SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.6 issue3'n Begeleidende woordThe Dutch Reformed Church - hermeneutics and ethics (1986-2019)? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.6 n.3 Stellenbosch  2020

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2020.v6n3.a1 

ARTICLES

 

Afrikaanse gereformeerde kerke in die sleurgang van die tydgees: 1990 en verder

 

Afrikaans reformed churches in the humdrum of the times: 1990 and beyond

 

 

Pieter (PK) Kruger

Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika. pkkruger@telkomsa.net

 

 


Trefwoorde: Sosiale verandering; sekularisasie; demokratisering; globalisering; pluralisme; ekklesiologie; missionaliteit


ABSTRACT

During the past nearly 30 years the epochs of democratisation and globalisation became intertwined with the South African society, determining its spirit of the age. The democratisation of South African since 1994 has its own history of radical rather than evolutionary transformative measures which brought about constructive changes to the political and social fibre of a secularised South Africa. In conjunction, globalisation as dominant worldview became evident in the transposition of South Africa into a secular, liberal, capitalistic, pluralistic society. Over this period the Afrikaans-speaking churches of reformed tradition were not immune to these influences, channelled via their members' experiences of and responses to their changing social and economic setup. These churches have since also changed. Their influence on society and social matters has dwindled. The contexts of their congregations changed. Their traditional collective forms of institutionalised religion are changing due to the influence of a plurality of different personal, religious beliefs and practices. These developments challenge these churches to rethink their denominational identities and consider the way in which they approach society and what they can contribute to the ecumenical church.


 

 

1. Inleiding

Hierdie bydrae besin oor die huidige Suid-Afrikaanse tydgees waarbinne Afrikaanse gereformeerde kerke, by name die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), Nederduitsche Hervormde Kerk in Afrika (NHKA), Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), hulle bevind. Tydgees as fenomeen omvat 'n disposisie van komplekse en diverse sosiologiese tendense en faktore waardeur burgers van 'n samelewing fundamenteel beïnvloed word.

Die navorsingsvraag wat in die artikel aangespreek word, is hoe sosiale en religieuse gebeure die tydgees inklee en die reformatoriese (gereformeerde) kerke in Suid-Afrika beïnvloed. Met 'n histories-sosiologiese invalshoek word besin oor die ingrypende sosiale transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing sedert 1990. Dit het die erfdeel van die land se mense en gemeenskappe geword. Die vraag is hoe hierdie gebeure burgers van die samelewing (en lidmate van die kerk) laat beslis oor hul vooruitsigte. Die kerk van die dag is nie van hierdie historiese konteks en geskiedenis-in-wording uitgesluit nie, want dit word deur lidmate se ervarings van hierdie konteks en hul beslissings daaromtrent die kerk binnegedra. Die vraag word vervolgens ook gevra watter tekens van die heersende tydgees die kerk vertoon en hoe teologies nagedink moet word oor 'n hedendaagse kerkbeskouing (ekklesiologie) waardeur die relevansie van die kerk behou kan word. Die perspektiewe op die tydgees word beskrywe in 'n algemene sin en is van toepassing op die genoemde kerke kollektief.

 

2. Afrikaanse gereformeerde kerke binne 'n konteks van ingrypende veranderinge sedert 1990

Destyds, tydens die NG Kerk se Algemene Sinode van Oktober 1994, het prof JA Heyns met die broederlike onderhoud opgemerk dat dié sinode byeenkom in die jaar waarin die grootste en ingrypendste verandering nog ooit in Suid-Afrika se geskiedenis beleef is. Op daardie tydstip is die situasie in Suid-Afrika in sy wese saamgevat met die woord verandering (Handelinge van Algemene Sinode 1994:530). Op die kerklike front was verandering nie vreemd nie, want gedurende die twee dekades tevore was daar sporadiese veranderinge omtrent bekende en geykte kerklike tradisies ten opsigte van kleredrag, liturgie en die kerklied, asook teologiese standpunte soos die vrou in die amp en die Bybelse begronding van apartheid. Vir baie lidmate was hul geloofsekuriteit deur hierdie tipe veranderinge geknou en is beleef dat die kerk se geloofwaardigheid as oord van onveranderlike waarhede hierdeur aangetas is. Die politieke veranderinge van 1994 was egter 'n terminus transitus. Die aanloop daartoe was 2 Februarie 1990 se toespraak deur die destydse staatspresident, FW de Klerk, waarin aangekondig is dat politieke organisasies soos die African National Congress (ANC) en Pan Africanist Congress (PAC) ontban sou word en Nelson Mandela, politieke gevangene en martelaar vir die vryheidstryd, vrygelaat sou word. Hierna is 'n grens van ongekende politieke en sosiale verandering oorgesteek wat bekende veranderinge van die tyd te bowe sou gaan. Hierop was die kerk nie voorberei nie. Volgens Heyns het verandering binne die Suid-Afrikaanse samelewing in daardie stadium in ten minste drie sake gemanifesteer.

Eerstens het apartheidspolitiek verdwyn en is 'n era betree waarin die burgery se bekende politiek, sosiaal-maatskaplike opset, arbeids- en besigheidsomgewing en onderwys onder andere op voortgaande wyse ingrypend herrangskik is. Uiteraard is hierdie gebeure nie met entoesiasme deur alle landsbewoners aanvaar of gesteun nie, want sommiges wou die vorige politieke model onveranderd of ten minste gewysig voortsit terwyl linkse radikales absolute swart oorheersing sonder enige magsdeling geïdealiseer het. Tweedens het verandering ten opsigte van die sosiale stratifikasie gelei tot die sosiale herrangskikking van bevolkingsgroepe tot mekaar asook individue tot mekaar. Dat die Afrikaner sedert 1994 vennootskaplik saam met ander was en onderhorig aan ander is, het onsekerheid gebring. Sodoende het vorme van vooroordeel, konflik en polarisasie nie sondermeer verdwyn nie. Derdens is die verskuiwing van waardesisteme uitgewys. Heyns het gesê dat "[d]ie lewens- en wêreldbeskouing van die kommunis en ateïs, van die humanis en liberalis, van die New Age-aanhanger en ander nie-Christelike godsdienste" algaande deel van die land se sosiale lewenstyl en denke geword het. Die belangrike saak van toenemende sekularisasie in die laaste aantal dekades loop hiermee saam en is vir die kerk diep verontrustend aangesien Christelike waardes daardeur bedreig word. Vir Heyns het hierdie ingrypende onverwerkte veranderinge in Suid-Afrika die oorsaak geword van angs en onsekerheid, van onbetrokkenheid en daarmee saam 'n verlies aan doel onder lidmate van die kerk (Handelinge van Algemene Sinode 1994:530,531). Op hierdie wyse is iets van die gees van die tyd verwoord.

In aansluiting by die navorsingsvraag kan tereg gevra word of die impak van die veranderinge waarna Heyns in sy broederlike onderhoud verwys het, nog enigsins ter sprake is. Die antwoord is: die 1990's was maar net die begin van baie verdere veranderinge, want die werkinge van hierdie veranderinge lê onverbloemd versprei oor die verloop van byna drie dekades.

Langs die lyne van die veranderinge wat hierbo aan die orde gestel is, word nou verder besin oor hoe hierdie sake die Suid-Afrikaanse samelewing beïnvloed en in die gees van die tyd neerslag gevind het.

2.1 Verandering van die burgery se politieke en sosiaal-maatskaplike opset

Die besinning omtrent die burgery se politieke en sosiaal-maatskaplike opset en die herrangskikking van die sosiale stratifikasie bring insigte omtrent hoe lidmate van Afrikaanse gereformeerde kerke hul werklikheid ervaar en konstrueer.

Verandering in die nuwe Suid-Afrika ten opsigte van die burgery se politieke en sosiaal-maatskaplike opset het plaasgevind onder die vaandel van 'n meelopende demokratiseringsproses. Hierdeur moes met die apartheidsverlede afgereken word. Maar volgens Giliomee (2018:224) was veral die Afrikaanse kerke wat apartheid ondersteun het na 1994 in 'n krisis. Hul aandeel aan die apartheidsisteem het soos 'n blok aan hul been gehang en hul invloed by die nuwe regering het byna heeltemal verdwyn. En, weens dié kerke se teologiese sanksionering daarvan, was die apartheidsdiskoers se kollektiviserende perspektiewe aangaande die politieke en sosiale stand van sake diep in die psige van hul lidmate gevestig. Al het die NG Kerk hom by die Algemene Sinode van 1990 te Bloemfontein formeel van die apartheidsideologie en -praktyke gedistansieer, het dit nie beteken dat lidmate van die apartheidsidees en -kultuur as dominante betekenissisteem afgesien het nie.1 Aan die ander kant moet gereken word met die erfenis van die apartheidsverlede se negatiewe uitwerking van sosiale disintegrasie en vertraagde ontwikkeling op die swart en bruin bevolkingsgroepe van Suid-Afrika. Die proses van demokratisering het in samehang met 'n groeiende swart bewussyn, waar dit tuisgekom het, 'n byna euforiese hunkering na sosiale en ekonomiese ewewig ontketen. Die gevoel van vryheid en mag is bevestig deur die implementering van regstellende aksie en swart bemagtiging (Stone 2014:66). Ekonomiese beleide, wat vir die ANC-regering polities en ekonomies dringend noodsaaklik was, het gevolg (Boesak et al. s.a.:31): die heropbouprogram RDP (Reconstruction and Development Programme 1994); die makro-ekonomiese beleidsraamwerk GEAR (Growth, Employment, and Redistribution 1996); ASGISA (Accelerated and Shared Growth Initiative for South Africa 2005); die NGP (New Growth Path 2010); en 2013 se Nasionale Ontwikkelingsplan (National Development Plan) as Suid-Afrika se langtermyn sosio-ekonomiese ontwikkelingsroetekaart (SAHO 2014). Alhoewel elk van hierdie programme versnelde groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie, armoedeverligting en -vermindering, werkskepping en die aanspreek van ekonomiese ongelykhede in vooruitsig gestel het, lê die somtotaal van hierdie programme se gereguleerde aanpassings en vereistes egter 'n groot las op die sakesektor wat gebuk gaan onder ideologies-gedrewe (en dikwels onervare) amptenare en werknemers (Giliomee 2018:229-230). Na meer as twee dekades onder die ANC-regering is net 'n klein klompie elite en middelklas swart mense deur die sisteem van regstellende aksie, swart bemagtiging en ander ekonomiese beleide bevoordeel. By hulle skry 'n welvaartsindroom voort. Die tragiese waarheid is dat die arm massas steeds nie ekonomies bevry en bevoordeel is nie (Stone 2014:66,67). Wat wit en bruin lidmate van Afrikaanse gereformeerde kerke gevolglik in die oë staar, is dat in Suid-Afrika, soos elders in ontwikkelende lande, ekonomiese verandering of omvorming meermale die politieke stabiliteit versteur, dat dit die gevaar inhou van sosiale polarisasie en die demokrasie uitgekalwe word met xenofobie en rassisme wat as akute samelewingsprobleme na vore kom (Boesak et al. s.a.:38,40). Dit is ontredderende ervarings.

Politieke vryheid binne die Suid-Afrikaanse demokratiese konteks kon oor die afgelope dekades nie maatskaplike vryheid in die volle sin van die woord bewerkstellig nie. As daar nie maatskaplike orde en pligsuitvoering is nie, is daar nie maatskaplike vryheid nie (Stone 2014:36). In 1994 het Heyns daarop gewys dat 'n geweldpsigose in die Suid-Afrikaanse samelewing posgevat het (Handelinge van Algemene Sinode 1994:531). Die onaanvaarbare vlakke van geweld wat op daardie tydstip nie meer geregverdig kon word as gestruktureerde revolusionêre aksies van pre-1994 nie, maar bloot as krimineel beskou is, het intussen endemies geword langs Suid-Afrika se komplekse etniese, kulturele en ekonomiese lyne. In Eagle (2015:93) se besinning hieromtrent word geargumenteer dat Suid-Afrika se landsburgers in die algemeen leef met 'n gevoel van bedreiging wat nie onrealisties is nie. Dit affekteer mense se konstruktiewe deelname aan die sosiale lewe en verskraal sosiale kohesie. Hiervan is lidmate van Afrikaanse gereformeerde kerke nie uitgesluit nie. Voeg hierby die "pynlikste werklikhede", wat Boesak in 2008 uitgewys het en waarvan min in die dekade hierna verander het, as bevestiging dat maatskaplike vryheid maar net 'n ideaal is:

[S]osiaal-ekonomiese ongelykhede groei eksponensieel met toenemende armoede, werkloosheid, gebrek aan toegang tot noodsaaklike bronne, swak gesondheid en disproporsionele risiko ten opsigte van siektes, berowing van kennis en kommunikasie, magteloosheid om basiese menseregte op te eis; die vermorsing van bronne wat grens aan kriminaliteit; die omkering van prioriteite wat sigbaar is in die toedekking van onbevoegdheid en korrupsie, asook die spandabelrigheid van die regering op alle vlakke; die diepte van ons rassisme, wat vererger word deur die hardnekkige ontkenning daarvan; die vlakke van misdaad; die gruwelike brutaliteit van ons geweld, fisies en sistemies, is tekens van die diepgaande onversoendheid in ons land (Boesak 2008:35-36,38-39).

Mense het nie veel van 'n keuse nie as om maar die stand van sake te aanvaar, alhoewel dit nie kritiekloos geskied nie.

Omdat die ideale van die demokrasie vir die grootste deel van die Suid-Afrikaanse bevolking nie gerealiseer het nie, het dit gelei tot die beklemtoning van dekolonisering as deel van 'n vrymakende diskoers en proses. Op diskursiewe vlak is dit bedoel om die swart minderwaardigheidsindroom teenoor Westerse epistomologieë en tradisies op te hef deur die bevestiging van die Afrika-kultuur en -identiteit. Op materiële vlak moet dit realiseer by wyse van die herstel en restitusie ten opsigte van grond, rykdom en mag (Lepuru 2016). Alhoewel onsekerheid bestaan oor die volle bedoeling daarvan binne die Suid-Afrikaanse konteks, is daar tog besorgdheid oor die patroon van dekolonisering in Afrika en die effek daarvan hier te lande -n patroon van verval wat polities en sosio-ekonomies van aard is (Stone 2014:31). Omdat mag deurlopend deur die ANC se meerderheidsregering behou is, het magsmisbruik sy kop uitgesteek en is dit merkbaar in die ontaarding van regering op plaaslike tot nasionale vlak. Staatsinstellings en semi-staatsinstellings is nie uitgesluit nie. Die verhale van agteruitgang van die Suid-Afrikaanse Nasionale Gesondheidsdiens, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Suid-Afrikaanse Poskantoor, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Eskom, die SABC, Prasa, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (om 'n paar te noem) is alombekend. Hierdie instellings gaan gebuk onder 'n groeiende burokratiese ineptokrasie. Vir Hill (2012:1) bestaan die ANC se politieke ineptokrasie daarin dat dit gefaal het om vanuit 'n posisie van mag volhoubare welvaart vir die landsburgers te skep anders as by wyse van regstellende aksie en nasionalisering. Die posisie van die postapartheidstaat word verder vererger deur voortslepende regsgedinge om bewerings van korrupsie en magsmisbruik teen regeringsamptenare te ondersoek (Eagle 2015:84). Die diepte hiervan het meer onlangs aan die lig gekom met die aanstelling van 'n Kommissie van Ondersoek (onder voorsitterskap van regter Raymond Zondo) ten einde ondersoek in die stel na bewerings van staatskaping, korrupsie en bedrog in die openbare sektor, met inbegrip van staatsorgane (Suid-Afrika 2018:9). Dit is hierdie ervarings wat hoop op die toekoms inhibeer.

Die NG Kerk se verklaring van Maart 2018 gee 'n blik van wat die belewenis in die boesem van Afrikaanse gereformeerde kerke is omtrent hierdie toedrag van sake. Kommer en lae moraal van die Suid-Afrikaanse nasie weens die afgelope jare se blootstelling aan korrupsie, magsmisbruik en swak bestuur deur die regering, staatsdiens, semi-staatsinstellings en privaatsektor, asook morele verval in verskeie ander oorde "roep gebed op vir uitkoms en vir morele, vaardige en toegewyde leiers wat die belange van al die burgers van die land op 'n ewewigtige wyse op die hart dra" (Verklaring van NGK-moderamen 2018a:1-2). Die verklaring lui verder dat die NG Kerk verstaan dat dit 'n besondere verantwoordelikheid het om nooit sy profetiese en kritiese posisie prys te gee nie, maar ook 'n opbouende rol moet speel deurdat lidmate op alle vlakke van die burgerlike samelewing beding vir etiese regering, geregtigheid vir almal, rentmeesterskap, gesonde rasseverhoudinge en vrede en harmonie in 'n diverse samelewing. Hierdie respons beklemtoon die uitdagings van die tyd, sowel as die noodsaak vir die regte gesindhede om die gees van die tyd te trotseer.

Tydens 'n transformasieproses (kerklik, polities, maatskaplik) ervaar mense gevoelens van verlies, ontnugtering en onsekerheid (Dreyer 2017:193). Dit het Heyns ook in 1994 opgemerk. Dit sou nie anders wees nie met die politieke en sosiale transformasieproses in Suid-Afrika, wat in 'n sekere sin revolusionêr eerder as evolusionêr was (Du Toit 1999:2), en dus nooit spontaan nie maar eerder gedwonge was. In dergelike situasies ontwikkel mense se onbegrip van mekaar weens vooropstelde sosiale persepsies wat saamhang met die kollektiewe identiteit en waardes van die sosiale groep waaraan hulle behoort (Opperman-Lewis 2016:448,451). Sonder dat individue noodwendig hiervan bewus is, skep dit hul lewensrealiteit op 'n kognitiewe en 'n normatiewe vlak (Berger & Luckman 1966:106,110). Daarom meen Stone (2014:45,51) sal wit mense nooit ten volle kan verstaan wat apartheid aan ander gedoen het en wat dit vir swart en bruin mense beteken dat apartheid verby is nie. Dit verklaar ook die min begrip van Suid-Afrika se meerderheidsregering vir minderheidsgroepe oor sake wat vir hul identiteit en voortbestaan belangrik is, of hoe diep regstellende aksie en swartbemagtigingsregulasies wit mense tref. Dat dit beleef word as meganismes wat opnuut penaliseer en marginaliseer word uit die geledere van die GKSA (as Afrikaanse gereformeerde kerk) deur De Klerk en Van Helden (2011:8) bevestig. Dit wek by lidmate 'n omgekeerde gevoel van rassediskriminasie en daarom is daar dikwels die gevoelens van verlies en negatiwiteit asook algemene kritiek teenoor die landsregering en die sosiale opset van die dag. Vir 'n individu vereis dit nadenke omtrent persoonlike identiteit, om sosiale insluiting en uitsluiting te verstaan en om te bepaal wat as normaal of nie beskou kan word. Wanneer mense beleef dat aanvaarbare vlakke van verandering oorskry is, migreer hulle fisies óf ten minste geestelik na hul eie binne-wêreld waar hulle geïsoleer voel (Du Toit 1999:2,3).

Friedman (2019:78) toon aan dat na meer as twintig jaar van formele demokrasie ras eerder as klas steeds die Suid-Afrikaanse politiek omraam. Groeiende klasverskille is 'n dominante realiteit in die Suid-Afrikaanse samelewing en hoewel die meeste oproepe tot sosiale veranderinge die beginsels van egalitarisme en herverdeling voorhou om die belange van die samelewing se armes te dien, bly ras die primêre faktor in die vorming en response van die dag se politiek. Dit lê die verhoudingsproblematiek binne die diverse samelewing van Suid-Afrika bloot.

Spanning en verwydering tussen bevolkingsgroepe word veroorsaak deur verskillende sosiale diskoerse wat tussen bevolkingsgroeperinge vloei, beperkte toegang tot bronne en bedreigings wat op die waardes, belange en ekonomiese status van sosiale groepe impakteer (Opperman-Lewis 2016:448,451). 'n Goeie voorbeeld is Suid-Afrika se grondhervormingsproses. Wat bedoel is om restitusie in terme van grondbesit te bring, is egter omgewe met korrupsie, wanadministrasie van staatsamptenare, kommer oor boerdery-mislukkings en voedselsekuriteit asook verlies aan werkgeleenthede. Die NG Kerk-moderamen (2018b:2) verklaar hul besorgdheid dat die staat se mislukking in dié verband tot toenemende populistiese uitsprake oor grondonteiening lei. Verwagtinge by grondloses en onsekerheid by grondbesitters bring polarisasie met rassistiese ondertone wat dit moeilik maak om optimisme te behou. Sodanige saak het direkte implikasies vir 'n demokrasie en vir lidmate van die kerk en daarom moet die kerk sy profetiese stem laat hoor rondom sake van sosiale en ekonomiese geregtigheid (Verklaring van NG Kerk-moderamen 2018b:2-3).

Reeds by die NG Kerk se Algemene Sinode van 1994 dien 'n verslag van die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake omtrent Suid-Afrika se verhoudingsproblematiek, aangebring deur die geskiedenis van gesegmenteerdheid en die stryd tussen verskillende sosiale groepe om sosiale en politieke mag. Die kontakhipotese is as moontlike oplossing voorgehou: toenemende kontak kan houdings tussen verskillende groepe verander. Maar dit gaan nie plaasvind as situasies onaangenaam, gespanne of gedwonge is nie, of as vertroue, gelyke status en gelyke geleentheid vir besluitneming ontbreek. Gemeenskaplike doelstellings sal slegs slaag as wedersydse interafhanklikheid erken word (Agenda van Algemene Sinode 1994:90-92). Die taak van die kerk wat destyds uitgewys is, is steeds relevant.

As draer en verkondiger van die boodskap van versoening, moet die kerk profeties kritiek lewer teen houdings en optrede wat die bevordering van vrede in die gemeenskap belemmer. Alhoewel dit geen maklike taak is nie, moet die kerk die individuele gelowige begelei om oorvereenvoudigde, eensydige sosiale persepsies, wat uitloop op diskriminasie teenoor ander groepe en individue, af te takel. Die geloofwaardigheid van die kerk word immers gemeet aan die optrede van lidmate (Agenda van Algemene Sinode 1994:93).

In afsluiting van hierdie gedeelte: Suid-Afrika se demokrasie word deur reuse-sosiale en politieke dilemmas bedreig. In 1994 het Heyns gemeen dat die ingrypende onverwerkte veranderinge in Suid-Afrika die oorsaak geword het van angs en onsekerheid, van onbetrokkenheid en daarmee saam 'n verlies aan doel onder lidmate van die kerk (Handelinge van Algemene Sinode 1994:531). In die Afrikaanse gereformeerde kerke se soeke om die kompleksiteit en uitdagings van die kerk se bestaanskonteks te deurgrond, is dit duidelik dat die kerk 'n gemeenskaplike openbare etos, wat die demokrasie sal bevorder, moet vestig en ondersteun. Lidmate moet begelei word om hul eie lewensuitkyke te dekonstrueer en dit aan te pas by die eis dat ons nie net aan onsself sal dink nie, maar ook aan ons naaste. 'n Positiewe bydrae hiertoe het 'n positiewe effek op lidmate se godsdienstige betekenissisteme.

Vervolgens word aandag gegee aan die gedagte dat verandering in Suid-Afrika op voortgaande wyse aangebring word deur die verskuiwing van waardesisteme.

2.2 Verandering weens die verskuiwing van waardesisteme

By die Algemene Sinode van 1994 het Heyns daarop gewys dat een van die groot veranderings in die Suid-Afrikaanse samelewing die verskuiwing van waardesisteme is waardeur Christelike waardes in die samelewing bedreig word (Handelinge van Algemene Sinode 1994:530). Waardesisteme wat sekere norme in stand hou en sosiaal laat geld, verander. By die NG Kerk se Algemene Sinode van 2002 word beskryf wat in Suid-Afrika gebeur het: "Die nuwe politieke bedeling sedert 1994 het die einde van die Christendom-paradigma ingelui en gelowiges moes daarna onder 'n sekulêre staatsbestel wat nie langer 'van bo' hul waardes gehandhaaf het nie, geestelik oriënteer" (Agenda van Algemene Sinode 2002:122). In 'n sekulêre staatsbestel staan die staat neutraal ten opsigte van godsdiens en godsdienstige waardes en tree dit op in die publieke belang volgens beginsels wat vry is van religieuse verwysings. Sodoende word die kerk se vermoë om waardes sosiaal voor te hou of voor te skryf ingeperk. Hierdie ordende beginsel, strukturele sekularisasie, is as tendens ook sigbaar ten opsigte van ander samelewingstrukture (wetenskaplik, tegnologies, burgerlik, opvoedkundig en so meer) waarbinne mense werk en leef - godsdienstige instellings en -oortuigings se invloed daarop word gemarginaliseer (Maclure & Taylor 2011:19,20). Dit lei tot sosiale sekularisasie waardeur die invloed van godsdiens in die alledaagse, sosiale praktyke en in individue se lewe uitgekalwe word om plek te maak vir die outonomie van die menslike bewussyn (Maclure & Taylor 2011:21). Volgens Niemandt (2013:9) vind n soort gekonsentreerde sekularisasie die afgelope jare in Suid-Afrika plaas waar al hoe meer mense al minder waarde aan godsdiens heg en bewustelik 'n keuse uitoefen om nie in 'n god te glo nie. Hierdie gronde vir die verskuiwing van Christelike waardes word in 2005 verwoord deur die Sinodale Dienskommissie van NG Kerk Suid-Transvaal (nou Hoëveld): "Die kerk staan nie meer in die sentrum van die samelewing nie. Die gesag van die kerk word oral meer bevraagteken ten gunste van hedendaagse norme en waardes." (Agenda van Sinode van Suid-Transvaal 2005:29). Vanuit 'n Noord-Amerikaanse konteks beskryf Rohadi (2018:13) ook hierdie situasie in wit Protestantse kerke aldaar en word geredeneer dat die kerk in sekulêre samelewings se verlies aan lidmate en aan houvas op mense, kan lei tot die disintegrasie van die Christendom in die midde van die kerk.

Om die tendens van waardeverskuiwing verder toe te lig, word besin oor sosiale faktore wat die verskuiwing ondersteun.

Een rede vir waardeverskuiwing (ook Christelike waardes) in Suid-Afrika is die wêreldwye verskynsel van globalisering wat sedert 1994 'n groeiende uitwerking op Suid-Afrika se sosiale- en ekonomiese opset het. In 2008 skryf Boesak (2008:34) dat Suid-Afrika die verraderlike waters van globalisasie nie omsigtig bevaar nie, maar bolseil bestorm - veral met die werking van globale kapitalisme en voortgesette tegnologiese ontwikkeling as vennoot. Dit het as dominante wêreldwerklikheid die allesomvattende wetmatigheid van die moderne lewe geword en dring deur tot die sosiale grein van gemeenskappe waar dit alledaagse menseverhoudinge beïnvloed. In dié opset word mense se persoonlike waarde en selfrespek verwesenlik deur hul waarde vir die mark (Moltmann 1999:161-162). Christelike waardes soos onderlinge erkenning, deernis en omgee word sodoende ondermyn. Hierdie toedrag is vir Boesak (2008:34) rede tot kommer gegewe Suid-Afrika se problematiek van groot maatskaplike uitdagings - die immer teenwoordige "pynlikste werklikhede". Globale kapitalisme se werkinge van materialisme en die verbruikerskuituur het volgens Czeglédy (2008:289) in Suid-Afrika sedert die einde van apartheid en die verandering in die politieke situasie merkbaar toegeneem. Die voortdurende drang na meer en beter, as bron van menslike sekuriteit, is by ryk en arm teenwoordig en skep sosiale konflik as gevolg van die gaping tussen dié wat het en dié wat nie het nie. Verder bepaal die vlak van ervaring van menslike sekuriteit ook die belangrikheid van godsdiens en godsdienstige waardes in mense se lewens (Norris en Ingelhart 2004:217). Hiervolgens sal die ervaring van hoë menslike sekuriteit 'n sekulariserende drywer wees. Daarom verskil die belangrikheid van godsdienstige waardesisteme oor die spektrum van die samelewing. Na jare van isolasie was die reformatoriese kerke in Suid-Afrika nie voorbereid op die invloed van die globale [post]moderne, tegnologie-gedrewe, sekulêre, pluralistiese wêreldgemeenskap nie, meen Burger (2001:11).

In die dokument Dreaming A Different World, wat die gesamentlike uitkoms van die Evangelisch Reformierte Kirche van Duitsland en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) is, word besin oor die kerk se Christelike reaksie op die uitdagings van globalisering. Vanaf 2006 was dié kerke betrokke by die Globalisation Project waardeur wyses bedink is om gesamentlik uitdrukking (as 'n processus confessionis) te gee aan die Accra-verklaring van 2004 dat geregtigheid 'n kernsaak van die geloof is en op die integriteit van die kerk reflekteer. Die kerk kan nie maar net toekyk hoe globalisering se enorme invloed op sosiale, politieke en ekonomiese gebied ontplooi nie (Boesak et al. s.a.:7-8). In die debat oor die huidige globale ekonomiese orde behoort gereformeerde kerke kritiek te lewer oor die stand van die verbruikersamelewing en -kultuur: Dit is nie volhoubaar op 'n eindigende planeet nie; die ervaring van onreg word vererger weens ekonomiese ongelykhede; etiese beginsels word ondermyn deur materialisme, geldgierigheid, jaloesie, plesiersoekery, trots, bedrog, onder andere; religieuse en kerklike praktyke ondergaan 'n tipe kommodifisering en bring vervlakking in meelewing mee; in die naam van vryheid en verbruikerskeuse het dit 'n allesomvattende en hegemoniese wêreldbeskouing geword met meer en meer "bekeerlinge" - dit is inderdaad 'n vorm van "godsdiens" in ons tyd (Boesak et al. s.a.:43-44). Die profetiese bydrae van die kerk in die publieke lewe moet realiseer by wyse van etiese deelname aan beleidsvorming op plaaslike, streeks- en globale vlak met die impak daarvan op kwesbare mense en gemeenskappe verreken (Boesak et al. s.a.:77).

In samehang hiermee is die menseregtekultuur wat ook eie aan Suid-Afrika geword het. Artikels 1-39 van Suid-Afrika se liberaal-demokratiese grondwet stel, aan die hand van die Handves van Menseregte, die ideaal van 'n burgerlike samelewing met waardes soos respek vir mekaar, 'n gesindheid van kritiese betrokkenheid by owerheidsake, respek vir reg en geregtigheid en besorgdheid vir minderhede en gemarginaliseerde mense (Suid-Afrika 1996:1243-1267). Reeds in 2002, in die NG Kerk se Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake se verslag oor Suid-Afrika se liberaal-demokratiese staatsbestel, is die praktiese resultaat geskets: Egte moraliteit in die Suid-Afrikaanse samelewing is ontoereikend weens die menseregtekultuur wat mense daarop instel waarop hulle meen hulle geregtig is met weinig sprake van diensbaarheid en betrokkenheid by die samelewing (Agenda van Algemene Sinode 2002:235-236). Die rede hiervoor word duidelik as Sharpe (2003) aantoon dat nie-Westerse perspektiewe op menseregte grootliks beïnvloed word deur die oorvleuelende verskynsels van globalisasie, sekularisasie en verstedeliking met die gevolglike aftakeling van gemeenskap. Die globale menseregtekultuur plaas 'n hoë premie op persoonlike vryheid met die individu se eie subjektiewe oortuigings en ervarings as middelpunt. Mense ag hulle vry van sosiale konformisme (in die vorm van sosiale waardes en regulasies). Vir Moltmann (1999:117118) het die belangrikheid van die hedendaagse mens se menseregte 'n beduidende impak op die vorming van enige oorkoepelende, morele raamwerk. Dit het direkte implikasies vir godsdienstige waardes. Met 'n selftoegeëiende reg kies mense watter sosiale en godsdienstige goedere hulle aanneem of nie. So word godsdiens gereduseer tot 'n persoonlike voorkeur en verskuif na die private sfeer (Avis 2003:76). In dié sfeer ontluik spiritualiteit wat sinkretistiese trekke toon omdat individue religieuse goedere vanuit verskillende kerklike- en spirituele tradisies kies wat by hul persoonlike sentimente en soeke na persoonlike welsyn pas (Norris & Ingelhart 2004:40). Die beoefening daarvan skuif weg van kollektiewe, tradisionele vorme van godsdiens. Moraliteit word deesdae op dieselfde wyse gevorm. Dit verteenwoordig 'n radikale verskuiwing weg van kollektiewe religieuse en morele waardes (Avis 2003:94). Niemandt (2013:9) meen die krimping van die NG Kerk kan juis toegeskryf word aan die voorgesette individualisering van godsdiens en die feit dat mense 'n onafhanklike lewe kan en wil lei. Mense is nie teen godsdiens nie, ook nie teen Jesus nie; hulle is slegs godsdienstig en kerklik onverbonde omdat die tradisionele kerk (en Christendom) nie meer soseer in hul geestelike behoefte voorsien nie (Rohadi 2018:30). Hierdie ontwikkelinge verteenwoordig 'n nuwe soort postgodsdienstige geloof wat sosioloë meen deur die sekularisasieproses self opgeroep word (Dekker 1997:221).

Die bogenoemde gaan ongehinderd voort in 'n multikulturele, pluralistiese samelewing soos Suid-Afrika wat volgens Goosen (2015:11-12) ook met die uitwerking van multikulturele globalisasie te doene kry. Die gevolg is dat gemeenskappe hul vermoë verloor om individue lewenslank aan hulle te bind. Dit beteken nie dat die hedendaagse mens volledig buite gemeenskapsverbintenisse staan nie, maar die individuele beweeglikheid van ons dag veroorsaak dat daardie verbintenisse dikwels nou sekondêr is. Gemeenskapsvorming word verder bemoeilik deur die diversiteit van kulturele en sosiale oortuigings en waardes wat toenemend die strukturerende beginsel van ons samelewing word. Die uitkoms is sosiale fragmentasie wat ook impakteer op godsdiens en geloofsgemeenskappe deurdat godsdienstige oortuigings en waardes in die groter gemeenskap gerelativeer word (Avis 2003:68,69). Ons vind groeiende individualisme en etiese relativisme wat daarmee saamloop (Norris & Ingelhart 2004:40). In die verslag van die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake, wat dien by 2002 se Algemene Sinode van die NG Kerk, is die groeiende voorkoms van morele relativisme onder Suid-Afrikaanse burgers uitgewys (Agenda van Algemene Sinode 2002:236). Morele relativisme wek 'n tolerante en relativistiese gees wat alle waarheid en waardes vloeiend en konteksbepaald maak. Waar die kerk en sy lidmate hierdie verskuiwing van waarheid en waardes gadeslaan, ontwikkel die ervaring van anomie - die gevoel van verlies aan orde en 'n sinvolle lewe omdat bekende morele norme verswak word weens die relativering van die betekenissisteem wat dit ondersteun (McGuire 1991:34). Dit is die krisis wat baie lidmate beleef weens kerke se veranderde plek in die Suid-Afrikaanse samelewing en die gepaardgaande onvermoë om openbare morele kodes te dikteer.2

Pluralisme en fragmentasie loop ook deur die kerk se institusionele ruimte. In 2004 erken die Algemene Sinode dat daar ingrypende meningsverskille in die NG Kerk bestaan oor die gesag, inhoud en verstaan van die gereformeerde belydenis en spiritualiteit (Handelinge van die Algemene Sinode 2004: 433). By verskeie Algemene Sinodes is op voortgesette wyse nagedink omtrent Skrifgesag en Skrifgebruik in sekere leerkwessies en gewigtige etiese aangeleenthede. Die kwessie omtrent selfdegeslagverhoudings dien as voorbeeld. Met dié debat het die kerk hom bevind in 'n moeilike situasie van die onversoenbaarheid van verstaansraamwerke en die vraag na verantwoordelike hermeneutiek (Jonker 2016:10). Een manier waarop die NG Kerk die afgelope jare gepoog het om verskillende menings en praktyke op 'n respekvolle manier te hanteer en akkommodeer, was om die "ruim huis"-metafoor te inkorporeer (Oosthuizen 2012:3). In sake die ruim akkommodering van hermeneutiese verskille ten opsigte van selfdegeslagverhoudings, skryf Venter (2016:11), is die NG Kerk juis by 'n waterskeidingsmoment gebring. Die poging om diversiteit en pluraliteit te kondoneer, beklemtoon inderwaarheid die diep verskille. Alhoewel verdraagsaamheid 'n belangrike en nodige waarde in 'n pluralistiese en gefragmenteerde konteks is, wys Stone (2018:10) daarop dat daar 'n fyn lyn is tussen verdraagsaamheid en die handhawing van oortuigings waardeur aanstoot gegee kan en spanning veroorsaak word. Op hierdie fyn lyn kan kerklui maklik hulle outoriteit verloor om nie meer die publiek (en kerkgemeenskap) te dikteer omtrent morele sake nie (Norris & Ingelhart 2004:25).

Die Christendom in 'n pluralistiese en gefragmenteerde milieu beleef die tendens van proliferasie, in die vermeerdering van kerklike denominasies en geloofsuitdrukkings wat gekenmerk word deur kompeterende oortuigings en 'n mengelmoes van spirituele ervarings (Avis 2003:99). Die omvang van religieuse proliferasie in Suid-Afrika word beskryf in 'n verslag van 2016 deur die Kommissie vir Beskerming en Bevordering van Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte (in Engels, Commission for the Promotion and Protection of the Rights of Cultural, Religious an Linguistic Communities, in kort CRL Rights Commission). Luidens die verslag het 'n ongekende en ongereguleerde verskeidenheid kerke, godsdienstige organisasies en Afrika-tradisionele gesondheidspraktyke die afgelope jare in Suid-Afrika opgespring. Die meeste het organisatoriese en administratiewe gebreke en voldoen nie aan behoorlike finansiële en wetlike vereistes nie. Met geen sin vir aanspreeklikheid nie, word godsdienstige dienste, teen 'n sekere prys as "kommoditeite" via verskillende media geadverteer: "heilige water" wat vigs kan genees; geloofsgenesings en beloftes van wonderwerke wat 'n reeks sake insluit van gesondheid tot rykdom. Sommige groepe ontwikkel 'n persoonskultus weens die deïfikasie van kerkleiers. Dit skep die gevaar vir praktyke wat lynreg staan teenoor die beginsels van menseregte of etiek en wat ongebreidel deur hierdie kerkleiers in die naam van godsdiens uitgevoer word, byvoorbeeld, "Practices ... included some religious leaders such as a pastor that fed live rats and snakes to his congregants and even made some of them drink petrol" (CRL Report 2016:6-7). Die skynbare onomkeerbare proliferasie van die Christendom in Suid-Afrika destabiliseer die Christelike front waarvan die Afrikaanse gereformeerde kerke deel geag word. Vir De Klerk en Van Helden (2011:4) is dit opmerklik dat in die totale multikulturele gelowige bevolking van Suid-Afrika daar nie alleen 'n identiteitskrisis by die krimpende tradisionele "susterskerke" bestaan nie, maar dat oor die groeiende Afrika-georiënteerde charismatiese kerke se identiteit (met vele sinkretistiese trekke) ook onsekerheid is. Weens hierdie ontwikkelinge word dit in die algemeen moeiliker om 'n godsdienstige geloofwaardigheidstruktuur sosiaal in stand te hou of opnuut te konstrueer. So verloor die Christelike godsdiens en kerk die vermoë om sosiale binding in die gemeenskap as geheel te bewerkstellig. Dit is dus begryplik dat die CRL die selfregulering van die godsdienstige sektor (alle godsdienstige hierby ingeslote) in Suid-Afrika as uitweg voorgestel het, met die noodsaak van 'n sambreelorganisasie waarby godsdienstige instellings en -leiers akkrediteer en waarbinne eweknie-oorsig en -bestuur (peer review) plaasvind (CRL Report 2016:31). Maar hierin lê nie die antwoord nie, is die kommentaar van FOR SA (Freedom of Religion South Africa) en SACoRRF (South African Council for the Protection and Promotion of Religious Rights and Freedoms [SA Raad vir Godsdiensregte en -vryhede]). Hierdie organisasies wat deur lidmaatskap die groot kerke, denominasies en geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika verteenwoordig, redeneer dat statutêre regulering van godsdiens en godsdienstige praktyke in Suid-Afrika onkonstitusioneel is. Hulle stel 'n etiese kode (Gedragskode vir Godsdienste in Suid-Afrika), waartoe godsdienstige instellings en -bedienaars toestem sonder dwang en in 'n gees van self-regulering, as moontlikheid. Dié kode kan 'n kosbare bydrae lewer tot die reg van godsdiensvryheid en die reg van godsdienstige instellings in Suid-Afrika, terwyl die hoogste etiese standaarde in geloofspraktyke en institusionele bestuur onderneem word (FOR SA & SACoRRF, 2017:9,64-65).

In afsluiting van hierdie afdeling oor die kragte wat waardeverskuiwing meebring, neem ons kennis van Rohadi (2018:35) en De Klerk en Van Helden (2011:6-7) se opmerkings omtrent kerke se moontlike reaksie op hierdie skuiwe:

Geringskatting en ontkenning van veranderinge kan daartoe lei dat kerke (en gemeentes) geheel uit voeling raak met die tyd en konteks en hul relevansie verloor;

Omdat daar min aanpassingsvermoë is, manifesteer geslotenheid. Met 'n verdedigende konserwatisme word die veranderende wêreld begroet met 'n aandrang dat dit aan die kerk moet konformeer;

Die heersende kultuur vind naatloos neerslag in 'n eksklusiewe religieuse sub-kultuur waarvan baie onafhanklike kerke voorbeelde is;

Met 'n liberale openheid is daar inskiklikheid om by die tydgees en heersende kultuur aan te pas en dit in die kerk te akkommodeer. Hierdie reaksie word dikwels by hoofstroomkerke waargeneem.

Wanneer hierdie reaksies gelyklopend aanwesig is in verskillende gemeentes van 'n kerklike denominasie, is dit 'n gegewe dat dit vervreemding in en selfs versplintering van kerklike denominasies aan die hand werk.

Hoe die kerk en spesifiek Afrikaanse gereformeerde kerke hulle posisioneer binne die huidige sosiale opset vra baie wysheid, want dit is geen geringe saak nie. Die noodsaak van strategiese besinning is duidelik.

 

3. Implikasies vir Afrikaanse gereformeerde kerke

Met die inleidingswoorde is genoem dat die kerk van die dag tekens van die heersende tydgees toon. Tot dusver is enkele dominante temas van die Suid-Afrikaanse konteks wat 'n bepalende invloed op die kerklike milieu het, bespreek. Vir die kerk om enigsins relevant te bly in dié konteks moet die implikasies van hierdie werkinge strategies verreken word - op die vlakke van institusionele gestalte en institusionele syn.

3.1 Implikasies vir die kerk se institusionele gestalte

Die eerste aspek wat deur Afrikaanse gereformeerde kerke verreken moet word, is dat hulle institusioneel verander het en steeds verander.

Die harde werklikheid van merkbare sterk afname aan algemene godsdienstigheid (veral georganiseerde godsdiens) spreek vanself. Dit is gewis dat die drie Afrikaanse "susterskerke" dieselfde dalende tendense in lidmaatgetalle beleef as reformatoriese kerke in Europa, Australië en die VSA. In die dekade 1999 tot 2008 het die NHKA se daling van belydende lidmate verdubbel in vergelyking met die dekade tevore. By die GKSA het dit drievoudig toegeneem. Die NG Kerk, NHKA en GKSA se aansienlike persentasiedaling van dooplidmate is feitlik identies sedert 1988 (Dreyer 2017:150-152). Indien die patroon van kerkkrimping (vir Afrikaanse gereformeerde kerke) konstant bly, meen Dreyer (2017:152-154) moet daar strategies besin word oor die langtermyn-implikasies daarvan vir die identiteit en funksionering van die kerk. Vir hom sluit dit besinning oor die volgende in: Die tradisionele herder-kudde-model met 'n ten volle versorgde predikant is 'n verbygaande bedieningsvorm; kerkbegrip en kerklike praktyk verander waar lidmate of ouderlinge moet begin leiding neem; predikante sal meer aandag moet gee aan die opleiding en toerusting van lidmate; meer gemeentes sal saamsmelt en in 'n bepaalde omgewing selfs die gemeentes van verskillende kerke met mekaar; gemeentes sal 'n omvattende missionale bedieningsmodel moet ontwikkel; teologiese opleiding, barmhartigheidsdiens en ander sinodale dienste sal interkerklik moet gebeur.

In kerklike institusionalisme is min behoud, want Dreyer (2017:96) meen dat kerklike institusionalisme volgens tipies modernistiese beginsels van beheer, kontrole, begrotings, bestuur en strategiese beplanning juis al meer onder druk is. Na aanleiding van 'n steekproef wat gedoen is in die GKSA, bevestig De Klerk en Van Helden (2011:11) dat 'n institusionalistiese denkraamwerk dominant in dié kerk is: "Dié denkwyse is so omvattend dat dit reeds die intensiteit van 'n krisissituasie bereik het . Die situasie verdiep egter toenemend, aangesien gereformeerdes nie bewus is van die dringendheid van die krisis van denke nie." Dié situasie is in 2005 by die NG Sinode Suid-Transvaal (Hoëveld) beskryf:

"Baie gemeentebou- en gemeente-ontwikkelingsprosesse fokus op die gesondmaking en 'verbetering van gemeentes se standaarde'. Hoewel sulke prosesse baie meriete het, is daar nietemin onderliggend die moontlikheid dat dit gemeentes hoofsaaklik na binne kan rig. Kyk maar hoeveel gemeentes is besig met bedienings-en finansiële oorlewing. Ons omstandighede vra 'n totaal nuwe paradigma by lidmate en gemeenteleiers" (Agenda van NG Sinode Suid-Transvaal 2005:29).

Institusionele omvorming is 'n gegewe vir Afrikaanse gereformeerde kerke. Godsdiens en godsdienstige instellings transformeer al meer in 'n oop sisteem. 'n Respons hierop is die konsep van "aanpasbare verandering". Dreyer (2017:195-196), met verwysing na Niemandt, Heifetz en Halstead se insigte, verduidelik dat die lewe kompleks is en daarom is daar baie veranderlikes. Anders as die vereiste van 'n modernistiese denksisteem dat verandering / vernuwing / hervorming volgens bepaalde reëls behoort te verloop, hou aanpasbare verandering nie verband met die "normale" verloop van sake nie, en is dit moeilik om die uitkoms van 'n veranderingsproses te voorspel. Geen vanselfsprekende oplossing is dus voor hande nie, alhoewel die vereiste is dat oplossings van belang vir die toekoms moet wees (wat soms 'n radikale breuk met die verlede vereis). Dit verteenwoordig dus 'n proses van skeppende innovasie en eis soms transformasie tot op die diepste vlakke. Weerstand is te wagte. Weerstand teen verandering het volgens Dreyer (2017:193-194) te doen met stolling (in Engels stuckness). In die kerklike milieu lê stolling in vaste strukture en onaanpasbare kerklike praksis, wat ironies genoeg dikwels die resultaat van suksesse in die verlede is. As daar vanuit hierdie strukture en praksis na oplossings vir probleme gesoek word, is dit moeilik om kreatief buite die gewone konvensies te dink. Met verwysing na Seed Educational Trust, stip Dreyer 'n aantal simptome van stolling aan: bestaande strukture word in stand gehou; die verlede word geïdealiseer; dalende getal lede; swak erediensbywoning; konflik; groepvorming; "skuldiges" word geïdentifiseer; gebrek aan visie; bediening stol in vaste en onveranderlike vorme; die onvermoë om nuwe lede uit diverse agtergronde te betrek. Lidmate en kerkleiers moet besef dat gemeentes self oorvleuel met sosiale en kulturele sisteme wat op die diepste vlak kan (en mag) verander en wat direkte impak op gemeentes en die kerk in die algemeen het. Hoewel die reformatoriese beginsel van reformata semper reformanda moontlik die ruimte vir aanpassing en verandering laat, bly die pragmatiese vraag hoe dit moet gebeur, want innoverende idees in die kerklike kultuur kan verskillende vorme aanneem, meen Rohadi (2018:77). Daarom behoort op gemeentelike vlak 'n strategiese benadering gevolg te word waarin die behoeftes van die konteks en kultuur van die gemeente geartikuleer word en 'n bediening daarop geskoei word. Wanneer lidmate beleef dat hierdie benadering 'n positiewe impak op hul lewe maak, begin die lewe van die gemeente ook verander. Maar verandering mag nie Bybels-verantwoorde kernwaarhede kompromitteer nie, andersins verloor die Christendom (en kerk) sy uniekheid en verdwyn sy waarheidsaansprake. Hierteen moet die reformatoriese kerke (en dan die Afrikaanse gereformeerde kerke) op plaaslike gemeentevlak en tot op sy hoogste amptelike vlak waak. Waar gemeentes daarin slaag om stolling te deurbreek en te begin met 'n proses van hervorming kom daar volgens Halstead (verwys na deur Dreyer 2017:194) hernude energie, oop kommunikasie, vertroue in die leiers van die gemeente en 'n gevoel van verdieping in geloof.

3.2 Implikasies vir die kerk se institusionele syn

Kerklike identiteit word dikwels gekoppel aan die uiterlike gestalte van die kerk (denominalisme) of elemente daarvan. Volgens hierdie diskoers word van kerkleiers en predikante verwag om die identiteit van die kerk of gemeente op hierdie vlak in stand te hou. Gebeur dit nie, ontstaan 'n vertrouensbreuk in die leierskap (Dreyer 2017:199). Identiteit behels egter meer. Dit bevat wesenselemente wat gaan oor eenheid, heiligheid, algemeenheid en apostolisiteit, wat neerslag vind in leitourgia, koinonia, kerugma en diakonia (De Klerk & Van Helden 2011:17). Wat gereformeerde identiteit betref, wys Burger (2001:51-52,61,97-98) op die religieuse motiewe wat die gereformeerde tradisie in beweging gebring het, en steeds rigtinggewend behoort te wees:

'n Lewe voor die aangesig van God (Coram Deo):

Die gereformeerde tradisie staan in die erfenis van 'n kerkhervormingsbeweging wat God sentraal in die kerk stel. Vry van kerkgerigtheid en getrou aan hierdie wesenselement behoort Afrikaanse gereformeerde kerke na eie aard die hedendaagse mens se behoefte aan transendensie aan te spreek.

Gebonde aan die Woord:

Alhoewel die hedendaagse mens 'n paradoks in sy denke oor die Bybel verwoord, is die reformatoriese motief om die Woord as gesagvol vir die lewe te aanvaar, asook die toepassing van goeie skrifinterpretasie, steeds vir gereformeerde kerke se identiteit van kardinale belang.

Gerig op die lewe:

Dit is 'n belangrike geloofsdissipline van gereformeerde kerke om op dieptevlak na te dink oor die wêreld weens die oortuiging dat God die kerk nie wegvoer uit die wêreld nie, maar daarop rig. Hierin lê vir Afrikaanse gereformeerde kerke nuwe geleenthede tot relevansie.

Die noodsaak om verheldering van kerklike identiteit is so ver terug as 2002 deur die Algemene Kommissie vir Gemeentebediening by die NG Kerk se Algemene Sinode uitgewys. 'n Gereformeerde gemeentelike ekklesiologie, met die oog op die vernuwing en die toekoms van die bediening in die NG kerk en sy gemeentes, moet die essensiële aspekte van identiteit, gemeentewees en roeping aanspreek. Identiteit wat moet rigting gee, gaan oor die belydenis, "ons behoort aan God alleen", en word bevestig deur konfessionele identiteit. Vernuwing ten opsigte van gemeentewees moet insluit: ruimte vir verskeidenheid en nuwe bedieningsvorme, aanpasbare strukture, ontwikkeling van leierskap en lidmate se gawebediening, erkenning van vroue se wesenlike rol, eredienste as ontmoetingsgeleenthede met God en onderlinge koinonia. Die roeping van die kerk gaan oor die hier en nou, oor sensitiwiteit vir lidmate en hul leefwêreld, oor evangelisasie en 'n publieke getuienis, oor die herstel van ekumeniese bande. Alles saamgevat: Die kerk is geroep om 'n gemeenskap van hoop te wees (Agenda van Algemene Sinode 2002:118-120). Daar is baie verhale van hoop as deel van die kerk se getuienis, maar die vraag is of dit die oorwig van die tydgees kan balanseer of nie.

Die stand van die kerk tans vra na 'n identiteit waarin die organiese verstaan van die kerk as liggaam van Christus beklemtoon moet word (Dreyer 2017:199-200). Leiers in die kerk behoort hierdie identiteit duidelik en konsekwent te verwoord, asook 'n roepingsbewuste diensbaarheid in God se koninkryk te weerspieël. Die kerk kan hierin gekortwiek word weens die feit dat lidmate toenemend hul identiteit in die private sfeer van hul lewe vind en hul eie godsdienstige tradisie herinterpreteer in die lig van hul eie persoonlike ervarings (Maclure & Taylor 2011:81). Gemeenskaplike waardes en oortuigings moet egter steeds gepredik en gevestig word, terwyl die kerk die behoefte aan persoonlike welwese van lidmate (en mense) ook aanspreek (Avis 2003:12). Dit moet geskied met kritiese solidariteit - 'n term wat Johan Heyns gebruik het en wat impliseer dat die kerk nie koud staan teenoor lidmate se wel en weë nie, maar wel krities teenoor hul sondes (ook kollektiewe sondes) (Gaum 1981:36). Daarby behoort die kerk ook te waak dat die konteks onkrities gehandhaaf en geïnkorporeer word in die waardestelsel van die kerk, soos Dreyer (2017:200) tereg verduidelik: "Die kerk beland in 'n verleentheid telkens wanneer die waardes van die konteks ten opsigte van sekere sake verander. Dan moet die kerk vorige besluite herroep en nuwe standpunte formuleer. Daarmee verloor die kerk integriteit en geloofwaardigheid." Die lesse uit die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis spreek hard en duidelik.

Een van die grootste uitdagings is om kerk te wees binne 'n konteks wat weens die sekularisasie van die afgelope aantal dekades skynbaar al hoe minder met God en die kerk te doen wil hê. Veral hier moet kennis geneem word van die denke van die Duitse filosoof Jurgen Habermas wat die begrip post-sekularisme aanvanklik teen 2004 bekend gestel het (Habermas 2010:18). Post-sekularisme beskryf die oplewing van mense se belangstelling in die transendente, die metafisiese en spiritualiteit. In die debat hieroor word verwys na Charles Taylor wat beweer dat sekularisme 'n ontgogeling in die lewe van die moderne mens teweeg gebring het (Taylor 2007:21), en dan word tot die interessante konklusie gekom dat die Christelike geloof moontlik besig is om groeitendense te toon. Met die fokus op die gevestigde kerke in Suid-Afrika, is die vraag wat hierdie kerke moet doen om relevant te bly in die uitbou van die Christelike geloof. Dit word al duideliker dat die paradigmaskuif van sekularisme na post-sekularisme saamhang met die paradigmaverskuiwing van modernisme na postmodernisme, wat veral in die geesteswetenskappe gedebatteer word (Vorster 2013:610). Belewing, ervaring, spiritualiteit en verbondenheid aan God en natuur kom al meer in fokus.

Vorster stel dan dat "die kerk as morele gemeenskap het 'n ryk skat van Bybelse etiek wat voorbeeldig in die post-sekulêre tyd uitgestal kan word en waardeur soekende mense na God gelei kan word. Moontlik kan die herwaardering van die kerk as gemeenskap (juis) (PKK) die sleutel bied om 'n nuwe en ruim bestaansruimte vir die kerk oop te sluit in die ontwikkelende post-sekulêre werklikheid" (Vorster 2013: 615). Die klem verskuif dus al hoe meer van die kerk as struktuur na die kerk as gemeenskapsbelewing. Die tradisionele instituutmodel van die kerk word nie meer as doeltreffend beskou in die mens se soeke na gemeenskap nie. Vorster vind daarom die denke belangrik oor hoe die kerk en veral die boodskapverkondiging ook prakties ingeklee moet word om die mens in 'n groeiende post-sekulêre era te bereik.

Alhoewel die kerk se stem in die samelewing verdof ten opsigte van etiese sake, verdwyn dit nie uit die samelewing nie. Weer eens: Die kerk behoort te help skep aan 'n openbare etos met die welwese vangemeenskappe as doelwit en waardeur sosiale ontaarding getemper word. Dit vra verdraagsaamheid van die kerk, aangesien sodanige etos nie noodwendig enige godsdienstige verwysings sal bevat nie (Maclure & Taylor 2011:107). Die algemene behoefte aan menslike sekuriteit en lewensin wat in alle tipe samelewings bestaan, bied vir die reformatoriese kerke (ook die Afrikaanse gereformeerde kerke) geleentheid om steeds 'n bydrae te lewer - al geskied dit van die kantlyn af. Die kantlyn kan ook die ruimte van nuwe kreatiwiteit wees. Rohadi (2018:71) praat van hierdie ruimtes as oop ruimtes (white space) waar nuwe moontlikhede ontgin kan word. Die post-Christelike kultuur op sigself is vir hom 'n sodanige oop ruimte, wat beskou moet word as 'n geleentheid vir die kerk eerder as 'n belemmering - 'n geleentheid waar die koninkryk ontvou in 'n nuwe kultuur, met of sonder die kerk.

'n Relevante korrelasie-strategie tussen die Christendom (en die kerk) en die kultuur van die dag sal bepaal hoe die kerk van Jesus Christus moet wees in hierdie veranderende Suid-Afrikaanse konteks en hoe dit getroue getuies van die evangelie kan lewer. Een van die belangrikste response wat intussen na vore gekom het, word beskryf as missionaliteit. Die grondbeginsel van missionaliteit is dat gemeentes se bestaansreg hoofsaaklik setel in hul uitreik na die wêreld rondom hulle. Uit die staanspoor moet gemeentes 'n meer kritiese ingesteldheid ontwikkel jeens hul omringende konteks en 'n noodsaaklike profetiese roeping daarbinne beoefen. Saam met ander kerke moet na God se spesifieke roeping vir die konteks geluister word, aan God se missie daarbinne deelgeneem word en deur die Heilige Gees se bekragtiging as getuienis vir Jesus Christus uitgereik word (Agenda van NG Sinode Suid-Transvaal 20 05:173-174). In hierdie begronding lê die kerk se identiteit (De Klerk & Van Helden 2011:17). Ordereël 7 van die NHKA se kerkorde (2016:77-78) adem ook hierdie oortuiging. Die missionale bediening veronderstel dat gemeentes, gehoorsaam aan die opdrag van Christus, met woord en daad getuig van God se liefde en mense leer hoe om Jesus Christus te volg. Lidmate en ampsdraers behoort apologeties vir die waarheid van die evangelie in te tree teenoor alle wêreld- en waarheidsbeskouings wat daarmee strydig is. Op grond van die wet en die evangelie getuig die kerk teenoor die gemeenskap, en word gewaarsku en vermaan oor gedrag, lewenswyses en denkpatrone wat die welwese van die gemeenskap skaad. Dieselfde moet plaasvind teenoor die owerhede. Samewerking met ekumeniese vennote in hierdie verband is noodsaaklik aangesien taal, kultuur en demografiese werklikhede besondere uitdagings bied aan die kerk se missionale bediening. Ook die Algemene Sinode van die NG Kerk besef hierdie erns wanneer in 2015 opdrag gegee word dat 'n Projekspan vir Missionale Transformasie saamgestel word, ten einde 2013 se Raamwerkdokument vir 'n Missionale Ekklesiologie verder strategies te ontwikkel (Handelinge van die Algemene Sinode 2015:24). In November 2015 aanvaar die Algemene Sinodale Moderamen missionale transformasie as eerste prioriteit vir die NG Kerk.

In dieselfde asem moet genoem word dat min van die ideaal van missionaliteit verwesenlik gaan word waar lidmate die gevoel van anomie intens beleef en ander ontredderende ervarings omtrent Suid-Afrika hulle verstaan van die werklikheid inklee.

In afsluiting, rakende die implikasies van resente samelewings- en ekklesiologiese tendense vir die Afrikaanse gereformeerde kerke moet die volgende in gedagte gehou word: "[B]y die kwynende gereformeerde kerke, word die soeke na identiteit en herstrukturering gekniehalter deur 'n onvermoë om denke radikaal volgens Romeine 12:2 ... aan te pas." Stagnasie of onveranderlikheid van hartsdenke lei in die proses tot verdwyning (De Klerk & Van Helden 2011:5).

 

4. Ten slotte

"Vir baie Christene was die kerk in die verlede rustig, koninklik en triomferend op weg," sê Dreyer (2017:10). Dit het egter verander as gevolg van verskeie faktore. In die proses om geloofsisteme te beskerm is daar gewoonlik 'n antagonisme teenoor die heersende kultuur, en 'n veragting van alles wat verskil van die godsdienstige dogma of morele waardes. Maar die vraag is of die kerk deur hierdie houding enigsins 'n geloofwaardige plek in die samelewing inneem en hierdeur groei (Rohadi 2018:23).

Die verdere gevaar bestaan dat waar die partikuliere afgegrens word van die globale en alle klem op die eie partikuliere gemeenskap geplaas word, fundamentalisme nie uitgesluit word nie. Daar hoef egter nie noodwendig 'n onoorbrugbare spanning tussen die algemene en die besondere te heers nie, want albei het immers 'n invloed op waartoe gemeenskappe ontwikkel (Goosen 2015:20-21). Krisis, stryd en verleentheid pas beter by kerk as mag en rykdom en vooruitgang (Dreyer 2017:10). Die kritiese beskouing hiervan help ons egter om deur die vanselfsprekende en klakkelose voortgang van tyd te breek. Nadenke hieromtrent noop 'n persoon (lidmaat) om sy of haar eie identiteit in oënskou te neem. Hierdie inwendige refleksie dien as verwysingspunt gedurende tye van sosiale verandering. In hierdie verstaan lê die sleutel vir die individu om hom- of haarself te posisioneer binne nuwe ruimtes. So vind potensiële persoonlike verandering plaas en word 'n wêreld van nuwe moontlikhede geopen. Hierdie situasie hoef nie die gevoel van identiteitsvervulling te kompromitteer nie en daarom kan die individu sy of haar identiteit in relasie tot 'n nuwe sosiale situasie voortsit (May & Perry 2011:110-111).

In die inleidingsparagraaf is gevra na die inkleding van die Suid-Afrikaanse tydgees, na hoe sosiale en religieuse gebeure die reformatoriese (gereformeerde) kerke in Suid-Afrika en hul lidmate beïnvloed. Die effek van die geskiedenis (en ook die teenswoordige as geskiedenis-in-wording) raak mense se vooruitsigte. Die manier waarop daar omtrent die omvang van die invloed nagedink word, hang saam met mense se fundamentele besorgdhede - die dinge waarop hul hele bestaan gerig is en waarop hulle vertrou. Dieselfde geld vir die kerk van die dag. Daarom stem ek ter afsluiting met Dreyer (2017:24) saam dat transformasie in die kerk en gemeentes net sinvol en standhoudend kan wees as dit gegrond is op teologiese nadenke oor die kerk (ekklesiologie) waarin erns gemaak word met die kerk se fundamentele essensie. Dié gesprek bly belangrik vir die kerk en in die kerk. Hiertoe is gepoog in die ondersoek van die tema.

 

Bibliografie

Agenda van die negende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria. 11-20 Oktober 1994. pp. 1-346.

Agenda van die elfde Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria. 13-19 Oktober 2002. pp. 1-445.

Agenda van die sewentiende Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Suid-Transvaal in Alberton. 18-20 Oktober 2005. pp. 1-216.

Avis, P. 2003. A church drawing near. Spirituality and mission in a postChristian culture. London: T&T Clark International.         [ Links ]

Berger, P. & Luckmann, T. 1966. The social construction of reality. A treatise in the sociology of knowledge. New York, NY: Doubleday.         [ Links ]

Boesak, A. 2008. Kan die NG Kerk vandag nog iets vir Suid-Afrika beteken? Verbum et Ecclesia, 29(1):32-44.         [ Links ]

Boesak, A., Weusmann, J. & Amjad-Ali, C., eds. s.a. Dreaming A Different World. Globalisation and Justice for Humanity and the Earth. The Challenge of the Accra Confession for the Churches. The Globalisation Project Evangelisch Reformierte Kirche, Germany & Uniting Reformed Church in Southern Africa.

Burger, C. 2001. Ons weet aan wie ons behoort. Nuutgedink oor ons gereformeerde tradisie. Wellington: Lux Verbi.BM.         [ Links ]

Commission for the Promotion and Protection of the Rights of Cultural, Religious an Linguistic Communities (CRL). 2016. CRL Rights Commission's preliminary report of the hearings on commercialisation of religion and abuse of people's belief systems. 26 October 2016.

Czeglédy, A.P. 2008. A New Christianity for a New South Africa: Charismatic Christians and the Post-Apartheid Order. Journal of Religion in Africa, 38(3):284-311.         [ Links ]

De Klerk, B. & Van Helden, P. 2011. Oorsake van kerkkrimping binne die tradisioneel Afrikaanssprekende gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Verbum et Ecclesia, 32(1):1-10.         [ Links ]

Dekker, G. 1997. Godsdienst en samenleving: Inleiding tot de studie van de godsdienstsociologie. 4de druk. Kampen: Uitgeverij Kok.         [ Links ]

Dreyer, W.A. 2017. Praktiese ekklesiologie - Kerkwees in die 21ste eeu. HTS Teologiese Studies, Supplementum 10.

Du Toit, C. 1999. The quest for African identity and the concept of nation-building as motives in the reconstruction of South African society. In Walsh T.G. & Kaufmann F., eds. Religion and social transformation in South Africa, (St Paul, MN: Paragon House), pp. 1-23.         [ Links ]

Eagle, G. 2015. Crime, fear and continuous traumatic stress in South Africa: What place social cohesion? Psychology in Society, 49:83-98. http://dx.doi.org/10.17159/2309-8708/2015/n49a7        [ Links ]

FOR SA (Freedom of Religion South Africa) & SACoRRF (South African Council for the Protection and Promotion of Religious Rights and Freedoms). 2017. Comments on the CRL Rights Commission's report on the "Commercialisation" of religion. 27 February 2017.

Friedman, S. 2019. Beyond race or class: the politics of identity and inequality. Transformation: Critical Perspectives on Southern Africa, 100:78-102. http://doi:10.1353/trn.2019.0023.         [ Links ]

Gaum, F.M. 1981. Die kerk en die toekoms van Suid-Afrika. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Giliomee, H. 2018. Die Afrikaners. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Goosen, D. 2015. Oor gemeenskap en plek. Anderkant die onbehae. Pretoria: FAK.         [ Links ]

Habermas, J et al 2010. An Awareness of what is missing: Faith and Reason in a post-secular age. Cambridge: Polity.         [ Links ]

Handelinge van die negende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria. 11-20 Oktober 1994. pp. 347-609.

Handelinge van die twaalfde Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Hartenbos. 10-15 Oktober 2004. pp. 270-452.

Handelinge van die sestiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria. 4-9 Oktober 2015. pp. 1-213.

Hill, D. 2012. Ineptocracy. Times Newspapers:1, Feb.13.

Jonker, L. 2016. Hoe lees ons die Bybel? Verantwoordelik lees moet só lyk. Kerkbode:10, Feb. 5.

Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Gewysig en vasgestel volgens die besluite van die 71ste Algemene Kerkvergadering. 2016.

Lepuru, M. 2016. The illusion of Post-Apartheid South Africa; a Pan-Africanist Black Power analysis. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.vukadarkie.com/post-apartheid-south-africa/ [14 Oktober 2016].

Maclure, J. & Taylor, C. 2011. Secularism and freedom of conscience. Cambridge MA: Harvard University Press.         [ Links ]

McGuire, M.D. 1991. Religion: The social context. 3rd ed. Belmont, CA: Wadsworth Publishing Company.         [ Links ]

Moltmann, J. 1999. God for a secular society. The public relevance of theology. Minneapolis, MN: Fortress Press.         [ Links ]

Niemandt, N. 2013. Die NG Kerk krimp: Waar moet ons die redes soek? Kerkbode: 9, Feb. 1.

Norris, P. & Ingelhart, R. 2004. Sacred and secular: Religion and Politics Worldwide. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Oosthuizen, J. 2012. Kleiner maar ruimer NG Kerk. Kerkbode: 3, Mrt 16.

Opperman-Lewis, H. 2016. Apartheid. Britian's Bastard Child. Wandsbeck: Reach Publishers.         [ Links ]

Rohadi, 2018. Thrive. Ideas to lead the church in post-Christendom. Calgary: RoBarry Publications.         [ Links ]

SAHO South African History Online. 2014. South Africa's Key economic policies changes (1994-2013). [Intyds]. Beskikbaar: https://www.sahistory.org.za/article/south-africas-key-economic-policies-changes-1994-2013 [6 Mei 2014].

Sharpe, 2003. The Challenge to International Human Rights. Carnegie Council for Ethics in International Affairs. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.carnegiecouncil.org/publications/articles_papers_reports/905. [26 Maart 2003].

Stone, H. 2014. Weerskante van die Rubicon. n Onderwysman oor Afrikanerpolitiek. Pretoria: FAK.         [ Links ]

Stone, R. 2018. Introduction. In Spiritual conversations in the digital age. How Christians' Approach to Sharing Their Faith Has Changed in 25 years. A Barna Report, pp. 7-16.

SUID-AFRIKA. 1996. Constitution of the Republic of South Africa no. 108 of 1996. In Statutes of the Republic of South Africa - Constitutional Law. pp. 1241-1331. [Date of promulgation: 18 December, 1996].

SUID-AFRIKA. 2018. Geregtelike Kommissie van Ondersoek ten einde ondersoek na bewerings van staatskaping, korrupsie en bedrog in die openbare sektor met inbegrip van staatsorgane, in te stel (Proklamasie no. 3, 2018). Staatskoerant, 41403:1-16, Jan. 25. [Intyds]. Beskikbaar: https://archive.opengazettes.org.za/archive/ZA/2018/government-gazette-ZA-vol-631-no-41403-dated-2018-01-25.pdf

Taylor, C. 2007. A secular age. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Venter, D. 2016. Hoe lees ons die Bybel? Hieroor moet ons konsensus bereik. Kerkbode:11, Feb. 5.

Verklaring van die moderamen van die NG Kerk oor gelowiges se roeping in Suid-Afrika. Maart 2018a, Pretoria.

Verklaring van die moderamen van die NG Kerk oor die NG Kerk en grondhervorming. Maart 2018b, Pretoria.

Vorster, J.M. 2013. Kerkwees in 'n post-sekulêre tyd. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(4), Desember 2013.         [ Links ]

 

 

1 Empiriese navorsing onderneem deur P Kruger vir PhD-studies (2014) in samewerking met Universiteit van Pretoria se Departement Statistiek. Met die toetsing van die Konsep: Apartheidskollektivisme is navraag gedoen by lidmate van die NG Kerk of hierdie dominante betekenissisteem, waarbinne die meeste lidmate van die NG Kerk effektief geleef het, steeds hul belewenis van die realiteit bepaal. Ouer lidmate neem langer om die geïnternaliseerde apartheidswaardes en -kultuur in hul psige af te takel sodat dit nie meer as maatstaf gebruik word om sosiale gebeurlikhede in Suid-Afrika te beoordeel nie.
2 Empiriese navorsing onderneem deur P Kruger vir PhD-studies (2014) in samewerking met Universiteit van Pretoria se Departement Statistiek. Met die Konsep: Invloed van konteksbepaalde religie (in NG Kerk) is navraag gedoen omtrent lidmate se verstaan van kulturele kontekste se erfenis en invloed op die NG Kerk. Die uitkoms toon dat die konsep oor die geheel van die NG Kerk 'n belangrike faktor is. Die hedendaagse kulturele situasie vereis 'n nuwe manier van dink en interaksie, waardeur die NG Kerk beïnvloed word. Verder is ook getoon dat namate NG Kerk-lidmate ouer word, hulle 'n groter bewustheid toon van hoe hul betekenissisteme geaffekteer word deur die groter sosiale orde waarbinne hulle leef. Hulle is sensitiewer vir die effek van verandering in hierdie konteks wat 'n gevoel van anomie en selfs geestelike ontreddering kan meebring. Die kerk het die taak om hierdie lidmate se belewenisse te verstaan en hulle te begelei om aanpassings te maak.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License