SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.5 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.5 n.2 Stellenbosch  2019

http://dx.doi.org/10.17570/stj.supp.2019.v5n2.a28 

ARTICLES

 

Sewe heerlike homiletiese doodsondes. Sondige insigte uit die kreatiewe skryfkuns en (Afrikaanse) letterkunde

 

Seven delectable homiletical deadly sins. Sinful insights from creative writing and (Afrikaans) literature

 

 

Wepener Cas

Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika. cas.wepener@up.ac.za

 

 


ABSTRACT

Homiletics can learn much from Literature. Poets, novelists and short story writers are all masters of the written word. While they practise their art form, they very specifically keep their readers in mind. The same holds true for preachers with regard to both the spoken and written word. Through the ages writers of works of literature have employed a vast amount of rhetorical wisdom, insights they have gained from both language and literature, which they use in their stories, dramas and poems. In this chapter seven of these insights will be explored as insights from which preachers can benefit. This exploration is done by making use of the seven deadly sins, but in this article, they are deadly sins that preachers should commit week after week. This chapter is in that sense a plea for a harmatological Homiletics. Pride is the first step needed to a create hit. Greed with regard to the attention of the hearers should be committed boldly. A preacher who makes use of lust will unleash desire in the hearers and an angry preacher meets many hearers in the situation they currently find themselves. Preachers who are gluttons, swallow their hearers in their total being and an envious preacher inculturate the pulpit by means of meaningful intertextuality. And the best preachers are the lazy ones, because the show their rather than tell.

Trefwoorde: Homiletiek; prediking; Afrikaanse letterkunde; doodsondes; kreatiewe skryfkuns


 

 

1. Inleiding

Ek wou graag hierdie artikel skryf,1 want in sy ruim akademiese oeuvre rakende die homiletiek en liturgie, het Johan Cilliers menige prediker en liturg verlei en met h baie lang wysvinger via h estetiese benadering na h verryking van hul homiletiese beoefening van die viva vox evangelii gewink.2 Daar is duidelike Lutherse ondertone en botone in sy benadering, maar hierdie toonaard het juis ook h besondere en eie kleur aan sy eg Gereformeerde homiletiek en liturgie gegee. Hierdie artikel wil graag aansluit by Cilliers se estetiese benadering soos wat hy veral met sy interdissiplinêre aanpak en gebruikmaking van die visuele kunste gedoen het,3 maar wel met h effens ander invalshoek, te wete h interdissiplinêre verkeer tussen homiletiek en Afrikaanse letterkunde. Soos wat my doktorvater4my ook met sy aanpak verlei het, wil ek met hierdie artikel, en dus in die skadu van Cilliers en die leer van die erfsonde, gehoor gee aan my leermeester se wekroep tot h estetiese homiletiek en hier op my beurt lesers van hierdie artikel verlei tot digterlike prediking of h literêre homiletiek. Daniel Hugo (2015:12) skryf tereg in sy gedig getiteld "Digter": "sy gevurkte tong gee die toon aan:/ alles wat hy lispel en sis is dubbel-/ sinnig en elke kronkeling word/ onderskryf deur die geratel van skubbe."

Met Hugo se vernuftige5 kwatryn val hierdie artikel dan ook sommer met die deur in die huis. Daar is slegs vier versreëls, maar die enkele reëls het heel moontlik aandag gewek, lesers iets laat beleef, dít veral deur h sterk beeld wat, nadat h leser klaar gelees het, aanhou om in h leser se gedagtes rond te seil. Sommiges is dalk oortuig deur die woorde, ander dink weer daaroor, party put plesier daaruit en dalk is enkeles selfs geskok. Ek glo digter Daniel Hugo met sy gevurkte tong (pen) kry in vier versreëls meer reg as wat menige prediker met stralekrans en h hele rits baie lang preke al reggekry het ten opsigte van kommunikasie. Dit is hierdie sondige pad van die letterkunde wat in hierdie artikel geneem word in die hoop dat dit kommunikasie in die prediking op h literêr-estetiese (vgl. Vos & Wepener 2014) wyse kan verryk.

 

2. Kreatiewe skryfwerk

Daar is baie bronne beskikbaar wat riglyne bied ten opsigte van retoriese vaardigheid in prediking. Dit wat in hierdie artikel aangebied word, sluit grotendeels by die bestaande aanbod aan, maar is spesifiek geïnspireer is deur my eie belangstelling in die letterkunde en kreatiewe skryfwerk. In kreatiewe skryf, en al is dit geensins h eksakte wetenskap nie en inderdaad h kunsvorm, is daar h paar goue reels wat, effens aangepas, ook geld vir kommunikasie in die prediking. Tom Long (1989) het lank terug reeds in sy Preaching and the literary forms of the Bible gewys hoe die Bybeltekste uit retoriese vorms (genres) bestaan en hoe daardie vorms ook prediking kan verryk. Romans sowel as gedigte (ook kortverhale, essays, dramas en ander literêre vorms) is kunsvorms en insgelyks is h preek ook h (unieke) kunsvorm. Vir kuns is daar nie formules nie, maar daar is beter en slegter wyses om dit te doen, beter en slegter wyses waarop letterkunde dit wat dit wil kommunikeer, oordra. Die basiese reëls, tegnieke of vorms van die skilderkuns of poësie moet skilders of digters eers goed onder die knie hê voordat hulle doelbewustelik en op sinvolle wyses daardie tegnieke kan transendeer en hulle kunsvorms verder neem. Hierdie artikel wil slegs by enkele van die basiese reels of wyshede stilstaan, en daarvoor is daar tans in Afrikaans h ruim gepubliseerde aanbod wat van waarde kan wees.

Oor die laaste paar jaar is boeke oor hierdie onderwerp in Afrikaans gepubliseer, soos Om te skryf van Basson et al (2013) en die samestellers Scheepers en Kleyn (2012) se Die Afrikaanse Skryfgids.6Daar is natuurlik h ruim hoeveelheid soortgelyke gidse in Engels beskikbaar byvoorbeeld John Gardner (1991) se The Art of Fiction en Stephen King (2000) se bekende On writing. Aan universiteite oor die hele Suid-Afrika is daar ook h hele aantal kreatiewe skryfkursusse. Bekende skrywers en digters wat by van hierdie programme betrokke is, sluit in Henning Pieterse by die Universiteit van die Vrystaat, Etienne van Heerden (tot onlangs nog) en Joan Hambidge by die Universiteit van Kaapstad, Marlene van Niekerk en Willem Anker se kursus aan die Universiteit van Stellenbosch en Gerrit Olivier by die Universiteit van die Witwatersrand.

In die teologie en godsdienskunde is daar ook ruim belangstelling in die letterkunde soos die joernale Religion & Literature en Literature & Theology tereg getuig. Ook in die veld van die homiletiek het daar byvoorbeeld Alyce McKenzie (2010) se Novel Preaching verskyn, Reading for Preaching van Neal Plantinga (2013) en ook minder bekende werke soos byvoorbeeld Christopher Thoma (2010) se The homiletical canvas. Cas Vos bied ook h goeie oorsig in hierdie verband in Tussen God en mens (Vos & Wepener 2014:21-53). Hierdie artikel sluit ook aan by hierdie redelik klein maar groeiende veld binne die Homiletiek.7

 

3. Die sewe doodsondes

Volgens oorlewering het dr. Koot Vorster na die Sestigers8 indertyd as "h klomp vuilspuite" verwys (Brink 2007). Daar is dus inderdaad persone vanuit kerklike en teologiese kringe wat enigsins bekommerd was, en dalk steeds is, oor die invloed wat die (Afrikaanse) letterkunde kan uitoefen. In hierdie artikel word skrywers, wat die sogenaamde "vuilspuite" insluit, se werk digby die Homiletiek gebring, soveel so dat hulle lekker kan lepellê in die hoop dat iets nuuts gebore word, te wete literêre prediking. Hierdie verwekking sal egter nie moontlik wees sonder die hulp van die hamartologie nie. Die beoogde literêr-homiletiese koppeling word in hierdie artikel gevolglik deur die sogenaamde klassieke sewe doodsondes bemiddel om h homiletiese hamartologie daar te stel. Die sewe doodsondes word hier benut as homiletiese doodsondes wat predikers dapper moet pleeg met die oog op h verryking van die bestaande prediking praktyk.

Die klassieke doodsondes is hoogmoed, hebsug, wellus, woede, vraatsug, afguns en luiheid (Fouche 1999). Elke doodsonde word in samehang met h insig of twee uit die letterkunde en kreatiewe skryfwerk vervolgens aangebied en telkens ook voorsien van h voorbeeld ter illustrasie uit die Afrikaanse letterkunde. Die eerste homiletiese doodsonde wat bespreek word, is hoogmoed.

 

4. Hoogmoed (kontekstueel en die menslike kondisie)

Met hoogmoed mik die prediker om elke week op Exclusive Books of Wordsworth Books se top 20 lys van beste verkopers te wees. Om egter op daardie lys te beland, om h pryswenner te pleeg, gaan nederigheid h prediker nie ver bring nie en is hoogmoed noodsaaklik. Wat met hoogmoed bedoel word, is gewoon die belang van aktuele en kontekstuele prediking.9Predikers moet dus preek oor dinge wat vandag (daardie betrokke week) vir hulle hoorders van belang is en terselfdertyd moet die predikers tot die hoorders se harte spreek (sake wat nie noodwendig daardie week aktueel is nie). Dus, sowel die aktuele konteks waarin die hoorders leef as die sogenaamde algemeen menslike kondisie wat die hoorders deel met alle mense in kombinasie, is h resep vir h treffer.

In h interkulturele benadering word daar dikwels verwys na die feit dat alle mense soos alle ander mense, soos geen ander mense en ook soos sommige ander mense is (sien Lartey 2012, Tisdale 2008, asook Wepener 2014). Terwyl h prediker in byvoorbeeld Stellenbosch Sentraal gemeente dus sake in ag neem wat vandag in Suid-Afrika, die Wes-Kaap en Stellenbosch vir mense van belang is en dit verreken in die preek, hou die prediker terselfdertyd dit ook in die oog dat die mense vir wie gepreek word almal die sogenaamde condition humaine, die menslike kondisie, deel. Hulle almal het (soms) lief, word (soms) hartseer, is (soms) bang, en is ook (soms) bly. h Tydlose preek mag teologies deugdelik voorkom, maar dit is h tragiese preek wat die homiletiese Top 20 nooit sal haal nie (sien Brouwer 2008). Om egter tegelyk aktueel en pastoraal te preek, vra dapper predikers wat bewustelik in die wêreld leef, eksegese doen en die wetenskap en kuns van hermeneutiek met onderskeiding beoefen.

Die Nobel Prys vir prediking gaan aan die predikers wat h preek vir vandag kan skryf en terselfdertyd die algemeen menslike kondisie in ag neem. Dis wat die classics doen, hulle is gewortel in byvoorbeeld die politieke omstandighede van Rusland van die negentiende eeu, maar terselfdertyd sny die verhaal tot op die been van menswees wat, te midde van uitdagende omstandighede meegesleur word deur die liefde tussen Anna en Wronsky soos in Tolstoi se Anna Karanina (Tolstoy 1978).10

Wat kreatiewe skryfwerk betref, gaan dit in hierdie opsig oor h gewoonte. Boeke oor kreatiewe skryfwerk begin dikwels met praktyke wat skrywers moet aankweek om goed te kan skryf (Scheepers 2012:1-10). Hierdie praktyke sluit altyd in dat skrywers eerstens baie moet lees en om akuut bewus en waarnemend deur die lewe te gaan (McKenzie 2010:11-26). Predikers wat dít doen het h beter aanvoeling vir wat in die wêreld aangaan en wat in die harte van die hoorders aangaan. Deur homileties hoogmoedig te wees mik die prediker vir h treffer deur terselfdertyd aktueel te wees én die algemeen menslike kondisie aan te sny. Gert vlok nel (1993) se gedig "Die dag toe hulle vir Donkie Viviers" laat die leser terselfdertyd die dorp Beaufort-Wes sien en hoor én tot binne in die stukkende hart van h skoolseun kyk.

 

Die dag toe hulle vir Donkie Viviers

jou ma is dood.

by die skool.

het hy sy tas.

sy kop.

gespoeg.

& geskreeu.

& afgehol oor die groen velde van die rugby.

die totempale.

die bus stoor, die hut van die vermoorde opsigter.

Die xhosa-grassnyer, briljant & kru, dormant.

(sy vrou bo in die linnekamer, dom & sku, verreken.)

die wagtende ouers in moterige motors, latent.

die intriges op baisiekels, berekend.

verby bomerige bome.

toe verby my (& toe verby jou).

verby die gedig.

deur die na buite toe oop hek.

Verby elsa wat haar eerste maandstonde in die biologieklas.

af in die lig straat.

verby die regop grafte.

daai een wat oos kyk.

die wat wes.

bo-oor huise strate poskantoor kerk.

die laaste stasie op die planeet, beaufort-wes.

inner in die skemer in.

tot in sy peperboomste peperboom.

in sy agter yardste agter yard.

& die laat-middag het chroom geword.

& trein wat ysig fluit.

 

5. Hebsug

Hebsug gaan oor die begeerte om soveel as moontlik te bekom en die drang is onversadigbaar. Predikers se homiletiese hebsug gaan daaroor dat hulle nie slegs vir die eerste minuut hul hoorders se aandag wil hê nie, maar vir die duur van hul preek. Vanaf hoogmoed na hebsug word dus h skuif gemaak vanaf konteks en waarneming na retorika. In die letterkunde word in hierdie verband van "narrative pull" of "narrative push" gepraat en in homiletiek word veral van "strategic delay" (McClure 1995:45) gepraat wat basies behels dat aandag aan plot of storielyn geskenk word. Goeie "strategic delay" in fiksie is suksesvol wanneer die leser nie die boek kan neersit nie, maar dit is belangrik om hier te stel dat alle lesers in hierdie opsig nie oor een kam geskeer kan word nie. Sommige lesers kan nie h aksiebelaaide Deon Meyer verhaal neersit nie, terwyl ander weer nie h Karel Schoeman roman waarin "niks" gebeur kan neersit nie. Daar is dus geen pasklaar resep oor hoe om dit te doen en die tegniek dan te veralgemeen nie, maar daar is baie tegnieke wat handel oor vorm en wat uit die retorika put, soos Eugene Lowry (2001) se beroemde "Lowrey Loop" of die vier bewegings van Paul Scott Wilson (1999) se "four pages of the sermon."

Die buitelyne van homiletiese hebsug kan egter soos volg opgesom word: 1. Die begin is krities. 2. Die einde is belangrik. 3. Alles wat tussen die begin en die einde gebeur is onontbeerlik. Dit werk soos h ketting waarin elke skakel sorgvuldig aan die volgende een gekoppel moet word. Goeie koppeling van skakels beteken dat die hoorders voortdurend voor oë gehou moet word. Predikers kan hulself ook meer gereeld afvra of hulle self nog lus sou gewees het om na hul eie preek te moet luister? Die homiletiese aanbod in hierdie verband is groot en daar is baie preekvorme wat benut kan word om hoorders se aandag van begin tot einde te behou en hulle so met h hebsugtige homiletiese happe te verorber.

Die redes waarom hoorders aanhou luister na h preek is grotendeels dieselfde redes waarom lesers aanhou om h roman te lees. Dit is onder andere omrede die prediker of skrywer nie dadelik met die hele sak patats uitgekom het nie, maar die hoorder sorgvuldig soos h vis wat die aas geneem het inkatrol deur die spanningslyn, net soos h belowende vislyn, deurentyd styf te hou. In hierdie verband moet bygevoeg word dat alle goeie skrywers hul manuskripte dosyne kere oor en oor skryf en redigeer.11Die prediker ontwikkel h basiese konsep deur eers deur die smeltkroes van diepgaande eksegese te gaan, waarna h basiese konsep vir die preek geformuleer word, maar daarna volg h uiters moeisame redigeringsproses. Hierdie redigering is nodig ten opsigte van die opbou van die preek en dat die prediker woord vir woord, sin vir sin, paragraaf vir paragraaf, die teks, al is dit net hoofpunte en buitelyne wat inderdaad neergeskryf word, sorgvuldig redigeer met die hoorders in gedagte.

Hoekom luister hoorders na h preek óf enduit óf raak hulle sommer vroeg al verveeld? Daar is 'n legio redes soos die reeds vermelde ontwikkeling van die plot en die afwagting en verwagting wat geskep word op die pad na h ontknoping. Dit is presies op hierdie punt dat die gesprek aan die gang is oor die sinvolheid van h preektema. Indien predikers in hul preektema of -titel wat vooraf op h webwerf of blaadjie gepubliseer word alles weggegee het wat in die preek gesê gaan word, is die hoorders nie noodwendig nog lus om na die preek te luister nie. Dit is vergelykbaar moet h boekresensie waarin die storie verklap word. Aan die ander kant van die spektrum is die afwesigheid van h tema of titel wat absoluut geen verwagting skep nie. Nog h aanverwante punt hier is of die Skrifgedeelte(s) voor, tydens of na die preek gelees moet word. Presies op hierdie punt kan die aap ook uit die mou gelaat word lank voor die tyd, al is dit baie goed dat h goed vertolkte Skriflesing alreeds h goeie aanset tot die preek wat volg, is. Daar is hieroor geen finale uitsluitsel nie, maar h roetemerker in hierdie verband kan wees om homiletiese hebsug in gedagte te hou. As voorbeeld hier word die eerste paragraaf van Willem Anker (2014:9) se roman Buys aangehaal.

"Kom en zie! Die koggelman op die rots, rysmier in die bek. Sy kake begin maal. Hy bespied gewes, al langs die kloof af. Sy byt val stil, sy oogballe rol. Die kleur van sy kop en voorpote wys hy is gereed vir paar. Hy toon sy rooibruin rug en kraag. Hy kyk op, draai sy kop na regs. Sy blou nekvel span. Kyk, agter die klipsalmander verrys ek uit die rots. Ek stof my hoed af, steek my pyp op. Aanskou my: Ek is die legende Coenraad de Buys. Kom, laat ek jou besmet, my erflik belaste leser. As jy hier lees, sien jy wat ek sien. En ek sien alles. Ek is van alle dae, ek is onsterflik. Moet my nie siel noem nie. Ek het hoeveel name. Noem my eerder Coenraad, of Coen as jy my moeder of suster is. Pen my neer as De Buijs, De Buys of Buis, nes jy goeddink. Noem my koning van die Basters, Khula, Kadisha, Moro, Diphafa of Kgowe. Ek is hulle almal. Ek is alomteenwoordig. Ek is Alom-Buys."

Die skrywer van hierdie artikel se aandag is getrek en wil graag verder lees.

 

6. Wellus

Die opmerking dat die boek baie beter as die fliek was, word dikwels gemaak. Hoekom? Dit is onder andere omrede lesers soveel meer vir hulself moes verbeel toe hulle die boek gelees het, as toe die beelde vir hulle op h skerm vertoon en ingekleur is. Dit is onder andere hoekom baie mense opmerk dat die boek Fifty Shades of Grey soveel beter as die fliek is. In visuele kuns, ook die letterkunde, is suggestie veel meer eroties as blatante uitbeeldings. Die ronding van h goed geskape skouer in h skildery of foto is dikwels meer skadelik vir kykers se bloeddruk as pornografie.

Wellus beweeg in die domein van begeerte, en daarom kan die filosoof Jamie Smith (2008 2016) se boeke soos Desiring the Kingdom en You are what you love as gespreksgenote hier betrek word. Smith bring liturgie en vorming, of onderrig, met mekaar in verband en argumenteer dat wanneer mense leer, sal die wat die onderrig gee goed doen deur kers op te steek by die liturgie, aangesien liturgie met die beginsel van begeerte werk, spesifiek h begeerte vir die koninkryk. Die wat onderrig gee, kan vir die leerders se harte mik. Hierdie soort lering gaan dus oor veel meer as slegs die oordrag van inhoud met die oog op verstaan, maar is ook daarop ingestel om begeerte te wek. Toegepas op die prediking beteken dit dat hoorders voortdurend dink: Ja, ek wil dít hê! Natuurlik sal dít van preek na preek verskil en kan sake insluit soos geregtigheid, troos, vergifnis of wysheid. Wellustige prediking wek begeerte.

Dit gaan ook dikwels nie oor hoorders se kennis wat nogmaals aangevul moet word met inligting wat hulle nog nie voorheen gekry het nie. Nee, dikwels is dit eerder om net woorde te gee vir wat hulle self graag sou wou gesê het. So gee wellustige preke woorde aan hoorders se (dikwels onuitgesproke) begeertes. Preke kan drup van Woensdag se wellus sodat die woorde en beelde van die preek ook begeerte by die hoorders skep. Ten diepste en in navolging van Smith (2008) is daardie begeerte h begeerte vir God se koninkryk. Woede sluit naatloos by wellus aan, maar eers h voorbeeld uit die letterkunde en die diep begeerte van hoorders om soms iets van daardie ":" waaroor Sheila Cussons (1979:60) dig te beleef.

 

Die sagte sprong

Dit kom wanneer dit nie verwag

word nie: h aanraking van die verstand

lig soos h veer, vlugtig maar presies

en jy dink as sy ligtheid so is, so potent

dat die aandag nog lank daarna

die indruk behou, hoe moet sy vasvat wees?

: Dit kom wanneer dit nie verwag

word nie: iets wat die bewussyn tot

in die lewe tref, iets soos h sagte sprong -

vreugde, verbasing, vreugde, herkenning:

hoe moet u vasvat wees?

 

7. Woede

Woede is die duiwel van Donderdag. Hierdie doodsonde is die enigste een wat ook h emosie is en nugter alleen weet hoe h emosie h sonde kan wees (vgl. Wepener 2015). Predikers moet hulself afvra hoe dit voel om opreg en sinvol kwaad te word, want indien hulle nog nie kwaad was nie of hulself die emosie kan indink nie, mag hulle nie vir mense wat kwaad is preek nie (vgl. Wepener & Pieterse 2018). Soms moet predikers hulself bewustelik in die skoene van hul hoorders plaas, in die sinapse van die hoorder, in hul bloeddruk en aktief probeer om iets van hul emosies wat woede insluit, te beleef en dalk selfs te verstaan. Hier kan die homileet Ramsey se empatiese verbeelding, asook Craddock se emfatiese verbeelding (McClure 2007:26) herroep word.

Hierdie sogenaamde empatiese verbeelding is h ou tegniek van kreatiewe skrywers wat hulself gereeld moet verbeeld hoe dit byvoorbeeld voel om ongetroud, sestien en swanger te wees; baie verlief te wees; op die bed te lê terwyl jy in die teater ingestoot word vir h operasie; na sestig jaar se huwelik h wewenaar te wees. Sonder h empatiese verbeelding sal h romansier nooit die vokalisering en register van h karakter regkry nie, en predikers sal goed doen om aandag te gee aan hoe hul preke vanuit die perspektief van hul hoorders vokaliseer en of hul preke in die register van hul hoorders opereer.

Een riglyn is dus dat predikers hulself gereeld in hul hoorders se skoene plaas. h Tweede riglyn is dat predikers, wanneer hulle die preek voorberei, hulself ook in die verskillende karakters in die betrokke Bybelteks se skoene plaas (vgl. Brown, 2016:151-182). Predikers benader h teks dikwels vanuit die bekende karakters se oogpunt, maar kan hulself gereeld ook afvra hoe dit sou gevoel het om h Fariseër in daardie verhaal te gewees het, in plaas van h dissipel; die oudste seun; die slaaf wat die water aandra; die mense wat uit die tempel uitgejaag word. Antjie Krog (2014:37) illustreer die belang van h empatiese verbeelding goed in die volgende gedig.

 

Om in h dogtertjie se kamer te slaap

Tannie kan sien hoe netjies jy is

hoe presies alles in jou kamer

gepak is hoe jy jou bes doen

hoe jy jou rooster by jou studietafel plak

hoe sorgvuldig jy jou wekker stel hoe

jy as oudste kind net jou bes doen

altyd jou bes doen

beste bes soos wat jy

beste besdoen verstaan

maar vanoggend toe jy jou sap omstamp

sien Tannie vir h oomblik hoe angs uit

die hoeke van jou gesmelte groen oë flikker

die angs dat bes nie tel nie dat bes niks

bring of uiteindelik tot niks lei nie dat

bes ander se beheer oor jou is en veral

dat jy dalk net h gewone dogtertjie is hierdie

tannie weet hoe besdoen jou vir die res

van jou lewe hiermee ongelukkig gaan maak

 

8. Vraatsug

Vraatsug word in die homiletiek ietwat anders as hebsug gepleeg. Met hebsug wil predikers, soos reeds gesien, hul hoorders se aandag deur die hele prediking behou. In vraatsug word daardie hebsugtigheid ten opsigte van die hoorders se aandag nog verder geneem in h poging om hulle heeltemal te verorber. En die beste wyse om dit te doen is, een hap op h slag in happe wat telkens klein genoeg is om behoorlik gekou te word. In die letterkunde beteken dit, toegegee ietwat paradoksaal hier toegepas, minder is meer. h Homiletiese vraat neem een hanteerbare hap, kou dit fyn, sluk, en hap dan weer. Predikers wat te veel afbyt, kou dat dit klap, maar kan uiteindelik nie sluk nie en hulle hoorders kan glad nie sluk nie. Predikers besef dit nie altyd self nie, maar hoorders beleef dit wel.

Wanneer predikers hul hoorders in een preek toegooi met vier gedigte, drie anekdotes, twee videogrepe, 'n uittreksel uit h roman, en natuurlik ook afbeeldings van h skilderye op die skerm, mag dit voorkom asof die prediker dapper sondig as h vraat, maar eintlik gebeur die teenoorgestelde en ly die hoorders honger. In die oorvloed illustrasiemateriaal word die hoorders se aandag heeltemal verloor en het die prediker hulle nie op h vraatsugtige wyse ingesluk nie, maar knap na die openingsin verloor sodat hulle daarna tydens die prediking h vastyd tegemoetgaan ten opsigte luister. Dit is selfs bedenklik of h prediker enigsins eers na h film wat die hoorders nog nie gesien het, of h roman wat hulle nog nie gelees het nie, in h preek kan verwys. Wanneer dit by preekillustrasies kom, is dit dus belangrik om uiters oordeelkundig te kies en tweedens "to kill all the darlings." Bekende benaderings soos Long (2005) se vorm en funksie van die preek kan vir predikers in hierdie verband van groot waarde wees ten einde die preek te fokus en dus ook op h sinvolle wyse oortollige materiaal uit te skakel. Dit is gerade om een beeld, nie alleen vir die preek nie, maar vir die hele liturgie te kies en deurgaans daarby te bly.

Indien predikers hul hoorders homileties wil opvreet en insluk, moet hulle hulle laat huis toe gaan met een kontrolerende saambindende beeld of tema. Die meeste predikers preek baie gereeld en al die illustrasiemateriaal wat hulle so graag in h preek wou gebruik het, kan gewoon opgeberg word en wag vir die regte Sondag (teksgedeelte). Die goue reël vir goeie homiletiese vraatsug is minder is meer en die kortste Nederlandse gedig wat ooit geskryf is, h gedig van J.H. Leopold (1977), illustreer hierdie waarheid goed. Die gedig lui: "O rijkdom van het onvoltooide".

 

9. Afguns

Homiletiese afguns word gepleeg deur middel van intertekstualiteit en inkulturasie. h Informele waarneming van liturgiese ruimtes en kansels in die NG Kerk in Suid-Afrika kan hierdie punt staaf. Vele preke in die NG Kerk en die meegaande skyfievertonings op Power Point is besaai met beelde van sneeu landskappe uit Kanada, watervalle uit die Amasone, pastorale landelike tonele uit Engeland of Ierland en diere soos Panda-, Ys- of Koalabere. Wanneer daar na h oorlog in h preek verwys word, dan is dit klokslag die Tweede Wêreldoorlog (preke in die Vrystaat is hier h uitsondering), asof die Suid-Afrikaanse Oorlog en die bevrydingstryd teen apartheid onbekend is. Wanneer teoloë in preke aangehaal word begin hul vanne almal met h buitelandse B, soos Bonhoeffer, Barth, Berkhof, Bultmann, Bavinck, Brueggemann. Waar is die binnelandse B's soos Bosch, Baloyi, Barnard, Botha, Bosman en Breytenbach? En natuurlik Cilliers. Predikers moet afgunstig wees, jaloers op hulle land, op die teologie wat hier gebore is, predikers moet in die woorde van Peter Blum (1981:10) 'weet op watter vasteland hulle boer' en die (Afrikaanse) letterkunde kan hier van waarde wees om deur intertekstualiteit die kansels te inkultureer.

Eenvoudig gestel kom intertekstualiteit neer op spore van ander tekste wat in h teks voorkom, asook die gesprek wat voortdurend tussen tekste plaasvind (vgl. Vos & Wepener 2014:48). Liturgiese inkulturasie weer is "'n voortdurende proses van krities-wederkerige interaksie tussen die kultus (liturgie) en die kultuur sodat 'n totaal nuwe entiteit tot stand kom, te wete 'n geïnkultureerde liturgie" (Wepener, 2004:90). Wat in hierdie definisie van liturgiese inkulturasie gesê word, geld insgelyks vir die prediking as deel van die liturgie. Een vorm van intertekstualiteit wat byvoorbeeld preke in die NG Kerk kan help om te inkultureer, is ten opsigte van die Afrikaanse Letterkunde wat preke kan help om op die kontinent waar hulle gelewer word en waar die hoorders elke dag leef, te boer. Homiletiese afguns beteken om deur middel van intertekstualiteit te inkultureer sodat preke geplant word, ontkiem en bloei vanuit die bodem van die kontinent van Afrika. Afrika dien dan as palet vir die preek en een manier om dit te doen is deur middel van intertekstualiteit wat homiletiese inkulturasie dien. Natuurlik moet hierdie riglyn nie h wet word nie en is daar wonderlike stof uit die buiteland wat waardevol kan wees, maar "local is lekker" en kan ook in diens van h postkoloniale homiletiek staan.

Oudregter Hannes Fagan se gedig in Groot Verseboek wat hy reeds meer as sestig jaar gelede geskryf het, verwoord iets van hoe verleidelik homiletiese afguns kan klink.

 

"Nkosi sikelel' i-Afrika"

Uit duisend monde word die lied gedra.

Ek sluit my oë; soos 'n serafskoor

val daar stemme strelend op my oor:

"Nkosi sikelel' i-Afrika" -

ons vra U seën, o Heer, vir Afrika.

Ek kyk, en sien die skare voor my staan:

Zoeloe en Kosa, Soeto en Sjangaan,

en ek, 'n Blanke - vele volkere, ja -

almal verenigd om Gods seën te vra

op net een tuiste, net een vaderland,

want die Alwyse het ons saam geplant

en saam laat wortel in Suid-Afrika.

"Nkosi sikelel' i-Afrika" -

seën, Heer, die land wat vele volkere dra.

 

10. Luiheid

Die een mees elementêre beginsel in kreatiewe skryfkuns is om eerder te wys as om te vertel, of soos dit in Engels lui: "show don't tell". Eintlik is hierdie goue reël h samevatting van die tien gebooie vir romansiers en kortverhaalskrywers. Hier is eerstens h voorbeeld van vertel en tweedens van wys.

Vertel: "Daar is h frons op Bertus se gesig omdat hy kwaad is vir Elsabe wie se opmerking hom vroeër ontstel het. Nou kyk hy na haar en dit lyk asof Bertus kan slange vang omdat hy so briesend is."

Wys: "Teen die kant van sy kop klop h aartjie. Sy oë verstar en hy kyk stip na haar terwyl sy linkerhand liggies bewe. In die gang slaan die horlosie drie slae wat bly talm terwyl Elsabe uit die hoek van haar oog die afstand tussen haar en Bertus takseer."

"Show, don't tell." Vir predikers beteken dit, wees lui. Predikers kan heerlik lui wees en hoef nie hul hoorders te onderskat deur elke stukkie detail in besonderhede uit te spel nie. Predikers sal goed doen deur die hoorders deur middel van wys eerder as vertel dit waaroor hulle praat te laat beleef (vgl. Brown 2016:163-164). Dit beteken hoorders hoef nie met h lepel gevoer te word nie. Natuurlik werk hierdie beginsel anders in Sandton as in Secunda, en anders in Stellenbosch as in Soshanguve. Die veronderstelling is egter dat predikers hul homiletiese kontekste goed genoeg ken om dit te kan toepas. In hierdie verband is absolute fyn waarneming wat een van die vertrekpunte van Johan Cilliers (1998; 2012) se homiletiek is, van kritiese belang.

Volgens Cilliers moet predikers eers sien sodat hulle ander kan laat sien. Homiletiese luiheid sluit hierby aan en beteken dat predikers eers lekker lui en rustig in hul konteks tot die fynste besonderhede moet waarneem, voordat hulle wysende eerder as vertellende predikers kan wees. Predikers sal goed doen deur om soos digters na die gemeentes waar hulle dien te kyk. Eenvoudige vrae kan hier waardevol wees om op h bykans etnografiese wyse in die konteks aanwesig te wees sonder dat enige detail die prediker ontgaan. Hierdie predikers let dus op presies hoe die plooivore op oom Pieter se gesig gespan het toe iemand die woord Belhar gesê het; hulle let op hoedat sy jou nie eenkeer in die oë gekyk het toe sy vertel het wat gebeur het toe sy sewentien was nie; hulle sien dat terwyl hy "ja dominee" gesê het hy "jou #@&*%" gedink het. Predikers wat te fluks en besig is en nie volledig en lui in die oomblik teenwoordig is nie, mis hierdie belangrike besonderhede in die alledaagse. Heelwat van dit wat lui predikers sinvol kan benut word nooit in woorde geuiter nie. Dit sit in stiltes, in h kyk, in wegkyk, soos die stiltes van h Karel Schoeman roman, maar dit is juis daar waar soveel van die betekenis opgesluit is (vgl. Wepener 2017). In hierdie verband is dit ook krities dat predikers voortdurend met al hul sintuie waarneem en hulself afvra hoe h preek die hoorders ook iets van die boodskap kan laat ruik en proe en sien en voel.

Die wyse waarop T.T. Cloete (1989:49), soos h psalmdigter, beweeg van waarneming na woorde, en dan in ekonomiese maar treffende taal te wys in "God die digter", dien as voorbeeld ten opsigte van die laaste homiletiese doodsonde. Hierdie gedig sou goedskiks genoeg wees om te dien as h volledige preek by h teks soos Psalm 19.

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie

as in die letterkunde en baie meer poësie

in die miskruier in die toktokkie

in die meteorologie en entomolgie

in die moremis en bergpiek

die horison wat in die hemel wegraak

in die rooswolk is daar baie meer liriek

die aarde is deur h digter gemaak

 

11. Ten slotte

Die "klomp vuilspuite" en ander skrywers se werkswyse en werke kan kommunikasie in die homiletiek dien en predikers help om om dapper te sondig met h hamartologiese homiletiek deur:

Hoogmoedig te wees en op die Top 20 te wil kom hierdie Sondag met h preek wat die konteks en die hart aansny;

Hebsugtig te wees ten opsigte van die hoorders se aandag;

Wellustig te wees deur begeerte by die hoorders te ontlok;

Woedend te wees omrede slegs predikers wat self al hul humeur verloor het, vir hoorders kan preek wat tans kwaad is;

Vraatsugtig te wees en die hoorders in te sluk deur die beginsel "minder is meer" toe te pas;

Afgunstig te wees deur kansels te inkultureer deur intertekstualiteit;

En om lekker lui te wees deur te wys eerder as te vertel.

Hopelik kan hierdie riglyne vir predikers van waarde wees, aangesien dit mense en nie engele is nie, wat die verkondiging doen, soos I.L. de Villiers (1972:15) tereg in sy vers "Preek" dit stel. "Hoe vreemd die proklamasie van Gods plan!/ Die engele wat dit met groot élan/ kon doen, moet eenkant staan vir Sy/ metode van die waarheid plus h man." (sic)

Die Woord hou aan om vlees te word in ons eie dag deur die Gees van God wat (sondige) predikers en homilete gebruik in diens van die viva vox evangelii. En daar is min homilete in die wêreld wat meer aandadig en skuldig daaraan is dat hulle predikers tot estetiese prediking verlei het, as Johan Cilliers. Dankie daarvoor, Johan.

 

Bronnelys

Aucamp, H. 1978. Kort voor lank. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Basson, A et al. 2013. Om te skryf. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.         [ Links ]

Blum, P. 1981 [1955], Steenbok tot Poolsee. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Brink, A. P. 2007. "Kennis van sensuur 2004". [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/kennis-van-sensuur-2004/ [15 Februarie 2018].

Brouwer, R. 2008. "Preken in context. Over de 'homiletische situatie'", in H. Van der Meulen (red.), Als een leerling leren preken. Preekvoorberijding stapsgewijs. Zoetermeer: Uitgeverij Boekencentrum. 21-34.         [ Links ]

Brown, S. 2016. "Designing the sermon's form", in: S. Brown & L. Powery (reds.), Ways of the Word. Learning to precah for your time and place. Minneapolis: Fortress. 151-182.         [ Links ]

Cilliers, J. 1996. Die uitwissing van God op die kansel. Ontstellende bevindinge oor Suid-Afrikaanse prediking. Kaapstad: Lux Verbi.         [ Links ]

Cilliers, J. 1998. Die uitwysing van God op die kansel. Inspirerende perspektiewe op die prediking - om God te sien en ander te laat sien. Kaapstad: Lux Verbi.         [ Links ]

Cilliers, J. 2012. "Die optiek van die Homiletiek", NGTT 53 (3&4), 52-69.         [ Links ]

Cloete, T.T. 1989. Driepas Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Cussons, S. 1979. Die sagte sprong. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

De Villiers, I.L. 1972. Leitourgos. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Fagan, H. 2000. "Nkosi sikelel' i-Afrika", in A. P. Brink (red.), Groot Verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Fouche, H. 1999. Sewe. Jou kompas tussen lig en duister. Kaapstad: Lux Verbi.         [ Links ]

Gardner, J. 1991. The art of fiction. New York: Vintage Books.         [ Links ]

Hugo, D. 2015. Takelwerk. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Kannemeyer, J.C. 1990. Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

King, S. 2000. On writing. Londen: Hodder & Stoughton.         [ Links ]

Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Lartey, E. 2012. "The Rev. Dr. Emmanuel Y. Lartey", [Intyds]. Beskikbaar: https://voicesofpastoralcare.wordpress.com/2012/07/26/the-rev-dr-emmanuel-y-lartey-candler-school-of-theology-emory-university/ [13 Februarie 2019].

Leopold, J.H. 1977. O rijkdom van het onvoltooide. Een bloemlezing uit zijn verzen. Amsterdam: Bert Bakker.         [ Links ]

Long, T. 2005. The witness of preaching. Louisville, KY: WJK.         [ Links ]

Long, T. 1989. Preaching and the literary forms of the Bible. Philadelphia: Fortress Press.         [ Links ]

Lowry, E. 2001. The homletical plot. Atlanta: WJK.         [ Links ]

Malan, L. & Jacobs I. 2016. "Daniel Hugo (1955-)", in H. Van Coller (red.), Perspektief & Profiel. η Afrikaanse Literatuurgeskiedneis. Tweede Uitgawe. Deel 2. Pretoria: Van Schaik. 483-508.         [ Links ]

McKenzie, A. 2010. Novel preaching. Tips from top writers on crafting creative sermons. Louiseville, KY: WJK.         [ Links ]

McClure, J. 2007. Preaching words. 144 key terms in Homiletics. Louisville, KY: WJK.         [ Links ]

McClure, J. 1995. The Round-table pulpit. Nashville, TN: Abingdon.         [ Links ]

Nel, G.V. 1993. Om te lewe is onnatuurlik. Eenvoudige spoorwegstories. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Plantinga, N. 2013. Reading for Preaching. The Preacher in Conversation with Storytellers, Biographers, Poets, and Journalists. Grand Rapids, MI: Eerdmans.         [ Links ]

Scheepers, R. & Kleyn, L. (samestellers) 2012. Die Afrikaanse skryfgids. Johannesburg: Penguin.         [ Links ]

Smith, J. 2008. Desiring the kingdom. Grand Rapids, MI: Eerdmans.         [ Links ]

Smith, J., 2016, You are what you love. Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Stoeber, M., 2019, "Theopoetics as response to suffering: the visual art of Käthe Kollwitz in the reformation of practical theodicy", International Journal of Practical Theology 23(1), 24-38.         [ Links ]

Thoma, C., 2010, The homiletical canvas. Poetry in service of precahing, Grail Quest Books, Bangor, MN.

Tisdale, L.T. 2008. "Exegeting the congregation", in T.G. Long & L.T. Tisdale (reds.), Teaching Preaching as a Christian Practice. A New Approach to Homiletical Pedagogy. Louisville, KY: WJK.         [ Links ]

Tolstoy, L. 1978. Anna Karenin. Londen: Penguin.         [ Links ]

Veling, T. 2019."Poetic License", International Journal of Practical Theology 23(1):39-48.         [ Links ]

Vos, C.J.A. & Wepener C.J. 2014. Tussen God en mens. h Literêr-estetiese benadering tot liturgie en prediking in h skuiwende kultuur. Pretoria: Hond BK.         [ Links ]

Walton, H. 2019. "A Theopoetics of Practice: Re-forming in Practical Theology. Presidential Address to the International Academy of Practical Theology Eastertide 2017", International Journal of Practical Theology 23(1):3-23.         [ Links ]

Wepener, C. 2019. "Joining the slow pilgrimage in a second Holy Week in Autumn: A theopoetics from the ars moriendi", International Journal of Practical Theology 23(1):49-58.         [ Links ]

Wepener, C. 2017. Die reis gaan inwaarts. Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman. Stellenbosch: African SUN Media.         [ Links ]

Wepener, C. 2015. "'Bliksem!' / Damn it!: ritual-liturgical appreciation of a deadly sin." Verbum et Ecclesia 36(3):1-8.         [ Links ]

Wepener, C. 2014. "Diversiteit in prediking en liturgie in klein gemeentes", Kruisgewys 14(2):8-9.         [ Links ]

Wepener, C.J. & Cilliers J.H. 2004 "In herinnering aan die kinders ... wat aan honger en koue moet sterf: Liturgie in h konteks van armoede", NGTT 45(2) Supplementum, 364-372.         [ Links ]

Wepener, C.J. & Pieterse H.J.C. 2018. "Angry Preaching", International Journal of Public Theology. 12:396-410.         [ Links ]

Wilson, P. S. 1999. The four pages of the sermon. Nashville: Abingdon.         [ Links ]

 

 

1 Sien die openingsinne van Johan Cilliers (1996:1) se Die uitwissing van God op die kansel wat lui "Ek wou nie hierdie boek skryf nie." en die openingsin van Cilliers (1998:3) Die uitwysing van God op die kansel wat lui: "Ek wou graag hierdie boek skryf."
2 Sien die titel van Cilliers (2004) se homiletiek Die lewende stem van die evangelie.
3 Sien in hierdie verband byvoorbeeld Cilliers (2012) se Dancing with Deity. Re-imagining the beauty of worship.
4 Johan Cilliers was die promotor vir my DTri in Liturgie getiteld Van vas tot fees (Wepener 2004) en Paul Post was die medepromotor. Ek het ook enkele van Johan Cilliers se homiletiek en liturgie modules in die laat jare negentig by die Universiteit van Stellenbosch geneem.
5 Hugo is bekend vir sy sogenaamde vernuf poësie en sy proefskrif het ook oor die onderwerp gehandel (vgl. Malan & Jacobs 2016: 483-508).
6 Natuurlik is daar ook ouer werke soos Hennie Aucamp se Kort voor lank uit 1978 wat spesifiek fokus op die kortverhaal.
7 Sien ook die eerste uitgawe van 2019 van die International Journal of Practical Theology en die vier artikels van Walton, Stoeber, Veling en Wepener oor Teopoëtiek.
8 Sien oor die Sestigers as h beweging binne die Afrikaanse Letterkunde Kannemeyer (1990:237-301).
9 Sien in hierdie verband byvoorbeeld Pieterse se Prediking in h konteks van armoede en ook Wepener en Cilliers (2004) se artikel oor die armoede en die liturgie.
10 Vergelyk hier byvoorbeeld die treffende openingsin van die roman: "All happy families are alike but an unhappy family is unhappy after its own fashion."
11 In hierdie verband wys John Kannemeyer byvoorbeeld op die enorme hoeveelheid kere wat J.M. Coetzee die inleiding van Disgrace oorgeskryf het.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License