SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número1A South African view of Pentecostalism as another response to modernismPastoral care and narrative: Towards a narrative pastoral care approach in intercultural communities índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.57 no.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v57i1.2942 

ORIGINAL RESEARCH

 

J.D. Vorster en die Nederduitse Gereformeerde Kerkorde van 1962: Die Dordtse Kerkorde aangepas by die eise van ons dag?

 

J.D. Vorster and the Dutch Reformed Church Order of 1962: The Church Order of Dordtrecht adapted to the demands of our day?

 

 

Pieter J. Strauss

Department of Systematic and Historical Theology, Faculty of Theology, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

J.D. (Koot) Vorster, was the moderator of the Dutch Reformed Church (1970-1974) as well as the specialist for the church order of the General Synod (1962-1970), had a strong influence on the content of the first church order of this denomination. He was the chairperson of the commission appointed to prepare the concept of this church order for acceptance by the first General Synod in 1962. This article investigates Vorster's part in creating this church order. In doing so, the author studied relevant church historical and church political literature. Vorster wished their church order to be a replica, in its own circumstances, of the famous Synod of Dordrecht's Dutch Church Order in 1618-1619. As far as Vorster was concerned, the Dutch Reformed Church was a Reformed church in the Dutch tradition. The Dutch Reformed Church Order of 1962 showed many signs of the Church Order of Dordtrecht. In articles, Vorster claimed the influence of the Dordtrecht Church Order on the Dutch Reformed Church Order of 1962. However, on certain important issues the Dutch Reformed Church Order had its own way: on the assemblies of the church and in its relation to the state authorities. Vorster not only had a determining influence on the church order, but a proposal of his paved the formal ecclesiastical way for synodical unity in the Dutch Reformed Church in 1962. Vorster was an influential figure in church government. His sharp reactions on things he did not accept as well as his leadership abilities made him a prominent, sometimes controversial, church figure in Southern Africa.
CONTRIBUTION: While accepting the name of In die Skriflig as a norm for the study of church history and church polity, this article investigates the theological tradition in which the first church order of the Dutch Reformed Church as a whole was accepted by its first General Synod in 1962. The church orders accepted by following general synods kept to this line - be it in essence. This article tries to shed some light on this determining factor in the Dutch Reformed Church as well as the role J.D. Vorster played in its establishment. As a background for modern church orders in this church, it partly clears the positions taken up by present day general synods

Keywords: Dordt's church-orderly history; Dutch Reformed Church Order 1962 linked Dordtse Church Order; receivable climate Dutch Reformed Church; confession of church; ecclesiastical offices; church meetings; church labor; respect and discipline.


 

 

Inleiding

Jacobus Daniël (Koot) Vorster (1909-1982) was in vele opsigte 'n merkwaardige figuur (Langner 2007:iv, 178, 186; Olivier & Gaum 2008:1173-1174).

Hy dien van 1953 tot 1975 as die aktuarius of kerkregkundige van die Kaapse of die Wes-Kaapse Sinode - soos dit later bekendgestaan het - en beklee dieselfde posisie van 1962-1970 by die Algemene Sinode; beide van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) (Langner 2007:iv). As Kaapse aktuarius wat in 1956 aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys die graad Theologiae Doctor in kerkreg verwerf (Vorster 1981:i),1 speel hy 'n bepalende rol in die opstel van die eerste kerkorde van die algemene sinodale verband van die NGK (NGKO-1962). Die NGKO-1962 word in 1962 deur die eerste Algemene Sinode aanvaar (NGK 1962:31-51).2 Vorster is voorsitter van die Kommissie van Aktuarii wat die konsep-NGKO-1962 vir voorlegging aan hierdie Algemene Sinode opstel. By die ontbreking van 'n notule van die kommissie, oordeel Langner uit beskikbare bronne dat Vorster die eerste vier van ses hoofstukke van die konsep opgestel en die res geredigeer het. Hy (Langner 2007:87) aanvaar dat die aktuarius van Natal, F.N. van Niekerk, die konsep van hoofstukke vyf en ses geskryf het. Die rol wat Vorster en F.E. O'Brien Geldenhuys, aktuarii van onderskeidelik die Kaapse en Transvaalse Sinodes, speel om die NGKO-1962 deur die Algemene Sinode aanvaar te kry, word versterk deur die besluit van die Raad van Kerke in 1959 dat hierdie twee in 'n adviserende hoedanigheid 'n konsep-NGKO-1962 aan die vyf sinodes wat die Algemene Sinode sou vorm, voorlê. Die term prominente leiersfiguur in die NGK wat vir Vorster3 gebruik word, spruit ook uit die feit dat hy van 1975-1979 moderator4 van die Kaapse Sinode is en van 1962-1978, tussen die eerste en vyfde Algemene Sinodes, lid van die Breë Moderatuur of Algemene Sinodale Kommissie van die NGK (1986:504, 556) is.5 In 1970-1974 dien hy as moderator of voorsitter, en van 1974-1978 as assessor of ondervoorsitter van hierdie liggaam. Dit gebeur nadat hy in 1970 voorsitter en in 1974 ondervoorsitter van die Algemene Sinode was (Langner 2007:iv).

'n Biograaf verwys na Koot Vorster as 'n neo-Calvinis, Afrikanerleier, prominente kerkfiguur,6 innemende herder,7 dinamiese persoonlikheid en iemand met 'n kleurryke lewe wat deurspek is met staaltjies. Behalwe vir sy kerkwerk en leierskap in godsdienstig-kulturele kwessies, is Koot Vorster 'n gereelde spreker voor Afrikaners, 'n NG Kerkwoordvoerder by internasionale gereformeerde geleenthede (Hopkens 1983:269) en 'n mens wat 'n toegeneëntheid vir ander uitstraal. Sy heftigheid wanneer hy van mening verskil, is analities en skerp, en die inhoud daarvan laat soms die wenkbroue lig. Sy uitgesproke menings bemoedig egter sy medestanders (Langner 2007:iv-v; Olivier & Gaum 2008:1173-1174).

Teen hierdie agtergrond wil hierdie artikel Koot Vorster se kerkregtelik-kerkordelike aandeel aan die NGKO-1962 ontleed. Belangstelling in die tema word verhoog deur sy stelling wat hy in September 1960 maak, naamlik dat die konsep-NGKO-1962 die Dordtse Kerkorde van 1619 (DKO-1619)8 aangepas het by die 'eise van ons dag' (Vorster 1960:13). Die vraag is: Watter invloed het Vorster, as 'n geesteskind van die Dordts-gereformeerde tradisie met die DKO-1619, op die NGKO-1962 as die eerste kerkorde van die NGK in algemene sinodale verband gehad? Praat Vorster as 'n eerstehandse getuie sowel as 'n gesaghebbende gereformeerde wanneer hy die NGKO-1962 as die DKO-1619 'aangepas by die eise van ons dag' bestempel? Is hy kerkhistories in die kol as hy oordeel dat die DKO-1619 die 'vigerende' of funksionerende orde in die NGK onder die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie tot 1795 was? Daarby, omdat die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland van 1957 (GKNKO-1957; Nauta 1971:37) wat deur die NGKO-1962 as basis gebruik is, ook 'n eietydse weergawe van die DKO-1619 wou wees, watter spore het dit in die NGKO-1962 gelaat en watter rol speel Koot Vorster in die proses?

Hierdie artikel wys op NG Kerkordes wat die NGKO-1962 histories voorafgaan. In watter kerkordelike situasie ontstaan die NGKO-1962? Wat in die NGKO-1962 kom van die DKO-1619? Wat kom van die GKNKO-1957, en watter rol het Vorster daarin gespeel? Tot watter mate word sy kerkregtelike denke in die NGKO-1962 teruggevind? Wat was sy aandeel aan die hoofstukindeling van die NGKO-1962 - hoofstukke oor die belydenis van die NGK, kerklike ampte, kerkvergaderings, arbeid van die kerk, kerklike opsig en tug, en betrekkings van die NGK 'na buite'? Waar kom hierdie indeling van hoofstukke in 'n kerkorde vandaan?

 

Die NGKO-1962: kerkordelike geskiedenis

Koot Vorster word in sy tesis oor die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die Kompanjie van 1652 tot 1795 gevolg deur E.P.J. Kleynhans (1973) met 'Die kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1795-1962'.

Op grond van primêre bronne kom beide tot die slotsom dat die DKO-1619 die NGKO-1962 voorafgaan (Kleynhans 1973:105; Vorster 1981:85) as die 'vigerende kerkorde' van die NGK aan die Kaap (Vorster 1951:124). Eers in 1804, onder die Bataafse Regering van 1803-1806, vervang die Kerkorde van De Mist die DKO-1619. Vorster (1981) besluit:

Tensy die Kerk anders besluit het of die owerheid as patroon hom 'n ander orde opgelê het, moes die Kerk hom daaraan (DKO-1619) hou Gedurende die bewind van die Kompanjie is daar steeds na die Dordtse Kerkorde as die 'vigerende' kerkorde vir die Kaapse Kerk verwys Suiwer teoreties en juridies gesien was die Dordtse Kerkorde die geldige kerkorde vir die Kaapse Kerk. (p. 85)

Vorster (1981:85-89) gebruik voorbeelde uit die geskiedenis van die Kaapse NGK om sy stelling te staaf. Vir Kleynhans (1973:105-108) is dit opvallend dat daar tydens die bewind van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap (1652-1795) in die NGK voortdurend na die DKO-1619 as die 'vigerende kerkorde' verwys is - 'n gebruik wat hy met voorbeelde staaf. Kleynhans (1973:105) wys op kerkhistorici soos Moorrees en Odendaal wat ook aanvoer dat daar in die Kaapse Kerk in hierdie tyd na die DKO-1619 as die 'vigerende kerkorde' verwys is. Dat hierdie affiniteit vir die DKO-1619 nie bolangs is nie, word deur 'n amptelike brief van die praeses en skriba (voorsitter en sekretaris) van die eerste Sinode (1824) van die Kaapse Kerk aan sy Britse goewerneur bevestig. Namens die groen tafel (van die destydse voorsitter, ondervoorsitter en skriba) (Vorster 1960:12-13) versoek hulle dat die owerheid nie alleen die Algemene Reglement soos deur die Sinode van 1824 aanvaar, moet publiseer nie, maar ook die DKO-1619. Vir hulle is die DKO-1619 'n 'fundamental Document of all the Regulations of our church to which we all are bound to confirm' (brief in Dreyer 1936:259).9 Wat hierdie stelling van die groen tafel sê, is dat die DKO-1619 vir die Kaapse NGK prinsipieel sowel as emosioneel meer fundamenteel is as die staatsaanvaarde Algemene Reglement van 1824. Soos onder die patronaatsreg van die Kompanjie in die Kaapse Kerk van 1652-1795 en die Kerkorde van De Mist vir die NGK soos deur die Bataafse bewind van 1803-1806 opgelê, gehoorsaam die NGK die nuwe Britse owerheid (vanaf 1806) in sy besluite oor die NGK. Wat vir die Kaapse Kerk egter meer fundamenteel is as die besluite van sy owerheid, is sy Dordtse belydenis- en kerkordelike tradisie (vgl. Strauss 2006:649-666). As 'n kerk in die Dordtse tradisie, gehoorsaam hy die vyfde gebod en daarom sy staatsowerheid, maar die kern van sy gereformeerde oortuigings lê dieper.10 Hierdie fundamentele of dieper gereformeerde oortuigings noop Vorster om in 1956 te verklaar dat die DKO-1619 'teoreties en juridies' tydens die Kompanjiesbewind die vigerende kerkorde in die NGK was en dat die NGKO-1962, met Vorster aan die voorpunt, opnuut op Dordt wil oriënteer. Gedurende 1957-196211 vind hy, naas sy gereformeerde grondoortuigings, ook kerkhistoriese gronde om kerkordelik 'aangepas by die eise van ons dag' op die DKO-1619 terug te gryp. Wat Vorster (1960:13) betref, gemeet aan sy belydenisgrondslag en kerkorde (vgl. NGKO-1962:2; artikel 1 en 2), staan die NGK onverkort in die Nederlands-gereformeerde of Dordtse tradisie - 'n tradisie wat hierdie Kerk nie strem nie, maar prinsipieel anker en stuur.12

Hierdie affiniteit vir die DKO-1619 blyk verder uit die geskiedenis van die NGK. In die twintigste eeu oefen die neo-Calvinisme van Abraham Kuyper en sy geesgenote, wat die geloofsband met Dordt koester, 'n naspeurbare impak op die NGK uit (Strauss 1993a:17; 1994:204-205). Hierdie impak lei tot 'n neo-Calvinistiese oplewing in die NGK en Suid-Afrika. Van die 20 teologiese professors wat van 1859 tot 1952 in die NGK dien, studeer 10 aan Kuyper se Vrije Universiteit (VU) - almal na 1907. In die eerste helfte van die twintigste eeu vervang die VU Utrecht as die gewildste plek in die buiteland vir nagraadse studente uit die NGK. Geïnspireer deur die neo-Calvinisme van Kuyper, kom daar in hierdie tyd 'n groter waardering vir die Dordtse ekklesiologiese of kerklike erfenis in die NGK (Deist 1979:122; Strauss 1994:205).

In 1937 besluit die Sinode van die NGK in die Oranje-Vrystaat om naas sy aanvaarde wette en bepalings ook 'n hersiene (deur hierdie sinode) konsep van die DKO-1619 in Afrikaans vir die NGK 'ter informasie' te publiseer (NGK-OVS 1937:191). Hierdie skuif kom in 'n tyd waarin Kuyper se neo-Calvinisme nie net die eties-dogmatiese beslissings van hierdie kerk oor sy kerklike rigting en volkerebeleid beïnvloed nie (Strauss 1993b:19; 1994:205), maar ook rimpelings maak in sy kerkordelike denke. Op sy beurt neem die Kaapse Sinode van 1957, onder leiding van Vorster, in sy nuwe Bepalings en Reglemente (dit vervang sy bestaande Wette en Bepalings) sy hoofstukindeling by die DKO-1619 oor. In die slothoofstuk van sy proefskrif ontleed Vorster (1981:90-134) die organisasie en arbeid van die Kaapse Kerk tot 1795 aan die hand van die hoofstukindeling van die DKO-1619. Hy is kennelik daarvan oortuig dat hierdie indeling die kerkordelike agenda of ordelike kante van 'n gereformeerde kerk dek. In aansluiting hierby, met die nuwe naam 'kerkorde' (vir die NGK) en sy hoofstukindeling soos DKO-1619, loop die NGKO-1962 hierna dieselfde pad (NGKO-1962:2-16). Vir Koot Vorster (1960:13), wat alles van binne beleef, baan die Kaapse Sinode van 1957 die weg vir die NGKO-1962 om dieselfde te doen.

 

Die NGKO-1962: sy kerklike geboorte

In 1957 rapporteer die Kommissie van Aktuarii aan die Raad van Kerke dat hulle besluit het om nie 'n nuwe kerkorde op te stel nie, maar om die hersiene kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN), soos deur die Generale Sinode van Assen in 1957 aanvaar (hierdie kerkorde funksioneer eers vanaf 1 Januarie 1959 in die GKN) (Nauta 1971:37), as basis te gebruik. Die voorstel kom van Koot Vorster met die waarskynlike steun van Kommissielede waaronder neo-Calviniste soos L.E. du Toit (Vrystaat) en F.N. van Niekerk (Natal). Die Federale Raad betuig sy instemming hiermee en versoek die Kommissie om by sy volgende Raadsvergadering in 1959, 'n konseporde vir 'n sinodaal-verenigde NGK soos beoog aan die Raad, voor te lê (Strauss 1993a:16; Raad van Kerke 1957:73-74).13

In sy verklaring van die GKNKO-1957, gee Nauta ter inleiding 'n aanduiding van die doel van hierdie kerkorde. Die Generale Sinode van Den Haag (GKN) van 1949 besluit om die DKO-1619-georiënteerde Kerkorde van die GKN te hersien (Nauta 1971:35). Die volgende Sinode, die Generale Sinode van Rotterdam in 1952, besluit voorts op riglyne waarvolgens die hersiening gedoen moet word. Die gehoorsaming van hierdie riglyne posisioneer die GKNKO-1957 in die wêreld van gereformeerde kerkordes.

Volgens Rotterdam moet die 'patroon' van die ou kerkorde (DKO 1619) sover moontlik gehandhaaf word. Onnodige of, in Nederlands, nodeloze afwykings moet vermy word. Die indeling van die hoofstukke van die DKO-1619 moet min verander. Die vergadering wys egter op verouderde artikels wat geskrap en nuwe artikels wat in die nuwe orde opgeneem moet word. Daarmee beplan die Generale Sinode van Rotterdam nie 'n totaal nuwe kerkorde nie, maar 'n kerkorde wat naas sekere ingrypende veranderinge, noue aansluiting by die DKO-1619 soek.

Het mocht niet meer zijn dan een herziene kerkorde, zodat noch altijd die van Dordrecht er min of meer herkenbaar zou blijven (Nauta 1971:36).14

Hierdie tipering van die komende GKNKO-1957 se kenmerke weerklink in 1960 in Vorster se tipering van die NGKO-1962-konsep wat op die basis of na die voorbeeld van die GKNKO-1957, die DKO-1619 aanpas by die eise van die dag. Anders gestel, met die gebruik van die GKNKO-1957 as basis vir die NGKO-1962 wat albei die DKO-1619 aanpas by die eise van die dag, vat Vorster (1960:13) raak: volgens die Generale Sinode van die GKN van Rotterdam leen die GKNKO-1957 homself inderdaad daartoe. Vir Vorster is die affiniteit in die NGK vir die DKO-1619 waarneembaar in die konsep-NGKO-1962 op die basis van die GKNKO-1957. Die konsep-NGKO-1962 is nie onverwags 'soos 'n vondeling kindjie voor die deur van die kerk neergelê nie'. Volgens Vorster (1960) is dit kerkregtelik:

['n] natuurlike vrug, 'n logiese gevolg van wat voorafgegaan het 'n sluitsteen. Dis nie 'n verandering van stelsel of 'n oorkoepeling van 'n ou stelsel nie, maar 'n verwagte klimaks in die kerkregtelike ontwikkeling. (bl. 17)

Die NGK het selfs onder staatsbemoeiing nooit die gereformeerde beginsels vir kerkregering verloën of die norms soos in die DKO-1619 vervat, prysgegee nie. As 'n klassieke stuk gereformeerde kerkregering bly die DKO-1619 die maatstaf vir regering in die NGK (Vorster 1960:17). Vir Koot Vorster is die konsep-NGKO-1962 as die DKO-1618 'aangepas by die eise van ons dag' histories, kerklik en prinsipieel begrond.

Teen hierdie agtergrond lê die Dordts-gereformeerde aard van die konsep-NGKO-1962 vir Vorster teen 1960 in die volgende kernpunte: waar die konsep-NGKO-1962 op die DKO-1619 bou, toon dit 'die Gereformeerde karakter van die Kerk' en beginsels vir kerkregering ontleen aan die Woord van God; waar die konsep-NGKO-1962 aangepasde elemente van die DKO-1619 toon sonder om gereformeerde beginsels in gedrang te bring, het laasgenoemde vir die NGK lewend geword; as die bindende kerkorde vir die nuwe sinodaal-verenigde NGK, moet alle kerkordelike besluite in NG Kerkvergaderings voortaan aan die NGKO-1962 getoets word. Die NGKO-1962 is 'n produk van die Algemene Sinode as die breedste vergadering van die NGK wat alle gemeentes verteenwoordig. Die NGKO-1962 'verenig die kerke' wat vanweë hulle gemeenskaplike belydenisse en inrigting van die kerk 'organies' een is, maar deur 'n 'nie-kerklike' hofbeslissing organisatories verdeel is: dié van die Kaapse Hooggeregshof in 1862 (Van der Watt 1973:127-138; Vorster 1960:17).

Later bestempel Koot Vorster die ontstaan van die algemene sinodale verband van die NGK in 1962, met die NGKO-1962 as die kerkordelike kant daarvan, as 'n kerkordelike mylpaal (Langner 2007:83). Twee duidelike punte is in hierdie kerkregtelik-kerkordelike aanpak van Vorster sigbaar.

Die eerste punt is dat die kontinuïteit tussen die DKO-1619 en die NGKO-1962 aanwesig is in die konstantes of gereformeerde beginsels vir kerkregering wat hulle deel. Hulle kontinuïteit vanuit twee situasies wat meer as 300 jaar uit mekaar is, lê nie soseer in dieselfde woordelikse bepalings nie, maar die beginsels wat agter hulle bepalings lê. 'n Voorbeelde is die anti-hiërargiese beginsel agter ampsgelykheid in kerkvergaderings en in die gelykwaardigheid van gemeentes in kerkverband wat in grootte verskil. Hierdie ampsgelykheid blyk uit die gelyke waarde van die stemme van ampsdraers in kerkvergaderings en 'n gelykheid onder groter en kleiner gemeentes wat aan hulle, as strukturele gelykes, gelyke stemme in meerdere vergaderings gee (Strauss 1989:1-14).15 By 'n ontleding van die invloed van die DKO-1619 op die NGKO-1962 sal daar meer aandag hieraan geskenk word.

Die tweede punt is die prinsipiële vereiste dat kerkordes afgestem moet wees op praktiese ordereëlings van Woordgetroue kerke in hulle eie tyd, naamlik dat 'n kerkorde - vanuit Bybelsverantwoorde beginsels - moet aanpas om aan die eise van die dag te voldoen. Daarom Vorster se standpunt in 1960: die NGK kan die konsep-NGKO-1962 aanvaar as die DKO-1619 'aangepas by die eise van die dag'. Vir hom lê die kontinuïteit van die NGKO-1962 met die DKO-1619 op twee punte: die aanvaarding van dieselfde norme of konstantes agter bepalings, en 'n eietydse toepassing hiervan as 'n prinsipiële eis. Daarmee erken Vorster dat die GKNKO-1957 in die doel van sy hersiening geslaag het en dat die neo-Calvinistiese invloed uit gereformeerde Nederland op die NGK in die twintigste eeu, kerkordelik waargeneem kan word, Strauss (2010) stel:

[D]aarom dat Vorster hom beywer vir die beginsels van Dordts-gereformeerde kerkregering in NGKO-1962 en skerp daarvan bewus is dat 'n gereformeerde kerkorde aangepas moet wees by die eise van die dag. Sy klem op die eietydse toepassing van die NGKO-1962 blyk veral uit sy 1960-artikel wat daaroor handel, terwyl hy in talle ander geskrifte aan ander kerkregtelik-kerkordelike temas aandag gee (bl. 15-20).

Hoewel die invloed van onderskeidelik A. en H.H. Kuyper, H. Bouwman en F.L. Rutgers op die kerkregtelike denke van Koot Vorster nie presies bepaal of gemeet kan word nie, maak hy (Vorster 1981:137-140) ruimskoots van hierdie gereformeerde kanonici gebruik ter ondersteuning van stellings in sy proefskrif.

As 'n voorstander van gereformeerde kerkregering soos by A. Kuyper en Bouwman, wys Vorster in 1960 op pogings tot kerkordelike reformasie in die Kaapse NGK in aanloop tot die NGKO-1962. Volgens hom het talle hersienings van kerkordes in hierdie tyd plaasgevind waarby 'die beginsels' van die Dordtse Kerkordelike tradisie en die DKO-1619 as maatstaf gedien het. 'n Waterskeiding is genoemde hersiening van die Kaapse Kerk se Bepalings en Reglemente wat na 'vorm en indeling' op die DKO-1619 geskoei is. As 'n inisiatiefnemer en ooggetuie, lewer hy eerstehandse getuienis. Op sy kenmerkende manier vervolg hy in September 1960:

[D]aarom sal dit niemand, wat nie 'n vreemdeling in Jerusalem is nie, verwonder dat die NGKe as basis van vereniging en reël vir die regering van kerke 'n kerkorde opgestel het wat nie anders beskryf kan word nie as die Dordtse Kerkorde, aangepas by die eise van ons dag. Die kerk het nie van stelsel verander nie, maar sy trou aan die Gereformeerde stelsel bevestig. (Vorster 1960:13)

Dit word ook bevestig deur die feit dat die kerk (op daardie stadium die vyf provinsiaal-georiënteerde NG Kerke of sinodes, naamlik Kaapland, Natal, die Vrystaat, Transvaal en Suidwes-Afrika) (Strauss 1989)16 hierdie kerkorde met weinig kritiek verwelkom en in die geval van een sinode reeds aanvaar het. Elke kenner van ons kerk weet dat as daarmee 'n vreemde stelsel aan ons kerk opgedring word, dit 'n storm van protes sou ontlok het. Allerweë is dit egter verwelkom en met entoesiasme aanvaar (Vorster 1960:13).

Koot Vorster se ingesteldheid na hierdie maklike aanvaarding van NGKO-1962 dui op die goedkeuring van sy insette oor 'n breë front vir 'n sinodaalverenigde NGK. Vanuit sy Dordts-gereformeerde waardes en neo-Calvinistiese lewensuitkyk, was sy aandeel aan NGKO-1962 deel van sy insette vir 'n algemene sinodale verband in die NGK, as die kerkordelike basis vir 'n nuwe sinodaal-verenigde NGK. Sy betrokkenheid hierby noem hyself die 'grootste verdienste' van sy lewe (Langner 2007:83).

Hiermee verskuif die aandag na die teks van die NGKO-1962. Die fokus val op die NGKO-1962 se hantering van die DKO-1619 en die GKNKO-1957 en sy opneem van eietydse elemente. Gedagtig aan die aard van hierdie artikel word die aandag tot kernaspekte beperk.

 

Die NGKO-1962: hooflyne van die teks

Die belydenis en orde van die kerk

Vanuit 'n reformatoriese oogpunt en die Dordts-gereformeerde binding aan die belydenisskrifte, begin die NGKO-1962 by die fondament van kerkwees of die gemeenskap van die gelowiges: die Bybel as die 'heilige en onfeilbare Woord van God' en die 'leer wat die Kerk in ooreenstemming met Gods Woord bely'. Volgens die NGKO-1962 word hierdie leer in die drie 'Formuliere van Enigheid''uitgedruk' soos 'op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619' vasgestel (NGKO 1964:2; Strauss 2006:649-666).

Hoewel die DKO-1619 van bedienaars van die Woord - doktore in die Teologie, ander professore, rektore, skoolmeesters en sieketroosters - verwag om die Drie Formuliere van Eenheid te onderteken (Kuyper sa:193 e.v.; 202, 231, 245-247), word die basis van aanvaarding van hierdie belydenisskrifte wat elders by die naam genoem word, nie in die DKO-1619 verwoord nie. Dordt se basis van aanvaarding staan in 'n sinodaal-goedgekeurde ondertekeningsformulier (Kuyper sa:186-187). NGKO-1962 artikel 1 se stelling van die leer 'staan uitgedruk' in die Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HK) en Dordtse Leerreëls soos op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619 vasgestel en kom dus nie uit die DKO-1619 nie (Pont 1981:176-186). Die NGKO-1962 se 'staan uitgedruk in' stem wel ooreen met die Dordtse ondertekeningsformulier se 'begrepen in' (Kuyper sa:186-187). Wanneer die Algemene Sinode van 1998 van die NGK die binding van die belydenisskrifte verduidelik, onderskryf hy NGKO-1962 artikel 1. Volgens hierdie Sinode lê die binding van hierdie geskrifte in hulle formulering van die 'gereformeerde geloofsoortuiging'. Hulle praat hierin met gesag omdat hulle in hulle verwoording van geloofsake met die Skrif ooreenstem (NGK 1998:414-415). Volgens sy eie insigte is die NGK hiermee 'Dordts' en onderskryf hy die Drie Formuliere van 'Enigheid' omdat (quia) dit met die Skrif ooreenkom. Daarby noem NGKO-1962 artikel 1 sedert sy ontstaan slegs die Formuliere van Eenheid. Die ekumeniese belydenisskrifte, te wete die Apostolicum en Belydenisse van Nicea en Athanasius, word nie vermeld nie. Die rede vir hierdie weglating is omdat die drie ekumeniese belydenisskrifte wel in NGB artikel 9 bely word. 'n Duplisering hiervan kan die indruk skep dat die NGK nie nougeset en ernstig is oor sy kennis van NGB artikel 9 nie (NG Kerk-Uitgewers 1982:14).

Met sy formulering van die Bybel as die 'heilige en onfeilbare Woord van God', beskou NGKO-1962 artikel 1 hierdie boek as 'n objektiewe waarheid wat nie van die aanvaarding van mense of hulle instemming met die inhoud afhanklik is nie. Volgens die NGKO-1962 is die 'hele' Skrif as 'n objektiewe goddelike waarheid oor die Christelike geloof deur die Heilige Gees geïnspireer, en word dit deur mense aanvaar wat deur die Gees met die boodskap daarvan oortuig word - 'n boodskap wat op God se verlossing en genade afgestem is (Heyns 1977:145-147).

'n Saak waarin die NGKO-1962 die GKNKO-1957 navolg, is dat 1 Korintiërs 14:40 die enigste Bybelteks is wat in hulle artikels voorkom. In albei kerkordes se artikel 2 word hierdie vers in verband gebring met die opdrag dat alles in die gemeente van Christus ordelik en welvoeglik daaraan moet 'toegaan' (Nauta 1971:43; NGKO-1964:2). Daarom volg daar kerkordebepalings waardeur albei kerke ooreenkomstig Skrif en belydenis hulle taak moet uitvoer. Op hierdie punt volg die NGKO-1962 die GKNKO-1957 woordeliks. Albei volg DKO-1619 artikel 1 nie woordeliks nie, maar tematies. Vir die NGKO-1962 sowel as die GKNKO-1957 dek die hoofstukindeling van die DKO-1619 die taak van die kerk volledig: die ampte, kerkvergaderings, werksaamhede van die kerk, regering en tug van die kerk en die betrekkings van die kerk na buite (Nauta 1971:43; NGKO-1964:2). Waar die NGKO-1962 met sy uitdruklike omskrywing van Skrif en belydenis in artikel 1 van sy Nederlandse susterskerk die GKN (Strauss 1992:68, 76) verskil (getrou aan die Dordtse tradisie neem die GKNKO-1957 dit nie in sy artikels op nie), stem hulle saam oor die DKO-1619-gebaseerde terreine wat kerkordes moet dek. Op hierdie punt volg albei die DKO-1619.

NGKO-1962 beskou die verduideliking van die rol van Skrif en belydenis in NGKO-1962 artikel 1 as 'n eietydse eis in die NGK - 'n eis waarin Koot Vorster in die verwoording van NGKO-1962 waarskynlik die inisiatief neem. Só speel die NGKO-1962 ook 'n opvoedingsrol in die kerk en word die kerklike status en gebruik van Skrif en belydenis kerkordelik verskans (Strauss 2008:111).

Die ampte van die kerk

Ten opsigte van die ampte van die kerk begin NGKO-1962, soos GKNKO-1957, met 'algemene bepalings'. NGKO-1962 artikel 3 vernuwe GKNKO-1957 artikel 2 en DKO-1619 artikel 2-28 egter vanuit sy eie situasie (Nauta 1971:47; NGKO 1962:2; Pont 1981:176-179). Die GKNKO-1957 sowel as NGKO-1962 handhaaf die besondere drie ampte van die Reformasie, naamlik dié van bedienaar van die Woord, ouderling en diaken. Die DKO-1619 maak, tipies van sy tyd, ook plek vir 'doctoren' (Pont 1981:176). Die GKNKO-1957 en NGKO-1962 beskou die drie besondere ampte as gelykwaardig, maar met 'n onderskeid in opdrag en werk. Op hierdie punt verryk die NGKO-1962 die GKNKO-1957 en DKO-1619:

By die uitoefening van hulle roeping mag geen ampsdraer oor ander ampsdraers heerskappy voer nie, aangesien Christus die enigste Hoof, Koning en Meester van Sy kerk is. (NGKO-1964:2)

Wat die NGKO-1962 hier doen, is om die anti-hiërargiese beginsel te begrond en dit by algemene bepalings van die ampte in te werk. Omdat Christus die enigste Hoof van sy kerk is en die enigste Een is aan wie die kerk - in beginsel - hiërargies onderworpe is, omdat Hy deur sy Woord en Gees die kerk regeer, word menslike heerskappy in NGKO-1962 artikel 3 afgewys (Strauss 2010:51-55). Soos onder Skrif en belydenis, gee die NGKO-1962 by implikasie egter toe aan 'n eietydse eis wat moontlik 'n leemte in die NGK aandui. Vrees vir onkunde bring mee dat die NGKO-1962 nie net kanale vir optrede skep nie, maar die kanale ook motiveer. Daarom kom die NGKO-1962 met ' aangesien Christus die enigste Hoof van Sy kerk is', is 'die drie ampte gelykwaardig'. Die NGKO-1962 gee hier 'n motivering wat, in plaas van die gee van ordelike kanale vir die optrede van 'n mondige kerk, kerklik-opvoedkundig met onkundiges te werk gaan. Die NGKO-1962 onderrig sy gebruikers.

Op hierdie punt ontstaan die vermoede dat Koot Vorster hierdie opvoedkundige greep in die NGKO-1962 ingewerk het omdat hy nie daarvan oortuig was dat 'sy kerk' die anti-hiërargiese norm verinnerlik het nie.17 Hoewel die DKO-1619 en GKNKO-1957 nie dieselfde motivering bevat nie, sou Vorster kon reël dat so iets in die NGKO-1962 opgeneem word. By 'n gebrek aan bronne bly hierdie vermoede egter 'n bespiegeling.

NGKO-1962 artikel 4 sluit aan by GKNKO-1957 artikel 3 wanneer dit bepaal dat 'niemand' [as belydende lidmaat?] in een van hierdie ampte kan dien as die een nie wettig verkies is nie (Nauta 1971:50; NGKO 1964:2). Die eise en take vir die besondere amp of diens (volgens DKO-1619) word in die omskrywing van die taak van hierdie diens vervat.

NGKO-1962 artikel 9 koppel die taak van die predikant aan die naam van die amp: die bedienaar van Gods Woord of verbi divini minister (VDM). Gerig deur die Woord gaan dit hier om die verkondiging binne en buite eredienste, sakramente, leiding van eredienste en kerkraadsvergaderings, kategetiese onderwys, Woordgebonde regering en tug in die gemeente, 'behoorlike' Woordgebonde huisbesoek en herderlike sorg. Daarom kan die naam herder en leraar ook hier gebruik word (NGKO-1964:3). Op sy beurt verbind GKNKO-1957 artikel 9 die 'dienaar des Woords' primêr aan die verkondiging van die Woord binne en buite die erediens. Waar NGKO-1962 die verkondiging buite die gemeente impliseer, noem die GKNKO-1957 dit by name. Enkele pligte kom in die GKNKO-1957 voor wat nie in die NGKO-1962 opgeneem is nie. Wat opval, is dat die NGKO-1962, soos die GKNKO-1957, ook bepalings oor die bedienaar van die Woord by artikel 9 inwerk. Hierdie formele numeriese ooreenkoms versterk die kontinuïteit tussen die GKNKO-1957 en NGKO-1962. Dit bevestig die bewering dat die NGKO-1962 die GKNKO-1957 as basis gebruik het (Nauta 1971:67-68).

Steeds onder die bedienaar van die Woord, bepaal die NGKO-1962 'n 'deeglike teologiese opleiding' (hierdie term kom uit GKNKO-1957 artikel 6) (vgl met NGKO-1964:2; Nauta 1971:61), die ondertekening van die Formuliere van 'Enigheid',18 'n kerklike toelating tot die bediening en die beroeping en bevestiging in die amp (NGKO-1964:2, 3 - artikel 5-8). Die GKNKO-1957 reël verwante sake in sy artikel 6-9 (Nauta 1971:61-68). Die NGKO-1962 gee in artikels 10-14 ook bepalings vir die optrede van die bedienaar in 'n ander gemeente, sy bedanking, die losmaak van die band in sy kerklike pos, lewensonderhoud en emeritaat (NGKO-1964:3-4). Hoewel die omstandighede verskil, neem die GKNKO-1957 verwante sake in oënskou in artikels 10-19 (Nauta 1971:71-94). Twee sake is opvallend: die nommers is dikwels dieselfde, terwyl dieselfde soort sake rondom die bedienaars in NGKO-1962 en GKNKO-1957 voorkom. Daarby leen NGKO-1962 frases en woorde soos die gemeente tot troos en stigting dien, lewensonderhoud en lewensstaat by die GKNKO-1957.

NGKO-1962 bepaal in artikel 15-17 die taak van die ouderling en diaken. Die ouderling word getaak met die herderlike versorging, regering, opsig en tug in die gemeente, moet deur 'huisbesoek' by die lidmate uitkom en 'ander' na Christus lei. Die diaken word geroep vir diens van barmhartigheid in die gemeente en wyer, vir die middels daarvoor en vir die instandhouding van die erediens (NGKO-1964:4). Ten opsigte van die ouderling en diaken volg NGKO-1962 die GKNKO-1957 hoofsaaklik in dieselfde sake en begrippe (Nauta 1971:103, 106-107).

Daar is dus raakpunte rondom die kerklike ampte tussen NGKO-1962 en GKNKO-1957. Ook hier het die NGKO-1962 van die GKNKO-1957 'n voorbeeld gemaak. Die aangewese outeur vir 'n konsep-NGKO-1962 artikel 3-17 oor die ampte van die kerk was weereens Koot Vorster.

Die vergaderings van die kerk

NGKO-1962 artikel 19-25 volg GKNKO-1957 artikel 27-34 met 'n hofie 'algemene bepalings vir kerkvergaderings' (Nauta 1971:117-152; NGKO 1962:5). Die drie kerkordes, naamlik DKO-1619 artikel 29-36, GKNKO-1957 en NGKO-1962, gee onder algemene bepalings vir kerkvergaderings telkens eietydse formulerings van ooreenstemmende bepalings - bepalings wat kerkvergaderings as vergaderings in geloofsverband in die samelewing wil verseker.19 Die GKNKO-1957 sowel as die NGKO-1962 begin met 'gewone' vergaderings, naamlik die kerkraad, klassis (GKN) of ring (NGK) partikuliere sinode (GKN) of sinode (NGK) en generale (GKN) of algemene sinode (NGK). Vroeër handhaaf die DKO-1619 (Pont 1981:179-180) dieselfde vier kerkvergaderings. Dit is opvallend dat die NGKO-1962 as 'n Afrikaanse kerk sy Nederlandse susterskerk byna woordeliks napraat met 'gewone kerklike vergaderings'. Byna woordeliks sê albei dat die regering (die GKN noem opsig) en tug van die kerk aan hierdie vergaderings toevertrou word (Nauta 1971:117). Vervolgens verskuif die aandag na die hoofsake vir ons tema.

DKO-1619 artikel 30 sê dat kerkvergaderings slegs kerklike sake op 'n kerklike wyse hanteer. Hierdie artikel (art. 30) se oorsprong is uit die Provinsiale (1574) en Nasionale Sinodes (1578) van Dordrecht van die ou Gereformeerde Kerk in Nederland (Biesterveld & Kuyper 1905:63, 102). Via die DKO-1619 (Pont 1981:179) en GKNKO-1957 (Nauta 1971:126) word die bepaling oorgeneem in NGKO-1962 artikel 21. In saaklike Afrikaans, vanuit die eie aard van die kerk en daarom moontlik op inisiatief van Koot Vorster, lui dit: 'Die vergaderinge behandel alleen kerklike sake en wel op 'n kerklike wyse' (NGKO-1964:5). Omdat die kerk as samelewingsverband alle sake onder die son kan hanteer wat 'n kerklike 'aspek' of kant het of ontwikkel, verander NGKO-1998 die artikel se bewoording na kerkvergaderings behandel alle sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op 'n kerklike wyse. Waar die DKO-1619 en GKNKO-1957 na 'n ruimtelike kompartementering van kerklike sake neig en in beginsel ruimtelik beperkend optree, maak NGKO-1998 die saak oop: Omdat alles met alles in die skepping saamhang, kan enige saak 'n kerklike aspek ontwikkel; enige saak kan verafgod of materialisties verabsoluteer of bybels skeefgetrek word (Nauta 1981:126-130; Strauss 2010:59-61). In verband met DKO-1619, GKNKO-1957 en NGKO-1962, kom die NGKO-1998 later met 'n hervormingsinisiatief. DKO-1618 artikel 30 word gereformeer as 'n stap eie aan 'n gereformeerde kerk (Koffeman 2009:35). Daarby is 'n kerkorde soms afhanklik van Christelik sosiologiese insigte omdat, uit 'n bybelse hoek, alles met alles saamhang (Nauta 1971:127). Op sy beurt gee GKNKO-1957 die verrykende stelling dat kerkvergaderings alle sake ooreenkomstig die 'kerkelijk karakter van deze vergaderingen' moet hanteer, naamlik dat kerkvergaderings in gesindheid en besluite kerk van Christus moet bly en dit so sal hanteer dat dit duidelik blyk dat hy van Christus is (Nauta 1971:126).

Die tweede reël in DKO-1619 artikel 30 is belangrik, omdat dit wil verseker dat meerdere vergaderings soos klassisse (ook klasses) of sinodes nie sake na hulle toe aantrek wat op mindere vergaderings afgehandel kan word nie. Meerdere vergaderings moenie die take van mindere vergaderings oorneem en hierdie vergaderings tot onmondigheid en irrelevansie dwing nie (Pont 1981:129). GKNKO-1957 artikel 30 sowel as NGKO-artikel 22 neem hierdie reël oor (Nauta 1971:133; NGKO-1964:5). DKO-1619 artikel 36 voeg hierby 'n bepaling wat moeilik verduidelik word: Die gesag van die klassis oor die kerkraad is dieselfde as die van die sinode oor die klassis. Binne die raamwerk van vergaderings in kerkverband klink hierdie bepaling logies, maar prakties is dit niksseggend en weglaatbaar. Daarom reformeer GKNKO-artikel 28 die inhoud deur dit te koppel aan 'n gesagsbegrip van gereformeerde kerkvergaderings, wat spruit uit 'n neo-Calvinistiese ontwikkeling aan die Vrye Universiteit in Amsterdam in die twintigste eeu: Kerkvergaderings het na hulle eie aard kerklike gesag wat deur Christus aan hulle verleen word 20 of hulle bestryk hulle aangewese terrein in die Naam van Jesus Christus met 'n van Christusverleende gesag (Nauta 1971:121-125; Strauss 2010:29-30). Kerkvergaderings moet daardie sake wat deur die GKNKO-1957 en NGKO-1962 aan hulle toegewys, is sowel as die sake wat deur vasgeloopte mindere vergaderings vir hulle aangegee word, met die gesag wat deur Christus verleen word, bybels hanteer. Dit beteken dat elke kerkvergadering sy agenda binne die konteks van gereformeerde kerkregering met Christus- en Woordgesag moet kan verantwoord (Jonker 1965:6); dat dit deel is van sy verantwoordelikheid om seker te maak dat die betrokke saak en sy besluite daaroor op sy agenda hoort; dat sy besluite 'n bybels-kerklike oorsprong het; en dat die kerk van die Here Jesus weet waarvan hy praat as hy as kerk praat (NGKO-1964:5; Strauss 2010:57-61). Met sy neo-Calvinistiese agtergrond kon Koot Vorster uit oortuiging met hierdie houding assosieer. Vir hom was dit bekende, aanvaarbare taal.

Die GKN-KO en NGKO-1962 gee nie ruimte aan die 'berugte' bepaling (in gereformeerde Nederland in die veertigerjare van die vorige eeu) (De Jong 1985:404-405) in DKO-1619 artikel 31 dat besluite van kerkvergaderings bindend is tensy dit bewys kan word dat dit in stryd met Gods Woord is nie. DKO-1619 wys immers nie 'n prinsipieel-verantwoordbare kerkvergadering aan wat met gesag moet besluit oor die bybelse aanvaarbaarheid van besluite van ander vergaderings nie (Pont 1981:180). NGKO-1962 artikel 23 en GKNKO-1957 artikel 21 skep wel kanale vir besware, beroepe en appèlle - met verskille oor die besluite van vergaderings - teen die besluite van kerkvergaderings (Nauta 1971:135-143; NGKO-1964:5). Anders as GKNKO-1957 en soos DKO-1619, gee die NGKO-1962 voorskrifte vir die praeses en skriba van kerkvergaderings (NGKO-1964:5) - vergaderings wat volgens DKO-1619 artikel 32 (Pont 1981:180) en NGKO-1962 artikel 24 met gebed geopen en afgesluit moet word (NGKO-1964:5).

Op die punt van meerdere vergaderings loop die NGKO-1962 'n ander pad as die GKNKO-1957 en DKO-1619. Die NGKO-1962 hanteer 'sinodes' in die NGK as vergaderings wat vantevore as selfstandige generale of algemene sinodes gefunksioneer het en in 1962 as byna volledige 'sinodes' in 'n nuwe algemene sinodale verband opgeneem word. Hierdie sinodes met hulle staatkundig-provinsiale grense word deur die NGKO-1962 aanvaar soos hulle grootliks voor 1962 onder staatsdruk ontwikkel het (Van der Watt 1987:10). NGKO-1962 neem dus nie die partikuliere sinodes van die DKO-1619 met hulle agenda en trapsgewyse manier van klassisafvaardiging na partikuliere na nasionale sinode in ag nie. DKO-1619 word op hierdie punt nie by die eise van die dag aangepas nie, maar verruil vir meer as een motief ten grondslag van kerklike meerdere vergaderings (Pont 1981:180-181).

Daarom bestaan daar 'n vaagheid in die NGKO-1962 oor die grens tussen die sinode en die Algemene Sinode. In die eerste plek word 'n NGsinode deur die NGKO-1962 getaak om kerkordebepalings wat nie die NGKO-1962 teenspreek nie, op te stel vir die take aan hulle toegesê. Hiermee sit hierdie sinodes tot 'n groot mate hulle vroeëre verantwoordelikhede voort as breedste vergadering van die afgevaardigdes van die gemeentes wat hulle saamstel. In die tweede plek moet die sinodes 'alles' behartig wat die gemeentes in hulle gebiede in 'gemeen het'. Alles met die uitsondering van dit wat - ongekwalifiseer - by die Algemene Sinode tuishoort. Hiermee word die deur egter oopgelaat vir botsende besluite tussen die Algemene Sinode en sinodes of die sinodes onderling oor hulle agendas. NGKO-1962 bepaal boonop dat die Algemene Sinode die 'gemeenskaplike belange' van die 'sinodes' hanteer asook die 'beleid' vir die werk van die sinodes asof dit die sinodes aan kerklike mondigheid ontbreek om kerklike koers aan hulle eie werk te gee. Hulle mag die werk doen, maar die begronding word hulle ontneem (NGKO-1964:7; Strauss 2010:73). Die bepalings dat sinodes alles behartig wat die gemeentes in hulle gebiede in gemeen het, maar dat die Algemene Sinode die 'beleid' van die werk en gemeenskaplike belange van sinodes hanteer, gee nie 'n duidelike maatstaf om die werk van die Algemene Sinode van dié van die sinodes van mekaar te onderskei nie. Hierdie poging om die geskiedenis van die sinodale verband in die NGK - deur die minste weerstand teenoor die histories-geworde praktyk - te behou en met 'n gereformeerd-kerkregtelike benadering van kerkverband of met die DKO-1619 te probeer and verenig, blyk ook uit die getal afgevaardigdes per sinode na die Algemene Sinode. NGKO-1962 artikel 38 reël dat elke sinode 50 afgevaardigdes (25 dominees en 25 ouderlinge) na die Algemene Sinode stuur, maar dat die NGK in Suid-Afrika (Kaapland) 150 afgevaardigdes stuur. Die beginsel bepaal dat sinodes as kerkregtelik-erkende strukturele gelykes los van hulle grootte, 'n gelyke getal moet afvaardig. Die toegee aan die praktyk in die NGK sorg egter vir twee uitsonderings: die Kaapse Kerk as die grootste sinodale verband (in terme van getalle) kan 'n willekeurigbepaalde 150 gesante stuur, terwyl kleiner sinodes soos Suidwes-Afrika minder as 50 afgevaardigdes kan stuur (NGKO-1964:8). Koot Vorster steun die demokraties-willekeurige verteenwoordiging in meerdere vergaderings en nie gelyke verteenwoordiging van struktureelgelyke gemeentes as volledige kerke of van klassisse of sinodes na meerdere vergaderings nie. Gemeentes se volledige kerkwees hang immers van die Skriftuurlike bediening van Woord en sakrament en die kerklike tug onder gelowiges binne 'n afgemete ruimte af en nie van hulle getalle of bankbalans nie (Heyns 1977:109-114, 1992:343-345). Trou aan sy aard en lojaliteit teenoor die NGK, het Koot Vorster die historiese gegewe in die kerk en nie die Dordtse beginsel nie, pragmatisties skynbaar aanvaarbaar gevind (Pont 1981:180, 182, 183).

Die arbeid, kerklike opsig en tug en betrekkings van die kerk na buite

Dat die DKO-1619, GKNKO-1957 en NGKO-1962 kerklik familie is, word duidelik uit ordemaatreëls vir die arbeid van die kerk, kerklike tug en die betrekkings van die kerk na buite; alles in die slothoofstukke van elke kerkorde vervat. Die DKO-1619 doen dit in artikel 53-70, die GKNKO-1957 in 67-135 en die NGKO-1962 in 48-70 (Nauta 1971:239-347; NGKO-1964:10-16; Pont 1981:182-186).

Sekere lyne in die 'Hollands-gereformeerde' sin van die woord, is onder al drie hierdie temas aanwesig.

Rondom die bediening van Woord en sakrament in 'n amptelike erediens of 'n diens onder leiding van die besondere ampte, ingestel op die suiwer bediening van die Woord, is daar eenstemmigheid. Daarom reël die DKO-1619 dat Sondae se namiddagdiens 'n Kategismuspreek bevat en dat hierdie troosboek met sy 52 Sondae jaarliks gepreek word (Pont 1981:184). Die NGKO-1962 bepaal dat die amptelike 'Afrikaanse' Bybelvertaling, liturgiese orde, liturgiese formuliere en Gesangboek soos deur die Algemene Sinode aanvaar, in eredienste gebruik word. Soos in GKNKO-1957 artikel 71.1 moet preke volgens NGKO-1962 artikel 48 met 'n verstaanbare uitleg en toepassing van die Bybel gepaard gaan (Nauta 1971:252; NGKO-1964:10). Volgens 'n besluit in die NG Kerk in die 1820's (Kaapse Kerkargief S 1/1:26; Strauss 1995:427), moet daar kragtens NGKO-1962 artikel 48, twaalf keer per jaar 'in volgorde aan die hand van', die Kategismus gepreek word' (NGKO-1964:10). Die sakramente van die doop en die nagmaal moet volgens die drie kerkordes in 'n erediens plaasvind waarby die kerklik goedgekeurde formulier as die verduidelikende Woord soos deur die breë kerk verstaan, gebruik word. Die formulier mik immers na die gerespekteerde waarheid soos vertolk deur van die 'heilige, algemene Christelike kerk' en staan haaks op die eie brousel of 'formulier' van 'n ambisieuse gemeentepredikant (Nauta 1971:255, 272; NGKO-1964:10, 11; Pont 1981:183).

Ten opsigte van kerkelijke censuren of tug lê al drie kerkordes klem op die geestelike karakter daarvan. DKO-1619 artikel 71 sê prontuit dat 'de Christelijke straf geestelijk is en niemand van het burgerlijk straf bevrijdt' (Pont 1981:184). GKNKO-1957 oordeel dat die tug en vermaning van die kerk 'een geestelijk karakter' dra (Nauta 1971:358). NGKO-1962 volg in die spore van die GKNKO-1957 en DKO-1619 wanneer dit aanvoer dat die 'kerklike opsig en tug 'n geestelike karakter dra' en die 'toon van die burgerlike regspleging vermy' (NGKO-1964:12). Hoewel ons hier nie op ordereëls vir die behoud van die geestelike karakter kan ingaan nie, gee die drie kerkordes hiermee 'n kerklik-relevante, navolgingswaardige vertrekpunt (vgl. Strauss 2017:375-389).

In hulle betrekkings na buite, kom twee sake in die drie kerkordes in sig. Die eerste is hulle betrekkings met ander kerke of hulle ekumene; en die tweede, hulle houding teenoor hulle eie staatsowerheid. In albei gevalle gebruik hulle gereformeerde oortuigings toegepas in 'n bepaalde situasie. Koot Vorster se idee van 'n kerkorde 'aangepas by die eise van die dag' bly dus op die kerklike agenda.

Hoewel die DKO-1619 in 'n tyd funksioneer waarin gereformeerde ekumene nie so 'n brandpunt soos in die twintigste eeu is nie (De Jong 1985:415-435), bevat dit 'n spesiale hofie vir Buitenlandsche kerken. Die kern hiervan is dat kerkeenheid 'n eenheid in die waarheid is en dat 'n gebrek aan gedeelde Skrifwaarhede tot kerklike verwerping kan lei (Pont 1981:186). Dat die DKO-1619 hiermee nie 'n vreemdeling vir sy latere gereformeerde familie is nie, word deur GKNKO-1957 en NGKO-1962 bevestig.

Die DKO-1619 bepaal dat die Gereformeerde Kerk ander kerke nie as gevolg van verskille oor middelmatige sake of gebruike van 'n middelmatige aard moet verwerp nie (Pont 1981:186). Hierdie stelling sê dat nie alle kerklike waarhede uit 'n geloofs- of bybelse oogpunt ewe belangrik is nie. Kerkeenheid is 'n eenheid in die kernwaarhede. Periferiese verskille of menslike voorkeure moenie die eenheid in die kernwaarhede van die geloof strem nie. Binne belydeniseenheid as eenheid in kernsake, is daar ruimte vir aksentverskille of verskille in menslike gebruike. Daarom tref die GKNKO-1957 'n onderskeid tussen korrespondensie in engere en ruimer sin. Eersgenoemde word aangeknoop met kerke van gereformeerde belydenis wat dit handhaaf. Hierin word attestate uitgeruil, predikante wedersyds op kansels toegelaat en gesante wedersyds na sinodes gestuur. Engere korrespondensie beteken dat die betrokkenes een kerk sou wees as hulle in dieselfde omgewing was. Ruimer korrespondensie stuur slegs gesante na sinodes (Nauta 1971:449). Opvallend is dat hierdie twee soorte korrespondensie aan gedeelde geloofswaarhede gekoppel is. Hoe nader aan mekaar in geloofsoortuiging, hoe groter die kontak. Gevolglik ontwikkel hier 'n eietydse gestaltegewing van DKO-1619 oor ekumene. NGKO-1962 volg dieselfde beginsellyn in sy ekumene: nouer verhoudings met gereformeerdes en 'n voorkeur vir kerke van 'Protestants-Christelike' belydenis. Sy verhoudings word egter nie so deeglik omskryf as in GKNKO-1957 nie (NGKO-1964:16). Teen die einde van Koot Vorster se sinodale loopbaan in 1976, veroorsaak hierdie toedrag van sake tergende verwarring oor wat verbreek is, nadat die NGK sy sogenaamde bande met die GKN verbreek het (Strauss 1983:480; 1992:70, 72, 77).

Oor die verhouding kerk-staat toon die drie kerkordes verskille. Hierdie verskille spruit uit die verhouding van elkeen tot hulle betrokke staatsowerheid, die stand van hulle prinsipiële denke oor die saak en die historiese situasie waarin hulle hulself bevind. Tog openbaar DKO-1619, GKNKO-1957 en NGKO-1962 al drie die prinsipiële flitse van 'n gereformeerde benadering. Vanweë die omvang van die onderwerp, beperk ons ons tot hoofsake.

DKO-1619 verwys in artikel 28 na kerk en owerheid vanuit sy verstaan van NGB artikel 36. Die owerheid moet die heiligen kerkdienst op alle maniere bevorder en die kerk moet sy lidmate vlijtiglijk en oprechtelijk opskerp om die owerheid te gehoorsaam, lief te hê, te eerbiedig en te respekteer. Die ampte moet die lidmate voorgaan om as kerk in goeie guns by die owerheid te kom en agterdog en wantroue in die verhouding teen te werk (Pont 1981:179). DKO-1619 bestaan in Calvinistiese Nederland waarin die Gereformeerde Kerk in 'n teokratiese eenheidsgemeenskap - waarin God Drie-enig heers - met die owerheid twee kante van dieselfde munt of gemeenskap vorm; daarom die DKO-1619 se opsie vir wedersydse respek en hulp, sowel as sy oproep aan lidmate om die owerheid te gehoorsaam en lief te hê (Pont 1988:41- 49). Hierteenoor praat die GKNKO-1957 saaklik oor die verhouding kerk-staat. In 1957 het Nederland 'n ander samelewing en 'n owerheid met 'n ander aanslag. Die GKNKO-1957 vra 'n bybelse getuienis van die GKN teenoor die staatsowerheid, asook korrespondensie oor relevante sake deur deputate wat die generale sinode aanwys (Nauta 1971:458, 460). Weg is die eksplisiete liefde, respek en vertroue van die DKO-1619 in konteks.

NGKO-1962 ontstaan in 'n ander konteks - 'n konteks waarin Koot Vorster as 'n prominente gereformeerde Afrikaner hom in die middelpunt bevind. Waar die DKO-1619 se subteks vir sy bepalings oor kerk en staat in artikel 28 'n teokratiese eenheidsgemeenskap is, word die subteks vir NGKO-1962 artikel 65 in sy bepalings oor kerk en staat die idee van 'n laer van Christen-Afrikaners of van die Afrikanervolk. NGKO-1962 artikel 67b stel dit prontuit: die NGK sal haar beywer om die Protestants-Christelike karakter van 'ons' volk te 'beskerm en te behou en uit te bou'. Daarmee gee NGKO-1962 as 'n kerklike dokument 'n unieke opdrag aan 'n gereformeerde kerk: die opbou van die Christelike karakter van 'ons' volk. Die implikasie: die NGK is nie net 'n geloofsverband nie, maar ook deel van die Afrikaner-kultuurgemeenskap. Die Christelike begronding en tipering van die kultuurbehoeftes van hierdie mense het 'n kerklike behoefte geword. Vanuit die Afrikanerlaer moet die NGK die staatsowerheid of Nasionale Regering 'profeties en getuigend' aanspreek, maar hy belowe dieselfde owerheid tydens die onrus na Sharpville op 21 Maart 1960 om te buig voor die 'gesag en wette' van die staat. Hy sal sy erkende vryheid van godsdiens nie 'misbruik om die staatsgesag te ondergrawe of wanorde op publiekregtelike terrein te veroorsaak nie' (NGKO-1964:14-15). Soos die DKO-1619 praat die NGKO-1962 met 'ons' mense as staatsowerheid wat Sondae plaasneem in ons kerkbanke. Die NGKO-1962 gebruik egter ongewone emosionele kerkordetaal, terwyl hy byna oor sy voete val om sy morele steun aan sy owerheid te beloof. Daarmee word dus iets van die NGK getoon as 'the National Party at prayer'. Daarom moes NGKO-1962 artikel 65 in 1994 in 'n nuwe politieke bedeling en onder 'n nuwe staatsowerheid by die Algemene Sinode van 1998 verander om bybels en kerklik-nugter oor hierdie verhouding te praat. Die oordrewe kerkordelike taal van NGKO-1962 artikel 65 was nie meer die egte DKO-1619 'aangepas by die eise van ons dag nie'.

 

Slot

J.D. Vorster se behoefte om van NGKO-1962 'n DKO-1619 'aangepas by die eise van ons dag' te maak, het uit 'n gereformeerd kerkregtelike hoek onteenseglike meriete. Hierdie waarheid was nie net in 1962 'n kerkordelike eis of norm nie; dit is dit ook vandag. 'n Gereformeerde kerkorde verbind hom aan bybelse norms of konstantes, maar 'n gereformeerde kerkorde gee ook ordelike maatreëls wat dit vir sy kerk moontlik maak om Woordgetrou sowel as eietyds in sy situasie te funksioneer. 'n Egte gereformeerde kerkorde is tegelyk Woordgetrou en eietyds of afgestem op die eise van die dag.

NGKO-1962 het, deur die GKNKO-1957 as 'n eietydse basis vir DKO-1619 te gebruik, by talle waarhede van die DKO-1619 vir die eietydse kerkpraktyk uitgekom. Voorbeelde en Koot Vorster se betrokkenheid daarby, word in hierdie artikel aangedui. Dit gaan hier om konstantes of norms agter die bepalings van DKO-1619 wat in NGKO-1962 funksioneer.

Oor veral twee sake het die NGKO-1962 egter nie die weg van die DKO-1919 gevolg nie, maar sy historiesbepaalde praktyk of eie twyfelagtige gewoontes, naamlik die samestelling en agendas van meerdere vergaderings soos ringe en sinodes, en die kerk se verhouding met die staatsowerheid van sy tyd. Oor die effektiwiteit van sy meerdere vergaderings kan hierdie artikel die NGK tot nadenke stem, terwyl 'n sinvolle verhouding met die staatsowerheid nooit afgehandel is nie. Hierdie artikel toon dat die band van NGKO-1962 met die DKO-1619 in twee sake gesoek moet word: die norms of konstantes agter hulle ordereëlings en die feit dat hulle eietyds effektief wil wees.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

P.J.S. is die enigste outeur betrokke by die skryf van hierdie artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het befondsing ontvang van die Universiteit van die Vrystaat.

Data beskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op die artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in die artikel uitgedruk word, is die van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

 

Literatuurverwysings

Biesterveld, P. & Kuyper, H.H., 1905, Kerkelijk handboekje, Bos, Kampen.         [ Links ]

De Jong, O.J., 1985, Nederlandse Kerkgeschiedenis, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Deist, F.E., 1979, Historiese heuristiek. Teologiese hermeneutiek en Skrifgesag, Universiteit van Port Elizabeth, Port Elizabeth.         [ Links ]

Dreyer, A., 1936, Boustowwe vir die geskiedenis van die Nederduits-Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Raad van Kerke, Kaapstad.         [ Links ]

Heyns, J.A., 1977, Die Kerk, NG Kerkboekhandel 1977, Pretoria.         [ Links ]

Hopkens, H.C., 1983, Dr. Jacobus Daniel (Koot) Vorster (26.11.1909-8.1.1982), NGK jaarboek 1983, Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk, Wellington.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1965, Om die regering van Christus in sy kerk, Unisa, Pretoria.         [ Links ]

Kaapse Kerkargief Lêer S 1/16.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J., 1973, Die kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1795-1962, s.l., s.n.         [ Links ]

Koffeman, L., 2009, Het goed recht der kerk, Kok, Kampen.         [ Links ]

Kritzinger, M.S.B., Labuschagne, F.J. & Pienaar, P.V., 1972, Verklarende Afrikaanse Woordeboek, Van Schaik, Pretoria.         [ Links ]

Kuiper, B.K., 1995, The church in history, CSI Publications, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Kuyper, H.H., s.a., De post acta of nahandelingen van de Nationale Synode van Dordrecht in 1618 en 1619 gehouden, Höveker en Wormser, Amsterdam.         [ Links ]

Langner, D., 2007, Teen die hele wêreld vry: Koot Vorster -segsman of profeet? Griffel, Pretoria.         [ Links ]

Nauta, D., 1971, Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland, Kok, Kampen.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk [NGK], 1957, Handelinge Raad van Kerke, sn,sl.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk [NGK], 1962, 'Eerste vergadering van die Algemene Sinode', Handelinge, s.n., s.l.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk [NGK] 1986, Handelinge van die sewende Algemene Sinode, sn.sl.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk [NGK], 1998, 'Tiende vergadering van die Algemene Sinode', Handelinge, s.n., a.l. (gebruik as NGK 1998).         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerkorde [NGKO-1962], 1964, Kerkorde 1962, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad/Pretoria (gebruik as NGKO-1962).         [ Links ]

NG Kerk in die Oranje-Vrystaat (NGK-OVS), 1937, Handelinge van die Sinode, s.n., s.l.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers 1982, Ons glo Die drie Formuliere van eenheid en die ekumeniese belydenisse, NG Kerk-Uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Olivier, A.R. & Gaum, F.M., 2008, 'Vorster, Jacobus Daniel (Koot) (1909-1982)', in F.M. Gaum (red.), Christelike Kernensiklopedie, pp. 1173-1174, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Pont, A.D., 1981, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg, HAUM, Pretoria.         [ Links ]

Raad van Gefedereerde Ned Geref Kerke (gebruik as Raad van Kerke), 1957, Handelinge, s.n., s.l.         [ Links ]

Rutgers, F.L., 1971, De geldigheid van de oude kerkenordening der Nederlandsche gereformeerde kerken, Ton Bolland, Amsterdam.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1983, Die Ned. Geref. Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland: Betrekkings rondom die Suid-Afrikaanse Rassevraagstuk, DD-proefskrif, Universiteit van Pretoria, Pretoria.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1989, 'Geen kerk oor 'n ander ', Acta Theologica 9(1), 1-14.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1992, 'Die NG Kerk se ultimatum van 1974; op kerklike wyse?', Acta Academica 24(2), 67-78.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1993, Op die tweesprong?, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1994, 'Die Algemene sinode van 1966 van die Ned. Geref. Kerk en apartheid', Studia Historiae Ecclesiasticae XX(2), 195-214.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1995, 'Die Algemene Sinodale Kommissie in die Ned. Geref. Kerk', Ned. Geref. Teologiese Tydskrif XXXVI(4), 545-557.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2006, 'Die Dordtse tradisie en binding aan die belydenis', In die Skriflig 40(4), 649-666. https://doi.org/10.4102/ids.v40i4.363        [ Links ]

Strauss, P.J., 2008, 'Die Kerkorde van die Ned. Geref. Kerk: Uitgangspunte ten opsigte van Skrif, Belydenis en Kerkorde', Acta Theologica 28(2), 104-117. https://doi.org/10.4314/actat.v28i2.48886        [ Links ]

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sun Media, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss P.J., 2017, 'Die geestelike karakter van die kerklike tug soos in gereformeerde kerkordes', Stellenbosch Theological Journal 3(1), 375-389. https://doi.org/10.17570/stj.2017.v3n1.a17        [ Links ]

Strauss, S.A., 1993, Op soek na die dogmatiese tradisie in die Ned. Geref Kerk: Die Stellenbosse lyn, UOVS, Bloemfontein.         [ Links ]

Van der Watt, P.B., 1973, Die Loedolff-saak en die Ned Geref Kerk 1862-1962, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Van der Watt, P.B., 1987, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Vorster, J.D., 1951, 'Die spoor wat die Ned. Gereformeerde Kerk in sy regering gevolg het', Die Gereformeerde Vaandel XIX(4), 123-130.         [ Links ]

Vorster, J.D. 1956, Die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die kompanjie 1652-1795, NG Kerkuitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Vorster, J.D., 1960, 'Die Kerkorde vir die Ned. Geref. Kerke: Die besware daarteen en die betekenis daarvan', Ned Geref Teologiese Tydskrif (NGTT) 1(4), 12-18.         [ Links ]

Vorster, J.D., 1979, 'Artikels en lesings van dr J.D. Vorster', Ned Geref Teologiese Tydskrif of NGTT XX(4), 305-394.         [ Links ]

Vorster, J.D., 1981, Die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die Kompanjie 1652-1795, 2e uitgawe, 1e druk, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Pieter Strauss
straussp@ufs.ac.za

Received: 10 Feb. 2023
Accepted: 07 July 2023
Published: 18 Oct. 2023

 

 

1. Die eerste druk van die tweede uitgawe van hierdie proefskrif kom in 1981, kort voor dr J.D. Vorster se dood in Januarie 1982 (Langner 2007:186). Die eerste uitgawe dateer uit 1956 (sien Vorster 1956). Vorster kom tot die slotsom dat die NG Gemeentes van die Kaap of Kaapse Kerk onder die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie as die staatsorgaan met 'n getemperde patronaatsreg oor die kerk, 'die gereformeerde sisteem van kerkregering gevolg het'. Hierdie regering is versterk deur die indeling van die Kaapse Gemeentes by die Klassis van Amsterdam van die ou Gereformeerde Kerk in Nederland. Die Dordtse Kerkorde van 1619 (DKO-1619) was die 'vigerende kerkorde' of funksionerende orde in die Kaapse Kerk onder die Kompanjie (Vorster 1981:135-136). Hierop sal teruggekom word.
2. Olivier en Gaum (2008:1173-1174) publiseer 'n onbevredigende kort biografie van J.D. Vorster. Dit wil uit die volgorde van die skrywers van die stuk (eers Olivier en dan redakteur Gaum), voorkom asof Olivier onder die redigering van Gaum geskryf het. Vorster se DD-tesis (kyk voetnoot 1) word hierin as sy MDiv aangegee. Sy MDiv word ook nie soos hier beweer 'op Potchefstroom' in 1956 behaal nie - dit was die datum waarop hy sy DDiv op Potchefstroom behaal het. Sy MDiv word in 1943 aan Unisa, Pretoria behaal (Vorster 1979:321). Dieselfde biografie beweer vaag en sonder voorbeelde dat Vorster 'n 'groot rol gespeel' het by die opstelling van NGKO-1962.
3. Hopkens (1983:268) noem Koot Vorster na sy dood in 1982 'een van die bekendste kerkmanne in ons land'. Hy wys daarop dat Vorster talle posisies in die NGK beklee het 'en die vertroue van die Kerk en die ganse volk geniet het'. Met sy 'formidabele voorkoms en optrede het hy egter een van die kleurrykste en (ook) mees omstrede kerkleiers in Suid-Afrika geword'.
4. Vorster (1979:333) voer tereg aan dat daar geen kerklike beswaar teen die term moderator kan wees nie, omdat dit 'n sinoniem vir praeses of voorsitter is. Die term is nie ongereformeerd omdat dit onder Skotse Presbiteriaanse invloed in die NGK opgeneem is nie; inteendeel, omdat daar kerkordelik geen volmag of gesag anders as by 'n gereformeerde kommissie of deputaatskap aan 'n moderator kan kleef nie, kan dit in die NGK ook gebruik word.
5. Die Breë Moderatuur word in 1986 die Algemene Sinodale Kommissie van die NGK om die sweem van 'n kerklike hiërargie wat aan die term moderatuur kleef, te voorkom (Strauss 1995:551).
6. Die kwessie van J.D. Vorster as 'n gereformeerde figuur en 'n oortuigde Afrikaner blyk ook uit sy MDiv en DD. Sy M-verhandeling in 1943 handel oor die 'Kerk en kerkregering van die Voortrekkers' en sy doktorale proefskrif in 1956 oor 'Die kerkregtelike ontwikkelinge van die Kaapse Kerk onder die Kompanjie' (Vorster 1979:321). Vorster se innerlike dryfveer as 'n gereformeerde Afrikaner speel mee in sy keuse van akademiese verhandelings. Hopkens (1983) toon dat Koot Vorster in 1938 voorsitter is van die reëlingskomitee van die Voortrekker Eeufeesviering in Wes-Kaapland en die volgende jaar van die Aparte Woonbuurte-organisasie. Behalwe vir die NGKO-1962 beweer Hopkens (1983:269) dat Vorster die voorstel vir die algemene sinodale verband van die NGK gemaak het - 'n verband wat die kerkordelike basis van NGKO-1962 vorm en waarin Vorster 'n positiewe aandeel het.
7. Hopkens (1983:268) wys daarop dat daar kort voor sy dood van Vorster gesê is 'dat hy die geliefde herder was van diegene wat die Here aan sy sorg toevertrou het'. (Hopkens 1983:268).
8. Nauta praat tereg van DKO-1619 en nie van DKO-1618-1619 nie. Die DKO-1619 is 'n produk van die Dordtse Sinode van 1618-1619, maar spruit uit daardie deel van die vergadering (13-29 Mei 1619) toe die aanvaarding van die Drie Formuliere van Eenheid as drie gereformeerde belydenisskrifte afgehandel is en die Nederlandse afgevaardigdes, sonder die buitelanders uit Engeland, Switserland en Duitsland, op die teks van die DKO-1619 as 'n verdere kerkordelike stap in die kerkordes van die sestiende eeu in gereformeerde Nederland besluit het. Hierdie ordes begin met die artikels van Wezel in 1568, Emden in 1571, Dordrecht in 1574 en 1578, en Middelburg in 1581 wat die eerste is om sy artikels uitdruklik in 'n kerkorde op te neem, en loop deur tot by die kerkorde van Den Haag in 1586 en Dordt in 1619 (Kuiper 1995:268; Nauta 1971:20; Rutgers 1971:18,19 e.v.). Nauta wys daarop dat die DKO-1619 in die tradisielyn van hierdie kerkordes gestel is en dit net wou verbeter of reformeer. Die DKO-1619 is uiteindelik deur slegs drie van die sewe Nederlandse state geapprobeer. Hierdie gebrek het egter nie die Gereformeerde Kerk in Nederland verhoed om by die DKO-1619 te hou en dit te gebruik nie. Boonop het die Kerkorde van Den Haag (1586), wat min van die DKO-1619 verskil, die goedkeuring van die Hoë Owerheid ontvang. Om die DKO-1619 te gebruik, was dus om die kern van die sestiende-eeuse kerkordelike tradisie in gereformeerde Nederland voort te sit (Rutgers 1971:18, 19; Nauta 1971:21).
9. Vorster skryf in 1960 oor die steun van die Kaapse Sinode van 1824 vir die DKO as 'n fundamentele stuk vir die regering van die NGK (Vorster 1960:19).
10. Vorster (1951:125, 126) noem dat die feit dat die Kaapse Kerk die Algemene Reglement van 1824 ongeveer twee dekades daarna geskrap het, toon dat hulle die beginsels daarvan nie aanvaar het nie. Verder word hulle verknogtheid aan die Dordtse lyn getoon deur die versoek dat die Kaapse Regering ook die DKO-1619 in 1824 druk. Die voorkoms van die kollegialisme in die NGK se bekende Wette en Bepalings wat die NGKO-1962 voorafgaan, kan volgens Vorster (1951:128) egter nie ontken word nie.
11. Die tydperk waarin die Kommissie van Aktuarisse van die vyf sinodes van die NGK, wat in die Algemene Sinode van 1962 opgeneem sou word, 'n konsepkerkorde saamstel wat in 1962 grootliks gewysig is by die Konvensie wat die Algemene Sinode voorafgegaan het, aanvaar word (NGK 1962:225-232).
12. Daarom dat Vorster van die NGKO-1962 praat as die DKO-1619 'aangepas by die eise van die dag'.
13. Hierdie sinodale eenheid is op grond van Ordonnansie 7 van 1843 van die Kaapkolonie in 1862 deur 'n uitspraak van die Kaapse Hooggeregshof ongedaan gemaak. Dieselfde eenheid word op 11-12 Oktober 1962 herstel met die skrap van Ordonnansie 7 deur die Suid-Afrikaanse Parlement en 'n vooraf-konvensie wat die NGKO-1962 as basis vir die funksionering van 'n nuwe algemene sinodale verband goedkeur en daarna voortgaan as die eerste Algemene Sinode van die NGK (NGK 1962:220-230; Van der Watt 1973:127-138).
14. Koot Vorster (1960:14) praat van die voorlopig vasgestelde of konsep van GKNKO-1957 as 'n 'Konsep-hersiening van die Dordtse Kerkorde'.
15. Strauss (1989:2) gaan haal die titel van sy 1989-artikel uit die eerste artikel van die Nederlandse Nasionale Sinode van Emden in 1571: 'Gheen Kerkcke sal over een ander Kerkcke, gheen Dienaar des Woorts, gheen Ouderlinck, noch Diaken sal d'een over d'ander heersachappie voeren
' (Biesterveld & Kuyper 1905:35).
16. Vir die afgevaardigdes van hierdie sinodes na die eerste Algemene Sinode van die NGK, die Algemene Sinode van 1962 (NGK 1962:5-13, 220-221).
17. Kyk Vorster (1979:332-334) vir sy se negatiewe houding oor hiërargie in die kerk.
18. Die Nederlandse 'enigheid' vir die Afrikaanse 'eenheid' word nog in 1962 gebruik.
19. Vergelyk die doel van die Johannes-evangelie in Johannes 20:30, 31: alles rondom Christus wat volledig mens geword het, is beskrywe sodat julle kan glo en ewig kan lewe.
20. Nie alle Gereformeerde Afrikaanssprekendes verstaan die woord verleende nie. Hulle vereenselwig dit met 'n soort Roomse oordrag van goddelike gesag aan mense en nie met toerusting verskaf of voorsien vir 'n bybelse taak nie (vgl. Kritzinger, Labuschagne & Pienaar 1972).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons