SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.1 número2 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Stellenbosch Theological Journal

versión On-line ISSN 2413-9467
versión impresa ISSN 2413-9459

STJ vol.1 no.2 Stellenbosch  2015

 

FROM THE EDITOR

 

Redaksionele Voorwoord

 

 

Welkom by die tweede uitgawe van die Stellenbosch Teologiese Joernaal (STJ), voorheen bekend as die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT). Besoek gerus ons webtuistewww.stj.ac.za vir meer inligting oor die geskiedenis, fokus en visie van ons tydskrif.

In hierdie uitgawe van STJ bied ons 36 portuur-geëvalueerde akademiese artikels aan. Die eerste vyf artikels (deur Enstedt, James, Naudé, Sigurdson en Ward) vloei voort uit 'n konferensie oor stedelike teologie wat in Desember 2013 in Gothenburg in Swede gehou is, met deelnemers uit Swede, Groot-Brittanje, en Suid-Afrika. Die konferensie het oor die betekenis van ruimte of plek vir die teologie nagedink, spesifiek teen die agtergrond van die stedelike landskap, met die gepaardgaande spesifieke vrae en probleme wat vanuit hierdie fokus ontspring. Die konferensie in Swede is opgevolg met 'n skywerswerksessie in Desember 2014 naby Port Elizabeth. Ons sluit graag in hierdie uitgawe 'n aantal van die artikels in wat vanuit hierdie projek oor stedelike teologie ontwikkel is.

Die volgende ses artikels (onderskeidelik van Cezula, Claassens, Smit, Vosloo, Wasserman, en West) het eweneens vanuit 'n akademiese konferensie ontspring. In Maart 2014 het Biblica 'n slypskool oor "Gesprekke oor die lees van die Bybel" geïnisieer. By hierdie geleentheid is nagedink oor 'n aantal van die komplekse hermeneutiese uitdagings wat met die gebruik en misbruik van die Bybel in die Suid-Afrikaanse en breër Afrika-kontekste saamhang.

Die ander artikels wat in hierdie uitgawe van STJ ingesluit word, handel oor 'n wye verskeidenheid van temas wat oor die onderskeie teologiese dissiplines heen strek. Die jaar 2015 sal ondermeer onthou word vanweë die feit dat vrae wat met migrasie en vlugtelingskap verband hou, die globale sosio-politieke en ekonomiese diskoers gekenmerk het. Die artikel deur Roderick Hewitt bring van hierdie vrae in verband met 'n spesifieke Bybelse teksgedeelte. 'n Ander kenmerk van 2015 was die landswye studenteprotesaksies op universiteitskampusse, daartoe bygedra het dat studentegelde nie verhoog is nie. Dit het met indringende en intense gespreksvoering gepaardgegaan, ook op sosiale media. Reggie Nel se artikel fokus veral op die rol van sosiale media in die nuwe stryd van jongmense teen marginalisering, en ondersoek die teologiese implikasies hiervan vir 'n missionale ekklesiologie. Gedurende die hoogbloei van die #FeesMustFall-beweging in Oktober 2015, is die eerste Russel Botman gedenklesing op Stellenbosch gehou. Ons sluit die lesing in van prof Dirkie Smit by hierdie geleentheid ter ere van die gewese rektor en vise-kanselier van die Universiteit Stellenbosch. Die titel van dié artikel is: "'Making History for the Coming Generation' - On the Theological Logic of Russel Botman's Commitment to Transformation."

'n Eeu gelede - in 1915 - het die bekende dokter en Nuwe Testamentikus, Albert Schweitzer, met die Ogowerivier langs tussen 'n groep seekoeie deurgevaar en in die proses tot sy "eerbied vir die lewe"-insig gekom. Pieter Botha se artikel bied 'n grondige bespreking van Schweitzer se etiese gesigseinder, veral soos dit met dankbaarheid en eerbied vir die lewe saamhang. Heelwat meer kan oor die artikels gesê word wat in hierdie uitgawe van STJ byeengebring is, maar ons kan volstaan met die stelling dat die artikels op verskillende maniere iets van die diepe bronne aandui waaruit die teologie kan tap in diens van indringende en deurdringende akademiese diskoers.

Naas die portuur-geëvalueerde artikels, verskyn ook vier boekresensies, insluitende resensies van boeke deur en oor leidende internasionale teoloë soos Jürgen Moltmann en Rowan Williams. Twee belangrike publikasies - ook vir Suid-Afrikaanse lesers - naamlik Ernst Conradie se omvattende werk The Earth in God's Economy, asook die bundel Contesting Post-Racialism, word ook in hierdie uitgawe geresenseer.

Ons diskoers-afdeling vir hierdie uitgawe is in Nederlands en weerspieël iets van die gesprek wat tydens 'n simposium oor "Pasen als paradigmawisseling" by die VU Universiteit, Amsterdam plaasgevind het, in die lig van die publikasie van Dirk-Martin Grube se boek wat wye belangstelling uitgelok het: Ostern als Paradigmenwechsel. Eine wissenschaftstheoretische Untersuchung zur Entstehung des Urchristentums und deren Konsequenzen für die Christologie (Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag, 2012). Na Grube se inleidende opmerkings oor die boek, volg reaksies van Peerbolte, Benjamins en Van den Brink op die boek, gevolg deur Grube se respons op sy gespreksgenote.

Ons herinner lesers ook daaraan dat heelwat van die vorige uitgawe van NGTT aanlyn op ons webtuiste beskikbaar is.

Robert Vosloo
Redakteur: STJ

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons