SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.1 issue2A hermeneutic of vulnerability: Redeeming Cain?A confessing church at war with itself: The significance of the relationship between the concepts "Gospel and law" author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Stellenbosch Theological Journal

On-line version ISSN 2413-9467
Print version ISSN 2413-9459

STJ vol.1 n.2 Stellenbosch  2015

http://dx.doi.org/10.17570/STJ.2015.V1N2.A31 

ARTICLES

 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die aanvaarding van sy belydenisskrifte

 

The Dutch Reformed Church and the content of the acceptance of its confessions

 

 

Strauss, Piet

Universiteit van die Vrystaat. straussp@ufs.ac.za

 

 


ABSTRACT

In its acceptance of six confessions, the more general confessions from the early church namely the Apostolicum and the Confessions of Nicea and Athanasius as well as the Three Formulas of Unity from the Dutch Reformation, the Dutch Reformed Church follows the footsteps of the National Synod of Dordrecht in 1618-1619. It accepts the formulation or wording of faith in these documents. This wording has authority because (quia) it is according to Scripture. The same church also acknowledges the need for a Scriptural rehearsal of the confessions if needed. By using this basis for the acceptance of the confessions it takes into account the aim and purpose of these documents namely to formulate faith according to Scripture.

Keywords: Nederduitse Gereformeerde Kerk; Dutch Reformed Church; confessions; confessionalism; Synod of Dordrecht; qautenus vs. quia


 

 

1.Probleemstelling

Persone wat in die Ned Geref Kerk as predikant beroep wil word, moet daarvoor, om die bekende kerklike term te gebruik, gelegitimeer word. Legitimasie deur die Ned Geref Kerk beteken dat so 'n persoon kerkordelik (wettig) deur 'n gemeente of gemeentes (in die kerkverband) van die Ned Geref Kerk beroep kan word. Hierdie legitimasie word hanteer deur die Algemene Bevoegdheidsraad van die Algemene Sinode (NGKO 2011:36) of 'n ander gereformeerde kerkverband wie se legitimasie deur die Ned Geref Kerk erken word. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika is so 'n voorbeeld (NHKA 2010:363).

Om gelegitimeer te word, moet 'n persoon voor verteenwoordigers van die Ned Geref Kerk in sy geheel 'n "plegtige" legitimasieverklaring aflê. In hierdie verklaring verbind die persoon hom of haar tot sekere gedragskodes as 'n bedienaar van die Woord. 'n Deel hiervan is om hom of haar te verbind aan die belydenisskrifte van die Ned Geref Kerk. Die persoon verklaar dat die leer "soos vervat" in die drie algemene of ekumeniese belydenisskrifte naamlik die Apostolicum (Twaalf Artikels) en die Belydenisse van Nicea en Athanasius, en die Drie Formuliere van Eenheid te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica), Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls, "ooreenkom met die Woord van God" (NGKO 2011:49).

Op dié punt maak Du Plooy 'n ter sake opmerking. Volgens hom, en tereg, aanvaar gereformeerde kerke via die Drie Formuliere van Eenheid ook die (vir hulle) drie algemene belydenisskrifte. Die Formuliere self "onderskryf en aanvaar" immers hierdie ekumeniese of algemene belydenisse (Du Plooy 2012:67). Behalwe dat die Formuliere aansluit by die waarhede van die drie algemene belydenisse wat op die drie-enige God fokus, verklaar die Nederlandse Geloofsbelydenis in artikel 9 dat "gereformeerdes die oud-kerklike simbole onderskryf" (Jonker 1994:19). Onder die tema Skrifgetuienis oor die drie-enige God verwoord hierdie artikel dit so: "Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicea en Athanasius " (NG Kerk-Uitgewers 1982:14). Die Heidelbergse Kategismus gee ook 'n uitleg van die 12 artikels. Jonker voer aan dat daar 'n aantoonbare lyn deur die algemene belydenisskrifte na die Drie Formuliere loop. Eersgenoemde konsentreer op die drie-enige God en laasgenoemde op God se verlossing uit genade. Hierdie toedrag van sake hang saam met die tyd waarin hierdie geskrifte ontstaan het. Daarom handel die ekumeniese belydenisse oor die groot vrae oor God in die vroeë kerk (vierde en vyfde eeue) en die Drie Formuliere oor God se verlossing uit genade: die kern van die breuk tussen die Reformasie en die Rome na 1517 (Jonker 1994:19-21). Teen hierdie agtergrond vermeld NGKO artikel 1 sedert die eerste NGKO in 1962 net die Drie Formuliere as die belydenisse waarop die Ned Geref Kerk staan: "Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid " (NGKO 1964:2, NGKO 2013:1). 'n Voorstel van die Algemene Sinode van 2013 oor 'n nuwe artikel 1 voeg nou die algemene belydenisskrifte by (NGKO 2013:1 errata). Hierdie byvoeging gaan skynbaar aan hierdie agtergrondsmotivering verby.

Met die "leer soos vervat in" die belydenisskrifte wat "ooreenkom met die Woord van God" gee die legitimasieverklaring van die Ned Geref Kerk blyke van die debat sedert die sestiende eeu in gereformeerde Nederland oor die wyse waarop hierdie kerke hulle belydenisse aanvaar (Strauss 2006:651-656). 'n Debat wat ook in Nederlandsverwante gereformeerde kerke in ander wêrelddele gevoer word. Dieselfde twee uitdrukkings het raakpunte met die Dordtse ondertekeningsformulier van 1619 wat ook in die gang van hierdie debat lê en verwys na die "leer begrepen in" wat in alles "met Goodts woort over een comen" (Kuyper sa:186-187).

Die probleem wat hier ondersoek word, is wat die "plegtige" legitimasieverklaring van die Ned Geref Kerk in effek beteken? Wat is die inhoud van die aanvaarding van sy belydenisskrifte deur die Ned Geref Kerk? Sy verwantskap - wat op die oog af bestaan - met die Dordtse tradisie in hierdie saak word ook ondersoek. Die vraag is: volg die Ned Geref Kerk die lyne van die Dordtse Sinode van 1618-1619 in die aanvaarding van sy belydenisskrifte?

 

2.Ned Geref Kerk volg Dordt se spore van aanvaarding

Daar bestaan afdoende getuienis dat die Ned Geref Kerk as die kerk wat spruit uit die koms van die Hollandse landsverhuisers onder leiding van Jan van Riebeeck na die Kaap in 16521, in sy kerkwees gereformeerd en Nederlands georiënteerd was (Strauss 2010:7-8). Dit beteken dat die inhoud van die aanvaarding van sy belydenisskrifte uit die laat-sestiende vroeg-sewentiende eeuse Nederland kom en in die Dordtse tradisie staan (vgl Strauss 2015:7-10).

Die Dordtse tradisie by die aanvaarding van die gereformeerde belydenisse beteken dat die leer soos vervat in die Drie Formuliere aanvaar word omdat (Latyn: quia) dit ooreenstem met die Woord van God. Vir die Dordtse Sinode van 1618-1619 as die laaste sinode in hierdie tradisie het dit gegaan om die dogmata of essentia doctrinae soos vervat in hierdie geskrifte en "niet over de methode of phraseologie". Die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus is by voorbeeld respektiewelik op 30 April en 1 Mei 1619 deur die Sinode geweeg en aanvaar (Donner en Van den Hoorn sa:325; Kuyper sa:323-326). Die Sinode kom hierin ooreen met die Franse (Gereformeerde) Sinode van La Rochelle van 1607. Volgens La Rochelle wat met die tweelingboetie van die Confessio Belgica, die Confessio Gallicana van 1559, gewerk het, het die belydenis alleen (Bybelse) krag en gesag in dit wat dit bely (Polman sa:87).

Teen hierdie verstaansagtergrond of dekor vir die aanvaarding van die Drie Formuliere van Eenheid het die Ned Geref Kerk na 1652 na die Kaap gekom. Tussen kerk en staat was die beredenering op die Sinode van Dordrecht 'n bekookte saak. Die verwysing na die dogmata of essentia doctrinae as dit in die belydenisse wat as ooreenkomstig Gods Woord aanvaar word, is afkomstig van Marthinus Gregorii, die voorsitter van die 18 Kommissarisse-politiek wat namens die Nederlandse State-Generaal of Regering op die Sinode van 1618-1619 was. Daarby het al 23 buitelandse teoloë (Engeland, Switserland en Duitsland) en die 37 Nederlandse predikante en 19 ouderlinge die Confessio Belgica en Heidelbergse Kategismus aanvaar. Die Dordtse Sinode van 1618-1619 het dus die essentia doctrinae van hierdie twee Formuliere eenparig aanvaar (Kuyper sa:323-326). Daarmee het hulle gestalte gegee aan hulle verstaan van die "de leer begrepen in" soos dit in die Dordtse ondertekeningsformulier verwoord word. Om hierdie oortuiging te onderstreep, het die Sinode van 1618-1619 die finale vasstelling van die teks van die opnuut aanvaarde Confessio Belgica deur die Sinode aan die binnelandse afgevaardigdes oorgelaat. Daar was, in die woorde van Jonker, dus 'n "sekere speelruimte"tussen saak en formulering in die siening van die Sinode aanwesig: tussen die essentia doctrinae en die frases waarin dit gemunt is. Anders gestel, die kernwaarhede was volgens die Sinodequia of Bybels, maar dit het nie 'n krampagtigheid of noodsaak vir die aanvaarding van elke uitdrukking of leesteken geskep nie (Kuyper sa:340-346; Jonker 1994:155).

By die aan wal gaan van Van Riebeeck en die ongeveer 90 bemanningslede van sy drie skepies, die Rijger, Drommedaris en Goede Hoop in April 1652, het hy in 'n formuliergebed van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie (NOIK) gevra dat die Here hulle in staat stel om die "Justitie" (reg) in hulle nuwe woonplek te handhaaf én instrumente te wees om die "ware Gereformeerde Christelijke leer mettertyd" onder die inheemse mense te verbrei (gebed afgedruk in Smith 1980:5; Hofmeyr et al 1991:6 en 7). Die bediening aan die Kaap is gereël met, ondermeer, gereelde Kategismusprediking wat 'n direkte uitvloeisel van die besluite van die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-1619) is (godsdiensverslag in Spoelstra 1906:3). Die betekenis van hierdie leer en die Kategismusprediking is in navolging van die gereformeerde gebruike in Nederland en bepaal deur hierdie Dordtse Sinode.

Wat ook in hierdie gebed van Van Riebeeck sluimer, is 'n neiging om van die gereformeerde leer te praat sonder om die betrokke belydenisskrifte by die naam te noem. Dit skep die indruk dat daar in hierdie kringe nie baie besinning of gesprek oor die inhoud van dié leer was nie. Die inhoud van die aanvaarding van die Dordtse belydenistradisie wat sedert die eerste Nederlandse Gereformeerde Sinode in Emden in 1571 kom en by die Sinode van Dordrecht sy kulminasiepunt vind, was ook 'n gebruik wat nie betwis was nie (Strauss 2006:651-656). Die Gereformeerde Kerk was immers die staatsbevoorregte en -ondersteunde kerk in die destydse Nederland. Die NOIK het in die Ooste kragtens 'n oktrooi van die Nederlandse regering namens hierdie regering opgetree (Strauss 2015:3).

Die eerste gemeente naamlik Kaapstad, word in 1665 gevorm. Van sy kerkraadslede word verwag om by hulle ampsaanvaarding die "belijdenisse der Gereformeerde Kerke" te onderteken omdat dit met die Woord van God "overeenstaande" (Spoelstra 1907:256; Hofmeyr et al 1991:13). Daarmee handhaaf hulle die besluit van die Dordtse Sinode van 1618-1619 in verband met die leer "begrepen in". Hulle gee dus te kenne dat die formulering van die Christelike geloof in genoemde belydenisse (die drie algemene en die Drie Formuliere?) met Gods Woord "over een comen" (Donner en Van den Hoven sa:325). Kerkraadslede moet dit onderteken om daarmee te bevestig dat hulle ampsgeskik vir hierdie gereformeerde kerk is.

Dieselfde tendens as by Van Riebeeck se gebed by die aan wal gaan van sy bemanning in April 1652 is hierin merkbaar. Spesifieke belydenisse word nie by die naam genoem nie. Dit gaan weereens oor die leer of belydenisse van die Gereformeerde Kerke in die algemeen. Die inhoud van hierdie leer word nie aangedui nie.

 

3.Die Sinode van 1837 kies quia

Na aanleiding van die quia/quatenus-debat in die Nederlandse Hervormde Kerk, beland die vraag oor hoe die Ned Geref Kerk sy belydenisse aanvaar, op die tafel van die Buitengewone Sinode van 1837. Die kwessie volg op 'n vraag van ds A Smith by die Ring van Graaff-Reinet in 1836. Op grond van die nuwe moontlikheid van 'n aanvaarding van die belydenisse "in soverre as wat" (qautenus) dit met die Woord ooreenstem en nie "omdat" (quia) dit met die Woord ooreenstem nie (die Dordtse lyn) wil ds Smith weet of daar 'n "nieuwe wet" in die Gereformeerde Kerk in Nederland is. 'n Wet dat 'n leraar die belydenis van die kerk met "reservatie" onderteken. Smith stuit waarskynlik daarop dat die aanvaarding van "in soverre as wat" 'n oop situasie vir die ondertekenaar skep om self te besluit wanneer en wanneer nie die belydenis met die Woord van God ooreenkom. Dit word 'n ongereformeerde belydenisvryheid vir die indiwidu teenoor die Dordtse standpunt omdat die Formuliere van Eenheid wat Dordt betref juis eenheidsbindend en nie verdelend werk nie.

Die Sinode van 1837 behandel die vraag van ds Smith saam met beskrywingspunte van die Kerkraad van Somerset-Wes en dr W Robertson, die predikant van Swellendam. Robertson wil die Sinode sover kry om in die akte van ondertekening vir predikante, sendelinge en onderwysers instemming van die ondertekenaar te vra dat hy die Drie Formuliere "hartlijk geloof overeenkomstig Gods Heilig Woord te zijn". Robertson staan kennelik op die quia- of Dordtse standpunt. 'n Heftige debat volg. Eventueel besluit die vergadering met 'n meerderheid van slegs 2 stemme (21-19) dat die Ned Geref Kerk sy belydenisskrifte aanvaar "overeenkomstig" die Woord van God (NGK in Zuid-Afrika 1837:141,186; Van der Watt 1980:29). Die Dordtse tradisie in hierdie saak word dus na bykans 200 jaar - sedert 1652 - met 'n skrale meerderheid van twee gehandhaaf.

Die weerstand teen die quia-benadering op die Sinode van 1837 sou veral vanuit die geledere van die sogenaamde liberale predikante kom. Navorsing bring aan die lig dat ongeveer 25 Ned Geref predikante op daardie stadium tot 'n mindere of meerdere mate deur die modernisme beïnvloed is. Gemeet aan die getal stemme op die sinode en gedagtig daaraan dat alle gemeentepredikante op hierdie vergadering kon sitting neem, is hierdie 'n aansienlike getal. Die dwalinge onder hierdie predikante het sentreer rondom 'n ontkenning van die Goddelike inspirasie van die Bybel en die leer oor die drie-enige God, 'n verwerping van die godheid en middelaarskap van Christus én 'n afwysing van die totale verdorwenheid van die mens. Hierdie liberalisme in die Ned Geref Kerk sou teen die 1880's afneem en gaan lê (Strauss 2015:24).

Wat in dié stryd in die negentiende eeu opval, is dat die quia nie gekwalifiseer word nie. Hier sluimer 'n ongekwalifiseerde aanvaarding van die belydenisse as in ooreenstemming met die Woord van God. 'n Saak wat latere probleme uit die twintigste eeu nie oplos nie. 'n Voëlvlugverkenning oor die gebruik in 'n aantal tradisionele gereformeerde kerke in hierdie tyd bevestig die tradisie van 'n ongekwalifiseerde quia (Jansen 1952:237; Kruger et al 1966:333; Spoelstra 189:299).

In 'n belangrike volgende stap gee die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 1994 opdrag aan sy Kommissie vir Leer en Aktuele Sake om die wyse te ondersoek waarop die belydenisskrifte as historiese dokumente gelees behoort te word en in die kerklike lewe behoort te funksioneer (NGK 1994:500).Hierdie opdrag is dus omvattend omdat dit die betekenis of plek én die wyse van aanvaarding van die belydenisskrifte in die Ned Geref Kerk moet ondersoek en daaroor met aanbevelings moet kom.

 

4.Leer en Aktuele Sake van 1998 omskryf die problematiek

Anders as in die Ned Geref Kerk van die negentiende eeu, is die probleme rondom die belydenisse in 1998 nie van 'n modernistiese oorsprong nie, maar - op die oog af - gangbare Skrif- en hermeneutiese studies en hedendaagse insigte in sekere sleutelaspekte van die wêreld en kerklike omgewing waarin ons leef. In die probleemstelling van sy verslag in 1998 formuleer Leer en Aktuele Sake ook die probleem of redes vir sy verslag. Volgens hom is die probleem van die belydenisse as historiese dokumente dat hulle "onmiskenbaar die merktekens van die tyd waarin hulle ontstaan het", vertoon. Hierdie merktekens blyk nie net uit die temas waarop hulle die klem laat val nie (verlossing, sakramente ens) maar ook uit die teologies-verwante of -gefundeerde standpunte (bewoording, teksverwysings ens) wat ingeneem word. Dit gaan dus oor 'n tydsbetrokkenheid en die vraag is of hierdie tydsgebondenheid nie ook inwerk op die "beginsels" (kernwaarhede, PS) wat die belydenisse formuleer nie? Werk die tydsgebondenheid ook in op die geformuleerde geloof in die belydenisse? Kan hierdie geformuleerde geloof in ander tye as die ontstaanstyd van die betrokke belydenisse steeds Skriftuurlik wees en ook daarin bely word (NGK 1998:60)?

Volgens Leer en Aktuele Sake is daar in hierdie tyd verskille met die belydenisse oor Skrifgebruik, teologiese of dogmatiese interpretasies en die aanvaarde, maar gedateerde samelewingspraktyke van destyds wat daarin deurkom. Die vraag is dus: hoe kan die Ned Geref Kerk 'n weg hieruit vind?

Volgens Leer en Aktuele Sake kan 'n verwerping of verandering van die bestaande belydenisskrifte as 'n oplossing die gevaar skep dat die Ned Geref Kerk die band met die "algemene Christelike geloof soos deur die kerk van alle eeue bely", deursny. Onder die invloed van die tydsgees kan die Ned Geref Kerk op hierdie manier 'n valse kerk of sekte word vir wie die algemene Christelike kerk nie belangrik is nie. In ons eie vermelde verduideliking van die onderskeid tussen die algemene belydenisskrifte en die Drie Formuliere van Eenheid het die gemeenskaplike belydenis van die "heilige, algemene Christelike kerk" soos in al ses belydenisskrifte vervat, deurgekom2. 'n Tweede oplossing naamlik 'n keuse vir die quatenus- bo diequia-benadering om 'n konfessionalisme of "verabsolutering" van die konfessies as foutloos (omdat hulle quia aanvaar word) te vermy, bevredig volgens Leer en Aktuele Sake ook nie. Hierdie pad open die "deur vir die teenoorgestelde van konfessionalisme 'n willekeurige en relatiwistiese indifferentisme waar elkeen self kan besluit wat vir hom/haar die waarheid is".So funksioneer "die belydenis" nie meer as 'n eenheids- en waarheidsrigter in die kerk nie (NGK 1998:61). Jonker wys daarop dat die gereformeerde kerklike belydenisse 'n stok is om (dwaling) mee te slaan, 'n staf om (die regte geloofskoers) mee in te slaan en 'n stem om 'n loflied (vir God) te sing (Jonker 1994:9).

Die derde moontlikheid uit bogenoemde probleem wat Leer en Aktuele beslis afwys, is 'n onderskeid tussen die vorm en inhoud van die belydenisse. 'n Onderskeid wat die (vir die huidige) aanvaarbare inhoud behou en alles in hierdie geskrifte wat tans nie aanvaarbaar is nie, as vorm kategoriseer en verwerp as dinge wat in die "eietydse konteks" van destyds so geformuleer sou gewees het. Volgens Leer en Aktuele Sake maak so 'n onderskeid dit in die belydenisskrifte wat geglo word, subjektief. Die gevolg is dat die hoofsaak waaroor die kerk saamstem, al kleiner word "terwyl lewensbelangrike geloofswaarhede verwaarloos of selfs verdwyn". 'n Vierde oplossing uit die probleme rondom die aanvaarding van sy belydenisskrifte wat Leer en Aktuele verwerp, is dat hierdie geskrifte bloot historiese beslissings in hulle tyd en konteks is wat vandag nie meer gesag dra nie. Die hedendaagse mens leef in 'n ander tyd en konteks sodat "die belydenis nie langer sommer so op ons van toepassing gemaak (kan) word nie" (NGK 1998:61). Hierdie oplossing hou egter nie rekening met die gereformeerde beskouing oor die aard van 'n kerklike belydenis nie. Gereformeerd beskou bestaan belydenisse uit Bybelsbegronde kernwaarhede wat geglo word en die tyd waarin hulle geformuleer is, oorstyg.

 

5.Die Algemene Sinode van 1998 kies 'n uitweg

Op pad na 'n voorstel uit die dilemma soos hier geskets, noem Leer en Aktuele Sake "enkele riglyne".

Teenoor 'n konfessionalisme word die kerk se belydenisskrifte "feilbare mensewerk" genoem wat in hulle gesag, om die gereformeerde dogmatikus Hermann Bavinck aan te haal, "diep" onder die Skrif staan3. Terselfdertyd word 'n "moderne konfessionele indifferentisme" teenoor die belydenisskrifte verwerp. Die belydenisskrifte moet ook van die teologie as wetenskap onderskei word. Waar hierdie geskrifte die gemeenskaplike geloof van die kerk bely, dinge wat geglo word en vas en seker is, word teologie gekenmerk deur "onsekere eksperimente, tastende beredeneringe en voorlopige resultate". Gebondenheid aan die konfessies beperk nie die vryheid van Skrifeksegese nie. Inteendeel, die konfessie bind sy belyers juis aan die saak waarom dit in die belydenisse gaan: die Evangelie van Christus soos in die Woord geopenbaar en so aan die Skrif. Hierdie vertrekpunt skep "vir ons die ruimte om lojaal-krities" na die belydenisskrifte in die lig van die Skrif te kyk en waar nodig wysiginge voor te stel. Dit verskil van 'n modernistiese, histories-kritiese aanpak wat hooghartig, beterweterig en kritikasterig na die belydenisskrifte kyk. Die belydenisskrifte moet na hulle (geloofs)bedoeling en Skriftuurlik eerder as histories beoordeel word.

'n Voorbeeld is die verstaan van artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Hier staan dat die staatsowerheid die koninkryk van God moet bevorder en die ryk van die Antichris moet vernietig (NG Kerk-Uitgewers 1982:36). Vanuit die destydse corpus Christianum-siening van die samelewing (1561) was so iets moontlik. Dit kan egter nie meer in 'n moderne "multikulturele" staat gebeur nie. Wat hierdie artikel van die Nederlandse Geloofsbelydenis wel vir vandag deurgee, is dat die gelowiges hulle steeds vir 'n staatsbestel beywer waarin die"eer van God voorop staan" (NGK 1998:62).

Leer en Aktuele Sake beskou die belydenisskrifte dus as 'n uitdrukking van die geloof van die kerk of as formulerings van die Christelike geloof. Waar die Skrif norma normans of die eerste norm is, is die belydenisskrifte norma normata of die, hieraan ondergeskikte, tweede norm (Strauss 2010:83). By beide Skrif en belydenis lê hulle gesag of normatiwiteit in hulle tendens of bedoeling. Die Skrif is nie 'n historiese, geografiese of wetenskaplike handboek nie, maar 'n geloofsboek. Daarom vind ons die gesag of Woord-van-God-karakter van die Bybel in sy boodskap oor God en sy wêreld: vanuit die begrippe sonde, verlossing en dankbaarheid (vgl Heidelbergse Kategismus, NG Kerk-Uitgewers 1982:39-76) Die belydenisskrifte se afgeleide gesag omdat (quia) dit ooreenstem met die Woord van God, lê in dit wat hulle bedoel is om te wees: geloofsbelydenisse. Hulle dra afgeleide gesag in hulle uitdrukking - aldus Leer en Aktuele Sake - van die gereformeerde geloofsoortuiging. Die enkele problematiese uitdrukkings wat hierin voorkom, hoef die kerk volgens die Kommissie nie te laat "struikel" nie.

Die aanbevelings van Leer en Aktuele Sake word eventueel - met geringe wysiginge - die besluite van die Algemene Sinode van 1998 (NGK 1998:414,465,517,520). Daarmee gee hierdie Sinode nuwe rigting aan die quia-standpunt en die groot vraag oor wat in die belydenisskrifte van die Ned Geref Kerk gesag dra of, Dordts-gereformeerd gesê, aanvaar word omdat (quia) dit met die Skrif ooreenstem.

Die besluite begin met 'n verduidelikende op-die-punt-af sin. Volgens die Sinode handhaaf hy die standpunt dat die erkende belydenisskrifte van die Ned Geref Kerk "as 'n gesagvolle uitdrukking van die gereformeerde geloofsoortuiging (LW) aanvaar moet word, omdat (quia) hulle met die Woord van God ooreenstem. Hulle het gesag in die saak wat hulle volgens die Skrif wil bely." Soos gestel in die verslag van Leer en Aktuele Sake beteken 'n erkenning van hierdie gesag volgens die Sinode nie dat die belydenisskrifte nie gewysig kan word nie. 'n Wysiging moet egter langs die ordelike kerklike weg van 'n behoorlik getoetste gravamen geskied.

Die Algemene Sinode besef dat die belydenisskrifte historiese dokumente is wat op meer as een manier die tekens van die tyd waarin hulle ontstaan het, vertoon en dat hierdie feit 'n "struikelblok" vir sommige kan wees om dit heelhartig te onderskuif. Hierteenoor twyfel die Sinode nie dat die belydenisskrifte gesag het in die saak wat hulle volgens die Skrif wil belynie. Hierdie saak of geloofsoortuiging is Skriftuurlik omdat dit - vir sover ons nou kan sien - op die gesag van die Skrif berus. Die Algemene Sinode maak ook 'n onderskeid tussen belydenis en teologie. Die Sinode aanvaar die argument van Leer en Aktuele Sake op hierdie punt. Teenoor die akademiese menings van teoloë "herken ons (in die belydenisskrifte) die algemene ongetwyfelde Christelike geloof soos die kerk dit op grond van die Skrif bely". Overgesetsynde, die gereformeerde waarhede soos verwoord in die gereformeerde belydenisskrifte is nie sektaries-eensydig nie, maar algemeen Christelik omdat dit algemene of algemeen-geldige Christelike waarhede bely. Daarby moet hierdie geskrifte moet steeds vry en krities "in die lig van die Skrif ondersoek" word, maar om reg aan hulle te laat geskied en hulle reg te verstaan, aan die hand van hulle Skriftuurlike bedoeling.

Die Algemene Sinode van 1998 distansieer hom dus ook uitdruklik van 'n konfessionalisme of 'n indifferentisme soos geskets ten opsigte van die belydenisskrifte, van 'n qautenus-standpunt by die aanvaarding daarvan, van 'n skerp onderskeid tussen vorm en inhoud by die belydenisse, van die beskouing dat die belydenisskrifte as historiese geloofsbeslissings vir ons 'n aanduiding kan gee van wat ons moet glo maar dat hulle nie normatief is nie en dat hulle kontekstuele geskrifte is wat vir geldigheid in ons huidige situasie of konteks "geheel en al herinterpreteer moet word". Daarmee kies die Algemene Sinode van 1998 ook teen die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) wat onder andere uit die eertydse (sinodaal) Gereformeerde Kerke in Nederland en susterskerk van die Ned Geref Kerk kom. In artikel 1 van sy Kerkorde bely die PKN sy geloof in gemeenskap met die belydenis van die voorgeslagte soos - ondermeer - verwoord in die Drie Formuliere van Eenheid, die drie algemene belydenisse en twee Lutherse belydenisse (PKN 2003:9). Hierdie bely-in-gemeenskap-met laat die PKN met dieselfde ongebondenheid teenoor wat hy bely as wat quatenus sou doen.

Teenoor hierdie nie-aanvaarbare standpunte beklemtoon die Algemene Sinode van 1998 opnuut dat die behoud van die gereformeerde karakter van die Ned Geref Kerk "direk in verband staan met die wyse waarop daar in die kerklike lewe, liturgie, prediking en onderrig aangesluit word by die verstaan van die evangelie soos dit in die historiese gereformeerde belydenisskrifte neerslag gevind het." Die Sinode beskou dit as belangrik dat elke lidmaat die belydenisskrifte ken omdat dit "vir sy besef" die boodskap van God se genade in Jesus Christus suiwer raakvat.

Die vraag is nou of die Algemene Sinode van 1998 hiermee 'n eie koers in die Nederlandsverwante kerklike wêreld van sy tyd ingeslaan het? Die kwessie van die "leer soos vervat in" stem klaarblyklik ooreen met die Dordtse ondertekeningsformulier se "leer begrepen in", maar hierdie interpretasie van die Algemene Sinode van 1998 is sedertdien selde in die gereformeerde geskiedenis gehoor.

Die Algemene Sinode van 1998 loop in die Dordtse spore met die inhoud van die aanvaarding van sy kerklike belydenisskrifte. In beide gevalle gaan dit om die uitdrukking of formulering van die geloof omdat (quia) dit met die Skrif ooreenstem. Die Sinode is daarvan oortuig dat hierdie kernwaarhede van die geloof soos geformuleer, hulle eie tyd oorstyg en in 1998 steeds geldig is én bely moet word. Twee komponente kan die eietydsheid daarvan verseker. Die eerste is dat dit hier om kernwaarhede gaan wat die eie tyd oorskry en ook in ander tye waar bly en tweedens om die verwoording daarvan in eietydse taal. Historiese of taalkundige tekens aan die ses belydenisse moet hierdie kernwaarhede nie versluier of uitskakel nie. Dit gaan immers om die algemene, gemeenskaplike Christelike geloof. Om die uitsê van ons geloof in die drie-enige God en sy groot dade van genade.

 

6.Nog stemme vir die "leer begrepen in"

Onder gereformeerde kerke wat in die moderne tyd staan by die gereformeerde geloofsoortuiging soos uitgedruk in die Drie Formuliere van Eenheid, is die Ned Geref Kerk nie alleen in sy interpretasie van die "de leer begrepen in" nie. Inteendeel, hy sluit hom aan by die Christian Reformed Church in North America wat dieselfde gedagtes reeds in 1976 invoeg as 'n bylaag tot artikel 5 van sy kerkorde.

Hierin sê die Christian Reformed Church dat 'n persoon wat sy ondertekeningsformulier teken, verklaar dat al die leerstukke soos vervat in die belydenisskrifte van hierdie kerk in die Woord van God geleer word. Daarmee verklaar die persoon egter nie dat hierdie leerstukke almal op die beste moontlike manier geformuleer is of alles bevat wat die Skrif leer of verwerp nie. 'n Ondertekenaar word alleen gebind aan "the doctrines which are confessed" en nie elke verwysing, sinspeling of opmerking wat "toevallig" in die bewoording van die belydenisse voorkom nie. So 'n persoon is ook nie gebonde aan die gevolgtrekkings wat sommige teoloë uit die belydenisskrifte maak nie. Slegs die vergaderings van 'n gereformeerde kerk kan namens hierdie kerk praat. Die Sinode voeg die bylaag in na aanleiding van gravamina of beswaarskrifte wat wys op "oneffenhede" of probleme in die geskrifte (Engelhard en Hofman 2001:50-51). Die Christian Reformed Church as 'n moderne eietydse gereformeerde kerk handhaaf hiermee die Dordtse quia-standpunt.

Hiermee slaan die Christian Reformed Church dieselfde weg in as die Partikuliere Sinode van Delft van 1618. In die hitte van die destydse stryd oor belydeniskwessies soos oor die aanvaarding van die Drie Formuliere van Eenheid, verklaar Delft dat die Confessio Belgica verstaan moet word na die "sin der kercken". Delft het egter voor die probleem gestuit dat die kerke hierdie sin nie omskryf nie (Polman sa:88).

 

7.Slot

Benewens die steun uit ander oorde, loop die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 1998 op goeie moderne hermeneutiese, maar gereformeerde spore wat sy gekwalifiseerde aanvaarding van die gereformeerde belydenisskrifte en die uitleg daarvan betref. Soos in hedendaagse benaderings by die gesag en uitleg van die Bybel as 'n gesagvolle geloofsboek in destydse taal, dui dit aan waarin die gesag van die belydenisskrifte lê. Wat wil hierdie geskrifte met gesag in elke tyd sê of oordra? Waarin setel hierdie gesag?

Soos Bavinck en ander gereformeerdes praat die belydenisse van die Ned Geref Kerk as die uitdrukking van die algemene ongetwyfelde geloof van hierdie kerk met gesag in die formulering van die geloof. Dit is immers geloofsbelydenisse wat as geloofsbelydenisse wil oortuig. 'n Oortuiging wat ten diepste Skrifbegrond moet wees om te kan oortuig. Die quia-aanvaarding van die belydenisse beteken ook dat hulle formulerings of bewoordings erken en gerespekteer word. Belydenisafwykings moet dus ook met die bewoording van die belydenisse rekening hou. Die Algemene Sinode van 1998 het hierin raakgevat

 

Bibliografie

Bavinck, H 1930. Gereformeerde Dogmatiek IV. Kampen: Kok.         [ Links ]

Donner, JH en Van den Hoorn, SA sa. Acta Nationale Synode te Dordrecht. Leiden: Donner.         [ Links ]

Du Plooy, A le R 2012. Gemeet aan die Drie Formuliere van Eenheid. In: Theron, Piet (red), Belhar geweeg. Brandfort: Kraal. 66-72.         [ Links ]

Engelhard, DH en Hofman, LJ 2001. Manual of Christian Reformed Church Government. Grand Rapids: CRC Publications.         [ Links ]

Hofmeyr, JW, Millard, JA en Froneman, CJJ 1991. History of the church in South Africa. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Jansen, J 1952. Korte verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken. Kampen: kok.         [ Links ]

Jonker, WD 1994. Bevrydende waarheid. Die karakter van die gereformeerde belydenis. Wellington: Hugenote Uitgewers.         [ Links ]

Kruger, LS et al 1966. Handleiding by die kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

Kuyper, HH sa. De post acta of nahandelingen van de Nationale Synode van Dordrecht in 1618 en 1619 gehouden. Amsterdam: Hoveker en Wormser.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk 1994, 1998. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.

Nederduitse Gereformeerde Kerk 1964. Kerkorde. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers (gebruik as NGKO 1964).         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk 2011. Die Kerkorde. Sl:sn (gebruik as NGKO 2011).

Nederduitse Gereformeerde Kerk 2013. Die Kerkorde. Sl:sn (gebruik as NGKO 2013).

Ned Geref Kerk in Zuid-Afrika 1837. Handelingen eener buitengewone Synodale Vergadering der Nederduitsch-Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika. Kaapstad: Van de Sandt De Villiers.         [ Links ]

Polman, ADR sa. Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis I. Franeker: Wever.         [ Links ]

Protestantse Kerk in Nederland (PKN) 2003. Kerkorde en ordonnansies. Zoetermeer: Boekencentrum.         [ Links ]

Smith, N 1980. Elkeen in sy eie taal. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Strauss, PJ 2006. Die Dordtse tradisie en die binding aan die belydenis. In die Skriflig 40/4, 649-666.         [ Links ]

- 2010. Kerk en orde vandag. Met die klem op die NG Kerk. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

- 2011. Nogeens: Watter kerk vergesel die Groot Trek? Acta Theologica 31(2), 264-277.         [ Links ]

- 2015. Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Spoelstra, B 1989. Gereformeerde kerkreg en kerkregering. Hammanskraal: Teologiese Skool.         [ Links ]

Spoelstra, C 1906. Bouwstoffen voor de geschiedenis der Nederduitsch-Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika I. Kaapstad: HAUM.         [ Links ]

- 1907 Bouwstoffen voor de geschiedenis der Nederduitsch-Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika. Amsterdam: HAUM.         [ Links ]

Van der Watt, PB 1980. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

 

 

1 Die Kaapse Sinode van 1842 besluit amptelik op die naam Ned Geref Kerk in "Zuid-Afrika", Strauss 2011:266.
2 Jonker wys daarop dat die gereformeerde belydenisse uit die sestiende eeu "onverkort uitdrukking" wou gee aan die katolieke of algemene Christelike geloof. Die geloofsbeslissings oor die drie-enige God en Christus as God en mens soos verwoord in die konfessies van die vroeë kerk word "heelhartig" onderskryf. Die Reformasie wou toon dat sy botsing met Rome oor die soteriologie of verlossingsleer in die verlengde lê van die aanvaarde belydenisse of waarhede van die heilige algemene Christelike kerk. Hy wou duidelik toon dat hy teen die verworde Rooms Katolieke Kerk in, teruggryp op die vroeë kerk, 1994:18, 19
3 Volgens Bavinck staan die belydenis "niet naast, veel minder boven, maar diep onder de Heilige Schrift; deze is alleen
onvoorwaardelijk tot geloof en gehoorzaamheid bindend, onveranderlijk, maar de confessie is en blijft altijd revisibel aan de Schrift ", 1930:401.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License