SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.5 issue1Neo-liberalism, social democracy or a social market system in South Africa? A Christian-ethical appraisal author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.5 n.1 Stellenbosch  2019

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2019.v5n1.a20 

GENERAL ARTICLES

 

Martin Luther - Held of skurk?1

 

Martin Luther - Hero or villain?

 

 

Wessels Francois

Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika francoiswessels02@gmail.com

 

 


ABSTRACT

The article investigates whether Martin Luther was anti-Semitic, and if so, what effect it had on his theology and ministry. First the article investigates the written comments of Luther in his works, from his article in 1523 That Jesus was born a Jew, in which Luther still cherished the hope that Jewish people would soon turn to accept the good news of the Gospel - as re-discovered by Protestantism, once it had been properly explained to them. The article then briefly describes how - with reference to Luther's less friendly later articles - Luther's anger against Jews grew as the years passed by without any significant change in the European Jewish community towards Jesus Christ. The article argues that Luther's writings were certainly anti-Jewish (being against the Jews because they refused to accept the blessing of the Christian faith), but not necessarily anti-Semitic (being against Jews simply because they were Jews). In the second part of the article the author investigates how Luther's interpretation of Paul was influenced by his own dramatic discovery and interpretation of the concept of the "righteousness of God", which blessed Luther in his Christian faith, but unfortunately also clouded his vision, with the result that Luther tended to understand the "righteousness of God" only in forensic terms. That theological blind spot unfortunately kept Luther from fully understanding Paul's emphasis that the "righteousness of God" also have a powerful social impact.

Key words: Luther; anti-Semitic; forensic justification; social interaction; Paulus


 

 

1. Inleiding

Ek wyk vanjaar af van die gebruiklike styl van die Willie Jonker-lesing deurdat ek nie die fokus op prof Jonker se invloed in Suid-Afrika en verder laat val nie, maar wel op die Hervorming se plakkaat-persoonlikheid -Martin Luther. Ek het die vrymoedigheid om die fokus van die lesing effens te verskuif, natuurlik omdat dit vandag 500 jaar gelede is dat Luther, sonder om dit te beplan, die vuur van die Hervorming aangesteek het deur sy 95 stellinge aan die deur van die Wittenberg-stadskerk vas te spyker.

Die tweede rede vir my vrymoedigheid is omdat ek die voorreg gehad het om vier jaar by Jonker te kon studeer, wat in sy denke en dade ook geïnspireer is deur 'n oortuiging dat elke teoloog geroep is om voortdurend oop te wees vir 'n hervorming van denke - en dus voortdurend oop behoort te wees vir 'n kritiese ondersoek, ook van ons erfenis.

Waarom die skynbaar astrante opskrif vir ons lesing? Is dit deel van ons hedendaagse oortuiging dat slegs slegte nuus op die voorblad hoort, en dalk net slegte nuus die moeite werd is om te lees? Die antwoord is ongelukkig nee - die rede is eenvoudig, naamlik dat Martin Luther vir 'n groeiende groep Christene, nie noodwendig die geloofsheld van vroeër is nie. Die eerste rede hiervoor is eenvoudig: 'n groter bewuswording van die omvang van Luther se beweerde anti-Semitisme, en die tweede is 'n kritiese gesprek in veral Nuwe Testament-kringe oor die bewering dat die "Lutherse interpretasie" van Paulus, die apostel se boodskap verskraal het.

 

2. Aanklag 1: Martin Luther se beweerde anti-Semitisme

Die eerste aanklag: Luther se beweerde anti-Semitisme. Dit was al lankal wel bekend dat Luther aan die einde van sy loopbaan uiters kru taal teenoor Jode gebruik het, maar dit is deur baie as iets toevalligs afgeskryf, bloot 'n resultaat van Luther se eie diepe teleurstelling in die Joodse gemeenskap, van wie hy geglo het dat hulle nooit Jesus as die Messias aanvaar het nie, eenvoudig omdat Jode vir eeue net nooit die suiwer, goeie nuus van die evangelie gehoor het nie. Al wat die arme Jode deur die eeue van die evangelie gehoor het, was die verwronge boodskap van werkgeregtigheid soos dit in en deur die Rooms-Katolieke Kerk verkondig is en wat elk geval - daarvan was Luther oortuig - nie veel anders was as die Jode se eie godsdiens as werkgeregtigheid nie.

Nou egter, nou dat Jode vir die eerste maal die vrymakende evangelie gehoor het, soos dit deur die Hervormers verkondig is - nou sal die genade van God selfs ook vir Jode sigbaar word, en sal hulle die Blye Boodskap aangryp. So het Luther klaarblyklik gedink. Toe dit egter nie gebeur het nie, het Luther in 'n vlaag van woede dinge oor die Jode gesê wat Protestante vandag wens hy het nooit gesê nie. Die Jode, so het Luther gedink, is in dieselfde soort tronk van 'n werkgeregtigheids-godsdiens as die Rooms-Katolieke. Voorheen het hulle nog nooit gehoor dat die Evangelie ook vir hulle bedoel was nie. Die Jode was nou op die drumpel om 'n radikale ontdekking te maak - dat God in Jesus as Verlosser gekom het, ook vir Jode - en dit moes slegs deur die leë hand van die geloof aanvaar word. Derhalwe was Luther se eerste geskrif aan Jode redelik vriendelik.

2.1 Aanvanklike toenadering tot Jode: 1523 - "Dat Jesus Christus 'n gebore Jood was"

Waarskynlik omrede Luther aanvanklik 'n positiewe reaksie op sy verkondiging van die Christelike boodskap van Joodse kant verwag het, was sy eerste formele skriftelike toenadering tot Jode uitnodigend van aard, eerder as beskuldigend. In 1523 - ses jaar na hy sy 95 stellinge aan die Wittenberg-kerkdeur vasgespyker het, het Luther 'n geskrif die lig laat sien, miskien met Joodse lesers as moontlike lesers in gedagte, met die titel Dat Jesus Christus n gebore Jood was.

In dié geskrif probeer Luther duidelik maak dat Jesus die Joodse Messias is, soos in die Ou Testament voorspel is. Luther is aanvanklik positief oor en teenoor Jode. Hy verduidelik aan moontlike Joodse lesers dat die Roomse Christendom wat hulle leer ken het, nie die regte, evangeliese Christendom was nie. Hy skryf onder andere: "If I had been a Jew and had seen such ... blockheads govern and teach the Christian faith, I would sooner have become a hog than a Christian."2

Hy verduidelik verder aan sy mede-Christene dat hulle in hul gesprekke met Jode nie moet begin met sake wat vir Jode aanvanklik onaanvaarbaar sou wees nie, soos byvoorbeeld die Godheid van Jesus. Dit is te veel vir 'n begin. Laat hulle eers met die melk van die evangelie-boodskap begin - en dan kan gelowiges verder gaan deur hulle te oortuig dat Jesus die ware Messias was.3

Luther was dus aan die begin van sy loopbaan redelik goedgesind teenoor Jode, omdat hy verwag het dat hulle die Christelike boodskap sou aanvaar, noudat hulle die ware evangelie by die Protestante gehoor het. Christene moet Jode nie sleg behandel nie, waarsku Luther. Hy herinner Christenlesers daaraan dat die Jode glad nie by die Rooms-Katolieke Kerk die evangelie kon gehoor het nie: "If the apostles, who also were Jews, had dealt with us Gentiles as we Gentiles deal with the Jews, there would never have been a Christian among the Gentiles."4 Die titel van sy eerste geskrif maak die punt: Jesus was 'n gebore Jood - as die Jode maar net die ware evangelie hoor, sal hulle hom verseker as die Messias aanvaar, nie waar nie?5

2.2 Die Jode kom nie tot bekering nie, inteendeel: 1538 - "Teen die Sabbatariërs"

In 1538 - vyftien jaar na die skryf van Dat Jesus Christus n gebore Jood was, skryf Luther weer 'n stuk oor die Jode, maar hierdie keer in 'n baie onvriendeliker gees. Luther ontvang 'n brief uit Morawië, wat hom meedeel dat die Protestantse gemeenskap bedreig word deur 'n afsplintering in die Protestantse geledere, wat hulleself die Sabbatariërs noem. Die fokuspunt van dié afsplintering is dat hulle oortuig is dat Saterdag, die sewende dag, die dag van aanbidding moet wees. Luther is woedend oor die nare ontwikkeling en skryf 'n brief, Teen die Sabbatariërs,6waarin hy die Jode aanval, want hy is oortuig dat dit die Jode is wat agter dié afskeiding sit.

Luther glo die verduideliking - alreeds 'n aanduiding dat sy gesindheid teenoor Jode, vyftien jaar later, skerp verander het. In sy geskrif Teen die Sabbatariërs noem Luther die Sabbatariërs "the apes of the Jews".7

Luther is oortuig dit was die Joodse gemeenskap wat probeer het om die jong Protestantse gemeenskap te verlei om die Joodse geloof te aanvaar. Daarom skryf hy 'n sterkbewoorde brief waarin hy die Protestantse gemeenskap oproep om die vermeende aanslag van die Joodse gemeenskap teen te staan. Uit Luther se reaksie lyk dit asof hy sy vroeëre hoop laat vaar het, naamlik dat Jode, wanneer hulle by die Protestante die ware evangelie gehoor het, hulle tot die Christelike geloof sou bekeer. In sy brief Teen die Sabbariërs, is daar geen voorstelle aan die Morawiese Protestante hoe om die Christelike evangelie aan Jode te kommunikeer nie. Nou is Luther se doel negatief: om seker te maak die Jode maak nie proseliete onder die Protestante nie. Sy uitkyk is negatief, sy strategie is verdedigend en sy doelwit is behoudend, eerder as missionêr.

2.3 Aanval op Jode: 1543 - "Oor die Jode en hul leuens"

By die skryf van Luther se volgende geskrif oor Jode, vyf jaar later, is daar by hom min oor van 'n begeerte om die evangelie met Jode te deel. In 1543 publiseer hy 'n uitvoerige geskrif, wat niks anders was nie as 'n wrede aanval op die Joodse gemeenskap, sonder enige empatie. Hy noem die stuk Oor die Jode en hul leuens.8

In hierdie boek is Luther se styl aanvanklik 'n skerp kritiek oor Jode, hul godsdiens en tradisie: die Jode dink hulle is die uitverkore volk van God, die Jode hou hulle blind vir die getuienis in die Ou Testament dat Jesus die Messias is, die Jode spot met Maria en Jesus, die Jode haat alle ander mense wat nie Jode is nie. Dié kritiek is skerp en onregverdig, maar dit bly ten minste by die Jode se sienings oor Jesus, Maria, ensovoorts. Maar dan, in die laaste deel van Oor die Jode en hul leuens, slaan Luther oor van kritiek op die lewenswyse van Jode na dit wat ons vandag gewoon haatspraak sal noem - valse bewerings oor Joodse wandade en aanbevelings aan Christene oor hoe hulle Jode vir die wandade moet straf.9

Die Jode, beweer Luther, is skuldig aan "towery, vergiftiging van waterputte, verbrand van oeste, ontheiliging van die nagmaalbrood en die rituele moorde op Christenseuns".10 Of dit waar is, weet Luther nie, maar hy is oortuig dat die Jode "die volle wil en oortuigings besit om sulke grudade te pleeg, in die geheim of in die openbaar".

In Oor die Jode en hul leuens is daar nie sprake van pogings om die Jode te oortuig dat Jesus die Messias is nie. Hulle word glad nie meer waardig geag om die evangelie te hoor nie. Daarna sal hulle nie luister nie - want hulle is vyande van God en sy Blye Boodskap. Al wat nog aan Jode gedoen kan word, is om hulle te straf, sodat almal kan sien hoe die toorn van God uitgestort word op diegene wat sy genade verwerp. Behalwe die verbranding van sinagoges en gebedeboeke11 (wat Luther herhaaldelik aanbeveel), moet Jode "verbied word om God te prys, om God te bedank, om te bid, en om om in die openbaar dit in ons land te onderrig."12 Dit moet gedoen word -skryf Luther - ter ere van ons Here en die Christendom.

Luther glo nou skynbaar alle skinderstories oor Jode, wat hy waarskynlik vroeër sou verwerp het. "I have heard that one Jew sent another Jew, and this by means of a Christian, a pot of blood, together with a barrel of wine, in which when drunk empty, a dead Jew was found."13 Geen wonder nie dat die Nazi-regering in die 20ste eeu dankbaar gebruik gemaak het van hierdie beskrywings van Luther oor Jode.

Wanneer ons dus praat van Luther se anti-Joodse gedagtes in die laaste gedeelte van sy lewe, gaan dit nie net oor 'n paar kritiese, bevooroordeelde uitsprake van 'n briljante teoloog, wat wys dat 'n oorspronklike denker soos Luther tog ook 'n paar blinde kolle gehad het nie. Dié woorde van Luther het 'n poëtiese drakrag - en was bedoel om 'n boodskap te dra. Dit weerspieël 'n sterk anti-Joodse gevoel, 'n diep oortuiging dat hulle wat oorspronklik deur God gekies is as sy volk, uiteindelik sy verkiesing en genade verwerp het - en dat hul swerwersbestaan sonder 'n eie land deel was van God se regverdige straf op 'n volk wat God se verkiesing en genade verwerp het.

Wat moet Christene met Jode doen? Nie - soos Luther vroeër gedink het -probeer om hulle tot die Christelike geloof te bekeer nie - dit sal nie gebeur nie. Die enigste uitweg is:

"First, that their synagogues be burned down ... Second, that all their books - their prayer books ... also the entire Bible, be taken from them ... Third, that they be forbidden on pain of death to praise God, to give thanks, to pray, and to teach publicly among us and in our own country ... Fourth, that they be forbidden to utter the name of God within our hearing ... Let them wonder back to their country ."14

God se bitter straf was 'n aweregse teken van sy buitengewone verkiesing waarop Israel helaas sy rug gedraai het. Dié buitengewone straf van Israel se swerwersbestaan, verwerp en verjaag deur Christen en heiden, was 'n keersy van God se oorspronklike verkiesing van Israel - wat Israel helaas verwerp het. Die bitterheid van God se straf was 'n herinnering aan Israel se keuse teen God, en 'n waarskuwing aan Christene om God se genade nie goedkoop te maak nie. Luther se kwetsende woorde hierbo was dus nie 'n verstaanbare emosionele reaksie van iemand wat in die hitte van die oomblik homself per ongeluk te skerp uitgedruk het nie. Sy kwetsende woorde was presies dit: harde woorde, bedoel om te kwes - woorde wat, na Luther se mening, 'n waarskuwing was aan alle gelowiges oor God se straf op uitverkorenes wat sy liefde en genade te lank en te konsekwent verwerp het. Luther het teologies bedoel wat hy gesê het:

"What shall we Christians do with this rejected and condemned people, the Jews? Since they live among us, we dare not tolerate their conduct, now that we are aware of their lying and reviling blaspheming."15

Daarom, meen Luther, sal dit beter wees om die Jode uit te dryf uit die Duitse gebiede waar die Protestantse prinse regeer het:

"They must be driven from our country. Let them think of their fatherland; then they will no longer wail and lie before God against us that we are holding them captive, nor need we then any longer complain that they are burdening us with their blasphemey and their usury.16

2.4 Die Jode soog en hoort by die varke: 1543 - Oor die "Shem Hamporas"

Wat die imposante Vatikaanse katedraal vir Katolieke is, is die Stadtkirche van Wittenberg vir Protestante, hoor ons dikwels mense sê, veral in die 500ste jaar die Hervorming. Luther en Melancthon het gereeld hier gepreek. Dit was die eerste kerk waar die lidmate die praktiese betekenis van die Hervorming kon hoor en proe. Dit was die eerste kerk waar die gemeente die liturgie van die mis nie net in Latyn gehoor en opgesê het nie, maar wel in hulle Duitse moedertaal. Dit was die eerste gemeente waarin die lidmate die nagmaalsbrood self kon eet, en die wyn self kon proe, en nie net moes toekyk hoe die priester dié ritueel tussen homself en God, vir homself, afgehandel het nie. Dit was die kerk waarin die lidmate vir die eerste keer ervaar het dat hulle nie net toeskouers van drama was nie, maar deelnemers, ja self ontvangers van die heilige brood en die wyn. Met reg was die Wittenberg-stadskerk 'n fokuspunt in die feesviering van die 500ste verjaardagviering van die Hervorming in November 2017, waaraan Christene van oor die hele wêreld deelgeneem het.

Net jammer dat geen Jood sy of haar voet gedurende die fees oor die drumpel van die Wittenberg-kerk sou gesit het nie, sê dr Richard Harvey, 'n Messiaanse Jood. Die rede hiervoor is 'n klip-reliëf, uitgebeitel aan een van die kerk se buitemure. Dit is al daar sedert 1305, toe die kerk nog Katoliek was. Die relief word die "Judensau", die Jodesog, genoem, want die hooffiguur in die relief is 'n varksog - dit simboliseer die Jodedom. Saam met twee klein varkies suig twee Joodse kinders aan die varksog. 'n Rabbi sit agter die vark, besig om die vark se stert op te lig sodat hy beter in die vark se agterent kan inkyk. Bo-aan die Jodesog-reliëf is die woorde "Rabini Shem Hamphoras" uitgebeitel.17

Vir die meeste kykers is dit duidelik wie die varke in die verhaal is, maar vir diegene wat die relief nog nie verstaan nie, doen Luther in 1543 die moeite om dit ook vir oningeligte lesers te verduidelik: "Hier op ons kerkmuur in Wittenberg is 'n vark in klip uitgebeitel. Jong varkies en Jode suig aan die sog. Agter die varksog sit 'n rabbi. Hy lig haar stert op en kyk in haar Talmud in, asof hy daarin iets besonders lees. Dit is natuurlik waar hulle hul Shem Hamphoras vandaan kry."18Shem Hamporas is Luther se eie foutiewe transkribering van die volle Hebreeuse naam vir God - shem ha-meforash - 'n Hebreeuse naam vir God, wat vir Jode te heilig is om uit te spreek, daarom lees Jode hardop net "ha-shem" ("die naam") wanneer hulle in die Hebreeuse teks by die woorde shem-meforash kom. Sketse van die Shem Hamphoras-klipwerk was in Luther se tyd baie gewild - sketse daarvan verskyn in etlike Protestante boeke.19 Luther self het so baie van die relief gehou dat hy 'n skets daarvan laat gebruik het vir die voorblad van sy Oor die Jode en hul leuens.

Richard Harvey verduidelik die boikot van die Wittenbergse Stadtkirche deur Messiaanse Jode en ander Christene. Hy skryf: "Vir my as 'n Messiaans-Joodse gelowige - of vir enige ander Jood wat ek ken - sal dit gewoon onmoontlik wees om in die Stadskerk te aanbid solank die gruwelike Shem Hemphoras-reliëf steeds buite die muur versier."20 Harvey steun die veldtog dat die varksog-reliëf saam met ander derglike versierings nie vernietig moet word nie, maar in 'n museum bewaar en uitgestel moet word, met kommentaar om die historiese konteks te verduidelik.21 Maar voor Joodse Christene ooit in die Wittenbergse Stadtkirche sal kan aanbid, moet die Jodesog-reliëf eers vanaf die kerkmuur verwyder word.

Die eerste aanklag teen Luther is dus dat hy anti-Semities was. Maar was hy? 'n Leser se eerste reaksie by die lees van Oor die Jode en hul leuens of Oor die Shem Hamporas is meestal ja, Luther was vir seker anti-Semities. Lesers moet versigtig wees om Luther te oordeel sonder om in gedagte te hou wanneer en in watter tyd en in watter omstandighede Luther sy anti-Joodse uitsprake gemaak het.

Dit was vroeg in die sestiende eeu. Luther het byna daagliks teologiese stukke per hand geskryf, en soos hy dit geskryf het, is dit na die drukkers gestuur, om dit so gou moontlik te druk en te versprei. Dit was die uitbundige geboortetyd van die boekdrukkuns. Dit wat Luther op 'n Maandag geskryf is, is Dinsdag na die drukker geneem, waar dit so gou moontlik gedruk en versprei is.22 Daar was dus min kans vir Luther om sy geskrifte rustig te redigeer - en dit was ook nie nodig nie. Niemand sou hom hof toe neem nie. Die Katolieke Kerk wou, maar kon Luther nie in die hande kry nie. Dit was lank voor die Jodevervolging en die Holocaust. Luther kon makliker vra dat sinagoges afgebrand kan word, sonder om na te dink oor die moontlike gevolge van sy oproepe. Dit bring ons by die vraag: was Luther anti-Semities?

2.5 Luther anti-Semities?

Sommige Luther-kenners meen dat ons in gedagte moet hou dat toe Luther van sy mees negatiewe stukke oor Jode geskryf het, hy al oud en deur swak liggaamlike en geestelike gesondheid geteister was.23 Ander herinner ons daaraan dat Luther hom graag in die oortreffende trap uitgedruk het - hy het self, aan die begin van sy loopbaan as hervormer - geskryf dat as hy 'n Jood was en die Katolieke die Christelike geloof aan hom verduidelik het, hy eerder self 'n vark as 'n Christen sou geword het.24

'n Belangriker argument is die menings van Roland Bainton en van die Nederlandse Luther-kenner Hans Oberman25, wat van mening is dat Luther nie anti-Semities was nie, want dit sou beteken dat hy teen Jode gekant was, omdat hulle 'n Semitiese ras was - met ander woorde, dat hy teen Jode was net omdat hulle Jode was. Dit sou anti-Semitisme wees. Die voormalige hoofrabbi in die Verenigde Koninkryk, rabbi Jonathan Sacks26beskryf anti-Semitisme as volg:

"What then is anti-Semitism? It is not a coherent set of beliefs but a set of contradictions. Before the Holocaust, Jews were hated because they were poor and because they were rich; because they were communists and because they were capitalists; because they kept to themselves and because they infiltrated everywhere; because they clung tenaciously to ancient religious beliefs and because they were rootless cosmopolitans who believed nothing. Anti-Semitism is a virus that survives by mutating. In the Middle Ages, Jews were hated because of their religion. In the 19th and 20th centuries they were hated because of their race. Today they are hated because of their nation state, Israel. Anti-Zionism is the new anti-Semitism."

Dit was egter nie die geval by Luther nie, redeneer Oberman.27 Luther was in sy later jare uiters kru teenoor Jode, maar dit was nie bloot omdat hulle Jode was nie, maar wel omdat hulle die evangelie, soos deur Protestante verkondig, nie aanvaar het nie. Dit is ook die mening van Scott Hendrix, wie se verstaan van Luther effens meer genadig as Oberman s'n is.28 Die rede waarom Jode vir 1 500 jaar nie in Jesus as Messias geglo het nie, was omdat hulle - so het Luther geglo -voor die Reformasie net bekend was met 'n verdraaide vorm van die evangelie waarvan hulle by die Katolieke gehoor het - waarvolgens 'n mens God se genade deur goeie werke en die nakom van God se wet verdien het. Dit beteken dat die Jode nog nooit vantevore die evangelie, die ware Goeie Nuus, gehoor het nie, het Luther geglo. So gou soos wat die Jode die ware evangelie sou hoor - naamlik dat gelowiges nie geregtigheid verdien deur goeie werke of die onderhouding van die wet van God nie, maar dat hulle geregtigheid as 'n geskenk van God ontvang - so gou sou hulle, synde opgevoede en godsdienstige mense, ook die goeie nuus oor Jesus die Messias verstaan en aanvaar.

Toe daar egter niks van Luther se verwagting gekom het nie, en die Jode voortgegaan het om nie te glo Jesus was die Messias nie, was Luther aanvanklik diep teleurgesteld en later woedend omdat die Jode God se vrye geskenk verwerp het. Roland Bainton stem hiermee saam:

" ... die oorsprong van Luther se latere woede en haat teen die Jode, het dus nie iets met ras te doen nie, maar wel met die Jode se verwerping van Jesus.29

Na my mening is Bainton en Oberman reg. Ons moet nie praat van Luther se anti-Semitisme in sy later jare nie, maar wel van sy anti-Judaïsme.30Daarmee bedoel Oberman dat Luther se afkeer van Jode wel wreed was, maar nie volkome irrasioneel nie. Luther was kwaad omdat die Jode die Christelike evangelie verwerp het. Sy woede teenoor Jode was kru en totaal buite orde, maar nie volkome irrasioneel nie. Dit beteken geensins dat Luther se teenstand nie 'n ernstige saak is nie. Dit was inderdaad 'n ernstige saak. Volgens Oberman, was Luther se anti-Judaïsme "geen randverschijnsel bij Luther, nee, het is van centrale betekenis".31 Daaroor stem invloedryke Luther-kenners saam met Oberman, soos byvoorbeeld Hans Hillerbrand.32

Die verskil tussen hierdie twee verskynsels - anti-Semitisme en anti-Judaïsme - is dat anti-Judaïsme verwys na sommige mense se teenkanting teen die Joodse godsdiens, tradisies en gebruike omdat hulle nie daarmee saamstem nie, terwyl anti-Semitisme 'n irrasionele teenkanting is teenoor Jode en alles wat Joods is.

Dit beteken egter nie dat anti-Judaïsme nie tot 'n ernstige oortreding kon ontwikkel nie. Dit is inderdaad 'n ernstige oortreding, en dit is moontlik, as die teenkanting teenoor Jode of hulle tradisie nie gegrond is op goeie rede nie - soos byvoorbeeld die bewering dat Jode te ryk en invloedryk is, of dat hulle nie 'n ander geloof aanvaar nie, of dat hulle 'n ander kultuur het as die kultuur van die meerderheid van die mense in die land waarin Jode ook bly. As ons dus sê dat Luther nie anti-Semities was nie, maar wel anti-Joods, beteken dit nie dat sy teenkanting en geskrifte teen Jode nie 'n ernstige oortreding was nie. Dit was inderdaad, en dit het ongelukkig wel, in die laaste deel van Luther se lewe, ernstige gevolge vir Jode gehad. Dit is duidelik dat Luther wel aan die einde van sy lewe, ten minste in Oor die Jode en hul leuens, ten gunste van die onderdrukking van Jode was.

Dit word ook geïllustreer deur die interaksie tussen Luther en rabbi Josel von Rosheim, 'n tydgenoot (1480-1554) en 'n leier van die Joodse gemeenskap in die Duitse ryk. In 1537 het Von Rosheim gevra om 'n gesprek met Luther te voer. Luther het die versoek met 'n kru afjak geweier. Von Rosheim se antwoord was "Never before has a Gelehrter, a scholar, had such tyrannical and outrages treatment of our poor people."33 Hoewel sinies en onbeskof, was hierdie afjak aan Von Rosheim nog nie die ergste nie. Luther was toe nog nie so erg vyandig teenoor Jode nie - wat wel die geval ses jaar later in 1543 was, toe hy die opspraakwekkende Oor die Jode en hul leuens geskryf het. Teen hierdie tyd het Luther se opinie van Jode sterk verander in vergelyking met sy verhouding tot Jode twee dekades gelede, toe hy Dat Jesus Christus n gebore Jood was geskryf het. Luther het skynbaar nie meer verwag dat ten minste sommige Jode hulle tot die Christelike geloof sou bekeer nie. By die skryf van Dat Jesus Christus 'n gebore Jood was (1523) was sy taal nog versoenend:

"Our fools, the popes . had hitherto so treated the Jews that anyone who wished to be a good Christian would almost have had to become a Jew ... I hope that if one deals in a kindly way with the Jews and instructs them carefully from the Holy Scripture, many.of them will become gentuine Christians and turn again to the faith of their fathers ."34

By die skryf van Oor die Jode en hul leuens, in 1543, was Luther se taal baie skerp, soos ons hierbo gesien het in voetnotas 13,14 en 15. In hierdie geskrif was Luther nie maar net sinies teenoor Jode nie, maar vyandig. Hy wou hulle nie net ignoreer nie, hy wou alle nie-Jode teen die Jode beskerm. Die Jode het - na Luther se mening - vir die kerk en die samelewing, vir gewone Duitsers, 'n gevaar geword. Daarom moes die Duitse volk van Jode ontslae raak, en so min as moontlik kontak met hulle behou. Teen 1543 het Luther verkies dat alle dorpe en streke "sonder Jode moes klaarkom".35 Die gevolg was dat Luther teen 1543 gepleit het vir hardhandige optrede teen die Jode: sinagoges en huise moes afgebrand word, die Talmoed en gebedeboeke moes verbrand word, openbare eredienste moes verbied word.36 Die Jode was teen 1543 nie meer naastes aan wie die evangelie verkondig moes word nie. Hulle was nou die vyand, teenoor wie Christene beskerm moes word.37

Die ironiese en tragiese sy van Luther se vrees vir Jode was dat daar in daardie tyd bitter min Jode in die Duitse Ryk was. In Wittenberg was daar geen Jode nie, en Luther het in sy hele lewe slegs by enkele geleenthede Jode ontmoet.38 Volgens Scot Hendrix, was Luther nogtans in daardie stadium van sy lewe, bang vir Jode - "he was infected with the anti-Jewish virus that had afflicted Christianity ... and which had permeated late medieval Europe."39

Richard Marius stem saam: Luther kon nie anders as om in die Jode sy godsdienstige vyande te sien nie. Vir albei was godsdiens 'n antwoord op die bedreiging van die dood, maar Christene en Jode het verskillende oplossings aangebied.40 Wat ook al die redes daarvoor, aan die einde van sy lewe was Luther sterk anti-Joods en skynbaar sonder hoop vir die redding van Jode.

Luther se anti-Joodse sentiment het inderdaad 'n baie groot bydrae gemaak tot baie Christene se anti-Joodse opvattings. Dit kan nie goed gepraat word deur te sê dat Luther 500 jaar gelede geleef het nie, en dat mense in daardie tyd nie verstaan het dat dit verkeerd was om 'n groep in die samelewing te verdruk nie. Ons kan dus nie Luther se aggressiewe anti-Joodsheid verskoon deur te sê niemand het 500 jaar gelede van beter geweet nie. Calvyn het nie Luther se voorbeeld gevolg nie. Luther se tydgenote en kollegas het sy akute anti-Judaïsme nie as normaal aanvaar nie. Minder bekende maar belangrike kollegas van Luther - soos Melancthon en Henry Bullinger - het hulle van Luther se anti-Joodsheid gedistansieer. Andreas Osiander se reaksie op Vom Schem Hamphoras was: "It had been written by a swineherd, rather than by a celebrated shepherd of souls."41

Luther se anti-Joodse ingesteldheid en kritiek het 'n groot invloed op die ganse Protestantse tradisie gemaak - en uiteindelik bygedra tot die anti-Semitisme van baie Protestante, veral in Europa. Een bewys daarvan is die traktaat van die Nazi-ondersteuner en Lutherse biskop Martin Sasse, wat 'n jaar voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog gepubliseer is en waarin Sasse Luther loof omdat hy "die grootste anti-Semiet van sy tyd geword het, en so 'n waarskuwing vir sy volk teenoor die Jode is."42 Is dit toevallig dat die land waarin die Lutherse tradisie in die geskiedenis die sterkste was, naamlik Duitsland, ook die land was waarin die Holocaust geïnisieer is?

 

3. Die tweede aanklag

Maar voordat ons finaal op die eerste aanklag antwoord, moet ons eers 'n tweede aanklag teen Luther oorweeg. Dit is 'n klag wat hoegenaamd nie so kru soos Luther se anti-Judaïsme is nie - maar 'n klag wat wel die potensiaal het om ook groot skade aan die Protestantse tradisie aan te rig. Die rede daarvoor is die aard van hierdie klag - naamlik dat Luther Paulus gedeeltelik verkeerd gelees het, en dat in die Lutherse tradisie hom grootliks nagevolg het. Hierdie aanklag roep geen weersin teen Luther op soos met sy anti-Judaïsme die geval is nie. Maar dit is 'n belangrike klag - want, as dit waar is, is dit 'n klagte waaraan ons iets kan doen - en moet doen.

3.1 Luther ontdek die goeie nuus van die evangelie

Dit het alles begin met Luther se ontdekking van die evangelie, die goeie nuus dat die God van die Bybel 'n genadige God was. Dit het nie maklik gebeur nie, want Luther het groot geword met die oortuiging dat God 'n veroordelende God was. Dit het daartoe gelei dat hy hom geroepe gevoel het om 'n Katolieke priester te word toe hy in 1505 in 'n donderstorm beland het en oorweldig is deur die nabyheid van die Almagtige God. In terugblik op hierdie tydperk, skryf Luther in later jare dat hy ontdek het dat daar as't ware twee kante van God is: "die Heilige God en die Genadige God - en dat aan die kruis hierdie twee kante van God as 't ware aanmekaar gesmelt was; jy kon nie net een van die twee aanbid nie."43

In sy twaalf jaar as monnik het Luther ook as lektor opgetree. Die beeld van 'n heilige God het Luther bygebly. Terwyl Luther oor die briewe van Paulus moes klasgee in die tydperk van 1514-1517, het die Katolieke Kerk voortgegaan met die verkoop van aflaatskuldbriewe - 'n onmisbare bron van inkomste. Lidmate het geld aan die kerk geskenk en die aflaatbriewe het die sondaars verseker dat hul sondes vergewe is, of vergewe sal word -wanneer hulle dit ook al mag pleeg.

Luther se studie oor Paulus het hom weer eens laat besef dat gelowiges slegs van hulle sonde verlos word deur God se vergifnis. In die lig daarvan was dit vir hom onmoontlik om in 'n godsdiens te funksioneer waar 'n sondaar sy vergifnis met 'n vooraf-betaalde aflaatbriewe kon koop. Luther het besef dat die "geregtigheid van God" waarvan die Bybel so baie praat - nie verwys na die gelowige se geregtigheid nie - maar wel na die geregtigheid wat God aan diegene skenk wat in God se versoening in Jesus glo.

Toe Luther, gemotiveer deur hierdie grondverskuiwende insig, met nuwe belangstelling die briewe van Paulus begin lees het, het hy ondersteuning vir sy nuwe insigte gevind. Meteens het hy die apostel Paulus in 'n gans nuwe lig gesien. Paulus - het Luther verstaan - was betrokke in 'n soortgelyke stryd as hyself. Paulus het grootgeword met 'n godsdiens waarvan werkgeregtigheid die hart van die godsdiens was - die nakoming van die Tora, die Wet van die Ou Testament. Deur die nakoming van die Wet het die Jode God se guns probeer verdien. Die pogings van die Katolieke Kerk om God se vergifnis te bekom deur die stelsel van aflaatskuldbriewe, het vir Luther gelyk na 'n spieëlbeeld van die Joodse wetsbeskouing in die tyd van Jesus en Paulus.

Luther en sy geesgenote was sterk teen die verkoop van aflaatbriewe gekant. Die verkope daarvan het Luther weer eens laat nadink hoe sondaars soos hy vergifnis van die heilige God sou kry. In dié tyd het Luther nagedink oor wat Paulus bedoel het met die sinsnede "die geregtigheid van God". Dit het gebeur toe Luther vir die soveelste keer hoofstuk 1 van die Romeine-brief gelees het - en toe, amper onverwags, die kantelpunt bereik het. Hy skryf later oor hierdie ervaring:

"Ik haatte het woord 'gerechtigheid Gods', want door die traditie en de colleges van alle doctores had ik geleerd het in filosofische zin te verstaan ... gerechtigheid, waardoor God rechtvaardig is en die zondaren en onrechtvaardigen straft. Ik kon echter de rechtvaardige God, die zondaren straft, nicht liefhebben. I haatte hem selfs ... Ik was opstandig tegen God ... Onophoudelik hield dit alles mij dag en nacht bezig tot ik een oog kreeg voor de samehang van de woorden. Er staat namelijk: 'De gerechtigheid Gods.wordt in de evangelie openbaar, zoals er geschreven staat: De rechtvaardige zal uit geloof leven'. Van toen af begon ik die gerechtigheid Gods als een dusdanige gerechtigheid te zien waardoor die rechtvaardige als door een geschenk van God leeft. Dat wil dus zeggen: uit geloof ... de gerechtigheid die wij ontvangen en waardoor God ons uit genade en barmhartigheid rechtvaardig maakt door het geloof ... Toen voelde ik mij helemaal wedergeboren: de poorten waren voor mij opengegaan, ik was binnengetreden in het paradijs zelf."44

Die sleutel tot Luther se interpretasie van Romeine was vers 1:17: "want daarin (in die evangelie) word geopenbaar dat God se geregtigheid geheel en al op geloof berus."45 Hierdie insig was die kantelpunt in Paulus se verstaan van God se geregtigheid en genade. Dit was inderdaad die begin van die Hervorming. Daarvoor sal ons Luther vir ewig dankbaar wees.

3.2 Maar het Luther en sy tradisie die volle evangelie gehoor?

Dit is egter ironies dat dit juis hierdie punt - vir Luther die fondament van die evangelie - waar Luther en veral sy volgelinge die evangelie van Paulus gebrekkig verstaan het. Die fout was nie soseer oor wat hulle gesê het nie, maar waaroor hulle geswyg het. Die Lutherse tradisie het Romeine 1-5 dikwels gelees as 'n opsomming van die evangelie Die res van Romeine is as bykomende kommentaar gelees. Na my mening is die evangelie egter in die hele brief - en daarom moet die evangelie in die hele brief gehoor word.

In Romeine 1-5 verduidelik Paulus hoe God se geregtigheid in genade aan gelowiges geskenk word. Maar in Romeine 6 begin Paulus verduidelik wat die implikasies is van die geskenk van geregtigheid in die lewe van gelowiges (vers 22: "Maar nou dat julle van die sonde vrygemaak is, en diensbaar aan God geword het ."). In hoofstuk 7 erken hy moedeloos dat hyself ver te kort skiet aan 'n diensbare lewe - maar in hoofstuk 8 is Paulus dankbaar om sy lesers daaraan te herinner dat die Heilige Gees aan sukkelende gelowiges - soos hyself - gegee is, sodat hulle soos regverdige mense sal leef; in hoofstukke 9-11 skryf Paulus oor Israel se plek in God se heilsplan, in hoofstukke 12 en 13 gee Paulus praktiese raad oor hoe regverdige mense sal leef; in hoofstukke 14 en 15 raad oor hoe gelowiges in gemeentes mekaar se belange eerste behoort te stel; en in hoofstuk 16 groet en bemoedig hy medewerkers in Rome.

Die hele brief vorm 'n geheel - 'n sterk herinnering aan sy lesers van die feit dat hulle deur die genade van God geregverdig is, en onlosmaaklik verbind is aan daardie herinnering. Dat hulle daarom regverdige mense is, en so moet lewe. Maar die Lutherse tradisie - nie soseer Luther self nie - is, na my mening, geneig om die klem so sterk op die blye boodskap van regverdiging as 'n geskenk van God (uiteengesit in Rom 1-5) uit te lê, dat hulle Paulus se boodskap in verskillende opsigte verskraal.46 Daar is 'n neiging om Romeine 1-5 as Paulus se eintlike boodskap te sien, met Romeine 6-16 as 'n aanhangsel.

'n Tweede fout in die Lutherse tradisie was dat teoloë in dié tradisie geneig was om die werkgeregtigheid wat hulle tereg in die Katolieke Kerk van daardie tyd raakgesien het (byvoorbeeld die verkoop van aflaatbriewe), in te lees in die gedrag van daardie Joodse leiers wat Paulus teengestaan het.

 

4. Die gevolge van die Luther se verskraalde interpretasie van Paulus

Luther se versmelting van twee vyandelike groepe - Jode en Katolieke -het gelei tot 'n bondel van verkeerde interpretasies, soms met gruwelike gevolge. Hierbo het ons kennis geneem van Luther se negatiewe houding teenoor Jode. Maar die Lutherse tradisie het 'n ander, minder dramatiese, maar invloedryke negatiewe gevolg vir die Protestantse teologie in die afgelope 500 jaar nagelaat. Ek noem kortliks 'n paar elemente van hierdie negatiewe nalatenskap:

4.1 'n Beperkte begrip van Paulus se verstaan van die "geregtigheid van God"

As gevolg van Luther se invloed het veral sy volgelinge, die "geregtigheid" wat God aan die sondaar skenk, hoofsaaklik forensies verstaan - dit wil sê, in terme van skuldig of onskuldig voor die regbank. Die sleutelsin in Luther se eie vertelling van sy ontdekking hoe "die geregtigheid van God" verstaan moet word, lui as volg: "Toe verstaan ek meteens dat die geregtigheid van God die geregtigheid is wat God uit genade alleen aan ons skenk ..." Hier is "geregtigheid" soms deur Luther self, maar veral deur sy interpreteerders in die Lutherse tradisie, net verstaan as "onskuldig voor die regbank", dit wil sê, net as 'n forensiese handeling: iemand wat skuldig bevind is, is nou van straf vrygestel is. Maar - en dit is die belangrike punt: baie, indien nie die meeste nie, Luther-interpreteerders het dit so verstaan: dat die sondaar wie se sondes vergewe is en wat dus onskuldig verklaar is, nie noodwendig verstaan het dat daarmee saamgaan dat die geregverdigde sondaar moet - en kan - verander in 'n meer regverdiger mens nie.47

Dit is die geval nie net in Lutherse kerke nie, maar veral ook in die groot en invloedryke groep "evangeliese" Protestantse kerke wêreldwyd. Die verkondiging dat 'n sondige mens deur God se genade regverdig verklaar word en dat die regverdigmaking deur geloof alleen ontvang moet word, is inderdaad deel van die kern van die evangelie. Dit is egter nie die volledige evangelie nie. Ongelukkig het die manier waarop Luther in baie Protestantse kerke verstaan is, daartoe gelei dat waarskynlik die meerderheid van alle Protestante die konsep van "regverdiging uit die geloof alleen" in praktyk so verstaan dat dit net verwys na die forensiese onskuldigverklaring van 'n gelowige sondaar.48

Dat "regverdiging", soos Paulus dit verstaan het, nie net 'n forensiese transaksie beskryf nie, word duidelik wanneer die Romeine-brief verder as hoofstuk 5 gelees word. Daar skryf Paulus nie net oor gelowiges wat as sondaars deur Gods genade vrygeskeld is nie. Luister na Paulus se vraag en antwoord in Romeine 6:1: "Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef sodat die genade kan toeneem? Hoegenaamd nie!" En in vers 11: "So moet ook julle dan julleself beskou as dood vir die sonde, maar in Christus Jesus lewend vir God." En wanneer Paulus dit nie so in sy eie lewe ondervind nie, kla hy in hoofstuk 7:21 en 24, eers moedeloos: "Wanneer ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig . Ellendige mens wat ek is!" Dan besef hy tog - in die begin van hoofstuk 8 - dat God se genade nog groter is as wat hy gedink het: Hy vergewe nie net nie, maar vul ook met sy Heilige Gees die gees van die struikelende sondaar: "Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die sonde en die dood" (Rom 8:2) - en dié Gees sal die gelowige sondaar as mense ten goede verander.49

In Romeine 8 praat Paulus vir seker nie meer van die geregverdigdes as blote sondaars wat net onskuldig verklaar is nie, maar as mense wat 'n diepgaande verandering ondergaan het deur die werking van die Gees. Romeine 8:16: "Die Gees self bekragtig aan ons gees dat ons kinders van God is."50 Dit gaan nie net oor 'n forensiese onskuldigverklaring nie - soos wel dikwels verstaan is in die Lutherse tradisie, byvoorbeeld by Philip Melancthon.51

4.2 'n Beperkte verstaan van Paulus se klem op die werk van die Heilige Gees

Die invloed van die Lutherse tradisie blyk duidelik by die lees van die Romeine-brief. Wanneer die brief binne dié tradisie verstaan en vertel word, val amper alle klem op Romeine 1-5, waarin Paulus vertel hoe die geregtigheid van God deur geloof ontvang word, en hoe almal - goeie en slegte gelowiges - deur God as regverdig verklaar word.

Romeine 6-8 en Romeine 9-11 staan dikwels - soos dit in die Lutherse tradisie verklaar word - in die skadu van Romeine 1-5. Die gevolg is dat die tradisie dikwels net tweedehandse aandag aan Romeine 6-8 gee, waarin Paulus oor die werk van God se Gees skryf en waardeur gelowiges "vrygemaak is van die wet van die sonde en die dood" (hfst 8:2) en hoe gelowiges se "sterflike liggame lewend gemaak word deur sy Gees wat in julle woon" (hfst 8:11). Gevolglik is daar by Christene in die Lutherse tradisie dikwels 'n sterk bewussyn van hulle eie sondigheid, maar 'n swakker bewussyn van die opgestane Christus se teenwoordigheid en invloed deur die Gees van God by hulself en in hul gemeentes.

4.3 'n Beperkte verstaan van die sosiale impak van Paulus se bediening

Luther was geneig om Paulus se lewe en boodskap deur die bril van sy eie sielestryd en sy stryd teen die Katolieke Kerk te verstaan. Luther beskryf sy worsteling oor die uitdrukking "die geregtigheid van God" as 'n sielestryd van 'n individu. "Then I grasped that the justice of God is that righteousness by which through grace and sheer mercy God justifies us through faith."52Luther het Paulus se soektog en uiteindelike antwoord verstaan amper asof dit 'n weerkaatsing was van sy eie soektog en die vind van die waarheid. Maar - hoewel daar inderdaad 'n groot ooreenkoms tussen albei se soektogte was, was hulle nie identies nie.

Vir Luther was sy soeke na waarheid 'n individuele sielestryd: waar vind ek die genadige God? In sy sielestryd het Paulus ook dié vraag gevra, maar sy vrae het oor meer gegaan, soos byvoorbeeld: Hoe kan gemeenskap en kohesie tussen gelowiges van verskillende agtergronde in die vroeë gemeentes opgebou word? Dit was 'n belangrike punt op Paulus se agenda - die onderlinge verhouding tussen mense vanuit verskillende kulturele agtergrond, veral die verhouding tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges.

Ons sien iets van hierdie dinamiek in die skynbaar arrogante vraag wat die jong sendeling Paulus by 'n leiersvergadering van die vroeë kerk, in die openbaar aan die senior apostel Petrus vra:

"Toe Sefas (Petrus) in Antiogië aangekom het, het ek hom egter openlik teengegaan . want voordat sekere mense van Jakobus opgedaag het, het Sefas gewoonlik saam met die heidene geëet, maar toe hulle (Jakobus en sy Joodse vriende) opdaag, het hy hom teruggetrek en afgesonder omdat hy bang was vir diegene uit die besnydenis . toe ek sien dat hulle nie die reguit pad loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek voor almal vir Sefas gesê: 'As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden leef en nie soos 'n Jood nie, hoe kan jy nie-Jode dwing om soos Jode te leef?" (Gal 2:11-14, Nuwe Testament, 'n direkte vertaling, 2014).

Wat was hier op die spel? Waarom het Paulus so buitengewoon skerp opgetree, amper sonder respek teenoor die senior leier in die vroeë kerk? Omdat daar so baie op die spel was. Dit was nie vir die jong Christen-beweging eenvoudig 'n keuse tussen partikularisme of universalisme, soos FC Bauer53 dit verduidelik nie: "to broke through the barriers of Judaism and rose out of the particularism of Judaism into the universal idea of Christianity". By meer as een geleentheid het Paulus aan gemeentes raad gegee insake eetgewoontes. Hy vermy deurgaans om een, universele gebruik op al die verskillende geloofsgemeenskappe af te forseer. Hy moedig Christene van verskillende agtergronde aan om die ander se eetgewoontes te respekteer, as teken daarvan dat hulle mekaar (met hulle eie eetgewoontes) aanvaar. Romeine 14:14 is hiervan 'n voorbeeld: "Ek is in die Here Jesus daarvan oortuig - dat niks van self onrein is nie. As iemand iets egter as onrein beskou, dan is dit vir hom onrein". So ook 1 Korintiërs 10:32: "Julle moenie vir Jode of Grieke of die gemeente van God 'n struikelblok wees nie."54 Paulus se doel was nie om een, universele spyskaart op gelowiges uit verskillende agtergronde af te dwing nie. Wat wel op die spel was, was die eenheid en toeganklikheid tot mense van alle kulture as lidmate van die vroeë Christelike gemeenskap.

Paulus se skerp optrede teenoor Petrus was nie omdat Petrus as 'n Jood aangedring het op kosjer kos vir hom en die besoekende Christen-Joodse leiers uit Jerusalem nie. Paulus se beswaar was teen Petrus (en ander Christen-Joodse leiers uit Jerusalem) se afwesigheid by etenstyd. Die probleem was nie die Joodse Christene se partikuliere eetgewoontes nie -Paulus het hom juis beywer vir ruimte vir partikuliere eetgewoontes. Die probleem was dat as Joodse en nie-Joodse Christen-groepe mekaar by etenstyd begin vermy het, hulle hul brose eenheid in Christus maklik kon verbrokkel.

Dit is my indruk dat Luther die belangrikheid van hierdie sosiale interaksie tussen mense van verskillende kulture en agtergronde in die liggaam van Christus onderskat het. Die redes hiervoor is moontlik eerstens dat Luther min blootstelling aan ander kulture as sy eie Duitse kultuur gehad het, en tweedens omdat die ontdekking van die goeie nuus van regverdiging uit die geloof alleen vir Luther so 'n intense, persoonlike ervaring was, dat dit hom as 't ware geestelik versadig het. Hoe dit ook al sy, die gevolg was dat Luther se interpretasie van Paulus se evangelie, in die eerste plek die ervaring is van een individu van God se genade en vergifnis. Luther skryf self roerend oor Romeine 1 oor sy ontdekking van wat "die geregtigheid van God" werklik beteken - maar dit is alles soos ervaar en gesien deur die oë van 'n individu: "Then I grasped that the justice of God is that righteousness by which through grace and sheer mercy God justifies us through faith. Thereupon I felt myself to be reborn and to have gone through open doors into paradise."55

Luther se Bybeluitleg is gebore uit sy eie eksistensiële ervaring as een sondaar voor God. Moontlik was die Lutherse tradisie om daardie rede geneig om die sosiale ervaring van hierdie ervaring mis te kyk, en so ook die sosiale impak van die Goeie Boodskap in die Bybel mis te kyk.

4.4 'n Beperkte verstaan van Paulus se klem op die gebrokenheid

Paulus het 'n grootste deel van sy bediening deur middel van briewe gedoen - die briewe in die Nuwe Testament en briewe wat verlore gegaan het. Sendelinge is soms in die versoeking om in hul nuusbriewe aan hul ondersteuners 'n oor-optimistiese prentjie van hul bedrywighede voor te hou. Dit het Paulus nie gedoen nie. Wanneer hy swaar gekry het, wanneer sy voorstelle deur gemeentes nie aanvaar is nie, selfs wanneer daar teenstand teen sy bediening was (soos byvoorbeeld in Korinte) het Paulus nie geswyg oor sy swaarkry nie - van watter aard ook al.

Waarom sou hy dit gedoen het? Hy was tog seker daarvan bewus dat wanneer hy oor sy swaarkry geskryf het, dit die posisie van sy teenstanders versterk het. Dit is tog nou duidelik - kan ons die Korintiërs hoor sê - dat Paulus nie die een is wat ons in Korinthe kan vertel wat ons moet doen nie.

Kyk hoe swaar kry hy - vir seker is die seën van die Here nie meer op sy bediening nie!

Desnieteenstaande die moontlikheid van sulke optrede, het Paulus nie oor sy swaarkry in sy briewe geswyg nie, en ook nie voorgegee asof dit nie so erg was nie. Wanneer dit sleg met Paulus gegaan, het hy nie slegte nuus van sy korrespondente weerhou nie. So skryf hy byvoorbeeld aan sy jong kollega Timoteus oor die "vervolgings wat ek verduur het" (2 Tim 3:11), en sê hy in 2 Timoteus 4:6: "Want ek word reeds as drankoffer uitgegiet en die tyd van my dood is naby". Hy herinner 'n ander jonger kollega, Titus, daaraan "om aan die owerheid en alle gesag onderdanig te wees . om nie bakleierig te wees nie, maar vriendelik, en om ware sagmoedigheid te behou teenoor alle mense". Hy raai sy vriend en slawe-eienaar Filemon aan om nie Onesimus, die weggeloopte slaaf hardhandig te behandel nie, maar wel met deernis. Neem Onesimus terug as werker, stel hy voor - maar: "nie langer as 'n slaaf nie, maar méér as 'n slaaf, as 'n geliefde broer" (Fil 16,). Dit pla hom nie, stel hy die Korintiërs gerus, dat daar in hul gemeente nie juis "baie invloedrykes of mense van adellike afkoms" is nie - want hy weet dat die Here die "swakhede van die wêreld . uitgekies het om die sterkes te beskaam ... sodat geen mens voor God kan roem nie" (1 Kor 1:27-30). Daarom, skryf hy op 'n ander plek in 1 Korintiërs 4:10-13: "Ons is dwaas ter wille van Christus; maar julle is verstandig in Christus: ons is swak, maar julle sterk; julle geëerd, maar ons sonder eer. Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, is ons karig geklee, word ons geslaan, swerf ons dakloos en swoeg deur met ons eie hande te werk. Word ons beledig, seën ons; word ons vervolg, verdra ons; word ons belaster, antwoord ons beleefd."

In 'n opvolgbrief aan die moeilike gemeente van Korinte kry ons 'n oorvloedige verdere uitbreiding van Paulus se swaarkry. In 2 Korintiërs 6:4-10 beveel hy homself aan:

"as dienaar van God . in verdrukkings, in ontberings, in benoudhede; geslaan, in tronke gegooi, in oproere en in swaar arbeid, in slaaploosheid en honger . te middel van eer en oneer, te midde van laster en lof, as misleiers wat tog opreg is; as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes - maar kyk, ons leef; as gekastydes wat tog nie doodgemaak word nie; as bedroefdes, maar altyd blymoedig, as armes maar wat baie ander mense ryk maak, as mense wat niks het nie en tog alles besit."56

En dan sluit hy 2 Korintiërs 12 af met 'n verwysing na die "doring in die vlees" - waaroor Paulus tevergeefs die Here drie maal gesmeek het om van hom weg te neem, "maar Hy het vir my gesê: "My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring" (vers 7).

Hierdie verwysings na swaarkry, swakhede en versoekings is nie Paulus se manier om simpatie of ondersteuning van sy ondersteuners op te wek of hulle daaraan te herinner hoe hard hy vir die Here gewerk het nie. Dit is deel van Paulus se verstaan van die evangelie - om Christus te glo en te verkondig, om in dankbaarheid, met die leë hand van geloof God se geregtigheid verniet te onvang, is onlosmaaklik daaraan verbind om Jesus na te volg, ook op sy lydensweg. Navolging van Jesus was onvermydelik. Na my mening was Navolging, Dietrich Bonhoeffer se mees invloedryke boek, juis Bonhoeffer se reaksie teen die groot klem van die sterk Lutherse tradisie waarin hy grootgeword het, en waarin "die geregtigheid van God" hoofsaaklik as 'n forensiese geregtigheid verstaan is - sonder klem op navolging van Christus.

Protestantse Christene wat sterk deur die Lutherse tradisie beïnvloed is -met name diegene wat hulle graag as "evangeliese Christene" beskryf - is geneig om God se seën op hul lewe te meet aan die sukses wat hulle in hulle werk, gesinslewe, gesondheid en kerklike lewe beleef. Hulle is ook soms daartoe geneig om die omgekeerde hiervan - teenspoed in hierdie aspekte van die lewe - te sien as God se bestraffing. Dit is 'n verdere gevolg daarvan om Paulus se verstaan van "die geregtigheid van God" slegs as 'n forensies onskuldigverklaring te verstaan.

Dit is ironies dat Luther self egter baie meer as die Lutherane daarvan bewus was dat die forensiese vergifnis van sonde nie die einde van sondigheid se invloed op die lewe van gelowiges was nie.

 

5. Afsluiting

Wat was Luther dan - skurk of held? Wat die tweede aanklag betref, is dit, na my mening, wel so dat veral die Lutherse tradisie se beklemtoning op 'n streng forensiese uitleg van Paulus, 'n verskraling van Luther se eie Paulus-interpretasie meegebring het.57 By die lees van die Romeine-brief lei dit soms daartoe dat alle klem op Romeine 1-5 val en dat gevolglik Paulus se klem op die helende werk van die Heilige Gees in Romeine 6-8, die heilshistoriese klem in Romeine 7-11 en Paulus se klem op sosiale verhoudings in Romeine 12-15 onderbeklemtoon word.

Wat die eerste aanklag betref is, is Luther - na my mening - onskuldig op die aanklag van anti-Semitisme, soos dit hierbo gedefileer is, maar skuldig op die aanklag dat hy anti-Joods was.

Dit is wel so dat dit gevaarlik is om 'n oordeel uit te spreek oor mense wat 500 jaar gelede geleef het. Luther het in 'n totaal ander wêreld geleef: daar was min ruimte vir self-kritiek, min waardering vir ander se kritiek, min geleentheid om jou eie uitsprake krities te hersien (Luther se geskrifte is omtrent onmiddellik gedruk en versprei), Luther het omtrent nooit met Jode gepraat nie, meestal slegs van Jode.58 Nogtans kan 'n mens nie Luther se brutale anti-Joodse instelling ignoreer nie.

As dit maar net met Luther se uitbarstings teenoor Jode geëindig het, sou 'n mens dit nog as 'n onaangename swakheid van Luther kon afskryf. Maar dit het nie daar geëindig nie. Luther se uitsprake oor Jode is gedruk en herdruk en vir eeue oor die hele Europa gelees. Hoewel ons bevind het dat Luther nie anti-Semities was nie (nie teen Jode net omdat hulle Jode is nie) maar wel anti-Joods (teen die Jode omdat hulle die evangelie verwerp het), is dit so dat in die mense en samelewings wat sterk deur die Lutherse tradisie beïnvloed is, anti-Semitisme oor eeue gegroei het - en uiteindelik deels verantwoordelik was vir die Europese katastrofes.

Luther se anti-Judaïsme het uiteindelik bygedra om oor eeue heen 'n sterk anti-Semitiese kultuur in Europa op te bou. Luther se haatspraak het vir die volgende vier eeue die verskuilde anti-Semitisme in die Europese kultuur gevoed en gelegitimeer. Dit is inderdaad tragies dat Luther se ergste anti-Joodse geskrif, Oor die Jode en hul leuens in 1943 - presies 400 jaar nadat Luther dit in 1543 geskryf het - met groot sukses deur die Nazi's herdruk en versprei is - om hul beplande uitwissing van Jode goed te praat.

Ja - Luther was inderdaad ook 'n werktuig in die hand van die Bose. Tog het Luther self vir ons gehelp om sy sonde te erken en te verwerp, sonder dat ons hoef te probeer om Luther se eie reusebydrae tot die Hervorming te probeer ontken. Was dit dan nie Luther self nie wat ons daaraan herinner het dat elke gelowige beskryf kan word as simul iustus etpeccator - tegelyk geregverdig en 'n sondaar. Dit was gelukkig waar van Luther self, en daarom, ten spyte van sy sondigheid, het ons steeds baie om te leer by dié monnik en predikant, Katoliek en Hervormer, geregverdigde en sondaar,59sondaar en geregverdigde.60

 

Bronnelys

Bainton, Roland 1978. Here I stand. Lion Publishing, Tring, Herts, England: Albatross Books.

Baur FC 2007. Church History vol 1, page 55, quoted by F Watson: Paul, Judaism and the Gentiles. Beyond the New Perspective (Revised and expanded).

Brecht, Martin 2009. Shaping and Defining the Reformation 1521-1532. Philadelphia: Fortress Press.         [ Links ]

Campbell D 2009. The Deliverance of God. An apocalyptic rereading of justification in Paul. Grand Rapids, MI: Eerdmans.         [ Links ]

Ebeling. Gerhard 1972. Luther. An Introduction to his thought. Philadelphia: Fortress Press.         [ Links ]

Edwards, Mark U 2003. Luther's polemical controversies, in the Cambridge Companion to Martin Luther (ed. Donald K McKim). Cambridge: University Press.         [ Links ]

Harvey, Richard 2017. Luther and the Jews. Putting right the lies. Eugene, Oregon: Cascade Books.         [ Links ]

Hendrix, Scott H 2015. Martin Luther, Visionary Reformer. New Haven and London: Yale University Press.         [ Links ]

Hillerbrand, HJ 2017. Hillerbrand se inleiding en voetnotas van 16 bladsye by Luther se volledig artikel, About the Jews and their lies, 1543, in The Annotated Luther vol 5, bl 441-608. Volledige vertaling van Luther se About the Jews and their lives, asook kommentaar van Hillerbrand, in The Annotated Luther vol 5, Christian Life in the World, About Jews and their Lies. Minneapolis: Fortress Press.

Gritsch, Eric 1983. Martin - God's Court Jester: Luther in Retrospect. Philadelphia: Fortress.         [ Links ]

Jones, Tom. How Luther went viral. Article in The Economist, 17 December 2011.

Jonker, Willie 1981. Die Gees van Christus. Pretoria : NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Lohse, Bernard 2011. Martin Luther's Theology. Its historical and systematic development (translated and edited by Roy Harrisville). Philadelphia: Fortress.         [ Links ]

Luther, M 2017. That Jesus Christ was Born a Jew. Volledige boek van Luther in The Annotated Luther vol 5, bl 391, met inleiding en voetnotas van Kirsi I. Sterna. (Volume editor: Hans J Hillerbrand). Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

Luther, M. Against the Sabbatarians: Letter to a Good Friend. Volledige brief in Luther's Works 54:47:78, en WA 50:322.31-34.

Luther, M. On the Schem Hamporas and the Lineage of Christ. Volledige artikel van Luther, vertaal deur Brooks Schramm met inleiding en voetnotas, in The Annotated Luther vol 5, bl 609-666. (Volume editor: Hans J Hillerbrand). Minneapolis: Fortress Press. 2017.

Luther, M. About the Jews and their lies. Volledige boek van Luther in The Annotated Luther vol 5, bl 441-608. Volledige vertaling van Luther se About the Jews and their lives, asook kommentaar van Hillerbrand (16 bladsye), in The Annotated Luther vol 5, Christian Life in the World, About Jews and their Lies, bl 441-607. (Volume editor: Hans J Hillerbrand). Minneapolis: Fortress Press. 2017.

Lull, Timothy F 2003. Luther's writings, in: The Cambridge Companion to Martin Luther (edited by Dondald K McKim). Cambridge: University Press.         [ Links ]

Marius, Richard 1999. Martin Luther. The Christian between God and death. Cambridge, Massachusetts; London, England: Harvard University Press.         [ Links ]

Nürnberger, Klaus 2005. Martin Luther's message for us today. Pietermaritzburg: Cluster Publications.         [ Links ]

Oberman, Heiko A 1983. Luther, Israel en die Joden, in Luther na 500 jaar. JT Bakker en JP Boendermaker (red). JH Kok: Kampen.         [ Links ]

Oberman, Heiko A 1988. Luther - Mens tussen God en Duivel. Kok: Kampen.         [ Links ]

Sasse M. Martin Luther über die Juden: Weg met ihnen!, Freiburg in B, 1938. Aangehaal in voetnota van H A Oberman se "Luther, Israël en de Joden", in Luther na 500 jaar (red: JT Bakker en JP Boendernaker). 143-152.

Schramm, B and Kirsi I Stjerna (eds) 2012. Martin Luther, the Bible and the Jewish People. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

Schramm, B 2017. On the Schem Hamphoras. Inleiding en voetnotas, in The Annotated Luther vol 5, Christian Life in the World, About Jews and their Lies. Minneapolis: Fortress Press. 609-666.         [ Links ]

Schweitzer, Albert 1931. Paul and his Interpreters. A critical History. London: Adam & Charles Black.         [ Links ]

Schweitzer, Albert 1931. The Mysticism of Paul the Apostle. Macmillan.

Steinmetz, David C 1986. Luther in Context. Bloomington: Indiana University Press.         [ Links ]

Stjerna, Kirsi. Sterna se inleiding en voetnotas by Luther se volledige brief in The Annotated Luther vol 5, bl 391-440, met inleiding en voetnotas van Sterna. Lees ook: Schramm, B. and Kirsi I. Sterna (eds): Martin Luther, the Bible and the Jewish People.

Watson, Francis 2007. Paul, Judaism and the Gentiles. Beyond the New Perspective (Revised and expanded edition). Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

 

 

1 Hierdie artikel is as die jaarlikse Willie Jonker Gedenklesing op 31 Oktober 2017 gelewer.
2 Luther, M. That Jesus Christ was Born a Jew, p 401. Volledige brief van Luther in The Annotated Luther vol 5, p 391-440, met inleiding en voetnotas van Kirsi I Sterna. Lees ook Schramm, B. and Kirsi I. Sterna (eds): Martin Luther, the Bible and the Jewish People, 78.
3 Luther, M. That Jesus Christ was Born a Jew: Volledig brief van Luther in The Annotated Luther vol 5, p 391-440, met inleiding en voetnotas van Kirsi I Sterna, p 437: "Let them first be suckled with milk, and begin by recognizing this man Jesus as the true Messiah; after that they may drink wine, and learn also that he is true God."
4 Luther, M. That Jesus Christ was Born a Jew. Volledige brief van Luther in The Annotated Luther, vol 5, p 404. Minneapolis: Fortress.
5 Brecht, Martin. Shaping and Defining the Reformation 1521-1532, maak 'n sterk (na my mening oortuigende) saak daarvoor uit dat hierdie eerste missionêre uitreik na Jode, 'n positiewe, hoewel naïewe, poging was om die Jode tot die Christelike geloof te bekeer. Nie almal lees Luther se eerste geskrif oor Jode so positief nie. Richard Harvey, 'n Joodse Christen, meen dat Luther van die begin af negatief teenoor Jode ingesteld was. Sien R. Harvey se Luther and the Jews. Putting right the lies, 73.
6 Luther, M. Against the Sabbatarians: Letter to a Good Friend, is volledig te vind in WA 50:322.31-34 en LW 54:47:78.
7 Gritsch, Eric W. Martin, God's Court Jester. Luther in retrospect, 135. Lees Gritsch se kommentaar, sien verwysing op bladsy 135, voetnota 26), en aanhaling uit Luther's Lectures on Genesis, WA 42:520.22-35, en ook LW 2:361-2.)
8 Luther, M. About the Jews and their lies, in Hillerbrand, Hans J. Volledige vertaling van Luther se About the Jews and their lives, asook kommentaar van Hillerbrand (16 bladsye) in The Annotated Luther vol 5, Christian Life in the World, About Jews and their Lies, p 441-607.
9 Luther, M. About Jews and their Lies, p 572 en verder, in Hillerbrand, Hans J. Volledige brief van Luther About the Jews and their lies, asook kommentaar van Hillerbrand (16 bladsye) The Annotated Luther vol 5, Christian Life in the World, About Jews and their Lies, p 572 en verder.
10 Luther, M. About Jews and their Lies, Hillerbrand, Hans J. Volledige brief van Luther About Jews and their Lies, in The Annotated Luther vol 5, p 449. Luther herhaal hierdie beskuldiging daarna meer as een keer, byvoorbeeld weer op p. 581: "I have heard many stories about the Jews ... how they have poisoned wells, made assassinations, kidnapped children, as I have related already."
11 Luther, M. About Jews and their Lies, in Hillerbrand, Hans J. Volledige brief van Luther About the Jews and their lies, asook kommentaar van Hillerbrand (16 bladsye) The Annotated Luther vol 5, Christian Life in the World, About Jews and their Lies, p 589 en verder.
12 Luther, M. About Jews and their Lies, in Hillerbrand, Hans J. Volledige brief van Luther About the Jews and their lies, The Annotated Luther vol 5, Christian Life in the World, About Jews and their Lies, p 589 en verder.
13 Luther, M. About the Jews and their Lies, Hillerbrand Hans J. Volledige brief van Luther, in The Annotated Luther vol 5, p 581.
14 Luther, M. About the Jews and their Lies, Hillerbrand Hans J. Volledige brief van Luther, in The Annotated Luther vol 5, p 573. Luther stel sy saak so: "First, to set fire to their synagoges or schools and to bury and cover with dirt whatever will not burn, so that no one will ever again a stone or a cider of them. This is to be done in honor of our Lord and Christendom, so that. God might see that we are Christian ..." Op meer as een ander plek gee Luther min of meer dieselfde raad: 1) Sinagoges moet verbrand word, 2) Joodse huise moet verbrand word, 3) Gebedeboeke moet gekonfiskeer word en Jode "must be forbidden on pain of death to praise God, to give thanks, to pray, and to teach publicly among us ., 4) Fourth, that they be forbidden to utter the name of God within our hearing in The Annotated Luther vol 5, p 581, 588-89.
15 Aangehaal in Schramm and Stjerna (eds), Martin Luther, the Bible, and the Jewish People. p 176.
16 Luther, M. About the Jews and their Lies, Hillerbrand Hans J. Volledige brief van Luther, in The Annotated Luther vol 5, p 590. Hier herhaal Luther sy voorstel: "They must be driven from our country" (590). Waar die tuisland sou wees, het Luther nie genoem nie, want hy was wel bewus daarvan dat die Jode in 1517 reeds vir veertien eeue steeds nie 'n tuisland gehad het nie. Wat Luther dus eintlik wou sien, was Jode in permanente ballingskap, uitgedryf van plek tot plek - en wie die Jode dus in 'n staat van ewigdurende vlugtelinge kon plaas, het God se straf op Jode in werking gestel: "Because they curse us, they curse our Lord; and if they curse our Lord, they curse God the Father ... For Christ does not lie . when he adjudges them to be serpents and children of the Devil" (About the Jews and their Lies: The Annotated Luther vol 5, p 590-591).
17 Harvey, RS. Luther and the Jews, 103.
18 Luther, M. On the Schem Hamporas and the Lineage of Christ. Volledige artikel van Luther, vertaal deur Brooks Schramm met inleiding en voetnotas, in The Annotated Luther vol 5, p 645-646. Luther verduidelik: "Here in Wittenberg in our parish church there is a sow carved in stone. Under her, young piglets and Jews lie sucking. Behind the sow stands a rabbi who lifts the sow's right leg and with left hand he pulls her rear end over himself. He bends down and looks most studiously under her rear end at the Talmud inside, as if he wanted to read and see something difficult and special. This is most likely where they get their Schem Hamporas from. For previously there were very many Jews in these areas. This is proven by the names of towns and villages ... which are still in Hebrew today."
19 Harvey, RS. Luther and the Jews, 103 en 105.
20 Harvey, RS. Luther and the Jews, 105: Harvey het in 2014 'n petisie op die Internet begin waarin gevra word dat die "Judensau", die varksog-reliëf, van die muur van die Wittenbergkerk afgehaal en, saam met ander soortgelyke materiaal, in 'n museum bewaar moet word, voorsien van verduidelikende historiese materiaal. Tot met die skryf van hierdie artikel is sy versoek nog nie deur die Lutherse Kerk in Wittenberg toegestaan nie.
21 In 1988 is daar wel onder die Jode-sog 'n plakkaat aangebring wat verduidelik: "Die ware naam van God, Chem Ha Mphoras, wat Jode alreeds lank voor die koms van die Christendom gebruik het as 'n onuitspreekbare heilige naam; die naam wat saam met ses miljoen Jode gesterf het, onder die teken van die kruis" (Harvey, RS. Luther and the Jews, 104).
22 Jones, Tom. How Luther went viral. Article in The Economist, 17 December 2011.
23 Edwards, MU. Luther's polemical controversies, in The Cambridge Companion to Martin Luther, 192-205.
24 Luther, M. About the Jews and their Lies, in Hillerbrand Hans J, in The Annotated Luther vol 5, p 590. That Christ was Born a Jew, in The Annotated Luther vol 5, p 401.
25 Oberman, HA. Luther, Israel en die Joden, in Luther na 500 jaar, bl 148.
26 Sacks, Jonathan. Anti-Semitism, in Newsweek.com on 3 April 2017.
27 Oberman, HA. Luther, Israel en die Joden, in Luther na 500 jaar, p 149.
28 Hendrix, Scott. Martin Luther, Visionary Reformer. p 276: "Luther was a prisoner of his age and its prejudices. The 16 century produced a few voices in favor of limited political and religious toleration, but even Erasmus of Rotterdam, a paragon of humanism, betrayed a dislike of Jews. After Luther's death, his late writings against Turks, Jews and the papacy never became bestsellers nor did they dominate later historical perceptions of Luther."
29 Bainton, Roland. Here I stand, p 379: "His (Luther's) position was entirely religious and in no respect racial. The supreme sin for him was the persistent rejection of God's revelation of himself in Christ."
30 Oberman, HA. Israel en die Joden, in Luther na 500jaar, 148.
31 Oberman, HA. Israel en die Joden, in Luther na 500 jaar, 149. Hiermee stem Richard Marius saam in sy Martin Luther, the Christian between God and Death, 482: "Luther's hatred of the Jews is a sad and dishonorable part of his legacy and is not a fringe issue. It lay at the centre of his religion ... For Luther religion was primarily the means of conquering death, and in such a schema, tolerance had no place.". 'n Effens anderse perspektief is dié van Mark U Edwards Jr, in sy Luther's polemical controversies, in The Cambridge Companion to Martin Luther (ed Donald McKim), p 203-205. Sonder om die woord "fringe issue" te gebruik, wys Edwards daarop dat hierdie anti-Joodse geskrifte vir eeue min aandag gekry het, en grootliks deur anti-Semitisme gedurende die Nazi-tydperk herontdek is. Edwards wys daarop dat Luther se anti-Joodse geskrifte hoofsaaklik daarop gemik was om die Joodse interpretasie van die Ou Testament teen te staan.
32 Hillerbrand se inleiding tot Luther se About the Jews and their Lies in The Annotated Luther vol 5, p 441-454.
33 Hillerbrand se inleiding tot Luther se About the Jews and their Lies in The Annotated Luther vol 5, p 452.
34 Luther, Martin. LW 45. p 199-229.
35 Hillerbrand se inleiding tot Luther se About the Jews and their Lies in The Annotated Luther vol 5, p 452.
36 Hillerbrand se voetnota 39 by Luther se About the Jews and their Lies in The Annotated Luther vol 5, p 481.
37 Luther, M. About the Jews and their Lies, Hillerbrand Hans J. Volledige brief van Luther, in The Annotated Luther vol 5, p 572: "Now tell me whether they (the Jews) do not have every reason to be the enemies of us accursed Goyim, to curse us and to strive for our final, complete and eternal ruin!"
38 Hillerbrand se inleiding tot Luther se About the Jews and their Lies in The Annotated Luther vol 5, p 481.
39 Hendrix, Scott. Martin Luther, Visionary Reformer, 276. Lees ook Richard Marius, The Christian between God and Death. p 482
40 Marius, Richard. Martin Luther, the Christian between God and Death, 482: "For Luther religion was primarily the means of conquering death, a collection of true doctrines that must be believed if the Christian was to be victorious over death, and in such a schema, tolerance had no place".
41 Gritsch, Eric W. God's Court Jester. Luther in Retrospect, Fortress: Philadelphia, 1983. Hillerbrand se inleiding tot Luther se About the Jews and their Lies in The Annotated Luther vol 5, p 443: "Philip Melancthon and Andreas Osiander were not please with it's (About the Jews and Their Lies) strident tone ... Bullinger remarked that Luther's views reminded him of those of the Inquisitors. And the Zurich clergy declared (speaking specifically of the treatise Vom Schem Hamphoras, which Luther published later in 1543), that "it had been written by a swineherd, rather than by a celebrated shepherd of souls" (in Hillerbrand's introduction to About the Jews and their Lies, The Annotated Luther, volume 5, p 443).
42 Sasse, M. Martin Luther über die Juden: Weg met ihnen!, Freiburg in B, 1938: "der grösste Antisemit seiner Zeit geworden ist, der Warner seines Volkes wider der Juden". Aangehaal in voetnota van H A Oberman se Luther, Israël en de Joden, artikel in Luther na 500 jaar (red: J T Bakker en J P Boendernaker), 143-152). Sasse was the Lutherse biskop van Thuringia.
43 Bainton, Roland. Here I stand, 63: "There are almost two Gods, the inscrutable God whose ways are past finding out and the God made known to us in Christ." Hierdie ontdekking, was soos sy roeping in die donderstorm, 'n emosionele ondervinding. Dat Jesus aan die kruis, skynbaar desperaat die woorde van Ps 22:1 opgeroep het, het Luther gefassineer: "My God, my God, waarom het U my verlaat?" Kon dit wees dat Jesus, soos Luther self, Aanfechtungen ervaar het? Soos hyself gereeld ervaar het - veral wanneer hy Paulus se briewe aan die Romeine en die Galasiërs gelees het, en nie soos Paulus daardeur getroos was nie, maar sterk onstel is. Hy skryf self: "My situation was that, although an impeccable monk, I stood before God as a sinner troubled in conscience ... Therefore I did not love a just and angry God, but rather hated and murmured against him" (aangehaal deur Roland Bainton, p 63).
44 Oberman, Heiko A. Luther - Mens tussen God en Duivel, p 165.
45 Nuwe Testament en Psalms - n Direkte vertaling.
46 'n Voorbeeld hiervan gee David Steinmetz in sy Luther in Context, p 20-21, waar hy Paulus en Luther se eksegese van Romeine vergelyk. Luther het Augustinus se eksegese gevolg: "Neither Augustine nor Luther is particularly concerned about the problem which is uppermost in Paul's mind ..." (In chapters 6-16) "Paul wants to know whether the unbelief of Israel has invalidated the covenant which God concluded with her. What place in the history of salvation remains for Israel, especially in view of the new and astonishing successful mission to the Gentiles? Has Israel been permanently set aside in favour of a New Israel, composed of Gentiles and a remnant of the Old Israel? ... Luther spends a great deal of time in chapter 11 discussing the place of the Jews in the economy of salvation . but the immediate context for his exegesis of Romans is Romans 9 . the universal context of the predicament of the human race before God rather than the more particular context of the relationship of Israel and the Church."
47 Sommige Lutherse teoloë verdedig Luther deur te sê dat sy uitleg wel histories onakkuraat was (wat wel waar is: die Jode van sy tyd het nie op hulle eie werkgeregtigheid staatgemaak nie), maar meen dat Luther se toepassing korrek was: onder die Katolieke was werkgeregtigheid 'n groot probleem en 'n prediker kan wel Romeine hoofstuk 1-5 gebruik om werkgeregtigheid te beveg. Daarmee kan 'n mens saamstem. Die probleem is egter dat in die Protestantse geskiedenis hierdie aspek van Luther se interpretasie van die Romeine-brief so sterk beklemtoon is, dat dit vir sommige volgelinge die enigste interpretasie geword het.
48 Kritiese vrae of die "geregtigheid van God" in die Pauliniese briewe moet verstaan soos Luther dit gedoen het, is alreeds 'n 100 jaar gelede gevra. Albert Schweitzer het reeds in 1912 in sy Paul and his Interpreters, en toe later in 1930 in sy The Mysticism of Paul the Apostle, die mening uitgespreek dat die konsep "regverdiging deur die geloof" by Paulus nie die "hoofkrater" is nie (met verwysing na die maan), maar 'n wel 'n kleiner krater binne die hoofkrater is. Die "hoofkrater" by Paulus, dus die hooftema, is (volgens Schweitzer) Paulus se leer oor die "mistieke verhouding" met Christus, waarmee Schweitzer bedoel het Paulus se gebruik van die "in Christus"-metafoor. "The fundamental thought of Pauline mysticism runs thus: I am in Christ; in Him I know myself as a being who is raised above the sensuous, sinful, and transient world and already belongs to the transcendent; in Him I am assured of resurrection ..." (3)
49 Sien ook Rom 8:11: "As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon."
50 Campbell D. The Deliverance of God. An apocalyptic rereading of justification in Paul. Douglas Campbell se boek is 'n indrukwekkende poging van 1 170 bladsye, waarin hy probeer om Paulus se "forensiese" interpretasie deur Luther as verkeerd te bewys. Sy hoofargument ten opsigte van Romeine is dat Rom 1-5 nie Paulus se (forensiese) argument is nie, maar wel Paulus se teenstanders se (forensiese) argument. Die regte Paulus antwoord dan hierdie teenstanders se forensiese uitleg deur te beweer dat Paulus se eie siening eers ter sprake kom in Romeine 6-8. Daarom - meen Campbell - is die boodskap oor wat die Goeie Boodskap regtig is, so anders geformuleer in Romeine 9-11. Daarom soek Campbell na woorde om die argument van Paulus (soos ons dit eers in Rom 6-8 kry) te beskryf, in onderskeiding van die bloot "forensiese" van sy Romeinse teenstanders in Rom 1-5. Die argument in Romeine 6-8 (volgens Campbell is die ware Paulus hier aan die woord) is volgens Campbell 'n "geestelike" proses (wat verwys na die werk van Gods Gees), of 'n "deelnemende" proses, wat verwys na Paulus se poging om gelowiges se "in Christus"-ervaring te beskryf (byvoorbeeld 2 Kor 5:17: "as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan - kyk, hulle het nuut geword"); of dalk 'n "apokaliptiese" gebeure, om die radikale en transformerende verandering te beskryf wat iemand wat ondergaan het wat tot geloof in God se openbaring in Christus gekom het. Hoewel ek nie met Campbell saamstem dat Romeine 1-5 sy teenstanders se argument is nie, is dit belangrik om raak te sien dat die klem in Romeine 1-5 anders val as Romeine 6-8 (om vir eers nie oor Rom 9-11 te praat nie) - en dit kan dalk help as ons beskrywings sou kon gee vir Paulus se eie verskeie argumente: Rom 1-5 sou die "forensiese" argument kon wees. En hier sou Campbell se voorstelle ons dalk kon help om te in te sien en ook neer te skryf dat daar 'n ander kant aan Paulus was as die "forensiese" Paulus. Nie een van hierdie byvoeglike naamwoorde bied 'n bevredigende beskrywing van 'n sondaar wat deur kruisiging en opstanding van Christus en die werking van die Heilige Gees "geregverdig" word nie, maar dit herinner lesers wel daaraan dat "geregverdig" veel meer omvat as die bloot forensiese verstaan van "vrygespreek" of "onskuldig bevind", wat so sterk gevestig is deur die Lutherse interpretasie.
51 Campbell D. p 258 ev. Campbell is van mening dat Melancthon se kommentaar oor Romeine 'n klassieke voorbeeld is van die Hervormer-interpretasies, wat, in Luther se voetspore, God se "geregtigheid" sterk forensies geïnterpreteer het. Calvyn (Campbell:261) volg dieselfde patroon. Die rede waarom die Hervormers van die 17eeu so sterk aangetrokke was tot die forensiese interpretasie, is - volgens Campbell - die gevolg van sterker invloed van rasionalisme en feudalisme, wat sedert die 15eeu toegeneem het, en gelei tot die ontstaan van 'n groter klem op individualisme. Die Europese ekonomie het meer buigbaar en toeganklik vir die middelklas geraak. Gevolglik was daar 'n toename in ekonomiese aktiwiteit, insluitende die koop en verkoop van grond. Hier hetfeudalisme 'n belangrike rol gespeel, as 'n stelsel van wetlike riglyne vir die verkoop van grond in ruil vir arbeid en diens. Banke het toeganklik geword soos die middelklas ryker geword het, en moes hulle geld êrens bêre. Hiervoor was kontrakte nodig. Luther, Melancthon en Calvyn (self opgelei as 'n wetsgeleerde) het die beskermende en positiewe aard van kontrakte leer ken. Gevolglik was dit vir hulle makliker om 'n bekende en voor die hand liggende konsep - die kontrak - te gebruik om die konsep van "geregtigheid" soos Paulus dit gebruik het, maar soos die Hervormers dit (effens anders) verstaan het, te gebruik om die verhouding tussen God en gelowiges te beskryf. Dit was vir hulle natuurlik: in die kontrak tussen God en geregverdigde sondaar was die goeie nuus dat God vir seker sy kant van die kontrak sou nakom, al sou sondaars dit nie altyd doen nie. Dit is dus duidelik waarom die Hervormers God se "geregtigheid" in terme van 'n forensiese kontrak verstaan het - maar dit is (volgens Campbell) noodsaaklik dat lesers van Paulus in die 21 eeu God se geregtigheid op sy eie voorwaardes sal verstaan.
52 Bainton, Roland. Here I stand. p 63.
53 Baur, FC 2007. Church History vol 1, page 55, quoted by F Watson, Paul, Judaism and the Gentiles. Beyond the New Perspective (Revised and expanded). p 41.
54 Lees ook 1 Korintiërs 8:13: "Daarom, as kos my broer laat struikel, sal ek beslis vir ewig nie weer vleis eet nie, sodat ek nie my broer laat struikel nie ..."
55 R Bainton. Here I stand. The Clasic Biography of Martin Luther. p 65.
56 En in 2 Korintiërs 11:24 weer 'n litanie van lyding: "Van die Jode het vyf keer veertig houe minus een gekry; drie maal is ek met stokke geslaan; een maal is ek gestenig; drie maal het ek skipbreuk gely: 'n nag en 'n dag lank het ek die diepsee trotseer; dikwels op reis, met gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van die kant van my eie volk, gevare van die kant van heidene, gevare in die stad, gevare in die woestyn, gevare op see, gevare onder vals broers, met harde werk en swaarkry, dikwels met slapelose nagte, honger en dors, dikwels sonder kos, koud en nakend . Wie is swak, en ek is nie ook swak nie? Wie kom tot struikeling, en ek brand nie van ontsteltenis nie? As daar geroem moet word, sal ek oor my swakhede roem ."
57 In sy Die Gees van Christus (1981), p 144-153, skryf WD Jonker self insiggewend oor die verskillende redes waarom veral Lutherse maar ook Gereformeerde teoloë soos Karl Barth in die twintigste eeu, die forensiese lees van Paulus en van die evangelie ondersteun het. "Dit het vir hulle gegaan om 'n terugkeer na 'n forensiese leer van die regverdiging. Die regverdiging word verstaan as 'n objektiewe, regterlike daad van God waarin Hy die mens om Christus ontwil vryspreek en hom die geregtigheid van Christus toesê... " Hierteenoor was daar wel teoloë wat Luther (tereg, na my mening - F Wessels) gelees het "as sou Luther in teenstelling tot Melancthon en die latere Ortodoksie geleer het dat dit in die regverdiging van die sondaar gaan om 'n regverdig-making en nie net om 'n regverdig-verklaring nie".
58 Sover ons weet het, het Luther in sy hele lewe net met enkele Jode 'n gesprek gevoer, asook met 'n paar oud-Jode wat hulle tot die Christendom bekeer het (en wat op hulle beurt deur die Joodse gemeenskap verwerp is en wat dus self geen goeie woorde oor Jode gehad het nie) en by een geleentheid het met hy drie rabbi's in gesprek getree.
59 Luther het dikwels sy gedagtes die beste uitgedruk deur middel van teenstrydighede - soos die letter teenoor die Gees, die Wet teenoor die evangelie, die koninkryk van wêreld teen die koninkryk van God, die onbekende en die geopenbaarde God, dat 'n Christen niemand se slaaf is nie en tog almal se dienaar. Sien G. Ebeling, Luther - an introduction to his thought, p 25; ook B. Lohse, Martin Luther - Eine Einführung in sein Leben und sein Werk, p 176.
60 Luther self het die uitdrukking ook omgekeerd gebruik - elke Christen is ook simul peccator et iustus, tegelyk sondaar en geregverdigde. Dalk wou hy ons waarsku teen twee gevare: Christene wat so oorbewus is van hulle eie sondigheid dat hulle vir lang tye daardeur lamgelê word - en aan die ander kant, Christene wat so seker is van hulle regverdigheid, dat hulle soms vir 'n wyle van hulle eie sondigheid vergeet het. Albei hierdie twee versoekings moet met alle krag beveg word.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License