SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.2 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.2 n.1 Stellenbosch  2016

 

Voorwoord

 

 

Welkom by die Julie 2016 uitgawe van die Stellenbosch Teologiese Joernaal (STJ), voorheen bekend as die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT).

In hierdie uitgawe word 24 portuur-geëvalueerde artikels aangebied. Vyf van die artikels fokus op die denke van die Duitse predikant en teoloog, Dietrich Bonhoeffer. Die artikels deur Walter Altmann, Carlos Caldas, Dion Forster en Dirkie Smit is in September 2015 in Stellenbosch by 'n konferensie oor die tema "Bonhoeffer and the Global South: Reception History and Contemporary and Future Challenges" aangebied. Die fokus van hierdie konferensie het op die ontvangs en relevansie van Bonhoeffer se lewe, werk en nalatenskap vir teologiese diskoerse in Brasilië en Suider-Afrika geval. Ons beplan om ander voordragte wat by hierdie konferensie gelewer is in die Desember 2016 uitgawe van STJ te plaas.

Die teologiefakulteit in Stellenbosch was in Maart 2016 die gasheer vir die internasionale konferensie van die Societas Homiletica, die internasionale homiletiese werksgemeenskap wat in 1986 gestig is. Johan Cilliers se presidensiële rede by dié konferensie, met as titel: "Preaching between affirmation and anticipation", word hier ingesluit.

'n Verdere eienskap van die huidige uitgawe van STJ is geleë in die feit dat heelwat van die artikels op 'n direkte wyse met Bybelse tekste in gesprek tree (kyk na die artikels van Meiring, Michael, Nagel, Nel, Van der Walt, en Van der Watt). En in verskeie van hierdie artikels speel die diskoerse oor gender en liggaamlikheid 'n sentrale rol. Die fokus op gender is ook sterk in die artikels deur Kaunda ("Towards an African ecogender theology") en Modise & Wood ("The Relevance of the metaphor of God as Father in a democratic, non-sexist and religious society"), met beide artikels wat Afrika-perspektiewe beklemtoon. Een van die resensies (deur Marnus Havenga) bespreek Sarah Coakley se belangrike sistematies-teologiese werk: God, Sexuality and the Self: An Essay 'On the Trinity'.

'n Dominante tema in die huidige openbare en akademiese diskoers is die sogenaamde vlugtelingekrisis en die uitdagings en geleenthede wat deur hierdie transkulturele globale fenomeen ontstaan het. Ernst Conradie se artikel ("Divine election and migration") tree met dié gereformeerde tradisie in gesprek in die lig van die bedreigde situasie waarin vlugtelinge hulself bevind. In die ander resensie bespreek Sias Meyer 'n versameling opstelle (met as titel: Vreemdelinge en bijwoners: Opstelle rond een urgent theologisch tema) waarin die klem nie soseer val op vlugtelinge of migrante wat asiel in Europa soek nie, maar eerder op vrae wat met die posisie van gereformeerde gemeenskappe in 'n post-Christelike Europa saamhang. Dus is die fokus nie bloot op die kerk as kerk vir vreemdelinge nie, maar (in aansluiting by die minderheidsposisie van die vroeë Christenheid) op die vreemdelingskap van Christene as sodanig.

'n Aantal van die artikels in hierdie uitgawe fokus op die getuienis en praktyke van gereformeerde kerke (sien die artikels van Rossouw en Van Graan & Van der Merwe). Die artikel van Henco van der Westhuizen bespreek die gereformeerde teoloog Michael Welker se "Bybels-realistiese teologie". Welker het onlangs die gesogte Karl Barth-prys ontvang, wat by die internasionale Bonhoeffer-kongres in Basel aan hom oorhandig is. Die orige artikels handel hoofsaaklik oor sosiaal-etiese, kulturele en missiologiese temas, met spesfieke verwysing na hoe hierdie temas in die teologie neerslag vind of vir die teologie van belang is (kyk na die artikels deur Duncan & Urbaniak, Langerman, Mouton, Resane en Rheeder).

Ons herinner lesers ook daaraan dat heelwat van die vorige uitgawes van STJ en NGTT aanlyn op ons webwerf beskikbaar is.

 

Robert Vosloo

Redakteur: STJ

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License