SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue1Paul Kruger - 'n 'Dopper' van sy tyd?'n Homiletiese besinning oor die Hebreërspreek en die belangrikheid van vandag author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.54 n.1 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v54i1.2620 

BOOK REVIEW

 

In gesprek oor Bybelinterpretasie in Suid-Afrika

 

 

Gideon R. Kotzé

Ancient Texts: Text, Context, and Reception, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Herinnering & verlange: Gesprekke oor mag, geskiedenis en die Bybel
Author: Louis C. Jonker
ISBN: 978-1-928314-52-3
Publisher: AFRICAN SUN MeDIA, 2019, R180*
*Book price at time of review

 

 

In hierdie boek, vertel Louis Jonker, professor in Ou Testament aan die Universiteit van Stellenbosch, 'n verhaal oor die geskiedenis van Bybelinterpretasie in Suid-Afrika. Die weergawe van die geskiedenis wat Jonker konstrueer, neem die vorm aan van vertellings wat met uittreksels uit vakliteratuur om die beurt afgewissel word. Die verhalende hoofstukke en die uittreksels uit vakliteratuur poog om wedersyds verhelderend te wees. Die toegeligte aanhalings uit die werke van rolspelers in die verhaal wil lesers help om die verhalende gedeeltes beter te verstaan, terwyl laasgenoemde weer die vakliteratuur vir lesers meer toeganklik moet maak. Die genre van die boek word aangebied as ''n mengsel van historiese novelle, biografie, persoonlike memoires, en akademiese skryfsels; en natuurlik ook 'n goeie skeut gesonde verbeelding en humor' (bl. v). Jonker bestempel hierdie mengsel as fiksie (bl. v) en daarmee neem die boek noemenswaardige kenmerke van antieke historiografie, oftewel geskiedskrywing aan, insluitende die historiografiese (d.i. die verhalende) gedeeltes in die Ou Testament waarop die skrywer 'n erkende spesialis is.

Soos enige ander antieke geskiedskrywing, is Jonker se boek oor 'n bepaalde tydperk geskryf en dra dit die tekens van meer as een ontstaanskonteks. Hierdie kontekste het onder andere met die huidige stand van Bybelwetenskappe in Suid-Afrika (soos Jonker dit voorhou) te make, waar gesprekke oor verantwoordelike Bybeluitleg onder sommige vakkundiges 'n impasse bereik het. Die ontstaanskontekste verskaf stimuli en motiverings vir die skryf van die boek. Hierdie beweegredes word in die hooftitel van die boek verwoord: herinnering en verlange. Jonker se herinnerings is aan ontslape leermeesters, aan sy ervarings as Bybelwetenskaplike, sy bediening in die NG Kerk, sy rol as tussenganger tussen kerklike gemeenskappe en die Bybelwetenskappe, asook die herinnerings aan 'n klag van leerdwaling wat in die negentiger jare van die vorige eeu teen hom gemaak is.

Jonker se verlange is na gespreksgenote en geesgenote wat sy histories-hermeneutiese beginsels van Bybeluitleg deel. Die beweegredes hang met die belange saam wat deur die boek gedien word. Die boek wys op die belangrikheid en die waarde van 'n historiese bewussyn, kennis van die wêrelde waarin die tekste ontstaan het (wat nie sonder meer aan die wêreld waaroor die tekste vertel, gelykgestel kan word nie) in die interpretasie van die Bybel. So 'n historiese bewussyn staan nie vyandig teenoor die geloof van Bybeluitleggers of pogings om die Bybel in hedendaagse situasies relevant te maak nie. Die boek volg ook die voorbeeld van antieke geskiedskrywing, deurdat die skrywer selektief met die geskiedenis omgaan. Soos die historiografie van antieke geskiedskrywers, hang die vorm wat Jonker se verhaal aanneem saam met keuses oor watter tydperke, gebeure en rolspelers in die betrokke weergawe ingesluit en verswyg word, asook watter bronne vir die skep van die weergawe aangewend word. Hierdie keuses is nie onskuldig of doelloos nie.

Die tydperke waarop Jonker in sy verhaal oor Bybelinterpretasie in Suid-Afrika fokus, is die era van Britse kolonialisme in die 19de eeu, die tydperk van Afrikaner-nasionalisme en ekonomiese swaarkry tussen die twee wêreldoorloë, die sewentiger- en tagtigerjare van die vorige eeu, waartydens kerke hulself uit Afrikaner-nasionalisme en fundamentalisme ontworstel het, en die opkoms van die nuwe Suid-Afrika sedert die vroeë negentigerjare van die vorige eeu. Die vier rolspelers wat in die verhalende hoofstukke aan die woord kom, is Biskop John William Colenso, prof. Johannes du Plessis, prof. Ferdinand Deist en Jonker self. Die uittreksels uit vakliteratuur wat in die ander hoofstukke aangehaal word, spruit grotendeels uit hierdie gespreksgenote se geskrifte.

Die gemene delers onder hierdie vier here is dat almal een of ander historiese interpretasiemodel vir hul wetenskaplike beoefening van Bybeluitleg ingespan het, dat hulle daarvolgens aan kerklike gesprekke deelgeneem het en dat hulle van leerdwaling aangekla is. Jonker gebruik interpretasies van die gekose bronne en verbeelding om 'n verhaal oor die verlede te komponeer waar deurlopende temas of motiewe by monde van die gespreksgenote, asook deur die toeligting van die vakkundige literatuur, verwoord word. Die tema of motief wat soos 'n goue draad deur die storielyn of die plot van die boek se hoofstukke loop, is die siening dat magsverhoudings in die kerk en samelewing 'n invloed uitoefen en dikwels bepaal hoe daar oor die geskiedenis gedink word en hoe die Bybel geïnterpreteer word. Die boek se subtitel, 'Gesprekke oor mag, geskiedenis en die Bybel', wys op hierdie deurlopende tema of motief in die boek se voorstelling van die geskiedenis van Bybelinterpretasie in Suid-Afrika. Die deurlopende tema of motief van die verhaal dien ook die doel van die boek. Hierin bestaan daar ook parallelle tussen Jonker se werk en dié van antieke geskiedskrywers. Jonker wil sy lesers tot beter selfverstaan lei, hulle tot nadenke stem en gesprekke uitlok. Sy teikengehoor is daarom nie sy akademiese kollegas of ander Bybelwetenskaplikes nie, maar 'n breër publiek van Bybellesers vir wie die interpretasie van die Bybel belangrik is en vir wie dit belang inhou. Lesers uit hierdie teikengehoor sal moet beoordeel of Jonker in sy doel geslaag het.

Die boek kan daarom met vrymoedigheid vir hierdie teikengehoor aanbeveel word. Dit mag ander vakkundiges ook loon om kennis te neem van hul kollega se sienings oor die teenswoordige stand van sake in die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskappe.

In reaksie op die standpunte wat in die boek ter sprake kom, sal ek my kort opmerkings slegs tot die bogenoemde belange beperk (daar sou ook oor die keuses van tydperke, gebeure en rolspelers, asook oor die bronne wat geraadpleeg is, gekibbel kon word). Die wenslikheid daarvan dat Bybellesers hulself van 'n historiese hermeneutiek bedien, kan slegs beaam word. Moderne lesers van antieke literatuur, insluitende die Bybeltekste, is ver in tyd en kultuur van die geskrifte verwyder, en aangesien hierdie geskrifte in die antieke leef- en denkwêrelde ingebed is, het moderne lesers kennis van hierdie wêrelde nodig ten einde van die geskrifte sin te maak. Oor die belangrikheid daarvan om onderskeid te tref tussen die wêreld waaroor die tekste vertel (die sogenaamde vertelde tyd) en die wêreld waarin die tekste ontstaan het (die sogenaamde verteltyd), kan daar aan Jonker gelyk gegee word. In verband met die Ou Testament, moet egter daarmee rekening gehou word dat die tekste oor lang tydperke in verskillende weergawes oorgelewer is. Selfs in die eerste eeue n.C. het skrywers nog groot en klein veranderings aan die bewoordings van Ou Testamenttekste gemaak wanneer hulle hierdie geskrifte oorgelewer het. Die tekste bestaan ook nie slegs in een taal nie, maar in verskeie kopieë wat in verskillende tale geskryf is. Daar kan dus nie van 'n oorspronklike teks, 'n finale weergawe of een bepaalde 'ontstaanstydperk' vir elkeen van hierdie geskrifte gepraat word nie. Bybellesers sal gegewens oor die oorleweringsgeskiedenis moet leer ken en verreken wanneer hulle 'n historiese hermeneutiek aanneem.

Jonker se pleidooi vir 'n onderskeid tussen die wêreld waaroor die tekste vertel en die kontekste waarin die tekste oorgelewer is, hou twee belangrike implikasies in wat kortliks genoem kan word. Eerstens, hierdie onderskeid maak dit weereens baie duidelik dat die geloofwaardigheid, relevansie of betroubaarheid van die Bybeltekste nie van hul historiese 'korrektheid' afhanklik is of daarvan afhanklik gemaak hoef te word nie. Tweedens, moderne konstruksies van Bybeltekste se 'ontstaanstye' is nie minder fiktief as die wêreld waaroor die tekste vertel nie. Dit bly 'n baie ingewikkelde vraagstuk tot watter mate moderne lesers oor enige 'histories-korrekte' kennis van die verlede kan beskik. Nietemin, konstruksies van die Bybeltekste se 'ontstaanstye' hang van beskikbare bronne af, die interpretasies van hierdie bronne, asook die veronderstellings en vooroordele van diegene wat die bronne interpreteer. Aangesien ontdekkings steeds gemaak word, nuwe interpretasies van bronne gereeld ontwikkel word en geleerdes in hul uitgangspunte en menings van mekaar verskil, vind rekonstruksies van die Bybeltekste se 'ontstaanstye' nie in 'n vakuum plaas nie, en bly hulle beperk en voorlopig. Pogings om die Bybeltekste in hedendaagse kontekste of vir teenswoordige kwessies en kwelvrae relevant te maak, sal daarom goed doen om hierdie relevansie nie té nou aan moderne konstruksies van 'ontstaanstye' te koppel nie.

In hierdie verband kan Jonker se voorstel van 'n analogie-model van interpretasie krities bejeën word. Volgens die model moet moderne lesers eers die seggingskrag van die Bybeltekste in hul konkrete kontekste van oorsprong waarin hulle bedoel was om te spreek, vasstel, alvorens hulle hierdie verstaansdinamika analogies in hedendaagse situasies voortsit (bl. 2434). Die ingewikkelde oorleweringsgeskiedenis van die Bybeltekste, die feit dat elkeen van die tekste in verskillende weergawes bestaan het en nie slegs in een bepaalde konteks hul oorsprong gehad het nie, en die voorlopigheid en beperktheid van ons konstruksies van die verlede, noop ons egter om met groter omsigtigheid oor die ontwikkeling en betekenis van tekste in antieke tye te praat.

Ten slotte, binne die raamwerk van die verhaal waarin Jonker oor die aanklagtes van leerdwaling teen Colenso, Du Plessis, Deist, homself en ander kollegas vertel, wys die boek baie duidelik hoe onsinnig en absurd dit vir Bybellesers is om mekaar te verguis, te verkwalik, te verdoem en te verketter slegs omdat hulle die Bybeltekste nie op dieselfde wyse lees en interpreteer nie. Indien die boek daarin slaag om selfrefleksie en dialoë oor Bybelinterpretasie uit te lok, sal die voortgaande gesprekke tussen alle Bybellesers, vakkundiges ingesluit, hopelik tot 'n beter verstaan en tot minder veroordeling aanleiding gee.

 

 

Correspondence:
Gideon Kotzé
kotze.gideon@nwu.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License