SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.6 issue3Afrikaans reformed churches in the humdrum of the times: 1990 and beyondDiscourse on hermeneutics: A discussion with three reformational South African theologians author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.6 n.3 Stellenbosch  2020

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2020.v6n1.a02 

ARTICLES

 

Die NG Kerk -hermeneutiek en etiek(1986-2019)?

 

The Dutch Reformed Church - hermeneutics and ethics (1986-2019)?

 

 

Henco van der Westhuizen

Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. hvdw13@gmail.com

 

 


Trefwoorde: Nederduitse Gereformeerde Kerk; Bybel; hermeneutiek; etiek; homoseksualiteit; selfdegeslagverho udings


ABSTRACT

In this article I ask about the relation between hermeneutics and ethics in the Dutch Reformed Church (DRC) from 1986-2019. The article, more specifically, asks about the relation between hermeneutics and homosexuality. For the DRC, homosexuality has been the most critical ethical theme since 1986. The article's main concern is with the reports of the Algemene Sinode (General Synod) on the Bible, on the one hand, and homosexuality, on the other. The article, therefore, especially focusses on the two reports on homosexuality of the AS of 2007. It is within these two reports that one finds at least some of the definitive hermeneutical differences within the Dutch Reformed Church.


 

 

Inleiding

In 'n verklaring van die Algemene Sinode (AS) van 2019 word verduidelik dat verskille in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) ten opsigte van hermeneutiek tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike hermeneutiek daarom belangrik is.

Dit is egter nie die eerste keer dat daar in die NGK sprake van 'n vasgelooptheid is nie. Alreeds, byvoorbeeld, in Homoseksualiteit (2002), is gevra of die NGK in 'n doodloopstraat is. In 2002 was die mening dat dit tóé nog nie nodig was om handdoek in te gooi nie.

Hoe is dit dat die NGK in hierdie doodloopstraat en vasgelooptheid beland het?

In hierdie artikel word primêr gevra na die verhouding tussen die NGK, hermeneutiek en etiek, meer spesifiek, hermeneutiek en die debat oor homoseksualiteit. In 1986 tot en met 2011 het die besluite en verslae oor die gaydebat meestal te doen gehad met vraagstukke oor homoseksualiteit. Na 2011 verskuif die klem in die verslae en besluite na selfdegeslagverhoudings.1Wanneer in hierdie artikel gewys word op die debat oor homoseksualiteit word selfdegeslagverhoudings daarby ingesluit.

Daar is verskeie maniere om die vraag na dié verhouding te probeer beantwoord.2 Één manier is om na die AS se besluite en, meer spesifiek, die AS se verslae te kyk. Die NGK het sedert 1986 verskeie verslae en besluite oor dié temas die lig laat sien.

In dié lig word in die artikel gevra hoe die NGK sedert 1986 oor hermeneutiek, aan die een kant, en homoseksualiteit, aan die ander kant, gedink het en dink.3 Die artikel volg 'n kronologiese benadering om die ontwikkelinge en verwikkelinge rondom hermeneutiek en homoseksualiteit duidelik aan te toon. Dit sluit af met 'n paar voorlopige slotopmerkings oor die NGK, hermeneutiek en etiek.4

Alhoewel daar in die artikel na verskeie verslae verwys word, word daar veral klem gelê op die verslae wat by die AS van 2007 gedien het. Vir die argument is dié verslae belangrik omdat die taakspan wat toe oor homoseksualiteit moes dink in twee verdeel het, en dus twee hermeneutiese verstaanswyses op die tafel sit. In kort, bied 2007 se grondige verslae oor homoseksualiteit 'n interessante blik op die hermeneutiek in die NGK.5

 

1. 1986

In 1986, ook die jaar van die eerste Kerk en Samelewing,6dien Skrifgesag en Skrifgebruik voor die AS. 'n Ad hoc kommissie vanuit die drie teologiese fakulteite is versoek om elk 'n stuk oor die NGK se verstaan van die temas in die titel voor te berei. Pieter Potgieter is gevra om die drie stukke tot een stuk te verwerk.

Die verslag was geensins bedoel om 'n volledige behandeling van die temas te bied nie. Dit was eerder bedoel om die temas wat reeds in die kerk bespreek is verder te belig. Dus is die verslag bedoel as verklarende aanmerkings by enkele aspekte van die belydenisse van die NGK. Dit is as riglyn aanvaar.

Skrifgesag en Skrifgebruik figureer deurlopend in die debatte met betrekking tot die Bybel en hermeneutiek (1990, 2002, 2004, 2007, 2011), maar figureer ook wanneer dit by die debat oor homoseksualiteit kom. Die doel hier is nie om gedetailleerde verduidelikings van die verslae weer te gee nie. Eerder, word spesifiek aandag geskenk aan die hermeneutiek.7

In Skrifgesag en Skrifgebruik en die verslae wat volg word meermale daarna verwys dat die Bybel vir die NGK gesag het. Die Bybel het in sigself gesag.

Deurgaans is die vraag dus nie of die Bybel wel gesag het nie, maar eerder waarin die gesag van die Bybel lê.8

Die verslag lei die vraag daarin deur te wys op die NGK se verstaan na die verhouding tussen die Bybel en die Heilige Gees. Die Bybel, weens die inspirasie van die Géés, is die Woord van God.9 Die Bybel is gesaghebbend omdat dit deur die Gees die Woord van God is.

Van belang is dat die inspirasie van die Gees nie teenoor die mens staan nie. Dat die mens selfs interpreteer, word hier bevestig.

Die Bybelskrywers het klaarblyklik dikwels gebruik gemaak van gegewens wat hulle beskikbaar gehad het. Soms was dit persoonlike herinneringe, soms mededelinge van ander mense, soms oorleweringe wat in dié tyd bekend was, soms selfs skriftelike bronne wat hulle kon raadpleeg. Uit al hierdie gegewens het hulle geput, dit selfs geïnterpreteer en uiteindelik op hulle eie manier weergegee (55).

Belangrik vir die vraag na hermeneutiek in die NGK, ten minste in 1986, is dat dit wat op die ou end in die Bybel is, selfs al is dit deur mense interpreteer, deur die Gees die waarborg van die Woord van God dra.

Maar deur die hele proses was die Heilige Gees op 'n besondere wyse werksaam om die resultaat te waarborg. As auctor primarius het Hy sorg gedra daarvoor dat hulle met hulle skryfwerk presies weergegee het wat sy Goddelike bedoeling daarmee was (56).

Aan die een kant is dit asof alles wat oor die mens in die verband gesê is, genullifeer word deur die Gees wat in elk geval 'n resultaat waarborg. Aan die ander kant is die waarborg hier verbonde aan die Goddelike bedoeling.10Dáárom, omdat die Gees sorg gedra het dat die Goddelike bedoeling presies weergegee is, word verklaar dat die Bybel van die begin tot die einde die onfeilbare Woord van God is. Die onfeilbaarheid lê dus in hierdie bedoeling, in die skopus, meer spesifiek, die religieuse skopus.11

In 'n artikel van Potgieter (1988) wys hy daarop dat in die verklaring van die Bybel gevra moet word na die bedoeling van die Heilige Gees.12

Die vraag is dan wát hierdie bedoeling is. Aan die een kant is die punt bloot dat dit religieus is. Daarom word deurgaans gesê dat die Bybel nie 'n wetenskapsboek is nie, maar religieus, dit handel oor Gód.

Aan die ander kant word dit beskryf aan die hand van die temas wat in die belydenisskrifte gevind kan word. Volgens Skrifgesag en Skrifgebruik vervat die belydenisskrifte dit wat hulle hier na verwys as die hermeneutiese beslissings vir die verstaan van die Bybel.

In dié lig word in die verslag dan gevra na die verhouding tussen die bedoeling en interpretasie. Wanneer dit by die interpretasie van die Bybel kom, is die skopus juis van belang. Volgens die verslag is dít die bedoeling daarvan dat die Bybel die Bybel self interpreteer. Daarom wys Skrifgesag en Skrifgebruik biblisisme en wysgerige hermeneutiek af.

(Hieraan) word geweld gedoen as daar, soos in die biblisistiese omgang met die Skrif, nie voldoende rekening gehou word met die historiese gesitueerdheid van die Skrifwoorde, met hulle heilshistoriese verband, met die ryke verskeidenheid van betekenisse waarin taaltekens gebruik kan word, of met die aard van die literatuurgenres waarmee ons te make het nie. Alles in die Skrif word dan eenvoudig genivelleer en Skrifwoorde word op 'n soms willekeurige en selektiewe wyse, direk en sonder vertolking, op die mens van die hede van toepassing gemaak. Maar (hieraan) word ook geweld gedoen deur diegene wat met 'n vooropgesette wysgerige hermeneutiek die Skrif aan die verstaansmoontlikhede van die moderne mens wil onderwerp. Dikwels is die vertrekpunt van die wysgerige hermeneutiek positivisties en ignoreer dit die gesag wat die Skrif ook oor ons voorveronderstellings het. Daarom is dit noodsaaklik om daarvan uit te gaan dat die aard van die Skrifgesag deur die Skrif self bepaal word en ten diepste deur die drie-enige God self (57).

Wat híérmee bedoel is, word dalk duideliker in die bogenoemde artikel van Potgieter (1988). In die artikel verbind hy interpretasie direk aan hermeneutiek.

Die vraag na 'n betroubare hermeneutiese sleutel vir die ontsluiting van die Skrif in sy ware bedoeling is van deurslaggewende belang. ... Dit is 'n onontkombare en selfs blywende opdrag vir die teologie om ernstig te soek na reëls wat by die bestudering van die Bybel toegepas kan word ter wille van korrekte Skrifverstaan. Hierdeur het die teologiese dissipline van die Hermeneutiek beslag gekry: Daar moet sekere sleutels aangedui word ter wille van die korrekte ontsluiting van die Bybel (423, 424).

Volgens Potgieter is hierdie hermeneutiese sleutels in die Bybel self. Die Bybel word volgens hom bevráágteken deur hermeneutiese sleutels wat nie vanuit die Bybel self kom nie.

Hóé hierdie hermeneutiek van die Bybel self verstaan word, is nie duidelik nie behalwe vir die bogenoemde hermeneutiese beslissings van die belydenisskrifte. Die hermeneutiese beslissings van die belydenisskrifte word egter nie verduidelik nie.13 Dis dalk daarom dat die 1986 AS dit aan die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake (AKLAS) opgedra het om 'n studie te doen oor Skrifberoep in etiese sake (1990).

As 'n etiese vraagstuk word in Homoseksualiteit: Waf sê die kerk? (1986), tydens die AS op 'n beleidstandpunt van die NGK ten opsigte van homoseksualiteit besluit.14 Die beleidstandpunt is dat homoseksualiteit in die lig van die Bybel as 'n afwykende vorm van seksualiteit bevestig word. Dit word afgewys as in stryd met die wil van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.

 

2. 1990

Die AS het ook Skrifberoep in etiese sake (1990) as riglyn aanvaar.

Die verslag, wat nou aansluit by die verslag van die Sinode van Wes-Kaapland oor Skrifberoep in etiek (1979), veronderstel dat 'n verstaan van die gesag van die Bybel, wat die fokuspunt van Skrifgesag en Skrifgebruik (1989) was, nie tot diesulke verstaan van hermeneutiek lei nie. Dit is veral duidelik wanneer dit by etiese vraagstukke kom. Die vraag in hierdie verslag was dus nie óf daar by etiese vraagstukke 'n beroep op die Bybel gedoen moet word nie, maar eerder, hoe dit gedoen behoort te word. Dit handel in Skrifberoep in etiese sake (1990) dus oor 'n hermeneutiese vraag.

Die verslag begin met 'n verwysing na hermeneutiek.

Die hermeneutiese vraag was van die begin af vir die Reformasie van die grootste belang. Die beroep op die Skrif het alleen gesag as dit 'n verantwoorde beroep is, dit wil sê 'n beroep wat ten volle rekening hou met wat die Skrif wil sê. En dit kan alleen vasgestel word wanneer van die juiste uitlegkundige reëls gebruik gemaak word. Dit behoort tot die mees fundamentele reëls vir die uitleg van elke woord van die Skrif dat dit verstaan moet word binne die konteks, wat beteken dat die spesifieke betekenis bepaal moet word in die lig van die verband waarin dit staan in die perikoop, hoofstuk, Bybelboek, die Ou of Nuwe Testament, en die Skrif as geheel met sy sentrale boodskap. (124)

Wat in Skrifgesag en Skrifgebruik (1989) die skopus genoem is, is hier die sentrale boodskap. Die sentrale boodskap word hier na verwys as 'n raamwerk. Volgens die verslag is dié raamwerk die boodskap van die verlossing in Christus.

In die lig van hierdie raamwerk van die verlossing van Christus word verduidelik dat daar in terme van etiese vraagstukke nie bloot op willekeurige wyse Bybeltekste gekies kan word nie. Die Bybeltekste wat wel dikwels gekies word, is onomwonde altyd bloot dit: keuses, wat ook ander keuses impliseer. Dit alles geskied met die voorwendsel dat dít is wat die Bybel sê. Daar word nie opgemerk dat met keuses voorveronderstellings 'n rol speel nie.

Daarom dat die verslag eerder hermeneuties wil onderskei wat die bedoeling van die etiek wat in die Bybel te vinde is, ten einde te onderskei wat op die ou end die blywende bedoelings van God vandag is. Alreeds hier is dit dus duidelik dat dit nie maklik is om etiese vraagstukke vanuit die Bybel te beantwoord nie. Die verslag kies aan die een kant daarvoor dat daar in die lig van die totale boodskap van die Bybel gesoek word na goeie vrae.

Die verslag vra in die lig van die vrae dat daar hermeneuties gesoek word na algemene gesigspunte.

By die benadering van 'n etiese probleem kan ons nie maar daarmee volstaan om in die Skrif na 'n konkrete voorskrif oor die spesifieke saak te soek nie. Dan sal ons dikwels moet konstateer dat die Skrif hom nie daaroor uitspreek nie. Ons sal moet onderskei wat die wesenlike sedelike gesigspunte is wat in die spesifieke vraagstuk na vore kom, en dan in die lig van die sedelike boodskap van die Skrif as geheel na 'n antwoord op ons etiese vraagstuk soek (126).

Dit is duidelik dat nie alle etiese vraagstukke direk deur die Bybel beantwoord word nie. Die tye en plekke van die Bybel is nie dieselfde as die tye en plekke waarin vandag van hierdie vraagstukke sin gemaak wil word nie.

Tog is daar in die Bybel wat hierbo na verwys is as algemene gesigspunte:

Die Bybel bied nie 'n voorskrif oor elke moontlike saak wat in ons moderne wêreld mag opduik nie, maar die Bybel bied wel leidende motiewe, algemene gesigspunte, teologiese koördinate, vaste bakens in die see waarin ons onsself moet oriënteer. (126)

Volgens die verslag is dit egter nie wenslik om die algemene gesigspunte tot 'n tema te reduseer nie. Daarom wys die verslag op verskeie van die gesigspunte:

Daar is natuurlik die dubbelgebod van die liefde. Daar is die Tien Gebooie en die verdieping daarvan in die Bergrede. Daar is die normatiewe gesigspunte wat gegee is met die skepping, soos die Skrif getuig. Daar is die lig wat val vanuit die herskepping in Christus, wat vanweë die sonde baie diep insny in die wêreld soos ons dit ken en die eis stel van selfverloëning, kruis dra, die stryd teen die begeertes van die vlees. Daar is die apostoliese vermaninge en die beskrywing van die vrug van die Gees. Daar is die gesigspunte van die kultuurtaak wat die mens opgelê is, die waarde van die mens as skepsel van God, en die hoop op die uiteindelike totale vernuwing van alle dinge. So kan ons voortgaan (127).

Terugskouend vanaf die 2007 Algemene Sinodale verslae is dit noemenswaardig dat albei, byvoorbeeld, die liefdesgebod en die skeppingsbeginsels in die twee verslae gekies word as 'n raamwerk vir 'n beantwoording van die vraag oor homoseksualiteit. Albei word in hierdie verslag egter spesifiek beklemtoon as moontlike temas wat nie as 'n enkele raamwerk vir hierdie algemene gesigspunte kan dien nie. Nee, 'n beroep op die Bybel se totale boodskap is volgens die verslag deurslaggewend.

Dat daar in die lig van hierdie totale boodskap egter wel algemene gesigspunte is, word verder beklemtoon. Die verslag kies juis daarvoor dat etiese vraagstukke vanuit die Bybel beantwoord word, en werk so teen, byvoorbeeld, 'n verstaan wat etiese vraagstukke alléén vanuit, byvoorbeeld, die skeppingsbeginsels wil beantwoord. Die verslag werk dus nie met 'n natuurlike teologie as dit by etiese vraagstukke kom nie, maar veel eerder met 'n teologie, meer spesifiek, 'n teologie van Christus.

'n Etiek wat alleen op ons natuurlike sedelike besef of op ons insig in die skeppingsbeginsels opgebou sou word, en die versoening en verlossing in Christus, die kruis en die opstanding, die wederkoms en die vernuwing van alle dinge alleen as wegspringplek gebruik, sonder om die gebod wat daaruit tot ons kom, ten volle te hoor, kan geen volledige Christelike etiek wees nie. (127)

En 'n teologie van die Gees:

Wanneer ons ons probleme onder leiding van die Heilige Gees tot op die bodem kan deurskou in die lig van die Skrif, sal ons ook in die lig van die Skrif die rigting kan peil waarin ons die oplossing moet soek. (127)

Die verslag wil etiese vraagstukke egter óók wetenskaplik beantwoord. Volgens die verslag het etiek 'n wetenskap geword wat vraagstukke vanuit verskillende wetenskapsvelde wil beantwoord. Tog wil die verslag die beantwoording van etiese vraagstukke nie tot 'n wetenskaplike hermeneutiek reduseer nie. Diesulke vraagstukke word finaal beantwoord nie deur die wetenskap-gemeenskap nie, maar die geloofsgemeenskap.

In die lig van die vraag na die NGK se verstaan van hermeneutiek en homoseksualiteit is dit belangrik om te onthou dat, aan die een kant, homoseksualiteit nie op die 1990 agenda was nie. Aan die ander kant is dit belangrik om te verstaan dat die twee verstaanswyses op die vraagstuk wat hulleself in die 2007 sinode uitspeel, verskillend sou antwoord op die vraag wat direk of indirek vanuit die Bybel verantwoord kan word. Waar die eerste verslag oor homoseksualiteit dit so verstaan dat daar nie in die Bybel oor homoseksualiteit, ten minste soos dit vandag verstaan word, tekste is wat hulleself direk hiertoe verantwoord nie, verstaan verslag twee dit so dat daar wel Bybeltekste is wat, anders as die verwysing dat temas dikwels nie in die Bybel ter sprake kom nie en dus vra vir algemene beginsels, homoseksualiteit as sodanig afwys.

 

3. 1999

Tydens die 1999 Sinode van die Wes- en Suid-Kaapland word daar gefokus op Pastoraat aan die homoseksuele persoon (1999). In die verslag word gevra dat homoseksuele persone binne die gemeenskap van gelowiges aanvaar en akkommodeer word, en dat daar gewaak moet word teen 'n onsensitiewe stigmatisering, eensydige veroordeling, marginalisering en verwerping.

Alhoewel in hierdie artikel op die verslae van die AS gefokus word, is die verslag van die Sinode van die Wes- en Suid-Kaapland deurslaggewend vir 'n verstaan van die verslae wat voortaan by die AS sou dien. Die verslag is verder belangrik omdat dit nie net op die Bybel nie, maar spesifiek op Gereformeerde hermeneutiek fokus.

Die belangrikheid van die verslag lê daarin dat, anders as in die bogenoemde verslae, daar erken word dat daar verskillende maniere is om die Bybel te interpreteer. En dat hierdie verskillende interpretasies nie beteken dat die gesag van die Bybel nie erken word nie.

Daarby word die bogenoemde skopus of sentrale boodskap van die Bybel in meer detail uitgespel:

Wat gevra word, is 'n metode wat die eie aard van die Bybel sal respekteer en daarmee saam 'n oog sal hê vir die breë heilshistoriese gang asook die teologiese en Christologiese bedoeling van hierdie unieke boek. Met laasgenoemde word bedoel die sentrale skopuspunt waarop al God se handelinge en opdragte waarvan die Ou Testament vertel, afstuur. Hierdie punt is die openbaring van Sy genadige liefde in Jesus Christus en die geweldige implikasies wat dit vir die wêreld en vir ons lewens inhou. Hierin, by uitstek, setel die sentrale boodskap van die Bybel. Hier rondom wentel alles, en dis alleen binne hierdie konteks dat individuele tekste en vermaninge, ook dié in verband met homoseksualiteit, sin maak en nuwe betekenis kry. (216)

Interessant is dat dit wat die verslag bepleit nie iets nuuts of onbekend wil wees nie. Wat bepleit word, is 'n verantwoordbare Gereformeerde hermeneutiek.

Eerstens vra 'n verantwoordelike hermeneutiese metode van ons dat ons alles in ons vermoë sal doen om die oorspronklike bedoeling van die skrywer en die betekenis van die woorde wat hy gebruik, vas te stel. ... Dit gaan by dié beginsel daarom dat noukeurig gekyk en verstaan word hoe en waar die betrokke teks inpas by die groter korpus van tekste en veral by die geheelboodskap van die Bybel. . 'n Laaste beginsel wat nog altyd binne die Gereformeerde tradisie belangrik was, is om die gegewe teks(te) ook te lees binne die konteks van vandag, dit wil sê die kontemporêre konteks van die leser. (216)

In die lig van 'n bespreking van die verskeie Bybeltekste wat dikwels na verwys word wanneer dit by die vraagstuk van homoseksualiteit kom, word 'n teologies-etiese beoordeling bepleit:

Hieruit sien ons - en dit is die kernperspektief waartoe die eksegese ons lei - dat dit nie die skepping is wat normatief die aard van God se herskepping bepaal nie. Uiteindelik bepaal die herskeppende werk van God in Christus (en hiervan getuig die hele Bybel) die sin en funksiebestemming van die skepping. Uiteindelik moet homoseksualiteit en die homoseksuele persoon self binne hierdie baie fundamentele teologiese perspektief beoordeel en pastoraal benader word. 'n Herskeppingsperspektief ignoreer nie die strukture van die skepping nie. Vir 'n verstaan van die doel en sin daarvan word die skepping egter belig vanuit die eskatologiese heilsperspektief (216).

Volgens die verslag is 'n teologies-etiese beoordeling 'n etiese beoordeling wat om meer as die etiese vraagstuk as sodanig handel. In hierdie beoordeling gaan dit veel eerder oor die God van die Bybel, en oor hoe hierdie God oor mense dink, homoseksueel of nie.

Dit gaan om wat die God van die Bybel uiteindelik oor hulle sê en dink - sy genadige aanspraak op hulle lewens en die implikasies wat dit vir hulle inhou. Wat hier ter sprake is, is dus niks anders as 'n Bybels-teologiese perspektief op die vraagstuk van homoseksualiteit nie. In dié verband is die kardinale vraag dié na die homoseksuele persoon se status en identiteit voor God. ... Uit die evangelie is dit duidelik dat 'n persoon se status, wie hy/sy as mens voor God is (en dit geld vir almal) ten diepste alleen bepaal word deur die genade van die drie-enige God (223).

In dié lig is dit duidelik dat in die verslag die vraag nie is hoe die vraagstuk oor homoseksualiteit vanuit die Bybel beantwoord word nie. Die vraag handel dus nie net oor homoseksualiteit nie, maar oor die seksualiteit en die beoefening van seksualiteit van alle mense, en 'n Bybelse kriteria dáárvoor.

In die Bybel (is) sekere duidelike kriteria vir die sinvolle en menswaardige beoefening van seksualiteit. Hierdie kriteria geld vir alle mense, of hulle hetero-, bi-, of homoseksueel is, en is die volgende: Seksualiteit as heelmaking, afronding en kommunikatiewe, medemenslike samesyn. .... Seksualiteit as kreatiwiteit, ekstase en genot. .. Seksualiteit as binding en permanente, verantwoordelike toewyding.. . Seksualiteit as sensitiwiteit en solidariteit.. . Seksualiteit as trou en vertroue (224).

In dié lig besluit die Sinode op 'n benadering wat plek maak vir ander benaderings deur middel van verdere dialoog. Die dialoog wat bepleit word sluit hier egter homoseksuele mense in. Daar wil dus nie meer bloot oor nie maar met mense gepraat word.

Daarby vra die Sinode vir duidelike riglyne vir 'n meer omvattende seksuele etiek as deel van 'n Christelike mensbeskouing wat op 'n verantwoordelike wyse met die Bybel omgaan. Dit wil dus voorkom of die debat hier nie beperk word tot die etiek nie, maar dat homoseksualiteit, of eerder seksualiteit, in die teologiese antropologie bedink wil word.

 

4. 2002

In 1998 dra die AS dit aan die AKLAS op om opnuut 'n duidelike beleidstandpunt oor die gesag van die Bybel as die Woord van God te formuleer. Gesag van die Skrif (2002) is nie verstaan as 'n vervanging van Skrifgesag en Skrifgebruik (1986) nie. Dit wou wel duideliker maak wat in 1986 dalk onduidelik was. Soos met die verwysing na Skrifgesag en Skrifgebruik is die doel hier nie om 'n gedetailleerde opsomming van die verslag te bied nie. Ook hier word dit uitgelig wat vir die vraagstuk oor die NGK, hermeneutiek en homoseksualiteit van belang is.

Ook dié verslag begin by die gesag van die Bybel, maar vra dat daar nie net gedink word oor die gesag van die Bybel nie, maar oor die gesag volgens die Bybel. Die punt is dat die gesag volgens die Bybel altyd die gesag van God alleen is. Die Bybel is nie God nie, God alleen is God.

Waar Skrifgesag en skrifgebruik (1986) die klem laat val op die Gees wat waarborg, val die klem hier op die Gees wat in en deur die mens werk.

Die verslag beklemtoon sterker as die verslag van 1986 dat die Woord van God dui op God self, op die Triniteit as die God van en vir mense.

Interessant is die verslag se klem op die verskil tussen feite en interpretasie, wat vir 'n verstaan van hermeneutiek in die NGK belangrik is. Die verslag begin deur die belangrikheid van feite te bespreek. As feit word verwys na die trinitariese God se historiese verhaal.

Sonder die interpretasie van hierdie historiese verhaal is die betekenis van die feite daarmee heen. Die betekenis van die feite lê volgens die verslag juis in die interpretasie daarvan.

Die verslag beklemtoon, aan die een kant, dat daar nie werklik feite is wat nie altyd alreeds interpreteer is nie. Ook nie in die Bybel nie. Aan die ander kant word beklemtoon dat die Bybel haar nie in feite interesseer nie, maar in die betekenis daarvan.

Vir hierdie interpretasie is ons daarom van die Gees afhanklik. Afhanklik van die Gees vir die betekenis van die werkinge van God in die werklikheid. Volgens die verslag is hierdie betekenis in die allernouste sin verbonde aan die blye verlossingsboodskap.

Dieselfde AS bedink ook homoseksualiteit. In die lig, byvoorbeeld, van die Sinode van Wes-Kaapland se verslag oor homoseksualiteit, het die Algemene Sinodale Kommissie die AKLAS versoek om die AS van 2002 te bedien met 'n verslag oor homoseksualiteit. Dié verslag het daartoe gelei dat die AS hulle van die beleidstandpunt van 1986 distansieer en dat homoseksualiteit weer bedink is.

Vir die vraagstuk wat in hierdie artikel beantwoord wil word, is dit belangrik dat in Homoseksualiteit (2002) daarop gewys word dat daar nie nét verskille is in die interpretasie van die verskillende Bybeltekste wat dikwels by die vraagstuk oor homoseksualiteit ter sprake kom nie, dat die tekste bloot vir of teen homoseksualiteit is nie.

Vir baie gelowige lesers van die Skrif is die antwoord op die vraag na die aanvaarbaarheid van homoseksualiteit onomwonde afwysend. Volgens hulle oortuiging is die uitsprake van die Skrif te duidelik om enige debat hieroor toe te laat. Vir ander is die situasie onseker omdat die uitleg van die betrokke tekste omstrede is. n Derde groep is weer van oortuiging dat die tekste nie te make het met n duursame lewensgemeenskap tussen mense van dieselfde geslag nie en daarom nie ter sake is nie (248, my klem).

Daarby wys die verslag, soos Pastoraat aan die homoseksuele persoon (1999), dat die vraagstuk oor homoseksualiteit nie los van die vraagstuk oor seksualiteit bedink kan word nie. Terselfdertyd is die vraagstuk oor seksualiteit weer onlosmaaklik verbonde aan, byvoorbeeld, die teologiese antropologie.

In dié lig dra die AS dit op aan AKLAS om 'n teologies-etiese studie te doen oor homoseksualiteit met die oog op die volgende AS. Belangrik was dat daar nie bloot oor homoseksuele mense 'n studie gedoen word nie, maar met mense wat homoseksueel is. Die hermeneutiese verskuiwings weens hierdie besluit sou in die verslae wat hierop volg deurslaggewend wees.

 

5. 2004

Vir die 2004 AS is AKLAS versoek om 'n verdere verslag oor Skrifgesag en Skrifgebruik te bedink. AKLAS het dit egter goed gedink om eerder 'n verklaring wat in lyn is met Gesag van die Skrif (2002), op te stel wat 'n raamwerk bied waarbinne daar voortgaande oor die tema in die titel gedink kan word.

Wat verklaar word in terme van hermeneutiek is van belang:

Ons bely verder dat God deur die Heilige Gees die kerk deur die eeue in die waarheid van hierdie Woord lei. Dit beteken vir ons dat ons die Skrif as die lewende Woord van God hoor in gemeenskap met die Heilige Gees en met mekaar. Daarom was die kerke in die gereformeerde tradisie nog altyd oortuig van die belangrikheid van 'n verantwoordelike interpretasie van die Skrif waardeur die kerk as geloofsgemeenskap onder leiding van die Heilige Gees soek na die waarheid, geregtigheid en barmhartigheid wat God deur sy Woord in ons tot stand bring. Hierdie oortuiging dat die kerk die Skrif moet interpreteer, blyk onder meer uit:

die klem wat van die begin af gelê is op 'n grondige kennis van die oorspronklike tale (Hebreeus, Grieks en Aramees) waarin die Bybel geskryf is, asook die soeke na die beste metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg;

die beklemtoning dat die hele Skrif gelees moet word in die lig van die konteks waarin dit ontstaan het, sodat die tyd- en kultuurbetrokkenheid daarvan verreken kan word in die uitleg;

die soeke na reëls vir die uitleg van die Skrif (voorbeelde van sulke uitlegreëls uit ons tradisie is: dat die Skrif as totaliteit gelees moet word, dat Skrif met Skrif vergelyk moet word en dat die moeiliker dele in die lig van die makliker dele vertolk moet word en dat die Skrif uit sy hart, die evangelie van Jesus Christus, verstaan moet word);

die onderskeid wat in die uitleg van die Skrif gemaak is tussen verskillende dele van die Skrif wat 'n verskillende soort gesag het (byvoorbeeld die onderskeid tussen die historiese en normatiewe dele van die Skrif, asook die onderskeid tussen die kultiese en morele wetgewing);

die dankbare, maar kritiese luister na die manier waarop die Skrif in die geskiedenis van die kerk uitgelê is en in ons eie tyd deur medegelowiges in ons eie kerk en ander kerke uitgelê word;

die vestiging van kerklike praktyke vir die interpretasie van die Skrif, soos veral die prediking, maar ook kategese, Bybelstudie, teologiese studie en andere;

en veral ook in die daarstel van belydenisskrifte waarin die kerk streef om die hart van die Skrif-boodskap duidelik te vertolk en gehoorsaam te aanvaar (130, 131).

Ter voorbereiding vir die 2004 AS het die Sinodale Kommissie van Leer en Aktuele Sake (SKLAS) van die Sinode van Wes-Kaapland standpunte oor homoseksualiteit geformuleer wat deurslaggewend was vir die finale formulering van die AS van 2004 se besluite oor homoseksualiteit.

Ook SKLAS beklemtoon in lyn met Homoseksualiteit (2002) dat daar verskillende Bybelse standpunte oor homoseksualiteit is. En dat hierdie verskille met hermeneutiek te doen het.

Belangrik by die 2004 AS was die klem daarop dat te midde van die verskillende verstane van homoseksualiteit daar konsensus daaroor is dat nie net die Bybel die deurslaggewende faktor moet wees nie, maar dat die verskille oor homoseksualiteit wel op die basis van die Bybel gebou is. Dit is dus nie dat daar oor die verstaan van homoseksualiteit verskil word omdat die Bybel nie erken is nie.

SKLAS was verder van mening dat dit duidelik is dat die Bybel die homoseksuele dade waarvan daar in hierdie Bybeltekste gepraat word, afwys. Vir hulle was dit egter nie so duidelik of hierdie afwysings van toepassing is op mense in verhoudings van liefde en trou nie. Die klem val hier dus nie meer bloot op homoseksualiteit nie, maar, sonder dat op dié manier daarna verwys word, op selfdegeslagverhoudings van liefde en trou.

Dié insigte sou egter eers vanaf 2011 werklik deel van die AS se verslae oor homoseksualiteit word.

In die 2004 verslag van AKLAS (Homoseksualiteit) is die klem dan op die verskille rondom die Bybelse beoordeling van homoseksualiteit.

Aan die een kant is daar persone wat die genoemde tekste beskou as verwysings na die verskynsel van homoseksualiteit as sodanig en dit derhalwe interpreteer as 'n duidelike aanduiding dat die Bybel 'n sterk negatiewe oordeel daaroor uitspreek. Aan die ander kant is daar persone wat dieselfde tekste beskou as verwysings na spesifieke, geperverteerde vorme van homoseksualiteit (byvoorbeeld verkragting, tempelprostitusie, afgodery en pederastie) en op grond daarvan aanvaar dat dit nie as veroordeling van homoseksualiteit as sodanig beskou kan word nie (140).

Alhoewel die verslag daarvan bewus was dat daar verskeie verstaans-moontlikhede is (méér as twee verstane), is hierdie verskillende verstaansmoontlikhede wat in die verslag ter sprake was te dikwels bloot verduidelik aan die hand van die bogenoemde twéé verstaansmoontlikhede.

Die hermeneutiese verskuiwings waarna hierbo verwys is, word veral duidelik in die doelbewus pastorale wyse waarop die besluite van die 2004 Algemeen Sinode verwoord is:

Die Sinode is diep geraak deur die pyn en lyding, verwerping en eensaamheid van persone wat op een of ander wyse met die werklikheid van homoseksualiteit gekonfronteer is. Daarom onderneem ons om met mekaar saam op weg te gaan, deur: in liefde mense te ondersteun op persoonlike vlak en die nodige ondersteuningsisteme daar te stel op alle vlakke; met die middele tot ons beskikking die nodige pastorale begeleiding te verskaf, as daar 'n behoefte is; saam te besin oor wat 'n Bybels-gefundeerde pastorale model is om homoseksuele persone te versorg (11).

 

6. 2007

Die verslag wat op die 2007 AS gedien het, is heel waarskynlik die belangrikste vir 'n beantwoording van die vraag na die verhouding tussen hermeneutiek en homoseksualiteit.

Die taakspan het reeds na hul eerste ontmoeting besluit om in twee te verdeel omdat hulle besef het dat hulle nie dieselfde oor homoseksualiteit dink nie, en mekaar ook nie gaan oortuig nie. Die AS van 2007 is dan ook met twee verslae oor homoseksualiteit bedien.

Daar is ten minste drie hermeneutiese verskille in die twee verslae.

Eerstens is dit duidelik dat die eerste verslag (VE) meer positief is oor die pluraliteit wat in die Bybel gevind kan word. Bybeltekste het nie bloot een betekenis nie. 'n Teksgedeelte kan verskillend interpreteer word, en dit is belangrik dat die verskillende interpretasiemoontlikhede in gedagte gehou moet word wanneer daar oor homoseksualiteit gepraat word.

Dit blyk vanuit verslag twee (VT) dat dit nie die geval is nie. Byvoorbeeld: Waar VE vra na die beoordeling van Bybelse gegewens, vra VT na dit wat die Skrif sê. Dit sluit in 'n sekere mate aan by Potgieter (1988:423):

Dit is waar dat die feit van verskillende vertolkingsmoontlikhede skerp kritiese vrae oor die gesag van die Skrif as sodanig uitlok. . Die diepste oorsaak van verskillende Skrifvertolkings is die verduistering van die mens se verstand as gevolg van die sondeval. Die probleem lê dus beslis nie by die Heilige Skrif nie. As Woord van God is dit volkome duidelik, maar soos die mens as gevolg van die sondeval met die goeie skepping van God moet worstel om 'n bestaan, moet hy ook met die goeie openbaring van God worstel om 'n verstaan. ... Die ware bedoeling van die Skrif mag nie deur die mens se natuurlike neiging tot die kwaad of deur die gevolg van die sonde verduister word nie.

Tweedens is dit duidelik vanuit die twee verslae dat daar vanuit verskillende hermeneutiese raamwerke na homoseksualiteit gekyk word.

VE begin met 'n verduideliking van hul hermeneutiek. Die beoordeling van die Bybelse gegewens is toe te wys aan 'n gereformeerde hermeneutiek, waar die skopus van die teks, in lyn met die verslae in 1986, 2002 en 2004, 'n deurslaggewende rol speel. Die verslag begin, in lyn met Homoseksualiteit (2004), met breër Bybelse verbande, waaronder die bedieningspatroon van Jesus bespreek word met spesifieke verwysing na Jesus en sy omgang met gemarginaliseerdes en die sentrale liefdesgebod as beslissende norm. Hier word ook verwys na die bedieningspatrone van die Nuwe-Testamentiese kerke, wat Jesus se bedieningspatroon voortgesit het. VE se uitgangspunt word duidelik uiteengesit:

Hoewel nie een van die genoemde teksgedeeltes (oor Jesus) oor homoseksualiteit handel nie, bied dit tog die boustene vir die denkraamwerk waarbinne daar oor die saak nagedink behoort te word. (149)

In die lig word dan verwys na die Bybel se verstaan van verhoudings, wat ook homoseksuele verhoudings insluit. Híér word die woorde wat ook in VT gebruik word, ingespan: Wat sê die Bybel oor verhoudings? Die punt is duidelik:

Die Bybel sê baie meer oor verhoudings wat ook van toepassing op homoseksuele verhoudings gemaak kan word, as die enkele verse wat skynbaar na homoseksualiteit verwys. Die gereformeerde teologie oor seksualiteit en die huwelik moet verstaan word as van toepassing op alle mense, nie slegs op heteroseksuele mense nie (154).

Waar VE ingelei is deur oortuigings in die lig van 'n studie van homoseksualiteit, word VT ingelei deur 'n bepleiting vir die neem van 'n besluit. Volgens die verslag was 'n besluit nou noodsaaklik. Hierop volg 'n opskrif: Die Skrif, waar in meer detail ingegaan word op die gesag van die hele Bybel. Ook hier is die hermeneutiese uitgangspunt duidelik:

In die motivering vir die aanbevelings word daar nie slegs ingegaan op die enkele tekste in die Bybel wat na homoseksualiteit verwys nie, maar word na die getuienis van die hele Bybel rakende seksualiteit gekyk. Die konsekwente getuienis in die Skrif dat seksualiteit slegs binne die verbintenis van een man en een vrou, binne die huwelik uitgeleef kan word, is vir hierdie verslag bepalend (165).

Dít is dan ook die hermeneutiese uitgangspunt van die hele verslag. Wanneer die vraag, Wat sê die Skrif? beantwoord word, word begin by Genesis 1-3:

Dat menswees uit manwees en vrouwees bestaan en dat die huwelik 'n blywende verbintenis tussen 'n man en vrou is, blyk duidelik by die lees hiervan. Daar is ook geen onduidelikheid nie dat daar 'n aantrekkingskrag tussen man en vrou is - dus 'n seksuele verhouding. Hierdie verhouding wat in Genesis 1-3 beskryf word, word deur die Bybel as die oorspronklike voorbeeld van die huwelik gesien. Ook Jesus verwys na die oorspronklike bedoeling van God. Indien die Skrif die verstaan van die huwelik soos in Genesis 1-3 handhaaf, is dit dus nie moontlik om aan die huwelik as iets tussen mense van dieselfde geslag te dink nie (165).

Die gevolgtrekking na aanleiding van 'n studie van die Ou Testament blyk soos volg: Dat die Ou Testament homoseksualiteit ag as 'n afwyking van God se bedoeling met die seksuele.

Dit is ook die geval in die Nuwe Testament. Volgens VT is dit duidelik dat vir die skrywers en lesers van die Bybel dit vanselfsprekend was dat seksuele verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag verkeerd was. God het man en vrou gemaak om bymekaar te pas. Van ander verbintenisse het die mense van die Bybel wel geweet, maar dit was vir hulle duidelik dat dit verkeerd was.

Dít is dan ook die gevolgtrekking vanuit die hele Bybel:

Daar is geen aanduidings in die Ou of Nuwe Testament dat die tradisionele siening van Genesis - naamlik dat God die huwelik ingestel het vir man en vrou - verander moet word, of bevraagteken moet word, om plek te maak vir dieselfde geslag seksuele verhoudings of huwelike nie (202).

Derdens, word die hermeneutiese verskille tussen die twee verslae veral ook duidelik in die verslae se eie verwysings na hermeneutiek.

VE verwys nie uitdruklik na hulle hermeneutiek nie, behalwe dat hulle dit sou wou beskryf as 'n gereformeerde hermeneutiek. Daarmee word bedoel dat die historiese aard van Bybel asook 'n betrokke sentrum en die periferie vir die verslag deurslaggewend is.

Wanneer die sentrum en periferie by VT ter sprake kom - die woorde wat ook vir VE se benadering deurslaggewend is - word VT se hermeneutiese uitgangspunt selfs duideliker. Vir dié verslag is seksualiteit nie 'n saak van die periferie nie. Homoseksualiteit hoort volgens die verslag tot die sentrum. Die argument is dat die Bybeltekste wat dikwels in die debat oor homoseksualiteit gebruik word, ingebed is in 'n tradisie waar seksualiteit nie net belangrik is nie, maar waar dit vanselfsprekend is dat heteroseksualiteit die enigste regte seksuele struktuur is waarin seks hoort. In kort, beredeneer die Bybel nie die voorrang van heteroseksuele verhoudings bo homoseksuele verhoudings nie - dit aanvaar dit as vanselfsprekend.

VT gaan so ver as om die huwelik as een van die kernwaarhede van die Christelike geloof te bestempel:

Hierdie waarhede is byvoorbeeld die kerk se belydenis dat die Bybel God se gesagvolle Woord is, dat die drie-enige God sy hoogste liefde in Christus aan die mens geopenbaar het, dat slegs Christus die weg en die waarheid en die lewe is, dat die mens 'n beelddraer van God is, dat die huwelik slegs 'n verbintenis tussen een man en een vrou is (176).

Die kernwaarhede is dus nie net in die trinitariese teologie, die teologie in en van die Bybel, die Christologie en die teologiese antropologie te vinde nie (die pneumatologie is hier nie voorbeeld van 'n kernwaarheid nie) -maar ook in die huwelik.

Alhoewel VE hul hermeneutiek nie in detail differensieer nie, word wel daarna verwys dat hulle nie met wat hulle 'n hermeneutiek van verligting noem wil werk nie. Dít is volgens VE die hermeneutiek van VT. Alhoewel daar in VT nie verwys word na hierdie hermeneutiek van verligting nie, word wel verwys na 'n kanonieke hermeneutiek.

Wat word hier bedoel met hermeneutiek - hetsy van verligting of kanonies? Volgens VT het dit te make met dit wat die Bybel vandag vir ons sê. In VT word die kanonieke hermeneutiek so verduidelik:

Om van die Skrif tot by ons situasie van vandag te kom, maak ons van 'n kanonieke hermeneutiek gebruik ... Met 'n "kanonieke hermeneutiek" word bedoel dat die hele kanon, dus die hele Bybel, gesag het en tot spraak gebring moet word. Die Bybel self sal ons help om te weet wat ons vandag moet handhaaf en wat nie. Indien die Bybel in die Nuwe Testament 'n saak soos die bring van offers afwys, word die saak versag of ongeldig. Wanneer 'n saak soos die huwelik bevestig word, dan word dit gehandhaaf. Dit is wat die Nuwe Testament met die Ou Testament se uitsprake rakende homoseksualiteit doen. Dit word gehandhaaf en daarom kan ons vandag nog daarby bly (168).

Interessant is die verslag se verstaan van hermeneutiek wat wys op die uitlê eerder as verstaan van die Bybel vir vandag.

Hierdie verslag verwys ook na 'n hermeunetiek van suspisie, wat, volgens VT, albei positief sowel as negatief gebruik sou kon word. 'n Positiewe gebruik van 'n hermeneutiek van suspisie verwys daarna dat die lesers besef dat hulle eie lees beïnvloed word deur hulle eie voorveronderstellings en selfs vooroordele. Daar is, volgens die verslag, egter ook 'n negatiewe kant daaraan. Dit is dat nie net die lesers van die Bybel nie, maar ook die skrywers vooroordele en voorveronderstellings gehad het. 'n Hermeneutiek van suspisie word so gebruik om te beklemtoon dat die Bybel nie vir 'n hedendaagse debat soos die van homoseksualiteit gebruik kan word nie. Volgens VT beteken diesulke hermeneutiek dat die wetenskap in die debat belangriker as die Bybel word.

'n Vraag hier is of een van die verskille in hermeneutiek nie ten minste ook hierin verskuil is nie. Die historiese aard van die Bybel word wel deurgaans deur al twee verslae in ag geneem. Die rol wat die historiese aard van die Bybelteks speel verskil egter, ten minste tot dié mate: Waar VE bereid sou wees om die menslike aard van die Bybel deur te trek daartoe dat die skrywers self deel is van die konteks, tot so 'n mate dat daar wel ook suspisieus met die skrywers se voorveronderstellings en vooroordele omgegaan word, is VT dit onomwonde eens dat dit nie die geval kan wees nie.

Hierteenoor is die kanonieke hermeneutiek, wat erns maak met die hermeneutiese beginsel dat enige deel van die Bybel interpreteer behoort te word in die lig van die hele Bybel. Die Bybel is sy eie uitlegger, en daarom moet die Bybel met die Bybel vergelyk word, moeiliker dele moet in die lig van duideliker dele uitgelê word. Waar ook van VE gesê sou kon word dat die moeiliker dele van die Bybel deur middel van die duideliker dele van die Bybel interpreteer word, alhoewel dit nie al is wat VT daarmee bedoel nie, word die beginsel meermale as die kanoniese beginsel verstaan.

In die lig van die verwysing na 'n hermeneutiese raamwerk van die Christologie (herskeppingsleer) en die Godsleer (skeppingsleer), asook in die lig van die verwysing na 'n gereformeerde of kanoniese hermeneutiek, is die vraag natuurlik óf die verskille wat hier vertoon word die verskille in die NGK verteenwoordig. Die antwoord is ja en nee. Natuurlik is ook dit van die verskille rondom hermeneutiek in die NGK. Dit gaan hier egter nie net oor die bepaalde keuses wat vir bepaalde raamwerke gemaak is nie.

Van belang hier is eerder die teologie wat hierdie hermeneutiese raamwerke voorafgaan. Hier handel dit nie net om 'n keuse vir 'n bepaalde natuurlike teologie, of 'n keuse vir 'n bepaalde teo-logie nie. Teologies lê die hermeneutiese verskille veral in die verskille in harmatologie en soteriologie wat die bepaalde bogenoemde keuses voorafgaan.

Daarby is dit dalk egter nie die voorveronderstellings of vooroordele van die lesers ten opsigte van die Bybel óf die vooroordele en voorveronderstellings van die skrywers van die Bybel wat ten minste 'n hermeneutiese sleutel was wat van 'n ander verskil het nie. Dalk is dit die veronderstellings wat VE teenoor VT, en VT teenoor VE gehad het wat in die verskeie verslae hermeneuties deurslaggewend was. Duidelik vanuit die twee verslae, of ten minste die wyse waarop die twee verslae op die tafel van die ander gekom het, is dat dit nie werklik vir diegene wat aan die verslae gewerk het moontlik was om in oop dialoog met mekaar te tree nie en so by die diep teologiese verskille wat hermeneuties bepalend was uit te kom nie.15

 

7. 2015

Ruimte ontbreek hier om na die AS van 2011 en 2013 in enige detail te verwys. Dit moet egter gestel word dat die saak van homoseksualiteit nie prominent daar ter sprake was nie. Vir die 2011 AS is AKLAS bloot gevra om 'n samevatting te maak van al die besluite van die Algemene Sinodes van 1986, 2002 en 2004 oor die Bybelse tradisies. By die 2013 AS is bevestig dat die 2007-besluite aanvaar is op grond van deeglike eksegetiese en teologiese studie.

In die lig van die verskeie temas waaroor AKLAS by die AS van 2013 verslag moes lewer, is die kommissie gevra dat voortaan gedink sou word oor die betekenis van gereformeerde hermeneutiek. Vir dié doel het Ons Christelike geloof en die wetenskap (2015) as gespreksdokument by die AS van 2015 gedien.

Alhoewel die verslag bedoel was om die NGK se verstaan van die verhouding tussen die Christelike geloof en die wetenskap te bedink, wou dit ook die NGK ten opsigte van hermeneutiek in gesprek lei. Interessant is dat ATLAS (Algemene Taakgroep Leer en Aktuele Sake) juis wou hê dat daar in en deur die verslag plek is vir verskil.

Waar daar by die Buitengewone Sinode van 2016 asook by die 2019 AS geen verwysing gevind kon word na Ons Christelike geloof en die wetenskap (2015) nie, is dié verslag darem herken as 'n gespreksdokument. Die verslag wat Ons Christelike geloof en die wetenskap (2015) voorafgaan, Verkennende oriëntering vir die voorlegging van die huidige gesprek (2015), is teen die skryf van hierdie artikel nie weer by die AS vermeld nie.

Dat dit nie weer vermeld word nie is interessant omdat die verslag dalk ten minste 'n hermeneutiese verskil in die NGK beklemtoon. Wat beklemtoon word, is nie net die pluralisme waaraan die Zeitgeist gekenmerk word nie. Hier word nie net gewys na die pluralisme waarin die Bybel verstaan word nie, maar juis ook die pluralisme in die Bybel self.16

In dié lig volg Ons Christelike geloof en die wetenskap (2015). Van belang vir hierdie artikel is dat die verslag beklemtoon dat die wetenskap tot die verstaan van die Bybelteks bydra. Dit beteken egter nie dat die wetenskap 'n verstaan van die Bybel verseker nie.

Die Bybel word nie bloot deur middel van die wetenskap verstaan nie. Die Woord, anders as die blote Bybelbóék, kom tot ons. Hier word verwys na die komende Woord van God. Die kóms van die Woord is nie vanselfsprekend nie. Dié Woord word deur die Gees aan ons verleen, sodat ons dit nooit bloot hét nie.

Só is die Bybel dan méér as bloot dit wat daarin staan. Dit is, soos deurgaans deur die verskeie verslae aangetoon, in die eerste plek 'n historiese boek. Alhoewel die feit dat die Bybel 'n historiese boek is deurgaans beklemtoon is, beteken dit nie dat in die 2015 verslag dieselfde daarmee as, byvoorbeeld, in 1986 bedoel is nie.

Waar daar in VT van die 2007 AS duidelik gemaak is dat daar, byvoorbeeld, nie suspisieus met die Bybelskrywers omgegaan moet word nie, word hier verduidelik dat die Bybel sowel kontekstueel as kultureel bepaald is. Wat word met hierdie bepaaldheid bedoel?

Alhoewel hier nie van 'n suspisie gepraat word nie, is dit duidelik dat daar ten minste met 'n bepaalde sensitiwiteit met die Bybelskrywers en hulle kontekstuele en kulturele bepaaldheid omgegaan moet word. Dit handel in hierdie dokument dus nie net oor ons bepaaldheid nie.

Wanneer ons sê dat die Bybel kultureel bepaald is, bedoel ons daarmee dat die Bybelskrywers in terme van die tale, waardes en mens- en wêreldbeeld van hul kulture praat wanneer hulle oor die lewe en oor God skryf. Wanneer ons die Bybel lees moet ons sensitief wees vir die verhouding waarin dit staan tot die historiese, geografiese en kulturele omstandighede waarbinne dit ontstaan het. (272, my klem)

Die Bybel is méér as dit wat daarin staan omdat dit ook 'n literêre boek is.

Om die fokus alleen maar op die letterlike en feitelike van die Bybelse tekste te laat val, is om die bedoelinge, betekenisse, waarde en boodskap van die Bybel te verskraal. Om die Bybel letterlik te interpreteer, is om by halwe waarhede uit te kom (272).

In Ons Christelike geloof en die wetenskap (2015) word in meer detail as by die verslae hierbo gewys wáárna hierdie literêre karakter van die Bybel verwys. Vanuit die dokument is dit duidelik dat in die Bybel nie met 'n eksegetiese metode gewerk kan word nie.

Dat die Bybel méér is as 'n bloot historiese en literêre boek word dan daarin beskryf dat dit 'n sakramentele boek is. Die Bybel wys in en deur middel van die historiese en literêre vir ons wie God is. Dáárin bestaan die méér -in die teo-logie.

Die betekenis van die Bybelse teks is vir In Christen méér as die woorde wat daar staan.. . Binne die breëre en dieper betekenis van die Christelike geloofsbelydenisse, die geloofstradisie waarbinne ons staan, lees ons die historiese en literêre tekste (van die Bybel) en hoor daarin hoedat God geken en gehoor word as 'n genadige, liefdevolle God, betroubaar in Sy genade oor ons - juis ook in ons konteks vandag (273).

 

8. Slotopmerkings

Wat is dit wat tot die huidige doodloopstraat en vasgelooptheid in terme van hermeneutiek in die NGK gelei het?

In 'n konsepdokument Gids: Die AS se 2019-besluit oor selfdegeslag-verhoudings (2020) word inter alia gevra na die teologiese verskille in die NGK. Dié teologiese verskille is in die allernouste sin verbonde aan die hermeneutiese vasgelooptheid en doodloopstraat.

Ten einde oor hierdie teologiese verskille wat as subteks van die vraagstuk oor homoseksualiteit verstaan moet word na te dink, word inter alia verwys na Vincent Brümmer se Vroom of Regsinnig? Teologie in die NG Kerk (2013).

Volgens Brümmer is daar deurlopend twee teologiese strome in die NGK: 'n regsinnigheid van hart en 'n regsinnigheid van leer. Die Gids (2020) verduidelik dit so:

Vroomheid of regsinnigheid van hart word gesien as 'n persoonlike verhouding met God en berus op die beskouing dat God nie verstaan wil word nie, maar dat God eerder bemin wil word. Hierteenoor sou dié wat kies vir 'n regsinnigheid van leer eerder klem plaas op die verdediging van die leerstellinge van die kerk soos neergelê in die belydenisskrifte (18).

Die konsepdokument erken dat teologie in die NGK nie tot twee teologiese strome gereduseer kan word nie:

Dít kan nie net tweeledig of binêr verstaan word nie. Dikwels is dit so dat mense wat min of meer uit dieselfde teologiese, hermeneutiese dampkring kom, verskillende gevolgtrekkings maak oor selfdegeslagverhoudings. Met min of meer dieselfde hermeneutiek huldig hulle verskillende standpunte. (20, my kursivering)

Alhoewel in hierdie artikel geargumenteer is dat die debat oor homoseksualiteit ten diepste 'n teologiese debat is, is dit tog, aan die een kant, 'n vraag of die twee teologiese strome wat in die konsepdokument verhaal is by die diepte van die teologiese en hermeneutiese verskille kom. Aan die ander kant, is dit 'n vraag of die verskillende gevolgtrekkings oor homoseksualiteit werklik op grond van twee teologiese strome met min of meer dieselfde hermeneutiek daaruit sien.

In die lig van veral die 2007 AS het dit duidelik geword dat dit nie net daaroor handel dat daar byvoorbeeld vanuit 'n hermeneutiese raamwerk van die Godsleer of, eerder, die skepping (VT) en die Christologie of, eerder, die herskepping (VE) gedink is nie.

Dit handel ook nie bloot daaroor dat VT blyk om ten minste in 'n opsig 'n meer natuurlike teologie, teenoor, ten minste in 'n opsig, 'n teo-logiese hermeneutiese sleutel met betrekking tot die debat oor homoseksualiteit te kies nie. Dit handel volgens hierdie artikel eerder oor die bepaalde teologie wat hierdie keuses ten minste met betrekking tot die debat oor homoseksualiteit voorafgaan het, en steeds voorafgaan.

Dus handel dit nie net daaroor dat Bybeltekste deur 'n hermeneutiese raamwerk van die skepping of herskepping benader word nie. Daar sou ook ander keuses gemaak kon word met dieselfde gevolgtrekkings. Die vraag is eerder hoe 'n bepaalde teologie die keuses wat gemaak is noop.

Dit handel hier inter alia oor 'n baie bepaalde verstaan van die harmatologie en soteriologie. Dit handel dus nie net daaroor dat VE, as 'n verteenwoordiging van 'n teologiese lyn in die NGK, van standpunt is dat homoseksualiteit nie sonde is nie, en dat VT wel daardie gevolgtrekking maak nie. Dit handel veel eerder oor die teologie van sonde en verlossing, wat die gevolgtrekking voorafgaan.

Die NGK het egter wel 'n beslissende studie oor Die Apostoliese Geloofsbelydenis: n Eietydse Uitleg (2013) deurgemaak - maar dié studie het nie werklik in diepte debatte op die AS tot gevolg gehad nie.

Die vraag, wat natuurlik ook teologies van aard is, is byvoorbeeld waarin die diepste verbintenis van die NGK werklik vandag lê. In die sin het Dirkie Smit in 2001 (in verwysing na die NGK tot en met 1990) in die lig van die debat oor Belhar al gevra waarin lê hierdie verbintenis. Smit se antwoord was tóé:

... the deepest commitment of the ... DRC was, ultimately, when tested, to their own people, to the volk, and not to us, their brothers and sisters in faith, or to theological convictions, or Reformed theology, not even the content of their own synodical documents17(122).

Dus: Watter rol speel die NGK se verbintenis aan die volk eerder as byvoorbeeld teologie in hierdie doodloopstraat en vasgelooptheid?

Maar spesifiek: In Retrotopia (2017) wys Zygmund Bauman daarop dat ons in hierdie tye nie meer oor die toekoms dink soos ons in die verlede daaroor gedink het nie. Eerder as om oor utopieë in die toekoms te dink, verhaal ons utopieë vanuit die verlede, vanuit spesifieke verledes - dalk verledes wat meer was soos wat ons dit wou hê?

Is ook dié spesifieke verledes dalk hermeneuties bepalend vir 'n verstaan van die NGK, hermeneutiek en etiek?

 

Bibliografie

Anthonissen, C. en Oberholzer, P. 2001. Gelowig en gay? Riglyne vir n sinvolle dialoog met gay lidmate in die gemeente. Kaapstad: Lux Verbi.         [ Links ]

Bauman, Z. 2017. Retrotopia. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Bartlett, A. 2017. Weerlose weerstand. Die gaydebat in die NG Kerk. Pretoria: Protea Boekhandel.         [ Links ]

Bongmba, E.K. 2015. Hermeneutics and the debate on Homosexuality in Africa. Religion and Theology 22:69-99.         [ Links ]

Brümmer, V. 2013. Vroom of regsinning. Teologie in die NG Kerk. Wellington: Bybel-Media.         [ Links ]

Cilliers, J. 2008. Skrifbeskouing en Skrifhantering: perspektiewe op 'n hermeneutiek van verwagting. Verbum et Ecclesia 29(1):62-76.         [ Links ]

Deist, F. en Burden, J.J. 1980. n ABC van Bybeluitleg. Pretoria: J.L van Schaik.         [ Links ]

Deist, F. 1986. Kan ons die Bybel dan nogglo? Onderweg na n Gereformeerde Skrifbeskouing. Pretoria: J.L. van Schaik).         [ Links ]

Deist, F. 1994. Ervaring, rede en metode in skrifuitleg: n wetenskapshistoriese ondersoek na Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk, 1840-1990. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.         [ Links ]

De Villiers, D.E. 2006. Kruispunte in Christene se besluitneming oor homoseksualiteit. Verbum et Ecclesia 27(1):186-198.         [ Links ]

Heyns, J. 1987. Dogmatiek. Pretoria: NG Kerk-Boekhandel.         [ Links ]

NGK, 1979. Agenda van Wes-Kaapland Streeksinode.

NGK, 1986. Agenda van die Algemene Sinode

NGK, 1986. Notule van die Algemene Sinode.

NGK, 1990. Agenda van die Algemene Sinode.

NGK, 1990. Notule van die Algemene Sinode.

NGK, 1998. Agenda van die Algemene Sinode.

NGK, 1998. Notule van die Algemene Sinode.

NGK, 2002. Agenda van die Algemene Sinode.

NGK, 2002. Notule van die Algemene Sinode.

NGK, 2004. Agenda van die Algemene Sinode.

NGK, 2004. Notule van die Algemene Sinode.

NGK, 2007. Agenda van die Algemene Sinode.

NGK, 2007. Notule van die Algemene Sinode.

NGK, 2011. Agenda van die Algemene Sinode.

NGK, 2011. Notule van die Algemene Sinode.

NGK, 2013. Agenda van die Algemene Sinode.

NGK, 2013. Notule van die Algemene Sinode.

NGK, 2013. Die Apostoliese Geloofsbelydenis: 'n Eietydse Uitleg.

NGK, 2015. Agenda van die Algemene Sinode.

NGK, 2015. Notule van die Algemene Sinode.

NGK, 2016. Agenda van die Algemene Sinode.

NGK, 2016. Notule van die Algemene Sinode.

NGK, 2019. Agenda van die Algemene Sinode.

NGK, 2015. [Intyds]. Beskikbaar: http://selfdegeslagverhoudings.bybelmedia.org.za/2015/11/2002-en-2004-besluite-oor-homoseksualiteit/

NGK, 2019. Persverklaring: Selfdegeslag-verhoudings, 10 Oktober 2019. [Intyds]. Beskikbaar: https://kerkbode.christians.co.za/2019/10/10/selfdegeslagverhoudings/

NGK, 2020. [Intyds]. Beskikbaar: https://kerkbode.christians.co.za/2020/03/04/selfdegeslagbesluit-nuwe-gids-wil-sinodes-en-lidmate-help/

Punt, J. 2006a. The Bible in the gay-debate in South Africa: Towards an ethics of interpretation. Scriptura 93:419-431.         [ Links ]

Punt, J. 2006b. Using the Bible in post-Apartheid South Africa: Its influence and impact amidst the gay debate. HTS Teologiese Studies 62(3):885-907.         [ Links ]

Potgieter, P.C. 1988. Selfgetuienis en interpretasie. HTS Teologiese Studies 44(2):420-433.         [ Links ]

Smit, D.J. 2001. Has there Been any Change? On the Role of the Dutch Reformed Church 1974-1990. Scriptura 76:119-126. https://doi.org/10.7833/76-1-1188.         [ Links ]

Steyn, G.J. 2007. Riglyne vir 'n verantwoordelike Nuwe Testamentiese verstaan in die homoseksualiteitsdebat. Dee 1: 'n Komplekse saak. Verbum et Ecclesia 28(1):280-300.         [ Links ]

Strauss, P. 2010. Die NG Kerk en die Wet op Burgerlike Verbintenisse: menings en inligting. Woord en Daad 50(413):30-32.         [ Links ]

Van der Westhuizen, H. 2016. The Word and the Spirit - Michael Welker's theological hermeneutics, Part 1. Stellenbosch Theological Journal 2(2):607-620.         [ Links ]

Van der Westhuizen, H. 2017. The Word and the Spirit - Michael Welker's theological hermeneutics, Part 1. Stellenbosch Theological Journal 3(1):429-449        [ Links ]

Van der Westhuizen, H. 2019. The Reception of Belhar in the Dutch Reformed Church. Studia Historiae Ecclesiasticae 45(3):1-15. http://dx.doi.org/10.25159/2412-4265/6233        [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2016. Romeine 1:26-27: Evaluering van eksegetiese en hermeneutiese argumente in die debat oor selfdegeslagverhoudings. In die Skriflig 50(2).         [ Links ]

Welker, M. 2000. The Tasks of Biblical Theology and the Authority of Scripture. In: W. Alston (Ed.). Theology in the Service of the Church, FS Thomas Gillespie. Grand Rapids: Eerdmans. 232-241.         [ Links ]

Welker, M. 2001. Das vierfache Gewicht der Schrift. Die mißverständliche Rede vom 'Schriftprinzip' und die Programmformel 'Biblische Theologie'. In: D. Hiller and Ch. Kress (Eds.). "Daß Gott eine große Barmherzigkeit habe". Konkrete Theologie in der Verschränkung von Glaube und Leben, FS Gunda Schneider-Flume. Leipzig: Evangelische Verlagsanstalt. 9-27.         [ Links ]

Welker, M. 2002. Sola Scriptura? The Authority of Scripture in Pluralistic Environments. In: B. Strawn (Ed.). A God So Near, FS Patrick D. Miller. Winona Lake: Eisenbrowns. 375-391.         [ Links ]

 

 

1 Interessant is die verwysing in die konsepdokument, Gids (2020), nie net na homoseksualiteit of selfdegeslagverhoudings nie, maar na die LGBTQI-gemeenskap.
2 Daar het ook verskeie artikels waarin die verhouding ter sprake is verskyn. In terme van die verhouding tussen hermeneutiek in en vanuit die NGK, sien De Villiers (2006), Punt (2006a, 2006b), Steyn (2007), Cilliers (2008), Van Zyl (2016). In terme van dié verhouding in Afrika, sien Bongmba (2015).
3 Vir 'n kort oorsig oor die twee onderwerpe, ook in verwysing na hermeneutiek, sien https://www.scribd.com/document/449948438/Gids-Die-Algemene-Sinode-se-2019-besluit-oor-selfdegeslagverhoudings-KONSEPDOKUMENT0#from_embed
4 In terme van die vraagstuk is een van die belangrikste werke wat juis ook vra na hermeneutiek in die NGK die van Ferdinant Deist, Ervaring, Rede En Metode in Skrifuitleg: n Wetenskapshistoriese Ondersoek Na Skrifuitleg in Die Ned. Geref. Kerk 1840-1990 (1994). Alhoewel vir die argument die verslae sedert 1986 van belang is, val die klem veral op die NGK se hermeneutiek na die tydperk wat Deist bestudeer het. Soos by Deist is die vertrekpunt van die artikel nie in die eerste plek die vraag hoe die NGK die gesag van die Bybel verstaan nie. Die gesag van die Bybel word net na verwys waar dit spesifieke implikasies vir die hermeneutiese beslissings van die betrokke verslae het. In terme van homoseksualiteit verskyn meer onlangs André Bartlett se Weerlose Weerstand. Die Gaydebat in die NG Kerk (2017). Die doel van hierdie artikel is egter nie bloot om die gaydebat in die NGK te bestudeer nie. Dit wil veel eerder vra na die hermeneutiese vraagstukke wat die betrokke debat vergesel.
5 Dit is so dat na aanleiding van hierdie artikel daar nie gesê sal kan word dat dít inderdaad is hoe die NGK hermeneuties dink, of oor die debat oor homoseksualiteit dink nie. Dit is algemeen bekend dat daar verskeie verstaanswyses oor hierdie temas in die NGK is en dat die wyses van verstaan nie noodwendig deur die verslae van die AS gereflekteer word nie.
6 Verskeie artikels het sedert 1986 oor Kerk en Samelewing, asook oor die verband tussen Ras, Volk en Nasie (1974) en Kerk en Samelewing (1986, 1990) verskyn. Alhoewel dit nie die oogmerk van die artikel is nie, sou dit interessant wees om te vra na die verhouding tussen die verwikkelinge in terme van die NGK se hermeneutiek en die vraagstukke van die bogenoemde dokumente.
7 Die term hermeneutiek word hier in die breedste sin van die woord gebruik.
8 In 1986, maar ook in 2019, word deurgaans in die besluite bevestig dat te midde van die talle verskille oor wat die Bybel eties vandag beteken, die Bybel wel gesaghebbend is.
9 Alhoewel die inspirasie van die Bybel verskillend verduidelik word (bv. deur te verwys na teopneustie in 1986), word die inspirasie beklemtoon as 'n duidelike bevestiging dat die Bybel wel gesaghebbend is.
10 Die klem op die bedoeling of skopus is inter alia beklemtoon in Heyns (1978), wat die NGK diep beïnvloed het.
11 Die Bybel, verduidelik Potgieter (1988:426), is volledig betroubaar in wat dit bedoel om te sê.
12 Dat hier meermale van verklaring eerder as verstaan verwys word, is van belang vir die hermeneutiese vraag.
13 Die enigste verdere verwysing is na 2 Timoteus 3:16, 17 ("Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk"). Die skopus, lui die verslag, "is aan ons gegee om ons wys te maak tot saligheid, sodat die mens van God volkome kan wees, volmaak toegerus vir elke goeie werk".
14 Dit is nie voor die hand liggend dat die tema waaroor dit hier handel 'n etiese vraagstuk is nie. Dit word in die NGK as 'n etiese vraagstuk verstaan omdat dit meermale oor die dade van mense in selfdegeslagverhoudings handel.
15 Vir die 2011 AS is AKLAS gevra om 'n opsommende samevatting te maak van al die besluite van ASs van 1986, 2002 en 2004 oor die Bybelse tradisies. Die verslag heet Skrifbeskouing. Tydens hierdie sinode het daar nie verdere verslae oor homoseksualiteit gedien nie. Tog het by dié sinode 'n verslag van AKLAS oor die Huwelik en saamwoon verskyn. Tydens die 2013 AS is bevestig dat die 2007 besluite aanvaar is na aanleiding van deeglike eksegetiese en teologiese studie. Daar is aan die Moderamen van die AS (ASM) gevra om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit 'n Bybelse studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings. Hermeneuties is dit interessant dat hierdie studie oor selfdegeslagverhoudings gedoen moet word aan die hand van 'n verbintenis aan die NGK se waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.
16 Die dokument volg Michael Welker se denke oor die gesag van die Bybel byna woordeliks. Sien Welker (2000; 2001; 2002). Sien in die verband ook Van der Westhuizen (2016; 2017).
17 Sien ook Van der Westhuizen (2019).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License