SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número1Disillusionment and the dilemma of 'the Democratic Type': From Plato (Athenian populism), to Helen Zille (constitutional democracy), Cyril Ramaphosa (cooperative democracy) and Jesus Christ (compassionate democracy)Is replacement theology anti-Semitic? índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.54 no.1 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v54i1.2529 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk se afskeid van apartheid: Cottesloe (1960) - 'n voorloper van 'Kerk en samelewing' (1986; 1990)?

 

 

Piet J. Strauss

Department of Historical and Constructive Theology, Faculty of Theology, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

Some church historians are of the opinion that the Cottesloe Consultation of 1960 rejected apartheid and, by doing so, paved the way for the General Synods of the Dutch Reformed Church (DRC) of 1986 and 1990 with their documents, 'Church and Society', to do the same. This article investigates this statement. In its final declaration, Cottesloe made room for representatives of the DRC who believed that a policy of differentiation in South Africa can achieve justice. However, Cottesloe and these representatives also critised some aspects of the implementation of apartheid in South Africa in 1960. According to delegates of the DRC, they wanted to warn the supporters of apartheid: there is a danger that apartheid will not reach its goals. 'Church and Society' (1986 and 1990) rejected the concrete policy of the apartheid of its time as a whole. It defined the practical apartheid it rejects. In 1982, the World Alliance of Reformed Churches suspended the DRC as a member because of its theological and moral justification of apartheid. It also declared a status confessionis as the level on which it rejects this theological justification. The documents, 'Church and Society', were not acceptable to the Alliance as a token that the DRC rejects apartheid unconditionally and completely. The General Assembly of the Alliance of 1997 defined the apartheid, which it rejects. After the General Synod of the DRC of 1998 accepted this definition, the DRC was accepted again as a full member of the Alliance.

Kernwoorden: apartheid; Dutch Reformed Church; theology; Cottesloe Consultation; Synod.


 

 

Inleiding

Kerkhistorici beweer dat die bekende Cotteloesberaad van agt lidkerke van die Wêreldraad van Kerke (WRK) in Suid-Afrika op 7-14 Desember 1960 in Johannesburg, apartheid afgewys het en 'n voorloper van die dokumente 'Kerk en samelewing' (1986 en 1990) (KS-1986 en KS-1990) was. KS-1986 en KS-1990 was, volgens die dokumente self, 'n 'getuienis' van die Algemene Sinodes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (Ned Geref Kerk) van 1986 en 1990. Hierdie getuienis is gelewer in die doodsnikke van apartheid, kort voor die oorname van die Republiek van Suid-Afrika in 1994 deur 'n nuwe regering in 'n algemene demokrasie (KS-1986; KS-1990). Die twee dokumente het met 'n nuwe perspektief - vir 'n Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk - op die Suid-Afrikaanse samelewing gekom en, soos Cottesloe, krities na apartheid gekyk. Apartheid het as 'n omvattende staatkundige beleid in die tagtigerjare in 'n impasse beland en in sy implementering vasgeval (Meiring 2008:196; Strauss 2002:221-241; Van der Merwe 1990:600).

Vir apartheid en rasse- of groepsverhoudinge in Suid-Afrika was 1960 'n gebeurtenisvolle en onstuimige jaar.

Die aanleidende oorsaak vir Cottesloe of die Cottesloeberaad lê in die vlaag onluste wat Suid- en Suidwes-Afrika (tans Namibië) in Maart 1960 sou tref. Uit hierdie gebeure sou die naam van 'n swart woongebied naby Vereeniging, Sharpeville, oornag internasionale bekendheid verwerf. Op Maandag 21 Maart omstreeks 13:40 het 'n groepie polisiemanne vir ongeveer 30 sekondes op 'n skare van etlike duisende swart mense, wat rondom die polisiestasie in die woonbuurt saamgedrom het, gevuur. Nagenoeg 700 skote het geval, 69 mense is gedood en 180 gewond. Onluste wat met polisieoptrede gepaardgaan, sou ook op ander plekke in Suider-Afrika volg. Die regerende Nasionale Party as die apartheidsregering sou met 'n noodtoestand op die onluste in Suid- en Suidwes-Afrika reageer. Onrus is in die kiem gesmoor en arrestasies waaronder aanhouding sonder verhoor het plaasgevind. Die Wet op Verbode Organisasies is ook ingestel. Twee organisasies, die African National Congress (ANC) en die Pan Africanist Congress (PAC) wat as die aanstigters van die onluste gebrandmerk is, is verban (Lombard 1981:192). Hulle sou voortaan vanuit die buiteland moes opereer. Sharpeville het vir hierdie twee organisasies en hulle simpatisante 'n simbool van die stryd teen apartheid geword (Feit 1971:42).

Negatiewe reaksie van regerings en ander instellings vanuit verskeie wêrelddele sou volg. Apartheid en die wyse waarop die onrus deur die Suid-Afrikaanse Regering hanteer is, is wyd veroordeel (Strauss 1983:116-124). Vanuit die WRK het die Algemene Sekretaris, W.A. Visser't Hooft, 'n beraad van lidkerke in Suid-Afrika vir Desember 1960 geïnisieer (Lombard 1981:201-202). Soos KS-1986 en KS-1990 ongeveer dertig jaar later, sou Cottesloe krities met apartheid omgaan (Luckhoff 1978:104-105; Nederduitse Gereformeerde Kerk [NGK] in Suid-Afrika 1961:261-264; Wêreldraad van Kerke-Argief [WRK-Argief] 280.38: Cottesloe Contents Confidential, 13-14).

In 1982, die sogenaamde internasionale jaar van die kerk teen apartheid, sou die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) hom sterk teen die teologiese en morele regverdiging van apartheid uitspreek. Dit sou kettery wees wat die WBGK noop om sy weerstand teen apartheid op die vlak van 'n belydenis uit te druk. Daarom kondig die Algemene Vergadering in Ottawa in Augustus 1982 'n status confessionis teen hierdie teologie af. Volgens hierdie vergadering bring 'n apartheidsteologie die gereformeerde belydenis in gedrang. Die twee lidkerke wat hieraan skuldig bevind word, naamlik die Ned Geref Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika word geskors (Strauss 2004:105-106):

this situation constitutes a status confessionis for our Churches, which means that we regard this as an issue on which it is not possible to differ without seriously jeopardizing the integrity of our common confession as Reformed Churches. (volledige teks in NGK 1982:1020-1924)

Die maatreëls van die WBGK word onder meer gestimuleer deur 'n belydenisbeweging teen apartheid, wat in Suid-Afrika gedurende 1965 in Beyers Naudé 'n wegbereider en voorloper vind. Naudé word hierin nagepraat deur predikante uit die jonger Ned Geref Kerke wat in 1975 'n Nederduitse Gereformeerde (NG) Broederkring, wat hulle later tot die Belydende Kring herdoop - teen die kerklike regverdiging van apartheid (Du Toit 2002:144). Die aanvaarding van die Belydenis van Belhar as 'n konsepbelydenis deur die Ned Geref Sendingkerk in Oktober 1982, verteenwoordig 'n kerklike klimaks in hierdie belydenisbeweging teen apartheid. In die vurige anti-apartheidsklimaat in kerklike kringe kom die Algemene Sinode van 1986 en 1990 met die KS-dokumente wat ras, volk, nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif uit 1974 moet hersien. Hulle moet ook kennis neem dat apartheid in sy oorhoofse doel misluk en die omvattende mensontwikkeling van veral swart mense blokkeer. Die Ned Geref Kerk moet op sy ekumeniese isolasie, sy afsondering vanweë sy teologiese en morele steun aan apartheid, 'n antwoord moet vind. Boonop sou apartheid-Suid-Afrika teen die middel van die tagtigerjare met 'n voortdurende noodtoestand as gevolg van binnelandse onrus oor apartheid te kampe hê en die Ned Geref Kerk oor sy steun aan apartheid wêreldwyd in kerklike kringe - met 'n status confessionis - veroordeel word. Dit is die sterkste manier waarop kerke hulle as draers van die Woord van God, wat met geestelike of geloofswaarhede werk om te oortuig, kan uitdruk (Strauss 2010:61). Die Ned Geref Kerk sowel as apartheid-Suid-Afrika was feitlik in 'n permanente krisis. Dinge kon nie so voortgaan nie

Teen hierdie agtergrond sou Cottesloe sowel as KS krities met apartheid omgaan. Die vraag is: Was Cottesloe in alle opsigte 'n voorloper van KS-1986 en KS-1990? Wat was die houding van Cottesloe en KS-1986 en KS-1990 oor apartheid en watter uitgangspunte is deur die beraad en die KS-getuienisse gebruik? Was hulle uitgangspunte dieselfde? Het Cottesloe 'n spoor geloop waarop KS-1986 en KS-1990 voortgegaan het? Hierdie vrae moet ook daarmee rekening hou dat die omstandighede in die Suid-Afrika van 1960 (Cottesloe) en van 30 jaar later (KS-1986 en KS-1990) verskil. Teenoor 'n onstuimige tyd in 1960 vir apartheid in Suid-Afrika was die skrif aan die muur vir die beleid as 'n oplossing vir samelewingsprobleme in 'n geteisterde Suid-Afrika teen 1990.

Die kerkhistoriese aktualiteit van die tema word versterk deur die stellings van kerkhistorici oor die verhouding tussen die eindverklaring of besluite van Cottesloe en die repudiëring van 'n omskrewe apartheid deur KS-1986 en KS-1990.

Van der Merwe (1990) is van mening dat KS-1986 en KS-1990 in prinsipiële sin die voortsetting van Cottesloe is. Cottesloe sowel as KS-1986 en KS-1990 repudieer, volgens hom (Van der Merwe 1990:600), die Ned Geref Kerk se kerklik-morele steun aan apartheid. Meiring (2008:196) gebruik sterk woorde wanneer hy aanvoer dat Cottesloe in sy eindverklaring 'lynreg teenoor' apartheid gestaan het. In die debat oor die Christelike Instituut (CI) van Beyers Naudé by die Algemene Sinode van 1966 noem die assessor of ondervoorsitter, A.P. Treurnicht, die CI 'n anti-apartheidsuitvloeisel van Cottesloe. Vir hom as 'n voorstander van Ned Geref-steun aan apartheid, is Cottesloe sowel as die CI onaanvaarbaar. Treurnicht glo dus soos Meiring, maar uit 'n ander hoek dat Cottesloe apartheid veroordeel (NGK 1966:564-565). Op hierdie punt onderskryf hy die houding van Premier H.F. Verwoerd, die destydse dryfveer agter afsonderlike ontwikkeling of apartheid. In sy Nuwejaarsboodskap vir 1961 reageer Verwoerd in versigtige terme negatief op die kerkeberaad waarop Cottesloe regeringsbeleid in Suid-Afrika kritiseer. Volgens Verwoerd is Cottesloe se eindverklaring nog nie die amptelike uitsprake van die betrokke kerke nie. Daarvoor moet op die sinodes gewag word (DRC Newsletter, Maart 1961).

 

Die Cottesloebesluite

Die mees omstrede uitsprake van Cottesloe en kwessies wat die openbare aandag op die beraad gevestig het, lê in vier besluite. Hierdie besluite is in ooreenstemming met besluite wat deur gesaghebbende kerklike vergaderings van lidmate van die Ned Geref Kerk betrokke was en wat in die voorafgaande jare geneem is. Dit is besluite wat aandui dat die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk van Kaapland (Ned Geref Kerk in Suid-Afrika) en Transvaal, die twee Sinodes in die Ned Geref Kerk wat op daardie stadium lidkerke van die WRK was, die giants of the day in die beraad was. Dit is 'n waarneming wat na afloop van die beraad deur 'n swart Presbiteriaan, S.P. Lediga, gemaak is (Strauss 1983:130-133) - 'n tendens wat toon dat die afgevaardigdes van die twee Ned Geref Kerke na Cottesloe selfstandig opgetree het en nie gemanupileer of 'geCottesloe' is nie - soos pro-apartheid kritici later beweer het nie.

Hierdie toedrag van sake word deur die sogenaamde 'Nadere Verklaring' van die Kaapse en beskikbare Transvaalse Ned Geref-afgevaardigdes op 27 Desember 1960 bevestig (NGK in Suid-Afrika 1961:272-273). Daarby kom stellings in die voorafmemorandum van die Kaapse Ned Geref Kerk telkens in die besluite en eindverklaring van die beraad voor - die herkoms van die vier besluite word onderaan hierdie bladsy in verwysings aangetoon.

Die vier besluite is die volgende: Swart mense wat geen ander blyplek as 'wit' Suid-Afrika het nie, kan nie permanent van stemreg in hulle land van inwoning ontneem word nie;1 die 'kleurlinge' vir wie daar geen ander vooruitsig is nie, moet in die Suid-Afrikaanse Parlement verteenwoordig word;2 daar is geen bybelse gronde vir 'n verbod op rasgemengde huwelike nie, hoewel die welsyn van die gemeenskap en pastorale verantwoordelikheid van die kerk sulke huwelike 'onwenslik' kan maak;3 en blanke gemeentes moet hulle geriewe met ander deel waar daar die behoefte is4 (WRK-Argief 230.38: Cottesloe Contents Confidential, 13-14).

Bloot aan die destydse status quo van apartheid in Suid-Afrika gemeet, was hier skerp punte van kritiek teen die beleid. In wat bestempel word as die gebruik van die norm van geregtigheid, het die verklaring permanente teenwoordigheid of inwoning van mense in 'n staat aan eventuele stemreg gekoppel. Die konklusie is dus die volgende: Daar kan ten opsigte hiervan geen permanente onderhorigheid of tweede klas burgers wees nie. Suid-Afrika is wat dit betref in 'n tussenfase wat nie permanent mag wees nie. Hierdie fase kan hoogstens 'n instrument of metode wees wat tot algemene stemreg lei - in dieselfde staat of in 'n eie, afsonderlike staat. Andersins skep dit 'n onregverdige ongelykheid met diegene wat wel stemreg het.

Wat Cottesloe en die Kaapse Ned Geref Kerk betref, kan stemreg in Suid-Afrika na die bevolking van gemengde ras uitgebrei word. Hulle moet op een of ander manier - die detail daarvan word nie aangesny nie - in die Suid-Afrikaanse Parlement verteenwoordig word. Andersins word hulle verontreg omdat hulle nie soos die swart bevolking die vooruitsig van 'n eie staat het waarin hulle sonder enige belemmering 'n onafhanklike demokrasie kan vorm nie. Ten opsigte van laasgenoemde verklaar Premier Verwoerd in 1960 dat 'n voorwaarde vir 'n stabiele en voorspoedige land die verwydering van rassedominasie en aanvaarding van gelykheid (let wel) deur afsonderlike ontwikkeling (sy term vir apartheid) is - vandaar die uitdrukking afsonderlike ontwikkeling. Hy is op hierdie stadium optimisties dat die beleid sal slaag (Strauss 1983:159-160). Anders as in 1990 het die onuitvoerbaarheid om almal eventueel gelyk maar afsonderlik te ontwikkel, nog nie aan die beleid gekleef nie. In 1990 het die besef dat afsonderlike ontwikkeling in Suid-Afrika onuitvoerbaar is, egter die idee van 'n eenheidstaat waarin gelykheid met universele stemreg 'n model van geregtigheid is gestimuleer. Met betrekking tot die mense van gemengde ras vir wie daar nie 'n eie afgebakende land gevisualiseer word nie, het Cottesloe reeds die konsekwensie getrek dat hulle daarom in een staat met die blankes opgeneem moet word. Hiermee het die beraad aangedui dat rasse- en volksapartheid nie 'n konstante beginsel is nie, maar 'n metode wat geregtigheid moet vestig. Tereg het Cottesloe 'n bybelse verbod op rasgemengde huwelike afgewys, hoewel die situasie in Suid-Afrika vanuit 'n praktiese hoek sulke huwelike as volwaardige huwelike volgens die beraad kan bemoeilik. Cottesloe wou ook nie weet van 'n waterdigte sosiale skeiding tussen wit, gekleurd en swart nie. Daarom die meer ontspanne, maar afsonderlike deling van kerklike geriewe waar daar so 'n behoefte is.

 

Cottesloe skep ruimte

Cottesloe het dus kritiek teen die beleid van afsonderlike ontwikkeling uitgespreek waarmee die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk saamgestem het, maar ook ruimte gelaat vir diegene op die beraad wat in die konsekwente deurvoering van apartheid 'n vergestalting van geregtigheid sien. In deel 1 van die eindverklaring is alle vorme van 'onregverdige' diskriminasie afgewys, maar ook verklaar dat vir sommige op die beraad 'n beleid van 'differensiasie' (wat die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk betref, het die woord apartheid 'n negatiewe konnotasie opgeroep) Christelik verdedigbaar is en die enigste realistiese oplossing vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika bied wat almal se belange die beste dien (volledige verklaring in NGK in Suid-Afrika 1961:261-264).

In hulle 'Nadere verklaring' van 27 Desember 1960, verklaar die Ned Geref Kerk se Kaapse en beskikbare Transvaalse afgevaardigdes dat die besluite van die beraad versoenbaar is met 'differensiasie' in Suid-Afrika (NGK in Suid-Afrika 1961:275). Hulle deel dus in die minimum consensus van Cottesloe, soos Verkuyl (1971:13) later uit Nederland daarna verwys.5 Op 26 April 1961 reik die vier Stellenbosse teologiese professore wat op Cottesloe was, F.J.M. Potgieter, W.J. van der Merwe, T.N. Hanekom en P.A. Verhoef, 'n verklaring uit waarin hulle hul trou 'aan die beginsel van veelvormigheid en verskeidenheid op alle lewensterreine' en die beleid van 'n 'regverdige en eerbare eiesoortigheid' soos deur die Ned Geref Kerk gehuldig, bevestig - 'n houding wat hulle ook op die beraad sou uitspreek (DK 06/04/1961:563). Die woordjie trou wat hulle gebruik, is in konteks 'n gelade woord. Dit neig om hulle 'trou' aan apartheid-Suid-Afrika te koppel aan trou aan Suid-Afrika as vaderland en die Afrikanerlaer wat rondom Verwoerd en apartheid getrek is. Dit dra die volgende boodskap: die Stellenbosche professore is nie verraaiers van die laer nie.6

W.A. Visser't Hooft som die houding van die Ned Geref Kerk se afgevaardigdes na Cottesloe goed op wanneer hy in 'n vertroulike verslag aan die WRK sê:

Somehow, we had come exactly at the moment when they had come to the conclusion that it was time that they should speak out on certain important points. Now this does not mean that they give up apartheid but, in their mind, apartheid is not an absolute principle, but only a means and if that means creates injustice or if it proves on certain points unworkable, they are quite willing to replace it by more adequate means. They are obviously irritated by the fact that Verwoerd does not listen to them at all The Cape church made it clear to the government that they believe in direct representation of the Coloured in parliament, but Verwoerd had not listened. (WRK-Argief 42.3014/2,2)

P.A. Verhoef neig in dieselfde rigting wanneer hy verklaar dat hulle as afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk by Cottesloe nie radikale beleidsveranderinge wou voorstel nie, maar hier in 1960, die alarmklok wou lui om te sê: 'Daar is gevaar!' Die beleid van afsonderlike ontwikkeling maak nie genoegsaam voorsiening vir mense van gemende ras, Asiërs en swart mense wat hulle buite die aangeduide swart gebiede in wit Suid-Afrika bevind nie (Persoonlike onderhoud 1981). Hierdie afgevaardigdes was dus aan die beginsel van geregtigheid aan almal gebonde, maar nog nie met die mislukking van die beleid van swart tuislande of groot apartheid teen 1980/1990 gekonfronteer nie. Afsonderlike ontwikkeling sonder 'n plafon soos gevisualeer en gedryf deur Verwoerd, is deur talle Afrikaners en ander in die sestigerjare as 'n realistiese metode beskou om by vooruitgang, geregtigheid, vryheid en vreedsame naasbestaan vir almal uit te kom (Strauss 1994:212). Verhoef beskou afsonderlike ontwikkeling kennelik as 'n metode en nie 'n beginsel nie. Daarmee gee hy Visser't Hooft in sy verstaan van die motief van die Ned Geref Kerk-afgevaardigdes by Cottesloe by implikasie gelyk (Strauss 1991:436-446).

Soos blyk uit hierdie perspektief, het Cottesloe in sy eindverklaring nie lynreg teenoor apartheid - volgens Meiring - posisie ingeneem nie. Genoemde primêre bronne verbeeld 'n ander, meer gekompliseerde prentjie. Cottesloe was nie net vir of teen apartheid nie en het ruimte gelaat vir die voorstanders van 'differensiasie' in Suid-Afrika in 'n positiewe sin. Verkuyl wie se verstaan van die beraad moontlik deur Beyers Naudé beïnvloed is,7 is nader aan die waarheid wanneer hy die eindverklaring 'n minimum consensus noem. P.A.Verhoef heg na twee dekades van nadenke dieselfde konnotasie aan Cottesloe as Visser't Hooft, die algemene sekretaris van die WRK wat 'n oor- en ooggetuie van die gebeure en 'n skerp analis was. In hulle milde kritiek vandag op die apartheid van destyds het die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk die emosionele vasberadenheid van Afrikaners na Sharpeville om die beleid van, soos dit toe genoem is, afsonderlike ontwikkeling met of sonder kritici van binne en buite Suid-Afrika voort te sit, onderskat. Die persepsie onder hulle eie mense dat die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk 'geCottesloe' is, toon iets van die emosionaliteit waarin Afrikaners in die stormagtige jaar, 1960, rondom Premier Verwoerd laer getrek het (Strauss 1994:212). Emosies is deur Afrikaners soos die afgevaardigdes van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika in hulle verset teen die eindverklaring gevoed.8 In só 'n situasie is dit moeilik om alles rustig analities en beredeneerd te debatteer, terwyl emosies, verbonde aan oorlewing, mense verhoed om 'n gebalanseerde sig van buite die beraad op die ware Cottesloe te kry. Vir die gemiddelde man en vrou in die kerkbank was Cottesloe se ruimte vir differensiasie sowel as kritiek teen aspekte van die huidige toepassing daarvan, 'n gekompliseerde saak. Hulle sou 'n makliker vir- of teen-opsie verkies.

Kommentaar op Van der Merwe vra 'n meer genuanseerde prentjie. Kortliks kom dit daarop neer dat Cottesloe ten opsigte van hulle afwysing van aspekte van apartheid nie 'n voorloper van KS-1986 en KS-1990 was nie. Deur die beleid as 'n metode en nie 'n beginsel te hanteer nie - 'n praktiese beleid wat vanuit sekere konstantes of vertrekpunte gekritiseer kan word - het Cottesloe egter 'n presedent geskep vir die KS-dokumente om 'n omskrewe, omvattende en konkrete apartheid as 'n mislukte metode af te wys. Hierdie benadering van Cottesloe met kritiek op aspekte van apartheid-Suid-Afrika in 1960, sou vir KS-1986 en KS-1990 'n voorbeeld gee van hoe die kerk kan optree; hoe die Ned Geref Kerk op die bestel in Suid-Afrika as kerk kritiek kan lewer, sonder om by praktiese politiek of politieke oplossings betrokke te raak9 en hoe die Ned Geref Kerk die uitwasse van apartheid van die hand kan wys sonder om daarmee alle soorte selfstandige of afsonderlike ontwikkeling saam met apartheid soos Suid-Afrika dit in die praktyk hanteer het, die deur te wys.

 

Omstandighede van KS-1986 en KS-1990

Daar is op die jaar 1982 as die internasionale jaar van die kerk teen apartheid gewys. Die status confessionis-besluit van die WBGK in Augustus 1982 was volgens die ondersteuners daarvan 'n hoogtepunt.

Intern en uit sy eie kerklike familie sou die druk teen die Ned Geref Kerk om apartheid af te wys, in hierdie tyd toeneem. Daar is op die ontstaan van die NG Broederkring (later Belydende Kring) in 1975 onder predikante in die jonger Ned Geref Kerke gewys. Na die verbanning van Beyers Naudé se CI uit Suid-Afrika in 1977, sou hierdie kring probeer om die werk van die CI oor te neem (Du Toit 2002:144). In 1978 verklaar die Sinode van die Ned Geref Sendingkerk dat apartheid nie met die Evangelie versoen kan word nie (Boesak 1983:8). Die amptelike houding van die kerk dra ondersteunende emosionele gewig vir die saak van die Broederkring. In 1981 ontstaan Alliance of Black Reformed Christians in Southern Africa (ABRECSA) as 'n streeksliggaam wat sy naam koppel aan die WBGK) waarin die anti-apartheidsteoloog en -predikant in die Ned Geref Sendingkerk, Allan Boesak, 'n leidende rol speel (Strauss 2004:107). In sy openingsrede by die konferensie van ABRECSA in Oktober 1981, vra Boesak vir 'n eietydse anti-apartheidsbelydenis as die sterkste vorm van kerklike weerstand teen apartheid (Smit 1984:20). Saam met ander kritici - in die binne- en buiteland - van die kerk se teologiese en morele steun aan apartheid, lei dit tot die WBGK se status confessionis-besluit in 1982. Op sy beurt beantwoord die Ned Geref Sendingkerk die optrede van die WBGK en die aandrang op 'n belydenis teen apartheid, met die aanvaarding van die Belydenis van Belhar in Oktober 1982, in konsepvorm (NGK 1982:1069-1087). Soos die Nederduitsch Hervormde Kerk sou die Ned Geref Kerk ekumenies geïsoleer staan in sy steun aan apartheid. Sy jongste standpunt was steeds 'Ras, volk en nasie ' van 1974. Hierdie dokument was in die omstandighede egter gedateer en het gevra vir 'n nuwe hantering van die saak deur die Algemene Sinode. 'n Besef het in die begin van die tagtigerjare onder Afrikaners en Ned Geref Kerklidmate posgevat dat groot of staatkundige apartheid met 'n blanke staat sowel as onafhanklike swart state in 'n gemenebes van nasies misluk het.

Intussen sou 'n ander benadering as dié van 'Ras, volk en nasie ' in 1974 (van die kerk se houding oor apartheid) sterker begin sigbaar word.

Op 5 November 1980, die datum van 'n weeklikse uitgawe naby aan Hervormingsdag op 31 Oktober, dra Die Kerkbode van die Ned Geref Kerk 'n Hervormingsdaggetuienis10 oor die gestagneerde situasie rondom apartheid in Suid-Afrika en die kerk - veral die Ned Geref Kerk - se gevraagde inisiatiewe in hierdie verband (DK 5/11/1980:605; Kaapse Kerkargief [KKA] PPV 1375). Die Getuienis kom van agt professore van die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria wat lidmate van Ned Geref-gemeentes is. Onder hulle is daar ses teoloë van twee fakulteite waar dominees vir die Ned Geref Kerk opgelei word. Hulle kies Die Kerkbode as voertuig omdat hulle uit die Ned Geref Kerk kom en in hierdie medium 'n kanaal sien om die Ned Geref Kerk saam met die ander kerke van binne uit aan te spreek.

Die Getuienis vra dat owerheid en onderdaan in Suid-Afrika die 'bestaande orde hervorm, sodat aan elke mens die leefruimte gegun word waarin hy as beelddraer van God tot sy reg kom'. Die bestaande kerke toon 'n skynbare onvermoë om 'n heldere en duidelike getuienis 'omtrent die beloftes en eise van Gods Koninkryk' vir die 'sosiale werklikheid' in Suid-Afrika te laat hoor. Hierdie werklikheid is die strukture en verhoudings in die samelewing. Die land bevind hom in 'n impasse van toenemende spanning en polarisasie. Die reformatoriese eis beteken dat die hele samelewing as 'n instelling van mense onder die heerskappy van die Woord van God kom. Die kerklike boodskap moet onderlinge vervreemding en frontvorming van Christene teenoor mekaar teëgaan wat die verdeeldheid van die kerk stimuleer en die gemeenskap van die heiliges tot skande maak. Liefdelose, rassistiese en krenkende optredes wat die versoenende genade van God verarm, moet vermy word. Suid-Afrika benodig nou wedersydse vertroue en aanvaarding as 'n 'onontbeerlike grondslag' vir 'n eenheidsamelewing. Die kerk kan die herskeppingsgenade van God ontgin vir die verryking van mekaar in die een liggaam van Christus.

J.A. Heyns wat 'n groot aandeel aan die Getuienis sowel as die KS-1986 gehad het, beweer dat die Ned Geref Kerk nie tot die apartheidkritiese dokumente, KS-1986 en KS-1990, sou gekom het indien die Getuienis nie 'n klimaat daarvoor help skep het nie. Die Getuienis het ruimte geskep om in die Ned Geref Kerk krities met die regverdiging van apartheid om te gaan. Wat Heyns betref was die Getuienis die eerste saad van 'n grondige beleidsverandering in die Ned Geref Kerk. Boonop was hervorming vir Heyns 'n beginsel of werksmetode vir mens en samelewing wat hy na die Hervorming van die sestiende eeu kon terugvoer. Elke daad van reformasie - die doel, beplanning en uitvoering - moet aan die eis van geregtigheid voldoen. Dit begin by die aanvaarding van mekaar as beeldraers van God wat teenoor mekaar gesondig het en vanuit die soenverdienste van Christus, hulle oortredings bely en mekaar vergewe. Uit liefde moet mense mekaar die ruimte gun om as volle mense van God te leef. Dit is reg en reformatories dat die blankes met hulle groter akademiese en kulturele opleiding die inisitief neem in die bepaling van die gestaltes van sosiale geregtigheid. Die inhoud van die toekoms lê egter in 'n gelyke vennootskap van die totale bevolking opgesluit (Heyns 1989:71, 73; Williams 2006:169, 171, 213, 231). Hiermee gee Heyns die redes vir sy steun aan die Getuienis en sy verstaan van die plofbare uitdrukking, naamlik die hervorming van die bestaande orde. Na die onrus in Soweto in 1976 sou sommige in Suid-Afrika in geweld 'n metode sien om die orde van die samelewing te verander (KS-1986:322; KS-1990:41). Daarby is Heyns in die kol wanneer hy die Getuienis as 'n faktor beskou wat die ruimte vir gesprek oor die regverdiging van apartheid op hierdie kritiese stadium in die geskiedenis in die Ned Geref Kerk oopgemaak het. In hierdie klimaat sou 'n kritiese aanslag makliker deur lidmate aanvaar word.

'n Groeiende weerstand in die familie van Ned Geref Kerk teen apartheid, die Getuienis van 1980, die skorsing van die Ned Geref Kerk en Nederduitsch Hervormde Kerk en die verklaring van 'n status confessionis teen die teologiese en morele regverdiging daarvan deur die WBGK in 1982, sou die spanning op pad na die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk in Oktober 1982 drasties verhoog. Saam met die besef dat apartheid misluk het - 'n noodtoestand was teen die middel van die tagtigerjare die enigste manier om orde in apartheid-Suid-Afrika te handhaaf - het hierdie Sinode onder druk vergader. Hoewel Heyns die Sinode as 'n reaksionêre sinode wat walgooi teen 'elke poging tot hervorming' bestempel het, het die vergadering besluit om 1974 se 'Ras, volk en nasie ' 'indringend' te hersien (NGK 1982:97, 1182, 1183, 1203). Met sy gevoelswaarde het die woord indringend op 'n drastiese hersiening van 'Ras, volk en nasie ' gedui. Die Algemene Sinode van 1982 wou nie van sy steun aan apartheid afsien nie. Tog moes daar nuwe uitsprake oor apartheid in die Ned Geref Kerk kom. Die uurglas vir apartheid en die kerklik-morele steun daaraan, was besig om leeg te loop.

 

KS-1986 en KS-1990 wys 'n gekwalifiseerde apartheid af

Heyns se aandeel aan KS-1986 - ongeveer 40 paragrawe van die stuk is direk na Heyns terug te voer - en sy verkiesing tot voorsitter van die Algemene Sinode van 1986 het tot gevolg gehad dat hy dit op homself sou neem om KS-1986 in die binne- en buiteland te 'verkoop'. Dit sou aan hom die titel van 'Meneer NG Kerk' besorg. Aanvanklik is hierdie dogmatikus-etikus by deel 2 van KS-1986 wat handel oor die prinsipiële aspekte, ingedeel, maar later sou hy ook direkte insette in deel 3 - die praktiese deel - lewer. Heyns was daarvan oortuig dat apartheid in sy laaste loopgraaf lê en dat KS-1986 die laaste kans vir die Ned Geref Kerk is om 'n worstelende, strompelende apartheid profeties-krities te begelei (Strauss 2011:518; Williams 2006:196-198, 405-406).

KS-1986 het apartheid of afsonderlike ontwikkeling as 'n beleid wat tot 'n onaanvaarbare praktyk vanuit die eis vir geregtigheid gelei het, afgewys. KS-1986 stel dit so: 'Die hantering van apartheid as 'n politieke en maatskaplike sisteem wat mense veronreg en een groep onregmatig bo 'n ander bevoordeel', bots met die beginsels van liefde, geregtigheid en menswaardigheid (KS-1986:52).

'n Aantal van hierdie formulerings is opvallend. Eerstens staan die hantering van apartheid of die uitvoering daarvan voorop. Wat KS-1986 afwys, is nie die konsep of begronding van staatkundige apartheid nie, maar die praktyk wat rondom apartheid gevorm het - apartheid in sy uitvoering of hantering. Omdat die groot staatkundige idee van apartheid nie deurgevoer kon word nie, het dit tot diskriminasie en onreg gelei. KS-1986 drink hiermee uit die beker van die Getuienis, Cottesloe en die Kerklike Kongres oor die Naturellevraagstuk van 1950. Die woordjie veronreg sonder die 't' na die 'n', is ook tipies van Heyns (Strauss 2018:5). Tweedens word die gelykheid van mense, ongeag hulle demokratiese ervaring en ontwikkeling, as 'n maatstaf vir geregtigheid of wat reg is gebruik. Indien hierdie mense saam in 'n land woon, moet hulle gelyk behandel word. Daarmee sou KS-1986 ook ruimte laat vir een van die beginsels in die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996, naamlik gelykheid. Die Ned Geref Kerk werk dus met 'n nuwe blik op sake. Derdens gaan dit nie om apartheid as 'n idee of konsep nie, maar as 'n politieke en maatskaplike sisteem - 'n praktiese of 'n konkrete saak. Die mislukte of vasgedraaide apartheid in praktyk word afgewys. Daarmee laat KS-1986 stilswyend of woordeloos steeds ruimte vir die gesonde uitvoering van Cottesloe se beleid van differensiasie. Afsonderlike state met visum- en paspoortbeheer, bly vir KS-1986 aanvaarbaar.

In dieselfde trant verwys KS-1990 na

apartheid as politieke sisteem in praktyk wat op so 'n wyse begin funksioneer het dat die grootste deel van die landsbevolking dit ervaar het as 'n onderdrukkende sisteem wat deur gedwonge skeiding een groep onregmatig bo die ander bevoordeel. So het dit die menswaardigheid van die medemens aangetas en in stryd gekom met die beginsels van liefde en geregtigheid. (KS-1990:39-40)

Volgens KS-1990 het apartheid die regmatige erkenning van die volkereverskeidenheid omvorm tot 'n politieke ideologie. Hierdie ideologie het van die beleid in sy funksionering 'n onderdrukkende stelsel gemaak wat deur 'gedwonge skeiding' een groep onregmatig bo 'n ander bevoordeel. Apartheid as sisteem is sondig, in stryd met die Bybel en die etiese regverdiging daarvan is 'n 'ernstige dwaling'. Dit tas die menswaardigheid van die medemens aan en stry met die beginsels van liefde en geregtigheid (KS-1990:40).

KS-1990 wys dieselfde apartheid as KS 1986 af. Weer staan die beginsel van gelykheid as geregtigheid voorop. Gedwonge skeiding deur die staatsapparaat wat tot 'n ongelyke bevoordeling gelei het, word verwerp. Die beginsels van Cottesloe en die Getuienis praat opnuut saam. Dieselfde geld by KS-1986 wanneer dit kom by konstantes soos liefde, geregtigheid en menswaardigheid. In 'n pastorale woord op 22 Oktober 1986 gebruik Heyns, as moderator van die Algemene Sinode van 14-25 Oktober 1986 (NGK 1986:575, 735) die woorde negatiewe apartheid as die soort apartheid wat deur hierdie vergadering afgewys word. Volgens hom stry negatiewe apartheid met die 'beginsels van naasteliefde en geregtigheid' en tas die menswaardigheid van almal wat daarby betrokke is, 'onafwendbaar' aan (KKA K11). Vir Heyns is naasteliefde, geregtigheid en menswaardigheid konstantes in die verhoudinge tussen mense.

In sy verduideliking van KS-1990 en daaropvolgende gebeure by Rustenburg - gebeure wat kerkrade en lidmate ongelukkig stem - wys die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) daarop dat die Algemene Sinode van 1990 'apartheid binne 'n gekwalifiseerde verband beoordeel het en hierdie gedefinieërde apartheid as sondig afgewys het' (KKA K11).

In 'n publikasie in opdrag van die ASK van die Ned Geref Kerk oor die Ned Geref Kerk se 'reis met apartheid' van 1960 tot 1994, bevestig Gaum (1997) dat 'n beleid van afsonderlike ontwikkeling wat in 'naasteliefde en regverdigheid' uitgevoer word, Bybels verantwoord kan word. Die Ned Geref Kerk het egter té lank té teoreties na apartheid gekyk en toegelaat dat die beleid 'n ideologie word wat nie aan hierdie norme voldoen nie. Al was dit teen die 'meeste mense in die land se sin', moes die beleid eenvoudig deur die owerheid deurgevoer word. In hierdie proses het individuele mense pionne sonder menswaardigheid geword. Selfs nadat dit sou blyk dat die idee van verskillende volke in onafhanklike state of van groot apartheid nie 'haalbaar' is nie, het die apartheidsbewind met die 'diskriminasie en onreg van gedwonge skeiding' voortgegaan. Die Ned Geref Kerk het in die proses nie die 'wenslike kritiese afstand' teenoor die staatsowerheid gehandhaaf nie (Gaum 1997:72-73).

Gaum (1997) verwoord hiermee gedagtes wat in KS-1986 en KS-1990 leef en waarskynlik die besluite van die Algemene Sinode van 1986 en 1990 ten opsigte van KS bepaal het. Hy bevestig wat teksgewys uit beide KS'e afgelei kan word. Die idee van afsonderlike state vir afsonderlike volke is volgens hom (Gaum 1997:73) 'nie uit die lug gegryp nie', maar was in Europa sowel as Suider-Afrika in state soos Lesotho, Swaziland en Botswana aanwesig en daarby eties-polities verantwoord. Afsonderlike ontwikkeling het egter skeefgeloop in 'n geïntegreerde Suid-Afrika waarin ekonomiese groeipunte mense uit ander gebiede (as die groeipunte) en lande getrek het - en steeds trek - en reëlreg teen die groot idee van afsonderlike ontwikkeling ingegaan het. Dit is groeipunte wat meebring dat byvoorbeeld trekarbeiders permanente inwoners geword het en in 'n gemeenskaplike Suid-Afrika op dieselfde regte as blankes aanspraak kon maak. Dit is 'n saak waarvan die Kerklike Kongres oor die Naturellevraagstuk in 1950 reeds bewus was.

Hoewel Heyns met die verskyning van Gaum se boekie reeds oorlede was, sou hy hom op grond van uitsprake wat hy rondom 1990 gemaak het, in KS en Gaum se gekwalifiseerde apartheid kon vind. Vir hom was KS-1986 en KS-1990 'hervormingstappe' wat aan die visie van die Getuienis van 1980 vir Suid-Afrika, gestalte moes gee. Sy eie aanvaarde einddoel van apartheid as 'selfstandige vryhede aan wit en swart op basis van territoriale segregasie' het eweneens om 'n 'evolusionêre proses' of 'n proses van hervorming gevra. Hierdie proses het egter misluk en daardeur tot onreg gelei. Die praktyk van gedwonge apartheid is vir Heyns onaanvaarbaar en vra vir hervorming as die 'enigste' alternatief vir geweldadige verandering in Suid-Afrika (Heyns 1989:71; vgl Williams 2006:229, 231, 232, 282, 229).

KS-1986 en KS-1990 wys dus 'n gekwalifiseerde en nie ongekwalifiseerde apartheid af nie. Anders gestel: KS-1986 en KS-1990 verwerp nie alle vorme van apartheid onvoorwaardelik nie.

 

Die WBGK reageer op KS-1986 en KS-1990

In sy status confessionis-besluit van 1982 sou die WBGK ook aantoon onder watter voorwaardes die Geref Kerk kon terugkom en sy skorsing opgehef sou word: swart mense moenie uit eredienste en veral die nagmaal geweer word nie; die Ned Geref Kerk moet deur woord en daad hulp gee aan die slagoffers van apartheid; en hulle sinodes moet apartheid in kerk en staat ronduit veroordeel, en die kerke aanmoedig om dit af te takel (volledige verklaring of besluit in NGK 1982:1020-1024).

Die reaksie van die Uitvoerende Komitee en die volgende Algemene Vergadering van die WBGK in Seoul in 1989 is negatief op KS-1986 as die Ned Geref Kerk se antwoord op die Ottawa-besluit van die WBGK. Volgens hulle beteken die afkondiging van 'n status confessionis dat die regverdiging van apartheid onvoorwaardelik afgewys en op sy kop gekeer moet word. Onder die invloed van die Belydende Kring in Transvaal word die Ned Geref Kerk egter deur die WBGK daarvan verdink dat KS-1986 geformuleer is om apartheid en dus 'exploitation and oppression' in Suid-Afrika te handhaaf. KS-1986 se pleidooi vir vreedsame verandering in Suid-Afrika binne die apartheidsisteem met sy rassisme, boosheid en geweld, impliseer verandering 'while the system remains basically the same'. KS-1986 se betoog vir hervorming bevestig dit.11 Die Ned Geref Kerk kwalifiseer nie vir 'n opheffing van sy skorsing nie (WRK-Argief Ref 215/10.1/33). Op 3 Julie 1996 kom daar egter hierin 'n wending.

In 'n vertroulike brief van die president van die WBGK aan die sekretaris, Milan Opocensky, deel Jane Douglas hom mee dat sy tot die oortuiging gekom het dat hierdie Bond die Ned Geref Kerk weer in sy geledere moet opneem omdat dit dan meer 'leverage' op hierdie kerk sal hê. In 'n verskil met radikale elemente uit die jonger Ned Geref Kerke wat die WBGK sedert 1982 beïnvloed, oordeel sy dat die WBGK 'n beter kans het om die Ned Geref Kerk te oortuig deur hom te 'readmit', as hom uit te sluit. Die Ned Geref Kerk moet by die Algemene Vergadering van die WBGK wat in Augustus 1997 in Debrecen plaasvind, betrek word (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/9).

In April 1997 vergader die Uitvoerende Komitee van die WBGK met die Dagbestuur van die ASK van die Ned Geref Kerk in Bloemfontein. Die Uitvoerende Komitee inisieer die ontmoeting vanuit Genevé. 'n Nuwe gees van toenadering ontstaan. Die Ned Geref Kerk word as 'n waarnemer na Debrecen uitgenooi.

Op voorstel van die Uitvoerende Komitee wat hierdie voorstel op sy eie vergadering met 23 stemme teen 2 aanvaar, neem die Algemene Vergadering van die WBGK in Augustus 1997 'n 'joint resolution' of 'declaration' wat in werking sou tree indien die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 1998 dit ook aanvaar. Die 'joint resolution' verwerp die teologiese regverdiging van apartheid omdat dit 'n bespotting van die Evangelie maak en teologiese kettery is. Apartheid is verkeerd en sondig, nie alleen in sy konkrete of praktiese gevolge nie (KS se gekwalifiseerde apartheid), maar ook in sy 'fundamental nature'. In 'n verduidelikende, amptelike pastorale brief aan die Ned Geref Kerk sê die WBGK verder dat

the very nature of forced separation of people of different races denies the fundamental biblical teaching that all humanity is equally created in the image of God, a teaching so central to the Christian faith that it cannot be denied by Christians. (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/10)

Die WBGK maak dus gebruik van 'n omskrewe of nader gekwalifiseerde apartheid en oordeel dat die Ned Geref Kerk se verwerping van apartheid vir hom aanvaarbaar is indien hierdie gesamentlike besluit of verklaring aanvaar word (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/10).

Gemeet aan sy eie verstaan van KS-1990 en die kern van die 'joint resolution', naamlik die afwys van gedwonge skeiding op grond van ras, aanvaar die Algemene Sinode die WBGK-besluit op 13 Oktober 1998. Apartheid as 'n metode vir die oplossing van die sosiale vraagstukke van Suid-Afrika, het lelik skeefgeloop en groot uitwasse ontwikkel, in sy oorhoofse uitvoering vasgedraai en tot onreg gelei. Dit kon nie anders as deur dwang gekontinueer word nie en moes daarom gestop word. Die Ned Geref Kerk bepleit in hierdie situasie liefde, regverdigheid en die erkenning van die menswaardigheid van alle mense afgesien van ras - ook van buitelanders wat hulle in die land bevind (NGK 1998:412-413). Die Grondwet van 1996 met sy gelykheid en individuele vryheid word as 'n beskermende skild beskou wanneer die Algemene Sinode van 1998 lidmate oproep om in hulle alledaagse lewens konsekwent Christelik te wees (NGK 1998:519).

Die Ned Geref Kerk met sy afwys van 'n gekwalifiseerde apartheid en die WBGK wat met sy besluit oor 'n status confessionis aandring op die onvoorwaardelike verwerping van hierdie bestel, het mekaar tegemoet gekom, albei het die 'joint resolution' aanvaar en daarmee die boeke oor die Ned Geref Kerk se teologiese en morele steun aan apartheid sover hulle betref, toegemaak. Die WBGK het die apartheid omskryf wat hy met 'n status condessionis afwys, en die Ned Geref Kerk kon hom daarin vind. Die inhoud van die 'joint resolution' het die saak op die vlak van 'n belydenis geplaas12 sonder om aan te voer dat die aanvaarding daarvan die Ned Geref Kerk moreel verplig om Belhar of 'n ander belydenis te aanvaar. Kerklike wysheid en aanvoeling van leiers aan beide kante, sou die wa deur die drif trek (Strauss 2013:46).

 

Slot

Cottesloe het ruimte gelaat vir kerke en individuele gelowiges met 'n teoreties-eties-geregverdige apartheid, maar sekere aspekte van die apartheidspraktyk in Suid-Afrika afgewys omdat apartheid vir die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk wat die pas op die beraad aangegee het, 'n metode en nie 'n vaste beginsel was nie. Indien hierdie metode tot onreg of onaanvaarbare toepassings lei, moes dit deur 'n beter metode vervang word. In 'n onstuimige 1960 vir apartheid-Suid-Afrika wou die afgevaardigdes van die Geref Kerk by Cottesloe alarm maak en sê: Daar is gevaar. Apartheid of - soos Ned Geref-afgevaardigdes dit genoem het - differensiasie draai vas in sy uitvoering!

KS-1986 en KS-1990 laat by implikasie of sonder woorde die deur oop vir 'n teoretiese apartheid as 'n metode vir die bereiking van liefde, geregtigheid en menswaardigheid. Dit kon so die teenkant van praktiese of negatiewe apartheid wees. Teen 1990 het praktiese apartheid of apartheid in sy uitvoering misluk en tot onreg en 'n gebrek aan menswaardigheid gelei. Apartheid het op sterwe gelê en sy begrafnis was op hande. Daarom het KS-1986 en KS-1990 alleen praktiese apartheid in Suid-Afrika aangetoon en afgewys. Gedagtig Heyns se doel met die twee dokumente, wou KS-1986 en KS-1990 die roubeklaers van apartheid by sy begrafnis pastoraal-krities begelei (Williams 2006:196-198, 405-406).

Die omskrywing van die saak deur die WBGK in 1997, soos aanvaar deur die Algemene Sinode van 1998, sou tot die heropname van die Ned Geref Kerk in die WBGK lei. Die erns waarmee die WBGK die teologiese en morele regverdiging van apartheid wou afwys, is geïllustreer deur 'n status confessionis daarteen te verklaar. Vir die WBGK van 1997 en die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 1998 het die stelling dat alle mense as gelykes na die beeld van God geskep is, die saak ook op die vlak van 'n belydenis of 'fundamental ' en 'central to the Christian faith' geplaas. Die aanvaarding van die 'joint resolution' met hierdie sinsnede sou albei op die vlak van 'n belydenis bring en die Ned Geref Kerk in staat stel om aan die vereistes van Ottawa in 1982 te voldoen (NGK 1998:413; Strauss 2013:45-46).

Was Cottesloe 1960 'n voorloper van KS-1986 en KS-1990 ten opsigte van die Ned Geref Kerk se afskeid van apartheid? In een opsig het Cottesloe wel die weg vir KS-1986 en KS-1990 gebaan: apartheid is 'n wysigbare metode en nie 'n vaste of konstante beginsel nie. Cottesloe het egter volstaan met die afwys van net sekere sake in Suid-Afrika - dit was 'n minimumkonsensus - en nie van apartheid in sy geheel nie. Daarteenoor het KS-1986 en KS-1990 die toepassing of hantering van apartheid as 'n geheel teen 1986-1990 afgewys. Hierdie mislukte metode vir die bereiking van die beginsels van geregtigheid en menswaardigheid moes deur 'n eenheidstaat waarin alle burgers gelyk is, vervang word (Strauss 1992:953-954).

Die omstandighede ten opsigte van apartheid waarin Cottesloe en KS-1986 en KS-1990 hulle sê gesê het, verskil. Dit bring mee dat die sake wat hulle behandel, verskil. Cottesloe sou apartheid nie as 'n praktiese, gedefinieërde geheel soos KS-1986 en KS-1990 afwys nie. Anders as die besluite of eindverklaring van Cottesloe, sou KS-1986 en KS-1990 van Suid-Afrika by implikasie as 'n eenheidstaat of 'n gegewe uitgaan na die mislukking van apartheid of afsonderlike ontwikkeling. Daarmee sou beide KS-dokumente, soos in die jare van die hoogbloei van apartheid, die Ned Geref Kerk in beginsel opnuut kompromitteer met die politieke status quo (Strauss 1992:955).

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

P.J.S. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorweging

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Die deel van data is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

 

Literatuurverwysings

Boesak, A., 1983, 'He made us all ', in J.W. de Gruchy & C. Villa-Vicencio (eds.), Apartheid is a heresy, pp. 1-9, David Philip, Johannesburg.         [ Links ]

Die Kerkbode (DK), 1961, '06 April', pp. 261-264, s.n., s.l.         [ Links ]

Die Kerkbode (DK), 1980, '15 Nov.', p. 605, s.n., s.l.         [ Links ]

DRC Newsletter, 1961, March.

Du Toit, P.R., 2002, 'Die NG Kerk en sy familieverhoudinge', in P.R. du Toit, H. Hofmeyr, P. Strauss & J. van der Merwe (reds.), Moeisame pad na vernuwing - die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na nuwe relevansie 1974-2002, pp. 131-180, Barnabas, Bloemfontein.         [ Links ]

Federale Sendingraad, 1950 (FSR-NGK), Die Naturellevraagstuk: Referate gelewer op die Kerklike Kongres van die Gefedereerde Ned Geref Kerke in Suid-Afrika, NG Sendingpers, Bloemfontein.         [ Links ]

Federale Sendingraad, 1960 (gebruik as Uniale Sendingkongres), Uniale Sendingkongres van die NG Kerke van Suid-Afrika, s.d., Kroonstad.         [ Links ]

Feit, E., 1971, Urban revolt in South Africa 1960-1964, North Western University Press, Evanston, Il.         [ Links ]

Gaum, F.M., 1997, Die verhaal van die Ned Geref Kerk se reis met apartheid, Hugenote-Uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES), 1958, Acts, s.n., s.l.         [ Links ]

Heyns, J.A., 1989, Teologiese Etiek 2/2, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Kaapse Kerkargief (KKA), n.d., 'K11, PPV 1375', s.n., s.l.

KS-1986, 1986, Kerk en samelewing, Pro Christo, Bloemfontein.         [ Links ]

KS-1990, 1990, Kerk en samelewing, Pro Chisto, Bloemfontein.         [ Links ]

Lombard, R.T.J., 1981, Die Nederduitse Gereformeerde Kerke en rassepolitiek met spesiale verwysing na die jare 1948-1961, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Luckhoff, A.H., 1978, Cottesloe, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Meiring, P.G.J., 2008, 'Die NG Kerk en die Wêreldraad van Kerke - ses dekades van verwagting, verwydering en toenadering', Ned Geref Teologiese Tydskrif 49(3&4), 193-205.         [ Links ]

NGK, 1966, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n., s.l.         [ Links ]

NGK, 1982, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n., s.l.         [ Links ]

NGK, 1998, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n., s.l.         [ Links ]

NGK in Suid-Afrika, 1961, Handelinge van die Sinode, s.n., s.l.         [ Links ]

NGKO, 1964, Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Persoonlike onderhoud, 1981 met P.A. Verhoef op 17 Oktober.

Smit, D.J. 1984, 'Wat beteken status confessionis?', in G.D. Cloete & D.J. Smit (reds.), 'n Oomblik van waarheid, pp. 14-38, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1983, 'Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland: Betrekkinge rondom die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk', DD-proefskrif, Universiteit van Pretoria, Pretoria.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1991, 'Beginsel of metode? Die Ned Geref Kerk en apartheid na Cottesloe', Ned Geref Teologiese Tydskrif 32(3), 436-446.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1992, 'Kerk, staat en politieke modelle in "Kerk en Samelewing-1990"', Hervormde Teologiese Studies 48(3&4), 943-956. https://doi.org/10.4102/hts.v48i3/4.2458        [ Links ]

Strauss, P.J., 1994, 'Die Algemene Sinode van 1966 van die Ned Geref Kerk en apartheid', Studia Historiae Ecclesiasticae 20(2), 195-214.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2002, 'Toenemende isolasie deurbreek', in P.R. du Toit, H. Hofmeyr, P. Strauss & J. van der Merwe (reds.), Moeisame pad na vernuwing, die NG Kerk se isolasie en die soeke na 'n nuwe relevansie 1974-2002, pp. 183-241, Barnabas, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2004, 'Die teologiese en morele regverdiging van apartheid en 'n status confessionis: 'n Vegelyking tussen die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en die Gereformeerde Ekumeniese Sinode se hantering van die saak', Acta Theologica, suppl. ser. 6, 96-121.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, SunMedia, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2011, 'Kerk en samelewing in die dokumente "Kerk en samelewing" na 25 jaar', Ned Geref Teologiese Tydskrif 52(3&4), 511-520. https://doi.org/10.5952/52-3-60        [ Links ]

Strauss, P.J., 2013, 'Kerkwees in die branding - die Ned Geref Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011', Acta Theologica, suppl. ser. 18, 1-156. https://doi.org/10.4314/actat.v33i1S.1        [ Links ]

Strauss, P.J., 2018, 'Die hervormingsdaggetuienis van agt Nederduitse Gereformeerde Kerk-dosente op 31 Oktober 1980 - 'n oproep tot hervorming?', Verbum et Ecclesia 39(1), a1872. https://doi.org/10.4102/ve.v39i1.1872        [ Links ]

Trouw, 1968, 22 Augustus, p. 3.

Van der Merwe, J.M., 1990, 'Ras, volk en nasie' en 'Kerk en Samelewing' as beleidstukke van die Ned Geref Kerk, DD-proefskrif, Universiteit van Pretoria, Pretoria.         [ Links ]

Verkuyl, J., 1971, Breek de muren af!, Bosch & Keuning, Baarn.         [ Links ]

Williams, H.H., 2006, 'Johan Heyns en die NG Kerk en apartheid', DTh-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.         [ Links ]

Wêreldraad van Kerke-Argief (WRK-Argief), Lêers 42.3014/2/2; 230.38 en WRK-Argief Ref. Lêers 215/9.2.2.1/9; 215/9.2.2.1/10; 215/10.1/33.

 

 

Correspondence:
Piet Strauss
straussp@ufs.ac.za

Received: 14 Aug. 2019
Accepted: 30 Oct. 2019
Published: 11 Mar. 2020

 

 

1 . Vergelyk die Kerklike Kongres oor die Naturellevraagstuk van 1950 in Federale Sendingraad (FSR-NGK 1950:9-14, 18-20) van die Ned Geref Kerk.
2 . Die standpunt van 'n afvaardiging van die Ned Geref Kerk Kaapland in 1960 aan die Suid-Afrikaanse Regering (WRK-Argief 230.38).
3 . Vergelyk die besluit van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES 1958:147vv.) te Potchefstroom in 1958 wat nie deur die Ned Geref Kerk afgewys is nie.
4 . Vergelyk die Uniale NG-Sendingkongres te Kroonstad (Federale Sendingraad 1960:108).
5 . Dit is nie onmoontlik dat professor Joh Verkuyl hierdie indruk by Beyers Naudé gekry het nie. Naudé wou deur die stigting van sy CI Cottesloe kontinueer en het later baie naby aan Verkuyl beweeg,
6 . Vergelyk die neerslag van hierdie laer in NGKO (1964:14, 15; sien ook NGK 1966:514, 515, 567).
7 . Vir die verhouding Verkuyl-Naudé kyk die dagblad, Trouw (1968:3) en Strauss (1983:220).
8 . In hulle verklaring op die beraad sê die afgevaardigdes van die Nederduitsch Hervormde Kerk dat afsonderlike ontwikkeling (hulle gebruik hierdie term) die enigste oplossing vir Suid-Afrika is. Daarom verwerp hulle enige vorm van integrasie en daarmee ook die eindverklaring (WRK-Argief 280:38: Cottesloe Consultation Confidential, 16).
9 . Vergelyk J.A. Heyns se voorwood tot KS-1986. Volgens hom gaan dit hierin om die Ned Geref Kerk as kerk en sy taak in die samelewing.
10 . Voortaan slegs 'Getuienis'.
11 . Dieselfde houding is vroeër merkbaar by die Rogramme to Combat Racism (PCR) van die WRK. Vir hierdie program word die revolusionêre bewegings in Suider-Afrika soos die ANC en PAC destyds as die egte en ware verteenwoordigers van die onderdruktes beskou. Hulle wil die bestaande bestel immers nie net hervorm nie, maar radikaal omkeer (Strauss 1983:333-335). Nie die hervorming van Heyns en KS-1986 bring volgens hulle nie bevryding nie, maar revolusie.
12 . Let op die 'joint resolution' se verwerping van gedwonge skeiding van mense op grond van ras wat die 'fundamental Biblical teaching' (op die vlak van 'n belydenis) dat alle mense gelyk na die beeld van God geskape is, ontken. Dit is 'n saak wat as 'n belydeniswaarheid sentraal in die Christelike geloof staan.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons