SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 número3"To read the Bible sensitively and in its richness" - in conversation with Amie van Wyk índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.51 no.3 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v51i3.2186 

ORIGINAL RESEARCH

 

Doelmatige herhaling, veral deur chiasmes, in die literêre narratiewe gang van die Johannesevangelie

 

Purposeful repetition through chiasms in the narrative flow of the Gospel of John

 

 

Jan du Rand

Unit for reformed Theology and Development of the SA Society, Potchefstroom campus, North-West University, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

More than one meritorious contribution has already investigated the relationship between the typical Johannine style and the theological content of the Gospel according to John. Recent analyses of the Johannine style, particularly focusing on the role of variation and repetition (Bauckham 2015:3; Du Rand 1996:62; Van Belle 2009:37; and Van der Watt 2009:351) have by shedding valuable light on the problem, furthering the New Testament science in a creative way. In this contribution the emphasis falls on the powerful role of repetition, variation and the reinvented role of chiasms, possibly from Semitic influence, on the Johannine thought structures. The particular emphasis falls on the theological influence of the relation between format and content. Chiasms are also depicted in Greek literature but are dominant in John because of the strong influence of Judaistic style in his thoughts.


 

 

Christologiese inhoud verpak in die Johannese styl

In die verhaalgang van die Johannesevangelie vind die navorser 'n verskeidenheid denkpatrone. Hierdie denkpatrone is uniek en waarborg ook 'n narratiewe verband tussen die vorm en die inhoud. Vorm deel in die drakrag van die teologiese inhoud en neem op dinamiese maniere aan die inhoud deel. Die tipiese styl beklemtoon die unieke semantiese integriteit van die inhoud van die Johannesevangelie. Ter wille van 'n breër verkenning van die problem, sluit ons aan by Raymond Brown (1971:cxxxv) wat byvoorbeeld die volgende vorms in die tipiese Johannese styl onderskei:

Inclusio: Daarvolgens word 'n saak aan die begin gestel en weer aan die einde herhaal. Let byvoorbeeld op die geografiese insluiting van die begrip Kana in Johannes 2:11 en weer in 4:46, 54.

Chiasme: Dit word ook omgekeerde parallellisme genoem. Dit fokus op 'n oorkruis-parallel wat sinonieme of antiteses in omgekeerde volgorde aanbied. Hierdie vorm parallellismes kom algemeen in Semitiese geskrifte soos die Ou Testament voor (Burney 1922) Alhoewel hierdie stylvorm van denke in die Johannesevangelie later vollediger hanteer word na aanleiding van veral die Semitiese invloed, word Johannes 18:28-19:16 as 'n sprekende voorbeeld genoem. Daarin word Jesus se koningksap antiteties parallel teenoor dié van die keiser geteken (J. Frey 2009:134 e.v.; E.M. Meyers 2011:96).

Tweevoudige of dubbele betekenis: Dit is kenmerkend van die Johannese styl om 'n dubbele betekenis aan sekere terme en begrippe te heg. In Johannes 3:3 kan die Griekse woord, anōthen, byvoorbeeld deur van bo of weer 'n keer vertaal word.

Misverstande: Wanneer Jesus van ewige of hemelse werklikhede praat, neem sy ontvangers dit letterlik op en pas dit op die materiële of aardse vlak toe. Aan sy dissipels sê Jesus byvoorbeeld dat Hy 'voedsel het om te eet waarvan julle nie weet nie' (Joh 4:32).

Ironie: Kajafas se ironiese opmerking in Johannes 11:50 aan die Sanhedrin lewer 'n treffende voorbeeld van Johannese ironie: 'Julle besef nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterf en die hele volk nie ondergaan nie.'

Narratiewe tersydes: In die semantiese avontuurtog om die Johannesevangelie beter te verstaan, is die narratiewe tersydes 'n belangrike aanduiding van die denkpatrone. Dit verbind die vorm en die inhoud. Toe die Joodse leiers oorstelp en ontsteld oor Jesus se aanspraak was dat Hy 'die tempel binne drie dae sal opbou', volg 'n paslike narratiewe tersyde: 'Maar Hy het van die tempel van sy liggaam gepraat' (Joh 2:21).

Bogenoemde oorsig van die tipiese Johannese formele styl om die teologiese inhoud van verhoudings effektief te skets, vestig die navorsingsvraag, naamlik watter stylvorm oorwegend die unieke en dinamiese is.

 

Navorsingsvraag: Watter tipiese stylvorm figureer prominent in die Johannesevangelie?

Die aanleiding tot hierdie navorsingsvraag het 'n meerledige oorsprong, naamlik uit artikels deur R. Bauckham (2015), J. du Rand (1996), G, van Belle (2009) en J. van der Watt (2009), en. Van der Watt se indringende bydrae huldig 'n eenheid in die denkgang in die styl van die Johannesevangelie met 'n duidelike illustrasie van die begrippe lewe en liefde. Du Rand se artikel fokus op 'n eenheidsbindende drakrag van sekere tipiese Johannese begrippe in 'n spiraalstyl soos die saambindende styl van 'n musikale simfonie, met verwysing na die funksie van 'n basso ostinato van Johannese begrippe. Van Belle se omvattende navorsing oor herhaling en variasie in die Johannesevangelie lewer 'n ensiklopediese oorsig van navorsing wat reeds gedoen is. Bauckham (2015:1-20) plaas 'n besondere klem op individualisme by Johannes, maar gee ook aandag aan die plek en rol van dualismes (Bauckham 2015:109-130). Met individualisme betrek Johannes die individuele gelowige in onderskeid tot die korporatiewe gelowige. Elke artikel lewer 'n konstruktiewe bydrae, maar laat om watter redes ook al die dominante moontlike rol van chiasmes buite rekening. Daarom is die fokus in hierdie artikel op die narratiewe rol van chiasmes in die formele en gedagtegang van die Johannesevangelie (vgl. A.D. Myers 2012:85; D.F. Payne 1970:146).

Vanuit 'n interpretatiewe hoek is die interaksie tussen die teks en die leser van die Johannesevangelie 'n funksionele proses in die vorm van 'n narratief. 'The Johannine narrative can therefore be called a rhetorical transaction with ideological and theological effects and consequences for a given reading experience' (Phelan 1988:138). Die kohesie en beklemtoning binne 'n narratiewe model kom volgens hierdie bydrae nog duideliker deur chiasmes as stylvorm na vore. Die vraag is dus of chiastiese denkpatrone daarin slaag om die ideologiese en teologiese boodskap te beklemtoon; en verder of daar enigsins sprake van 'n eenheidsbinding in die teologiese boodskap van die Johannesnarratief is. Soos reeds aangetoon (vgl. Du Rand 1996:59), speel verhoudings 'n belangrike rol. Let op die verhouding tussen die Vader en die Seun; tusssen die Seun en die dissipels en tussen die navolgers onderling. Wanneer die Johannese styl ontleed word (vgl. P.N. Andersen 2000:82; R.D. Anderson 2011:76-94; R. Brown 1971:cxxxv; en J. van der Watt 2008a en b), word na my mening nie genoeg met die moontlike sterk Semitiese beïnvloeding van die narratiewe denkproses rekening gehou nie.

 

Neem veral die moontlike Semitiese beïnvloeding van die Johannese styl in ag

Sonder om volledig die status questionis van die moontlike Semitiese beïnvloeding van die Johannese styl volgens die Evangelienarratief te behandel, is enkele penstrepe ter sake. P. Anderson (2011:268-270), D. Black (1988:141-159) en R. Schnackenberg (1982:105 e.v.) verwys na die bydraes deur C.K. Barrett, K. Beyer, M. Black, J. Bonsirven, C.F. Burney en C.C. Torrey, om net enkeles te noem, wat sterk klem op die moontlike Semitiese beïnvloeding in die styl van die Johannesevangelie gelê het. Dit betrek veral die chiasmes in die Hebreeuse digkuns wat uitstaan (D. Black 1988). J.W. Welch (1972) noem chiasmes ' an ancient and highly specialized Hebrew literary style'. Dit beteken nie dat chiasmes eksklusief Judaisties is nie, maar dat dit ook in die Griekse literatuur vrylik voorkom (S. Porter 1997:87; D. Aune 2003:296). Buiten al die ander chiasmes in die Johannesevangelie, is die poëtiese Johannes 1:1-18 sekerlik die sprekendste voorbeeld. Die hoofklem in hierdie besondere 18 verse val volgens 'n chiastiese opbou op verse 11 en 12, naamlik die aanvaarding of die verwerping van die mensgeworde Woord. Die chiastiese stylpatroon binne die narratiewe verband moet verder ontgin word (sien latere hantering hiervan in die artikel).

 

Die doel van hierdie ondersoek en bydrae

Die doel is eerstens om die moontlike dominante rol van Semitiese chiasmes, met inagneming van Griekse beïnvloeding in die verstaan van die Johannese denkpatrone, binne 'n narratiewe raamwerk te identifiseer. Om tot 'n gekontroleerde weergawe van die boodskap van die Johannesevangelie te kom, word die navorser beweeg om deeglik van die vertellersperspektiewe en die plot van die Johannes-narratief kennis te neem. Binne sodanige geheelbeeld word verder aandag gegee aan die bydrae wat chiastiese strukture as vorm aan die inhoud van die Johannesevangelie verleen.

Lees en beleef die vierde Evangelie as 'n teologiese narratief.

 

'n Getuigende vertelling

Die Johannesevangelie kan as 'n getuigende narratief met 'n bepaalde plot in gedagte, vanuit die liefling dissipel, Johannes, se vertellersperspektief beskou word. Hy is ook die verteller wat die Jesus-verhaal met bepaalde bedoelings oorvertel. Johannes se dieperliggende motivering fokus sterk op verhoudings (J. du Rand 1983:389; F. Tolmie 1991:284). Die vertelskema van die Johannesevangelie toon 'n logiese verhaalopbou wat die eksegeet dikwels aan Semitiese beïnvloeding herinner. Daar moet dus deeglik tussen narratiewe verhaalsamehang en die inhoud van die vertelling onderskei word (vgl. A. Culpepper 1998:64; S. Rimmon-Kenan 1983:46; R.B. Scholes & R. Kellogg 1966:240; en R.C. Tannehill 1980:60).

Johannes lewer 'n getuigende vertelling wat die fokus op die historiese betroubaarheid van die teks en die narratief plaas. Die Johannesevangelie is 'n getuienis in narratiewe formaat om die menswording van die Seun van God te beskryf en dit so dinamies te doen dat die lesers en hoorders ten volle kan meeleef. Dit bring mee dat die teks en die konteks verreken moet word. Die effektiwiteit van die kommunikasieproses berus dus sterk op die verhouding tussen Johannes se narratief en die werklike lesers se sosiale identiteit (S. Chatman 1980:24; G. Fackre 1983:348; en M. Stibbe 1992:50; 1993). S. Crites (1971) stel dit soos volg:

such stories, and the symbolic words they project, are not like monuments that men behold, but like dwelling places. People live in them. They are moving forms, at once musical and narrative, which inform people's sense of the story of which their own lives are a part. (p. 295)

Johannes het die tradisies en die oorvertellings oor Jesus versamel, georden en die Jesus-verhaal oorvertel met inagneming van die gemeenskaplesers se sosiale en psigiese behoeftes. Binne sodanige raamwerk formuleer Johannes 'n plan of plot vir sy narratief en bou dit dramaties in 'n eiesoortige Johannese styl uit (H. Koester 2003:73; R. Kysar 1975:206; 1984:38; M. Stibbe 1993:231-247; en F. Tolmie 1995:33-62). Die narratiewe ontmoeting tussen die teks en die leser is 'n dinamiese proses en Johannes doen sy literêre bes om die lesers betrokke te hou (L. Martyn 1979:53).

 

Laat die narratief in die geheel toe om jou styllangs te betower

Die gang van die narratief is ten nouste aan die verskillende teksbindings en die tekssamehang verbonde. Die geheelverband van die Johannesevangelie as evangeliegenre is dus van groot belang. Die oorredende krag van die vierde Evangelie kom juis na vore wanneer dit in die geheel gehoor of gelees word (J. du Rand 1986:152; 1992:38; 1997:186; B.M. Newman 1975:238). Die ontvouing van hierdie geheel lê in die ontwikkeling van die plot wat deur meer as een vertellersperspektief gevorm word. Om die geheelboodskap uit die narratief van die Johannesevangelie af te lei, is egter nie so eenvoudig nie. M. Rissi (1983) het nie verniet gesê:

Das Buch (= Johannesevangelium) als ganzes macht durchaus einen geschlossenen Eindruck und scheint einen sinnvollen Plan zu folgen. Und doch ist die Suche nach den leitenden Gesichtspunkten der Gesamtstruktur noch nicht zur Ende. (p. 55)

Binne die narratief as kommunikasiemodel moet na opeenvolging (J. du Rand 1982:18 e.v.) gesoek word. Die outeur het sy eie normatiewe skema met opeenvolgende denkstrukture geskep. Binne die denkstrukture gee vorm en inhoud mekaar die hand om die semantiese so effektief moontlik tot uiting te bring. Johannes het 'n verhaal en is daarvan oortuig dat dit effektief moet kommunikeer. Hy verwerk sy tradisies en persoonlike belewenisse van Jesus op 'n intieme manier en betrek ook die Ou Testament en Semitiese segswyses om by sy hoorders en lesers aan te sluit.

Die plot van die narratief ontvou dus in 'n proses van assosiasie of dissosiasie (M. J. Meye-Thompson 2007:106; Painter 1981:536). Elke leser en hoorder moet hulself aan die optrede en woorde van die protagonis, Jesus, oriënteer.

 

Assosiasie met die inhoud van die narratief van die Johannesevangelie

Voordat by die moontlike formulering van 'n plot uitgekom word, moet op die ontvouing van die intrige ten opsigte van die identiteit van Jesus gelet word. Die van bo-perspektief soos dit deur Jesus verduidelik word, rig die inhoud van die narratief in hoofsaaklik drie narratiewe fases:

Situering (1:1-51): Aanloop as bekendstelling van die hooffiguur: Jesus, die Seun van God.

Verwikkeling (2:1-17:26): Optrede deur woorde en tekens van die hooffiguur, Jesus, en die reaksie van sy helpers en teenstanders.

Resolusie (18:1-21:25): Afloop wanneer die hooffiguur, Jesus, veroordeel en gekruisig word maar ook weer opgewek word.

Die Situering is die sleutel tot die res van die verstaan van die narratief en die funksionering as inventaris. Die hooffiguur is die Woord en self ook God. In die onderdele van hierdie eerste fase in die narratief gebruik die outeur chiasmes (soos later aangetoon word), naamlik ironie, misverstande, dubbele betekenis en inclusio asook literêre kohesie om slegs enkeles te noem. 'n Prominente eienskap van die Situering is die noem van die Christologiese titels: Logos (Woord: 1:1), Lam van God (1:29), Seun van God (1:34, 49), Messias (1:41), Koning van Israel (1:49) en Seun van die mens (1:51). Hierdie vermelding van die titels vestig die hooffiguur en skep ook allerlei verwagtings van die hooffiguur (Newman & Nida 1980:48; F.F. Segovia 1991:67; S. Smalley 1978:45).

In die Verwikkeling (2:1-17:26) is daar hoofsaaklik twee groter blokke narratief, naamlik 2:1-12:50 en 13:1-17:26. Volgens die eerste blok tree die hooffiguur, Jesus, in die openbaar op en illustreer sy menswording as Seun van God deur sewe tekens (wonderdade) en woorde. Jesus openbaar sy heerlikheid voor al die mense. In die tweede blok fokus die hooffiguur op die intieme onderrig van sy dissipels. Algaande bou spanning op wanneer die dissipels moet kennis neem dat Jesus moet ly, sterf, opgewek word en weggaan. Dit open die moontlikheid vir die intrede van die Parakleet (Gees) in die Johannese vertelling.

Die Resolusie (18:1-21:25) behartig die ontknoping. Dit lyk asof die opponent die hooffiguur gaan oorweldig. Hy moet ly en sterf. Prominente sake soos waarvandaan Hy kom en waarheen Hy gaan, kom aan die orde. Die opwekking van die hooffiguur en sy verskynings aan mense laat die narratief op 'n hoopvolle noot eindig.

 

Stylformaat en inhoud: Verskillende vertellersperspektiewe en 'n plot

Verskeie vertellersperspektiewe

Die rol van meerdere stylfigure in die denkstrukture van die narratief van Johannes word grotendeels deur die narratologiese raamwerk van kommunikasie bepaal. Om byvoorbeeld die Evangelieverhaal met die aangrypende proloog in Johannes 1 af te skop en dit dan in 'n chiasme te rangskik, spreek boekdele. Vertellersperspektiewe en plotontwikkeling bied die literêre en inhoudelike ruimte waarbinne die tipiese Johannese styl die nodige effek bewerkstellig om lesers en hoorders in hulle geloofsverhouding met Jesus, die Seun van God, te versterk.

Vertellersperspektiewe verwys na die plan waarvolgens die outeur-verteller sy narratief struktureer. Dit raak die inhoudelike styl van die Johannesevangelie (vgl. Scholes & Kellogg 1966:240 e.v.; A. van Aarde 1982:34-37). Die vertellersperspektief bestaan uit twee komponente, naamlik die tegniese perspektief (gesigshoek van waaruit die vertelling beskou en beskryf word) en die ideologiese perspektief wat die vertelde wêreld evalueer (vgl. N. Petersen 1978:35). Dit korrespondeer met met die sogenaamde poëtiese of konatiewe funksie. Die Johannesevangelie lewer allermins 'n kliniese rapport oor die Jesus-woorde en -dade. Johannes gee 'n geïnterpreteerde weergawe vanuit sy eie historiese en teologiese perspektiewe oor wie hierdie Jesus werklik is. Die volgorde en inkleding van Jesus se woorde en werke is baie belangrik. Johannes maak sekere keuses en skryf ontvangergerig. Wanneer hy byvoorbeeld vir Jesus as die Goeie Herder beskryf wat vir sy skape omgee, laat hy dit op hoofstuk 9 volg waar die verhaal van die genesing van die blindgeborene vertel is. Daarmee laat hy die leser goed verstaan dat die Fariseërs eintlik die blindes is en wat nie na die skape kan kyk nie (vgl. 9:40-41). Die leser bly ingelig en dit verhoog die ideologiese denkstrukture in Johannes se normatiewe styl. Jesus word duidelik as God geteken, maar ook as volledige mens (vgl. Joh 1 en 4). Soos later aangetoon sal word, is die gebruik van simpatie, antipatie, ironie, simboliek en veral chiasmes vir die tipiese Joodse gees as die werklike eerste lesers baie belangrik (D. van der Merwe 1995).

In hierdie bydrae val die hoofklem op die ideologiese of teologiese vertellersperspektief, maar sommige van die ander perspektiewe word ter wille van reliëf kortliks aangestip.

Die psigologiese vertellersperspektief voorsien die lesers en hoorders van inligting rakende dit wat die karakters dink of beplan. Dit geld veral ten opsigte van Jesus se kennis (Joh 2:24) en sy emosies (Joh 11:33, 38; 13:1, 21; 16:19; 18:4 en 19:28).

