SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.1 número1 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Stellenbosch Theological Journal

versão On-line ISSN 2413-9467
versão impressa ISSN 2413-9459

STJ vol.1 no.1 Stellenbosch  2015

 

Redaksionele voorwoord

 

 

Welkom by die eerste uitgawe van die Stellenbosch Teologiese Joernaal (STJ). Hierdie nuwe teologiese tydskrif is 'n voortsetting - in 'n nuwe gedaante -van die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT). Wat is die fokus en visie van dié nuwe blad? Dit kan soos volg geformuleer word: "STJ is 'n veeltalige Suid-Afrikaanse teologiese tydskrif wat die akademie, kerk en samelewing met teologiese bydraes van hoogstaande gehalte wil bedien. Dié tydskrif se wortels in die gereformeerde tradisie dateer uit negentiende eeu. Die blad verstaan die gereformeerde tradisie as 'n dinamiese en lewende tradisie met 'n sterk verbintenis aan verantwoordelike Bybel-uitleg, 'n respekvolle en kritiese omgang met die verlede, ekumenisiteit, 'n prakties-teologiese fokus en 'n aksent op die publieke karakter van die teologie. STJ neem die gesitueerdheid in Suider-Afrika en Afrika ernstig op en is terselfdertyd bewus van die globale uitdagings vir die teologie vandag."

Uit hierdie beskrywing blyk reeds 'n aantal belangrike aspekte. Eerstens is STJ 'n akademies-teologiese tydskrif wat graag die teologiese gesprek in Suid-Afrika wil dien deur wetenskaplike bydraes van 'n hoogstaande gehalte te publiseer. Daarom het die blad 'n sterk verbintenis tot eweknie-evaluering en internasionalisering. Ons glo dat goeie teologie, met die gepaardgaande nodige verantwoordelike historiese en teologiese hermeneutiek, vandag broodnodig is te midde van die rol wat godsdiens - en die kritiek daarop - in ons huidige gepolariseerde en globaliserende samelewing speel.

Tweedens is STJ 'n veeltalige tydskrif. Afrikaanse, sowel as Engelse artikels word vir publikasie oorweeg. Ons glo dat ons daardeur die spesifiek Suid-Afrikaanse teologiese konteks dien. Ons publiseer ook by geleentheid Nederlandse artikels. Verder hoop ons dat die kapasiteit sal groei sodat ook artikels in ander Afrika-tale voortaan geplaas kan word.

'n Derde aspek wat vanuit die visie na vore kom, is die feit dat STJ (as voortsetting van NGTT) sterk wortels in die gereformeerde tradisie het. Die eerste uitgawe van NGTT het in 1959 verskyn. NGTT op sy beurt het weer uit die tydskrif Die Gereformeerde Vaandel ontwikkel, waarvan die eerste uitgawe in 1933 verskyn het. 'n Mens kan ook aanvoer dat hierdie tydskrifte weer op hul beurt in 'n langer teologiese tradisie van Stellenbosse teologiese tydskrifte staan, h tradisie wat na die midde van die negentiende eeu terug strek. Die keuse vir die nuwe naam, Stellenbosch Teologiese Joernaal, verbind dus STJ met hierdie teologiese tradisie, wat met die stigting van die teologiese fakulteite in Pretoria en Bloemfontein verder uitgekring het. Daarom bly die voortgesette samewerking op teologiese gebied tussen die fakulteite van belang. Met die lees van die teologiese bydraes wat oor die jare in NGTTen Die Gereformeerde Vaandel verskyn het, asook in tydskrifte soos Het Zoeklicht / Die Soeklig, Die Ou Paaie en Gereformeerd Maandblad verskyn het, kom 'n mens onder die indruk van die standpunte, strydpunte en strominge wat hierdie gereformeerde tradisie gekenmerk het. Sonder twyfel het die gereformeerde teologiese tradisie in Suid-Afrika 'n boeiende, maar ook 'n komplekse en ambivalente geskiedenis. STJ neem die feit ernstig op dat dit vanuit hierdie spesifieke tradisie ontwikkel het, asook die siening dat die gereformeerde tradisie 'n dinamiese en lewende tradisie is wat voortdurend vanuit 'n eerlike en verantwoordelike omgang met die verlede oop na die toekoms leef. Daarom weerspieël die visie 'n verbintenis aan verantwoordelike Bybel-uitleg, 'n respekvolle en kritiese omgang met die verlede, ekumenisiteit, 'n prakties-teologiese fokus en 'n aksent op die publieke karakter van die teologie.

'n Vierde aspek wat ek ten slotte vanuit die visie wil uitlig, is die erkenning en viering van die blad se gesitueerdheid in die Suid-Afrikaanse en breër Afrika-konteks. Teologiese besinning wat met hierdie kontekste in gesprek tree of uit hierdie kontekste ontspring, kan nie alleenlik net 'n bydrae tot teologie-beoefening in diens van akademie, kerk en samelewing in Afrika-kontekste lewer nie, maar ook die globale teologiese gesprek oor belangrike temas dien.

In die lig van bogenoemde aksente ontvang ons graag bydraes uit al die onderskeie teologiese vakdissiplines en verwante dissiplines. Ons gaan ook van die standpunt uit dat interdissiplinêre en transdissiplinêre navorsing verdere verdieping en vernuwing in teologiese gespreksvoering kan bring. Voorts is daar die verbintenis om die artikels van STJ en sy voorgangers so toeganklik as moontlik te maak. Onder die redakteurskap van Gerrit Brand (2011-2013) het NGTT 'n oop-bron tydskrif geword, en dit maak die artikels van NGTT - en nou ook STJ - vir 'n breër publiek toeganklik. Skrywers se navorsing vind dus op dié manier 'n groter en wyer leserspubliek. Ons is tans ook met 'n proses besig om al die artikels van NGTT digitaal toeganklik te maak. Besoek gerus die argief op ons webblad vir artikels sedert 2000. Die vooruitsig is daar om al die artikels van NGTT, asook van die ander ouer tydskrifte wat in dié teologiese trajek staan, aanlyn beskikbaar te stel.

Maar 'n bietjie meer oor die inhoud van hierdie eerste uitgawe van STJ. Ons is bly dat ons 'n hele aantal artikels van gerespekteerde internasionale en nasionale teoloë kan insluit. Prof Wolfgang Huber, die bekende Duitse teoloog en vorige biskop van Berlyn-Brandenburg, se artikel "Why ethics?" verdien hier vermelding. Die artikel is as sy intreerede as ere-professor in die dissiplinegroep van Sistematiese Teologie en Ekklesiologie by die teologiese fakulteit op Stellenbosch in Februarie vanjaar gelewer. Die artikel, wat aan prof Russel Botman, die ontslape vorige rektor van die Universiteit Stellenbosch, opgedra is, bied belangrike perspektiewe vir die gesprek oor die noodsaaklikheid van verantwoordelike etiese refleksie in ons globaliserende wêreld. 'n Teoloog wat bekend was vir sy nadruk op 'n etiek van verantwoordelik in die lig van sy weerstand teen Hitler en die Nazisme, is Dietrich Bonhoeffer. In April 2015 is die 70-jarige herdenking van Bonhoeffer se sterfdag wêreldwyd gevier. Die jaar 2015 is ook die 100-jarige herdenking van die geboorte van Beyers Naudé, 'n Suid-Afrikaanse gereformeerde predikant wat 'n reuserol in die stryd vir vryheid en geregtigheid in die apartheidsbestaan van Suid-Afrika gespeel het. John de Gruchy bring die erfenis van Bonhoeffer en Beyers Naudé op h besondere manier byeen in sy artikel "Beyers Naudé: SA's Bonhoeffer? Celebrating the centenary of the birth of Beyers Naudé (1915 - 2015)".

Heelwat artikels in hierdie uitgawe handel oor publieke morele kwessies. Die artikel van Bowers-Du Toit en Forster ondersoek die belofte van 'n waarde-gedrewe benadering tot die diskoers oor teologie en ontwikkeling, terwyl Van Niekerk se artikel armoede in die Karoo ondersoek vanuit die vraagstelling na die implikasies van geloof vir 'n teologie van transformasie. Die artikel van Cilliers fokus op die eties-politiese prediking van Desmond Tutu, terwyl Kotzé in haar artikel die konsep "liberale demokrasie" se implikasies vir biotegnologie in gesprek met die politieke teologie van Jürgen Moltmann bring. Van der Merwe se artikel ondersoek weer die teologiese implikasies van die huidige interdissiplinêre gesprek oor die konsep "geluk," terwyl die tema van gasvryheid in die artikel van Lategan, Burggraeve en Vanlaere aangespreek word.

Verskeie artikels in hierdie uitgawe tree histories en teologies in gesprek met gebeurtenisse, gemeenskappe en temas wat met die gereformeerde tradisie geassosieer word. In dié verband kan na die artikels van Echeverria, Froneman, Jackson, Katts en Strauss verwys word. Van hierdie artikels mag dalk verdere gesprek ontlok. Die artikel van Compaan en die artikel van Potgieter en Van der Walt tree weer in gesprek met debatte wat met postmoderne denke geassosieer word, terwyl Smit Jesus se afskeidsrede in Johannes 13-17 as 'n missionale narratief lees en ondersoek.

Naas die bogenoemde akademiese artikels, sluit ons graag 'n portuur-geëvalueerde resensie-artikel in. In hierdie uitgawe publiseer ons Ernst Conradie se resensie-artikel van die herbewerkte uitgawe van die bekende Suid-Afrikaanse filosoof, Anton van Niekerk, se boek Geloof sonder sekerhede. Saam met hierdie resensie-artikel bied ons ook in hierdie uitgawe 'n aantal boekresensies aan. Paul Kruger neem Ernst Conradie se boek Saving the Earth? The Legacy of Reformed Views on "Re-creation" Studies in Religion and Environment in oënskou, terwyl 'n drietal boeke waarvan Conradie redakteur of mederedakteur is, en onderskeidelik op die temas van versoening, ekumenisiteit, en ekklesiale identiteit fokus, deur Cobus van Wyngaard bespreek word. Helené van Tonder kyk van nader na Vincent Brümmer se boek, Vroom of Regsinnig? Teologie in die NG Kerk, 'n publikasie wat vanjaar met die Andrew Murray-prys vir teologiese werke bekroon is. John de Gruchy, wat verlede jaar die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir sy boek Led into Mystery ontvang het, se nuwe boek My Life in Writing word deur Lisel Joubert geresenseer. Joubert was op haar beurt weer die ontvanger van die Andrew Murray-Gerrit Brand-prys vir haar boek Ontmoeting met heiliges. Die prys wat deels na 'n vorige redakteur van NGTT vernoem is, is vanjaar vir die eerste keer toegeken is. Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys is vanjaar aan Denise Ackermann toegeken vir haar boek Surprised by die Man on the Borrowed Donkey, en ons hoop om in die volgende uitgawe resensies van Joubert en Ackermann se boeke te plaas. Vir 'n interessante video-opname van 'n gesprek tussen Dirkie Smit en Denise Ackermann tydens die bekenstelling van Ackermann se boek by 'n konferensie in September 2014 op Stellenbosch, kan die leser https://www.youtube.com/watch?v=5W8NQIJ-Qds besoek. Ook van belang vir Suid-Afrikaanse lesers is die boek The German Protestant Church in Colonial SA: The Impact of Overseas Work from the Beginnings until the 1920S (met Hanns Lessing as een van die redakteurs), wat hier deur Retief Müller geresenseer word.

Een van die doelstellings van STJ is om verdere gesprek oor teologiese temas te stimuleer. Ten einde uitvoering te gee aan hierdie doelstelling plaas ons in hierdie uitgawe onder die afdeling "Diskoers" 'n kort bydrae van Ernst Conradie waarin hy 12 stellings oor die plek van Christelike teologie in multi-dissiplinêre diskoerse aanbied, met reaksies op Conradie se stuk deur Wentzel van Huyssteen, Gys Loubser en Daniël Veldsman.

Robert Vosloo
(Redakteur: STJ)

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons