SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número2Spiritual intelligence can heal South Africa and Christianity has a major role to playThe roots of missio Dei in the Reformation, and its implications for theological education índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.54 no.2 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v54i2.2548 

ORIGINAL RESEARCH

 

Teologies nagedink oor W.J. Snyman as ekumeniese teoloog

 

 

Jan H. van Wyk

Die Eenheid vir Reformatoriese Teologie en die Ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Samelewing, Fakulteit Teologie Noordwes- Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika

Correspondence

 

 


ABSTRACT

Although Snyman was not an active publisher and his written heritage not impressive, one could argue that what he did publish, especially when his contribution on synodical level is considered, makes him one on the most influencial theologians, and especially ecclesiologians in the GKSA during the 20th century. In the first place, one could refer to his contribution with regard to the relation between the so-called 'younger' and 'older' churches in the GKSA. It was because of the insights of Snyman that the first General Synod of the Reformed Churches in Southern Africa met in 1965, after the 'older' Synod of the Reformed Churches in South Africa took that decision in 1964. This Synod, however, came to an end in 1992, but revived in 2009 with full status. Secondly, it was on the inisiative of Snyman that the intermediate commission of the three Afrikaans churches started communicating, because the Synod of the GKSA repeatedly decided that church disunity was sinful. Thirdly, Snyman stimulated the origin of the Reformed Ecumenical Synod (RES - later called Council) in 1946, because he was convinced that the unity of Reformed churches cannot be stopped by oceans. Snyman wanted this RES to function as synod, taking binding decisions and not only giving advice which should later be rectified by the different national synods. Although he rejected the volkskerk model and replaced it with a volkerekerk model, he was criticised that his ecclesiology was not free from volks elements. A second point of criticism was that he did not consider (enough) that church unity does not start from the 'top' (the synod), but from the 'bottom' (the local congregation). This last criticism was the main reason for the termination of the first General Synod in 1992.
Judged within the context of his time, which was typified by radical political and church apartheid and viewed against the background of the separation model, which was dominant in the GKSA before 1950, we should really appreciate the ecclesiological contribution of Snyman. It was an effort to ground ecclesiology on Scripture and on Christ, in order to transform the church of Christ to be a servant in the coming of the kingdom of God in South Africa.

Keywords: Koninkryk; Kerk; Kerkeenheid; Kerklike verskeidenheid; Kerklike verdeeldheid; Snyman.


 

 

Inleiding

Die vraag kan gestel word waarom juis W.J. Snyman vir 'n teologiese ondersoek en gesprek uitgesonder word. Hiervoor bestaan daar heelwat redes soos byvoorbeeld 'n byna lewenslange persoonlike kontak tussen my en hom, asook teologiese oorwegings. Hierdie lang en vrugbare persoonlike verhouding tussen my en Snyman is grotendeels deur omstandighede - en Goddelike bestiering teweeggebring. Hy het my en my vrou gedoop en was daarna my predikant vir sewe jaar in Venterstad (1937-1944), daarna my professor aan die Teologiese Skool Potchefstroom vir vier jaar (1958-1961), en daarna dosent in Nuwe Testament vir my doktorale eksamen. Op 17 Februarie 1962 het hy my as predikant in Salisbury in Suid-Rhodesië (vandag Harare in Zimbabwe) as predikant bevestig. Telkens was hy ook 'n gewillige en simpatieke raadgewer in moeilike kerklike sake1 en tydens sinode- en kommissievergaderings asook teologiese konferensies, het ons dikwels opbouende gesprekke gevoer.

Die belangrikste oorweging was egter sy teologiese standpunte. Hy kan, myns insiens, beskou word as waarskynlik die invloedrykste teoloog wat die GKSA in die twintigste eeu opgelewer het. Dit kan veral toegeskryf word aan die bydrae wat hy as ekumeniese teoloog ten opsigte van sake soos die kerk en koninkryk gelewer het. Hierdie stelling word in hierdie artikel nader ondersoek. Voordat sodanige evaluering egter kan plaasvind, is dit nodig om die kerkhistoriese konteks waarbinne hy opgetree het, duidelik te skets.

 

Kerkhistoriese konteks van die GKSA2

Die polarisasie model: volkskerk (1869-1958)

Hoewel die GKSA nooit die gedagte van 'n 'volkskerk' aanvaar het nie, toon die vroegste sinodebesluite tog duidelike tekens van so 'n benadering. So besluit die Sinode van 1869, tien jaar na die 'afstigting' van die GKSA, dat 'gelijkstelling van de gekleurde bevolking dezer landen met de blanke bevolking, op kerkelijke gebied nu nog ongeschikt, ja onmogelijk (is)' (Acta GKSA 1869:24). Die Sinode van 1873 gaan 'n stappie verder en laat die woorde 'nu nog' weg, terwyl die woord 'gelijkstelling' nader omskryf word as 'gelijkelijk bedienen van Gods Woord en de H Bondzegelen in één kerkgebouw aan blanken en gekleurden'. Verder word gesê dat so 'n gelykstelling 'ongepast en ondoenlijk' is en die Sinode vermaan kerkrade om sorg te dra dat 'de kleurlingen niet onderwezen worden noch godsdienst genieten in dezelfde gebouwen met de blanke bevolking' (Acta GKSA 1873:32-33).

Die Sinode van 1876 word versoek om die besluit van 1873 Skriftuurlik te fundeer, waarop geantwoord word dat aparte eredienste wenslik is ter wille van welvoeglikheid en ordelikheid (Jooste 1958:328).

Hoewel die woord apartheid destyds nog nie gebruik is nie, is dit tog duidelik dat die vroegste Sinodebesluite van die GKSA ondubbelsinnig van 'n polarisasie model gebruik gemaak het. Die Volkskerkmotief was toe al as onderlilggende model hanteer. Die enigste twee 'gemeenteskeurings' wat daar in hierdie vroeë periode voorgekom het, 1877 in Bethulie en 1908 in Humpata, was dan ook rasgedrewe (Jooste 1958:338 e.v.).

Die vroegste sendingwerk van die GKSA wat in 1895 onder bruin Afrikane in Venterstad begin is en in 1896 tot gemeentestigting gelei het, lewer ook 'n duidelike illustrasie van die dubbele kerkbeskouing. Al word dieselfde taal gepraat, word die 'bruin' lidmate nie in die 'wit' gemeente opgeneem nie, maar word 'n afsonderlike gemeente gevorm. Al die 'bruin' gemeentes sou in 1963 'n afsonderlike Sinode Suidland vorm, wat op sy beurt weer later in 1990, by die 'wit' nasionale sinode in Potchefstroom sou inskakel.

In 1942 in die middel van die Tweede Wêreldoorlog, neem die nasionale sinode van die GKSA een van sy mees omstrede besluite. Tydens die sinode word ten sterkste teen die voorgenome bewapening van 'nie-blankes' protesteer, want dit is 'volksgevaarlik, in stryd met ons Christelike tradisies en druis in teen ons sendingbeleid' (Acta GKSA 1942:30).

Dit is insiggewend om ook die standpunte van enkele prominente figure in die GKSA onder oë te neem. Dit is sonder meer duidelik dat president Paul Kruger die Afrikanervolk met die kerk van Christus geïdentifiseer het (Bergh 2017:497-581). In die meeste van sy telegramme tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog (tans Suid-Afrikaanse oorlog genoem) (1899-1902), inspireer Kruger die Boerevegters om te volhard met verwysing na die woorde van die Here dat hy wat sy (eie) lewe wil red, sal dit verloor, maar dat hy wat sy lewe (vir die waarheid) verloor, sal dit red (Bergh 2017:504, 505). Die oorlog van Brittanje teen die Boere word as 'n 'aanslag van die duiwel teen Christus en sy kerk' beskryf (Bergh 2017:514).

Onder teoloë neem die proefskrif van prof. P.J.S. de Klerk (1923) - nogal behaal aan die Vrije Universiteit Amsterdam - 'n belangrike plek in. Die titel van die proefskrif lui: 'Kerk en Sending in Suid-Afrika'. De Klerk (1923:165) is van mening dat sendingwerk die naturelle-vraagstuk ten goede kan kom, maar dan is 'dit noodsaaklik om hier konsekwent deur te voer die skeiding van swart en blank, 'n standpunt wat die kerke reeds in die verlede aangehang het'. Die enigste oplossing hier is om 'die rasse kerklik sowel as maatskaplik te segregeer. Die teorie van die "ekwaliste", van volkome gelykstelling, gaan nie op nie, dit juis was die groot onheil van Suid-Afrika.' Voorts: 'Die naturelle behoort tot 'n laer ras.' Die Skepper het self die lyne getrek en die enigste standpunt is segregasie van blank en swart op kerklike en maatskaplike gebied. Hierdie siening moet uitloop op die stigting van 'nasionale kerke'. Galasiërs 3:28 kan nie hierteen aangevoer word nie, want daar gaan dit om die 'hoëre eenheid in Christus' (De Klerk 1923:165-169). Stelling XIV van die proefskrif lui dan ook dat 'segregatie van blank en zwart, zowel op kerkelijk als op maatschappelijk gebied, komt de zending in Zuid-Afrika ten goede'.3 Dit is opvallend dat die argumentasielyn van De Klerk weinig verantwoorde Skriffundering bevat en eerder die vorm van postulate vertoon.

'n Ander teoloog wat aan die dubbele kerkbeskouing 'n teologiese onderbou voorsien het, was J.D. du Toit (Totius) met sy voordrag tydens 'n volkskongres in Bloemfontein in 1944. Sy tema was 'Die Godsdienstige Grondslag van ons Rassebeleid'. In die Christelike kerk, sê Totius, 'sal hy [die naturel] sy eie tipe verteenwoordig' (Du Toit & Du Toit 1955:14). 'n Beleid van segregasie word teologies verdedig. God is tog die groot Skeidingmaker (Du Toit & Du Toit 1955:5-7). Deur God se voorsienigheid is die nasies in aansyn geroep en word hulle bewaar (Du Toit & Du Toit 1955:6, 9, 13). Van die Christologie en pneumatologie is weinig sprake. Daar word wel na Galasiërs 3:28 en Kolossense 3:11 verwys, maar onmiddellik bygevoeg, soos by De Klerk, dat daardie eenheid 'geestelik' van aard is (Du Toit & Du Toit 1955:10, 14) en by implikasie dus onsigbaar sal wees. Wat sy volksbeskouing betref, word verbastering en gelykstelling afgewys en moet die Afrikaners 'n beleid van 'Christelike voogdyskap' volg (Du Toit & Du Toit 1955:14, 19-20).

Die groot fout in die benadering van Totius (en De Klerk) is dat hy (hulle) die betekenis van die Christologie minimaliseer. Vanuit die Christologie sou byvoorbeeld die vraag gevra kon word of God in Christus nie veel eerder die Heelmaker (Heiland) as Skeidingmaker is nie, en dat die skeiding wat Hy wél maak, nie tussen swart en wit is nie, maar tussen geloof en ongeloof. In 'n ander verband hét Totius wel geargumenteer dat die Bybel God se plan van verlossing openbaar en wel soos dit in Christus gesentraliseer is (Du Toit 1941:42).

Enkele sake moet hier bygevoeg word. In 1955 besluit Sinode Potchefstroom om teologiese opleiding vir 'nie-blankes' te begin en in 1956 word daarmee in Dube 'n begin gemaak. In 1962 verskuif hierdie (afsonderlike) opleiding na Hammansraal in Bophuthatswana en in 1995 verskuif dit weer na Potchefstroom sodat daar slegs een opleiding vir 'blank' en 'nie-blank' sou wees - 'n gebeurtenis van besondere betekenis vir daardie tyd.

In 1958 besluit Sinode Potchefstroom dat vermenging op kerklike terrein 'ongeoorloof' is, aangesien dit 'die gevaar behels van ondermyning van die nasionale identiteit en roeping' veral vir die blankes wie se getalle in die minderheid is. In Suid-Afrika is 'gemengde kerkformasie' dus ongeoorloof (Acta GKSA 1958:266, 268-270). Hierdie besluit illustreer duidelik hoe lank die polarisasie model in die GKSA nog toegepas is.

Die partisipasie model: Volkerekerk (1961-1993)

Hierdie periode is die bloeitydperk van die apartheidspolitiek in Suid-Afrika. In 1960 vind die Sharpeville-slagting plaas waartydens die polisie 69 betogers doodskiet. Teen die einde van 1960 vind die veelbesproke Cottesloe Beraad, gereël deur die Wêreldraad van Kerke, plaas. Hiertydens word apartheid veroordeel, en in 1963 word die Christelike Instituut gestig met Beyers Naudé as direkteur - 'n instituut wat hom en sy lyfblad, Pro Veritate, krities teenoor apartheid opstel. In 1977 word die Christelike Instituut egter deur die regering tot 'n verbode organisasie verklaar - 'n verbod wat in 1984 opgehef is. Terwyl al hierdie groot gebeurtenisse plaasvind, word Suid-Afrika in 1961 'n Republiek.

Vanaf 1948, die jaar waartydens die Nasionale Party met sy apartheidsideologie in Suid-Afrika aan bewind gekom het, het daar egter 'n wending in die siening en benadering van die GKSA begin intree na aanleiding van 'n studie van Snyman (1977:35-50; oorspr. 1942)4 oor die gebruik van die Woord kerk in die Nuwe Testament. Hierdie artikel bevat 'n opsomming van sy proefskrif wat hy nooit kon voltooi nie. Nadat Snyman in 1936 sy doktorale eksamen aan die Vrije Universiteit in Amsterdam afgelê het, moes hy voortydig, in 1939, na Suid-Afrika terugkeer vanweë die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Op sy terugreis ontstaan daar 'n brand op die boot, die Gelderland, en sy onvoltooide proefskrif, wat oor die kerkgedagte in die Evangelies sou handel, word deur die brand vernietig. Naas die volgehoue erkenning van 'verskeidenheid' in die kerk, word die 'eenheid' nou ook nadruklik beklemtoon (kyk verder Du Plessis 1963:32; Van der Merwe 1973:4, 17). Veral belangrik is die feit dat Snyman in sy studies, veel meer as wat voorheen in die GKSA gedoen is, die eenheid van die kerk asook die sonde van kerklike verskeurdheid beklemtoon.5 In plaas van die volkskerkmodel sou hy die volkerekerkmodel ontwikkel. Daar sal later dieper hierop ingegaan word.

Die natuur - genademodel het in talle sinodebesluite 'n bepalende rol gespeel: die genade (die kerk) hef die natuur (die volk) nie op nie (vgl. Acta GKSA 1961:112). Die rol van etnisiteit speel deurgaans steeds 'n belangrike rol, maar word op een punt deurbreek. Afsonderlike eredienste, kerkinstituering (Acta GKSA 1961:119), nasionale sinodes (Acta GKSA 1964:268; 1067:188) en teologiese skole (Acta GKSA 1961:177; 1964:265) moet gehandhaaf word, maar daar behoort één algemene sinode te wees, saamgestel uit die vier nasionale sinodes (Potchefstroom ['wit'], Middellande ['swart'], Suidland ['bruin'], Soutpansberg ['swart']) - 'n gemengde sinode dus, met die 'blankes' ver in die minderheid. Later sal aangetoon word dat juis die gebrek aan koinonia op plaaslike vlak, een van die belangrikste kritiekpunte van die 'jonger' kerke sou word. Hierdie besluit tot een algemene sinode kan, gesien binne die konteks van die harde apartheidspolitiek wat destyds geheers het, as epogmakend beskou word. Die GKSA was die eerste van die drie klassieke Afrikaanse kerkgemeenskappe wat sodanige besluit geneem het. In 1965 vind die eerste Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suidelike Afrika dan ook plaas - 'n sinode wat bindende besluite neem.

Veral sedert 1970 verskerp die wending in die Potchefstroomse sinodebesluite verder - hierdie keer hoofsaaklik vanweë besluite van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES), waarby die GKSA van die begin af betrokke was. So word daar byvoorbeeld besluit, en wel op advies van die GES, dat ras, volk of kleur nie kriteria vir kerklidmaatskap en erediensbywoning mag wees nie en dat daar teen niemand op grond daarvan gediskrimineer mag word nie (Acta GKSA 1985:437, 650). 'n Besondere hoogtepunt is die aanvaarding van 'n minderheidsheidsrapport wat die agt deputate van die GKSA by die GES 1988 in Harare ingedien het en wat deur die Sinode GKSA (Potchefstroom) aanvaar is. Hiermee verklaar die Sinode (Acta GKSA 1991) dat:

[T]he ideology of apartheid, which is a political and social system by which human dignity is adversely affected and whereby one particular group is detrimentally suppressed by another, cannot be accepted on Christian grounds because it contravenes the very essence of reconciliation, neighbourly love and righteousness, the unity of the Church and inevitably the human dignity of all involved and is therefore a sin and the biblical justification of it a heresy (160, 169; vgl. 187).

Ook van die kant van 'n susterskerk, die Christian Reformed Church of North America (CRC), het daar in 1989 kritiese stemme opgeklink en het die CRC sy verhouding met die GKSA tydelik opgeskort (Acta GKSA 1991:18-182). Volgens die CRC het die GKSA met 'n 'ekklesiologie van verskeidenheid' gewerk, terwyl ons in die Bybel 'n 'ekklesiologie van eenheid' vind.

Die sinodes van die 'jonger' Gereformeerde sinodes het hulle stem ook al hoe dikker gemaak.6 Sinode Middellande, wat in 1983 in Metsi-A-Matala plaasgevind het, beskou die standpunte van die GKSA as 'n geloof-plus-etnisiteit standpunt sowel as 'n afbuiging van die reformatoriese belydenis van die sola fide (Acta Middellande 1983:76). Die 1986-'Konsensus van Nooitgedacht' het ook diep-versteurend ingewerk op die verhouding tussen die drie 'jonger' sinodes en Sinode GKSA (Potchefstroom). Vir byna 'n week het deputate van die vier sinodes in Nooitgedacht vergader en 'n goeie konsensus oor kerklike eenheid bereik en is etnisiteit gerelativeer.7 Sinode Potchefstroom het hierdie konsensusbesluit egter vanweë 'n minderheidsrapport 'n koue skouer gegee, en dit het die spanning tussen Sinode Potchefstroom en die ander drie sinodes geweldig verhoog. Die jonger sinodes was van mening dat ware kerkeenheid eerstens op gemeentevlak begin en nie op sinodevlak nie.

In 1988 beëindig Sinode Soutpansberg sy verhouding met die Algemene Sinode, en in 1992 vergader hierdie Sinode die laaste keer in hierdie vorm. 8

Die Unifikasie model: Godskerk (1993-2009)

Ondertussen is die interne kerklike gesprek oor eenheid in die Gereformeerde Kerke voortgesit. Voortgesette gesprekke oor eenheid lei, onder andere, tot een teologiese opleiding in Potchefstroom in 1995. Gevolglik word die Hammanskraalse Teologiese Skool wat hoofsaaklik op swart studente gefokus het (hoewel wit studente ook later daar opgelei is) gesluit en studeer swart en wit studente saam in Potchefstroom. Dit impliseer dat swart studente vir die eerste keer in 'wit' gemeentes preek. Sinode Soutpansberg was egter nie heeltemal tevrede met die inrigting van die opleiding nie en stuur hulle studente weldra na die Universiteit van Pretoria.

In 2006 besluit Sinodes Potchefstroom en Middellande (Acta GKSA 2006:388-399) op 'n meer Skrifverantwoorde (unifikasie) vorm van kerkeenheid vanaf gemeentevlak, klassisvlak, streeksinodevlak en algemene sinodevlak. Die gevolg is dat sedert 2009, die Algemene Sinode van Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die eerste keer in die nuwe vorm vergader. 'n Gedeelte van Sinode Soutpansberg en klassis Tshwane ondersteun nie hierdie eenheidsbeweging nie. Hulle hoofargument bly steeds dat eenheid op gemeentevlak begin - en waarskynlik ook met die onuitgesproke versugting dat hulle bydrae op sinodevlak met sy 'wit oorheersing' nie tot sy reg sal kom nie.

Die kerk word in die Bybel veral as volk van God, liggaam van Christus en tempel van die Heilige Gees beskryf. Die kerk is nie 'n volkskerk of volkerekerk nie, maar Godskerk, Christuskerk, Geeskerk.

 

Snyman as ekumeniese teoloog9

Die koninkryk van God as sentrale tema van die Nuwe Testament

Onder Snyman se invloed tree daar 'n totaal nuwe tendens in die GKSA na vore. Dit is hoofsaaklik toe te skryf aan sy siening van die verhouding tussen die kerk en die koninkryk van God. Sy beskouing van die koninkryk as sentrale Nuwe-Testamentiese tema, bevry die kerk van 'n enghartige, geslote en beklemmende benadering en skep 'n nuwe ruimte vir die bestaan van die kerk as Godskerk met 'n nuwe visie en missie. Die kerk verander nou van 'n eksklusiewe na 'n inklusiewe gemeenskap, van 'n geslote na 'n oop gemeenskap - 'n gemeenskap waar almal wat die bevrydende evangelie aanvaar of wil hoor, welkom is.

Vir Snyman (1977:140; oorspr. 1962) is die koninkryk van God en sy koms, soos hy dit graag formuleer, die hooftema van die Nuwe Testament. Die Godsheerskappy op aarde het aangebreek in die persoon en werk van Jesus Christus en veral in die werk van die Heilige Gees. Dit is opvallend dat Pinkster as snypunt geneem word: Vóór Pinkster was die koninkryk van God (met Christus) nog onder ons, maar met die koms van die Heilige Gees kom die koninkryk van God in ons (Snyman 1977:58). Die koninkryk van God hét gekom, maar sál met die wederkoms van Christus finaal kom en daarom leef ons tans tussen die 'reeds' en die 'nog nie' (Snyman 1977:184, 212; oorspr. 1963/1964).

Vir Snyman (1977:198; oorspr. 1969) is die koninkryk van so 'n oorweldigende betekenis, dat 'dit nie 'n artikel van die konfessie soos die Kerk is nie, maar dit is die hele konfessie van die Kerk'.

Die verhouding kerk en koninkryk

Volgens Snyman bestaan daar 'n noue verband tussen die kerk en die koninkryk. 'Die Kerk is nie die Koninkryk nie, maar die Kerk is diegene wat die Koninkryk bely' (Snyman 1977:198; oorspr. 1969). 'Die Kerk verwag nie alleen die Koninkryk nie, maar die Koninkryk is ook in die Kerk gerealiseer' (Snyman 1977:198; oorspr. 1969). 'Die Koninkryk is in die Kerk, maar die Kerk moet ook in die Koninkryk gaan' (Snyman 1977:60; oorspr. 1965).

Snyman wys 'n spiritualisering sowel as nasionalisering van die koninkryk af (Snyman 1977:220-221; oorspr. 1969), maar aanvaar dat die kerk as dienskneg van die koninkryk hom wel met alle soorte sosiale vraagstukke moet besig hou (Snyman 1977:128; oorspr. 1968), byvoorbeeld Christelike wetenskap. Hier volg hy die Kuyperiaanse model en onderskei tussen kerk-as-instituut en kerk-as-organisme (Snyman 1977:34; oorspr. 1944), en oordeel dat die kerk se sosiale roeping deur die kerk-as-organisme onderneem moet word. Snyman was gevolglik afkerig van elke vorm van wêreldvermyding en wêreldontvlugting. Hy (Snyman 1977:456; oorspr. 1959) kon dus waarsku teen 'n verkerkliking van die politiek sowel as 'n verpolitisering van die kerk. 'n Mens sou kon sê dat hy die skeiding tussen die Christelike en die nasionale (Christelik en nasionaal) asook die identifikasie daarvan (Nasionaal-Christelik) afgewys het en 'n derde opsie, naamlik Christelik-Nasionaal gekies het.

Die kerk bestaan nie uit gemeentes nie

In die volksmond bestaan 'n 'kerk' uit 'gemeentes' en die vraag is of hierdie algemene spraakgebruik Skriftuurlik verantwoord is. Volgens Snyman is dit totaal onskriftuurlik. In die Nuwe Testament word daar net twee betekenisse aan die woord kerk (ekklesia) geheg, naamlik plaaslike kerk (o.a Matt 18:17; Rom; 1 Kor) en universele kerk (o.a. Matt. 16:18; Ef; Kol).10 'n 'Kerk' bestaan nie uit 'gemeentes' nie maar uit 'gelowiges'; die kerk is 'n gemeenskap van gelowiges en nooit 'n samevatting van 'gemeentes' nie. Die woorde kerk en gemeente beteken gevolglik presies dieselfde (Snyman 1977:24-25; oorspr. 1944:35-50; oorspr. 1948/49:76-87; 1967).11

Een van die grootste denkfoute wat gelowiges vandag maak, is wanneer hulle dink dat hulle aan 'n gemeente behoort wat deel is van 'n bepaalde 'kerk'. So 'n siening is totaal onskriftuurlik en een van die mees tragiese gevolge en nalatenskappe van die Reformasie van die sestiende eeu. Die 'Protestantse kerk' het uiteengespat in die 'Lutherse kerk', 'Gereformeerde kerk' en 'Anglikaanse kerk', en later ook die 'Charismatiese kerk(e)'. Hierna sou hierdie 'kerke' weer onderverdeel in honderde kleiner Lutherse, Gereformeerde en Charismatiese kerke.12

Kerk en eenheid (ekumenisiteit)

In sy vroeë werke het Snyman (1977:30; oorspr. 1944) nog betoog dat die eenheid van die kerk 'n 'onsigbare eienskap' is, maar later sou hy skryf dat dit 'n 'ontwyking' van die vraagstuk van kerkeenheid is om 'na die onsigbare kerk as 'n saak van net die geloof' te verwys (Snyman 1977:84; oorspr. 1967). Hierdie eenheid van die kerk moet ook sigbaar word in 'n volwaardige algemene en ekumeniese sinode oor nasionale grense heen, sonder om daardie grense uit te wis (Snyman 1977:75, 82; oorspr. 1967:100; oorspr. 1954:110; oorspr. 1962:314; oorspr. 1961). Die ontstaan van die Algemene Sinode van die GKSA in 1965 kan grotendeels aan die bydrae van Snyman toegeskryf word. Ek het reeds op die belangrikheid hiervan gewys en hierdie ontwikkeling is ook deur Spoelstra (1981:50) beskryf as 'seker die belangrikste kerkregtelike ontwikkeling na die oorlog vir die GKSA en vir die toekomstige kerklike en politieke ontwikkeling in Suidelike Afrika'. Snyman het ook in die ontstaan van die GES in 1946 'n belangrike rol gespeel en sou graag wou sien dat dit as 'n volwaardige sinode beskou moes word.13

Kerk en verskeidenheid (pluriformiteit)

Terwyl Snyman hom so sterk ten gunste van die eenheid van die kerk uitgespreek het, ontstaan die vraag of die eenheid nou alle verskeidenheid ophef. Is daar dan geen plek in die kerk vir verskillende 'geloofsmaniere' nie (kyk Vlijm 1981)? Daar is, volgens Snyman, geen plek vir 'n 'bantoe' kerk en daarnaas 'n 'blanke' kerk (Snyman 1977:109; oorspr. 1962), dit wil sê vir 'n volkskerk nie, maar daar is wel plek vir 'n volkerekerk (Snyman 1977:110; oorspr. 1962:113; oorspr. 1963). Die kerk neem in elke volk gestalte aan en wel sodanig dat die uitverkorenes in elke volk die wesenlike geheel van daardie volk uitmaak.14

Die vraag ontstaan waar Snyman aan hierdie idee van 'n volkerekerk gekom het en of hy dalk deur sy leermeester, F.W. Grosheide, of moontlik ander teoloë beïnvloed is. In sy kommentaar op Matteus skryf Grosheide (1954) die volgende:

In Matth 24 horen we, dat in het einde elk volk, wil men de kern van dat volk (naar den regel van Jes. 6:13; Rom. 11:26), die het eigenlijke van dat volkt uitmaakt, tot de volle zaligheid komen kan, omdat het evangelie er is gepredikt, vgl. Openb. 7:9, 21:26. (p. 362, [outeur se kursivering])

Dieselfde gedagte word ook by die teoloog, E. Stauffer (1945), aangetref in sy boek wat oor die teologie van die Nuwe Testament handel. Volgens Stauffer (1945:174) kan die kerk wat uit die sendingarbeid gebore word 'weder Nationalkirche noch Weltkirche sein. Sie muss Völkerkirche sein'. Volgens hom (Stauffer 1945) word:

Die Verschiedenheiten zwischen Mensch und Mensch in der Kirche Christi nicht aufgehoben (1 K 7,17ff.; 11,2ff.; 14:34ff.; Herm s 2,5ff. ) - Die mannifachen Verschiedenheiten zwischen Volk und Volk sind in der Kirche nicht ausgesholtet - wohl aber aufgenommen (G. 3:28; Eph. 2, 15ff). (p. 175)

Dit is egter duidelik dat dit vir Stauffer oor die behoud van verskeidenheid in een en dieselfde gemeente gaan en dat Syman hom moeilik in hierdie verband op Stauffer sou kon beroep vir die gedagte van 'n (afsonderlike) volkerekerk.

Die gedagte van 'n 'volkskerk' of 'volkerekerk', selfs 'volkse' kerk, soos Heyns (1977:217) later sou doen, kan moeilik op die Skrif fundeer word. Die kerk kan op geen manier as kleurgemeenskap beskryf word nie en dit is ook 'n vraag of die kerk as 'alternatiewe gemeenskap' (Bosch 1982) omskryf kan word (kyk Berkouwer 1970:153). Dit is wel duidelik dat die kerk 'n unieke gemeenskap is - volk van God, liggaam van Christus en tempel van die Heilige Gees. Snyman kan gelyk gegee word dat die kerk nie die volk elimineer nie, maar wel relativeer (Ef 2:15) as teenvoeter teen die benadering van die verabsolutering van die volk.

Snyman (1977:85; oorspr. 1967) is van mening dat natuurlike oorsake soos byvoorbeeld taal en getalle eie gemeentevorming nuttig maak. Veral taal ontvang 'n besondere aksent en wel met die oog op die verstaanbaarheid van die Woordbediening (Snyman 1977:57, 62, 85, 112-113, 285, 287, 203, 314, 414). Hy beklemtoon dat sodra 'n nuwe gemeente vanweë sendingarbeid geïnstitueer is, daardie gemeente 'n selfstandige gemeente is en nie as onvolwasse beskou moet word nie (Snyman 1977:62, 80, 85, 129). Hoewel die jong gemeente 'n selfstandige gemeente is, is dit egter nie 'n onafhanklike gemeente nie. 'n Ou en jong gemeente of kerk staan in kerkverband met mekaar en het mekaar nodig. 'Juis die jong kerke het die toesig en hulp van die gevestigde kerke nodig, maar die omgekeerde is ewe waar. Die laaste het ook van die eerste te leer' (Snyman 1977:85; oorspr. 1967).

In die vorige eeu was die vraag na gesamentlike of afsonderlike aanbidding 'n hewige debatspunt. Vir Snyman is die taalaspek hier van deurslaggewende betekenis - soos hierbo aangetoon. Waar die Woordbediening sentraal staan, 'daar is dit 'n vereiste dat elke taalgroep sy eie eredienste sal hê, omdat die bediening van die Woord dan alleen tot sy volle reg sal kom (Snyman 1977:112; oorspr. 1963). ''n Veelrassige kerkgemeenskap is alles behalwe "die ideaal" van die NT' (Snyman 1977:287; oorspr. 1957). Nié dat hy heeltemal daarteen gekant was nie, maar hy merk op dat 'gemeenskaplike nagmaalviering' as uitsondering gesien moet word, waarby ook rekening met besondere landsomstandighede gehou kan word (Snyman 1977:320; oorspr. 1961).

Verskeie teoloë in die GKSA het egter reeds sedert die sewentigerjare daarop gewys dat eiesoortige taalgemeentes wel as praktiese reëling aanvaarbaar is, maar dat dit na alle kante óóp gemeentes moet wees wat ook in een sinodale verband saamleef (kyk Van Wyk 1985:20-27).

Kerk en verskeurdheid (pluraliteit)

Kerklike verdeeldheid of verskeurdheid was vir Snyman sonder meer 'n sonde; iets waarin nie berus kan word nie (Snyman 1977:454; kyk Acta GKSA 1964:197). 'Die eenheid van die uitwendige kerk is 'n goddelike opdrag' en verskille moet broederlik onder oë gesien word 'om sodoende te bring in een kerkverband' (Acta GKSA 1958:79-80).

Tydens die eeufeesviering van die GKSA in 1959 gebruik hy die volgende uitdrukking in 'n preek: 'Ons kerkbegrip moet gereformeer word, anders kom ons op 'n verkeerde pad' (Snyman 1977:455; oorspr. 1959). Dit is onwaarskynlik dat die eeufeesgangers die diepte en reikwydte van hierdie woorde goed besef het, want kerkskeuring was (veral) sedert die vorige eeu 'n algemeen aanvaarde standpunt. Weinig was daaroor hartseer, weinig het daaroor gebid en weinig het doelgerig vir eenwording gewerk.

Snyman het 'n drieërlei onderskeiding in hierdie verband hanteer. Eerstens, naas die gewone kerklike eenheid in een kerkverband, kon daar, in die tweede plek, 'samewerking' tussen kerkgemeenskappe wees in soverre daar ooreenstemming is, en derdens, 'samespreking' waar daar verskille bestaan (Snyman 1977:76; oorspr. 1965:85; oorspr. 1967:455; oorspr. 1959). 'n Mens sou dit ook kon formuleer as korporatiewe, koöperatiewe en dialogiese eenheid, of ook as volwaardige ekumene, ekumene-in-samewerking en ekumene-in-gesprek. Volgens Snyman (1977:46; oorspr. 1948) mag ons nie in 'n 'onvolkome kerkverband' berus nie, maar ons moet dit tot 'groter volkomenheid bring'. 'Ons moet die afgedwaalde broeders en die afgedwaalde kerke opsoek. Die afgedwaalde kerke en sektes is ons vlees en bloed' (Snyman 1977:64; oorspr. 1965). Die kerke het dus die roeping 'om alles te doen om die eenheid te herstel' (Snyman 1977:84; oorspr. 1967).

Die herstel van kerkeenheid begin dus met kerklike samespreking (Snyman 1977:85, 100-108, 110-111). Hierdie samespreking moet 'tuis' begin, dit wil sê op nasionale vlak (Snyman 1977:100; oorspr. 1959; kyk Acta GKSA 1964:156). 'Die eenheid van Gereformeerde kerke moet gesien word as die gewigtigste ekumeniese roeping' (Snyman 1977:76; oorspr. 1965).

Die onderskeiding tussen ware en valse kerk mag nie op simplistiese wyse hanteer word nie. Dit is nie 'so 'n eenvoudige saak om die valse kerk sonder voorbehoud (Calvyn) te lokaliseer nie' (Snyman 1977:82-83; oorspr. 1967). 'Ons moenie dink: die antichris het die ander kerke in besit geneem en ons eie kerk is gevrywaar teen indringing nie' (Snyman 1977:63; oorspr. 1965). Dit was juis op aanbeveling van Snyman dat die GKSA 'n absolutistiese standpunt oor kerkwees ('ons is die enigste ware kerk') afgewys het (kyk Snyman 1977:63, 130-131; Acta GKSA 1958:78, 80).

Aanvanklik het Snyman die onderskeiding 'meer suiwer' en 'minder suiwer' in sy kerkbeskouing gebruik (Snyman 1977:35; oorspr. 1944), en hierdie onderskeiding sou selfs later herhaaldelik opduik (Snyman 1977:64-65; oorspr. 1965:130-131; oorspr. 1950). Tog het hy die onderskeiding hoe langer hoe meer krities hanteer en het hy hom ook konkreet gedistansieer van die pluraliteitsleer van Kuyper waarvolgens berusting gevra word in die verskeurde kerklike situasie (kyk Snyman 1977:83; oorspr. 1967; kyk ook Acta GKSA 1958:78-80). Die gedeeldheid in kerkgenootskappe soos ons dit ken, is iets wat nie so moet wees nie.

Snyman se besorgdheid oor kerklike verskeurdheid kan geïllustreer word aan die hand van die groot bydrae wat hy gelewer het om die interkerklike gesprek tussen die drie Afrikaanse kerkgemeenskappe aan die gang te kry. Na lang en uitgerekte samesprekings wat geen resultate opgelewer het nie, was dit hý wat op die Nasionale Sinode van die GKSA voorgestel het dat die GKSA met die ander kerkgroepe 'kom tot amptelike samesprekings met die oog op wat die kerke uitmekaar hou en met die oog op ons roeping om nie te berus by die gedeeldheid van kerke nie' (Acta GKSA 1959:78). Tydens die Sinode lewer 'n kommissie, met Snyman as rapporteur, 'n verslag oor hierdie saak wat in sy geheel aanvaar word (Acta GKSA 1959:78-80). In hierdie rapport word eksklusivisme afgewys - die GKSA is nie die enigste ware kerk nie; verder ook die plulariteitsleer wat berusting in die verdeeldheid bepleit en saam met Calvyn aanvaar dat nie in die verdeeldheid berus mag word nie. Die eenheid van die sigbare kerk is 'n Goddelike eis en opdrag. Kerklike verskille moet uitgepraat word 'om sodoende te bring in een kerkverband.' Lang interkerklike gesprekke is hierna deur die (deputate van die) onderskeie sinodes gevoer - helaas sonder enige noemenswaardige vordering.15 Veral die Hervormde Kerk was nie baie entoesiasties oor kerklike eenheid nie, maar dit is opvallend hoedat verskillende skrywers in Die Hervormer veel meer klem op kerkeenheid begin lê het toe die wegbreekbeweging 'Steeds-Hervormers' rondom 2010 begin momentum opbou het. Die feit dat die Hervormde Kerk afskeid geneem het van apartheid, het die debat met hulle aansienlik vergemaklik. Die gay-debat in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en die vrou-in-die-amp-debat in die GKSA het egter nuwe struikelblokke in die interkerklike gesprek laat ontstaan.

Die grootste vordering van die kant van die GKSA is tydens die sinode van 2006 gemaak toe daar besluit is dat daar slegs een algemene sinode uit die verskillende nasionale sinodes saamgestel sal word (behalwe vir 'n gedeelte van Soutpansberg). Hierdie Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het sy eerste vergadering in 2009 gehou.

Vir Snyman was kerklike bande met buitelandse gereformeerde kerkgemeenskappe ook van groot belang, veral dié met die Gereformeerde Kerken Nederland (GKN). Hy het immers onder Grosheide aan die VU studeer en later ook 'n besonder goeie verhouding met H.N. Ridderbos (Kampen) opgebou. Dit is verstaanbaar dat dit vir hom 'n groot teleurstelling was toe die verhouding tussen die GKSA en die GKN in die sestigerjare van die vorige eeu in gedrang gekom het vanweë vermeende dwaalleer in die GKN. Ek sal nooit sy hartroerende pleidooi ten gunste van die behoud van eenheid tydens die Sinode GKSA in 1973 vergeet nie - die indrukwekkendste toespraak wat ek ooit op 'n sinode gehoor het. Uiteraard sou hy nie H.M Kuitert se Skrifleer of H. Wiersinga se versoeningsleer wou goedpraat nie, maar dit was vir hom 'n ontsettende hartseer saak dat bande met 'n kerkverband verbreek moes word waaraan teoloë soos Kuyper en Bavinck, Grosheide en Ridderbos behoort het. Snyman het in sy toespraak veral klem gelê op die Skrifwoord dat die 'waarheid' in 'liefde' gesoek moet word (Ef 4:15). Tydens die Sinode GKSA (1976) is die bande met die GKN egter inderdaad verbreek. Kerkskeuring was vir hom geen goedkoop saak nie en toe ek by geleentheid die vraag aan hom stel hoe die breuk van die sestiende eeu (Luther en Calvyn) en ook dié van die 'Doppers' in die negentiende eeu (1859) geëvalueer moet word, was sy antwoord dat dit nie hulle was wat weggebreek het nie, maar dat hulle deur die bestaande 'moederkerk' uitgesit is. Calvyn het inderdaad beweer dat hulle uit die (Katolieke) kerk gedryf is (Calvijn n.d., Inst. 4.2.6; kyk Van Wyk 2015:258-268). Inderdaad, wie op 'n goedkoop manier van die kerk wegbreek of daarvan afskei, maak van die kerk 'n 'klub' (kyk Snyman 1977:100; oorspr. 1959; kyk ook Van Wyk 2015:241-257).

Ondertussen het die Nederlandse Protestantse toneel totaal verander met die eenwording van die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerken Nederland en die (relatief klein) Evangelies-Lutherse Kerk in 2004, maar die GKSA onderhou geen offisiële band met die Protestantse Kerke van Nederland (PKN) nie. Die GKSA onderhou tans wel ekumeniese eenheid met die Christelijke Gereformeerde Kerken in Nederland, die Gereformeerde Kerken Vrijgemaakt en die Nederlands Gereformeerde Kerken ('n wegbreek van die GKN(V) in 1967). Die GKSA onderhou tans ekumeniese eenheid met 21 internasionale Gereformeerde kerkgemeenskappe asook ekumeniese bande met 19 ander ekumeniese kerkgemeenskappe.

Die vraag ontstaan oor hoedanig Snyman oor die Wêreldraad van Kerke (WRK) (1948), die wydste liggaam van eenheid in Protestantse geledere, sou oordeel - hoewel die Oosters Ortodokse Kerke ook later by die WRK aangesluit het.

Hoewel Snyman (1977:118; oorspr. 1951:288; oorspr. 1957) hom by meer as een geleentheid besonder krities oor die WRK uitgelaat het, het sy vurige verlange na kerkeenheid hom daarvan weerhou om 'n bloot negativistiese oordeel uit te spreek. 'Ons treur ook oor die geskeurdheid van die Christendom', het hy gesê, 'en verlang saam met die Wêreldraad vurig na eenheid', maar dan 'n eenheid in die waarheid (Snyman 1977:89; oorspr. 1954). Hy (Snyman 1977:85; oorspr. 1967) kritiseer die basisformule van die WRK slegs wanneer dit as konfessionele eindpunt beskou word en nié wanneer dit as vertrekpunt vir kerkeenheid gesien word nie. Daar behoort geen beswaar te wees teen die basisformule van die WRK as 'uitgangspunt' vir 'n kerklike gesprek oor eenheid nie (Snyman 1977:85). Snyman oordeel dat die basis van samespreking met ander kerke 'ruimer moet wees namate die afstand tussen die betrokke kerke groter is' (Snyman 1977:85; oorspr. 1967). Ook die GKSA het die roeping om die 'regte antwoord' met betrekking tot die ekumeniese roeping van die kerk aan die WRK 'voor te lê' (Snyman 1977:86; oorspr. 1967); ons moet ons ook daar 'laat geld' (Snyman 1977:90; oorspr. 1954).

Snyman se standpunt kan as versiendheid beskryf word, want hoewel daar deur sommige groot voorbehoude teen die WRK ingebring was, byvoorbeeld S.J. van der Walt (1962:102-116), het 'n kommissie bestaande uit P.J. Coetzee en S.J. du Plessis die Nasionale Sinode van die GKSA reeds in 1955 gevra om te oorweeg om by die WRK aan te sluit ten einde 'ons getuienis daar te laat hoor' en die 'behoudende element in die WCC (te) versterk'. Die aanbeveling is (helaas) deur die Sinode verwerp (Acta GKSA 1955:306-309). Ook Hugo du Plessis het reeds rondom 1961 opgemerk dat die WRK aanvaar kan word as dit 'net 'n gespreksgemeenskap van kerke voorstaan'. Hy voeg by dat dit wenslik is dat die GKSA kennis neem van die WRK 'deur ook waarnemers af te vaardig wat die sittings kan bywoon' (Du Plessis in Geyser et al. s.j.:54).

'n Mens kan aanneem dat Snyman dieselfde standpunte ten opsigte van kleiner eenheidsbewegings, byvoorbeeld in Afrika en Suid-Afrika sou ingeneem het. Sy standpunt ten opsigte van die All Africa Conference of Churches (1963) wat die kerke in Afrika verenig het, is dieselfde as dié oor die WRK (kyk Snyman 1977:67; oorspr. 1965), en dit sou na alle waarskynlikheid dieselfde gewees het ten opsigte van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) (1968) wat die Suid-Afrikaanse kerkgemeenskappe verenig het. Dit sou nie verkeerd wees om af te lei dat Snyman dieselfde benadering ten opsigte van die latere Konvent van Reformatoriese Kerke in Suid-Afrika sou ingeneem het nie. Die Konvent het die klassieke Gereformeerde kerkgemeenskappe in Suid-Afrika probeer verenig - hoewel dit 'n eenheidsbeweging was wat ná sy tyd ontstaan het.

 

Evaluering

Daar is reeds daarop gewys dat Snyman se bydrae gesien moet word binne die konteks van sy tyd - 'n tyd van harde en dikwels onverdraagsame apartheidspolitiek op alle terreine van die lewe. Dit is maklik om terugskouend vanuit 'n totaal nuwe situasie (skerp) kritiek op voorgangers uit te spreek, maar sulke kritiek is dikwels goedkoop en onsimpatiek. Ons oordeel moet eerstens gerig wees op die bydrae wat iemand in sy eie tyd gelewer het en daarna kan ons die vraag probeer beantwoord watter invloed die teologie van iemand op die hedendaagse kerklike lewe in Suid-Afrika uitgeoefen het. Ek noem 'n aantal aspekte.

Die sentraalstelling van die koninkryk van God

Dit moet as 'n bevrydende element beskou word dat Snyman, in aansluiting by onder andere H.N. Ridderbos (1950), die koninkryk van God as sentrale teologiese en ekklesiologiese tema gekies het. Die kerk is daar ter wille van die koninkryk, en nie die koninkryk ter wille van die kerk nie. Die koninkryk produseer die kerk en manifesteer (voorlopig) in die kerk, terwyl die kerk die koninkryk bekendstel in die wêreld. Daarom is kerklike eenheid so belangrik vir die koms van die koninkryk. Hoe kan die koninkryk in sy volheid kom as kerke onderling verdeeld is? Hoe kan buitestanders die boodskap van vrede en versoening glo as kerke onderling in onvrede en onversoend lewe, mekaar opponeer en dikwels weerspreek? Boewendien: 'Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde' (Matt 12:25).

Die koninkryk van God is die sentrale tema van die Nuwe Testament, selfs van die ganse Bybel, en dis jammer dat hierdie tema nie sterker in die Gereformeerde belydenisskrifte ontwikkel is nie.

Beklemtoning van die eenheid van die kerk

Snyman het soos byna niemand voor hom - en hou in gedagte dat hy in 'n 'afgeskeie' kerk opgegroei en gewerk het - die eenheid van die kerk as Skriftuurlike gegegewe beklemtoon. Daar is geen manier waarvolgens enige teoloog - sonder vooroordele - kan ontken dat die Nuwe Testament slegs die één kerk van Christus ken en dat daar van verskeurdheid en afskeiding geen sprake is nie (teenoor Käsemann 1964:95-107). Herhaaldelik word daar in die Nuwe Testament op die eenheid van die kerk gewys (Van Wyk 2015:241-257) met die gebed van Christus as hoogtepunt van hierdie eenheidstrewe: 'Ek bid dat hulle een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het' (Joh 17:21). Van verskeidenheid tussen die verskillende gemeentes in die tyd van die Nuwe Testament is daar inderdaad veel sprake, maar hierdie verskeidenheid het nooit sulke afmetings aangeneem dat dit tot afskeidings of ondergroeperings aanleiding gegee het nie.16 Ekklesiologies gesien is so iets onmoontlik. Daarom het die verskillende kerkgroeperings vandag 'n onnalaatbare roeping om vir eenheid te bid en vir eenheid te werk, veral in Protestantse geledere, en nog te meer in Gereformeerde kerkgemeenskappe.

Snyman se siening oor die eenheid van die kerk het nie net die GKSA geraak nie, maar het veel wyer uitgekring. Willie Jonker, befaamde teoloog van die NGK, skryf dat 'n artikel van Snyman wat in Die Kerkblad van 11 April 1962 verskyn het en oor kerkeenheid gehandel het, hom diepgaande beïnvloed het. In die artikel het Snyman geskryf dat kerkverband nie deur volksgrense bepaal word nie en nie in aparte volkskerke opgaan nie. Ons glo nie in een 'bantoe' kerk en daarnaas een 'blanke' kerk nie, maar in die een Christelike kerk, aldus Snyman (Jonker 1998:56). Jonker het dit van harte beaam en daarop voortgebou.17 In die Belydenis van Belhar (1986) van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) (later Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA]) word finaal en uitdruklik afskeid geneem van die volkskerkgedagte, hoewel die NGK nog nie daarin kon slaag om hierdie dokument onvoorwaardelik te aanvaar nie.18

Die roeping van die GKSA ten opsigte van interne kerkeenheid

Die GKSA het ver gevorder op die pad van interne kerklike eenheid op klassikale, streeksinodale en algemeen-sinodale vlak - die verste van die klassiek gereformeerde kerkgemeenskappe in Suid-Afrika. Hierdie eenheid moet nou na gemeentevlak uitgebrei word sodat dit vir almal duidelik is dat álle gemeentes oop is. Waar daar nog afsonderlike taalgemeentes bestaan, moet daardie gemeentes van tyd tot tyd saam eredienste hou en ook saam verkeer. Predikante behoort ook dikwels uitgenooi te word om oor en weer te preek.

Eie taalgemeentes, met 'n eie liturgiese inkleding is as sodanig nie verkeerd nie.19 Dit word wel sondig wanneer daardie eiesoortigheid in geslotenheid en afgesonderdheid ontaard. Ong (2018:296-320) konkludeer dat etniese kerke nie noodwendig minderwaardig en meer verdelend as multi-etniese kerke in 'n etniese konteks hoef te wees nie. Ware Christelike eenheid is immers organies en word nie deur etniese kerke ondermyn nie. Etniese kerke is nie in stryd met die taak van lokale kerke tot wêreldsending nie. Ook Van der Borght (2018:172) merk op dat wat ons benodig, is 'an ecclesiology that creates space for the diversity of peoples and cultures within the one church of Jesus'.20

Die roeping van die GKSA ten opsigte van interkerklike eenheid

Die roeping van die GKSA eindig egter nie wanneer interne eenheid bereik is nie, maar strek veel verder. Dit raak ook interkerklike verhoudings. Ek sien geen onoorkomelike rede waarom die GKSA nie by die SARK asook die WRK kan aansluit nie. Reeds in 1992 het ek in 'n artikel voorgestel dat die Afrikaanse kerke - dus ook die GKSA - minstens waarnemerstatus by die WRK (en die SARK) moet oorweeg ten einde die reformatoriese boodskap daar hoorbaar te maak (Van Wyk 1992:11-12).21 Calvyn was bereid om tien oseane oor te steek met die oog op die hou van 'n ekumeniese sinode terwyl ons vandag bevrees is om die kleinste spruitjie vir hierdie ideaal oor te steek.

Die gesprek tussen Protestante en die Rooms-Katolieke Kerk

Ook hierdie gesprek mag nie nagelaat word nie. Die Lutherane (Rose 2017:147-159) sowel as Gereformeerdes het al aan intensiewe gesprekke met die Rooms-Katolieke Kerke deelgeneem.

Wethmar (2017:115-132) het 'n baie insiggewende artikel geskryf waarin hy handel oor die verskille en gesprekke tussen reformatoriese kerke en die Rooms-Katolieke Kerk. Die reformatoriese kerke is verteenwoordig deur die World Communion of Reformed Churches ('n liggaam saamgestel uit die World Alliance of Reformed Churches en die Reformed Ecumenical Council). Albei partye 'agreed that it is through faith that believers participate in the justification of sinners as a totally gratuitous work accomplished by God in Christ', hoewel nie net die gelowiges self nie, maar ook hulle werke geregverdig word (Wethmar 2017:125).

Hierdie uitspraak herinner sterk aan die bevinding wat die Katolieke teoloog, Hans Küng, reeds teen die middel van die vorige eeu gemaak het. In 1955 formuleer Küng (2003:157) in Rome as resultaat van sy lisensiaat die volgende opspraakwekkende bevinding: 'In die regverdigingsleer bestaan daar, in die geheel geneem, 'n prinsipiële ooreenkoms tussen die leer van Barth en die leer van die Katolieke Kerk'. Hiervolgens sou van Katolieke sowel as Protestantse kant beaam kon word dat die regverdiging van die mens deur God se genade alléén op grond van die vertrouende geloof geskied, wat egter gepaard moet gaan met werke van liefde! (Küng 2003:158). Begryplik was Barth oor hierdie bevinding besonder verbaas (Dekker & Puchinger 1969:46). Vanselfsprekend het hierdie uitspraak van Küng destyds veel debat en beroering in teologiese kringe veroorsaak.

Hierdie gebeure herinner my aan 'n ervaring wat ek in die negentigerjare van die vorige eeu in Pretoria gehad het toe ek 'n uitnodiging van die St John Vianney Katolieke Seminarium in Waterkloof ontvang het, om by geleentheid 'n aandoordenking by hulle waar te neem. Na veel nadenke en wroeging - wat sal die Kuratorium van die Hammanskraalse Teologiese Skool van die GKSA waar ek doseer het, maak as hulle uitvind?22 - besluit ek om die uitnodiging te aanvaar, maar ook om my boodskap in te klee in die suiwer kleed van die reformatoriese geloofsleer. Ek kies gevolglik die bekende gedeelte in Efesiërs 2:6-8 en ontwikkel my boodskap aan die hand van die driedeling: Die mens word gered (1) uit genade, (2) deur geloof en (3) tot goeie werke. Na afloop van die verrigtinge, word ek deur die gasheer, vader Bonaventura Hinwood, na my motor vergesel en toe ons so aanstap, sê hy skielik: 'Ek kan elke woord beaam wat jy vanaand gesê het!' Ek luister verbysterd na sy woorde en merk op: 'Regtig?', vra ek stomgeslaan, 'dan is ek baie bly as my boodskap dalk iemand vanaand geraak het.' En toe wonder ek: Maak ons nie dikwels karikature van mekaar se (dieperliggende) geloofstandpunte nie? Hoe is dit moontlik dat sowel Protestantse as Rooms-Katolieke teoloë hulle met vrymoedigheid op Augustinus kan beroep terwyl sy teologie tog so duidelik op 'genade alleen' rus? - iets waarby Luther en Calvyn later so sterk aansluiting gevind het.23

Vandag is iemand soos Van de Beek (2012:150, 254-260) selfs bereid om te aanvaar dat die pous as uitdrukking van die eenheid van die kerk erken moet word.24

Dit alles beteken geensins dat daar nie nog diepgaande dogmatiese verskille tussen die Protestante en die Rooms-Katolieke bestaan nie, byvoorbeeld ten opsigte van die Mariologie, soos Jonker (1979) duidelik aangetoon het.

 

Slot

Snyman het 'n enorme bydrae gelewer om die eenheid van die kerk van Christus te bevorder. Op ten minste drie terreine was sy insette geweldig invloedryk: eerstens, wat die ontstaan van die Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika betref; tweedens, die ontstaan van die interkerklike kommissie van die Afrikaanse Kerke; en derdens, die ontstaan van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode. Snyman was waarskynlik die invloedrykste ekumeniese teoloog van die GKSA in die twintigste eeu.

Kerkskeuring is een van die mees tragiese nalatenskappe van die Reformasie van die sestiende eeu (Van Wyk 2018; vgl. ook Van Wyk 1968:12-26). Solank as die volk van God verdeeld en in konflik met mekaar verkeer, solank as wat die liggaam van Christus verskeur is en in bloed lê, solank as wat die Heilige Gees tydens verskillende sinodes en konsilies om leiding aangeroep word, maar die besluite teenstrydig, opponerend en selfs vyandig is, só lank is die voorbeeldige gestalte van die kerk vir die wêreld en sy profetiese stem in die samelewing 'n donker rookwolk en 'n verduistering van die Christelike boodskap van vrede en versoening. Dis tyd dat die kerk opstaan en weer lig vir die wêreld, sout vir die aarde en suurdeeg vir die samelewing word.

Gereformeerde kerkgemeenskappe herinner altyd andersdenkendes aan die belangrikheid van die reformatoriese konfessies. Hierdie jaar word, na 400 jaar, veel aandag aan die Dordtse Leerreëls (DLR) bestee en daarin lees ons dat in die Nuwe Testament 'die onderskeiding tussen volke weggeneem is' (DLR 3/4-1-7). Het gereformeerde kerke hierdie uitspraak dalk vergeet?

Oral in die wêreld maak kerke baie erns met die eienskap van die 'heiligheid' van die kerk - 'n eienskap wat deel vorm van die belydenis van die kerk van alle eeue. Alle kerke veg teen 'onheiligheid' in die kerk. Waarom is daar nie dieselfde ywer ten opsigte van die 'eenheid' van die kerk nie? Waarom word 'onenigheid' tussen kerke gelate aanvaar?

W.J. Snyman het soos min teoloë voor hom in die GKSA, die pad terug na kerkeenheid aangedui. Dis die pad waarvoor Jesus Christus so vurig gebid het. Dis die pad wat sy navolgers met groot geesdrif, entoesiasme en volharding moet gaan, en waarvoor hulle gereeld en geesdriftig moet bid - ter wille van die koninkryk van God en sy koms.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

J.H.v.W. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsingsinligting

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Die deel van data is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

 

Verwysings

Acta GKSA, 1869, Handelingen van de Algemene Synodale Kerkvergadering: Gereformeerde Gemeenten van Zuid-Afrika, GGZA, Potchefstroom.         [ Links ]

Acta GKSA, 1873, Handelingen van de Algemene Synodale Kerkvergadering: Gereformeerde Gemeenten van Zuid-Afrika, GGZA, Burgersdorp.         [ Links ]

Acta GKSA, 1942, Handelinge van die Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika, GGSA, Aliwal-Noord.         [ Links ]

Acta GKSA, 1955, Handelinge van die Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Acta GKSA, 1958, Handelinge van die Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Acta GKSA, 1959, Handelinge van die Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Acta GKSA, 1961, Handelinge van die Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Acta GKSA, 1964, Handelinge van die Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Acta GKSA, 1985, Handelinge van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Acta GKSA, 1991, Handelinge van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Acta GKSA, 2006, Handelinge van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Acta Middellande, 1983, Handelinge van die Sinode van die Gereformeerde Kerke in Middellande, GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Allison, G. & Castaldo, C., 2016, The unfinished reformation: What unites and divides Catholics and Protestants after 500 years, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Augustinus, A., 1996, Commentaar op Psalm 118/119, vert. T.J. van Bavel, Ambo, Baarn.         [ Links ]

Bergh, J.S., 2017, Paul Kruger: Toesprake en korrespondensie van 1881-1900, Protea Boekhuis, Pretoria.         [ Links ]

Berkouwer, G.C., 1970, De kerk: Eenheid en katholiciteit, Kok, Kampen.         [ Links ]

Bosch, D.J., 1982, 'The church as alternative community', Potchefstroom University for Christian Higher Education, Potchefstroom.         [ Links ]

Calvijn, J., n.d., Institutie of Onderwijzing in de Christelijke Godsdienst, Deel III, vert. A. Sizoo, Meinema, Delft.         [ Links ]

Coetzee, J.C., 1965, Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament, Pro Rege, Potchefstroom.         [ Links ]

De Klerk, P.J.S., 1923, Kerk en sending in Suid-Afrika, H.A. van Bottenburg, Amsterdam.         [ Links ]

Dekker, A. & Puchinger, G., reds., 1969, De oude Barth, zoals we hem hoorden in colleges en gesprekken, Kok, Kampen.         [ Links ]

Du Plessis, H., s.j., 'Die Nuwe Tyd en die Christelike roeping teenoor die Bantoe in Suid-Afrika', in A.S. Geyser (red.), Vertraagde aksie: Ekumeniese getuienis uit die Afrikaanssprekende kerk, pp. 48-66, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Du Plessis, H., 1963, 'n Nuwe deurbraak, Pro Rege, Potchefstroom.         [ Links ]

Du Toit, J.D., 1941, Die Bybel is die Woord van God, Pro Ecclesia, Stellenbosch.         [ Links ]

Du Toit, J.D. & Du Toit, S., 1955, Die Afrikaanse Rassebeleid en die Skrif, Pro Rege, Potchefstroom.         [ Links ]

Durand, J., 2014, Jaap Durand praat oor eenheid, versoening en geregtigheid, in D. du Toit (red.), Bybelkor, Wellington.         [ Links ]

Duvenage, S.C.W., 1962, Die verhouding kerk tot volk: 'n Histories-prinsipiële studie, Heunis, Zaandijk.         [ Links ]

Geyser, A.S., Marais, B.J., Du Plessis, H., Keet, B.B., Van Selms, A. et al., s.j., Vertraagde aksie: 'n Ekumeniese getuienis uit die Afrikaanssprekende kerk, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Grosheide, F.W., 1954, Het heilig Evangelie volgens Mattheus, Kok, Kampen.         [ Links ]

Harinck, G., 2017, 'Wipe out lines of division (not distinctions)', Journal of Reformed Theology 11(1-2), 81-98. https://doi.org/10.1163/15697312-01101025        [ Links ]

Heyns, J.A., 1977, Die Kerk, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1962, Sendingbepalinge van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Transvaal, Die Studiegroep oor 'Kerk en Wêreld', Potchefstroom.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1979, The Mary cult in the Roman Catholic Church, DRC Publishers, Stellenbosch.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1998, Selfs die kerk kan verander, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Jonker, W.D., 2008, Die relevansie van die kerk: Teologiese reaksies op die vraag na die betekenis van die kerk in die wêreld, Bybelmedia, Wellington. (Met aanvullende perspektiewe deur Nico Koopman, Christo Lombard en Piet Naudé en 'n voorwoord van Dirkie Smit.)25        [ Links ]

Jooste, J.P., 1958, Die Geskiedenis van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859-1959, AdminBuro, Potchefstroom.         [ Links ]

Käsemann, E., 1964, Essays on New Testament themes, vert. W.J. Montagne, SCM Press, London.         [ Links ]

Krüger, J.C., 1980, Kerkvereniging in die lig van uitverkiesing en bekering, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Küng, H., 1967, De Kerk, vert. H. Wagemans, Paul Brand, Hilversum.         [ Links ]

Küng, H., 2003, Bevochten vrijheid: Herinneringen, vert. H.P.M. van den Bogaard & L.W. Lagendijk, Kok, Kampen.         [ Links ]

Manavhela, G.F., 2009, 'An analysis of the theological justification of apartheid in South Africa: A reformed theological perspective', PhD proefskrif, Vrije Universiteit.         [ Links ]

Nürnberger, K., 2016, Faith in Christ. Invitation to systematic theology. Volume 1. Life in the presence of God, Cluster Publications, Xlibris.         [ Links ]

O'Brien Geldenhuys, F.E., 1982, In die stroomversnellings: Vyftig jaar van die NG Kerk, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Ong, A., 2018, 'Neo-Calvinism and ethnic churches in multi-ethnic contexts', Journal of Reformed Theology 12(3), 296-320. https://doi.org/10.1163/15697312-01203001        [ Links ]

Rabali, C.T., 1989, 'A Response to "Reflections of Liberation Theology"', Theological Forum (REC), 17(4), 15-19, Nov.         [ Links ]

Ridderbos, H.N., 1950, De komst van het koninkrijk: Jezus' prediking volgens de synoptische evangeliën, Kok, Kampen.         [ Links ]

Rose, G., 2017, 'A survey of the 2015 Catholic-Lutheran document 'Declaration on the way: Church, ministry and Eucharist', in K. Gerber (red.), Reformation 500: Some South African perspectives, pp. 147-159, Christian Literature Fund, Wellington.         [ Links ]

Snyman, P. (red.), 1969, 'n Lig vir die volke: Huldeblyk by geleentheid van die emeritering van prof W.J. Snyman, Pro Rege, Potchefstroom.         [ Links ]

Snyman, W.J., 1977, Nuwe en ou dinge: Uit die skat van die Koninkryk, Pro Rege, Potchefstroom.         [ Links ]

Spoelstra, B., 1981, 'Die na-oorlogse kerkregtelike ontwikkeling in die GKSA', In die Skriflig 15(57), 40-55. https://doi.org/10.4102/ids.v15i57.729        [ Links ]

Stauffer, E., 1945, Die Theologie des Neuen Testaments, Oikomene Verlag, Stuttgard.         [ Links ]

Van de Beek, A., 2012, Lichaam en Geest van Christus: De theologie van de kerken de Heilige Geest, Meinema, Zoetermeer.         [ Links ]

Van den Brink, G. & Van der Kooi, C., 2013, Christelijke dogmatiek, Boekencentrum, Zoetermeer.         [ Links ]

Van der Borght, E.A.J.G., 2018, 'Religions and reconciliation of conflicting sociocultural identities', Acta Theologica 38(2), 160-175. https://doi.org/10.18820/23099089/actat.v38i2.10        [ Links ]

Van der Merwe, D.C.S., 1973, Kerk, volk en ras in die sendingbeleid van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, Pro Rege, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, S.J., 1962, 'Die sogenaamde ekumeniese teologie agter die Wêreldraad van Kerke', Koers, Julie/Augustus, pp. 102-116.         [ Links ]

Van Wyk, J.H., 1968, 'Hoeveel kerkbegrippe is by ons in swang?', In die Skriflig 2(7), 12-26. https://doi.org/10.4102/ids.v2i7.886        [ Links ]

Van Wyk, J.H., 1985, Man van die derdeweg: W.J. Snyman as teoloog, IRS, Potchefstroom        [ Links ]

Van Wyk, J.H., 1988, 'Kerkeenheid: 'n Perspektief op die verhoudings in die Gereformeerde Kerke in Suidelike Afrika', In die Skriflig, 22(85), 16-32.         [ Links ]

Van Wyk, J.H., 1992, 'Afrikaanse kerk teen die WRK', Woord en Daad 32(April/Mei), 11-12.         [ Links ]

Van Wyk, J.H., 1993, 'Homo Dei: 'n Prinsipiële besinning oor enkele mensbeskouings, waaronder dié van Calvyn', In die Skriflig 27, (suppl. ser. 1), 39-60. https://doi.org/10.4102/ids.v27i0.1676        [ Links ]

Van Wyk, J.H., 2015, Teologie van die koninkryk: Studies in dogmatiek en etiek, Van Wyk, Pretoria.         [ Links ]

Van Wyk, J.H., 2018, 'An essay on what the reformation could not prevent the identification of church and "volk": Three examples reconsidered', Koers - Bulletin for Christian Scholarship 83(1). https://doi.org/10.19108/KOERS.83.1.2403        [ Links ]

Vlijm, J.M. (red.), 1981, Geloofsmanieren: Studies over pluraliteit in de kerk, Kok, Kampen.         [ Links ]

Wethmar, C., 2017, 'The origin and calling of the church: The dialogue between the Reformed and Roman Catholic churches 500 years after the Reformation', in N. Vorster & S.P. van der Walt (reds.), Reformed theology today: Biblical and systematic-theological perspectives, pp. 115-132, AOSIS, Cape Town.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Jan H. van Wyk
amiejanvw@gmail.com

Received: 11 Oct. 2019
Accepted: 04 Feb. 2020
Published: 03 June 2020

 

 

Note: Special Collection: Impact of Reformed Theology.
1 . Ek doen by geleentheid by hom navraag wat ons kerkraad (Johannesburg-Sentraal) te doen staan nadat 'n jong vrouelidmaat haar groot laat doop het. Daar was destyds 'n sinodebesluit dat so iemand daarmee sy lidmaatskap van die GKSA opsê en Snyman stem saam met hierdie besluit. Ek was baie ongemaklik met hierdie sinodebesluit en gelukkig is dit ook later verander.
2 . In hierdie verband word aangesluit by die uiteensetting van Van Wyk (1988:16-32) oor 'Kerkeenheid' -(kyk ook Van Wyk 1993:39-60).
3 . Vergelyk in hierdie verband die proefskrif van die NG predikant, ds F.G. Badenhorst, ook voltooi aan die Vrije Universiteit, waarin hy ook, 16 jaar vroeër (1939), die kerklike skeidingsmodel verdedig (kyk Harinck 2017:86).
4 . Byna al Snyman se artikels is in die een boek, Nuwe en ou dinge (1977), opgeneem, terwyl die artikels self oor 'n veel langer periode geskryf is. Dit is van wesenlike belang dat die leser bewus sal wees van die oorspronklike verskyningsdatum van elk van die artikels. Om elkeen van die meer as 100 artikels apart in die bronnelys op te neem, is bloot nie prakties nie; dus word dit op hierdie manier aangedui.
5 . Vergelyk in hierdie verband ook die studie van J.C. Coetzee (1965) wat hy onder leiding van Snyman voltooi het (sien ook Duvenage 1962).
6 . Vergelyk hier ook die kritiek van Rabali (1989:18) wat van mening is dat 'much that has been going on under the name of Reformed theology will be found to have been a deformation of the Reformed theology' (kyk verder Manavhela 2009).
7 . Die formulering van die Konsensusbesluite is deur myself gedoen.
8 . Dit behoort 'n baie interessante studie uit te maak om al die besluite wat die Algemene Sinode sedert die ontstaan daarvan in 1965 tot die beëindiging daarvan in 1992 geneem het, te bestudeer en na waarde te takseer.
9 . In hierdie gedeelte word aangesluit by die geskrif van Van Wyk (1985) wat oor Snyman handel.
10 . Vergelyk hier die opmerkings van Hans Küng (1967:93-102).
11 . Laasgenoemde verwys na die Acta GKSA (1967:377-386).
12 . Van de Beek (2012:185) maak tereg die volgende opmerking: 'De ecclesiologie is het verdrietigste thema van de christelijke theologie en het verdrietigste is dat mensen er geen verdriet meer over schijnen te hebben.'
13 . O'Brien Geldenhuys (1982:98) fouteer as hy die NGK as een van die stigterslede van die GES beskou.
14 . Hierdie gedagte sou deur Coetzee (1965), 'n student van Snyman, breër uitgewerk word.
15 . Die boek van J.C. Krüger (1980), voormalige predikant in die GKSA en later in die NGK, lewer myns insiens nie 'n geslaagde bydrae tot die interkerklike gesprek nie.
16 . Ook Nürnberger (2016:272) aanvaar dat 'eenheid' ook 'verskeidenheid' insluit en merk dan op dat 'Paul exhorts his readers to accept even doctrinal and ritual differences in the church on the basis of the overriding norm of Christ's redemptive love ( 1 Cor 8:1-13; Rom 14:1-23).' Van den Brink en Van der Kooi (2013:563-565) beklemtoon ook die roeping tot kerklike eenheid.
17 . Dit is dus geen wonder nie dat Jonker (1962:52-53) van vroeg af 'n groot voorstander was van 'n volwaardige algemene sinode vir die NGK-familie. Vergelyk hier die studie van Jonker (2008) oor die relevansie van die kerk, waarvoor hy 25 jaar gelede geen uitgewer kon vind nie!
18 . Die skrywer van die dokument was Dirkie Smit (Durand 2014:41), hoewel die inhoudelike bydrae van Jaap Durand meer is as wat gewoonlik aangeneem word (p. 31).
19 . Vergelyk hier die volgende opmerkings van Herman Ridderbos (in Snyman 1969:38): 'Daarom valt er ook in een goede zin te spreken van nationale kerken en daarom is de kerk in de wereld geen genootschap waarin ieder zijn nationale afkomst of kleur of cultuur zou moeten afleggen of verloochenen.' En verder: 'Niet ieder volk kan op dezelfde wijze zich uitdrukken in belijdenis, in liturgie. En ook met de kerkregering kan men niet omgaan als met een passe part out.'
20 . Harinck (2017:81-98) skryf oor 'Wipe out lines of division (not distinctions)'. Hy wys veral op die verset van Herman Bavinck en B.B. Keet teen apartheid. Voorts gee hy aandag aan die NG-predikant, F.G. Badenhorst, wat in 1939 aan die VU promoveer met 'n proefskrif waarin hy apartheid verdedig. Volgens Harinck is Keet, Bavinck en Buskes die eerstes wat apartheid verwerp het, hoewel Beyers Naudé hierin die belangrikste rol gespeel het. Hy rep geen woord oor die verset wat daar vanuit Potchefstroom teen apartheid gekom het nie.
21 . In dieselfde uitgawe van Woord en Daad het dr Chris Malan 'n skerp 'nee!' teen deelname aan die WRK uitgespreek.
22 . Hierdie gebeure laat my dink aan wat 'n kollega my vertel het toe sy ma teen die middel van die vorige eeu in die Katolieke hospitaal in Pretoria, genaamd The Little Company of Mary, vir behandeling opgeneem is. Haar dominee het geweier om haar te besoek want 'n Gereformeerde predikant besoek nie 'n limaat in 'n Katolieke hospitaal nie - só erg was die weerstand destyds nog teen die 'Roomse gevaar'. Barth wys daarop dat ons eerlik moet wees en nie net die Katolieke van 'tradisionalisme' moet beskuldig nie; die Protestante het immers ook húlle tradisie waaraan hulle vashou (Dekker & Puchinger 1969:87).
23 . Vergelyk hier die opmerkings van die Rooms-Katolieke teoloog, T.J. van Bavel, in sy voorwoord by die vertaling van Augustinus (1996) se kommentaar op Psalm 118 en 119: 'Augustinus' genadeleer is de rode draad die door heel deze uitleg loopt' (p. 8) en: 'De genadeleer van Augustinus steunt helemaal op Paulus' (p. 10).
24 . Van de Beek (2012:259): 'Juist daarom zou de wereldwijde kerk zich kunnen voegen in de eenheid onder leiding van Rome, als die leiding maar leiding is ten behoeve van het geloof in Christus' (vir 'n eenvoudige inleiding tot die debat tussen Rooms-Katolieke en Protestante, kyk Allison & Castaldo 2016).
25 . Hierdie boek het oorspronklik in 1983 as RGN-verslag verskyn, maar is nie destyds gepubliseer nie. In sy voorwoord sê Smit (2008:viii) dat 'n mens maar kan spekuleer oor die vraag waarom die uitgewer die boek (van so 'n besondere gehalte) nie destyds uitgegee het nie.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons