SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.5 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.5 n.3 Stellenbosch  2019

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2019.v5n3.a27 

GENERAL ARTICLES

 

Ampsherstel as 'n bedienaar van die Woord –'n Gereformeerd-kerkregtelike benadering

 

The restoration of a preacher or minister in church – a Reformed approach

 

 

Strauss, PJ

Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika StraussP@ufs.ac.za

 

 


Trefwoorde: Ampsherstel; Gereformeerde kerkreg, ampsgeskiktheid; bedienaar van die woord, tug


ABSTRACT

The article is looking into the history and present practice in reformed churches with a connection to the Dutch Reformed Church of the 16th and 17th century, on the restoration of deposed preachers or ministers in the church office. Out of the Dutch Reformed history comes a tendency to list certain sins in church orders as serious enough to make it impossible for the relevant church assemblies to restore someone in office, regardless of the specific context. This list prevents assemblies from using their own discretion when a matter of restoration as a minister is attended to. It thereby kills the pastoral-judicial character of church affairs.
Against this stoned approach, writers and churches opt for room for the said assemblies to decide in their own pastoral orientated discretion over matters of restoration in the office as a minister. A room to which a certain framework of broad guidelines is applied.


 

 

1. Inleiding en probleemvraag

Dit kan aanvaar word dat die drieledige doel van die tug in gereformeerde kerke waarin die invloed van die Geneefse Hervormer Johannes Calvyn (1509-1564) duidelik sigbaar is, naamlik die eer van God, die heil van die gemeente en die behoud van die sondaar, bedoel is om alle tuggevalle te dek (Sizoo sa IV:260-262; Sadler 1979:15). Hierdie oogmerke vul mekaar aan en vorm saam die geïntegreerde, omvattende doel van die kerklike tug. Vir gereformeerde kerke met 'n Dordts-Nederlandse band ('n band met die rigting en besluite van die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619) gaan dit in die kerklike tug om die behoud van die sondaar vir die heil van die gemeente gerig op die eer van God. As die sondaar berou toon na sy kerklik vasgestelde sondes en die tugmaatreëls daarop, het die tug sy doel bereik. So vorm tug 'n kernelement in die Woordgetroue gemeente as 'n vergadering van - op sy beste - geregverdigde sondaars (Luther se simul iustus ac peccator, De Jong 1987:170). Gelowiges, maar steeds sondaars wat reeds "in beginsel" deur die kruis van hul Middelaar en Verlosser Jesus Christus van sondeskuld en -smet voor God bevry is en "in beginsel" deur die geloof in sy opstanding opgewek is tot 'n omvattende (in die sin van die volle mens) nuwe lewe. Verloste sondaars wat deur die kerklike tug as een van drie merktekens van die ware kerk (Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 29 in NG Kerk-Uitgewers 1982:29) gestimuleer word om, gehoorsaam aan God, sy kerk en koninkryk te bevorder (Sadler 1979:15; NG Kerk-Uitgewers 1982:47).

Kortom: as die kerklike tug die verloste sondaar tot berou en bekering beweeg, is sy doel grootliks bereik. As die tug deur geestelike middele soos vermaning, sensuur en afsnyding 'n oortuigende berou by die getugde, verlosde sondaar ontlok, werk dit geestelik gesond. So stimuleer die tug hierdie sondaar om te kwalifiseer vir die reg van lidmate op die kerklike genademiddele soos die sakramente (Sadler 1979:203-205). 'n Reg wat deur die Woord en Gees van God gebruik word om mense te laat groei as die ware kerk van Christus. Die Nederlandse Geloofsbelydenis stel dit so:

... die tug bring mee dat "almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is verwerp, en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken ... " (NG Kerk-Uitgewers 1982:29).

Tug oor predikante in hierdie snit van gereformeerde kerke wat tot die afsetting of verwydering van die dominee uit sy amp lei én sy herstel in diens van een of meer gemeentes, is egter nie 'n eenvoudige saak nie. In hierdie kerke is die amp van die bedienaar van die Woord in die reël 'n diens in 'n gemeente of, by wyse van afspraak met sy kerkraad, meer gemeentes. Die amp setel in die gemeente en buite gemeentes is daar geen kerklike amp nie (Nederduitse Gereformeerde Kerkorde gebruik as NGKO 2017:1-5).

Normaalweg gaan dit by die Calvinisties-gereformeerde kerke in die ampsherstel van die bedienaar van die Woord om die vraag na sy/haar opregte berou en boetvaardigheid oor die oortreding, maar ook die vraag na sy/ haar ampsgeskiktheid na die gevolge van die tugsaak wat tot sy/haar ampsverlies gelei het. Dit gaan ook om sy/haar beeld in die gemeente of gemeentes as 'n geloofwaardige bedienaar van die Woord - in die lig van die gebruikte tugmaatreëls.

Hierdie artikel konsentreer op die vereistes vir iemand wat na afsetting in die amp van bedienaar van die Woord herstel wil word. Wat was/is die vereistes vir herstel in hierdie amp in gereformeerde kerke met 'n Dordts-Nederlandse konneksie en het dit oor die jare verander? As bronne vir 'n gereformeerde benadering van die saak - soos gestel in die titel van hierdie artikel - word die geskrifte van enkele gereformeerde kerkregtelikes en kerkordes van gereformeerde kerke gebruik: skrywers en kerkordes wat tekens vertoon van 'n Dordts-Nederlandse konneksie. Kerke wat die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisskrifte aanvaar en 'n herkenbare Dordts-georiënteerde inrigting van die kerk navolg.

 

2. Ampsherstel vra ampsgeskiktheid

Jansen tref 'n onderskeid tussen 'n gelowige se "reg" op kerklidmaatskap en sy/haar kwalifisering vir die amp na geldige kerkordelike prosesse (Jansen 1952:343). Bouwman glo dat "boetvaardigheid" of egte berou alleen "niet voldoende" vir ampsherstel is nie.

... het is mogelijk, dat zij niet meer het ambt waardig geacht kunnen worden, of ook, dat zij door geen enkele gemeente weder geroepen worden" (Bouwman 1985:669; vgl Spoelstra 1989:428 vir dieselfde argument).

Bouwman toon aan dat die toets vir waardigheid en beroepbaarheid vir die amp deur die gemeentes gesamentlik (deur die kerkverband) en die beroeping en bevestiging deur 'n gemeente gedoen word. Sy prosedure hiervoor loop op dieselfde kerklike spoor met dieselfde kerklike stasies as die stappe vir iemand wat vir die eerste keer die amp van die bedienaar in 'n gemeente kan beklee. Legitimasie of hernude legitimasie beteken eenvoudig dat die persoon tot die amp van 'n bedienaar van die Woord in 'n gemeente beroepbaar is. Die kerkverband via sy wettige verteenwoordigers soos 'n deputaatskap of 'n kommissie van 'n sinode, 'n ring of klassis óf die klassis self as 'n meerdere vergadering, besluit na 'n behoorlike ondersoek dat die afgesette persoon ampsgeskik is en daarom beroepbaar verklaar of gelegitimeer kan word (Nauta 1971:57-66; Visser 1999:7-38; NGKO 2017:1-5). Op dieselfde spoor bepaal die NGKO 2017 artikel 6 dat toelating tot die amp van die bedienaar van die Woord geskiktheid vir die amp, 'n deeglike teologiese opleiding en 'n ondertekening van die legitimasieverklaring van die Ned Geref Kerk wat die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisskrifte insluit, vereis. Alles aksies met die oog op 'n Skrifgetroue bediening in gemeentes wat deur meerdere vergaderings as vergaderings van die verband elk op sy eie terrein begelei of hanteer word (NGKO 2017:2; Strauss 2010:67).

Binne so 'n beginselraamwerk besluit die Sinode van Emden in 1571, die eerste van sy soort in die Nederlands-gereformeerde tradisie, in sy artikel 34 dat afgesette bedienaars van die Woord wat die "kerk" van hulle berou of boetvaardigheid oortuig, deur die "oordeel" van die "classikale verzameling" opnuut beroepbaar gestel kan word - vir 'n herstel of herbevestiging in die amp (teks in Pont 1981: 107; vgl ook Biesterveld en Kuyper 1905:42). Hierdie bepaling word deur die Provinsiale Sinode van Dordrecht van 1578 in sy artikel 101 (Biesterveld en Kuyper 1905:125) en die Nasionale Sinode van Middelburg van 1581 in sy artikel 64 (Biesterveld en Kuyper 1905:158) voortgesit. Hierna verdwyn dié artikel uit die kerkordes wat op die besluite van Emden en Middelburg bou en daardeur in hierdie tradisie volg (kyk Rutgers 1971:9-10 se uiteensetting met voorbeelde van hierdie Kerkordes). Dit kom ook nie in die kulminasiepunt van hierdie ontwikkeling, die Dordtse Kerkorde (gebruik as DKO) van 1619, voor nie (vgl Biesterveld en Kuyper 1905: 225-250; Pont 1981:176-186).

Kanonici of kerkregtelikes bespiegel oor redes vir die weglating van hierdie bepaling in die Nederlands-gereformeerde kerkordelike tradisie. Bouwman oorweeg die moontlikheid dat die daaropvolgende sinodes die artikel vergeet het, maar volstaan met die waarneming dat ander kerkordebepalings oor beroepbaarstelling artikel 34 in elke geval oorbodig gemaak het. Sekere afgesette persone is nie weer ampswaardig geag of deur gemeentes beroep nie. Hulle pad na ampsherstel is volgens die bestaande kerkordelike prosedure begin, maar nie voltooi nie. Hierdie feit dui volgens hom daarop dat vrese vir 'n te maklike ampsherstel deur kerkvergaderings - en daarom weerstand teen artikel 34 - ongegrond was (Bouwman 1985:668-669). Jansen wat dink dat 'n versuim "blijkbaar" tot die weglating van artikel 34 gelei het, wys daarop dat die kwessie van ampsherstel nie daarmee "buite werking" geraak het nie. Klasses en partikuliere sinodes het volhard met dieselfde prosedure vir ampsherstel. Hy handhaaf die standaardvereistes vir ampsherstel na afsetting: 'n boetvaardigheid wat die herstel van lidmaatsregte voor ampsbekleding moontlik maak en geskiktheid vir die "bijzondere vereisten voor het ... ambt". 'n Verkiesing tot die amp kan immers eers volg op 'n toelating tot lidmaatsregte waarvan die reg om tot 'n amp verkies te word, een is (Jansen 1952:346). Van Dellen en Monsma oordeel dat die Dordtse "vaders" met die weglating van artikel 34 uit die DKO volhard het, omdat hulle groot gevaar in ampsherstel na 'n ergerlike ("grievous") sonde gesien het. Daarom het hulle hulle ook daarvan weerhou om die saak in die DKO te noem. By hulle word die effek van hierdie ergerlike sondes op die amp dus byna vooraf bepaal (Van Dellen en Monsma 1967:333).

'n Tendens wat by vroeëre Nederlands-gereformeerde sinodes en 'n erkende kanonikus soos Voetius in hierdie kringe voorkom, is geykte sondelysies wat 'n alte maklike ampsherstel en daarmee - volgens voorstanders - bolangse kerklike aanslag, wil verhoed. Hierteenoor staan latere gereformeerdes wat wil wegkom van voorafomskrewe sondes waaraan 'n bedienaar van die Woord skuldig bevind word en wat lei tot sy/haar permanente afsetting as bedienaar. Kerkregtelikes wat hierdie uitkomste eerder oorlaat aan die diskresie en pastorale "speelruimte" van kerkvergaderings. In sy werk oor die kerklike tughandeling bepleit Sadler die toepassing van Bybelse beginsels en norme met liefde en geregtigheid in die omstandighede en met die oog op tasbare berou by die sondaar en sy/haar kerklike herstel. Volgens Sadler moet daar groot "soepelheid en aanpasbaarheid ." in "die tyd en die omstandighede" waarin die tug toegepas word, wees. Verpligte detailvoorskrifte smoor die hart van die kerklike tug en neig na 'n Roomse Corpus Iuris Canonici of gedetailleerde kerklike wetboek (Sadler 1979:3034). Sy vraag is: waarom wegbeweeg van detailvoorskrifte in tugsake, maar dit behou in die geval van die tug oor die dominees?

 

3. Sondelysies wat ampsherstel kanselleer

Die vermaarde Voetius (1589-1676, De Jong 1987:266) voer aan dat ampsherstel na afsetting as gevolg van sondes wat - destyds - van staatsweë die doodstraf kon kry of sondes soos egbreuk, godslastering, diefstal, meineed en hoogverraad, onmoontlik is (Kruger et al 1966:480). In hierdie sake ignoreer hy die speelruimte wat Sadler later vir kerkvergaderings bepleit. Verder impliseer hy dat die negatiewe assosiasie wat sulke sondes by die kerkvolk wek, onder watter omstandighede ook al, tot permanente ongeskiktheid vir die amp by die betrokke persoon lei. Hier is nie 'n moontlikheid van kerklike vergifnis en ampsherstel nie. Selfs al is daar berou, bekering en versagtende omstandighede by die dader, kan die sondesmet (en sondeskuld?) in die oë van 'n geestelik verstarde (?) kerkvolk nie verdwyn of buite rekening gelaat word nie. In hul gemoed of gees is vergifnis én ampsherstel as gevolg van die Here se begenadiging na sulke growwe sondes, onmoontlik. Hulle keer dus die rug op die implikasie van die Skrifwaarheid: God wat om Christus wil vergewe, verlos vergeefde sondaars of bedienaars van die Woord "in beginsel" totaal en daarom ook van ampsongeskiktheid.

'n Sondelysie met spesiale sondes by gereformeerdes kom vanaf die Nederlands-gereformeerde Sinode Middelburg van 1581 wat dit aan die Kerkorde van Calvyn, die Ordonnances Ecclesiastique artikel 25 en 26 van 1541 (teks by Pont 1981:26), ontleen. Op sy beurt oormerk die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA-KO, Visser 1999:v) artikel 80 wat die DKO 1619 artikel 80 hierin feitlik woordeliks napraat, die volgende sondes vir skorsing en afsetting uit die amp: valse leer of kettery, openbare skeurmakery, openbare godslastering, simonie, 'n trouelose verlating van die diens of indringing in die diens van 'n ander, meineed, egbreuk, hoerery, diefstal, geweld, dronkenskap as gewoonte, vegtery, onregverdige winsbejag en ander sondes of misdade wat die dader by die kerk en die wêreld eerloos maak (Pont 1981:185; Visser 1999:283). Kruger et al en Visser noem artikel 80 egter 'n lys van die vernaamste, growwe sondes en nie 'n afgeslote "katalogus" van sondes wat outomaties met skorsing of afsetting getugtig word nie. Visser wys op die woorde "voornaamste" in die DKO artikel 80 en "vernaamste" in die GKSA-KO artikel 80 (Kruger et al 1966:479; Visser 1999:284). Op sy beurt noem Spoelstra die sondelysie van die GKSA-KO artikel 80 net 'n "leidraad". 'n Leidraad wat sy historiese wortels in die Nederlands-gereformeerde kerkordelike tradisie vind. (Spoelstra 1989:433).

Hierdie skrywers ontken dus die wenslikheid van 'n versteende lysie wat die diskresie van die betrokke kerkvergadering uitskakel. Wat hulle egter nie uitskakel nie, is om sondes konteksloos te kategoriseer en uit te lig. 'n Tendens tot verstening wat kerkvergaderings in elk geval in hulle pastorale oordeel of diskresie strem. Spoelstra wys daarop dat die formulering van openbare growwe sondes soos in die GKSA-KO artikel 80 nog kon pas in die "eenvoudige kulturele samelewing" van die 16e eeu, maar nie meer in vandag se permissiewe, religieus-geskakeerde samelewings waarin 'n persoon nie meer so maklik as "eerloos" beskou word nie. Spoelstra voel dus implisiet dus dat kerkordes as dokumente wat ook 'n tydsgebonde kant het, hulle van sondelysies wat versteend en konteksloos voorkom, moet weerhou (Spoelstra 1989:433-434).

Die NGKO 2017 artikel 66.4.5 kom ook met iets van 'n sondelys vir die afsetting of beëindiging van legitimasie. As 'n kerkvergadering hierdie stap as gevolg van owerspel, onsedelikheid, egskeiding, moord, meineed, diefstal of 'n leerdwaling geneem het, mag die herstel van legitimasie of hernude beroepbaarstelling alleen "by hoë uitsondering, nadat gunstige aanbevelings van alle betrokke kerkvergaderings ontvang is, deur die Algemene Sinodale Moderamen op aanbeveling van die Algemene Steunspan Predikantsake, verleen word" (NGKO 2017:20). Die eerste NGKO naamlik die NGKO 1962 se "growwe diefstal" word in 1994 'n vae ongekwalifiseerde "diefstal" (terwyl tugwaardige sondes volgens dieselfde NGKO 1994 'n "openbare, ergerlike" karakter dra, NGKO 1994:14) en sy lysie van 5 word in 1994 'n lysie van 7 sondes (NGKO 1964:14, NGKO 1994:16). Diefstal se tugwaardige graad van ergerlikheid as "grof" word laat vaar en leerdwaling sonder enige nadere kwalifisering by die aanstootlike lys van sondes gevoeg. Leerdwaling as 'n begrip wat reeds by die Nederlandse Sinode van Middelburg van 1581 via Calvyn se Ordonnances Ecclesiatique (1541) in die Dordts-Nederlandse kerkordetradisie opgeneem is (Pont 1981:26; Biesterveld en Kuyper 1905:158). Daarmee maak die NGKO 2017 nie legitimasie en beroepbaarstelling na afsetting op grond van sondes op hierdie lysie onmoontlik nie, maar sonder hy ampsherstel na afsetting op grond van hierdie sondes tog uit vir goedkeuring deur die Algemene Sinodale Moderamen. Die implikasie is dat die sondes soos aangedui meer ergerlik as ander is en buite konteks gekategoriseer word. Die ou Nederlands-gereformeerde spook uit die 15e eeu loop weer hier. Ten spyte van die feit dat dit nie gekwalifiseer of in terme van tugwaardige sondes omskryf word nie, word 'n ongekwalifiseerde onsedelikheid, leerdwaling en diefstal in die lysie opgeneem. Daarby skep die breë aanduiding van hierdie sondes die moontlikheid dat die pastorale diskresie van kerkvergaderings in tugmaatreëls op hierdie sondes én 'n omseiling van die NGKO wat sake so kompliseer, in hierdie vergaderings seëvier. As die NGKO op hierdie punt uit pas is met die pastoraal-juridiese karakter van die kerklike tug, verloor hy sy relevansie vir die tug. 'n Gebrek aan relevansie wat deur die regsgevoel van die betrokke vergadering, die oortuigende berou en boetvaardigheid van die dader en die kerklike motief van onderlinge vergifnis, versoening en kerkherstel, beklemtoon word. 'n Gebrek aan relevansie wat deur sy eie onnoukeurige formulerings verhoog word (Coertzen 2003: 207).

 

4. Saak van die Here

By kerkregskrywers is daar ter wille van "het belang en de zaak des Heeren ... voorzichtigheid" ten opsigte van die ampsherstel van 'n afgesette bedienaar van die Woord. Vir Bouwman moet herstel alleen plaasvind as daar nie skade vir die saak van die Here is nie. Hoewel die belang van die gesin van die dominee as die broodwinner van die huis verreken moet word, staan die eer en die saak van die Here "boven het belang van" 'n mens of 'n gesin. Hy wys met instemming op die bepaling van die destydse Presbiteriaanse Kerk van die Verenigde State van Amerika dat 'n predikant alleen in die amp herstel kan word as hy hom vir 'n geruime tyd met voorbeeldige, ootmoedige en stigtelike gedrag onderskei het. Hy kan daarna herstel word as die kerkraad waar hy woon, daarvan oortuig is dat hy sonder skade vir die saak van die Here sy ampswerk kan hervat. Volgens Bouwman moet sondes wat die wilskrag verslap en die gevoel afstomp, sondes soos sedeloosheid en dranksug waarby daar maklik 'n terugval in die sonde plaasvind, die kerk versigtig stem. Wat vir hom belangrik is, is die ingesteldheid van gemeentelede om oortredings op grond van berou te vergewe en verby so 'n geskiedenis na die vermoë van 'n kandidaat om die amp te vervul en kerklik diensbaar te wees, te kyk (Bouwman 1985: 670). Vir hom is die herstel van die amp op grond van ampsgeskiktheid nie onmoontlik nie. Hy pleit vir versigtigheid, maar maak ruimte vir herstel onder sekere omstandighede. Hoe sensitief Bouwman vir die oordeel en diskresie van kerkvergaderings met die tug oor bedienaars van die Woord is, blyk uit sy laaste woorde oor die tema. Hy glo dat 'n reglementering van die tug soos in die Roomse Corpus Iuris Canonici of te veel voorskrifte vir die tug in 'n kerklike wetboek, "doodend werkte". Kerkvergaderings moet in staat gestel word om self reg te spreek. Daarom bepleit hy net enkele hoofreëls in kerkordes wat die beginsels en hoofgang van kerklike tugsake aangee en ". waarnaar elke kerkeraad, naar aangeboren rechtsbegript, gemakkelijk handelen kan" (Bouwman 1985:671). Bouwman is dus ook 'n voorstander van 'n speelruimte vir kerkvergaderings wat tugsake hanteer. Hy erken ook die natuurlike gevoel vir regverdigheid in die omstandighede, die bestaan van 'n regsgevoel in konteks, by die lede van kerkvergaderings (vgl Nauta 1971:409 se steun hiervoor; vgl ook Coertzen 2003:209).

Jansen wys daarop dat ampsherstel vir 'n bedienaar van die Woord nie lig opgeneem moet word nie. Volgens hom het die Sinode van Groningen van die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN) in 1927 "verstandig" verklaar dat die nie wenslik is dat die kerke (kerkverband) vooraf presies bepaal in watter gevalle 'n bedienaar nie in die amp herstel kan word nie omdat dit die kerklike lewe versteen. Daarby sou te veel nuwe kerkordelike bepalings benodig word. Elke geval moet op "zich zelf" beoordeel word en afsetting moet vanweë besondere redes plaasvind. Jansen pleit dus ook vir die moontlikheid van 'n versigtige herstel van iemand in die amp van die bedienaar van die Woord (Jansen 1952:348). Met verwysing na "openbare, grove zonden" as redes vir afsetting uit hierdie amp, gee Jansen 'n kort omskrywing van elke sodanige sonde wat in DKO artikel 80 voorkom. 'n Artikel wat deur die GKSA-KO artikel 80 met nommer en al tot 'n groot mate oorgeneem en verafrikaans word. Sondes wat die dader eerloos voor die wêreld en geskik vir afsetting maak. Soos Visser en Kruger et al beklemtoon hy dit dat hierdie sondes slegs - natuurlik in bepaalde historiese omstandighede! - die vernaamste is en nie 'n versteende lysie vorm nie. Openbare skeurmakery gaan oor iemand wat kerklike geloofsgemeenskap deur onbelangrike sake skeur. Openlike blasfemie of godslastering word teen God self en sy deugde gemik en 'n openbaarmaking daarvan gaan gepaard met skorsing as die gepaste kerklike tugmaatreël. Simonie is die verhandeling van geestelike dinge vir geld of 'n vermaterialisering daarvan. 'n Trouelose verlating van 'n diens of amp in die gemeente geskied sonder kerklike toesig en minag kerklike instemming. Meineed is 'n valse eed voor God. Hoerery is ontug en sluit seks buite die huwelik in. Vegtery is doodgewoon ampsonwaardig. Vuil gewin is 'n oneerlike soeke na meer geld. Jansen oordeel dat Paulus se afwysing van sondes by ampsdraers in I Timoteus 3 en die slot van die DKO artikel 80 dat hierdie sondes die dader in die wêreld eerloos maak en gewoonlik tot afsnyding lei, aantoon dat sulke gedrag onaanvaarbaar en ampsonwaardig is (Jansen 1952:345).

Die onderliggende houding by hierdie canonici is dat 'n kategorisering van sondes wat lei tot afsetting uit die amp van die bedienaar van die Woord, 'n afgeslote of versteende lys van growwe of ergerlike sondes, nie vir gereformeerde kerke aanvaarbaar is nie. Vir hulle gaan die lyste waarna verwys is, hoogstens om voorbeelde van die belangrikste sondes wat aanstoot gee. Voorbeelde wat die inhoud van "openbaar" en "ergerlik" nader aandui en inkleur. Tog bly die uitsondering van hierdie sondes en die inkleding daarvan as openbaar aanstootlik, histories bepaald - gekoppel aan die datum van die aanvaarding daarvan in die betrokke kerkorde. Dit bind die kerk van so 'n kerkorde aan 'n voorskrif wat sy eie oordeel of diskresie vooruitloop en beperk. Daarmee gaan dit, Bouwman slaan op hierdie punt die spyker op die kop, in sy kern om die verydeling en verstening van die kerklike tug.

 

5. 'n Behoorlike ondersoek en algemene bepalings

Waar genoemde kerkregskrywers hulle verset teen 'n versteende sondelysie buite die konteks van die daad as die rede vir die afsetting van 'n bedienaar van die Woord, gee die nuwe Kerkorde van 1959 van die eertydse Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN-KO en GKN) asook Nauta se kommentaar daarop in 1971 (NGK 1957:73-74; Nauta 1971:5), opnuut 'n wending aan die saak - weg van 'n sondelysie. 'n Benadering wat kerkvergaderings mondig ag om, gebonde aan breë kerkordebepalings, met pastoraal-juridiese (die "pastoraal" moet die "juridies" bepaal of normeer en vir sy eie oogmerke in diens neem) diskresie tugsake te hanteer. Nauta se uitleg van die GKN-KO 1959 en sy nakomelinge tot 1970 (Nauta 1971:5) dra gewig vir die verstaan daarvan, omdat hy as 'n erkende kerkregtelike 'n sleutelrol in die opstel daarvan gespeel het (Nauta 1971:5; Kleynhans 1982:15,27,28,30; De Jong 1985: 15).

In sy kommentaar op die GKN-KO artikel 125 wat voorsiening maak vir die ampsherstel van afgesette bedienaars van die Woord, begin Nauta met 'n algemene reël of bepaling. Volgens hom kan enige herstel na afsetting uit 'n kerklike amp alleen plaasvind na "een ernstig onderzoek". Hierdie ondersoek moet konsentreer op die norm dat slegs belydende lidmate wat "voldoen aan de in de Heilige Schrift voor ampsdragers gestelde eisen", ampsgeskik is of vir 'n spesifieke amp in aanmerking kom. Vir Nauta is hierdie eise nie goedkoop nie, maar sny dit "diep" ontledend in op die "candidaat" se "geestelijke hoedanigheden". Voldoende gehoorsaamheid aan die uitlewing van die Skriftuurlike eise vir die amp van 'n bedienaar van die Woord sal die vraag na die herstel van die amp voorkom en onnodig maak (Nauta 1971:443).

Vroeër, in sy behandeling van die GKN-KO artikel 116 wat handel oor die afsetting van bedienaars van die Woord, gee Nauta geen sondelysie wat so 'n afsetting kan veroorsaak nie. Die kerklike tug moet egter nie willekeurig toegepas word nie, maar van duidelik aanwysbare gronde, 'n grondige ondersoek en 'n gepaste bevinding deur die kerkvergadering, uitgaan. Nauta meen om drie breë oorsake - nie 'n sondelysie nie - vir afsetting uit die amp van die bedienaar aan te toon. Drie oorsake wat volgens hom alle moontlike gevalle dek (Nauta 1971:405).

Die eerste oortreding is optrede in stryd met die gereformeerde belydenis van die kerk. In die destydse GKN moes voornemende bedienaars van die Woord die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisse onderteken plus 'n afsonderlike "formulier" wat hulle optrede bepaal indien hulle besware teen die geskrifte ontwikkel. Nauta boor dieper hierop in deur sy aanduiding dat 'n beswaar teen 'n bepaalde formulering van 'n belydeniswaarheid nie 'n oortreding van die GKN-KO artikel 116 met sy verpligte ondertekening van die kerklike belydenisskrifte vir ampsdraers is nie en dat dieselfde waarheid dalk anders geformuleer kan word. Syns vra billikheidsvereistes en die huidige regsgevoel van kerklidmate daarvoor. Met verwysing na Skrifverwysings in die Drie Formuliere kan bedienaars volgens Nauta die korrekte gebruik van 'n Skrifgedeelte in die belydenis ook bevraagteken sonder om die geloofsinhoud van die belydenis te bevraagteken. Nauta onderskryf die Drie Formuliere as 'n gesagvolle uitdrukking of verwoording van die gereformeerde geloof, maar praat van die moontlikheid van "een gebrekkige formulering van de waarheid, een formulering die derhalve voor correctie en verbetering vatbaar moet worden geacht". 'n Korreksie van bestaande formulerings in die belydenisse sonder om die inhoud te bevraagteken. Anders stel die kerk die belydenis gelyk met die Skrif en maak dit reformasie ten opsigte van hierdie geskrifte as menslik-geskrewe geskrifte, onmoontlik. Volgens Nauta is dit nie eenvoudig om die grense vir die hantering van die Drie Formuliere te omskryf nie. Waarvan hy as 'n teologiese hoogleraar van die GKN egter ook bewus is, is dat elke "zweem van ketterjagerij" (ketterjagtery) op 'n afstand gehou moet word (Nauta 1971:405-406). Nauta besig hierdie stelling teen die agtergrond van 'n "stille omwenteling" ten opsigte van die gereformeerde belydenis en teologie wat hom na die Tweede Wêreldoorlog na 1945 in die GKN voltrek. Jare waarin leertug in hierdie kerke grootliks vermy en uitgefaseer word (Rietveld sa:33; Strauss 1983:173).

Latere ontwikkelings in twee gereformeerde kerke met 'n Dordts-Nederlandse konneksie, die Ned Geref Kerk en die Christian Reformed Church in North America (CRCN) kom na alle waarskynlikheid met rigting vir die oplossing van Nauta se dilemma (Engelhard en Hofman 2001:11).

In 'n bylaag tot die Kerkorde van die CRC (CRC-KO) artikel 5 word bepaal dat "all the articles and points of doctrine" in die Drie Formuliere van Eenheid "fully agree with the Word of God". Vir die CRCN is dit die Skriftuurlikheid van hulle geformuleerde geloof in die Drie Formuliere wat die CRCN aan hierdie Formuliere bind. Hierdie onderskrywing, so lees hierdie bylaag verder, beteken nie dat die formulering van die Drie Formuliere foutloos is, dat hulle alles bevat wat die Bybel oor hierdie sake leer of dat alle waarhede van die Bybel in die Formuliere vervat is nie. 'n Onderskrywing van die Drie Formuliere is 'n onderskrywing van hulle geformuleerde of uitgedrukte geloof en nie van elke formulering, verwysing en opmerking "accidental to the formulation of these doctrines" nie. Die CRCN onderskryf die Drie Formuliere in dit wat hulle wil wees: geformuleerde geloofbelydenisse... (Engelhard en Hofman 2001: 49-51).

Die Algemene Sinode van 1998 van die Ned Geref Kerk besluit op dieselfde oortuiging ten opsigte van sy aanvaarding van die Drie Formuliere van Eenheid. Volgens die Sinode aanvaar hy die belydenisse van die Ned Geref Kerk "as 'n gesagvolle uitdrukking van die gereformeerde geloofsoortuiging... omdat hulle (as geformuleerde geloof, PJS) met die Woord van God ooreenstem. Hulle het gesag in die saak wat hulle volgens die Skrif wil bely" (NGK 1998:414, 465,517,520). Hierdie besluit en formulering stem ooreen met en verklaar die NGKO 1998 artikel 1 (NGKO 1998:1) asook die legitimasieverklaring van voornemende proponente (NGKO 1998: 59). Die NGKO artikel 1 maak gewag van die "leer" van die Ned Geref Kerk "soos uitgedruk" in die Drie Formuliere wat hierdie kerk "in ooreenstemming met die Woord van God bely". Hiernaas praat die legitimasieverklaring van al die "artikels en stukke vervat in die leer" van die drie algemene "belydenisskrifte" en die Drie Formuliere wat "ooreenkom met die Woord van God".

Daarmee dui die Ned Geref Kerk en CRCN aan dat Nauta met sy kommentaar op die onderskrywing van die Drie Formuliere van Eenheid volgens hulle die regte spoor gevat het. Hierdie belydenisse het Skriftuurlike gesag in dit wat hulle wil wees: geloofsbelydenisse. 'n Geloofsgesag wat pas by hulle aard as geloofsbelydenisse. So word 'n vaste versteende sondelysie wat tot 'n siellose formele ketterjagtery kan lei, dit is 'n moontlike gevolg, vermy en die oplossing verplaas na pastorale kerkvergaderings wat vanuit hulle geformuleerde geloofseenheid gelowiges nadertrek en so bou aan die heilige, algemene Christelike kerk. Kerkvergaderings wat hiermee die waarheid en krag van die naam "Drie Formuliere van Eenheid", illustreer. Drie Formuliere van Eenheid wat die heilige algemene Christelike geloof van die algemene of katolieke kerk van Christus bely en as 'n uitdrukking van die verlossingswaarhede (soteriologiese waarhede) van die Skrif in die Reformasie aanhaak by die ekumeniese belydenisse oor God drie-enig (triniteitsleer) in die vroeë kerk (Jonker 1994:18).

 

6. Ampsherstel in die CRC-KO

'n Ondersoek van CRC-KO's van die laaste dekades oor ampsherstel by die bedienaar van die Woord, toon drie duidelike kenmerke (vgl Van Dellen en Monsma 1967:332-334; Engelhard en Hofman 2001: 473-474).

Die eerste kenmerk is die afwesigheid van die Nederlands-gereformeerde sondelysie. Uitgaande van die Here God se omvattende, onweerstaanbare verlossings- en herskeppingswerk, is ampsherstel in die CRC-KO in alle gevalle 'n moontlikheid. Die kleingeloof dat die effek van sekere "ergerlike" sondes ampsgeskiktheid en daarna ampsherstel in die oë van die kerkvolk onmoontlik maak, kry nie plek nie. Dit beteken nie dat die CRC-KO hierdie effek in 'n gemeente of gemeentes onderskat nie. Inteendeel, die "handicap of his past sin" as 'n moontlike hindernis vir ampsherstel word in 'n vroeëre artikel 94 by die naam genoem. Hierdie "handicap" word in die CRCN 'n kerklike term of 'n terminus technicus by ampsherstel van 'n bedienaar van die Woord. Dit is 'n kernsaak wat die betrokke kerkvergadering moet ondersoek en deel uitmaak van die proses van ampsherstel (Van Dellen en Monsma 1967:332). Nauta se versugting dat ampsherstel op 'n behoorlike ondersoek moet volg, word in die CRCN van vroeër dus kerkordelik vasgelê.

Die tweede kenmerk van CRC-KO op hierdie punt is sy bondige verwoording van die ampsvereistes vir ampsherstel. In genoemde vroeëre weergawe gaan die ondersoek van die kerkvergadering wat die aansoek om herstel hanteer, breedweg om die kandidaat se berou of boetvaardigheid, die "handicap of his past sin" en om die vraag of sy/haar ampsherstel tot eer van God en die "true welfare" van die kerk sal wees (Van Dellen en Monsma 1967:332). Tans word selfs hierdie vereistes nog korter gestel met die behoefte aan genoegsame getuienis van berou en inkeer by die dader en dat die kerk oordeel dat "they (hulle wat vra vir ampsherstel) are able to serve effectively" (Engelhard en Hofman 2001:473). Die effek van die tugsaak op die kandidaat se pastorale effektiwiteit in die gemeente kan natuurlik hieronder tuiskom, maar die CRC-KO herinner die betrokke kerkvergadering nie meer uitdruklik daaraan nie. Kerkvergaderings word slegs voor 'n breë algemene versoek/opdrag geplaas. Die CRC-KO aanvaar dus die mondigheid van vergaderings in die CRC om die saak aan hulle toegesê, te hanteer. Die CRC-KO handhaaf ook 'n pastorale speelruimte en diskresie vir die betrokke kerkvergadering - soos deur Sadler voorgestaan.

Die derde kenmerk in die CRC-KO is sy klem op die eer van God, die welsyn van die gemeente of kerk en die effektiewe bediening van die Woord. Ons leef in die 21ste eeu, maar Calvyn (1509-1564) se drieledige doel van die kerklike tug en, in hierdie geval, geestelike en ampsherstel, word gehandhaaf. Anders gestel: houdbare, verantwoorde algemene vereistes vir kerkwees soos afgelei uit die Bybel, bly steeds eietyds en konstant. Die Bybel is altyd kerklik en lewensbeskoulik aktueel en relevant.

Engelhard en Hofman se kort kommentaar op die CRC-KO artikel 84 wat ampsherstel aanspreek, bevestig hierdie afleidings. Vir hulle word ampsherstel, soos gedek deur die bepalings van die CRC-KO artikel 84, bepaal deur die kandidaat se voldoening aan drie vereistes. In die eerste plek gaan dit oor genoegsame getuienis van egte berou. 'n Genoegsaamheid en 'n egtheid wat deur die betrokke kerkvergadering met sy self gekose maatstaf beoordeel word. In die tweede plek impliseer die CRC-KO steeds die "handicap of his past sin". 'n Verhindering waarby die vergadering alles ter sake teen mekaar moet opweeg en steeds die oog op die eer van God en die welsyn van die kerk moet hou. Hierdie twee sake, die eer van God en welsyn van die gemeente, is die skrywers se derde vereiste (Engelhard en Hofman 2001: 473). Soos die CRC-KO gee hierdie skrywers hiermee speelruimte aan die vergaderings wat oor ampsherstel by die bedienaar van die Woord besluit. Die CRC-KO bevat ook slegs konstante vertrek-of beginpunte vir optrede wat aan skynbaar mondige kerkvergaderings opgedra word. In die geval van die CRCN moet die klassis wat die afsetting hanteer het, na die ontvangs van die advies van sinodale deputate, die aansoek om ampsherstel as 'n bedienaar van die Woord hanteer (Engelhard en Hofman 2001:473).

Hierby glo Van Dellen en Monsma wat in die Nederlands-gereformeerde kerkreg en kerkordes geskool is, steeds dat die oortreding van die 7e gebod oor trou in die huwelik, "as a rule is bound to effect" die toekomstige bruikbaarheid van 'n bedienaar van die Woord. So 'n bedienaar praat in die openbaar of normale gemeentebediening moeilik oor sekere verskynsels van immoraliteit as sy/haar hoorders dit met kennis van sy/haar eie oortreding(s), aanhoor. Dit, terwyl hy/sy geroep word om die volle raad van God te verkondig. Hierdie skrywers oordeel dat kerkvergaderings hierdie stelling beslis in ag moet neem by versoeke om ampsherstel (Van Dellen en Monsma 1967:333).

Die CRC-KO-bepalings oor ampsherstel by die bedienaar van die Woord, verteenwoordig waarskynlik die mees gevorderde produk in die resente ontwikkeling van Nederlands-gereformeerde kerkordes. Die ou klanke van die eer van God, die welsyn van die gemeente en ampsgeskiktheid in die lig van die geskiedenis en omstandighede van die kandidaat, is nog daar, maar die betrokke kerkvergaderings moet hierdie vereistes binne 'n pastoraal-juridiese ruimte (let wel: die byvoeglike naamwoorde kom in hierdie volgorde) vir kerk en kandidaat benut.

 

7. Slot

Tugwaardige sondes is openbare ergerlike of aanstootlike sondes (Sadler 1979:62). Sondes wat aan 'n deel van die gemeente of kerk of breër kerkverband bekend geword het. Afsetting uit die amp van 'n bedienaar van die Woord is 'n tugmaatreël op so 'n sonde. Om te kan terugkeer as 'n bedienaar van die Woord in die kerk, om weer gelegitimeer of beroepbaar verklaar én beroep en in die amp bevestig te kan word, moet die kandidaat opnuut deur die kerkverband ampsgeskik en beroepbaar verklaar word. Dit beteken dat hy/sy binne die omstandighede en teen die agtergrond van sy/haar persoonlike geskiedenis as 'n bedienaar effektief moet kan wees. 'n Ampsgeskiktheid waaroor die verband van gemeentes of kerkverband, as 'n kerklike instansie buite hom of haar, deur hulle verteenwoordigers besluit. 'n Amp wat hy/sy - gemeet aan sy/haar huidige persoonlike situasie -geloofwaardig moet kan beklee.

Ampsherstel as 'n bedienaar van die Woord in 'n gereformeerde kerk, mag nie ligtelik hanteer word nie. Dit vra 'n deeglike ondersoek waarin die betrokke kerkvergadering gelei word deur die eer van God, welsyn van die kerk en die voldoening van die kandidaat, met inagneming van die redes vir sy/haar afsetting, aan die vereistes vir ampsgeskiktheid. Hierdie ondersoek moet ook vasstel of toets of die kandidaat werklike berou oor sy/ haar oortreding wat tot afsetting lei het, het.

Soos alle kwessies by tugwaardige sondes en die herstel van lidmaatsregte asook ampsherstel, moet die "handicap of his past sin" by die herstel van 'n bedienaar van die Woord in die amp, ook ondersoek en geëvalueer word. Hierdie relevante kwessie in gereformeerde kerke mag egter nie 'n versteende saak word wat ampsherstel onmoontlik maak nie. Soos die gestelde vereistes vir die herstel van 'n bedienaar van die Woord, loop hierdie anti-versteende benadering met skakerings dwarsdeur die geskiedenis van gereformeerde kerke met 'n Dordts-Nederlandse konneksie.

 

Bibliografie

Biesterveld, P. en Kuyper, H.H. 1905. Kerkelijk Handboekje. Kampen: Bos.         [ Links ]

Bouwman, H. 1985. Gereformeerd Kerkrecht. Kampen: De Groot Goudriaan.         [ Links ]

Coertzen, P. 2003. Regsbeskerming in die kerk. Torfs, R et al. Recht op recht in de kerk. Leuven: Peeters. 199-258.         [ Links ]

De Jong, O.J. 1985. Nederlandse Kerkgeschiedenis. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

De Jong, O.J. 1987. Geschiedenis der kerk. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

Engelhard, D.H. en Hofman, L.J. 2001. Manual of Christian Reformed Church Government. Grand Rapids: CRC Publications.         [ Links ]

Jansen, J. 1952. Korte verklaring van de kerkorde. Kampen: Kok.         [ Links ]

Jonker, W.D. 1994. Bevrydende waarheid. Die karakter van die gereformeerde belydenis. Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J. 1982. Gereformeerde kerkregI. Inleiding. Pretoria: NG Kerkboekhandel van Transvaal.         [ Links ]

Kruger, L.S., Du Plessis, H.L.M., Spoelstra, B. en Spoelstra, T.T. (Kruger et al) 1966. Handleiding by die Kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

Nauta, D. 1971. Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: Kok.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers 1982. Onsglo... Die Drie Formuliere van Eenheid en ekumeniese belydenisse. Wellington: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Ned Geref Kerk 1957. Handelinge Raad van Kerke. Sl:sn.

Ned Geref Kerk 1998. Handelinge Algemene Sinode. Sl:sn.

Ned Geref Kerk 1964. Kerkorde. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers (NGKO 1964).         [ Links ]

Ned Geref Kerk 1994. Die Kerkorde. Wellington: Hugenote-Uitgewers (NGKO 1998).         [ Links ]

Ned Geref Kerk 1998. Die Kerkorde. Wellington: Hugenote-Uitgewers (NGKO 1998).         [ Links ]

Ned Geref Kerk 2017. Die Kerkorde. Sl:sn.

Pont, A.D. 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

Rietveld, B. sa. Wat is er aan de hand met de Gereformeerde Kerken in Nederland? Kampen: Kok.         [ Links ]

Rutgers, F.L. 1971. De geldigheid van de oude kerkenordening der Nederlandsche gereformeerde kerken. Amsterdam: Ton Bolland.         [ Links ]

Sadler, T.H.N. 1979. Die kerklike tughandeling. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Sizoo, A. sa. Johannes Calvijn Institutie of onderwijzing in de Christelijke godsdienst IV. Delft: Meinema.         [ Links ]

Spoelstra, B. 1989. Gereformeerde kerkreg en kerkregering. Hammanskraal: Teologiese Skool.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1983. Die Ned Geref Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland: betrekkinge rondom die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk. Pretoria: UP ongepubliseerde DD-proefskrif.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2010. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Van Dellen, I. en Monsma, M 1967. The revised church order commentary. Grand Rapids: Zondervan.         [ Links ]

Visser, J 1999. Die Kerkorde in praktyk. Orkney: EJFS Drukkers.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License