SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.5 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.5 n.3 Stellenbosch  2019

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2019.v5n3.a23 

GENERAL ARTICLES

 

Buite die grense van die bekende: Kruiskulturele ervarings onder 'n ewekansige steekproef predikante in die NG Kerk

 

Outside the confines of the known: Cross-cultural experiences among a random sample of ministers in the Dutch Reformed Church

 

 

Nell, Ian

Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika ianell@sun.ac.za

 

 


Trefwoorde: Kruis-kulturele bediening; kwalitatiewe ondersoek; multikulturaliteit; missionaliteit; missionale teologie


ABSTRACT

This article looks at one of the questions posed in the Church Mirror questionnaire to a number of pastors of the Dutch Reformed Church. The question is: Tell us about the best experience you have had in your congregation where believers met across cultural boundaries or did something together? The sample forms part of a ministerial panel conducted every three years among ministers of the Dutch Reformed Church with the aim of finding out what pastors think and do about a number of current church activities. The choice to focus on this question comes against the backdrop of contemporary discourses related to the missional nature of church life and the challenge of multi-culturalism in faith communities. The study is qualitative in nature and falls within the interpretive paradigm as part of phenomenology. The data shows an interesting number of activities identified by the ministers related to multiculturalism and also provides some directions for missional development in the future.


 

 

1. Inleiding

In Julie tot Augustus 2018 is daar 'n steekproef gedoen uit die Algemene Bevoegdheidsraad se lys van 1 365 predikante in die NG Kerk. Die vraelys is bekend as die Kerkspieël Predikante-vraelys 1 (2018). Die steekproefgrootte was 156 met 'n responskoers van 119 predikante wat deelgeneem het, dus 76% van die deelnemers het gereageer. Hierdie steekproef vorm deel van n predikante-paneel wat elke drie jaar onder predikante van die NG Kerk gedoen word met die doel om uit te vind wat die predikante oor 'n aantal aktuele kerklike sake dink en doen.

In hierdie artikel sal aandag geskenk word aan een van die vrae in die vraelys, naamlik vraag 10 wat soos volg verwoord is: Vertel van die beste ervaring wat jy in jul gemeente gehad het waar gelowiges oor kultuurgrense heen bymekaar is of iets saam gedoen het? Voordat na die data en die analise van die data gekyk word, is dit nodig om iets meer oor die agtergrond en ontwikkeling van die Kerkspieël predikante-vraelys te verduidelik.

 

2. Die agtergrond en ontwikkeling van die predikante-paneel

Volgens Kobus Schoeman, in 'n persoonlike onderhoud met hom gedurende Oktober 2018, het die gedagte van 'n predikante-paneel reeds in die negentigerjare ontwikkel as 'n inisiatief van homself en Jan Bischoff. Schoeman en Bischoff is reeds sedert die tagtigerjare betrokke by Kerkspieël waar hulle ongeveer elke vier jaar verskillende vraelyste aan 'n aantal gemeentes in die NG Kerk stuur. Die doel van die vraelyste is om by gemeentes inligting te kry oor 'n verskeidenheid van sake, onder andere oor erediensbywoning, die verskillende bedieninge van die gemeentes, ensovoorts.

Hulle het op die gedagte gekom via kontak met die Presbyterian Church in the USA wat so 'n paneel sedert die sewentigerjare ontwikkel het en wat as "The Presbyterian Panel: Listening to Presbyterians" bekendstaan. Hierdie paneel bestaan uit drie nasionale verteenwoordigende steekproewe van groepe van die Presbyterian Church (USA) se lidmate, ouderlinge en geordende predikante (Wulf 1987:294). Nuwe steekproewe word elke drie jaar onderneem en het ten doel om die predikante en lidmate se "koors te meet" oor 'n aantal sake.

 

3. Enkele teoretiese vertrekpunte

Sedert die aanvaarding van die "Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk" deur die NG Kerk se Algemene Sinode van 2013 het daar 'n sterk klem geval op die gedagte dat lidmate buite die gemeentegrense moet beweeg om by die nood van die samelewing betrokke te raak. Die ontwikkeling in die rigting van 'n missionale ekklesiologie volg op 'n aantal jare wat die Partnership for Missional Churches reeds die grond vir gemeentes vir dié vrugbare ontwikkeling voorberei het. Reeds in 2004 het 'n aantal gemeentes in Suid-Afrika die sogenaamde Partnership for Missional Churches gevorm en het dit deel gevorm van 'n reaksie op 'n gevoel dat daar 'n algehele ekklesiologiese en gemeentelike dringendheid bestaan (Brouwer 2009:1).

Die vraag ontstaan natuurlik waarom hierdie skielike belangstelling om 'n missionale kerk en missionale gemeentes te ontwikkel? Volgens Niemandt (2014:1) kan 'n deel van die antwoord gevind word in die herontdekking van die belangrikheid om 'n missionale kerk te wees via die invloed van ekumeniese liggame. So het daar tydens die Edinburgh Konferensie van 2010 die grondoortuiging ontwikkel dat die kerk in sy diepste wese missionaal is en moet dit gesien word as 'n sending wat voortvloei uit God se roeping en sending (Kim en Anderson 2011:180).

Easum (2001:10) beskryf missionale gemeentes as gemeentes wat op reis is en hy beklemtoon die belang daarvan om dit so te verstaan wanneer hy skryf: "... Christianity is depicted as a movement away from the centers of religious institutional, professional life into the fringes of the mission field." In 'n gids vir gemeentes, gee die skrywers die volgende beskrywing van missionale gemeentes: Dit is gemeentes wat bewus is van die omgewing waarin hulle leef en werk en aanvaar dat nie almal rondom hulle Christene is nie en vra die vraag: "Waar is ons?" Dit is gemeentes wat hulle laat vorm deur gebed en die Woord en so gevorm word as individue en as kerk van God deur God se Gees en die vraag vra: "Aan wie behoort ons?" Dit is gemeentes wat God se handelinge rondom hulle kan herken sowel as in die wyer wêreld en antwoorde op die vraag kan bied: "Wat is God besig om te doen?" Dit is gemeentes wat kan luister, God se roeping kan onderskei en 'n antwoord kan gee op die vraag: "Hoe stuur God ons?" Dit is gemeentes wat tekens is van die toekoms wat God vir die kerk in gedagte het en wat kan antwoord gee op die vraag: "Hoe leef ons as kerk tans volgens die patroon van wat God vir die toekoms in gedagte het?" (Niemandt 2014:3).

In die lig van laasgenoemde is dit duidelik dat sending verstaan behoort te word as iets wat vanuit die trinitariese God voortvloei. Die gepaardgaande ekklesiologie is dat God die Vader deur die Seun en die Gees die kerk na die wêreld toe stuur. Die missio Dei sluit dus nie net die werk van God in nie maar ook die werk van die kerk as instrument in God se hand. Volgens Balia & Kim (2010:25) word die sending van die kerk hier gesien as sy soeke na 'n geestelike raamwerk wat menslike lewe bevestig, wedersydse respek en gelykheid in sy werk op weg na innerlike bekering nastreef sowel as 'n regverdige samelewing en die oorlewing van God se skepping.

 

4. Van multikulturele na interkulturele verstaan

Multikulturele gemeenskappe bestaan uit verskillende kulturele groepe wat spesifieke geografiese ruimtes met mekaar deel. Die verskillende groepe in hierdie ruimte het kontak met mekaar, maar hulle is dikwels onkundig oor die verskille en ooreenkomste tussen hulle. Laasgenoemde lei dikwels tot vooroordeel en onverdraagsaamheid (Saramento 2014:606). In post-apartheid Suid-Afrika vind ons dat segregasie nie meer in die wetlike sisteme van die land voorkom nie, maar dit beteken nie dat dit opgehou het om in die praktyk te bestaan nie. Die gevolg is dat ons in 'n multikulturele samelewing ontwikkel het waar ons saam met mekaar leef en werk sonder dat ons noodwendig begrip vir mekaar se omstandighede ontwikkel het wat ons kan help op die weg na verdraagsaamheid en transformasie (Van der Westhuizen et al 2018:16).

Wat ons egter nodig het, is die beweging weg van 'n oppervlakkige kennisname van verskille en ooreenkomste in ervarings na die deel van ervarings, dus 'n beweging van multikulturele na interkulturele verstaan. Dit is hierdie gemeenskaplike ervarings en nuwe begrip en insig wat daaruit ontwikkel wat beteken dat ons nou nie net meer ruimtes met mekaar deel nie, maar ook ervarings. Waar dit gebeur kan ons praat van interkulturele gemeenskappe. Die voorvoegsel "inter" suggereer aktiwiteite en bewegings tussen groepe wat ook met die oordrag en ontvangs van informasie te make het. Kommunikasie vind plaas. Interkulturele gemeenskappe skep 'n sin van behoort (sense of belonging) vir al die lede van die gemeenskap en groepe wat 'n beweging in die rigting van die transformasie van verhoudings ondersteun (Saramento 2014:603). In die verband behoort ons ook kennis te neem van die nuwe boek van Granberg- Michaelson (2018) wat in 'n hoofstuk met die veelseggende opskrif "Embracing the colour of the future" skryf oor die belang van die plant van nuwe kerke. Hy maak die volgende opmerking: "We discovered that no plan to do so would succeed unless it was racially inclusive, reflected in the new diversity of new congregations" (2018:22).

Volgens Van der Westhuizen et al (2015:6) verwys "multikultureel" dus na gemeenskappe waar daar die ruimte is om verskillende kulturele aktiwiteite langs mekaar te beoefen. Dit skep ook ruimtes waar verskillende kulture gesamentlik kultuuraktiwiteite kan ontwikkel en waaraan hulle gesamentlik by tye kan deelneem. Interkulturele aktiwiteite sluit verskillende interkulturele praktyke in waar gemeenskappe 'n manier vind om 'n gesamentlike identiteit te ontwikkel. Fokus ons spesifiek op die Suid-Afrikaanse multikulturele samelewing word gemeenskappe op grond van die diverse aard van ons samelewing en as gevolg van die nalatenskap van apartheid uitgedaag om te werk in die rigting van interkulturele gemeenskappe. Volgens Steyn (2011:7) dra die verskil in sosio-ekonomiese vermoëns en die demografie van die bevolking by tot die voortgaande stryd om mense te ondersteun om maniere te vind om saam te leef en te werk -met die oortuiging dat ons saam die uitdagings beter die hoof kan bied.

n Uitstekende voorbeeld van hoe die post-apartheid transformasie in die NG Kerk in terme van rasse-integrasie besig is om plaas te vind, kry mens in die resente boek van Marthe Hesselmans met die titel: Racial integration in the Church of Apartheid: A unity only God wants (2018). Die NG Kerk, wat vanaf 1948 tot 1994 die godsdienstige pilare gevorm het vir die apartheidsregering, is vandag op soek na die hereniging van gemeenskappe in een multikulturele instelling. Geloofgemeenskappe wat vir jare van mekaar geskei was, is op soek na prosesse om te herenig en die navorsingsvraag van hierdie studie sluit daarby aan. Daar is egter baie wat skepties is oor dié proses, maar volgens haar openbaar 'n nadere ondersoek onverwagte verhale van versoening. Waar Suid-Afrikaners diep bewus daarvan is dat ons mekaar nodig het om te oorleef, bied geloof en godsdiens volgens haar 'n gemeenskaplike grond. Dit toon die potensiaal maar ook beperkinge van geloofgemeenskappe om verskanste nasionale en rasse-affiliasies te ontknoop.

 

5. Uitdagings op die pad

Die reis op weg na die transformasie van verhoudings in 'n multikulturele samelewing na interkulturele gemeenskappe het daarom 'n hele paar uitdagings. Dit hou onder andere verband met die skade en seerkry wat in die verlede tussen verskillende kulture in hul kontak met mekaar ervaar is. 'n Mens moet daarom ook aanvaar dat van hierdie pyn van die verlede nie sommer met die eerste probeerslag aangespreek sal word nie. Die genesing van hierdie pyn is 'n lang proses en daarom moet ons gereed wees vir uitdagings wat op hierdie weg wag (Nell 2015:531).

Waarskynlik die eerste aspek wat op hierdie reis aandag behoort te geniet, vind ons by elke individu se persoonlike lewe en ingesteldheid wat aan die reis wil deelneem. Met ander woorde, voordat ons dit op die reis van interpersoonlike transformasie waag, is dit eers nodig dat daar na intrapersoonlike invloede gekyk moet word. Hierdie intrapersoonlike invloede hou verband met die persoonlike ondersoek na maniere waarop ek self die verlede verstaan, my eie vooroordele, my eie gedrag en ingesteldheid. Dit hou dus verband met 'n kritiese introspeksie na die redes waarom ek aan die reis wil deelneem (Van der Westhuizen et al 2018:102).

'n Tweede aspek wat gewoonlik as uitdaging voorkom, hou verband met die vooroordele van deelnemers wat ou gevoelens en reaksies weer kan oopmaak. Waar daar voorheen teen 'n persoon gediskrimineer is op grond van ras, geslag, klas of gender, is daardie persoon uit die aard van die saak baie sensitief vir 'n soortgelyke herhaling van gebeure. Daarom is dit belangrik dat daar gereeld oor ervarings, emosies en handelinge gereflekteer moet word waar deelnemers die geleentheid kry om oor die gedrag en optrede van die ander te reflekteer (Nell 2011:3-4).

 

6. Metodologie

Die metodologie waarvan in die predikante-paneel gebruik gemaak is, bestaan uit 'n kombinasie van kwantitatiewe en kwalitatiewe metodologieë, ook bekend as "mixed methods". "Mixed methods research is defined as a procedure for collecting, analysing and "mixing" both quantitative and qualitative data at some stage of the research process within a singel study to understand a research problem more completely" (Invankova, Creswell & Plano 2009:261). Wat mens daarom in gedagte moet hou, is dat 'n "mixed methodology" veel meer is as bloot die insameling van data vanuit kwalitatiewe en kwantitatiewe strominge. Dit bestaan uit die verbinding en integrasie van die data wat op hierdie maniere ingebring is (Creswell 2010:51).

Die spesifieke vraag en antwoord wat in hierdie studie ondersoek word, neig na die kwalitatiewe kant, in die opsig dat dit 'n oop vraag is wat soos volg lui: Vertel van die beste ervaring wat jy in julle gemeente gehad het waar gelowiges oor kultuurgrense heen bymekaar is of iets saam gedoen het? In die lig van die bespreking hierbo, was die vraag dus doelbewus so geformuleer om vas te stel of daar 'n beweging van multikulturaliteit in die rigting van interkulturaliteit is. Daar word dus gekyk na interkulturele aktiwiteite wat verskillende interkulturele praktyke insluit waar die betrokke gemeenskappe 'n manier vind om 'n gesamentlike identiteit te ontwikkel.

Die ewekansige steekproef (random sampling) is getrek uit die Algemene Bevoegdheidsraad se lys van 1 365 predikante in die NG Kerk. Die steekproefgrootte was 156 met 'n responskoers van 119 predikante wat deel geneem het. Van die deelnemers op die paneel het 76 persent op die vraelys gereageer.

Algemene inligting met betrekking tot die vraelys is die volgende:

87% van respondente is manlik en 13% is vroulik.

7% is jonger as 30 jaar; 18% is tussen 30 en 40 jaar; 16% is tussen 40 en 50 jaar; 33% is tussen 50 en 60 jaar; 20% is tussen 60 en 65 jaar; 6% is ouer as 65 jaar.

24% is in hul eerste gemeente; 39% is in hul tweede gemeente; 21 % is in hul derde gemeente; 7% is in hul vierde gemeente; 6 % is in hul vyfde gemeente; 3% is in meer as hul vyfde gemeente.

19% van gemeentes het minder as 300 lidmate; 31% het tussen 300 en 800 lidmate; 24% het tussen 800 en 1 500 lidmate; 26% het meer as 1 500 lidmate

42% het aangedui hul gemeente is in die platteland en 58% in die stad.

Voorbeelde van enkele van die kwalitatiewe response kan hieronder gesien word.

Ons gemeente het al jare lidmate van die bruin gemeenskap wat aktiewe lidmate by ons is. Dink dat dit baie help dat almal Afrikaanssprekend is - dus wil beslis oor kultuurgrense kerkwees (maar moet prakties ook wees!).

Ons het reeds die afgelope +/- 8 jaar 'n Engelstalige erediens. Hierdie lidmate woon reeds ons tweetalige sangdienste (Paas- en Kerssangdiens, asook dankseggingsdienste by), asook ons jaarlikse basaar waar hulle 'n eie stalletjie beset. Kwartaalliks het ons ook 'n gesamentlike "Community Church Service" vanaf begin 2017, wat stelselmatig momentum kry en goed ontvang word deur alle lidmate.

Ek is verantwoordelik vir die uitreikbediening in ons gemeente waarvan die pastorale sentrum een van die bene is. Ons fokus op pastorale uitreiking en versorging van mense in nood in die gemeente en gemeenskap. Enige persoon van enige kultuur is welkom. Ons ondersteuningsgroep vir middel-afhanklikheid het betrokke geraak by 'n ma vanuit die Islam tradisie en Indiër kultuur wat by ons aangeklop het vir die ondersteuning en hulp aan haar sestienjarige seun. Ons het die voorreg gehad het om te begelei en te ondersteun. In die gemeente van Nasaret (bruin gemeenskap) het ons gehelp om 'n ondersteuningsgroep vir alkohol-afhanklikheid in die gemeente te begin.

Totale samewerking met 'n swart Portugese gemeente. Gebruik ons kerkgebou elke Sondag. Verskeie ander kerke. Ons het voorskoolse kindersorgtoerusting. Ons het twee sendelinge wat skole, kleuterskole en plase besoek. Ek preek en bedien nagmaal, bevestig kerkraad in die VGK en NGK in Afrika se gemeentes.

Na vele oop en eerlike gesprekke het ons gemeente (wat eintlik heel "konserwatief" is) met 82 persent vir die Belydenis van Belhar gestem. Dit was vir my 'n wonderlike ervaring - die eerste tree na meer sigbare eenheid. Daar dien tans drie persone uit die VGK op die kerkraad van die betrokke NG Kerk.

Ons naaldwerkgroep waar ons 30 plus dames weekliks in naaldwerk opgelei word. Die bonus is dat daar vir twee ure met mekaar om die naaldwerkmasjiene gekuier en gepraat word oor die lewe en sy uitdagings.

Wanneer daar 'n vyfde Sondag in 'n maand is, is dit die gebruik hier in ons dorp om 'n gesamentlike, interkerklike erediens te hou. Dit is elke keer 'n verrykende en opbouende ervaring. Ons het vanjaar ook op die Donderdagaand voor Goeie Vrydag 'n gesamentlike "Maundy Thursday" erediens by die Anglikane gehad. Die diens is gelei deur die predikante/pastore van vier verskillende kerkgenootskappe in ons dorp. Die plaaslike biskop van die Anglikaanse kerk was teenwoordig en het ook 'n gedeelte van die diens waargeneem. Dit was in alle opsigte 'n onvergeetlike ervaring.

Met die "It's Time"-geleentheid in Bloemfontein het ons gemeente bussies gereël en swart en bruin gemeentes genooi om saam te gaan. Na die tyd het 'n pastoor vertel van 'n swart vrou in sy gemeente wat in 'n diens bely het dat sy altyd gedink het die NG Kerk is 'n hoogmoedige en apartheidskerk, maar na sy met NG-mense op die bus gekuier het, moet sy bely sy was verkeerd. Sy het soveel liefde en vriendelikheid beleef.

Ons doen Dinsdagaande wat ons noem 'n "bron-geleentheid". Ons sien dit as die ruimte waaruit al ons bedienings vloei. Dit behels eintlik maar net 'n wandel in die woord deur 'n groep mense wat van taal, kleur en kultuur verskil. Ons maak moeite om met klein treë nader aan mekaar te beweeg, sodat ons iets van 'n liggaam en gemeenskap onder mekaar begin beliggaam. Mooi dinge gebeur in hierdie oop ruimte.

Ons het jaarliks geleenthede op As-Woensdag en Opstandingsondag saam met die VGK. Die VGK se "power-struggles" en konserwatiewe kerkbegrip kompliseer samewerking. Daar is 'n oudgevangene en sy vrou (bruin mense) wat ons gemeente as 'n ruimte verkies waar hulle tuis is. Dit gee my hoop. Ons het op Swart Maandag in 2017 'n goeie gesamentlike byeenkoms gehad en dit het ons verlos van die "wit-misdaad-fokus".

 

7. Analise van die data

Twee vrae wat met die vraag oor die ervaring oor kultuurgrense heen verband gehou het en wat vir ons ook kan help met die interpretasie van vraag 10, was die onderstaande:

Vraag 7: Oor gemeentelike leierskap en strukture: In watter mate stem jy saam met die volgende ('n aantal opsies word gelys waaruit die persoon moes kies).

Vraag 9: Oor multikulturaliteit, inklusiwiteit en meertaligheid: Hoe graag wil jy die volgende sien gebeur (drie opsies word genoem waaruit die persoon moes kies).

Wat volg is 'n samevatting van die antwoorde.

 

8. Oor gemeentelike leierskap en strukture

40% sê daar is vrese dat missionale teologie net 'n nuwe gier is. Tog is die oorweldigende meerderheid van mening dat missionale skuiwe reeds plaasgevind het.

93% sê daar is 'n groeiende bewussyn dat God as Drie-eenheid aktief in die wêreld handel en dat die gemeente by God se handelinge aansluit.

82% sê hulle is op soek na modelle vir kerkwees wat sal help om hul roeping in die wêreld uit te leef.

75% sê die gemeente skuif al meer van instandhouding na geloofsvorming, roeping en diens.

 

9. Oor multikulturaliteit, inklusiwiteit en meertaligheid

73% wil graag of baie graag dit moontlik maak vir mense van ander tale en kulture om deel te neem aan die aktiwiteite van die gemeente. 24% wil dit soms moontlik maak. 3% wil nié of glad nie.

6% wil hê die gemeente moet eksklusief wit en Afrikaans bly. 82% wil nié of glad nie.

61% wil leiding graag of baie graag leiding hê oor hoe om dit moontlik te maak vir mense van ander tale en kulture om deel te neem aan die aktiwiteite van die gemeente. 29% wil soms leiding hê, en 10% nié of glad nie.

Uit laasgenoemde kan ons die afleiding maak dat predikante in die algemeen oop is vir die skuif na 'n missionale teologie, wat by implikasie beteken dat hulle oop is om buite die grense van die bekende te beweeg en ook gereed is vir kruiskulturele ervarings. Vervolgens kyk ons na die kwalitatiewe data wat met behulp van Atlas.ti geanaliseer is.

 

10. Voorstelling van data

Die navorser het van "open coding" gebruik gemaak en die data in betekenisvolle eenhede gesegmenteer. Nadat kodes toegeken is, is hulle in Atlas.ti in kategorieë gegroepeer, bekend as "code groups". Die kode-groepe kan met behulp van Atlas.ti as 'n netwerk voorgestel word, wat 'n verdere vlak van abstraksie beteken.

Daar is 112 kodes geïdentifiseer wat tot 15 kode-groepe verwerk is. Die volgende is die kode-groepe wat ontwikkel is:

 

11. ATLAS.ti Report

Kruiskulturele ervaring van predikante

Code groups

Report created by Ian Nell on 12 Dec 2018

Ander

Members:

o Belydenis - gemeente aanvaar Belhar o Betrokke - gemeente van ander kultuur o Fees - gemeenskapsfees o Fees -menswaardigheid - stories word gedeel o Gebed - gesamentlike geleentheid o Gebed - Wêreldbiddag vir vroue o Kerkraad - VGK-lidmaat is voorsitter o Kerkraad - VGK-lidmate op kerkraad o Kollegaskap - Kongolese pastoor is assistent o Kollegaskap - hulp aan swart leraar o Lidmaatskap - bruin gemeenskap neem aktief deel o Onderrig - middagstudie vir swart kinders o Opleiding -geestelike leiers o Opleiding - naaldwerk en lewensvaardighede o Ringe - gesamentlike werksaamhede o Samewerking - met Anglikaanse biskop o Samewerking - met bruin gemeenskap o Samewerking - tussen verskillende kerke o Sopkombuis - NGKA

Ekumene

Members:

o Ekumenies - interkerklike byeenkomste o Ekumenies - oor taalgrense o Ekumenies - samewerking

Fasiliteite

Members:

o Fasiliteite - deel met ander o Fasiliteite - deel met NGKA o Fasiliteite - deel met VGK

Gasvryheid

Members:

o Gasvryheid - beleef liefde en vriendelikheid o Gasvryheid - bruin lidmate skakel in o Gasvryheid - bruin seun saam op wegbreek o Gasvryheid - lidmate van ander kultuur o Gasvryheid - skep ruimte om saam met ander in Woord te wandel o Gasvryheid - swart en bruin gemeentes saam genooi o Gasvryheid - swart vrou skakel in by omgeegroep o Gasvryheid - teenoor hawelose o Gasvryheid - VGK skakel in

Liturgie- aktiwiteite

Members:

o Litrgie - "Indlela" - saam met wit, bruin en swart o Liturgie -alternatiewe formaat o Liturgie - anderskleurige kinders woon by o Liturgie - Engelstalige erediens o Liturgie - gelofte en versoening o Liturgie - interkerklike eredienste o Liturgie - kanselruiling o Liturgie - leiers woon dit by o Liturgie - saam by begrafnis o Liturgie - saam erediens en nagmaal o Liturgie - saam met swart kinders o Liturgie - saam Pinkster o Liturgie - saam sing o Liturgie - swart kinderkoor tree op o Liturgie - swart kinders belydenis van geloof o Liturgie - swart kinders tree op o Liturgie -versoening o Liturgie - vertaal in Spaans

Liturgie-denominasies

Members:

o Liturgie - saam met Aglikane o Liturgie - saam met ander kerkgenootskappe o Liturgie - saam met Lutherane o Liturgie -saam met Metodiste o Liturgie - saam met Morawiese Kerk o Liturgie - saam met NGKA o Liturgie - saam met RKK o Liturgie -saam met VGK

Pastoraat

Members:

o Pastoraat - kindersorgtoerusting o Pastoraat - pastorale sentrum o Pastoraat - pleegsorghuise vir tieners o Pastoraat - werklike krisisse

Prediking

Members:

o Prediking - aan swart straatkinders o Prediking - in plakkerskamp

Projekte

Members:

o Projek - bemagtiging o Projek - kinderhuis o Projekte - doen saam fondsinsameling o Projekte - getuienis op plase o Projekte -saam kerk geplant en gebou

Samewerking

Members:

o Samewerking - met Anglikaanse biskop o Samewerking - met bruin gemeenskap o Samewerking - tussen verskillende kerke

Sending

Members:

o Sending - internasionaal o Sending - leraar o Sending - plaaslik o Sending - sendeling wat besoek

Sosialisering

Members:

o Sosialisering - basaar o Sosialisering - kamp saam met kinders o Sosialisering - kamp saam met leiers o Sosialisering - speel saam met swart mense rugby

Uitreik-buiteland

Members:

o Uitreik - na Botswana o Uitreik - na Chinese o Uitreik - na Namibië o Uitreik - na Sentraal-Afrika o Uitreik - buiteland

Uitreik-plaaslik

Members:

o Uitreik - barmhartigheidsdienste o Uitreik - besoeke o Uitreik -deel kos en Bybels uit o Uitreik - deur brandbestryding o Uitreik -deur godsdiensoefening o Uitreik - Echo-konsep o Uitreik -jeugsentrum o Uitreik - jeugweek o Uitreik - kinderhuisprojek o Uitreik - na Decoligny o Uitreik - na Engelstaliges o Uitreik - na Hillbrow o Uitreik - na mense in nood o Uitreik - na NGKA o Uitreik - na Spanjaarde o Uitreik - na VGK -ondersteuningsgroep vir alkoholafhanklikheido Uitreik - na VGK - plant en bou saam kerk o Uitreik - na VGK - prediking en Sondagskool o Uitreik -plakkerskampe o Uitreik - Portugese gemeente o Uitreik - projekte

Die voorstelling van die "code groups" deur middel van "networks", lyk soos volg. Hier kan ongelukkig as gevolg van 'n gebrek aan ruimte slegs een voorstelling gemaak word:

 

 

12. Interpretasie van data

Uit bogenoemde kan 'n paar gevolgtrekkings gemaak word:

Die kode-groepe wat die meeste "members" het, is uit die aard van die saak ook die kodes wat die meeste voorgekom het. Dit dui daarop dat die meeste van die respondente aan hierdie aktiwiteite gedink het in terme van hul beste ervarings met mense oor kultuurgrense heen. Die vier kode-groepe wat hier uitstaan is: Liturgiese aktiwiteite, gasvryheid, pastoraat, plaaslike en internasionale uitreike.

Die feit dat liturgiese aktiwiteite so hoog vertoon, sê vir ons iets van die belang wat daar in die Gereformeerde tradisie op die aanbidding van God geplaas word. Die samekoms rondom die Woord, sakramente, sang en gebede is vir die meeste van die predikante wat aan die vraelys deelgeneem het die hoogtepunt in terme van hul beste ervarings met mense oor kultuurgrense heen. Dit is en bly 'n belangrike moment, om spreekwoordelik mekaar se hande te vat in die teenwoordigheid van God en aan God die eer en die aanbidding te bring.

In dieselfde asem kan 'n mens natuurlik ook die vraag vra, in die lig van die gedagtes van Saramento (2014) en Van der Westhuizen (2015) oor interkulturaliteit. Dra liturgiese aktiwiteite werklik by tot meer as net die blote deel van ruimtes? Met ander woorde die vraag: Vind daar by hierdie geleenthede ook die deel van gemeenskaplike ervarings en nuwe begrip en insig vir mekaar wat daaruit ontwikkel, plaas? Wat beteken dat ons nou nie net meer ruimtes met mekaar deel nie, maar ook ervarings. Ons het gehoor hulle het gesê interkulturele gemeenskappe skep 'n sin van behoort vir al die lede van die gemeenskap en groepe wat 'n beweging in die rigting van die transformasie van verhoudings ondersteun. Opvolgondersoeke is dalk nodig om vas te stel of hier werklik sprake is van diepgaande interkulturele ervarings. Die werk van Hesselmans (2018:157-182) oor die prosesse van die Verenigde Ring van Stellenbosch en die pogings tot integrasie van die NGK- en VGK-gemeentes van Wynberg bied interessante perspektiewe in dié verband en wys ook op die kompleksiteit van sulke prosesse.

'n Tweede aktiwiteit wat goeie ondersteuning van die predikante gekry het, is gasvryheid. Dit is inderdaad 'n goeie teken dat daar wel aan inklusiwiteit gedink word. Kyk mens na voorbeelde vanuit die data self, sien 'n mens opmerkings soos: die inskakeling van lidmate van kleur in sekere gemeentes, die belewenis van ruimtes wat geskep word waar liefde en vriendelikheid beleef word en waar daar gemeenskaplike aktiwiteite onderneem word. Dit word verder ondersteun deur antwoorde wat uit vraag 9 na vore gekom het, soos dat 73% van die respondente wil graag of baie graag dit moontlik maak vir mense van ander tale en kulture om deel te neem aan die aktiwiteite van die gemeente. Slegs 6% van die respondente wil hê die gemeente moet eksklusief wit en Afrikaans bly en 82% wil dit nié of glad nie.

Die derde aktiwiteit wat predikante oordeel vir hulle aangename kruiskulturele kontak bied, hou verband met aktiwiteite wat met die pastoraat verband hou. Hier hoor ons van aspekte soos kindersorgtoerusting, die oprigting en inwerkingstelling van pastorale sentrums, pleegsorghuise vir tieners en die hantering van werklike krisisse. Gegewe die aard van 'n predikant se werk, sou 'n mens nogal kon verwag dat pastoraat van verskillende vorme vir predikante aangename oorgrens-ervarings kon meebring.

Die vierde aktiwiteit wat die predikante geoordeel het vir hulle aangename oorgrens-ervarings inhou, is binnelandse en buitelandse uitreike van verskillende duur en formate. Dit is 'n tradisie wat 'n lang geskiedenis in die NG Kerk het en veral na die groot sendingontwaking van die agtiende eeu en die koms van 'n aantal Skotse predikante na Suid-Afrika. Dit het diep inslag in die Afrikaanse kerke van Gereformeerde agtergrond gevind. Dit word ondersteun deur die antwoord op vraag 7 oor gemeentelike leierskap en strukture waarin 93% van die respondente geantwoord het dat daar by hulle 'n groeiende bewussyn is dat God as Drie-eenheid aktief in die wêreld handel en dat die gemeente by God se handelinge aansluiting vind.

Aan die ander kant laat dit 'n mens tog wonder wanneer 40% van die respondente in vraag 7 sê daar is vrese dat missionale teologie net 'n nuwe gier is, of hier werklik 'n kopskuif onder die predikante plaasgevind het van 'n instandhoudings- en oorlewingsmodel na geloofsvorming en die uitleef ons roeping en diens na buite.

 

13. Slot

Die navorsingsvraag wat ek in hierdie bydrae probeer beantwoord het, het aangesluit by die Kerkspieël se predikante-vraelys aan 'n aantal predikante van die NG Kerk waarin hulle moes reageer op die vraag: Vertel van die beste ervaring wat jy in julle gemeente gehad het waar gelowiges oor kultuurgrense heen bymekaar is of iets saam gedoen het? Die steekproef het deel gevorm van 'n predikante-paneel wat elke drie jaar gedoen word onder predikante van die NG Kerk. Kontemporêre diskoerse wat verband hou met die missionale aard van kerkwees en die uitdaging van multi-kulturaliteit in geloofsgemeenskappe het as agtergrond vir die ondersoek gedien. Die kwalitatiewe data toon 'n interessante aantal aktiwiteite wat deur die predikante geïdentifiseer is en wat met multikulturaliteit verband hou. Dit bied ook sekere rigtingwysers vir verdere missionale ontwikkelinge in die toekoms.

 

Bibliografie

Balia, D. and Kim, K. 2010. Edinburg 2010, Vol 2: Witnessing to Christ today. Regnum: Oxford.

Brouwer, R. 2009. Missional church and local constraints: A Dutch perspective. Verbum Et Ecclesia 30(2), Art. #329, 5 p. DOI: 10.4102/ve.v30i2.329.         [ Links ]

Creswell, J.W. 2010. Mapping the developing landscape of mixed methods research. In A. Tashakkori & C. Teddlie, (eds.) Sage handbook of mixed methods in social and behavioural research, (California: Sage Publications), pp. 45-68.         [ Links ]

Granberg-Michaelson, W. 2018. Future faith. Ten challenges reshaping Christianity in the 21st century. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

Hesselmans, M. 2018. Racial Integration in the Church of Apartheid: A Unity Only God Wants. Leiden: Brill.         [ Links ]

Ivankova, N.I., Creswell, J.W. & Plano, C.V.L. 2009. Foundations and approaches to mixed methods research, In K. Maree, (edc.) First steps in research, (Pretoria: Van Schaik Publishers), pp. 253-282.         [ Links ]

Nell, I.A. 2011, 'Practical theology as "healing of memories": Critical reflections on a specific methodology', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 67(2), Art. #1001, 8 pages. doi:10.4102/hts.v67i2.1001        [ Links ]

Nell, I.A. 2015. Learning, changing and doing - Critical citizenship through ecumenical exposure. Stellenbosch Theological Journal. Vol 1(2):531-549. http://dx.doi.org/10.17570/stj.2015.v1n2.a25        [ Links ]

Niemandt, C.J.P. 2010. "Five Years of missional church", Missionalia 38(2):97-413.         [ Links ]

Niemandt, N. 2014. Developing Missional Congregations: Council for World Mission Africa Region Assembly.

Saramento, C. 2014. Interculturism, multiculturism and intercultural studies: Questioning definitions and repositioning strategies. Intercultural Pragmatics, Vol. 11(4):603-618.         [ Links ]

Steyn, M. 2011. Being different together: Case studies on diversity interventions in some South African organizations. Cape Town: University of Cape Town.         [ Links ]

Van der Westhuizen, M., Greuel, T. and Thesnaar, C. 2015. In search of a theoretical framework towards intercultural awareness and tolerance. Scriptura, 114 (2015:1):1-16. http://doi.org/10.15270/51-1-431.         [ Links ]

Van der Westhuizen, M.A. Greuel, T. & Thesnaar, C.H. 2018. From my own to the unknown and back to my own. Christian Literature Fund Publishers: Wellington.

Wulff, K. 1987. The Presbyterian Panel. Review of Religious Research, 28(3):294-296. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.jstor.org/stable/3511397        [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License