van Finansies, met uitsondering van die koshuis wat met ingang 1 Januarie 1973 finansieel deur die Universiteit oorgeneem en bestuur sal word, op 1 April 1973 van krag word. (Gedateer te Bellville hierdie 29ste dag van Maart 1973. C.F. G. Gunter, Voorsitter van die Raad, L. Moolman, Voorsitter van Kuratorium, D.P. Botha, Skriba).

 

Addendum 2

Die ooreenkoms tussen die Universiteit van Stellenbosch en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika-Streeksinode Kaapland

Die VGKSA-Streeksinode Kaapland het op 13 Desember 1999 'n ooreen-koms met die US bereik.8 Voortaan sou die opleiding in teologie aan die US deur die Kerklike Skakelraad (KSRUS) bestuur word. Die NGK Streek-sinode Wes- en Suid-Kaapland het hul ooreenkoms met die Universiteit reeds op 2 Desember 1999 onderteken.9 Die KSRUS word onderskei van die Kerklike Adviespaneel vir Teologiese Opleiding in die Wes-Kaap (KATO), wat 'n liggaam is waarop alle kerke en denominasies wat belang het by die teologiese opleiding aan die US en die UWK, sitting het. Lede van KSRUS sal derhalwe na alle waarskynlikheid ook lede van die breër liggaam KATO wees, maar daar is 'n verskil in die samestelling en funksies van die twee liggame (Ooreenkoms van die KSRUS).

Die KSRUS is 'n liggaam van dié denominasies wat as kerklike vennote ooreenkomste met die US gesluit het om hul studente vir die kerklike bediening aan die US te laat oplei (Ooreenkoms van die KSRUS). Elke kerklike vennoot, naamlik die VGKSA Streeksinode Kaapland en die NGK Wes- en Suid-Kaapland is volgens dié ooreenkoms daarop geregtig om 2 lede op die KSRUS te benoem.

Die volgende riglyne betreffende verteenwoordiging in die KSRUS geld: Vir 25 of meer studente van 'n betrokke denominasie wat oor 'n periode van 3 jaar gehandhaaf word, kan dié denominasie 'n verdere lid op KSRUS benoem.

Die maksimum addisionele verteenwoordigers per denominasie sal tot vier beperk word.

Denominasies wat geen amptelike ooreenkoms met die US het nie, maar wat tog offisieel bevestig dat hulle die opleiding van die US erken met die oog op die kerklike bediening van die betrokke denominasie, sal daarop geregtig wees om een verteenwoordiger op die KSRUS te benoem.

Indien die kerklike vennote en hul verteenwoordigers so toeneem dat die totale getal lede van die KSRUS 20 oorskry, kom die kerklike vennote en die US opnuut ooreen oor wat die maksimum grootte van die KSRUS en die verteenwoordiging per meewerkende party sal wees.

Die dekaan en sekundus-dekaan (indien sodanige pos bestaan) van die Fakulteit Teologie is ampshalwe lede van die KSRUS.

Aangesien die KSRUS 'n liggaam is wat die Fakulteit Teologie van advies bedien oor ter saaklike aangeleenthede, tree die dekaan (of sy verteenwoordiger) as voorsitter van die vergadering op.

Die vergadering wys uit die kerklike verteenwoordigers 'n ondervoorsitter aan wat die dekaan as verteenwoordiger van die KSRUS vergesel wanneer nodig (Ooreenkoms die KSRUS).

Die KSRUS funksioneer soos volg. Die advies van die KSRUS aan die Fakulteit Teologie behels veral die volgende:

Die aanstelling van permanente akademiese personeel in die Fakulteit Teologie (Ooreenkoms van die KSRUS). Die volgende voorskrifte van die (Ooreenkoms van die KSRUS) moet in ag geneem word:

Die behoeftes van die kerklike vennote ten opsigte van vernuwing in en terugvoer ten opsigte van die bestaande teologiese programme wat deur die Fakulteit aangebied word.

Die moontlike behoefte aan en ruimte vir denominasionele eenhede ("houses of study") wat afsonderlik van mekaar, maar in oorleg met die Fakulteit Teologie aan onderskeie denominasies die geleentheid kan bied vir die realisering van 'n eie spiritualiteit en selfs denominasionele akademiese karakter.

Ander sake wat die opleiding in teologie aan die US raak: Die kerklike vennote op die KSRUS neem as uitgangspunt aan dat ter wille van effektiewe inspraak by die Universiteit ten opsigte van die benoeming van dosente en die inhoud van kurrikula, besluite met genoegsame konsensus geneem behoort te word (Ooreenkoms die KSRUS).

By gebrek aan genoegsame konsensus, kan as laaste uitweg 'n bykomende verslag saam met die KSRUS se advies vir oorweging voorgele word (Ooreenkoms van die KSRUS). Die koste verbonde aan bywoning van vergaderings van die KSRUS word deur die onderskeie kerklike vennote gedra. Die KSRUS vergader minstens een keer per jaar gedurende die eerste semester, maar verder soos op aanvraag deur die lede (Ooreenkoms van die Kerklike Skakelraad aan US (KSRUS). By die vergadering van die KSRUS bring die Fakulteit Teologie ook enige sake rakende die teologiese opleiding aan die US asook nasionale beleid i.v.m. tersiêre onderwys, soos van toepassing op teologiese opleiding, onder die aandag van die kerklike vennote (Ooreenkoms van die Kerklike Skakelraad aan US (KSRUS).

By die ontstaan van 'n vakature, lig die dekaan, na oorlegpleging met die KSRUS, die rektor daaromtrent in asook van die KSRUS se voorstelle en advies rakende die moontlike aanstelling (Ooreenkoms van die KSRUS). Indien 'n verskil van mening ontstaan, vind verdere oorlegpleging tussen die US en die KSRUS plaas. Voordat die pos geadverteer word, kom die kerklike vennote en verteenwoordigers van die US ooreen oor die posbeskrywing en profiel van die persoon die vakature moet vul (Ooreenkoms van die KSRUS). Met profiel word onder andere bedoel die tipe teoloog wat benodig word, en die opleidingsbehoefte waarom dit gaan. In hierdie verband word geoordeel dat met die oog op die aanbieding van bepaalde vakgebiede wat die teologiese tradisie en oortuiging van die dosent wel van belang sou kon wees (Ooreenkoms van die KSRUS).

Die US adverteer die vakature soos ooreengekom met die KSRUS (Ooreenkoms die KSRUS). Die rektor wys op die gebruiklike wyse 'n subkomitee aan uit die .Aanstellingskomitee van die Senaat (ASK(S) met die oog op 'n aanstelling. (Ooreenkoms van die KSRUS). Die subkomitee ontvang en keur die aansoeke op akademiese gronde ten opsigte van geskiktheid en vlak van aanstelling as dosent van die universiteit (Ooreenkoms die KSRUS). Die subkomitee van die ASK(S) raadpleeg die dekaan en die ondervoorsitter van die KSRUS oor die siening en voorkeurorde van die KSRUS ten opsigte van die kandidate (Ooreenkoms van die KSRUS).

Na hierdie oorlegpleging met die dekaan en die ondervoorsitter van die KSRUS, maak die subkomitee van die ASK(S) op gebruiklike wyse, aan die hand van die verkorte curriculum vitae van alle aansoekers, 'n aanbeveling ten opsigte van die aanstelling by die ASK(S). Wanneer die ASK(S) dit nodig ag om van die voorkeurorde van die KSRUS af te wyk, mag dit, slegs in oorlegpleging met die KSRUS geskied (Ooreenkoms van die KSRUS). Die aanstelling word nie bekend gemaak voordat hierdie prosedure voltooi is en die finale goedkeuring deur of namens die Universiteit se senaat en raad afgehandel is nie (Ooreenkoms van die KSRUS). Op hierdie wyse word die belange van beide partye eerbiedig en verseker dat universitêre en kerklike lyne mekaar nie kruis nie (Ooreenkoms van die KSRUS).

Dit bring mee dat die onafhanklikheid van beide partye gehandhaaf word: die universiteit kan nie 'n keuse van aanstelling aan die kerke opdring nie en omgekeerd, kan die kerke nie die universiteit se akademiese verantwoordelikheid by aanstelling en reg tot aanstelling ontneem nie (Ooreenkoms van die KSRUS). hieruit geld dieselfde wedersydse onafhanklikheid in gevalle waar aangestelde persone die vertroue van òf die kerk òf die universiteit verloor (Ooreenkoms van die KSRUS). Dit staan die betrokke denominasie vry om die akkreditering van 'n betrokke dosent, spesifiek ten opsigte van die opleiding vir die kerklike bediening van sy eie kandidate, terug te trek, al dan nie. Dit is eweneens die universiteit se prerogatief om die aanstelling van die betrokke dosent as dosent van die Fakulteit Teologie te handhaaf, al dan nie (Ooreenkoms van die KSRUS).

Kerklike vennote het die reg om, wanneer nodig, deur die KSRUS vertoë tot die US te rig met die oog op die akkreditering van tydelike of voltydse personeel wat teen vergoeding deur die betrokke denominasie aanvullende momente tot die kurrikulum kan doseer (Ooreenkoms van die KSRUS).. Sodanige kerklike dosente kom nie op die diensstaat van die US nie, maar word op die gebruiklike wyse deur die US akademies gekeur en geakkrediteer (Ooreenkoms van die KSRUS). Die kerklike vennote kom ooreen dat by die vasstelling van die programme die partye die KSRUS sal raadpleeg, maar dat die partye insgelyks ruimte sal laat vir die behoud van hul eie identiteit deur desnoods aanvullings of alternatiewe voorstelle tot die programme te maak, addisioneel tot die inhoud wat gemeenskaplik is (Ooreenkoms van die KSRUS).

Dergelike modules wat akademies deur die Fakulteit Teologie aanvaar word, sou as keusemodules vir alle studente beskikbaar wees, ofskoon dit waarskynlik verpligtend vir studente uit die betrokke denominasie is. Dié fakulteit onderneem om die advies en oortuigings van kerklike vennote ten opsigte van teologiese programme in ag te neem, maar wys kerklike vennote daarop dat daar steeds aan die algemene akademiese vereistes van die US en die Departement Onderwys se vereistes aan tersiêre inrigtings voldoen moet word (Ooreenkoms van die KSRUS). Die legitieme behoefte van kerklike vennote om elk op verskillende wyses gestalte te gee aan hul eie identiteit en spiritualiteit en om hul studente dienooreenkomstig te begelei, word deur die US erken (Ooreenkoms van die KSRUS). Dit word aanvaar dat enige buitekurrikulêre aktiwiteite nie 'n saak van die Fakulteit Teologie is nie, maar dat die US graag aan kerklike vennote die ruimte daarvoor gun (Ooreenkoms van die KSRUS). Die KSRUS bied ook 'n forum waar gemeenskaplike sake wat die denominasionele eenhede raak, indien nodig en gewens, aan die orde gestel sou kon word (Ooreenkoms van die KSRUS).

Gedurende 26 Julie 2016 is die goedgekeurde Ooreenkoms wat met die US beding is, vervang met die Ekumeniese Raad se regulering. Sedertdien word vakatures op grond van dié ooreenkoms gevul.

'n Skrywe deur die rektor van die US, prof. A.H. van Wyk, met betrekking tot die voorgestelde riglyne vir die Kerklike Skakelraad is aan die Skriba van die VGKSA Kuratorium, ds. L.L.M MacMaster gerig en dit lui soos volg:

Geagte Ds MacMaster, Tydens 'n ontmoeting tussen die Dagbestuur van die Kuratorium van die NG Kerk en myself op 5 Maart 1999, is ooreengekom dat die Universiteit 'n basisdokument sal opstel wat die verwagtinge van die US in verband met die Kerklike Skakelraad sal beliggaam. Hierdie liggaam sal in die toekoms 'n besonder belangrike funksie vervul veral ten opsigte van advies aan die Universiteit met betrekking tot die aanstelling van dosente in die Fakulteit Teologie asook die verwagtinge van vennote ten opsigte van programme wat deur die Fakulteit Teologie aangebied sal word. Daarom spreek dit vanself dat die Universiteit self besondere belang het by die Riglyne waarvolgens hierdie liggaam van kerklike vennote sal funksioneer. Daar is verder in die vooruitsig gestel dat hierdie Riglyne vervolgens aan die NG Kerk as bestaande kontraktuele kerklike vennoot, maar ook aan die VGKSA as 'n voornemende kontraktuele vennoot, met wie daar reeds gevorderde gesprekke oor 'n moontlike ooreenkoms gevoer is, vir reaksie voorgelê sal word. Hierdie onderneming is ook in die laaste vergadering van die Werkgroep US-VGKSA aan die verteenwoordigers van die VGKSA deurgegee.

In hierdie Riglyne is daar sake wat vir die Universiteit van Stellenbosch van sleutelbelang is. Die Universiteit aanvaar dat u as kerke afsonderlik en gesamentlik bepaalde oortuiginge ten opsigte van teologiese opleiding daarop nahou, en wil juis aan kerklike vennote in die Kerklike Skakelraad die geleentheid bied om met mekaar en met die Fakulteit Teologie oor sulke sake te besin en die Universiteit in hierdie verband van advies te bedien. Die Universiteit aanvaar ook dat u daarom die behoefte mag hê om sekere sake op 'n bepaalde wyse in die Riglyne aan die orde te stel. Die Riglyne word derhalwe hiermee aan u voorgelê vir u aandag en oorweging. Dit sal waardeer word indien u geskrewe kommentaar op die Riglyne my nie later nie as 28 Mei 1999 sal bereik. Die Universiteit sal die kommentaar van beide kerke dan oorweeg.

Hierna sal so gou moontlik 'n gesamentlike byeenkoms van die US en die twee kerke belê word onder voorsitterskap van myself, waarop die voorgestelde Riglyne in beginsel gefinaliseer kan word. Hierna sal die voorgestelde Riglyne die normale universitêre pad van voorlegging aan die Aanstellingskomitee van die Senaat, die Senaat en die Raad volg. Hierdie saak is vir die Universiteit spoedeisend aangesien die KSRUS 'n noodsaaklike en belangrike rol te speel het by die aanstelling van dosente in die Fakulteit Teologie - iets wat waarskynlik reeds redelik binnekort nodig mag wees. Bowendien moet die programaanbod vir die jaar 2001 binnekort ook weer aandag geniet, en sal die behoeftes en advies van die kerklike vennote vir die Fakulteit Teologie natuurlik van groot belang wees. In die lig hiervan is dit myns insiens noodsaaklik dat die KSRUS so spoedig moontlik behoort te kan konstitueer (Skrywe van die Rektor, US, prof. A.H. van Wyk, 14 April 1999).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons