SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.6 número3The Afrikaans reformed churches in South Africa and ecologyPoints of communality in the development of ecumenism worldwide with reformed churches in South Africa (1990-2020) índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Stellenbosch Theological Journal

versión On-line ISSN 2413-9467
versión impresa ISSN 2413-9459

STJ vol.6 no.3 Stellenbosch  2020

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2020.v6n3.a10 

ARTICLES

 

Armoede: 'n Uitdaging aan die Afrikaanse gereformeerde kerke (1994-2019)

 

Poverty: A challenge for the Afrikaans reformed churches, 1994-2019

 

 

Johan (JM) van der Merwe

Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika. Johan.vdmerwe@up.ac.za

 

 


Trefwoorde: Armoede; geregtigheid; versoening; onderwys; werkloosheid; maatskaplike ontwikkeling


ABSTRACT

This contribution gives an overview of how four of the important reformed churches in South Africa responded to the challenge of poverty from 1994 to 2019. Following an introduction, the first part of the chapter defines poverty and describes the extent of the crisis. It then gives an overview of how the Dutch Reformed Church responded by imbedding compassion into the missional calling of the church. It also describes how early childhood development became the focus of the church in the struggle against poverty. The chapter then describes how the Uniting Reformed Church of Southern Africa was guided in her action by the Belhar Confession. The church integrated the struggle against poverty with the struggle of justice and reconciliation in a post-apartheid South Africa. The focus of the reformed churches in South Africa in addressing poverty was the role of the deacons in the local church. Education is also an important part of their fight against poverty. The Dutch Reformed Church of Africa rose to the challenge by making important structural changes in the church after 1995. This led to the empowerment of deacons in local churches through which the church addressed the poverty of members. The research shows in conclusion how the four churches used different routes to respond to the challenge of poverty in South Africa over the past 25 years.


 

 

1. Inleidend

"Armoede is vandag een van die wêreld se grootste sosio-ekonomiese probleme." Hierdie was die woorde van Johan Heyns in die broederlike onderhoud voor die Algemene Sinode van 1994. (NGK Handelinge 1994:532). Heyns het sy opmerking gestaaf deur 'n beskrywing van die omvang van die probleem te maak: "Jaarliks sterf tussen 13 en 18 miljoen mense wêreldwyd weens honger of hongerverwante toestande. Daar word beraam dat daar in die ontwikkelende lande nagenoeg 1 miljard mense is wat nie oor die basiese middele beskik om aan hulle basiese behoeftes te voorsien nie" (NGK Handelinge 1994:532). Hy het voortgegaan: "Tydens 'n volkskongres oor armoede en werkloosheid gehou op 7 Julie 1993, het ons gehoor dat nagenoeg 16,6 miljoen Suid-Afrikaners van alle rassegroepe, uit 'n totaal van ongeveer 40 miljoen, in armoede lewe, terwyl daar tans ongeveer 6 miljoen werkloses in Suid-Afrika is." Hierdie opmerkings van Heyns was 'n duidelike aanduiding van die enorme uitdaging aan die Afrikaanse kerke.

Die belangrikheid van Heyns se opmerkings is beklemtoon deur die toespraak van oudpresident Nelson Mandela tydens dieselfde vergadering. Mnr Mandela het die vergadering op 13 Oktober 1994 toegespreek. In sy toespraak het hy die kerke uitgedaag om 'n konstruktiewe rol te speel in die heropbou van Suid-Afrika. Een van die belangrikste bydraes wat die kerk volgens hom sou kon lewer was die bekamping en die bestryding van armoede. Hy het ondermeer verwys na die belangrike rol wat kerke gespeel het met opheffingsprogramme onder Afrikaners tydens die landsdroogte van 1932 en die Groot Depressie van 1932-1934. Mandela het die kerke in die land in hierdie toespraak uitgedaag om die Heropbou-en Ontwikkelingsprogram intensief te bestudeer en aktief daaraan deel te neem (NGK Handelinge 1994:536).

Mandela se uitdaging het in die jare na 1994 namate die krisis toegeneem het, helderder en dringender weerklink. In 2003 is armoede as een van die "sewe reuse" tydens die South African Church Leaders Assembly geïdentifiseer (Cilliers 2007:3). In 2004 het 'n vorige aartsbiskop van die Anglikaanse Kerk, Aartsbiskop Njongonkulu Ndungane tydens die Opening van die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch die volgende opmerking gemaak: "While there have been many changes with regard to policy and practice, we still have a long and difficult journey ahead of us, especially in the fight against poverty. A poverty which robs our citizens of their right to live lives of dignity, peace and joy" (Ndungane 2004:197). Die belang van hierdie opmerking van Ndungane word verder beklemtoon deur nege sleuteluitdagings1 wat in 2011 deur die Nasionale Beplanningskommissie geïdentifiseer is. Volgens die kommissie sou armoede net uit die weg geruim kon word indien die nege uitdagings aangespreek sou word (Diagnostic Overview 2011:7).

Die omvang van die probleem word bevestig deur statistiek van Statistics SA. Dit toon duidelik aan hoe die armoedeprobleem in Suid-Afrika groei: Alhoewel armoede in die jare 2006 tot 2011 gedaal het, het dit daarna dramaties toegeneem. In 2015 het 55,5% van die bevolking van Suid-Afrika in armoede geleef (Statistiek 2018). Die afleiding sou gemaak kon word dat die toename in armoede 'n bewys is van die feit dat gemeentes van die Afrikaanse kerke nie genoegsaam op grondvlak in hulle gemeenskappe in die stryd teen armoede betrokke was nie.

Die afgelope 25 jaar vertel egter juis die verhaal oor hoe die verskillende kerke op verskillende maniere konstruktief by die stryd teen armoede in Suid-Afrika betrokke geraak het. Die doel van hierdie hoofstuk is allermins om 'n volledige beskrywing te gee van hoe gemeentes van die verskillende kerke by die stryd teen armoede betrokke was en steeds is. Daar is letterlik te veel om op te noem. Dit is ook nie bedoel om 'n teologiese analise te maak van hoe en waar gemeentes werk nie. Wat hierdie hoofstuk wel wil doen is om die groter teologiese bewegings in die onderskeie kerke te beskryf. Dit is hierdie bewegings wat die groeibodem gebied het waaruit gemeentes op grondvlak in die stryd teen armoede betrokke kon raak. By die navors van hierdie verhaal het dit duidelik geword hoe belangrike paradigmaskuiwe rondom missionale diakonaat plaasgevind het. Dit het as stimuli gedien vir die groter teologiese bewegings.

 

2. Armoede gedefinieer

Voordat oor die Afrikaanse kerke se rol in die bekamping van armoede sedert 1994 gepraat kan word, is dit belangrik om armoede te definieer. Armoede kan in die mees algemene sin beskou word as 'n gebrek aan toegang tot die basiese materiële en nie-materiële behoeftes van die mens (Bradshaw, 2005:4). Dit beteken 'n gebrek aan die mens se mees universele behoeftes naamlik gebrek aan toegang tot kos, skuiling en water (materiële behoeftes), asook die behoefte aan toegang tot basiese mediese en opvoedkundige hulpbronne/dienste (nie-materiële behoeftes). Oud-president Thabo Mbeki het in 2004 die relevansie van hierdie beskouing van armoede in die Suid-Afrikaanse konteks beklemtoon. Hy het die klem geplaas op die feit dat endemiese en wyd-verspreide armoede steeds Suid-Afrika se toekoms beïnvloed en het spesifiek 'n verband tussen voortslepende armoede en die lae vlakke van menswaardigheid (maatskaplike geregtigheid) binne die Suid-Afrikaanse samelewing getrek.

Armoede het egter ook 'n maatskaplike komponent. 'n Gemeenskap wat onder armoede gebuk gaan is 'n weerspieëling van die maatskaplike interaksies en prosesse binne daardie gemeenskap. Die mate waartoe die regering, die sakesektor en die burgerlike gemeenskap (insluitend die kerk) toetree tot die stryd teen armoede beïnvloed dus die maatskaplike welsyn van die spesifieke gemeenskap (The Measurement of Poverty in South Africa Project: Key Issues 2007:4).

 

3. Armoede: 'n nuwe paradigma

Müller en Van Deventer beskryf die rol van die kerk in die stryd teen armoede in Armoede, armes en arm mense soos volg: "Soos wat dit die geval is met MIV-vigs, vrees ons dat die statistiese en saaklike hantering van armoede meer van 'n verlammende en nonchalante effek op bevoorregte mense kan hê, om nie eers te praat van die verdoemende en neerdrukkende effek op die arm mense self nie." Hulle skryf voorts:

Die plaaslike gemeente en gelowiges is geroep tot 'n radikale en pragmatiese lewenswyse van kruisdra, selfverloëning en toekomsdenke. Op grond van hierdie fundamentele eienskappe van die gereformeerde spiritualiteit en vanuit die suksesverhale en mislukkings van bedieninge aan arm swart en wit mense in townships, stede, dorpe en plattelandse gebiede het 'n mate van prakties-teologiese wysheid na vore getree ten opsigte van sowel mede-betrokkenheid as interaktiewe dienslewering in belang van arm mense. By hierdie ongemaklike ontmoetingspunt word die kerk in sy kerkwees tot in die wese van sy bestaan getoets (Müller en Van Deventer (2001:86).

Swart (2006:21) onderskryf Müller se standpunt wanneer hy skryf dat veral een uitdaging vir die kerk uitstaan: "Dit is die vraag hoe die kerk enersyds sou reageer op die voortslepende en groeiende vraagstuk van armoede en ekonomiese en maatskaplike ongeregtigheid, en andersyds op die verband wat gaandeweg gelê is tussen hierdie vraagstukke en sommige Europese moondhede se kolonisasiebeleid."

Van der Merwe (2014:203) dui aan hoe 'n nuwe paradigma wat teruggryp na die wyse waarop die vroeë kerk armoede hanteer, oor die afgelope jare ontwikkel het. Hy meen tereg dat die versorging van armes en die omgee vir mense in nood in die vroeë kerk deel van die daaglikse verloop van die gemeente was. Volgens Van der Merwe (2014:204) het Nordstokke (2011:26-47) deur middel van vyf temas boublokke gebied waarmee hierdie nuwe paradigma gebou kon word. Van der Merwe verwoord Nordstokke soos volg:

Eerstens: Die nuwe rol as agent geld hier. Die diakonaat het vroeër dikwels die rol aangeneem van 'n professionele persoon wat kliënte bedien. Hierteenoor, so meen Nordstokke (2011:46) is die diakonaat se nuwe rol dié van fasiliteerder, instaatsteller en aanmoediger wat die gemarginaliseerdes en verstotenes herinner aan hulle status as diensknegte in God se herskeppingsprojek.

Tweedens: Dit raak die gesag waarmee die diakonaat optree. Vroeër is die diakonaat beperk tot nederige en onderdanige dienswerk. Die nuwe siening oor die diakonaat se gesag behels dat dit as profeet die ongeregtigheid in die samelewing sal bestry en met gesag die menswaardigheid bevorder van diegene wat uitgesluit en gemarginaliseer is (Nordstokke 2011:47). Dit kan die diakonaat in die rol van agent of dienskneg doen, wetende dat God se vrymakende liefde in die menslike werklikheid, en dus binne die samelewing geïnkarneer word.

Derdens: Kennis moet geneem word dat 'n nuwe taal ontwikkel. Teenoor die funksionele taal van professionaliteit is daar 'n nuwe, inklusiewe taal aan die ontwikkel. Hierdie taal maak ruimte vir die siening van die gemarginaliseerde en onmagtige mense. Die diskoers hieroor word verryk met spirituele terme en uitdrukkings wat ruimte bied vir maatskaplike analise, teologiese besinning en persoonlike visie (Nordstokke 2011:47).

Vierdens: Hier begin 'n nuwe logika vorm kry. Vroeër het projekmatigheid en die gepaardgaande logika van beplanning, funksionaliteit, doelmatigheid en effektiwiteit oorheers. In die nuwe paradigma gaan dit oor die beoefening van 'n praksis wat bo teorie verkies word. In hierdie diakonale praksis word risiko's geneem en opsies uitgeoefen wat selfs sinloos kan voorkom - wat beklemtoon dat deelnemers voortdurend na die betekenis van die praksis moet vra (Nordstokke 2011:47).

Vyfdens: Nuwe metodes het ontstaan. Die nuwe paradigma verwag van die diakonaat om meganismes uit te wys wat insluiting van mense sal bevorder. So 'n fokus verwag dat daar voordurend na nuwe geleenthede gesoek en nuwe metodes ontwikkel sal word wat uitdrukking gee aan die nuwe rol, gesag, taal en logika van die diakonaat.

Volgens Van der Merwe kan 'n sesde boublok bygevoeg word: "Sesdens: In die lig van die bostaande betoog vir 'n sagter benadering, kan moontlik 'n sesde tema bygevoeg word: die bevordering van 'n groter menswaardigheid binne die samelewing" (Ries 2012:85).

Hierdie nuwe paradigma het die deur oopgemaak vir nuwe teologiese denke oor kerklike maatskaplike betrokkenheid. Van der Merwe meen dat die konsep missionale diakonaat op so 'n wyse binne die dampkring van missionale ekklesiologie ontwikkel het (Van der Merwe 2014:211). Dit beteken dat die stryd teen armoede nie maar liefdadigheidswerk is nie, maar verstaan word as deel van God se sending wat in wese in die Triniteit ontspring en daarom onlosmaaklike deel van die roeping van die kerk is.

Die verskillende Afrikaanse kerke het oor die afgelope 25 jaar op verskillende maniere aan hierdie verstaan van missionale diakonaat gestalte gegee. Op grondvlak word daar in bykans elke gemeente van die verskillende kerke moeite gedoen om armoede te bestry en armes te versorg. Die doel van hierdie hoofstuk is egter om 'n oorsig te gee oor die werk wat in meerdere verband gedoen word.

 

4. Die Afrikaanse kerke reageer op die uitdaging

4.1 Die Nederduitse Gereformeerde Kerk

Die eerste belangrike tree in die NGK se stryd teen armoede sedert 1994 is tydens die Algemene Sinode van 1998 geneem toe 'n ad hoc Kommissie vir Versoening, Armoede en Morele Herstel saamgestel is (NGK Handelinge 1998:429). Een van die belangrike opdragte van die kommissie was om "rigtinggewend aan armoede aandag te gee" (NGK Agenda 2002:26). 'n Werkboek met die titel Hoop in Nood, wat gratis aan gemeentes voorsien is, was een van die belangrike uitkomste van hierdie kommissie. Dit was ook 'n duidelike aanduiding van die denkrigting in die kerk, naamlik dat die stryd teen armoede op gemeentevlak in gemeentes moes plaasvind. Tydens die vergadering van die Algemene Sinode van 2002 is verdere belangrike besluite geneem wat die rol van die NGK verder verduidelik het. Die Sinode het dit duidelik gestel dat die NGK "diep onder die indruk van die ernstige omvang van armoede in Suid-Afrika was" (NGK Agenda 2002:497).

n Besorgdheid is ook uitgespreek oor die impak wat werkloosheid, regstellende aksie, korrupsie en die groter wordende skuldlas op die lidmate van die kerk gehad het. Sinodes, ringe en gemeentes van die kerk is versoek om erns te maak met die Here se opdrag om daadwerklik by die nood van armes betrokke te raak. Gemeentes was die primêre instrument waardeur die kerk op grondvlak by armoede betrokke geraak het. Die pad vorentoe is duidelik uitgestippel met die aanvaarding van 'n belangrike Roepingsverklaring vir die NGK. In die verklaring het die kerk haarself opnuut verbind tot die kontinent van Afrika, in besonder Suider-Afrika. Dit het spesifiek na die geweldige omvang van armoede en gevolglike hongersnood verwys. Die kerk se verbintenis tot die bestryding van armoede is opnuut beklemtoon met die woorde: "Ons wil ook 'n verskil maak. Daarom verbind ons ons om mee te werk aan oplossings vir ons samelewing" (NGK Agenda 2007:ii).

Ondanks die betrokkenheid van die kerk het die situasie egter verder versleg. Tydens die Algemene Sinode wat in 2004 in Hartenbos plaasgevind het, is daar ondermeer gerapporteer dat die armoedevraagstuk in Suider-Afrika "omvattend en diepgewortel" was. In die Verslag van Diensgetuienis is melding gemaak van die omvang van die probleem. Volgens die verslag het minstens 20 miljoen mense uit 'n totale bevolking van 44 miljoen mense onder die broodlyn geleef (NGK Agenda 2004:32). Dit het die feit bevestig dat armoede 'n reuse en groterwordende probleem was. Die vergadering het derhalwe besluit om "die Diensgroep Diensgetuienis te versoek om 'n strategie vir die bekamping en uitwissing van armoede in Suider-Afrika te ontwikkel"' (NGK Notule 2004:3). Hoe die strategie moes lyk, is duidelik uitgespel: Dit moes onder andere 'n definisie van armoede, die hantering van rykdom en ekumeniese samewerking insluit.

Die jaar 2007 was 'n belangrike keerpunt toe die kerk besluit het om nie "verder afsonderlike strategieë vir die hantering van verskillende maatskaplike probleme te ontwikkel nie, maar om dit eerder saam met die Familie van NG kerke2 te doen" (NGK Agenda 2007:376). Die Roepingsverklaring wat deur hierdie vergadering aanvaar is, gee 'n belangrike blik op die pad wat die NGK verder gestap het. In die verklaring is dit duidelik gestel dat die kerk in deernis met ander wou saamleef. Dit het beteken dat die kerk wou meewerk aan die genesing vir mens, dier en omgewing (NGK Agenda 2011:2). Hierdie verstaan van die kerk se roeping is ondersteun deur 'n teologie van diens wat voortgespruit het uit Christus se dienswerk op aarde.

Nadat die Algemene Sinode van 2011 sy kommer uitgespreek het oor die voortdurende hoë vlakke van armoede, werkloosheid en maatskaplike ongeregtigheid binne die Suider-Afrikaanse konteks, en kennis geneem het van talle projekte wat op die terrein van armoedebestryding en maatskaplike ontwikkeling aan die gang was, het die Sinode besluit dat volgehoue pogings om armoede te bestry 'n prioriteit op die kerk se agenda moes wees. In die lig van hierdie besluit het die Algemene Sinode Moderamen besluit om navorsing te onderneem ten einde die aard en omvang van die NG Kerk se betrokkenheid by die bestryding van armoede, werkloosheid en maatskaplike ongeregtigheid te dokumenteer (NGK Armoedeverslag 2013:7). Die Hugenote Kollege in Wellington is getaak om die navorsing te doen.

Die publikasie van hierdie verslag het meegebring dat die Algemene Sinode van 2013 'n belangrike keerpunt was in die NGK se nadenke oor armoede. Die omvattende verslag met die titel, "Die betrokkenheid van die NG Kerk by die stryd teen armoede, werkloosheid en maatskaplike ongeregtigheid", het voor die vergadering gedien (NGK Notule 2013:8). In die verslag is duidelik onderskeid gemaak tussen armoedeverligting en armoedevermindering. Eersgenoemde is gedefinieer as kort termyn intervensies in die lewens van mense wat onder armoede gebuk gaan. Laasgenoemde het verwys na 'n ontwikkelingsgerigte benadering wat poog om deur middel van programme wat vaardighede en bronne ontwikkel, 'n volhoubare uitkoms te verskaf aan persone wat onder armoede gebuk gaan (NGK Verslag 2013:25). Die verslag het verder getoon dat 98% van die gemeentes van die kerk betrokke is by die nood van lidmate en nie-lidmate. Dit het meestal ondersteuning van mense met finansiële nood, bejaardes, kinders en enkelouers behels. 69.4% van die gemeentes was betrokke by voedselvoorsiening aan behoeftige mense uit alle dele van die bevolking (NGK Agenda 2019:218). Hierdie verslag was bepalend vir hoe die NGK die uitdagings van armoede sou aanpak. Die sinode het na aanleiding van die verslag opnuut bevestig dat die volgehoue stryd teen armoede en ongeregtigheid 'n hoë prioriteit op die kerk se agenda sou wees. Riglyne in die verslag moes verder in strategieë ontwikkel word sodat gemeentes dit op grondvlak kon implementeer (NGK Agenda 2015:297). Na afloop van die sinode het die Moderamen besluit om 'n taakspan aan te wys om die saak van armoedevoorkoming verder te bevorder. Me Elize Bezuidenhout en dr Botha van Aarde is versoek om as sameroepers van die Taakspan vir Armoede en Maatskaplike Geregtigheid op te tree (NGK Agenda 2015:297). Die aanwysing van hierdie taakspan was deurslaggewend vir die NGK se stryd teen armoede in Suider-Afrika. Die opdrag van die taakspan het behels dat "gemeentes en ander strukture binne die NG Kerkverband sowel as die Familie van NG Kerke se missionaal-diakonale roeping oor armoede en maatskaplike geregtigheid" ondersteun, begelei en energeer moes word. Die fokus van die Taakgroep was daarom gerig op navorsing, strategieontwikkeling en toerusting (NGK Agenda 2015:298).

Die eerste verslag van die Taakspan vir Armoede en Maatskaplike Geregtigheid het in 2015 voor die Algemene Sinode van die NGK gedien. Hierdie verslag het dit duidelik gestel dat die mees koste-effektiewe wyse waarop die kerk armoedevoorkoming kon doen, was om by vroeë kinderontwikkeling betrokke te raak. Dit het beteken dat die kerk 'n daadwerklike rol moes speel om te sorg dat kinders die onderwyssisteem op 'n hoër skoolgereedheidsvlak betree (NGK Agenda 2015:298). Die Taakspan het besluit om met 'n vlagskipprogram te begin waarmee 'n beweging in die familiekerke geskep sou word wat die verbeelding van mense moes aangryp. Vroeë kinderontwikkeling moes 'n instrument word wat plaaslike gemeentes effektief kon help in die stryd teen armoede en sosiale ongeregtigheid.

Die benadering het twee belangrike fasette behels: Enersyds het dit gehandel oor versorgers wat vir babas, kleuters en jong kinders omgee en hulle vertroetel. Kinders wat op 'n jong ouderdom uiters kwesbaar is, moes beskerm word sodat hulle tot hulle volle potensiaal kon ontwikkel. Dit het behels dat hulle aan aktiwiteite blootgestel moes word wat hulle intellektuele, fisiese, emosionele, geestelike en morele vaardighede kon ontwikkel sodat hulle as volwassenes 'n positiewe rol in gesinne, die gemeenskap en die wêreld sou kon speel. Andersyds is vennootskappe met ouers gesluit en is hulle aangemoedig om deel te neem aan aktiwiteite met hulle kinders om sodoende gesinsbande te versterk en belangrike ondersteuningstelsels in gemeenskappe te vorm (NGK Agenda 2015:299).

Die ideale van die Taakspan het op 22 April 2015 'n werklikheid geword toe die Ukuba-beweging in die familie van NG Kerke geloods is. Die betekenis van die woord, Ukuba, het iets van die droom van hierdie beweging verwoord. Dit beteken om na jou volle potensiaal te groei (NGK Agenda 2015:300). In Augustus 2017 is die opdrag aan die taakspan verder verfyn deur 'n opdrag tot verdere studie, die ontwikkeling van materiaal wat kerkrade kon gebruik om lidmate te lei om deur verbeeldingryke projekte en netwerke 'n verskil te maak aan onderwys en Verdere KinderOntwikkeling (VKO). Bybel-Media is versoek om deel te neem aan hierdie projek (NGK Agenda 2019:219).

Hierdie projek het die verbeelding van lidmate in gemeentes aangegryp. Dit word bevestig deur 'n navorsingsverslag wat in Mei 2019 voor die taakspan gedien het. In hierdie verslag is aangetoon dat die inisiatief in gemeentes om by VKO betrokke te raak uit alle oorde maar meestal van individuele lidmate gekom het. 80% van die gemeentes van die kerk het VKO beskou as deel van die kerk se volgehoue stryd teen armoede en ongeregtigheid terwyl gemeentes se VKO projekte dikwels nie op die gemeentes se eie kinders afgestem was nie (NGK Agenda 2019:222).

Uit die verslag van die Taakspan Missionale Diakonaat wat voor die Algemene Sinode van 2019 gedien het, het dit duidelik geblyk dat Vroeë Kinderontwikkeling een van die belangrikste fokusareas in die kerk se voorkoming van armoede was (NGK Agenda 2019:223).

Die grooste uitdaging wat in die pad van hierdie beweging kom staan het, is die finansiële volhoubaarheid van projekte. In die lig van die groeiende tendens dat al meer gemeentes sukkel om te oorleef gaan die probleem nie oornag verdwyn nie. In 'n land waar die werkloosheidsyfer van 3% in 1994 tot 25% in 2014 gestyg het en waar huishoudings wat ten minste een staatstoelaag kry van 30,8% in 2003 na 44,3% in 2018 gestyg het, gaan beperkte fondse in gemeentes ook meer en meer onder druk kom (NGK Agenda 2019:221).

4.2 Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika

Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) het in 1994 tot stand gekom nadat die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk en die Nederduits Gereformeerde Kerk van Afrika verenig het. Armoede in Suid-Afrika was van die begin af deel van die fokus van die nuwe kerk. Die belang van die kerk se betrokkenheid by die stryd teen armoede was anders as by die ander Afrikaanse kerke uitdruklik deel van die kerk se belydenisgrondslag. Dit is onderskryf deur die Belydenis van Belhar wat op 26 Oktober 1986 deur die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk aanvaar is (Van der Merwe 2014:4) en wat opgeneem is in die belydenisgrondslag van die verenigde kerk.

In Artikel 4 van die belydenis word dit as volg duidelik gestel:

Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in 'n wêreld vol onreg en vyandskap op 'n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee (Belharbelydenis 2016).

Die Belydenis van Belhar het duidelik aangedui hoe die VGKSA tot die stryd teen armoede sou toetree. Dit was 'n integrale deel van die stryd om geregtigheid en versoening en kon nooit daarvan losgemaak word nie. Die stryd was nie teen armoede alleen nie. Die stryd teen armoede was deel van 'n groter stryd om geregtigheid en versoening in 'n post-apartheid Suid-Afrika.

Hoe hierdie wyse van denke die kerk beïnvloed het, blyk uit die Kerkorde van die kerk wat tydens die eerste Sinode in 1994 aanvaar is. In die riglyne wat deel was van die opdrag aan die Kerkorde-Kommissie is daar uitgespel dat aandag gegee moes word aan die kerk as "Instrument van versoening en geregtigheid". Die laaste riglyn het dit duidelik gestel: Die kerk moes "diensbaar wees aan armes en mense in nood in die volle betekenis daarvan" (Agenda VGK 1994:7).

Dit het op die volgende wyse in die eerste Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) neerslag gevind:

Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika sien dit as sy koninklike taak om die mens en die samelewing voor te gaan in die gehoorsame toepassing van die eise van Gods Woord wat betref die liefde tot die naaste, die beoefening van geregtigheid en die realisering van versoening en die najaag van ware vrede in die praktyk van sy eie lewe; as sy profetiese taak om hierdie eise van Gods Woord soos dit betrekking het op die samelewing as geheel en op die instellings afsonderlik, met name veral die staat, sonder aansiens des persoons, te verkondig; as sy priesterlike taak om vir die owerheid en die samelewing voorbidding te doen en om in te tree vir die noodlydendes, die armes, die verontregtes en die verdruktes binne hierdie samelewing, ook by wyse van georganiseerde dienswerk (VGKSA Agenda 1994:59).

In sy eie interpretasie van genoemde Artikel 12 van die Kerkorde is dit duidelik gestel dat dit die priesterlike taak van die kerk was om voorbidding te doen en om in te tree vir die noodlydendes, die armes, die verontregtes en die verdruktes binne hierdie samelewing, ook by wyse van georganiseerde dienswerk (VGK 1994:209).

In die afgelope 25 jaar van die kerk se geskiedenis het hierdie belangrike saak telkens aan die orde gekom. Tydens die Algemene Sinode van die VGKSA in 1997 in Bloemfontein is onder andere in 'n verslag voor die sinode verwys na die "muur wat die armes en die rykes skei". Hierdie muur moet afgebreek word (VGKSA 1997:585).

Tydens die vierde Algemene Sinode van die VGKSA in 2005 het die kerk 'n verdere belangrike tree in die stryd teen armoede gegee toe mnr Mbonambi Khuzayo3 'n voordrag oor die omvang van armoede in Suider-Afrika tydens die vergadering gelewer het (VGKSA Handelinge 2005:232). Hy het spesifiek melding gemaak van die feit dat die VGKSA op die voorpunt in die stryd teen armoede in Suider-Afrika was. Mbonambi het dit ondubbelsinnig gestel dat armoede "boos" was omdat dit armes die geleentheid tot 'n lewe in oorvloed ontneem het. Hy het verder verwys na opmerkings van Aartsbiskop Ndungane4 wat gesê het dat die armes sê: "We do not want hand-outs; we have brains; we have hands; give us the capacity to eke out our own existence" (Handelinge 2005:233). Volgens hom het dit die roete aangedui wat die VGKSA moes neem in sy stryd teen armoede. Dit moes oor meer gaan as "hand-outs" aan armes. Die uitdaging was om seker te maak dat beleidsverandering by die regering en maatskappye plaasvind sodat armes in staat gestel kon word om self hulle lewensomstandighede te verander. Armes moes nie hulle hoop plaas op die hulp van ryk Messiasse in die samelewing nie. Hy het verder verwys na die feit dat wêreldleiers tydens 'n beraad in 2000 die stryd teen armoede as een van die sogenaamde Millennium Ontwikkelingsdoelwitte gestel het. Die VGKSA kon 'n leidende rol speel om saam met ander kerke en gemeenskappe die slagspreuk, "Maak armoede geskiedenis", te ondersteun (Handelinge 2005:235).

Mbonambi het sy voordrag afgesluit met 'n uitdaging aan die kerk. Hy het gesê: "By hierdie Algemene Sinode daag ek die VGKSA uit om 0.7% van sy inkomste tot die 'Human Development fund van Southern Africa' by te dra" (VGKSA Handelinge 2005:235).

Die VGKSA het hierdie uitdaging aanvaar deur 'n voorstel goed te keur wat gemeentes uitgedaag het om 0,7% van hulle inkomste aan die Human Development Fund te skenk (Handelinge 2005:373). Hierdie besluit is verteenwoordigend van die verantwoordelikheid waarmee die VGKSA die stryd teen armoede gedurende die eerste 25 jaar van sy bestaan gepak het. Transformasie van die samelewing en die eis om reg en geregtigheid het soos wat in die Belhar Belydenis bely word, die raamwerk gevorm van die pad vorentoe.

Die erns van hierdie saak is in Resolusie 9 wat tydens die Algemene Sinode van 2016 aanvaar is, weer beklemtoon. Met die opskrif, "Access to free, decolonized and quality education", is opnuut verwys na die Belydenis van Belhar. Die vergadering het die volgende besluit: "Due to our prophetic calling we should respond to the demands of the Gospel. The Belhar Confession inspires us to act in accordance to the Word of God and adhere to the Biblical imperative to stand where God stand and to walk with God." Die sinode het voorts besluit om alle vorme van geweld te veroordeel wat die geweld van armoede teenoor die arm studente van Suid-Afrika ingesluit het (URCSA :2016). (Engels vir VGKSA).

Dit word verder bevestig deur die Strategiese Plan 2016-2024 wat die kerk vir die toekoms ontwikkel het. Die visie wat deel uitmaak van die plan stel dit ondubbelsinnig: "A committed and united church in service of unity, reconciliation and justice to all people through Christ" (URCSA 2016 Strategic Plan). Die Belydenis van Belhar is in hierdie belangrike dokument gebruik om inhoud aan die visie te gee. Waar geregtigheid ter sprake gekom het, is spesifiek melding gemaak van Artikel 4 van die belydenis wat dit duidelik stel dat God op 'n besondere wyse aan die kant van die noodlydendes en die armes is.

Een van die belangrike strategiese doelwitte van die plan is Rentmeesterskap. Gemeentes van die VGKSA word uitgedaag om seker te maak dat hulle goeie rentmeesters van die gawe wat hulle van God ontvang het, is. Dit beteken dat die samelewing getransformeer moet word deur reg en geregtigheid na te jaag. Die opheffing van armes en die verbetering van hulle lewensomstandighede is een van die hoofdoelwitte (URCSA 2016 Strategic Plan). 'n Oorsig oor die VGKSA se hantering van armoede die afgelope 25 jaar toon duidelik dat dit vir die kerk 'n belangrike belydenissaak was. Dit is gemotiveer en gelei deur die Belydenis van Belhar.

4.3 Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

Die armoedevraagstuk in Suider-Afrika het ook nie by die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika verbygegaan nie. Dit is die afgelope 25 jaar deur die kerk as 'n saak van erns hanteer - maar as 'n saak wat in die eerste plek by die plaaslike gemeentes tuishoort. Hulp aan noodlydendes is vir die Gereformeerde Kerke 'n saak wat deur diakens in die plaaslike gemeente hanteer word.

Dit word bevestig deur Artikel 25 van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika wat soos volg lui:

Die amp van die diakens is om sorg te dra dat die gemeente hulle eenheid in Christus in daadwerklike onderlinge liefde beoefen. Hulle opdrag is om almal in die gemeente te besoek en uit die Skrif toe te rus en aan te spoor tot daadwerklike liefde teenoor almal, in besonder teenoor die medegelowiges; verder sien hulle toe dat niemand om watter rede ook al van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie. Die liefdesgawes moet sorgvuldig ingesamel, met wysheid bestee en met vertroosting uit die Skrif uitgedeel word. Die diakens doen in die kerkraad verslag van hulle werksaamhede en, indien verlang, ook voor die gemeente soos wat die kerkraad dit geskik ag (GKSA Kerkorde Artikel 25).

By die lees van die artikel word dit duidelik dat die kwessie van armes en noodlydendes in die plaaslike gemeentes van die GKSA voor belangrike uitdagings te staan gekom het.

Hierdie standpunt is teologies bevestig deur 'n teoloog uit die GKSA self, J.H. van Wyk, wat tydens die 150-jarige herdenking van die kerk geskryf het dat die diakonale uitreiking van die kerk een van sy grootste uitdagings was (Van Wyk 2003:569). Volgens Van Wyk was die groot kloof tussen arm en ryk soos in talle ander lande in die wêreld een van die grootste uitdagings aan die kerk. Hy beskryf die uniekheid van die Suider-Afrikaanse konteks verder soos volg:

Hierby kom die kritiek van veral die swart kant dat die wit mense vir minstens vyf dekades vanweë onregverdige politieke en ekonomiese strukture onregmatig bevoordeel is en dat swart mense dus regmatig kan aanspraak maak op regstellende aksie (ook ten opsigte van grondbesit). Voeg hierby die vraagstukke van armoede, werkloosheid en vigs en dis gou duidelik dat die kerk in hierdie opsigte voor enorme uitdagings staan (Van Wyk 2003:659).

Van Wyk het benadruk dat die kerk van God dáár behoort te wees waar God is: by mense in nood.

Waar 'n mens ook al die Bybel oopslaan, Ou of Nuwe Testament, by die Ou-Testamentiese profete of by Jakobus, oral is die noodkreet duidelik hoorbaar: help die arme, die agtergeblewene, die kreperende, die misdeelde, die minderbevoorregte, die noodlydende, die behoeftige, die verontregte, die randfigure. In die oordeelsdag sal hierdie vraag - of ons die hulpelose gehelp het - 'n deurslaggewende rol speel (Matt 25:31 - 46) (Van Wyk 2003:568).

Uit die standpunt van Van Wyk word dit duidelik dat "die noodtoestand van armoede in die wêreld die kerk roep om 'n houding en mentaliteitsverandering ... Die kerk moes die nood raaksien, daardeur geraak word en vervolgens iets konkreets - en skouspelagtig - daaraan doen" (Van Wyk 2003:569). Hy vervolg dan: "Die kerk is God se priester in hierdie wêreld - hierdie land - van nood, 'n priester wat toetree, wat intree, wat offer, ja wat - soos Christus - homself offer" (Van Wyk 2003:570). Hy het 'n omvattende aksie van alle kerke in Suid-Afrika bepleit om in bewoënheid en liefde uit te reik na mense in nood. 'n Groot poging was nodig om die probleem van armoede in die land "planmatig, doelgerig, verbeeldingryk en konkreet te hanteer" en dit moes in samewerking met regeringsinstansies gedoen word. Die kerk moes God se diaken in Suid-Afrika wees (Van Wyk 2003:570).

Uit die Deputateverslae van die Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika blyk dit dat dit die GKSA die afgelope 25 jaar in Suid-Afrika daarna gestreef het om so 'n rol te vervul. Die kerk het sy primêre opdrag aan die noodlydendes soos volg geformuleer: Die primêre opdrag is om, in samewerking met plaaslike diakonieë, ook in ander Sinodes, daadwerklike en deurlopende hulp te verleen aan alle mense wat geen kos, klere en onderdak het nie. In die hulpverlening moet voorkeur gegee word aan aansoeke waar noodlydendes in staat gestel word om in groter mate selfversorgend te word.

Stel ondersoek in na noodsituasies en -toestande binne en buite die Republiek van Suid-Afrika.

Bekom gegewens oor die nood van geloofsgenote binne en buite die GKSA en ook van ander (Gal 6:10).

Maak en behou kontak met ander kerklike instansies, liggame en instellings wat gemoeid is met soortgelyke hulpverlening.

Gee aan die kerke inligting en advies oor tersaaklike hulpverlening.

Kry opdrag om alle behoeftes onder die aandag van kerke en diakonieë te bring en bydraes tot die Fonds vir Noodtoestande te vra.

Dra daartoe by, sover moontlik, dat die uitdeling van hulp volgens die eise van die amp van diaken sal geskied (GKSA Acta 2003:147, 2.2.2.1).

Hierdie besluit het in verskeie plaaslike gemeentes konkrete gestalte gekry deur hulpverlening aan noodlydendes maar het ook buite die landsgrense in ondermeer Zimbabwe, Haiti en Japan 'n werklikheid geword (GKSA Agenda 2012:110). Tydens die Algemene Sinode van 2015 is ondermeer vermeld dat hulp verleen is na veldbrande en droogte in Noordkaap, met droogte in Noordwes, en na 'n haelstorm by Kwaggafontein (GKSA Agenda 2015:120).

Aan die begin van 2014 is die nood van lidmate van die Sudan Reformed Churches deur middel van briewe wat in die kerkverband uitgestuur is, aan gemeentes bekend gemaak. Surplus fondse wat nie vir droogtehulp gebruik is nie sowel as 'n skenking van die Christ's Children Foundation van Amerika is met die tussenkoms van ds H.P.M. van Rhyn aan die kerk in Suid-Soedan beskikbaar gestel (Agenda 2015:121). Tydens die 2018 sinode is daar gerapporteer dat hulp verleen is aan die diakonie van die Gereformeerde Kerk Bellville, met brande in Harrismith-distrik, met droogte in Noordwes, met haelskade in KwaThema, met aardbewing in Nepal, met aardbewing in Orkney, met siekte in Sannieshof, met siekte in Pretoria en met brandskade in Eden-omgewing (GKSA Handelinge 2018:282).

Ten slotte moet ook verwys word na die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se betrokkenheid by onderwys. Die verbetering van die onderwysstelsel in die land is een van die belangrikste maniere waarop armoede bekamp kon word. Tydens die Algemene Sinode van 2018 is soos volg gerapporteer: "Bogenoemde is 'n kern belangrike taak van elke betrokke gemeenskap. Indien 'n skool tot niet gaan is dit uiteindelik maar die gemeenskaplike skuld van die betrokke gemeenskap" ( Algemene Sinode 2018:511). Daarom het die Sinode besluit om kerkrade op te roep om

lidmate aan te moedig om hulself verkiesbaar te stel en om aan die verkiesingsproses van beheerliggame by skole deel te neem.

Christenjongmense aan te moedig om hulself as Christen opvoeders te bekwaam. Hierin kan oa [sic] organisasies soos Aros en NWU van onskatbare waarde wees.

Christelike waardes en etiese gedrag in gemeenskappe te probeer bevorder deur eie inisiatiewe, sodat die onderrig hiervan in skole meer effektief kan wees.

skole, beheerliggame en onderwysers plaaslik te ondersteun deur vas te stel welke verdere hulp aan die skole binne hulle gemeentegrense verleen kan word (Algemene Sinode 2018:499).

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika was sonder twyfel belangrike rolspelers in die stryd teen armoede. Hulp is deur die Algemene Sinode aan plaaslike Kerkrade se diakonieë verleen om verskillende armoedekwessies aan te pak.

4.4 Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA)

Die stryd teen armoede het ook nie by die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika verbygegaan nie. Die uitdagings wat dit bied het daartoe gelei dat die kerk in 1998 'n betekenisvolle verandering aangebring het toe die eerste Algemene Diakensvergadering (ADV) in Mei 1998 byeengekom het (NHKA Notule 1998:27). Pont meen dat die eerste tree in hierdie nuwe rigting in 1997 gegee is met die opstel van 'n nuwe Kerkorde (NHKA Notule 1998:27). In die nuwe Kerkorde het die Diakensvergadering voorts die plek geword waar diakens op die ordelike uitvoering van hulle dienswerk kon fokus om so die kerk se skerp punt in die stryd teen armoede te vorm. Dit het opnuut bevestig dat die stryd teen armoede op plaaslike vlak in gemeentes gevoer moes word maar dat dit die Algemene Diakensvergadering se taak was om die werk wat op gemeentevlak gedoen word, te koördineer en om ringe en gemeentes in adviserende hoedanigheid by te staan (NHKA Notule 1998:28). Die Algemene Diakensvergadering moes verder saamwerk met reeds bestaande kerklike diensorgane soos kinderhuise, die Ondersteuningsraad, Ons Tuis en die Monumenthuise (NHKA Notule 1998:29). Pont skryf daaroor:

So word die totale betrokkenheid van ampsdraers en lidmate van ons Kerk by die barmhartigheidsdiens van die Kerk nou in een vergadering saamgebring wat onder leiding van die diakens staan. So word hierdie strukture wat aanvanklik min of meer buite die barmhartigheidsdiens gestaan het, wat die opdrag van die diakens is, weer ingeorden in die diakens se arbeidsveld (NHKA Notule 1998:29).

Die stryd teen armoede was een van die groot fokuspunte.

Hierdie beoordeling van Pont word bevestig deur 'n belangrike verslag wat in Mei 2007 tydens die vierde Algemene Diakensvergadering voor die vergadering gedien het. In die verslag met die titel, "Die Diaken en Armoede", is daar opnuut op rol van die diaken in die stryd teen armoede gefokus. Die verslag het ook lig gewerp op die praktiese dienswerk wat deur diakens in die NHKA gedoen is. 55% van die werk wat verrig is, het bestaan uit die voorsiening van kos en klere aan lidmate wat onmiddellike nood ervaar het. 'n Belangrike opmerking is ook gemaak dat diakens meer werkskeppend moes begin dink (NHKA Notule 2007:77).

Tydens die ADV in Mei 2010 was die kerk se stryd teen armoede weer deel van die gesprek. In 'n verslag wat voor die vergadering gedien het, is ondermeer beklemtoon dat armoede in verskillende vorms verskyn en dat dit so toegeneem het dat daar selfs van 'n "armoedekultuur" gepraat kon word (NHKA Notule 2010:40). In die aanbieding is verder oorsigtelik aangetoon hoe die amp van diaken ontstaan het en wat tradisioneel as die opdrag van die diaken gesien is. Moontlike verklarings is ook gebied waarom diakens onseker was oor wat presies hulle diens behels het. Hierdie onsekerheid het tot verlamming en 'n gebrek aan entoesiasme onder diakens gelei wat die kerk se stryd teen armoede gekniehalter het. Diakens se bediening moes 'n belangrike deel van die oplossing wees (NHKA Notule 2010:40).

Daar is voorts berig dat bestryding van armoede die kerk en met name diakens uitgedaag het om nuut te dink oor mense as "sosiale kapitaal". Gesien vanuit so 'n prakties-teologiese perspektief, behoort die kerk nie as 'n soort "monopolie" te funksioneer nie, maar eerder as vennoot van die staat en nie-winsgewende organisasies tot die stryd teen armoede toetree (NHKA Notule 2010:40).

Die omvang van die uitdaging wat armoede aan die kerke in Suid-Afrika en met name aan die NHKA gerig het, is in 2013 verder belig deur 'n verslag van die ADV se Armoede Werkgroep. In die verslag het die vergadering kennis geneem dat daar meer as 600 000 arm blankes in die land was. Dit was mense wat onder die broodlyn geleef het en wat geen werk of inkomste gehad het nie. Meer as 'n derde van die totale bevolking van Suid-Afrika het op daardie stadium onder die broodlyn geleef (NHKA Notule 2013:33).

In 'n historiese perspektief is aangedui dat Afrikaanssprekendes oor die loop van geslagte van tyd tot tyd om 'n verskeidenheid redes in armoede gedompel is. Die kerk het in die verlede 'n belangrike rol gespeel om mense te help om uit die moeras van armoede te kom (NHKA Notule 2013:34). Hierdie verslag het ook 'n duidelik beeld gebied oor hoe die kerk prakties oor die verligting van armoede gedink het. Dit het die volgende belangrike sake behels: Woordverkondiging, voedselvoorsiening, werkskepping, ontwikkeling, werksverskaffing en onderwys.

In 2016 het die Algemene Diakensvergadering opnuut beklemtoon dat barmhartigheid 'n wesenskenmerk van die NHKA is. 'n Verslag voor die vergadering het soos volg gelui: "Die NHKA het reeds met die Kerkorde van 1998 se instelling van die huidige diakonale strukture, dit duidelik gemaak dat barmhartigheid 'n wesenskenmerk van die NHKA is en moet wees." Die verslag het dit voorts duidelik gestel dat barmhartigheid nooit 'n opsionele ekstra mag wees nie. "Liefde en barmhartigheid mag dus nie geobjektiveer word tot iets wat die kerk moet gaan doen nie, maar hoort tot die subjek van kerkwees, 'n wesenskenmerk van wat kerk is" (NHKA Notule 2016:7). Hierdie standpunt vat die werk wat die NHKA die afgelope 25 jaar gedoen het gepas saam. Die stryd teen armoede was 'n integrale deel van die kerk se barmhartigheidsdiens wat aan die diakens van die kerk toevertrou is.

Dit is in die woorde van Pont gepas om die werk van die NHKA saam te vat deur die volgende formuliergebed wat uit 1544 dateer en wat in die Nederlandse vlugteling-gemeente in Londen by die bevestiging van diakens gebruik is:

"Here Jesus Christus

U kom na ons toe in die gestalte van ons armes en U het ons armes aan ons sorg opgedra. Daarvoor het U apostels die dienswerk van die diakens in U gemeente ingestel sodat daar 'n bepaalde versorging van die armes sal wees. Ons bid U in ootmoed dat U elke sweem van gierigheid uit ons harte sal wegneem.

Gee dan Here, aan hierdie diakens dieselfde Gees wat U in die vroeë gemeente aan Stefanus, die eerste martelaar, as diaken gegee het sodat hulle die armes in hierdie gemeente gelowig en getrou sal dien. Gee dat hulle in ware liefde, sonder enige aansien van die persoon of van hulle eie voorkeur hulle dienswerk sal verrig.

Laat dit so wees dat hulle dienswerk U heilige Naam sal heilig en die Naam van U Hemelse Vader sal eer.

Amen (NHKA Notule 1998:30).

 

5. Gevolgtrekking

Armoede in Suid-Afrika het die afgelope 25 jaar een van die grootste uitdagings aan die Afrikaanse kerke in Suid-Afrika geword. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die Neder-duitsch Hervormde Kerk van Afrika het elkeen op sy eie unieke manier gepoog om hierdie uitdaging aan te pak.

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk het na 2013 ernstig begin fokus op vroeë kinderontwikkeling as deel van sy bydrae tot die stryd teen armoede. Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika is na sy onstaan in 1994 gelei deur die Belydenis van Belhar om te werk vir reg en geregtigheid in die samelewing. Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se fokus het sterk op werk deur die plaaslike gemeente geval terwyl die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in 1998 'n belangrike stap geneem het met die instelling van die Algemene Diakensvergadering. So het elkeen sy deel gedoen om die spreekwoordelike reus van armoede te takel.

Die Covid-19 pandemie wat Suid-Afrika in Maart 2020 getref het, het die kloof tussen arm en ryk, tussen die wat het en die wat nie het nie, opnuut uitgewys. Dit het ook die belangrike vraag na die bekamping van armoede opnuut aan die orde gestel. In 'n verslag van UNICEF (2000:5) word dit duidelik gestel dat die eerste stap in die stryd teen armoede, basiese onderwys is. Die Afrikaanse kerke sal hierdie stelling ernstig moet neem in hulle missionale stryd teen armoede. Die kerke sal op grondvlak deur gemeentes by plaaslike skole betrokke moet raak. Die vroeë kinderontwikkelingsprogram van die NGK is daarom 'n belangrike koersaanduiding vir al die kerke in Suid-Afrika.

Mag die stryd teen armoede die kerke opnuut uitdaag om op verskillende wyses behalwe by baie ander uitdaginge, naas armoede ook by onderwys en opvoeding betrokke te wees.

 

Bibliografie

Bradshaw, T.K. 2005. Theories of Poverty and Anti-Poverty Programs in Community Development. Rural Poverty Research Centre Working Paper No. 06-05. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.rupri.org/Forms/WP06-05.pdf [2006].

Cilliers, J.H. 2007. Religious and cultural transformations and the challenges for the churches: A South African perspective. Practical Theology in South Africa 22(2):1-19.         [ Links ]

GKSA Kerkorde, GKSA KO Artikel 25. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.cjbf.co.za/kerkorde/kerkorde.html [9/9 2019].

GKSA. 2003. Acta van die Nasionale Sinode. Sl:sn.

GKSA. 2012. Agenda van die Algemene Sinode. Sl:sn.

GKSA. 2015. Agenda van die Algemene Sinode. Sl:sn. GKSA. 2018. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.har

Müller, J.C. en Van Deventer, W.J. 2001. Armoede, armes en arm mense: 'n Prakties-teologiese narratiewe perspektief. Acta Theologica 21(2):85-97.         [ Links ]

Ndungabe, N. 2004. Poverty and the church. NGTT Supplementum 45(2):197-200.         [ Links ]

NGK. 1994. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.

NGK. 1998. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.

NGK. 2002. Agenda van die Algemene Sinode. Sl:sn.

NGK. 2004. Agenda van die Algemene Sinode. Sl:s

NGK. 2004. Notule van die Algemene Sinode. Sl:sn.

NGK. 2007. Agenda van die Algemene Sinode. Sl:sn.

NGK. 2011. Agenda van die Algemene Sinode. Sl:sn.

NGK. 2013a. Die betrokkenheid van die NG Kerk by die stryd teen armoede, werkloosheid en maatskaplike ongeregtigheid. Wellington: Hugenote Kollege.         [ Links ]

NGK. 2013b. Notule van die Algemene Sinode. Sl:sn.

NGK. 2015. Agenda van die Algemene Sinode. Sl:sn.

NGK. 2019. Agenda van die Algemene Sinode. Sl:sn.

NHKA. 1998. Notule: Algemene Diakensvergadering. Sl:sn.

NHKA. 2010. Notule: Algemene Diakensvergadering. Sl:sn.

NHKA. 2013. Notule: Algemene Diakensvergadering. Sl:sn.

NHKA. 2016. Notule Algemene Diakensvergadering. Sl:sn.

Nordstokke, K. 2011. Liberating diaconia. Trondheim: Tapir Akademisk.         [ Links ]

National Planning Commission. 2011. National Development Plan. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.npconline.co.za/medialib/downloads/home/NPC%20National%20Development%20Plan%20Vision%202030%20-lo-res.pdf [2018].

Ries, J. 2012. 'Koinoniale en diakonale gestaltes van die missionale gemeente binne 'n konteks van multi-kulturaliteit'. DTh-proefskrif. Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Statistics South Africa. 2017. Poverty Trends in South Africa: An examination of absolute poverty between 2006 and 2015 Statistics South Africa. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.statssa.gov.za/?p=10334 [30 Maart 2018]. (The Measurement of Poverty in South Africa Project: Key Issues, 2007:i).

Swart, I. 2006. The churches and the development debate: Perspectives on a fourth generation approach. Stellenbosch: SUN PRESS.         [ Links ]

UNICEF: Poverty Reduction begins with Children. NEW York March 2000. [Accessed: 10 June 2020].

URCSA. 2016. Minutes of the General Synod. Sl:sn.

Van der Merwe, W.C. 2014 Met woord én daad in diens van God: Die diakonaat van die NG Kerk in post-apartheid Suid-Afrika. DTh-proefskrif. Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Van der Merwe, Johan M. 2014. From "Blood River" to "Belhar": a bridge too far? Studia Historiae. Ecclesiasticae. 40(1). Aanlyn weergawe ISSN 2412-4265. Gedrukte weergawe ISSN 1017-0499.

Van Wyk, J.H. 2003. 350 jaar gereformeerd: gestaltes en uitdagings - 'n blik vanuit die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA). In die Skriflig 37(3):557-573.         [ Links ]

VGKSA. 1994. Agenda Algemene Sinode. Sl:sn.

VGKSA. 1997. Agenda Algemene Sinode. Sl:sn.

VGKSA. 2005. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.

VGKSA. 2016. Belydenis van Belhar. [Intyds]. Beskikbaar: http://urcsa.net/wp-content/uploads/2016/02/belhar-belydenis-afrikaans.pdf

 

 

1 Die nege sleuteluitdagings: Daar is te min mense wat 'n beroep beklee; onderwysstandaarde is swak; infrastruktuur is swak en onvoldoende; ruimtelike patrone sluit arm mense uit; die ekonomie is oormatig en onvolhoubaar van bronne afhanklik; daar is 'n hoë voorkoms van siektes wat saamloop met 'n openbare gesondheidsisteem; openbare dienste is swak versprei en van swak gehalte; korrupsie kom wydverspreid voor; Suid-Afrika is 'n sosiaal steeds verdeelde landskap.
2 Die familie van NG Kerke bestaan uit die Ned Geref Kerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider- Afrika, die Reformed Church of Africa en die Ned Geref Kerk van Afrika.
3 Mbonambi was Justice Education koördineerder van die CRWRC.
4 Aartsbiskop Njongonkulu Ndungane was die aartsbiskop van Kimberley.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons