SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1Liberation reimagined: Counter imperial theology and the gospelBackground perspectives on infinity and God author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.53 n.1 Pretoria  2019

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v53i1.2457 

BOOK REVIEW

 

'n Harde oordeel oor die NG kerk (en ander gereformeerde kerke)?

 

 

Koos Vorster

Unit for Reformational Theology and the Development of the SA Society, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Correspondence

 

 

 

Book Title: Die opkoms en ondergang van die NG Kerk
Author: Jean Oosthuizen
ISBN: 978177609 3267
Publisher: Penguin Random House South Africa, Cape Town, 2018, R199.00
*Book price at time of review

Kort agtergrond: Die outeur bespreek bepaalde ontwikkelings in die NG Kerk in die onlangse verlede en situasies waarin hyself betrokke was, en kom tot die gevolgtrekking dat die NG Kerk besig is om 'onder te gaan'. Hy sien nie 'n toekoms vir die NG Kerkverband in haar huidige opset en getuienis nie. Die bespreking van die outeur se afdanking as nuusredakteur van die blad, Die Kerkbode, in 2013 is toonaangewend in hierdie boek. Dit was die gevolg van Die Kerkbode se aanvanklike borgskap van oop godsdienstige gesprekke en die summiere onttrekking daarvan by die Woordfees van 2013 in Stellenbosch. Die outeur is van mening dat hy deur die NG Kerk se 'leierskorps' onwaardig behandel en verneder is, en hy projekteer hierdie behandeling op die liefdeloosheid, onsensitiwiteit en minagting vir menswaardigheid wat, volgens hom, in die algemene aktiwiteite van die NG Kerk in die verlede en die hede te vinde is. Ter stawing wys hy op die NG Kerk se ommekeer oor Apartheid in die verlede en homoseksualiteit enkele jare gelede. Hy verwys ook na die 'Du Plessis saak' oor Skrifgesag en die noue band van die NG Kerk met die Nasionale Party en die Broederbond in die voor-demokratiese bedeling om daardeur aan te dui hoe ongeloofwaardig die NG Kerk was en is.

Oosthuizen bevraagteken die gereformeerde tradisie se beskouings oor God, die Drie-eenheid, liggaamlike opstanding van Christus, die maagdelike geboorte en verskeie wonders wat in die Skrif beskryf word. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die Skrifgesag 'die olifant in die vertrek' in die NG Kerk se belydenis en getuienis is. Hy bepleit 'n 'post-modernistiese' lees van die Bybel waarin die ervarings van hedendaagse mense die sleutel tot verstaan is. Wat Oosthuizen hieroor sê, is egter niks nuuts nie. In die ontwikkeling van die hermeneutiek oor die afgelope twee eeue het verskeie hermeneutiese teorieë met soortgelyke pleidooie die lig gesien. Hierteenoor het talle gereformeerde Bybelwetenskaplikes die siening oor Skrifgesag van die gereformeerde belydenisskrifte op wetenskaplike wyse verdedig. Hulle het aangedui hoe gereformeerdes die Skrif sien en behoort te lees. Hulle beklemtoon die rol wat die oorspronklike historiese konteks van die Bybel, die genres van die verskillende stof, die grammatikale strukture, die deurlopende heilsopenbaring (teologie) van die Bybel en die moderne leserskonteks in die verstaan van die Bybel moet speel. Hierdie genuanseerde hermeneutiek is deur die verskillende meerdere vergaderings van die NG kerk geïmplementeer (veral ten opsigte van die besluite oor homoseksualiteit). Oosthuizen ignoreer die bydraes waarvan baie deur gedeë teoloë van die NG Kerk soos Heyns, Jonker, König en Theron gelewer is. Die feit dat die behandeling van hierdie toonaangewende lektuur verontagsaam word, skep die indruk van eensydigheid en maak die kritiek ten opsigte van die fundamentalistiese gereformeerde Skrifbeskouing ongeloofwaardig. Hy suggereer ook dat gelowiges wat die gereformeerde Skrifbeskouing ernstig opneem, nie 'denkende' mense is nie. Volgens sy eensydige siening voel sogenaamde denkende mense nie meer tuis in die NG Kerkverband nie en verlaat daarom NG gemeentes. Ook hierdie stelling is ongebalanseerd, want daar is talle gelowige natuurwetenskaplikes wat vrede het met die belydenis oor die gesag van die Skrif en wat op oortuigende wyse die resultate in hulle vakgebiede met die Skrif en God se algemene openbaring versoen soos dit in die gereformeerde dogmatiek verwoord word. Die teoloog, Bavinck (waarna die outeur afkeurend verwys), het reeds vroeg in die twintigste eeu die verhouding tussen geloof en wetenskap uitvoerig behandel en daarop gewys dat geloof en wetenskap nie teenoor mekaar hoef te staan nie. In hierdie verband kan ook op die bydraes van die reformatoriese filosofie gewys word. Hierdie sienings kan nie net met 'n paar penstrepe verwerp word nie. Dit blyk dat die outeur nie heeltemal ingelig is oor hierdie bydraes uit die gereformeerde tradisie nie en dan te maklik die 'teerkwas' van fundamentalisme (sonder dat hy dit definieer) aanlê.

Verder is Oosthuizen se kerkbegrip redelik onder verdenking. In die gereformeerde tradisie is die kerk hoofsaaklik die plaaslike kerk waar die gelowiges amptelik bedien word deur die prediking van die Woord en die bediening van die sakramente. Die kerk praat dus grootliks deur die bediening van die Woord in die plaaslike kerk waar gelowiges vir hulle dienswerk in die koninkryk van God toegerus word (vgl. Ef. 4:11 ev.). Op hierdie wyse word duisende gelowiges in die NG Kerk in die geloof opgebou, vertroos, versorg en geïnspireer. In die prediking word die vrae wat die outeur oor God, Christus, nuwe hemel en aarde, ensovoorts vra, beantwoord. Vir Oosthuizen is die kerk egter hoofsaaklik die Algemene Sinode wat besluite neem. Aan die besluite word die kerk gemeet en dan word bevind dat die kerk 'mislei', 'jok' en 'marginaliseer'. Die kerk moet, volgens hom, ook deur die optrede van 'kerkleiers' wat 'oneerlik' optree en 'boelie' geëvalueer word. Weinig begrip word getoon vir die beskouing van die gereformeerde tradisie, naamlik dat die kerk op aarde 'n strydende kerk wat soekend na die waarheid is en daarom word kerklike besluite in die tradisie nie gekanoniseer nie. Kerklike besluite is menslike besluite en kan verander word met nuwe lig uit die Skrif. Dit gaan dus nie net daarom dat die NG Kerk eers Apartheid regverdig het en dit later as kettery verklaar het nie, maar dat die Algemene Sinode bereid was om dít wat verkeerd is, te verander. Die Reformatore het gepleit vir semper reformanda [altyd reformeer] om sodoende nie weer in rigiede institusionalisering van kerkwees vas te val nie. Gereformeerde kerke het foute gemaak, doen dit steeds en sal dit weer maak. Hulle roeping is egter om in die gees van 'altyd reformeer' foute reg te maak. Die wyse waarop hierdie foute reggemaak word, word in hulle kerkordes aangedui. Hiervoor toon die skrywer min begrip.

Verder moet gevra word of die NG Kerk nie ook gemeet moet word aan die reikwydte van sendingwerk tot diep in Afrika waar baie kerke gestig is en skole gebou is, asook aan die kinderhuise, tuistes vir bejaardes, plekke vir besondere onderrig en versorging van kinders wat deur VIGS as wees agtergelaat is nie. Die feit dat hierdie belangrike aspekte nie in die argumentasie verreken word nie, is problematies. Die realiteit dat baie gemeentes in hulle omgewing doelgerig saam met ander kerke aan 'n morele kompas werk te midde van die morele krisisse in baie sektore van die land, word ook nie vermeld nie.

Oor dalende lidmaatgetalle kan, benewens die verwysing na dalende geboortesyfers, emigrasie en sekularisme in Suid-Afrika, ook 'n ander opmerking gemaak word: In die vorige bedeling het baie Afrikaners vanweë die sosiale druk van die volksteologie aan die Afrikaanse kerke behoort. 'n Staatsdiensamptenaar sou byvoorbeeld moeilik 'n pos sonder die getuigskrif van die dominee kry. Predikante wat daardie tyd in die bediening was, kan van groot gemeentes getuig waar nie veel aangegaan het nie behalwe om die 'vorme' in stand te hou. Hierdie druk het verval en mense het die kerke verlaat. Diegene wat agtergebly het, doen dit egter nie vanweë eksterne druk nie, maar uit innerlike oortuiging. Gemeentes het kleiner geword, maar is meer vernuwend en lewend soos talle uitreik- en liefdadigheidsprojekte van plaaslik gemeentes van getuig. Hiervoor moet die kritikus van die gereformeerde kerk in Suid-Afrika begrip hê.

Laastens moet gewys word op die onwetenskaplike wyse van redeneer wat telkens in die boek opduik. Oosthuizen maak meermale gebruik van kategories-veralgemeende stellings en stereotipering. Op baie plekke maak hy van die besluite, standpunte en optrede van die NG Kerk en 'kerkleiers' karikature, en beveg dan die karikature. Hierdie redeneertrant kom veral voor aan die einde van die boek in sy beskrywing van hoe gelowiges God sien: 'as 'n ou man met 'n wit baard op 'n troon wat mense veroordeel'. Waar word hierdie godsbeeld in die gereformeerde konfessies aangebied? Hy doen dieselfde met sy stelling dat die gereformeerde leer die kreasionisme onderskryf en nie die resultate van die natuurwetenskappe verdiskonteer nie, asook met sy beskrywing van, wat hy meen, die gereformeerde siening is van die nuwe hemel en aarde. Kritiek is nodig in die kerk - ook en veral deur nie-teoloë. Daar moet egter, soos ook in die geval van die joernalistiek, na al die kante van 'n saak geluister word en inligting ewewigtig geanaliseer word voordat dit beoordeel word.

Gereformeerde kerke kan die roete volg deur, soos die outeur bepleit, postmoderne lewensvorms te akkommodeer, of om met verantwoordelike hermeneutiek die Skrif te ondersoek en beginsels vir hedendaagse gelowiges se lewe neer te lê. Verskeie kerkverbande in Europa het eersgenoemde verkies. Die keuse het nie hulle agteruitgang gekeer nie. Inteendeel. Die kerk sal relevant bly indien dit kerk van die Woord is. Latourette het in sy omvattende beskrywing van die geskiedenis van die Christendom aangetoon dat kerke wat hulle unieke aard handhaaf, telkens die erosie van die geskiedenis deurstaan het.

Die boek gee 'n beskrywing van die outeur se ongelukkige verbintenis met Die Kerkbode en die vernedering wat hy ervaar het. In hierdie opsig kan sommige lesers die boek interessant vind.

 

 

Correspondence:
Koos Vorster
editor@indieskriflig.org.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License