SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número2Reconstructing communities and individuals after conflict and violence: An avant-garde quest for a forgiveness process that includes koinonia and diakoniaLiturgy as an anti-racist praxis for Reformed Churches in South Africa índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.55 no.2 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v55i2.2740 

ORIGINAL RESEARCH

 

Bekentenisse van 'n YouTube-prediker: Voorlopige outo-etnografiese refleksies oor die opname en lei van 'n digitale erediens

 

Confessions of a YouTube preacher: Prelimaniry autoetnographical reflections on the recording and conducting of a digital worship service

 

 

Jan-Albert van den Berg

Department of Practical and Missional Theology, Faculty of Theology and Religion, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

Digitalisation as part of a ministry strategy was already high on the agenda of communities of faith prior to the COVID-19 pandemic. When considering possible ministry strategies, references to, among others, the Fourth Industrial Revolution and its potential systemic influence were evaluated in reflections on the nature of future congregations. The COVID-19 pandemic, however, considerably complicated and accelerated these trajectories, as the digitalisation of congregations took place, as it were, overnight. An autoetnographical exploration presents a personal, intimate and subjective reflection of this dynamics as well as the significance of digitalisation for communities of faith as can be seen in die conducting and recording of a digital worship service.
CONTRIBUTION: In these critical-evaluative autoetnographical reflections, the author sensitively considers, from a practical theology perspective, the possible significance of perspectives for future worship practices of communities of faith

Keywords: practical theology; digital; autoethnograhpy; 4th industrial revolution; internet; worship service; reflection; personal.


 

 

Inleiding

'n Draaiboek vir Ligte; Kamera en Aksie!

Dit is Donderdagmiddag 14:00 in die leë kerkgebou van die Nederduitse Gereformeerde (NG) Gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein. Saam met die orrelis, koster en kameraman, is ek as liturg en prediker die enigste mense in die kerkgebou. Stilte en dan Ligte, Kamera en Aksie!

'Lights, camera and action!', is alom bekend as die gebruiklike sleutel wat deur kameraspanne gebruik word wanneer die verfilming van 'n toneel begin. Min het ek gedink dat hierdie woorde tekenend sou word van eredienste wat in dié tyd regoor die wêreld digitaal opgeneem word.

Met hierdie gegewe as agtergrond en in die gebruik van die bekende woorde as metaforiese sleutel tot die ontsluiting van die artikel, kan die volgende inleidende opmerkings as 'n draaiboek tot die artikel dien.

Eerstens verwoord die artikel 'n outo-etnografiese benadering tot akademiese navorsing. Die karakter van die navorsing veronderstel dus dat die styl van die artikel 'n sterk outobiografiese karakter dra terwyl ek myself as 't ware in die teks inskryf (Gouws 2020:45). Daarmee saam word die artikel met sterke aksente van kreatiewe skryfwerk ondersteun, wat die akademiese skryfwerk meer soos 'n 'storie' laat lees en aan die dokumentering van die navorsing 'n eksperimentele karakter verleen.

Tweedens dra die titel reeds belangrike merkers in die ontsluiting van die artikel. Die woord bekentennise dra die karakter van 'n belydenis wat publiek gemaak word. Hierdie openbarende belydenis verwoord die perspektief dat dit wat moontlik aanvanklik tot die intieme persoonlike verskans is, nou openbaar en selfs algemeen bekend gemaak word. Die titel bied dus die verwagting dat die perspektiewe in die artikel bepaalde persoonlike en intieme besonderhede van 'n YouTube-prediker aan die lig sal bring. Terselfdertyd bied dit belangrike aksente vanuit 'n prakties teologiese oriëntasie waarin 'n moment van refleksie sentraal is.

Derdens is dit juis die verwysing na ''n YouTube-prediker' wat die subtitel ontsluit. Dít wat persoonlik, individueel en intiem van my as prediker waar is, kan deur 'n voorlopige outo-etnografiese refleksie aan die leser gebied word. In die gebruik van die onbepaald lidwoord in die subtitel (''n YouTube-prediker') word die subjektiewe aard van die refleksie onder meer beklemtoon. Deur die gebruik van my eie huistaal, Afrikaans, verbind ek ook juis my persoonlike ervarings op die gemaklikste wyse aan die geskrewe woord. Hierdie refleksies dra egter die karakter van voorlopigheid, aangesien dit slegs tentatief van aard is, synde die navorsing 'n voortgaande projek in werk en in persoon verteenwoordig. Die besonder persoonlike refleksies word deurlopend in die artikel in ingekeepte en kursiewe formaat aangebied om daardeur stilisties aan die leser te toon waar my eie stem direk hoorbaar is, maar om ook die bekende voortgaande beweging tussen praktyk en teorie, tekenend van 'n klassieke prakties teologiese oriëntasie, te fasiliteer (Browning 1991:41).

Vierdens is die beskrywing kontekstueel aan verskeie swaartepunte veranker. Dit is veranker aan die tyd van die COVID-19 pandemie waarin ek en die wêreld onsself bevind. Veranker aan die betekenis van digitaliteit wat in hierdie tyd die medium word aan die hand waarvan bykans alle gemeentes 'n ruimte moet vind om voortgaande te bly funksioneer. Veranker aan die ruimte wat 'n 'fragile practical theology' (Müller 2009:n.p.) bied om verskillende vlakke van kontekstualiteit te akkommodeer.

Vyfdens, en as uitdrukking van die sentimente onderliggend aan bogenoemde aksente, struktureer ek die artikel aan die hand van die metafoor Ligte, Kamera en Aksie! Elkeen van hierdie drie woorde in die bekende uitdrukking bied 'n aanduiding van 'n betrokke sub-afdeling waarin die artikel gestruktureer is. In elkeen van die afdelings bied ek 'n sirkulêre beweging tussen praktyk en teorie aan met, onder meer, fragmentbeskrywings van my eie ervarings, gevolg deur teoretiese perspektiewe vanuit die literatuur. As agtergrond, maar ook sentraal tot die strukturering van die artikel in hierdie drie sub-afdelings, funksioneer die vyf bewegings volgens 'n sogenaamde 'networked religion'. Hierdie konsep is reeds in 2012 deur Heidi Campbell,1 internasionaal bekende navorser oor digitaliteit en religie, in haar seminale artikel 'Understanding the relationship between religion online and offline in a networked society', gemunt.2 In hierdie artikel wys Campbell daarop dat die metafoor van 'networked religion' as 'n interpreterende sleutel gebruik kan word om die fasilitering, funksionering en interpretering van digitaliteit en religie te ontsluit. As agtergrond van my eie persoonlike refleksie as deel van 'n outo-etnografiese beskrywing, is die volgende woorde van Campbell (2012) belangrik:

The theoretical concept of networked religion, besides speaking to the form of spirituality that emerges out of online networked negotiations with traditional religion, shows how current religious narratives, practices, and structures are able to become increasingly flexible, transitional, and transnational as they are lived out both online and in an information- and technology-driven society. (p. 85)

Ek gebruik ook die metafoor 'networked religion' sentraal as deel van die verdere refleksie in hierdie artikel. Die vyf bewegings waaruit die konsep 'networked religion' opgebou word, naamlik 'networked community, storied identity, shifting authority, convergent practices' en 'multisite reality'3 (Campbell 2012), dien dus soos 'n klankbaan vir die opgestelde toneel wat in die artikel aangebied word.

Ligte! - Agtergrond

Tot 'n jaar gelede sou dit vir my onwerklik gewees het om te dink dat 'n erediens wat ek sou lei op YouTube aanlyn gekyk sou word. Die werklikheid van die COVID-19 pandemie het dié gegewe egter wel laat realiseer. Deur die volgende aangeduide skakel kan na 'n mees onlangse erediens opname gekyk word wat ek in die NG Gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein vir uitsending op Sondag 14 Februarie 2021 gelei het. (NG Kerk Berg-en-Dal 2021 [https://www.youtube.com/watch?v=_abmt6qo8-Q])

Hierdie digitale opname dien as sentrale praktyktoneel vir die eerste beweging van die artikel, naamlik Ligte, wat die agtergrond tot die akademiese refleksie bied.

Om waagmoedig hierdie skakel na die erediens wat ek self lei in die artikel te plaas, laat my blootgestel voel deurdat my identiteit op hierdie persoonlike wyse aan die leser bekend gestel word. Ek moes myself ook krities afvra of dit gepas is om 'n skakel na 'n digitale erediens wat ek lei in 'n huldigingsbundel vir 'n kollega te plaas. In my nadenke hieroor het ek egter tot die gevolgtrekking gekom dat die gebruik van die opname van 'n digitale erediens wat ek lei, juis die essensie van die artikel verwoord. Daarin word die persoonlike aard van die bydrae in die artikel beliggaam en bied dit juis die ruimte waarin ek gemaklik op outo-etnografiese wyse kan reflekteer oor my eie evaring, maar waar daar deur hierdie perspektiewe, ook moontlike betekenis vir ander kan wees.

Die refleksie in hierdie artikel verteenwoordig dus nie net kliniese swart letters op papier nie, maar inderdaad ook die mees persoonlike in beeld en klank soos in die video-opname vasgevang. Hierdie werkswyse bied verder 'n konkrete uitdrukking van die voorheen verwysde delikate en geïntegreerde verhouding tussen die praktyk (in hierdie geval, die skakel na 'n YouTube-video) en teoretiese perspektiewe (Browning 1991:43). Dit bied ook 'n verdere verbinding tussen die digitale (skakel na die video met beeld en klank) en die analoog (swart letters op wit papier) werklikhede wat gesamentlik gedokumenteer word in 'n akademiese artikel.

Lig 1: Skadu's wat vra om belig te word

As agtergrond in die opstel van die toneel wat verfilm moet word, is die vraag na watter temas veral belig moet word. Dit vra dat dit wat in moontlike skadu's gehul is, nou sterker belig en beklemtoon moet word. Leidend hierin is die sogenaamde navorsingsvraag onderliggend aan die akademiese besinning. Die volgende vraag wat die navorsing rig, vra vir die helder beligting deur 'n kollig (spotlight) as verdere beskrywing: Wat is my persoonlike belewenisse in die lei en opname van 'n digitale erediens?

Hierdie vraag het dus nie ten doel om op die nuutste homiletiese teorie te fokus of om nuwe liturgiese voorstelle aan te bied nie; eerder dat dit konkreet die persoonlike belewenisse van 'n sogenaamde YouTube-prediker in die mees persoonlike sin wil dokumenteer.

Hierdie dokumentering geskied teen die agtergrond van 'n sogenaamde Networked community (die eerste strukturele merker in Campbell (2012) se gebruik van die konsep 'networked religion'):

The concept of networked community provides a valuable lens for describing the function of community both online and offline, especially within contemporary Western society. The study of online religious community shows that, rather than living in a single static religious community, people in contemporary society live in religious social networks that are emergent, varying in depth, fluid, and highly personalized. (p. 71)

Die COVID-19 pandemie het geloofsgemeenskappe uitgedaag om opnuut te besin oor alternatiewe wyses van aanbidding. As direkte gevolg van inperkingsmaatreëls het die formaat van eredienste as venster op die dinamika van geloofsgemeenskappe, dinamies verander. Van die tradisionele erediens op 'n Sondagoggend in 'n kerkgebou, word uitsendings nou digitaal gedoen en op sodanige wyse toeganklik gemaak vir elkeen wat daaraan wil deelneem. Belangrik is om in die aanduiding van Campbell se verwysing na networked community kennis te neem van die dinamiese wisselwerking tussen die paradoksale offline en online werklikhede, social networks sowel as die klem op highly personalized. As konkrete uitdrukking hiervan, die volgende refleksie oor die opname en uitsending van die erediens wat as sentrale praktykverwysing in die artikel dien:

Die agtergrond van die video-opname in die artikel is dat die erediens onder COVID-19 inperkingsmaatreëls gewoonlik op 'n Donderdag opgeneem word, dan geredigeer word en na finalisering op YouTube gelaai word met verspreiding aan gemeentelede op Sondae per WhatsApp-boodskap. Afhangende van die vlak van inperking kan 'n beperkte getal lidmate steeds fisies die erediens op 'n Sondag in die kerkgebou bywoon, met die res van die gemeente wat by die YouTube-opname inskakel.

In die verstaan van die dinamika, vra hierdie artikel juis na die belewenis van die prediker wat vir die (digitale) erediens verantwoordelik is. In die aanbieding van 'n tweede metaforiese ligbron, gaan dit nou nie net oor die verligting van skadu's nie, maar ook oor die beligting van die aksie-toneel. As tweede Lig bied ek die volgende kort oorsig en plasing in praktiese teologie.

Lig 2: Praktiese teologie

As kind het ek reeds ontdek dat met vakansietye die preekstoel van NG Gemeente Queenswood waar my pa predikant was en die kerkbank op die galery waar ek, my ma en broer Sondag na Sondag gesit het, kan verander. In die Nasionale Krugerwildtuin iewers onder 'n Jakkalsbessieboom langs die Sabierivier het ons gesin knus in die motor oor die motorradio na die direkte erediensuitsending iewers vanuit 'n gemeente in Suid-Afrika op die destydse Afrikaanse diens geluister. Dit was vir my as kind besondere ervarings wat nou nog kosbare herinnerings verteenwoordig. Alhoewel daar altyd vir my waarde in die fisiese bywoning van 'n erediens in 'n kerkgebou sal wees, besef ek tog ook nou in die pandemietyd, dat hierdie eredienservarings in die Wildtuin my reeds gesintetiseer het vir eredienste in ander formate, asook vir die besondere betekenis daarvan.

In die ontwikkeling van praktiese teologie is daar tans in die beweging van 'n fokus slegs op die kerklike praktyk, 'n voortgaande erkende ontwikkeling om deur 'n hermeneutiese interpretasie van die alledaagse lewensmomente 'n deurleefde religie na te spoor en te ontdek (Ganzevoort 2009:n.p.). Die beskrywing en interpretering van konkrete daaglikse praktykwerklikhede behoort dus tot die kern van die betekenis wat praktiese teologie vir die teologiese wetenskap wil bring. Hierin word duidelike aksente van die konkrete, lokale en beliggaamde werklikheid belig. Juis daarom skryf Bonnie Miller-Mclemore (2019) tereg:

Practical theology is a general way of doing theology concerned with the embodiment of religious belief in the day-to-day lives of individuals and communities Practical theology is seldom a systematic enterprise, aimed at the ordering of beliefs about God, the church, or classic texts. More often it is an open-ended, contingent, unfinished grasp or analysis of faith in action, it focuses on the tangible, the local, the concrete, and the embodied Its subject matter is often described through generic words that suggest movement in time and space, such as action, practice, praxis, experience, situation, event, and performance it depends on knowledge and experience of people outside narrow areas of expertise and specialization. (p. 4 [outeur se eie beklemtoning])

In die beskrywing van hierdie werklikhede het daar ook mettertyd 'n verdere ontwikkeling gekom wat die subjektiewe verstaan van die praktyk nie alleen erken nie, maar wat dit ook konkreet wil fasiliteer in metodologie. Dit het gelei tot, onder meer, ontwikkelende metodologieë soos outo-etnografiese navorsing (Walton 2021:n.p.).

In die verrekening van my eie persoonlike plasing in die konkrete konteks van Suid-Afrika tydens die COVID-19 pandemie te midde van die onsekerheid wat dit bring, word die digitale inkleding van die erediens in liturgie en in prediking tekenend van die versmelting van horisonne deur sogenaamde Convergent practices:

The internet serves as a spiritual hub, allowing practictioners to select from an array of sources and experience in order to assemble and personalize their religious behavior and belief. This encourages a convergent form of religious practice online, a process that allows and even encourages users to draw from traditional and new sources simultaneously. The technological landscape of the internet removes many traditional entry barriers, allowing religious users new levels of freedom to create and access information. (Campbell 2012:76-77)

Die YouTube-platform word dan nie net 'n uitdrukking van digitale toegang en belewenis nie (Soukup 2014:3-34) nie, maar bied ook die praktyk(e)-ruimte waarbinne ek op samevloeiende wyse (lees convergent) lokaal, konkreet en beliggaam tussen die analoog en digitale sfere kan beweeg. Die innooi in die erediens vind lokaal vanuit die liturgiese ruimte op 'n Donderdagmiddag met opname plaas, maar die digitale reikwydte daarvan dra konkreet en beliggaam oor die ruimtes van die internet tot op die rekenaarskerm van die individu in 'n persoonlike sfeer.

Kamera - Lense en 'n fokus op die werklikheid

In die verdere ontwikkeling van die assosiatiewe betekenismoontlikhede van die metaforiese uitdrukking Ligte, Kamera en Aksie!, gebruik ek vervolgens die aksent op Kamera om aan die hand van twee lens-beskrywings op die volgende perspektiewe ter beskrywing van die persoonlike belewenis van 'n digitale erediens te fokus:

Lens 1: 'n Prakties teologiese outo-etnografiese beskrywing

Ek het grootgeword met die wete, en dít ook tot in Maart 2020 beleef, dat besluite nie noodwendig vinnig in die kerk geneem hoef te word nie, veral as dit nie nodig is. Daarvoor was ek maar al te goed bewus van die betekenis van besluitnemingstrukture soos kommissies, kerkrade, bestuursrade en sinodes. Om tot 'n besluit oor 'n saak te kom, het 'n bepaalde werkswyse veronderstel en wanneer al die prosesse deurloop is, is die besluit eers geneem. Dit was egter tot voor Maart 2020. In my preek van 02 Februarie 2020 in die NG Gemeente Berg-en-Dal, Bloemfontein (op hierdie geskiedkundige datum in die geskiedenis van Suid-Afrika gedagtig aan die gebeure van 02 Februarie 1990), verwys ek die eerste keer publiek na die woord Corona en sê ek aan die gemeente dat dit blyk dat 2020 die jaar gaan wees waarop ons almal hierdie woord gaan leer sê. Min het ek toe geweet net hoe goed ons hierdie woord sou leer sê in die volgende maand of wat, asook hoe dit 'n lewenswyse, ook kerkwees, vir altyd sou verander. Vanuit hierdie konkrete werklikheid en gerig vanuit 'n persoonlike refleksie, gebruik ek vervolgens teoretiese perspektiewe as agtergrond tot die metodologie van outo-etnografie as medium vir moontlike refleksie op die persoonlike belewenisse van 'n sogenaamde YouTube-prediker.

Outo-etnografie is 'n relatief nuwe en ontwikkelende metode in kwalitatiewe navorsing. Outo-etnografie word beskryf as die benadering tot en dokumentering van navorsing wat daarna streef om persoonlike ervarings ('outo-') op sistematiese wyse te beskryf en analiseer ('-grafie') ten einde bepaalde kulturele ervarings ('etno-') te interpreteer (Ellis, Adams & Brochner 2011:273; Walton 2021:n.p.). Met die klem op die ontwikkelende aard van die metode, dra nuwe ontwikkelings op konstante basis by tot die verdere verruiming van die aanpak van navorsing. Die innoverende deskriptiewe wyse van beskrywing spruit vanuit 'n postmoderne benadering waarin erkenning gegee word aan die mees persoonlike, intieme en subjektiewe beskrywing van ervarings. Hierdie beskrywings is egter meer as net outobiografiese fragmente wat verpak word, maar in die reflektering vanuit die ruimtes van die intieme, word kritieke verbindings gemaak met groter kulturele patrone wat tot 'n groter gesprek lei waarin 'n voortgaande sirkulêre beweging tussen die persoonlike en die algemene gefasiliteer word. In die beligting van die tema van navorsing is dit dus duidelik dat die sentrale vraag die ondersoek na die persoonlike belewenisse van 'n YouTube-prediker lei en dat die refleksie van die praktyk deur outo-etnografiese metodologie gerig word wat die moontlikheid bied tot nuwe praxisbeskrywings vir 'n groter gemeenskap.

Hierdie outo-etnografiese plasing vind goed aansluiting by Campbell se volgende merker in die beskrywing van sogenaamde 'networked religion' naamlik storied identity. Volgens hierdie beskrywing is:

one's storied identity online not separated from their identity outside the internet, and should not be studied as such. The internet becomes a place for living out the religious self, which can combine both experimentation with different ways of being and evaluation and adoption of traditional identity roles. (Campbell 2012:73)

In hierdie erkenning van die mees subjektief persoonlike is die fasilitering van refleksie uiteraard belangrik vir praktiese teologie (Graham 2017a:n.p.). Dit is juis in die moment van kritiek persoonlike subjektiewe refleksie waarin daar 'n verdere ontwikkeling van die praktyk geskied sodat daar nou na die transformerende karakter van praxis verwys kan word (Graham 2017b:172-180). Ten einde die imperatief tot refleksie ernstig te neem, waag ek dit met die volgende refleksie(s) in 'n aanvanklike en verkennende fasilitering van storied identity.

Ek is onseker hoe verskillende kykers vanuit verskillende agtergronde na die video-opname kyk. Hoe beïnvloed die verskuiwing van 'n aanvanklik meer informele verwelkoming buite die kerk na die gebruik van formele liturgiese drag (wat vir my besondere betekenis en waarde het), die kyker se ervaring? Alhoewel ek intensioneel van verskillende sittende en staande posisies tydens die erediens gebruik maak (staande as ek uit die Bybel lees en sittende tydens die prediking), is ek onseker of die kyker dit betekenisvol of steurend vind. Behalwe die meer formele aspekte is daar egter ook die mees persoonlike wat op bewuste en onbewuste vlak in my gmoed lê: Vrae na my eie selfbewussyn voor die kamera, asook die onsekerheid en vrees oor hoe mense die opname sal beleef.

Lens 2: Digitaliteit

In Julie 2019 lei ek 'n interdissiplinêre navorsingskonferensie oor die betekenis van die Vierde Industriële Revolusie vir teologie en ander wetenskappe. Tydens die konferensie is ek saam met ander akademici diep bewus van die moontlike invloed en betekenis van ontluikende tegnologieë vir die wêreld van môre. 'n Vakwetenskaplike publikasie van die konferensie verskyn in Julie 2020 (Van den Berg 2020), te midde van vlak 4-inperking. Min het ek en die konferensiegangers geweet dat die perspektiewe in die publikasie net verder geaksentueer en gesneller sou word deur die koms en wêreldveranderende invloed van die COVID-19 pandemie. In my eie werk en bediening het ek die afgelope sewe maande geleer om verskeie digitale platforms effektief te gebruik. YouTube, Facebook-Live, MS Teams, Zoom, Skype for Business en WhatsApp het deel van my alledaagse verwysing geword. In die bestek van weke het ek migreer na 'n aanlynomgewing waarin gebruik gemaak word van verskillende wyses om die Sondageredienste aan lidmate te bied. Die ontwikkeling in bediening het spontaan veroorsaak dat verskeie lidmate in gemeentes, dikwels met 'n sterk tegnologies tegniese agtergrond, by die opname en produksie van Sondag eredienste betrokke geraak het.

As 'n tweede lens word die fokus op die konsep van digitaliteit gerig. As agtergrond vir die verstaan van digitaliteit is dit belangrik om kennis te neem van die evolusionêre ontwikkeling van, enersyds, die sogenaamde Industriële Revolusies, en andersyds, maar direk verbind daaraan, die internet.

Vanuit die Eerste Industriële Revolusie, met die klem op meganisering, spruit die Tweede Industriële Revolusie wat deur die gebruikmaking van elektrisiteit massaproduksie fasiliteer. Die ontwikkeling en gebruik van die internet lei tot die Derde Industriële Revolusie met die klem op outomatisering. Voorspruitend hieruit groei die Vierde Industriële Revolusie met onder meer die versmelting van ' the spheres of the digital, physical and biological (jointly referred to as "cyber-physical systems") with a significant social and economic impact' (Fourie 2020:12). Hierdie ontwikkelings word onder meer ondersteun deur 'n ander revolusie waarna Anderson (2015:n.p.) verwys as die 'triple revolution' en wat bestaan uit die internet, die beskikbaarheid van mobiele tegnologieë soos selfone en tablette asook die gebruik van sosiale media.

Verskeie publikasies soos byvoorbeeld dié van Wise (2014); Gould (2015); Anderson (2015), en Campbell en Garner (2016) vra na die verhouding tussen ontwikkelende tegnologieë en digitaliteit. Ten diepste bring die opmerkings die vraag na vore oor die verhouding wat ek, ander mense en geloofsgemeenskappe met tegnologie het (Cloete 2015:1-7). Ten einde te reflekteer oor hierdie verhouding, voortspruitend uit die ontwikkeling van die onderskeie Industriële Revolusies, maar ook in die versnelling wat teweeggebring is deur die COVID-19 pandemie, is dit uiteraard belangrik om krities oor die verhouding met tegnologie te reflekteer.

Die agtergrond van die ontwikkelings is natuurlik duidelik sigbaar in die media wat gebruik word vir die opname en uitsending van 'n digitale erediens op YouTube. Alleenlik die gebruik van die YouTube-platform bied die uitdrukking van 'n digitale werklikheid as ruimte. As die digitale skakel dan per WhatsApp versend word (of ingesluit word in die artikel) vind besondere verdere vlakke van verbinding tussen analoog- en digitale werklikhede plaas.

Voortspruitend en op 'n dieper vlak van refleksie, fasiliteer die verhouding met digitaliteit die vraag na outoriteit en selfs 'n verskuiwing in outoriteit (Campbell 2020c:n.p.; 2020d:n.p.) wat besig is om plaas te vind:

The malleability of religious community and identity online has contributed to a struggle between traditional sources of religious authority and new authority figures appearing online. The fluidity and transience of online environments poses challenges to traditional authority structures, roles, and tools. The result has been that the internet is framed both as a threat to certain established roles and hierarchies and as a tool of empowerment by others. (Campbell 2012:74)

As deel van die refleksiemoment van 'n prakties teologiese oriëntasie is dit, myns insiens, belangrik om vervolgens weereens op lokale, konkrete en beliggaamde wyse te reflekteer hoe die konstruk van outoriteit gefasiliteer en ook uitgedaag word in die video-opname van die digitale erediens. Ek beleef hoe die vlakke van outoriteit subliem, maar konkreet gestalte vind in al die rolspelers wat teenwoordig is by die opname van die erediens. Die persoon wat die kamera vashou en die hoek van skote word bepalend vir die kyker se belewenis van die opname. Die persoon wat die redigering van die rou videomateriaal behartig, het besondere beheer, aangesien hy inderdaad heel konkreet kan besluit watter gedeeltes van die opname behoue bly en op watter wyse verskillende momente in die erediens bymekaar aansluiting vind. Die persone wat na die erediens kyk, het egter die laaste seggingskap deurdat hulle op enige moment kan besluit om die opname vinniger vorentoe te speel of om dit selfs te beeïndig. Alhoewel ek dus as liturg en prediker optree, gee ek alle outoriteit oor

Aksie

In 'n plaaslike gemeente kan ek nog 'n onlangse debat onthou waar lede op 'n kommissie onder meer oor die voordele daarvan om tegnologie (bv. 'n dataprojektor) as deel van die erediens te gebruik, gesels het. Daar was uiteraard stemme daarvoor, asook menings daarteen. En toe binne 'n week of twee, word dieselfde lede van die kommissie, die gemeentes, maar ook geloofsgemeenskappe ironies genoeg nie met die feit van hoe ons moontlik sekere aspekte van tegnologie kan gebruik vir sekere aspekte van 'n erediens gekonfronteer nie, maar hoe tegnologie wel gebruik kan word om 'n totale erediens te laat plaasvind en tot in die sitkamers van gemeentelede te bring. 'n Besluit wat normaalweg maande of selfs jare sou duur om te neem, word in die bestek van dae op dinamiese wyse gefasiliteer. Dít, op sigself, is vir my 'n betekenisvolle moment en wys alleen op die feit hoe 'n sisteem dinamies kan aanpas tot nuwe betekenis.

In die laaste beweging van die sentrale metafoor onderliggend aan die artikel, naamlik Ligte, Kamera, Aksie!, fokus ek in die Aksie-gedeelte op die aspek wat as deel van 'n refleksie oor praktiese teologie dikwels fasiliterend van transformasie is. Ter afsluiting van hierdie artikel en as slotrefleksie gebruik ek as laaste merker, voortspruitend uit die sentrale konsep van networked religion, die verwysing na 'multisite reality':

Connected to the idea of a multisite reality is that online world is consciously and unconsciously imprinted by its users with the values, structures, and expectations of the offline world. Multisite reality means online practices are often informed by offline ways of being as users integrate or seek to connect their online and offline patterns of life. It also means that there is often ideological overlap and interaction between online religious groups and forums and their corresponding offline religious institutions Thus the internet becomes a conversational space allowing for interaction and negotiations between traditional and new sources and interpretations of religious belief. (Campbell 2012:80)

Voortspruitend uit hierdie verstaan en met die beligting wat deur 'n prakties teologiese oriëntasie verskaf is as agtergrond, maar ook deur die gefokusde lense van 'n outo-etnografiese beskrywing(s) in verkenning van die verhouding met, onder meer, digitaliteit, is 'n ruimte vir Aksie! geskep. Tekenend van hierdie Aksie! is die skakel na die opname van 'n digitale erediens wat by hierdie artikel ingesluit is en wat fasiliterend is van 'n sogenaamde 'multisite reality'.

Die erediensopname is intensioneel só opgeneem en geredigeer dat dit 'n werklike erediens sou simuleer. Die opname is in die kerkgebou gedoen met die insluiting van verskillende liturgiese momente. Werklikheid is digitaal vasgevang. Terwyl hierdie erediensopname beskikbaar was op YouTube, het ons een dogter in Stellenbosch daarna gekyk terwyl ek dieselfde vooraf opgeneemde erediens 'lewend' in die gemeente onder aangepaste vlak 3-inperkings met nie meer as 50 lidmate teenwoordig, gelei het. Ongeag lokaliteit en tyd kon almal deel wees van dieselfde erediens en dit op verskillende tye en platforms - lokaal, konkreet en beliggaam.

 

Slot

Ligte, Kamera, Aksie! - Opmerkings ter verdere redigering

Die refleksie in hierdie artikel bied slegs my eie voorlopige persoonlike weergawe van die belewenisse van 'n sogenaamde YouTube-prediker. Die bedoeling hiervan is nie dat dit as 'n algemeen geldende beskrywing hoef te dien nie en ook nie dat dit as 'n volledige weergawe gesien hoef te word nie. Inteendeel, en immers, soos Miller-McLemore (2019:2) tereg opmerk: 'Practical theology is by definition dedicated to particularities, not comprehensiveness, which means that certain material get privileged '. Dit is egter in die erkenning hiervan dat my taak as praktiese teoloog sigbaar word en waarin deur die ontwikkeling van ' skills of self-reflectivity and social interpretation ' 'n nuwe voortgaande kontekstuele beliggaming, beskrywing, betrokkenheid en transformasie plaasvind (Miller-McLemore 2019:8). In die voorsetting van Ligte, Kamera, Aksie! in verskillende formate, is geloofsgemeenskappe en YouTube-predikers voortgaande besig met 'n intydse redigering.

Die moontlikheid hiervan word gevind wanneer dít wat mees persoonlik is, op so 'n wyse gedokumenteer word dat hierdie teks ook 'n spieël vir ander word waarin hulle sekere aspekte van hulleself herken. Miskien sal dit daarom goed wees om die beskrywing in die lig van die klem op die woord bekentenis in die titel van die artikel soos volg af te sluit: Vir die YouTube-prediker is daar talle maniere om die reikwydte van 'n digitale erediens vas te stel. Vir my self, eerder as om byvoorbeeld ag te slaan op die aanduiding van hoeveel mense na die opname gekyk het, was die volgende individuele boodskap genoegsaam.

Twee weke na die YouTube-opname wat as agtergrond tot die artikelrefleksie dien, ontvang ek 'n WhatsApp-boodskap van 'n persoon uit Australië wat ek nie persoonlik ken nie. Die persoon skryf: 'Dit was soos om in Bloemfontein in die Kerk te wees. Ek kon die kraak van die kerkbanke, die sonlig wat op die vensters val, die musiekklanke van die orrel en die stem van die Woord hier in Perth duidelik hoor, sien en beleef. Dankie'.

Genoegsaam om te besef dat geloofsgemeenskappe en ander YouTube-predikers, soos ek, kan weet dat ten spyte van al die uitdagings wat die COVID-19 pandemie bring, dit ook opnuut bevestig het dat 'n digitale erediens opname en uitsending voortgaande ' tot die uithoeke van die wêreld' strek. Ligte, Kamera, Aksie!

 

Erkenning

Dit is vir my 'n groot voorreg om deur die akademiese refleksie erkenning te gee aan die reusebydrae van kollega en vriend Gert Breed aan praktiese teologie. Vandat ek Gert die eerste keer by 'n Werksgemeenskap vir Praktiese Teologie ontmoet het, het ons dikwels en gereeld met mekaar in gesprek getree oor gemeenskaplike sake van belang. Ek het Gert leer ken as iemand met 'n fyn aanvoeling vir die breë kerklike praktyk. Komende vanuit die aktiewe bediening na 'n heeltydse loopbaan in die akademie, is sy navorsingsbydraes juis deur 'n fyn aanvoeling vir die kerklike praktyk gevoed en gestempel. In die tyd van oorgangsfase in Gert se eie lewe, poog ek om in dié bydrae persoonlike perspektiewe te bied vir 'n tyd waarin die wêreld self 'n besondere oorgangsfase beleef.

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

J-A.v.d.B. is die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Databeskikbaarheid

Die outeur bevestig dat die data wat die bevindings van hierdie studie ondersteun, beskikbaar is in die artikel.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde verwantskap van die outeur nie.

 

Literatuurverwysings

Anderson, K., 2015, The digital cathedral: Networked ministry in a wireless world, Morehouse Publishing, New York, NY.         [ Links ]

Browning, D.S., 1991, A fundamental practical theology, descriptive and strategic proposals, Fortress Press, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Campbell, H.A., 2011, When religion meets new media, Routledge, London.         [ Links ]

Campbell, H.A., 2012, 'Understanding the relationship between religion online and offline in a networked society', Journal of the American Academy of Religion 80(1), 64-93. https://doi.org/10.1093/jaarel/lfr074        [ Links ]

Campbell, H.A., 2013, Digital religion: Understanding religious practice in new media worlds, Routledge, London.         [ Links ]

Campbell, H.A. (ed.), 2020a, The distanced church. Reflections on doing church online, Digital Religion Publications: An imprint of the Network for New Media, Religion & Digital Cultural Studies, viewed 24 April 2021, from https://doi.org/10.21423/distancedchurch        [ Links ]

Campbell, H.A. (ed.), 2020b, Digital ecclesiology: A global conversation, Digital Religion Publications: An imprint of the Network for New Media, Religion & Digital Cultural Studies, viewed 24 April 2021, from https://doi.org/10.21423/digitalecclesiology        [ Links ]

Campbell, H.A. (ed.), 2020c, Religion in quarantine. The future of religion in a post-pandemic world. Insights from scholars of religion at Texas A&M University, Digital Religion Publications: An imprint of the Network for New Media, Religion & Digital Cultural Studies, viewed 24 April 2021, from https://doi.org/10.21423/religioninquarantine        [ Links ]

Campbell, H.A. (ed.), 2020d, Digital creative and the rethinking of religious authority (media, religion and culture), Routledge, London.         [ Links ]

Campbell, H.A. & Garner, S., 2016, Networked theology: Negotiating faith in digital culture, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Cloete A.L., 2015, 'Living in a digital culture: The need for theological reflection', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(2), Art. #2073, 1-7. https://doi.org/10.4102/hts.v71i2.2073        [ Links ]

Ellis, C. Adams, T.E. & Bochner, A.P., 2011, 'Autoethnograhpy: An overview', Historical Social Research 36(4), 273-290.         [ Links ]

Fourie, L.C., 2020, 'Technology and theology, finding the real God', in J.A. Van den Berg (ed.), Engaging the Fourth Industrial Revolution, perspectives from theology, philosophy and education, University of the Free State Theological Explorations, vol. 3, pp. 11-41, SUN MeDIA, Bloemfontein.         [ Links ]

Ganzevoort, R.R., 2009, Forks in the road when tracing the sacred. Practical theology as hermeneutics of lived religion, Presidential address to the 9th conference of the International Academy of Practical Theology, Chicago, IL, viewed 24 April 2010, from http://www.ruardganzevoort.nl/.         [ Links ]

Gould, M., 2015, The social media gospel: Sharing the good news in new ways, Liturgical Press, Collegeville, MN.         [ Links ]

Gouws, C., 2020, 'To see, while unable to see: Autobiographical perspectives of an ophthalmologist on the COVID-19 pandemic', Acta Theologica 40(2), 45-63. https://doi.org/10.18820/23099089/actat.v40i2.03        [ Links ]

Graham, E.L., 2017a, 'On becoming a practical theologian: Past, present and future tenses', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(4), a4634. https://doi.org/10.4102/hts.v73i4.4634        [ Links ]

Graham, E.L., 2017b, 'The state of the art: Practical theology yesterday, today and tomorrow: New directions in practical theology', Theology 120(3), 172-180. https://doi.org/10.1177/0040571X16684419        [ Links ]

Miller-McLemore, B.J., 2019, 'General introduction', in B.J. Miller-McLemore (ed.), The Wiley-Blackwell reader in practical theology, pp. 1-17, Blackwell Publishing, Oxford. [Kindle Edition].         [ Links ]

Müller, J., 2009, 'Practical theology - A safe but fragile space', paper presented at the Joint Conference of Academic Societies in the Fields of Religion and Theology, University of Stellenbosch, 23rd June. The original title was: 'Holistic Pastoral Ministry in a Time of Transition', viewed 04 February 2021, from https://www.academia.edu/4257503/Practical_Theology_a_fragile_space?email_work_card=view-paper.         [ Links ]

NG Kerk Berg-en-Dal, 2021, Sondag, 14 Februarie 2021, NG Kerk Berg-en-Dal, Bloemfontein [online video], viewed 14 February 2021, from https://www.youtube.com/watch?v=_abmt6qo8-Q.         [ Links ]

Soukup, P.A., 2014, 'Looking at, with, and through YouTubeTM', Communication Research Trends 33, 3-34.         [ Links ]

Van den Berg, J.A., 2020, Engaging the Fourth Industrial Revolution: Perspectives from theology, philosophy and education, SUN MeDIA, Bloemfontein. (University of the Free State Theological Explorations, vol. 3).         [ Links ]

Walton, H., 2021, What is autoethnograhpy and why does it matter for theological reflection, ANVIL, vol. 36:1, viewed 22 March 2021, from https://churchmissionsociety.org/resources/what-is-autoethnography-theological-reflection-heather-walton-anvil-vol-36-issue-1/.         [ Links ]

Wise, J., 2014, The social church: A theology of digital communication, Moody Publishers, Chicago, IL.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Jan-Albert van den Berg
vdbergja@ufs.ac.za

Received: 08 Mar. 2021
Accepted: 27 May 2021
Published: 23 Aug. 2021

 

 

1 . Sien die volgende boeke deur Campbell: When religion meets new media (2011); Digital religion: Understanding religious practice in new media worlds (2013); The distanced church. Reflections on doing church online (2020a); Digital ecclesiology: A global conversation (2020b); Religion in quarantine. The future of religion in a post-pandemic world. Insights from scholars of religion at Texas A&M University (2020c) en Digital creative and the rethinking of religious authority (media, religion and culture) (2020d).
2 . Sien ook Campbell en Garner se werk Networked theology: Negotiating faith in digital culture (2016) waarin hierdie konsep 'networked religion' ook sentraal gebruik word.
3 . Let daarop dat die onderskeie vyf bewegings soos aangedui nie in dieselfde volgorde in die artikel gebruik word as oorspronklik deur Campbell aangedui in haar publikasie(s) nie.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons