SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.6 issue3Redaksionele voorwoordAfrikaans reformed churches in the humdrum of the times: 1990 and beyond author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.6 n.3 Stellenbosch  2020

 

VOORWOORD

 

'n Begeleidende woord

 

 

1. Ter aanvang

Daar is iets merkwaardigs daaraan dat hierdie supplementum van die Stellenbosch Teologiese Joernaal (STJ) met sy twaalf artikels oor die onlangse verlede (1990-2020) en die nabye toekoms van die vier grootste Afrikaanse gereformeerde kerke in Suider-Afrika, eintlik binne die tydsbestek van twee belangrike maar ook uiteenlopende verwysingspunte redaksionele afronding en finale vorm beleef het. Die eerste verwysingspunt is meer van lokale aard en omvang, en die tweede van absolute universele en globale omvang.

Die eerste verwysingspunt was die redelike onlangse bekendstelling van die film, Dominee Tienie. In hierdie film op die breë doek wat in die eerste helfte van 2019 die aandag van baie mense, gelowiges, predikante en teoloë opgeëis het, word baie dinge en kwessies rakende die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika aan die orde gestel. Sonder om op alle aspekte hier in te gaan, is twee van die mees sentrale lyne deur die hele film besonder opvallend. Die een lyn is redelik aan die begin wanneer ds Tienie vra "Wie is ek?", en dan weer aan die einde die opmerking van 'n omstander teenoor ds Tienie, naamlik "Welkom dominee Tienie!"

Met hierdie twee sentrale lyne uit hierdie film word eintlik ook die wese en doel van hierdie supplementum saamgevat, naamlik eerstens die identiteitsvraag van "wie is ons" as die vier hoofstroom Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika, naamlik die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA). Tweedens is dit ook om vir ons as die gevestigde Afrikaanse kerke in Suid-Afrika in die 21ste eeu te sê: "welkom" in hierdie "nuwe" tye, want julle het tog nog 'n taak en roeping, al is dit anders as dié van 10, 20 en 50 jaar gelede.

Die tweede verwysingspunt wat ons soos die spreekwoordelike dief in die donker nag getref het, is die absoluut globale en universele gebeure as gevolg van die Covid-19 virus. Dit het ons wêreld hier redelik vroeg in die 21ste eeu totaal en onherroeplik kom verander en dit is soortgelyk aan van die allergrootste traumas van die afgelope eeu soos die Groot Griep van 1918, die Depressie van die 1930's, die Eerste en Tweede Wêreldoorloë, en ook die 20-jaar lange Vietnam-oorlog vanaf die 1955's. Met die finale redigering van hierdie artikels teen die tweede helfte van 2020 het hierdie vernietigende virus ten spyte van relatiewe goeie mediese stelsels eintlik die hele wêreld geaffekteer. Dit het in laat Desember 2019 en vroeg Januarie 2020 in China bekend geword. Kort daarna het dit na Suid-Korea, Taiwan, Singapoer en Japan versprei. Sedertdien het dit soos 'n veldbrand wêreldwyd versprei onder miljoene mense, veral in Suid-Europa, en later ook in Engeland en Swede mense begin affekteer met duisende wat reeds gesterf het. Intussen het dit ook na Indië en veral na die VSA versprei waar baie groot getalle mense siek geword en gesterf het. Intussen word Suid-Amerika (veral Brasilië), Australasië en Afrika, en dus ook Suid-Afrika ernstig deur hierdie virus geaffekteer. Teen Oktober 2020 was daar wêreldwyd reeds bykans 30 miljoen mense geïnfekteer en was daar minstens 'n miljoen sterftes.

Die historiese verhaal van die ontstaan van die artikels in hierdie supplementum was die behoefte wat in 2016 uitgespreek is om vir die eerste keer 'n omvattende en gesamentlike, hoofsaaklik tematiese oorsiggeskiedenis van die vier groter Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika in die periode vanaf 1990 tot 2020 daar te stel. Teen die middel van 2019 is daar relatief vinnig maar byna "profeties" besluit om twee verantwoorde hoofstukke oor die toekoms van hierdie kerke tot die versameling ander kerkhistoriese artikels by te voeg. Hierdie toevoegingsbesluit en -proses met twee addisionele hoofstukke (wat ook in 'n werkboek vir plaaslike gemeentegesprekke omskep is) gee aan hierdie supplementum met sy ander elf artikels buitengewone aktualiteit en relevansie, ook te midde van die huidige worstelinge rondom Covid-19. Die voortvloeiende multidimensionele direkte en indirekte effek van Covid-19 gaan waarskynlik nog vir baie lank voortduur, selfs ook na die virus tot op sekere hoogtes bekamp kan word. Maar behalwe ook vir die besinning rondom Covid-19, kan hierdie publikasie 'n belangrike bydrae daartoe wees om prioriteite in die huidige kerklike diskoers wat rondom verskillende kwessies vasgeloop het, wesenlik te korrigeer en aan te pas. Verder kan dit ook rigtinggewend wees vir die debat wat beslis hierna moet volg om ook die gereformeerde kerke en samelewing in die breedste sin van die woord in die 2020's en 2030's te reformeer en te transformeer. Dit wil sê terug na die wesenlike van 'n gesonde en eietydse waardering vir die Skrif en die belydenis, oftewel "back to basics", dit alles te midde van baie uitdagende omstandighede.

Tot dusver het hoofsaaklik individuele kerkgeskiedenisse van die verskillende kerke in die bogenoemde groepering die lig gesien, naamlik die van onder andere prof PB van der Watt en mnr GS Hofmeyr (NGK), prof JC Adonis en dr C Loff (VGKSA), prof B Spoelstra (GKSA) en prof A Pont en prof W Dreyer (NHKA), asook enkele algemene oorsigte oor hierdie familie van kerke. Wat die rol van hierdie kerke in ekumeniese of kaleidoskopiese verband betref, het slegs nog enkele publikasies hieroor verskyn, naamlik dié van prof JW Hofmeyr saam met prof GJ Pillay, asook dié van prof PJ Strauss. Sommige van die bogenoemde denominasionele publikasies gaan intussen mank aan 'n mate van 'n kroniekmatige benadering. Op voetspoor van redelike onlangse standaardwerke onder redaksie van prof F Pretorius (Geskiedenis van Suid-Afrika: van voortye tot vandag) asook prof H Giliomee en prof B Mbenga (New History of South Africa) meen ons dat daar 'n groot behoefte bestaan om tot 'n baie meer omvattende en nuwe historiese beoordeling van kontemporêre Afrikaanssprekendes en hul kerke in Suid-Afrika te kom. In ons geval is die fokus egter nie op die hele geskiedenis vanaf die voortye af nie, maar meer bepaald die onlangse periode sedert 1990. Hierdie supplementum sal dus slegs oor die meer onlangse kerkgeskiedenis en daarnaas 'n blik op die toekoms handel. Dit sal rasse-inklusief en ekumenies van aard wees, tesame daarmee om sekere internasionale verbande van hierdie kerke uit te lig. Die hoop is dat hierdie supplementum, wat dus 'n relatief kort maar resente historiese periode dek as iets van 'n beskeie standaardwerk en verwysingsbron sowel plaaslik as internasionaal in hierdie veld gebruik kan word. Dit sou moontlik ook deur verskillende kerke, dosente en studente vir verdere studie en navorsing aangewend kan word.

Hierdie supplementum se ontstaan wat die persoonlike verhaal betref, het die eerste lewenslig aanskou na aanleiding van 'n gesprek in die verbygaan in 'n koffiewinkel in 2016 in die ooste van Pretoria. Hierdie terloopse gesprek was tussen die toenmalige Hoof-Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), dr Dione Prinsloo en die hoofgasredakteur. 'n Eerste informele dinkskrum het aanvanklik slegs bestaan uit die hoofgasredakteur, prof JW (Hoffie) Hofmeyr en prof Johan van der Merwe, albei van die NGK. By 'n volgende gesprek is prof Rikus Fick van die GKSA, prof Wim Dreyer van die NHKA en dr Pieter Kruger van die NGK van Suid-Afrika betrek. Hierna is met die oog op 'n nog meer verteenwoordigende versameling van kerkhistorici van die verskillende reformatoriese en gereformeerde kerke, ook uitnodigings gerig aan al die ander lede van die huidige span soos prof Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel(f) en prof Christina Landman van die VGKSA, dr Rudolph van der Merwe van die GKSA, dr Barry van Wyk van die NHKA, prof Robert Vosloo en dr Henco van der Westhuizen en later ook dr Barry Tolmay van die NGK. Almal het die uitnodiging baie positief beleef en tegelyk ook aanvaar. Opvallend dwarsdeur die hele projek was die besondere gees en gesindheid van samewerking tussen al die skrywers vanuit die vier verskillende gereformeerde kerke. Hierdie konsensus-soekende en samewerkende houding hou baie hoop en belofte vir die toekoms in.

 

2. Doel van hierdie artikels

Die doel van hierdie supplementum is dus nie om 'n chronologiese verhaal van die verskillende gereformeerde of reformatoriese kerke in Suid-Afrika daar te stel nie maar veeleerder 'n tematiese kerkhistoriese en histories teologiese perspektief te bied. Een van die groot waardes van die geskiedenis is nie net om te besef wat in die loop van die geskiedenis gebeur het nie, maar ook vir die kerke om op die weegskaal geplaas te word met betrekking tot die wese en eise van kerkwees asook om tot 'n beter selfverstaan te kom. Verder wil dit egter nie net eng op die korttermyngeskiedenis van hierdie kerke sedert 1990 fokus nie, maar tog iets van die vroeëre wortels van hierdie kerke blootlê. En miskien nog die heel belangrikste: dit wil hierdie kerke en hul lidmate help om die toekoms tegemoet te tree met 'n redelike duidelike en helder toekomsperspektief om so ook nie net medebouers van hierdie kerke te wees nie, maar om rigting te help aandui oor waarheen hierdie kerke as gevestigde kerke maar ook as deel van die liggaam van Christus saam met andere kan of behoort te beweeg.

Hoewel ons ook verskeie van die kleiner Afrikaanse kerke, soos byvoorbeeld die Afrikaanse Protestantse Kerk of die Evangelies Gereformeerde Kerk of die Calvyn Protestantse Kerk, by hierdie oorsig sou kon insluit, moes ons om redes van orde-grootte, historiese oorwegings en beskikbare ruimte daarvan afsien. Ons wou hulle dus hoegenaamd nie misken nie. Moontlik put ook hulle egter tog op direkte of indirekte wyse iets uit hierdie oorsig.

Hierdie publikasie kan en wil nie aanspraak daarop maak om al die vrae oor die verlede maar ook die antwoorde vir die toekoms aan te bied nie: trouens, dit sou arrogant wees om dit te probeer doen. In die historiese deel word van die jongste literatuur asook sommige van die belangrikste rigtingaanwysers oor bepaalde temas soos saamgevat in die belangrikste meerdere vergaderings van die onderskeie kerke belig. Dit is egter nie in die volle sin van die woord 'n suiwer stuk akademiese geskiedenis nie, want daarvoor sou nog veel meer primêre navorsing in kerkargiewe gedoen moes word, asook in die nagaan van tendense soos opgeteken in verskillende ander kerklike bronne en kontekste. Wat wel hier aangebied word, is oorsigartikels wat 'n histories-teologiese interpretasie en kritiese analise van, asook refleksie oor ontwikkelinge binne hierdie kerke en wel binne die betrokke tydsgewrig en te midde van die sosio-politieke en ekonomiese konteks van Suid-Afrika in hierdie oorgangsjare bevat.

 

3. Nuwe besinning oor die kerke se toekoms

Behalwe dat die medewerkers as kerkhistorici almal selfstandig met die oorspronklik beplande projek en die verskillende temas te werk gegaan het, het twee groeps-werkswinkels in Maart 2018 en April 2019 ook plaasgevind om 'n samespraak te hou oor die benaderingswyse, die reikwydte maar ook die vordering met die projek. Naas die bogenoemde werkswinkels en die relatief skielike besluit om 'n addisionele toekoms-perspektief gegrond op wetenskaplike navorsing aan te bied, het daar toe op 25 Julie 2019 'n baie waardevolle mini-werkswinkel in Pretoria gerealiseer waartydens die toekoms van hierdie kerke uitgebreid in 'n oop gesprek bespreek is. Hierdie mini-werkswinkel het uiteindelik uitgeloop op en die toevoeging van twee artikels oor die toekoms van die genoemde kerke. Betrokkenes by hierdie geleentheid met dr Coetzee Bester (NGK) as fasiliteerder was in alfabetiese orde die volgende: ds Cassie Aucamp (GKSA), prof Nico Botha (VGKSA) (verskoning), prof Rikus Fick (GKSA), prof Wim Dreyer (NHKA), ds Anandie Greyling (NGK), ds Paul Grobler (NGK), prof Hoffie Hofmeyr (NGK), dr Pieter Kruger (NGK), prof Christina Landman (VGKSA), dr Frikkie Labuschagne (NHKA), dr Henoch Schoeman (NGK), mev Marlene Schoeman (NGK), ds Quintus Smit (NGK), dr Barry Tolmay (NGK), ds Janine Truter (NHKA), dr Andre Ungerer (NHKA) en prof Johan van der Merwe (NGK).

Die aanvanklike titel van die supplementum is toe in die lig van hierdie nuwe dimensie aangepas om juis hierdie addisionele element te akkommodeer. Gevolglik, in plaas van 'n titel soos n Nuwe kerkgeskiedenis van die histories gereformeerde kerke in Suid-Afrika: n krities-historiese refleksie op hul onlangse kerkgeskiedenis (1990-2020), het die titel ontwikkel na Vier gereformeerde kerke in Suider-Afrika (1990-2020) met as subtitel Platform op pad na die toekoms: die onlangse verlede en die nabye toekoms van vier Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika.

 

4. Terminologie en afkortings

Enkele terminologiese opmerkings is tersaaklik. Ons gebruik deurgaans die term Afrikaanse gereformeerde kerke as versamelnaam vir die vier hoofstroomkerke wat hier ter sprake is. Afrikaanse gereformeerde kerke word met kleinletters gespel om dit te onderskei van die een spesifieke kerk naamlik die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA). Verder gebruik ons as wisselvorm en as sinonieme van mekaar die terme, gereformeerd en reformatories. Laasgenoemde word veral deur die NHKA as term gebruik en wel met 'n sterk klem op die dinamiese, voortgaande en profetiese karakter van hervormd- of gereformeerd-wees. Die eersgenoemde term word grootliks deur al die ander kerke gebruik, naamlik die NGK, die VGKSA en die GKSA.

Met betrekking tot die primêre afkortings het dit eintlik net te make met die vier hoofstroomkerke se name wat telkens soos volg afgekort word, naamlik Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA).

Sekondêre afkortings wat in die verskillende artikels gebruik word, word telkens deur die betrokke outeurs verduidelik. Wanneer 'n naam of term verderaan in 'n artikel afgekort word, sal die afkorting met die eerste gebruik daarvan aangebied word en dan daarna doodgewoon sonder enige verdere verduideliking as afkorting gebruik word.

 

5. Dankwoord aan verskillende persone en instansies

Ons wil aan die begin van hierdie ontledende maar hopelik ook rigtinggewende reeks van oorsigartikels 'n woord van dank uitspreek teenoor 'n hele aantal persone en instansies. Allereers 'n woord van opregte dank en waardering aan prof Robert R Vosloo, die hoofredakteur van die Stellenbosch Teologiese Joernaal (STJ) (wat vroeër as die NG Teologiese Tydskrif [NGTT] bekend gestaan het). Hy het reeds in 'n vroeë stadium in die geboorteproses van hierdie reeks artikels aangedui dat, indien hierdie artikels aan die vereistes sou voldoen, dit as 'n supplementum van hierdie joernaal oorweeg sou kon word. Vervolgens het die twee Hoof-Uitvoerende Beamptes van die SAAWK van die laaste paar jaar, dr Dione Prinsloo en prof Anne-Marie Beukes, tesame met die administratiewe beampte vir Toekennings en Beurse, me Melanie Rens deurgaans die hele navorsingsprojek met belangstelling gevolg en die taak direk en indirek vir ons baie makliker gemaak. Baie dankie vir jul belangrike finansiële ondersteuning maar ook dat ons so vlot, hartlik en vriendelik met julle kon saamwerk. Ons hoop dat hierdie supplementum ook die SAAWK eer aandoen.

Verder 'n woord van baie groot waardering aan me Biffy van Rooyen wat deur haar chemikus-eggenoot prof Peet van Rooyen bygestaan is met die besondere taalversorgingsdienste. Hul kwaliteit van werk en effektiwiteit is baie hoog aan te prys. Hiermee ook 'n woord van groot waardering aan verskillende gespreksgenote soos dr Coetzee Bester, dr Henoch en mev Marlene Schoeman, mnr Jan en mev Susara Fourie en prof David Whitelaw vir nadenke oor die projek in sy verskillende fasette. Verskeie van hulle was ook so vriendelik om uit die oogpunt van Jan en alleman artikels te lees en waardevolle insette te lewer daaroor. Hiernaas 'n verdere woord van besondere waardering aan mnr Danny Fourie (teksredakteur) en sy span by die Christelike Lektuurfonds (CLF) wat 'n baie groot aandeel aan die finale uitleg en tegniese versorging van hierdie supplementum en die twaalf artikels geneem het. Laaste, maar beslis nie die minste nie, ook 'n woord van baie groot waardering aan al die medewerkers tot hierdie supplementum wat elkeen 'n eiesoortige maar belangrike artikel tot hierdie versameling gelewer het. Eweneens ook 'n woord van opregte waardering aan my twee mede-gasredakteurs naamlik prof Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel(f) en sedert haar ernstige siekbed en afsterwe, prof Rikus Fick. Dit was vir ons hele groep van medewerkers aan hierdie projek 'n groot skok toe Mary-Anne na 'n groot operasie nie herstel het nie en uiteindelik op 19 Mei 2020 gesterf het. Ons as hele groep dra dus graag hierdie supplementum aan haar nagedagtenis op en eer haar vir haar groot bydraes tot hierdie supplementum, ons vakgebied, tot die teologie in die algemeen, tot die kerklike wêreld plaaslik en internasionaal, en tot die breë samelewing. Mary-Anne (postuum) en Rikus, ek het baie lekker met julle saam gewerk. Ek het hoë waardering vir jul kundigheid, jul noukeurigheid, jul toewyding en lojaliteit aan hierdie projek, en ten slotte ook vir ons geesgenootskap rondom baie dinge.

Ons vertrou dat u as leser die inhoud, omvang, relevansie en besondere aktualiteit van hierdie supplementum oor die algemeen as 'n positiewe en insiggewende ervaring sal beleef.

Prof JW (Hoffie) Hofmeyr (NGK)

Prof MA (Mary-Anne) Plaatjies-Van Huffel (VGKSA) () (1959-2020)

Prof PH (Rikus) Fick (GKSA)

Gasredakteurs (Supplementum)

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License