SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.6 número3Points of communality in the development of ecumenism worldwide with reformed churches in South Africa (1990-2020)Enkele slotakkoorde oor die toekoms van die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika, ook ná Covid-19 / Some agreements on the future of the Afrikaans Reformed churches in South Africa, also after Covid-19 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Stellenbosch Theological Journal

versión On-line ISSN 2413-9467
versión impresa ISSN 2413-9459

STJ vol.6 no.3 Stellenbosch  2020

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2020.v6n3.a12 

ARTICLES

 

Die toekoms van die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika: moontlike, waarskynlike en verkieslike opsies

 

The future of the Afrikaans reformed churches in South Africa: possible, probable and desirable options

 

 

Barry (BJ) Tolmay

Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika. bjt@yahoo.co.uk

 

 


Trefwoorde: Scenario's; sisteembenadering; troefkaarte; toekoms-skandering; Fresh Expressions; verskillende toekomsopsies


ABSTRACT

In 1994, South Africa experienced a radical paradigm shift which in some ways led Afrikaans reformed churches into a state of semi-paralysis. Over the past twenty-six years the church has had to deal with the resultant fallout. The fact that many setbacks had been overcome successfully, is an encouraging indication that the church has the potential of a brighter future. Bosch stated that as long as one lives and thinks within the patterns of a given paradigm, then that paradigm provides one with a plausible structure according to which all reality is interpreted. The quintessential question would be: what is the preferred future vision for the Afrikaans reformed churches? How is the journey to 2030 and 2040 mapped out? These answers will partly determine the outcome. When one evaluates the current situation, both positive and negative aspects have to be considered. The key question is, how can the positives be optimised, and the negatives minimised? With vision and scenario planning and the detailed consideration of possible, probable and preferable outcomes, an exciting future becomes possible. The challenges of membership, finances, consumerism and also Covid-19 can also be overcome. More informal church practises for those on the fringes are opening new opportunities globally - as expressed by for instance the Fresh Expression Movement. A new and vigorous focus on relationships, care, community involvement and friendship missions may result in fulfilling the vision of the Afrikaans reformed churches. With compassion in action, Afrikaans reformed churches can in some ways blossom over the next two decades.


 

 

1. Inleidend

Die vraagstelling wat in hierdie artikel aangespreek word, is of die verskillende moontlike opsies wat voorgestel word vir die toekoms van die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika, met behulp van die toekomswetenskappe wetenskaplik aanvaarbaar en verantwoord is. Verder word gevra na die verskillende faktore wat hierdie toekoms mede kan bepaal, om so tot 'n beter selfverstaan van hierdie kerke in Suid-Afrika te kom.

Wanneer mense in enige verband beplanning wil of moet doen, kan 'n mens dus beslis nie passief wag dat die toekoms blindelings op die indiwidu of die instelling afgerol kom nie. Geen beplanning is moontlik as daar nie iets van die toekoms geantisipeer word nie. Elke mens doen toekomsbeplanning, al is dit net oor korter tydspanne. Tegnologiese ontwikkeling het veral ná die koms van die internet eksponensieel toegeneem en dus raak beplanning oor die medium en langer termyne al meer noodsaaklik. Die vraag na 'n wetenskaplike basis om met die toekoms om te gaan, raak gevolglik bepalend.

Die vraag rakende toekomsstudies is of daar 'n wetenskaplike manier is om met die toekoms om te gaan sonder om maar net te spekuleer of 'n wilde voorspelling te maak. Hierdie vraag is ook op die toekoms van kerke wêreldwyd, en dus ook die sogenaamde gevestigde Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika van toepassing.

Toekomsstudies of futurologie is die sistematiese, interdissiplinêre en holistiese studie van sosiale en tegnologiese ontwikkeling en ander omgewingsfaktore met die doel om te probeer bepaal hoe mense in die toekoms sal leef en werk. Dit kan as 'n vertakking van die geesteswetenskappe gesien word en in baie opsigte 'n vakgebied wat byvoorbeeld naas die vakgebiede van die filosofie, die geskiedenis en die politieke wetenskap staan. Dit behels dus 'n sistematiese verstaan van verlede en hede met die oog daarop om toekomstige tendense te probeer identifiseer. Dit is ook nie 'n eksakte wetenskap nie want dit gaan grootliks oor moontlike verwagte lyne en trajekte. Dit is interessant dat drie faktore dikwels toekomsstudies van ander verwante wetenskappe onderskei. Toekomsstudies poog gewoonlik om 'n holistiese visie te kry op insigte vanuit ander wetenskappe. Toekomsstudies wil ook tendense onderskei om die rol van moontlike, waarskynlike en verkieslike langtermyn opsies te peil met die oog op toekomstige scenario's. In die laaste plek wil toekomsstudies ook verskillende aannames oor die toekoms toets en selfs soms ook uitdaag

Toekomsstudies of futurologie het eintlik vir die eerste keer as 'n akademiese dissipline ontwikkel teen die middel 1960's. Baanbrekers hierin was figure soos die Amerikaner Herman Kahn met sy Thinking about the unthinkable (1962), die Fransman Bertrand de Jouvenel wat die organisasie Futuribles International gestig het en die Hongaarse Brit Dennis Gabor met sy Inventing the Future (1963). Ruimte ontbreek hier om op die verdere ontwikkeling van die vakgebied te fokus maar tans is dit 'n goedgevestigde vakgebied op alle kontinente waar daar ernstig met toekomsdenke geworstel word. Dit word ook by verskillende akademiese instellinge wêreldwyd as 'n gedoseerde en navorsingsrigting beoefen, soos onder andere ook by die Universiteit van Stellenbosch se Instituut vir Toekomsstudies, gekoppel aan hul Sakeskool.

Dit was juis byvoorbeeld veral 'n krisis wat onverwags in die wêreld plaasgevind het wat die "wetenskap van die toekoms" tot 'n selfstandige wetenskap en vakdissipline verder help aktiveer het. In 1973 het daar wêreldwyd 'n geweldige probleem ontstaan toe die oliekrisis in die Arabiese wêreld die hele wêreld tot stilstand gedwing het (Roux 2000:1).'n Behoefte wat ontwikkel het aan vinnige en radikale besluitneming oor verandering het waarskynlik mede tot die ontstaan van die toekomswetenskap aanleiding gegee. Daar is egter in dit alles ook 'n element van 'n keuse ingebou wanneer daar gekies word om of op 'n wetenskaplike manier die toekoms te benader of om net voort te gaan en te ploeter op die huidige pad.

Vroeg in die bestaan van die formele toekomswetenskap skryf Botkin reeds in 1979:

Looking into the future and, therefore, Futures Studies is at the same time, and as a consequence, a way of thinking, a way of constructing our minds, a way of conceptualizing life, our everyday actions, our every decision. It is a way of thinking about life, about society, about the relationship of society with nature. This way of thinking leads to the possibility of educating ourselves and others about the future, the fact that the future is part of our whole life as a part of anticipation of the future itself (Botkin 1979:1ff, 41).

Toekomskundiges doen navorsing om uit te vind wat moontlik is (moontlike toekoms), wat waarskynlik kan of gaan gebeur (waarskynlike toekoms) en die ideale gebeure ten opsigte van die toekoms (verkieslike toekoms). Wendell Bell (1997:42), in The futurist, stel dit so: "The primary goal of the futurist is not to predict the future but to uncover images of possible, probable and preferable futures that enable people to make informed decisions about their lives."

Aan die begin is gevra of daar wel 'n wetenskap is wat aangewend kan word om oor die toekoms van kerke te besin. Die "wetenskap van die toekoms" gee myns insiens inderdaad bepaalde sleutels aan die navorser om die verskillende aspekte of opsies van die toekoms, ook van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika, te analiseer en te ontsluit. Enkele opsies is die volgende:

Die moontlike toekoms

Dit sluit op 'n wetenskaplike manier verskillende uitkomste oor die toekoms vir ons oop. Dit kan deur 'n skandering van die toekoms of scenariobeplanning gedoen word. Onvoorsiene troefkaarte en paradigmas moet hier ook ernstig ontleed word. Hierdeur kan moontlike uitkomste oor die toekoms vir Afrikaanse gereformeerde kerke ontwikkel word. Deur die bou van scenario's word 'n beeld of metafoor gebruik om 'n spesifieke scenario meer konkreet vir die Afrikaanse gereformeerde kerke te maak. Vanuit die verskillende moontlike uitkomste oor die toekoms kan 'n strategiese proses gevolg word. Vanuit hierdie strategie volg aksiestappe om 'n verkieslike uitkoms 'n werklikheid te maak.

Die waarskynlike toekoms

Hierin word huidige tendense verleng soos deur Bell aangetoon. Met ander woorde, as 'n instansie soos die Afrikaanse gereformeerde kerke en hul gemeentes aanhou doen wat hul tans doen, kan die afleiding gemaak word dat hul teen dieselfde tempo sal groei of krimp as die tendens van hul grafiek verleng word. Paradigma-ontleding, paradigmaskuiwe en paradigmaverlamming moet egter ook in aanmerking geneem word.

Die verkieslike toekoms

Dit is die uitkoms van 'n keuse tussen verskillende moontlike uitkomste oor die toekoms. Dit is wat 'n visie en 'n droom in aksie genoem kan word. En dit is myns insiens waarheen die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika te midde van al die ander realiteite en keuses behoort te mik.

 

2. Enkele relevante aspekte rakende die uitspel van drie toekoms-opsies vir die Afrikaanse gereformeerde kerke

Verskeie konsepte waarna ek hieronder verwys vra enkele basiese omskrywings en in enkele gevalle 'n kort bespreking.

Met betrekking tot 'n paradigma is dit iets wat handel oor 'n raamwerk van denke wat moontlik in die toekoms kan gebeur. Dit kan tot hulp wees om tot beter verstaan te kom, sodat die onsekerheid wat moontlik ontstaan oor wat in die toekoms kan gebeur, beter ontsluit kan word. Verskeie paradigmas word op hulle beurt weer sistematies tot verskillende scenario's ontwikkel. So kan sosiale gemeenskappe, onder andere ook kerklike geloofsgemeenskappe, aandui watter tipe scenario hulle verkies.

Om te begryp wat 'n scenario is, antwoord Cornish (2004:78,79) dit soos volg: "The future development of a trend, a strategy, or a wildcard event may be described in a story or outline form. Typically, several scenarios will be developed so that decision makers are aware that future events may invalidate whatever scenario they use for planning purposes."

Oor scenario's kan ons vervolgens die volgende ondersoekende vrae stel aldus Cornish (2004:92): Watter oorsake kan die tendens van rigting laat verander? As daar 'n paradigmaskuif plaasvind, wat sal die implikasies daarvan wees? Die outomatiese vraag wat dan volg op die beeld wat oor die toekoms geskets word, lei weer tot die volgende vraag: Is ons tevrede met daardie prentjie? Indien nie, is die vraag, hoe kan ons die geprojekteerde situasie verander? Trajek-analise is ook 'n belangrike komponent. Soms ontwerp groepe in 'n scenario-bouproses enige getal tussen twee tot selfs vyf scenario's om mee te werk. Daarna moet groepe dan 'n keuse tussen scenario's maak. Hierna volg daar 'n strategiese proses van implementering. Cornish stel dat daar gewoonlik 'n spektrum van vyf verskillende tipes scenario's is waaruit daar dikwels gekies kan word:

'n Verrassingvrye scenario: Hierin sal gebeure min of meer voortgaan soos dit is. Dit sal nie radikaal beter of slegter gaan nie. Die trajeklyn van gebeure word met ander woorde net voortgesit. Baie elemente van wat ons die waarskynlike toekoms noem, word in hierdie tipe scenario uitgedruk.

'n Pessimistiese scenario: Hiervolgens word 'n aansienlik donkerder prentjie geskets as wat algemeen verwag word.

'n Optimistiese scenario: Hiervolgens word 'n aansienlik beter prentjie geskets as wat algemeen verwag word. Elemente van wat beskryf word as die moontlike toekoms, word in hierdie tipe scenario ingesluit.

'n Chaotiese scenario: 'n Prentjie van chaos word geskets waarin gebeure afspeel wat nog nooit ervaar is nie. Troefkaarte (wild cards) word hierby ingebou.

'n Transformerende scenario: Fantastiese gebeure speel af, wat geensins ooit gevisualiseer was nie. Baie elemente van wat ons in die verkieslike toekoms noem, word in hierdie tipe scenario uitgedruk (Cornish 2004:98).

In Suid-Afrika bestaan 'n klassieke voorbeeld van scenario-werk en wel deur Clem Sunter in die laat jare tagtig. Die Britsgebore Sunter was werksaam by die Anglo-American maatskappy en teen die vroeë 1980's het hy daar 'n scenario-beplanningsaksie gevestig. Sunter se "low road and high road scenarios" het Suid-Afrikaners voor baie en duidelike politieke keuses gestel. Sy scenario-beplanning was grootliks polities gefokus maar dit het tog ook gemeenskapskwessies aangespreek wat indirek ook vir die kerk van waarde kon wees. Sunter het behalwe vir sy nadenke oor die toekoms, ook verskillende aksies beskryf waaraan konkrete en praktiese aandag gegee kon word soos onder andere in sy publikasie oor mega-tendense vir die 21ste eeu. Hy noem daarin onder andere 'n verouderende wêreldbevolking, die beweging van 'n kennis-eeu na 'n intelligensie-eeu, 'n jag na skaars hulpbronne, en die werklikheid van swart swaan-verskynsels, dit wil sê totaal onverwagte en onbeplande gebeure op die wêreldfront (Sunter 2014: 25 ev).

'n Ander Suid-Afrikaanse scenario denker is Somadoda Fikeni van Unisa. Hy het in samewerking met Anglo-American en die "Mapungubwe Institute for Strategic Reflection (MISTRA)" 'n scenario-projek in 2018 van stapel gestuur. Hierdie projek is bekend as die Indlulamithi-projek, wat in Zoeloe beteken "bokant die bome". Dit is die Zoeloe woord vir kameelperd, dit wil sê soos die kameelperd kyk hierdie scenario-bouers bokant die bome na 'n toekomstige Suid-Afrika. Daarin kan gerealiseer word "the aspirations contained in our Constitution for a country that belongs to all who live in it - united in our diversity" (Unisa Press Release 2018).

Hierdie onafhanklike Indlulamithi-projek onderskei drie moontlike scenario's. Die mees negatiewe scenario is bekend as "Gwara Gwara" in Zoeloe, wat beteken 'n kwynende en valse nuwe dag. Die mense van Suid-Afrika staan in hierdie scenario verskeurd tussen 'n gebrek aan positiewe ontwikkeling en 'n dinamika wat negatief en rusteloos is. Eintlik beteken hierdie scenario 'n land wat gedemoraliseerd is en in 'n toestand van wanorde en dramatiese agteruitgang beland het.

Die middel-scenario is volgens hierdie Indlulamithi-projek die iSbhujwa-scenario. Dis 'n losse en onstabiele situasie en die samelewing staan ongelukkig verskeur deur dieperwordende sosiale verdeeldheid, daaglikse proteste en 'n siniese soeke na eiebelang. Die mees positiewe scenario is die Nayi le Walk-opsie, wat beteken dis 'n nasie wat in pas is met homself. Daar is groeiende sosiale samebinding, ekonomiese uitbreiding en 'n nuwe toewyding en positiewe instelling teenoor die Grondwet. Al hierdie faktore help die land om verder vorentoe te beweeg.

By geleentheid van 'n bedieningsontwikkelingseminaar gedurende September 2018 in die Vrystaat, het Johan van der Merwe van die NG Gemeente Stellenbosch 'n kwadrant-scenario vir veral die NGK ontwerp waarna ons net kortliks verwys. Scenario 1 noem hy die "Time Travellers" dit wil sê hulle wat hunker na die "goeie ou dae". Scenario 2 is "Connecting the dots" wat beteken die kerk is fyn verweef met sy gemeenskap en as veerkragtige instelling gekenmerk deur 'n geroepenheid om deel te neem aan God se werk en om andersyds geleenthede tot diens raak te sien. Scenario 3 is "Missing the Point", oftewel 'n kerk wat meer gerig is op bemarking as op diensbaarheid. Ten slotte noem hy Scenario 4, "The Dinosaur". Dit impliseer 'n kerk wat identifiseer met die omgewing maar nie oplossings het vir die uitdagings nie, en ou strukture word daarom maar eerder in stand gehou. Hy oordeel ten slotte dat die NGK tans 'n tien persent kans het om "Time Travellers" te word, 'n dertig persent kans om 'n "Connecting the Dots" kerk te wees, 'n veertig persent moontlikheid om 'n "Missing the Point" kerk te word en 'n twintig persent kans om 'n "Dinosaur" kerk te wees. Hy spreek die wens uit dat die NGK God se "dots connect" kerk sal word (Jackson 2018: 5,8).

Scenario's toegepas op die kerk, help ons om te droom en het veral waarde vir Afrikaanse gereformeerde kerke in die konteks van die 21ste eeu waarin die postmoderne 'n omvattende greep verkry het. Scenario's deurbreek ook die liniêre denke van die modernistiese tydperk waarin rasionele denke primêr aan die werk was.

Troefkaarte (wild cards) is iets wat in die toekoms kan gebeur wat die normale paradigmas geensins voorsien het nie. Dit is verrassings en word daarom soms die swart swaan verskynsel genoem en het meestal 'n radikale impak (Cornish 2004:108). Daarom kan scenario's en 'n skandering van die toekoms help om die ruwe verrassings wat troefkaarte meebring te versag.

Volgens die konsep van die skandering van die toekoms vind 'n deurlopende proses plaas om op 'n wetenskaplike manier die toekoms te ontsluit. Die toekoms word op 'n sistematiese wyse gemonitor en daar word inligting bekom. 'n Onderwerp wat hiervolgens ondersoek word, sal in die media gemonitor word, en ook die internet sal in die proses ingespan word. Dikwels begin die navorsing by 'n historiese ondersoek van gebeure. Dit word aangeteken tot by die hede. Hieruit kan sekere duidelike tendense aangetoon word. Indien sekere tendense dan na vore kom, word dit fyn en spesifiek gemonitor (Cornish 2004:78).

Met verwysing na die skandering van die toekoms formuleer Marius Oosthuizen (2019:1-3) van die GIBS-sakeskool by die Universiteit van Pretoria op voetspoor van die Millennium Project's 15 Global Challenges die volgende 15 moontlike mega-tendense in die sosio-politieke en ekonomiese toekoms ook van Suid-Afrika. Dit word hieronder kortliks omskryf:

1. Die vraag na volhoubaarheid in die algemeen staan baie prominent: Tradisionele vorme van ekonomiese ontwikkeling plaas ekosisteme onder geweldige druk wat op sy beurt geweldige uitdagings aan globale ontwikkeling stel om hulpbronne en die ekosisteme te beskerm.

2. Vervolgens is watervolhoubaarheid van kritiese belang: Die swak bestuur van basiese waterbronne en die swak en oneffektiewe gebruik van water beide in sosiale maar ook in nywerheidsverband hou ernstige implikasies vir die ontwikkeling van mense en samelewings in.

3. Bevolkingsgroei en migrasie is twee faktore wat 'n groot invloed het: Die snelle groei van bevolkings in lae-inkomste lande, en die groeiende bejaarde bevolkings in ontwikkelde lande, tesame met streeksonstabiliteit en sosio-ekonomiese druk skep talle groeiende migrasiepatrone wat moeilik beheerbaar is.

4. Demokratisering en totalitarisme is twee faktore waarmee ernstige rekening gehou moet word: Ongelyke demokratiese winste gekombineer met swak funksionerende instellinge het outokratiese en nasionalistiese bewegings tot gevolg, albei binne en buite verskillende samelewings.

5. Institusionele kapasiteit en verantwoordbaarheid is twee belangrike uitdagings: Stadige en swak institusionele reaksies onder andere in besluitnemingsprosesse veroorsaak groot leemtes, ook om op globale uitdagings soos klimaatsverandering te reageer.

6. Globale internet en kommunikasie tegnologie is baie belangrike uitdagings op pad na die toekoms: Die nuwe supra-nasionale konglomerate van tegnologiese verbondenheid, interafhanklikheid en uitwisseling veroorsaak albei risiko's maar ook geleenthede vir die globale orde ten opsigte van die finansiële, sosiale, politieke en ekonomiese sfere.

7. Sosiale ongelykheid bly steeds 'n ernstige probleem op pad na die toekoms: Ten spyte van enorme groei met betrekking tot toegang tot sosiale goedere op 'n wêreldvlak, veroorsaak dit ook ongelykhede ten opsigte van ruimtelike-, opvoedkundige-, inkomste- en gesondheidsvelde. Dit word verder vererger deur die groeiende digitale kloof.

8. Die realiteit van gesondheidsbedreigings is groot: groeiende globale interbetrokkenheid en verbindings en hoër vlakke van verstedeliking veroorsaak betekenisvolle bedreigings soos, byvoorbeeld, pandemies.

9. Die werklikheid van kennis- en vaardigheidstekort sal voluit aangespreek moet word: Verskanste onderwysongelykhede tesame met die snelle aanvaarding van outomatisasie en digitale tegnologieë, het groot effekte op samelewings met ongeskoolde en halfgeskoolde arbeidskontekste.

10. Konflikhantering en vredesinisiatiewe is van die allergrootste belang: Streeks-, etniese- en hulpbronkonflikte vertraag betekenisvolle ontwikkeling.

11. Geslagsgelykheid bly steeds 'n groot uitdaging: Baie vorme van historiese genderdiskriminasie, geweld en ook onderdrukking word wêreldwyd aangespreek, terwyl daar intussen ook bepaalde teenreaksies hierteen is.

12. Georganiseerde internasionale misdaad is 'n groot bedreiging: Die rol van wêreldwye sindikate en die wêreldwye verspreiding van dwelms, mense-misbruik en verdwynings asook ander onwettige verspreidingsprosesse is veel meer as wat deur die wêreld se polisiedienste en wetstoepassende organisasies hanteer kan word. Verder is, as gevolg van sindikate, die moontlikheid van direkte of indirekte ingevaarstelling van menslike hulpbronne soos water, energie en die ekologie eweneens 'n groot probleem.

13. Energiesekuriteit is op pad na die toekoms van groot belang: Die volgehoue afhanklikheid van fossielbrandstof veral in ontluikende en groeiende ekonomieë gaan groterwordende probleme inhou vir beide die wêreld se energiesekuriteit asook vir ekologiese sekuriteit.

14. Wetenskaplike en tegnologiese vordering is uiters belangrik: Die geweldige deurbrake met betrekking tot die biotegnologie, ruimtenavorsing, kwantumstudies, selfstandige wapensisteme soos met hommeltuie, neurotegnologiese navorsing, en ook innovering, bied geweldige maar ook soms onsekere bedreiginge en geleenthede.

15. Globale etiek moet dringend aandag ontvang: Die kompleksiteit en snelle verandering van sosiale en gemeenskapsnorme wat uit so baie ander sosiokulturele, tegnologiese en ekologiese ontwikkelinge in ons wêreld voortkom, verteenwoordig moeilike en selfs uitdagende etiese dilemmas in ons tyd. Dit vra nuwe verantwoording en benaderinge in ons tyd op baie verskillende vlakke, wat egter nog steeds deur gesonde etiese waardes gedryf moet word.

Teenoor 'n meer krities-analitiese benadering wat uit die modernistiese era spruit, staan dus die sisteembenadering. Die sisteembenadering kan goed in die 21e eeu aangewend word as 'n manier waarop die kwessie van kompleksiteit bestuur kan word. In 'n postmoderne tydperk help die sisteembenadering ons om strukture wat vasgevang is in die modernistiese prosesse op te los (Tolmay 2017: 54).

Hierdie sisteemdenke is nie bloot 'n analitiese wetenskap wat skuif na 'n holistiese benadering nie, maar dui op 'n globale sisteem tussen mense wat aan hierdie sisteem gekoppel is. Die sisteembenadering ontwikkel nuwe insigte in denkraamwerke of paradigmas. Dit bring 'n wêreldbeskouing van insluiting na vore (Dodds 2000:3). Hierdie interafhanklikheid word verleng oor kultuurgrense, etnisiteit, nasionaliteit, rasse en geloofsverskeidenheid na 'n groter verryking wat in hierdie nuwe sisteem besig is om te ontwikkel.

Die toekoms kan ook binne hierdie nuwe sisteem verstaan word. Daarom moet daar nooit aan die waarskynlike uitkomste van die toekoms, of die moontlike toekoms, of 'n verkieslike uitkoms van die toekoms in isolasie gedink word nie. Hierdie denke vloei die toekoms binne en word deur die skrywer hieronder skematies voorgestel.

 

 

Dit is uit hierdie figuur duidelik dat die toekoms as 'n dinamiese sisteem voorgestel kan word. Deurdat elemente binne die sisteem aanmekaar verbind is en met trek- en stootkragte mekaar beïnvloed, word dit interaktief deur pyle voorgestel. In die dinamika van die sisteem lê die toekoms. Die opsies van 'n moontlike toekoms, asook waarskynlike en verkieslike toekomste lê hierin opgesluit. Met verloop van tyd verander hierdie uitkomste van die toekoms.

In geheel gesien dus 'n hele aantal terreine waarop ons gereed sal moet wees om baie en selfs ingrypende veranderinge in die gesig te staar en te bestuur.

Vervolgens dan nou 'n futurologiese oorsig oor elk van die drie opsies vir die toekoms naamlik die moontlike, waarskynlike maar ook die verkieslike opsies. Daarna telkens ook die kursoriese deurtrek van hierdie opsies na konkrete modelle van kerkwees binne hierdie parameters.

 

3. 'n Moontlike toekoms van die Afrikaanse gereformeerde kerke

Binne die sosiologiese verstaan van die leefwêreld van 2030 en 2040 gaan persone al hoe minder hulself tuis vind in strukture met modernistiese wortels. Plaas daarby die stukrag van 'n nie-Christelike samelewing en alles wat vroeër beskryf is oor sekularisasie. Die implikasie daarvan is dat 'n mense wat in 'n postmoderne samelewing leef, vir meer informele geloofsgemeenskappe vra.

Suid-Afrika as interessante maatskaplike, ekonomiese en politieke konteks is redelik bekend daarvoor dat hy in sy geskiedenis aan baie turbulensie blootgestel is. Ten spyte daarvan bly dit tog een van die uitdagende kontekste in die wêreld waar groot en soms selfs universele kwessies aangespreek word. Dit sluit onder andere die verskuiwing van die "ou Suid-Afrika" paradigma na die "nuwe Suid-Afrika" paradigma in, die oorbrugging van die groot kloof tussen ryk en arm, endemiese korrupsie, die sentralisasie van 'n byna mislukkende staat met swak dienslewering en omvattende werkloosheid te midde van baie ideologiese druk. Stephan Joubert beskryf tereg in 2018 al hierdie uitdagings soos volg: "... this country has experienced seismic and systemic shifts from apartheid to post-apartheid, colonialism to post-colonialism, modernism to post-modernism, Christen-dom to post-Christendom"(Joubert 2018:1). Dan voeg Joubert ten slotte by met verwysing na die sosioloog Zygmunt Baumann "from non-liquid modernity to liquid modernity"(Baumann 2011:8).

Kruger (2014:219) toon aan dat jongmense al minder by die formele kerkstrukture wil inskakel. Die persone wat behoefte het aan 'n Afrikaanse geloofsgemeenskap, sal steeds wel, maar dikwels eerder na verkleinde Afrikaanse gereformeerde kerke wil gaan. Afrikaanse gereformeerde kerke kan intussen moontlik ook in 'n teenreaksie vashou aan hulle tradisionele wortels. In so 'n geval sal dit steeds Afrikaans en hoofstroom gereformeerd bly, maar dit sal moontlik so verklein dat hierdie kerkgroepe saam kan en selfs moet smelt op pad na 2030 en 2040. Interessant is dit dat Wim Dreyer byvoorbeeld aantoon dat in die NHKA daar in die periode 1910-1970 groot groei in die getal lidmate was, dat die getalle in die periode 1970 tot 1990 gestabiliseer het en dat daar sedert 1990 'n skerp daling in lidmaatgetalle was (Dreyer 2010:7).

Kruger toon verder die tendens aan dat ander aspekte van Westerse individualisme by NGK-lidmate voorkom, naamlik dat "die persoonlike vryheid, privaatheid en strewe na voorspoed voorkeurprioriteite in NG Kerk lidmate se lewe is" (Kruger 2014:173). Die gebeure post-1994 in Suid-Afrika het hierdie tendens van persoonlike vryheid ook gestimuleer. Die behoefte aan persoonlike vryheid en daarmee saam ook groter privaatheid sal moontlik bly voortbestaan.

Hierdie behoefte aan persoonlike vryheid is miskien die rede waarom soveel Afrikaners Suid-Afrika verlaat het en hul tans in die buiteland bevind (De Vries 2012:341). Indien die behoefte aan vryheid, privaatheid en strewe na voorspoed egter gekombineer word met die proses van akkulturasie, sal ook die bestaande Afrikaanse gereformeerde kerke in die buiteland verklein. Die aspek van privaatheid kom ook in godsdiens na vore, aldus Kruger (2014:173,215). As godsdiens toenemend meer privaat en minder georganiseerd geag word, kan dit moontlik aanleiding gee daartoe dat getalle verder afplat by die Afrikaanse gereformeerde kerke.

Die strewe na voorspoed by die Afrikaner wat Kruger (2014:173) aantoon, kan moontlik gekoppel word aan die Calvinistiese wortels wat Max Weber reeds beskryf het in sy werk The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism (1905). Binne hierdie Westerse kapitalistiese denke van die Afrikaner en sy Calvinistiese agtergrond en nie soseer binne 'n voorspoedsteologie nie lê iets van die verwagtinge vir 'n gemaklike lewe vir die Afrikaner ingebed.

Vervolgens is dit vanweë die toekomsgerigtheid daarvan ook belangrik om kortliks na Nelus Niemandt se populêr-wetenskaplike publikasie Nuwe drome vir nuwe werklikhede te verwys (2007:62-144). Dit gee 'n perspektief op nege geloofspraktyke wat hy noodsaaklik ag om Jesus Christus as rolmodel vir die kerke voor te hou. Hierdie geloofspraktyke maak 'n nuwe lewenswerklikheid oop en meer spesifiek na die sogenaamde ontluikende kerke of sogenaamde "emerging churches" (Niemandt 2007:47-58)

Niemandt stel voor dat die sekulêre lewe getransformeer word deur nie 'n onderskeid te tref tussen die geestelike en die fisiese nie. Hy beklemtoon die kerklike gemeenskap en die belangrikheid van kleingroepe. Niemandt meen dat oorvloedige diensbaarheid sonder bymotiewe deel van die alledaagse lewe kan wees. Hiervolgens kan openheid en gasvryheid teenoor vreemdelinge betoon word. Deernis is ook belangrik deur ander se pyn en seerkry jou eie te maak.

Indien 'n visionêre gemeenskap tot stand kom sal daar 'n unieke deelname deur gemeentelede plaasvind. 'n Langtermynverbintenis met die gemeenskap sal deur lede gemaak word wat onderlinge verantwoordelik-heid deel. Kreatiwiteit kan gekoester word deur atmosfeer, kuns, egtheid, rituele, tegnologie, populêre kultuur en deelname. Niemandt, wat al heelwat oor leierskap geskryf het, voorsien toekomstige leierskap deur netwerke tesame met verhoudingbou en die herontdekking van spiritualiteit (Niemandt 2007:62).

Verder stel Niemandt praktykgerigte voorstelle vir Afrikaanse gereformeerde kerke voor. Hierdie is 'n noodsaaklike tree om 'n verkieslike toekoms vir geloofsgemeenskappe oor 20 jaar te ontsluit. Wat Niemandt egter nie aantoon nie, is hoe dit in die praktyk moet plaasvind en veral in klein plattelandse gemeentes. Hier is die mense min en die getalle skraps. Hy spreek ook nie die belangrike aspek van taal aan nie.

Verder toon Niemandt (2007:52) ook die belangrike verskil tussen tegniese verandering en aanpasbare verandering aan. Hy beskryf tegniese verandering as 'n proses van geleidelike innovasie. Sekere veranderings moet gemaak word sodat die instelling kan voortgaan met die daaglikse instandhouding daarvan. Daarteenoor is 'n duidelike paradigmaskuif nodig by aanpasbare verandering. Skeppende innovasie is nodig waarin haas elke aspek van 'n organisasie fundamenteel verander (Niemandt 2007:52). Die grootste gevaar in terme van die Afrikaanse gereformeerde kerke is die beskouing dat tegniese verandering goed genoeg gaan wees om oor 20 jaar van nou af effektief voort te bestaan. 'n Paradigmaskuif in elke faset van kerkwees is dus noodsaaklik.

Een van die ander moontlike sleutels wat die toekoms vir die Afrikaanse hoofstroomkerke kan oopsluit, lê daarin om aanpasbare verandering te ondergaan ten opsigte van byvoorbeeld missionale kerkwees. Om missionaal te wees, iets wat deel van die aard van die kerk behoort te wees, vra daarvoor dat alles in die gemeente met die doel van omvattende getuienis moet gebeur, om uiteindelik dan so na binne en na buite 'n verskil te maak. Daar is byvoorbeeld tans 'n golf van missionale kerkwees wat redelik sterk in die Afrikaanse gereformeerde kerke inbeweeg het. Die NGK het byvoorbeeld reeds in 2013 tydens sy Algemene Sinode in Port Elizabeth daaroor as prioriteit en hoofdoel besluit (NG Kerk Algemene Sinode 2013:141-142). Gemeentes van verskillende Afrikaanse gereformeerde kerke word intussen begelei en gestimuleer om binne die missionale kerkwees-model te funksioneer. Dit laat gemeentes primêr ekstern fokus, terwyl die fokus vroeër 'n sterker klem op die bediening en versorging van lidmate na binne was, en missionaliteit in 'n mindere of meerdere mate slegs 'n fokusgroep was. Binne die missionale kerkwees-model is elke gemeentelid gefokus na buite en versorging vind plaas na binne om mense te aktiveer vir missionale kerkwees na buite.

Vervolgens 'n paar moontlike toekomswerklikhede soos dit in die Afrikaanse gereformeerde kerke kan uitspeel teen 2030 en 2040, en veral dan toegespits op kwessies rakende kultuur en taal. Eerstens kan dit gestel word dat die sterk klem op Afrikaans in sulke kerke kleiner gaan wees as gevolg van veroudering, emigrasie en verengelsing van die jonger geslagte.

Tweedens sluit 'n verdere moontlike toekoms 'n situasie in waar daar oor die kleurgrense heen beweeg word en verskeie multitalige bedienings is reeds besig om geleidelik te realiseer soos in die middestede van byvoorbeeld Tshwane (PEN-aksie), Johannesburg (MES-aksie), Bloemfontein (Anchor of Hope), Durban (His Hands Ministry) en Kaapstad (Fresh Expressions).

In hierdie middestede word die tradisionele gereformeerde kerkgeboue soms in 'n metrobediening deur verskillende kerkgenootskappe benut, ook vir vreemdelinge. Hoewel die oorspronklike gereformeerde kerk aan wie die kerkgeboue behoort, nog steeds die koördinerende funksie vertolk, is die betrokke Afrikaanse gereformeerde kerk net een van die rolspelers (Tolmay 2010:18).

Derdens sluit 'n verdere moontlike toekoms 'n situasie in waar daar sterk in Engels bedien word vanuit die hoofstroom tradisie. Die rede hiervoor is dat daar in die loop van die volgende 20 jaar waarskynlik heelwat meer as in die verlede oor die kleurgrens beweeg sal word, en dat kerkeenheid ook oor rassegrense heen sal plaasvind.

Die moontlike toekoms teen 2030 en 2040 sluit moontlik elemente van al drie bogenoemde moontlikhede in. Die rede daarvoor is dat sekere geloofsgemeenskappe veral in middestede bloot nog tegniese veranderinge moet aanbring in 'n konteks waar 'n duidelike paradigmaskuif reeds plaasgevind het.

Met betrekking tot enkele ander algemene tendense moet eerstens kennis geneem word van die feit dat daar 'n sterk afname in die lidmaatgetalle van hoofstroomkerke in die Westerse wêreld is. Terwyl ons reeds redelik lank in die postmoderne era staan, sal hierdie tendense verder toeneem. Uit verskillende ontledings blyk dit ook duidelik dat hierdie afnames ook aan die gebeur is in die Suid-Afrikaanse hoofstroomkerke (Dreyer 2016).

Tweedens verouder lidmate van hoofstroomkerke binne die Westerse wêreld. Dit is ook waar van kerke binne die kring van die Afrikaanse gereformeerde familie in Suid-Afrika. Intussen beleef Suid-Afrika egter met sy relatiewe jong bevolking veral ook in die sogenaamde swart kerke, nie 'n dramatiese verouderingstendens nie (Eloff 2016: 172, 188, 190).

Derdens volg dit logies dat, soos wat lidmaatgetalle afneem en lidmaatveroudering toeneem, die finansiële posisie van gemeentes ook sal verswak. Ons kan ook tot die gevolgtrekking kom dat soos die finansies en die lidmaatgetalle afneem, daar vierdens waarskynlik 'n vermindering van gemeentes sal wees oor die volgende 20 jaar.

Vyfdens sal daar gevolglik in die nabye toekoms minder predikante in voltydse poste in sowel die stad as in die platteland wees. Soos wat marginale oftewel kwynende gemeentes toeneem, sal gemeentes voor die keuse gestel word om die pad van konsolidasie, samesmelting of terminasie, dit wil sê om hul deure te sluit, na te volg.

In die sesde plek kan aanvaar word dat daar binne die waarskynlike toekoms 'n deurlopende verskil van mening gaan wees oor dogmatiese en etiese sake binne Afrikaanse gereformeerde kerke. Verskillende standpunte rondom Skrifinterpretasie en hermeneutiek veroorsaak byvoorbeeld opslae oor sake soos die selfdegeslagdebat. Hierdie verskil van menings sal in 'n snel veranderde globale wêreld deurlopend momentum hou en wel ook oor sake soos robotmense, genadedood, doopviering, en saambly van lidmate, om maar net enkele aspekte te noem. Dié tipe konflikte spreek ten diepste die kernuitdaging vir die gereformeerde kerke aan naamlik hoe om dinamies en relevant vanuit die Bybel in Suid-Afrika voort te gaan om te reformeer in die konteks van die 21ste eeu.

'n Sewende aspek is dat gereformeerde gemeentes al hoe meer 'n eie identiteit gaan ontwikkel, omdat baie gemeentes losser van die sentrale beheer van streeks-en algemene sinodes wil staan. Binne hul eie plaaslike kontekste ontwikkel dan gemeentes wat eerder 'n gemeenskapskerk in hul omgewing wil wees.

Ten agste gaan daar 'n aantal gemeentes wees wat hul band heeltemal wil losmaak van hul gereformeerde sinodale strukture. Die gereformeerde kerkreg bepaal egter dat kerkgeboue en fisiese eiendomme wel die besit van die oorspronklike plaaslike gemeente bly. Splintergroepe kan na alle waarskynlikheid kreatief te werk gaan om geloofgemeenskappe of dan gemeentes te vorm waar hul nie meer so afhanklik gaan wees van die gebruik van hierdie eiendomme nie.

 

4. 'n Waarskynlike toekoms van die Afrikaanse gereformeerde kerke

Die waarskynlike toekoms sal gebeur as die huidige ontwikkelingslyne en tendense in instellinge en dus ook in die gereformeerde kerke in Suid-Afrika bloot net voortgesit en gekontinueer word.

Met betrekking tot perspektiewe oor die saak van waarskynlike toekomste, slegs enkele kursoriese gedagtes. Hoewel dit al van 'n geruime tyd gelede dateer is die standpunte van die Britse toekomskundige Patrick Dixon in sy boek, Futurewise, (1998) steeds relevant. Dixon (1998:1) stel dat binne die waarskynlike toekoms die lewenstempo nog vinniger sal versnel te midde van dramatiese tegnologiese ontwikkelings. Mense en dus ook die jeug kan bloot net so besig word dat hul weinig tyd beskikbaar het om tyd by en met die kerk te spandeer te midde van al hul ander lewensaktiwiteite.

Die Pew Research Center vanuit Amerika het in 2010 'n baie waardevolle peiling gedoen oor die godsdienssituasie in Suid-Afrika. Sedert 2001 word daar jammer genoeg geen formele syfers meer oor die godsdienssituasie in Suid-Afrika deur Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) aangevra nie. Volgens hierdie Pew-peiling was die persentasie Christene in 2010 soos in 2001 steeds 80%. Volgens Pew se vooruitskattings vir 2050 sal die persentasie Christene van die totale bevolking steeds op ongeveer 80% bly. Met betrekking tot Afrika suid van die Sahara beweer Pew dat hierdie moontlik van die mees godsdienstige gebiede in die hele wêreld kan wees. Terwyl Pew beweer dat vir ongeveer 9 uit die 10 in hierdie gebied godsdiens belangrik is, is godsdiens in Suid-Afrika vir slegs ongeveer 74% van die bevolking belangrik (Eloff 2016: 172ev) (Vgl ook Hendriks 2000:73-97).

Die verskuiwing van die wêreldfokus van die Weste na die Ooste sal intussen voortduur en met die opkoms van China en ander Oosterse lande vind kultuur- en geloofskuiwe ook plaas. Die handel in die Ooste met buurlande neem ook vinnig toe. Die leefwêreld van 'n Westerse leefstyl sal na alle waarskynlikheid ook versnit word met sekere aspekte uit die leefwêreld van die Ooste. Die kanse dat Suid-Afrikaanse jongmense wat byvoorbeeld vyf jaar lank in Suid-Korea of China vir skoolkinders of studente Engelse klasse gegee het, weer in tradisionele Afrikaanse gereformeerde kerke sal inpas, is waarskynlik gering.

Intussen is aardverwarming een aspek van die ekologie wat opslae maak. Waterbronne neem af en word meer en meer besoedel, terwyl die stryd teen plastiek voortduur. Groen energie en talle ekologiese kwessies is maar aan die begin van 'n ekologiese beweging wat verder in die 21ste eeu baie aandag sal geniet. Daar is byvoorbeeld dringend 'n baie meer intensiewe groen teologie nodig vir die Afrikaanse gereformeerde kerke.

Dit is 'n algemene tendens dat mense se lewensverwagting verhoog. Dit het groot implikasies ook vir die Afrikaanse gereformeerde kerke. Bejaardes sal met meer energie 'n groter bydrae lewer binne kerklike gemeenskappe maar moet ook bedien en pastoraal versorg word. Intussen verarm sommige bejaardes ook wel en hulle moet met alimentasie deur gemeentes bygestaan word.

Daar is intussen ook geen twyfel dat die inflasie vir mediese versorging baie hoër as algemene inflasie is nie. Dit veroorsaak dat mense wat langer leef, langer medies versorg moet word. Hoewel 'n nasionale gesondheidsdiens voorgestel word vir Suid-Afrika teen 2026, is vrae daaroor legio. Die vraag ontstaan byvoorbeeld baie pertinent hoe dit alles die kerke en hul funksionering gaan beïnvloed.

Groot tegnologiese ontwikkelinge vind daagliks plaas. Daar is 'n duidelike toename daarin dat gelowiges van oor die wêreld heen al meer globaal verbind is. Mense skakel nou tegnologies by geloofgemeenskappe in wat nie tradisionele Afrikaanse gereformeerde kerke is nie. Hierdie tendense sal na alle waarskynlikheid baie sterker ontwikkel. Gemeentes stroom tans meer dikwels hul dienste elektronies op YouTube en deur Facebook. Die grendeltyd in 2020 het hierdie aspekte op 'n sneltrajek geplaas. Dit sal verder oor die volgende 20 jaar ontwikkel en meer opsies aan tradisionele gereformeerde lidmate bied.

Met betrekking tot die konkrete uitspeel van bogenoemde toekomskundige opmerkings oor die waarskynlike toekoms, vervolgens slegs enkele baie basiese pennestrepe oor die Afrikaanse gereformeerde kerke. In baie opsigte sal die kerke eintlik maar net voortgaan soos tans. Weinig veranderinge of aanpassings sal gemaak word. Die status quo sal bloot gehandhaaf word en die kerke sal net bly soos dit tans is, of andersyds as gevolg van verstarring eintlik maar 'n gestadigde dood sterwe. Hierdie benadering staan egter in totale konflik met die wesensaard en inherente krag van die gereformeerde kerke naamlik om altyd weer te reformeer.

Indien hierdie gereformeerde kerke in Suid-Afrika nie die pad van verstarring loop nie maar wel tog sekere aanpassings gaan maak, moet hulle op pad na die waarskynlike toekoms ook kennis neem van enkele perspektiewe in soverre as wat dit betrekking het daarop. Hierdie perspektiewe sluit aan by belangrike navorsing deur Cetron & Davies, met die titel 50 Trends Shaping the Future, en wat as 'n spesiale verslag van die "World Future Society" gepubliseer is. Ek noem die perspektiewe bloot kripties sonder om dit in enige besonderhede te bespreek: Sosiale strukture wat verander vereis 'n nuwe paradigma van bedieningsbehoeftes; mense se tyd is beperk en kan lei tot minder kerkbywoning; kerklike ondersteuningshulp as gevolg van maatskaplike probleme kan toeneem; die behoefte aan 'n bepaalde styl van die eredienste sal vanaf 'n meer modernistiese styl na behoeftes van die postmoderne era verskuif; vrouens sal ook binne die kerke meer inklusief behandel moet word en by al die leierskapstrukture van die kerk betrek moet word; die modernistiese styl van lerende prediking sal aangepas moet word; die kerk sal sy sosiale verantwoordelikheid beter moet nakom; wanoptredes van geloofsgemeenskappe sal met groter verantwoordelikheid hanteer moet word omdat die samelewing nog waarde heg aan die geloofsinstelling; jeugbediening sal radikaal moet aanpas na aanleiding van 'n nuwe geslag van tegno-jongmense; die Afrikaanse gereformeerde kerke sal eties moet optree; hulle aandeel aan die sanksionering van apartheid sal teen 2030 en 2040 minder word, maar daar sal nog historiese verbande getrek word; die Afrikaanse gereformeerde kerke kan vanweë die Afrikaanssprekende se gevoelsmatige band met die grond en die natuur, 'n sleutelrol speel in sake van ekologiese belang; geboue in besit van die kerke kan opleidingsentrums word weens die algemene behoefte en neiging dat mense lewenslank leer; in 'n wêreld vol turbulensie kan geestelike gemeenskappe 'n hawe van vrede bied (Cetron & Davies 2003:6-32).

Heelwat van hierdie bogenoemde perspektiewe kan na alle waarskynlikheid 'n groot impak hê op die Afrikaanse gereformeerde kerke.

 

5. 'n Verkieslike toekoms vir die Afrikaanse gereformeerde kerke

Met die politieke oorgang in 1994 in Suid-Afrika na 'n grondwetlike demokratiese bestel het die Calvinistiese dominansie en Calvinistiese samelewingsregulering van die voorafgaande dekades finaal tot 'n einde gekom. Die toe geldige paradigma van die samelewing het vanuit 'n Christelik-Nasionale grondslag oorgeskuif na 'n nuwe paradigma, met as grondslag dié van 'n liberale demokrasie. 'n Liberale demokrasie is 'n vorm van regeringstelsel waarin onder andere die regte van die individu deur die landswette beskerm word, waar vrye en regverdige verkiesings voorkom en waar daar 'n onafhanklike regstelsel bestaan.

Hierdie vinnige en radikale paradigmaverskuiwing het op haas elke faset van die samelewing herdefiniëring impliseer, naamlik op godsdienstige, onderwys en morele gebied, maar ook op die terreine van grondbesit, gesondheid, sekuriteit, sport, die huwelik, kunste, landbou, ekonomie en alle terreine van die staatsdiens (Tolmay 2017:13).

Kerke in die postmoderne era is minder gereguleer, met 'n sterker fokus op mense en hul verhoudinge. Ook funksioneer die kerk nou in 'n oop sisteem waarin individue 'n groter geleentheid kry om 'n bydrae te lewer. Ruimer denke oor godsdiens word ook binne die postmoderne era geakkommodeer. Hierin sien ons 'n groter verdraagsaamheid van ander standpunte oor godsdiens. Standpunte word minder vanuit net 'n reg of verkeerd beoordeel. Bosch (2011: 368) sluit in navolging van Hans Küng hierby aan:

As long as one lives and thinks within the patterns of a given paradigm, that paradigm provides one with a plausibility structure according to which all reality is interpreted. The paradigm may be a particular scientific worldview, or a religion, or an ideology; in each case the conceptual framework has almost all-embracing interpretative powers. It is only when one loses faith in a plausibility structure that one senses that its powers were excessive and specious.

Probleme wat egter al hoe groter in die toekoms gaan word, is die van werkloosheid, kriminaliteit, dienstelewering, onderwys, werkskepping en gelyklopende ekonomiese terugslae. Die huidige Suid-Afrikaanse regering het onder andere as gevolg van ideologiese redes en die gebrek aan die implementering van planne geen goeie rekord ten opsigte van ekonomiese groei en voorsiening in die bogenoemde behoeftes nie. Daarom staan die regering voor enorme uitdagings, onder andere met betrekking tot behuising, onderwys en voedselbronne.

Die vraag ontstaan watter toekoms sou ons verkies as 'n mens sou kyk na die konkrete uitspeel van bepaalde tendense hierbo genoem? As visionêre geloofsgemeenskappe binne Afrikaanse gereformeerde kerke gevorm word en bereid sou wees om deur aanpassings verandering onder die leiding van God tot 2030 en 2040 te maak, kan hierdie kerke tog wel groei. Een van die sleutels wat ons kan gebruik om die kerk van die toekoms oor 20 jaar oop te sluit, is die beweging van die modernistiese manier van kerkwees na die postmoderne manier van kerkwees, sonder ook om oorboord met laasgenoemde te gaan. Dit word verder versterk deur die skuif wat reeds plaasgevind het met die samelewing se paradigmaskuif na 'n nuwe paradigma. Daar het byvoorbeeld 'n verskuiwing plaasgevind ten opsigte van die fisiese ruimtes waarin gelowiges bymekaar kom. Naas kerkgeboue waar dit miskien soms te veel oor tradisie gaan, is daar in die laaste tyd meer ruimte geskep vir meer informele vergaderplekke van geloofsgemeenskappe. Ook as gevolg van byvoorbeeld die Covid-19 pandemie het kerke in Suid-Afrika op kreatiewe nuwe maniere begin kerk hou, iets waarop in die slothoofstuk meer spesifiek gefokus sal word.

Die kerke was organisatories vroeër so gestruktureerd dat besluite hiërargies en "van bo" af geneem is, met sterk invloed op kerkordes. Platter besluitnemingstrukture geld tans dikwels wat ook meer funksioneel is. Waar ampte vroeër op 'n Calvinistiese wyse geïmplementeer is, word daar nou funksioneel en praktykgerig met inagneming van talente daaroor besin.

In die verdere nadenke oor die verkieslike toekoms moet naas die missionale dimensie wat reeds hierbo as 'n moontlike opsie bespreek is, kortliks verwys word na twee interessante en kontemporêre modelle van kerkwees en moontlik ook nuwe kerkplantings. Hierdie modelle het uit historiese navorsing maar ook uit my toekomsdenke en -navorsing voortgevloei. Ruimte ontbreek om alle modelle vir die Suid-Afrikaanse situasie op tafel te lê, maar daar moet bygevoeg word dat naas die onderstaande wat meer uitgebreid bespreek sal word, is daar seker ook nog ander modelle naamlik veel kleiner huiskerke of die sogenaamde kuberkerk of e-kerk soos dit in Suid-Afrika sedert 2002 bestaan (Joubert 2018: 1).

Vooraf moet duidelik gestel word dat die bewegings wat hieronder bespreek word beslis nie voorgehou word as die goue en enigste oplossings vir die Afrikaanse gereformeerde kerke se uitdagings in die 21ste eeu nie. Hierdie bewegings dien egter wel as moontlike gespreksbasisse vir toekomsdenke oor die Afrikaanse gereformeerde kerke.

Die eerste model, die Fresh Expression-beweging, het sy oorsprong in Engeland gehad waar daar al meer weerstand teen die tradisionele kerkstrukture ontstaan het. Dit het alreeds na 'n hele aantal ander lande in Europa en elders in die wêreld uitgebrei. Hierdie Fresh Expression-beweging is in September 2005 in Engeland gestig deur die Anglikaanse en die Metodiste Kerk. Daar is tans agt hoofstroomkerke in Engeland wat vennote van Fresh Expressions is. Die Fresh Expression-beweging poog om geloofsgemeenskappe te plant as alternatief vir die tradisionele kerklike strukture. Persone wat nie kerkgangers is nie, is die fokus.

Volgens Fresh Expressions (2015f) is daar vier motiewe. Eerstens, 'n missionale motief - om mense buite die kerk te bedien. Tweedens, 'n kontekstuele motief - om waarlik na mense te luister en binne hul kultuurwêreld in te beweeg. Derdens, 'n opvoedkundige motief - om mense as dissipels toe te rus. Vierdens, ekklesia - om 'n nuwe geloofsgemeenskap te stig.

Die Fresh Expression-beweging fokus ook baie sterk op menslike verhoudings. Daar word sterk op mense se behoeftes gefokus en so ontstaan gesonde en ryke verhoudings (Fresh Expressions 2015e:4). Uiteraard moet daar deeglik gewaak word daarteen dat dit nie maar slegs 'n humanistiese beweging word nie. Maar binne hierdie delikate verhoudings hoef byvoorbeeld jongmense nie so maklik sonder enige ander keuse in tradisionele gereformeerde kerklike struktuur ingeforseer te word nie.

In hierdie verhoudingsgedrewe geloofsgemeenskappe word besef dat groei plaasvind waar leiers bemagtig word; mense kans kry om hul gawes te gebruik; waar spiritualiteit passievol uitgeleef word; waar funksionele strukture bestaan; en waar klein groepe bestaan waarin elke aspek van mense se daaglikse bestaan aangespreek word (Fresh Expression 2015e:4).

Die Fresh Expression-beweging spreek moontlik sommige van die behoeftes van die mens in die 21e eeu op 'n besondere wyse aan. Veral jongmense en persone wat buite kerkgenootskappe staan, kry die geleentheid om deel van 'n geloofsgemeenskap te wees. Mense kry te doen met sagte verhoudinge en met deernis, en nie met soveel negatiewe kritiek nie. Sake soos deernis en empatie is beslis aanwesig by die Fresh Expression-beweging.

Figuur 1 hieronder definieer Christelike visie soos gesien deur die oorspronklike Britse Fresh Expression-beweging (Fresh Expressions 2015:7d). Hierdie proses is spiraalvormig en sal waarskynlik 'n paar keer herhaal word. Figuur 2 vind vervolgens noue aansluiting by Figuur 1. Dit alles word meer breedvoerig onder Figuur 2 bespreek.

 

 

 

 

Die vraag ontstaan nou hoe die Fresh Expression-beweging prakties te werk gaan? Die belangrike doel daarmee is om 'n nuwe geloofsgemeenskap te wees (Fresh Expressions 2015f:7) (Kursusmateriaal).

Om dit alles wat in Figure 1 en 2 hierbo aangedui word duideliker uit te spel, die volgende omskrywing wat in die volgende verskillende stappe saamgevat word: Analiseer die konteks; bewerk verbindings in 'n gemeenskap; kommunikeer die boodskap van nood; bewys deernis; hanteer vrae en ongemak; fokus op finansies; besluit oor vennootskappe en groepe wat kan saamwerk; bid en werk vir verandering; volg die voorbeeld van Christus se liefde.

Die Fresh Expression-beweging soos dit in verskillende vorme en sisteme ook hier in Suid-Afrika ontwikkel en uitspeel, is 'n voorbeeld van waarheen 'n deel van verkieslike kerkwees en moontlike nuwe kerkplantings in die volgende aantal jare kan skuif (https://www.freshafrica.org.za/our-beginnings). Dit staan tans in Suid-Afrika bekend as die "Fresh Africa" of "Vars Uitdrukking"-beweging. In Nederland staan dit bekend as "Wilden Groei". Dit is 'n paradigma of benaderingswyse wat op verskillende maniere selfs ook deur die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika geïmplementeer kan word. Dit kan ook in verskillende aangepaste vorme veral vir die jonger geslag asook vir moontlike uitreiking na multikulturele gemeenskappe en na mense op straat veel beteken, en kan 'n groot bydrae daartoe lewer dat die Afrikaanse gereformeerde kerke hulle roeping ook ten opsigte van die breëre samelewing uitleef. Dit kan ook besliste Koninkryksgroei tot gevolg hê.

Sowel die NHKA as die NGK het hulle al taamlik positief oor hierdie aksies uitgespreek. Andre Ungerer van die NHKA stel dat hierdie beweging opwindende moontlikhede bied "om veral die 60% mense te bereik wat neutraal of selfs antagonisties teenoor die oorgeërfde tradisionele kerk staan" (Ungerer 2017:10). Hy gaan voort en sê dat "deur by die randakker van die Kerk se normale verwysingsraamwerk betrokke te raak, kan daar energie na die sentrum van die (kerk) (BJT) stroom wat goeie gevolge vir Koninkryk en Kerk mag inhou" (Ungerer 2017: 11).

Nell en Grobler van die NGK stel op hul beurt weer dat een van die grootste uitdagings van die kerk van vandag "is the constant temptation to outsource its mission. We do have to keep in mind that it is not only fresh expressions of being the church that is to be missional, contextual, ecclesial and formational, but all forms of church are called to do this . There is much to learn from Fresh Expressions, but the church must always be church, whether it is fresh or traditional" (Nell & Grobler 2014: 766).

Ek wil vervolgens verwys na die denke van Phyllis Tickle, die invloedryke Amerikaanse kerkhistorikus en toekomsdenker in haar insiggewende boek The Great Emergence. Sy trek enkele belangrike pennestrepe oor die verlede van Christelike kerke en hoe sy toekomsontwikkelinge in die Christelike kerke vanuit haar toekomskundige teoretisering bekyk. Twee skrywers uit die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Phia van Helden en Ben de Klerk analiseer haar bydrae soos volg wanneer hulle beweer dat gelowiges van die 21ste eeu hulself in 'n onafwendbare oorgangsfase bevind. Van Helden en De Klerk stel in aansluiting by Tickle dat hierdie ontluikende verskuiwing waarskynlik nie op die vernietiging van godsdiens dui nie, maar wel dat 'n byna onstuitbare proses en dinamika 'n totaal nuwe uitlewing van godsdiens voorhou (De Klerk en Van Helden 2011:2).

Hoewel daar met belangstelling kennis geneem moet word van Tickle se denke, moet vooraf besef word dat sy moontlik, ook in die woorde van die kerkhistorikus SJ Nichols, beskuldig kan word van die oorvereenvoudiging of oordrywing van bepaalde tendense en feite in die twintig eeue van kerkgeskiedenis (Nichols 2012: 240) Hoewel Tickle aanspraak maak op redelike objektiwiteit, maak sy haar wel skuldig daaraan om net op die positiewe aspekte van die ontluikende of nuut ontwikkelende kerke te fokus (Oliver 2019:1, 9-10).

Phyllis Tickle het in haar navorsing bevind dat daar basies vier hoof godsdiensgroepe teen die tweede helfte van die 20ste eeu in die VSA onderskei kan word naamlik die liturgiese groep, die vernuwende groep, die sosiale geregtigheid- of hoofstroomgroep, en die konserwatiewe of fundamentalistiese groep. Hierdie verdelinge kan egter nie rigied toegepas word nie en hulle aksente oorvleuel ook mekaar (Tickle 2008: 126,137). Geleidelik het hierdie tradisies tog nader aan mekaar begin beweeg, en dit is vergemaklik deur platter besluitnemingstrukture teenoor die gevestigde kerkstrukture wat meer staties is. Hierdie ontluikende en dinamiese proses het op sy beurt tog ook weer 'n teenreaksie gehad (Tickle 2008: 136). Uiteindelik het Tickle egter tot die slotsom gekom dat ongeveer 35% van die gelowiges in die VSA in die tradisionele kerke sal bly en ongeveer 60% by hierdie meer ontluikende groepe 'n tuiste sal vind.

Ek het, hoewel bewus van die tekortkominge in Tickle se denke, tog hierdie visie van haar op die Suid-Afrikaanse situasie ge-ekstrapoleer (Tolmay 2017: 172). Na my oordeel kan die Afrikaanse gereformeerde hoofstroomkerke hulself allereers saam met die hoofstroomkerke in die VSA in die groepering van die Bybel-gefokusde gelowiges tuis voel. Daar kan wel by hierdie hoofstroomkerke in Suid-Afrika 'n element van sosiale geregtigheid gevind word maar dis 'n aksent wat by meerdere kerke vanuit verskillende tradisies in Suid-Afrika na te speur is. Die liturgiese groepering as 'n afsonderlike tradisie is ook duidelik in Suid-Afrika te vinde en dan veral in die Rooms Katolieke Kerk en die Anglikaanse Kerk. Wat wel interessant is, is dat in die Afrikaanse gereformeerde kerke en veral in die NGK 'n mens in die afgelope tye al meer van die sogenaamde kontemplatiewe of stildienste met baie liturgiese beklemtoninge en simbole aantref. Daar is ook in die betrokke kerke 'n aanvoeling vir retraites vir predikante en lidmate. In die Suid-Afrikaanse situasie word die vernuwingsgroep verder veral in die Evangeliese, Pentekostalistiese en Charismatiese kerke aangetref. Ek dui ook aan dat soos Tickle dit in die Amerikaanse situasie uitwys, daar 'n naderbeweeg van verskillende tradisies na mekaar toe is. Hierdie naderbeweeg na mekaar toe "is sterker waarneembaar by die NG Kerk en minder waarneembaar by die Gereformeerde Kerke en die Nederduitsch Hervormde Kerk" (Tolmay 2017:172).

Met betrekking tot die teenreaksie-verskynsel in die VSA waarna Tickle verwys, is dit volgens my ook in Suid-Afrika waarneembaar. Ek kan in die verband in die algemeen maar net verwys na die agendas en notules van verskillende sinodes en kerkvergaderings.

Met betrekking tot die verkieslike toekoms vir die Suid-Afrikaanse gereformeerde kerke is ek met verwysing na Figuur 3 hieronder van oortuiging dat as dit by 'n sisteembenadering kom, verskeie tradisies in Suid-Afrika gaan inspeel op die funksionering van die drie Afrikaanse hoofstroomkerke. Die sentrale tema van liefde word in die middel geplaas. Al vier die bogenoemde tradisies naamlik die Bybel as Woord van God, sosiale aksies, die gawes van die Heilige Gees en die stil spiritualiteit is ook teenwoordig in hierdie Suid-Afrikaanse gereformeerde kerke. In Figuur 3 is die dinamiese aspekte van al vier tradisies in stippellyne omdat dit verrassend na nuwe elemente wat nog kan ontwikkel, kan groei" (Tolmay 2017: 173, 174).

 

 

Vervolgens word op voetspoor van Tickle dan 'n skematiese voorstelling van hierdie verkieslike toekoms vir die Afrikaanse gereformeerde kerke aangebied. Hoewel geen naam aan hierdie toekomsmodel gegee word nie, is dit 'n sisteem (anders as die "emerging church" of ontluikende kerkbeweging) waarin verskeie tradisies interaktief kan inspeel op die funksionering van die Afrikaanse gereformeerde kerke.

'n Volgende model word van nou af waargeneem en kan vorentoe in die Afrikaanse gereformeerde kerke geld.

 

 

Figuur 4: Liefde bly sentraal en is verbind aan al die ander elemente. Deernis en sagte verhoudinge kom as element by. Die tradisionele elemente van eers bely (na verskeie jare se kategese), dan glo nadat 'n persoon genoeg kennis het en dan uiteindelik mag behoort is almal aanwesig, maar funksioneer nie meer so sterk modernisties en voorwaardelik nie. Die stippellyne toon die dinamika aan wat nader aan en verder weg van mekaar kan skuif. Dit kan ook in die toekoms sekere nuwe elemente insluit.

Figuur 5 stel die verkieslike toekoms voor, wat die Afrikaanse gereformeerde kerke moontlik kan nastreef (Tolmay 2017:176). Alle elemente is verbind aan ander elemente binne die sisteem. Die uitkoms van so 'n sisteem is dat daar uiteindelik byvoorbeeld een Afrikaanse gereformeerde kerk kan vorm.

 

 

Hoewel die bogenoemde opsiesbeslis nie die enigste oplossings vir die Afrikaansegereformeerde kerta se 21ste eeuseuitdaging;sis nie, kan hierdie bewegings egter wel dien as moontlike gespreksbasisse vir toekomsdenke vir die Afrikaanse gereformeerde kerke.

 

6. Ten slotte

Een van die belangrike vrae is of die Afrikaanse gereformeerde kerke die vermoë het om te midde van toenemende sekularisasie in 'n postmoderne era en saam met die hartklop van die nuwe demokratiese Suid-Afrika, te resoneer. Anders uitgedruk is die vraag of die kerke daartoe in staat is om nie net tegniese veranderinge aan te bring nie maar ook bepaalde drastiese skuiwe te realiseer op pad na 2030 en 2040 terwyl hy steeds kerk van Christus bly.

Ook ons groter wêreld gaan deur 'n dramatiese proses van verandering en die huidige is waarskynlik nie meer die normaal nie. 'n Nuwe normaal is waarskynlik op pad. Die Amerikaanse meningsvormer en toekomsdenker Leonard Sweet (2000:22, 70, 76) sê byvoorbeeld dat die toekoms van die Christelike kerk onder andere in kommunikasie, kreatiwiteit en samewerking gesetel is.

In die vraagstelling heel aan die begin is na die verantwoordbaarheid van die verskillende toekomsopsies vir die Afrikaanse gereformeerde kerke gevra. Verder is ook gevra na faktore wat hierdie toekoms mede sou bepaal asook of dit alles tot beter selfverstaan bydra. Ek is van oortuiging dat meeste van hierdie vrae op 'n toekomskundig-wetenskaplike wyse aangespreek is en dat te midde van relatief beperkte toekomsnadenke oor kerke in Suid-Afrika, bepaalde nuwe perspektiewe oopgebreek is. Drie verskillende opsies is uiteindelik verantwoord en met konkrete inhoud uiteengesit, en riglyne vir die beste moontlike, en selfs verkieslike opsie is naas die waarskynlike verduidelik .

Indien die Afrikaanse gereformeerde kerke met heelwat van die kwessies in hierdie uiteensetting erns maak en met liefde, deernis en entoesiasme die godsdienstige behoeftes van 'n verskeidenheid spiritualiteite en variëteite aanspreek, vorder hulle waarskynlik op die pad na die toekoms. Hierdie toekoms sal naas die huidige klassieke en ook kontemporêre benadering van hierdie hoofstroomkerke op pad na 2030 en 2040, moontlik ook aangevul moet word met ingrypend nuwe en informele geloofsbedienings (Barna: 2005:63). Dit alles behoort 'n uitreik vanuit die Afrikaanse gereformeerde kerke na die onbereiktes, die jeug asook ander multikulturele mense in ons uitdagende maar ook geknelde samelewing te verteenwoordig.

'n Laertrek of 'n onttrekkingsopsie is doodgewoon net nie 'n opsie vir die Afrikaanse gereformeerde kerke nie en dit sal beslis eindig in 'n doodloopstraat. Die belangrike is om op gesonde beginsels gefokus te bly, en om altyd maar weer te reformeer terug na die Woord en na God self (ecclesia semper reformanda). Daarin is daar ook vanuit die reformatoriese geskiedenis altyd toekoms geleë vir die kerk van Christus, maar hopelik ook vir die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika op pad na 2030 en 2040.

 

Bibliografie

Barker, J.A. 1993. Paradigms - The business of Discovering the Future. New York: Harper Business.         [ Links ]

Barna, G. 2005. Revolution: Finding vibrant faith beyond the walls of the sanctuary. Carol Stream: Tyndale House Publishers.         [ Links ]

Baumann, Z. 2011. Culture in a liquid modern world. Cambridge: Polity.         [ Links ]

Berger, P.L. (Ed) 1999, The desecularization of the world. Washington: The Ethics and Public Policy Centre.         [ Links ]

Bosch, D.J. 2011. Transforming Missions - Paradigm Shifts in Theology of Missions. New York: Orbis Books.         [ Links ]

Botkin, J.W. 1979. No Limits to Learning: Bridging the Human Gap. Oxford: Pergamon Press.         [ Links ]

Cetron, M.J. & Davies, O., 2003, 50 Trends Shaping the Future, Special Report published by the World Future Society, Washington, DC.

Cornish, E. 2004. Futuring: The exploration of the future. Bethesda: World Future Society.         [ Links ]

Czeglédy, A.P. 2008. "A New Christianity for a New South Africa: Charismatic Christians and the Post-Apartheid Order." Journal of Religion in South Africa, 38(3):284-311.         [ Links ]

Dixon, P. 1998, Futurewise. London: Harper Collins Publishers.         [ Links ]

Dodds, M. 2000. "Wisdom and it's lessons for the systems sciences". Interact Indigenous Toronto World Congress. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.russelmeans.com/speeches. [Toegang: 9 Maart 2017].

Dreyer, W. 2010. Tendense in kleiner kerke en gemeentes. [Intyds].

Beskikbaar: http://www.gemeentes.co.za [Toegang: 12 Oktober 2016].

Dreyer, W. 2016. Praktiese kerkwees - Kerkwees in die 21e eeu. Kaapstad: Aosis.         [ Links ]

Eloff, T. 2016. Wat nou, Suid-Afrika? Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Faran, J. (Ed) 2003. The future of revolutions - Rethinking radical change in an age of globalization. London: Zed Books.         [ Links ]

Fresh Expressions in Southern Africa, 2020. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.freshafrica.org.za/our-beginnings [Toegang: 6 Julie 2020].

Fresh Expressions, 2010. A Mixed Economy for Mission - The Church of England. [Intyds]. Beskikbaar: www.churchofengland.org>media [Toegang: 6 Julie 2020]

Fresh Expressions, 2015b. "Fresh Expressions, MSM members handout BO9". 6.

Fresh Expressions, 2015d. "Fresh Expressions, MSM member's hand out A04". 7.

Fresh Expressions, 2015e. "Fresh Expressions, MSM member's hand out C09". 9.

Fresh Expressions, 2015f. "Fresh Expressions Opleidingsmateriaal vir gemeenskappe".

Gabor, D. 1963 Inventing the Future. London: Secker & Warburg.         [ Links ]

Giliomee, H. 2011. Die Afrikaners 1910 - 2010. Die opkoms van n moderne gemeenskap. Pretoria: Die Erfenisstigting.         [ Links ]

Hendriks, H.J. 2000. "Die Suid-Afrikaanse godsdienstige landkaart aan die begin van die nuwe millennium". Praktiese Teologie in Suid-Afrika. (15):73-97.         [ Links ]

Holborn, L. & Eddy, G. 2011. First steps to healing the South African family. Johannesburg: Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge Verslag.         [ Links ]

Hofmeyr, J.W. & Kruger. P. 2011. "Boustene vir die toekoms van die NG Kerk". NGTT, 52(1+2).         [ Links ]

Jackson, N. 2018. "Kan daar iets goeds uit die NGK kom?' Die Kerkbode, 25 September 2018.

Joubert, S.J. 2018. "Flowing under the radar in a multifaceted liquid reality: the e-kerk narrative". Hervormde Teologiese Studies, 74(3):1-7.         [ Links ]

Kahn, H. 1962.Thinking about the unthinkable. New York: Horizon Press        [ Links ]

Kruger, P. 2014. Die invloed van sekularisasie op die NG Kerk: 'n kerkhistories-sosiologiese perspektief. PhD-proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Mack, T.C. (Ed) 2006. Creating global strategies for humanity's future. Bethesda: World Future Society.         [ Links ]

Muller, P.J. 2010. More is 'n nuwe spel (heruitgawe). Pretoria: P.J. Muller.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1986. Kerk en Samelewing. Pretoria: sn.

Nell, I.A. & Grobler, R. 2014. "An exploration of Fresh Expressions as missional church: some practical-theological perspectives". Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 55(3+4).         [ Links ]

Nichols, S.J. 2012. "Sorry Emergence Christianity still isn't the Reformation". Christianity Today, November 2012.

Niemandt, N. 2007. Nuwe drome vir nuwe werklikhede, Wellington: Lux Verbi BM.         [ Links ]

Niemandt, N. 2013. Nuwe leiers vir nuwe werklikhede. Vereeniging: CUM.         [ Links ]

Norris, P. & Inglehart, R. 2011. Sacred and secular: Religion and politics worldwide. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Oliver, E. 2019. "The Great Emergence: an exposition". Hervormde Teologiese Studies, 74(4):1-12.         [ Links ]

Oosthuizen, M. 2019. Adapted from the Millenium Project's 15 Global Challenges, @SOIFutures Retreat. [Intyds]. Beskikbaar: htpp:www.linkedin/mariusoostuizen [28 Julie 2019]. pp 1-4.

Pew Research Center, 2015 (2 April). Religious Composition by Country, 2010-2050. [7 Julie 2020].

Schoeman, W.J. 2014. Agter die syfers is gelowiges, gemeentes en die kerk: 'n praktiese teologiese refleksie oor lidmaatskap. Hervormde Teologiese Studies, 70(1)        [ Links ]

Smit, F. 2011. Demografie - die toekoms wat reeds gebeur het: Wêreldtendense met spesiale verwysing na Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Vol 51 nl. 1-11.         [ Links ]

Sunter, C. 2014. 21st Century Megatrends: Perspectives from a Fox. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Sweet, L. 2000. Learn to dance the Soul Salsa: Surprising steps for Godly living in the 21st century. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.         [ Links ]

Tickle, P. 2008. The great emergence: How Christianity is changing and why. Baker Books, Grand Rapids, Michigan.

Tolmay, B.J. 2010. 'n Sprokie speel homself af in Durban. Kruisgewys 2010. Wellington: Bybel Media. Beskikbaar: http://www.gemeentes.co.za/kruisgewys/kruisgewys-augustus-2010 [10 Desember 2016].

Tolmay, B.J. 2014. Die toekoms van die drie Afrikaanse hoofstroomkerke saam. Hervormde Teologiese Studie,. 70(3):2014. Beskikbaar: http://www.hts.org.za/index.php/HTS/article/view/2642 [10 Desember 2016].         [ Links ]

Tolmay, B.J. 2017. Die Toekoms van die Spiritualiteit binne Afrikaner Hoofstroomkerke: 'n Godsdiens - Sosiologiese studie. PhD-proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Ungerer, AG 2017. "Die Fresh Expression beweging en die Hervormde Kerk - 'n nuwe manier van kerkwees". Hervormde Teologiese Studies, 73(1):1-11.         [ Links ]

Unisa Press Release 2018. "Unisa's Somadodo Fikeni leads national initiative projecting possible future outlooks". Unisa News, 9 September 2018.

Weber, M. (1904-1905) 2002. The Protestant ethic and the spirit of capitalism. Translated by S. Kalberg. Original in German: Protestantische Ethik und der Geist des Kapitalismus. Los Angeles: Blackwell Publishing.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons