SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue3Oral-based Bible translation: A contextualised model for the nomadic Himba people of southern AfricaScripture use and Scriptural authority in the postmodernist context author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.55 n.3 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v55i3.2703 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die betroubaarheid van die apostels en hulle getuienis volgens 2 Petrus 1:3-4 en die betekenis daarvan vir die geskrifte van die Nuwe Testament: 'n Eksegetiese studie

 

The reliability of the apostles and their testimony according to 2 Peter 1:3-4 and its significance for the writings of the New Testament: An exegetical study

 

 

Douw G. Breed

Department of Bibliological Perspectives, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

In this exegetical article, it is shown that, in 2 Peter 1:3-4, Peter indicates that the apostles were reliable witnesses of Jesus Christ. As the New Testament writings are bearers of the apostolic testimony, 2 Peter 1:3-4 also provides important testimony regarding the Bible and, in particular, regarding the New Testament. The aim of this article is to show that, according to 2 Peter 1:3-4, the apostles and their testimony are reliable and that these testimonies are significant for the writings of the New Testament. This study follows an exegetical method and follows the grammatical-historical model. From 2 Peter 1:3-4, it is clear that the reliability of the apostles is the result of divine power. Jesus Christ worked through his Spirit with divine power in the apostles. Through the Holy Spirit, Jesus Christ provides the apostles with everything that leads to true life, as well as to godliness. To the apostles, this was all given within their intimate and personal relationship with the glorified Christ. According to 2 Peter 1:3-4, Jesus Christ himself called his apostles to proclaim the message of God's grace. As eye- and earwitnesses of Jesus Christ's divine power, they could reliably reveal the meaning of what they witnessed of him. In 2 Peter 1:3-4, Peter testifies that the apostles received promises from Jesus Christ. These are great promises that have profound significance for anyone who accepts them in faith.
CONTRIBUTION: The contribution of this article is to show that 2 Peter 1:3-4 gives important information about the reliability of the apostles and their testimony

Keyword: s: 2 Peter 1:3-4; apostels; goddelike krag; betroubaarheid; Ἐπίγνωσις; beloftes; Nuwe Testament; roep.


 

 

Inleiding

Reeds vroeg in die kerk se geskiedenis is die besondere plek wat aan Jesus Christus se apostels gegee is, erken. Ignasius vergelyk in sy brief aan die Romeine (Rom 4:3) homself met die apostels en sê: 'I do not give you orders like Peter and Paul: they were apostles; I am a convict ' (Holmes, Lightfoot & Harmer 2007:229). Clemens (1 Clem 45:1-2) sê: 'The apostles received the gospel for us from the Lord Jesus Christ; Jesus the Christ was sent forth from God. So then, Christ is from God, and the apostles are from Christ. Both, therefore, came of the will of God in good order' (Holmes et al. 2007:101). Coetzee (1984:75-77) beklemtoon die besondere plek van die apostels. Hy sê dat toe Jesus Christus na sy Vader teruggekeer het, Hy iets van sy gesag aan sy kerk deurgegee het. Hy gee dit egter alleen in die eenmalige posisie van die apostolaat. Jesus Christus sit ná sy hemelvaart sy werk op aarde voort, maar dan deur die apostels wat Hy geroep, uitgestuur en toegerus het met die krag van die Heilige Gees.

Vir hierdie artikel is die verband tussen apostoliese getuienis en die Nuwe Testament van belang. Kruger (2012:181) sê dat die Nuwe Testamentiese geskrifte verstaan kan word as die 'authoritative, foundational, and eyewitness tradition delivered by the apostles of Jesus Christ'. Wanneer Boice (2019:33, 34) handel oor die besondere taak waarvoor Jesus die apostels geroep het en waartoe hulle deur die Gees toegerus is, beklemtoon hy dat die apostels hulle opdrag voltooi het. Hy sê 'The New Testament is the result'. Hierdie artikel is op die volgende vraag toegespits: 'Was die apostels betroubaar en het hulle die boodskap wat aan hulle toevertrou was, betroubaar oorgedra?' Indien die apostels nie ten volle betroubaar was nie, bly die betroubaarheid van die Nuwe Testamentiese geskrifte in die slag al sou dit die apostoliese boodskap dra. Wanneer daar dus oor die betroubaarheid van die Nuwe Testament gehandel word, sal ook rekenskap van die betroubaarheid van die apostels gegee moet word.

Wanneer skrywers aan die betroubaarheid van die apostels aandag skenk, word daar meestal gehandel oor Skrifgedeeltes soos Lukas 1:1-4 (Edwards 2015:24-26); Lukas 24:48-49 (Carroll 2012:494); Johannes 14:26 en 16:13-14 (Grudem 2009:60-61); 1 Korintiërs 11:23 (Taylor 2014:270-272); 1 Korintiërs 15:3 (Schreiner 2018:302-303) en Openbaring 1:1-3 (Paul 2018:60; Roeloff 1994:20-21). Die moontlikheid dat die apostel Petrus1 in 2 Petrus 1:3-42 belangrike besonderhede bied aangaande die betroubaarheid van die apostels en hulle getuienis, geniet in die navorsing weinig aandag. Hoewel enkele skrywers soos Bigg (1969:253) en Van Houwelingen (1993:31-32) aanvaar dat die skrywer in 1:3-4 oor die apostels handel, stel hulle nie die betroubaarheid van die apostels en hulle getuienis in besonderhede aan die orde nie.

In hierdie artikel word 1:3-4 binne die konteks van die hele geskrif eksegeties bestudeer en word die inligting wat Petrus in die verse aangaande die apostels en hulle getuienis bied, aangedui. In die eksegese wat in die artikel aangebied word, word die grammaties historiese model gevolg soos wat dit in die gereformeerde tradisie beoefen word (vgl. Breed, Van Rensburg & Jordaan 2008:45-53; Fee 2009:29-132; Jordaan, Van Rensburg & Breed 2011:225-258; Tolar 2002:21-38). Die vooronderstelling in hierdie artikel is dat 'the Protestant canon of the OT and the NT composes the divinely inspired, authoritative material for doing biblical theology' (Beale 2011:2). Daarom word met die finale vorm van die Bybelboeke in Hebreeus, Aramees en Grieks in die artikel gewerk. Die outeurs van die onderskeie Bybelboeke word ook geneem soos die betrokke Bybelboeke hulle aandui (vgl. ook voetnoot 1), en die historiese figure en gebeure waarna die betrokke Bybelboeke verwys, word as histories betroubaar geneem (vgl. byvoorbeeld Kruger 2012:181-182). Om 'n ontleding van 2 Petrus se gedagtestruktuur te doen, word die metode gebruik wat Coetzee (1988:19-37; vgl. ook Cotterell & Turner 1989:230-256) ontwikkel het en Breed (1994:4-5) in meer besonderhede uitgewerk het. Die metode van komponensiële analise soos in Louw and Nida (1988:vi-xx) uiteengesit en deur Breed (1994:6-7) aangepas is, word gevolg wanneer ondersoek na die woordbetekenisse van Griekse woorde gedoen word.

In hierdie artikel word eerstens aandag aan 1:3-4 gegee binne die tekstuele konteks van die geskrif. Tweedens word ondersoek ingestel na die ontvangers van dit wat volgens 1:3 gegee is, en derdens na die goddelike krag wat in 1:3 vermeld word. Daarna word agtereenvolgens aandag gegee aan die doel en die instrument waarmee 'alles' gegee is. Vervolgens word die roeping wat in 1:4 genoem word, ondersoek en daarna geniet die beloftes wat volgens 1:4 gegee is aandag. Ten slotte word tot enkele konklusies gekom.

2 Petrus 1:3-4 in die tekstuele konteks van die geskrif

2 Petrus kan in agt gedagte-eenhede ingedeel word. Die eerste gedagte-eenheid (1:1-2) dien as aanhef van die brief. In die tweede gedagte-eenheid (1:3-11) gee Petrus 'n opsomming van sy leer as apostel. In hierdie gedagte-eenheid kom drie kleiner gedagte-eenhede voor, naamlik 'n historiese deel (1:3-4), 'n etiese aanmoedigingsgedeelte (1:5-9) en 'n eskatologiese gedeelte (1:11). In 1:12-15 en 3:1-2 gee Petrus die doel van die skrywe weer. Hierdie twee gedeeltes vorm saam een gedagte-eenheid. 2 Petrus 1:16-21 kan as 'n vierde gedagte-eenheid beskou word. In hierdie eenheid fundeer die apostel sy gesag. 'n Waarskuwing teen die valse leraars is in 2:1-22 aan die orde en vorm die vyfde gedagte-eenheid. Vanaf 3:3-18 is daar nog drie gedagte-eenhede. Die sesde gedagte-eenheid is 3:4-16 waarin Petrus handel oor die sekerheid van die Here se koms.

Die sewende gedagte-eenheid (3:17-18a) vorm die slot van die brief en die laaste gedagte-eenheid (3:18b) is 'n lofprysing (Breed 1994:45-77).

Dit is uit die voorafgaande indeling duidelik dat daar 'n noue samehang is tussen 1:3-4 en die opvolgende kleiner gedagte-eenhede, naamlik 1:5-10 en 1:10. Dit is ook duidelik dat die waarskuwing teen die vals leraars 'n belangrik plek in die brief inneem (vgl. gedagte-eenheid 5). In die eksegese van 1:3-4 behoort dit wat Petrus aangaande die vals leraars bekend maak, deeglik verreken te word. Daar moet ook in die eksegese daarop gelet word dat, hoewel 1:1-2 en 1:3-11 as aparte gedagte-eenhede aangedui word, die voegwoord ὡς in 1:3 'n aanduiding gee dat daar 'n noue verbinding tussen 1:1-2 en 1:3-4 is.

 

Die ontvangers van dít wat volgens 2 Petrus 1:3 gegee is

Baie eksegete soos Howe (2000:307-309), Kennard (1987:402), Köstenberger (2012:16-17) en Moo (1996:41) aanvaar sonder deeglike motivering dat die skrywer in 1:3-4 met die persoonlike voornaamwoord ons (ἡμῖν/ἡμᾶς) na homself en al die gelowiges verwys. Die wisseling van die voornaamwoord in die eerste persoon meervoud ons in 1:3-4a na die tweede persoon meervoud julle in 1:4b dui egter in 'n ander rigting. In 1:1 verwys die skrywer na die lesers wat dieselfde geloof as 'ons' (ἡμῖν) ontvang het. Volgens 1:2 is die skrywer se begeerte dat daar genade en vrede aan 'julle' (ὑμῖν), dit is aan die lesers, geskenk word. Daar word in 1:3-4 gewys op 'ons' (ἡμῖν) aan wie alles geskenk is, 'ons' (ἡμᾶς) wat geroep is en 'ons' (ἡμῖν) aan wie beloftes gegee is. In 1:4b verwys die skrywer weer deur die aoristus werkwoord γένησθε in die tweede persoon meervoud na 'julle'.

Dit is belangrik om daarop te let dat Petrus met 'ons' (ἡμῖν) in 1:1 na homself en die ander apostels verwys (vgl. Charles 1997:131; Giese 2012:31; Harink 2009:133) en nie na Petrus en die ander Jode soos soms aanvaar word nie. Dat ἡμῖν in 1:1 na Petrus en die ander apostels verwys, word bevestig deur die feit dat die onderskeid tussen Jode en nie-Jode nie in 2 Petrus ter sprake gebring word nie en dat Petrus wel in 1:16 in die eerstepersoon meervoud ἐγνωρίσαμεν na homself en die ander apostels verwys. Indien Petrus in 1:1 dan met 'ons' (ἡμῖν) na homself en die ander apostels verwys, ontstaan die vraag of die skrywer daarna in 1:3-4 die lesers by 'ons' sal insluit.

Op grond van die volgende redes kan aanvaar word dat Petrus met ἡμῖν/ἡμᾶς in 1:3-4 nie na homself en die lesers verwys nie, maar na homself en die ander apostels:

  • Dit is duidelik uit 2 Petrus dat die vals leraars die leer van die apostels betwyfel het. Dit blyk byvoorbeeld dat hulle volgens 1:16 dit wat die apostels aangaande die krag en koms van Jesus Christus bekend gemaak het as verdigte fabels (σεσοφισμένοιςμύθοις) bestempel het (Bauckham 1983:213; Harvey & Towner 2009:60-62). Omdat die leer van die apostels betwyfel is en Petrus hulle in die brief met groot erns bestry (vgl. gedagte-eenheid 5), is dit moontlik dat hy reeds aan die begin van sy brief oor die apostels sal handel en hulle betroubaarheid beklemtoon.

  • Indien ἡμῖν in 1:4a die lesers insluit, is dit moeilik om te verklaar hoekom Petrus in 1:4b van 'ons' na 'julle' verwissel. Volgens 1:4 het 'ons' beloftes ontvang, maar dit hou vir 'julle' gevolge in (vgl. ἵναδιὰτούτωνγένησθε)3. Indien die mense wat die beloftes ontvang het, sowel as die mense vir wie dit gevolge inhou, dieselfde sou wees, sou verwag kon word dat Petrus sou sê dat 'ons' beloftes ontvang en dit hou vir 'ons' gevolge in (vgl. Van Houwelingen 1993:31).

  • Soos in punt 2 genoem, dui die voegwoord ὡς in 1:3 moontlik op 'n noue band tussen 1:1-2 en 1:3-4. Wanneer Petrus in 1:1 aandui dat die lesers dieselfde geloof as die apostels ontvang het, gebruik hy die woord λαγχάνω. Λαγχάνω word in hierdie vers in die semantiese veld 'besit, oordra, verruil', en in die subdomein 'ontvang', gebruik vir die betekenis 'om te ontvang met die implikasie dat die proses met die goddelike wil of guns verband hou' (vgl. Louw & Nida 1988:30.106). By nadere bestudering van 1:3-4 blyk dit waarskynlik te wees dat die skrywer met die voegwoord ὡς in 1:3 weer die gedagte van 1:1 opneem, naamlik dat die lesers se verkryging van hulle geloof met 'n proses van goddelike wil of guns verband hou. Waarskynlik dui die skrywer in 1:3a met die genitivus absolutus θείαςδυνάμεωςδεδωρημένης die goddelike betrokkenheid aan. Hy maak dan verder in 1:3-4a duidelik dat die apostels 'n belangrike plek ingeneem het in die proses waarin die lesers deur goddelike wil of guns geloof ontvang het - dié geloof wat dieselfde waarde het as die apostels se geloof (vgl. 1:1). Wanneer die skrywer in 1:4b vanaf die eerste persoon meervoud 'ons' na die tweede persoon meervoud 'julle' verwissel, dui hy aan waarop die proses wat volgens goddelike wil of guns plaasgevind het, vir die lesers uitgeloop het.

Indien aanvaar word dat Petrus in 1:3-4a die verhouding tussen Jesus Christus en die apostels beklemtoon deur te sê dat Jesus Christus se goddelike krag aan die apostels (alles) geskenk het, die apostels sy geroepenes is, dat Jesus Christus aan hulle beloftes geskenk het en ook dat die skrywer in 1:4b die betekenis aandui daarvan dat die apostels beloftes ontvang het, kom dit ooreen met 'n patroon wat in die res van die brief gevind word. Die patroon bevat telkens drie elemente, naamlik die apostel(s) se verhouding met Jesus Christus, die verkondiging deur die apostels en die betekenis vir die lesers. Petrus beklemtoon byvoorbeeld in 1:12-15 sy verhouding met Jesus Christus4 (vgl. 1:14) en wys op sy verkondiging in 1:12 met die woord ὑπομιμνῄσκω. Die betekenis vir die lesers is dat hulle opgeskerp word (vgl. διεγείρω, 1:13). In 1:15 bring Petrus sy verkondiging ter sprake wanneer hy sê hy sal hom beywer (vgl. σπουδάσωδὲκαὶἑκάστοτε). Hy noem ook die betekenis vir die lesers. Hy wil dat hulle sekere dinge in gedagte sal hou (τὴντούτωνμνήμηνποιεῖσθαι).

In 1:16 beklemtoon die skrywer die apostels se verhouding met Jesus Christus. Hulle was ooggetuies van sy μεγαλειότης (1:16) en oorgetuies toe Hy τιμή en δόξα ontvang het (1:17). Die apostels se verkondiging kom in 1:16 ter sprake wanneer Petrus na dít verwys wat aan die lesers bekend gemaak is (γνωρίζω). Die gevolge vir die lesers word veronderstel, naamlik dat hulle met sekerheid kan weet dat die apostels nie verdigte fabels verkondig het nie.

Petrus stel ook die band tussen apostels en Jesus Christus, asook die apostels se verkondiging in 3:2 op die voorgrond wanneer hy sê dat die gebod waarna hy in hierdie vers verwys, sowel die apostels se gebod, as Jesus Christus se gebod is (vgl. die genitiewe τῶνἀποστόλων en τοῦκυρίουκαὶσωτῆρος). Petrus wil dat die lesers volgens 3:2 hierdie gebod sal onthou (vgl. μιμνῄσκομαι).

Dit blyk uit voorgaande beredenerings dat Petrus eerder in 1:3-4a met die voornaamwoord ἡμῖν/ἡμᾶς na homself en die apostels as na homself en alle gelowiges verwys.

 

Die goddelike krag wat aan die apostels (alles) gegee het

Daar word in 1:3 met die genitivus absolutus τῆςθείαςδυνάμεωςδεδωρημένης aangedui dat die goddelike krag aan die apostels (alles) gegee het. Dit is moontlik dat Petrus die genitief αὐτοῦ in 1:3 na die goddelike krag van óf God óf Jesus Christus verwys. Albei die goddelike Persone is immers in die voorafgaande sin (1:2) ter sprake. Omdat Jesus Christus die laaste Persoon is wat in 1:2 genoem word, is dit waarskynlik dat dit sy goddelike krag is wat ter sprake is (Richard 2000:326). Die feit dat Petrus Jesus in 1:1 God noem (Callan 2020:24-25) en in 1:16 uitdruklik na Jesus se krag (δύναμις) verwys, bevestig dat hy met αὐτοῦ in 1:3 Jesus Christus in gedagte het (vgl. Bigg 1969:253).

Dit is belangrik om duidelikheid te kry waarna Petrus met die frase goddelike krag (θείαςδυνάμεως) verwys. Soms word aanvaar dat die skrywer duidelik wil maak dat Jesus Christus in God se goddelike krag deel (vgl. Bauckham 1983:177). Wanneer die woorde egter binne die konteks van die hele brief en ook in die konteks van die Nuwe Testament verstaan word, blyk dit dat Petrus na die Heilige Gees verwys. Dit kan soos volg gemotiveer word:

  • In 2 Petrus word die Ou Testamentiese profete en die apostels telkens saam in een gedagte-eenheid vermeld. In 1:16-18 beskryf Petrus wat die apostels gesien en gehoor het. Hy volg dit in 1:19-21 op deur na die Ou-Testamentiese profete (Harvey & Towner 2009:70-71) te verwys. Volgens 3:1-2 wil Petrus dat die lesers die woorde van die Ou-Testamentiese profete sowel as die gebod van die apostels sal onthou. Wanneer Petrus in 1:19-21 aan die Ou-Testamentiese profete aandag gee, is dit belangrik om daarop te let dat hy uitdruklik oor die werking van die Heilige Gees in die profete handel (Green 2008:233). Indien τῆςθείαςδυνάμεως in 1:3 na die Heilige Gees verwys, beklemtoon Petrus dus reeds aan die begin van die brief dat die Heilige Gees ook, soos in die profete, in die apostels gewerk het.

  • Dit is belangrik om daarop te let dat Petrus in sy eerste brief5 (1 Pet 1:10-12) noem dat die Gees van Christus aktief in die profete van die Ou Testamentiese bedeling asook in die apostels en hulle medewerkers van die Nuwe Testamentiese bedeling gewerk het (Van Houwelingen 1991:58). Petrus beklemtoon volgens 1 Petrus 1:12 dat die Gees wat in die Nuwe Testamentiese verkondigers gewerk het, uit die hemel gestuur is (πνεύματιἁγίῳἀποσταλέντιἀπʼοὐρανοῦ). Die skrywer beklemtoon met die passiewe werkwoord ἀποσταλέντι en met die frase ἀπʼοὐρανοῦ die goddelike inisiatief (Michaels 1988:47-48). Indien aanvaar word dat Petrus met τῆςθείαςδυνάμεως in 1:3 na die Heilige Gees verwys en daar dus in 2 Petrus duidelik gemaak word dat die Gees in die apostels, sowel as in die profete (1:21) gewerk het, toon dit 'n duidelike ooreenkoms met dit wat Petrus in sy eerste brief skryf. Indien in ag geneem word dat Petrus in 1:3 die goddelike werking met die byvoeglike naamwoord θεῖος beklemtoon, is die ooreenkoms des te meer treffend.

  • Die feit dat Petrus sê dat dit juis Jesus Christus se goddelike krag is (vgl. αὐτοῦ) wat (alles) aan die apostels geskenk het, bring dit spesifieke beloftes van Jesus Christus wat in die Johannes-evangelie en in Handelinge opgeteken is, binne die gesigsveld. In die evangelie volgens Johannes word die band van Jesus Christus ná sy hemelvaart met die Heilige Gees sterk beklemtoon. Jesus het volgens Johannes 14:16 gesê dat Hy sal bid dat die Vader die Gees sal stuur. Volgens Johannes 14:26 sal die Vader die Gees in Jesus se Naam stuur (14:26) en, volgens 15:26, sal Jesus self die Gees wat van die Vader uitgaan, stuur. Die Gees sal volgens hierdie vers van Jesus getuig. Ook in Johannes 16:7 word duidelik gemaak dat Jesus die Gees sal stuur. Uit al hierdie Skrifgedeeltes blyk dit dat die Gees met die oog op 'n kragtige werking in Jesus se volgelinge gestuur word en dat dit tot seën vir die volgelinge is (Martin & Toney 2018:317). Dit is waarskynlik dat Petrus met die woorde ἡμῖντῆςθείαςδυνάμεωςαὐτοῦδεδωρημένης dieselfde gedagtes as Johannes na vore bring, naamlik dat Jesus Christus sy Gees stuur om tot seën in sy volgelinge te werk.

  • Volgens 1:3 staan krag (δύναμις) op die voorgrond in dit wat aan die apostels gegee is. Volgens Lukas 24:49 het Jesus voor sy hemelvaart die versekering gegee dat die Heilige Gees Jesus se volgelinge met krag (δύναμις) uit die hoogte sal toerus. Jesus se versekering is ook volgens Handelinge 1:8 dat die Gees oor sy volgelinge sal kom en hulle krag (δύναμις) sal ontvang. Dit blyk dat Petrus met die frase ἡμῖντῆςθείαςδυνάμεωςαὐτοῦδεδωρημένης in 1:3 dieselfde versekering in gedagte het as wat Jesus volgens Lukas 24:49 en Handelinge 1:8 gegee het, naamlik die kragtige werking van die Heilige Gees in Jesus se volgelinge.

Daar kan uit die voorafgaande aanvaar word dat Petrus met die frase θείαςδυνάμεως na die werking van die Heilige Gees verwys. Jesus het volgens sy belofte die Gees gestuur om met goddelike krag in die apostels te werk.

 

Die doel waarmee die Heilige Gees aan die apostels (alles) gegee het

In 1:3 maak Petrus bekend dat die goddelike krag aan die apostels alles (πᾶς) gegee het. Hy sê nie uitdruklik wat die inhoud is van hierdie 'álles wat gegee is' nie. Dit is egter duidelik dat Petrus nie die klem op die inhoud van dit wat gegee is, wil laat val nie. Hy wil alleen met die byvoeglike naamwoord πᾶς benadruk dat dit wat gegee is, genoegsaam is. Petrus wys wel uitdruklik op die doel waarvoor alles gegee is. Hy gebruik die voorsetsel πρός saam met die akkusatiewe van ζωή en εὐσέβεια in 1:3.6 Aan die apostels is alles gegee wat dien tot die lewe (ζωή) en vroomheid (εὐσέβεια).

Soms word ζωὴνκαὶεὐσέβειαν in 1:3 as hendiadis beskou (sien bv. Giese 2012:47-48; Davids 2006:168). Die feit dat 'n ware (ewige) lewe sowel as vroomheid in 2 Petrus aan die orde gestel word, toon aan dat die woorde nie as hendiadis verstaan moet word nie. Indirek is 'n ware lewe (ζωή) telkens aan die orde in die vele kere (vgl. byvoorbeeld 2:1, 3, 9, 12, 17, 19) wat Petrus na God se oordeel oor die vals leraars wat Hom verloën (vgl. ἀρνέομαι in 2:1), verwys. Die ware lewe is ook ter sprake wanneer Petrus in 1:11 oor die toegang tot die ewige koninkryk van Jesus Christus handel en in 3:13 in die eerste persoon meervoud sê dat ons nuwe hemele en 'n nuwe aarde verwag (vgl. προσδοκῶμεν). Daar kan met Paulsen (1992:107) saamgestem word wat sê dat die skrywer in 1:3 met ζωή die ware lewe aandui wat deurlopend in die brief ter sprake is.

Ook vroomheid word in die brief beklemtoon. In 1:5-7 word die lesers tot 'n vroom lewe opgeroep wanneer Petrus vereis dat hulle deugde by hulle geloof sal voeg. Die lesers word in 1:8 op die positiewe gevolge gewys indien hulle erns sou maak met 'n lewe vol van die deugde (Breed 2021). In teenstelling met die vroom lewe waartoe die lesers opgeroep word, maak Petrus in die brief duidelik dat die vals leraars byvoorbeeld hebsugtig is (vgl. 2:3) en dat hulle volgens eie begeerlikhede leef (vgl. 3:3; vgl. ook Caulley 2008129-130). Petrus wys met die woord εὐσέβεια op die betekenis 'Gedrag wat die regte geloofsoortuiging en houdings openbaar' (Louw & Nida 1988:532). Die woord εὐσέβεια kan met 'vroomheid' of 'godsvrug' vertaal word. Petrus verwys dus in 1:3 met ζωή na die ware lewe en met εὐσέβεια na vroomheid of godsvrug.

Dit is belangrik om te vra waarom Petrus sou wou aantoon dat die apostels alles ontvang het wat tot die ware lewe en tot vroomheid of godsvrug dien. In 2 Petrus is die navolging van óf die apostels óf die vals leraars op die voorgrond (Donelson 2010:236; Giese 2012:208-209). Petrus beklemtoon uitdruklik dat mense wat die vals leraars navolg, ook in hulle eindbestemming, naamlik God se oordeel sal deel (vgl. byvoorbeeld 2:2 en 2:18-22). Daarteenoor maak Petrus duidelik wat die toekoms is van hulle wat die leer van die apostels aanvaar en hulle lewe daarvolgens inrig. Hulle mag seker wees dat die Here en Verlosser, Jesus Christus aan hulle toegang tot sy koninkryk sal verleen (1:11) en hulle mag, soos die apostels (vgl. die eerste persoon meervoud προσδοκῶμεν in 3:13), nuwe hemele en 'n nuwe aarde verwag (3:13).

Ook die apostels se vroomheid of godsvrug (εὐσέβειαν) sou as voorbeeld vir die lesers dien. Die vals leraars wat die Here verloën het, het volgens 2:19 aan mense vryheid (ἐλευθερία) beloof. Hulle het verkondig dat daar geen oordeel sal wees nie en dat mense vry sal wees om volgens hulle eie drange te leef (Davids 2006:246-247; Donelson 2010:210). Deur in 1:3 te sê dat aan die apostels die ware lewe sowel as godsvrug gegee is, maak Petrus duidelik dat 'n ware lewe en vroomheid aan mekaar verbind is. Wie die ware lewe ontvang het, verwerp die vryheid wat die leraars verkondig. Wie die ware lewe ontvang het, sál, soos die apostels, ook vroom lewe.

 

Die instrument waardeur (alles) aan die apostels gegee is

Petrus dui in 1:3 kennis (ἐπίγνωσις) as die instrument aan (vgl. διὰτῆςἐπιγνώσεως) waarmee die Heilige Gees alles wat tot die ware lewe en tot 'n vroom of godvrugtige lewe lei, aan die apostels gegee het. Die woord ἐπίγνωσις neem 'n sentrale plek in 2 Petrus in. Petrus gebruik ἐπίγνωσις in 1:2; 1:3; 1:8 en 2:20. Picirelli (1975:85-93) het in sy navorsing deeglike aandag aan die Nuwe Testament se gebruik van die woord ἐπίγνωσις gegee. Hy wys daarop dat ἐπίγνωσις 20 keer in die Nuwe Testament gebruik word en wel in Paulus se latere briewe sowel as Hebreërs en 2 Petrus. Hy (Picirelli 1975:85-93) toon aan dat 'no one explanation of the exact connotation of epignosis will cover all its uses in the New Testament'. Picirelli (1975:85-93) gee ook aandag aan die onderskeid tussen ἐπίγνωσις en γνῶσις en toon aan dat 'a meaning for epignosis comes more from the context in which it is used than from the force of the epi'.

Picirelli (1975:92-93) wys ook op die gebruik van ἐπίγνωσις in 2 Petrus. Hy (Picirelli 1975:92) sê dat die skrywer ἐπίγνωσις gebruik 'in the sense which is exactly equel to conversion ' Volgens hom wys ἐπίγνωσις in 1:2 op kennis deur 'n bekering-ervaring en in 1:3, 1:8 en 2:20 op reddende kennis. Wanneer die gebruik van ἐπίγνωσις in die hele geskrif in ag geneem word, blyk dit dat Petrus nie met ἐπίγνωσις kennis deur 'n bekering-ervaring in gedagte het nie. In 1:8 beklemtoon Petrus die belangrikheid daarvan dat die deugde wat in 1:5-7 genoem word, in die lewe van die lesers sal voorkom. Petrus verbind die teenwoordigheid van hierdie deugde by die lesers aan hulle kennis (ἐπίγνωσις) van Jesus Christus met die frase εἰςτὴντοῦκυρίουἡμῶνἸησοῦΧριστοῦἐπίγνωσιν. Picirelli verstaan ἐπίγνωσις in 1:8 as die bron waaruit die deugde voorkom. Van Houwelingen (1988:116) wys egter daarop dat ná 'de twee predikatief gebruikte adjektieven werkeloos en vruchteloos moet de konstruktie εἰςἐπίγνωσιν wel een bepaalde richting aangeven'. Petrus verseker die lesers in 1:8 dus dat, indien die deugde by hulle teenwoordig is, dit nie werkeloos (οὐκἀργούς) of vrugteloos (οὐδὲἀκάρπους) sal wees ten opsigte van die kennis van Jesus Christus nie. Indien die deugde by die lesers teenwoordig is, sal dit hulle ywerig maak en sal dit vrugte dra met betrekking tot die kennis van Jesus Christus (Breed 1994:142-143). Ἐπίγνωσις is hiervolgens dus nie staties nie, maar kan vermeerder. Ἐπίγνωσις verwys dus nie in 2 Petrus na kennis deur 'n bekering-ervaring nie.

Dit blyk beter te wees om te aanvaar dat Petrus die woord ἐπίγνωσις telkens in die semantiese veld en subdomein 'ken' gebruik en wel in die betekenis 'om min of meer afgebakende inligting te besit met moontlik 'n mate van diepgang en bedrewenheid' (Louw en Nida 1988:334). Dit is verder belangrik om daarop te let dat ἐπίγνωσις in 2 Petrus telkens Persone (God en Jesus Christus in 1:2) of 'n Persoon (Jesus Christus in 1:3; 1:8 en 2:20) as objek het. Daar kan met Van Houwelingen (1993:29-30) saamgestem word dat die skrywer nie met ἐπίγνωσις net die besit van inligting van die Persone in gedagte het nie, maar 'n verhouding en dan 'n innige en persoonlike verhouding.

Petrus dui met die τοῦκαλέσαντος in 1:3 aan Wie die Persoon is wat die apostels geken het. Verskeie skrywers (Donelson 2010:2019; Mulholland & Osborne 2016:289) sê dat dit God is wat volgens 1:3 roep. Dit word gemotiveer deur daarop te wys dat dit gewoonlik God die Vader is wat volgens die Nuwe Testament roep (vgl. Rom 9:24; 1 Tess 4:7 en 2 Tim 1:9). Wanneer daarop gelet word dat Petrus in 1:3 oor die apostels se roeping handel en dat Jesus volgens Skrifgedeeltes soos Matteus 4:21, Markus 1:20 en Lukas 5:1-11 sy apostels geroep het, blyk dit dat Jesus se roeping van sy apostels aan die orde is in 1:3 (vgl. Van Houwelingen 1988:101).

Die Heilige Gees het op 'n baie spesifieke manier aan die apostels alles gegee wat tot die lewe en godsvrug dien. Die innige en persoonlike verhouding van die apostels met Jesus Christus ná sy hemelvaart was die instrument waardeur die Heilige Gees alles aan die apostels gegee het. Petrus maak dit dus duidelik dat die Heilige Gees, wat Christus gestuur het, nie buite Christus om in die apostels gewerk het nie. Alleen in 'n innige en persoonlike verhouding met die verheerlikte Jesus Christus was dit moontlik dat die apostels die ware lewe kon ontvang en vroom of godvrugtig kon lewe.

 

Die apostels as geroepenes van Jesus Christus

Omdat dit volgens 1:3 Jesus Christus is wat die apostels geroep het (vgl. hierbo), kan aanvaar word dat Petrus die woord καλέω in 1:3 gebruik in die semantiese veld 'kommunikasie' en die subdomein 'roep' en wel in die betekenis 'om iemand dringend te versoek om verantwoordelikheid te neem vir 'n spesifieke taak en wat 'n nuwe verhouding impliseer met die een wat dringend versoek' (Louw & Nida 1988:424). Jesus Christus het die apostels dus 'dringend versoek' om verantwoordelikheid te neem vir 'n spesifieke taak en 'n nuwe verhouding tussen Hom en sy geroepenes word geïmpliseer. Lukas se beskrywing van Jesus se roeping van die apostels in Lukas 5:1-11, werp besondere lig op die roeping waarna Petrus in 1:3 verwys. In Lukas 5 word Jesus se goddelike krag kort voor die roeping van Petrus beskryf. Toe Petrus Jesus se opdrag gehoorsaam en hy met sy boot na die diep water vaar en die nette daar uitgooi, is die vangs so groot dat die nette wou skeur. Dit gebeur nadat Petrus en die ander manne die hele nag niks gevang het nie. Ná hierdie wonderwerk sê Jesus vir Petrus: 'van nou af sal jy mense vang'. Edwards (2015:156) som die betekenis van Jesus se woorde soos volg op: 'Jesus has "caught" Peter by a miracle of grace, and He commissions Peter to "catch" people likewise.' Edwards wys ook daarop dat hierdie roeping onweerstaanbaar was. Lukas sê dat Petrus en die ander alles verlaat het en Jesus gevolg het (Luk 5:11). Dit blyk uit Lukas 5 dat die apostels geroep is om God se genade in Christus te verkondig en dat hierdie roeping nie maar net 'n 'dringende versoek' was nie, maar dat die geroepenes onvoorwaardelik gehoor gegee het.

Die feit dat Petrus homself en die ander apostels as geroepenes van Jesus Christus in 1:3 bekendstel, staan in kontras met dit wat hy van die vals leraars sê. Terwyl die apostels volgens 1:3 deur Jesus Christus geroep is en hulle dus die boodskap verkondig van Hom wat hulle geroep het, verloën (ἀρνέομαι) die vals leraars Jesus volgens 2:1 en onderrig hulle mense in valshede (vgl. ψευδοδιδάσκαλος). As geroepenes verkondig die apostels die waarheid (vgl. ἀλήθεια in 1:12) en die vals leraars leuens.

Petrus verbind in 1:3 die roeping van die apostels met Jesus Christus se δόξα en ἀρετή. Petrus wys deur die twee datiewe, δόξῃ en ἀρετῇ, die instrumente aan (vgl. Jordaan 2014:123) waarmee die apostels geroep is. Bauckham (1983:178) sê dat ἀρετῇ in die konteks waarbinne dit in 1:3 gebruik word, 'virtually synonymous with δόξα, and denotes the manifestation of divine power' is. Die feit dat Petrus in 1 Petrus 2:9 die woord ἀρετῇ gebruik om na die openbaring van goddelike krag te verwys (Jobes 2005:163), dui aan dat Petrus nie ἀρετῇ in die semantiese veld 'morele en etiese kwaliteite en verbandhoudende gedrag' gebruik nie, maar in die semantiese veld 'krag, mag' vir die betekenis van die 'manifestasie van krag gekenmerk deur uitsonderlikheid' (vgl. ook Louw & Nida 1988:682). Dit bevestig Bauckham se standpunt oor δόξῃ en ἀρετῇ in 1:3. Omdat Petrus in 1:16 uitdruklik na Jesus se krag (δύναμις) verwys, kan dit as verdere bevestiging dien dat Petrus met die twee woorde, δόξῃ en ἀρετῇ, die manifestasie van Jesus se goddelike krag aandui.

Verdere inligting aangaande Jesus se roeping van sy apostels met die instrumente δόξῃ en ἀρετῇ word in 1:16, 18 gebied. Soos reeds voorheen aangetoon, het die vals leraars die apostels beskuldig dat hulle vindingryke fabels (μύθοιςἐξακολουθήσαντες, 1:16) navolg in dít wat hulle bekend gemaak het. Petrus weerlê hulle beskuldiging deur te wys op wat hy, Jakobus en Johannes op die berg van verheerliking waargeneem het (vgl. Matt 17:1-13, Mark 9:2-13 en Luk 9:28-36). Dit is opvallend dat die drie apostels, volgens 1:16-17, Jesus se majesteit (μεγαλειότης), eer (τιμή) en heerlikheid (δόξα) waargeneem het, maar dat hulle7 volgens 1:16 die krag (δύναμις) en koms (παρουσία) van Jesus Christus bekend gemaak het. Die apostels het dus meer as net dít wat hulle met hulle oë en ore waargeneem het, verkondig. Hulle het die betekenis daarvan verkondig. Die apostels kon uit dít wat hulle waargeneem het, Jesus se kragtige wederkoms8 verkondig.

Die feit dat Petrus in 1:16-18 dít wat hy en die ander apostels tydens Jesus se verheerliking waargeneem het as verweer teen die vals leraars se bewerings gebruik het, is belangrik. Jesus het sy apostels juis geroep deur sy δόξῃ en ἀρετῇ aan hulle te openbaar sodat hulle die evangelie met sekerheid kon verkondig. Die apostels se verkondiging rus op vaste grond. Hulle het dit wat hulle verkondig, self waargeneem.

 

Beloftes wat aan die apostels gegee is

Uit 1:4 is dit duidelik dat Jesus ook aan die apostels beloftes (ἐπάγγελμα) gegee het. Daar moet gelet word op die feit dat 1:4 met 1:3 verbind word deur die voorsetselfrase διʼὧν. Omdat die skrywer aan die einde van vers 3 na δόξα en ἀρετή verwys en die twee woorde die voorsetselfrase direk voorafgaan, kan daar afgelei word dat δόξα en ἀρετή die antesedent van διʼὧν is (Davids 2006:171; Schreiner 2003:293; Watson & Callan 2012:155). Jesus Christus het dus deur sy heerlikheid en goddelike krag ook aan die apostels beloftes gegee.

Deur die gebruik van die voegwoord ἵνα in 1:4b maak Petrus duidelik wat die gevolge (en ook die doel)9 vir die lesers was, naamlik dat Jesus Christus aan die apostels die beloftes gegee het. Hy beskryf hierdie gevolge in die twee frases γένησθεθείαςκοινωνοὶφύσεως en ἀποφυγόντεςτῆςἐντῷκόσμῳἐνἐπιθυμίᾳφθορᾶς. Daar kan aanvaar word dat Petrus veronderstel dat die apostels die beloftes wat hulle ontvang het, verkondig het en dat die lesers dit in geloof aanvaar het. Petrus het immers reeds in 1:3 duidelik gemaak dat die apostels deur Jesus Christus geroep is om te verkondig. Dat die lesers dit wat verkondig is, in geloof aanvaar het, blyk uit 1:5 waar Petrus na die geloof (πίστις) van die lesers verwys. Hulle moet by die geloof - wat hulle reeds het - deugde byvoeg (vgl. ook πίστις in 1:1).

Petrus sê nie uitdruklik na watter beloftes hy in 1:4 verwys nie. Hy noem wel dat die beloftes groot waarde het (τίμιος) en uiters belangrik is (μέγιστος) (Louw & Nida 1988:620, 627). In 2 Petrus is daar duidelike aanduidings na watter beloftes Petrus verwys. Daar kan op die volgende beloftes gewys word:

Wanneer Petrus deur die twee frases γένησθεθείαςκοινωνοὶφύσεως en ἀποφυγόντεςτῆςἐντῷκόσμῳἐνἐπιθυμίᾳφθορᾶς in 1:4b aandui wat die gevolge is van die feit dat die lesers die beloftes wat die apostels aan hulle verkondig het in geloof aanvaar het, gee hy 'n duidelike aanduiding van die beloftes wat hy in 1:4a in gedagte het. Breed (2021), gebaseer op Wolters (1990:28-44), toon aan dat Petrus deur die woord γίνομαι in 1:4 wys op die betekenis 'om 'n staat of toestand te verkry' (vgl. Louw & Nida 1988:154). Petrus dui hierdie nuwe staat wat die gelowige lesers verkry het aan deur die woorde θείαςκοινωνοὶφύσεως. Dit blyk dat die woorde θείαςφύσεως 'n perifrastiese verwysing na God is. Die woorde verwys dus nie, soos dikwels aanvaar word, na 'n goddelike natuur10 nie, maar na Iemand, naamlik God. Daar kan verder saam met Breed (2021) en Wolters (1990:32-40) gestem word dat die woord κοινωνός in 1:4 vir die betekenis 'vennoot' gebruik word (vgl. Louw & Nida 1988:447). Hierdie vennootskap moet verstaan word in die konteks van die verbond, naamlik die verbond wat op verskeie plekke in die Ou en die Nuwe Testament ter sprake is (vgl. Grudem 2009:515-522). Petrus maak in 1:4b duidelik dat die lesers wat die beloftes wat die apostels verkondig het in geloof aanvaar het, verbondsvennote van God geword het.

Dit is moontlik om uit 2 Petrus nog nader te bepaal hoekom die aanvaarding van die beloftes tot 'n verandering in status sou lei. In 2:1 verwys Petrus na die Here wat mense vrygekoop (ἀγοράζω) het. Dit is duidelik dat Petrus die woord ἀγοράζω in die semantiese veld 'beheer, regeer' en in die subdomein 'losmaak, vrylaat' gebruik en wel vir die betekenis 'om te veroorsaak dat iemand vrykom deur 'n middel wat vir die persoon wat die vryheid veroorsaak, hoë koste inhou' (Louw & Nida 1988:488). Dit blyk dat Petrus met die woord ἀγοράζω op die 'vrykom' wat Christus bewerk het, wys. Die middel wat hoë koste ingehou het en waarmee Hy vryheid bewerk het, is - soos wat Petrus dit volgens 1 Petrus 1:19 beskryf - die kosbare bloed (τιμίῳαἵματι) van Jesus Christus. In 2:1 handel Petrus oor die vals leraars wat die Here, wat hulle vrygekoop het, verloën (ἀρνέομαι). Hierdie mense het daarop aanspraak gemaak dat hulle vrygekoop is. Hulle lewenswandel het egter getoon dat hulle ongelowig en ongehoorsaam is en nie werklik vrygekoop is nie (Schreiner 2003:331). Hierteenoor verwys Petrus in 1:5-10 na die lesers wat wel geloof het en wat deugde by hulle geloof moet voeg. Daar kan dus afgelei word dat een van die beloftes waarna Petrus in 1:4 verwys, die versekering is dat elkeen wat in Jesus Christus glo deur die kosbare bloed van Jesus Christus vrygekoop is en 'n verbondsvennoot van God geword het.

Breed (2021) wys daarop dat die toestand waarin die lesers was voordat hulle verbondsvennote van God geword het in 1:4b uitgelig word. Hy (Breed 2021) toon aan dat die woord φθορά in die frase ἀποφυγόντεςτῆςἐντῷκόσμῳἐνἐπιθυμίᾳφθορᾶς in die betekenis ''n toestand van morele vuilheid en verdorwenheid' gebruik word (vgl. Louw & Nida 1988:771). Wanneer die aoristiese deelwoord ἀποφυγόντες in 1:4b, soos Breed (2021) aantoon, as ingressiewe aoristus verstaan word en dus die begin van 'n handeling aandui (vgl. Jordaan 2014:13), blyk dit dat Petrus in 1:4b sê dat die lesers wat in 'n verbondsvennootskap met God verkeer, begin het om die staat van onreinheid te ontvlug. Anders as die vals leraars wat deur hulle dade en leer die Here verloën het (2:1), het die lesers begin om die morele vuilheid en verdorwenheid te ontvlug. Die belofte dat hulle wat in Jesus Christus glo deur die kosbare bloed van Jesus Christus vrygekoop is en verbondsvennote van God geword het, behels dus ook dat hierdie gelowiges nie in morele vuilheid en verdorwenheid vasgevang sal wees nie, maar dit sal begin ontvlug:

  • Petrus se beskrywing in 1:16-18 van die gebeure op die berg van verheerliking, bied ook 'n aanduiding van 'n belofte wat die apostels ontvang het. Soos reeds aangedui is, het Petrus en die ander twee apostels Jesus se majesteit (μεγαλειότης), eer (τιμή) en heerlikheid (δόξα) waargeneem en kon die apostels uit dit wat waargeneem is, sy kragtige wederkoms bekendmaak. Hierdie wederkoms hou verband met die beloftes waarna Petrus in hoofstuk 3 verwys. Die skrywer:

emphasize that Christ will come with such divine power since the heretics have denied the final judgment and cataclysmic end (3:10-13). His return will be the moment that ushers in the 'day of God', a time when all creation as we know it will be submitted to divine judgment, with the promise of a new heaven and new earth (Green 2008:219).

  • In die eskatologiese gedeelte (1:11) van die apostel Petrus se leer (1:3-11; vgl. bo) is 'n belofte aangaande toegang tot 'n koninkryk ter sprake. Petrus handel in 1:11 oor gelowiges se 'final salvation' (Bauckham 1983:193). Wat in 1:11 opmerklik is, is die versekering dat die toegang tot hierdie koninkryk ryklik verleen sal word (πλουσίωςἐπιχορηγηθήσεται). Hoewel die voorafgaande verse (vv. 5-10) klem op die lesers se verantwoordelikheid lê, word die belofte van toegang tot die koninkryk nie gemaak omdat mense dit deur hulle werke verdien nie. Charles (1997:152) wys tereg daarop dat dit volgens 1:11 die Here (κύριος) en Verlosser (σωτήρ) is wat toegang tot sy koninkryk verleen: 'Entrance is grace, all grace, lavishly provided at no (human) expence'. Die belofte in 1:11 is duidelik: gelowiges wat hulle geloof in die Here en Verlosser, Jesus Christus deur 'n vroom of godvrugtige lewe bevestig, mag seker wees dat hulle Verlosser aan hulle vrye toegang tot sy koninkryk sal bied.

 

Konklusies

Daar kan eerstens tot 'n aantal konklusies gekom word wat betrekking het op die betroubaarheid van die apostels en hulle getuienis; en tweedens, tot 'n enkele verdere konklusie wat betrekking het op die betroubaarheid van die Bybel.

Rakende die apostels en hulle getuienis blyk dit dat Petrus in 1:3-4 in besonderhede die betroubaarheid van die apostels en hulle getuienis uitspel. Eerstens is die betroubaarheid van die apostels volgens die verse die gevolg van goddelike krag en inisiatief en nie van menslike vermoëns nie. Jesus Christus het deur sy Gees, wat Hy volgens sy belofte gestuur het, met goddelike krag in die apostels gewerk.

Tweedens het Jesus Christus deur die goddelike krag van die Heilige Gees waarmee Hy in die apostels gewerk het, aan hulle alles geskenk wat tot die ware lewe lei. Vanweë hierdie ware lewe wat die apostels ontvang het, was hulle nie, anders as die mense wat Jesus Christus verloën, bestem vir God se oordeel nie. Hulle was seker van vrye toegang tot Jesus Christus se ewige koninkryk. Deur goddelike krag is alles ook aan die apostels gegee wat tot vroomheid of godvrugtigheid lei. Die apostels wat die ware lewe ontvang het en wie se lewe vroom of godvrugtig was, het self 'n getuienis geword aan almal wat bely dat Jesus Christus hulle deur sy kosbare bloed vrygekoop het. Deur goddelike krag het die apostels 'n getuienis geword dat elkeen wat die ware lewe deur Jesus Christus se verlossingswerk ontvang het, vroom of godvrugtig sál lewe.

Derdens was die apostels se verhouding met Christus ná sy hemelvaart innig en persoonlik. Dit is juis binne hierdie innige en persoonlike verhouding dat die apostels deur die goddelike krag van die Heilige Gees alles ontvang het wat aan hulle gegee is. Alleen binne hierdie verhouding was dit moontlik dat hulle in die ware lewe kon deel, en alleen binne hierdie verhouding kon hulle vroom of godvrugtig leef. Hierdie innige en persoonlike verhouding van die apostels met die verheerlikte Christus is vir gelowiges tot 'n voorbeeld. Buite die verheerlikte Christus om is daar geen ware lewe nie - net God se oordeel. Buite Hom om is daar ook geen vroom of godvrugtige lewe nie; slegs gevangenisskap in 'n morele vuil en verdorwe lewe.

In die vierde plek blyk dit uit 1:3-4 dat Jesus Christus self sy apostels geroep het. Hy het hulle onweerstaanbaar geroep en hulle uitgestuur om God se genade in Jesus Christus te verkondig. As geroepenes het hulle met die gesag van hulle Sender sy evangelie verkondig. Omdat hulle oog- en oorgetuies was van Jesus Christus se goddelike krag, was dit wat hulle ná Jesus se hemelvaart verkondig het, nie verdigte fabels nie. Hulle kon betroubaar die betekenis van dit wat hulle waargeneem het, bekend maak.

Dit is in die vyfde plek duidelik dat die apostels as geroepenes van Jesus Christus beloftes van Hom ontvang het - grootse beloftes. Hierdie beloftes moes hulle verkondig. Vir mense wat hierdie beloftes in geloof aanvaar, is daar belangrike gevolge. Soos blyk uit die brief 2 Petrus, sluit hierdie beloftes in dat hulle wat in geloof aanvaar dat Jesus Christus hulle Here en Verlosser is en dat Hy hulle met sy kosbare bloed vrygekoop het, mag seker wees dat hulle verbondsvennote van God geword het. Hierdie belofte sluit in dat verbondsvennote van God nie in morele vuilheid en verdorwenheid vasgevang is nie, maar sal begin om dit te ontvlug. Hulle wat deur Jesus Christus vrygekoop is, mag, soos die apostels, nuwe hemele en 'n nuwe aarde verwag en mag ook weet dat die Here en Verlosser Jesus aan hulle vrye toegang tot sy koninkryk sal gee.

Met betrekking tot die Bybel kan die gevolgtrekking gemaak word dat Petrus se getuienis in 1:3-4 van groot belang is wanneer daar gevra word na die Bybel se betroubaarheid. Die Nuwe Testamentiese geskrifte is draers van die apostoliese getuienis. Omdat die betroubaarheid van die apostels en hulle getuienis, soos Petrus in 1:3-4 getuig, nie die gevolg is van menslike vermoëns nie, maar van goddelike krag, mag gelowiges met sekerheid, nederigheid en dankbaarheid reken op die betroubaarheid van die Nuwe Testament.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

D.G.B. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheid

Die outeur bevestig dat die data wat die bevindinge van hierdie studie ondersteun, beskikbaar is in die artikel.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde verwantskap van die outeur nie.

 

Literatuurverwysings

Bauckham, R.J., 1983, Jude, 2 Peter, TX Word Books, Waco, TX. (Word Biblical Commentary, 50).         [ Links ]

Beale, G.K, 2011, A New Testament biblical theology: The unfolding of the Old Testament in the New, Baker Publishing Group, Grand Rapids.         [ Links ]

Bigg, C., 1969, A critical and exegetical commentary on the epistles of St. Peter and St. Jude, T&T Clark, Edinburgh. (The International Critical Commentary).         [ Links ]

Boice, J.M., 2019, Foundations of the Christian faith: A comprehensive & readable theology, InterVarsity Press, Downers Grove, IL.         [ Links ]

Breed, D.G., 1994, 'Die kenmotief in 2 Petrus. 'n Eksegetiese studie', ThD proefskrif, PU vir CHO, Potchefstroom.         [ Links ]

Breed, D.G., 2021, 'Breed se bybelse pastorale model Skriftuurlik begrond in 2 Petrus 1:3-11: 'n Eksegetiese toeligting', In die Skriflig 55(2), a2673. https://doi.org/10.4102/ids.v55i2.2673.         [ Links ]

Breed, D.G., Van Rensburg, F.J. & Jordaan, G.J.C., 2008, Manlik en vroulik in die kerk: geslagtigheid en die besondere dienste, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.         [ Links ]

Callan, T., 2020, A voyage around the second letter of Peter: Collected essays, PickWick Publications, Eugene, OR.         [ Links ]

Carroll, J.T., 2012, Luke. A commentary, the New Testament library, WJK, Louisville, KY.         [ Links ]

Caulley, T.S., 2008, '"They promise them freedom." Once again, the ψευδοδιδάσκλοι in 2 Peter', Zeitschrift für die neutestamentliche Wissenschaft 99(1), 129-138. https://doi.org/10.1515/ZNTW.2008.010        [ Links ]

Charles, J.D., 1997, 'Virtue amidst vice: The catalog of virtues in 2 Peter 1', Journal for the Study of the New Testament, suppl. ser. 150, pp. 7-201, Sheffield Academic Press, Sheffield. https://doi.org/10.1093/jts/50.1.257.         [ Links ]

Coetzee, J.C., 1984, Die kanon van die Ou en die Nuwe Testament, Wesvalia Boekhandel, Potchefstroom.         [ Links ]

Coetzee, J.C., 1988, 'Gedagtestruktuurontleding en die eksegese van die Heilige Skrifte', in J.C. Coetzee (red.), Koninkryk, Gees en Woord, bl. 19-37, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Cotterell, P. & Turner, M., 1989, Linguistics and biblical interpretation, InterVarsity Press, Downers Grove, IL.         [ Links ]

Davids, P.H., 2006, The letters of 2 Peter and Jude, WB Eerdmans, Grand Rapids, MI. (The Pillar New Testament Commentary).         [ Links ]

Donelson, L.R., 2010, I & II Peter and Jude: A commentary, Westminster John Knox Press, Louisville, KY. (The New Testament Library).         [ Links ]

Edwards, J.R., 2015, The Gospel according to Luke, WB Eerdmans, Grand Rapids, MI. (The Pillar New Testament Commentary).         [ Links ]

Fee, D.G., 2009, New Testament exegesis: A handbook for students and pastors, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Giese, C.P., 2012, A theological exposition of sacred scripture. 2 Peter and Jude, Concordia Publishing House, Saint Louis, MO. (Concordia Commentary).         [ Links ]

Green, G., 2008, Jude and 2 Peter, Baker Academic, Grand Rapids, MI. (Baker Exegetical Commentary on the New Testament).         [ Links ]

Green, J.B., 2006, 'Narrating the Gospel in 1 and 2 Peter', Interpretation: A Journal of Bible and Theology 60(3), 262-277. https://doi.org/10.1177/002096430606000303        [ Links ]

Grudem, W.A., 2009, Systematic theology: An introduction to biblical doctrine, InterVarsity Press, Leicester, MA.         [ Links ]

Harink, D., 2009, 1 & 2 Peter, Brazos Press, Grand Rapids, MI. (Brazos Theological Commentary on the Bible).         [ Links ]

Harvey, R. & Towner, P.H., 2009, 2 Peter & Jude, InterVarsity Press, Downers Grove, IL. (The IVP New Testament Commentary Series).         [ Links ]

Holmes, M.W., Lightfoot, J.B. & Harmer, J.R., 2007, The apostolic fathers: Greek texts and English translations, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Howe, F.R., 2000, 'The Christian life in Peter's theology', Bibiotheca Sacra 157 (July-September), 304-314.         [ Links ]

Jobes, K.H., 2005, 1 Peter, Baker Academic, Grand Rapids, MI. (Baker Exegetical Commentary on the New Testament).         [ Links ]

Jordaan, G.J.C., 2014, Die binnewerk van Antieke Grieks. Die semantiek van grammatiese konstruksies: Handleiding vir eksegete en ander studente van Klassieke en Nuwe-Testamentiese Grieks, Potchefstroom Teologiese Publikasies, Potchefstroom.         [ Links ]

Jordaan, G.J.C., Van Rensburg, F.J. & Breed, D.G., 2011, 'Hermeneutiese vertrekpunte vir gereformeerde eksegese', In die Skriflig/In Luce Verbi 45(2/3), 225-258. https://doi.org/10.4102/ids.v45i2/3.14        [ Links ]

Kennard, D.W., 1987, 'Petrine redemption: Its meaning and extend', The Journal of the Evangelical Theological Society 30(4), 299-405.         [ Links ]

Kruger, M.J., 1999, 'The authenticity of 2 Peter', Journal of the Evangelical Theological Society 42(4), 645-671.         [ Links ]

Kruger, M.J, 2012, Canon revisited: Establishing the origins and authority of the New Testament books, Illinois Crossway, Wheaton, IL.         [ Links ]

Köstenberger, A., 2012, 'Excellence: The character of God and the pursuit of the scholarly virtue', The Chriswell Theological Lectures 10(1), 13-19.         [ Links ]

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1988, Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains, vol. 1, United Bible Societies, New York, NY.         [ Links ]

Martin, R.P. & Toney, C.N., 2018, New Testament foundations: An introduction for students, Cascade Books, Eugene, OR.         [ Links ]

Michaels, J.R., 1988, 1 Peter, Zondervan, Grand Rapids, MI. (Word Biblical Commentary, 49).         [ Links ]

Moo, D.J., 1996, 2 Peter, Jude, Zondervan, Grand Rapids, MI. (The NIV Application Commentary).         [ Links ]

Mulholland, R. & Osborne, G., 2016, James, 1-2 Peter, Jude, Tyndale House Publishers, Carol Stream, IL. (Revelation Cornerstone Biblical Commentary).         [ Links ]

Paul, I.P., 2018, Revelation: An introduction and commentary, InterVarsity Press, London. (Tyndale New Testament Commentaries, 20).         [ Links ]

Paulsen, H., 1992, Der Zweite Petrusbrief und der Judasbrief, Vandenhoeck, Göttingen. (Meyers Kritisch-Exegetischer Kommentar über das Neue Testament).         [ Links ]

Picirelli, R.E., 1975, 'The meaning of "Epignosis"', The Evangelical Quarterly 47(2), 85-93.         [ Links ]

Richard, E., 2000, Reading 1 Peter, Jude, and 2 Peter: A literary and theological commentary, Smyth & Helwys, Macon, GA.         [ Links ]

Roeloff, J., 1994, Revelation: A continental commentary, Fortress Press, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Schreiner, T.R., 2003, 1, 2 Peter, Jude, B&H Publishing Group, Nashville, TN. (The New American Commentary, 37).         [ Links ]

Schreiner, T.R., 2018, 1 Corinthians: An introduction and commentary, InterVarsity Press, London. (Tyndale New Testament Commentaries, 7).         [ Links ]

Taylor, M., 2014, 1 Corinthians: An exegetical and theological exposition of holy scripture, B&H Publishing Group, Nashville, TN. (The new American Commentary, 28).         [ Links ]

Tolar, W.B., 2002, 'The grammatical-historical method', in B. Corley, S. Lemke & G.I. Lovejoy (eds.), Biblical hermeneutics: A comprehensive introduction to interpreting scripture, pp. 21-38, Broadman & Holman Publishers, Nashville, TN.         [ Links ]

Van Houwelingen, P.H.R., 1988, 'De Tweede Trompet. De authenticiteit van die tweede brief van Petrus', ThD Proefschrift, Theologische Universiteit, Kampen.         [ Links ]

Van Houwelingen, P.H.R., 1991, 1 Petrus. Rondzendbrief uit Bablilon, JH Kok, Kampen. (Commentaar op het Nieuwe Testament).         [ Links ]

Van Houwelingen, P.H.R., 1993, 2 Petrus en Judas. Testament in tweevoud, JH Kok, Kampen. (Commentaar op het Nieuwe Testament).         [ Links ]

Van Houwelingen, P.H.R., 2010, 'The authenticity of 2 Peter: Problems and possible solutions', European Journal of Theology 19(2), 119-129.         [ Links ]

Wall, R.W., 2001, 'The canonical function of 2 Peter', Biblical Interpretation 9(1), 46-81. https://doi.org/10.1163/156851501300112362        [ Links ]

Watson, D.F. & Callan, T.D., 2012, First and second Peter, Baker Academic, Grand Rapids, MI. (Paideia Commentaries on the New Testament).         [ Links ]

Wolters, A.M., 1990, '"Partners of the deity": A covenantal reading of 2 Peter 1:4', Calvin Theological Journal 25(1), 28-44.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Douw Breed
douwbreed@gmail.com

Received: 26 Nov. 2020
Accepted: 18 Mar. 2021
Published: 17 May 2021

 

 

1 . In vorige navorsing het ek aandag gegee aan die argumente van skrywers wat beweer dat 2 Petrus nie deur die apostel Petrus geskryf is nie. Volgens my bevinding is hierdie argumente nie oortuigend nie (vgl. Breed 1994:11-26). Kruger (1999:645-671), Schreiner (2003:255-282) en Van Houwelingen (2010:119-129) toon wel oortuigend aan dat daar genoegsame redes is vir die aanvaarding van Petrus se outeurskap.
2 . Verderaan sal alle verwysings na 2 Petrus slegs met hoofstuk- en versnommers aangedui word.
3 . Later word aangetoon dat
ἵνα in 1:4b doel en gevolg aandui.
4 . Van Houwelingen (1993:43-44) wys daarop dat Jesus volgens Johannes 21:18-19 aan Petrus duidelik gemaak het dat Petrus in die toekoms 'n marteldood sou sterf. Dit blyk dat Petrus uit sy omstandighede waarin hy verkeer het volgens 1:14, duidelikheid kry dat die tyd waarna Christus verwys het, aangebreek het. Die apostel Petrus se verhouding is dus in 1:14 op die voorgrond.
5 . Green (2006:262-277) wys op die belangrikheid daarvan dat 1 en 2 Petrus as 'n 'coordinated "Petrine" witness within the Biblical canon' gelees moet word (vgl. ook Wall 2001:46-81).
6 . Jordaan (2014:130-131) wys daarop dat
πρός saam met 'n akkusatief primêr 'beweging na toe' uitdruk en dus doel kan aandui.
7 . Petrus verwys met die aoristiese deelwoord
ἐξακολουθήσαντες in 1:16 na 'n daad van ál die apostels en nie net na iets wat hyself, Johannes en Jakobus, wat met die verheerliking teenwoordig was, gedoen het nie (vgl. Donelson:2010:231; Green 2008:219).
8 . Schreiner (2003:312) toon aan dat
δύναμις en παρουσία as hendiadis gesien moet word en dat dit na Jesus se kragtige wederkoms verwys.
9 . Louw and Nida (1988:783) wys daarop dat wanneer
ἵνα gevolg aandui, dit dikwels ook indirek na doel verwys (vgl. ook Jordaan 2014:81).
10 . Vergelyk byvoorbeeld Die Bybel:2020-vertaling wat
θείαςφύσεως as 'goddelike natuur' vertaal.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License