SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.7 issue1A missional appropriation of human trafficking for the sex-work industryPastoral response to unemployment: Hermeneutics of hope and work author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.7 n.1 Stellenbosch  2021

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2021.v7n1.a20 

GENERAL ARTICLES

 

Kerkorde en erediens: Kerkorde artikel 48 van die NGK geweeg

 

A church order and church service - Article 48 of the Church Order of the Dutch Reformed Church investigated

 

 

Piet Strauss

Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. StraussP@ufs.ac.za

 

 


Trefwoorde: Kerkordelike raamwerk vir erediens; Ontmoeting tussen God en diegelowiges; Ontmoeting gelowiges met mekaar; Elemente erediens God praat gemeente antwoord; Woordverkondiging uitleg en toepassing van Skrif


ABSTRACT

For the church order of the Dutch Reformed Church (DRC), article 48, the core of a church service is the fact that the Triune God is meeting his church and that this meeting should be determined by the core truths or lines of the relationship between God and his church or believers. This point of departure for a church service has been maintained in article 48 since 1962. It is accepted by many churches and creates the understanding that a church service is initiated by God who speaks and his church or the believers who answer. The rhythm of God who speaks and the church who answers should be the basic movements in each service.
The content and changes of church order article 48 of the DRC from 1962-2017 are investigated. Some of the changes reveal some thought or beliefs in the DRC on these issues at that time.

Keywords: Church order gives framework for church services; God meets believers; Believers meet other believers; In church services speaks and congregation answers; Preaching about explaining and applying message of Bible


 

 

Probleemstelling

Dit word wyd onder gereformeerde kerkregkundiges of kanonici aanvaar dat kerkreg 'n dienende reg of kerklike "dienstrecht" is (Plomp 1992:38-40; Strauss 2010:1-6).

Hierdie vertrekpunt bring mee dat 'n goeie kerkorde ordelike kanale skep wat die kerk aan die hand van Bybelse grondlyne vir sy omvattende -Woordgetroue - werksaamhede orden of in die uitvoering daarvan "beveilig" (Nauta 1971:8-9). Dat 'n kerkorde met Skrifgetroue bepalings vir die situasie, die kerk in sy verkondigings- en geloofstaak dien. 'n Kerkorde moet 'n dienende orde wees wat die kerk in sy geskakeerde bediening van die Woord in diens van sy Hoof, Jesus Christus, help. 'n Benadering wat sommige outeurs 'n Christologies-ekklesiologiese perspektief noem (Barth 1967:679vv; Wolf 1961:8, 24, 73vv).

Ook in sy verhouding tot die liturgie (liturgie as die orde en elemente, vgl Kritzinger et al 1972:526)1 van die erediens moet die kerkreg met die orde wat hy hiervoor aan die kerk bied, die liturgie dien en help om sy Bybelse rol in die erediens te speel. 'n Kerkorde vestig die aandag van die liturgie op die regs- of ordelike kante daarvan - dit wat liturgies Bybels reg is (vgl 1 Kor 14:40 wat bepaal dat alles in die erediens "gepas en ordelik" moet geskied. Hierdie teks word deur Calvyn as 'n rede vir 'n kerkorde gebruik, Sizoo III sa:229; vgl Nauta 1971:11,14; Kruger et al 1966:11; Van der Linde 1983:7; NGKO 2015:1) en skep ruimte vir die eksegeties-, dogmaties- en liturgiesverantwoorde inrigting van die erediens (De Klerk 1982:61; De Klerk 2007:393). 'n Kerkorde moenie in die eerste plek gerig wees op die gedetailleerde inhoud van die erediens nie, maar op die konstante rig- of buitelyne (kontoere) waarbinne die erediens funksioneer of die hooflyne van die afsprake hieroor tussen die gemeentes van die kerkverband waarbinne dit plaasvind (Strauss 2010: 91). Op hierdie punt besluit die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) van 2002 op voordrag van sy Eredienskommissie dat daar 'n verskil is tussen die gesag van die Woord en van liturgiese formuliere soos deur die kerk geformuleer. Anders as met die onveranderlike Woord van God soos geïnspireer deur die Heilige Gees, is belydenisskrifte en liturgiese formuliere "veranderbare (mensgemaakte) voertuie ... waardeur die liturgiese inkleding van die erediens plaasvind" (NGK 2002: 538). Netso is kerkordelike kanale vir die liturgie in 'n kerkorde veranderbare mensgemaakte voertuie waardeur die liturgiese inkleding van die erediens gestalte kry. In 2007 sê dieselfde Eredienskommissie dat liturgiese ontwikkeling 'n "voortgaande proses" is en dat 'n handboek vir die erediens nooit afgeslote kan wees nie (NGK 2007:42). Daarby word die kerkorde, dit is 'n staande gebruik in gereformeerde kerke, gereeld deur kerkvergaderings gewysig.2 Wysigings wat ook op die bepalings vir die erediens gerig moet wees (NGK 2011:58-59).

Outeurs noem die erediens die "hart" van die kerklike lewe (Harmannij 1990:84) en 'n "uitstalvenster" van die geestelike stand van die gemeente (Strauss 2010: 89)3. Koffeman praat van die erediens as die Sitz of eerste landingstrook in die kerk vir die kerkreg. Sonder die basislyne van die liturgie vir die erediens as 'n ontmoeting tussen God en mens, kan daar volgens hom geen kerkreg wees nie. Die gemeente leef uit sy saamkom rondom Gods Woord. In die erediens vind ons die gemeente in sy ware gestalte omdat die lewende God hier aan die woord is én hierdie feit deur die gemeente beaam word. Daarom moet die karaktertrekke van dié ontmoeting ook in 'n Bybelsgetroue orde in die kerk neerslag vind (Koffeman 2009:105)4. Volgens Kleynhans bepaal die kerkreg deur die kerkorde en kerkregering die orde, geldigheid, gesag en kerklike binding van die bediening van die Woord en sakramente én die vrae wat daarmee saamhang (Kleynhans 1988:1).

Ten spyte van hierdie houding onder gereformeerdes het nie alle kerke in die Dordts-gereformeerde tradisie kerkordelike bepalings vir die erediens nie. Teenoor die Ned Geref Kerk wat in sy Kerkorde (NGKO) artikel 48 bepalings dra vir die erediens (NGKO artikel 48 soos gewysig kom vanaf 1962 en wou as deel van NGKO-1962 die Dordtse Kerkorde of DKO-1619 "aangepas by die eise van die dag" wees, Vorster 1960:13), gee die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA-KO) na die voorbeeld van DKO-1619, nie bepalings vir die erediens nie (Pont 1981:182 vir DKO; Visser 199:223 vir GKSA-KO). Hierteenoor bevat die Kerkorde van die Christian Reformed Church in North America (CRC-KO in die Dordtse tradisie, Engelhard en Hofman 2001:13) soos NGKO wel bepalings vir die erediens (kyk CRC-KO artikel 51-55 in Van Dellen en Monsma 1967:198-220; Engelhard en Hofman 2001:295-346). NGKO en CRC-KO volg DKO-1619 nie so letterlik as GKSA-KO nie. Hoewel die NGK en die Christian Reformed Church in North America (CRCN) albei op die Dordts-gereformeerde lyn wil beweeg, is beide oop vir vernuwing aan die hand van daardie Skriftuurlike konstantes wat by die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619 aanwesig was: konstantes wat spruit uit die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisskrifte én die DKO-1619 met herkenbare konstantes agter sy bepalings as kerkorde (Strauss 2010: 15-20).

Die probleem wat hier ondersoek word, is: wat is 'n erediens? Daarby: wat bepaal NGKO artikel 48 oor die erediens en hoe moet dit verstaan word? Hoe lyk 'n gepaste kerkordereëling vir die erediens in 'n Dordts-gereformeerde kerk? In die aanduiding van wat 'n erediens is, gaan dit nie om 'n omvangryke uiteensetting nie, maar 'n aanvaarbare kern. 'n Kort kern waarvoor NGKO sy bepalings as 'n konstante, ordelike raamwerk aanbied. In pas hiermee het NGKO artikel 48 sedert sy eerste aanvaarding in 1962 in essensie onveranderd gebly. 'n Kern wat kortweg deur die elemente van die erediens hieronder of hierna geïllustreer word. In dié proses word NGKO artikel 48 hierteen opgeweeg.

NGKO artikel 48.1 noem die erediens in NGK-gemeentes die "amptelike openbare samekoms van die gemeente" vir 'n "ontmoeting met God" en gemeenskap met mekaar onder die genadige werking van die Heilige Gees. Hierdie ontmoeting vind plaas onder leiding van die "besondere ampte" (predikant, ouderling en diaken) deur die bediening van "die Woord en die sakramente as die spreke van God drie-enig en deur die antwoord van die gemeente deur gebed, die kerklied en dankoffers". Artikel 48.2 bepaal dat die kerkraad die erediens inrig "met gebruikmaking van die liturgiese grondlyne soos deur die Algemene Sinode vasgelê". Artikel 48.3 gee die leiding van dienste aan 'n NGK-erkende leraar of ouderling "van gereformeerde belydenis" genooi deur die kerkraad. Op sy beurt bepaal artikel 48.4 dat prediking die volle raad van God moet aansny deur reg aan die kerklike jaar en die Drie Formuliere van Eenheid as die NGK se belydenisskrifte te laat geskied (NGKO 2015:13, 14).

 

Wat is 'n erediens of die kern van 'n erediens?

Trimp wat daarvan oortuig is dat die Here aan sy kerk vryheid met konstante vertrekpunte vir die vorm van die erediens gegee het, noem dit 'n vormgewing van die ontmoeting van die gemeente met hulle God en mekaar (Trimp 1983:56). Oor die erediens uit 'n kerkordelike oogpunt, gebruik Kleynhans die woorde van NGKO artikel 48 as hy die openbare samekoms van die gemeente as 'n ontmoeting met God en met mekaar as die gelowiges of "heiliges", omskryf (Kleynhans 1988:3). De Klerk praat van die "liturgiese vergadering" van die Godsvolk rondom sy troon. Vir hom lê die oorsprong of geheim van hierdie vergadering in die "wil en werk van die drie-enige God, die ewige Troonvors". God die Vader wat deur sy Woord en Gees op grond van sy genadige verkiesing om Christus ontwil vir Hom 'n gemeente uit die ganse menslike geslag vergader, beskerm en onderhou (De Klerk 1982:19; vgl die Heidelbergse Kategismus Sondag 21 in NG Kerk-Uitgewers 1982:53).

Vir hierdie skrywers gaan dit in die erediens om 'n ontmoeting van die Here God met syne of hulle wat deur die Christelike geloof aan Hom behoort (vgl Rom 1:7) - soos bepaal in NGKO artikel 48.1. 'n Erediens wat in die konteks van Romeine 12:1 deel is van die hele lewe wat die Christengelowige as 'n offer uit dankbaarheid vir God se ontferming en redding, aan Hom bring (vgl Rom 3-11, 12-15; spesifiek 8:32, 12:1). 'n Offer wat in die erediens as 'n ontmoeting van die Here met sy volk, in die orde en vorm of liturgie van die erediens, moet lei tot die verheerliking van sy Naam. 'n Handleiding oor die erediens versorg deur die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk byna 50 jaar gelede praat juis van die erediens as 'n daad van God en die antwoord van die mens (AS-NGK 1976:3).

Trimp (1983:83) koppel die geestelike lied in die erediens ook aan 'n offer. Vir hom is dit:

... meer dan het "versje bij de preek". In haar lied legt de gemeente het "offer van het lippen" (Heb 13:15) voor God neer. Wie zingt, zingt los van zigzelf en zijn eigen kleine wereldje. Hij gaat staan in de wijde ruimte van de grote werken van God en legt zijn hart voor God open ...

De gemeente van God is niet op weg naar de eeuwige preek, maar wel naar het eeuwige lied. Daarom zal zang de gemeente een zorg moeten zijn, wil haar lied metterdaad voorsmaak van eeuwige vreugde heten.

Dit gaan hier om 'n erediens waarin die eer op God drie-enig met sy verheffing van die gelowiges tot die "erestatus" van verlosde sondaars, gerig is. Volgens Luther is die hoogste status wat 'n mens in die hiernamaals op aarde kan bereik, die van simul iustus ac peccator: hy is tegelykertyd geregverdig of vrygespreek deur God én 'n sondaar (De Jong 1987:170; Strauss 2010:111). Verloste sondaars wat die Here in 'n erediens op 'n Sondag as die opstandingsdag van Christus, eer. Eer vanuit 'n nuwe hart gestimuleer deur die geloof in sy opstanding én gekoppel aan 'n innerlike of geestelike doodwees vir die sonde (Kol 2:20-3:4; NG Kerk-Uitgewers 1982:49-51; Trimp 1983:62: Strauss 2010:90). Eer omdat 'n konsekwente Christen elke dag wil rus van die sonde en van die nuwe lewe die erediens van die lewe maak. Trimp wat die erediens integreer met "heel onze levenspraktijk" tot eer van God (Trimp 1983:60), stel dit treffend: "... alle dagen worden wel door de zondag bepaald, maar zijn daarom nog niet tot zondagen geworden" (Trimp 1983:62).

Teen hierdie agtergrond gaan dit in die erediens om 'n ontmoeting tussen God en hulle wat aan hom behoort: 'n ontmoeting van die Here met syne. In 1 Korintiërs 3:9, 16 en 17 word die beelde vir die kerk of hulle wat aan die Here "behoort" (1 Kor 1:2; AS-NGK 1976:4-6), gekoppel aan die woorde "van God": beelde soos saailand, gebou en tempel. Hulle wat lewensomvattend syne én nuut gemaak is omdat Hy die inisiatief neem om hulle God te wees en hulle deur die geloof as 'n tregter of armpies waarmee hulle die heil ontvang, vergewe en vernuwe. Omdat Hy wat deur sy Woord en Gees alles uit niks geskep het, hulle na die omvattende, integrerende sondeval en geestelike dood deur Woord en Gees integrerend herskep en totaal geestelik lewend maak (Trimp 1985:23). Geskoei op hierdie heilsfeit word die erediens 'n tweegesprek. 'n Tweegesprek waar die Here, soos in sy skepping en herskepping van die nuwe hemel en nuwe aarde, die inisiatief neem, praat en die mens antwoord. In die erediens betrek God "syne" of die gelowiges deur sy Woord mét hulle antwoord of weerwoord. De Klerk maak gewag van die verlossende genade van die sprekende God wat deur liturgiese handelinge praat en waarop die gemeente - eweneens liturgies - antwoord (De Klerk 1982:60). Trimp sluit hierby aan as hy die spreke van hulle God die middelpunt van "het leven en de eredienst van zijn volk" noem. Vir hom is die prediking die publieke verkondiging dat die Evangelie van Jesus Christus die wêreld met al sy fasette raak. 'n Publieke getuienis wat alle volke in die wêreld gelewer moet hoor. Hierdie getuienis is die "normatieve kenmerk (kant) van de kerk" met ook 'n politieke en maatskaplike relevansie (Trimp 1985:7, 13, 21, 23). Vir Koffeman "correspondeert" die dialoog van God met die wêreld met die dialoog tussen amp en gemeente in die erediens. As die kerkreg liturgies bepaal word, word die verhouding tussen die amp en die gemeente die eerste "aandachtspunt" van die kerkreg (Koffeman 2009:113).

Vrijland (1989:81) verwys na die erediens as die plek waar God se woorde en dade "vooropstaan" en mense vry gemaak word:

De ambten zijn bedoeld om het Woord te bedienen, zowel de leer, als in de practijk, zodat de gemeente als geestelijke eenheid in heiligheid en zuiverheid kan functioneren. De Geest bindt de kerk aan de Schrift, en zet haar in de vrijheid in liturgisch opzicht. Niet begrepen rituelen kunnen worden afgeschaft.

Die Woord en Gees van God, aldus Vrijland, maak die kerk of gemeente dus vry van 'n uitdoof van die Skrif én vry om, in gebondenheid aan die Skrif, vanuit die erediens in sy omringende wêreld dade van Skrifgehoorsaamheid te lewer. Die kerk, geïnspireer deur Woord en Gees, word so J.A. Heyns se lewensomvattende die "nuwe mens onderweg" (Heyns 1970). Onbegryplike en daarom nuttelose gebruike in die erediens kan afgeskaf word.

 

God se Woorde en die gemeente se antwoorde

Koffeman gee 'n breë oorsig van wat kerke - ook gereformeerde kerke -as relevante aspekte van die erediens gebruik. Volgens hom word daar in "praktisch" elke kerk, gereformeerd en nie-gereformeerd, verkondig en bely, gedoop en nagmaal bedien, getrou en begrawe. Onder hierdie handelinge bring hy die erediens, die bediening van Woord en sakrament en die "liturgie" tuis (Koffeman 2009:103). Koffeman werk interkerklik en ekumenies en hoewel hy in hierdie kringe beweeg, assosieer hy nie noodwendig met kerke van 'n gereformeerde aanslag nie. Intussen spruit sy ekumeniese aanpak met die oog daarop om meer kerke te betrek - innerlik weersprekend - talle kerke en kerkregkundiges uit. Op sy beurt gebruik Kleynhans die woorde van NGKO-1986 artikel 48 as hy verwys na die "verskillende elemente" of aspekte van die erediens: "die bediening van die Woord, die bediening van die heilige sakramente, die gebed, kerklied en offergawes" (Kleynhans 1988:3, 8). De Klerk onderskei twee kolomme handelinge in die erediens: handelinge wat as verkondiging of Woorde van God deurgaan en handelinge wat as die menslike antwoorde of, soos hy dit uitdruk, gebede hierop deurgaan. Hy begin en eindig met openings- en slothandelinge van die erediens wat hy aan die Skrif koppel: die votum en slotsang onder gebede en die seëngroet en seën onder verkondiging (De Klerk 1982:67-68).

Wat hierdie outeurs aantoon, is dat die liturgie of die teologie en praktyk van die agenda van die erediens 'n voortgaande en nie 'n afgehandelde saak, selfs onder gereformeerdes van dieselfde belydenis en kerkordelike tradisie, is nie.

In handleidings vir die erediens gebruik die Eredienskommissie of latere Diensgroep vir Gemeente-ontwikkeling van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk, die vertrekpunt dat die erediens 'n ontmoeting van die Here met hierdie deel van sy gelowige volk op aarde is. AS-NGK 1982 maak gewag van so 'n ontmoeting (AS-NGK 1982:19). Handleiding-2007 stel die erediens sentraal in die lewe van die gemeente. Volgens die stuk neem God in hierdie ontmoeting die inisiatief. Deur sy woorde roep Hy die gemeente uit die "normale gang van die lewe", praat met hulle en stuur hulle terug die lewe in. Die God van die erediens praat volgens Handleiding-2007 inisiërend en rigtinggewend deur Woord en sakrament met sy mense. Die aangesprokenes antwoord met verwondering, dankbaarheid, verootmoediging, 'n erkenning van skuld en, dit waarop daar eintlik afgestuur word, die belydenis van hulle geloof in God drie-enig (Handleiding-2007:11). Handleiding-2010 handhaaf hierdie vertrekpunte (Handleiding-2010:18-48).

Handleiding-2007 en -2010 gee dieselfde 20 "elemente van die erediens", maar met ander invullings of voorbeelde van wat prakties in die erediens gebruik kan word. So vind 'n standaardisering en stabilisering van die vaste elemente of konstantes van die erediens plaas en word vernuwing verplaas na die inkleding daarvan. 'n Bestendiging van die elemente waarbinne die persoonlikhede van die dag - die liturg en gemeente - hulle liturgiese rol vervul en daaraan 'n eietydse karakter gee (Handleiding-2007:18-49; Handleiding-2010:18-51): vernuwing wat so die geloofwaardigheid en betroubaarheid van die besluite van die Ned Geref Kerk versterk. Vroeër skerm Handleiding-1982 in dieselfde trant vir 'n "gesonde ewewig" tussen "vastigheid en variasie, gebondenheid en soepelheid" in die erediens (AS-NGK 1982:19; NGK 1982:1285).

 

Die elemente van die erediens

Volgens die Handleidings begin die erediens met die aanvangswoord of votum. Deur die votum as 'n belydenis van God drie-enig se teenwoordigheid en almag teenoor die mens se onmag, afhanklikheid en toewyding, word daar 'n afwagting geskep vir dit wat kom: God se Woord en die gemeente se antwoord. Hierdie aanvangswoord as 'n belydenis kan gesê, gebid of gesing word. Die Handleidings gee variasievoorbeelde hiervoor. Dan volg die seëngroet met voorbeelde uit die Ou Testament en die briewe van die Nuwe Testament. Briewe wat begin met 'n seëngroet aan die geadresseerdes: "Genade en vrede vir julle van God die Vader ..." Die votum kom uit die gemeente as 'n belydenis van afhanklikheid en vertroue en die seëngroet kom van God die Almagtige. 'n Seën waarvoor Hy nie elke gelowige gebruik nie, maar geroepe en kerklik-erkende ampsdraers (De Klerk 2007:394, 395, 401). Die groet van die Here verminder nie in trefkrag as dit amptelik gebeur nie. 'n Amptelike bediening word eerder 'n implisiete erkenning van die groot waarde en die gewig daarvan. Hier gaan dit immers om die kerk as 'n gemeenskap van gelowiges wat in hulle gesamentlike erkenning van die ampte 'n individualisme afwys. 'n Kerkordelike benadering wat onderskryf kan word.

Die seëngroet van die Here word gevolg deur lof en aanbidding van die gemeente. In die tempeldienste van die Ou Testament en die sinagogiese dienste in die Nuwe Testament, was aanbidding en lof 'n sterk element. Lof en aanbidding word oorgedra deur sang, voorlesings, gebede of responsoriese lofuitings. Die gereformeerdes was lief vir die sing van berymde en onberymde Psalms omdat hulle daarmee nader aan die teks van die Woord beweeg. Lof en aanbidding kan ook gevolg word deur 'n stilte waarin daar met konsentrasie gewag word op die spreke van God.

In die Christelike erediens was daar aanvanklik nie plek vir die wet van God nie. Die Rooms-Katolieke Kerk voer hierdie gebruik in 1506 in. Die reformatore Bucer en Calvyn erken die wet en laasgenoemde laat dit ook sing (AS-NGK 1976:11). Sedertdien kom die wet van God in gereformeerde liturgieë wisselend voor. Gemeet aan die uitleg en verstaan van die tien gebooie deur die Heidelbergse Kategismus, kan die wet voor of na die uitleg van die Woord of die preek in die erediens kom: 'n oproep tot skuldbesef as n tugmeester na God toe voor die preek, 'n uitdrukking van dankbaarheid vir sy verlossing na die preek of 'n maatstaf vir n konsekwente Godgehoorsame lewe voor, tydens en na die preek. Variasies uit die Skrif of 'n amptelike parafrase van die tien woorde van God (uit byvoorbeeld Eksodus 20, Deut 5, Miga 6, Romeine 13 en Jakobus 2) kan gebruik word. Die gemeente antwoord met 'n skuldbelydenis soos gesê of gesing of 'n lied of gesproke woorde van dankbaarheid vir sy verlossing. 'n Skuldbelydenis en toewyding of 'n verbintenis wat opnuut aan die Here gemaak word, kan op die wet volg. Na hierdie skuldbelydenis of uitgesproke dankbaarheid kom 'n verkondiging van die genade en vryspraak of 'n oproep van die Here God tot 'n rigtinggewende konsekwente Christelike lewe. 'n Oproep gevolg deur 'n algemene of 'n ekumenies-erkende belydenis van geloof in God drie-enig (Apostolicum of belydenis van Nicea of Athanasius soos aanvaar deur die kerke of heilige algemene Christelike kerk) wat op God se vry- of genadespraak volg en deur die gemeente gesê, gesing of met 'n amen beaam word: die gepaste antwoord van geloof op God se vryspraak en genade. Die gemeente se geloofsbelydenis as 'n antwoord op God se genade- of vryspraak, kan voor of na die preek plaasvind. Dit bly 'n antwoord of 'n reaksie op die verkondiging van God se genade. Bucer en Calvyn plaas die belydenis van die twaalf artikels of Apostolicum na die preek (AS-NGK 1976:14).

Op hierdie stadium is dit belangrik om te sê dat die ritme van die erediens rondom God se Woord en die gemeente se antwoord draai en in die diens geloofwaardig gevolg en kortweg gemotiveer moet word. Begrip vir die liturgie verhoog die geloofservaring van die liturg en die gemeente. In ons tyd benodig die erediens 'n verstaanbare ritme en 'n bekwame vloei met God wat praat en die gemeente wat met begrip antwoord. Met die heilige Troonvors (woorde van De Klerk 1982:19) wat praat en inisieer en die verbondsgemeente wat buig, aanvaar en gehoorsaam reageer. Handleiding-1976 sluit by Vrijland aan: "Wat in die liturgie oorbodig is, moet weg gelaat word!" (AS-NGK 1976:14).

Op die geloofsbelydenis of, indien dit anders verloop, die lof en aanbidding kan die Skriflesing en preek volg. De Klerk stel dit kort en kragtig: "Skriflesing en prediking hoort bymekaar" (De Klerk 1982: 87). Immers, die preek moet eksegeties en dogmaties vloei uit die Skrifgedeelte wat gebruik word. Die normatiewe kant in die erediens is die Skrif en Skrifprediking omdat dit hier gaan om God se Woord of spreke met die Skriflesing en preek die kern van God se spreke in die erediens. God wat praat en sy verbondsvolk wat antwoord in 'n vergestalting van die twee kante van sy genadeverbond: sy belofte van genade en eis van lewensgehoorsaamheid én die antwoord van die gelowiges. Handleiding-2010 gee voorkeur aan 'n geïntegreerde aanpak: "tematies en inhoudelik behoort die preek en die res van die liturgie 'n gesonde eenheid te vorm" (Handleiding-2010:41).

Op die Skriflesing en preek antwoord die gemeente met gebed, sang en offers. Die offers kan natuurlik ook vroeër op die seëngroet of die wet volg. Die diens word gesluit met 'n vredesgroet of seënbede wat slegs die liturg as 'n amptelik geroepene namens die Here uitspreek en die gemeente met woorde of 'n lied ontvang (NGK 1998:409; NGKO 1998:17; NGK 2011:121). Seënbede kan ook responsories aangepak word.

Om op te som, die erediens is 'n ontmoeting tussen God en sy (verbonds-) volk waarin Hy inisieer en praat en hulle gepas reageer en antwoord. 'n Ontmoeting wat na aanleiding van 1 Kor 14:40 gepas en ordelik - voor God - moet plaasvind (NGKO 1964:1; AS-NGK 1982:19). Nie om die kerklike erediens te verstrak, te formaliseer en te veruiterlik nie, maar daaraan as 'n diens tot eer van God, rigting te gee. In die erediens gaan dit om die gemeente wat voor die grote God verskyn en in hulle reaksie op sy aksie aan Hom respek betoon. 'n Gepaste antwoord met woord, lied en liggaamshouding as die Here gepraat het, word nie 'n baldadige, willekeurige, 'jollie patrollie' nie. Ook die kerklied in 'n moderne, eietydse idioom moet in sy melodie, harmonie en ritme 'n waardige of gepaste draer wees van die Bybelse waarhede waaroor gesing word. Die kerklied word gesing vir die teenwoordige God en nie om mense te beïndruk of emosies te laai nie. Dit gaan in die diens nie om my vreugde, dank en swaarkry wat deur God verstaan en gedra word nie - dit kom tweede - maar eerste om sy eer en waardigheid as God wat uit sy Woorde blyk en deur my met woord en lied opgevang, uit- en oorgedra word. Sy waardigheid en eer wat meebring dat ek my ellende en menswees verstaan en die regte perspektief daarop kry (AS-NGK 1976:81-84; Strauss 2010:90).

Naas die gewone erediens gee Handleiding-2007 en -2010 aandag aan dienste waarin die sakramente bedien, openbare belydenis van geloof afgelê en ongemotiveerde "getuienisse" - 'n fenomeen in sommige gemeentes -gelewer word. Die kernpunte van die erediens as 'n ontmoeting tussen God en sy volk en die ritme van Hy wat praat en sy gemeente wat antwoord, bly relevant (Handleiding-2007:39-45; Handleiding-2010:45-48).

Die vraag is: hoe reageer NGKO-2015 op hierdie verstaan van die erediens met sy kerkordelike kante? Hoe het NGKO-1962 tot NGO-2015 oor dekades heen hierop gereageer? En, hoe moet hierdie reaksie in die lig van hierdie omskrywing van die erediens, beoordeel word?

 

NGKO-1962 tot NGKO-2017: die teks van artikel 48

Die inhoud van NGKO artikel 48 het deur die jare min wysigings ondergaan - wysigings wat ook inhoudelik min aan die artikel verander het. Die essensie van NGKO 1962 artikel 48 het tot by NGKO 2015 artikel 48 onveranderd gebly - ook die artikelnommer.

NGKO-1962 artikel 48.1 verklaar dat die erediens 'n ontmoeting van die gemeente met God en, in die "onderlinge gemeenskap van die heiliges" met mekaar is. Hierdie ontmoeting geskied onder leiding van die ampte deur die bediening van Woord en sakrament, die kerklied en die offergawes.

Vir die inrigting van die erediens onder toesig van die kerkraad, word die amptelike Afrikaanse Bybelvertaling, die Psalm- en Gesangboek en liturgiese orde soos deur die Algemene Sinode "vasgelê", gebruik. Die leiding van eredienste berus by die plaaslike dominee(s), die konsulent of 'n "bevoegde" Bedienaar van die Woord wat die kerkraad uitnooi of 'n ouderling wat voorgaan in 'n leesdiens. Die inhoud van die prediking volgens NGKO artikel 48 "moet steeds 'n verklaring en toepassing van die Heilige Skrif wees". Daar moet "minstens" 12 keer per jaar "in volgorde" aan die hand van die Heidelbergse Kategismus gepreek word (NGKO 1964:11).

Hoewel die essensie van 'n erediens as 'n ontmoeting tussen die Here God en sy gelowige volk, 'n ontmoeting wat draai rondom 'n kerklik-bevoegde en erkende bediening van Woord en sakrament en die antwoord van die gemeente, dieselfde gebly het, het veranderings aan NGKO op tye gevolg wat ons 'n insae gee in houdings en opvattings by die Algemene Sinode van daardie tyd. Dit is immers die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk wat oor NGKO besluit (vgl voorblad van NGKO 2015).

In die konteks van 'n veranderende Suid-Afrika en 'n nuwe aanpak in die NGK van ras, volk en nasie of kerk en samelewing, bring die Algemene Sinode van 1986 ook veranderings aan NGKO artikel 48 aan. Hoewel die essensie van artikel 48 bly, word dit aan die uitnooi van 'n "ander bevoegde" Evangeliedienaar toegevoeg dat hy van 'n "gereformeerde belydenis" moet wees. Anders as by ander gereformeerde kerke gaan dit hier nie om die houding van die kerk van die betrokke dominee en 'n amptelike erkenning van hierdie kerk as 'n susterskerk nie, maar die dominee se persoonlike geloofsopvattings. Dit is immers die dominee wat preek. Hiermee tref die NGKO 'n reeling wat aan kerkrade die ruimte bied om "minder gereformeerde" dominees of twyfelagtige predikers, sover dit hulle aangaan, uit die NGK self en uit ander gereformeerde kerke die kansel te ontsê. 'n Verskuiwing by gereformeerde kerke wat - byvoorbeeld -gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in staat stel om hulles insiens "goed gereformeerde" NG-predikante te gebruik en ander te laat. Die Algemene Sinode van 1986 bepaal ook in artikel 48 dat 'n teologiese student op die voorwaardes van die betrokke fakulteit en met toestemming van die kerkraad, mag preek.

Vier jaar later skrap die Algemene Sinode van 1990 die bepaling dat daar 12 maal per jaar "in volgorde" aan die hand van die Heidelbergse Kategismus gepreek en aan die ring verslag gelewer word. Met - waarskynlik - goeie bedoelings laat NGKO-1990 artikel 48.5 die 12 maal per jaar weg en bepaal dit dat die Drie Formuliere van Eenheid naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls "deurentyd sistematies in die prediking" in die prediking aan die orde gestel word. Die gereformeerde oortuiging dat die "volle raad van God" vanaf kansels verkondig word, word in NGKO artikel 48.4.1 verwoord. Hierdie artikel word egter net 'n inleidende sin oor die "volle raad" as dit sonder enige kerkordelike bepaling oor die frekwensie van belydenisprediking én die verslag daarvan aan die ring, gestel word. NGKO-1990 loop dus nie verder op die spoor van die Dordtse Kerkorde of NGKO-1962 nie. So swig NGKO-1990 voor onwillige predikante en gemeentes met 'n vae, nie-konkrete "bepaling". 'n Verwaarloosde vreemdeling in die NGK - die Heidelbergse Kategismus - word 'n verstoteling (Strauss 2015:75).

Twee beskrywingspunte plaas die saak op die tafel van die Algemene Sinode van 1990. Die eerste is die van die Sinode van Noord-Kaapland wat oordeel dat die Drie Formuliere van Eenheid meer tot hulle reg sal kom as hulle al drie "sover moontlik in volgorde" in die prediking aan die orde gestel word. Die Kategismus moenie uitgesonder word nie en daaroor moet aan die ring verslag gelewer word. Die idee van 'n verslag onderstreep die erns van die beskrywingspunt. Daarteenoor vra die Sinode van Oos-Transvaal dat die 12 Kategismuspreke geskrap word omdat 'n vol kerklike jaar dit onmoontlik maak (NGK 1990:437). Oos-Transvaal is onwillig om aan 12 Kategismuspreke in 52 weke met 'n moontlike 104 dienste, ruimte te gee. Intussen kon die Heidelbergse Kategismus reeds by sekere bakens in die kerklike jaar soos die vernedering (Lydensweke) en verhoging van Christus (opstanding en hemelvaart), vars en verrykend bygetrek en ingespan word. Belydeniswaarhede dra meer gewig as die gedagtes van een enkele prediker omdat dit ekumenies en breed kerklik aanvaarbaar moet wees. NGKO-1990 artikel 48.5 toon dus geestelike instemming met Noord-Kaapland, maar sy reëling wat niks konkreets bepaal nie, speel in die hande van Oos-Transvaal. Daarmee word die klanke van die Heidelbergse Kategismus as troosboek van die Reformasie nog minder van NGK-kansels en in kerkvergaderings gehoor (Strauss 2015:75).

Vroeër gee NGKO-1986 aan anderstalige gemeentes in die NGK, soos met die Afrikaanse Psalm- en Gesangboek, ruimte vir eie 'n goedgekeurde bundel. 'n Bepaling wat sensitief is vir die kerk in breër verband se oordeel oor die gereformeerde waarhede (NGKO 1986:12-13). Hierdie bepaling verdwyn saam met die 12 kategismuspreke uit NGKO 1990 (NGKO 1990:11-12). NGKO dra soms saad aan vir reformasie, maar laat dit later los om onvermelde redes.

Met verloop van tyd ondergaan NGKO artikel 48 ander, meer geringe, woordwysigings. In 1994 word "offergawes" "dankoffers" en in 2011 word die openbare samekoms van die gemeente "amptelik" (NGKO 1990:11; NGK 1994:10; NGKO 2011:9).

NGKO-2011 kom met inhoudelike wysigings van artikel 48. 'n Nuwe figuur word as 'n moontlike liturg verwelkom: 'n ouderling wat preekvergunning van die kerkraad en die ring ontvang. Plattelandse gemeentes in die Ned Geref Kerk word te klein om 'n predikant te onderhou en slaag nie altyd daarin om dominees vanuit die omgewing by noodsaaklike dienste te betrek nie. Gevolglik word ouderlinge met korter, geringer predikantsopleiding in die Ned Geref Kerk opgelei en getaak om in hierdie nood te voorsien (NGKO 2011:14; Strauss 2016, Ids 50/1 a 2092).

Op 'n ander punt wat in gemeentes gevoel word, laat NGKO-2011 die teuels eenvoudig uit die hande van die gemeentes gesamentlik of van die Algemene Sinode gaan. In plaas daarvan dat hierdie Sinode besluit oor amptelike Bybelvertalings, liturgiese formuliere wat soms ekumenies-algemeen in gereformeerde kerke funksioneer en op punte na geloofsbelydenisse klink (De Klerk 1982:100) én liederebundels wat met hulle woorde draers van dwaalleer kan wees, volstaan NGKO-2011 net met die opdrag aan die Algemene Sinode van liturgiese grondlyne. Die effek is dat NGKO as 'n kerkorde in hierdie opsig nie die praktyk in NG gemeentes bepaal nie, maar 'n proses kondoneer waarin gemeentes independentisties hulle eie pad loop. 'n Proses waarin liturge meen dat elkeen vanaf sy eie preekstoel sy eie verskraalde formulier kan volg. Hoewel NGKO 2017 'n herkenbare voortsetting van NGKO-1962 is, aanvaar hy nou uiteenlopende eredienste in Ned Geref Gemeentes wat hulle soms, selfs vir mekaar, onherkenbaar maak (NGKO 2011:14; Strauss 2015:101-102).

 

NGKO artikel 48 kerkregtelik beoordeel

Die feit dat die kern van NGKO artikel 48.1 sedert 1962 gehandhaaf word, spreek boekdele vir die voortgaande relevansie daarvan. Hierdie kern is dat die "erediens" 'n ontmoeting tussen die Here God - sy verbondsnaam - en sy gemeente is. 'n Erediens onder leiding van die kerklike ampte (dit maak dit amptelik) wat oop is vir almal wat met die aard daarvan assosieer en daarom - soos NGKO-2017 dit stel - 'n "amptelike openbare samekoms van die gemeente tot ontmoeting met God" en met mekaar as die "gemeenskap van die heiliges" (gelowiges soos geheilig in Christus) vorm. 'n Erediens waarin die bediening van die Woord van God en die sakramente sentraal staan en die gelowiges deur gebed, die kerklied, dankoffers en belydenisse antwoord. 'n Ontmoeting waarin die Here God deur Woord en sakrament hoor- en sigbaar praat en die gemeente deur die Woord en Gees gelei word om gepas te antwoord. 'n Ontmoeting waarvan die ritme gevorm word deur die Woord van God en die antwoord van sy gelowige volk. 'n Beginsel of 'n kerkordebepaling wat kerkrade moet help in hulle erkende bevoegdheid om die eredienste van gemeentes in te rig (NGKO 2015:13).

Die erediens is 'n ontmoeting van die Here met syne waarin sy Woord of sy verkondigde, verwerkte Woord of die prediking die eer of hulde van sy volk aan Hom, bepaal. Sy volk wat Hom as God deur sy Skrifopenbaring en Gees algaande beter leer ken en Hom in die diens daarvoor eer. 'n Erediens waarin dit wat gebeur net op een ding dui: die Here alleen is God en ons dank ons hele bestaan aan Hom. Die heiligheid van God verseker dat Hy bestendig bly in sy genade, liefde en trou soos verwoord in die Boodskap, beloftes en konstantes van sy Woord. Konstantes wat inhou dat sowel sy Skrifgeworde én verkondigde Woord sowel as sy wet of gebooie vir die lewe - sy spreke - in die erediens voorop staan.

Die feit dat NGKO-1962 konsekwent bly in sy omskrywing van die kern van die erediens, beteken dat hy stuit op 'n stande van sake waarvoor die Here in sy skepping voorsiening gemaak en waaroor 'n breë kerklike konsensus ontstaan het. NGKO sluit met dié kern aan by die heilige algemene Christelike kerk. Die woord "amptelik" wat die openbare samekoms in NGKO 2011 nader omskryf, verander niks hieraan nie. Ook nie die dankoffers wat die offergawes in NGKO 1994 vervang nie.

Die vertrekpunt dat die diens wat NGKO artikel 48 omskryfas 'n ontmoeting van God met sy kinders primêr op die eer van God gerig is, vra vir woorde, gebede, liedere en 'n liggaamshouding wat in die kultuuridioom van die tyd dank en eer aan die grote God hier teenwoordig, uitdruk. Werklike respek vir die Here in so 'n samekoms vra ons beste pogings met die woord en wysie van die lied en die houding en inhoud van die gebed. Soos Lied 159 in die Liedboek dit uitsing (NG Kerk-Uitgewers 2001: Liedboek 159):

God is hier teenwoordig, laat ons biddend nader, hier waar ons voor Hom vergader.

God is hier teenwoordig, heilig is die Here, buig in stilte Hom ter ere

...

Wie Hom roem, wie Hom noem Heer en Hemelvader, kom nou almal nader.

En dan:

God is in sy tempel, hemelpoorte bewe, almal buig voor Hom wat lewe!

Engele sing: Heilig, heilig is die Here, in die allerhoogste sfere!

Uit die stof klink ons lof: Here God van vrede, hoor ook ons gebede."

NGKO artikel 48.1 se amptelike openbare samekoms onder leiding van die besondere ampte of die leraars, ouderlinge en diakens beteken nie 'n stywe atmosfeer van formaliteite nie. Dit beteken bloot dat die ampte hulle Godgegewe opdrag uitvoer en die erediens met kerklike sanksie - van die kerkraad - plaasvind. Dat die ampte as gestuurdes kontrole uitoefen oor die Skrifgebondenheid van alles wat plaasvind omdat dit tot eer van God moet wees. Dat die ampte namens die Here optree volgens sy wil wat Hy aan die gemeente deur die amptelike bediening van die Woord bekendmaak. Daarom moet liturg en gemeente onder leiding van die ampte hou by die gesagvolle, bindende afsprake wat die gemeentes in meerdere kerkvergaderings in die kerkorde maak oor die inhoud van die erediens. Bepalings waarop beter deur meer gelowiges as deur enkelinge besluit kan word. Gelowiges wat mekaar bevrug om dieper en met meer gegewens en argumente na sake te kyk. lets van Efesiërs 3:18 se "... om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek".

In die lig hiervan is dit jammer dat NGKO 2011 skynbaar bes gegee het en behalwe die vae begrip van liturgiese grondlyne, dinge soos 'n goeie amptelike Bybelvertaling, gefundeerde liturgiese formuliere en liederebundels met impak aan die beperkte insig en - soms - vervlakte willekeur van een of meer invloedryke figure in die gemeente oorgelaat het. Die vermoede ontstaan dat die breë omskrywing van die erediens as 'n ontmoeting minder weerstand wek as voorskrifte oor formuliere en liedere. Voorskrifte oor formuliere en bundels wat weerstand wek nie omdat hulle nie Skriftuurlik is nie, maar omdat die weerstand skerm vir die ongetoetsde voorbeelde van die beswaarmakers self. Hierdie bedenklike situasie en nie 'n nuwe visie op die taak van NGKO ten opsigte van die erediens nie, is waarskynlik die rede vir hierdie vervaging en vervlugting.

Op 'n ander punt bly NGKO egter by 'n gereformeerde verstaan van die kerk: dat kerkrade die inrigting van die erediens vasstel met gebruikmaking van die liturgiese grondlyne van die Algemene Sinode. 'n Bepaling wat ook sedert NGKO 1962 onverpoosd gehandhaaf word (NGKO 1962:10; vgl NGKO 2015:13).

Ten opsigte van die leiding van eredienste versterk NGKO-1986 sy saak deur predikers van ander kerke te beperk tot hulle met 'n erkende ampsbevoegdheid en 'n gereformeerde belydenis. Daarmee gee NGKO aan kerkrade apparaat om die suiwer bediening van die Woord as iets wat van die Here af kom, te bewaar. Verder probeer NGKO artikel 48.3 oor die leiding van eredienste om die Bybelse woorde van "bekwaam om te leer" te handhaaf. Ten opsigte van sy erkende leraars stel NGKO nie verniet vereistes vir legitimasie en beroeping nie (NGKO 2013:2-3).

 

Slot

Die kerkordelike kante van die liturgie van die erediens in kerke raak die ritme of orde van die erediens en die standaarde en kerklike sanksionering van die vorm en gebeure in die diens. NGKO stel met sy omskrywing van 'n erediens as 'n amptelike ontmoeting tussen die Here God en sy gelowige kinders 'n waarheid vir die erediens vas wat rigtinggewend vir die liturgie of orde van die diens is. Geen wonder dat hierdie bepaling sedert 1962 met die eerste NGKO gehandhaaf word nie. NGKO streef na 'n suiwer verkonding van die Woord in eredienste aan die hand van gereformeerde belydenisskrifte en oortuigings en die bekwaamheid om te leer of ampsbevoegdheid van die prediker. Hoewel NGKO die inrigting van die erediens aan die kerkraad oorlaat, gee hy aan die Algemene Sinode van die NGK die reg om liturgiese grondlyne vir die eredienste in die gemeentes te trek en daarmee uitdrukking te gee aan die afsprake tussen gemeentes van dieselfde belydenis oor liturgiese sake.

'n Groeiende gemeentelike independentisme of onafhanklikheid van gemeentes bring mee dat NGKO minder voorskriftelik oor aspekte van eredienste is as vroeër. 'n Balans moet egter tussen die kern of konstantes van 'n gereformeerde erediens verwoord in hierdie kerkordebepalings as 'n weerspieëling van sy geloofsidentiteit en daardie elemente wat binne hierdie konstantes tipies van die aard en inisiatief van die gemeente is, gehandhaaf word. Die kern van 'n tipiese NG gemeente wat met hierdie naam assosieer is die waarneembare lyne van sy gereformeerd-wees en daarbinne sy eie styl (sy plaaslike Nederduitse aanpak) en inisiatief.

 

Bibliografie

Algemene Diensgroep Gemeente-ontwikkeling Ned Geref Kerk (gebruik as Handleiding 2007), 2007. Vir die erediens. 'n Handleiding. Wellington: Bybelmedia.

Algemene Diensgroep Gemeente-ontwikkeling Ned Geref Kerk (gebruik as Handleiding 2010), 2010. Handleiding vir die erediens. Wellington: Bybelmedia.

Algemene Sinode Nederduitse Gereformeerde Kerk (gebruik as AS-NGK), 1976. Die erediens. 'n Handleiding by die Kerkboek. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Algemene Sinode Nederduitse Gereformeerde Kerk (gebruik as AS-NGK), 1982. Die Kerkboek van die Ned Geref Kerk. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Barnard, A.C. 1981. Die erediens. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Barth, K 1967. Church Dogmatics IV. Edinburgh: T and T Clark.         [ Links ]

De Jong, O.J. 1987. Geschiedenis der kerk. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

De Klerk, J.J. 1982. Liturgiese grondlyne. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

De Klerk, B. 2007. Basisteoretiese grondslae van die seën in die erediens en voortvloeiende riglyne vir die liturgie. In die Skriflig 41(3), 391-413.         [ Links ]

Engelhard, D.H. en Hofman, L.J. 2001. Manual of Christian Reformed Church Government. Grand Rapids: CRC Publications.         [ Links ]

Heyns, J.A. 1970. Die nuwe mens onderweg. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Jonker, H. sa. Liturgische orientatie. Wageningen: Zomer en Keunings.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J. 1982. Gereformeerde KerkregI. Pretoria: NG Kerkoekhandel Transvaal.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J. 1988. Gereformeerde Kerkreg IV. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Koffeman, L.J. 2009. Het goed recht van de kerk. Kampen: Kok.         [ Links ]

Kritzinger, M.S.B., Labuschagne, F.J. en Pienaar, P. de V. 1972 (gebruik as Kritzinger et al). Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Pretoria: Van Schaick.         [ Links ]

Kruger, L.S., du Plessis, H.L.M, Spoelstra, B. en Spoelstra, T.T. 1966 (gebruik as Kruger et al). Handleiding by die Kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

Nauta, D. 1971. Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: Kok.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1982, 1994, 1998, 2002, 2007, 2011 A en H (die A en H gaan oor die Agenda en Handelinge). Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1964. Kerkorde 1962. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1986. Die Kerkorde. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1990. Die Kerkorde. Halfway House: NG Kerkboekhandel 1988.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1998. Die Kerkorde. Wellington: Hugenote-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2011. Die Kerkorde. Sl:sn.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2013. Die Kerkorde. Sl:sn.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2015. Die Kerkorde. Sl:sn.

NG Kerk-Uitgewers, 1982. Onsglo... Die Drie Formuliere van Eenheid en ekumeniese belydenisse. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

NG Kerk-Uitgewers, 2001. Liedboek van die kerk. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Plomp, J. 1992. Kerk en recht. Van't Spijker, W. en Van Drimmelen L.C. Inleiding tot de studie van het kerkrecht. Kampen: Kok, 32-42.

Pont, A.D. 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

Sizoo, A. sa. Institutie Calvijn IV. Delft: Meinema.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2010. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2015. Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2016. Ouderlinge metpreekvergunning: n herlewing van DKO artikel 8? Ids 50/1 a 2092.http://doi.org/10.4102/ids.v50il.2092.

Trimp, C 1983. De gemeente en haar liturgie. Kampen: Van den Berg.         [ Links ]

Trimp, C. 1985. Woord, water en wyn. Kampen: Kok.         [ Links ]

Van Dellen, I en Monsma, M. 1967. The revised church order commentary. Grand Rapids: Zondervan.         [ Links ]

Van der Linde, G.P.L. 1983. Die Kerkorde. Pretoria: TG van Wyk.         [ Links ]

Visser, J.Visser, J. 1999. Die Kerkorde in praktyk. Orkney: EFJS Drukkers.         [ Links ]

Vorster, J.D. 1960. Die Kerkorde vir die Ned Geref Kerke: besware daarteen en betekenis daarvan. Ned Geref Teologiese Tydskrif (gebruik as NGTT), Sept 1960, 12-18.

Vrijland, M.A. 1989. Liturgiek. Zoetermeer: Meinema.         [ Links ]

Wolf, E. 1961. Ordnung der Kirche. Frankfurt am Main: Vittorio Klostermann.         [ Links ]

 

 

1 H Jonker omskryf liturgie as die ordening van die samekoms van die gemeente waarin die dinamiek van Gods Woord plaasvind en die gemeente die geleentheid kry om daarop te reageer met 'n skuldbelydenis, aanbidding, lofprysing, 'n deelname aan die sakramente, gemeenskap, offers en diens binne en buite die samekoms, Jonker sa:45.
2 Vgl op hierdie punt E.P.J. Kleynhans se onderskeid tussen kerkreg as ius constituendum (kerkreg soos dit volgens die Woord behoort te wees) en as ius contitutum (kerkreg soos vergestald in bestaande kerkordes), Kleynhans 1982:5. Soos liturgiese ontwikkeling is die vasstelling van 'n gereformeerde kerkorde eweneens 'n voortgaande proses, vgl Strauss 2010:15-20 vir die noodsaak van 'n eietydse kerkorde en NGK 1994:455, 480 vir die voortgaande wysiging van NGKO.
3 In sy Die Erediens praat Barnard (1989:459) van die "allernouste samewerking" wat daar tussen die erediens van Sondag en die erediens van die lewe moet wees.
4 Koffeman verwys na Barth wat in die liturgie die objek van die kerkreg vind. Luister na die liturgie bepaal watter vorm die erediens aanneem en stel die kerkordelike bevoegdhede van lidmate wat in die erediens gebruik word, vas, Koffeman 2009:106.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License