SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.6 número3The future of the Afrikaans reformed churches in South Africa: possible, probable and desirable options índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Stellenbosch Theological Journal

versão On-line ISSN 2413-9467
versão impressa ISSN 2413-9459

STJ vol.6 no.3 Stellenbosch  2020

 

SLOTPERSPEKTIEF

 

Enkele slotakkoorde oor die toekoms van die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika, ook ná Covid-19 / Some agreements on the future of the Afrikaans Reformed churches in South Africa, also after Covid-19

 

 

Some concluding perspectives on the future of the Afrikaans reformed churches, also after Covid-19

This article contains, besides the previous article on some options as related to the future of the main Afrikaans reformed churches in South Africa, some more practical perspectives on the future of these churches. While religiosity still plays an important role in South African society, many other decisive biblical and ecclesiastical factors play a role in deciding the future of the so-called established Afrikaans reformed churches. Extensive attention is given to the realities of membership decline, lack of interest in church life, diversity, unity, ecumenical relations and a new missional focus. Issues like fundamentalism and relativism in reformed theology are also briefly discussed. The major effect of the Covid-19 virus on church life is also highlighted in some greater detail and various practical issues because of Covid-19 are attended to. Though the future of these churches is calling for various adaptions, its future is not without hope.

 

1. Inleidend

In die soeke na die pad vorentoe vir die Afrikaanse gereformeerde kerke is daar baie faktore wat in ag geneem moet word. Belangrikste is egter om na die wesenlike beginsels en riglyne te gaan kyk wat alle Christelike kerke in hierdie wêreld vorentoe behoort te dryf. Ook binne die gereformeerde of reformatoriese tradisie in Suid-Afrika, bly dit natuurlik primêr die uitdra van die Bybelse boodskap van skepping, sondeval, vergifnis, genadige verlossing en 'n lewe wat spreek van nuwe hoop, opregte verantwoordelikheid en gehoorsaamheid teenoor God en medemens. Soos Theuns Eloff sê, bly godsdienstigheid intussen 'n groot faktor onder die Suid-Afrikaanse bevolking. Hy stel dat 84% van die Suid-Afrikaanse bevolking godsdiens as belangrik beskou (Eloff 2016:173).

As die dalende getalle en die invloed van die wêreld en sy idees op die kerk 'n werklikheid word, kan 'n mens maklik moedeloos raak en in die slaggat val om bloot menslike middele aan te wend om die kerk te probeer "red". Bybels-gefundeerde nadenke oor die kerk se toekoms begin egter altyd by die belofte van die Here Jesus aan Petrus in Matteus 16:18: "Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie". Die kerk is Christus se kerk en dit is Hy wat die kerk bou en dit vergader, beskerm en onderhou tot op die laaste dag. Hy is trouens steeds besig om dit te bou en die manier waarop Hy dit doen, is deur die verkondiging van die evangelie en die werk van die Heilige Gees. Dit sê die gereformeerde kerke in hulle belydenisse baie duidelik in byvoorbeeld die Heidelbergse Kategismus (Sondag 21) en Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel 27). Eskatologies gesien is die toekoms van die kerk dus seker en vas, soos wat dit o.a. ook duidelik blyk uit die agtste hoofstuk van die boek Romeine.

Daar is egter ook duidelike aanduidings in die briewe van Paulus van die belangrike rol wat die interne lewe van die kerk speel in die voortgang en welwese van die kerk en die voortbestaan van plaaslike gemeentes, soos aanbiddingspraktyke (1 Kor 12-14), seksuele gedrag ( 1 Tes 4, 1 Kor 5 en 7), gesamentlike ondersteuning van die armes (2 Kor 8-9), onderlinge ondersteuning en vertroosting (1 Tess 4), ensovoorts (Gaventa 2013:13). Daar is dus goeie gronde vir 'n Skriftuurlike besinning oor die toekoms van die kerk en die wyse waarop gelowiges die hand aan die ploeg moet slaan en vorentoe moet kyk.

Ons wil vervolgens dan gaan kyk wat die werklikheid is wat die verlede en die geskiedenis, natuurlik ook deur ons eie toedoen, aan ons oorgelewer en gebied het. Dit alles om tot 'n ontleding te kom van waar ons vandag staan te midde van die werklikhede en uitdagings van ons tyd. Dit help ons dan om tot 'n beter teologiese verstaan van ons historiese gewordendheid te kom en te vra waar God in alles is op pad na die toekoms. Hierdie perspektiewe het egter nie ten doel om soos die vorige artikel vanuit die wetenskap van die futurologie of toekomskunde navorsend na die toekoms te kyk nie, maar eerder om op 'n beskouende vlak die toekoms van die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika te bestudeer. 'n Dimensie wat onlangs in hierdie verband bygekom het, is die ingrypende Covid-19 virus wat die wêreld in hierdie tye teister. In baie opsigte het Covid-19 die ekonomie, politiek en samelewing van ons wêreld op sy kop gedraai, en op baie plekke word daar verwys na die feit dat ons wêreld nie ooit weer dieselfde gaan wees nie. Die ou-normaal gaan volgens baie mense nie meer bestaan nie en daar sal 'n nuwe-normaal ontwikkel moet word. Hierdie realiteit word beslis ook deur alle kerke wêreldwyd in die gesig gestaar en dit geld ook die Afrikaanse gereformeerde kerke.

Die wereldbekende Win-Gallup Poll het byvoorbeeld in 2012 'n aantal rigtingaanduidende perspektiewe op denke binne die kerk van ons tyd juis oor die kerklike praktyk na vore gebring. Redes wat uit hierdie tipe opnames blyk vir mense om weg te bly van die kerk, was onder andere die volgende: voorkeur van mense om op hulle eie te aanbid, 'n afkeur aan georganiseerde godsdiens en 'n persepsie van hulself as dat hulle nie vreeslik godsdienstig is nie. Op een van die vrae as deel van die bogenoemde ondersoek oor wat die belangrikste van kerkwees vir mense inhou, was die antwoord dat hoewel sommige mense na elders wegbeweeg het vanweë die meerdere behoefte aan spirituele relevansie, dit ook juis die rede was waarom andere dikwels by hul eie en bestaande kerk gebly het. Respondente het verder aangedui dat hul grootste behoefte was om meer van die Bybel te leer ken en te verstaan (83%) en vervolgens om godsdiensbeoefening met hul eie lewe te integreer (80%) (Win-Gallup Poll 2012).

Die vraagstelling in hierdie perspektiewe handel oor verskillende vrae rondom mense se domeinbestaan op pad na die toekoms, dit wil sê, eerstens oor hoe hulle funksioneer in 'n sekulêre omgewing terwyl daar gesoek word na 'n outentieke kerkervaring op pad na die toekoms. Tweedens is daar die vraag na verskillende kerke se ervarings van verskillende tendense in die godsdiensdomein. 'n Derde vraag is hoe die verskille en ooreenkomste tussen tendense in Suid-Afrika in vergelyking met wêreldwye tendense, gesien moet word. Ten slotte word ook gevra na die kreatiewe spanning tussen die periferie en sentrum van die tersaaklike verskillende kerklike kulture en groeperings en hulle reaksie op Covid-19.

Soos hierbo genoem, het 'n globale gebeurtenis ons wêreld sedert Desember 2019 getref, naamlik die Covid-19 pandemie. Covid-19 is 'n baie ernstige respiratoriese virus en in sekere opsigte soortgelyk aan ander virusse (wat byvoorbeeld griep, tuberkulose en baie ander toestande tot gevolg het), wat tans ons wêreld ingrypend teister. Waarom Covid-19 egter nie net ons vreesgevoelens nie maar ook ons hantering daarvan so geweldig aangeraak het, en steeds byna ons volledige aandag opeis, is omdat dit 'n geweldig snelbewegende, aansteeklike en gevaarlike respiratoriese virus is. Verskillende teenmiddels is teen laat 2020 besig om beskikbaar te word, maar dit gaan lank duur voor alle mense in die wêreld dit sal ontvang.

Hierdie vernietigende virus wat feitlik die hele wêreld geaffekteer het, het in laat Desember 2019 en vroeg Januarie 2020 in China bekend geword. Kort daarna het dit ook in ander dele van die Verre Ooste uitgeslaan, byvoorbeeld in Suid-Korea, Taiwan, Singapoer en Japan. Sedertdien het dit soos 'n veldbrand wêreldwyd versprei en groot getalle mense, veral in Italië en Spanje, en later ook in Engeland en Swede is geïnfekteer, met honderdeduisende wat reeds gesterf het. Intussen het dit ook na Indië, Brasilië en veral na die VSA versprei waar verdere groot getalle mense siek geword het en ook gesterf het. Intussen is die hele Suid-Amerika, Australasië en Afrika, en dus ook Suid-Afrika, ernstig deur hierdie virus geaffekteer.

Ten tye van die skryf van hierdie bydrae in die eerste helfte van 2020 blyk dit reeds duidelik dat die voortvloeiende effekte van Covid-19 nog vir baie lank gaan voortduur en dat dit reeds lyk of 'n tweede vlaag infeksies in sommige lande kan begin posvat. Omdat dit iets soortgelyks is aan die Groot of Spaanse Griep van 1918 (hoewel daar in daardie stadium natuurlik meer beperkte openbare gesondheidstelsels ontwikkel was), gaan Covid-19 dus ook baie gevolge op haas alle samelewingsterreine hê. Behalwe vir die wêreldwye nadenke rondom Covid-19 wat deel van ons lewe is, wil hierdie slotwoord ook 'n bepaalde bydrae daartoe lewer om prioriteite in die huidige kerklike diskoers moontlik te korrigeer en aan te pas.

 

2. Algemene nadenke oor die toekoms van die Afrikaanse gereformeerde kerke

In die afgelope aantal dekades word wêreldwyd, maar ook in Suid-Afrika nagedink oor die kerk en sy toekoms deur kerkleiers en teoloë. Enkele Suid-Afrikaanse voorbeelde is byvoorbeeld: Nelus Niemandt, Nelis J van Rensburg, Dirkie van der Spuy, Stephan Joubert, Johan J van Rensburg, Kobus Kok, Koos Vorster, Douw Breed, Cassie Aucamp, Phia van Helden, Llewellyn MacMaster, Nico Botha, Christina Landman, Dirkie Smit, Leepo Modise, Allan Boesak, Wim Dreyer, Frikkie Labuschagne, Yolanda Dreyer en André Ungerer. Ruimte ontbreek hier om op hul verskillende teologiese aksente en publikasies te wys. Belangrik is dit egter dat die toekoms van die kerk deur sommiges bedink word as 'n taamlike krisis en verleentheid, maar dat dit tog ook beskou word as 'n besliste geleentheid, want die institusionele kerk is in die 21ste eeu in 'n fase van oorgang.

Die ernstige vraag moet ook gevra word watter skuiwe vind in ons tyd plaas rondom onder andere goed gebalanseerde Bybelse teologie, die Godsbegrip, die kerkbegrip, die rol van die Heilige Gees en die koninkryksbegrip. Hierdie verskuiwings word dikwels bepaal deur hoe die pendulum tussen leer en lewe swaai en waar die mensdom sigself te midde van filosofiese, intellektuele en emosionele gegewendhede bevind.

Daar moet deurentyd in hierdie proses van nadenke daarteen gewaak word om nie die kerk met sy tekortkominge ten onregte af te takel nie, dit wil sê, nie sigself skuldig te maak aan sogenaamde "church bashing" nie. Die uitdaging is juis om op 'n eerlike en realistiese wyse die kerk, met erkenning ook van sy foute, voor te hou as draer van die Bybelse boodskap met ook 'n fokus op die tog merkwaardige positiewe bydraes wat die kerk in die verlede en nog steeds maak.

Die kerk in die algemeen, en meer spesifiek die gereformeerde kerke wêreldwyd en ook in Suid-Afrika, beleef 'n fase van dekonstruksie wat noodwendig lei tot 'n identiteitskrisis, maar dit skep tog weer die ruimte om opnuut geloofsonderskeidend te wees en mee te werk aan rekonstruksie. Verder is die debat rondom Afrikanisering en die uitbou van groter onderlinge eenheid ook al hoe meer op die tafel. Dit alles bring die belang van die volgende na vore, naamlik eerstens, die noodsaaklikheid van beheerde groei waarin daar oor verbinding en wisselwerking tussen teorie en praksis besin moet word, en tweedens, die belangrikheid van 'n saak soos die opleiding van teologie-studente ten opsigte van die sake wat deel uitmaak van hierdie gesprek oor die toekoms (De Klerk en Van Helden 2011:5).

Die verskillende gereformeerde kerke in Suid-Afrika het alreeds vir 'n geruime tyd begin nadink oor die toekoms. In 2007 het die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) byvoorbeeld by hul 68ste Algemene Kerkvergadering sekere sake genoem wat aanleiding gee tot die daling in lidmaattal: emigrasie na die buiteland; lae geboortesyfers; veroudering van lidmate; gebrekkige geloofsopvoeding van kinders deur ouers; gebrekkige opsig en bearbeiding van bestaande lidmate; oneffektiewe bedieningstrukture; eredienste bereik nie die jeug nie; ingrypende sekularisasie van die Suid-Afrikaanse gemeenskap; rol van die media; die aanvaarding van ander godsdienste of ateïsme as legitieme alternatiewe; die invloed van ander kerke deurdat NHKA-lidmate daarby aansluit; die tyd van tradisionele lidmaatskap wat verby is; beweeglikheid van lidmate; min lojaliteit ten opsigte van een kerk of gemeente; jonger lidmate skakel by kerke en gemeentes in waar daar groter vryheid en variasie is, waar hulle voel hulle geestelik versorg word en 'n sinvolle bydrae kan lewer (vgl. ook Dreyer 2009:10).

Dit is duidelik dat hierdie oorsake byna vir al die Afrikaanse hoofstroomkerke geld as redes waarom hulle in Suid-Afrika 'n afname van lidmaatskap ervaar. Veral vir die drie tradisioneel wit Afrikaanse hoofstroomkerke, blyk dit duidelik dat 'n omkeerstrategie nodig is omdat ons 'n waarskynlike toekoms van ernstige inkrimping tegemoet gaan.

Die volgende kan moontlik vir die NHKA wag en wel soos Wim Dreyer dit in 2009 stel:

"Die era (en die ideaal) van 'n gemeente met sy eie volversorgde predikant op elke dorp en in elke woongebied (die klassieke volkskerkmodel) wat in geografiese wyke verdeel is en gereeld deur ouderlinge en diakens besoek is, is 'n verbygaande model van bediening.

"Die tradisionele herder/kudde gemeente gaan in groter, stedelike gemeentes toenemend onder druk kom.

"Daarmee saam sal die tipiese reformatoriese identiteit en bedieningstrukture bepaalde verandering ondergaan.

"Die toekoms van die Kerk is waarskynlik te vind in makrogemeentes (sentralisasie, met die gepaardgaande tot niet gaan van omringende gemeentes), of in mikrogemeentes (desentralisasie, met gepaardgaande proliferasie van huisgemeentes).

"Indien hierdie scenario realiseer, sal dit uiteraard groot uitdagings aan die kerk stel in terme van opleiding van lidmate en 'n radikale hervorming in kerkbegrip en kerkpraktyk. Op plaaslike vlak sal die verandering in grootte (groei of verkleining van gemeentes) eiesoortige eise stel.

"Gemeentes sal waar nodig saamsmelt. En op die platteland kan gemeentes van verskillende kerke saamsmelt en bediening deel. Ook op 'n makrovlak is die samesmelting van kerke 'n moontlikheid.

"Teologiese opleiding, barmhartigheidsdiens en ander sinodale dienste moet interkerklik plaasvind.

"Omgekeerd, as die strategie van desentralisasie gevolg word, kan klein gemeentes (huisgemeentes) onder leiding van lidmate en ouderlinge funksioneer.

"As laasgenoemde realiseer, het dit die implikasie dat die rol van die predikant ingrypend sal verander. Predikante sal meer aandag moet gee aan die opleiding en toerusting van lidmate.

"Die NHKA sal sy pastorale bedieningsmodel moet hervorm tot 'n omvattende missionale bedieningsmodel.

"Die tradisionele teologiese opleiding sal ingrypend moet verander, aangesien predikante van die NHKA tans nie behoorlik in staat is om in 'n missionale omgewing te funksioneer nie" (Dreyer 2009:4).

Wat Dreyer hier stel as duidelike koersaanpassings vir die NHKA, sal waarskynlik ook geld vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) maar in 'n mindere mate vir die relatief jonger Verenigende Gereformeerde Kerke in Suider-Afrika (VGKSA). Dit is duidelik dat 'n radikale paradigmaskuif getalle gestrem het en spiritualiteit onder druk geplaas het binne Afrikaanse hoofstroomkerke.

n Teoloog van die GKSA, L Floor (1996:388), ondersoek faktore wat sekularisme veroorsaak naamlik: tegnologiese ontwikkeling; matelose selfoorskatting van die wetenskap; toenemende welvaart; invloed van die media; afname in sosiale kontrole; devaluering van die huwelik; 'n seksualiteit wat van sy taboes ontslae geraak het; en 'n sterk dinamika van die samelewing. Floor (1996:387-401) dring egter nie genoegsaam deur tot die kernsake as oplossing teen die sekularisme wat hy hierbo genoem het nie. Hy val miskien te veel terug op ou clichés.

Die verdere vraag kan ook gevra word of die Afrikaanse hoofstroomkerke nie vroeër veral jongmense vervreem het met hul Christelik-Nasionale aanslag nie terwyl die behoefte deesdae meer bestaan aan 'n godsdiens wat gebalanseerd is maar vry van struktuur en tradisie en die voetangels van historiese sake soos apartheid.

Resente navorsing oor jongmense in Afrikaanse hoofstroomkerke is in 2015 deur Malan Nel en Zander van der Westhuizen gepubliseer. Malan Nel is 'n teoloog en Van der Westhuizen is 'n NGK predikant wat in jeugnavorsing spesialiseer. Hulle was in 2015 die redakteurs van Skokkend positief wat insigte vanuit nuwe navorsing oor die belangrikste aktiewe Afrikaanse hoofstroomkerke se kerkjeug gedoen het. Mense was uiteindelik verbaas oor baie van die gevolgtrekkings van die boek wat daarop neergekom het dat jongmense weliswaar nie ten volle nie maar tog oorwegend positief is oor die kerk.

Enkele van hul belangrikste gevolgtrekkings is die volgende: Gesinne bly die belangrikste ruimte waarbinne jongmense se geloof kan groei; huwelike moet ondersteun word; toerusting van almal wat met jongmense werk is belangrik; dink inklusief en sensitief oor jongmense; dink nuut oor die ontwikkeling van geloofsvorming; werk aan die kerk se publieke beeld; die meeste jongmense beleef die kerk as veroordelend; raak betrokke by jongmense en wees daar vir hulle; wees meer gasvry oor gemarginaliseerde mense; doen moeite met stories, rituele, tradisies en simbole; wees aktief betrokke by 'n getransformeerde jeugkultuur; raak betrokke by onderwys wat kinderontwikkeling, naskoolse jongmense en ondersteuning van onderwysers insluit; motiveer jongmense binne die konteks van die nuwe Suid-Afrika; ondersteun jongmense pastoraal veral met depressie-probleme; gebruik moderne tegnologie en sosiale media; herbesoek seksualiteit en ontwikkel moraliteit; en wees lief vir jongmense (Nel & Van der Westhuizen 2015:168-169).

 

3. Verdere uitdagings vir hierdie kerke se toekoms

Voordat gefokus word op die gereformeerde kerke in Suid-Afrika se uitdagings op pad na die toekoms word kortliks gewys op enkele fasette oor die situasie van internasionale hoofstroomkerke, en dan meer bepaald op enkele verskynsels in veral Nederland en in die VSA wat vir baie lank histories nou verbind was met Suid-Afrika. Dit is ook twee lande wat steeds in 'n teologiese wisselwerking met die Suid-Afrikaanse situasie staan.

Die joernalis Jacob Rooi het in 'n populêre artikel in 2018 in Rapport (Rooi 2018) vir ons oorsigtelike doeleindes 'n goeie en kernagtige samevatting van die huidige konteks in Nederland gegee. Ten spyte van die groot historiese rol wat Nederlandse gelowiges en teoloë ten tye van die Hervorming en tot in die 20e eeu gelewer het, is kerke in Nederland besig om te kwyn. In 2012 het ongeveer 54% van die Nederlandse bevolking volgens die Sentrale Statistiekdiens aangedui dat hulle gelowig is en in 2018 het die syfer gedaal na 49%. Waar meer as die helfte hulself dus as ateïsties of ongodsdienstig beskryf het, was die res ongeveer soos volg verdeel: die grootste groepering was die Rooms Katolieke met 24%, en dan die Protestante met 15% en die Moslems met 5%. Diegene wat hulself reformatories noem, is ongeveer 5% en ongeveer 15% is algemeen Christelik. 'n Mens moet intussen ook bewus wees daarvan dat daar sedert die 1950's na die Tweede Wêreldoorlog 'n geleidelike maar later dramatiese ontchristianisering en ontkerkliking in Europa en dus ook in die gereformeerde tradisies byvoorbeeld in Nederland plaasgevind het. Die huidige grootste Protestantse kerk in Nederland (PKN) (wat voor 2004 onder andere uit die selfstandige Gereformeerde Kerke van Nederland (GKN) en die Nederlands Hervormde Kerk (NHK) bestaan het), het tans slegs 1,6 miljoen lidmate wat 9% van die totale bevolking uitmaak. Al hierdie verskuiwings en ook inkrimpings het uiteindelik 'n baie duidelike effek op kerk, teologie en samelewing gehad (Meester & Dekker 2006).

Ons wil tweedens kortliks fokus op die gevestigde kerke in die VSA en heel kursories op die Presbiteriaanse tradisie aldaar. Interessant is dit om te besef dat die meeste van die positiewe ontwikkelinge in die vroeëre VSA se geskiedenis, in 'n groot mate saamgehang het met die algemene stand van die land se gevestigde godsdiens, maar in die laaste aantal dekades ook met die realiteit van toenemende sekularisasie. Die agteruitgang wat ook beslis in die gevestigde en protestantse kerke in die VSA ingesluip het, het intussen 'n groot effek op die samelewing gehad. Die ontkerkliking en ontchristianisering van die Amerikaanse samelewing beweeg steeds voort en dit lyk asof min instellings daar hierdie proses kan keer. Eintlik is dit net die Rooms-Katolieke Kerk en die evangelikaalse kerke wat 'n remmende effek op hierdie proses van agteruitgang het. Daar was ook in die afgelope dekades in die hoofstroom Presbiteriaanse Kerk in die VSA 'n ingrypende afname in lidmaatgetalle. Teen 1965 was daar 'n hoogtepunt van lidmaatgetalle naamlik 4,250,000. Teen 1983 het hierdie getalle vanaf 3,131,228 lidmate dramaties begin afneem na 1,302,043 in 2019 en ongeveer 9 000 gemeentes. Hiermee het die Presbiteriaanse Kerk daar die grootste daling van alle protestantse denominasies in Amerika beleef (Longfield 2013).

Die telkens herhalende positiewe of negatiewe verwikkelinge in die kerke in die VSA sedert die tweede helfte van die 20e eeu klink deurgaans soos 'n herhaling en refrein van dit wat ook in Nederland en in Europa gebeur het: minder tradisionele geloof en godsdiens; meer 'n neiging na individuele selfverwesenliking as 'n duidelike gedefinieerde spiritualiteit; die eenvormigheid van die sosiale klas-groeperings in die hoofkantore van die verskillende denominasies; die groter aandeel van vroue in die onderskeie kerke; die voortdurende kniebuigings in die kerke in die rigting van bepaalde politieke ontwikkelinge en strominge; die onbelangrikheid van kerklike karaktertrekke wat in 'n stadium 'n kerk gekenmerk het; die plaasvervanging van Judees-Christelike getuienisaksies met soms meer eensydig-neigende sosiale aksies; en die algaande verskraling van goeie en gebalanseerde Bybelse teologie.

Vervolgens dan nou aandag vir van die belangrikste uitdagings en moontlike fokuspunte vir die toekoms vir die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika

3.1 Kerkkrimping en groterwordende onbetrokkenheid

Baie uitdagings het in die afgelope tye op die pad van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika beland. Eerstens, byvoorbeeld, die versoeking om hulle te vereenselwig met die negatiewe en afsydige houding van baie lidmate teenoor die nuwe Suid-Afrika, en tweedens om sigself gevolglik te weerhou van 'n gesonde maatskaplike betrokkenheid. Daar is waarskynlik in 'n beperkte mate ook steeds die versoeking by sommiges in hierdie kerke om die saak van die Afrikanervolk hul saak te maak, en om primêr om te sien na die belange van die volk. Derdens ontwikkel al meer in ons tyd 'n groeiende vervreemding van die kerk.

Soos vroeër reeds aangedui, het die vlak van betrokkenheid van lidmate by die kerk en kerklike aktiwiteite intussen gedurende die afgelope dekades ooglopend afgeneem. Baie redes kan en is ook reeds vroeër in hierdie supplementum hiervoor aangedui, maar dis inderdaad 'n tendens wat ernstige kommer wek. In baie opsigte het die Afrikaanse kerke 40 of 50 jaar gelede verstar begin raak in hul kerklike bedieningspatrone en kerklike styl van doen. Die 1970's en 1980's het kerkmense, predikante en teoloë egter toenemend bewus gemaak van die voortdurende behoefte aan vernuwing op alle terreine van kerkwees. Dit was nie net toenemend meer sigbaar met betrekking tot die kerk se denke oor en rol ten opsigte van noodsaaklike veranderinge in die politieke bestel van die tyd nie, maar dit het ook neerslag gevind op baie ander kerklike vlakke.

In 2011 skryf De Klerk en Van Helden (2011:1-10) oor die oorsake van kerkkrimping in die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Hulle vra die teorievraag oor wat die Groot Opdrag vereis maar ook die praktykvraag na die oorsake van krimping binne hierdie kerke.

Hulle stel dat hierdie verskynsel toegeskryf kan word aan baie faktore. Hierdie verskynsel het in die 20ste eeu begin manifesteer in die hoofstroom Protestantse kerke in die noordelike halfrond, en vanaf 1980 en 1990 het dit 'n onomkeerbare tendens in Suid-Afrika geword:

Kerkkrimping is die resultaat van die sameloop van historiese en hedendaagse meetbare en onmeetbare faktore binne en buite die gelowige(s), te midde van die onstuitbare voortstuwende beweeglikheid van die Christendom. Faktore wat aanleiding gee tot kerkkrimping kan derhalwe wel onderskei word, maar weens die verweefde aard daarvan is skeiding van die onderling beïnvloedende faktore nie moontlik nie" (De Klerk en Van Helden 2011:1).

Van Helden rapporteer in 'n afsonderlike artikel "Waar is die gereformeerde lidmate dan?" (2016) van haar verdere studie met betrekking tot kerkkrimping. Deur middel van steekproewe in die GKSA het sy bepaalde afleidings gemaak waaruit waarskynlik ook enkele afleidings vir die ander Afrikaanse gereformeerde kerke geëkstrapoleer kan word. Van Helden onderskei verskeie faktore wat 'n rol hierin speel soos sosiale en demo-grafiese faktore, ekonomiese en politieke faktore, tegnologie en die huislike opset, die wesenskarakter van die Afrikaner, Afrika as 'n multikulturele en postkoloniale tuiste, en dan veral ekklesiologiese faktore, wat al vroeër op verskillende plekke in hierdie supplementum ter sprake gekom het. Aan die hand dan van die steekproewe wat in bepaalde GKSA-gemeentes gedoen is, naamlik vanaf 2005-2009 en weer vanaf2014-2015, is aangetoon dat lidmaatgetalle steeds afneem; dat gemeentes deur samesmelting verdwyn; dat evangelisasie grootliks in die gemeentes afwesig is; dat daar groot getalle lidmate is wat lidmaatskap van die wit GKSA beëindig, asook lidmate wat sonder attestaat (lidmaatbewys) vertrek. Die lidmate wat wel met attestaat vertrek en dit by ander gemeentes aanbied, belig die huidige beweging van lidmate binne die GKSA. Die verdwynende lidmate bevestig die huidige stille inploffing van die kerkverband wat 'n kommerwekkende realiteit vir die volgende dekade voorspel. Die toenemende afname van lidmaatgetalle kan op die duur daartoe lei dat kerkverbande die moontlikheid van samewerking oorweeg en wel ter wille van die saak van gereformeerde oorlewing (Van Helden 2016:1, 4-5).

André Ungerer wat in 2019 ook voorsitter van die Algemene Kerkvergadering van die NHKA geword het, skryf in 2016 'n artikel, "Hou Christus die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in stand?" Wanneer hy die dalende tendens in die NHKA bespreek, gebruik hy woorde soos kwyn, verdwyn en sterwensbegeleiding. Hy formuleer twee moontlike uitkomste waarheen hierdie tendens beweeg. Die eerste uitkoms is om die huidige werklikheid te besef en daadwerklik aan te pas sodat nuwe groei moontlik gemaak kan word. Die tweede uitkoms is dat 'n laertrekmentaliteit gehandhaaf word met die moontlike en waarskynlik onvermydelike gevolg dat die sogenaamde wit susterskerke dalk stelselmatig kan verdwyn (Ungerer 2016: 2-3, 10) Van Helden wys egter in haar artikel, "Waar is die gereformeerde lidmate dan?"(2016:3) dat die Duitser Henning Wrogeman en die Suid-Afrikaner Nelus Niemandt argumenteer dat dalende getalle nie 'n moedelose uitwerking op gelowiges hoef te hê nie. Die kern van kerkwees is vir Wrogeman om God te verheerlik en volgens hom is dit God wat oorlewing beheer en gelowiges daarin lei. Buitekerklikes kan weer by die kerk ingetrek word indien dankbare aanbidding sigbaar word. Niemandt stel op sy beurt dat die hartklop van die kerk as 'n gemeenskap van waarheid en hoop is om in besorgdheid oor andere mense te help om deel te neem aan die verheerliking van God (Niemandt 2007:87). Dit gaan oor lidmate se innerlike lewe en daarom is aanbidding ook die hartklop van die kerk se lewe. Tereg sê Van Helden wanneer sy na die GKSA verwys, dat

[a]lhoewel Wrogeman en Niemandt se menings op sigself waar is en gewig dra, is die realiteit van dalende getalle in wit gemeentes en die grootskaalse gebrek aan groei in swart gemeentes in die huidige tydvak 'n werklikheid waaraan iets biddends gedoen behoort te word - ten spyte van die wêreldwye tendens van lidmaatafname in hoofstroomkerke" (Van Helden 2016:3).

Sy verwys in laasgenoemde verband na die invloedryke George Barna met sy bekende "marketplace ministry"-benadering, asook saam met hom na Kinnaman uit die VSA se voortgesette navorsing oor dalende lidmaatgetalle in die hoofstroomkerke (Barna & Kinnaman 2011).

'n Saak waarvan ook ernstige kennis geneem moet word, is dat daar in die laaste tye ook 'n tendens ontwikkel het waar meer en meer mense op soek na God buite die kerk om is. Daar is 'n ernstige gesprek aan die gang, ook in die gereformeerde kerke in Suid-Afrika, veral rondom die sake van identiteit, spiritualiteit en aanbidding buite die mure van die kerk om, en om dan eerder so aan God verbind te wees. Dit alles dui op die agteruitgang van die institusionele kerk in Suid-Afrika. Aan die eenkant is daar diegene wat nie meer tevrede is met wat die hoofstroomkerke soos die Afrikaanse gereformeerde kerke, wat volgens hulle grootliks net op instandhouding fokus, bied nie. Diegene beskou hierdie kerke as agtergeblewenes wat nie tred gehou het met 'n veranderende wêreld nie. Volgens hulle verander die tye wel, maar die kerke bly vasgevang in ou patrone. Aan die ander kant is daar die denke van diegene wat juis ontevrede is met baie wat die kerke tans aanbied, dit wil sê dat daar 'n diepgaande vervlakking en relativering binne die kerke plaasvind wat die baba met die badwater wil uitgooi, oftewel wat dikwels respek vir die Skrif en vir die belydenis(skrifte) van die kerk wil inboet. Waarskynlik lê die antwoord op hierdie dilemma êrens daartussen.

In verband met die bostaande verskynsels word vervolgens kortliks verwys na Annes Nel vroeg in 2003, Wim Dreyer in 2009, die opmerkings van die toekomskundige Piet Muller in 2017, Kobus Kok in 2018 en Erna Oliver in 2019.

Teen 2003 begin Annes Nel sy boek Op soek na God ... buite die kerk? soos volg wanneer hy hierdie sake aan die orde stel:

Ek is baie lief vir die kerk, want die kerk is my ma ... Maar ek is bekommerd oor my ma. Baie ander mense is ook bekommerd oor die kerk. Ek het soveel verwagtinge van die kerk. Die kerk is nie meer vir almal soos 'n ma nie . Baie mense wil niks meer van haar weet nie en ontken dat sy enige invloed in hulle lewe gehad het (Nel 2003:9).

Hy beredeneer dit verder in sy boek dat "of ons dit wil weet of nie, die kerk ... deur mense gesien [word] as net nog 'n plek waar daar aan hulle behoeftes voldoen moet word ... as die kerk nie aan die behoeftes van mense voldoen nie, soek hulle op ander plekke na die bevrediging van hierdie behoefte" (Nel 2003:9).

In 2009 publiseer Wim Dreyer 'n kort oorsigartikel met die titel "So boer gereformeerdes agteruit" in Kruisgewys. Hy stel dat die tradisionele gereformeerde kerke wêreldwyd agteruit boer. Dit is volgens hom veral waar van nasionale kerke, volkskerke of staatskerke. In die meeste lande wêreldwyd bestaan die tradisionele hoofstroomkerke nog net as minderheidsgroepe. Dit alles het baie lang termyn implikasies soos op 'n kerk se identiteit, hoe kerke en gemeentes moet funksioneer en bly voortbestaan, en hoe teologiese opleiding gesien moet word. Dit alles sal volgens hom ingrypend aangepas moet word. (Dreyer 2009:1-4).

Die toekomskundige Piet Muller is op sy beurt van oortuiging dat die dilemma vir die Christendom die feit is dat die teologiese gaping tussen sogenaamde behoudende en progressiewe Christene al hoe groter word. Muller sien 'n nuwe kerk verrys van mense wat hulself as gelowig, selfs diep gelowig beskou, maar aan geen kerk behoort nie. Dit is juis hier waar die groot uitdaging lê. Die opkomende kerk wat feitlik sonder 'n belydenis funksioneer, kan nie bloot 'n replika wees van die kerk-met-die-belydenis nie. Dit is 'n kerk vir mense wat die weg van die historiese Jesus wil volg, maar nog nie mooi weet hoe om dit in ons samelewing te doen nie. Dit sal 'n kerk met 'n totaal nuwe manier moet wees vir 'n nuwe tyd: op 'n manier n kerk sonder mure (Beeld 28 Oktober 2017:19).

Kobus Kok het in 2018 'n boek die lig laat sien met die titel, Ja vir God, nee vir die Kerk? Hierdie boek verskyn na die publikasie in 2017 van die paleontoloog dr Jurie van den Heever se Wat moet ons met ons kerk doen? asook dié van Jean Oosthuizen in 2018, Die opkoms en ondergang van die NG Kerk. Volgens hierdie en ander sterk kritiese maar soms ongenuanseerde stemme, verander die tye, maar die kerk pas nie genoegsaam aan nie.

In Kok se boek word oor baie aspekte gehandel met betrekking tot die huidige toestand van die kerk wêreldwyd. Hy sê tereg: "Die wêreld het radikaal verander ... [ek het al meer] besef dat die kloof tussen die 'baby boomers' en die 'dot.com'-generasie groter is as wat ek gedink het. Die 'dot.com'-generasie, ook bekend as die millenniërs, voel dat hulle die kerkstruktuur nie meer nodig het nie" (Kok 2018:51). Uiteindelik stel Kok deurgaans in sy boek dat die kerk veels te veel in homself gekeer is en ook neigings van ingrypende krimping en afsterwe toon, en dat heelwat mense dus meer en meer buite om die kerklike struktuur glo en godsdiens probeer beoefen. Kok is baie duidelik daaroor dat die kerk relevant, eietyds en geloofwaardig moet wees, en dat die kerk in hierdie groot uitdaging besliste paradigmaskuiwe moet maak. Na 'n fase van liminaliteit (oor die drumpel gaan) behoort die kerk dan na communitas (saamstaan) te beweeg, wat 'n nuwe samehorigheid kan impliseer. Kok stel in aansluiting by Nelus Niemandt dat die uitdaging vir die kerk soos volg is: "Ekklesiologies gesproke lê die uitdaging daarin om van attraksioneel na inkarnasioneel te beweeg: Wanneer ons Jesus se eie optrede en model bestudeer, sien ons dat Hy nie kerk gehou het in 'n gebou en kerkwees beperk het tot bepaalde 'heilige' plekke nie" (Kok 2018:166).

Erna Oliver publiseer in 2019 'n interessante en belangwekkende artikel. Veral interessant is die kontrolelys wat sy formuleer en wat sy gekonstrueer het uit verskillende insigte van denkers, waarvan ons slegs drie name noem naamlik die van J Mattera (2018), TS Rainer (2016) en C Niewhof (2016). Oliver verdeel die kontrolelys hoofsaaklik in praktiese kwessies en in identiteitskwessies. Onder praktiese kwessies ressorteer sake soos byvoorbeeld hoe die kerk georganiseer word en hoe eredienste ingerig word, oor leierskapsake en dan oor fisiese en materiële aspekte van die kerk se totale inrigting. Onder identiteitsake handel sy oor die sentraliteit van die Bybel teenoor die sentraliteit van die tradisie, verkeerde prioriteite en dan ook blote instandhouding van die instituut in plaas van werklike groei-aksies in die gees van die Groot Opdrag van Matteus 28:18-20 en Handelinge 1:8. Wanneer dit kom by 'n kontrolelys vir verandering, vernuwing en reformasie, noem Oliver allereers dinge waarmee die kerke nie mee moet voortgaan nie, soos om maar net altyd steeds dieselfde dinge te doen, of om net voortdurend aan die instituut aandag te gee. Aan die ander kant formuleer sy dinge wat die kerke behoort te doen naamlik plaas God eerste, bou aan die eenheid in Christus, waardeer ook selfs die proses van transformasie en hanteer Afrika-kwessies met 'n Afrika-benadering (Oliver 2019:3,7).

Oliver praat oor die pad vorentoe en stel dit soos volg: "The Christian faith will not fade or vanish in South Africa ... but the current institutional packaging at least of the Afrikaans-speaking traditional denominations must be discarded and replaced with a flowing, more liquid form and structure . therefore(JWH) intense reformation is needed" (Oliver 2019:5).

'n Relatief nuwe verskynsel wat intussen besig is om al sterker na vore te tree en moontlik te midde van kerkkrimping ook verdere verskille op pad na die toekoms in die verskillende Afrikaanse gereformeerde kerke kan realiseer, is die van die sogenaamde brugbediening. Die idee is nie bloot net brugbediening met die vertrek van een dominee totdat die ander kom nie, maar eerder 'n baie meer omvattende interimbediening. Dit wil sê dit kan help om in die hede algemene behoeftes in 'n gemeente soos dit uit die verlede ontwikkel het te bepaal, en dan na deeglike besinning besluite en keuses oor die toekoms te maak. Dit kan dus ook naas ander metodes strategies help om 'n goed-gefundeerde en Bybelse visie en missie vir 'n gemeente te formuleer. Verder kan brugbediening ook benut word om 'n gemeente by te staan om van een bedieningsbenadering na 'n ander oor te beweeg. Dit kan verdere verdieping maar ook geestelike groei in 'n gemeente tot gevolg hê. 'n Omvattende ontleding van hetsy 'n makro- of middelgrootte of kleiner gemeente behoort dus in so 'n tyd plaas te vind. Na so 'n ontleding wat op baie aspekte fokus soos byvoorbeeld identiteit, demografie, ekonomiese realiteite, geografiese ligging, die tipe bedieningspatroon tot hiertoe, en spiritualiteitstyl word daar besin oor 'n gemeente se toekoms en hoe so 'n gemeente sy roepingstaak vorentoe sien. Interessant is in die verband die insigte van Flip Smit, 'n vorige rektor van UP, wat dikwels verwys na toekomstige demografiese patrone in Suid-Afrika. Dit dui deurgaans op 'n merkbare afname in die wit bevolking van Suid-Afrika (2011). 'n Kleiner en kwynende gemeente op die platteland sou onder andere miskien ook 'n onafhanklike entiteit wil probeer bly of andersins die weg van samewerking met andere wil bewandel (Doyer en Du Toit 2019:57-72).

Daar is intussen aan die ander kant ook bepaalde groeperinge binne veral die NGK en NHKA wat ontevrede is met wat die kerke tans aanbied, dit wil sê, hulle voel dat daar 'n vervlakking en 'n relativering plaasvind wat veral die nodige respek vir die Skrif en vir die belydenis(skrifte) van die kerk wil inboet.

Aan die een kant is daar binne die kringe van die NGK 'n worsteling met teologiese tendense by sommige individue wat al meer in die rigting van teologiese relativisme neig en veral onder die sambreel van die "Nuwe Hervorming" funksioneer. Hoewel die eenheid van die NGK uiteraard vir almal belangrik is, is daar geleidelik meer en meer tekens daarvan dat sommige hoofstroomlidmate in weerstand veral teen modegerigte magsdiskoerse, die pad enersyds van 'n afsonderlike streeksinode op 'n Bybelgetroue teologiese basis, of andersyds dan die pad van doleansie wil bewandel. Laasgenoemde alternatief beteken om te treur (Latyn: dolere) oor die rigting van die kerk en om dan uiteindelik nie meer sinodale bydraes oor te betaal nie.

Aan die ander kant het 'n mens te doen met die sogenaamde "Geloofsbond van Hervormde Gemeentes". Dit is 'n geloofsgroep in die NHKA wat sedert 2011 'n sogenaamde geloofskrisis in laasgenoemde kerk identifiseer as gevolg van 'n liberale teologie met 'n ingeslote humanisme.

In sowel leer as lewe behoort die gereformeerde kerke 'n belangrike balanserende rol te speel om ekstremiste met 'n vervlakkende visie op kerkwees, wat aan die een kant deur fundamentalisme maar aan die ander kant ook deur teologiese relativisme of liberalisme gedryf word, aan bande te lê. Insiggewend is dit wanneer Theuns Dreyer reeds in 2003 na Jurgens Hendriks se denke verwys en saam met hom stel dat "kerke wat bloot 'liberaal' bly konformeer aan sekulêre samelewingswaardes, sal algaande al hoe meer lidmate verloor en sterf. Sulke kerke speel telkens vir 'n ideologiese gehoor" (Dreyer 2003:1048).

3.2 Eenheid en diversiteit

Kerkwees in die 21ste eeu en veral in groter kerke, het te doen met 'n openheid vir verskillende benaderinge. Wat wel van uiterste belang is, is die feit dat ware eenheid en openheid ook in die 21ste eeu in gereformeerde verband slegs kan bestaan op die gemeenskaplike fondament van 'n bepaalde respek vir die Woord en die belydenis, en dat dit nie maar net 'n gerieflike kombers mag wees waarmee alles toegedek word nie.

Die eenheid van die kerk is nie staties nie, maar dinamies. As beelddraers van die drie-enige God word die gelowiges opgeroep om mekaar vas te hou en te respekteer - en om ruimte te laat vir diversiteit in hul midde, en om die verskillende talente en gawes, asook die onderskeie spiritualiteite en kulture wat binne die gemeenskap van die heiliges aangetref word, te erken en te vier. Daar is in ons tyd egter ook baie kwessies waaroor daar in die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika bepaalde verskille bestaan. Dit is kwessies soos Skrifgebruik, gereformeerde identiteit, diverse teologiese aksente, kerkhereniging, nuwe belydenisskrifte, ekumene, selfdegeslagverhoudings, genadedood, en so meer. Behalwe dat hierdie kwessies met baie groot balans en omsigtigheid hanteer moet word, behoort die kerk wel diversiteit te bevorder deur lidmate toe te rus om missionaal meer sensitief en respekvol in kerk en samelewing te leef, solank as wat daar ooreenstemming oor die basiese fondamente sal wees. Die "ander", "andersheid" en "veelkleurigheid" word binne die kerk waardeer en gevier maar dan altyd as deel van God se unieke skepping en herskepping.

Tydens die algemene sinode van die NGK van 2011 is die kerk opgeroep: "Vier die andersheid in jouself, die huwelik, verhoudinge, die breë gemeenskap, in ons mooi reënboogland, globaal en in die totale geskapenheid!" (NGK, Agenda van die Algemene Sinode 2011: Voorwoord). Die eenheid in die gemeente en in die kerk aldus die algemene sinode (AS), word nie hierdeur geskaad nie. Inteendeel, tesame met die diversiteit, word die eenheid en die sterk band van onderlinge gemeenskap (koinonia) as die ander kant van dieselfde munt gevier en waardeer. Dit gebeur veral wanneer mense in liefde na mekaar begin luister en wanneer hulle in vertroue na mekaar toe groei. Op die pelgrimstog van eenheid en diversiteit het ons mekaar nodig. Ons kan inderdaad nie sonder mekaar die pad aanpak nie en dan wel met liefde, respek, passie en eerlikheid.

Dit moet intussen gestel word dat met diversiteit meervoudige beskouings oor en benaderings tot 'n aangeleentheid moontlik is, maar nie onbeperkte moontlikhede nie want pluralisme mag nie gelyk gestel word aan relativisme nie. Die openheid vir diversiteit beteken nie dat die gereformeerde identiteit gefundeer op die Skrif en belydenis prysgegee word nie, en dit is juis hier waar daar soms ernstige verskille na vore kom.

In die woorde van die roepingsverklaring van die algemene sinode van die NGK van 2007 lui dit met 'n breë fokus so:

Bewus van ons diversiteit, verbind ons ons aan groter eenheid tussen gemeentes, aan die hereniging van die kerkfamilie, asook aan die versterking van ons ekumeniese bande. Ons wil graag met alle ander Christene saamwerk om veilige ruimtes te skep waarbinne ons eerlik met mekaar kan praat en bly praat" (NGK 2007:17).

Dit word verder toenemend beklemtoon dat kerklike eenheid, ook in die groter gereformeerde wêreld, organies moet wees en nie gedwonge strukturele eenheid nie. In die GKSA word sedert die algemene sinode van 2009 die model gevolg van eenheid op agendabasis eerder as strukturele eenheid, alhoewel dit nie sonder sy eie uitdagings is nie (GKSA 2009 Algemene Sinode Notule). In die VGKSA-geledere weer is daar tans 'n klem op die Afrikanisering van die kerkorde en die soeke om eerder met sogenaamde swart kerke saam te werk as wit kerke.

3.3 Ekumene en versoening

Die onderhawige periode in die kerklike konteks kan sonder om oor te vereenvoudig, beskryf word as 'n al groter wegbeweeg van denominasionalisme en kerkisme.

Guillaume H Smit (2010) omskryf besonder treffend die diepgrypende verandering wat in ons tyd in kerk en teologie aan die gang is, ook wat 'n groter openheid tussen kerke onderling aanbetref. Hy stel dit so: "Reeds so lank gelede soos 1991 skryf Loren Mead dat 'a new church is being born around us'". Hy word hierin voorgegaan deur Callahan wat verklaar dat die dae van 'n "gekerkte kultuur" verby is, want die era van die sendingveld het aangebreek. "Gekerkte kultuur" veronderstel die tydperk tussen 313 nC en die middel van die 20ste eeu toe die kerk 'n sentrale en oorheersende rol in die Westerse samelewing gespeel het. In die 20 jaar sedert hierdie byna profetiese opmerkings van Mead, het die samelewing inderdaad ingrypend verander, is die kerklike omgewing drasties omvorm, en is die teologie by 'n paradigmaskuif betrek wat as 'n "tsunami van verandering" beskryf is (Niemandt 2007:9-13). Ons leef tans in 'n werklikheid wat ten beste as 'n oorgangsera beskryf kan word ("an ecotone between the modern era and a time we cannot yet define") (Sweet, McLaren & Haselmayer 2003:18). Te midde van al die postmoderne ontwikkelinge wat moeilik omskryfbaar is, bly die voorlopigheid van alle menslike denke en dade ook steeds opvallend (Smit 2010:1). Die paradigmaverskuiwings wat in ons tye plaasvind, lei beslis tot nuwe uitdagings in breë kerklike verband. Elders in hierdie bydrae en in ander artikels in die supplementum is meer uitvoerig aan die eenheidstrewe van die Afrikaanse gereformeerde kerke aandag gegee.

Intussen word binne bepaalde gemeentes, maar ook oor kerk-en kultuurgrense heen, al hoe meer hande gevat en na groter eenheid en ekumeniese samewerking gesoek. Op baie plekke vind eredienste al hoe meer in 'n minder rigoristiese styl plaas met 'n minder gestruktureerde liturgie en 'n spontaner en gemakliker aanbiddingstyl; kleingroepe binne gemeentes is aan die orde van die dag en met hul fokus op uitreiking het die sendingveld verskuif van buite die landsgrense na binne ons leefruimte; verskeie gemeentes van hierdie kerke het sterk begin fokus op uitreikaksies en op omvattende maatskaplike dienste; in middestadsgebiede word dikwels multikulturele bedieninge gevestig wat naas gemeenskapsdiens ook fokus op vigsprojekte; kerke het uit hul gemaksones begin beweeg en vat hande met ander kerke om die gemeenskap te bedien. Tolmay gee 'n historiese uiteensetting van gesprekke tussen die Afrikaanse gereformeerde kerke sedert 1939 en hy verwys na die volgende liggame naamlik die Interkerklike Kommissie, die Tussenkerklike Kommissie, die Tussenkerklike Raad en die Conventus van Reformatoriese Kerke. Hy noem ten slotte ook die langdurige gesprekke en prosesse tot samewerking tussen die protestantse kerke in Nederland wat uiteindelik op die Protestantse Kerke in Nederland (PKN) uitgeloop het.

Hieruit kan moontlike lesse vir die Suid-Afrikaanse situasie geleer word (Tolmay 2014:5).

Met betrekking tot die saak van versoening word gestel dat wanneer oor die boodskap van versoening besin word, moet ook besin word oor wat kerkwees beteken want die kerk is juis tog een van die belangrikste draers van die boodskap van versoening. Hier moet veral die bydraes van die VGKSA tot versoening in die gees van die Belhar-belydenis gedurende die afgelope dekades as baie besonders aangeteken word. Die Belhar-belydenis beklemtoon juis veral versoening, eenheid en geregtigheid. In die versoeningsproses is dit belangrik dat "plekke vir luister" geskep moet word en dat die kontakhipotese ook verreken moet word met die uitgangspunt dat nadere kontak tussen verskillende groepe beter begrip vir mekaar bring. Die teendeel is egter ook waar dat as daar nie gelyke status, erkenning en geleentheid tot besluitneming is nie, kan die nadere kontak verdere konflik veroorsaak en vooroordele verskerp.

In 'n publikasie van Piet Strauss, Kerkwees in die Branding (2013), bespreek hy spesifiek die NGK as een van die gereformeerde kerke se posisie in die "nuwe land", die nuwe Suid-Afrika (Strauss 2013). Dit was veral by die NGK-sinode van 1998, na die sogenaamde Sinode van Versoening in 1994, dat dit duidelik geblyk het dat die NGK kerk van Jesus Christus wil wees. "Daarom is hy (NGK)(JWH) van voorneme om voort te gaan met omvattende koninkryksdiens in die samelewing "sonder aansiens des persoons". Lidmate moet erns maak met die gereformeerde oortuiging dat gelowiges hulle roeping vervul daar waar God hulle plaas" (NGK 1998 Notule van die Algemene Sinode:416).

Strauss stel dat drie duidelike konsekwensies uit die besluite van die daaropvolgende 1998-sinode getrek kan word. Volgens hom is die eerste een dat die NGK duidelik bly loop op die spoor van die lewensomvattende koninkryk van God. Die tweede is dat as die regering aan alle mense maatskaplike diens sou lewer, hy ook teenoor alle mense regverdig behoort op te tree (Strauss 2013:56). Dit wil sê, dit gaan oor regering in algemene regsbelang. Die derde konsekwensie "is dat regeringsoptrede volgens God se wil en as deel van sy koninkryk juis in almal se belang is" (Strauss 2013:56). Terwyl die owerheid voluit sy verantwoordelikhede moet nakom, moet lidmate self ook iets doen aan die situasie waarbinne ons is, en nie alles aan die Here en die regering oorlaat nie (NGK 1998: Notule van die Algemene Sinode 418-419). Strauss stel dat die NGK in 'n nuwe land is met 'n nuwe etos, maar die regte konsekwensies van sy gereformeerde identiteit ook wat betref versoening en geregtigheid, bly relevant vir hom as kerk.

3.4 Missionale kerkwees met 'n getuienis

Vooraf moet genoem word dat die missionale dimensie van kerkwees ook van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika in die laaste tyd 'n baie sterk beklemtoning verkry het. 'n Mens moet in dieselfde asem byvoeg dat dit jammer genoeg byna iets van 'n oorheersende en selfs modegedrewe term geword het. Die missionale het intussen al meer 'n formele neerslag gekry in baie van die amptelike stukke en ook kerkordes van al vier die Afrikaanse gereformeerde kerke, maar die dringende vraag moet ook gevra word of missionale kerkwees werklik gereglementeer kan word. Haas alle denkers is dit ook eens dat om missionaal te wees, kom in wese op niks anders neer nie as om getuigend in woord en daad te wees.

Intussen word die term "missionale ekklesiologie" as nuwe gonswoord en moontlik afkomstig uit Amerika, as 'n sensitiewe term gesien omdat dit weens definisieverwarring verwar kan word met die woord "sending" (om missionêr te funksioneer). Daar kan in hierdie verband miskien eerder van 'n "evangeliese ekklesiologie" gepraat word. Verder skep die gedagte van Compassio Dei wat lei tot Missio Dei, ook veel meer begrip vir die bedoeling van die missionale.

Omdat daar elders in hierdie supplementum reeds uitgebreide aandag gegee is aan die missionale, volstaan ons hier slegs met enkele beoordelende opmerkinge komende van een van die huidige hoofamptenare van die NHKA. Hy het sy baie sinvolle opmerkings weliswaar meer aan die adres van die kerklike publiek gerig, en nie primêr aan 'n akademiese gehoor nie.

Frikkie Labuschagne van die NHKA vat die debat dus bondig soos volg saam:

"Vanuit 'n lewende verhouding met God is 'n missionale gemeente een wat 'n verskil maak, nie net in die lewe van sy lidmate nie, maar ook na buite, insluitend in die gemeenskap, die omgewing en wyer wêreld. Die woord missionaal dui op 'n bestaanswyse waar die getuienis 'n integrale deel van 'n gemeente se denke, lewe en werk uitmaak" (Labuschagne 2019:3).

'n Gemeente wat nooit in isolasie mag of durf leef nie,

"deel stories van God se liefde en genade met mekaar. Hierdie oase van hoop moet ook buite die grense van die gemeente sigbaar word. Om missionaal te leef, vra dus dat die gemeente na binne en na buite 'n verskil maak. In en deur die plaaslike gemeente is lidmate diensbaar in die wêreld, en getuig hulle van die verlossing in die wêreld" (Labuschagne 2019:3).

As Labuschagne onderskei tussen die missionale en die missionêre, stel hy dat die twee begrippe nie teenoor mekaar gestel moet word asof hulle mekaar uitsluit nie. "Missionêre uitreik gebeur [egter] myns insiens momenteel. Die projek begin iewers en kom dan weer tot 'n einde" (Labuschagne 2019:3). 'n Missionale lewe wat uiteraard 'n voortgaande proses is en ook deel is van die DNS van die kerk, "vra dat alles in die gemeente met 'n bepaalde intensie gebeur: om na binne en na buite die verskil te maak/wees" (Labuschagne 2019:3). By baie denkers oor die toekoms van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika vind 'n mens uiteindelik die volgende samevattende aksente ten opsigte van veranderinge en verskuiwinge:

Van 'n selfgesentreerdheid na 'n Godgerigtheid;

Van 'n oorlewingsingesteldheid na 'n missionale leefwyse;

Van 'n gemeentesentriese gerigtheid na 'n Koninkryksgerigtheid;

Van 'n burgerlike godsdiens tot 'n deurleefde Christenskap;

Van liniêre denke tot sistemiese denke;

Van 'n vergadering-en organisasiekultuur na 'n bediening vanuit geloofshandelinge;

Van programme en aksies, na mense en verhoudinge;

Van lidmate wat verbruikers is na lidmate wat medewerkers word -dit wil sê die algemene priesterskap van die gelowige waarmaak;

Van bydraers, na ontvangers wat met 'n dankbare hart gee;

Van uitgawebegrotings na bedieningsbegrotings.

Die veranderinge onderweg na 'n missionale kerk hou dus uiteindelik teologiese, missiologiese, ekklesiologiese en situasionele veranderinge in.

Behalwe vir missionale kerkwees as een van die belangrikste uitdagings aan die reformatoriese kerke van die 21ste eeu in Suid-Afrika, moet kerke ook steeds bedag daarop bly om in alle opsigte relevant, vernuwend en getuigend te dink en te werk. Ons sou aan baie kwessies in hierdie verband kan dink soos onder andere die ekologie, die brandende kwessie van werkloosheid en armoede, van toeganklike fisiese en psigiese gesondheidsdienste en goeie onderwys.

Daarnaas is daar ook bepaalde etiese kwessies wat op pad na die toekoms met groot erns aangepak sal moet word. Dit is kwessies soos die volgende: arbeid en werksetiek; inligtingsetiek en tegnologie wat byna die lotsbeginsel van mense word; die bydrae van die kerk as draer van etiek vir die toekoms; selfdegeslagverhoudings; vergifnis en 'n slagoffermentaliteit binne die sosiale opset; materialisme; bevolkingsgroei; en 'n dramaties veranderende lewenstyl veral na Covid-19, met verhoogde angs- en spanningsvlakke.

Met die nodige erkenning aan 'n kerk soos die VGKSA, kan hulle besondere bydrae om op aktuele kwessies te fokus, aangeprys word. Bloot net om byvoorbeeld te fokus op die oorkoepelende en veelseggende hooftemas van enkele van hul algemene sinodes sedert 2005, kry 'n mens alreeds 'n aanvoeling daarvoor, naamlik "Creator, creation and us" (2005), "Unity in diversity" (2008), "Discerning the will of God for us and the world" (2012) en dan "Celebrating 30 years of the Belhar Confession: unity, reconciliation and justice in obedience to God" (2016) (VGKSA 2005-2016: Algemene Sinode Agendas).

Die vraag kan tereg gevra word of kerke van gereformeerde of reformatoriese agtergrond nog oor 10, 20 of 50 jaar in Suid-Afrika staande gaan bly en dan in welke vorm. Om so 'n vraag te beantwoord hang met baie faktore saam soos ook hierbo uiteengesit. Te midde van alles en ook in groter globale perspektief gesien, moet 'n mens uiteindelik stel dat vanuit 'n Bybels-teologiese maar ook 'n belydende raamwerk verdere en voortdurende vernuwing en reformasie van die Afrikaanse gereformeerde of reformatoriese kerke in Suid-Afrika absoluut dringend noodsaaklik is. Die uitdaging is dus om die Bybel as 'n geloofsboek wat verantwoordelik uitgelê en gehandhaaf moet word, so te laat funksioneer dat dit 'n geloofservaring tot diens wil wees maar ook 'n transformatiewe impak na binne en na buite tot gevolg het. Indien hierdie hoofstroomkerke nie die eerlike en reguit pad van hartgrondige reformasie gaan loop nie, sal die skrif vir die toekoms van hierdie kerke al meer aan die muur wees.

 

4. Die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika, te midde van Covid-19 en sy direkte en indirekte nagevolge

Covid-19 is 'n geweldige realiteit maar dit is ook 'n groot skok vir die kerk van Jesus Christus en vir gelowiges.

Soos in die vorige artikel aangedui is daar in die wetenskap van die toekomskunde sprake van troefkaarte of sogenaamde "wild cards" wat onvoorsiene of onverwagse gebeure is wat die toekoms van die wêreld en van mense ingrypend kan verander. Twee voorbeelde van sulke onlangse troefkaart-gebeure wat die hele wêreld geaffekteer het is die internasionale oliekrisis van 1973 en die terroriste aanval op 11 September 2001 in die VSA. En aan die begin van 2020 het niemand voorsien watter chaos 'n derde troefkaart naamlik Covid-19 gaan aanrig en hoe die virus wêreldwyd gebeure asook die kerke ingrypend gaan beïnvloed nie.

Hier word op drie aspekte gefokus en wel in soverre as wat Covid-19 die kerk in die algemeen maar ook die Afrikaanse gereformeerde kerke in die besonder affekteer. Ek gee aandag aan die volgende: Eerstens watter krisis Covid-19 vir die kerk van Christus inhou; tweedens watter winspunte daar vir die kerk in Covid-19 te vinde is; en derdens wat die uitdagings vir die kerk van Christus is op die pad vorentoe.

Eerstens dan die krisis vir die kerk as gevolg van Covid-19. Covid-19 met sy sogenaamde swart-swaan effek het alle lande se ekonomieë in die internasionale gemeenskap onder geweldige druk geplaas, en baie ekonomieë en sake-ondernemings op baie plekke in die wêreld het in die stof gebyt. Grendeltyd wat feitlik orals in die wêreld toegepas is, het baie sosiale en sielkundige implikasies en het deur die hele internasionale gemeenskap trauma veroorsaak. Covid-19 is waarskynlik hier om vir 'n tyd lank te bly, sterftes bly steeds toeneem, maar so ook armoede, werkloosheid en hongersnood.

Digitale kerkwees (digiklesia), geen kerkbywoning deur veral bejaardes en kinders nie, en meer beperkte inkomste en finansies het die nuwe normaal ook vir die kerke geword. Kerkgeboue wat gesluit is en beperkte kerkbywoning van 50 en 100 en later 250 mense het die naelstring van randkerklike lidmate waarskynlik finaal beëindig. Die jaar 2020 was die begin van 'n baie onseker en vreemde tydperk in ons lewe en in al ons aktiwiteite, ook in die kerk. Pastorale sorg deur die kerk het grootliks in die slag gebly tydens hierdie marathon wat ons steeds moet hardloop. Die "huis"-besoek by siekes en bejaardes moes nou grootliks vervang word deur "muis"-besoek, dit wil sê deur elektroniese middele. Predikante is grootliks geïsoleer as gevolg van grendeltyd. Geen hospitaalbesoeke was moontlik nie (ook al sterf lidmate), geen pastorale versorging nie (ook nie besoeke aan die naasbestaandes van oorledenes nie), geen bejaarde-besoeke, kategese of Bybelstudie was tydens die grootste gedeelte van hierdie tydperk implementeerbaar nie. Fisiese byeenkomste en vergaderings is meestal deur Zoom-vergaderings vervang.

Tweedens, wat is vervolgens die winspunte van Covid-19, indien enige? In die eerste plek het kerke en gemeentes besef hulle het nie kerkgeboue nodig om kerk te wees nie. Dit is wel handig, maar nie absoluut noodsaaklik nie. In die tweede plek het elke gemeente besef hoe belangrik virtuele kommunikasie is. Gemeentes wat dit kreatief ontsluit het, kon mense oor die wêreld heen bereik. 'n Gemeente se ligging is ewe skielik nie net beperk tot sy onmiddellike omgewing en eie lidmate nie. Telematiese prediking en klankopnames is tans maar in hulle kinderskoene. Digitale prediking en virtuele eredienste gaan waarskynlik bly voortbestaan, moontlik in 'n vermengde of hibriede model tesame met fisiese eredienste.

In die derde plek is kreatiewe verbeelding oor nuwe vorme van geloofgemeenskappe deel van 'n nuwe werklikheid. Dit kan nuut en vars in die toekoms as katalisator op arendsvlerke sweef. In die vierde plek is 'n klomp heilige koeie van die tradisionele bestaan van kerke geslag. Persone wat traag was om te verander het eerstehands ervaar dat kerke wat gesluit is, 'n werklikheid is. Hulle moes die kreatiewe leiding van leiers aanvaar wat fiks is om te verander en het gevolglik besef verandering is moontlik. In die vyfde plek en miskien die belangrikste is dat die Here self sy Kerk in stand hou en dat die Kerk van Jesus Christus sy bruid is, wat radikaal kan aanpas maar nie sal onder gaan nie.

In die sesde plek het kerkgeboue gemeenskapsentrums geword. Kos, klere en komberse is afgelaai, armes is vanuit kerkgeboue bedien en kerke kon gesondheidsentrums of veilige hawens vir mense in nood wees. Missionaliteit is met turbo-krag ontsluit. In die sewende plek kan genoem word dat die afsterwe van mense as gevolg van Covid-19, ekonomiese krisisse en isolasie van mense, die spirituele behoefte van mense asook hul behoefte aan 'n geloofgemeenskap gestimuleer het. Grendeltyd het as 't ware belangrike lewensvrae vir mense na vore gebring en in sommige gevalle is 'n keuse vir die Christus-pad gemaak.

Derdens, met betrekking tot groot uitdagings wat Covid-19 vir die kerk van die toekoms teweeg gebring het, die volgende. In die eerste plek het die kerk groot verliese gely met betrekking tot die belewing van die gemeenskap van die gelowiges oftewel koinonia en dit sal dringend aangespreek moet word. In die tweede plek het verminderde beroeps-inkomste by baie werknemers of diegene wat met rente-inkomstes of aandele-portefeuljes moet klaarkom, verminderde inkomstes vir die kerk en sy aktiwiteite en uitreikaksies tot gevolg gehad. Dit sou ook verder plattelandse en middestad-gemeentes wat finansieel swaarkry, nog 'n verdere knou toedien en sommiges sal selfs tot niet gaan of met ander gemeentes moet saamsmelt. Daar is aanduidings dat lidmate uit vrees vir Covid-19 huiwerig is om weer kerklike byeenkomste by te woon. Dit alles het 'n effek op bankkollektes, deurkollektes, dankoffers en ook sogenaamde kerkbasaars of kerk- insamelingsgeleenthede. In die NGK is daar byvoorbeeld tans 'n vermoede dat tot 10% van die 1 100 gemeentes finansieel onder druk kan verkeer en dit kan 'n invloed op aktiwiteite, personeel en ander kerklike verantwoordelikhede hê. In die derde plek was gemeentes wat nog nie die virtuele kommunikasie era betree het nie, of lidmate wat nie toegang daartoe het nie, vir 'n klomp maande gedurende 2020 afgesny van hul gemeentes. In die vierde plek bedreig Covid-19 die lewens en gesondheid van predikante, kerkpersoneel, en persone wat graag ook missionale of getuieniswerk juis ook in hierdie Covid-tyd wil verrig. In die vyfde plek neem dit baie van die normale funksionering van 'n gemeente weg, en beperk sosiale interaksie, en bring dit sielkundige elemente van verskillende angste en vrees-psigoges na vore.

Ons gesprekke as mense, besoeke, kuiers, winkel-uitstappies, sport, kommunikasie, werksomstandighede asook kerkgang, is alles aangetas en het ingrypend verander.

Daar is verder geen twyfel nie dat die kerke steeds besig is om aan te pas by die sogenaamde "nuwe normaal" agv die krisis wat deur Covid-19 veroorsaak is. Dat dit egter tog bepaalde winspunte teweeg gebring het, is ook duidelik. Nou lê die voortgaande uitdaging vir alle kerke voor om die uitdagings volledig in die oog te kyk en nuwe aksies te beplan en dit te implementeer. God hou egter uiteindelik ook sy kerk saam met sy kinders in stand, en daarom is en bly daar steeds hoop en toekoms vir sy kerk in hierdie wêreld, ook ten spyte van Covid-19.

Intussen is daar ook wêreldwyd ernstige worsteling en gesprek oor watter implikasies Covid-19 ook vir die kerke het. In Nederland word iets van hierdie gevoelens verwoord in die "Nederlands Dagblad". Op 23 April 2020 bespreek Dick Schinkelshoek die ses moontlike gevolge wat die corona-krisis vir kerke en Christene kan hê. Hy noem die volgendes: (i) die krisis kan vir kerklike aanwas sorg as gevolg van die aanlyn-moontlikhede; (ii) vervolgens kan dit tot wegkwyning lei; (iii) die krisis sorg intussen wel vir 'n dieper geloofsbelewing; (iv) die corona-virus gaan waarskynlik 'n blywende digitale kerk tot gevolg hê; (v) die krisis sal gelowiges al hoe meer tot verbruikers omvorm omdat hulle met die druk van 'n knoppie na iets kan skuif wat hulle meer aanspreek as miskien hul eie gemeente se digitale erediens; en ten slotte (vi) kan hierdie krisis tot selfondersoek en ook verootmoediging en selfs tot inkeer aanleiding gee (Schinkelshoek 2020(a): 7).

In 'n ander kort artikel op 24 Julie 2020 word die vraag ook weer deur Dick Schinkelshoek aangespreek waarom sou 'n mens die kerk bywoon en in die kerkbank gaan sit as dit tydens Covid-19 blyk dat jy ook op jou sitkamerbank kan aanbid. "... de kerk na corona heeft vooral theologen en leiders nodig die accepteren dat deze verandering vermoedelijk een blijvertje is, en die niet stiekem terugverlangen naar het rijke roomse leven of de tijden dat de stammen nog massaal opgingen na hun bedehuis. De vraag kan immers niet zijn hoe zo veel mogelijk mensen digitaal of lijfelijk in de kerk komen, maar hoe de Geest van God zo veel mogelijk huiskamers vult" (Schinkelshoek 2020(b): 5).

In Noord-Amerika is daar op 'n webwerf van Foreign Policy teen middel Maart 2020 'n paar interessante insigte gedeel rondom die feit dat die Covid-19 pandemie, wat waarskynlik nie sommer gou uitgeroei gaan word nie, die wêreld vir altyd gaan verander. Enkele perspektiewe wat genoem word is die volgende: (i) Die wêreld gaan minder oop, voorspoedig en vry wees; (ii) die corona-virus gaan intussen nie die interafhanklikheid van die wêreld beëindig nie; (iii) die corona-virus kan die politieke prosesse in baie kontekste verander; (iv) oordrewe westerse en globale kapitalisme sal sigself beslis moet herposisioneer en daar sal waarskynlik ernstig besin moet word oor mense met min bestaansmiddele en beperkte gesondheidshulp; te midde van die grootste globale krisis van die afgelope aantal dekades sien ons (v) genadiglik egter ook die krag van die menslike gees, veral ook by gewone kerkmense en burgers wat andere ondersteun, ook by sommige politici, en by die verpleegpersoneel en mediese dokters wat direk met Covid-19 pasiënte werk. "... this crisis will reshuffle the international power structure in ways we can only begin to imagine. Covid-19 will continue to depress economic activity and increase tension between countries. Over the long term, the pandemic will likely significantly reduce the productive capacity of the global economy, especially if businesses close and individuals detach from the labor force. The international system will come under great pressure, resulting in instability and widespread conflict within and across countries" (Walt 2020 : 11-12).

In Suid-Afrika en spesifiek ook by die gereformeerde kerke wat in hierdie oorsig ter sprake is, hoor 'n mens onder andere die volgende stemme:

Heel besonders is die perspektiewe van Dr Frikkie Labuschagne (direkteur van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening) as hy in "Die Hervormer" fokus op Covid-19 se angstige, ontwrigtende en onsekere tye. Dit is egter ook 'n tyd wat baie geleenthede bied om nuut en kreatief oor die uitdra van die evangelie na te dink. Hy stel dat die NHKA klein, vaartbelyn en struktureel beweeglik genoeg is om vinnig en effektief op eksterne kragte te reageer. Hy dui die volgende bakens vir veerkragtige aanpassings aan en dit sou ook gemaklik op die ander gereformeerde kerke in Suid-Afrika van toepassing gemaak kan word:

ingrypende tye vra ingrypende leierskap;

om veerkragtig te wees moet 'n gemeente vir momente van verandering ontwerp word;

die vaardighede en kapasiteit van lidmate en predikante moet ontwikkel en uitgebou word;

waar gemeentes nie meer 'n voltydse leraar kan bekostig nie, kan die dienswerk steeds voortgaan deur middel van die rol van toegewyde ampsdraers en gelowiges.

Gemeentes moet die dringende vraag vir hulself afvra "wie is ons en waarmee is ons besig. Wat moet die gemeente aanleer of afleer om op God se roeping te antwoord?" (Labuschagne 2020:5). Labuschagne formuleer dan 'n droom wat vir alle kerke kan geld: "Ons droom is dat alle mense in Jesus Christus sal glo as hoop vir die wêreld" (2020:5). Daar kan daaraan gestalte gegee word deur Viering, Gemeenskap, Diens en Getuienis. Om uitnemend, volhoubaar en relevant te wees, al weet mens nie presies hoe hierdie pad gaan ontvou nie, is die enigste roetekaart: dit is om vanuit 'n lewende verhouding in 'n Hemelvader se voetspore te volg en om op alle terreine diensbaar te wees terwyl daar deurlopend aanpassings gemaak word.

Vanuit die kring van die GKSA word daar in die April-uitgawe van die Kerkblad 'n Herderlike Brief gepubliseer. Dit bevat 'n duidelike wekroep om nie in paniek te verval nie maar met verantwoordelikheid die regering se noodtoestand te hanteer, wat veral die kerke se eredienste direk raak met betrekking tot bywoningsgetalle. "Ons het nie deputate of ander meerdere vergaderings wat in dié opsig dwingende opdragte aan kerkrade kan uitreik nie, en elke kerkraad moet selfstandig hieroor besluit". As die kerke tot verantwoordelikheid opgeroep word moet dit gedoen word "in gehoorsaamheid aan die owerheid (Rom 13), in verantwoordelikheid as landsburgers en bowenal uit die beginsel van die liefde teenoor ons naaste" (Aucamp en Floor 2020: 24). Aspekte wat in die Herderlike Brief ter sprake kom is eredienste, ouetehuise en kinderhuise, lidmate wat siek word, en die nodige toerusting aan lidmate. In finale instansie moet hierdie situasie nugter en met die nodige ewewig benader word, daar moet teen fopnuus gewaarsku word, en kerke en lidmate moet in ootmoedige voorbidding die regering, die kerk en almal wat hierdeur geraak word, aan God se troue versorging en genade opdra.

In die Kerkbode van die NGK was daar in die laaste tyd heelwat dekking oor Covid-19. Miskien vat 'n predikant uit Mpumalanga, Pieter Dorey, die debat waarskynlik die beste saam wanneer hy stel dat die kerk in hierdie tye moet funksioneer met dit wat nie gaan verander nie. Hy sê daar is baie veranderlikes soos die kerk se strukture, sy besluitnemingsprosesse, leraars-funksionering, sakrament-vieringe en nog vele ander praktiese veranderings. Die onveranderlikes wat nie gaan verander nie, vat hy soos volg saam: "vir die Christelike kerk is Christus ononderhandelbaar; die waardes wat Jesus verkondig het, is nog dieselfde; die Bybel gaan nog as openbaringsbron vir die Christelike kerk dien; mense het nog presies dieselfde behoeftes. Dit is die sekerhede waarmee ons die toekoms ná Covid-19 tegemoet gaan. Verhoudings, verhoudings en nogmaals verhoudings met God en medemens en die natuur het nie verander nie" (Dorey 2020: 9).

Intussen is daar te midde van Covid-19 wat steeds deel van ons lewens dwarsoor die wêreld is, en moontlik ook iets gaan wees waarmee ons nog lank sal moet saamleef, talryke sake om oor verder na te dink. Verder is die pandemie ook so nuut dat baie standpunte bloot spekulatief is en nog nie die wetenskaplike toets van die tyd deurstaan het nie. 'n Aantal punte word dus hieronder in 'n taamlike spekulatiewe gees sonder enige kommentaar kursories aangebied, onder andere ook as gevolg van 'n gebrek aan ruimte.

In verskillende kontekste het stemme in die afgelope tyd opgegaan en gepleit dat dit 'n tyd behoort te wees om in selfondersoek stil te word. Die jaar 2020 is die begin van 'n baie onsekere en vreemde tydperk in ons geskiedenis en 'n tyd om dapper, selfondersoekend, innoverend, grootmoedig en verantwoordelik die pad vorentoe te verspied. Hierdie tyd kan geleenthede en oplossings bied vir heropbou ook van die kerke, soos na 'n oorlog of 'n verskynsel wat die wêreld ingrypend verander. Dit kan 'n poort na 'n nuwe wêreld wees, onder andere met betrekking tot die riglyne van die Belhar-belydenis met 'n groter fokus op geregtigheid, eenheid en versoening. In sosiale verbondenheid word meer hoop gekweek as andersom. Die voortvloeiende vryheid om meer haalbare doelwitte te formuleer kan lei tot 'n meer hoopvolle en veerkragtige samelewing. Sommige praat van Covid-19 as 'n postnormale perfekte storm.

Die vraag is wat word nou die nuwe norm en die nuwe normaal, ook in die kerk. Sterk standpunte moet sag uitgevoer word; mense moenie dwaas met die realiteit omgaan nie maar intussen verantwoordelik optree. Intussen vind bitter min indien enige internasionale konferensies en samesprake plaas. Die wêreld het in sommige opsigte tot stilstand geknars. Nuwe denke en planne kan moontlik ontwikkel oor groot samekomste van welke aard ookal, oor minimalisme, oor die balans tussen die globale en die plaaslike, 'n nuwe interafhanklikheid, aangewesenheid en omgee vir mekaar en minder selfsugtigheid. Intussen word ook met verskillende konsepte in die kerke geëksperimenteer soos byvoorbeeld inrykerke, inry-verkope, vooraf-verpakte nagmaalwyn en brood, afstands-doopbediening, ensomeer.

Ten slotte is daar 'n aantal algemene uitdagings wat ook die gereformeerde kerke in Suid-Afrika sal moet hanteer. Die essensie van die geloof en van kerkwees is verhoudings. Die boodskap van die regte verhouding teenoor God en teenoor die naaste weerklink dwarsdeur die totale kerkgeskiedenis in die lewe van die gelowige en die boodskap van die kerk. Dit is soos die twee spoorstawe van 'n treinspoor: Die een staaf verteenwoordig die verhouding met God en die ander staaf verteenwoordig die verhouding met die medemens, terwyl die dwarslêers die liefde verteenwoordig. Die een spoorstaaf kan doodeenvoudig nie sonder die ander 'n volledige spoorlyn wees nie.

Teen die tweede helfte van 2020 blyk dit uit baie gesprekke dat daar 'n groot behoefte bestaan om ook weer fisies kerkdienste by te woon. Dit blyk dat baie mense as gevolg van baie vergaderings en ander aktiwiteite "opgezoom" is, en eintlik selfs "zoom-versadig" is. Om die kerk digitaal te beleef beteken in baie opsigte om soos televisie, ook kerk te kyk in plaas van kerk te beleef. Hoewel simplisties gestel, is daar iets te sê daarvoor dat 'n mens in die kerk iets besonders beleef, dikwels omdat die kerk soos 'n kerk lyk maar ook omdat die kerk soos 'n kerk ruik en voel. Die lidmate kan in plaas van die bywoning van een bepaalde erediens, nou blootgestel word aan verskillende kerke en gemeentes se dienste op YouTube. Indien die een diens die lidmaat om welke rede dan ook nie aanstaan nie, kan hy of sy met die druk van 'n knoppie na 'n totaal ander erediens of prediker oorskuif. Dit wil sê die willekeurige keuses van mense veroorsaak dat hulle soos wanneer hulle by 'n omvangryke buffetete aansit, 'n bepaalde gereg kies maar dan ook wegstoot as dit nie in hulle smaak val nie. En dan probeer hulle doodgewoon maar net weer 'n ander gereg in die hoop dat dit meer in hul smaak sal val. Hierdie realiteit staan tot op 'n sekere hoogte in botsing met die gedagte dat 'n mens erediens bywoon in die wete dat die Bedienaar van die Woord (Verbi Divini Minister) die opdrag daartoe ontvang het om deur die werking van die Heilige Gees en deur behoorlike voorbereiding die Woord vir die gemeente oop te breek. En deur die werking van Gods Gees en met 'n verantwoordelike prediker, moet ook die lidmate nie maar net gesus word nie maar tog ook soms diep aangespreek word. Intussen is die gelowige miskien ook deur die digitale sodanig bederf dat hy of sy in die bed met 'n beker koffie of tee kerk kyk, en dan na die diens of selfs tydens die diens wegdut.

Die gesonde en gebalanseerde dissipline van kerkbywoning het dus nou op 'n sekere manier in die slag gebly. Sommige gelowiges het miskien in hierdie tye dalk as gevolg van onbetrokkenheid, belang by die kerk verloor. Nog twee ander kwessies wat ook die kerke aangaan is die volgende: Covid waarmee ons vir 'n tyd lank sal moet saamleef, is beslis nie 'n naelloop nie maar 'n marathon wat oor 'n lang tyd verloop; ook ons wêreld na die Covid-era vra waarskynlik vir 'n nuwe magna carta dws 'n nuwe sosiale kontrak waarin groter balanse tussen rasse en klasse ingebou sal moet word.

Verder gaan Covid-19 tesame met ander groot sake soos Skrifinterpretasie en ook etiese uitdagings soos bystandsdood, selfdood, aborsie en genetiese manipulasie, waarskynlik die kerklike toneel in die volgende aantal jare sterk oorheers. Dit nadat die saak van selfdegeslagverhoudings as 'n middelmatige saak almeer na die agtergrond verskuif het. In dit alles moet die Christus-boodskap steeds voluit uitgedra word terwyl rasse-polarisasie teengewerk word, versoening bewerkstellig word en nood verlig word (Gaum 2020:223).

Dat die werklikheid van Covid-19 dus inderdaad geweldig groot is, kan nie ontken word nie. Dis ook 'n saak wat baie en langdurige implikasies ook vir die gereformeerde kerke in Suid-Afrika tot gevolg het en vir lank gaan hê. Die Covid-era konfronteer ten slotte by name ook die Afrikaanse gereformeerde kerke oor spesifiek waarheen hulle op pad is met kerkwees en die uitdra van 'n lewensveranderende boodskap.

Dit gaan ook nie noodwendig die laaste uitdaging of krisis wees wat die kerk van Jesus Christus in die algemeen en die gereformeerde kerke in die besonder, ook in Suid-Afrika, sal moet hanteer nie. Die kerk moet proaktief beplan en voorberei vir alle soorte rampe en gebeurlikhede soos ook onder andere ander pandemies, sodat lidmate gereed is om dit te hanteer. 'n Weermag wat sy sout werd is, berei voor vir die hantering van die onvoorsiene. Die vraag kan gestel word of die kerk van Christus, terwyl hy nie in paniek verval nie, in ons tyd nie weer opnuut sterk moet vashou aan die wesenlike en ook aan die geloof nie, iets waarvan Martin Luther in die kerklied getuig:

Hou Christus self sy kerk in stand - vergeefs die hel se woede. As Here aan Gods regterhand, regeer Hy ons ten goede.

 

5. Ten slotte

Die gereformeerde kerke beskik in beginsel met hul fokus op voortdurende reformasie oor 'n groot hoeveelheid energie en vryheid om aanpasbaar te wees by nuwe lewensomstandighede en kontekste. Jammer genoeg vir diegene wat egter absolute vryheid najaag, op hierdie aarde is daar nooit volkome vryheid nie, want vryheid realiseer alleen as dit vryheid in verantwoordelikheid is oftewel kragtens die Bybelse en ander beginsels wat onderliggend ook aan 'n kerklike instelling is. Ons moet hoop dat in hierdie proses die fokus nooit wegbeweeg van God en sy Woord, die suiwer leer, die breë liggaam van Christus en die wesenlike bediening van heil, hoop, geregtigheid en versoening nie, ook in ons uitdagende Suid-Afrikaanse konteks.

Die kanse dat ook ons as gelowiges na die koms van Covid-19 in vrees, angstigheid, depressie en pessimisme kan verval is seker daar. Wêreldwye pessimisme was egter voor Covid-19 reeds aan die orde van die dag en op baie maniere is dit eintlik verstaanbaar. Net waar 'n mens kyk is daar armoede, oorlog, chaos, dwelms, misdaad, geweld en swaarkry aan die orde van die dag. Dit neem verskillende vorme aan soos ongelykheid, terreur, onstabiliteit, hongersnood, ekonomiese agteruitgang en ook diktatorskappe. Ook die vooruitsigte vir Suid-Afrika spesifiek aan die begin van die 2020's het selfs nog voor Covid-19 besonder pessimisties daaruit gesien. Die droom van 1994 het in sekere opsigte 'n nagmerrie geword.

Behalwe vir die klipharde realiteit van Covid-19 is een van die ander groot redes waarom mense wêreldwyd so pessimisties oor baie kwessies is, die feit dat die media asook sosiale media ons enersyds oorspoel en dat ons aan die ander kant binne oomblikke van enige negatiewe krisissituasie wêreldwyd weet. Verder dui die media nie altyd vir ons aan hoe dinge verander en verbeter nie, maar hulle wil ons eerder inlig oor al die plekke waar dinge op 'n spesifieke stadium verkeerd loop.

Die hoogaangeskrewe Sweedse medikus en stigter van die Gapminder Foundation, Hans Rosling, waarsku dan ook teen analises van die welstand van die mensdom as te pessimisties of te optimisties. Hy dink dikwels in terme van "dit gaan sleg, maar dit gaan ook beter". Ons moet eintlik nie tussen "sleg óf beter" kies nie. Ons moet in eerlikheid maar ook in realiteit na albei kyk, dit wil sê, "sleg én beter" (www.gapminder.org).

Vroeg in 2018 het Braam Hanekom by die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) die legitieme vraag gevra (Die Burger 2018): "Maar waarom die eksodus uit die kerk?" Sy antwoord op hierdie retoriese vraag is inderdaad tot op 'n sekere hoogte 'n weerspieëling van die denke in die tweede dekade van die 21ste eeu. "(D)ie kerk is wêreldwyd in beweging; dit is nie iets staties nie." Daar is dus nie net enkelvoudige redes vir dit wat met die kerk gebeur in die loop van sy bestaan nie. "Ek is nie seker wat die gestalte van daardie kerk [van die toekoms] gaan wees nie, [m]aar die kerk en die fundamentele waarde van die kerk sal verpak moet word in elke dag en tyd en konteks ..." Hanekom het egter by die geleentheid duidelik gestel dat die kerk aan die einde van die wêreld nog steeds gaan bestaan, in welke vorm ook al want uiteindelik soos elders gestel, dit bly steeds God se kerk wat Hy uiteindelik "in stand sal hou" (Hanekom 2018).

By dieselfde KKNK-fees stel André Boezak van die VGKSA dit dat die gemeenskap besig is om baie vinnig te verander en as gevolg daarvan raak ons mense meer onseker. As predikante na die gemeentes gaan met een of ander aanloklike teologie, dan glo mense hulle want hulle soek sekerheid. Die kerk staan egter tans voor veel groter uitdagings: "Jy moet tegnologies op standaard wees om ons jong mense te trek. Jy kan nog altyd Christus verkondig, maar doen dit 'n bietjie 'cooler' dat dit aanklank vind by die jong mense. Praat hulle taal sonder om die boodskap af te water" (Boezak 2018).

Intussen bly die gereformeerde kerke in Suid-Afrika steeds tog nog tot in ons tyd 'n tema vir voortdurende gesprek en debat. Pas in die middel van 2020 het, naas 'n vroeëre boek Fluit-fluit, die kerk is uit? (2011), weer 'n nuwe boek van Frits Gaum verskyn en wel met die titel Kerk oor die muur of oor die Rubicon? In hierdie boek skryf Gaum oor geloof en oor dit wat ons deesdae glo (oor Skrif en belydenis), oor onreg wanneer van sommige gelowiges tweedeklas lidmate gemaak word (oor kerkhereniging), en oor 'n hofsaak as lidmate dit waag om met die kerk hof toe te gaan oor selfdegeslagverhoudings (Gaum 2020). Hierdie boek bied verskillende perspektiewe op bepaalde onlangse ontwikkelinge in die gereformeerde kerke, maar 'n mens wonder tog soms wel oor die dieper rasionaal vir 'n nuwe denke en styl by Gaum, veral ook met betrekking tot selfdegeslagverhoudings. Dit wil voorkom asof Gaum tans 'n ander visie op die verstaan van die Bybel in die verband het as vroeër. In 'n ander onlangse boek deur Callie Roos onder die titel In Christus: van toeskouer tot spoortrapper vra hy in sy nadenke oor die volgehoue relevansie van die kerk eerstens waarom dan so 'n beheptheid om in beheer van alles te wil wees en tweedens stel hy dat ons baie kerkgoed en kerkmaniere sal moet afleer om God se oorspronklike bedoeling weer te herontdek (Roos 2020).

Met betrekking tot toekomsdenke vir die kerke wil ons ten slotte aansluit by 'n Suid-Afrikaanse futuroloog, toekoms- en scenariodenker en strateeg Marius Oosthuizen, wat verbonde is aan die GIBS Sakeskool van die Universiteit van Pretoria. Hy het in die jongste tye al meer begin nadink oor uitdagings vir ons hier in Afrika. Vir hom gaan dit oor die beste moontlike uitkoms in die publieke, burgerlike en private sfere. Hy is van oortuiging dat die beslissende faktor tussen sukses en mislukking gaan oor die vraag hoe ons verandering bestuur. As verandering passief beskou en beleef word, kan dit ons lei na 'n toekoms wat ons nie graag wil hê nie. As verandering pro-aktief bestuur word met 'n sterk bewussyn van ons waardes en bewuste aspirasies, word verandering eintlik ons bondgenoot. Deur toekoms-metodologieë te gebruik, word leiers bemagtig om verandering hul vennoot te maak om so uiteindelik selfs 'n verkieslike toekoms te realiseer (Oosthuizen 2019:1).

Abraham Lincoln het aldus Oosthuizen toekomsdenke kernagtig en korrek saamgevat toe hy gesê het dat "... the best way to predict the future is to create it ..." (Oosthuizen 2019:2). Toekomsdenke is reeds in die hoëre strata van leierskap en die samelewing 'n bewuste aksie, maar dit is nog 'n relatiewe onbekende en onbeoefende paradigma of model by die middel en laere strata van die samelewing. Afrika het 'n geweldige behoefte aan omvattende en snelle transformasionele verandering. Dit gaan volgens Oosthuizen nie maklik deur evolusionêre en geleidelike ontwikkelingsgroei realiseer nie, maar hoofsaaklik deur leiers se tradisionalistiese beskouing om dinge te deurbreek en hulle saam te neem op die pad van dinamiese, transformatiewe en toekomsgerigte leierskap (Oosthuizen 2019:2)

Die vraagstelling wat in hierdie bydrae aangespreek is, het gehandel oor verskillende vrae rondom kerkmense en gelowiges se domeinbestaan op pad na die toekoms, dit wil sê, hoe hulle funksioneer in 'n sekulêre omgewing; hoe verskillende gelowiges in Suid-Afrika se ervarings van tendense in die godsdiensdomein verskil; hoe verskille tussen tendense in Suid-Afrika in samehang met maar ook in vergelyking met wêreldwye tendense gesien moet word, ook te midde van Covid-19. Uit die uiteensetting hierbo het dit geblyk dat meeste van hierdie vrae wetenskaplik aangespreek en positief beantwoord is en dat verskeie nuwe insigte en toekomsperspektiewe na vore getree het.

Uiteindelik moet die Afrikaanse gereformeerde kerke loskom van moontlike magspel in sommige kringe en ook 'n mate van 'n oorlewingstryd-verlamming aan die ander kant. Die toekoms moet aangepak word met 'n positiewe, dinamiese en verantwoorde benadering. Dit bly steeds rigtinggewend om kerk en samelewing in die breedste en diepste sin van die woord te transformeer en te reformeer, onder andere ook om weer terug te keer na die basiese en die wesenlike ("back to basics"), en te waak teen relativisme en fundamentalisme. In die verband kan beslis geluister word na iemand soos die Nederlandse teoloog Hans van Oort wat by geleentheid aangedui het, dat ook vir die gereformeerde bly een van die mees basiese riglyne en geloofsdokumente die Apostolicum of Twaalf Artikels. Hy stel dat dit "kort in woorden is (JWH) en omvangrijk in gedachten" (Van Oort 2017:15).

Verder sal ook gesê moet word dat hoe gemotiveerd hierdie kerke ook al mag wees, die gereformeerde kerke in Suid-Afrika wat in die afgelope tye in baie opsigte deur dramatiese paradigmaverskuiwinge en stroomversnellings gegaan het, nie gered sal kan word alleen deur menslike inspanning nie. Dit sal ook deur God se lewensveranderende genadewerk moontlik word met die gevolg dat die gereformeerde kerke in Suid-Afrika nie van die toneel hoef te verdwyn nie. Uiteindelik bly Jesus Christus die Hoof en Heer van sy kerk (Ef 4:15). Omdat Jesus Christus leef, behou die kerk ook die hoop om in welke vorm ook al voort te leef, ook die Afrikaanse gereformeerde kerke hier in Suid-Afrika. Dit is in 'n snel veranderende wêreld in finale instansie slegs moontlik indien hierdie kerke gehoorsaam is en bly aan God se omvattende opdragte soos weerspieël in sy Woord.

Hoffie (JW) Hofmeyr

Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika. linhof@mweb.co.za

 

Bibliografie

Aucamp, C en Floor, M 2020. Herderlike brief: Covid-19. Kerkblad, April 2020.

Barna, G & Kinnaman, D 2011. Five trends among the unchurched. [Intyds]. Beskikbaar: https:www.barna.org/barna-update/culture [6 Junie 2020].

Boezak, A 2018. Die Burger, 30 Maart 2018.

De Klerk, BJ en Van Helden, P 2011. Oorsake van kerkkrimping binne die tradisioneel Afrikaanssprekende gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Verbum et Ecclesia 32(1):1-10.         [ Links ]

Dorey, P 2020. Covid-19: kom ons werk met sekerhede. Die Kerkbode, 2 April 2020.

Doyer, A en Du Toit, H 2019. Bruê vir gemeentes op pad na God se toekoms. Wellington: CLF.         [ Links ]

Dreyer, TFJ 2003. Statistieke vertel 'n storie: 'n Visie vir die Hervormde Kerk op pad na 2010. Hervormde Teologiese Studies 59(4):1045-1062.         [ Links ]

Dreyer, W 2009. So boer gereformeerdes agteruit. Gemeente Dienste Netwerk (Kruisgewys). [Intyds]. Beskikbaar: www.gemeentes.co.za. [4 Julie 2020].

Eloff, T 2016. Wat nou Suid-Afrika? Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Floor, L 1996. Sekularisme en die Gereformeerde se profetiese roeping. In die Skriflig 30(3).         [ Links ]

Gaum, F 2020. Kerk oor die Muur of oor die Rubicon. Kaapstad: Naledi.         [ Links ]

Gaventa, BR 2013. For the glory of God: Learning the future of the church from Paul. Welker W e.a. (reds.) Calvin today. Reformed theology and the future of the church. London: Bloomsbury Publishing.         [ Links ]

GKSA 2009. Notule van die Algemene Sinode. Sl.sn.

Hanekom, B 2018. Die Burger, 30 Maart 2018.

Hofmeyr, JW 2002. Die NG Kerk en kerkwees in ons tyd. In Moeisame pad na vernuwing. Bloemfontein: Barnabas.         [ Links ]

Kok, K 2018. Ja vir God, nee vir die kerk? Vanderbijlpark: Carpe Diem.         [ Links ]

Labuschagne, FJ 2019. Die pad vorentoe vir die Hervormde Kerk. Die Hervormer, 2 Junie 2019

Labuschagne, FJ 2020. Covid-19: 'n Angstige, ontwrigtende en onsekere tyd. Die Hervormer. 25 Maart 2020

Longfield, BJ 2013. Presbyterians and American Culture: a History. Louisville, Kentucky: John Knox Press.         [ Links ]

Mattera, J 2018. Thirteen signs of a dying church. [Intyds]. Beskikbaar: https://josephmattera.org/13-signs-of-a dying-church/ [6 Junie 2020].

Mead, L 1991. The once and future church: Reinventing the congregation for a new mission frontier. New York: Alban Institute.         [ Links ]

Meester, R en Dekker, G 2006. God in Nederland (1996-2006). Utrecht: Ten Have.         [ Links ]

Muller, P 2017 Wat die Hervorming van Suid-Afrika vra. Beeld, 28 Oktober 2017.

NGK 1998. Notule van die Algemene Sinode. Sl.sn.

NGK 2007. Notule van die Algemene Sinode. Sl.sn.

NGK 2011. Agenda van die Algemene Sinode. Sl.sn.

NHKA 2007. Notule van die Algemene Kerkvergadering. Sl.sn.

NHKA 2011. Notule van die Algemene Kerkvergadering. Sl.sn.

Nel, A 2003. Op soek na God ... buite die kerk? Wellington: Lux Verbi.         [ Links ]

Nel, M & Van der Westhuizen, Z 2015. Skokkend Positief. Wellington: Bybel-Media.         [ Links ]

Niemandt, CJP 2007. Nuwe drome vir nuwe werklikhede: geloofsgemeenskappe in pas met 'n postmoderne wêreld. Wellington: Lux Verbi BM.         [ Links ]

Niewhof, C 2016. Seven subtle signs your church is dying. [Intyds]. Beskikbaar: https://careyniewhof.com/7-subtle-signs-church-dying/ [6 Junie 2020].

Oliver, E 2019. The traditional Afrikaans-speaking churches in dire straits. Hervormde Teologiese Studies 75(4):1-7.         [ Links ]

Oosthuizen, J 2018. Die opkoms en ondergang van die NG Kerk. Kaapstad: Penguin.         [ Links ]

Oosthuizen, M 2019. Futurist Profile (Marius Ooshuizen) Beskikbaar: https://www.foresight. (Foresight for Development) (Promoting the use of foresight for Africa's future).

Rainer, TS 2016. Who moved my pulpit: leading change in the church. Nashville, TN: B &H Publishing Group.         [ Links ]

Rooi, J 2018. Die kerke loop ook hier leeg. Rapport 4 November.

Roos, C 2020. In Christus: van toeskouer tot spoortrapper. Pretoria: Delta Books.         [ Links ]

Rosling, H ea. 2018. Factfulness: Ten reasons we're wrong about the world. London: Hodder and Stoughton.         [ Links ]

Schinkelshoek, D 2020(a) Zes mogelijke gevolgen die de coronavirus gaat hebben. Nederlands Dagblad. 23 April 2020.

Schinkelshoek, D 2020(b) Waarom zou je naar de kerk gaan. Nederlands Dagblad. 24 Julie 2020.

Smit, F. 2011. Demografie - die toekoms wat reeds gebeur het: Wêreldtendense met spesiale verwysing na Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Vol 51 nl. 1-11.         [ Links ]

Smit, GH 2010 Aanbidding en prediking in missionale gemeentes: homileties-liturgiese beskouinge van missionêre gemeentebediening. Hervormde Teologiese Studies 66(1):1-6.         [ Links ]

Strauss, PJ 2013. Kerkwees in die Branding: Die NGK in Algemene Sinodale verband 1994-2011. Acta Theologica 2013 Supplementum. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Sweet, L, McLaren BD & Haselmayer, J 2003. A is for abductive: The language of the emerging church. Grand Rapids: Zondervan Publishing House.         [ Links ]

Tolmay, BJ 2014. Die toekoms van die drie Afrikaanse hoofstroomkerke saam. Hervormde Teologiese Studies 70(3):1-5.         [ Links ]

Ungerer, A 2016. Hou Christus die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in stand. Hervormde Teologiese Studies 72(3):1-11.         [ Links ]

Van den Heever, J 2017. Wat moet ons met ons kerk doen? Kaapstad: Naledi.         [ Links ]

Van Helden, S 2016. Waar is die gereformeerde lidmate dan? In die Skriflig 50(1):1-9.         [ Links ]

Van Oort, J 2017. Apostolicum basis van christen-zijn. Reformatorisch Dagblad 19 Januarie 2017.

VGKSA 2005. Agenda van die Algemene Sinode. Sl.sn.

VGKSA 2008. Agenda van die Algemene Sinode. Sl.sn.

VGKSA 2012. Agenda van die Algemene Sinode. Sl.sn.

VGKSA 2016. Agenda van die Algemene Sinode. Sl.sn.

Walt, SM 2020. World order after coronavirus pandemic. Foreignpolicy.com 20/3/2020.

Win-Gallup International Global Index of Religiosity and Atheism. 2012. [Intyds]. [7 Julie 2020].

 

 

Lys van medewerkers in alfabetiese orde
Dreyer, WA (Wim): Mede-professor, Dept Historiese en Sistematiese Teologie, Universiteit van Pretoria, Pretoria
Fick, PH (Rikus): Emeritusprofessor, Teologiese Skool, Potchefstroom en Rektor, Akademie vir Reformatoriese Onderrig en Studies, Pretoria
Hofmeyr, JW (Hoffie): Emeritusprofessor, Universiteit van Pretoria, Pretoria, Emeritus Professor, Evangelisch Theologische Faculteit, Leuven(België) en Navorsingsgenoot, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
Kruger, PK (Pieter): Predikant, Nederduitse Gereformeerde Kerk Witfield (Boksburg) en Navorsingsgenoot, Universiteit van Pretoria, Pretoria
Landman, C (Christina): Professor, Navorsingsinstituut vir Teologie en Religie, Unisa, Pretoria
Plaatjies-Van Huffel, M-A(Mary-Anne) (f): In lewe Professor, Dept Ekklesiologie en Kerkreg, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch
Tolmay, BJ (Barry): Predikant, Nederduitse Gereformeerde Kerk Krantzkloof (Durban) en Navorsingsgenoot, Universiteit van Pretoria, Pretoria
Van der Merwe, JM (Johan): Mede-professor, Dept Historiese en Sistematiese Teologie, Universiteit van Pretoria, Pretoria
Van der Merwe, RM (Rudolph): Predikant, Gereformeerde Kerk Parys en Navorsingsgenoot, Universiteit van Pretoria, Pretoria
Van der Westhuizen, H (Henco): Senior Lektor, Dept Historiese en Sistematiese Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
Van Wyk, BJ (Barry): Emerituspredikant, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en Navorsingsgenoot, Noordwes Universiteit, Potchefstroom
Van Wyk, JH (Amie): Emeritusprofessor, Teologiese Skool, Potchefstroom

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons