SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.6 issue3Church concept and church order: a comparative study between the four Afrikaans reformed churches in South AfricaAn Afrikaans woman minister of the Word: en route with being reformed author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.6 n.3 Stellenbosch  2020

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2020.v6n3.a9 

ARTICLES

 

Die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika en hul aanbiddingspraktyke (1990-2020)

 

The Afrikaans reformed Churches in South Africa and their worship

 

 

Hoffie (JW) Hofmeyr

Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika, linhof@mweb.co.za

 

 


Trefwoorde: Aanbidding; transformasie; liturgie; prediking; Sakramente; stildienste; kontekstualiteit


ABSTRACT

Worship as a major window on church life remains one of the most visible and obvious areas to discover and identify changes, movements and transformation quickly. Worship also reflects clearly on the way we experience the church. John van de Laar puts it aptly when he stated that "the way we worship, defines the way we live". The question being addressed in this article is whether there have been some clear changes in the style of worshipping in these South African reformed churches and if so, why. In a brief overview the focus is on, inter alia, the most important areas of the worship of the church, that is, liturgy and the church service, preaching, church music and hymns, sacraments, small groups, and contemplative services. Many challenges remain; the important reality also remains that changes ought to be according to the basic principles of Scripture and the confessional tradition, always with a realisation of our contextuality in Africa and the needs of the 21st century.


 

 

1. Inleidend

Dat die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika in 'n besonder vloeibare fase van hul geskiedenis is, kan waarskynlik nie betwyfel word nie. Op alle terreine van kerkwees, ook in hierdie kerke, is daar sprake van voortdurende nuwe vrae, verandering en onsekerheid.

Die histories-teologiese vraag wat in hierdie artikel hanteer word, is of aanbiddingspraktyke in genoemde kerke besig is om te verander, en indien wel, waarom. Vervolgens ook die vraag oor die uitdagings vir gereformeerde aanbidding op pad na die res van die 21e eeu.

Hierdie hoofstuk sal daarom

eerstens 'n paar basiese opmerkinge maak oor die identiteit en spiritualiteit van hierdie kerke,

tweedens wil dit 'n histories-teologiese blik op en beoordeling gee van die historiese ontwikkeling van bepaalde aanbiddingsaspekte gedurende die afgelope dekades in die verskillende reformatoriese kerke in Suid-Afrika.

derdens wil dit met 'n aantal opmerkings tot 'n beter selfverstaan kom en kortliks fokus op uitdagings vir hierdie kerke.

Een van die beste maniere om tot die verstaan van verskuiwinge in die aanbiddingspraktyke te kom, is die peiling van die rol van ekklesiologiese denke in die betrokke tydsgewrig. Ekklesiologiese denke behels die nadenke oor die aard, roeping, geskiedenis en praktyk van die kerk, of anders uitgedruk, om oor die vrae na te dink wie ons is, wie behoort ons te wees en wat is ons roeping in 'n steeds veranderende konteks.

Voortvloeiend hieruit is die belangrike vraag oor wat die wese van die kerk behoort te wees wat 'n getroue, deernisvolle en relevante getuienis oor die evangelie in 'n postmoderne konteks lewer terwyl sommige ander basiese Christelike uitgangspunte prysgee. Indien daar dus aksentverskuiwinge in die ekklesiologiese denke van hierdie kerke tussen 1990 en 2020 plaasgevind het, volg dit logies dat daar ook aksentverskuiwinge in die aanbiddingspraktyke sou ingetree het. 'n Beter verduideliking van gebeure sou kon volg vanuit die "verbeterde" verstaan daarvan.

Die sake wat dus by wyse van kritiese refleksie in hierdie hoofstuk veral tematies aangespreek word, handel oor die uiterlike of meer sigbare kant van kerkwees, dit wil sê, die aanbiddingstyl binne die kerklike ruimte. Oor aanbidding kan baie gesê word, maar ek sluit hier aan by die perspektiewe van Pieter de Villiers soos hy dit in die Christelike Kernensiklopedie (2008:2) saaklik en verantwoord saamgevat het, en dit is in 'n sekere mate n weerspieëling van die denke vroeg in die eerste dekade van die 21ste eeu in die gereformeerde kerke in Suid-Afrika.

Aanbidding in 'n enger sin beteken in wese om in oorgawe aan God as Skepper, Verlosser, Trooster en ook Regter eerbied te betoon. In die Ou Testament word dit beklemtoon dat Israel as volk bestaan om God te dien en te eer. In die Nuwe Testament word Christus geopenbaar as die Seun van God met goddelike volmag en in wie en deur wie God handel. Na die opstanding word Jesus as teken van God se magshandeling aanbid. Volgens De Villiers (2008:2) word aanbidding ("innerlike houding van verwondering en van aanvaarding van die wil van God") onder andere ook deur 'n fisieke houding ("ontsag, afhanklikheid en selfs van intimiteit") tydens gebed uitgedruk. Die aanbidder is in verwondering ook tot in die fisieke betrokke by die verhouding met God wat die menslike en die geskapene transendeer.

Verder beteken aanbidding ook deelname aan al die fasette van die erediens. Reeds in die Nuwe-Testamentiese tye het aanbidding in 'n byeenkoms plaasgevind. Dit sluit Skriflesing en ook Skrifuitleg as kern van die erediens in, asook liedere, geloofsbelydenisse, doksologieë, profesieë en uiteindelik ook die doop en die nagmaal as deel van die openbare aanbiddingsgeleentheid. Aangrypend samevattend oor aanbidding is ook in ons eie tyd die opmerking in 2010 van John van de Laar wat sê: "The way we worship defines the way we live" (2010:20). In byna dieselfde asem en op die ontmoetingspunt van geloof, lewe, aanbidding en die wêreld sê hy ook tereg: "... the world in which we live significantly shapes, and reshapes, what we believe, and why we believe it" (2010:20).

Aanbidding in die breër sin, en daarmee uiteindelik samehangend ook bedieningstyle, is waarskynlik van die terreine waar van die mees sigbare veranderinge in die afgelope drie dekades ingetree het. Hierdie terreine weerspieël in baie opsigte die buite-aansig en dus ook die voorkant van die gereformeerde kerke wat hier ter sprake is.

In hierdie artikel gaan dit oor die feit dat die protestantse kerke juis daar leef waar die Woord verkondig en aanbidding gebeur. Die sake wat dus by wyse van kritiese refleksie en dekonstruksie in hierdie hoofstuk veral tematies aangespreek word, handel oor die uiterlike of meer sigbare kant van kerkwees, dit wil sê die aanbiddingstyl en -praktyk (ook binne die kerklike ruimte). Dit omvat kategorieë soos erediens en liturgie, prediking, kerkmusiek en die kerklied, Sakramente, kleingroepe, stildienste en ander uitdrukkingswyses van aanbidding.

As daar dus vergelykenderwys meer veranderinge met die oorgang na die 21ste eeu as voorheen ingetree het, is dit belangrik om te probeer verstaan en kortliks te probeer interpreteer waarom dit alles plaasgevind het en watter invloede met betrekking tot die tydsgees 'n rol gespeel het. 'n Eerste opmerking in hierdie verband is dat postmodernisme en groeiende individualisme 'n groot aandeel in hierdie veranderinge gehad het. Tweedens het ook teologiese faktore 'n besliste bydrae gelewer, soos byvoorbeeld, die waarskynlike vervlakking van gereformeerde teologie as gevolg van groter sekularisme en relativisme, en daarnaas die groei van 'n tipe charismatiese teologie binne die reformatoriese kerke. Derdens het ook suiwer sosio-politieke faktore te midde van wêreldwye paradigmaverskuiwinge hierdie veranderinge aangehelp en dit alles kon ook gelei het tot 'n verlies aan geloofsekuriteit en 'n identiteitskrisis.

Hoewel die ideaal met hierdie oorsig sou wees om dieper te gaan delf in nog meer primêre bronne om tendense met betrekking tot aanbiddingspatrone in die verskillende gereformeerde kerke in Suid-Afrika te gaan naspoor, is dit binne die bestek van hierdie studie nie moontlik nie omdat aanbidding nie eenduidig is nie maar uit soveel subkategorieë bestaan. Daarom sal ons volstaan met 'n kort beskouende oorsig oor sommige van die belangrikste denke wat op hierdie onderwerpe fokus.

Voordat ons meer spesifiek op die aanbiddingspraktyke van die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika fokus, wil ons eers baie kortliks op enkele basiese aspekte van die huidige identiteits- en spiritualiteitsvorming van hierdie kerke let.

Die genoemde kerke worstel tans ernstig oor hul gereformeerde identiteit in 'n veranderde en veranderende werklikheid in Suid-Afrika maar dit is ook 'n wêreldwye verskynsel. Dit bring selfs onsekerheid oor hierdie kerke se wese, asook oor hul taak en rol. Die belangrike vraag waaroor die kerke sigself dus moet vergewis, is wie en wat hulle eintlik is. 'n Gesonde identiteit in die kerk omvat naas die waardering vir die Skrif, sakramente en kerklike dissipline hoofsaaklik eenheid, heiligheid, algemeenheid en apostolisiteit, wat deur leitourgia, kerugma, koinonia en diakonia gekanaliseer word. In die soeke na identiteit behoort telkens weer teruggegryp te word na die boustene van die Reformasie soos byvoorbeeld die vyf "solas" om die kernsake in die leer en lewe van die kerk opnuut te interpreteer.

Spiritualiteit op sy beurt handel oor die verstaan van die teenwoordigheid van God in die mens, of anders uitgedruk, dit verteenwoordig 'n wyse waarop godsdiens funksioneer. Dikwels beleef mense in die gereformeerde tradisies spiritualiteit en geloof op 'n wyse waarin belewing of ervaring nie baie klem kry nie (Hofmeyr 2002:6-12). 'n Meer intieme spiritualiteit is in ons tyd die mees algemene term om juis dit te beskryf wat ons vroeër met die terme geloofslewe of persoonlike geloof of praxis pietatis omskrywe het. Stephan de Beer stel in die Christelike Kernensiklopedie dat 'n gereformeerde spiritualiteit byvoorbeeld die hele Christelike lewe omvat, dit wil sê, gebede, dade en simbole, die markplein en die binnekamer. Dit sluit 'n verbintenis in tot God en tot mense (2008:1037-1038). In die laaste aantal dekades word daar baie geëksperimenteer met spiritualiteit. By die Verenigende Gereformeerde Kerke in Suider-Afrika (VGKSA) speel die invloed van die Belhar-belydenis in hierdie verband 'n groot en moontlik navolgenswaardige rol te midde van die aversie teenoor belydenisse wat al meer sigbaar word in sommige van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Martin Laubscher formuleer dit in verband met aanbidding, spiritualiteit en liturgiese aktiwiteite en op voetspoor van Russel Botman ten tye van die 25-jarige vieringe van die VGKSA (1994-2019) soos volg: "Confessions, and the Belhar Confession in particular, provide the church ... with a potent liturgical resource, words to witness to the Word, to pray to God, throughout the liturgical order and life" (2019:6). Verder word sterk aksente ook geplaas op eenheid, geregtigheid en versoening. Wanneer die VGKSA oor 'n sogenaamde geïntegreerde bedieningsmodel en aspekte van sy spiritualiteit besin, is daar veral drie hoofareas waarin dit funksioneer, naamlik (i) Verkondiging en aanbidding, (ii) Gemeentebedieninge, asook (iii) Diens en getuienis. Dit word soos volg gedefinieer:

Die geestelike en fisiese diens vir mekaar en vir alle behoeftige en noodlydende mense; die getuienisbediening wat die gemeente se verantwoordelikheid organiseer om van die evangelie te getuig in die gemeenskap waar die kerk leef en werk asook in die groter wêreld; die toerusting van die gemeentes en gemeentelede vir die onderskeie bedieninge van diens en getuienis wat die kerk lewer, na gelang van spesifieke omstandighede (VGKSA 2014, Agenda van Kaapland Sinode:437).

Intussen het ook die bewussyn rondom die mistieke en die kontemplatiewe spiritualiteit met sy aandag aan die gebruik van simbole duidelik gegroei in van die ander gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Dit hang waarskynlik saam met die tydsgees, die vervloeiing van denominasionele grense en die groter openheid teenoor byvoorbeeld wêreldwye Anglikaanse en ortodokse tradisies met hul openheid ten opsigte van die liturgiese, kontemplatiewe en die ikoniese. Met betrekking tot ikone en bepaalde gebedsaktiwiteite het daar in sommige gereformeerde kringe 'n groter belangstelling daarin begin ontwikkel en daar groei intussen ook 'n behoefte om geloof nog veel meer sintuiglik te beleef.

 

2. Liturgie en erediens

Aanbidding in die breë sin van die woord dui op eredienste waar baie mense teenwoordig is, maar aldus Coenie Burger ook op enige samekoms waar twee of meer gemeentelede byeen is (Burger 1999:196) Dit is gegrond op die Groot Opdrag, omdat daar in hierdie kontekste geestelik opgebou word, maar ook uitgereik word. Verskillende aspekte kom na vore ten tye van aanbidding of eredienste soos, onder andere, die liturgie, die teenwoordigheid van God tydens die erediens, die rol van die predikant daarin, asook die saak van predikantsopleiding met die oog op hierdie aspekte van kerkwees.

Wêreldwyd, soos ook in die eredienspraktyk van die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika, staan die bediening van die Woord (Woorddiens) sentraal en daaruit voortvloeiend die bediening van die sakramente (doopdiens en tafeldiens) en ook die pastorale bediening van die kerk.

Liturgiese praktyke in die meeste van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika het in die laaste 30 jaar redelik omvattend verander. Waar daar teen die laat 1980's en begin van die 1990's nog baie vasgehou was aan 'n styl wat eintlik vir baie lang tye redelik konstant gebly het, het dit vanaf dié tyd redelik ingrypend verander, en wel in so 'n mate dat dit in sommige van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) gemeentes in die rigting van 'n liturgiese oerwoud ontwikkel het. Op die verskillende moontlike redes daarvoor is daar reeds vroeër in hierdie oorsig maar ook elders in hierdie publikasie gewys. Myns insiens is die grootste redes daarvoor, naas (post) sekularisasie, egter die paradigmaverskuiwinge wat in kerk en samelewing as gevolg van die postmodernisme, die koms van die nuwe Suid-Afrika in die 1990's, maar ook die toenemende tendense van charismatisering in die Suid-Afrikaanse kerke plaas gevind het.

Piet Strauss stel by geleentheid dat byvoorbeeld die NGK ten tye van sy Algemene Sinode van 2007 liturgiese riglyne goedgekeur het wat deur gemeentes in hul eie konteks aangewend kan word. "Van uniforme kerke is daar nie meer sprake nie." In dit alles "speel die menswaardigheid van alle mense, en daarom ook kinders, 'n rol" (Strauss 2014:101).

Dit is tans nie maklik om die taamlik uiteenlopende liturgiese kenmerke van die verskillende gereformeerde kerke in Suid-Afrika enkelvoudig te omskryf nie. Dit geld veral die NGK. Die afgelope tyd word gekenmerk deur baie eksperimentering asook heelwat beïnvloeding vanuit verskillende ander kerklike tradisies. In 2010 het dan ook 'n nuwe Handleiding vir die Erediens in die NGK verskyn. Hierdie nuwe handleiding wat die groot liturgiese ontwikkelinge in die NGK weerspieël, het ten doel om wel die egte gereformeerde karaktertrekke van die erediens te probeer behou maar ook om op 'n verantwoordelike manier vir die eerste keer 'n ekumeniese verskeidenheid te weerspieël. Sedert die veranderinge in die vroeg 1990's begin intree het, het baie kreatiwiteit, vryheid en produktiwiteit na vore getree (sien verskillende onderdele in Wepener en Van der Merwe (2009) ). Daar word wel gestel dat daar ook by tye beslis ruimte geskep moet word vir die meer volledige liturgie, naamlik die voorhou van (of 'n samevatting van) die Wet, die genadeverkondiging en die geloofsbelydenis wat almal belangrike elemente is.

Wanneer dit gaan oor die verskillende ander kerke se besluite, sienings en ook hul handleidings vir liturgie, is daar onderling heelwat sake wat eenvormig bekyk word. Dit raak grootliks die aspekte van gebed, prediking en sakramente. Met betrekking tot die aanvaarding van die verskillende kerke se kerk- of liturgieboeke kan gestel word dat meeste van hulle reeds geruime tyd en selfs ook lank voor 1990 oor die nodige handleidings daarvoor beskik het en dat dit gereeld hersien word.

Terwyl die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se sieninge oor die algemeen intussen redelik stabiel gebly het (GKSA Notule, Nasionale Sinode 1997:722 ev) was die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) op sy beurt ernstig op soek daarna om liturgies gebalanseerd te funksioneer, maar ook 'n oog te hê vir die kontemporêre konteks asook die kerklike jaar. Ten tye van die Algemene Kerkvergadering (AKV) van 2016 spel hierdie kerk dit duidelik uit in sy beraadslaginge toe moontlike onderwerpe vir groepsgesprekke oor die tema van viering (dit wil sê, aanbidding) in die vergadering aan die orde gestel is. Hierdie gespreksonderwerpe het die volgende aspekte ingesluit:

"liturgiese handelinge speel 'n belangrike rol in die vestiging en oordrag van 'n mens se geloofsbelewenisse;

deelname aan liturgiese handelinge gee aan 'n mens die geestelike krag (hoop) in tye wanneer die lewe nie sin maak nie" (NHKA 2016:123).

In 2005 het die Algemene Sinode van die VGKSA reeds vroeg in sy bestaan opdrag gegee dat 'n konsep liturgieboek wat riglyne vir die eredienste maar ook vir gebruik in al die gemeentes van die VGKSA opgestel moet word (VGKSA 2005:367) (Besluiteregister nr 80). By dieselfde sinodesitting is opdrag gegee dat 'n kerkboek (worship book) opgestel moet word wat die kerkliedere, koortjies, liturgiese formuliere, die Belhar-belydenis en ander relevante dokumente moet bevat (VGKSA 2005:368). Interessant is dit dat hierdie besluit verder uitgebrei is sodat "... the other languages [of the church] are also used equally" (VGKSA 2005:367) (Besluiteregister nr 80) en verder ook dat die riglyn moet geld vir alle kernbedienings "to make our African heritage part of their programs and processes during recess" (VGKSA 2005: 376). Die VGKSA het ten tye van die sesde Algemene Sinode van 2012 te Okahandja hul konsep goedgekeur.

'n Besonder interessante aspek rondom liturgie wat deel is van die VGKSA is hul verbintenis aan die Belhar-belydenis. Ten tye van 'n konferensie in Bloemfontein in 2019 met hul 25-jarige vieringe was daar baie aandag aan die totale bestaan en wese van hierdie kerk gegee. In 'n referaat gelewer deur Martin Laubscher stel hy hierdie besondere verbintenis tussen Belhar en 'n saak soos die liturgie soos volg:

Let us ... explore, live and love Belhar throughout the life of liturgy and the liturgy of life. Hearing, exploring and confessing the words of Belhar throughout the liturgy in worship - serving the Word not only in preaching and in the sacraments, but also in the way in which we gather and are commissioned in the end - will surely help reframe and deepen our liturgical lives even further (2019:17).

Hy stel ook 'n belangrike uitdaging: "I would like to suggest that we start to live as we pray with Belhar as a potent liturgical resource ..." (Laubscher 2019:4).

Met betrekking tot 'n belangrike kwessie soos gasvryheid teenoor die vreemdeling, ook binne die liturgie en erediens, het die Verenigde Diensgroep vir Diens en Getuienis (VDDG) (bestaande uit die NGK, VGKSA, NGKA en RCA) in Bylae 4 aan die Algemene Sinode van 2008 in Hammanskraal in sy verslag dit ten slotte so uitgespel:

Ons wil die gemeentes van die NG Kerkfamilie aanmoedig om mekaar se hande in die proses te neem en om saam betrokke te raak. So kan een van die grootste verleenthede in die onlangse geskiedenis in 'n ewe groot geleentheid omskep word om die liefde en sorg van die Here in 'n stukkende wêreld . sigbaar en ervaarbaar te maak (VGKSA 2008:365).

Wat intussen ook rondom die liturgiese nadenke onthou moet word, is dat oral waar mense saamleef en werk daar elemente van rituele ter sprake is wat verskillende vorme aanneem. Rituele is deel van die kerklike liturgie, van aanbidding en die praktyk in eredienste, tydens die viering van die sakramente, ten tye van feeste rondom die kerklike jaar en ook by begrafnisdienste.

Blokkasies tydens eredienste ontstaan wanneer daar sprake is van byvoorbeeld 'n lewensvreemde liturgie wat uit voeling is met die bestaande tydsgewrig. Baie faktore speel in hierdie proses 'n rol soos oordrewe stigtelikheid, of 'n gebrek aan stylvolheid, inspirasie, spontaneïteit, emosie en ook vriendelikheid. Dit kan ook gebeur dat die erediens so onrustig verloop dat dit nie tot heil van die lidmate stem nie, en ook nie tot eer van die Here nie. Dis verder belangrik om te weet dat aanbidding die teenwoordigheid van die Gees veronderstel maar beslis ook impliseer. Die werking van Gods Gees is egter nie outomaties nie, aangesien die Woord alleen 'n uitwerking kan hê wanneer God deur sy Gees wil werk.

Verwysend na die algemene praktyk van die Afrikaanse kerke in Suid-Afrika, het Braam Hanekom by 'n "Praat saam"-gesprek by die KKNK in 2018 dit so gestel:

Vir sommige mense is die kerk te liberaal; vir sommige mense is die kerk te konserwatief. Vir sommige mense is die kerk te wit; vir sommige mense is die kerk nie wit genoeg nie. Vir sommige mense is die kerk nie na genoeg aan die ou tradisionele patroon nie en vir sommige mense kan dit nie genoeg modern en postmodernisties wees nie (Die Burger 2018).

Te midde van al die veranderinge wat nie alleen as gevolg van die oorgang na die nuwe Suid-Afrika nie maar ook as gevolg van 'n nuwe postmodernistiese en (post)sekularistiese tydsgees plaasgevind het, stel Strauss in Gereformeerdes onder die Suiderkruis (1652-2011) dat om al hierdie dinge "bloedloos" te beleef en te aanvaar, eintlik iets besonders was. Daar het naamlik te midde van 'n nuwe tydsgees 'n besliste denkverskuiwing onder Afrikaners en in die geledere van die gereformeerde kerke plaasgevind wat reeds vroeër in hierdie bundel in 'n ander artikel bespreek is (Strauss 2014:100).

Strauss vat vervolgens die huidige situasie in die gereformeerde kerke in Suid-Afrika besonder goed saam:

In die nuwe situasie waarin 'n eie identiteit en mening vryheid geniet, verskil gemeentes van dieselfde kerkverband in kerklike styl en liturgie. Hierdie verskille kom in al drie die gereformeerde kerke voor, maar is waarskynlik die grootste in die NGK. Dit lê by 'n eie, indiwiduele rigting van die erediens, die kerkraad en gemeente-aktiwiteite (Strauss 2014:101).

Verder stel hy ook dat die 1990's die jare word waarin die vrou tot die ampte en dus ook al meer in die erediens in die NGK en NHKA toegelaat sou word en haar geestelike gelykheid daarmee erken sou word. "By die GKSA luier hierdie saak nog. Dit het nog nie deurgewerk na alle ampte nie. Die algemene publieke reaksie op hierdie huiwering by die GKSA is sterk negatief" (Strauss 2014:101). Hierdie saak en dan veral ook die vrou se betrokkenheid in die erediens het egter deurentyd tydens die onderhawige periode van 1990-2020 op die tafel van die algemene sinodes van die GKSA beland. Dit is reeds sedert die sinodes van 1994 dat dit konstant die aandag van die Algemene Sinode ontvang het en veral dan onder besprekingspunte soos die vrou in die kerk, vroue in ampte en die vrou in besondere ampte.

Die NHKA se Kommissie (Dagbestuur) van die Algemene Kerkvergadering op sy beurt bevestig dit byvoorbeeld weer in 2002: Die visie van die kerk is die droom om die geloof in Jesus Christus as die hoop vir die wêreld na te streef. Die missie word vervolgens so geformuleer: Die NHKA wil as gemeenskap van gelowiges hul geloof in Jesus Christus in woord en lied vier, mense dien en van die verlossing in Christus getuig. Dit alles wil hulle nastreef deur die gehoorsame uitlewing van die Woord, deurleefde en eietydse prediking, entoesiastiese uitdra van die evangelie, visionêre begeleiding op alle terreine, en fokus op die uniekheid van Christus en sy kerk. In hierdie proses sal deurgaans die volgende waardes gehandhaaf word, naamlik nederigheid in ons lewe voor God, nugterheid in ons omgang met die Woord en menslikheid in ons verhoudings met mekaar.

Dat daar redelik duidelike aksentverskuiwinge met betrekking tot die liturgie en erediens in die vier kerke hier onder bespreking ingetree het, is duidelik, en die vraag na die rede daarvoor bly 'n kritiese een.

 

3. Prediking

Die prediking in die gereformeerde kerke in Suid-Afrika staan sterk onder die soeklig. Goeie en verantwoorde prediking en Bybeluitleg bly steeds een van die sentrale momente in reformatoriese kerkwees. Daarsonder sit die kerk in 'n besliste ernstige krisis en gaan hy hoe langer hoe meer die wrange vrugte daarvan pluk.

Baie dinge word in ons tyd oor die prediking gesê, soos byvoorbeeld dat dit soms oppervlakkig is, soms onverstaanbaar, dat dit soms min in verband staan met die Skrif of behoorlike Skrifuitleg toegepas word, dat die narratiewe of die vertel van stories soms die oorhand gekry het, dat die prediking by tye selfs swak voorberei word, soms ook elemente van plagiaat, veral deur die aanwending van die internet, bevat en die onoordeelkundige gebruik van tegnologie.

Met betrekking tot prediking gaan een van die belangrikste skeidslyne waarskynlik wees hoe Skrifgebruik- en Skrifinterpretasie in die volgende dekades gaan ontwikkel en hoe veral die drie hoofstrominge (die vrysinnige, die fundamentalistiese en Skrifgebonde groepe) in hierdie verband hul visie op Skrifprediking, al dan nie, gaan uitleef. Die moontlikheid bestaan dat veral vrysinnige prediking juis as gevolg van oppervlakkighede en die relativering van Christelike waardes al minder bevrediging aan lidmate sal bied.

Wat betref die rol van die predikant en sy of haar opleiding, is dit belangrik om te weet dat die prediker net ook 'n onvolmaakte mens is en dat die gevaar bestaan dat God se doel en plan ook op 'n gebroke wyse verrig en gekommunikeer kan word. Hoogdrawende taal en swaar voordragte bewerkstellig afstand en versterk intellektualisme en wettisisme. Verder kom ook die kommunikasievermoë van die prediker met betrekking tot sy of haar persoon, persoonlikheid en styl van prediking sterk onder die soeklig.

In huidige oorgangstye is ware relevansie, geestelike entoesiasme, deernis en inspirerende aanbidding van die allergrootste belang. Die eise wat aan 'n pastor gestel word, is besonder hoog en dikwels vertoon predikante twyfel in hulle vermoëns. Dit kom veral na vore wanneer die predikant as 'n produk van 'n teologie met 'n swak filosofiese onderbou, bloot deur kennis gevorm is - terwyl die nodige geesvervuldheid en ywer nie ontwikkel is nie.

Daar word byvoorbeeld in die Algemene Sinode van die NGK van 1998 verwys na kwessies soos prediking en die bediening van die sakramente. 'n Studiestuk oor prediking in 'n "oorgangsituasie" word deur daardie sinode as 'n riglyn aanvaar. Die hooftendens aan die einde van die 20ste eeu was duidelik, naamlik dat die NGK steeds as 'n gereformeerde kerk wil funksioneer wat verankerd probeer verander in die nuwe tye wat wag (NGK 1998:58).

Dit kan nie betwyfel word nie dat daar binne NGK-kringe heelwat verskillende teologiese en denominasionele faktore en invloede in die afgelope aantal dekades 'n rol gespeel het ook in die prediking. Enersyds het die charismatiese rigting en -spiritualiteit sterk ingang gevind. Dit beteken dat die prediking in eredienste ingerig word om lidmate 'n direkte godsdienstige belewenis en geleentheid vir persoonlike beslissing te bied. Sommige beweer dat die charismatiese beweging deur die gees van postmodernisme bevoordeel word. Ander meen weer dat mense minder wil leer, verstaan en dink, en meer wil voel en beleef. Daar is byvoorbeeld deur 'n vroeëre NGK moderator, Coenie Burger, gesê dat die vraag na sukses, effektiwiteit en relevansie sterker geword het as die vraag na getrouheid en outentiekheid (Burger 1999: 113, 116, 150). Uiteindelik vra die evangelie die praktiese maar soms ook pynlike navolging van Christus. Die kerk is nie daar vir sigself nie maar selfs ook nie slegs vir Christene nie. Die kerk is daar vir stukkende, honger, verontregte, werklose en daklose mense. God laat uiteindelik sy son skyn en ook sy reën val oor alle mense. Sommige mense in dieselfde huis verkies om op 'n vernuwende wyse te aanbid, en andere weer meer op 'n klassieke manier: daar is immers verskillende kamers vir verskillende mense. Die belangrike is slegs dat mense in bepaalde groeperinge hulself net nie as beter as andere sal beskou nie, en dat hulle nie sal voorgee dat hulle meer van die waarheid beet het as andere nie. Die lewende evangelie met sy klem op gesonde en gebalanseerde verhoudinge na Bo en na mekaar moet steeds die sentrale kern bly.

Theuns Dreyer uit Hervormde kring dui enkele belangrike aksente aan met betrekking tot die beoefening van geloof binne die erediens. Vir hom staan die Woordverkondiging steeds sentraal. Verder plaas Hervormers 'n hoë premie op die gewydheid en ordelikheid van die erediensgebeure. Prediking moet nie in oppervlakkige stories ontaard nie, maar moet vertroostende, hoopgewende en selfondersoekende Bybeluitleg wees. Lidmate wil oor die algemeen hê dat die NHKA meer diakonaal en missionaal betrokke moet wees in die gemeenskap. Intussen is daar ook 'n diepe kommer dat die kerk sy jeug kan verloor. Verder is die behoefte aan meer sang, gespreksgeleenthede, getuienislewering en groter warmte ook opvallend (Dreyer 2003:1059).

Ook in die VGKSA staan prediking en die kerugmatiese taak en rol van die kerk sentraal. Dit is nie net deel van die bestaande tradisie van hierdie jong kerk wat in 1994 gevorm is nie maar ook deel van die ryk tradisie van die onderskeie samestellende dele wat in 1994 verenig het. Uit die volgende aanhaling wat uit die formulering van 'n visie vir die VGKSA in 2005 kom, spreek hierdie omvattende houding wat ook op die prediking van toepassing gemaak kan word, duidelik: "The congregation lives as the family of God (koinonia), bound to one another, mutually sharing joy and sorrow, each considering the other higher than him or herself, accepting responsibility for one another's spiritual and physical needs, in mutual care for one another" (VGKSA 2005:368, 414).

Die VGKSA maak intussen, naas die feit om relevant te wees, ook vanweë sy samestelling, heelwat erns daarmee om deeglik in Afrika gekontekstualiseer te wees. Dit geld uiteraard ook sy prediking. Hierdie uitgangspunt blyk duidelik uit 'n riglyn van sy Algemene Sinode van 2005 om die kerk te rig in die reses tot by volgende sinodes: "All core ministries [are] to make our African heritage part of their programs and processes during recess" (VGKSA 2005: 368).

In die GKSA word dit duidelik gestel dat prediking aan al die eise van die homiletiese wetenskap moet voldoen. Prediking is egter ook baie duidelik Skrifprediking. In 'n fokus op kreatiewe prediking dui Ben de Klerk en Innes Nagel die volgende ten opsigte van die GKSA aan: "Die teologiese onderbou van prediking, vanuit 'n reformatoriese gesigspunt, is van wesentlike belang. Hierin is die werk van die Heilige Gees deurslaggewend. Die hermeneutiese, kommunikatiewe, taalhandelingsteoretiese, dialogiese aspekte en die konkretisering van die inhoud van die prediking is egter ook belangrik" (De Klerk en Nagel 2004:141). In hul slotsom sê De Klerk en Nagel dat verantwoorde en ook kreatiewe prediking byvoorbeeld ontwikkel tot "vindingryke aanbiedings van die diepe misterie van God se openbaring in Jesus Christus [en dit] kan deur die Heilige Gees gebruik word om die kerk op te skerp" (De Klerk en Nagel 2004:143).

Ook oor kategismusprediking is die GKSA steeds baie duidelik. Dit is prediking, en dus nie katkisasie of 'n dogmatieklesing nie. Dit behoort verder ook in die 21ste eeu verkondiging te wees. Terwyl dit uit verklaring en toepassing bestaan, moet dit die gemeente toerus tot vermeerdering van kennis van die waarheid en tot die bestryding van die dwaling vanuit die GKSA se perspektief as belydeniskerk.

In 'n ander verband wanneer hy besig is om te besin oor die eise waaraan 'n kandidaat vir bediening in die GKSA moet voldoen, kom Johannes Smit tot die volgende slotsom in verband met die omvattende taak, onder andere ook van die erediens-inrigting, van die predikant: "'n Bedienaar van die Woord word tot 'n unieke ... orde vir die vervulling van sy roeping toegelaat. Die eksegeties-dogmatiese voorveronderstellings van die diens, die wese en uitvoering daarvan is onmiskenbaar [duidelik]" (Smit 2018:7).

In 'n besonder interessante navorsingsartikel van Guillaume H Smit kom hy tot 'n aantal interessante en baie relevante insigte vir ons postmoderne wêreld. Dit is 'n weerspieëling van die teologiese denke oor aanbidding en die erediens vroeg in die 21e eeu en geld waarskynlik ook vir meer van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika as net vir die NGK.

Hy onderskei drie verskillende modelle om die bedieningsverskeidenheid in 'n gemeente (NGK Brackenfell-Wes) aan te dui (Smit 2010:5):

Eerstens is daar die tradisionele erediens wat voorsiening maak vir die godsdienstige verwysingsraamwerk van die ouer en meer tradisioneel gereformeerde gelowiges in die gemeente.

Tweedens is daar die gesinsdiens wat rekening hou met die godsdienstige verwysingsraamwerk van 'n jonger generasie Christene.

Derdens is daar dienste vir die opkomende generasie. In hierdie model word nuwe kommunikasietegnieke vrylik op die proef gestel. Omdat die fokusgroep spesifiek adolessente en jong volwassenes is, bied hierdie tipe dienste 'n groter geleentheid vir doelbewuste geloofsvorming. Hoofsaaklik word musiekinstrumente soos kitaar en drom by die sang betrek en gemeentelede word aangemoedig om uiting te gee aan 'n oorhoofse fokus op God. Die prediking is op sy beurt interaktief en die predikant moet sigself oopstel om met gemeentelede in gesprek te tree. Verder maak hierdie dienste baie gebruik van multimedia-videogrepe wat as boodskapdraers aangewend word. Deelname van lidmate word uitgebou deur betrokkenheid by die beplanning van die eredienste, deelname aan moontlike toneelstukke wat ook in die diens aangewend word, of by die samestelling van videogrepe. Die ontstellende is egter dat baie van hierdie jongmense dikwels die kerk verlaat maar gelukkig nie die Christelike geloof nie.

Smit kom verder tot die slotsom dat die saak van eredienste as 'n wegspringblok vir 'n missionale aanbiddings- en ook bedieningsproses, nog baie verdere nadenke en navorsing in die toekoms sal vereis. Hy konkludeer dan: "In missionale gemeentes is die erediens 'n onlosmaaklike kernbediening om gemeentelede tot koninkryksdiens en 'n intiemer geloofsverhouding met Christus oor te haal" (Smit 2010:5).

In die voortgaande kerkvernuwing wat 'n wesenlike deel van die reformatoriese kerke is, sal daar egter voortdurend vars en nuut gedink moet word oor die prediking en die woorddiens; dit moet deur Skriftuurlike norme en beginsels en as Skrifuitleg gedryf word. Ten tye van die NGK se Algemene Sinode van 2013 is verslag deur 'n werkgroep gedoen oor die toekomstige uitdagings vir predikante om beter predikers te wees. Hul werksaamhede het uitgeloop op die publisering van 'n preekboek in 2010 getitel: Teen my sin en beterwete. Hierdie boek is geskryf deur 18 predikers om ander predikers by te staan. Werkswinkels sou die publikasie van die boek opvolg en dit sou dan jaarliks gemonitor word (NGK 2013: 76).

Een van die allerbelangrikste uitdagings vir die gereformeerde kerke in Suid-Afrika in die algemeen, maar veral wat betref prediking, is om 'n ingrypende herfokus op die kwessie van die Skrif, sy gesag en sy interpretasie te realiseer. Nog onlangs het Johan van der Merwe van die Universiteit van Pretoria aangedui dat Skrifgesag die olifant in die kamer van byvoorbeeld die NG Kerk is en dat indien die kerk sy respek vir die Skrif verloor, die kerk effektief dood is. Hy wys daarop dat die Algemene Sinode van 2004 duidelik gestel het dat die NGK bely dat die Bybel die Woord van God is en dat dit daarom gesag het, betroubaar, duidelik en voldoende is. Hy sê dan ook die volgende: "Dit sou nie beteken dat lidmate hul denkvermoë moes opoffer, dat die Bybel beskou kon word as 'n eksakte handboek of dat die hele Bybel so maklik is om te verstaan dat enige mens alles onmiddellik en selfstandig kon begryp nie" (Kerkbode 2019:15). Die groot uitdaging bly dus steeds die aanwending van 'n hermeneutiek of vertolkingswyse met die oog ook op verantwoorde prediking in die tweede kwart van die 21ste eeu.

Dit is die groot en belangrike vraag waarop die Afrikaanse gereformeerde kerke voortdurend antwoorde sal moet gee, maar dis ook op hierdie uitdaging waarop die kerke sal moet reageer.

 

4. Sakramente

Wanneer ons oor die sakramente dink, moet ons besef dat daar 'n lang geskiedenis is waartydens daar baie oor die sakramente gedink en gesê is. Al die verskillende perspektiewe daarop asook herinterpretasie daarvan, het sake by tye verder gekompliseer. Die belangrike is egter dat die sakramente sedert die Bybelse tye sigbare simbole en tekens van God se genade-en verbondspad met sy kinders is en dat ons dit as sodanig moet waardeer en beoefen. Ten tye van die Algemene Sinode van die NGK in 2013 is byvoorbeeld opnuut ernstig nagedink oor die sakramente van die doop en die Nagmaal in die algemeen. Daar word dit baie duidelik gestel: "Die sakrament het nie 'n eie lewe los van die Woordgebeure nie, maar is deel van die Woordgebeure self. As betuiging, bevestiging, versekering van die heil is die sakrament tegelyk viering van die heil" (NGK 2013:95).

Met betrekking tot die benadering tot die sakramente, kan eerstens ten opsigte van die viering van die Nagmaal gestel word, dat daar in die afgelope aantal dekades bepaalde aanpassings in die gereformeerde kerke in Suid-Afrika gekom het. Dit verskil egter van kerk tot kerk. Dit wentel in die tyd veral rondom die ontwikkelinge met betrekking tot die kindernagmaal, asook die kwessie van die gebruik van die beker en die kelkies.

Die beginsel geld vir alle tye dat kerke nooit in isolasie van ontwikkelinge elders in die wêreld bekyk kan word nie. Reeds in 1988 het die internasionale Gereformeerde Ekumeniese Raad (GER) (voorheen Gereformeerde Ekumeniese Sinode [GES]) 'n verslag oor die saak van die kindernagmaal ter tafel geneem en dis in 1992 benadruk dat gereformeerde kerke ook erns moet maak met die geestelike behoeftes van kinders. Dit is inderdaad 'n werklikheid dat die doop en nagmaal die geloof van lidmate voed en uiteindelik het dit ook 'n Christelike getuienis tot gevolg. Ook die Christenjongmens behoort daarvan 'n getuie te wees.

Die hele kwessie van kinders of dooplidmate wat die Nagmaal gebruik voor hul belydenis van geloof aflê, was in die laat negentiger jare in die NG Kerk nie meer 'n totale nuwe saak nie. Soos blyk uit stukke van die Algemene Sinode van die NGK van 2013 waarna hierbo verwys is, is dit duidelik dat die NGK reeds in 1990 en 1994 die saak van die kindernagmaal begin bespreek het (NGK 2013: 96ff). Die toestemming tot die kindernagmaal in die NGK is in 1998 deur die Algemene Sinode gegee.

Die GKSA bevestig in 2015 dat hy steeds by sy standpunt staan dat die Nagmaal as sakrament 'n saak is van die plaaslike kerk, waar die kerkraad toesig hou oor die toegang daartoe. Dit laat ruimte vir gelowiges wat die gereformeerde godsdiens huldig en wat met goeie getuienis aanmeld (GKSA 2015:148). Hy beroep hom hierin ook op die besluite van die Algemene Sinode van 1997 (GKSA 1997:556) (Pt 3.2.2.2.3). Verder stel die GKSA dit ook duidelik in die volgende standpunt: Leerstellige eenheid is in gedrang wanneer die NGK se besluite oor kindernagmaal en 'n oop nagmaaltafel in gedagte gehou word, waardeur toesig deur die ouderlinge oor die tafel van die Here misken word. Oor kinders by die Nagmaal is die bekende besluit van die Algemene Sinode van 1997 (GKSA 1997:515) wat bevestig dat: "... gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo, aan die vereistes van 1 Kor 11 voldoen, en begeerte het om Nagmaal te gebruik tot die Nagmaal toegelaat mag word" (GKSA 2018).

In die NHKA word daar teen 1998 kommentaar oor die memoranda ten opsigte van kindernagmaal wat deur die AKV-Kommissie geïnisieer is, gevra. Algaande sou dit ook meer van 'n besprekingspunt geword het maar teen die AKV van 2016 word daar weer gevra vir verdere studie hieroor.

Veral in die 1990's was daar al meer vrae veral by die NHKA oor die voortgesette gebruik van die sogenaamde gemeenskaplike beker by die Nagmaal. Soos blyk uit die notule van die Algemene Kerkvergadering van 1993 word daar uit gemeentes vrae gevra oor die verdwyning van die gemeenskaplike beker by die Nagmaal: dit is vir 'n bepaalde gemeente se kerkraad hartseer "om te dink dat met die koms van die kelkies daar 'n stuk tradisie van die NHKA verlore gaan" (NHKA 1993:131-132). Aan die ander kant was daar ook in 1990 'n opmerking in 'n skrywe aan die AKV deur 'n dr P.W. Venter dat die gemeenskaplike beker eintlik 'n stuk fundamentalisme is wat inmiddels kanonieke waarde verkry het. Hy is egter deur die betrokke vergadering daarop gewys dat die gebruik van die beker met sy sosiaal-historiese wortels, nie beteken dat dit 'n stuk fundamentalisme is nie (NHKA 1990:92). Ook die praktiese kwessie van MIV en vigs het al meer 'n faktor in die besinning oor die beker en die kelkie geword. Die gebruik van kelkies het algaande 'n meer aanvaarde alternatief geword, hoewel daar vrae was of dit nie verdeeldheid binne die gemeente sou kon veroorsaak nie. Die saak van die kelkies het natuurlik 'n nuwe aktualiteit verkry rondom die realiteit van die COVID-19 virus.

By die NHKA is daar steeds 'n gesprek aan die gang oor die wyses waarop die Nagmaalviering kan plaasvind. Daar word byvoorbeeld ook al meer van die sogenaamde "loopnagmaal" gebruik gemaak, dit wil sê, dat mense in plaas van om te sit, al lopend by die nagmaaltafel die tekens van die brood en wyn gebruik. In 2016 word by die AKV spesifiek gestel dat die kerk verdere studie moet doen "met die oog op verryking en afwisseling van die huidige nagmaalpraktyk". Die huidige nagmaalpraktyk "word nie prysgegee nie, slegs uitgebrei" (NHKA 2016:127).

Die kwessie van die beker en die kelkies het ook in die negentiger jare telkens op die tafel van die Algemene Sinode van die GKSA beland, soos byvoorbeeld in 1992 en ook in 1997. Behalwe die prinsipiële nadenke oor hierdie twee aspekte, het die higiëniese oorwegings na aanleiding van, byvoorbeeld MIV en vigs, al meer die gesprek beïnvloed.

Ook oor die bediening van die doop het daar bepaalde aksentverskuiwings in die afgelope tyd ingetree en ek wys net op enkeles. Die Algemene Sinode van die NGK het byvoorbeeld in 2007 in Bylaag 11 van die Agenda die opdrag aan die sinode oor doop en alternatiewe vir doopviering herhaal, aangesien die saak telkens weer na vore kom. Lidmate wat 'n behoefte aan doopviering het, is waarskynlik persone wat op hul geloofsreis 'n spesiale belewenis van toewyding of verbintenis ervaar het en hul geloof op 'n tasbare wyse wil herbevestig. Die behoefte aan 'n nuwe doopviering is waarskynlik ook as gevolg van ander redes soos onder andere vandag se soeke na sekerhede in 'n komplekse wêreld, postmodernisme of die soeke na 'n geestelike ervaring. Die taakspan het met verskeie rolspelers oop, inklusiewe gesprekke gevoer en verskeie riglyne voorgestel vir die viering van 'n doop of doopherdenking.

Met betrekking tot die doop van kinders uit saamwoonverhoudings het die NHKA in 2016 besluit dat ongeag die tipe verhouding van die ouers, die doop wel bedien kan word, "solank daar 'n lidmaat is wat saam met die kerkraad en gemeente verantwoordelikheid aanvaar vir die geloofsopvoeding van die kind wat gedoop word". Intussen hou die kerk aan om "sodanige pare aan te moedig om te trou" (NHKA 2016:126).

Ongetwyfeld dus besliste aksentverskuiwinge met betrekking tot die benadering tot en beskouing oor die sakramente in die Afrikaanse gereformeerde kerke.

 

5. Kerkmusiek en kerklie d

Wêreldwyd bestaan daar 'n krisis met betrekking tot kerkmusiek en die kerklied. Die uitdaging is om verskillende en soms uiteenlopende smake te probeer akkommodeer. Bepaalde groeperinge in die kerk wil voorgee dat kerkmusiek net daar is om die self te streel. Ander weer voel dat daar nie ruimte vir meer moderne musiek en musikale instrumente geskep moet word nie. 'n Bepaalde klassieke styl soos vroeër, en ook 'n iets meer rustige en teksverantwoorde inhoud van kerkmusiek, tesame met kontemporêre elemente, is nie meer vanselfsprekend nie, ook nie in die gereformeerde kerke in Suid-Afrika nie. Intussen, veral onder die invloed van die charismatiese tradisie, het die praktyk van prys-en-aanbiddingsliedere eweneens al verder in bepaalde kerke en veral in die NGK posgevat.

Die Liedboek van die Kerk wat in 2001 die lig gesien het en bedoel was vir gebruik deur die reformatoriese of gereformeerde kerke, is waarskynlik een van die allerbeste versamelings van kerkliedere wat ooit in Suid-Afrika die lig gesien het. Aanvanklik is die totale liedboek slegs deur die NHKA, die NGK en die Afrikaanse Protestantse Kerk gebruik terwyl alleen die Psalms en Skrifberymings deur die GKSA gebruik is. Die GKSA is egter met behulp van duidelike riglyne besig om 'n redelike maar groeiende aantal liedere in die Liedboek vir gebruik in hul konteks aan te beveel.

Hierdie Liedboek wat van die klassiek-tradisionele tot by die moderne strek, het uit die bestaande liedereskat van baie en veral gereformeerde kerke oor die hele wêreld geput, soos dit oor baie eeue ontstaan het (Hofmeyr 2002:28). Wêreldwyd is ook na nuwe liedere gesoek en 'n groot verskeidenheid van ekumeniese liedere is opgeneem, soos byvoorbeeld die Taize-response, Skotse melodieë van die Iona-gemeenskap, Duitse korale en bekende Nederlandse gesange. 'n Hele aantal nuwe Afrikaanse skeppinge soos ook die bekende "Somerkersfees" van Koos du Plessis, asook 'n aantal Afrika-melodieë is opgeneem (Hofmeyr 2002:29).

Intussen het daar ook baie nuwe en vernuwende dimensies in die strewe na omvattende kerkmusiek en kerkliedere na vore getree, veral ook ten opsigte van die jeug. Die bekende aksies soos FLAM (Funky liedere vir 'n aan-die-brand musiekbediening) en VONKK (Voortgesette ontwikkeling van nuwe klassieke kerkmusiek) met die oog op nuwe kerkliedere wat onder leiding van Bybel-Media vir verskillende behoeftes geskep is, het taamlik sterk ten opsigte van jongmense na vore gekom.

Met betrekking tot die liedboek van die VGKSA is dit interessant om daarop te wys dat die Algemene Sinode van 2005 reeds besluit het om aan een gesamentlike liedboek wat verteenwoordigend is van die verskillende konstituerende kerke se liedereskat te begin werk, wat geskik sal wees vir die breër kerk (VGKSA 2005:366 [Besluiteregister nr 75]).

Ook die NHKA se AKV besin gereeld oor kerkmusiek en kerkliedere. 'n Goeie voorbeeld daarvan is die gesprek van die AKV van 2007. Daar is onder andere die volgende uitgangspunte aanvaar: Gemeentes gebruik elke geleentheid om tot lof van God te sing; gemeentes werk aktief daaraan om nuwe liedere aan te leer; dit word opnuut beklemtoon dat die Liedboek van die Kerk van 2001 die amptelike goedgekeurde liedereskat van die kerk bevat; die kriteria opgestel deur die Komitee vir Kerkmusiek en die Kerkliedkomitee as riglyne vir die beoordeling van kerkliedere, is aanvaarbaar (NHKA 2007:57-59).

In die loop van die geskiedenis van 1990-2020, is daar by baie geleenthede van die GKSA se Nasionale en Algemene Sinodes oor die kerklied en dus ook liturgiese musiek besin na aanleiding van aanbevelings van die Deputate vir Psalmberyming en Liturgiese Musiek. Ons hoef in hierdie verband maar net te verwys na voortdurende voorstelle vir nuwe Skrifberymings (1991), oor riglyne daarvoor (1994), asook nuwe Psalmberymings (1997). Verder aan in hierdie geskiedenis is dit ook goed om te verneem van die besinning van die Algemene Sinode van 2015 wat ook teruggryp na besinning in 2012 oor kerkliedere in die GKSA. Die Deputate Liturgiese Sake onder leiding van die Subgroep Afrikaanse Liedere het byvoorbeeld in 2016 die rapport bekend gestel dat 53 nuwe liedere (waarvan 41 uit die Liedboek van die Kerk), aan die omvattende beginselraamwerk getoets is. Daar bly dus 376 liedere oor (waarvan 366 uit die Liedboek van die Kerk) wat sedert Januarie 2009 voorgelê is wat nog nie aan die beginselraamwerk getoets is nie (GKSA 2015:342).

Die Algemene Sinode van 2015 het ook van die volgende kennis geneem: die oorspronklike opdrag van ook die Algemene Sinode van 2012 (Notule 2012: 407, Pt 2.4) het soos volg gelui: "Om Psalms, Skrifberymings en ander geestelike liedere wat deur kerke en lidmate aan die deputate voorgelê word sowel as die liedere wat reeds aan die deputate voorgelê is maar nie afgehandel kon word nie aan die hand van die omvattende beginselraamwerk te beoordeel." Na 'n deeglike proses waartydens honderde liedere gekeur is, beveel die deputate een nuwe Skrifberyming en 33 Skrifgetroue liedere vir gebruik in die eredienste van die GKSA aan (GKSA 2015:342).

Die belangrike uit 'n histories-teologiese perspektief is dat ons as kerke almal moet meewerk aan iets van 'n hemelse simfonie wanneer dit by kerkmusiek as deel van ons aanbidding kom. Want daar kan geen twyfel daaroor bestaan dat naas Woordverkondiging musiek 'n baie belangrike rol in die aanbiddingspraktyk van ook die gereformeerde kerke speel nie. In hierdie proses hoef ons egter nie almal presies dieselfde te dink of te klink nie.

Dat daar tog verskuiwinge met betrekking tot die kerklied in die vier kerke hier onder bespreking ingetree het, is duidelik, en die vraag na die motivering daarvoor bly steeds 'n kritiese een.

 

6. Enkele ander aanbiddingskwessies binne kerklike verband

Gedurende die laaste kwart van die 20ste eeu het kleingroepaanbidding al sterker in die gereformeerde kerke in Suid-Afrika na vore begin tree. Daar is baie variasies van hierdie spesifieke aanbiddingstyl maar sonder twyfel hou ook dit besliste voordele in. Die Bybel bied egter nie 'n bloudruk vir die strukturering van hierdie tipe aanbidding nie, en daar word dan ook heelwat diversiteit daarin gevind.

Intussen is daar ook sosiale beginsels wat die kleingroep in ons tyd eintlik 'n noodsaaklikheid maak. Die moderne mens is eerder op soek na spontane as georganiseerde verhoudinge; mense verkies ook vrye assosiasie; mense wil raakgesien word en nie maar net nommers wees nie; groepdinamika help dat mense hul krisisse beter verwerk; mense word in sulke kleiner groepe ook makliker gemotiveer en bemagtig om deel te neem, ook aan projekte; kleingroepe kan ook die volgende aktiwiteite beoefen: "... hulle bestudeer saam die Bybel en laat die Bybel hul lewe en die lewe van die gemeente uitdaag; hulle deel in die lig van die Woord, kwessies van hul lewe met mekaar .; hulle sorg vir mekaar en hou mekaar verantwoordelik vir hul doopbeloftes" (Malan 2013: 170).

Met betrekking tot die saak van huisgodsdiens is dit 'n verskynsel wat vroeër in die Afrikaanse kerke as kerndeel van die aanbidding van gelowiges beskou is. Dit is egter met verloop van tyd 'n saak wat by al die gereformeerde kerke al hoe meer in onbruik verval het. Dit leef egter nog in bepaalde verbande en 'n voorbeeld hiervan is die besinning daaroor by die AKV van die NHKA in 1998. Dit ressorteer in hierdie AKV onder die rubriek "Huwelik, Gesin en Opvoeding". Die NHKA beskou huisgodsdiens in die tyd steeds as deel van die verkondigingsgestalte van die kerk. In die beskrywingspunt word gestel dat "die gesin is 'n eenheid wat saamgebind word deur 'n gemeenskaplike geloof en liefde soos die gemeente die huisgesin van God is. Die gesin word soos 'n gemeente in die kleine" (NHKA 1998:358-359).

Hoewel ons nie hier op die saak van die kerk se bediening ingaan nie, moet onthou word dat aanbidding en bediening twee kante van dieselfde muntstuk is. Bediening in al sy verskillende vorme naamlik kerugma, diakonia, koinonia en leitourgia word deur die mens en sy denke, aldus Burger, binne 'n gebroke bestel daargestel (Burger 1999:113).

Die rol van die predikant asook verskillende aspekte van leierskap het intussen taamlik diepgrypend verander en ontwikkel. Vanaf 'n meer tradisionele visie op die predikant en sy ampswerk word die klem al meer gelê op die predikant wat met integriteit en geloofwaardigheid die bekleër van 'n vitale amp is. Dit wentel grootliks rondom die kerklike modelle wat in ons tyd aan die orde van die dag is. Hierdie verskuiwing het naamlik beweeg van die sogenaamde herder-kuddemodel na 'n liggaamsmodel.

 

7. Gevolgtrekkings en slot

Tot hiertoe dan hierdie histories-teologiese oorsig oor die aanbiddings-praktyke in die verskillende reformatoriese of gereformeerde kerke in Suid-Afrika tussen 1990 en 2020. Inderdaad het heelwat in Suid-Afrika verander in die afgelope drie dekades.

Alle gevestigde kerke wêreldwyd is in 'n besonder moeilike fase van hul geskiedenis en loop oral die risiko om sowel as gevolg van kleiner lidmaattalle as die invloed daarvan verder te kwyn. Een van die allerbelangrikste redes vir hierdie wegkwyning is omdat hierdie kerke soms bang geword het om Christelike waardes te handhaaf en nie daarin slaag om te midde van die postmoderne realiteite van diversiteit en veelkantigheid, 'n gesonde waardering vir die basiese te bly handhaaf nie. Die belangrike bly steeds dat evangelie-oordrag aan 'n toenemend post-Christelike kultuur en samelewing in die 21ste eeu voortdurend nuut en vars bedink moet word.

Met betrekking tot 'n antwoord op ons aanvanklike vraagstelling blyk dit dat die veranderde posisie en denke van die reformatoriese kerke oor aanbidding denkers binne die kerklike en die teologiese kontekste daartoe gedwing het om ernstig na te dink oor hul ekklesiologiese voorveronderstellings. Dit beteken in wese om antwoorde te vind oor hoe die kerk van Christus moet wees in hierdie veranderde konteks en daaruit voortvloeiend watter tipe kerk ons moet wees om 'n getroue en relevante getuienis oor die evangelie te lewer in die postmoderne konteks. Een van die belangrikste antwoorde op hierdie tipe vrae wat in hierdie artikel en elders in hierdie supplementum na vore gekom het, word beskryf as die sogenaamde missionale kerk. Of dit egter werklik die antwoord is op alle vrae, bly myns insiens wel 'n ope kwessie.

Dat daar egter wel ekklesiologiese aksentverskuiwinge in ons tyd plaasgevind het, is ook 'n werklikheid. Wim Dreyer dui in 'n studiestuk wat voorgelê is aan die 70ste Algemene Kerkvergadering van die NHKA en opgeneem is in die agenda van hierdie vergadering aan dat byvoorbeeld die NHKA in die rigting van 'n Trinitariese kerkbegrip begin beweeg, dit wil sê dat die kerk die volk van God is, die huisgesin van die Vader, die liggaam van Christus en die tempel van die Gees. Hy meen dat die kerk 'n onvermoë het om gestalte te gee aan die organiese verhouding tussen God en kerk (NHKA Agenda 2013: 26). 'n Verdere antwoord op die vraag oor hoe die kerk op die uitdaginge van ons tyd reageer, is dat die Afrikaanse gereformeerde kerke doodgewoon net antwoord op die eise van 'n (post) sekularistiese en postmoderne era en 'n paradigmaverskuiwing. Nie al hierdie eise is vanuit gebalanseerde teologie bloot net positief nie: sentraal behoort steeds die vraag te staan of hierdie kerke te midde van 'n openheid vir nuwere wetenskaplike insigte, nog getrou bly aan die Skrif-boodskap en die basiese respek vir sy belydenisskrifte, dit wil sê om steeds 'n getuigende asook belydenis- en belydende kerk te wees. 'n Ander antwoord is moontlik geleë daarin dat sommige groeperinge binne hierdie kerke hulself op die glybaan van vorme van relativisme bevind. Daaruit voortvloeiend moet die vraag beantwoord word of hierdie groeperinge invloedryk in hierdie kerke is al dan nie. Hoewel dit baie moeilik is om hierdie invloed te kwantifiseer, kry mens jammerlik genoeg die indruk dat hierdie groeperinge wel via kerklike vergaderings, via leierskapposisies, en in die kerklike en sekulêre media en op openbare platforms beslis al hoe meer hoorbaar is.

Dit blyk verder dat as gevolg van ook die kwyning van hierdie kerke diepgrypende verandering in hierdie kerke 'n groterwordende realiteit is. Om presies te weet waarheen die aanbiddingspraktyke van die reformatoriese kerke, saam met die charismate, vorentoe gaan ontwikkel is egter onmoontlik. Veranderinge en aanpassings behoort gelei te word deur basiese en verantwoorde Bybelgetroue en kontekstuele riglyne wat in 'n bepaalde nuwe tydvak bevredigend en in balans grondvat en werklikheid word. Intussen moet 'n mens wel ook ag slaan op die waarskuwing van Christina Landman: "Om te sekulariseer of nie te sekulariseer nie - dis die groot vraag waarvoor die kerk nou staan. Wat 'n skok was dit om uit te vind wat wêreldwye navorsing bewys het: Kerke wat roekeloos moderniseer, traumatiseer . en verloor meer lidmate as wat hulle lidmate wen. Terwyl die kerk al hoe raseriger word, luister hy al hoe minder na die stilgemaakte getraumatiseerdes" (Beeld 2018).

Soos elders in hierdie artikels aangedui met verwysing na Dreyer se boek, Praktiese kerkwees - Kerkwees in die 21ste eeu, is dit ook weens 'n onderwaardering van die kerk se wese dat die kerk in 'n krisis verkeer. Dus is dit vir die kerk moeilik om met integriteit kerk te wees; dit stagneer en verval dikwels in kerklike institusionalisme waar oortuigings en tradisies soms verabsoluteer word of kunsmatig aan die lewe gehou word. Dis op hierdie manier nie net 'n egte identiteitskrisis nie maar ook 'n prioriteitskrisis vir die gereformeerde en uiteindelik ook vir alle ander kerke in Suid-Afrika.

Verantwoorde vernuwing ten opsigte van gemeentewees kan egter insluit: ruimte vir nuwe bedieningsvorme, aanpasbare strukture, ontwikkeling van die leierskap, lidmate se gawebediening, erkenning van vroue se wesenlike rol, eredienste as ontmoetingsgeleenthede met God en onderlinge koinonia. Skrifgetroue prediking moet intussen ten spyte van verskillende leemtes verder uitgebou word en lidmate sal waarskynlik steeds redelike hoë bevrediging uit goeie kwaliteitsprediking put, veral as dit met die uitdagings van ons konteks in verband gebring word. Met betrekking tot liturgiese praktyke soos met kerkmusiek en die kerklied, sal daar heelwat daarmee geëksperimenteer kan word. Verder sal daar seker 'n neiging na 'n meer liturgiese kerktradisie of na Anglikanisering voortduur, hoewel die Skriftradisie nooit in die niet mag verdwyn nie. Ook oor kerken kultuurgrense word daar al hoe meer hande gevat en na groter eenheid gesoek rondom sake van aanbidding. Eredienste vind eerstens al hoe meer gesamentlik plaas terwyl gemeenskaplikhede in ag geneem word, tweedens ook in 'n minder rigoristiese en met 'n gemakliker aanbiddingstyl, terwyl kleingroepe derdens binne gemeentes ook al meer voorkom.

In die koninkryk waar God se heerskappy erken en uitgeleef word, waar God as Herder gevolg word, leef die kerk die einddoel van sy bestaan en roeping uit. Vir die gelowige maak dit ware lewe moontlik, 'n lewe waar die vernietigende invloed van sonde nie die laaste sê het nie, maar waar God deur sy Gees in beheer is en waar reg en geregtigheid, vrede en vreugde geld. Voortbouend hierop stel die Roepingsverklaring van die NGK se Algemene Sinode van 2007 dit weer eens duidelik: "As gestuurde gelowiges is ons sout van die aarde en lig vir die wêreld. Ons staan in diens van die koms van God se koninkryk" (NGK 2007:204).

Die gevleuelde maar ook rigtinggewende woorde van die kerkvader Cyprianus weerklink heel ten slotte soos volg: "Hy wat nie die Kerk as sy moeder het nie, kan nie langer God as sy Vader hê nie". Wanneer jy die naelstring of band met die Moeder (Christelike kerk) verbreek, sterf jy inderdaad. Hoewel hierdie woorde uit die middel van die derde eeu nie meer in ons tyd so nuut is nie, is dit tog steeds waar. Dit kan ons egter ook rigting help gee op die toekomspad van die vernuwing van aanbidding in die gereformeerde kerke in Suid-Afrika.

 

Bibliografie

Burger, C. 1999. Gemeente en bediening(4). Gemeentes in die kragveld van die Gees. Stellenbosch: Buvton.         [ Links ]

De Beer, S. 2008. Spiritualiteit. Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi.BM.         [ Links ]

De Klerk, B.J. en Nagel, C.J. 2004. 'n Beperkte empiriese ondersoek van kreatiewe prediking in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. In die Skriflig, 38(1).         [ Links ]

De Villiers, P.G.R. 2008. Aanbidding. Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi.BM.         [ Links ]

Dingemans, G.D.J. 1991. Als hoorder onder de hoorders: een hermeneutische homiletiek. Kampen: Kok.         [ Links ]

Dreyer, T.J.F.2003. Statistieke vertel 'n storie: 'n Visie vir die Hervormde Kerk op pad na 2010. Hervormde Teologiese Studies, 59(4)        [ Links ]

Dreyer, W. 2016. Praktiese kerkwees - Kerkwees in die 21e eeu. Kaapstad: Aosis.         [ Links ]

GKSA 1997. Notule van Nasionale Sinode.

GKSA 2015. Notule van Algemene Sinode.

GKSA 2018. Notule van Algemene Sinode.

Hanekom, B. 2018. Die Burger, 30 Maart 2018

Hofmeyr, J.W. 2002. Die NGK en kerkwees in ons tyd. Moeisamepad na vernuwing. Bloemfontein: Barnabas.         [ Links ]

Landman, C. 2018.Godsdiensrubriek. Beeld, 18 Julie 2018

Laubscher, M. 2019. Belhar, Liturgy and Life. Studia Historiae Ecclesiasticae 45(3).         [ Links ]

Long, T. 1989. The Witness of Preaching. Louisville: Westminster Press.         [ Links ]

Malan, E. 2013. Populêre spiritualiteitstendense: n gevallestudie van die NG Kerk Port Elizabeth-Hoogland. MTh-verhandeling Teologie, Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

NGK 1998. Notule van Algemene Sinode.

NGK 2007. Notule van Algemene Sinode.

NGK 2013. Agenda van Algemene Sinode.

NHKA 1990. Notule van Algemene Kerkvergadering.

NHKA 1993. Notule van Algemene Kerkvergadering.

NHKA 1998. Agenda van Algemene Kerkvergadering.

NHKA 2007. Notule van Algemene Kerkvergadering.

NHKA 2013. Agenda van Algemene Kerkvergadering

NHKA 2016. Notule van Algemene Kerkvergadering.

Smit, G.H. 2010. Aanbidding en prediking in missionale gemeentes: homileties-liturgiese beskouinge van missionêre gemeentebediening. Hervormde Teologiese Studies, 66(1).         [ Links ]

Smit, J. 2018. Toelating tot die bediening van die Woord met verwysing na die kerkorde van Dordrecht 1618 en 1619. Hervormde Teologiese Studies, 74(4).         [ Links ]

Strauss, P.J. 2014. Gereformeerdes onder die Suiderkruis. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Sweet, L. 1999. Soultsunami: sink or swim in new millenium culture. Grand Rapids: Zondervan.         [ Links ]

Van de Laar, J. 2010. The hour that changes everything: how worship forms us into the people God wants us to be. CreateSpace.

Van der Merwe, J. 2019. Terug na die Toekoms. Kerkbode, 13 Februarie 2019.

VGKSA(URCSA) 2005. Notule van Algemene Sinode (Minutes of General Synod).

VGKSA 2008. Agenda van Algemene Sinode.

VGKSA 2014. Agenda van Kaapland Sinode.

Wepener, C.J. en Van der Merwe, J.(red) 2009. Ontdekkings in die Erediens. Wellington: Lux Verbi BM.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License