Die ruimtelike vertellersperspektief vertel dat die outeur of verteller alomteenwoordig is. Volgens Johannes 4 is die verteller byvoorbeeld tegelyk by die put van Jakob (4:28-29) sowel as in die Samaritaanse dorpie teenwoordig.

Volgens die temporele vertellersperspektief lig die verteller die lesers in oor gebeure wat nog moet kom voordat dit gebeur het. Die voorbeeld hiervan in Johannes 7: 39 is sprekend: 'Die Gees was immers nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.'

Indien die ideologiese vertellersperspektief nagegaan word, word gou uitgevind dat die verteller die leser doelbewus teologies wil beïnvloed (Culpepper 1983:21; Du Rand 1983:386 e.v.). Die verteller beïnvloed die lesers se geloofskeuses. In Johannes 20:31 sê die verteller:

Hierdie dinge is egter neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en dat julle deur te glo die lewe in sy Naam kan hê.

Die lesers se geloof moet versterk word (Du Rand 1982:16 e.v.). Die lesers word ook direk en indirek oor die protagonist, Jesus, se oorsprong en bestemming ingelig. Daardeur word Jesus se identiteit bekendgestel: Hy kom van die Vader af en gaan terug na sy Vader toe. Jesus kom die werk van die Logos by die skepping voortsit deur blindes te genees en dooies op te wek (Culpepper 1983:34). Al sou selfs die dissipels nie dadelik verstaan wie Jesus is en wat Hy doen nie, sou hulle dit veel later verstaan (Joh 12:16; 13:17). Om nog van onder te dink, verteenwoordig misverstand en om van bo te dink, beteken begrip vir Jesus se ware identiteit as die Seun van God. Die verteller oorreed die lesers om van bo te dink.

Styl en inhoud funksioneer binne 'n Johannese plot

Die styl van die Johannesevangelie is die hart van die narratiewe lees van die teks. Die plot van die Johannesevangelie raak die plan wat in die outeur se denke geleef het by die vertelling van die Jesus-verhaal. Dit raak die organisering van die rol wat die dade en die gebeure speel (Segovia 1991:25). Die onderdele in die vertelling word deur die plot organies funksioneel vertel om 'n uiteindelike doel te dien (K. Egan 1978:457). Die inhoud van die verhaal word juis so georganiseer om die leser maksimaal te beïnvloed. Die plot organiseer nie net die inhoud nie, maar ook die formaat waarin die inhoud effektief gegiet is. Na hoofstuk 1 weet die leser reeds in watter rigting die verhaal verder sal verloop.

Die plot van die Johannesevangelie organiseer en interpreteer nie net die gebeure nie, maar plaas dit in 'n ideologiese volgorde en verband. Op hierdie wyse word die plot en die styl sekondêr omdat dit bloot die draer van geïnterpreteerde betekenis is. Al vertel die vier Evangelies dieselfde verhaal, verskil hulle wesenlik wat elkeen se plot betref. Die proloog van die Johannesevangelie (Joh 1:1-18) is die sleutel vir die plot om die res van die vertelling in perspektief te plaas. Binne die raamwerk van hierdie 18 verse moet die navorser gekontroleerd na die kern van die Johannese plot soek. In so 'n geval speel herhaling, variasie en die chaismes sleutelrolle. Jesus se sending deur sy Vader gaan oor op die dissipels se sending en word deur Jesus beklemtoon. Hierdie vertellyn fokus op 'n kettingstyl van verhoudings: van Vader na Seun (Joh 3:16); van Jesus na die dissipels (Joh 20:21); van die dissipels na die navolgers (Joh 13:34; cf. Tannehill 1980:60 e.v.). Algaande word die leser deur die plot van die narratief begelei om in 20:30 te kan bely dat Jesus die Messias is, die Seun van God. Die geloofsgang van die dissipels pas direk in by die plot. Volgens Johannes 1:35-51 word die dissipels geroep; in hoofstuk 6:60-7 word hulle voorlopig getoets om 'n keuse te maak; en in hoofstukke 13 en 17 word hulle van die begeleiding deur die Heilige Gees verseker. Johannes 17:20 gaan voort met die plot van verhoudings wanneer Jesus bid: 'Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle (= dissipels se) woorde in My glo.'

Jesus se opwekking uit die dood en sy verskynings aan sy dissipels is die kragtige stroomversnelling om die voortgaande missionêre verhoudingslyn te beklemtoon. Die bevestiging van die verhouding tussen Jesus en die dissipels word sterk deur die drievoudige gesprek tussen Jesus en Petrus volgens Johannes 21 gedra. Die dissipels moes leer dat die ideologiese vertellersperspektief om van bo te dink, die ideale perspektief is. Die verhoudingstorielyn vind sy vervulling in geloof, naamlik om die protagonis te verwerp deur ongeloof, of deur Hom deur geloof te aanvaar (J. van der Watt 2014:175-191). Om te glo is 'n keuse vir Jesus in solidariteit met die protagonis en dit kom neer op 'n deel in sy heerlikheid.

Nog bydraes om die Johannesevangelie betekenisvol te struktureer

Die Johannese boodskap en styl binne 'n narratiewe raamwerk vra verdere verfyning. Ten einde reliëf te kry ten opsigte van die styl van die Johannesevangelie, is dit raadsaam om op hoë skouers te staan. Daardeur word 'n ryker insig in die vraag na die tipiese dominante styl van die vierde Evangelie verkry. Die oorsigartikel deur G. van Belle (2009:33-86) is in hierdie verband só omvattend dat slegs 'n keuse uit ander strukturerings van die Johannese styl gemaak word om by 'n eie dominante stylgebruik in die Johannese denkpatrone uit te kom.

Die omvattende bydrae deur G. Mlakuzhyil (1987)

Hierdie bydrae is vermeldingswaardig. Mlakuzhyil bestudeer 24 verskillende strukturerings van die Johannese denkpatrone en besluit op die Christosentriese literêre struktuur van die vierde Evangelie. Hy beklemtoon die bekende tweedeling vir die Johannesevangelie en benoem 2:1-12:50 as die 'Book of Jesus signs' en 11:1-20:29 as die 'Book of Jesus' hour' (Mlakuzhyil 1987:243-347). Met geringe variasie weerspieël dit ook die opvattings van R. Brown (1971), D. Carson (2001), M. de Jonge (1977), C.H. Dodd (1953), P.F. Ellis (1984), R. Kysar (1975) en R. Schnackenberg (1982) om slegs enkeles te noem.

C.H. Giblin

Op die voetspoor van R.A. Holst (1974) praat Giblin (1990:449-468) eerder van 'n drie-deling as 'n twee-deling. Hy kombineer dit met die narratiewe struktuur van die Johannesevangelie en onderskei die volgende drie fases: 1:19-4:54 - Jesus skakel met allerlei soorte mense; 5:1-10:42 - Jesus ondervind teenstand en twisgesprekke volg; 11:1-20:19 - Jesus se liefde vir sy eie en die teenstand van die Joodse leiers. Giblin se motivering is treffend en oortuigend omdat dit direk met die inhoud van die Evangelie werk. Dit stem ooreen met die seining van Rau (1972: 88).

Die bydraes deur Jan van der Watt (2008b) en Jan du Rand (1996)

Albei Johannesenavorsers se bydraes plaas die verstaan van die styl van die Johannesevangelie binne die raamwerk van herhalings en variasie. J. van der Watt (2008b:182) ondersoek die betekenis van die herhalende voorkomste van lewe en liefde en kom tot die volgende gevolgtrekking:

Repetition of words also link different contexts together Repetition in the examples investigated (= life and love) is a stylistic tool that could be fruitfully used in analysing and interpreting the text of the Gospel according to John. (p. 78; vgl. ook Anderson 2011:74-76; B. Olsson 1974:132; en Van Belle 2009:73-77).

Du Rand (1996:61 e.v.) fokus op die hantering van die Johannesevangelie wat in sy geheel soos 'n saambindende musikale simfonie beluister moet word (Egan 1978:456 e.v.).

Die denkstrukture as 'n musikale simfonie

Om die samehang van die denkstrukture van die Johannesevangelie as 'n vloeiende musikale simfonie te beskou, open heelwat hermeneutiese moontlikhede (Bamberger & Brofsky 1988; Guetti 1980; Harrison 1981; en Reti 1961). Du Rand (1996) knoop grotendeels aan by M.C. Tenney wat reeds in 1963 epogmakende literêre parallelle tussen die struktuur van 'n musikale simfonie en die denkstrukture van die Johannesevangelie getrek het. Volgens Tenney verhelder die musikale struktuur veral die verstaan van wie Jesus is en wat Hy volgens die Evangelienarratief doen.

Die spiraalgang in die Johannese denke

Die beklemtoning van 'n spiraalgang in die Johannese denke is veelseggend. J. van der Watt (2008a:94-97) fokus op sentrale temas soos lewe, liefde en sending, om net enkeles te noem. 'Spiral argumentation assumes a process of logical and progressive succession of related information where the one-piece of information builds on the other to eventually present the full picture' (2008a:95). Let byvoorbeeld na die spiraalgang om sending te benadruk in Johannes 6:29, 38, 39, 40, 44 en 46.

Anderson (1997:63; 2011:74 e.v.) sluit hierby aan en vra na 'n moontlike verklaring van al die progressiewe herhaling. Moes die finale redigering nie sodanige spiraalherhalings uitgehaal het nie? Die antwoord is 'nee'; 'n mens moet eerder die funksionele daarvan raaksien. Om die herhaling van Jesus as gestuurde van die Vader in die narratief na te gaan, beklemtoon nogeens verhoudings. Jesus se verhouding met sy dissipels loop soos 'n goue draad deur die narratief, asook Jesus se botsings met die Joodse leierskorps (vgl. hfst. 5, 7, 8 en 10). Die outeur van hierdie artikel (Jan du Rand) beklemtoon die deurslaggewende progressie van verhoudings in die gang van die Johannese narratief. In die lig daarvan dat die vierde Evangelie die bedoeling het om Jesus se identiteit as God én mens te beklemtoon, en mense tot teologiese versterking deur kommunikasie te verwesenlik, is die spiraaldenke van Johannes 'n strukturele kommunikatiewe sleutel. Dit sluit dinamies by die bekende chiasme-styl aan wat hoofsaaklik in die Judaistiese maar ook in die Griekse literatuur voorkom (S. Porter 1997:208; J.W. Welch 1972).

Die strukturerende funksie van chiasmes in die verstaan van die styl van die Johannesevangelie

Die bedoeling is hoegenaamd nie om voor te gee dat chiasmes nou in die Johannesevangelie ontdek word nie, maar wel dat chiasmes 'n belangrike plek in die verstaan van die styl van die Johannesevangelie inneem. Dit kan ook direk in verband met die tipiese Semitiese klem op parallellismes gesien word.

 

Die bedrading en effek van 'n chiasme

Die vurige tweegesprek tussen H.B. Lightfoot (1882:144-150) en A. Deissmann ([2008] 1923:64; en 1927) oor die Johannese denkstyl en die moontlike beïnvloeding uit Semitiese of suiwer Griekse oorde is genoeg om 'n moderne navorser te stimuleer. Lightfoot meen Semitismes vorm die onderbou van die Johannese stylgebruike (1893:145) en Deissmann ([2008] 1923:131) huldig 'n Griekse onderbou. De Waard en Nida (1986:92) steun 'n Semitiese agtergrond. Dit dwing die navorser om weer noukeurig na die Semitiese invloede in Johannes se styl te gaan kyk. Soos reeds opgemerk, is die chiastiese of parallellistiese stylpatroon in die Johannesevangelie opvallend (R.D. Andersen 2000; Beck 1997).

'n Chiasme is 'n literêre styltegniek van idees wat in omgekeerde of oorkruisvolgorde gebruik word om veral beklemtoning en fokus te aksentueer (B. McCoy 2003:19). Alreeds in die Sumeries-Akkadiese en Ugaritiese literatuur in die 3e eeu v.C. vind 'n mens sprekende voorbeelde daarvan. McCoy (2003) benadruk die funksie van chiasmes in die Johannesevangelie soos volg:

In regard to the Gospel of John, scolars have proposed a plethora of theories concerning content and organization in effort to explain certain literary rough spots and supposed inconsistencies in the chronological and geographical flow of the narrative of the book. A chiastic analysis of its overall literary structure transforms any erroneous perceptions of the book as a disorganized literary patchwork it is an ingeniously constructed integrated whole which has been justly described as arguably the theological and literary masterpiece of the Churchs's canon. (p. 21)

Volgens die Johannesevangelie volg die outeur eerder die Semitiese patroon van chiasmes. Dit word egter ook aanvaar dat chiasmes in die Grieks-Romeinse literatuur voorkom (Porter 1997:187; A.J. Greimas 1971:802).

 

Enkele betekenisvolle voorbeelde van Johannese chiasmes

Dit kan aangetoon word dat die Johannesevangelie as geheelnarratief sterk chiastiese trekke vertoon. In 1:35-51 is byvoorbeeld sprekende parallelle met 20:1-29 (tabel 1).

 

 

Nog 'n bepalende voorbeeld van 'n semantiese chiasme wat ook vir die res van die narratief betekenis inhou, is sekerlik 1:1-18:

A (1-2): Die Woord en God
B (3): Alles deur Hom
C (4-5): Lewe die lig vir mense
D (6-7): Johannes
E (8-9): Ware lig kom na wêreld
F (10-11): Sy eie het Hom nie aanvaar
F1 (12-13): Almal wat Hom aanvaar het
E1 (14): Woord het mens geword
D1 (15): Johannes
C1 (16): Ontvangs van genade op genade
B1 (17): Genade en waarheid deur Hom
A1 (18): Enigste Seun en God

Die oorkruis of parallellistiese verbande kan soos volg saamgevat word:

A: God en die Enigste Seun
B: Deur Jesus Christus
C: Gawe van lewe en genade
D: Johannes
E: Ware Lig word gestruktureer
F: Om Hom te aanvaar of te verwerp

Dit gaan dus wesenlik oor die aanvaarding of verwerping van die mensgeworde Jesus Christus.

Die narratief volgens Johannes 4:3-42 word aan die hand van 'n chiasme ontleed, wat die klem semanties uitdruklik op verse 21-24 laat val, volgens die strukturering. Vir die tipiese Joodse lesers is dit semanties veelseggend want hulle weet nou waar om die fokus te laat val:

A (3-9): Jode meng nie met Samaritane

B (4-10): Hy sou vir jou lewende water gegee het
C (11-12): Waar kry jy die lewende water?
D (13-14): Wie hierdie water drink, word nie weer dors
E (15): Meneer gee vir my hierdie water
F (16-18): Jy sê tereg jy het nie 'n man nie
G (19-20): Meneer ek sien U is profeet
H (21-24): Ware aanbidders aanbid Vader in Gees en waarheid
G1 (25-26): Ek weet, die Messias kom
F1 (27-29): Kom, sien die man wat my ken
E1 (30-31): Rabbi, eet iets
D1 (32): Ek het voedsel te eet, vir julle onbekend
C1 (33): Het iemand vir Hom voedsel gebring?
B1 (14:34-38): My voedsel is om God se werk te doen
A1 (38-42): Samaritane nooi Jesus om by hulle te bly

Die fokus van hierdie gedeelte handel oor die ware aanbidding van God in Gees en waarheid na aanleiding van die volgende stylpatroon:

A: Jode en Samaritane
B: Lewende water en voedsel
C: Verkryging van water en voedsel
D: Van waar die water en voedsel
E: Sy vra water; Hy eet
F: Profetiese oomblikke
G: Profeet en Messias
H: Aanbid Vader in Gees en waarheid

Volgens Johannes 13:1-14:31 sou 'n mens hier 'n dubbele chiasme kan onderskei wat semanties veelseggend is. Dit help die verstaan van die eerste Afskeidsrede:

A (13:1-2): Duiwel vaar in Judas
B (3-9): Petrus se vraag
C (10-11): Wie Hom sou verraai
D (12-17): Boodskapper nie groter as Stuurder
E (18-19): Maar die Skrif moet vervul word
D1 (20): Wie My ontvang, ontvang my Stuurder
C1 (20-22): Een sal my verraai
B1 (23-26): Petrus knik vraend
A1 (27-30): Satan vaar in Judas

Hierdie gedeelte laat die klem op die noodwendige rolle van Judas en Petrus in Jesus se lotsbestemming val. Die verklaring is duidelik, naamlik dat die Skrif vervul moet word. In die daaropvolgende en verbandhoudende paragraaf word Jesus se posisie ten opsigte van sy Vader uitgeklaar. Die verhouding tussen Jesus en sy dissipels hang ten nouste saam met die verhouding met sy Vader. Johannes se gebondenheid aan die Tora en die Profete kom telkens na vore in sy gebruik van chiasmes (vgl. Segovia 1998:196):

A (13:31-35): Almal sal weet as julle mekaar liefhet
B (36-37): Woorde van Petrus
C (38-14:4): Waarheen Jesus gaan, ken hulle die weg
D (5): Woorde van Tomas
E (6-7): Ek is die weg, en die waarheid en die lewe
D1 (8): Woorde van Filippus
C1 (9-21): Waarheen Jesus gaan, Ek in die Vader en Ek in julle
B1 (22): Woorde van Judas
A1 (23-31): Die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet

Geskematiseerd lyk dit soos volg:

A: Kennis en liefhê
B: Woorde van die dissipels
C: Saam met Jesus, waarheen Hy gaan
D: Woorde van die dissipels
E: Jesus die weg en die waarheid en die lewe

In albei hierdie chiastiese strukture (13:1-30 en 13:31-14:31) word op Jesus se identiteit en rol gefokus. Dit wat met Hom gebeur, is noodwendig volgens die Skrif, dit wil sê volgens God se plan (vervulling van die Skrif). Wanneer die kamera weer na Jesus en die dissipels draai, fokus dit op Jesus se rol teenoor sy dissipels. Hy is vir hulle die brug na God (die weg, die waarheid en die lewe).

Die versoeking is te groot om nie die res van die Afskeidsgesprekke (15:1-17:26) se styl na te gaan en om die chiastiese stylgebruik uit te lig nie:

A (15:1-17): Bly in My
B (18-27): Sodat die Skrif vervul word
C (16:1-4): Hulle ken nie die Vader en My nie
D (5-16): Heerser van wêreld is geoordeel
E (17-18): Woorde van dissipels
F (19-22): Jesus gaan weg, nog 'n kort tydjie
G (23-24): Wat julle in my Naam vra
H (25): Jesus sal hulle openlik oor die Vader vertel
G1 (26-27): Wat julle in my Naam vra
F1 (28): Jesus gaan weg, na die Vader
E1 (29-30): Woorde van dissipels
D1 (31-33): Die wêreld is oorwin
C1 (17:1-10): Dat hulle U ken en vir Jesus
B1 (11-21): Sodat die Skrif vervul word
A1 (22-26): Ons is een

Die chiastiese strukturering lig die volgende uit:

A: Een met Christus
B: Vervulling van Skrif
C: Om God te ken
D: Om die wêreld te oorwin
E: Woorde van dissipels
F: Jesus keer terug na Vader
G: Vra in Jesus se Naam
H: Om die Vader werklik te ken

In Jesus se eie woorde vertel hoofstukke 15-17 dat dit oor verhoudings gaan, naamlik die verhouding tussen Hom en sy Vader asook die verhouding tussen Jesus en sy dissipels. Deurgaans val die klem ook op Jesus se identiteit, afgelei vanwaar Hy kom en waarheen Hy op pad is.

Die behandelde voorbeelde bevestig die volgende: die chiastiese styl van die Johannesevangelie om die identiteit van die protagonis en sy verhoudings te beklemtoon, is semanties die bevredigendste stylformaat om die narratief van die Johannesevangelie te struktureer en beter te verstaan.

 

Erkenning

Hierdie aanbieding, uit my Johannese binneste, word opgedra aan Jan van der Watt: 'n gewaardeerde vriend, kollega en uitnemende akademiese vakgenoot saam met wie ek die genadevoorreg vir etlike dekades lank kon deel om ons liefde vir die Bybel, die Teologie en veral die Johannese geskrifte nasionaal en internasionaal te beoefen.

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Andersen, R.D., 2000, Glossary of Greek rhetorical terms connected to methods of argumentation, Brill, Leuven.         [ Links ]

Anderson, P.N., 1997, The Christology of the fourth Gospel: Its unity and diversity in the light of John 6, Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Anderson, P.N., 2011, The riddle of the fourth Gospel, Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

Aune, D.E., 2003, 'Dualism in the fourth Gospel and the Dead Sea Scrolls: A reassessment of the problem', in D.E. Aune, T. Seland & J. Ulrichsen (eds.), Neotestamentica et Philonica: Studies in honour of Peder Borgen, pp. 281-303, Brill, Leiden.         [ Links ]

Bamberger, J. & Brofsky, H., 1988, The art of listening: Developing musical perception, Harper & Row, New York.         [ Links ]

Bauckham, R., 2015, Jurgen Moltman's theology of the trinity and its significance for contemporary social questions: A dialogical approach, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Beck, D.R., 1997, The discipleship paradigm: Readers and anonymous characters in the fourth Gospel, Brill, Leiden.         [ Links ]

Black, D.A., 1988, 'On the style and significance of John 17', Criswell Theological Review 3, 141-159.         [ Links ]

Brown, R.E., 1971, The Gospel according to John, vol. 1 & 2, Doubleday, New York.         [ Links ]

Burney, C.F., 1922, The Aramaic origin of the fourth Gospel, Clark, London.         [ Links ]

Carson, D., 2001, The Gospel according to John, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Chatman, S., 1980, Story and discourse: Narrative structure in fiction and film, Cornell University Press, Ithaca.         [ Links ]

Crites, S., 1971, The narrative quality of experience, Journal for the American Academy of Religion 39, 290-299.         [ Links ]

Culpepper, A., 1983, Anatomy of the fourth Gospel: A study in literary design, Fortress, Philadelphia.         [ Links ]

Culpepper, R.A., 1998, The Gospel and letters of John, Abingdon, Nashville.         [ Links ]

De Jonge, M., 1977, 'Variety and development in Johannine Christology', in M. de Jonge, Jesus, stranger from heaven and Son of God, pp. 193-222, Scholars Press, Missoula.         [ Links ]

De Waard, J. & Nida, E.A., 1986, From one language to another: Functional equivalence in Bible translating, Thomas Nelson, Nashville.         [ Links ]

Deismann, A., [2008] 1923, Licht vom Osten, 4th edn., Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Dodd, C.H., 1953, The interpretation of the fourth Gospel, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Du Rand, J.A., 1982, Die struktuur van die Christologie van die Evangelie van Johannes: Metodologiese oorwegings, UOVS, Bloemfontein.         [ Links ]

Du Rand, J.A., 1983, 'Die Evangelie volgens Johannes as getuigende vertelling', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 24(2),383-397.         [ Links ]

Du Rand, J.A., 1986, 'Plot and point of view in the Gospel of John', in J.H. Petzer & P.J. Hartin (eds.), A South African perspective on the New Testament, pp. 149-160, Brill, Leiden.         [ Links ]

Du Rand, J.A., 1992, 'A story and a community: Reading the first farewell discourse from narratological and sociological perspectives', Neotestamentica 26(1), 31-45.         [ Links ]

Du Rand, J.A., 1996, 'Repetitions and variations - Experiencing the power of the Gospel of John as literary symphony', Neotestamentica 30(1), 59-70.         [ Links ]

Du Rand, J.A., 1997, Johannine perspectives: Introduction to the Johannine writings, vol. 1, Orion, Johannesburg.         [ Links ]

Egan, K., 1978, 'What is a plot?' New Literary History 9, 455-473.         [ Links ]

Ellis, P.F., 1984, The genius of John: A compositional-critical commentary on the fourth Gospel, Liturgical, Collegeville.         [ Links ]

Fackre, G., 1983, 'Narrative theology: An overview', Interpretation 37, 340-352.         [ Links ]

Frey, J., 2009, 'Recent perspectives on Johannine dualism and its background', in R.A. Clements & D.R. Schwartz (eds.), Text, thought and practice in Qumran and early Christianity, pp. 127-157, Brill, Leiden.         [ Links ]

Giblin, C.H., 1990, 'The tri-partite narrative structure of John's Gospel', Biblica 71, 449-468.         [ Links ]

Greimas, A.J., 1971, 'Narrative grammer, units and levels', Modern Language Notes 86, 793-806.         [ Links ]

Guetti, J., 1980, Wordmusic: The aesthetic aspects of narrative fiction, Rutgers, New Brunswick.         [ Links ]

Harrison, S., 1981, How to appreciate music, Elm Tree Books, New York.         [ Links ]

Holst, R.A., 1974, 'The relation of John chapter 12 to the so called Johannine book of glory', Princeton Theological Seminary, PhD thesis, Princeton University Press, Ann Arbor.         [ Links ]

Koester, C.R., 2003, Symbolism in the fourth Gospel, 2nd edn., Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

Kysar, R., 1975, The fourth evangelist and his Gospel: An examination of contemporary scholarship, Augsburg Publishing House, Minneapolis.         [ Links ]

Kysar, R., 1984, John's story of Jesus, Fortress, Philadelphia.         [ Links ]

Lightfoot, J.B., 1882, Primary change, MacMillan, London.         [ Links ]

Martyn, J.L., 1979, History and theology in the fourth Gospel, 2nd edn., Abingdon, Philadelphia.         [ Links ]

McCoy, B., 2003, 'Chiasmus: An important structural device commonly found in biblicalliterature', Chafer Theological Seminary Journal 9, 14-26.         [ Links ]

Meye-Thompson, M., 2007, 'The "Spiritual Gospel": How John the theologian writes history', in P.N. Anderson (ed.), John, Jesus and history, vol. 1, pp. 103-108, Society for Biblical Literature, Atlanta.         [ Links ]

Meyers, E.M., 2011, 'From myth to apocalyptic: Dualism in the Hebrew Bible', in A. Lange (ed.), Light against darkness: Dualism in ancient Mediterranean and the contemporary world, pp. 92-106, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Myers, A.D., 2012, Characterizing Jesus: A rhetorical analysis of the fourth Gospel's use of Scripture in its presentation of Jesus, Clark, London.         [ Links ]

Mlakuzhyil, G., 1987, The Christocentric literary structure of the fourth Gospel, Pontificio Instituto Biblico, Rome.         [ Links ]

Newman, B.M., 1975, 'Some observations regarding the argument, structure and literary characteristics of the Gospel of John', Bible Translator 26(2), 234-239.         [ Links ]

Newman, B.M. & Nida, E.A., 1980, The handbook on the Gospel of John, United Bible Society, New York.         [ Links ]

Olsson, B., 1974, Structure and meaning in the fourth Gospel, Gleerup, Lund.         [ Links ]

Painter, J., 1981, 'The farewell discourses and the history of the Johannine Christianity', New Testament Studies 27(4), 525-543.         [ Links ]

Payne, D.F., 1970, 'Semitisms in the book of Acts', in W.W. Gasque & R.P. Martin (eds.), Apostolic history and the Gospel, pp. 134-150, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Petersen, N.R., 1978, Literary criticism for New Testament critics, Fortress, Philadelphia.         [ Links ]

Phelan, J., 1988, Reading narrative: Form, ethics, ideology, Ohio State University Press, Columbus.         [ Links ]

Porter, S.E. (ed.), 1997, Handbook of classical rhetoric in the Hellenistic period, 300 bc - ad 400, Brill, Leiden.         [ Links ]

Rau, C., 1972, Struktur und Rhythmus im Johannesevangelium: Eine Untersuchung über die Komposition des vierten Evangeliums, Urackhaus, Stuttgart.         [ Links ]

Reti, R., 1961, The thematic process in music, Faber, London.         [ Links ]

Rimmon-Kenan, S., 1983, Narrative fiction: Contemporary poetics, Methuen, London.         [ Links ]

Rissi, M., 1983, 'Der Aufbau des vierten Evangeliums', New Tetament Studies 29(1), 55-61.         [ Links ]

Segovia, F.F., 1991, The farewell of the Word: The Johannine call to abide, Fortress, Philadelphia.         [ Links ]

Segovia, F.F., 1998, 'Inclusion and exclusion in John 17: An intercultural reading', in F.F. Segovia (ed.), What is John?, pp. 183-209, Scholars Press, Atlanta.         [ Links ]

Schnackenburg, R., 1982, The Gospel according to John, 2nd edn., transl. C. Hastins & F. McDonagh, Burns & Oates, London.         [ Links ]

Scholes, R.B. & Kellogg, R., 1966, The nature of narrative, Oxford University Press, London.         [ Links ]

Smalley, S.S., 1978, John: Evangelist and interpreter, Paternoster, London.         [ Links ]

Stibbe, M.W.G., 1992, The Gospel of John as literature: An anthology of twentieth century perspectives, Brill, Leiden.         [ Links ]

Stibbe, M.W.G., 1993, John as storyteller: Narrative criticism and the fourth Gospel, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Tannehill, R.C., 1980, 'The Gospel of Mark as narrative Christology', Semeia 16, 57-96.         [ Links ]

Tenney, M.C., 1963, 'The symphonic structure of John', Bibliotheca Sacra, April, pp. 117-125.         [ Links ]

Tolmie, D.F., 1991, 'The function of focalization in John 12-17', Neotestamentica 25(2), 273-288.         [ Links ]

Tolmie, D.F., 1995, Jesus' farewell to the disciples: John 13:1-17:26 in narratological perspective, Brill, Leiden.         [ Links ]

Van Aarde, A.G., 1982, 'God met ons: Die teologiese perspektief van die Matteusevangelie', DD-proefskrif, Fakulteit Teologie, University of Pretoria, Pretoria.         [ Links ]

Van Belle, G., 2009, 'Repetitions and variations in Johannine research: A general, historic survey', in G. van Belle, M. Labahn & P. Maritz (eds.), Repetitions and variations in the fourth Gospel: Style, text, interpretation, pp. 33-86, Brill, Leiden.         [ Links ]

Van der Merwe, D.G., 1995, 'Discipleship in the fourth Gospel', DD thesis, Faculty of Theology, University of Pretoria.         [ Links ]

Van der Watt, J.G., 2008a, 'Die Woord het mens geword: 'n Strukturele uiteensetting van die teologie van die Johannesevangelie', in J.H. Roberts, W.S. Vorster, J.N. Vorster & J.G. van der Watt (reds.), Teologie in konteks, pp. 93-130, Orion, Pretoria.         [ Links ]

Van der Watt, J.G., 2008b, 'Johannine style: Some initial remarks on the functional use of repetition in the Gospel according to John', In die Skriflig 42(1), 75-99.         [ Links ]

Van der Watt, J.G., 2009, 'Repetition and functionality in the Gospel to John: Some initial explorations', in G. van Belle, M. Labahn & P. Maritz (eds.), Repetitions and variations in the fourth Gospel: Style, text and interpretation, pp. 348-361, Brill, Leiden.         [ Links ]

Van der Watt, J.G., 2014, 'Ethics of/and the opponents of Jesus in John's Gospel', in J.G. van der Watt & R. Zimmermann (eds.), Rethinking the ethics of John, pp. 175-191, Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Welch, J.W., 1972, Chiasmus in religion, viewed 2 July 2016, from https://cls.org/1972/02/chiasmus-in-the-book-of-mormon?lang=eng        [ Links ]

 

 

Correspondence:
Jan du Rand
jdrtheol@gmail.com

Received: 02 Sept. 2016
Accepted: 30 Jan. 2017
Published: 31 May 2017

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons