SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número2Reformation and scientific revolution: Historical coincidence or continual renewal?The book of Hebrews and the Reformed view of Scripture: Hebrews echoed in Belgic Confession Articles 2-7 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.54 no.2 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v54i2.2539 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die impak van die gereformeerde teologie op die moderne staatkundige denke in Suid-Afrika

 

 

Jacobus M. Vorster

The Unit for Reformational Theology and the Development of the South African Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The impact of the Calvinist Reformed theology on the constitutional reflection in South Africa is overshadowed by the perception that Calvinist social ethics, as argued and practised in the colonial era in South Africa, was responsible for apartheid and must therefore be perceived as immoral and unacceptable. This research focuses once again on the political philosophy that resulted from the social-ethical reasoning of Calvin and his followers such as Althusius, Voetius, Groen van Prinsterer, Kuyper and other reformed political philosophers in the 20th century. The investigation attempts to indicate how these exponents founded and defended republicanism and fundamental human rights. The traditional idea of the Calvinist Reformation such as the political covenant, sovereignty in own sphere in bodies of authority, religious freedom and the justice of the kingdom of God, developed in the 20th century in the ethos of human rights which became apparent in the South African constitutional democracy. This constitutionalism, and not apartheid, is the real legacy of Calvinism. This pattern of reasoning should be seen as the real tradition of the Calvinist Reformation, and social ethics of this tradition should be refined and developed in order to promote constitutionalism for the benefit of emerging democracies.


 

 

Inleiding

Wanneer daar aan die impak van die gereformeerde teologie op die staatkundige denke in Suid-Afrika gedink word, word oor die algemeen na die stelsel van apartheid verwys as die erfenis van die Calvinisme en veral die neo-Calvinisme hier te lande. In hierdie verband kan verwys word na die studie van Kinghorn wat betoog dat die neo-Calvinisme uit Nederland (en veral die samelewingsleer van Kuyper) in Suid-Afrika omskep is in 'n paradigma van nasionalisme en die apartheidsideologie wat daaruit voortgevloei het (Kinghorn 1997:143; kyk ook Klaaren 1997:372). In 'n deeglike analise van hierdie beskouing, identifiseer Strauss (1995:4) twee uiteenlopende standpunte rakende die verhouding tussen Kuyper se denke en prominente filosowe en teoloë in Suid-Afrika se ondersteuning van apartheid. Hy dui aan dat, aan die een kant sekere ondersteuners van apartheid oortuig was dat Kuyper se siening oor ras en nasie, binne die raamwerk van sy kosmologie, ondersteuning aan die 'pluriforme' of afsonderlike ontwikkeling van volke in Suid-Afrika langs rasselyne bied. Aan die ander kant van die spektrum het kritici van apartheid betoog dat die teoretiese konstrukte van Kuyper verkeerd geïnterpreteer en misbruik is, om 'n basis vir apartheid te skep. Strauss maak dan 'n goeie saak vir laasgenoemde standpunt uit.

In hierdie studie word opnuut aandag gegee aan die impak van die gereformeerde teologie op die ontwikkeling van die staatkundige denke na die Reformasie, en veral die betekenis daarvan as 'n regstaat. Die sentraal-teoretiese argument is dat die sosiale etiek wat uit die gereformeerde teologie ontwikkel is, die idees van vryheid, menswaardigheid, menseregte en demokrasie Ondersteun, en juis die onderdrukkende politieke stelsels en ideologieë teengestaan het. Dus het pogings tot 'n Calvinistiese begronding van apartheid nie die ware aard van die gereformeerde sosiale etiek weergegee nie. 'n Ongenuanseerde beskouing oor die ontwikkeling van die teorie van menseregte en die juridiese implementering daarvan wat deur invloedryke Suid-Afrikaanse Calvinistiese filosowe, teoloë en juriste gehuldig is, het tot 'n kritiese weerstand teen menseregte gelei, en die persepsie is geskep dat menseregte 'n produk van die liberale humanisme van die Verligting is. Daarom is gemeen dat die beskerming van menseregte in 'n regstaat nie met gereformeerde sosiale etiek versoen kan word nie.1 As motivering van die sentraal-teoretiese argument, word in die volgende afdelings aandag gegee aan die staatkundige denke in die gereformeerde sosiale etiek soos dit na die Reformasie ontwikkel en in die moderne westerse wêreld beslag gekry het.

 

Die bydrae van Calvyn en sy geesgenote

Calvyn (1509-1564) se beskouing oor die taak van die owerheid ten opsigte van die regte van mense het twee fokuspunte, naamlik die teokrasie en die imago Dei. Die taak van die owerheid het hy in die teokrasie gefundeer. Owerheid, kerk en sosiale lewe funksioneer onder die regering van God en is aan God verantwoording verskuldig vir die uitoefening van gesag. Onder die heerskappy van God het kerk en staat, as twee onvermengde 'koninkryke', elkeen 'n eie roeping. Die owerheid moet reg spreek en op hierdie terrein moet die kerk nie inmeng nie. Die kerk moet deur Woordbediening die ware geloof en die goeie sedes van mense bevorder. Saam moet kerk en staat in hulle onderskeie roepings die glorie en heerskappy van God demonsteer (Inst. IV:XX:2:970). Calvyn het gepoog om hierdie teokratiese beginsel op die stad Genève toe te pas.

In sy skeppingsleer het Calvyn (Inst. I:XV:1:104; I:XV:1:179) baie op die mens se inherente status gefokus. Hierdie status is gegrond in die imago dei.2 Hy verwys na die mens as die mees edele van God se werk en die spieëlbeeld van sy glorie. Hierdie besondere status van die mens is egter deur die sondeval versteur en dit het gelei tot totale verdorwenheid en 'n onvermoë van die gebroke mense om hulle eie heil uit te werk. In sy soteriologie beklemtoon Calvyn (Inst. III:I:1:386) dat die enigste weg tot verlossing van mense die vrye genade van God is wat in die plaasbekledende en versoenende offer van Christus uitgedruk word. In sy vroeë werke het hy die standpunt gehuldig dat die imago Dei met die sondeval heeltemal verlore gegaan het. Sy siening hieroor het egter ontwikkel. In sy latere werke het hy verduidelik dat die imago Dei nie verlore gegaan het nie, maar net geskend is. Die mens het nie waardeloos geword nie, maar 'n bepaalde waarde (nobilitas) vir God en in die oë van ander mense behou. Hierdie waarde moet deur ander erken en gerespekteer word.3 Calvyn (Inst. II:I:3:148) het gesê dat dit nie die wil van God is dat ons die waardigheid wat God aan ons eerste voorouers gegee het, moet vergeet nie, want dit is 'n waardigheid wat mense moet stimuleer in hulle soeke na goedheid en geregtigheid.4

Calvyn se siening oor die waarde van mense in hulle onderlinge verkeer is die grondslag vir sy sosiale etiek, en veral vir sy siening oor die verantwoordelikheid van die owerheid ten opsigte van onderdane. Mense het die verantwoordelikheid om hulle medemense te sien as wesens met bepaalde gawes en regte, wat deur God aan hulle geskenk is. 'n Dieper verstaan van ander is slegs moontlik as die beeld van God in hulle gesien word - selfs in sondaars (kyk Templin 1988:165). Daarom is dit die verantwoordelikheid van gelowiges om ten behoewe van ander op te tree, deur sosiale geregtigheid te bevorder (Templin 1988:168; Wolterstorff 1988:258). Hierdie verantwoordelikheid en diensvaardigheid moet neerslag vind in die bevordering en beskerming van die regte van mense deur die Owerheid, en het niks met heil en verlossing te make nie.

Witte (1996:359; 2007:57) het 'n omvattende studie gedoen van Calvyn se siening oor die regte van mense in die sosiale sfeer. Met deeglike en betroubare verwysings na die 1559-uitgawe van Calvyn se Institusie en sy kommentare van verskillende Bybelboeke, het Witte 'n lys opgestel van al die regte wat Calvyn in sy tyd - 'n tyd van monargie en tirannie - benadruk het. Volgens Witte het Calvyn gepraat van die subjektiewe regte van individue (iuria, droits), aanvullend tot hulle vryhede (libertates, libertés). Somtyds het hy frases gebruik soos die 'basiese regte van die mensdom' (iura commune hominum), die 'natuurlike regte van mense' (iura naturali), die 'algemene regte' (communes naturae iura), 'gelyke regte en vryhede van almal' (pari iura et liberates). Witte (2007:58) verduidelik verder dat Calvyn die volgende regte in die sosiale sfeer op grond van die natuurreg genoem en verdedig het (lex naturalis): die reg om vrylik te bewoon en te beweeg; die reg en die voorreg om woongebied op te eis - 'n reg wat Yahweh aan Israel gegee het; die reg om eiendom te besit; die reg om privaatbesit te gebruik en te geniet; die reg om eiendom te verkoop, te erf en te bemaak in samehang met eersgeboortereg; die reg op eiendomsherstel wanneer eiendom onregmatig vervreem is; die reg om gesteelde eiendom terug te kry; en die reg om kompensasie te ontvang vir arbeid. Hierdie regte moet, volgens Calvyn, deur gesagsliggame beskerm word.

Calvyn het nie 'n leerstuk van menseregte uitgewerk nie, maar het 'n teologiese fundering vir regsgeleerdes en filosowe verskaf om die saak verder te voer. In hierdie verband kan gewys word op die staatkundige bydrae van Hugo de Groot (Grotius) (1583-1643) tydens die Spaanse besetting van Nederland. Grotius se boeke, De veritate religionis christianae (1622) en De jure belli ac pacis (1625) het die politieke denke van sy tyd beïnvloed, en dit het veral tot die ontwikkeling van die internasionale reg bygedra (kyk Rubiés 1991:221). In die tyd van die opkoms van die totalitêre staat, het Grotius saam met Hobbes (1588-1679) en Pufendorff (1632-1694) invloed uitgeoefen op die idees van Locke. Locke word beskou as die vader van die leerstuk van menseregte gegrond op die natuurreg. Hoewel Grotius 'n Arminiaan was, het hy Calvyn se idee van die natuurreg ondersteun en toegepas. Soos Calvyn het De Groot (1991) gesê dat God die natuurreg in die vrye uitoefening van soewereine mag gegee het:

Maar ook de natuurrecht zelf, of dit nu het recht betreft dat de menselijke gemeenschap raakt of het natuurrecht in ruimer zin, kan, hoewel het voorkomt uit de mens aangeboren beginselen, op goede gronden aan God toegeschreven worden, aangezien hij immers gewild heeft dat zulke beginselen in ons werden geplant. (bl. 45; kyk ook De Groot 1934:8)

Die natuurreg vestig objektiewe universele reg wat vanweë goddelike oorsprong enige menslike mag voorafgaan. Op grond van die godgegewe natuurreg, het mense onvervreembare regte wat deur die owerhede eerbiedig moet word. Met hierdie voorveronderstelling het Grotius alle tirannie, onderdrukking van mense en onreg veroordeel. Sy weerstand teen die monargale tirannie het ingedruis teen die opkomende tirannie in Nederland, en het tot sy gevangenskap gelei.

Calvyn se tentatiewe idees is verder uitgewerk en toegepas deur Theodore Beza (1519-1605), 'n leerling van Calvyn wat ook die grootste deel van sy lewe in Genève deurgebring het. Hy het Calvyn se idees oor regte en vryhede tot hulle logiese en praktiese konsekwensies gevoer in die gees van semper reformanda ecclesiae - 'n beginsel wat Calvyn sterk beklemtoon het (Witte 2007:134). Na die gebeure van die St. Bartholomeusnag in 1572, het hy veral die beginsel van godsdiensvryheid en aanverwante regte gepropageer. Die konsepte van 'n politieke verbond, die natuurreg en die ingeweefde regte van mense in die Dekaloog, het sy sosiale teorie onderlê. God inisieer 'n politieke verbond met die owerheid en met die mense. Hierdie drieledige verbond is 'n plegtige verbond tussen owerheid en onderdane voor God, en plaas verpligtings op owerhede en onderdane. Hierdie verpligtings word uit die natuurreg en die Dekaloog afgelei. Gesagsdraers word deur God aangestel, maar moet deur mense verkies word. Die verkiesing deur onderdane is die weg waardeur God owerhede in die lewe roep. Stemreg was vir hom die voorwaarde vir legitieme owerheid. Die owerheid is daar om God te dien deur goed te regeer sodat God deur onderdane herken, gedien en verheerlik word as die Koning van konings. Die regeerder is egter ook daar vir die onderdane se ontwil en nie andersom nie (De Bèze 1956:30, 44). Die regte en vryhede van die onderdane moet beskerm en bevorder word. In hierdie verband wys De Bèze veral op die reg tot godsdiensbeoefening, lewe, eiendom, huwelik van keuse, ouerskap en billikheid. Die owerheid moet die lys van basiese regte van onderdane uitbrei volgens die natuurreg, en binne die beginsels van die drieledige verbond. Hoewel De Bèze nie 'n uitgewerkte tesis oor politieke teorie aangebied het nie, het sy invloedryke traktaat, 'Concerning the rights of rulers over their subjects and the duty of subjects towards their rulers', die gereformeerde tradisie in daardie rigting laat beweeg. Sy gedagte van die drieledige politieke verbond het die politieke skrywers in die gereformeerde tradisie vir die volgende twee eeue beïnvloed. Benewens sy invloed onder gereformeerde skrywers, het De Bèze se idees ook 'n impak op politieke denkers soos John Locke (1632-1704) en Jean-Jacques Rousseau (1712-1778) gehad, hoewel hulle die verbondsteorie in die idee van 'n sosiale kontrak verander het. Hierop word later teruggekom.

Die idee van natuurreg, die soewereiniteit van die nasie en verbondspolitiek, is deur Johannes Althusius (1563-1638), Calvinistiese juris van Emden, in 'n politieke filosofie omskep wat as Federalisme bekend geword het (Grabill 2006:124). Althusius is as 'n standvastige Calvinistiese republikein beskou wat 'n groot invloed op grondwetlike ontwikkelings in sy tyd en ook daarna in Wes-Europa uitgeoefen het (Skillen 1974:170; Witte 2007:205).5 In aansluiting by Beza, het Althusius gesê dat 'n republiek deur 'n politieke verbond van die owerheid en die onderdane voor God gevorm word. Die grondslag van hierdie verbond is die wet van God en die natuurreg, en die Dekaloog is die beste uitdrukking van hierdie hoëre wet. Die wet gee aan mense soewereine regte (Althusius 2013:xviii e.v.). Binne die politieke verbond, is die huwelik as verbond die grondslag van die algemene welsyn. Kerk en staat is afsonderlike groothede, maar heg verbonde in funksie. As verbondsgemeenskappe moet staat, kerk en families die soewereine regte en vryhede van mense beskerm. Skending van die regte en vryhede van mense en van die onderliggende goddelike en natuurlike wette wat die regte onderlê, kom op tirannie neer en moet deur georganiseerde verset van die gemeenskap teengestaan word (Althusius 2013:xviii:48-55). Althusius het die idee van die totale verdorwenheid van die mens, soos dit deur Calvyn teologies beredeneer is, onderskryf. Verder het hy Calvyn se siening van die natuurreg en die sin vir regspaak en sedelike besef wat dit aan alle mense bied, regsfilosofies beredeneer en in positiewe reg en staatkundige vormgewing toegepas. Althusius se sienings van federalisme en natuurreg het 'n merkbare impak op verskeie filosofiese en teologiese eksponente van die Westerse tradisie gehad (Grabill 2006:132).

'n Verdere ontwikkeling in die Calvinistiese siening van reg, godsdiens en menseregte het gekom van John Milton (1608-1674) - die digter wat hom ook in sommige van sy skrywes vir 'n Geneefse reformasie in Engeland beywer het. Witte (2007) beskryf sy rol soos volg:

Milton distilled and instilled many of the best legal and political teachings that Calvin, Beza, Althusius and other reformers had already laid out. These included teachings about human dignity and the divine image bearing, about natural law and the created order, about natural rights and Christian liberties, about subjective rights and social freedoms, about popular sovereignty and political covenants, about rule and constitutional order, about political tyranny and the right to resist. (p. 272)

Twee sake was vir Althusius belangrik, naamlik die roeping van die gelowige as koning, profeet en priester in die samelewing, en die noodsaak van voortdurende reformasie. 'n Samelewing moet ontwikkel word waarin vryhede en regte beskerm word. Hieronder noem hy godsdiensvryheid, gewetensvryheid, vrye godsdiensbeoefening, assosiasie, die skeiding van kerk en staat en die ontbinding van nasionale burgerlike godsdiens. Onder die noemer van burgerlike regte het hy betoog vir die reg om in die huwelik te tree en te skei in ooreenstemming met die bybelse etiek, die reg op privaatheid, onvervreembare eiendomsreg, vryheid van spraak, demokratiese verkiesing, verteenwoordiging, private assosiasie, gelykheid voor die reg en die reg van 'n jurieverhoor - alles regte wat nie in die monargie erken is nie. Sy siening oor hierdie en ander regte was 'n vrugbare teelaarde vir die groei van regte en vryhede in die publieke reg. Sommige van hierdie regte het in die Bill of Rights (1689) en die Toleration Act (1689) in Engeland neerslag gevind. Witte (2007:274) meen dat sy invloed ook bespeur kan word in John Locke se Letter concerning toleration (1698). Sy werk is ook met eerbied deur die vaders van die Amerikaanse demokrasie, waaronder John Adams, Thomas Jefferson, James Madison, Thomas Paine en James Otis aangehaal en toegepas is (Davis 1995:254-271).

Calvyn het in sy Institusie en in sommige van sy kommentare oor die taak van die owerhede uitgewei. Hy het dit binne die raamwerk van kerk en staat as regimente van God se heerskappy gedoen. Die owerheid is deur God ingestel om reg te spreek, orde te handhaaf, die ware godsdiens te beskerm en bepaalde regte van onderdane te erken en te handhaaf, op grond van mense se inherente waarde as beelddraers van God. Hy het dus die saad gesaai vir die beginsels van demokrasie en die regte van mense teenoor die owerhede. Hierdie staatkundige beginsels het hy teologies begrond. Sy geesgenote, studente en direkte navolgers het hierdie idees, binne die teologiese verpakking verder uitgebou en toegepas en 'n invloed uitgeoefen wat ver buite die grense van gereformeerde tradisie gestrek het. In die eeue na die Reformasie het die sosiale etiek van die reformatore groot invloed op die ontwikkeling van die staatkundige denke in Europa en Amerika uitgeoefen.

Hoewel die gedagte van die teokrasie nie baie byval gevind het nie, het staatkundige denkers verder gewerk met die volgende idees uit die gereformeerde tradisie:

  • Die idee dat alle mense op grond van die imago Dei en die lex naturae 'n waardigheid besit, wat deur owerhede en ander mense erken en gerespekteer moet word. Hierdie waardigheid gee aan almal, ongeag sosiale klas, 'n status voor God en voor mense.

  • God het 'n politieke verbond tussen Homself, die owerheid en die onderdaan ingestel wat die grondslag van die owerheid se taak is, en die regte en verantwoordelikhede van onderdane.

  • Die owerheid moet die status van mense respekteer deur bepaalde regte te erken en te beskerm. Wanneer die owerhede hierdie regte skend, maak hulle die politieke verbond tot niet en kom hulle teen God in opstand. Dan moet 'n nuwe politieke verbond opgestel word deur die stemreg van die onderdane.

Om die impak van Calvyn en sy geesgenote verder na waarde te skat, is dit nodig om die werk van John Locke aan die orde te stel, omdat hy as die vader van die moderne grondwetlike denke beskou word.

 

John Locke (1632-1704) en sy invloed

In sy politieke denke het John Locke die idees van die reformatore oor die politieke verbond en menseregte gehandhaad, en dit in 'n filosofiese konteks op sy siening van demokrasie en die reikwydte en begrensing van die staat van toepassing gemaak. Hy is in 'n groot mate deur sy Puriteinse erfenis gevorm, hoewel hy ook baie uit die klassieke teorieë geput het. Van der Vyver (1975:2) dui aan dat hy, in sy siening van die natuurreg, aangesluit het by die prominente idees in die filosofie van Anaximander (611-547 v.C.), Herakleitos (540-480 v.C.), Parmenides (540-451 v.C.), die volgelinge van Pythagoras (540-504 v.C.) asook van Augustinus (354-430), Aquinas (1224/5-1274) en Calvyn (1509-1564) (kyk ook Pearson 1978:244).

Sy siening oor staat en menseregte is veral in sy invloedryke boek, Two treatises of government (Locke 1988), uiteengesit. Sy uitgangspunt was sy siening dat die mens lewe in 'n staat van vryheid en gelykheid binne die grense van die natuurrreg. Hy (Locke1988) het gesê:

God having made Man such a creature, that, in his own Judgement it was not good for him to be alone, put him under strong Obligations of Necessity, Convenience and Inclination to drive him into Society, as well as fitted with Understanding and Language to continue and enjoy it. (p. 271)

Die staat moet hierdie gegewe van die natuurreg positiveer in 'n stelsel waar regte van mense beskerm en hulle algemene welsyn bevorder word. Die staat het egter nie absolute gesag nie. Wanneer die staat nie meer die regte van mense beskerm nie en in 'n tirannie ontaard, moet mense die vermoë hê om die owerheid met 'n nuwe een te vervang met die oog op 'n regverdige samelewing. 'n Regverdige samelewing is die sine qua non vir mense se bestaan.

In hierdie opsig bring Locke die gedagte van 'n sosiale kontrak ter sprake, wat in wese met Beza en Grotius se siening van die politieke verbond tussen God, die owerheid en die onderdane ooreenkom. Soos hierdie eksponente van die Reformasie, redeneer hy dat die samelewing begin het by die verbintenis tussen man en vrou in die huwelik, en daarvandaan wyer uitgekring het tot die staat. Dit alles is op 'n sosiale kontrak gebou wat bepaal dat die partye mekaar se natuurlike regte respekteer en beskerm. Die kontrak bepaal die funksies binne sosiale verbande. Locke (1988) sê:

Man being born, as has been proved, with a Title to perfect Freedom, and an uncontrolled enjoyment of all Rights and Privileges of the Law of Nature, equally with every other man, or Number of Men in the World, hath by nature a Power, not only to preserve his Property that is, his Life, Liberty and Estate, against the Injuries and Attempts of other Men; but to judge of, and punish the breaches of that Law in others, as he is persuaded the Offence deserves, even with death itself, in Crimes where the heinousness of the Fact, in His opinion, requires it. (pp. 323-324)

Om verstaanbare redes was hierdie idees van Locke wat hy uit die Griekse filosofie en die Calvinistiese tradisie geput het, nie baie gewild in die totalitêre state van sy tyd nie. Tog het sy idees in die akademiese wêreld ingang gevind en is dit deur Jean Jacques Rousseau (1712-1778), Wolff (1679-1754), Blackstone (1723-1780), Kant (1724-1804) en Fichte (1762-1814) momentum gegee (Koorntz 1981:95-119; Van der Vyver 1975:5-7). Die idee van 'n sosiale kontrak (politieke verbond) waarin die stem van die onderdane 'n magtige instrument was, het al hoe meer druk op die monargieë uitgeoefen - tot so 'n mate dat die agtiende eeu bekend as die eeu van revolusie geword het. Die ou pre-moderne wêreldbeeld het vervaag en die nuwe denke gesteun deur die opkomende rasionalisme, het sosiale etiek en staatkundige denke diep beïnvloed.

 

'n Stap terugwaarts

Die rasionalisme het egter ook nuwe eise aan die Calvinistiese tradisie in die agtiende eeu gestel.6 Grondliggende dogmas van die Christelike geloof is algaande bevraagteken. Hierdie nuwe paradigma het verset opgeroep in die vorm van die Piëtisme, wat geleer het dat die godsdiens slegs op die geestelike terrein hoort en niks te doen het met die burgerlike samelewing en die staatkunde nie. Die idee van 'n sosiale kontrak en alles wat dit inhou, soos deur Locke en sy skool beredeneer op grond van die idee van die Reformasie se politieke verbond, is bevraagteken, omdat geoordeel is dat dit op die wêreldlike terrein hoort en dat dit die gees van humanisme dra. In Nederland is die verset teen rasionalisme bevorder deur die Ortodoksie, wat teruggegryp het na sommige van die ortodokse leerstellings van die tyd net na die Reformasie (Conzales 1985:179). In hierdie opsig kan na die standpunte van Holthius (1693-1773) en Comrie (1706-1775) verwys word. Op die grondslag van Calvyn se standpunt oor die teokrasie as die raamwerk waarbinne die burgerlike owerheid moet opereer, het hulle die idees van Locke verwerp. Hofstede (1716-1803) het byvoorbeeld beweer dat die idee van verdraagsaamheid tussen godsdienste en gewetensvryheid strydig is met die Christelike etiek. In 1773 is die Nederlandse juris, Van der Marck, uit sy amp verwyder omdat hy die idee van natuurreg ondersteun het (Berkhof & De Jong 1967:240).

Die Puritanisme in Engeland en die Prebiterianisme in Skotland het op dieselfde weg gegaan as gevolg van die Piëtisme en die ortodoksie van die Westminster Konfessie (1646). Die Westminster Konfessie was 'n baie invloedryke uiteensetting van die ortodoksie en het die geloofsbelydenis van die Presbiteriaanse Kerke en die Kongregasionalistiese Kerke geword, asook van sommige van die Baptiste groeperings in Engeland en Amerika (Wright 1988:156). In hoofstuk 23 van die konfessie word godsdienstige onverdraagsaamheid verdedig op grond van die gedagte van die staat as 'n teokrasie wat die Christelike geloof moet bewaar en beskerm.7 Hoewel die Church of England 'n alliansie gevorm het met die staat oor die matige beskerming van die regte van individue en minderhede, het die kerke in Skotland en Engeland 'n stryd teen die rasionalisme van die Verligting gevoer, en hulle was in allerlei leerstellige kontroversies vasgevang (Sykes 1975:285). Voorts het die opkomende Metodisme op die verlossing van mense volgens die Arminiaanse verlossingsleer gefokus. Hierdie leer het die gedagte van 'n politieke verbond soos ontwikkel sedert die Reformasie, tersyde gestel en het vryheid van mense in 'n leerstellige sin as vryheid van keuse in die verhouding met God, beskryf. Vryheid van mense in sosiaal-etiese sin en teenoor die gesag van die staat is nie van belang geag nie.

Die onverskilligheid teenoor die regte van mense en die verantwoordelikheid van die owerhede om dit te respekteer en te beskerm, het vanaf Nederland en Engeland na hulle kolonies oorgewaai. In die owerheidstrukture wat in die kolonies opgerig is, het weinig van die gees van demokrasie en die beskerming van mense se regte tereg gekom soos wat dit in die Reformasie ontluik het. Slawerny is toegepas en die inheemse bevolkings is deur beleide van sosiale stratifikasie uitgebuit en onderdruk. Die Britse sisteem van voogdyskap in Afrika en Indië was 'n treffende voorbeeld van hierdie onverskilligheid. Die invloed van die Piëtisme en die Ortodoksie in die Europese gereformeerde tradisies in die agtiende eeu, wat die Christelike geloof tot persoonlike spiritualiteit beperk het, het die dinamiek van die Reformasie se staatsidee op grond van die politieke verbond getemper, en die deurwerking daarvan in die daarstelling van demokrasie verhinder. Die kolonies het dus verouderde sisteme geërf, waarin weinig van die regte van mense en die verantwoordelikheid van owerhede in hierdie verband gemaak is. So is die impak van die gereformeerde teologie op staatkundige ontwikkelings in die kolonies, behalwe in Noord-Amerika, aan bande gelê.

 

Die positiewe ontwikkelings in Noord-Amerika

Ten spyte van Jonathan Edwards (1703-1758) en Wesley (1703-1781) se invloed en die Herlewing van die agtiende eeu in Amerika, het die Piëtisme nie so 'n groot invloed in Amerika gehad soos in die gereformeerde tradisie in Europa nie. Baie immigrante na Amerika was mense wat vanweë godsdiensvervolging uit Europa gevlug het en op soek was na 'n bedeling waarin godsdiensvryheid en regte beskerm is. Dit het meegebring dat die sosiale denke van Calvyn en sy volgelinge 'n groot impak op die staatkundige denke in Amerika gehad het (Handy 1976:136). Gereformeerde kerke en Calvinistiese leiers het, op grond van Calvyn se sosiale denke, 'n sisteem gesoek waarin demokratiese idees in 'n onafhanklike republiek gerealiseer kon word. Hulle het die idees van Locke ondersteun omdat hulle in die idee van die sosiale kontrak, die idee van die politieke verbond gevind het (Handy 1976:139). Die Sinodes van New York en Philadelphia van die Presbiteriaanse Kerk, die Nederlandse en Duitse Gereformeerde Kerke, die Calviniste in die Baptiste groepe en kleiner afgeskeie groepe, het onafhanklikheid en 'n grondwet wat menseregte beskerm, ondersteun. Meeter (1960:146) wys daarop dat Calvinistiese kerke dankseggingsdienste gehou het na die Amerikaanse Revolusie. Die etos van menseregte het neerslag gevind in die Virginia Bill van Thomas Jefferson, waarvan 'n belangrike uitgangspunt gelui het:

That no man shall be compelled to frequent or support any religious worship, place, or ministry what so-ever, nor shall be enforced, restrained, molested, or burdened in his body or goods, nor shall otherwise suffer on account of his religious opinions or beliefs; but that all men shall be free to profess, and by argument to maintain, their opinions in matters of religion, and that the same shall in no ways diminish, enlarge or effect their civil capacities. (Meeter 1960:144; sien ook Gaustad 1998:682)

 

Verdere ontwikkelings in die negentiende eeu

Die Verligting het belangrike leerstellings van die Christelike geloof bevraagteken, met die gevolg dat gereformeerde teologie in die negentiende eeu hoofsaaklik op die uitdagings van die opkomende rasionalisme en humanisme gefokus het. Die invloed van kerke het getaan en sekularisme het met die ontwikkeling van wetenskap en tegniek toegeneem. Die gees van sosiale revolusie is deur kerke met suspisie bejeën en belangstelling in sosiale teorieë het afgeneem. Hiertoe het die Reveil bygedra. Hierdie beweging wat uit Skotland na die Calvinisme in Europa oorgewaai het, het op die vroom Christelike lewe en die herstel van die kerk gefokus, en het nie veel belangstelling in die maatskaplike lewe gehad nie.

Tog was daar twee eksponente van die Calvinisme in Nederland wat die idee van die Reformasie oor sosiale hervorming verder ontwikkel het, en hulle denke het in Suid-Afrika neerslag gevind. Hulle was Groen van Prinsterer (1806-1876) en Abraham Kuyper (1837-1920). Groen van Prinsterer (1904:14) was 'n juris wat gewaarsku het teen die gees van die revolusie se oorbeklemtoning van vryheid, wat volgens hom tot 'n nuwe tirannie kon lei - 'n tirannie van die mense. Hy het hom teen die politieke teorieë van Hobbes en Rousseau verset omdat hy van mening was dat hulle teorieë tot staatstotalitarisme kon lei. Daarom het Groen van Prinsterer die oormatige betrokkenheid van die owerheid in alle sfere van die samelewing afgewys en die beginsel van soewereiniteit in eie kring bepleit. Vir hom was Calvinisme die model waarbinne regte beredeneer moet word en het hy veral by die beginsel van 'n Teokrasie aangesluit. Soos Locke wou hy die mag van die staat beperk, maar hy het Locke se idee van menseregte op grond van die sosiale kontrak verwerp, met dieselfde argumente wat hy teen die Franse filosowe gebruik het, naamlik dat hulle idees humanisties en revolusionêr was (Groen van Prinsterer 1904:112). Dit blyk dat hy nie die impak van die Calvinistiese idee van die politieke verbond tussen God, owerheid en onderdaan op Locke se idee van die sosiale kontrak na waarde geskat het nie, en slegs vanuit die idee van die teokrasie sy staatsbeskouing verdedig het. In die voorwoord tot die derde uitgawe van Groen van Prinsterer se boek, Ongeloof en Revolusie, het die bekende gereformeerde teoloog Bavinck, sy siening dat die idee van menseregte humanisties is, aangeprys. Groen van Prinsterer se ongenuanseerde beskouing oor Locke het tot 'n suspisie teen menseregte gelei, wat lank in die gereformeerde etiek in Nedeland en in Suid-Afrika voortgeleef het, en profetiesa kritiek teen die wandade van kolonialisme aan bande gelê het. In die VSA het die gereformeerde etiek 'n ander weg ingeslaan ter ondersteuning van die menseregte-idee in hulle eie grondwet.8

In die tweede helfte van die negentiende eeu het die gereformeerde sosiale etiek nuwe stukrag gekry met die invloedryke idees van Kuyper. Vir hom moes die Christelike geloof in die samelewing deur georganiseerde aksie van gelowiges neerslag vind. Hy was 'n ywerige skrywer oor die verhouding tussen Christelike godsdiens, kerk en politiek in die periode 1874 tot 1916. Kuyper se belangrikste werke oor die staat en die regte en vryhede van mense was Het Calvinisme, oorsprong en waarborg onzer Constitutioneele Vrijheden (1874); De Gemene Gratie (s.a.); Calvinism, Six Stone Lectures (1898) en Antirevolutionaire Staatkunde (1916). Kuyper (1916:10) het sy denke as 'anti-revolusionêr' getipeer omdat hy dit as 'n reaksie teen die sekulêre en liberale humanisme van die Franse Revolusie beskou het. In hierdie opsig het hy Groen van Prinsterer nagevolg. Soos Calvyn het hy die owerheidsgesag op God se algemene genade en die idee van 'n teokrasie gegrond, en was hy van mening dat die owerheid niks anders kan wees as 'n dienskneg van God nie. Daarom moet gelowiges ook aktief in sosio-politieke aangeleenthede betrokke wees. Soos die Calvinisme van die sestiende eeu, het hy gepleit vir 'n regsisteem waar die reg oor mag heers. Hy (Kuyper 1898) het staatsabsolutisme afgewys en gesê:

Let it suffice to have shown, that Calvinism protests against state-omnipotence; against the horrible conception that no right exists above and beyond existing laws; and against the pride of absolutism, which recognises no constitutional rights, except as the result of princely favour. (p. 126)

Hy het ook die idee van soewereiniteit in eie magsfeer as 'n instrument teen staatsabsolutisme sterk beklemtoon en dit in sy samelewingsleer op grond van sy beskouing van die kerk as 'organisme' uitgewerk. Hoewel hy nie die idee van 'n sosiale kontrak onderskryf het nie, het hy tog die Amerikaanse Revolusie aangeprys as 'n gebeurtenis wat ware vryheid in die sin van die Reformasie vergestalt het. Hy het die idee van die onvervreembare regte van mense as instrument teen magsmisbruik binne die Calvinistiese tradisie herstel en die suspisie daarteen getemper.

 

Verdere ontwikkelings in die twintigste eeu

Ten spyte van die wetenskaplike, tegnologiese, opvoedkundige en grondwetlike ontwikkelings aan die einde van die negentiende eeu, word die eerste helfte van die twintigste eeu deur massiewe skendings van menseregte gekenmerk. Voorbeelde hiervan is die vergrype van Brittanje tydens die Anglo-Boere oorlog en in Indië, rassisme in die Europese kolonies, die vervolging van mense deur die kommunistiese regimes, die wandade van die Wêreldoorloë en die vervolging van Jode deur die Nazi's. In die tweede helfte van die eeu het stelsels soos apartheid in Suid-Afrika, diktature in bevryde kolonies in Afrika en etniese uitwissingprojekte in Oos-Europa en Sentraal Afrika tot skendings van menseregte bygedra. Binne hierdie milieu het die invloedryke 'Universal Declaration of Human Rights' van die Verenigde Nasies in 1948 die lig gesien, en het dit die idee van die grondwetlike beskerming van menseregte wêreldwyd laat posvat. Die Ekumeniese Beweging het die etiek van menseregte op die agenda van alle kerklike tradisies geplaas en die teologiese debat daaroor so geïnspireer. Binne die gereformeerde tradisie het die ekumeniese liggame, 'The World Alliance of Reformed Churches' (WARC) en die 'Reformed Ecumenical Synod' (REC) studies oor die idee van menseregte uitgereik en tot die gevolgtrekking gekom dat die saak van menseregte teologies op grond van kernbeginsels van die gereformeerde leer gefundeer kan word (REC 1983; WARC 1977). Met die Calvinistiese idee van die politieke verbond as vertrekpunt, is ook ander teologies-etiese norms as begronding van die menseregte-idee ontwikkel. Twee teoloë wat in hierdie ontwikkeling 'n belangrike bydrae gelewer het, is Barth (1886-1968) en Moltmann (1926- ). Hulle standpunte word vervolgens aan die orde gestel.

Barth het hom teen die Liberale Teologie van die laat-negentiende eeu, die opkoms van die natuur-teologie van sy tyd en teen die Nasionaal-Sosialisme in Nazi Duitsland verset. Hy het benewens sy omvangryke teologiese bydraes, die sosiale teorie van die gereformeerde tradisie uitgebou. Anders as die reformatore se idee van die politieke verbond, het hy die staat en die profetiese roeping van die kerk teenoor die staat in die Christologie gefundeer. Die regering van Christus oorkoepel alle dinge en die staat sowel as die kerk is daaraan onderhewig. Die staat moet aan die nuwe etiek gebonde wees wat deur die verlossingswerk van Christus gevestig is (Barth 1965; 1998:16). Die verhouding kerk en staat het hy met konsentriese sirkels vergelyk. Die middelpunt is die regering van Christus. Die binneste sirkel is die kerk (Christengemeinde) en die buitenste is die staat (Bürgergemeinde). Elkeen het sy eie funksie en dit mag nie vermeng word nie. Die kerk moet die regering van Christus proklameer, en deur profetiese getuienis en die voorbeeld van die beoefening van die Christelike etiek, aan die staat toon hoe die regering van Christus neerslag moet vind. Verder moet die kerk bid vir die owerheid. Die staat moet die sosiaal-etiese beginsels van die regering van Christus in die reg inbou. Hierdie beginsels is geregtigheid, gelykheid en vryheid (Barth 1946:33). 'n Staat wat aan die regering van Christus getrou is, moet 'n grondwetlike demokrasie wees waarin die fundamentele regte van mense erken en beskerm word (Barth 1946:172). So 'n staat moet deur die kerk erken en ondersteun word.9

Moltmann het in sy teologie en etiek van die hoop baie besin oor die sosiale relevansie van die gereformeerde teologie. Vir hom is 'n Christelike teologie sonder die erkenning en implementering van menseregte ondenkbaar. Hy (Moltmann 1977) begrond menseregte in die mens se beeldskap van God en die eksodusmotief in die Skrif, en argumenteer soos volg:

On the ground of the creation of man and women in the image of God, on the ground of the incarnation of God for the reconciliation of the world, and on the ground of the coming of the Kingdom of God as the consummation of history, the concern entrusted to Christian theology is one for the humanity of persons as well as for their on-going rights and duties. (p. 31)

Good word beskryf as die een wat telkens vir verdrukte mense intree, en daarom daat dit in teologie essensieel oor hoop in eskatologiese sowel as historiese sin (Moltmann 1967). Christene moet vir verdruktes intree deur hulle onder meer te beywer vir 'n staat wat menseregte grondwetlik beskerm, want tussen die staat en die onderdane is daar 'n politieke verbond van regte en verantwoordelikhede. Hy gryp dus terug na die idee van 'n politieke verbond soos dit in die klassieke Calvinistiese tradisie verwoord is.

Die WARC het die idees van Barth, Bonhoeffer and Moltmann tot 'n deklarasie van menseregte verwerk vir gebruik deur kerke in hulle getuienisse teenoor onderdrukkende owerhede. Owerhede moet opgeroep word om die regte en waardighede van onderdane te respekteer en te beskerm. Gereformeerde teologiese perspektiewe wat hierdie oproep onderlê, is die gedagte van die owerheid as dienaar van God kragtens die politieke verbond, die menswaardigheid van mense, die bevrydende krag van Christus se kruisiging en opstanding, die onbeperkte reikwydte van die Skrif en die vernuwing van verhoudings wat deur die versoening van Christus tot stand kom (WARC 1977:144-149). Hierdie dokument het die verskillende gereformeerde perspektiewe oor die regte van mense en die pligte van die owerhede soos dit vanaf Calvyn ontwikkel het, goed saamgevat en toegepas op staatkundige ontwikkeling vandag.

Die REC het uit die meer konserwatiewe Nederlands Gereformeerde tradisie ontwikkel en het ook die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die kerke wat uit hulle sendingwerk ontstaan het, ingesluit. Die liggaam se 'Testimony on Human Rights', waarsku teen humanistiese invloede in die menseregte-debat en sluit in hierdie verband by die Nederlandse gereformeerde tradisie van die negentiende eeu aan. Tog oordeel die liggaam ook dat menseregte teologies begrond kan word indien dit beredeneer word in die lig van die mens se menswaardigheid, die etiese relevansie van die Dekaloog en die verlossing in Christus, wat die heling van die gebroke wêreld beteken. Die dokument spel dan verskeie regte uit wat in hierdie teologiese leerstukke begrond kan word (REC 1983:152). Van die kerke word die volgende verwag (REC 1983):

Standing together as Christian churches within the tradition of the classic Reformed confessions, we reaffirm the Biblical teaching that all men everywhere are created in the image of God and are thus endowed with God-given human rights. This belief is rooted originally and permanently in God's work of creation and redemption as the abiding charter of right relationships within every human community. In unity of purpose with the one holy apostolic church, we confess our dependence upon and faith in God, the Maker, Sustainer, and Redeemer of all things, whose Word of covenant faithfulness for church and world is the ultimate standard for true freedom, responsibility, righteousness and peace in every sphere of societal life. (p. 146)

Tydens die onderhandelings in Suid-Afrika oor 'n nuwe grondwetlike bedeling in die jare 1991-1994, is die twee verklarings by die grondwetgewende vergadering aan die orde gestel as die bydrae van die gereformeerde tradisie tot nuwe staatkundige denke in Suid-Afrika.

 

Gevolgtrekking

Kolonialisme in Suid-Afrika het slawerny hier gevestig en lank gehandhaaf. Voorts is politieke modelle van voogdyskap en sosiale stratifikasie op grondslag van ras gevestig. Die Metodisme en Britse besetting het die trefwydte van die Reformasie se sosiale etiek verhinder. Verder het die negentiende-eeuse Nederlandse gereformeerde tradisie se suspisie teen die menseregte-idee, die staatkundige ontwikkelings in Suid-Afrika op grond van die politiek verbond gekortwiek. Daarom kon apartheid uit die Britse koloniale denke ontwikkel. Hoewel gereformeerde teoloë, etici en filosowe aan die fundamentele uitgangspunte van apartheid 'n gereformeerde kleur probeer gee het, het die politieke beleid nie die klassieke gereformeerde beskouing oor die rol van die politieke verbond ten opsigte van die verhouding God, staat en onderdane as fundering van staat en onderdane se regte en pligte weerspieël nie. Die ware impak van die gereformeerde sosiale etiek het eers met die nuwe grondwetlike bedeling gekom toe die regstaat in 1994 gevestig is.

Alhoewel dit aanvanklik nie duidelik geformuleer was nie en beslis nie in 'n sosiale program aangebied is nie, was die idee van menseregte wat deur owerhede gerespekteer en beskerm moet word in 'n politieke verbond, altyd prominent in die sosiaal-etiese nadenke van die gereformeerde teologie. Vanaf Calvyn se erkenning van die fundamentele regte van mense, sy navolgers se idee van 'n politieke verbond, Locke se siening van die sosiale kontrak en die invloed daarvan in Amerikaanse grondwetlike bedeling tot die goed gefundeerde sosiale etiek van Barth, Bonhoeffer en Moltmann, het die idee van menseregte 'n groot impak gehad op die ontwikkeling van staatkundige denke, konstitusionalisme en die regstate wat na die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel het. Nadenke hieroor in die gereformeerde sosiale etiek is egter nog nie afgehandel nie. Nuwe ontwikkelings in politiek, juridiese en sosiologiese denke noodsaak die gereformeerde sosiale etiek om op grond van die groot beginsels wat sedert die Reformasie uitgespel is, solidêr-krities met staatkundige ontwikkeling besig te bly ten einde geregtigheid, vrede, versoening en menswaardigheid te bevorder. Die gereformeerde teologie in Suid-Afrika het 'n groot roeping in hierdie verband.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

K.V. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsingsinligting

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Die deel van data is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

 

Literatuurverwysings

Althusius, J., 2013, Politica, transl. F.S. Carney, Liberty Fund, Indianapolis, IN.         [ Links ]

Barth, K., 1946, Christengemeinde und Bürgergemeinde, Evangelisher Verlag, Zurich.         [ Links ]

Barth, K., 1965, Community, state and church: Three essays, Double Day, New York.         [ Links ]

Barth, K., 1998, Rechtfertigung und Recht, Evangelisher Verlag, Zurich.         [ Links ]

Baum, G., Cunitz, E & Reuss, E. (eds.), 1864, Corpus reformatorum, vol. 2-3, Schwetscke & Filium, Brunsvigae.         [ Links ]

Beeke, J.R. & Ferguson, S.B., 1999, Reformed confessions harmonized with an annotated bibliography of reformed doctrinal works, Baker Books, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Berkhof, H. & De Jong, O.J., 1967, Gescheidenis der kerk, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Bonhoeffer, R., 1995, Ethics, Touchstone, New York.         [ Links ]

Calvyn, J., 1864, 'Instituti Christianae Religionis', in G. Baum, E. Cunitz & E. Reuss (eds.), Corpus reformatorum, vol. 2-3, Schwetscke et Filium, Brunsvigae.         [ Links ]

Conzales, J.L., 1985, The story of Christianity, vol. 2, HarperOne, New York.         [ Links ]

Davis, T., 1995, 'Borrowed language, Milton, Jefferson, Mirabeau', in J. Armitage, A. Himey & Q. Skinner (eds.), Milton and republicanism, pp. 254-271, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

De Bèze, T., 1956, Concerning the rights of rulers over their subjects and the duty of subjects towards their rulers, transl. H.L. Gonin, HAUM, Pretoria.         [ Links ]

De Groot, H., 1934, Verhandeling over het recht tot buit, Sijthooft, Leiden.         [ Links ]

De Groot, H., 1991, Denken over oorlog en vrede, Ambo, Baarn.         [ Links ]

Du Toit, D.A. (ed.), 1984, Menseregte, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Fowler, R.B. & Hertszke, A.D., 1995, Religion and politics in America: Faith, culture and strategic choices, Westview, Oxford.         [ Links ]

Gaustad, E.S., 1998, 'Thomas Jefferson, religious freedom and the supreme court', Church History, Studies in Christianity and Culture, 67, 682-694. https://doi.org/10.2307/3169848        [ Links ]

Grabill, S.J., 2006, Rediscovering the natural law in reformed theological ethics, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Groen van Prinsterer, G.G., 1904, Ongeloof en revolutie, Bos, Kampen.         [ Links ]

Handy, R.T., 1976, A history of the churches in the United States and Canada, Clarendon Press, Oxford.         [ Links ]

Inst. see Calvyn 1864

Kinghorn, J., 1997, 'Modernization and apartheid: The Afrikaner churches', in R. Elphick & R. Davenport (eds.), Christianity in South Africa: A political, social and cultural history, pp. 135-154, James Curry, Oxford.         [ Links ]

Klaaren, E.M., 1997, 'Creation and apartheid: South African theology since 1948', in R. Elphik & R. Davenport, Christianity in South Africa: A political, social and cultural history, pp. 370-382, Philip, Kaapstad.         [ Links ]

Koorntz, J., 1981, 'Religion and political cohesion: John Locke and Jean Jacques Rousseau', Journal of Church and State 23, 95-119. https://doi.org/10.1093/jcs/23.1.95        [ Links ]

Kuyper, A., 1874, Het Calvinisme: Oorsprong en waarborg onzer Constitutioneel en Vrijheden, Van der Land, Amsterdam.         [ Links ]

Kuyper, A., 1898, Calvinism, six stone lectures, T& TClark, Edinburgh.         [ Links ]

Kuyper, A., 1916, Antirevolutionaire Staatkunde, Kok, Kampen.         [ Links ]

Kuyper, A., s.a., De Gemene Gratie, vol. 3, Kok, Kampen.         [ Links ]

Locke, J., 1988, Two treatises of government, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Meeter, H.H., 1960, The basic ideas of Calvinism, Grand Rapids International Publications, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Moltmann, J., 1967, Theology of hope, SCM Press, London.         [ Links ]

Moltmann, J., 1977, 'The definitive study paper: The theological basis of human rights and of the liberation of human beings', in A.O. Miller (ed.), A Christian declaration of human rights, pp. 110-135, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Olivier, N.J.J., 1986, 'Menseregte: Oorsig en uitsig', Koers 51(4), 502-542. https://doi.org/10.4102/koers.v51i4.947        [ Links ]

Pearson, S.C., 1978, 'The religion of John Locke and the character of his thought', Journal of Religion 58(1978), 244-262. https://doi.org/10.1086/486630        [ Links ]

REC (Reformed Ecumenical Synod), 1983, A testimony on human rights, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Rubiés, J., 1991, 'Hugo Grotius's dissertation on the origin of the American peoples and the use of comparative methods', Journal of the History of Ideas 52(2), 221-244. https://doi.org/10.2307/2709526        [ Links ]

Skillen, J.W., 1974, 'The political theory of Johannes Althusius', Philosophia Reformata 39(3&4), 170-190. https://doi.org/10.1163/22116117-90001273        [ Links ]

Smith, T.L., 2006, Revivalism and social reform: American Protestantism on the eve of the Civil War, John Hopkins University Press, Baltimore, MD.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1995, 'Abraham Kuyper, apartheid and the reformed churches in South Africa in their support of apartheid', REC Theological Forum 23(1), 4-27.         [ Links ]

Sykes, N., 1975, Church and state in England in the XVIIIth century, Octagon, New York.         [ Links ]

Templin, J.A., 1988, 'The individual and society in the thought of Calvin', Calvin Theological Journal 23(2), 161-177.         [ Links ]

United Nations, 1995, United Nations and apartheid, 1945-1994, United Nations, New York.         [ Links ]

Van der Vyver, J.D., 1975, Die beskerming van menseregte in Suid-Afrika, Juta, Johannesburg.         [ Links ]

Van der Vyver, J.D., 2005, 'Menseregte en menswaardigheid', Koers 70(3), 455-471. https://doi.org/10.4102/koers.v70i3.279        [ Links ]

Vorster, N., 2019, The brightest mirror of God's works, John Calvin's theological anthropology, Pickwick Publications, Eugene, OR.         [ Links ]

WARC (World Alliance of Reformed Churches), 1977, A Christian declaration on human rights, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Witte, J., 1996, 'Moderate religious liberty in the theology of John Calvin', Calvin Theological Journal 31, 359-403.         [ Links ]

Witte, J., 2007, The reformation of rights: Law, religion, and human rights in early modern Calvinism, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Wolterstorff, N., 1988, 'Can a Christian be progressive?', Gereformeerd Theologisch Tijdschrift 88, 249-258.         [ Links ]

Wright, D.F., 1988, 'Confessions of faith', in S.B. Ferguson & D.F. Wright (eds.), New dictionary of theology, pp. 153-157, InterVarsity Press, Leicester.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Koos Vorster
koos.vorster@nwu.ac.za

Received: 25 Sept. 2019
Accepted: 20 Jan. 2020
Published: 17 Mar. 2020

 

 

Note: Special Collection: Impact of Reformed Theology.
1 . Die Suid-Afrikaanse debat oor menswaardigheid en menseregte tussen teoloë, filosowe, politici en juriste het met die loop van jare sedert die instelling van apartheid in 1948, en die wêreldwye aanvaarding van die Verenigde Nasies (VN) se Universal Declaration of Human Rights 1948, toegeneem. Aan die een kant was die vraag waaroor gedebatteer is, naamlik of die politieke stelsel van apartheid die toets sal deurstaan wanneer dit in die lig van die opkomende etos van menswaardigheid en menseregte beoordeel word. Die Suid-Afrikaanse regering het in die periode 1948-1994 nie die VN-deklarasie onderskryf nie (Olivier 1986:512). Kritiek teen apartheid vanuit 'n menseregte perspektief het tot die stelselmatige isolering van die land gelei. Hierin het die VN 'n groot rol gespeel (United Nations 1995). Aan die ander kant is die vraag gevra of die menseregte etos nie bedenklik is vanweë sy vermeende humanistiese inslag en staatkundige ontoepaslikheid nie. Die deurslaggewende argumente in hierdie jarelange debat word nie hier verder bespreek nie. Inligting hieroor en bespreking daarvan kan in die bydraes van verskillende outeurs in Du Toit (1984) en ook in die artikels van Olivier (1986:502) en Van der Vyver (2005:455; sien ook 1975) gevind word.
2 . Verwysings na die Institusie van Calvin kom uit die 2008 uitgawe van die vertaling van Beveridge. Waar nodig is die vertaling met die oorspronklike teks, uitgegee deur Baum, Cunitz & Reuss (1864), voorsien.
3 . Hoe die siening van Calvyn in hierdie opsig ontwikkel het, word deeglik in die onlangse publikasie van Vorster (2019:45 e.v.) uiteengesit.
4 . Neque tamen vult nos oblivisci Deus primae nobilitatis, quam Adae patri nostro contulerat, nempe quae nos ad iustitiae bonitatisque studium merito expergefacere debeat (CR:2-3:178).
5 . Johannes Althusius was 'n toegewyde Calvinis dwarsdeur sy lewe. Hy was 'n student aan die akademie in Genève en het ook regte, die klassieke, teologie en filosofie aan die universiteite van Cologne, Heidelberg en Basel gestudeer. Hy was later 'n professor aan die Calvinistiese akademie te Herborn waar Olevianus, mede-opsteller van die Heidelbergse Kategismus, 'n kollega was. Hy was 'n ouderling van die plaaslike gereformeerde gemeente en lid van die Calvinistiese hof in Emden. Hy was baie goed bekend met die Calvinistiese tradisie en het die werke van Calvyn en Beza baie aangehaal. Hy het probeer om sy regsfilosofie in die Skrif te begrond en in hierdie proses by die politieke insigte aangesluit wat deur die Switserse, Franse, Skotse, Nederlandse en Duitse Calviniste ontwikkel is. (Witte 2007:205)
6 . Die bekende kerkhistorikus Walker dui aan dat die Christelike teologie met 'n nuwe ontwikkelende paradigma te doen gekry het. Walker (1992) tipeer hierdie paradigma soos volg:
These developments in science and philosophy provided the foundations for that movement which characterized the atmosphere of the eighteenth century, the Enlightenment. The Enlightenment was the conscious effort to apply the ruler of reason to the various aspects of individual and corporate life. Its fundamental principles - autonomy, reason, pre-established harmony - deeply influenced the thought and action of the modern world and conditioned the atmosphere into which Christianity moved. (p. 571)
7 . In seksie iii van hoofstuk 23 van die Westminster Konfessie, word die volgende gesê:
The civil magistrate may not assume to himself the administration of the Word and sacraments, or the power of the keys of the kingdom of heaven: (1) yet he has authority, and it is his duty, to take order that unity and peace be preserved in the Church, that the truth of God be kept pure and entire, that all blasphemies and heresies be suppressed, all corruptions and abuses in worship and discipline prevented or reformed, and all the ordinances of God duly settled, administrated, and observed. (2) For the better effecting whereof, he has power to call synods, to be present at them and to provide that whatsoever is transacted in them be according to the mind of God.(3)
(1) 2 Chronicles 26:18; Matthew 18:17; 16:19; 1 Corinthians 12:28-29; Ephesians 4:11-12; 1 Corinthians 4:1-2; Romans 10:15; Hebrews 5:4 (2) Isaiah 49:23; Psalms 122:9; Ezra 7:23-28; Leviticus 24:16; Deuteronomy 13:5-6, 12; 2 King 18:4; 1 Chronicles 13:1-8; 2 King 24:1-25; 2 Chronicles 5:12; 34:33. (3) 2 Chronicles 19:8-11; 2 Chronicles 29-30; Matthew 2:4-5 (Beeke & Ferguson 1999).
8 . Tog was daar ook teenkanting teen menseregte in die gereformeerde tradisie in Amerika soos die verskille oor die moraliteit van slawerny uitgewys het. Aan die een kant het die Puriteine die gedagte van die politieke verbond steeds ondersteun. Fowler and Hertszke (1995) sê hieroor:
Puritan doctrine also helped to nurture self-government. Puritans articulated a 'covenant theology' that rejected the idea of divine rights for kings, stressing instead the idea of government created by a community's covenant with God. Puritan Churches were organised on the congregational model, on the basis of an autonomous self-governing parish. Transmitted into politics, this tradition cultivated an incipient practice of self-governing communities. (p. 5)
Aan die ander kant het van die Princeton teoloë 'n pro-slawerny teologie gepropageer op grond van die voorkoms van slawerny in die Ou Testament (kyk Smith 2006:148). Fowler en Hertzke (1995) merk hieroor op:
When war came preachers in both camps depicted their cause in religious terms. From the pulpits of the land North and South were heard invocations of God's wrath toward the other side in martial prayers of vivid and bloody men. (p. 19)
9 . Hoewel hy nie 'n eksponent van die gereformeerde tradisie was nie, het Bonhoeffer Barth se argument oor 'n grondwetlike demokrasie verder geneem in sy baie invloedryke sosiale etiek. As Lutheraan het hy (Bonhoeffer 1995) hom selfs in hierdie opsig op Calvyn beroep en gesê:
With these ideas, which derive from Calvinism, there is combined the essentially contrary idea which comes from the spiritualism of the Dissenters who took refuge in America, the idea that the Kingdom of God on earth cannot be built by the authority of the state but only by the congregation of the faithful. The church proclaims the principles of the social and political order, and the state makes available the technical means for putting them into effect. (p. 332)

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons