SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.2 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.2 n.1 Stellenbosch  2016

http://dx.doi.org/10.17570/stj.2016.v2n1.a24 

ARTICLES

 

Die relevansie van die kerklike tug

 

The relevance of church discipline

 

 

Van Graan Bianca RI; Van der Merwe JohanII

IUniversiteit van Pretoria brenatevangraan@yahoo.com
IIUniversiteit van Pretoria johan.vdmerwe@up.ac.za

 

 


ABSTRACT

In 2004 the General Synod of the Dutch Reformed Church gave an order that an investigation should be done regarding the implementing of church discipline (repeated in 2007 and 2011). There is a need for re-evaluating church discipline and developing a new understanding thereof. This article argues that church discipline is necessary, if the church is serious about protecting the holiness of God and the church. Church discipline should thus be understood, not as punishment, but as brothers and sisters helping each other lovingly to obey God's orders and to maintain and protect the holiness of God and of His church.

Keywords: Church discipline, General Synod, Belgic Confession, Heidelberg Catechism, Canons of Dort


 

 

1. Inleiding

In 2004 gee die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk opdrag dat die ATK en ATR ondersoek moet doen na die toepassing van die amptelike tug in die kerk op 'n eietydse wyse, hierdie opdrag word by opvolgende Sinodesittings herhaal, totdat daar in 2011 'n verslag dien. Daar is 'n behoefte vir 'n nuwe verstaan van die kerklike tug, nie net by die kerk nie, maar ook by lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Die vraag wat gevra word is, is die kerklike tug nog relevant vir die kerk vandag en indien wel wat maak ons met die tug? Hoe verstaan ons dit? Hoe pas ons dit toe? Hoe verduidelik ons vir mense wat presies die tug is?

Ons leef in 'n wêreld waar saamwoon verhoudings 'n norm geword het. Waar mense as gevolg van verskeie redes nie die nut van die huwelik insien nie en van mening is dat dit nie nodig is om te trou om lewenslank met iemand in 'n verhouding te wees nie. Die redes mag dalk vir mense geldig en aanvaarbaar wees en mense wat wel 'n probleem daarmee het voel dat dit nie hulle plek is om iets daaroor te sê nie. Wat maak die kerk egter met hierdie verhoudings? Die Algemene Sinode besluit in 2011 die volgende: Die Algemene Sinode erken dat saamwoonverhoudings vandag 'n werklikheid in die samelewing is; die Algemene Sinode is nogtans daarvan oortuig dat die historíese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied wat 'n Christelike huwelik is: 'n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in 'n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit 'n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as 'n wettige huwelik; die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik 'n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so 'n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie; die Algemene Sinode wil mense wat in 'n etiese saamwoonverhouding leef en dus die Christelike norme vir die huwelik uitleef, aanmoedig om die verbintenis nog vaster te maak deur die kerklike en staatkundige aspekte ook in plek te kry. In terme van pastorale versorging versoek die Algemene Sinode leraars om in pastorale hantering van pare-in-verhouding, hulle met deernis te begelei van onvolledige verbintenisse na die omvattende, Bybelse verbintenis van die Christelike huwelik, en hierdie ideaal nooit af te water nie.

Wat gebeur nou wanneer daar 'n kind in so 'n saamwoonverhouding verwek word en die ouers wil die kind laat doop? Nou word daar aan die ouers gesê dat hulle kind nie gedoop mag word nie, omdat hulle hulself skuldig gemaak het aan 'n tugwaardige sonde. Wat word in so geval gedoen sodat hierdie mense nie hulle goed vat en na 'n ander kerk gaan waar hulle nie gestraf gaan word nie en wat sonder enige vrae die kind sal doop. Is dit regtig so noodsaaklik dat die ouers getug moet word as ons in 'n wêreld leef waar dit glad nie meer snaaks is as ongetroude paartjies saam woon en kinders het nie? Is die tug in hierdie geval nog enigsins relevant. Hierdie is maar net een van 'n aantal voorbeelde wat 'n mens kan gebruik om ondersoek na die relevansie van die tug in te stel.

'n Ander aspek wat saam met die relevansie van die tug aangespreek moet word, is die vraag na die verstaan van die tug. Hoe moet ons dit verstaan en wat moet ons daarmee maak?

In die formulier vir die doop van kinders, word aan die doopouers die volgende vraag gevra: Beloof julle om hierdie kind, van wie julle die ouers (of voog) is, in die leer na die beste van julle vermoë te onderrig en te laat onderrig? Hierop antwoord die ouers of voog dan JA. Met die openbare belydenis van geloof word gevra: Aanvaar jy dat jou medegelowiges die verantwoordelikheid het om jou te help om op die regte pad te bly? Hierop antwoord die kandidaat dan JA. Met die bevestiging van ouderlinge word aan die kandidaat die amp voorgehou waarvan tug 'n deel uitmaak. Dit lees soos volg: Die onordelikes en die onverskilliges moet julle in liefde vermaan. Teen dié wat in sonde volhard, moet julle optree met die kerklike tug, sodat hulle tot bekering kan kom. 'n Ouderling is immers 'n bestuurder van die huishouding van God! (Titus 1:7) (Clasen, et al 2010: 131).

By die formulier vir die bevestiging van 'n leraar/proponent word die taak soos volg weergegee: Die amp van die bedienaar van die Woord omvat 1) die verkondiging van die Woord van God en die diens van gebede; 2) die bediening van die sakramente; 3) die leiding van die erediens; 4) die behartiging van die kategetiese onderwys; 5) die uitoefening, saam met die ouderlinge en diakens, van die regering van en tug oor die gemeente; 6) die doen van behoorlike huisbesoek en behartiging van die herderlike sorg van die gemeente; 7) die leiding van kerkraadsvergaderings (Kerkorde Art. 9). Daar word ook aan 'n leraar of proponent gevra: Beloof jy om jou te onderwerp aan die kerklike opsig en tug? (Clasen, et al 2010: 143, 144).

Die vraag is dus: hoe moet ons die tug verstaan en as ons dit dan so verstaan, is dit nog relevant?

 

2. Bybel

Kerklike tug, soos wat dit verstaan word deur ons, kom nie in die Ou Testament voor nie, as gevolg van die ineengestrengelde verhouding tussen kerk en staat in die Ou Bedeling. Daar kom egter elemente van die tug na vore (Kleynhans 1988: 139). Die belangrikste hiervan is cherem (ban). Dit is 'n strafmaatreël wat deur God self gegee is en wat na buite, teen heidense stamme met wie Israel in aanraking gekom het en wat uitgeroei moes word, en na binne, teen plegers van sekere hemeltergende gruwels soos towery en afgodery, waarsêery, Godslastering, opsetlike moord en goëlery (vgl. Eks 22:18; Lev 20:27; Num 35:16; Deut 18:10), 'n rol vervul' (Kleynhans 1988: 139-40).

Tydens en na die Ballingskap is die staat en kerk nie meer so nou verbind nie en die sinagogale tug ontstaan. Hierdie tugstelsel het drie aspekte: 1) Nidui, 'n ligter straf; 2) Schamatta, 'n swaarder straf en 3) Cherem, die ban (Kleynhans 1988: 140).

Woorde wat dikwels in die Ou Testament vir die tug gebruik word, is: (jsr), 'om te kasty, te korrigeer of te straf' en (moesar) 'kastyding, dissipline en onderrig' (Buttrick, et al 1962: 846). Ander woorde is (tikagat), (tikeigah), (jakag) en (seibet). Hierdie woorde dui meestal op dissipline binne die familie, 'n pa wat sy seun reghelp of korrigeer of onderrig.

In die Nuwe Testament kry ons ''n rykdom gegewens oor die kerklike tug' (Jonker 1959: 87). Die beginsels van die tug, wat ons in die Ou Testament aantref en wat meestal binne die familie geïmplementeer is, word nou in die Nuwe Testament op die kerk van toepassing gemaak. Die kerk moet 'deur die handhawing van die tug sy heilige karakter in die wêreld bewaar' (Jonker 1959: 88).

Die mees prominente terme wat in die Nuwe Testament in verband met die tug gebruik word, is paideuuω (paideuo) 'dissipline' en paideia (paideia) 'om te onderrig, te leer, dissipline'. Daar word gefokus op die kind se huishoudelike opvoeding en 'n man se opleiding om sy plek binne die kulturele gemeenskap in te neem - met minder fokus op kastyding. Ander terme wat gebruik word is: didaskalia, aς (didaskalia); didaskalikoσ, η, ov (didaskalikos); didaskaliov, to (didaskalion); didaskaloς, ο, η (didaskalos); didaskω (didaskoo); eπ anorqoω (ep anortho-o); epanorqwsiς, ewς, η (epanorthoosis); paideuthς, oυ, o (paideutês) (Buttrick, et al 1962: 846).

Grosheide (1952: 53-4) antwoord die vraag Wat leert het Nieuwe Testament inzake de Tucht? soos volg:

'1) Die Nuwe Testament maak in verskillende boeke melding van kerklike opsig en tug. Dit word deur ampsdraers uitgeoefen oor alle lidmate. Deur die ampsdraers, in samewerking met die gemeente, moet maatreëls getref word wanneer 'n lidmaat van die gemeente uitgeoefende toesig oor hom verontagsaam (Romeine 15:4; 1 Tessalonisense 5:11). 2) Tugbeoefening geskied in die eerste instansie binne die plaaslike gemeente, maar ook die kerkverband kan daarby betrek word (Matteus 18:15-7; 1 Korintiërs 5:4). 3) Tug en toesig gaan oor leer en lewe by lidmate en ampsdraers (Titus 3:10-14). 4) Die tugoefening begin altyd by die onderlinge vermaning, maar gaan ook voort na gelang van omstandighede en kan op afsnyding van die gemeente uitloop (Matteus 18:15-17; 1 Korintiërs 5). En 5) die tug dien tot berou en bekering van die sondaar en tot heiliging van die gemeente (Jakobus 5:20)' (Kleynhans 1988: 141).

 

3. Belydenisskrifte

In art. 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis word onderskeid getref tussen die ware en die valse kerk. Die artikel lees soos volg:

Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toe-eien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat 'n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf - kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie. Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het. Wat die valse kerk betref: Dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg na eie goeddunke by; dit vertrou meer op mense as op Christus en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Art. 30 handel verder oor die regering van die kerk, en lees:

Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons in die Woord geleer het, geregeer moet word. Daar is dienaars of herders om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom hou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus gee (1 Timoteus 3).

En art. 32 lees, oor die tug van die kerk, soos volg:

Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar 'n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.

Die Heidelbergse Kategismus praat ook van kerkregering en kerklike tug. Dit word gedoen deur 'n aantal vrae wat onder andere handel oor sonde, ongehoorsaamheid, Christendom, die Christelike Kerk en die sleutels van die koninkryk van die hemele. Onder andere word gevra: Waarom word jy 'n Christen genoem?

Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het sodat ek Sy Naam kan bely, myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsele kan regeer (Sondag 12 Vraag en Antwoord 32).

Louw (2001: 43-5) skryf hieroor dat daar 'baie mense is wat deurgaan vir Christene maar slegs naam-christene is. 'n Christen is nie elkeen wat gedoop is nie, maar alleen hulle wat deel het aan sy drievoudige salwing. Die Christen het dus ook 'n amp, die amp van die gelowige. Hulle is saam met Christus gesalf tot die drievoudige amp van profeet, priester en koning'.

Oor die sleutels van die koninkryk van die hemele skryf die Heidelbergse Kategismus dat dit 'die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug is. Met albei hierdie aanhalings word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit' (Sondag 31, Vraag en Antwoord 83). Hoe word die koninkryk van die hemele deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hul nie bekeer nie. Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel (Heidelbergse Kategismus, Sondag 31: Vraag en Antwoord 84).

Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug oop- en toegesluit? Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra, eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is gesê word. As hulle hul ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklik verbetering beloof en bewys.

Ook die Dordtse Leerreëls verwys na die kerklike tug, wanneer dit handel oor die mens na die sondeval, 'na die sondeval het daar in die mens tog nog 'n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy 'n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in 'n sekere mate 'n strewe na deug en uiterlike tug' (Hoofstuk 3 en 4, Punt 4 [Ons Glo, p. 96]). Verder sê dit in verband met die tug die volgende:

Die almagtige werking van God, waardeur Hy ons natuurlike lewe skep en onderhou, sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom wil uitoefen nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word. ... Die apostels en die leraars wat hulle opgevolg het, het dan ook die mense gelowig oor hierdie genade van God tot sy eer en tot onderdrukking van alle hoogmoed onderrig. Hulle het ook nie nagelaat om die mense ondertussen deur middel van heilige vermanings uit die evangelie onder die bearbeiding van die Woord, van die sakramente en van die kerklike tug te hou nie. Net so moet hulle wat nou in die gemeente onderrig gee, of die wat onderrig ontvang, hulle ook nie aanmatig om God te versoek deur die dinge te skei wat Hy na sy welbehae wou saamvoeg nie. Deur die vermanings word die genade immers gegee, en hoe gewilliger ons ons amp uitoefen, des te heerliker word die weldaad wat God in ons werk, openbaar. So vorder God se werk op die allerbeste manier. Aan dié God alleen kom al die heerlikheid van die middele sowel as van die heilsame vrug en die krag daarvan tot in ewigheid toe (Hoofstuk 3 en 4, Punt 17 [Ons Glo... p. 101]).

 

4. Doel, aard en noodsaaklikheid van die kerklike tug

Die aard van die kerklike tug is in die eerste plek geestelik. Die geestelike karakter van die tug beteken dat dit anders is as burgerlike of politieke mag (Smuts 1962: 19). Die tug moet dus nie as 'n straf gebruik word nie, maar as 'n verbeteringsmiddel (Van Niekerk 1988: 13). Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 2011, Art. 60, stel dit soos volg:

60.1 Die kerklike opsig en tug dra 'n geestelike karakter en pas by die kerk as 'n geloofs- en 'n liefdesgemeenskap. Opsig en tug word dus op 'n kerklike wyse en met geestelike middele uitgeoefen.

60.3 Amptelike kerklike opsig en tug is pastoraal-kerkregtelik van aard en moet uit 'n Bybelse en geestelike oogpunt billik en regverdig toegepas word.

'Burgerlike regspleging moet dus vermy word' (Smuts 1962: 19). Die tug is nie net geestelike van aard nie, maar moet ook op 'n geestelike wyse uitgeoefen word (Sadler 1979: 8). Art. 92 van die Acta van die Nasionale Sinode van Dordrecht (1578) lees dat die Christelike straf geestelik is en niemand van die straf van die owerheid bevry nie (sien ook art. 58 van die Kerkorde van die Nasionale Sinode van Middelburg (1581); art. 64 van die Kerkorde van die Nasionale Sinode van 's Gravanhage (1586) en art. 71 van die Kerkorde van die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-19)) (Visser 1980: 63-4). Wanneer die tug uitgeoefen word, word die begeerte om in alles gehoorsaam aan en tot diens van Jesus Christus te wees, geopenbaar (van Niekerk 1988: 13-4). Ampsdraers mag dus ook nie lidmate met geldboetes, tronkstraf, lyfstraf, ens. bestraf nie, lidmate mag slegs getugtig word deur bestraffing en vermaning, opskorting van gemeenskap (wat ook afhouding van die Nagmaal inhou) en by uiterste verharding uitbanning uit die gemeente (Matteus 18:15-17; Korintiërs 5; 1 Tessalonisense 5:14; 2 Tessalonisense 3:6, 14-15; 1 Timoteus 5:20; Titus 3:10-11) (Visser 1980: 64).

Die doel van die tughandeling kan slegs slaag as die geestelike karakter daarvan tot openbaring kom (Sadler 1979: 9).

In die tweede instansie is die kerklike tug opvoedkundig van aard. Die woord tug soos wat ons dit gebruik 'word afgelei van die oud-Nederlandse woord tichen (of tiegen, of tien) wat in die oorspronklike beteken om 'te trek; op te trek; reg te help; op te voed' (Kleynhans 1988: 141). Tug het ook die betekenis van kastyding, teregwysing en straf verkry. Hierdie kastyding, teregwysing en straf het betrekking op die opvoeding van die mense. Ook die woord dissipline word gebruik, as Calvyn praat van disciplina ecclesiae (dissipline van die kerk), en hieronder verstaan hy die uitoefening van die sleutelmag en geestelike regspraak (maxima ex parte a potestate clavium et spirituali jurisdictione), ook Voetius behandel die tug onder die opskrif de disciplina ecclesiastica (aangaande die kerklike dissipline).

Hierdie opvoeding of dissipline is soos dit wat 'n kind van 'n vader, of 'n broer van 'n broer sal ontvang.

In die derde instansie is die aard van die kerklike tug liefdebetoning. Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk omskryf die aard van die tug as 'pastoraal-kerkregtelik', dit is 'n liefdeshandeling wat 'wil nadertrek en terselfdertyd 'billik en regverdig' toegepas moet word' (Strauss 2010: 110). Die Here het sy kinders lief, maar soms word hierdie liefde in tugtiging, kastyding en bestraffing geopenbaar (Visser 1980: 61-2). Hierdie tug moet broederlik geskied, met ander woorde soos 'n broer sy broer sal aanspreek oor sy gedrag (vgl. Matteus 18:15-17), so moet die kerklike tug ook geskied. In liefde moet lidmate mekaar opbou (Van't Spijker 1970: 70, 251).

Jonker (1959: 133) meen dat die kerklike tug en sleutelmag nie soseer 'n potestas (mag) is nie, maar 'n diakonia (bediening).

In die vierde instansie is die kerklike tug regterlik van aard. Die kerklike tug is gerig op die vasstelling van die skuld van die sondaar, want dan alleen sal hy tot berou oor en bekering van sy sondige lewe beweeg kan word (Van Niekerk 1988: 17). Die kerklike tug is 'die handhawing van die beginsels wat deur God self neergelê is vir die kerklike lewe van sy gemeente hier op aarde. Dit is die handhawing van God se reg op die mens teenoor die aansprake van die Satan en van die sonde, wat wanorde wil skep' (Smuts 1962: 18). Die kerklike tug is egter nie 'n straf nie:

Tug is geen straf nie. Aan die owerheid is die opdrag en mag deur God gegee om te straf (Rom 13:4), met ander woorde om geregtigheid te handhaaf deur uitoefening van dwang en toepassing van straf. Straf is die uitvloeisel van die wrekende geregtigheid wat oortreding straf deur leed aan te doen. Dit wil die kerklike tug beslis nie wees nie. As sonde gestraf moet word, is dit die taak van die owerheid, en die sondes wat nie deur die owerheid gestraf word nie, sal onder die oordeel van God kom. By die tug staan die bekering en die verandering van die sondaar egter op die voorgrond. Die weg waarlangs hierdie bekering bereik word, is nie dié van uitwendige dwang of straf nie, maar van sedelike oorreding, vermaning en waarskuwing. Wanneer daar by die sondaar boetvaardigheid, berou en terugkeer intree, het die tug sy doel bereik (Smuts 1962: 18).

In die kerklike tug gaan dit nie oor die uitoefening van eie gesag deur die bedienaars van die tug nie, maar om die hantering van die gesag van die Woord, wat, hoewel dit ook 'n oordeel oor die sondaar inhou, allereers die verkondiging van die genade is (Sadler 1979: 28).

Die regterlike aard van die tug kom na vore, volgens Sadler (1979: 28-9):

Kragtens sy regterlike aard is die tughandeling gerig op die vasstelling van die skuld van die sondaar, want dan alleen sal hy tot berou en bekering beweeg kan word. As sodanig is daar ook 'n oordeel (iudicium) wat uitgespreek word. Dit is egter geen veroordeling van die sondaar of 'n vonnis wat gevel word nie, maar 'n uitspraak of bevinding wat gemaak word op grond van 'n ondersoek wat gedoen is. Hierdie oordeel van die kerk moet met volle erns bejeën word, want hoewel dit 'n menslike oordeel is, korrespondeer dit met die oordeel van God vir solank die sondaar hom nie bekeer nie. Nooit mag die kerklike opsieners hulleself as regters beskou nie, maar in die tughandeling is dit die Groot Regter wat met die sondaar in gerig tree.

Die doel van die kerklike tug is drieledig, naamlik, tot eer van God, tot heil van die Kerk, tot behoud van die sondaar (Kerkorde 2011: art. 59.1.1-3; vgl. Sadler 1979: 15). Die kerklike tug moet dus 'op 'n kerklike wyse met geestelike middele uitgeoefen word' (Strauss 2010: 110).

Ten opsigte van die eer van God moet die tug toegepas word omdat die mens in al sy doen en late hierdie eer van God moet handhaaf. As daar dus lidmate is wat 'openlik 'n goddelose lewe lei' kan dit mos nie 'tot eer van God strek nie'. Hulle doen die naam van God oneer aan deur hulle optrede en hulle ontheilig die Christelike belydenis en sakramente (Van Niekerk 1988: 18). Die kerk mag egter nie wanneer hulle die kerklike tug uitoefen onwaardig optree nie, want dan is die tug ook 'n vertrapping van die eer van God, die eer van God bepaal dan ook die wyse van tugoefening en verhoed dat 'die tugoefening liefdeloos, partydig of laks geskied' (Van Niekerk 1988: 19).

Ten opsigte van die heil van die Kerk/Gemeente moet die kerklike tug toegepas word omdat dit in gedrang kom, as gevolg van die verkeerde voorbeeld wat afgedwaaldes en sondaars in die gemeente stel (Van Niekerk 1988: 19). Calvyn meen dat die kerklike tug moet sorg dat 'die goeie, deur die omgang met die kwade, nie bederf word nie en om die gelowiges dus van besmetting te bewaar (Alter finis est, ne assidua malorum consuetudine, ut fiere solet, bone corrumpantur)' (Kleynhans 1988: 147). Die kerk moet gesond en lewenskragtig wees om sy roeping in en tot die wêreld voldoende te kan vervul. Soos sout wat laf geword het nie meer 'n funksie het nie, kan die kerk ook nie meer sy funksies vervul as die heil van die kerk nie bewaar word nie (Matteus 5:13) (Kleynhans 1988: 148). 'Deur die kerklike tug word die krankheid, wat deur sonde veroorsaak word, genees of, as dit blyk dat dit nie gebeur nie, die kwaad uitgesny en die dooie lid afgesit' (Smuts 1962: 25).

In die derde instansie is die doel van die tug die behoud van die sondaar. Ten opsigte van hierdie doel is daar is 'n misverstand onder mense dat die doel van die tug die uitwerping van mense, wat hulle nie kan gedra nie, is (Smuts 1962: 22). Dit is egter 'n misverstand en die tug moet eerder gesien word as ''n liefdeshandeling wat wil nadertrek en terselfdertyd 'billik en regverdig' is' (Strauss 2010: 110). Kerklike tug kan vergelyk word met 'die tug wat 'n vader oor sy seun uitoefen. Die seun word nie getug om daardeur 'n lewe van verderf te lei nie, maar om die seun te behou vir 'n selfstandige en verantwoordelike lewe' (Van Niekerk 1988: 20-1). Calvyn meen dat die oogmerk van die tug is 'om die sondaar self tot berou te beweeg en tot bekering te lei (Tertius, ut eos ipsos pudore donfusos suae turpitudinis poenitere indipat)' (Kleynhans 1988: 148). Die tug mag nooit gebruik word om sondaars weg te stoot van die kerk af nie, maar daar moet altyd gepoog word om hulle nader te trek (Smuts 1962: 27).

Die noodsaaklikheid van die tug word deur Calvyn goed beskryf. Hy sluit aan by Chrysostomus 'wat uitgevaar het teen die priesters van sy tyd omdat hulle uit vrees vir die mense van aansien, hulle met die tug verbygegaan het. Hy sê dat hierdie mense se bloed van die priesters se hande geëis word (indien gij de mens vreest, zal hij u uitlachen; maar indien gij God vreest, zult gij ook door de mensen zelf geëerbiedigd worde)' (Kleynhans 1988: 146). Deur die kerklike tug 'word die Woord van God verkondig' en 'wanneer die Woord nie daarin gehoor word nie, dan spreek daarin 'n instansie wat onverwyld en onvermoeid daaraan herinner moet word dat hy nie kerklik spreek nie'. Die kerk is Christelik omdat dit deur Christus regeer word (Van Rooyen 1970: 3). Christus is die Bedienaar van die tug - die ampsdraers in die gemeente is slegs die organe wat Christus gebruik om die tug mee uit te oefen (Van Rooyen 1970: 2-3).

 

5. Toepassing van die kerklike tug

'Alle doop- en belydende lidmate van die gemeente val onder die opsig en tug van die kerkraad; alle ouderlinge, diakens, bedienaars van die Woord, emeriti en proponente staan onder die opsig en tug van die ring, sonder om die opsig van die kerkraad oor sy ampsdraers uit te sluit; lidmate van die kerk, wat as werknemers in diens van 'n gemeente of die kerkverband is, kan weens wangedrag getug word' (Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk: Art. 62.1-3).

Dooplidmate word soos volg gestraf: 1) 'n bestraffing in 'n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam; 2) sensuur wat bestaan uit onthouding van die nagmaal en/of weerhouding van die aflegging van belydenis van geloof; 3) afsnyding van die gemeente deur die gebruik van die betrokke formulier (Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk: Art. 64.2.1-3). 'Dit is moontlik dat kinders, soos volwassenes, hulle aan ergerlike en tugwaardige oortredinge skuldig kan maak' (Kleynhans 1988: 159) daarom moet kinders, as lidmate van die gemeente, dan ook onder die toesig en tug van die kerk val (Smuts 1962: 40). In die geval van volwasse dooplidmate, 'met ander woorde volwassenes wat deur nalatigheid, ongeloof, moedswilligheid of ander omstandighede nog nie tot belydenis van geloof gekom het nie' (Smuts 1962: 40) moet daar onderskei word tussen nalatiges en afkeriges (Kleynhans 1988: 159). Nalatige dooplidmate is diegene wat onberispelik lewe, maar versuim het om belydenis van geloof af te lê (Kleynhans 1988: 160). Hierdie persoon moet voortdurend vermaan word totdat hy/sy belydenis van geloof aflê of tot in met sy/haar 30ste lewensjaar, daar moet egter gewaak word dat die persoon teen sy wil belydenis van geloof aflê. Daarna moet hy/sy beskou word as iemand wat die doop verwerp en die verbond verbreek en daardeur word sy band met die gemeente verbreek (Smuts 1962: 41; Kleynhans 1988: 160). Afkerige dooplidmate is diegene wat hom-/haarself as ongelowige of goddelose verklaar en van die kerk onttrek. Daar moet met die gewone tugprosedures teen hulle opgetree word, die kerk mag hulle egter nie as dooplidmate skrap nie, maar mag by wyse van ekskommunikasie verklaar dat hulle die gemeenskap met die kerk verbreek het of dat hulle hulself aan die kerk onttrek het (Kleynhans 1988: 159-60).

Belydende lidmate word soos volg gestraf: 1) 'n Bestraffing in 'n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam; 2) sensuur wat bestaan uit die onthouding van die sakramente en die opskorting van ander lidmaatsregte; 3) afsnyding van die gemeente nadat sensuur en voortgesette herderlike sorg nie tot berou gelei het nie, en deur die gebruik van die betrokke formulier (Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk: Art. 63.3.1-3). By belydenis van geloof aflegging onderwerp die persoon hom-/haarself aan die kerklike opsig en tug (Smuts 1962: 32).

Ouderlinge en diakens word soos volg gestraf: 1) 'n Bestraffing in 'n privaatgesprek van die ondersoekliggaam; 2) skorsing met of sonder onthouding van die sakramente en met of sonder opskorting van lidmaatsregte totdat daar bewys van grondige berou is; 3) afsetting uit die diens met opskorting van lidmaatsregte en onthouding van die sakramente (Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk: Art. 64.4.1-3).

Bedienaars van die Woord, emeriti en proponente/werknemers met verslag van die Algemene Bevoegdheidsraad in die geval van gelegitimeerdes word soos volg gestraf: 1) 'n bestraffing in 'n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam, of 'n skriftelike waarskuwing deur die werkgewer; 2) skorsing vir 'n vasgestelde tydperk met een of meer van die volgende maatreëls - opskorting van lidmaatsregte; onthouding van die sakramente; gedeeltelike of volle weerhouding van lewensonderhoud en toelaes deur die werkgewer; 3) indien die ondersoekliggaam nie oortuig is van die egtheid van die berou nie, kan hierdie skorsing verleng word; 4) ontslag uit diens van die gemeente of uit diens van die kerkverband met een of meer van die volgende maatreëls - opskorting van lidmaatsregte vir 'n vasgestelde tydperk en/of totdat daar berou is; onthouding van die sakramente vir 'n vasgestelde tydperk en/of totdat daar berou is; kennisgewing aan die Algemene Bevoegdheidsraad dat die betrokke persoon se legitimasie vir 'n vasgestelde tydperk opgeskort word; kennisgewing aan die Algemene Bevoegdheidsraad dat die betrokke persoon se legitimasie met onmiddellike effek beëindig word, wat die nietigverklaring van die Akte van Legitimasie beteken (Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk: Art. 64.5.1-4).

Die kerklike tug word in die eerste plek deur die gemeente toegepas. Elke gelowige het deel aan die amp van gelowige (Smuts 1962: 56), Christus het die kerklike tughandeling aan die gemeente opgedra (Mat 18:17). Die kerklike tug kan slegs doeltreffend funksioneer wanneer die gemeente die geestelike bodem en atmosfeer daarvoor skep. Daarmee tree die gemeente nie op as die vergadering wat die direkte besluite neem nie, maar 'as 'n heilige gemeenskap wat die kwaad uit sy midde wil weer' (Sadler 1979: 80). Die uitoefening van die kerklike tug word nie deur die gemeente behartig nie, maar deur die kerkraad (Kleynhans 1988: 150), wat as 'orgaan van die gemeente optree' (Sadler 1979: 80). Art. 60.2 van Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk sê egter dat die amptelike uitoefening van die tug deur kerkvergaderinge of hulle gevolmagtigdes nie die roeping van die gelowiges tot onderlinge vermaning vervang nie, maar dit aanvul.

Tweedens word die kerklike tug deur die kerkraad toegepas. Die amp of bediening van die ouderling is gerig op geestelike onderskeiding, versorging, leiding, bestuur en toesig, en omvat: 1) die toerusting van lidmate vir hulle dienswerk; 2) die regering van die gemeente; 3) die doen van huisbesoek; 4) die uitoefening van opsig en tug; 5) waaksaamheid oor die suiwerheid van die leer; 6) medeverantwoordelikheid vir die kategetiese onderwys; 7) die roeping om ander na Christus te lei; 8) die lei van eredienste waar die kerkraad en die ring daartoe vergunning gegee het; 9) ander opdragte wat deur die kerkraad bepaal word in die lig van 16.1. (Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk: Art. 16.1.1-9). Die kerkraad as orgaan van die gemeente, tree namens die gemeente op (Sadler 1979: 81). Alhoewel dit nie as deel van die diaken se rol beskryf word nie het dit in die Nederduitse Gereformeerde Kerk 'ingeburger geraak dat die diaken as 'n hulpouderling beskou word en as sodanig ook deelneem aan al die sake rakende die regering van die gemeente wat in die vergadering van die kerkraad behandel word' (Smuts 1962: 54-5). Die rol van die diaken bly egter altyd net een van bystand wanneer dit by die uitoefening van die kerklike tug kom (Smuts 1962: 55).

In die derde plek word die kerklike tug deur die ring uitgeoefen. Tot die werksaamhede van die ring behoort: 1) kerkvisitasie; 2) die opsig oor die gemeentes, om toe te sien dat kerkrade en gemeentes hulle roeping nakom; 3) advies en hulp aan kerkrade; 4) die stigting van nuwe gemeentes of ontbinding van gemeentes op versoek van kerkrade en die reëling van gemeentelike grense; 5) die behandeling van sake wat óf in eerste instansie óf op appèl voor die ringsvergadering gebring word; 6) die behartiging van die gemeenskaplike roeping en gesamentlike werksaamhede van die gemeentes binne die ring soos telkens deur die ring bepaal; 7) die opsig en tug oor alle ouderlinge, diakens en bedienaars van die Woord, wat emeriti en proponente insluit, sonder om die opsig van die kerkraad oor sy ampsdraers uit te sluit; 8) die aanwys van konsulente; 9) die toekenning van beperkte bevoegdheid op versoek van kerkrade (Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk: Art. 31.1-9). Die feit dat die ring verantwoordelikheid het oor die opsig en tug van ampsdraers beteken nie dat die kerkraad, as orgaan van die gemeente, van die tugoefening uitgesluit word nie (Sadler 1979: 82) en daarom mag die kerkraad dan ook as klaer teen 'n ampsdraer optree (Kleynhans 1988: 152). Die tug oor ampsdraers word aan die ring opgedra eerstens, 'omdat kerkraadslede dikwels meer direk by 'n klag teen 'n ampsdraer betrokke is en die moontlikheid van 'n onpartydige uitspraak deur die ring is soveel beter' (Kleynhans 1988: 152). Tweedens 'het die kerkverband ook belang by die afsetting van ampsdraers uit die amp, veral waar dit vir 'n bedienaar van die Woord geld. Hy/sy is deur die kerkverband in die amp gestel en dit is logies dat hy ook weer deur die kerkverband daaruit ontset kan word' (Sadler 1979: 82).

 

6. Verslag by Algemene Sinode van 2011

Op die vraag na 'n ondersoek om die kerklike tug op 'n eietydse wyse toe te pas, word 'n verslag aan die vergadering voorgehou wat die tot die volgende insigte gekom het (Agenda 2011 271-6):

Dat Ringe deur die Algemene Bevoegdheidsraad (ABR, tans die Algemene Steunspan Predikantsake) en kundiges uit Sinodes bygestaan word wanneer tugondersoeke en -stappe geneem word teen ampsdraers.

Daar is bevind dat ringsvergadering nie dieselfde tugmaatreëls vir dieselfde tipe oortredings toepas nie. Daaraan moet aandag gegee word sodat daar in die hele NG Kerk gelykluidendheid is ten opsigte van tug- en/of dissiplinêre optrede.

Daar word ook voorgestel dat die ABR moontlik 'n ondersoekregister kan hou wat ringe in hierdie verband kan help.

Daar word ook 'n onderskeid getref tussen tug en dissipline. Dissiplinêre maatreëls sal toegepas word in terme van diensverhoudinge, bv. wanneer die werkgewer, waar nodig op aanbeveling van die ring en in oorleg met die ABR, 'n werknemer skriftelik waarsku of uit diens ontslaan. Tugmaatreëls sal insluit onthouding en opskorting van lidmaatsregte wat deur die kerkvergadering op sy lidmate en ampsdraers toegepas word.

Die onderskeid wat getref word tussen tug en dissipline beteken egter nie dat die een die ander een uitsluit nie. Tydens 'n dissiplinêre aksie kan die ondersoekliggaam ook 'n tughandeling onderneem, en omgekeerd.

Daar word ook in die verslag sekere wysiginge aan die Kerkorde voorgestel, onder ander word dissipline ingevoeg by die kerkorde artikels, en hoe en wanneer hierdie dissiplinêre maatreëls sal geskied word ook ingeskryf.

Alhoewel hierdie verslag wel 'n gedeelte van die probleem ten opsigte van die toepassing van die tug aanspreek, blyk dit tog nog onvolledig te wees. Daar is geen sprake van opleiding van kerkrade en ringe om hulle te help met die uitoefening van die tug nie. Alhoewel bystand vir ringe voorgestel word.

Die probleem ten opsigte van wanopvattings wat onder lidmate en ampsdraers heers oor die kerklike tug word ook nie aangespreek nie. Die leemte in hierdie geval is dat daar ondersoek ingestel behoort te word oor wat die oorheersende gevoel is ten opsigte van die kerklike tug by lidmate en ampsdraers, sodat hierdie wanopvattings, indien hulle werklike bestaan, aangespreek kan word.

Daar word in hierdie verslag ook nie gekyk na 'n eietydse wyse van toepassing van kerklike tug nie. Dit is dus 'n verdere leemte waarna deur die kerk gekyk moet word.

 

7. Gevolgtrekking: Die relevansie van die kerklike tug

Daar is genoeg bewyse dat die kerklike tug wel toegepas moet word en daarom ook steeds relevant is. Wat egter wel probleme veroorsaak is die manier waarop nie net die kerk nie, maar ook gemeentelede die kerklike tug verstaan. Daar is genoegsame bewyse dat die kerklike tug nie verstaan moet word as 'n strafmaatreël waarop sondige mense uit die kerk weggejaag word nie.

Wanneer ons oor die kerklike tug nadink in terme van die Bybel, is dit duidelik dat die kerklike tug 'n karakter van opleiding en opvoeding moet hê. Soos 'n pa 'n kind opvoed en soos wat 'n man opleiding ontvang om sy daaglikse take uit te voer só moet die kerklike tug verstaan word.

Daar is ook 'n wanbegrip wat heers in terme van wié die Kerklike Tug uitoefen. Amptelik word die kerklike tug oor lidmate deur die kerkraad uitgeoefen, as verteenwoordigend van die hele gemeente, maar dit beteken nie dat die gemeente glad nie meer betrokke is by die uitvoering van die tug oor mede-gemeentelede nie. As lidmate van 'n gemeente is ons elkeen verantwoordelik vir die geestelike groei en opvoeding van ander lidmate. 'n Gemeente is 'n gemeenskap van gelowiges wat funksioneer soos 'n familie. Hierdie familie moet vir mekaar omgee en mekaar liefhê, soos in enige ander familie. Wanneer mede-lidmate hulleself dus skuldig maak aan sonde of hulself gedra op 'n wyse wat nie aanneemlik is as gelowige nie, is dit sy of haar mede-lidmate se verantwoordelikheid om hom of haar daarop te wys en die persoon op die regte pad te lei. Hierdie aanmaning moet egter in liefde geskied en nie op so 'n wyse dat die persoon verneder en benadeel word nie.

As gevolg van die feit dat mense die Kerklike Tug verkeerd verstaan en sekere vooropgestelde idees het dat tug sleg is, het die relevansie van die Kerklike Tug heelwat vervaag. Die Kerklike Tug word nog uitgeoefen, maar daar is talle mense wat nie die nut daarvan insien nie, en talle wat steeds die kerk verwyt vir aksie wat teen hulle of 'n geliefde geneem is.

Hierdie misverstande kan slegs opgelos word as mense attent gemaak word op die bedoeling van die kerklike tug en hoekom dit noodsaaklik is.

Indien die tug reg verstaan word en met deernis en liefde uitgeoefen word, is dit nog relevant en sal dit relevant bly ongeag van plek en tyd. Daar is ook plek vir die tug in gemeentes, maak nie saak waar die gemeente geleë is en hoeveel lidmate daar is nie. Daar gaan egter drasties gekyk moet word na hoe die lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk die tug verstaan en daar gaan ruimte geskep moet word om lidmate weer in te lig wat die Kerklike tug is en hoekom dit toegepas word.

Om die moontlike wanopvattings wat oor die tug bestaan teen te werk, moet die kerk aan maniere dink om mense in te lig oor die kerklike tug. Lidmate en ampsdraers moet verstaan waaroor die tug gaan, hulle moet verstaan dat dit 'n liefdeshandelinge en nie 'n strafmaatreëls is nie, hulle moet weet hoe om mede-lidmate te vermaan en veral ampsdraers moet die prosesse wat gevolg moet word ken.

'n Voorbeeld van hoe daar aan lidmate bekend gemaak kan word wat die Kerklike Tug is, is om deur die kategetiese materiaal in te gryp en hierdeur ook die Kerklike Tug aan dooplidmate bekend te stel. Katkisante kan geleer word dat die tug noodsaaklik is vir die bestaan van die kerk en dat die bydra tot die algehele heiligwording van die lidmate. Dooplidmate word dan op so manier ook opgevoed om moreel reg te lewe, om te kan onderskei tussen reg en verkeerd en om te weet wat die kerk se standpunt oor sonde en sekere gedrag is.

Vir belydende lidmate kan die Kerklike Tug relevant gemaak word deur daaroor te preek op 'n gepaste Sondag, en om ook in privaatgesprekke en inligtingsessies daaroor met hierdie lidmate te praat. Ampsdraers en predikante kan bygestaan word deur opleiding te kry oor kerklike tug. Onder andere kan hulle opgelei word oor hoe om aanvanklik met 'n tugprosedure te begin. Hoe om 'n tugondersoek te doen. Watter maatreëls om toe te pas, sodat dit nie te streng of te sag is nie, afhangende van die oortreding.

God het die tug daargestel om die mense, wat Hy geskape het, vir wie Hy so lief is dat Hy Sy enig-gebore Seun gestuur het om aan 'n kruis te sterf, op die regte pad te hou. Dit wíl hy nie net vir sy onthalwe nie, maar vir die beswil van elke gelowige mens. Wanneer ons dus oor die tug dink moet dit nie as straf wees nie, maar as 'n betoning van liefde, veral in tye wanneer dit dalk moeilik mag gaan in 'n gemeente as gevolg van finansiële en politiese druk. Ons moet vir mekaar sorg en mekaar liefhê en daarom moet ons mekaar tugtig. Dit is 'n belangrike boodskap wat ons vir die gemeente aangaande die tug moet oordra.

 

Bibliografie

Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Agenda 2011.

Buttrick, GA et al (Reds.). (1962) The Interpreter's Dictionary of the Bible: An Illustrated Encyclopedia. Vol I. Abingdon Press: Nashville, New York.

Clasen, F, Bartlett, A, Carstens, C, Schoeman, F (reds.) 2010. Handleiding vir die Erediens. Bybel-Media: Wellington.

De Bres, G 1561. Nederlandse Geloofsbelydenis.

Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 2012.

Dordtse Leerreëls. Beslissing van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande (1618-1619).

Grosheide, FW 1952. Wat leert het Nieuwe Testament inzake de tucht? In Exegetica I: derde deel. Delft: Keulen.         [ Links ]

Jonker, WD 1959. 'En as jou broeder sondig N.G. Kerk-Uitgewers: Kaapstad/Pretoria.

Kleynhans, EPJ 1988. Gereformeerde Kerkreg: Deel IV (Die Arbeid en Betrekkinge van die Kerk). N.G. Kerkboekhandel Transvaal: Pretoria.

Louw, HA 2001. Ons enigste Troos: kort verklaring van die Heidelbergse Kategismus in hedendaagse Afrikaans met verkorte vrae en antwoord. Pretoria.

Sadler, THN 1979. Die Kerklike Tughandeling. N.G. Kerkboekhandel Transvaal: Pretoria.

Smuts, AJ 1962. Die Kerklike Tug: In Wese en Praktyk. Randfontein.

Strauss, PJ 2010. Kerk en Orde Vandag: met die klem op die NG Kerk. Sun Media: Bloemfontein.

Ursinus, Z en Olevianus, C 1563. Heidelbergse Kategismus.

Van Niekerk, PJG 1988. 'n Vergelyking tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika by die Uitoefening van die Kerklike Tug. BD-Skripsie: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Van Rooyen, JHP 1970. Kerklike Tug - 'n Heilige Saak. Prompt Drukpers.

Van't Spijker, W 1970. De ambten bij Martin Bucer. Kampen: Kok.         [ Links ]

Visser, J 1980. Kerklike Tug: Wat sê die Nuwe Testament? T.G. van Wyk Drukkers: Pretoria.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License