SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue1Etty Hillesum: Esse quam videri - Reformed Christian perspectives on a spiritual journeyIn gesprek oor Bybelinterpretasie in Suid-Afrika author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.54 n.1 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v54i1.2565 

ORIGINAL RESEARCH

 

Paul Kruger - 'n 'Dopper' van sy tyd?

 

 

Piet J. Strauss

Department of Historical and Constructive Theology, Faculty of Theology, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

Paul Kruger, who was the president of the South African Republic (Zuid-Afrikaansche Republic [ZAR]) from 1883 until 1900, was a symbol of Boerrepublicanism in the 19th century. In the development of this image, he also became an honoured prototype of an Afrikaner for his fellowmen. Kruger was born and bred in the North Eastern Cape as a member of that element of Afrikaners which became known as the 'Doppers'. They were a group of people from which many, after 1859, became members of the newly found Reformed Churches in South Africa. They based their tenets of faith on the State Translation of the Bible published in 1637 in the Netherlands. The 'Doppers' were known as conservative people in their faith, in the customs organised in their church and in their approach of life. They were known for their believe that God should be honoured through life as a whole, that everything in church and in life should be based on Scripture and that theological liberalism was unacceptable in church and theology. They clothed in a simple and peculiar way. In their obedience to God, they were strict in the interpretation of the commands of God they deemed to be biblical. Kruger, as the state president of the ZAR, remained true to his church, but also kept up with new developments in society. He had a reasonable and modernised influence on his church.

Keywords: Simbool van Boererepublikanisme; Dopper gebore en getoë; Beginsels van Gods Woord vir alles; Lewe bekyk deur bril van Woord; Veelsydige ‘Dopper’ en staatshoof; ‘Dopper’moraal.


 

 

Inleidend

Die belangrike historiese invloed in Suid-Afrika gedurende die negentiende eeu word deur sekere skrywers aan Stephanus Johannes Paulus Kruger (10 Oktober 1825 - 14 Julie 1904) toegedig.

Na sy dood op 14 Julie 1904 en in 'n terugblik op die negentiende eeu, skryf die Boeregeneraal en latere Suid-Afrikaanse Eerste Minister, Jan Smuts, dat Kruger die 'Boer character' verpersoonlik 'both in its brighter and darker apects and (that he) was the greatest man - both morally and intellectually - which the Boer race has so far produced' (Bergh 2017:7).1 'n Biograaf, D.W. Kruger, noem Paul Kruger die bevestiger van die Boererepublikeinse tradisie in Suid-Afrika. Dit is 'n tradisie wat Kruger self in die laaste helfte van die negentiende eeu teen die opkomende Britse imperialisme sou handhaaf. As die belangrikste kampvegter vir sy Transvaalse Republiek (Zuid-Afrikaansche Republiek [ZAR]) word Paul Kruger geleidelik ook 'n vegter vir die negentiende-eeuse Afrikaner. Met verloop van tyd sien vriend en vyand hom as 'n simbool van die 'hardnekkige eksklusiwiteit' van Afrikaners. Volgens D.W. Kruger was Paul Kruger 'n tipiese Boer van sy tyd, en wat sy eie mense betref, een van die grootste Afrikaners 'van alle tye' (Kruger 1976:475). Van Schoor en Van Rooyen (1960:26) se waarneming dat die mag van die presidente van Boererepublieke (ook die ZAR en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (Rep. van OVS) nie in hulle grondwette vervat is nie, maar in die vertroue wat hulle by hulle burgers ingeboesem het, is beslis op Kruger van toepassing (Louw 1969:174; Strauss 2017:103). Paul Kruger word immers vier keer tot staatspresident van die ZAR verkies: in 1883, 1888, 1893 en 1898. Dit is 'n amp wat hy vir ongeveer 17 jaar beklee het (Du Plessis s.a.:25, 28, 31, 33).2

As staatspresident sou Kruger aan homself getrou bly. Volgens Jan Smuts wat nie in alle opsigte 'n geesgenoot van Kruger was nie, was sy egtheid nie net uiterlik nie, maar gewortel in sy innerlike as 'n mistikus en sy opregte, nederige lewe met God. President Steyn van die Oranje-Vrystaat stel dit so ' mijn respek voor zijn diepe doorzight, grote geesteskracht, ware patriotisme en innig godsvertrouwen' word algaande dieper (Bergh 2017:7-8). Die Nieuwe Rotterdamse Courant van 21 Januarie 1884 berig oor Kruger se antwoord op 'n heildronk tydens 'n fees deur Nederlanders in London. Volgens hierdie bron praat Kruger nie die gepoleerde taal van 'beskaafde Nederlanders nie'. Sy ruwe, oorspronklike Boere-Hollands kom egter met 'n skilderagtigheid wat jy tevergeefs by die 'fyn gekunstelde sinsaanwendings van vaderlandse redenaars soek' (Bergh 2017:65). Ook in taalgebruik sou Kruger homself eg uitdruk - al was hy 'n Boer in die, vir hom, vreemde en vyandige London, hoofstad van die sogenaamde Groot Brittanje.

Teen hierdie agtergrond was Paul Kruger die onbetwisbare staatspresident en geestelik-politieke leier van die ZAR. In sy hantering van interstaatlike kwessies was hy dikwels 'n diplomaat, maar as staatsman het hy ook geloop met die nie-onderhandelbare onafhanklikheid van die ZAR in sy binnesak asook die Bybel. Volgens Kruger deur die voorsienige God beskik (Bredell & Grobler 1947:214; Du Plessis s.a.:32, 44, 49, 56, 83, 93, 132)3 was die onafhanklikheid deur die voorsienige God beskik en was die Woord die riglyn van die soewereine God as die boutroffel van die samelewing en volkereg (Bergh 2017:123, 171, 426; Du Plessis s.a.:13, 32, 60, 99, 102). Op hierdie punt wys D.W. Kruger daarop dat Paul Kruger se 'ewige beginsels van Gods Woord ook op staatkundige terrein'4 woordeliks ooreenstem met die program van die Anti-revolusionêre Party van Abraham Kuyper in 1879 in Nederland. Kruger het waarskynlik deur 'n geesgenoot van Kuyper, S.J. du Toit, van Kuyper verneem. As Calvinis en gereformeerde het hierdie begrip vir hom sin gemaak en hy dit oorgeneem. Hy kon sake eers in 1884 met hulle eerste kennismaking - dit was in Nederland - met Kuyper persoonlik bevestig. Ironies dat Du Toit as predikant en superintendent van onderwys in die ZAR op hierdie stadium in sy toesprake die praktiese politiek aansny, terwyl president Kruger die pleit vir Christelike beginsels in staat en politiek voer (Kruger 1961:255, 272; vgl Bredell & Grobler 1947:89; Du Plessis s.a.:13-14, 21, 30, 32, 36, 49, 92, 118, 132).

Hoewel Kruger in totaal net drie maande skoolopleiding gehad het - in politieke vergaderings was hy volgens eie getuienis dikwels 'van de minste geleerden hunner' - het hy met Abraham Kuyper rondom 1889-1890 gekorrespondeer oor die stigting van 'n Christelike universiteit in die ZAR. Kruger het nie getwyfel oor die Christelike koers wat dosent en student in so 'n inrigting moet inslaan nie. Daar het egter niks gebeur nie (Bergh 2017:158-160, 180-181). Die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) wat in 1951 vanuit die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK) ontstaan het en wat op sy beurt weer uit die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) van 1869 (die GKSA word op 11 Februarie 1859 te Rustenburg gestig, Vorster 2008:283) in Burgersdorp ontwikkel, is 'n na-Krugerse afstammeling van hierdie benadering. Soos genoem was die jong Paul Kruger een van die stigterslede van die GKSA (Bingle 2008:891; Kapp 2008:629).

Hoewel nie in alle opsigte Christelik-demokraties nie,5 was Kruger 'n draer van 'n Christelik-Afrikaanse republikanisme (vgl. Bredell & Grobler 1947:205; Strauss 2017:103; Van Schoor & Van Rooyen 1960:31-34). Met sy Christelike lewensbenadering assosieer hy ten nouste met daardie snit van die Boeregemeenskap6 wat in die 1830's uit die noordoostelike distrikte van die Kaapkolonie kom en reeds voor die ontstaan van die GKSA in 1859 'Doppers' genoem word (Spoelstra 1963:19). Lede van die Groot Trek (1835-1840) wat nie later lidmate van die GKSA sou word nie, word ook 'Doppers' genoem. Ds F.L. Cachet meen dat van die 'uitstekendste leidslieden onder de Boeren' 'Doppers' was. Hy noem Hendrik Potgieter, Sarel Cilliers en die jong Paul Kruger7 by name (Spoelstra 1963:19). Potgieter sterf in Desember 1852 - voor die ontstaan van die GKSA in 1859 (Venter 2008:892) en Cilliers bevind hom na die Slag van Bloedrivier in 1838 tot met sy dood in 1871 in 'n 'Dopperlose' (dit wil sê sonder die GKSA) Natal en Noord-Vrystaat (Strauss 2019:12, 27). Ook Casper Kruger, die vader van Paul Kruger, word voor 1859 'n 'Dopper' genoem. Die Krugers assosieer met A.H. Potgieter tydens die Groot Trek (Spoelstra 1963:19). In sy navorsing oor Die 'Doppers' in Suid-Afrika 1760-1899, toon Spoelstra (1963) dat hierdie deel van die Afrikaners teen 1859 al vir byna 'n eeu onderskeibaar was, maar dat die naam 'Dopper' hierna grootliks tot die GKSA as kerk en die lidmate van sy gemeentes 'vereng' word. Die 'Doppers' in Suid-Afrika is voor 1859 reeds 'n duidelik onderskeibare religieus-kulturele en sosiale groep - 'n segment van die Afrikaners op wie se totale lewe hulle geestelike ingesteldheid 'n afdruk laat (Spoelstra 1963:19). Hoewel die naam 'Dopper' mettertyd op die GKSA oorgedra word, word dit as gevolg van sekere 'Dopperoortuigings' wat na 1859 by hulle voorkom, ook aan nie-lidmate gekoppel. Spoelstra bestempel die tradisionele woongebied van 'Doppers' in die Noordoos-Kaap rondom 1880 as 'n kragsentrale vir die ontwakende Afrikanerdom en Afrikanerbond in die Kolonie. Die 'Doppers' in die algemeen - binne en buite die GKSA - en in die 'enger en ruimer sin van die woord' is anti-Brits en positief-Afrikaans (Spoelstra 1963:1, 268).

Die vraag wat hier ondersoek word, is die volgende: Was president Paul Kruger 'n 'Dopper' van sy tyd en wat was sy eienskappe as 'n 'Dopper'? Hoe het hierdie benadering sy kerklidmaatskap en breë lewe beïnvloed? Watter soort 'Dopper' - indien daar soorte was - was Paul Kruger en hoe het dit sy lewenskoers geraak?

Voordat die vrae oor Kruger aan die orde gestel word, word die betekenis van die benaming Dopper onder die soeklig geplaas. Behalwe dat Kruger in die algemeen sowel as kerkhistories aan die 'Doppers' gekoppel word (kyk Louw 1969:232), kan die antwoorde op hierdie vraag ook lig op sy beweerde 'dopperse' aanslag werp.

Dat Paul Kruger 'n duidelike figuur onder die 'Doppers' en in die 'Dopperkerk' van 1859 was, blyk uit talle voorbeelde. Anna M. Louw bring die Groot Gryse as vader en voorbidder vir sy volk na vore in die aanloop tot die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 om prontuit te erken: 'Ek, wat 'n Dopper is, moet in hierdie dae as staatshoof toesien dat die politieke vryheid ander ontsê word, ten einde my land se onafhanklikheid te red' (Louw 1969:232). C. Spoelstra (1915:226-227) wys daarop dat daar reeds in die openbare lewe van die ZAR rondom 1855-1865 sprake is van 'n 'Dopper'- of Krugerparty. Met 'n tikkie nydigheid verklaar hy dat die kleine GKSA in die ZAR deel in die eer wat Kruger as kommandant-generaal (sedert 1863) en president (sedert 1883) toeval (Kapp 2008:629-630). Na die anneksasie van Transvaal deur die Britte in 1877, tree Kruger 'stelselmatig' na vore as die leier van die Transvaalse Afrikaner. Hy word 'n nasionale simbool (Spoelstra 1963:262). Rondom 1860 word hy as 'n leier in die ZAR egter deur 'nie-Doppers' gewantrou omdat hy 'n 'Dopper' is (Spoelstra 1963:255).

Die prominente rol wat Paul Kruger in die ZAR en breër speel, verbind aan sy bekende 'Dopperwees', verhoog die aktualiteit van hierdie artikel.

 

'Doppers': betekenis en inhoud van die naam

Wie was hierdie 'Doppers' of 'Dopperparty' waarmee Paul Kruger geassosieer word en self geassosieer het?

Breedweg is die 'Doppers' in die jeugjare van Paul Kruger beskou as die welgestelde, tal- en invloedryke koloniste van die noordoostelike dele van die Kaapkolonie wat in die distrikte Middelburg, Philipstown, Colesberg, Venterstad, Burgersdorp, Molteno en Steynsburg woon. In die ver verwyderde Boland en van 'n afstand af, word daar in hierdie tyd egter na die 'Doppers' verwys as mense wat hulle deur hulle 'eigenaardige godsdienstige gevoelens' en eenvoudige 'kleeding' van ander koloniste onderskei kan word; mense met 'n 'zonderling kleingeestigheid en eigenzinnigheid', 'n gebrek aan formele skoolopleiding en 'n godsdienstige konserwatisme (Kruger 1961:13; Spoelstra 1963:17).

Ten opsigte van kleredrag en godsdienstige gebruike was die 'Doppers' afkerig aan 'alle nieuwigheden'. In hulle afgesonderdheid was hulle geneig om 'n 'antique' en 'specially anti-English' lewenstyl te handhaaf na die Britse oorname van die Kaap in 1806. Die konflik tussen Boer en Brit intensifeer in die area met die stigting van Colesberg in 1830. Die Groot Trek van 1835-1840 wat tot 'n bestendige trek van emigrante deur en sosiale kontak met die 'Doppers' in die Noordoos-Kaapkolonie lei, deurbreek die isolasie van hierdie Afrikaners en moderniseer op kerklike en nie-kerklike wyse die uiterlike vorme van 'Dopperwees'. Talle 'Doppers' doen ook mee aan die Groot Trek. As Shepstone die ZAR in 1877 annekseer, word hy, syns insiens, deur die weerstand van die 'Dopper party' gestuit. As mense wat volgens die Engelse fanaties, onkundig en werklikheidsvreemd sou wees, sien die 'Doppers' nie voordele in 'n oorname van die ZAR deur 'n sogenaamde beskaafde Brittanje nie. Sommige Britse besetters koppel anti-Engelse gedrag in Transvaal in 1877-1880 aan 'n 'Doppergees', hoewel hierdie gedrag by 'n groot deel van die Boere in Transvaal - en elders in Suid-Afrika - voorkom en nie net by die 'Dopperkerk' of lidmate van die GKSA-gemeentes in die ZAR nie (Spoelstra 1963:18).8

Die vrou van die Skotse ds Andrew Murray senior wat in 1822 in Graaff-Reinet 'n standplaas vind (Botha 2008a:765), noem die 'Doppers' (teen 1856) onaanvaarbaar. Sy beskou hulle as 'n soort Kwaker-Afrikaner, primitief in gebruike en sterk gekant teen 'n verwêreldliking in kleredrag en maniere. Hulle praat stadig en met 'n draal, beweeg langsaam en gaan sit op hulle eie manier. Hulle is - volgens haar - vuil (hulle is mos van die plaas af ! [outeur se invoeging]), werklikheidsvreemd en hardkoppig (Spoelstra 1963:17). Wat duidelik is, is dat mevrou Murray by geleentheid met hierdie soort Boere swaarde kruis en nie bo alle twyfel vrede en versoening smaak nie.

Die 'Doppers' verbind hulle geestelik, inhoudelik en formeel aan die Statevertaling van die Nederlandse Bybel uit 1637 (Botha 2008b:1043). Vir hulle is dit die Woord van God en norm vir die lewe. Hulle beskryf hierdie boek as die 'relaas van alle dinge, van begin en einde, skepping en sondeval, verlossing en uiteindelike oordeel'. Volgens hulle sorg die Here as die hemelse Vader in besonder vir aardse vaders en hulle kinders: deur hulle biologiese vaders hoor hierdie kinders saans van die Here se almag en uitverkiesende genade, bid hulle saam in voor- en teenspoed en is hulle aan God se orde vir natuur en kultuur gebonde (Kruger 1961:13).

Die 'Doppers' soek vir 'zielenspijs naar Gods Woord'. Die inhoud van kerklike preke, gebede en liedere moet, volgens hulle, Skrifgebaseer wees. Die Skrif word in fyn besonderhede en soms fundamentalisties as rigsnoer vir die lewe geneem. So ernstig is hulle hieroor dat hulle die Evangeliese Gesange van 1807-1814 nie aanvaar nie vanweë die feit dat dit nie Skrifberymings of op Skrifgedeeltes gebaseer is nie. Hoewel nie alle 'Doppers' hierdie standpunt kan verwoord nie, word dit vir hulle 'n gewetensaak. Hulle gaan voort om die kantaantekening in die Statebybel te misbruik en beweer dat die 'lofgesange en ander geestelike liedere' van Kolossense 3:16 'soorte Psalms' is, juis om die Gesange te verwerp. Die 'Doppergesinshoof' as 'n patriarg verwag gehoorsaamheid van die gesin aan hom soos wat hy in alles aan God en die Bybel gehoorsaam moet wees. Saam met die Statevertaling word boeke van 'oude' Nederlandse skrywers soos a' Brakel, Hellenbroek en Smijtegeld gelees en Calvinisme as 'n lewensbeskouing nagejaag (Spoelstra 1963:25).

As Calviniste glo die 'Doppers' aan die absolute soewereiniteit van God. Die geïsoleerde 'Dopper' op die oosgrens beleef 'n algehele afhanklikheid van God in die natuur, die versorging van sy grond, die wel en weë van sy gesin en die feit dat dit God is wat hom op afgeleë dele van sy plaas in die oog hou - waar hy soms ook die wet van die Here oortree. Hy bely die Drie Formuliere van Eenheid (naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls (NG Kerk-Uitgewers 1982)9 en aanvaar, na aanleiding van die Heidelbergse Kategismus, antwoord 31 dat hy 'n geroepe profeet, priester en koning van God is wat God in alles wil eer. 'n 'Dopper' voel verantwoordelik vir sy doen en late aan die Here met sy alsiende oog. Voor die Here is hy klein in sy belydenis van sonde - 'n belydenis deur boet- en klaagpsalme. Geloof in die uitverkiesing van God en die vereenselwiging van die gelowige Boer met die volk Israel is die 'hartaar' van sy godsdiens. Die metodis konsentreer op sy bekering, maar die 'Dopper' vra na die wil van God. Die metodis soek die sekerheid van sy saligheid in die omvang van sy heiligmaking, maar die 'Doppercalvinis' mishaag homself vanweë sy gebrek aan dankbaarheid aan God vir verlossing. Elke vorm van geesdrywery of -vertoon stoot die 'Dopper' af. Sy hartskennis van die Bybel en belydenisskrifte is sy skans teen die teologiese en lewensbeskoulike liberalisme wat in die negentiende eeu aan die Kaap posvat (Spoelstra 1963:17-19).

As geestelik selfstandige Boere, handhaaf die 'Doppers' 'n hoë etiese standaard. Dronkenskap, buite-egtelike kinders, egskeidings en misdaad is uitsonderlik. Die 'Doppers' is pleitbesorgers vir Christelike onderwys en die Bybel as die belangrikste bron vir onderrig en opvoeding op skool; dus pleitbesorgers vir die Calvinistiese spreuk soli Deo Gloria [aan God alleen die eer] (Spoelstra 1963:26). Natuurlik dra alle 'Doppers' nie hierdie spreuk ewe kundig en oortuigend uit nie en verskil hulle soms oor sake. Hulle toon verskillende persoonlikheidstipes met temperament- en denkverskille. Wesenlik hou hulle egter by die Statebybel, die Drie Formuliere en Kort Begrip van hulle geloof: leefgidse in 'n skaarste aan leesstof in die Noordoos-Kaap en later in die waens van die Groot Trek (Spoelstra 1963:25-27).

Die vraag is: Het die jong Paul Kruger uit hierdie segment van die Afrikanergemeenskap gekom?

 

Paul Kruger histories 'n 'Dopper'?

Op 10 Oktober 1825 word Stephanus Johannes Paulus Kruger as die derde kind van Casper Jan Hendrik Kruger en Elsie Francina Steyn op die plaas Bulhoek in die distrik Steynsburg in die Noordoos-Kaap gebore. Paul Kruger is van die sesde geslag Krugers in Suid-Afrika (Kruger 1976:464).

Van sy ouers ontvang hy 'n Calvinistiese opvoeding met kerkvaste Hollands-Afrikaanse inslag. Deur laasgenoemde ontwikkel hy 'n sterk band met die Ou Testament. Hy koppel - soos baie 'Doppers' - die Afrikaner-Boer en Groot Trek aan die Exodusgebeure van oud-Israel. Soos Israel beskou hy gelowige Afrikaners as deel van die verbondsvolk van God. Hierdie vertrekpunt beïnvloed ook sy politiek. Uit sy toesprake kom Ou-Testamentiese norme - soos hy dit sien - vir die Boerepolitiek. In hierdie proses is Moses dikwels die sentrale figuur (Bergh 2017:102, 118; Du Plessis s.a.:135).

In 1842 trou Kruger met Maria du Plessis. Sy sterf in 1846. In 1847 trou hy met Maria se niggie, Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis. Uit hulle huwelik word 16 kinders gebore: 9 seuns en 7 dogters (Kruger 1976:465).

Die vroeëre Duits-Lutherse Krugers word in Suid-Afrika Calviniste of gereformeerdes deur hulle ondertrouery met Nederlandse meisies. Hierdie beweging word nie deur reële bande met Nederland bewerk nie, maar 'n daaglikse omgang met die Statebybel en sy verklarende aantekeninge sowel as die Psalmboek met die Drie Formuliere van Eenheid agterin gedruk. Om Kruger (1961:10) aan te haal: ' die Krugers en die Steyns in hulle eensaamheid en verlatenheid ver van kerk en staat ' het so 'die ou voorvaderlike geloof bewaar'. Die Krugers word oortuigde 'gereformeerde Doppers' [outeur se term] en bewaar die geloof van hulle Nederlandse voorvaders wat verbind was aan die Nasionale Sinode van Dordtrecht (1618-1619) in Nederland. Hierdie Sinode aanvaar die Formuliere van Eenheid as die belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerk en gee opdrag vir die Statevertaling (De Jong 1987:262-263). Daarnaas word godsdienstige werke van 'oude schrijvers' wat rondom 1700 gepubliseer is, in die 1830's onder die 'Doppers' aangetref (Kruger 1961:10).

Paul Kruger se ouers lei hom in die waarhede van die gereformeerde geloof in en is die eerstes om hom in lees en skryf te onderrig. Saam met sy broers en susters ontvang hy op 'n ongereelde basis onderrig van 'n swerweronderwyser, Tielman Roos. Alles bymekaar getel, duur Kruger se skoolonderrig slegs drie maande. Hoewel sy handskrif en spelling nie onbesproke is nie, is Kruger in staat om sy gedagtes duidelik op skrif te stel. Soos sy ma en oupa aan moederskant, plaas hy bokant elke 'u' in sy skryfwerk 'n halfmaantjie. Hy skryf 'Kruger' nie met 'n Duitse umlaut 'u' nie. Kruger kom uit 'n geslag 'Doppers' wat 'n behoudende invloed in kerk en politiek het. Hulle is ernstig oor die tien gebooie van God sowel as die vyfde gebod met sy erkenning van owerheidsgesag wat in feite, en daarom uit 'n Christelike oogpunt, deur die beskikking van die Here wetlik in beheer is. Onder hulle is daar Krugers, Van der Walts, Venters, Coetzee's, Du Plessis's en Duvenhages. Tussen sulke bure is 'Dopperwees' vir Kruger byna 'n vanselfsprekendheid (Kruger 1961:13).

Met so 'n opvoeding ervaar Paul Kruger die onverbiddelikheid en onafwendbaarheid van die natuurmagte sowel as die wil van God. Hy hoor God in die loei van die orkaan, die rollende donderweer en die sagte asemhaling van die aandwind. Die Nederlandse Bybel is egter sy normatiewe lewensgids wat hy met al sy besonderhede aanvaar en wat in sy lewe sentraal staan. Op grond van sy ervaring van God se wette vir die natuur en kultuur glo hy aan wet en orde in die natuur, in die staat en die res van die samelewing sowel as, op volkeregtelike gebied, tussen state (Wessels 1977:205). Vir hom beskik God norme van orde en regverdigheid vir die staatsowerheid soos dit na burgers en nie-burgers moet kom (Du Plessis sa:24).10 Die Groot Trek was God se wil net soos die trek van Israel uit Egipte na die beloofde land. Hy glo dat die ZAR as 'n onafhanklike staat deur God in sy voorsienigheid beskik is en jaloers versorg en bewaar moet word (Bergh 2017:27, 123-124). In dieselfde gees praat Anna M. Louw se Groot Gryse wanneer hy dit as sy strewe beskryf 'om die onafhanklikheid wat God ons so sigbaar geskenk het, te bewaar. God behoede volk en land' (Louw 1969:238).

Kruger trek in 1835 kort voor sy tiende lewensjaar saam met pa, Casper, oor die grens van die Kaapkolonie. Hoewel Casper die Kolonie agterlaat, doen hy steeds verslag van sy besittings aan die Koloniale owerheid en betaal hy sy belastings. Hy is 'n konserwatiewe 'Dopper' wat sy owerheid respekteer en hom gebonde ag aan wet en orde. Dit is ook Casper wat sy gesin na ongeveer 'n jaar in die Suid-Vrystaat by die trek van 'n 'Dopper' in ruimer sin, A.H. Potgieter, voeg. Potgieter trek nie net ter wille van weiveld vir sy vee nie, maar om weg te kom van die Britse Imperiale regering (Kruger 1961:13-14). Die jong Kruger beleef belangrike gebeurtenisse gedurende die Trek, word op 17-jarige leeftyd 'n assistant-veldkornet en in 1851, op 26 jarige leeftyd, 'n vol veldkornet. Hy moet sorg vir die handhawing van wet en orde - 'n saak waarin 'Doppers' glo. Die jong Paul Kruger is teenwoordig by die Sandrivierkonvensie van Januarie 1852 waar Brittanje die onafhanklikheid van Transvaal of die Overvaalse amptelik erken. Hier beleef hy 'n verwesenliking van die 'Dopperideaal' van gelowige Boere se staatkundige onafhanklikheid as 'n deel van God se verbondsvolk. Hierdie ideaal kom ooreen met dié van Potgieter en ander Voortrekkers wat los van 'n onsimpatieke Britse owerheid hulle eie sake wou reël (Kruger 1976:465).

Paul Kruger is - reeds voor die ontstaan van die GKSA in 1859 - 'n 'Dopper' gebore en getoë. D.W. Kruger wys daarop dat ouers destyds op hulle kinders die Calvinisme as 'n lewenshouding oorgedra het. Dit was 'n lewenshouding wat nie net 'n denksisteem was nie, maar groot 'nadruk' gelê het op die 'soewereine, uitverkiesende mag en genade van God'. Vanuit hierdie geloof het die 'Dopper' die Here as die Skepper en Onderhouer van hemel en aarde bely.11 Hieruit sou 'n lewens- en wêreldbeskouing ontwikkel wat op die Skrif sowel as die harde werklikheid van die lewe gebaseer is. Die 'Doppers' in ruimer sin het 'n behoudende invloed gehad op die samelewing. Hulle erken die staatsowerheid as deur God verordineer, maar steur hulle nie aan Britse koloniale politiek indien dit hulle met rus laat nie. Hulle godsdiens is nugter met min emosionele vertoon. Hulle is wantrouig en afkerig teen nuwighede in die gereformeerde leer en kerkpraktyk. Hulle vind in Israel van die Ou Testament 'n voorbeeld omdat dit met hulle eie lewe ooreenkom. Die Statebybel is hulle bron van geloof en alledaagse lewenswysheid. D.W. Kruger (1961:10-11) noem hierdie vertrekpunte die basis van Paul Kruger se lewens- en wêreldbeskouing

Hoe het Kruger vanuit sy geestelike en lewensbeskoulike lewe in die kern van sy menswees aan hierdie rigting as gemeenskapsleier - dit is politieke, militêre en geestelike leier - in die ZAR uiting gegee?

 

Kruger kyk na die lewe deur die bril van die Woord

Kort nadat die Krugers by die Potgietertrek aansluit, word daar 'n vergadering van Voortrekkers gehou - hulle word eers na 1870 die Voortrekkers genoem (Du Bruyn 1986:127) - om 'n 'soort regering' vir Trekkers in te stel. Potgieter word tot kommandant verkies. Die vergadering besluit ook op reëls waaraan die Trekkers hulle moet onderwerp. God se Woord geld as die hoogste wet of rigsnoer. Die jong Paul Kruger, hier nog 'n 'Dopper' in ruimer sin, val vanuit sy verstaan van die Skrif met oortuiging hierby in. Later, op 16 Desember 1896 by Paardekraal, herinner 'n bejaarde Kruger hom dat die Trekkers hier in die Vrystaat byeengeroep is om regeerders vir hulle te kies en 'geen kwaad' onder hulleself en die omringende 'swakker' swart stamme te verdra nie (Du Plessis sa:102). Kruger wys, tydens die besoek van 'n Transvaalse Driemanskap aan Amsterdam in 1884 en as 'n jong oor- en ooggetuie, beskuldigings teen die Boere af al sou hulle kwaaddoeners, rebelle en slawehandelaars wees (Du Plessis sa:111). Wesenlik gaan dit vir Kruger in hierdie sake om die beginsels van God se Woord vir hierdie gemeenskap in sy sosiale en regsverkeer - 'n saak waarvan Paul Kruger as 'Dopper' oortuig is. Die voorskrifte wat hieruit spruit, bevat oortuigings wat Kruger later weer verwoord: geen grond of besit mag met geweld van die swart mense wat hulle op die trek teenkom, gevat word nie en slawerny sal nie geduld word nie. Op 13 Junie 1838 word die gebied van die Bataunghoof, Makwana, tussen die Vet- en Vaalrivier deur Potgieter vir beeste geruil (Bredell & Grobler 1947:3; Muller 1978:10). In 1891 bevestig Kruger opnuut dat die ZAR slawerny nie sal duld nie (Du Plessis sa:93). Dit is duidelik dat hy met 'n standpunt deurdruk indien hy daarvan hy oortuig is.

In antwoord op rekwisisies dat hy hom in 1883 as die staatspresident van die ZAR verkiesbaar stel, herhaal Paul Kruger in 1882 dat God se Woord ook in staatsake die rigsnoer moet wees. Aspekte van sy planne as president getuig van 'n 'Dopper' en Calvinis waarop sy oortuigings gegrond is, maar wat ook poog om die ZAR op grond van die Skrif te ontwikkel, te moderniseer en goeie verhoudings met ander state in die omgewing aan te knoop - 'n modernisering en bou van gesonde verhoudings wat 'n konsekwensie van sy lewensbeskouing of grondoortuigings soos gefundeer op Genesis 1:28 en ander Skrifgedeeltes is. Kruger stel die volgende in die vooruitsig: die ontwikkeling van die landbou en hulpbronne van die ZAR; bronne vir 'n 'nasionale nywerheid'; 'n spoorwegverbinding met 'n seehawe (Bergh 2017:54); die beperking van immigrasie tot Nederlanders omdat hulle nie 'n gevaar vir die 'Boere-identiteit' is nie - 'n 'Dopper' is verantwoord pro-Boer en anti-Engels; vriendskap met Engeland wat die ZAR in 1877 sonder die toestemming van die burgery annekseer; diplomatieke bande deur 'n nouer aansluiting by ander state in Suider-Afrika; regeringsgesag oor die gekleurdes in die Republiek; vriendskaplike bande met wetsgehoorsame inheemse groepe wat in die gebiede aan hulle toegewys, bly; 'n uitbreiding van die volkslewe onder die gesag van die Bybel of Evangelie (Calvyn se soli Deo Gloria); en klem op Christelike onderwys aan die jeug (Bredell & Grobler 1947:89).

Kruger is daarvan oortuig dat die onafhanklikheid van die ZAR 'n geskenk van God is wat alles beheer. Die Statevertaling lê klem op die voorsienigheid van God. In 1893 verklaar Kruger:

ek sal 'n vloek op my haal indien ons onafhanklikheid deur my geskend word aangesien God ons so sigbaar gelei het dat die blindste heiden en mees ongelowige skepsel moes erken dat dit Gods hand was wat aan ons ons onafhanklikheid geskenk het. (Du Plessis sa:49, [Du Plessis se vertaling in Afrikaans])

Met die gereformeerde belydenis dat God-Drieënig oor alles beskik, verklaar Kruger vanuit sy opregte 'Dopperse' geloof by die aanvaarding van die presidentsamp in 1898 dat hy dit doen in die 'vrese Gods'. Dit is die wens van sy hart om vir God te lewe en die Boere volgens die wil van God te regeer. Met hierdie vertrekpunt beoog hy die welsyn van sy volk, ekonomiese vooruitgang en die onafhanklikheid van die ZAR (Du Plessis s.a.:56). Om die Boere volgens God se wil te regeer, impliseer dat hy die meerderheidstem van die volk - waarin hy ook die stem van God hoor (Kruger noem dit die Koningstem) - eerbiedig wat sekere wette aanvaar wat gehoorsaam moet word. God alleen kan hierdie wette afkeur en Moses is 'n voorbeeld. Moses het die wet van God afgegee, maar kon self nie daarvan afwyk nie (Du Plessis s.a.:66).

F. Postma toon dat Kruger in sy toesprake dikwels van Moses melding maak. Dit lyk asof hierdie Ou-Testamentiese figuur sterk tot Kruger spreek (Du Plessis sa:135). Hiermee borduur Paul Kruger op sy 'Dopperse' benadering voort op dit wat Oud-Israel en die Afrikaner aan mekaar verbind en dat hulle as verbondsvolke van God beskou word.

Gebaseer op Kruger se liefde vir Ou-Testamentiese voorbeelde vir die Boer van sy tyd, praat hy met 'n kapelaan op Newcastle na die Eerste Vryheidsoorlog teen Brittanje wat op 27 Februarie 1881 met die Slag van Majuba (Bakkes 1980:176) eindig. Vir die kapelaan is dit 'n raaisel hoe die Boere binne 'n week sonder telegraaf of spoorlyn sekere dorpe in die ZAR kon bereik, beset en afsny van die buitewêreld. Vir Kruger met sy geloof in die voorsienige, beskikkende Verbondsgod was dit egter die werk van 'ons groot Generaal, Jesus Christus'. Die kapelaan erken dat hierdie geskiedenis 'is tot onder Israel niet te lesen' (Du Plessis sa:106). In 'n telegram van Kruger op 20 Junie 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog aan sy krygsoffisiere, vermaan hy hulle om na die Britse suksesse tot op daardie stadium en die Britse inname van Pretoria op 5 Junie 1900 (Pakenham 1981:452-453) nie te wankel en in ongeloof te verval nie. 'Dit is die tyd waarin God se volk [tipies Ou-Testamenties] gelouter word' (Bredell & Grobler 1947:231). Tydens Geloftefeeste by Paardekraal in 1891 en 1896 laat Paul Kruger Psalm 25:2 sing voordat hy die aanwesiges toespreek. Samevattend draai alles om Kruger se geloof in die Bybel soos ook verwoord in die berymde Psalms as gids vir die lewe. Wat verder vir Kruger belangrik is (Bergh 2017:204), is die tien gebooie van die Here soos in Eksodus 20 en Deuteronomium 5 verwoord:

Heer, ai, maakt mij Uwe wegen

Door uw Woord en Geest bekend;

Leer mij, hoe die zijn gelegen, en waarheen Gij Uw treden wendt.

Lijdt mij in Uw waarheid, leer

Ijverig mij Uw wet betrachten;

Want gij zijdt mijn heil, o Heer

'k Blijf U al den dag verwachten. (Du Plessis s.a.:90,99)

Op 16 Desember 1886 laat hy Psalm 116 by Paardekraal sing en bou hy sy toespraak op die bewoording van hierdie Psalm (Bergh 2017:98-99).

 

Paul Kruger die 'Dopper' en staatshoof

As staatshoof streef Kruger deur talle voorbeelde na die verwesenliking van die 'ewige beginsels van Gods Woord' op staatkundige terrein.

Daar is reeds gewys op Kruger se sensitiwiteit dat die swart inwoners van die ZAR teen hulle agtergrond regverdig behandel moet word. Voor die Transvaalse Kommissie vir Swart Arbeid stel Paul Kruger in 1871 voor dat swart mense hulle eie werkgewers moet kies; dat swart mense wat aan militêre veldtogte deelneem, 'n deel van die buit moet ontvang; en dat swart mense ook die reg moet hê om vir hulle iets in die buiteland te verdien (Bergh 2017:10). In 1883 sê Kruger in London voor die Anti-slawernygenootskap en die Genootskap vir die Beskerming van Inboorlinge namens die Transvaalse Boere dat daar in Brittanje ongeregverdigde kritiek op die ZAR se hantering van swart mense voorkom. Hy verwerp dit en weet dat Europeërs - hy noem lande by die naam - in die verlede met onmenslike barbaarsheid en wreedaardighede teenoor gekleurde mense in ander wêrelddele opgetree het, en daarmee 'n 'vernederende bladsy' in die geskiedenis van die mensdom en Christennasies geskryf het (Bergh 2017:57). In antwoord op sy benoeming as president, visualiseer Kruger dat daar aan elke swart stam van betekenis 'n woonplek gegee word onder die beskerming van die ZAR (Du Plessis s.a.:28). Die volgende jaar sê Kruger aan sy Volksraad dat die swart mense in Transvaal ook onder reëls moet lewe, maar dat dit van so 'n aard moet wees dat die beskaafde wêreld beskaafd optree (Bergh 2017:83). In 1884 ontken Kruger in Amsterdam dat die Boere slawerny beoefen (Du Plessis s.a.:111). Hy plaas kaptein Montshiwa en Moshwete en hulle volgelinge met hulle toestemming onder die beskerming van die ZAR (Bergh 2017:89). Kruger is nie ten gunste van die gelykstellling en totale integrasie van die swart en wit mense in die ZAR nie, maar dat die Republiek hulle menslik en regverdig - in konteks - behandel en beskerm.

Aan die einde van 1888 verklaar Paul Kruger op Middelburg dat daar ongeveer 800 000 swart mense en 100 000 wit mense in die ZAR woon. Om te verhoed dat die swart mense die wit mense uitwerk, word daar woonplek aan swart kapteins en hulle volgelinge gegee. Hulle kan dit aanvaar of trek. Daarby is daar 'n plakkerswet met reëlings vir die beheer van die swart bevolking wat 'besmettelijke ziekten' aan bande wil lê (Bergh 2017:141). Kruger gee tussen die lyne hier te kenne dat die ZAR in die toekoms 'n probleem sal ondervind. Sy aanduiding van die getalle en reëlings van die ZAR vir die verblyf van die swart mense, bevestig hierdie waarneming. Spesiale reëlings word vir hierdie mense getref. Paul Kruger is 'n nugtere 'Dopper' wat die probleme van verskillende volke in Afrika vroeg raaksien. Hy probeer pro-aktief optree. Sy lewensbeskouing is egter nie dié van 'n humanis wat mense, net omdat hulle ménse is in terme van individuele burgerregte en algemeen-demokratiese beginsels, gelykstel nie. Vir hom is gelykheid en algemene stemreg nie 'n towerformule vir die oplossing van bevolkingsprobleme nie.12 Daarby moet die gekose maatreëls vir reg en geregtigheid die regte middel vir en in die situasie wees (Bergh 2017:10, 118).

Kruger as 'Dopper' neem in die 1870's sterk standpunt in teen ds. Thomas Francois Burgers wat op 1 Julie 1872 as staatspresident van die ZAR ingesweer word. Burgers wat vermoedelik as 'n geleerde sterker teen Brittanje kan optree - dit is die aanvanklike gevoel van die meerderheid burgers - wen die verkiesing teen William Robinson. In sy leer en lewensbeskouing is Burgers egter liberaal-modernisties in die kerklike sin van die woord. Hierdie houding sowel as sy mislukte veldtog teen opperhoof Sekhukune in 1876, vervreem hom van baie burgers. Burgers glo dat alles in die Bybel nie God se Woord is nie en dat die meeste Bybelverhale onwaarskynlik is. Hy betwyfel Jesus se sondeloosheid, fisiese opstanding en die idee van 'n ewige straf. Die mens is, volgens hom, sedelik goed gebore met 'n gesonde insig, rede en gewete. Hy loën die gereformeerde radikaliteit van die sondeval soos in die Heidelbergse Kategismus verwoord. Vir hom is godsdiens 'n lewensbeginsel waaroor die mens self besluit. Die mens word nie deur God-Drieënig gered nie. Burgers preek nie oor sonde, verlossing en bekering nie (Van Jaarsveld 1976:138-139). Hiermee staan hy teenoor Kruger wat vanuit dieselfde Kategismus drie groot sake bely om getroos te lewe en te sterwe: hoe groot my sonde en ellende is (die radikaliteit van die sonde wat my geestelik doof- en doodmaak vir God se Woord), hoe ek daarvan (van buite myself) verlos kan word en hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees (NG Kerk-Uitgewers 1982:39). Saam met ds F.L. Cachet van Utrecht werk Kommandant-generaal Paul Kruger teen Burgers tydens sy verkiesing. Laasgenoemde se geloof en benadering van die lewe staan lynreg teenoor die oortuigings van die 'Doppergeneraal' (Kruger 1976:467). Na sy inswering spreek Kruger openlik die hoop uit dat Burgers 'gelowiger' is as wat Kruger dink. Hy vertel Burgers dat hy in die verkiesing teen hom gewerk het (Bredell & Grobler 1947:56-58).

In 1883 sê Kruger aan Cachet dat Cachet Kruger se gevoelens teenoor die moderniste ken. 'n Liberale modernis sal nie met die steun van die Regering na die ZAR kom nie. Die Boere wil nie deur 'n modernis of liberalis regeer word nie. So iemand sal tweedrag saai en die ZAR laat ly (Bergh 2017:34-35). Burgers se uitmergelende voorbeeld is pas agter die rug.

Teenoor predikante verklaar Kruger in 1898 dat, solank kerk en staat elkeen binne hulle eie werkkring bly, daar 'n gesonde samewerking sal wees en die Heilige Gees en seën van God daarop sal rus. Met sy sluimerende sinspeling op die soewereiniteit in eie kring van kerk en staat, praat Kruger Kuyper na (Kuyper 1930:3). Teen sy Calvinisties-gereformeerde agtergrond is so iets vir die skerpsinnige Kruger nie 'n vreemde of onmoontlike saak nie. Die aardse 'regter' (politikus) wat die interne bestuur van die kerk 'aantas', is volgens hom met die gees van die Antichris besiel omdat hy Christus as die Hoof van die kerk probeer vervang. Die duiwel beskou dit as sy reg om die godsdiens te kaap en te vernietig. Paul Kruger praat vanuit die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 36 wanneer hy aanvoer dat God die ZAR as 'n Christelike staat beskik het om die kerk van buite te beskerm (Bergh 2017:40; Bredell & Grobler 1947:205-206). Hy probeer wel - dit val egter buite sy bestek as staatspresident - om as vader van sy volk die hereniging tussen die NGK en NHK in 1891 te fasiliteer sonder om as staatshoof kant te kies. Die hereniging misluk egter (Bergh 2017:213; Bredell & Grobler 1947:112).

Kruger het geen begeerte dat die GKSA die NHK as die staatskerk van die ZAR (vgl Bredell & Grobler 1947:39; Cachet 1866:24-25) moet vervang nie. Hy gebruik die, vir hom, vreemde argument dat die gesag van God (kerk) en van die wêreld (staat) nie in dieselfde hande moet wees nie, want dan word Christus as die Hoof van die kerk uitgeskakel. Hierdie argument is moeilik verteerbaar omdat Kruger as 'n Calvinis en 'Dopper' glo dat die 'ewige beginsels van Gods Woord' ook vir die staatsowerheid geld; dat die soewereine gesag in kerk en staat albei God is (Du Plessis s.a.:128; vgl Rom 13). Dit is 'n norm wat beteken dat die Here God in kerk en staat regeer en gehoorsaam moet word (Louw 1969:95).

 

Paul Kruger 'n veelsydige 'Dopper'

Die onemosionele en konserwatiewe aard van 'Dopperwees' kan die indruk laat dat hierdie eienskap 'n demper geplaas het op die persoonsaard en mensvaardighede van Paul Kruger. Die naam Dopper word deur sommige van die begrip demper afgelei (Bredell & Grobler 1947:39, voetnoot 1; Spoelstra 1963:16-19). Daar is egter nie sekerheid oor die presiese herkoms van die naam Dopper nie. Uit 'n relaas van optredes en belewenisse van Kruger as staatshoof en geestelike leier, lyk dit egter asof dit hom nie aan persoonlike inisiatief, uitwaartse leierskap en kontak met mense ontbreek het nie. Daar is reeds gewys op Kruger se vermoë om homself te verwoord en skares met toesprake te boei. Hoewel hy as 'n 'Dopper' deurlopend Skrifgeoriënteerd wou optree en as 'n leier gewoonlik daar was waar die dinge gebeur, was hy by geleentheid ook die diplomaat wat katastrofes - vir Boere - met lewensinsig en takvolheid voorkom het. In hierdie opsig staan twee geleenthede uit in die konflik tussen Boer en Brit waarby Kruger betrokke was uit.

Teen die einde van die mislukte Jameson-inval in die ZAR in Januarie 1896, deel Kruger die inwoners van Johannesburg in 'n staatsproklamasie mee dat hy ''n klein aantal listige manne binne en buite Johannesburg aanpreeklik hou vir die sameswering' wat, syns insiens, groot onheil sou kon bring. Hy weier om die uitlanders as groep vir die inval verantwoordelik te hou. Hy belowe die Goudstad 'n munisipaliteit en doen 'n beroep op die inwoners om dit vir die regering van die ZAR moontlik te maak om voor die Volksraad te verskyn met die leuse van vergewe en vergeet. Kruger reageer redelik teenoor die inwoners met die oog op beter verhoudings in die toekoms. Die vier subleiers van die inval word elkeen met £25 000 beboet - na die doodstrafvonnis deur die hoërhof in Pretoria wat deur die Uitvoerende Raad van die ZAR na 'n boete versag word - en Jameson en sy direkte medepligtiges aan die Britse Regering uitgelewer sodat die Britte hulle volgens eie wette en as teken van hulle volkeregtelike afkeer van 'n strooptog kon straf. Na 'n kort gevangeskap laat die Britte hulle egter vry. As die enigste blyk van dankbaarheid vir sy 'grootmoedige daad' word Kruger per brief deur Minister Joseph Chamberlain uit London gekontak. Die Britte met hulle skaars verborge simpatie vir Jameson vind die verloop van sake ongemaklik, want die morele oorwinning soos deur 'n beskaafde volkeregtelike bril bekyk, is dié van Kruger. Van die Duitse keiser kry die president van die ZAR 'n telegram van gelukwensing vir sy optrede (Bredell & Grobler 1947:128-132).

Na De la Rey se oorwinning oor die Britte by Tweebosch op 07 Maart 1902, 'n geveg waarin 200 Britte sneuwel, 600 gevang en hulle bevelvoerder, Lord Methuen, gewond én gevang word, spreek Kruger dit as sy wens uit dat De la Rey die Britse aanvoerder vir mediese behandeling vrylaat 'want ons Boere moet ons tot die end soos Christene gedra, hoe onbeskaafd die Engelse ons ook al mag behandel'. De la Rey stel sy president nie teleur nie. Methuen wysig daarna sy ongenaakbare houding teenoor die Boere (Meintjes 1976:181). Kruger sou die verloop van hierdie oorlog aan die Here wat beskik, oorlaat. Toe hy in Switserland op 31 Mei 1902 van die vredesluiting hoor, praat hy waarderend oor die Boereleiers: ' hulle was na vermoë, ek betuig dit, ja, bo vermoë gewillig' (Bredell & Grobler 1947:184). Die selfverbanne bejaarde 'Dopper' is steeds die gesagvolle vader van sy volk.

In 1884 lê die 'Dopperpresident' as 'n Boereleier by die Duitse kanselier, Otto von Bismarck, besoek af. Hy beïndruk die Duitser en verstewig die bande tussen die ZAR en Duitsland (Bergh 2017:73). Na die Jameson-inval van 1895 - 1896, merk D.W. Kruger (1976:472) op dat Paul Kruger se posisie in die ZAR 'stewiger' as 'ooit tevore' en sy gesag feitlik onaantasbaar is.

Kruger se veelsydigheid blyk ook uit die feit dat hy as 'n Dordtse Kerkorde artikel 8-predikant gereeld in die GKSA preek (Louw 1969:172). Hy doen dit omdat sy kerk oortuig is dat hy met 'singuliere' gawes sonder opleiding daartoe in staat is - 'n situasie wat deur hierdie Kerkorde, sy sterk persoon, deeglike Skrifkennis en die integrering van die Bybel met daaglikse gebeure moontlik gemaak word (De Gier 1989:59-60; Kruger et al. 1966:78-79).

 

'n Doppermoraal in Transvaal

'n Kommentator voel dat die gereformeerde of 'Dopperklem' op leersuiwerheid en 'nougesetheid' in lewensgedrag tot 'n gebrek aan egtheid en valse nederigheid kan lei. Sy opmerkings ontbreek egter aan verwysings en word onder die tema van die swak punte van gereformeerd-wees deur die redaksie in die ensiklopedie waarin dit staan, geplaas (Fourie 2008:382). Daar is op Kruger se egtheid voor God in sy 'Dopperwees', soos waargeneem deur 'nie-Doppers', gewys. Gemeet aan 'n evaluering van hom as persoon, is dit ondenkbaar dat Paul Kruger oor God se 'ewige beginsels' vir die lewe sou veins. Hierdie oortuiging het hom gemotiveer. Daar is ook geen aanduiding dat hy die kwessie van 'n valse voorgee van houdings nodig gevind het nie.

Dit is bekend dat Paul Kruger nooit sterk drank gebruik het nie (Bredell & Grobler 1947:20). In 1885 verklaar hy dat daar niemand met 'n groter haat teen die gebruik van sterk drank as hy kan wees nie. Vir hom is dit 'n gruwel. As die ZAR 'n wet daarteen aanvaar, loop hy egter gevaar om 'n reputasie vir die oormatige gebruik van sterk drank te ontwikkel (Bergh 2017:95).

Op 13 Desember 1881 tydens die fees by Paardekraal verset Paul Kruger hom teen dobbelary as een van die 'vermakelijkheden'. As dit toegelaat word, 'zullen de stenen tegen ons getuigen'. Wat vandag vir 'n Christen verkeerd is, is môre ook verkeerd (Bergh 2017:27). Op dieselfde feesterrein herhaal Kruger in 1886 sy stellings oor dobbel. Terselfdertyd wys hy perdewedrenne waarby geld betrokke is af. So iets beteken 'n mishandeling van die diere. Die groot goudstroom in die ZAR sedert die ontdekking van goud aan die Rand in 1886, lei tot afgodery en wêreldse genot (Bergh 2017:105).

Voor die Volksraad verklaar Kruger hom in 1886 ten gunste van gekwalifiseerde persvryheid. Volgens hom moet mense die reg hê om vryheid van spraak te hê: vry te voel om hulle opinie te lug en vry te wees om van ander en die Volksraad te verskil. Die vryheid van die pers moet egter nie aan mense die ruimte gee om oproer te wek, met valse, leuenagtige en bedrieglike voorstellings op die staatsowerheid te skel, en aan ander mense deur beriggewing 'n afsku van die ZAR te gee nie (Bergh 2017:107).

Paul Kruger is as 'n konsekwente 'Dopper' deurgaans 'n voorstander van skole met 'n Christelike leer en 'n Christelike gees. Dit is 'n saak wat in die skolewet van die ZAR opgeneem word. Daarby gaan dit vir hom in die Republiek om Nederlands as onderrigmedium. Die ZAR is immers 'n Hollands-Afrikaanse Republiek (Bergh 2017:171). In 1890 beklemtoon hy dit op Christiana dat gesubsidieerde skole in die ZAR die Christelike leer of vakkennis in 'n Christelike gees moet onderrig (Bergh 2017:181). As Kruger met Abraham Kuyper en ander Nederlanders oor die instelling van 'n Christelike universiteit in die ZAR korrespondeer, oordeel hy dat hulle by 'n regsdosent moet begin wat ook 'n kind van God moet wees (Bergh 2017:160).

Met die ontwikkeling van regskennis in die ZAR en sy regstelsel in gedagte, dank Kruger in 1898 vir hoofregter Kotzé af. Kotzé was daarvan oortuig dat die Hooggeregshof 'n wet van die Volksraad aan die grondwet kon toets en nietig kon verklaar. Sy mening het egter gebots met Kruger se opvatting van die volksstem wat met die gesag van God as die Koningstem praat. Sover dit Kruger aangaan, moes die regbank die wette van die Volksraad toepas en nie hulle wettigheid soos aan die grondwet gemeet, beoordeel nie (Bredell & Grobler 1947:140).

 

Die erfenis van Paul Kruger

Soos met sy Christelike skole en universiteite, geregtigheid aan almal in die ZAR in hulle konteks, die selfstandigheid van kerk en staat teenoor mekaar, weersin in dobbelary en perdewedrenne met geld vir die wenners, gekwalifiseerde persvryheid en die soewereiniteit van die volk (of parlement) teenoor die regbank terwyl die volk God gehoorsaam, lê die 'Dopperpresident' van die negentiende eeu staatswette neer waarvan sommige na 1961 nog in die nuwe Republiek van Suid-Afrika weerklink (Van Schoor & Van Rooyen 1960:122-146, 204-244).

Ten spyte van sy kort skoolopleiding sou Paul Kruger met sy 'Dopper lewens- en wêreldbeskouing' hom deeglik as staatshoof van die ZAR van 1883 tot 1900 laat geld. Sy gereformeerde lewensoortuigings sou hierin sentraal staan. Hy sou hierdie geloof en die lewensbeskouing wat daaruit spruit met 'n skerp insig in sy leefomgewing paar.

Paul Kruger was 'n 'Dopper', 'n buitengewone staatspresident van die ZAR en 'n uitstaande simbool van die republikeinse Afrikaner van die negentiende eeu. Hy was 'n 'Dopperpresident' wat bewondering by sy eie mense en wrewel by sy vyande gewek het.

Uit 'n Christelik-historiese oogpunt bly die kern van sy laaste boodskap belangrik: 'Zoekt in het verledene al het goede en schoone dat daarin te ontdekken valt, vormt daarnaar uw ideaal en beproeft voot de toekomst dat ideaal te verwezenlijken' (Bredell & Grobler 1947:239).

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

P.S. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorweging

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Die deel van data is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

 

References

Bakkes, C.M., 1980, 'Die slag van Majuba, 27 Februarie 1881', in F.A. van Jaarsveld, A.P.J. van Rensburg & W.A. Stals (reds.), Die Eerste Vryheidsoorlog, pp. 176-197, HAUM, Kaapstad.         [ Links ]

Bavinck, H. 1967, Gereformeerde Dogmatiek, IV, Kok, Kampen.         [ Links ]

Bergh, J.S., 2017, Paul Kruger toesprake en korrespondensie van 1881-1900, Protea Boekhuis, Pretoria.         [ Links ]

Bingle, P.W., 2008, 'Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO)', in F. Gaum (red.), Christelike kernensiklopedie, p. 891, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Botha, W.J., 2008a, 'Murray, Andrew (sr)', in F. Gaum (red.), Christelike kernensiklopedie, p. 765, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Botha, W.J., 2008b, 'Statebybel', in F. Gaum (red.), Christelike kernensiklopedie, p. 1043, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Bredell, H.C. & Grobler, P., 1947, Gedenkskrifte van Paul Kruger, Van Schaik, Pretoria.         [ Links ]

Cachet, F.L., 1866, Verslag der handelingen van de gemeente Utrecht, in de zaak der voorgestelde vereeniging dier gemeente met de dusgenoemde 'Hervormde gemeenten' in de Republiek, Davis & Zoon, Pietermaritzburg.         [ Links ]

De Gier, K., 1989, De Dordtse kerkorde - een practische verklaring, Den Hertog, Bouten.         [ Links ]

De Jong, O.J., 1987, Geschiedenis der kerk, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Du Bruyn, J.T., 1986, 'Die Groot Trek', in T. Cameron (red.), Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld, pp. 127-139, Human & Rousseau, Kaapstad.         [ Links ]

Du Plessis, J.S., s.a., President Kruger aan die woord: Verkiesingsmanifeste, intreeredes en toesprake van President S.J.P. Kruger, Sacum, Bloemfontein.         [ Links ]

Fourie, P.J.A., 2008, 'Gereformeerd - swak punte', in F. Gaum (red.), Christelike kernensi-klopedie, p. 382, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Giliomee, H., 2003, The Afrikaners, biography of a people, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Kapp, P.H., 2008, 'Kruger, Stephanus Johannes Paulus (Paul)', in F. Gaum (red.), Christelike kernensiklopedie, pp. 629-630.         [ Links ]

Kruger, D.W., 1961, Paul Kruger I (1825-1883), Dagbreek, Johannesburg.         [ Links ]

Kruger, D.W., 1976, 'Kruger, Stephanus Johannes Paulus', in W.J. de Kock (red.), Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, pp. 464-465, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Kruger, L.S., Du Plessis, H.L.M., Spoelstra, B. & Spoelstra, T.T., 1966, Handleiding by die kerkorde, Pro Rege, Potchefstroom.         [ Links ]

Kuyper, A., 1930, Souvereiniteit in eigen kring, Kok, Kampen.         [ Links ]

Louw, A.M., 1969, Die groot gryse, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Meintjes, J., 1976, Die Anglo-Boereoorlog 1899-1902, Struik, Kaapstad.         [ Links ]

Muller, C.F.J., 1978, Die Groot Trek in Beeld, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

NGK, 2002, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n., s.l.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers, 1982, Ons glo Die Drie Formuliere van Eenheid en Ekumeniese belydenisse, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Pakenham, T., 1981, Die Boere-Oorlog, Jonathan Ball, Johannesburg.         [ Links ]

Scott, L., 1980, 'Boereweerstand teen gedwonge Britse bestuur in Transvaal', in F.A. van Jaarsveld, A.P.J. van Rensburg & W.A. Stals (eds.), Die Eerste Vryheidsoorlog 1880-1881, pp. 1-102, HAUM, Pretoria.         [ Links ]

Spoelstra, B., 1963, Die 'Doppers' in Suid-Afrika 1760-1899, Nasionale Boekhandel, Kaapstad.         [ Links ]

Spoelstra, B., 1989, Gereformeerde kerkreg en kerkregering, Hammanskraal Teologiese Skool, Hammanskraal.         [ Links ]

Spoelstra, C., 1915, Het Kerkelijk en godsdienstig leven der Boeren na den Grooten Trek, Kok, Kampen.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1994, Geloftedag in die nuwe Suid-Afrika, Druforma, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, SunMedia, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2017, Resensie van Bergh, J.S., Paul Kruger toesprake en korrespondensie 1881-1900, pp. 103-106, Protea Boekhuis, Pretoria.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2019, Die Bome roep, die klowe roep, s.n., s.l.         [ Links ]

Van Jaarsveld, F.A., 1976, 'Thomas Francois Burgers', in W.J. de Kock (red.), in Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek I, pp. 138-142, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. & Van Rooyen, J.J., 1960, Republieke en republikeine, Nasionale Boekhandel, Kaapstad.         [ Links ]

Venter, C., 2008, 'Potgieter, Andries Hendrik', in F. Gaum (red.), Christelike kernensiklopedie, p. 892, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Vorster, J.M., 2008, 'Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika', in F. Gaum (red.), Christelike kernensiklopedie, p. 283, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Wessels, F.J.H., 1977, 'Ongeloof en wêreldgebeure', in D.F.M. Strauss, H.J.S. Stone, J.C. Lombard & J.M. Gerber (eds.), Woord en wetenskap, pp. 202-211, VCHO, Bloemfontein.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Piet Strauss
straussp@ufs.ac.za

Received: 25 Nov. 2019
Accepted: 09 Mar. 2020
Published: 01 June 2020

 

 

1 . Hierdie bron is 'n biblioteek en woordelikse gekontroleerde Afrikaanse weergawe van Kruger se toesprake en korrespondensie van 1881-1900. Ons kon dus met vrug van Kruger se verwoording van temas gebruik maak.
2 . Kruger is hier in Afrikaans self aan die woord. Uit hierdie bron kan 'n gesagvolle beeld van Kruger se denke oor die sake soos behandel, opgebou word. Sy biograaf, D.W. Kruger, noem Paul Kruger 'n leier sonder weerga. Uit historiese geskrifte kom die beeld van 'n man, broos en menslik, maar tegelykertyd groot en 'met die vlam van onverganklikheid in die hart' (Kruger 1961:xvi).
3 . Reeds in 1888 praat Kruger van die ideaal van 'n onafhanklike, verenigde Suid-Afrika (Bergh 2017:126).
4 . In sy toesprake by verskeie openbare en kulturele geleenthede put Kruger uit die Bybel en die geskiedenis as, syns insiens, die rigsnoere vir die Afrikaner (Kruger 1961:264, 270, 272; Du Plessis s.a.:13, 21, 36, 64, 90, 99). Dat Paul Kruger vir die begronding van sy lewenshouding die geskiedenis en God se geïnterpreteerde leiding in die geskiedenis van die Afrikaner as 'n norm - naas die Bybel - gebruik het, kompliseer sy optrede. 'n Mens sou liewer wou sien dat die Bybel sonder meer ook die maatstaf is vir dit in die geskiedenis wat as rigsnoer dien. Die Bybel moet vir 'dit wat goed is in die geskiedenis' - soos Kruger dit aan die einde van sy lewe in Clarens in Switserland stel - as 'n bril gebruik word. Op hierdie lyn van argumentering voer Du Plessis in sy evaluering van die president se houding oor die lewe egter aan dat Paul Kruger 'in alle opsigte gesteun het op wat sy Bybel - die Statebybel - hom geleer het'. Volgens Du Plessis blyk dit uit feitlik al sy geskrifte en toesprake. Vir 'feitlik elke saak waarmee hy te doen gehad het, het hy tekste uit die Heilige Skrif aangehaal
' (Du Plessis sa:125). Natuurlik sal moderne Doppereksegese van die Ou- en Nuwe-Testamentiese teks van die fundamentalisme of uitleg op die klank af van Kruger verskil. Tog gebruik Kruger hiermee 'n legitieme gereformeerde vertrekpunt dat die Bybel as die belangrikste lewensnorm of die norm van die norme iets oor alles te sê het. Anders gestel: dat die Bybel as lewensnorm nie alles oor alles sê nie, maar iets oor alles. Kruger se identifisering van die Groot Trek van die Afrikaners met die Exodus van Israel uit Egipte moet krities bekyk word omdat die Afrikaner en Israel nie identies is nie. Dit is egter ook so dat elke lid van die Wenkommando wat die Gelofte van 1838 in 'n gebed aan die Here afgelê het, 'n belydende gelowige was en uit die genadeverbond van God kon lewe. Daarom was die riglyne van die Ou Testament vir die lewe van Israel, ook vir hulle in die binneland van Suid-Afrika met die Groot Trek en daarna sowel as vir Kruger en sy mense relevant.
5 . Dit gaan by Kruger ook om liberaal-demokratiese of humanistiese denke in sy beskouing van die staat wanneer hy in die stem van die volk meen om die koningstem te hoor en dit koppel aan die stem van God. Kruger regverdig hierdie aanname met die stelling dat die volk die gids van Gods Woord vir hulle besluitneming het en daarvoor onder sy gesag staan (Du Plessis s.a.:12, 148; Kruger 1961:270-272; Van Schoor en Van Rooyen 1960:128). Dit is egter ook so dat nie elke volksmeerderheid noodwendig Skriftuurlik of op die Bybel gebaseer is nie. Die stem van die meerderheid Afrikaners is nie altyd die gesagvolle stem van die Koning (met 'n hoofletter) nie. In die gereformeerde kerkreg word die besluite van kerkvergaderings as bybels en reg of gesagvol beskou, tensy dit as teenstrydig met die Woord aangetoon word (Strauss 2010:30-31).
6 . Die benaming Afrikaner vind sy oorsprong reeds in die agtiende eeu voor die Groot Trek (Giliomee 2003:22-23).
7 . Die Dordts-gereformeerde Cachet gee 'met genoeë' aan die Dopper, Paul Kruger, 'n preekbeurt in Utrecht omdat laasgenoemde, wat die GKSA betref, voldoen aan die Dordtse Kerkorde, artikel 8 wat dit moontlik maak vir kandidate met 'singuliere' gawes om sonder opleiding in die Gereformeerde Kerk as predikant op te tree (Kruger et al. 1966:78; Spoelstra 1989:72-77).
8 . Scott (1980:23) wys daarop dat 6591 van 8000 stemgeregtigdigde burgers in die ZAR in 1878 teen die Britse anneksasie van 12 April 1877 stem. Gemeet aan hulle kerklidmaatskap was die kerklike 'Doppers' onder hierdie stemmers na alle waarskynlik 'n kleine minderheid. Immers, getallegewys was die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en Nederduitse Hervormde Kerk (NHK) in die ZAR voortdurend ver in die meerderheid.
9 . Gereformeerd beskou staan belydenisskrifte diep of laag onder die Bybel, onderworpe aan die konstantes van die Bybel (Bavinck 1967:402).
10 . In 1871 verklaar kommandant-generaal Paul Kruger voor 'n ZAR-kommissie dat die regering van die Republiek effektiewe beheer oor swart mense moet handhaaf. Alle onderdane van die staat moet egter regverdig behandel word en swart mense moet ook tyd kan maak vir hulle gesinne en iets 'in die buiteland' kan verdien (Bergh 2017:10). Voor die presidentsverkiesing van die ZAR in 1898 sê Kruger dat die ewige beginsels van God se Woord meebring dat die leuse reg en geregtigheid vir almal tot grondslag van ons staatsgebou moet wees (Du Plessis s.a.:36). Hieruit is dit ook duidelik dat Kruger op daardie stadium nie gelykheid met geregtigheid gelykstel nie. Sy voorbeelde van geregtigheid is nie vir almal en in alle gevalle dieselfde nie.
11 . Let op die 'Dopper' in ruimer sin, Sarel Cilliers, se openingsin van die Voortrekkergelofte van Desember 1838: 'Mijne broeders en mede-landgenoten, hier staan wij thans
voor een Heilige God van hemel en aarde ' (Strauss 1994:19).
12 . In 2002 verklaar die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in dieselfde trant dat die konsep van menseregte nie alle politieke probleme oplos of 'n politieke heilsleer is nie, NGK 2002:572.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License