SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.4 issue2Ethical preaching in post-apartheid South Africa? A few homiletic considerations"Poverty and privilege": Re-hearing sermons of Beyers Naudé on religion and justice author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.4 n.2 Stellenbosch  2018

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2018.v4n2.a19 

GENERAL ARTICLES

 

'n Teologies-pastorale ondersoek na die sosio-ekonomiese situasie van die bruin welsynpensioenarisse in die Redeemed African Metodiste Kerk1

 

A theologically-pastoral examination of the socio-economic situation of the brown welfare pensioners in the Redeemed African Methodist Church

 

 

Jacobus CarnowI; Christo ThesnaarII

IUniversiteit Stellenbosch, Suid-Afrika carnow.jacobus@gmail.com
IIUniversiteit Stellenbosch, Suid-Afrika cht@sun.ac.za

 

 


ABSTRACT

The South African society is characterised by socio-economic inequality between various social components which is also reflected in the older persons' population (Beukes 2014:32). The objective of this article is a theological-pastoral investigation of how apartheid and neoliberal market economy could be structurally responsible for the socio-economic situation of brown welfare pensioners which is then interpreted in the light of God's justice. The insight gained could then be used by the Redeemed African Methodist Church to devise an appropriate theological-pastoral strategy to assist these older persons. This article is based on empirical data that was gathered by means of focus group methodology. The findings are that these older persons are victims of external factors determining their socio-economic situation. The theoretical framework of this article is that theological-pastoral care to these older persons cannot be separated from theological-pastoral care of the public life.

Key words: Brown older persons; socio-economy; neoliberalism; theological-pastoral care


 

 

1. Inleiding

In hierdie artikel gaan ek teologies-pastoraal fokus op die sosio-ekonomiese situasie van die bruin2 welsynpensioenarisse, wat lidmate van die Redeemed African Metodiste Kerk3 (RAMK) is. Dié situasie van die bruin ouer persone4 kan nie verstaan word sonder die geskiedkundige aanloop daarvan nie. In die aanhef van die Handves van die Suid-Afrikaanse Ouer Persone, wat op 15 April 2011 deur die destydse Minister van Maatskaplike Ontwikkeling van stapel gestuur is, word dit uitdruklik vermeld dat "[o]ns is die ergste deur ons moeilike verlede benadeel" (Handves, 2011:1). Naas die historiese Suid-Afrikaanse situasie wat grootliks daartoe bygedra het tot die armoede waarin hierdie ouer persone vir 'n groot deel van hul lewens gedompel was, sal in hierdie artikel ook verwys word na die impak wat die huidige neoliberalistiese ekonomiese stelsel in Suid-Afrika op die sosio-ekonomiese situasie van hierdie ouer persone het. Die hoofdoel van hierdie artikel is om op grond van 'n teoretiese verklaring en 'n bespreking van die sosio-ekonomiese situasie van hierdie ouer persone 'n gepaste teologies-pastorale sorgstrategie voor te stel om hulle te bedien. Na 'n bondige oorsig oor die metodologie word teorieë van armoede vermeld wat benut sal word in die bespreking van die data. Voortvloeiend uit hierdie bespreking van die data sal voorstelle vir 'n teologies-pastorale sorgstrategie gebied word om hierdie ouer persone gepas te bedien.

 

2. Metodologie

Die metodologie soos uiteengesit deur Osmer (2008:4) wat fokus op vier bepaalde take wat tans oor die algemeen in die Praktiese Teologie gebruik word, word ook in hierdie artikel benut.5 'n Kwalitatiewe navorsingsmetodologie, nl. die fokusgroep-metodologie is gebruik vir die insamel van empiriese data.6 Hierin is ek bygestaan deur 'n medenavorser. Die data is deur middel van 'n klankbandstelsel opgeneem. Atlas.ti is gebruik in die ontleding van die ingesamelde empiriese data. 'n Opvolgsessie met die fokusgroepe om die gegewens te bevestig, het daarna plaasgevind.

Die gestratifiseerde ewekansige steekproefmetode vereis dat deelnemers op grond van vooraf vasgestelde kriteria ewekansig gekies word (Focus Group Training Manual 2012:28). Die selektering van die bruin welsynpensioenarisse wat almal lede van RAMK is om as deelnemers in die fokusgroepe op te tree, het hiervolgens plaasgevind. Toestemming vir die gebruik van die deelnemers in die fokusgroepe is van die RAMK verkry. Die etiekkomitee van die Universiteit van Stellenbosch het ook hul goedkeuring vir die empiriese navorsing verleen. Voorsiening vir berading is vir elk van die tien fokusgroepe in die verskillende dele van die Wes- en Noord-Kaap gemaak indien deelnemers die bespreking in die fokusgroepe of daarna as traumaties ervaar. 'n Loodsstudie is eers onderneem om enige onduidelikhede in die besprekingsgids uit te stryk.

 

3. Teoretiese interpretasie van armoede

Volgens die neoliberalistiese siening is daar die teoretiese oortuiging dat armoede die gevolg is van persoonlike gebreke en tekortkominge.

Armoede is patologies en die armes is te blameer vir hul eie omstandighede (Wilson, 1996:424). Hiervolgens dui Williams en Taylor aan (2000:22) hoedat die groeiende sosio-ekonomiese ongelykheid geregverdig word omdat die armes skynbaar onkundig, lui en krimineel georiënteer is. Naas hierdie teorie oor armoede, bied Davids en Gouws (2013:1214) n maatskaplik-demokratiese teoretiese siening oor armoede, naamlik dat daar strukturele verklarings is vir armoede in die gemeenskap anders as die intellektuele en kulturele gebreke by die armes self. Volgens hierdie teoretiese verstaan is die arm persone deur uitwendige omstandighede in ongunstige maatskaplike strukture geplaas, asook in situasies wat telkens gekenmerk is deur n gebrek aan bronne en geleenthede (Davids en Gouws 2013:1214). Hierdie maatskaplik-demokratiese teorie vind veral sy beslag binne die neoliberalisme, wat in die vorige eeu ontstaan het as n reaksie op die toenemende staatsinmenging in die beplanning van die ekonomie en die ontwikkeling van n welsynstaat (Jones, 2012:11). Neoliberalisme fokus op persoonlike vryheid wat onmoontlik is sonder ekonomiese vryheid wat intrinsiek is aan die vrye markstelsel wat maatskaplike ongelykheid aanvaar en intensiveer (Jones 2012:14).Van hierdie ekonomiese program gebaseer op die neoliberalistiese denkpatroon van die vrye mark, sê Pieterse (2001:65), dat dit onderhewig is aan n innerlike wetmatigheid wat nóg deur die staat, nóg die teologie en etiek skynbaar aan bande gelê mag word. Neoliberalisme as n ideologie, sê Newbigin (2003:119), is 'n afgod, 'n afgod van die vryemarkstelsel, en afgode is nie vatbaar vir morele oortuigings nie. Bond (2011:355) argumenteer dat die eerste demokraties verkose regering in Suid-Afrika se aanvaarding van die neoliberalistiese ekonomiese stelsel gelei het tot 'n verskeidenheid van "gemeenskapsiektes" wat veral die armes, mense uit die werkersklas, vroue, jeug en die ouer persone negatief raak Onder die vaandel van die maatskaplik-demokratiese teoretiese siening oor armoede bestaan daar ook die teorie van armoede as deprivasie. Jansen, Moses, Mujuta en Yu (2015:151) beskryf armoede as 'n begrip wat verwys na deprivasie wat in geldelike en nie-geldelike terme ervaar word.

Op grond van die normatiewe taak is die teologiese normatiewe teorie van reg en geregtigheid wat in God woon en wat die kerk prakties in die wêreld moet uitleef (Beukes, 2014:122), benut om armoede te interpreteer. Hiervolgens argumenteer Noordegraaf (1990:57) dat "armoede is onrecht" en dan dat "niet liefdadigheid het antwoord diende te zijn, maar het verankeren van gerechtigheid in politiek en sameleving". Vir Beukes (2014:60) beteken dit die daarstel van voorkomende wette en maatreëls in die samelewing om armoede te verhoed. Smit (2009:480) toon dat hierdie ongeregtighede wat armoede daarstel diep ingebed is in die huidige wêreldwye ekonomiese realiteite wat die neoliberalisme as grondslag het. Die teorie van armoede as deprivasie wat in lyn is met die maatskaplik-demokratiese teoretiese siening van armoede en die teologiese normatiewe teorie van reg en geregtigheid sal nou benut word in die bespreking van bepaalde aangeleenthede wat betrekking het op die sosio-ekonomiese situasie van bruin welsynpensioenarisse.

 

4. Sosio-ekonomiese aangeleenthede

'n Studie van Elder (1974:163) en wat later bevestig is deur Crosnoe en Elder (2004:643) toon dat diegene wat 'n lewensituasie met 'n agterstand betree, daardie agterstand oor hul lewensduur handhaaf aangesien die moontlikheid van 'n ekonomies opwaartse beweging van die eerste tot laaste werk maar skraal is. Hierdie siening word ook ondersteun deur 'n stelling deur Unicef (2004:15) wat dui op 'n voortsetting van armoede oor geslagte heen. Ook Dannefer en Miklowski (2006:31) toon aan dat armoede later in mense se lewe verklaar kan word deur armoede vroeër in hul lewe. Op grond hiervan sal die bespreking van die data ook fokus op hoe hierdie kohort van ouer persone hul lewensituasie as kinders betree het omdat dit hulle hele lewensloopbaan beïnvloed. Uit die data word verskeie aspekte uitgelig wat die sosio-ekonomiese situasie van hierdie mense negatief beïnvloed, maar in hierdie artikel sal ek op die volgende fokus wat struktureel verantwoordelik is vir hul deprivasie: onderwysdeprivasie; die Groepsgebiedewet (41 van 1950); die huidige verbruikersgemeenskap en 'n dominerende sisteem.

4.1 Onderwysdeprivasie

Die onderwysdeprivasie word duidelik in die data aangedui met voorbeelde soos die volgende:

"Skool het ek gegaan en ek is in st.3 uit. Toe moet ek st.4 toe gaan. Toe sê Mamma: 'Jy kan nie meer verder skool toe gaan nie. Ek kan nie alles beköstig nie', want sy was alleen. Toe is ek uit die skool uit en het in die fabriek gaan werk." (7.1.7)7

"Ek was in st. 6 toe sê my pa vir my daar is nie meer geld nie. Hy het nie geld nie en ek kan nie verder nie. Ek moet maar kom werk op die plaas." (1.1.9)

Die beperkte akademiese opvoeding van hierdie deelnemers waarvan die meeste vroeg in die primêre akademiese fase skool moes verlaat, is die direkte uitvloeisel van hul sosio-ekonomiese situasie. Dat hul sosio-ekonomiese situasie haglik is, word duidelik uit 'n vergelyking van die volgende statistieke: Soudien (2000:24) toon aan dat gedurende die 1950s in die Wes-Kaap uit elke tien huishoudings in veral Kaapstad wat onder die armoedegrens leef, is agt bruin, een swart en een wit. Gedurende die 1970s beskryf Thomas (1976:61) die armoede van die bruin mense deur te verwys dat in 1970 meer as die helfte van die bruin mans minder as R500 per jaar (R41.7 per maand) en vroue, wat in baie gevalle die enkel broodwinners was, minder as R299 jaarliks (R24.9 per maand) verdien het, wat ver benede die aanvaarde broodlyn was van R70-R120 per maand per huishouding. Van der Berg en Louw (2004:567) gaan voort om 'n aanduiding te bied van die haglikheid waarin hierdie bruin ouer persone hul lewens voer as hierdie skrywers toon dat alhoewel daar 'n algemene daling in die armoede-koppe-telling (head count) van al die rassegroepe in Suid-Afrika tussen 1993 en 2000 is, toon die armoede-koppe-telling vir bruin mense 'n styging.

Die maklike en gerieflike uithaal van kinders uit skole om met die behoeftige huishoudings te help, ook om broers en susters te help versorg, of om op aandrang van plaasboere op plase te kom werk, kon voorkom gewees het as verpligte onderwys ook op bruin kinders van toepassing was soos dit die geval met wit kinders was (Lewis, 1987:14). In sodanige situasies van deprivasie ervaar hierdie kinders materiële, geestelike en emosionele deprivasie wat nodig is om te oorleef, te ontwikkel en om suksesvol in die lewe te wees. Hierdie vorms van deprivasie maak hulle onbevoeg om hul menseregte te benut, hul volle potensiaal te bereik of om deelname in die gemeenskap te geniet as volle en gelyke lede van die samelewing (Vorster, 2007:347).

4.2 Groepsgebiedewet (41 van 1950)

Die deprivasie wat die deelnemers gely het as gevolg van die Groeps-gebiedewet is uit die data soos volg aangedui:

"Ons was eintlik uitgesit waar ons was. Ons was in die ooste gewees in ... Toe moes ons daarvandaan trek hiertoe, Kaap toe. Hulle het ons uitgesit. Ons moes Kleurlingplek toe, Kaap toe. Ons moes ons rykdom agterlaat, ons vee wat ons gehad het, beeste en skape. Jy moes verkoop: vat jy hier vir R10, vat dit vir R20 ..." (4.1.11)

"Ons was ontneem van baie dinge: soos met die gronde ook. My ouma het 38 plotte gehad en my pa het 8 plotte gehad. Maar dit was weggevat van ons af. Hulle het ons uitbetaal vir niks" (8.1.5)

Hierdie bruin ouer persone se sosio-ekonomiese situasie is deur byna al die apartheidswette negatief beïnvloed, maar dit is veral die Groepsgebiedewet wat deur hierdie bruin ouer persone aangedui word wat hulle die mees eksistensieel benadeel het. Dit strook met die literatuur vanuit die sewentigerjare asook vroeër vanuit die vyftigerjare wat die haglikheid van die bruin bevolking beskryf. Thomas (1976:70) dui aan hoedat die Groepsgebiedewet die bruin mense erg benadeel het vanweë die grootskaalse materiële verliese wat hulle gely het weens gedwonge hervestiging. Ook Horrell (1956:79,87) beskryf hoedat veral die bruin mense weens die Groepsgebiedewet geldelik en moreel verarm is omdat hulle in woongebiede waar 'n gevestigde sosiale lewe oor jare heen opgebou is hulle eiendom spotgoedkoop moes verkoop en trek na onontwikkelde of haglike, oorbevolkte gebiede waar armoede reeds aan die orde van die dag was. Hulle ongunstige sosio-ekonomiese plasing het hulle beroof van, onder andere, die voordele van goeie woongebiede en skole (Mitchell, 2009:51) en so die haglikheid van hul situasies vererger. In sodanige situasie is hierdie bruin ouer persone veral beroof van 'n Christelike antropologie waar menslike bestaan beskou word as medebestaan waar mense in ag geneem word en as 'n verhoudingsmens tot volle wasdom kan kom (Buber, 1947:168).

4.3 Die huidige verbruikersgemeenskap.

Die haglikheid van die sosio-ekonomiese situasie van hierdie bruin ouer persone word skerp uitgelig deur voorbeelde soos die volgende:

"Deur die maand het jy nou skuldjies gemaak, goed wat jy nou wil hê en ... en as jy nou die geld ontvang het dan is dit net so goed jy het niks in jou hand nie." (10.5.3)

"Ons kan nie anders nie, ons moet maar skuld maak. Dan word hy daai dag betaal. Om aan iets te kom." (7.5.6)

Welsynpensioenarisse in Suid-Afrika kan nie lenings by erkende geldelike instellings soos banke aangaan nie omdat hulle nie vaste inkomste het nie. Tog word lenings aan welsynpensioenarisse moontlik gemaak, met tot 38% rente (Groundup, 2015), deur geldelike instellings in samewerking met die Suid-Afrikaanse Sosiale Sekuriteit Assosiasie (SASSA). Mathiso (2011:4) beklemtoon dat die welsynpensioen nie gesien kan word as die hoofinkomste van 'n huishouding nie, maar dat dit in baie gevalle die harde werklikheid is wat hierdie welsynpensioenarisse moet hanteer. Die situasies waar die welsynpensioen die hoofinkomste van huishoudings is, is in baie gevalle heg gekoppel aan situasies van akute werkloosheid (National Treasury, 2011:11).

4.4 'n Dominerende sisteem

Die bespreking van bogenoemde sosio-ekonomiese temas kan in verband gebring word met Jesus se woorde in die eerste gedeelte van Johannes 10:10a: " 'n Dief kom net steel, en slag en uitroei Hierdie woorde van Jesus beskryf 'n lewensruimte wat Wink (1992:51) 'n Dominerende sisteem noem en beskryf as 'n sosiologiese ruimte wat in vervreemding van God bestaan. Binne so 'n dominerende sisteem word, onder andere, die ekonomie bedryf volgens die beginsels van eksploitasie, gulsigheid/vraatsug, bevoordeling en ongelykheid (Wink, 1992:47). Die oordeel en reg wat God so liefhet, is algeheel afwesig in sodanige dominerende sisteem, maar waar die deprivasie wat God so haat (Jesaja 61:8 "Want Ek, die Here, het die reg lief; Ek haat die roof met onreg .") algeheel aan die orde van die dag is. Die deprivasie van die bruin ouer persone is juis moontlik gemaak deur die dominerende magte soos neoliberalisme binne 'n Dominerende sisteem gebaseer op die dominante ideologiese posisie wat dit in die samelewing geniet (Munro, 1998:45). Dit is dan binne sodanige dominerende sisteem dat hierdie bruin ouer persone se volwaardige individualiteit en hul volwaardige integrasie in die gemeenskap genegeer word. Hierteenoor noem Jesus verder in Johannes 10:10b "Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê en dit in oorvloed". Hierdie woorde van Jesus kan dan geïnterpreteer word as beskrywend van 'n lewensruimte wat Wink (1992:47) God se nie-dominerende orde noem en waar veral die ekonomie bedryf word volgens die beginsels van mededeelsaamheid, genoegsaamheid, verantwoordelik wees en gelykheid. Hierdie artikel wil voorstel dat hierdie bruin ouer persone se volwaardige individualiteit en volwaardige gemeenskapsintegrasie, wat Myers (1988:155) hul "personhood" en "socialhood" noem, herstel moet word. Vervolgens sal aandag gegee word aan 'n pastorale sorgstrategie op grond van die pragmatiese taak.

 

5. Voorstelle vir 'n teologies-pastorale sorgstrategie

Vir die herstel van die "personhood" en "socialhood" van hierdie bruin ouer persone sal 'n teologies-pastorale sorgstrategie moet poog vir die daarstelling van 'n radikaal andersoortige lewensruimte waarbinne die individualiteit en gemeenskapsintegrasie van hierdie ouer persone tot volle wasdom kan kom. Vir die daarstelling van so 'n lewensruimte sal RAMK beter intergenerasionele verhoudinge binne die gesin-/familieverband tussen die ontvangers van die welsynpensioen, hul kinders en kleinkinders op interpersoonlike vlak moet probeer beding, die Skrif en kerktradisies moet inspan om 'n ekonomiese program te probeer formuleer wat veral hierdie ouer persone sal bevoordeel en moet poog om met ander individue en organisasies te probeer skakel vir sodanige andersoortige gemeenskap.

Hiervoor is 'n gepaste sorgstrategie nodig wat 'n refleksie moet wees op die "politieke dimensie van het pastoraat" (Heitink, 1998:190) wat as objektief het die vernuwing of transformasie van die gemeenskap. Die RAMK sal moet aanvaar dat die doel van die kerk is die realisering van die Koninkryk van God waar die kenmerke van geregtigheid, vrede en vreugde in die Heilige Gees histories gerealiseer word. In hierdie opsig raak die kerkgemeenskap 'n gemeenskap waar niemand uitgesluit of agterweë gelaat word nie wat dan 'n kondisie vir die moontlikheid van volwaardige individualiteit is (Jenson 2006:60) met sinvolle en volwaardige integrasie in die gemeenskap. Om erns te maak met die daarstelling van sodanige gemeenskap word die volgende voorstelle gemaak om deur RAMK benut te word.

5.1 Intergenerasionaliteit

Verskeie teorieë oor intergenerasionaliteit plaas ouer persone in 'n interafhanklike verhouding binne familieverband met verskeie voordele soos dié van Antonucci, Jackson en Bigg (2007:680) wat daarop dui dat die familieverband 'n beskermende en seker basis bied waarvolgens veral ouer persone die wêreld kan ervaar. Veral van belang is Meulink-Korf en Van Rhijn (2005:103) se beskrywing van interafhanklikheid van verskeie generasies binne familieverband as 'n "dakpanconstructie" waar "elke dakpan ligt deels over de vorige heen. Elke generatie begint in de tijd van de vorige, en dus leeft elke generatie ook al in de tijd van die volgende". Hierdie "dakpanconstructie" dui op die ondersteuning wat dit aan die onderskeie generasies binne die gesins-/familieverband bied (Meulink-Korf en Van Rhijn, 2005:107). Dit is veral op die gebied van die onderwys dat die teorie van intergenerasionaliteit hierdie bruin ouer persone in besonder tot voordeel kan stem.

Verskeie navorsers soos Lam, Leibbrandt en Ranchod (2006) beklemtoon die voordeel van akademiese opleiding vir ouer persone hoe dit, onder andere, kan lei tot beter werksgeleenthede. In plaas van die huidige Basiese volwasse opvoedings- en opleidingsprogram van die Suid-Afrikaanse Nasionale Departement van Opvoeding wat in die basiese akademiese behoefte van hierdie ouer persone kan voorsien, wil hierdie teologiese-pastorale sorgstrategie 'n bepaalde model van intergenerasionele opvoeding voorstel wat kan voorsien in die akademiese behoefte van hierdie ouer persone sowel as in hul gemeenskapsgeïntegreerdheid. Oor hierdie model sê Kaplan (2001:3) dat daar internasionaal vir die afgelope aantal jare op 'n ongekende vlak nuwe inisiatiewe na vore gekom het om ouer en jonger persone in verskeie situasies byeen te bring met die doel om onderling interaksie te voer, mekaar te stimuleer, te onderrig, te ondersteun en om vir mekaar te sorg. Dit is 'n model wat bedryf kan word in verskeie plekke en vorms, bv. skole, gemeenskapsorganisasies, hospitale en elders. Walch (2008:3) bevestig dat so 'n intergenerasionele opvoedkundige model die bevoegdheid het om beide die jeug en ouer persone bevoeg te maak om in 'n groeiende mate aktiewe deelnemers in hul gemeenskappe te word en om ware verstaan en respek tussen die onderskeie generasies te verseker. George, Whitehouse en Whitehouse (2011:390) toon aan hoedat hierdie model groeperings op plaaslike vlak die kapasiteit bied om sosiale, burgerlike en omgewings verantwoordelikheid te vertroetel en om ingeligte optrede te bemoedig. Dit strook met die navorsingbevindinge van Licen en Gubalová (2010:21) wat bevestig dat hierdie model ten doel het die verbetering van en 'n meer geïntegreerde gemeenskapslewe.

Vir die daarstelling van soortgelyke positiewe uitkomste kan die RAMK in hierdie model van intergenerasionele opvoeding insluit opleiding in landboutegnieke, verskeie kundighede en vaardighede in, onder andere, voedselpreservering, ander industriële vaardighede soos in leerwerk vir die maak van gordels, beursies, skouerbande, asook vaardighede in naaldwerk, kookprogramme, kindersorg-fasilitering, organiese tuindienste, en dies meer. Onderwerpe wat ook gedek kan word, is die doel van oud word, ouer persone as die steunpilare van gemeenskappe, ouer persone in hul Bybelse en kulturele belangrikheid. Die ontvangs van sertifikate deur ouer en jonger lede van die gemeenskap by hierdie instellings kan 'n kragtige boodskap uitstuur oor intergenerasionele harmonie in hul lewensruimte. Die beperking op hierdie model is dat dit (nog) nie deur die regering as amptelike opvoedkundige instansies erken word nie.

5.2 'n Ekklesia-ekonomieprogram

RAMK kan die Skrif, teologie en kerktradisie benut in die daarstelling van 'n ekklesia-ekonomieprogram. Die Wêreldraad van Kerke en die moderne ekumeniese beweging het ten doel die hernude pogings vir die daarstelling van 'n gemeenskap (οίκος) van gelowiges, so kenmerkend van die eerste gemeentes in Handelinge (2:45) waar almal as God se familie in vrede en in gemeenskap sonder grense of bevooroordeling saam kan leef (Kinsler en Kinsler 2000:67). Binne sodanige οίκος word ekonomie verduidelik as die beplanning, administrasie en die bestuur van die huishouding sodat alle inwoners kan verkry wat hulle nodig het en om met menswaardigheid te leef (Kinsler en Kinsler 2000:67). 'n Ekklesia-ekonomieprogram wat radikaal anders is as die huidige neoliberalistiese ekonomie met die klem op uitermate winsbejag, en wat nie gemik is op die regverdige deel van nasionale bronne nie (Turok 2008:47) kan die doelstellinge van die vermelde οίκος realiseer as dit gefundeer word op die vyf Tora-beginsels wat volgens Meeks (2006:203) die kern vorm van die tradisie van die profete, die leer van Jesus en die Kerkvaders (beide Oos sowel as Wes), en van die Middeleeue en Reformasiekerke. Dit sien soos volg daaruit: 1. Om nie rente van die arme te eis nie (Eks 22:25). 2. Om nie die land skoon te oes nie, maar om van die oes te los vir die armes (Lev 19:9-10). 3. Om gasvryheid (die gee van proviand en ruimte nodig vir lewe) te beoefen (Deuteronomium 15:7-11). 4. Om die gee van tiendes (Deut 14:22-29) in te stel. 5. Om die grondbeginsels van veral die skuldkwytskelding van die Sabbatsjaar te beoefen (Deut 15:1). Om praktiese uitvoering aan die eerste van hierdie Tora-beginsel te gee, kan RAMK sentraal kapitaal opbou om aan die behoeftige ouer persone rentevry te leen wat as 'n teenvoeter kan dien vir die hoë-rentekoers-lenings waaraan hulle tans onderworpe is.8 Om aan die tweede beginsel gestalte te gee, kan inkopies deur lede so gedoen word dat nie alles in die inkopiewaentjies vir eie gebruik benut word nie, maar dat van die inkopies ook gereserveer word vir die armes. Gasvryheid kan beoefen word deur ouer mense te nooi om tydens maaltye te kom kuier en saam aan tafel vir maaltye te sit. Hierdie handeling van gasvryheid kan ook gemotiveer word deur die petisie in die Gebed van die Here van "gee ons vandag ons daaglikse brood". Die tiendes wat die RAMK van sy lidmate ontvang, kan effektiewer in die lewensonderhoud van ouer persone aangewend word. Die kwytskelding van skuld volgens die Sabbatsjaar kan aangemoedig word op grond van die Gebed van die Here waar die petisie van "vergeef ons ons οφειληματα (skuld, "debt", wat naas 'n morele ook 'n finansiële verband het) soos ons ook ons οφειλεταις (skuldenaars, "debtors") vergewe". Die prediking en Bybelstudie in hierdie verband kan effektief aangewend word vir die daarstelling van so 'n ekklesia-ekonomieprogram.

Die effektiewe implementering van so 'n program kan tot gevolg hê die beskerming van die menswaardigheid en lewensonderhoud van die swakstes en armes in die οίκος (Botman 2006:81), dus onder andere, die arm bruin ouer persone. Dit kan ook lei tot die geredelike verspreiding van bronne om honger te stil en dors te les, om erkenning aan veral die armes te gee, en waar mense in vryheid verbind kan wees deur handelinge van wedersydse gee (Meeks 2006:201,204). Hierdie Tora-beginsels as basis vir 'n ekklesia-ekonomieprogram kan ook deel vorm van die besprekingsmateriaal van die intergenerasionele opvoedkundige groepe wat RAMK plaaslik vorm.

5.3 'n Dominansie-vrye lewensruimte

Die Grieks-Romeinse konsep οίκος was oorspronklik 'n beskrywing van die lewensruimte waar die basiese lewensbehoefte verwesenlik was en waarbinne ook die onderdrukkende, rassistiese en seksistiese kenmerke van die Grieks-Romeinse wêreld weerspieëling gevind het (Meeks 1989:94). Jesus op 'n radikale wyse transformeer hierdie lewensruimte met andersoortige menseverhoudinge waar alle persone op grond van God se genade welkom is en waar dominerende strukture nie verduur word in gemeenskap van gelykes nie (Meeks 1989:95). Die evangelie van Jesus dien as die bloudruk vir sodanige lewensruimte. Wink (1992:47) soos voorheen beskryf, noem so 'n lewensruimte God se dominasievrye ruimte. Jenson (2006:63) argumenteer dat die kerkgemeenskap op grond van die unieke karakter daarvan as 'n "community-enabling community" die etiese imperatief het om met ander gemeenskapsorganisasies te skakel vir die beswil van die gemeenskap. Die kiesafdelings van die raadslede en parlementslede binne 'n munisipaliteit is daar vir die welsyn van die gemeenskap (Turok 2014:101). RAMK kan dan met die munisipaliteit deur die raads- en parlementslede en alle ander betrokke partye, wat op die welsyn van die gemeenskap fokus, saamspan vir die formulering van beleidstukke en besluite wat almal, veral die ouer persone, se lewens positief raak (Hendricks en Leedham 1991:60). Hierdie saamspan van die verskeie organisasies moet volgen Korten se vierde generasie ten doel het om hulle te bekragtig om so 'n sosiale droom te ondersteun (Korten 1990:127). Omdat die begeerte vir 'n dominansie-vrye lewensruimte ook vanuit die sekulêre denke aandag geniet, kan RAMK daartoe meewerk dat die formulering van beleidstukke binne 'n dominansie-vrye lewensruimte geskied volgens, onder andere, die voorstel van Gramsci (2010:104) waar die belange en aspirasies van die onderskeie groepe in die gemeenskap sal moet saamkom om "leierskap" binne die gemeenskap en nie "dominansie" nie daar te stel. Die teken van ware leierskap in die gemeenskap, is volgens Meeks (1989:96), solidariteit met diegene beskou as slawe en diensknegte en ander kwesbare gemeenskapsgroepe soos die arm ouer persone.

Hierdie solidariteit tussen RAMK en die raads-, parlementslede en ander gemeenskapsorganisasies kan gemeenskapsprojekte tot gevolg hê soos korporasies wat basiese kosprodukte soos rys, koffie, suiker, ens. en basiese huishoudelike benodigdhede en selfs basiese klerasie goedkoop aankoop en teen kosprys, of teen lae wins, aan arm ouer persone in die gemeenskap verskaf. Daar kan selfs onderhandel word vir beskikbare landbougrond vir landbou-ontwikkeling. Spesiale waterkonsessies vir agterplaas-groentetuine kan ook onderhandel word. In hierdie verband kan RAMK ook gereeld jaarlikse begrotingsvergaderings van die munisipaliteit bywoon om fondse vir die welsyn van ouer persone in die gemeenskap te beding. Ook kan die RAMK met ander gemeenskapsorganisasies ander maniere soek en ontwikkel vir die opbou van nie-kapitalistiese sosiale kapitaal (Gibson-Graham 2003:55) soos, byvoorbeeld, deur die optrede van hierdie ouer persone as die versorgers van gesinne en hul bevoegdheid vir die daarstelling en onderhouding van stabiele gemeenskappe.

Alle persone, maar veral die ouer persone in die gemeenskap, kan baat vind by die Verenigde Nasies se Madrid International Plan of Action for the Aged. Hierdie dokument bevat verskeie prioriteitsrigtings vir die welsyn van ouer persone. Die derde prioriteitsrigting is vir die daarstelling van bevoegmakende en ondersteunende ruimtes met die doel om inklusiewe en samehorende gemeenskappe te skep vir alle vroue en mans, kinders, jeug en ouer persone (United Nations 2002:33). Dit is dan juis op munisipale vlak dat die RAMK die implementering van hierdie plan vir die voordele van ouer persone met die raadslede en parlementslede kan beding.

 

6. Ten slotte

In hierdie artikel het ek gepoog om aan te toon dat die sosio-ekonomiese situasie van die welsynpensioenarisse wat aan hierdie navorsing deelgeneem het, struktureel deur apartheid en die huidige neoliberalistiese ekonomiese bestel daargestel is. Die teorie van armoede as deprivasie wat verband hou met die maatskaplik-demokratiese teorie oor armoede en die normatiewe teologiese teorie van God se reg en geregtigheid is benut om hierdie strukturele daarstelling te belig. Die empiriese data is geïnterpreteer om aan te toon dat armoede struktureel veroorsaak is en teenstrydig is met God se reg en geregtigheid. Voorstelle vir 'n gepaste pastorale sorgstrategie is dan voorgestel om hierdie ouer persone waar hulle hulself ook al in Suid-Afrika mag bevind gepas te bedien vir hul menslike florering en vervulling.

 

Bibliografie

Antonucci, T. C., Jackson, J. S. en Biggs, S. 2007. Intergenerational relations: Theory, research, and policy. Journal of Social Issues. 63(4): 679-693.         [ Links ]

Beukes, J. W. 2014. 'n Prakties-teologiese besinning oor die betekenis van artikel 4 van die Belydenis van Belhar as grondslag vir die vestiging van 'n teologie van ontwikkeling in die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA). Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Bond, P. 2011. What is radical in neoliberal-nationalist South Africa? Review of Radical Political Economics. 43:354-360.         [ Links ]

Botman, H. R. 2006. Covenant anthropology: Integrating three contemporary discourses of human dignity. In R. K. Soulen en L. Woodhead (reds.). God and human dignity. Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdman Publishing Company.         [ Links ]

Buber, M. 1947. Between man and man. Londen: Kegan Paul.         [ Links ]

Crosnoe, R. en Elder, G. 2004. From childhood to the later years: pathways of human development. Research on Aging. 26 (6):623-54.         [ Links ]

Dannefer, D. en Miklowski, C. 2006. Developments in the life course, in J. A. Vincent, C. R. Phillipson and M. Downs (eds.). The Futures of old age. London: Sage Publications.30-39.         [ Links ]

Davids, Y. D. en Gouws, A. 2013. Monitoring perceptions of the causes of poverty in South Africa. Social Indicators Research, (110):1201-20.

Dilshad, R. M. en Latif, M. I. 2013. Focus group interview as a tool for qualitative research: An analysis. Pakistan Journal of Social Sciences. Vol. 33(1):191-198.         [ Links ]

Elder, G. H. 1974. Children of the great depression. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

Focus group training manual. 2012. How to engage your stakeholders in designing, monitor and evaluating your programmes. A step-by-step guide to focus groups research for Non-Governmental Organisations. 1-98.

George, D., Whitehouse, C. en Whitehouse, P. 2011. A model of intergenerativity: How the intergenerational school is bringing the generations together to foster collective wisdom and community health. Journal of intergenerational relationships, 9 (4):389-404.         [ Links ]

Gibson-Graham, J. K. 2003. An ethics of the local, Rethinking Marxism. A Journal of Economics, Culture & Society. 15 (1):49-74.         [ Links ]

Gill, P., Stewart, K., Treasure, E. en Chadwick, B. 2008. Methods of data collection in qualitative research: interviews and focus groups. British Dental Journal. Vol.204 (6):291-295.         [ Links ]

Gramsci, A. 2010. Selections from the prison notebooks of Antonio Gramsci. New York: International Publishers.         [ Links ]

Groundup. 2015. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.groundup.org.za/article/spotlight-social-grants-how-grants-are-used-pay-back-loans_3370/ [8 Julie 2016 geraadpleeg].

Handves van die Suid-Afrikaanse Ouer Persone. 2011. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.wcopf.org.za/downloads/Charter%20Brochure%20-%20Afrikaans%20060312.pdf [9 Februarie 2016].

Heitink, G. 1998. Pastorale zorg: theologie, differentiatie, praktijk. Kampen: Uitgeverij Kok.         [ Links ]

Hendricks, J. en Leedham, C. A. 1991. Dependency or empowerment? Toward a moral and political economy of aging. In M. Minkler en C. L. Estes (reds.). Critical perspectives on aging: The political and moral economy of growing old. Amityville, New York: Baywood Publishing Company, Inc.         [ Links ]

Horrell, M. 1956. The Group Areas Act: its effect on human beings. Johannesberg: Die Suid-Afrikaanse instituut vir rasseverhoudinge.         [ Links ]

Jansen, A., Moses, M., Mujuta, S. en Yu, D. 2015. Measurements and determinants of multifaceted poverty in South Africa. Development Southern Africa. 32 (2):151-169.         [ Links ]

Jenson, R. W. 2006. Anima Ecclesiastica. In R. K. Soulen en L. Woodhead (reds.). God and human dignity. Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdman Publishing Company.         [ Links ]

Jones, D. S. 2012. The lessons of neo-liberalism. Renewal. 20 (1): 9-24.         [ Links ]

Kaplan, M. S. 2001. School-based intergenerational programs. Hamburg: UNESCO Institute for Education.         [ Links ]

Kinsler, R. en Kinsler, G. 2000. The Biblical jubilee and the struggle for life. New York: Orbis Books.         [ Links ]

Korten, D. C. 1990. Getting to the 21st century. Voluntary action and the global agenda. West Hartford: Kumarian Press.         [ Links ]

Lam, M., Leibbrandt, G. en Ranchhod, V. 2006. Labor force withdrawal of the elderly in South Africa. [Intyds]. Beskikbaar: www.ncbi.nih.gov/books/NBK20294 [15 September 2016].

Lewis, G. 1987. Between the wire and the wall. A history of South African 'Coloured'politics. Kaapstad: David Philip.         [ Links ]

Licen, N. en Gubalová, J. 2010. Intergenerational learning and education in later life. Ljubljana: University of Ljubljana.         [ Links ]

Mathiso, S. 2011. Realising the rights of older persons in South Africa. ESR Review. 12 (1):2-5.         [ Links ]

Meeks M. D. 1989. God the economist. The docrine of God and political economy. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

- 2006. The economy of grace: Human dignity in the market system. In C. Schöwel en C. Gunton (reds.). Persons, divine and human. Edenburgh: T&T Clark.

Meulink-Korf, H. en Van Rhijn A. 2005. De onvermoede derde. Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.         [ Links ]

Mitchell, B. E. 2009. Plantations and death camps. Religion, ideology, and human dignity. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

Munro, W. A. 1998. The moral economy of the state. Ohio: Ohio University Centre for International Studies.         [ Links ]

Myers, C. 1988. Binding the strong man. A political reading of Mark's story of Jesus. Maryknoll: Orbis Books.         [ Links ]

National Treasury, 2011. Confronting youth unemployment: policy optons for South Africa. Discussion Paper. Pretoria: National Treasury.         [ Links ]

Newbigin, L. 2003. Signs amid the rubble. The purposes of God in human history. Cambridge, UK: William B. Eerdmans Publishing Company.         [ Links ]

Noordegraaf, H. 1990. Armoede is onrecht. De kerken en de arme kant van Nederland. 's-Gravenhage: Uitgeverij Boekencentrum B.V.         [ Links ]

Osmer, R. R. 2008. Practical theology: An introduction. Michigan: Wm.: B. Eerdmans Publishing Co.

Pieterse, H. J. C. 2001. Prediking in die konteks van armoede. Pretoria: Unisa Uitgewers.         [ Links ]

Soudien, C. 2000. Social conditions, cultural and political life in working class Cape Town, 1950 to 1990. In H. Willemse (red.). More than brothers. Peter Clark & James Matthews at seventy. Kaapstad: Kwela Books.         [ Links ]

Smit, D. 2009. Essays on being Reformed. Collected essays 3. Stellenbosch: Sun Media.         [ Links ]

Thomas, W. H. 1976. Socio-economic development of the Coloured community. In H. W. Van der Merwe en C. J. Groenewald (reds.). 1976. Occupational and social change among Coloured people in South Africa. Proceeding of a workshop of the centre for intergroup studies at the University of Cape Town. Kaapstad: Juta.         [ Links ]

Turok, B. 2008. From the Freedom Charter to Polokwane. The evolution of ANC economic policy. Cape Town: Picasso Headline.         [ Links ]

- 2014. With my head above the parapet. An insider account of the ANC in power. Auckland Park: Jacana Media.

Unicef (United Nations Children's Fund). 2004. The state of the world's children 2005: childhood under threat. New York: Unicef.         [ Links ]

United Nations. 2002. Report of the Second World Assembly on Ageing. Madrid, April 2002. New York: United Nations.         [ Links ]

Van der Berg, S. en Louw, M. 2004. Changing pattern of South African income distribution: Towards time series estimates of distribution and poverty. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Ekonomie. 72 (3): Spesiale uitgawe.         [ Links ]

Vorster, J. M. 2007. Protecting the most vulnerable. The Ecumenincal Review. 59 (2-3):346-62.         [ Links ]

Walch, M. 2008. Engagement: A strategic review of intergenerational school projects within Rhondda Cynon Taf. [Intyds]. Beskikbaar: www.centreforip.org.uk/res/documents/publication/ISP%20Strategic%20Review%20Final.pdf [23 Augustus 2016].

Williams, P. en Taylor, I. 2000. Neoliberalism and the political economy of the 'New' South Africa". New Political Economy. 5, 1:21-41.         [ Links ]

Wilson, G. 1996. Toward a revised framework for examining beliefs about the causes of poverty. The Sociological Quarterly. 37(3): 413-428.         [ Links ]

Wink, W. 1992. Engaging the powers. Discernment and resistance in a world of domination. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

 

 

1 Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap. Die nodige dank en waardering hiervoor word hier uitgespreek.
2 In hierdie artikel gebruik ek die term "bruin", alhoewel ek ook daagliks hoor hoe hierdie mense na hulleself as "Kleurlinge" verwys. Dit is nie altyd duidelik watter van hierdie twee terme ("bruin" / "Kleurling") die meer aanvaarde een is nie.
3 Die Redeemed African Metodiste Kerk bestaan in die Wes-Kaap en Noord-Kaap met hoofsaaklik bruin lidmate. Hierdie denominasie het sewe jaar gelede uit die African Metodiste Episkopale Kerk ontstaan.
4 Verskeie terme word gebruik vir die groep mense bo die ouderdom van 60 jaar in Suid-Afrika: amptelike staatspublikasies gebruik "ouer persone"; die media verwys soms na hierdie groep as "bejaardes" of "ou mense". Hierdie groep persone verwys soms na hulself as die "senior burgers". Ek verkies die term "ouer persone" vir die doel van hierdie artikel.
5 Osmer (2008:4) stel vier take voor waarvan die eerste die beskrywende-empiriese taak is wat die vraag: "Wat vind plaas?" probeer beantwoord. Die interpretatiewe taak fokus op die vraag: Waarom vind dit plaas? Die teologiese klem op reg en geregtigheid word in die artikel benut om die normatiewe taak te vervul en om die vraag: "Wat behoort plaas te vind?" te beantwoord. Die pragmatiese taak vind plaas in die voorgestelde breë voorstelle vir 'n gepaste teologies-pastorale sorgstrategie.
6 Die redes vir die keuse van die fokusgroepmetodologie is onder andere omdat 'n fokusgroep 'n klein, relatiewe homogene, groep van tussen ses tot nege lede is wat saamgeroep word vir die bespreking van 'n bepaalde onderwerp of tema aan die hand van bepaalde vrae deur houdings, persepsies, gevoelens en idees daaroor te eksploreer (Dilshad en Latif, 2013:192). Nog 'n rede vir die keuse van hierdie metodologie is dat in die verslaggewing dit toelaat dat die stemme van die deelnemers gehoor word (Dilshad en Latif 2013:196). In die keuse van die fokusgroepmetodologie is terdeë rekening gehou met van die nadele en beperkinge, naamlik, dat die metodologie nie geskik is vir die generering van statistiekedata nie aangesien die fokusgroepmetodologie diepte en insig bied met weinig bruikbare numeriese gevolgtrekkings (Gill, Stewart, Treasure en Chadwick 2008:293).
7 Die data skakel soos volg met die artikel: Die onderskeie fokusgroepe word aangedui met die syfers 1-10. Die onderstaande 7 temas is in die groepe gebruik vir bespreking en word aangedui deur die syfers 1-7: 1. Wat sal julle sê het veroorsaak of het daartoe bygedra dat julle vandag van welsynpensioen ("staatspensioen") afhanklik is vir julle lewensonderhoud? Vertel asseblief. 2. Wat is julle ervaring van die soort behuising, en huislike geriewe wat julle as bruin pensioenarisse vandag kan bekostig? Watter invloed het dit op julle as mense? 3. Vertel hoe julle voel oor die mediese en gesondheidsdiens wat julle as bruin pensioenarisse vandag kan bekostig.4. Vertel van julle betrokkenheid by ontspanningsaksies (soos gaan na plekke van ontspanning, byvoorbeeld na die see, deelname aan vermaaklikheid en funksies in die gemeenskap). 5. Op staatspensioendag wemel die winkels en stalletjies van aktiwiteite, en die volgende dag is alles weer stil en skynbaar normaal. Vertel asseblief hoe julle hierdie verskynsel ervaar. 6. Vertel hoe julle kerklidmaatskap julle in jul daaglikse lewe op julle staatspensioen (a) in die verlede gehelp het of nie gehelp het nie, (b) nou help of nie help nie. 7. Die Bybel noem dat alle mense na die beeld en gelykenis van God geskape is en dat alle mense waarde (dignity) het. Volgens ons land se Grondwet word die land gebou op menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede. Vertel of julle dink dat dit wat die Grondwet van ons land hier sê, ervaar word in julle daaglikse lewe op die staatspensioen wat julle ontvang. Die onderskeie sprekers in die verskillende fokusgroepe word ook met 'n syfer aangedui.
8 Dit mag dalk nodig wees dat hulle hiervoor as 'n geldleeninstansie by die regering geregistreer moet wees.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License