SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.119 número3Past the glorious age: Old Testament scholarship in South Africa - are we moving anywhere close to blackening Old Testament scholarship?Still plausible and intelligible? Towards a hermeneutic of congruent biblical theology for today índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Scriptura

versão On-line ISSN 2305-445X
versão impressa ISSN 0254-1807

Scriptura vol.119 no.3 Stellenbosch  2020

http://dx.doi.org/10.7833/119-3-1762 

ARTICLES

 

Weerkaatsende woorde: 'n (outo)biografiese refleksie van 'n (praktiese) teoloog

 

 

JA van den Berg1

Department Practical and Missional Theology University of the Free State

 

 


OPSOMMING

Sommige van diepersoonlike ervaringe en bevindinge van 'n (prakties) teologies-akademiese skrywer word in die artikel onthul. Dié onthulling geskied op 'n intiem-persoonlike wyse aan die hand van 'n outo(biografiese) reis. Meesleurend vanuit 'n aanvanklike en terloopse aanraking van die persoonlike lewensruimte van die praktiese teoloog, word 'n trajek gebied aan die hand waarvan die ontwikkeling van akademiese skryfwerk gekaart kan word. Onverwagse mylpale langs die pad van gedokumenteerde prakties-teologiese navorsing sluit onder meer verbandhoudende aspekte van 'n plaaslike, konkrete en beliggaamde aard in. By elk van dié mylpale, wat 'n steil reliëf en gradiënt op die roete verteenwoordig, word op outobiografiese wyse aangedoen. In 'n persoonlike tuiskoms by dié mylpale word tot die ontdekking gekom dat skrywer en leser inderdaad die mees persoonlike in gemeen het, maar dat dít ook universele betekenis het. In die konstruering van dié reflekterende gedagtes word moontlike coordinate vir die toekomstige neerpen en kartering van persoonlike teologies-akademiese onthullings gebied.

 Kernwoorde: Outobiografie; Narratief; Refleksie; Praktiese teologie; Akademiese skryfwerk


ABSTRACT

This article discloses, in an intimate personal manner and based on an (auto)biographical journey, some of the secrets and treasures of a (practical) theological academic author. Drawing on an initial casual contact with a practical theologian's personal living-space, it presents a trajectory for charting the development of academic writing. Unexpected milestones along the path of documented practical theological research include aspects of a local, concrete and embodied description. Each of these milestones describes the steep elevation and gradient along the course. In viewing these milestones, one discovers that both writer and reader share in the most personal matters and that this intimacy has general significance. An analysis of the reflecting words of a (practical) theologian reveals potential coordinates for future writing and charting of other personal theological academic secrets and disclosures.

Keywords: Autobiography; Narrative; Reflection; Academic writing


 

 

Waardering

Dit is vir my 'n voorreg om dié bydrae aan te bied as deel van Scriptura se 40-jarige feesviering. Dit is juis ter herdenking van dié besondere mylpaal ten opsigte van akademiese navorsing en publikasie dat ek dit goedgedink het om 'n bydrae aan te bied wat die rol van die outobiografiese in teologiese skryfwerk verken. In dié bydrae probeer ek persoonlike ervarings akkomodeer aan die hand van akademiese argumente en -bronne ter vestiging van 'n diskoers wat moontlik resoneer met dié ander outeurs in dié veld.

 

Toetrede

Hoe vreesaanjaend is dit nie wanneer die skoon wit bladsy met die flitsende invoegingswyser van die woordverwerkingsprogram voor jou opdoem nie? Dié skoon bladsy met die flitsende én wagtende roep van die wyser vra 'n eerste letter, 'n eerste woord, 'n eerste sin en 'n eerste paragraaf. Mettertyd, as jy gelukkig is, vul die swart karakters op die wit skerm 'n bladsy en nóg later, verdere bladsye. Tog is daar altyd die moontlikheid dat gedeeltes van dié formulerings of selfs alles later uitgevee mag word. Hoe dié skryfproses in my lewe, en in die besonder ook as (praktiese) teoloog afspeel, is die onderliggende tema van die bydrae.

 

 

Die "Cloudgate", ook bekend as die "The Bean", is sekerlik een van Chicago se bekendste toeristebesienswaardighede (Chicago 2020:n.p.). Die massiewe 110 ton boonvormige kunswerk van gepoleerde vlekvrye staal is onthul as deel van Millenniumpark se inwyding in 2004 (Cloudgate 2020:n.p.). Sedertdien is dit een van die bekendste besienswaardighede vir toeriste aan Chicago. Die enigmatiese aantrekkingskrag van die vlekvryestaalkunswerk is geleë in die moontlikheid wat dit bied om die ideale foto - juis 'n sogenaamde "selfie" - te neem met die bekende geboue van Chicago weerkaatsend in die agtergrond.

"The Bean" het ook al in verskeie akademiese werke opgeduik as metafoor vir die dinamika geassosieer met teologiese refleksie (Graham 2017:n.p.; Bennet & Rowland 2016:152). Die dinamiese aard van die refleksie wat die vlekvrye staal van die kunswerk bied, word dikwels gesien as uitdrukking van die proses van interpretasie en refleksie -ook aangaande dit wat persoonlik en intiem is. Ek sit dié tradisie in die bydrae voort wanneer ek "The Bean" as metafoor gebruik om (outo)biografies op my (prakties) teologiese skryf-praktyke te reflekteer. Voortspruitend uit onder meer ooreenstemmende perspektiewe vanuit drie onlangse saamgestelde en geredigeerde werke in praktiese teologie deur gesaghebbende outeurs en redakteurs (Miller-McLemore, 2012a; Cahalan & Mikoski; Mecer & Miller-McLemore); beskou ek om die volgende vier redes, dié vertrekpunt, gekarakteriseer as praktiese teologie:

Eerstens, verteenwoordig die reflekterende karakter van die bydrae die sogenaamde "reflexive turn" in praktiese teologie waarvolgens implisiete waardes soos onder meer subjektiwiteit (lees óók outobiografie) en kontekstualiteit erken word (Graham 2017:n.p.).

Tweedens, word die voortgaande, sirkulêre beweging tussen praktyk en teorie in die formulerings van refleksie in dié bydrae weerspieël. Dit sluit goed aan by die ontwikkeling in kontemporêre praktiese teologie wat 'n voortgaande reflekterende spiraalbeweging tussen praktyk en teorie (let wel éérs praktyk en dán teorie) veronderstel (Browning 1991:84; Ganzevoort 2009:n.p.). Ek probeer daarom die refleksie tussen persoonlike fragmente asook die teorie wat deel uitmaak van akademiese skryfwerk, op 'n dinamiese wyse in die bydrae vasvang.

'n Derde is geleë in praktiese teologie se besondere belangstelling in die dieperliggende betekenis van praktyke, waarvan outobiografiese werk 'n belangrike voorbeeld is. Dit is juis in die funksionering van dié praktyke asook die beskrywing daarvan, soos byvoorbeeld in outobiografiese skryfwerk, dat 'n belangrike spirituele dimensie onderskei word (Staude 2005:250).

Vierdens, word die karakter van praktiese teologie ook in hierdie beskrywing verwoord. Ter beskrywing van dié karakter skryf Julian Müller dat praktiese teologie inderdaad handel oor die beskrywing van 'n oriëntasie tot die lewe wat "always concrete, local, and contextual" is (Müller 2009:205). Die Amerikaanse praktiese teoloog, Bonnie Miller-McLemore, skryf in aansluiting hierby dat praktiese teologie fokus op "the tangible, the local, the concrete and the embodied ... it remains grounded in practice and stays close to life" (Miller-McLemore 2012b: 12).

In die neerpen van fragmente van my eie (outo)biografie, gaan ek aansluitend by hierdié twee aanhalings van Julian Müller en Bonnie Miller-McLemore ter verdere strukturering gebruik maak van die drie ooreenstemmende merkers, naamlik plaaslik ("local"), konkreet ("concrete") en beliggaam ("embodied"). In die inkleding van dié drie merkers gaan ek telkens die inhoud vul met (outo)biografiese perspektiewe ter verheldering van die verband met my eie navorsing en skryfwerk. Ek gaan egter ook probeer aantoon dat die drie merkers nie net losstaande van mekaar verstaan moet word nie, maar dat dit ook komplementêr in opbou is.

 

Plaaslik ("local")

Die semantiese betekenis van die woord "plaaslik", oftewel "local", het volgens my mening 'n sterk geografiese betekeniskomponent wat weer onder meer direk met die begrip kontekstualiteit resoneer. As praktiese teoloog vanuit Afrika eggo klanke, geure en belewenisse vanuit stofstrate, grasdak-hutte, maar ook 'n besige stadskern waarin individue woon, werk en leef na my en spel dit heel persoonlik en uniek: "plaaslik". Dit is juis hiér, plaaslik, waar ek woon en werk, waar my (outo)biografiese (praktiese) teologiese navorsing en skryfwerk gestalte vind:

Ek onthou nog goed die moment in Graad 1 toe ek ontdek het dat my klasonderwyser my naam ken. Die feit dat sy my naam geken het, was vir my tekenend en bevestigend daarvan dat ek betekenis dra. Jare later het dit teenoor my ervaring gestaan waar ek in ander kontekste slegs op my van aangespreek is. Ek het dit meestal as onpersoonlik en selfs degraderend beskou. Tog vreemd dus dat in akademiese skryfwerk daar dikwels na outeurs slegs by wyse van hul vanne verwys word. So asof sy/hy net 'n bron sou wees, sonder 'n naam en bepaalde lokaliteit en konteks met bepaalde betekenis. Juis daarom verkies ek om in dié bydrae, uitgesonder die tradisionele gebruik van verwysings in hakies, na die name en vanne van outeurs te verwys en daardeur te beklemtoon dat dié intieme naam deel van die bydrae vorm van reflekterende woorde wat deur 'n bepaalde persoon aangebied word.

"Cloudgate" is aanvanklik só gedoop op grond van die reflektering van die hemelkoepel vasgevang in die weerkaatsing vanaf die vlekvrye staal oppervlakte (Cloudgate 2020:n.p.). Mettertyd het dié naam van die beeld in die volksmond verander na "The Bean", verwysende na die simplistiese boonvormige karakter van die kunswerk. Dié spontane naamsverandering het inderdaad ook betekenis vir die bydrae, veral gedagtig aan die titel van die artikel, juis veral gedagtig daaraan dat 'n naam óf titel betekenis dra wat identiteit ontsluit.

Die titel van die artikel suggereer reeds 'n sterk (outo)biografiese aksent. In die klem op "weerkaatsende woorde", word op simboliese wyse aangesluit by "The Bean" se kenmerkende reflekterende eienskap. Nou is die klem egter op die insinuasie dat geskrewe woorde 'n spieël word waarin die skrywer se gesig sigbaar word. As ek dan verder doelbewus kies om outobiografies te skryf word woorde intensioneel gebruik om myself aan ander bekend te maak. Hieroor skryf John-Raphael Staude (2005:252) tereg dat:

We all practice the craft of autobiography every day in our inner conversations about the meaning of our experiences and those conversations, no matter what language or metaphor we use, are fundamentally philosophical and theological by their very nature in that they are concerned with meaning and value.

In die subtitel word dié veronderstelde betekenis van refleksie duideliker opgeneem en verbind aan die (outo)biografiese beskrywing met die implisiete nuanse dat 'n openbaring of onthulling gaan plaasvind. Dit is egter opvallend dat "outo"biografiese met hakies om die voorvoegsel (outo) geskryf word. Dit dui op die gespanne verhouding tussen die "eie" en die "biografíese", dus soekend na die verband en sistemiese verweefdheid van 'n eie verhaal met dié van ander (Müller 2011:n.p.).

Die titel dra egter ook 'n aksent van verdere betekeniswaarde naamlik dat dié opgetekende perspektiewe afkomstig is van 'n teoloog, met weereens 'n aanduiding in hakies dat dit 'n "praktiese" teoloog is. Daarin word reeds implisiet verwoord dat die outeur (ekself) van mening is dat alhoewel verskillende akademiese vakgebiede in teologie onderskei word, dat teologie nie primêr as 'n naamwoord gebruik behoort te word nie, maar eerder soos Jurgens Hendriks (2004:24) voorstel, die karakter van 'n werkwoord, wat prakties bedryf word, vergestalt.

Die titel van enige skryfwerk is die "naam " van die navorsing wat dikwels die sleutel word tot die ontsluiting én lees daarvan. Dikwels gaan alleen die formulering van 'n titel, die potensiële navorser in 'n soektog laat besluit om die inhoud wat volg te lees. In die betrokke akademiese skryfwerk hou die aangeduide titel op ten minste drie vlakke verband met die gedokumenteerde navorsing: Dit verteenwoordig sleutelkonsepte wat verken gaan word; dit bied 'n moontlike wyse vir indeksering en gee uitdrukking aan die sentrale vraag wat die navorsing rig. Vir my is 'n titel tot voor finalisering van publikasie hoogstens 'n moontlikheid waaraan voortdurend op die rekenaarskerm getimmer kan word. Aan die formulering word voortdurend geskaaf: bewustelik en aktief voor die rekenaarskerm as die invoegingswyser ongeduldig oor woorde poets, maar ook meer onbewustelik as die ritme van die titel saam met jou deur die ure van die dag en nag gaan en jy gedurigdeur aan dié betekenis proe. So byvoorbeeld, was "weerkaatsende woorde" eers 'n latere toevoeging tot die titel van die artikel en spruit dit uit 'n persoonlike gesprek met 'n predikantvriend. Die kollega het in 'n pastorale gesprek teenoor my gereflekteer oor die betekenis van 2 Korintiërs 3:18 in sy eie lewe en die wyse waarop ons maar net die heerlikheid van die Here weerkaats. Ek het onmiddellik aan die metafoor van weerkaatsing gedink en gewonder op watter wyse die woorde in (outo)biografiese (praktiese) teologiese skryfwerk in wese weerkaatsend van aard is. Dié perspektief het gelei tot die herformulering van die titel van die betrokke bydrae.

 

Konkreet ("concrete")

Die vlekvrye staal plate van "The Bean" vereis dat dit ten minste twee maal per dag gepoets moet word om die maksimale reflektering te bied (Cloudgate 2020:n.p.). Vir my verteenwoordig akademiese skryfwerk dieselfde opheldering van bepaalde vraagstukke. In aansluiting by die metafoor van "The Bean" wat gepoets moet word, sou ek die vrae wat die skryfwerk rig, wou formuleer aan die hand van die beeld van opheldering. Ek stuur daarom my (outo)biografiese refleksies, en getrou aan aanvaarde akademiese konvensies wat 'n navorsingsvraag vereis, deur eers enkele perspektiewe te bied op die sentrale vraag wat die bydrae rig.

Ek is wel huiwerig om die formulering van 'n navorsingsvraag te benader asof ek besig is met 'n eksakte wetenskap. Ek skram dus weg van die formulering van 'n navorsingsvraag asof navorsing die presiese antwoord daarop gaan bied. Inteendeel, ek is veel gemakliker met beskrywende perspektiewe waarin narratiewe, metafore en assosiatiewe netwerke van betekenis, 'n sentrale rol speel (Müller & Maritz 1998:64).

Met dié oriëntasie in gedagte, maar tog ook sensitief vir die aanvaarde konvensies ten opsigte van akademiese skryfwerk waarin 'n bepaalde probleem geïdentifiseer word, is my soeke in dié bydrae na perspektiewe wat die rol van die mees intieme-persoonlike in akademies-teologiese-, en meer spesifiek prakties-teologiese skryfwerk kan belig. Gedagtig aan die sentrale rol wat die subjektiewe in die "reflexive turn" (Graham 2017:n.p.) speel, is my ondersoek gerig op die rol van die mees persoonlike in die aanbied van akademies-(praktiese)teologiese skryfwerk. In dié soeke na die beskrywing van perspektiewe vir opheldering is die erkenning van die persoonlike register dus belangrik.

Ek vind my inspirasie as (praktiese) teoloog in konkrete kontekste. Dink ek reflekterend terug aan my skryfkamer, is die omtrek daarvan juis groot genoeg om my te sien sit by 'n persoon geaffekteer deur 'n depressiewe gemoed; hoor ek die persone in die gevangenis gereedmaak vir middagete; sien ek hoe 'n chirurg floreer in die spirituele ontdekking van 'n roeping by 'n teatertafel en proe ek hoe iemand besig is om teologie op Twitter te skryf. Dié konkrete, hier lokaal, is my muse; my inspirasie vir die doen van (praktiese) teologie.

In haar bydrae, "Theology in the way we live now: a theopoetics of life writing" (2017), vertrou Heather Walton die leser met die intieme inligting dat sy die laaste paragrawe van haar bydrae by haar kombuistafel skryf. Dit is by dié komsbuistafel waar teologie geleef en gedoen word. Die intimiteit resoneer juis met Kevin Vanhoozer se bydrae dat "Theology is not for Sundays only ... Theology is an everyday affair ... Theology not only articulates beliefs but suggests 'designs for living'" (V anhoozer 2007:7). Dit is juis in dié plaaslike en konkrete ontwerpe waar ek die ruimte vind om ander, maar ook my eie diepe verbintenis tot die lewe te beskryf en daarop te reflekteer. Natuurlik, met die verwagting dat die uitdagende reliëf en kontoere van dié lewe somtyds sorg vir die ruimste horisonne.

My veronderstelling is dat dit juis onder meer daarom is dat Elaine Graham (2017:n.p.) in haar outobiografiese refleksie wys op die beweging en ontwikkeling van praktiese teologie van 'n aanvanklike kerklike toepassingsmodel tot 'n kontekstuele oriëntasie waarin die heilige in die alledaagse nagespoor word (Ganzevoort 2009:n.p.; Ganzevoort & Roeland 2014:n.p.). Ter uitdrukking van dié oriëntasie, en begryplikheidshalwe ook so, is die plaaslike en konkrete konteks, die betekenis van kontekstualiteit, vir my belangrik. Dit is juis in verskillende plaaslike en konkrete kontekste dat die teenwoordigheid van God nagespoor en beskryf kan word. Wanneer die hemel aan die aarde raak, word dus konkreet beliggaam in kontekstuele beskrywings.

"The Bean" is aanvanklik "Cloudgate" gedoop aangesien dit ongeveer 80 persent van die hemelkoepel reflekteer (Cloudgate 2020:n.p.). Alhoewel 'n mens dus op grondvlak is, skep dié kunswerk die illusie dat die hemel aan die aarde raak en dat een werklikheid gekonstrueer word. Na my oordeel is dié waarneming uiters gepas vir my (outo)biografiese verstaan van teologie en, in die besonder ook vir die aard en karakter van (praktiese) teologie.

 

Beliggaam ("embodied")

"The Bean" sal altyd relevant bly, bloot in terme van dié kunswerk se inherente en dinamiese vermoë om die fluktuering van beelde wat konstant verander te reflekteer. Ek het gewonder in watter mate (outo)biografiese (praktiese) teologiese beskrywings oor dieselfde vermoë beskik deurdat dit die verteller uitdaag om ten diepste betekenisse op so 'n wyse te verwoord en te artikuleer dat dit voortgaande moet kan resoneer met die leefwêreld van die leser.

In dié opsig is die belangstelling in populêre kultuur as ruimte vir prakties- teologiese refleksie inderdaad betekenisvol. Nie net ontwikkel populêre kultuur as gevolg van verskeie faktore, onder meer die invloed van die sogenaamde 4de Industriële Revolusie, teen 'n duiselingwekkende spoed nie, maar skep dit die ruimte vir diepgaande vrae na die bestaan van die mens. Dit is juis in refleksie vanuit hierdie voortgaande kontekstuele verbondenheid en in die soeke na die taal en woorde om juis dít te beskryf, dat (outo)biografiese (praktiese) teologiese skryfwerk relevansie aan lesers bied.

Van die jongste ontwikkelings in praktiese teologie poog juis om hierin 'n bydrae te lewer. Voorbeelde hiervan is hoe die verhale van gewone mense op skrif gestel word om juis daardeur 'n sogaamde teologie van onder te skryf. Hieroor skryf Adriaan van Klinken (2018:216):

Storytelling is not only a method for developing a culturally relevant theology, but it is also political significant as it allows foregrounding the perspectives and experiences of people and communities who otherwise do not become part of the theological discourse, granting them an epistemological privilege.

Met (outo)biografiese (praktiese) teologiese skryfwerk is daar na my mening 'n sterk soeke na die verbinding met die inhoud van betekenisvolle akademiese refleksie vir 'n eie lewe, maar waarin veral betekenis gevind word in die verbintenis met ander lewens.

Ek word dikwels deur nie-professionele teoloë gevra waaroor my navorsing gaan. Vertel ek dan aan die individue waarmee ek besig is, kan ek dikwels sien hoe hulle onseker wonder - dikwels sonder om dit openlik te sê - wat die betekenis of doel van dié werk nou eintlik is. Aanvanklik het ek dit doelbewus begin sien as 'n uitdaging om my navorsing se relevansie te toets aan hoe ander daarop reageer. Die afgelope tyd, het ek egter begin om vir mense - binne, maar ook buite die kerk - te vra waaroor hulle dink ek navorsing behoort te doen. In 'n oomblik se tyd het ek in dié antwoorde van kenners - oënskynlik hoe vreemd ook al - dinamiese refleksie begin ontdek en sien oor die moontlike relevante beliggaming van wat teologie vir mense op voetsoolvlak beteken.

Die argitek van "The Bean", Anish Kapoor, het met dié ontwerp 'n bepaalde kreatiwiteit beliggaam ten opsigte van die funksie van dié beeld (Cloudgate 2020:n.p.). Hierin word die bekende argitektoniese beginsel "form follows function" ondermeer beliggaam. Ek het egter ' n vermoede dat teologiese skryfwerk somtyds nog die gevaar loop om uitdrukking te gee aan die teenoorgestelde en uitgediende beginsel van "function follows form". Hiervolgens sou navorsing aangebied kon word binne bepaalde bestaande denkraamwerke, maar sonder om te verstaan wat die funksie daarvan is en of dit enige verandering gaan fasiliteer. Juis daarom is Heather Walton van oortuiging dat "artistic creativity does not supplement the theological enterprise it also deconstructs and fundamentally undermines its authority" (Walton 2017: 3).

In die passing van dié outobiografiese beskrywings sou ander vorme soos byvoorbeeld outo-etnografie of sogenaamde "life-writing" (Moschella 2012:224; Walton 2017:2) ook 'n rol kon speel, maar ek verkies (outo)biografie omdat dit in die eerste plek die subjektief-persoonlike beklemtoon en tweedens omdat dit die karakter van prosaïese vertelling van 'n betrokke lewensverhaal vergestalt (Anderson 2014). Dié perspektiewe was na alle waarskynlikheid ook sentraal in die motivering van ander outobiografies-teologiese werke (Jonker 1998; Moltmann 2009). In die konstruering van outobiografie gaan dit juis oor die self-dialoog wat die individu (ék met myself) voer oor gebeure in die verlede ter wille van die beter verstaan met betrekking tot die hede en die toekoms. "Autobiography is defined as 'a dialogue of the self with the self in the present about the past for the sake of self-understanding" (Staude 2004:249).

Die intieme beliggaming van die plaaslike met die konkrete kan onder meer in die beliggaming van die lewe en werk van Anton Boisen gesien word wat as gevolg van sy eie psigiatriese siekte gehospitaliseer is en op grond van dié ervaring later instrumenteel was in die ontwikkeling van die sogenaamde Clinical Pastoral Education-beweging wat tot vandag wêreldwyd 'n onskatbare bydrae lewer in pastorale versorging (Boisen 1960:7). Dit is in die besonder betekenisvol dat Anton Boisen in sy werk waarskynlik van die eerste bydraes gebied het in die vestiging van narratief-outobiografiese teologie met onder meer die munting van die metafoor "living human documents" (Boisen 1960; Gerkin 1984).

Juis hierom skryf John-Raphael Staude (2005:265) dat: "Autobiography represents a form of creativity ..." In die navolging van vorige pogings van andere en in my voortgaande projek van die skryf van (outo)biografiese (praktiese) teologie, val dit my op dat in bestaande ontwerpe en skryf-pogings, die leesbaarheid - net soos die ontwerp van "The Bean" - gekenmerk word deur 'n toeganklikheid geleë in eenvoud. Moontlik is die rede daarvoor dat in die eenvoud van die optekening van ' n eie lewensverhaal, dit wat mees persoonlik is, juis ook mees algemeen met ander resoneer. Juis daarom word outobiografiese teologie die beliggaming van "... transforming the way in which theology is written and understood" (Walton 2017:2).

In dié aspek van beliggaming bied "The Bean" in terme van 'n plaaslike, konkrete, maar ook beliggaamde uitdrukking van praktiese teologie, 'n bepaalde perspektief. "The Bean" is van vlekvrye staal gebou. Dit is juis in dié keuse van konstruksiemateriaal dat die eiesoortige effek van refleksie gevind word. In die weerkaatsende oppervlak van die vlekvrye staal word dinamiese beelde vasgevang wat afhangend van die tyd van die dag, lig, donkerte en skemerte verskillende projeksies van reflektering bied. Sentraal tot die karakter van die teologiese wetenskap en taal is die soeke om deur letters, woorde en sinne waarhede oor God te probeer formuleer, reflekteer en weerkaats (Migliore 1991:2). In aansluiting hierby erken ek aan die hand van 'n (outo)biografiese perspektief die sosiaal konstruksionistiese aard van taal asook die gegewe dat ek my eie werklikheid deur my eie tongval skep en beliggaam. Net soos wat my eie fotobeeld in "The Bean" se refleksie van Chicago stad as agtergrond vasgevang en weerkaats word, reflekteer ek in die woorde en aksente wat ek kies - bewustelik en onbewustelik - fragmente vanuit my eie verhaal. Dikwels word my eie verstaan dan selfs in oënskynlike onbewuste momente vasgevang in my eie formulerings. Dié fragmente is implisiet sigbaar en teenwoordig in die formulerings wat opgeneem word in die artikel, maar ook eksplisiet in kort refleksies vanuit my eie lewe wat in kursiewe ingekeepte formaat aangedui word. Dit word egter verder beliggaam, op plaaslike en konkrete wyse deur die die keuse van die gebruik van outobiografie as genre. Dit weer word niks anders as geleefde praktiese teologie nie. Daarom kan Elaine Graham (20017:n.p) dan ook skryf:

It is not about reducing practical theology to autobiography but seeing how our standpoints and concerns have informed our intellectual and academic interests, and vice versa. In the interests of integrity and transparency, the self as researcher as one who brings particular presuppositions, questions and interests, must be prepared to write themselves into the text of their research.

Dit is juis in dié outobiografiese beliggaming dat die soeke na integriteit en deursigtigheid die sogenaamde "pastoral cycle" in momente van refleksie lokaal, konkreet en beliggaam aanbied. Daarom skryf Pete Ward (2017: 115): "Reflection should arise from, and have a location in, what is happening. In other words, the key to developing theological reflection is found not in following a method but in practice itself." Die Suid-Afrikaanse praktiese teoloog, Julian Müller, het na alle waarskynlikheid die meeste vir die beliggaming van dié praktyk van outobiografiese teologie binne 'n eie plaaslike en konkrete konteks gedoen. Behalwe die opteken van momente vanuit sy eie lewensverhaal, reflekteer hy ook vanuit 'n akademiese omgewing op die ontwikkeling van narratiewe teologie tot die vestiging van outobiografiese teologie. Met "story theology" of "theology of life" kom Julian Müller (2011:2) dan tot die volgende gevolgtrekking: "Ek kon veral ook ontdek dat my teologie eenvoudig deel van my lewensstorie is. Dit was 'n ontdekking van die verhouding tussen outobiografie en teologie ..." (Müller 2011: 2).

 

Terugskouend

"I thought I knew myself until I began writing about myself (Johnson 2003:227).

Alhoewel ek ongelukkig nog nie die voorreg gehad het om in Chicago "The Bean" te kon besigtig nie en dit dus onbekende terrein vir my is, sal ek dié besienswaardigheid graag eendag wil besoek. In my refleksie met die stad se profiel agter my vasgevang, sal ek dan terugdink aan hierdie opgetekende woorde as deel van ' n (praktiese) teoloog se voortgaande (outo)biografie. Dié beskrywing is egter nie bedoel om staties gedokumenteerd te wees nie. Daarom kontrasteer skrywers soos Elaine Graham (2017:n.p) juis die dinamies, lewende en reflekterende beelde van "The Bean" met die statiese gevangeneming van die Narcissus beeld in die bekende skildery van Caravaggio. John-Raphael Staude (2005:252) som dié voortgaande dinamika treffend op wanneer hy skryf: "Autobiographical consciousness is prospective as much as it is retrospective. The self of the autobiographer exists as something unfinished, full of potentiality, always overflowing the actuality". In dié voortgaande en dinamiese (outo)biografiese refleksie op my lewe as (praktiese) teoloog, veral juis ook nou lokaal, konkreet en beliggaam in 'n Covid-19 grendeltyd, vra dat ek "... remains grounded in practice and stays close to life" (Miller-McLemore 2012b:12). Juis dít en die invloed daarvan op elkeen se lewe, is vir my bepalend van hoe teologie en outo(biografie) bedryf, máár veral geleef behoort te word. Moontlik is dít een van die redes, gedagtig aan die woorde van Johnson aan die begin van dié Terugskouende-perspektief, waarom ek myself eers begin leer ken, namate ek ook oor myself begin skryf ...

 

BIBLIOGRAFIE

Anderson, L. 2014. Autobiography. London: Routledge.         [ Links ]

Bennet, Z. & Rowland, C. 2016. In a glass darkly: The Bible, reflection and everyday life. London: SCM.         [ Links ]

Boisen, A.T. 1960. Out of the depths. An autobiographical study of mental disorder and religious experience. New York: Harper & Brothers Publishers.         [ Links ]

Browning, D.S. 1991. A fundamental practical theology. Descriptive and strategic proposals. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

Cahalan, K.A. & Mikoski, G.S. 2014. Opening the field of practical theology, an introduction. Lanham: Rowman & Littlefield.         [ Links ]

Chicago. 2020. Cloudgate. Online: https://www.chicago.gov/city/en/depts/dca/supp_info/chicago_s_publicartcloudgateinmillenniumpark.html (Accessed: 28 February 2020).         [ Links ]

Cloudgate. 2020. Millennium Park Foundation. Online: https://millenniumparkfoundation.org/art-architecture/cloud-gate/ (Accessed 28 February 2020).         [ Links ]

Ganzevoort, R.R. 2009. Forks in the road when tracing the sacred, Practical theology as hermeneutics of lived religion. Presidential address to the ninth conference of the International Academy of Practical Theology, Chicago 3 August 2009. Online: http://www.ruardganzevoort.nl/pdf/2009_Presidential.pdf (Accessed 10 April 2010).         [ Links ]

Ganzevoort, R.R. & Roeland, J. 2014. Lived religion: The praxis of practical theology, International Journal of Practical Theology 18(1), 91-101. Online: https://doi.org/10.1515/ijpt-2014-0007 (Accessed: 4 September 2015).         [ Links ]

Gerkin, C.V. 1984. The Living Human Document: Re-Visioning Pastoral Counselling in a Hermeneutical Mode. Nashville: Abingdon Press.         [ Links ]

Graham, E.L. 2017. On becoming a practical theologian: Past, present and future tenses. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(4), a4634. https://doi.org/10.4102/hts.v73i4.4634 (Accessed: 31 July 2018).         [ Links ]

Hendriks, H.J. 2004. Studying congregations in Africa. Wellington:Lux Verbi BM.         [ Links ]

Jonker W.D.1998. Selfs die kerk kan verander. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Johnson, R.R. 2003. Autobiography and transformative learning. Narrative in search of self. Journal of Transformative Education. 1(3):227-224.         [ Links ]

Mecer J.A. & B.J. Miller-McLemore, 2016, Conundrums in practical theology, Brill, Boston.         [ Links ]

Migliore, D.L. 1991. Faith seeking understanding: An introduction to Christian Theology. Grand Rapids MI: William B. Eerdmans Publishing Company.         [ Links ]

Miller-McLemore, B.J., 2012a, 'The Wiley-Blackwell Companion to Practical Theology', Blackwell Publishing, Oxford.         [ Links ]

Miller-McLemore, B.J. 2012b. Introduction: The contributions of practical theology. In Miller-McLemore, B.J. (ed.), The Wiley-Blackwell Companion to Practical Theology. Oxford: Blackwell Publishing, 1-20.         [ Links ]

Moltmann, J. 2009. A broad place. An autobiography. Minneapolis: Augsburg Fortress.         [ Links ]

Moschella, M.C. 2012. Etnography. In Miller-McLemore, B.J. (ed.), The Wiley-Blackwell Companion to Practical Theology. Oxford: Blackwell Publishing, 224-233.         [ Links ]

Müller, J.C. 2009. Transversal rationality as a practical way of doing interdisciplinary work, with HIV and Aids as a case study. Practical Theology in South Africa 24(2), 199-228.         [ Links ]

Müller, J.C. 2011. '(Outo)biografie as teologie\is_ HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 67(3), Art. #1113, 5 pages. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v67i3.         [ Links ]

Müller, J. C. & Maritz, B. 1998. Die waarde van metafore binne die hermeneuties- pastorale sisteem. Praktiese Teologie in Suid-Afrika. 13(1):64-71.         [ Links ]

Staude, J.R. 2005. Autobiography as a spiritual practice. Journal of Gerontological Social Work 45(3):249-269.         [ Links ]

Van Klinken, A. 2018. Autobiographical Storytelling and African Narrative Queer Theology. Exchange 47:211-229.         [ Links ]

Vanhoozer, K.J. 2007. What is everyday theology? How and why Christians should read culture. In Vanhoozer, K.J., Anderson, C.A. & Sleasman, M.J. (eds.), Everyday theology: How to read cultural texts and interpret cultural trends. Grand Rapids, MI: Baker Academic, 15-60.         [ Links ]

Walton, H. 2017. Theology in the way we live now: a theopoetics of life writing. Concilium 5:1-9.         [ Links ]

Ward, P. 2017. Introducing practical theology: Mission, ministry and the life of the church. Grand Rapids MI: Baker Academic.         [ Links ]

 

 

1 Departement Praktiese en Missionale Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat E-pos: vdbergja@ufs.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons