SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue1'Disabled motherhood in an African community': Towards an African women theology of disabilityThe doctrine of reconciliation: Its meaning and implications for social life author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.52 n.1 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v52i1.2374 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die status en plek van die Drie Formuliere van Eenheid in twee Suid-Afrikaanse gereformeerde kerke

 

The status and real position of the Three Formulas of Unity in two South African Reformed Churches

 

 

Piet J. Strauss

Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The Three Formulas of Unity, which was accepted by the National Synod of Dordrecht (1618-1619) as confessions of faith, formulating the common faith of the Dutch Reformed Church, were also accepted by churches in other parts of the world. Two of them are the Dutch Reformed Church and Reformed Churches in South Africa. The Synod of Dordt regarded the formulation of core issues of faith in the Three Formulas as in accordance with Scripture. By doing so, they did not proclaim that every word and sign in the Formulas were according to Scripture, but the doctrine or faith as formulated. The Dutch Reformed Church and the Reformed Churches both indicate that they accept this viewpoint regarding the Three Formulas. In the case of the former, however, it sometimes lacks the using of the Formulas consequently in the life of the church.


 

 

Inleiding

Die status van spesifiek die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB 1561), die Heidelbergse Kategismus (HK 1563) en die Dordtse Leerreëls (DL 1619) in kerke met 'n verbintenis met die Nederlandse Gereformeerde kerk van die sewentiende eeu, lei tot uiteenlopende reaksies. Hierdie geskrewe belydenisse of formuliere is by die Nasionale Sinode van Dordrecht in April tot Mei 1619 as drie formuliere aanvaar wat die geloofseenheid van die betrokke kerke1 uitdruk (Donner & Van den Hoorn s.a.:325). Dit is 'n eenheid in geloof wat die spilpunt is waarom die eenheid van hierdie kerke draai. Daarmee het die Nasionale Sinode van Dordrecht in 1619 op die besluit van die Sinode van Emden in 1571 voortgebou - die eerste Sinode in die Nederlandse gereformeerde lyn - dat die NGB en die HK hulle twee 'formulieren van eenigheid' is (Biesterveld & Kuyper 1905:35; Bouwman 1985:569). Die Dordtse Sinode van 1618-1619 se DL het hulle belydeniseenheid vermeerder na drie formuliere.2

Du Plooy (1988) glo dat die konfessionele en kerkordelike ontwikkeling van die Gereformeerde Kerk in Nederland van die sestiende en sewentiende eeu geïntegreerd verloop het. Hy stel ook dat die belydenis- of kernwaarhede in hierdie tradisie, wat as norma normata [tweede norm] ondergeskik geag is aan die Bybel as die norma normans [norm van die norme], ook in die kerkordes van hierdie tradisie deurkom; ook dat Skrif en belydenis - in hierdie rangorde - die Dordtse Kerkorde van 1619 (DKO 1619) bepaal (Du Plooy 1988:11). Du Plooy (1988) meen ook dat die belydeniseenheid by Dordrecht 1618-1619 sy kerkorde voorafgegaan het en dat die DKO 1619 die:

grondpatroon van die konfessie gevolg (het). Die kerkorde wou die modus quo wees waarvolgens die eenheid konkreet belewe word en waarvolgens die reg van God in die kerke bedien word.

Die Calvinistiese Reformasie wou dus nie die Christusregering en kerkregering van mekaar losmaak nie, maar juis in die kerkregering en in al die kerkordes as die resultaat van kerkregtelike denke 'n deurgang en beveiliging bied vir die Christusregering. (p. 10)3

Christusgesag is Woordgesag (Jonker 1965:12) en die grondreëls van die Skrif vir die kerk is tydens:

die Reformasie in konfessies saamgevat, en wanneer die kerke dan op grond van die eenheid van die leer saamkom, het hulle ook aan die nadere uitwerking van kerklike ordes aandag gegee (Du Plooy 1988:10).

Pont (1981:8) wys daarop dat sommige reformatoriese kerkordes as 'n aanhangsel by die belydenisse van die betrokke kerk gevoeg is. Hy wys op die verband in inhoud tussen die betrokke kerkorde en die Geneefse Kategismus, Confessio Gallicana, Confessio Scotica, Confessio Belgica en die HK.

Bogenoemde kan soos volg opgesom word: in die Dordtse kerklike tradisie wou die betrokke kerke van die kerkorde 'n modus quo maak wat op die Skrif en belydenis bou. Die kerkorde moes praktiese kanale verskaf om aan die Woord en die daarop gebaseerde belydenis 'n vrye loop en heersende rol in die regering van die kerk te gee. Anders gestel: met die kerkorde as ordelike kanale vir die kerklike lewe soos verstaan vanuit die Skrif en die belydenis, wou hierdie Reformatore die Christusregering in die kerk verseker (Strauss 2010:4).

Teen hierdie agtergrond ontstaan die vraag na die status en die plek van die Drie Formuliere van Eenheid in kerke wat dit aanvaar. Daarom konsentreer hierdie artikel op die status en plek van die Drie Formuliere in twee - hoofsaaklik - Suid-Afrikaanse gereformeerde kerke en die neerslag hiervan in hulle kerkordes en enkele ander stukke met kerkordelike kante. Die aandag is nie op die houding van die lidmate van gemeentes toegespits nie, maar wel op verteenwoordigende vergaderings van gemeentes of kerke soos sinodes sowel as verskynsels in die breë kerklike lewe; dus op sinodes wat deur die besluite wat aan die orde kom, namens die betrokke kerkverband of kerkegemeenskap praat.

Die kerke waarop gefokus word, is die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK). Beide kerke wou met hulle belydenisskrifte en kerkordes die Dordtse pad van 1618-1619 loop, maar ten opsigte van hulle kerkordes ook by die 'eise van die dag' aanpas (vlg. respektiewelik Du Plooy 2015:6; en Vorster 1960:13). Daarom is die Dordtse Sinode van 1618-1619 se hantering van die status en plek van die Drie Formuliere van Eenheid vir ons tema belangrik.

 

Die status en plek van die Drie Formuliere by die Dordtse Sinode van 1618-1619

Die onderskrywing van die Drie Formuliere van Eenheid deur die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619, naamlik omdat ' alle de articulen ende stucken der leere ' [daarin] 'begrepen in alles met Goodts woort over een comen', is nie 'n bewoording of bepaling in die DKO nie. Hierdie omskrywing kom uit die Sinode se ondertekeningsformulier vir predikante wat op 17 Mei 1619 tydens sy 164e sitting aanvaar is. Predikante het met die ondertekening van die formulier waardeur hulle hulself by die leer of artikels 'begrepen' in die Drie Formuliere aansluit, hulle ook aan die geloofseenheid verbind wat daarin verwoord word. Hulle het immers in die ondertekeningsformulier belowe om hierdie 'voorss. leere' ywerig voor te staan en niks daarteen in die geheim of openbaar te leer nie, hulle aan die oordeel van kerkvergaderings daaroor te onderwerp en enige tyd - op grond van 'ghewichtighe oorsaecken' en die eenheid en suiwerheid van die leer - navrae daaroor te beantwoord (Kuyper sa:186-188; Pont 1981:174-175).

Uit 'n tekseksegetiese hoek blyk dit dat dit hier om die leer begrepe of vervat in die Drie Formuliere van Eenheid gaan. 'n Leer waarna die voorsitter van die 18 kommisarisse-politiek op die Sinode (op las van die Nederlandse State Generaal), Marthinus Gregorii, verwys as 'de dogmata en de essentia doctrinae en niet de methode of phraseologie'. Gregorii het versoek dat die afgevaardigdes uit die buiteland saam hieroor besluit as die waarheid van die leer van die NGB en HK. Dit moes opnuut deur Dordt op respektiewelik 30 April en 1 Mei 1619 oorweeg (Donner & Van den Hoorn s.a.307, 320-325) en aan die Heilige Skrif en die belydeniskrifte van ander kerke getoets word. Die Nederlandse afgevaardigdes moes na die vertrek van hierdie afgevaardigdes die teks versorg. Hierdie versoek is toegestaan (Kuyper sa:323-326). Jonker (1994:155) wys in hierdie verband op 'n 'speelruimte' tussen die saak en die formulering wat by Dordt aanwesig was.4 Terselfderdtyd toon die aandeel van buitelandse afgevaardigdes aan die aanvaarding van die Drie Formuliere en die toetsing daarvan aan belydenisse van ander gereformeerde kerke, die ekumeniese inslag by die Drie Formuliere van Eenheid.5

In die quia-quatenus-debat in die negentiende eeu oor die wyse van aanvaarding van die geloofsbelydenisse van gereformeerde kerke ('omdat' of 'in soverre as' wat dit met die Bybel ooreenstem; Coetzee 2016:3; Strauss 2015:23) sowel as in die latere uitwysing van nie-leerstellige of nie-geloofsmatige foute in die Drie Formuliere (Coetzee 2016:4; NGK 1998:414-415; Strauss 2013:39-40), sou die kwessie van gesagvolle of skriftuurlike essentia doctrinae weereens relevant word. Dit is immers ondenkbaar dat martelare soos Guido de Brès, opsteller van die NGK in sy oorspronklike vorm en wat in 1567 'n galgdood sterf, hulle lewens óók vir die fraseologie of nie-leerstellige aspekte van die NGB sou gee. Dit kon by hulle slegs om die kernwaarhede van die geloof as belydeniswaarhede gegaan het wat hulle eie tyd oorstyg (Bouwman 1985:570; Van Bruggen 1971:13).

Die Franse Sinode van La Rochelle (1607) wat in die NGB 'n tweelingbroer van sy Confessio Gallicana herken het, was eweneens daarvan oortuig dat die kerklike belydenis alleen gesag het in - let wel - dit wat dit as geloof bely (Polman sa:87).

Hierdie agtergrond werp meer lig op Dordt se 'leer begrepen in' van die Drie Formuliere van Eenheid. Dit gaan hier om gesagvolle geloofsformuliere of -formulerings wat as geloofsbelydenisse by die Dordtse Sinode in 1619 aanvaar is (Donner & Van den Hoorn s.a.:325; Kuiper 1995:314). Die Drie Formuliere dra afgeleide Woordgesag in dit wat hulle wil wees, naamlik belydenisse van geloof - belydenisse wat, volgens Bavinck (1967:401), in status ver onder die Skrif staan, maar in hulle formulering van die geloof skriftuurlik is.

 

Verspreid in die DKO en ander stukke

Die DKO verwys nêrens eksplisiet na die status, plek of die name van die Drie Formuliere nie. In die stryd teen die Arminiane en die ontstaanstyd van die DL, was belydeniskwessies in die Gereformeerde Kerk in Nederland teen 1619 waarskynlik so in die kern van die aandag, dat so iets vanselfsprekend was.6 Dit wil voorkom asof die aanvaarding en die beskrywing van die Drie Formuliere van Eenheid as die 'zuivere leer' veronderstel word.7 Verwysings hierna in algemene terme is verspreid oor die DKO aanwesig.

Daar is van predikante en teologiese professore verwag om die 'belijdenis des geloofs der Nederlandsche kerken' te onderteken. Dat hierdie bewoording die NGB aandui, word duidelik uit die bepaling dat onderwysers ('schoolmeesters') in die plek van 'de artikelen' die 'Christelijke Catechismus' (vir 'n Nederlander die HK) kan onderteken. Die klassis moet bowendien die bedienaars van die Woord deur die 'examinatie of onderzoeking der leer en des levens' neem. Op sy beurt vereis deelname aan die nagmaal 'n belydenis van die gereformeerde 'religie'. Daarby moes die tweede diens op 'n Sondag aan die 52 Sondagsafdelings van die HK gewy word (Biesterveld & Kuyper 1905:242-244; Pont 1981:178-184).

Daar is reeds aangetoon dat die konfessionele en kerkordelike ontwikkeling van die Gereformeerde Kerk in Nederland in die sestiende en sewentiende eeu geïntegreerd ontwikkel het en dat die Bybel as norma normans en die belydenisse van die kerk hieraan ondergeskik, as norma normata beskou is; ook dat Woord en belydenis - in hierdie rangorde en met laasgenoemde 'n hersienbare hulpmiddel vir die verstaan van eersgenoemde - geen klaargemaakte kerkorde of kerklike lewe daargestel het nie. Tog wys skrywers tereg op sekere gegewens vanuit die Skrif en die belydenis as vertrek- of kernpunte vir die regering en daarom die orde van die kerk.

'n Universele opdrag aan die kerk wat deur gereformeerdes met 'n Nederlandse konneksie verstaan is, is dat 1 Korintiërs 14:40 bepaal dat alles (in die kerk) 'gepas en ordelik' moet geskied (Kruger et al. 1966:11; Nauta 1971:8; vgl titel by Coertzen 1991). Sonder direkte Skrifverwysings kan dit aanvaar word dat die skriftuurlike bediening van die Woord, die sakramente en die kerklike tug - soos verwoord in NGB artikel 29 - die merktekens van die ware kerk is waardeur Christus sy kerk regeer en versorg. Dit word ook aanvaar dat hierdie opdrag van God in die lig van Efesiërs 4 en HK Sondag 21 in die bemiddeling van Christus as die Hoof en in die Heilige Gees as die Begeleier van die kerk, sy oorsprong, verankering en leiding vind. Jonker (1965) noem die Hoofskap van Christus van die kerk 'n belydeniswaarheid. Christus regeer sy kerk deur sy Woord en Gees sowel as die ampte of dienste as gelykwaardige bedienings van die Woord (Jonker 1965:5; Strauss 2010:39-43). Nuttig vir die regering van die kerk is NGB artikel 32 wat op Voetius se ius divinum positivum en ius divinum permissivum stuit. Eersgenoemde gaan oor God se opdragte aan sy kerk en laasgenoemde oor kerklike (of menslike) bepalings wat gehoorsaamheid aan God en die eenheid van die kerk moet bewaar en bevorder (Du Plooy 1987:12; NG Kerk-Uitgewers 1982:31).

Die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619 het aan die Drie Formuliere van Eenheid die gesag van 'n norma normata in die kerklike lewe gegee, omdat die geloofswaarhede of leer daarin begrepe met die Woord van God ooreenkom. As kern- of belydeniswaarhede wat op die Bybel gebaseer is, moes die kerklike lewe, waaronder die kerkorde en kerkregering, ook rondom hierdie waarhede draai. Hierdeur word die Hoofskap van Christus oor sy kerk gewaarborg (Strauss 2010:39-43). Daarby was die eenheid in hierdie geloofswaarhede die akkoord of ooreenkoms van die kerklike gemeenskap (Smit 1983:39).

Die DKO aanvaar die amptelike benamings van die Drie Formuliere deurgaans as veronderstel en die Sinode van 1618-1619 verwys in sy ondertekeningsformulier ook opsommend na:

alle de Artikelen ende stukken der Leere, in de Belijdenis en Catechismus der Gereformeerde Nederlandsche Kerken begrepen, mitsgaders de Verklaring over eenige Poincten der voorseyde Leere in de Nationale Synodus, Anno 1619 tot Dordregt gedaan, in alles met Gods woord over eenkomen. (Kuyper sa:186-187)

Tog bou die Sinode op die Woord en die belydenis as bepalend vir die DKO en die res van die kerklike lewe. Om dit te illustreer, bepaal DKO artikel 31 dat die besluite met die 'meeste stemmen' op meerdere vergaderings as 'vas en bondig' beskou word, tensy dit as in stryd met die 'Woord Gods' en 'de artikelen in deze generale synode besloten' bewys kan word (Pont 1981:18). Skrywers aanvaar dat die artikels van die generale Sinode waarna verwys word, op die DKO of kerkorde dui (Jansen 1952:151-152; Kruger et al. 1966:191; Visser 1999:136).

Vir die DKO het sy orde vir die dienste of ampte, die vergaderings en samekomste, opsig oor die leer, sakramente en seremonies van die kerk en die kerklike tug voortgevloei uit die Woord, en onder meer ook die Drie Formuliere van Eenheid, waaronder NGB artikel 29 met sy drie merktekens van die ware kerk.8

 

Die status en plek van die Drie Formuliere in die GKSA

Soos DKO 1619 bevat die GKSA-KO, anders as NGK-KO 1962 (NGK 1964:2), ook nie 'n artikel ten opsigte van die status en plek van die Woord en die belydenis nie. In sommige artikels van die GKSA-KO kom daar wel verwysings na die Woord en die Drie Formuliere van Eenheid voor, maar die eintlike besonderhede daarvan - soos by Dordtrecht in 1618-1619 - kom in die ondertekeningsformuliere vir ampsdraers voor (CJBF 2015:29, 122-125).

Du Plooy (2015) wys daarop dat die Sinode van Reddersburg (1862) van die GKSA wat in 1859 gestig is, 'besluit het om die DKO vir die kerkregering te aanvaar'. Ooreenkomstig artikel 86 van hierdie GKSA-KO is dit sedertdien 'hier en daar aangepas en gewysig' (Du Plooy 2015:6). Kruger et al. (1966:40) oordeel dat die GKSA by hierdie Sinode die DKO 'aangepas by landsomstandighede as basis van die kerkregering aanvaar' het. Hierdie vertrekpunt is waarskynlik die groot rede waarom die GKSA die status en plek van die Drie Formuliere van Eenheid op die wyse van DKO 1619 hanteer.

GKSA artikel 53 bepaal dat die bedienaars van die Woord en die professore van die Teologiese Skool die Drie Formuliere van Eenheid 'soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht 1618-1619 onderskryf en onderteken'. Min of meer dieselfde maatreëls as in die DKO word vir voornemende bedienaars neergelê wat weier om die Drie Formuliere te onderteken. Dieselfde geld in artikel 54 vir verkose ouderlinge en diakens en hulle wat as proponente deur die klassis toegelaat word (CJBF 2015:29). Die belydenisskrifte van die GKSA word bloot as die Drie Formuliere van Eenheid aangedui. Watter formuliere dit is, is in die GKSA bekend, maar word nie hier by die naam genoem nie. Die aanvaarding van die drie ekumeniese belydenisse - soos genoem - word waarskynlik deur die NGB gedoen.

Met 'onderskryf' en 'onderteken' impliseer hierdie formulering, wat geen nadere kwalifikasie van die Drie Formuliere gee nie, dat hierdie belydenisskrifte ongekwalifiseerd aanvaarbaar en dus skriftuurlik is. Gregorii se onderskeid tussen die essentiae doctrinae en methode of phraseologie of die standpunt dat die quia-onderskrywing oor leerstellige sake gaan, is afwesig. Steun vir die Drie Formuliere omdat (quia) dit met die Skrif ooreenkom (die quia-standpunt) soos deur gereformeerdes gehandhaaf, sou op hierdie basis beteken dat die methode en phraseologie sowel as ander nie-leerstellige aspekte daarby ingesluit is. Met so 'n houding gaan die GKSA aan Dordt se hantering van die saak verby en gee dit daaraan 'n gevolg wat laasgenoemde nie bedoel het nie. Wat meer is, wanopvattings vir vandag se begrip, naamlik dat Paulus die skrywer van die Hebreërbrief en Moses van die Pentateug is (NGB - NG Kerk-Uitgewers 1982:10), word daarmee onderskryf.

Kerkregtelikes in die GKSA borduur hierop voort met die bewering dat hierdie onderskrywing en ondertekening 'opreg en sonder voorbehoud verklaar' dat die Drie Formuliere van Eenheid 'in alles met Gods Woord ooreenkom' (Kruger et al. 1966:332; Spoelstra 1989:299; Visser 1999:217-218). In die lig van ons verstaan van Dordrecht 1618-1619 se leer 'begrepen' in en die voorgeskiedenis van hierdie formulering, lyk 'in alles' na 'n misleidende vertolking van Dordt se quia-standpunt.

Hoewel 'n verduideliking van die betekenis van 'onderskryf en onderteken' van die Drie Formuliere van Eenheid in die GKSA-KO ontbreek, werp hulle ondertekeningsformuliere vir predikante, teologiese professore, ouderlinge en diakens van die GKSA meer lig op die saak. Die ondertekeningsformuliere vir predikante, professore, ouderlinge en diakens praat van die leer of leerstukke 'vervat in die Drie Formuliere van Eenheid'. Hierdie 'leer vervat in' is 'n verafrikaansing van Dordt se 'leer begrepen in'. Die klem val hier ook op die skriftuurlike gesag van die leer verwoord in die Drie Formuliere. Hierdie verwoording word in die ondertekeningsformulier vir proponente gewysig. Hier gaan dit oor die 'artikels en stukke van die leer wat in die belydenisskrifte van die GKSA saamgevat is' wat 'in alles' ooreenkom met die Woord van God (CJBF 2015:122-125). Die woorde in alles kan die indruk skep dat die Drie Formuliere woord vir woord met die Woord - ook in hulle fraseologie en nie-leerstellige uitdrukkings - ooreenkom. 'In alles' kan natuurlik ook oor alles van die geformuleerde leer of leerstukke handel.

Hiermee handhaaf die GKSA die kern van die ondertekeningsformulier van Dordt. Ongelukkig is daar nie 'n sinodale motivering van die GKSA waarop die hand gelê kon word wat die begrip in alles verduidelik nie. Dit laat twyfel of die GKSA op sinodevlak hieroor van 'n gemeenskaplike, deurtrapte oortuiging uitgaan. Die vermoede ontstaan dat die GKSA-KO die DKO in sy ondertekeningsformulier instinktief navolg. 'n Navolging wat ook uit sy nie-vermelding van die name, status en plek van die Drie Formuliere van Eenheid, soos in die DKO, blyk.

 

Die Drie Formuliere in die lewe van die GKSA

Hoe dit ook al sy, sy verafrikaansing van uitdrukkings in die Dordtse ondertekeningsformulier dui op 'n navolging van die GKSA van Dordt: die quia-standpunt ten opsigte van die geformuleerde leer of geloof in die Drie Formuliere. Hierdie is 'n formulering wat kernwaarhede van die Skrif weergee en daarom gesag as 'n norma normata dra en 'n vertrekpunt vir alle kerklike standpunte en werk moet wees.

Die nuwe doop- en nagmaalsformuliere van sy Algemene Sinode van 2018 toon die bepalende plek van die Drie Formuliere van Eenheid in die denke van die GKSA (GKSA Agenda Algemene Sinode 2018:273-297). Hierdie tendens sowel as nie-geykte kerktaal, dui op voortgaande Reformasie.

Die formulier vir die doop aan 'kinders' bestaan uit drie hoofdele: die HK se sonde, verlossing en dankbaarheid. Onder sonde word bely dat 'ons en ons kinders' in sonde ontvang en gebore is en daarom onder die toorn van God is - woorde en begrippe uit die tradisionele doopsformulier en HK Sondag 3 (NG Kerk-Uitgewers 1982:40). Ten opsigte van die verlossing, verseël die doop aan die gelowiges die afwassing van die sondes deur Christus (HK Sondag 26; NG Kerk-Uitgewers 1982:57). Die doop geskied in die naam van die Vader, die Seun en die Gees. Die Vader wat daarmee sy genadeverbond verseël, die Seun wat die afwassing van die sonde deur sy bloed verseël en die Heilige Gees wat verseël dat Hy in 'ons' wil woon en 'ons' tot lidmate van Christus wil heilig. Die Heilige Gees lei ons om dankbaar as verlostes te leef. Die HK se aanduiding van die sakramente as tekens en seëls van die 'belofte van die evangelie' (HK Sondag 25 en 26; NG Kerk-Uitgewers 1982:56-7) spreek in hierdie formulier deurgaans mee (GKSA Agenda Algemene Sinode 2018:273).

 

Die nuwe verkorte nagmaalsformulier toon dieselfde tendens

Na Paulus se instellingswoorde vir die nagmaal in 1 Korintiërs 11 volg die noodsaak van 'n selfondersoek voordat die nagmaal gebruik word. 'n Selfondersoek wat op die lyne van die HK oor sonde, verlossing en dankbaarheid in 'ons' verlossing loop. Eerstens moet 'ons' nadink oor 'ons' sonde en vervloeking en 'ons' in diepe berou hieroor voor God verootmoedig. Tweedens moet ons God se belofte van vergifnis en toegerekende geregtigheid of vryspraak op grond van die soenverdienste van Christus glo. Derdens moet ons die 'opregte begeerte' hê om ons hele lewe in dankbaarheid aan God te wy. Verder word die 'gedagtenis' aan die lyding van Christus - vir ons - tydens sy hele lewe op aarde deur die sakrament verseël. Daarby gee die tekens van brood en wyn aan ons die versekering dat Christus Homself in ons plek oorgegee het, ons liefhet en sy verbond van genade met ons sluit (GKSA Agenda Algemene Sinode 2018:280-281).

Op individuele vlak hanteer teoloë in die GKSA steeds aspekte van die status en plek van die belydenis in die gereformeerde kerkordes en in die kerklike lewe as aktuele kwessies. In 1983 skryf C.J. Smit 'n akademiese artikel oor die Bybel en die kerkorde. 'n Jaar later publiseer hy sy Theologicae Magister-verhandeling oor die skriftuurlike fundering van 'n kerkorde: 'God se orde vir sy kerk' (Smit 1983; 1984). In 1987 handel A. le R du Plooy se intreerede as hoogleraar oor 'Die verband tussen die Skrif, konfessie en kerkorde volgens die gereformeerde kerkreg' (Du Plooy 1988). Coetzee (2016) wys op sake hieraan verwant met 'n artikel oor 'Die hermeneutiek van die belydenisskrifte'. Die aktualiteit van die saak vir en in die GKSA blyk uit hierdie bydraes en bogenoemde formuliere.

 

Die status en plek van die Drie Formuliere in die NGK

Hoewel een van die opstellers van die NGK se kerkorde van 1962 (NGK-KO 1962) - die eerste kerkorde van die eerste Algemene Sinode van hierdie kerk - J.D. Vorster, aantoon dat NGKO 1962 en daarmee sy opvolgers 'die Dordtse Kerkorde aangepas by die eise van ons dag' wil wees (Vorster 1960:13), hanteer NGK-KO 1962 die detail van die status en plek van die Skrif en die belydenis in die NGK kortweg in NGK-KO artikel 1.

Hierin word verklaar dat die NGK op die Bybel as die heilige van onfeilbare Woord van God gegrond is (NGK-KO 1964:2). Hierdie verwysing impliseer dat die Bybel die objektiewe norma normans vir die lewe van die NGK is; ook dat die Bybel gesag dra in sy boodskap wat God-Drieënig en sy redding aan die mens openbaar. Die Bybel openbaar ook redding vir daardie mense wat deur die Woord en Gees in die Here glo: 'n lewende, opregte geloof in God-Drieënig en 'n aanvaarding van die boodskap van die Bybel - 'n boodskap wat in sy gesag en geldigheid nie van die subjektiewe erkenning van mense afhanklik is of slegs kwesbare menslike getuienis aangaande God en sy openbaring is nie (Heyns 1992:79).

Die gees en houding van die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619 is ook in NGK-KO-1962 (vgl. dieselfde bewoording by NGK-KO 2015:1 artikel 1) se verwoording van die status van die Drie Formuliere van Eenheid in die NGK hoorbaar:

Die leer wat die Kerk in ooreenstemming (dus quia) met Gods Woord bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Enigheid ('Enigheid' is 'n verafrikaansde Nederlandisme van 1962 - PJS)9 soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe-en-dertig Artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dortse Leerreëls. (NGK-KO 1964:2)

Die Dordtse quia (Strauss 2015:19) gaan hier dus om 'die leer wat die kerk bely'. Dit beteken dat die Drie Formuliere in dít wat dit as geloof bely - die leer - ooreenstem met die Skrif en daarom gesag dra. In die Bybel gaan dit oor gesag in sy boodskap, terwyl dit in die Formuliere vir die NGK gaan om gesag in dit wat hulle wil wees: geloofsbelydenisse. 'Uitgedruk in' is 'n vertaling uit Afrika van Dordt 1619 se Nederlandse 'begrepen in' (Kuyper sa:186-187; Strauss 2008:109).

Daarby handhaaf die NGK die standpunt dat die drie ekumeniese belydenisse deur middel van NGB artikel 9 aanvaar word. Daarom kom die Drie Formuliere van Eenheid in NGK-KO 1962 alleen in artikel 1 voor.

As gevolg van onrus in die NGK en ander gereformeerde kerke oor 'foute' van verskillende aard in die Drie Formuliere van Eenheid, neem die Algemene Sinode van 1998 deeglik standpunt in oor die status en plek van hierdie Formuliere in die NGK (Engelhard & Hofman 2001:51; NGK 1998:60; Strauss 2013:39).

Om sy standpunt in perspektief te stel en duidelik te sê waarteen hy kies en waarvoor hy staan, wys die Algemene Sinode die quatenus-houding by die aanvaarding van die Drie Formuliere van Eenheid en daarmee van 'n belydenisvryheid af. Die NGK besin opnuut oor die saak, maar staan by die quia-standpunt ten opsigte van die leer soos verwoord in die Formuliere. Die teenstelling tussen vorm en inhoud wat 'n kritiese ruimte teenoor die konfessies ooplaat, word ook verwerp. Daarby weier die Algemene Sinode van 1998 om die belydenisskrifte wat hy aanvaar slegs as historiese aanduidings of kontekstuele of konteksgebonde geskrifte te sien.

Die Algemene Sinode beskou sy erkende belydenisskrifte - soos verwoord in artikel 1 NGK-KO - as 'n gesagvolle uitdrukking van die 'gereformeerde geloofsoortuiging omdat (quia) hulle met die Woord van God ooreenstem'. Hulle het gesag in dit wat hulle volgens die Skrif as geloof bely. Dit beteken nie dat hulle oor dieselfde onfeilbaarheid as die boodskap van die Bybel beskik nie. Belydenisskrifte bly mensewerk en die sondaarmens se gebroke geloofsantwoord op God se verlossingswoord. Besware teen die belydenisskrifte moet die pad van gravamina of beswaarskrifte by kerkvergaderings loop. Totdat die Drie Formuliere amptelik gewysig is, bly hulle in hulle geloofsformulering bindend vir die lidmate en werk van die NGK sowel as 'n norma normata vir die NGK as geloofsgemeenskap. Belydenisskrifte is meer as tydsgebonde akademiese uitsprake van teoloë. Vir gereformeerdes met 'n affiniteit vir die Sinode van Dordtrecht 1618-1619, handel hierdie Formuliere oor die 'algemene ongetwyfelde Christelike geloof soos die kerk dit op grond van die Skrif bely' (NGK 1998:414-415). Anders gestel: dit gaan hier om die heilige algemene Christelike geloof wat in die kerklike lewe as die kern van kerkwees sigbaar moet word.

Met hierdie siening sluit die NGK aan by die Christian Reformed Church in North America (CRCNA), een van sy vennote in gereformeerde ekumeniese sake. Hulle gemeenskaplike houding oor die wyse van aanvaarding van die Drie Formuliere van Eenheid ondervang probleme oor die saak wat moderne gereformeerdes nie langer kon ignoreer nie. Vir die CRCNA beteken instemming met die Drie Formuliere van Eenheid instemming met 'those doctrines which are confessed', omdat (quia) dit in die Bybel geleer word. Die Formuliere bind die gelowiges nie met hulle teksverwysings of terloopse opmerkings nie; ook nie met dinge wat 'incidental' in die formulering van die gereformeerde geloof is nie. Die Formuliere bind deur die geloofswaarhede wat dit bely (Engelhard & Hofman 2001:51).

Soos reeds gestel, is belydeniswaarhede kernwaarhede van die geloof wat juis daarom 'n bepalende invloed op die lewe van die kerk as 'n geloofsgemeenskap het. As 'n belydende kerk moet die NGK in sy amptelike stukke en georganiseerde kerklike lewe blyke van hierdie kernwaarhede gee.

 

Die Drie Formuliere in die lewe van die NGK

Wat die inhoud van NGK-KO 1962 en sy opvolgers betref, is daar aanwysers wat op die primaat van die Woord, die kernposisie van die gereformeerde konfessies en 'n gereformeerde kerkbegrip dui. NGK-KO artikel 1 beskou die status van die Drie Formuliere van Eenheid immers as 'n gesagvolle verwoording van die gereformeerde geloofsoortuiging. Daarmee word die Dordtse Sinode nagesê en latere probleme rondom die aanvaarding van die drie formuliere reeds hanteer. Die vraag is vervolgens watter plek die Drie Formuliere in die inhoud van die NGK-KO het. Is die NGK-KO ten diepste eietydse kanale vir die regering van die NGK deur Woord, belydenis en Gees?

Omdat die NGK-KO 2015 in sy hoofstukindeling die DKO navolg, gee dit orde aan die hele kerklike lewe. Hiermee sluit dit by NGB artikel 29 se onderhouding van die drie kenmerke van die ware kerk aan. Boonop handhaaf die NGK-KO die reformatoriese anti-hiërargiese beginsel van Christus as die enigste Hoof ten opsigte van die ampte (die NGB artikel 31 met sy 'hulle het een en dieselfde mag en gesag, omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is - die enigste Hoof van die kerk'). In sy stuur van afgevaardigdes na meerdere vergaderings, bly die NGK - op een Sinode na - egter nie by 'n gelyke aantal ouderlinge per gemeente of, indien die diakens bygetrek word, 'n gelyke aantal ouderlinge en diakens nie. NGK-KO artikel 4.2 se gelykwaardigheid van die besondere ampte word formeel erken (NGK-KO 2015:2), maar nie konsekwent gehandhaaf nie. Die verskillende vergaderings van die kerk - soos die verskillende ampte - verskil volgens die NGK-KO eweneens in opdrag, maar nie in gesag of in die bevoegdheid om sy agenda in die kerkorde aan hom toegewys, te hanteer nie.

Daarby betrek NGK-KO 2015 artikel 4 dienswerk van al die gelowiges, van die 'heilige, algemene Christelike kerk' van HK Sondag 21, by die werk van die gemeente. Ten opsigte van die suiwere bediening van die sakramente, evalueer die NGK die doop egter - skynbaar - hoër as die nagmaal. By eersgenoemde vind daar 'n behoorlike ondersoek van die lewe van die doopouers plaas, terwyl deelname aan die nagmaal aan die oordeel van die gemeentelidmaat of besoeker self oorgelaat word en hoegenaamd nie gekontroleer word nie. 'n Geslote kommunie (Kleynhans 1988:85; NGK 1978:710, 711, 922) sou in hierdie geval skynbaar op liefdeloosheid en 'n geslotenheid van die kerk teenoor mense neerkom. Dieselfde lot tref die handhawing van die kerklike tug wat in NGK-KO 2015 formeel gehandhaaf word, maar in die praktyk dikwels nie verder strek as tug oor predikante nie. Ten opsigte van die tug is die NGK dus 'n dominees- en ('n gedeeltelike) volkskerk met gedragsvryheid na eie goeddunke aan nie-predikante lidmate!10 Die NGK vertolk NGB artikel 36 oor die verhouding van die kerk met die staat ook op sy eie manier in NGK-KO artikel 67. NGB artikel 36 se bevordering van die kerk deur die staat word in twee punte saamgetrek, naamlik dat die staat 'n dienaar van God tot ons beswil is (Rom 13) en dat die kerk op niks meer kan aanspraak maak op die 'regsbepaalde beskerming' van die owerheid nie (NGK-KO 2015:19).

In gereformeerde kringe is die NGK daarvan beskuldig dat hy die Drie Formuliere van Eenheid formeel (juridies en amptelik) aanvaar, maar dat hy dit in die praktyk van die kerklike lewe - breedweg - nie as 'n norma normata gebruik nie. Hierdie skerp oordeel is ook gedeeltelik waar as daar na die formuliere vir die bevestiging van kerkraadslede en ander persone gekyk word.

In die 'Handleiding vir die erediens' van die Diensgroep vir Gemeente-ontwikkeling van die Algemene Sinode word voorbeelde van liturgiese ordes, verskillende formuliere vir die bediening van die doop en die nagmaal sowel as die bevestiging van kerkraadslede en 'gemeenteleiers' in 2010 vir gemeentes aangebied. Die handleiding volg op die besluit van die Algemene Sinode van 2007 oor liturgiese voorbeelde wat deur gemeentes in hulle eie situasie aangewend moet word (NGK 2007:201: Strauss 2013:77-78). Hierdie besluit stimuleer egter 'n gemeentelike independentisme in die NGK wat reeds daar was deur die inrigting van die erediens en die gebruik van liturgiese formuliere en om dit aan die oordeel van 'n gemeentepredikant, sonder insette van die kerkverband, oor te laat. Hoewel hierdie individualisme ook by die GKSA ten opsigte van die liturgie merkbaar is, is dit veel sterker by die NGK. As gevolg van die toelating van hierdie willekeur en 'n gebrekkige konsensus oor die wese en inhoud van die erediens, bestaan daar 'n groeiende verwarring oor die gereformeerde karakter van NGK-gemeentes soos weerspieël in hulle eredienste (Strauss 2015:101).

Hoewel die handleiding van 2010 bevredig met sy formuliere vir die sakramente, word die sakramente ter inleiding tot 'n herinnering, bevestiging en versterking van die geloof van die gemeente vervlak. Dit is dus nie iets anders as nog 'n aanskoulike skriftuurlike preek nie. Calvyn en HK Sondag 25 wat van sakramente 'tekens en seëls' (waarborge) maak, word onderspeel (NGK 2010:45, 47) terwyl Zwingli met sy nagmaal as 'n simbool of gedagtenismaaltyd hom ook daarin sou kon vind (Jonker 1994:81). 'n Meer tradisionele formulier vir die nagmaal vergoed hiervoor. Hierin word die nagmaal as die sigbare Woord soos ontvang in die geloof onder leiding van die Heilige Gees, 'n waarborg genoem. Weereens laat hierdie armoede 'n smaak in die mond van 'n juridiese aanvaarding van die Drie Formuliere wat nie in die liturgie deurwerk nie. Die kerkvreemde 'pos van gemeenteleiers' naas die amp van ouderling en diaken is boonop nie skriftuurlik gemotiveer nie, maar funksioneel omstrede en word net kortweg verduidelik (NGK 2010:51). Die formuliere vir die bevestiging van kerkraadslede (ouderlinge en diakens) en proponente vra ook nie instemming met die Drie Formuliere van Eenheid nie, maar met die 'volkome (Bybelse?!) leer van die verlossing'. Dit is dus ongekwalifiseerd (NGK 2010:132, 144). Die skynbare dwang van uiters kort formuliere laat ook die indruk van 'n kerklik-dogmatiese aarseling en 'n verskonende apologie. Daarby loop hierdie tendens hand aan hand met 'n praktyk waarin die wet van die Here, selfs in gevarieerde vorms, en die belydenisse van die 'algemene, ongetwyfelde (Christelike) geloof' nie meer in eredienste voorkom nie. Die oorlating van liturgiese voorbeelde aan die oordeel van gemeentes na 2007 word verdraai en lei tot eredienste waarin die volle raad van God, soos dit in die reikwydte van die Woord en die Drie Formuliere voorkom, nie tot sy reg kom nie.

'n 'Belangeloosheid' wat tot onkundigheid oor die plek van die Drie Formuliere van Eenheid in kerkvergaderings lei, blyk ook uit die verloop van die Algemene Sinode en sinodes.

Die vraag of Satan 'n persoon is, - 'n vraag wat in NGB artikel 12 positief beantwoord word, - word deur die Algemene Sinode van 2011 sonder die NGB aangepak. Die antwoord van hierdie Sinode is dat daar ruimte vir albei standpunte is, naamlik die Satan as 'n persoon of 'n onpersoonlike krag (NGK 2011:1880). 'n Relativerende postmodernisme lei dus in 'n sinodebesluit, terwyl die gereformeerde belydenis as 'n norma normata eenvoudig geïgnoreer (onkunde?) word. Dieselfde Sinode is relativerend in sy besluit dat huweliksluiting deur 'n staatserkende wetlike proses 'verkieslik' maar nie noodsaaklik is nie (NGK 2011:205). Weer hang die proses van individuele smaak af.

Dieselfde Algemene Sinode reageer afwysend op 'n beskrywingspunt van die Wes-Kaapse Sinode wat die verbondsdoop van die kinders van gelowige ouers op inisiatief van die Here deur sy kerk asook die belydenisdoop van mense wat hulleself aanmeld op grond van hulle geloofsbekering, in die NGK wil toelaat (NGK 2011:291). Die beskrywingspunt drup van 'n onbybelse postmodernisme en 'n weerspreking van NGB artikel 34 en HK Sondag 27 (NGK-Uitgewers 1982:32-34, 58). Vanuit die hoek van die Drie Formuliere beskou, is die doop as 'n belydeniswaarheid 'n kernwaarheid van die geloof. Hierdie kernwaarheid word deur die beskrywingspunt ontken bloot op grond van die feit dat lidmate daaroor verskil en dat beide relativerend gelykgegee moet word.

Alhoewel die NGK in NGK-KO 2015 sowel as die sinodebesluit van 1998 die status en daarmee die plek van die Drie Formuliere korrek weergee, ontbreek dit hom aan 'n konsekwente deurvoering hiervan in die breë kerklike lewe. As die NGK in sy woordbediening, kerklike onderrig, debat- en gesprekvoering en besluitneming die saak beredder, sal hy baat by gereformeerde geloofwaardigheid. Hy het deur die Algemene Sinode van 2007 homself immers tot 'n gereformeerde kerk wat op die vyf solas van die Reformasie fokus, verklaar, naamlik die sola gratia, sola scriptura, sola fideï, solus Christus en soli Deo Gloria.

 

Slot

Die status en plek van die Drie Formuliere van Eenheid in kerke wat hiervoor by die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619 inhaak, beteken dat hierdie kerke die Drie Formuliere as 'n formulering van die Christelike geloofsoortuiging aanvaar, naamlik dat hierdie geskrifte as belydenisse van die geloof met die Woord van God ooreenkom en dat die Drie Formuliere van Eenheid skriftuurlike gesag dra in dit wat hulle wil, naamlik geloofsbelydenisse.

Maar indien belydenisse waarop die heilige, algemene Christelike kerk of Christengelowiges geloofsmatig saamtrek, moet die Drie Formuliere van eenheid die kerkwees van die kerke wat dit bely, stuur en bepaal. Die Drie Formuliere moet uitdrukking gee aan die geloofsidentiteit van hierdie kerke en 'n bepalende, lewende posisie daarin inneem.

In die GKSA is hierdie status en plek van die Drie Formuliere waarneembaar aanwesig. In die NGK word dieselfde status en plek amptelik aanvaar en bely, maar soms ontbreek dit in die praktyk van ander kerklike aktiwiteite.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Bavinck, H., 1967, Gereformeerde Dogmatiek IV, Kok, Kampen.         [ Links ]

Biesterveld, P. & Kuyper, H.H., 1905, Kerkelijk handboekje, Bos, Kampen.         [ Links ]

Bouwman, H., 1985, Gereformeerd kerkrecht II, 3e dr., De Groot Goudriaan, Kampen.         [ Links ]

Calvijn Jubileum Boekfonds, 2015, Kerkordeboekie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, CJBF & Administratiewe Buro, Potchefstroom.         [ Links ]

Calvijn Jubileum Boekfonds, 2018, Besluite Algemene Sinode GKSA 2018, besoek 20 Maart 2018, by www.cjbf.co.za        [ Links ]

Coertzen, P., 1991, Gepas en ordelik, RGN, Pretoria.         [ Links ]

Coetzee, C.F.C., 2016, 'Die hermeneutiek van belydenisskrifte', In die Skriflig 50(3), 1-27. https://doi.org/10.4102/ids.v50i3.2121        [ Links ]

Donner, J.H. & Van den Hoorn, S.A., s.a., Acta National Synode in Dordrecht, Donner, Leiden.         [ Links ]

Du Plooy, A. le R., 1988, Die verband tussen die Skrif, konfessie en kerkorde volgens die gereformeerde kerkreg, PU vir CHO, Potchefstroom.         [ Links ]

Du Plooy, A. le R., 2015., 'Inleiding op die kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA)', CJBF & Adminstratiewe Buro van die GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Engelhard, D.H. & Hofman, L.J., 2001, Manual of Christian Reformed Church government, Grand Rapids, CRC Publications.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), 2018, Agenda Algemene Sinode 2018, sl, sn.         [ Links ]

Heyns, J.A., 1992, Inleiding tot die dogmatiek, NG Kerkboekhandel, Halfway House.         [ Links ]

Jansen, J., 1952, Korte verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken, 3e dr., Kok, Kampen.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1965, Om die regering van Christus in sy kerk, Unisa, Pretoria        [ Links ]

Jonker, W.D., 1994, Bevrydende waarheid, Hugenote-Uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J., 1988, Gereformeerde Kerkreg IV, NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.         [ Links ]

Kruger, L.S. et al., 1966, Handleiding by die kerkorde, Pro Rege, Potchefstroom.         [ Links ]

Kuiper, B.K., 1995, The church in history, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Kuyper, H.H., De post acta of nahandelingen van de Nationale Synode van Dordrecht in 1618 en 1619 gehouden, Höveker & Wormser, Amsterdam.         [ Links ]

Nauta, D., 1971, Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde kerken in Nederland, Kok, Kampen.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1962, Kerkorde, NG Kerk-Uitgewers, Pretoria.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1964, Kerkorde, NG Kerk-Uitgewers, Pretoria.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1978, Handelinge van die Algemene Sinode, sl, sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1994, Die Kerkorde, sl, sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1998, Handelinge van die Algemene Sinode, sl, sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 2007, Handelinge van die Algemene Sinode, sl, sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 2011, Handelinge van die Algemene Sinode, sl, sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 2015, Die Kerkorde, sl, sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) Algemene Diensgroep Gemeente-ontwikkeling, 2010, Handleiding vir die erediens, Bybel-Media, Wellington.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers, 1982, Ons glo , NG Kerk-Uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Polman, A.D.R., sa, Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis, 1, Wever, Franeker.         [ Links ]

Pont, A.D., 1981, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg, 1, HAUM, Pretoria.         [ Links ]

Rutgers, F.L., 1889, Acta van de Nederlandsche Synoden der zestiende eeu, Keminck, Utrecht.         [ Links ]

Smit, C.J., 1983, 'Die Kerkorde en die Heilige Skrif - 'n contradiction in terminis?', In die Skriflig 17(67), 35-41. https://doi.org/10.4102/ids.v17i67.1197        [ Links ]

Smit, C.J., 1984, God se orde vir sy kerk, NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.         [ Links ]

Spoelstra, B., 1989, Gereformeerde kerkreg en kerkregering, Teologiese Skool, Hammanskraal.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2005, 'Belydenis, kerkverband en Belhar', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 46(3 & 4), 560-575.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2008, 'Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk: Uitgangspunte ten opsigte van Skrif, belydenis en kerkorde', Acta Theologica 28(2), 104-117.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sunmedia, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2013, Kerkwees in die branding: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011, Sunmedia, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2015, Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011, Sunmedia, Bloemfontein.         [ Links ]

Van Bruggen, J., 1971, Het amen der kerk, Oosterbaan & Le Cointre, Goes.         [ Links ]

Van Rooi, L.B., 2007, 'Bevry om te bely en te beliggaam: Ekklesiologiese besinning oor die kerkorde van die VGKSA', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 48(3 & 4), 799-810.         [ Links ]

Visser, J., 1999, Die Kerkorde in praktyk, EFJS, Orkney.         [ Links ]

Vorster, J.D., 1960, 'Die kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerke', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 1(4), 12-18.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Piet Strauss
straussp@ufs.ac.za

Received: 19 Apr. 2018
Accepted: 29 June 2018
Published: 31 Oct. 2018

 

 

1. Afgevaardigdes van kerke in Nederland, Engeland, Duitsland en Switserland het daardie sessies van die Dordtse Sinode bygewoon waartydens die Dordtse Leerreëls as 'n belydenis teen die dwaling van die Arminiane aanvaar is (Kuiper 1995:268). H.H. Kuyper (sa:vi) noem die Nasionale Sinode van Dordrecht 1618-1619 die eerste 'Gereformeerde oecumenische concilie'.
2. Die drie ekumenisese belydenisskrifte, naamlik die Apostolicum en Belydenisse van Nicea en Athanasius, word in NGB artikel 9 onderskryf sodat die aanvaarding van die Drie Formuliere ook die aanvaarding van hierdie geskrifte oor God-Drieënig meebring. Die groot strydpunt in die ontstaanstyd van die ekumeniese belydenisse in die eerste eeue na Christus was die vraag na God-Drieënig. Daarom handel hierdie belydenisse oor God-Drieënig. Die groot strydpunt van die Reformasie in die sestiende eeu met die Rooms-Katolieke Kerk gaan oor die verlossing van die mens of die soteriologie. Die Drie Formuliere haak in by die ekumeniese belydenisse soos deur die 'heilige, algemene Christelike kerk' bely, maar steek dan deur na die soteriologie. Jonker praat van die katolieke karakter van die gereformeerde belydenis. Volgens hom vorm die soteriologie die kern van die breuk met Rome (Jonker 1994:18, 21). Dit is ook die rede waarom NGK-KO 2015 artikel 1 net die Drie Formuliere van Eenheid as die belydenisskrife van die NGK noem (NGK-KO 2015:1). Die oortuiging is dat die drie ekumeniese belydenisse by die aanvaarding van die NGB ingesluit word.
3. Op 'n ander plek oordeel Du Plooy (2015) dat Calvyn tereg van mening was dat 'kerklike bepalinge' daarop gerig moet wees om die 'regering van die Woord en Gees (in die kerk) self te reël en te verseker'. Christus is die enigste Hoof van die kerk wat dienaars roep om onder leiding van die Woord en Gees die kerk te regeer. Volgens Du Plooy verwoord artikels 27-32 van die NGB met hulle geestelike bestuurswyse van die kerk en Sondag 21 van die HK met sy 'Gees en Woord' wat die kerk in die 'eenheid van die ware geloof
vergader, beskerm en onderhou', die gedagtes van Calvyn (Du Plooy 2015:8; NG Kerk-Uitgewers 1982:30, 53).
4. Dieselfde speelruimte is in Emden (1571) se besluit oor die Kategismus waarneembaar. In sy artikel 5, bepaal hierdie Sinode dat Franssprekendes Calvyn se Geneefse Kategismus kan gebruik en Nederlandssprekendes Ursinus en ander se HK (Rutgers 1889:57-58). As daar egter ander kerke is wat 'n ander kategismus wil gebruik wat 'den Woorde Gods geijckformigh zijnde', kan hulle dit doen (Biesterveld & Kuyper 1905:36; Pont 1981:103).
5. 'n Ekumeniese inslag ontbreek by die aanvaarding van die NG Sendingkerk se Belydenis van Belhar in 1986. Hierdie dokument is deur die NG Sendingkerk alleen geloods (Strauss 2005:571).
6. Hierteenoor word die NGB en die HK in die Acta van Emden (1571) en Middelburg (1581) by die naam genoem. Emden praat van die onderskrywing van die NGB sowel as die ondertekening van die Franse Geloofsbelydenis om daarmee die eenheid met die Franse gereformeerdes uit te druk (Pont 1981:103). Middelburg onderskryf die NGB, maar aanvaar dat die Duitse gemeentes die HK onderskryf (Pont 1981:137).
7. DKO artikel 18 bepaal dat die dosente en proffesore die Heilige Skrif moet uitlê ten gunste van die 'zuivere leer' teen ketterye en dwalinge (Pont 1981:178).
8. Hierteenoor beweer Van Rooi (2007) dat die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika eers in 1994 met sy aanvaarding van 'n nuwe kerkorde - weg van die Dordtse tradisie - ''n kerkorde daargestel (het) wat gestalte gee aan wie sy is'. Volgens hom (Van Rooi 2007:799, 802), is die nuwe kerkorde 'n kerkordelike uitdrukking van die bevrydende Belydenis van Belhar, terwyl die vroeëre kerkordes in NGK-styl uit 'n geskiedenis van voogdyskap en onderdrukking kom. Uit Van Rooi se stuk en sy bibliografie blyk dit dat hy die navolging van die DKO en Dordt in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerkfamilie, waarvan sy NG Sendingkerk deel was, in hierdie opsig nie ernstig opneem nie (Strauss 2010:7, 8).
9. Hierdie Nederlandisme, 'Enigheid', word eers in NGK-KO 1994 met 'Eenheid' reggestel (NGK-KO 1994:1).
10. Hierdie waarnemings spruit uit persoonlike ervaring en die lees van verslae uit die NGK oor baie jare.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License