SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 número1Resensies índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.51 no.1 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v51i1.2231 

ORIGINAL RESEARCH

 

Israelologie: 'n Bybels-teologiese perspektief oor Israel se verlede, hede en toekoms

 

Israelology: A Biblical-theological perspective of the past, present and future of Israel

 

 

Jacob J. Scholtz

Old and New Testament, Faculty of Theology, Stellenbosch University, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

Israelology, the study of Israel, is necessary for any theological system. In the past, God made unconditional covenants and other promises to Abraham and his descendants through Jacob. Not all Jews appropriate these blessings from God in faith. There has always been, however, a faithful remnant in Israel who believed the revelation and promises of God. Despite idolatry and repeated failure, even the unpardonable sin, God is faithful and has not cast away - not even temporarily - his people whom He foreknew. During the Church Age, the Jewish remnant is not only part of the Church but also of the nation of Israel. New Testament revelation does not cancel, change, transcend, spiritualise, or idealise unconditional and still-unfulfilled promises of God to Israel. The term 'the seed of Abraham' has multiple senses, and the fact that it can refer to the spiritual descendants of Abraham of non-Jewish descent does not change or cancel the promises that God made to the believing Jewish descendants of Abraham. Because God is faithful, Israel has a future. The present worldwide regathering of Jews to their homeland is happening in preparation for the judgement of the Tribulation Period. Christ will not return to the earth, however, until a future Jewish generation repent and call on the Lord. Then, a second worldwide regathering of faithful Jews to Israel will take place, this time for the blessings of the messianic kingdom. During the Millennium, God will fulfil all outstanding covenant promises and prophecies, and in the same realm where both the first Adam and seventy nations once failed, the Last Adam will successfully rule over Israel and the nations to the glory of God. Israelology, the doctrine of Israel's past, present and future, is the missing link in Biblical and Systematic Theology.


 

 

Inleiding

Israelologie is tans nie 'n akademiese dissipline in eie reg binne die raamwerk van die Bybelse en Sistematiese Teologie nie. Ekklesiologie en eskatologie vorm byvoorbeeld deel van teologiese denke en navorsing, maar Israelologie, die Bybelse leer oor Israel, word in byna geen teologiese handboek vermeld nie. Tog verskil teologiese stelsels (en kerke) vir verskeie redes op grond van hulle sienings oor Israel.

Een siening is dat die Kerk Israel permanent vervang het (Reymond 2015:49). Die leer oor Israel is dan ten beste 'n onderafdeling van die ekklesiologie as 'n oorblyfsel van die Kerk se verlede. 'n Variasie op hierdie gedagte is dat Jesus as kneg van die Here en ware Israeliet die profesieë aangaande Israel vervul het en dat Nuwe-Testamentiese gelowiges in Christus nou vanweë hulle eenheid met Christus as Israel geïdentifiseer kan word (Riddlebarger 2003:69-70; Strimple 1999:87-90). Volgens hierdie eerste siening is die Kerk die nuwe, ware of geestelike Israel van God.

'n Tweede siening is dat die Kerk Israel nie vervang nie, maar dat Israel vanaf Pinkster getransformeer is om gelowige nie-Jode in te sluit (Brand & Pratt 2015:238). Israel het wel in die verlede 'n rol in God se raadsplan gespeel, maar nie in die hede of die toekoms nie. Soos in die geval van die eersgenoemde siening, hou voorstanders van hierdie tweede beskouing ook vol dat, selfs al sou daar dalk 'n groot aantal Jode aan die einde van die huidige bedeling (αἰών) gered word, daar nie meer 'n rol vir Israel apart van die Kerk bestaan nie (Riddlebarger 2003:194; Brand & Pratt 2015:266).

'n Derde siening is dat die Kerk nie die nuwe of eskatologiese Israel is nie, maar dat Israel en die Kerk onderskeibaar is (Saucy 2015:193). Volgens hierdie beskouing is die Israelologie 'n teologiese vakgebied binne Bybelse en Sistematiese Teologie waarvan Israel se verlede, hede en toekoms die fokus vorm. Figuur 1 poog om ʼn billike oorsig te bied van die vooronderstellings wat bogenoemde sienings onderlê.1

As Israel se nasionale rol in God se raadsplan as iets van die verlede beskou sou word, of indien Israel in die Nuwe Testament herdefinieer is, wat sou die sin daarin wees om steeds op Israelologie te fokus? Redding het na nie-Jode gekom om die Jode jaloers te maak en nie sodat die 'takke' van die 'wilde olyf' hulle bo die natuurlike 'takke' kan verhef nie (Rom 11:11-24). Soos uit Figuur 1 blyk, kan 'n fokus op Israelologie nie anders as om grondliggende teologiese vrae te opper nie. Die Israelologie beïnvloed ongetwyfeld 'n teoloog se keuse ten opsigte van die teologiese stelsel. Verder speel Israelologie 'n beduidende rol in die eskatologie en ekklesiologie (Fruchtenbaum 1989:7). Vir bogenoemde redes is dit belangrik om 'n induktiewe studie te maak van wat die Skrif oor Israel leer.

Hierdie artikel poog derhalwe om aan te toon dat Israel 'n verlede, hede en 'n toekoms in God se raadsplan het. Die titel suggereer die kontoere van die argument: Eerstens word die verbonde wat God met Israel gesluit het, die vraag "Wie is 'n Jood?" asook ʼn ontleding van die nageslag van Abraham onder die hofie, 'Israel se verlede', behandel. Hierdie afdeling eindig met 'n bespreking oor voortspruitende teologiese implikasies wat dan ook die res van die artikel rig. Vervolgens word Jesus se eerste koms en die onvergeeflike sonde asook die Joodse oorblyfsel in die Kerk onder die tema, 'Israel se hede', behandel. Laastens val die fokus in die afdeling, 'Israel se toekoms', op die huidige herstel van die Jode in die land Israel, die basis van die weerkoms van Christus asook die messiaanse koninkryk en die ewige bestel. Voordat daar egter hiermee voortgegaan word, is dit nodig om kortliks die skrywer se vooronderstellings uiteen te sit.

 

Vooronderstellings

Die skrywer se begrip van Israelologie is eerstens op die grammaties-historiese metode van Skrifuitleg gebaseer. Wat ook al die verhouding tussen die twee testamente is, die betekenis van Ou-Testamentiese skrifgedeeltes word gevind deur die toepassing van die beginsel van normale, letterlike interpretasie - welke betekenis nie primêr in die Nuwe Testament gesoek moet word nie (Vlach 2010:3-5). Nuwe-Testamentiese openbaring is nuut, maar dit weerspreek nie Ou-Testamentiese openbaring nie. Na aanleiding van Petrus se hantering van die Ou Testament in Handelinge 2, is Ladd (1994:373; vgl. ook Riddlebarger 2003:37) byvoorbeeld van mening dat Ou-Testamentiese profesieë radikaal herinterpreteer moet word. N.T. Wright (1997:471) glo eweneens dat Jesus se bediening die betekenis van die koninkryk herdefineer het, want Jesus 'refused to give up the symbolic language of the kingdom, but filled it with such a new content that, as we have seen, he powerfully subverted Jewish expectations'. Dat Jesus tydens sy eerste koms deur die meerderheid Jode as die Messias verwerp is, is vanuit 'n menslike perspektief beskou, onverwags. Daar is egter nie sprake daarvan dat God deur hierdie gebeure onkant betrap is, of dat God se geïnspireerde Ou-Testamentiese openbaring en sy koninkrykprogram nou radikaal herinterpreteer moet word nie. In sy bespreking van die verborgenheid van Israel se tydelike en gedeeltelike verharding sê Blaising (2016:94) tereg: 'There is a twist in the plot, but not a metaphysical shift in narrative reality'. Nuwe-Testamentiese openbaring maak bykomende toepassings en voeg referente by (references plenior), maar dit verander nog nie die betekenis van die betrokke Ou-Testamentiese skrifgedeelte in sy oorspronklike konteks nie (Scholtz 2016:8). In hierdie artikel word vooronderstel dat die Nuwe Testament nie die betekenis van Ou-Testamentiese skrifgedeeltes herinterpreteer, verander, kanselleer, vergeestelik of tot die ewige bestel transendeer of idealiseer nie.

Die skrywer is tweedens van mening dat alle Ou-Testamentiese beloftes of profesieë wat onvoorwaardelik aan sekere persone of sekere groepe mense gegee is en wat steeds in die Nuwe-Testamentiese era onvervul bly, direk vervul word vir diegene aan wie dit belowe is (Feinberg 1988:76). Selfs al het God 'n onvoorwaardelike belofte net één keer in die Ou Testament gemaak, hoef so 'n belofte nie in die Nuwe Testament herhaal te word om steeds van krag te wees nie (ibid:76). Gestel byvoorbeeld die Nuwe Testament sê niks oor Israel se land nie. Dit sou steeds nie beteken dat onvervulde landbeloftes wat God onvoorwaardelik in die Ou Testament aan Abraham, Isak en Jakob en sy nageslag gemaak het, nie vervul gaan word nie. Verder kan tipologiese, analogiese of opsommende vervulling in die Nuwe Testament nie onvoorwaardelike beloftes of profesieë wat aan Israel gemaak is, elimineer nie (Scholtz 2016:8). Die skrywer huldig die beskouing dat 'n Nuwe-Testamentiese antitipe nie die betekenis van 'n Ou-Testamentiese tipe verander of kanselleer nie, tensy die Nuwe Testament dit eksplisiet aandui (Feinberg 1988:79).

Derdens vooronderstel die skrywer, soos wat later meer breedvoerig bespreek sal word, dat 'n geestelike of figuurlike betekenis van 'n term nie die ander (letterlike of etniese, nasionale, ens.) betekenis(se) kanselleer nie (Vlach 2010:3). Al is daar sedert Handelinge 2 in Christus geestelike eenheid tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges in die Kerk, bly daar verskillende referente vir 'n term soos 'nageslag van Abraham'. Daar is net een weg van verlossing, maar soteriologiese eenheid in Christus beteken nie dat alle etniese, nasionale, funksionele en geslagsverskille tussen kinders van God opgehef is nie.

Vierdens huldig die skrywer die mening dat sommige profesieë en verbondsbeloftes van God onvoorwaardelik is. Al is dit moeilik om etimologies die Ou-Testamentiese konsep van verbond presies vas te pen, definieer Busenitz (1999:175; vgl. ook Gentry & Wellum 2015:48-49) die term, verbond, soos volg: 'Covenant in the OT essentially incorporates a legally binding obligation'. In die geval van onvoorwaardelike, eensydige of unilaterale verbonde, belowe God dat Hy sekere dinge tot stand gaan bring of sal doen (cf. Busenitz 1999:180). Dit beteken nie dat die mens nie gehoorsaamheid moet openbaar in onvoorwaardelike verbonde nie, maar al sou die mens faal (en met die uitsondering van Christus in sy menslikheid het alle mense gefaal), sal God steeds doen wat Hy belowe het (Fruchtenbaum 1989:571). In die geval van voorwaardelike of bilaterale verbonde kan die verbond tot ʼn einde kom as gevolg van een van die verbondspartye se versuim om die ooreengekome bepalings na te kom. Busenitz (1999) stel dit soos volg:

Conditionality was an integral aspect of every bilateral covenant. Failure of one of the parties to carry out the specified conditions rendered the agreement null and void. Unilateral covenants, on the other hand, wherein the Lord is the sole party responsible to carry out its obligations, are unconditional, depending totally on His faithfulness for their fulfillment. It should be noted, however, that this does not deny the possible need for consequent obedience. But it does establish the fact that obedience is not a contingency for its fulfillment. (p. 180)

Vyfdens is die skrywer van mening dat die 'Nuwe Perspektief op Paulus' en die 'Radikale Nuwe Perspektief op Paulus' nie werklik lig op die skriftuurlike leer aangaande Israel werp nie. Johannes die Doper en Jesus (Matt 3:7-9; 12:7; 15:6; 23:13-36; Joh 5:45-47; 8:37-40) het aangetoon dat baie van die Judaïsme tydens Jesus se eerste koms nie in ooreenstemming met die Ou-Testamentiese openbaring van God was nie (Thomas 2005:299-301; vgl. ook Sibley 2002:30-31). Barrick (2005:282) wys tereg daarop dat 'Sanders' picture of first-century Judaism contradicts that of Jesus. That factor alone should destroy permanently the foundational premises supporting the NPP'. In hierdie artikel word dus nie op die werk van voorstanders van die 'Nuwe Perspektief op Paulus' of die 'Radikale Nuwe Perspektief op Paulus' klem gelê nie.

Met bogenoemde vooronderstellings in gedagte kan daar nou oorgegaan word tot die bespreking van Israel se plek in die raadsplan van God in terme van die verlede, hede en toekoms.

 

Israel se verlede

Onder die term, 'Israel se verlede', word die tydperk verstaan wat vanaf die gebeure in Genesis 12 tot by Jesus se eerste koms strek, alhoewel daar natuurlik ook toepaslike Nuwe-Testamentiese tekste is wat hierop lig werp.

God se verbonde met Israel te midde van die nasies

Die verwysing na nasies kom die eerste keer - en in 'n positiewe sin - in Genesis 10:5, 20, 31, 32 voor. Sewentig nasies stam biologies uit die nageslagte van Sem (26 nasies), Gam (30 nasies) en Jafet (14 nasies). Al ontstaan die nasies eers na die sondeval en sondvloed, is daar geen aanduiding dat die konsep van verskillende nasies ongeestelik of verkeerd is nie; inteendeel, dit is deel van God se raadsplan (Deut 32:8-9; Hand 17:26; Vlach 2010:169). Eers by die toring van Babel (Gen 11) word die 70 nasies vanweë hulle rebellie teen God geoordeel. Dit is in hierdie konteks dat God 'n nuwe nasie deur een van Sem se afstammelinge gaan skep. C.J.H. Wright (2006:455) skryf: 'God's mission is what fills the gap between the scattering of the nations in Genesis 11 and the healing of the nations in Revelation 22'. Hy hou ook vol dat 'God's mission in relation to the nations provides the key that unlocks the biblical grand narrative' (ibid:455). Binne die uitverkore nasie moet die priesterstam van Levi Israel voor God verteenwoordig (Fruchtenbaum 1989:820), maar as 'n koninkryk van priesters moet Israel die ander nasies voor God verteenwoordig (Eks 19:5-6): '[Israel's] role henceforth would be to mediate or intercede as priests between the holy God and the wayward nations of the world' (Merrill 2008:98).

Enige nasie het 'n land, mense en politiese organisasie nodig. God maak ewige en onvoorwaardelike persoonlike, nasionale en internasionale beloftes aan Abraham (Gen 12:1-3, 7; 13:14-17; 15; 17:1-21; 22:15-18). Die Abrahamitiese verbond is onvoorwaardelik, want toe dit gesluit is, het God alleen tussen die stukke vleis deur beweeg (Gen 15:17-18; König 1986:106-109; Schreiner 2010:243; Showers 1990:62). Persoonlike beloftes sluit 'n groot naam, 'n seun, 'n groot (fisiese) nageslag, 'n land asook seën in. Nasionale beloftes sluit die nasie Israel - uit Abraham, Isak en Jakob se nageslag - in, en aan hierdie Joodse nasie is die land ook belowe. Sekere Arabiese nasies spruit ook uit Abraham se nageslag voort. Die Abrahamitiese verbond bevat ook 'n internasionale belofte: al die geslagte (of nasies) van die aarde sal deur Abraham geseën word - 'n belofte wat na die seëning van verlossing in Christus heenwys (Gen 12:3; vgl. ook Gal 3:8). Die beloftes in die Abrahamitiese verbond fokus nie net op 'n land en 'n nasie nie, maar kyk ook vooruit na die Messias en sy koninkryk. Volgens McAvoy (1996) vorm die Abrahamitiese verbond die basis vir God se plan met Israel en die nasies:

The essence of God's covenant with Abraham consists of three basic aspects: land, seed, and blessing. Each of the divine covenants that follow are [sic] the outworking of the Abrahamic covenant. The Palestinian covenant (Deut. 28-30) amplifies the land aspect of the Abrahamic covenant. The Davidic covenant (2 Sam. 7:8-17) amplifies the seed aspect, and the new covenant (Jer. 31:27-37; Ezek. 36:22-32) amplifies the blessings aspect. The Abrahamic covenant, then, is determinative for the entire outworking of God's program for both Israel and the nations and is the key to biblical eschatology. (p. 27)

In die vier ewige, onvoorwaardelike verbonde wat God met Israel gesluit het - die Abrahamitiese, Land- (Deut 29:1-30:20), Dawidiese en Nuwe Verbonde - verbind God homself eensydig om te doen wat Hy belowe.2 Die vervulling van elke onvoorwaardelike verbondsbelofte hang alleen van God se getrouheid af. Dus sál hierdie verbondsbeloftes in die verloop van die geskiedenis vervul word. Dit beteken nie dat onvoorwaardelike verbonde nie voorwaardes kan hê nie, maar wel dat, al is daar sulke voorwaardelike aspekte aan hierdie onvoorwaardelike verbonde gekoppel, God steeds sal toesien dat die onvoorwaardelike verbonde vervul word (Benware 2006:43; McAvoy 1996:30). Israel se ongehoorsaamheid aan sekere bepalings beëindig nie die onvoorwaardelike verbonde nie (Rom 3:3-4; Showers 1990:60-68). Ná die rebellie in die woestyn, ná die Babiloniese ballingskap en ná 'hierdie geslag' in Israel die Heilige Gees gelaster het deur Jesus as die Messias te verwerp, bevestig Petrus dat die Jode nog steeds (in die teenswoordige tyd) die kinders is van die profete en van die verbond wat God met Abraham gesluit het (Hand 3:25-26; Showers 1990:66). Paulus sê dieselfde in Romeine 9:4-5 en 11:1-12.

'n Belangrike beginsel is dat, indien 'n indiwiduele Jood uiteindelik in die seëninge van hierdie onvoorwaardelike verbonde wil deel, daardie Jood die evangelie moet glo (Benware 2006:43, 48; Feinberg 1988:79-80). Ongelowige Jode is deel van die Abrahamitiese verbond (Rom 9:3-5) en kan dalk tydelik in fisiese seëninge deel, mits die nasie in die breë gesien gehoorsaam aan God is. Sodanige ongelowige Jode verbeur egter die geestelike seëninge omdat hulle nie glo nie en daarom nie gered is nie. Nie alle Jode is byvoorbeeld tydens die bloeityd van Dawid en Salomo se heerskappy in Israel gered nie, maar hulle het almal tydelik in die fisiese seëninge van daardie koninkryk gedeel. Daarenteen was Daniël 'n gelowige Jood (Dan 12:13), maar omdat die nasie ongehoorsaam was, het hy nie in die fisiese seëninge van Israel se onvoorwaardelike verbonde gedeel nie. Daniël is egter geestelik gered en hy sal in die messiaanse koninkryk in al die seëninge van die onvoorwaardelike verbonde deel. Dus, sommige Jode glo en vertrou in die Messias terwyl baie ander Jode nie glo nie. Dit beteken egter nog nie dat die onvoorwaardelike verbondsbeloftes (fisies of geestelik) gekanselleer, verander, getransendeer of tot iets anders geïdealiseer is nie. Waarom nie? Net soos wat 'n mens se testament onveranderd bly nadat dit bekragtig is, bly onvoorwaardelike verbondsbepalings wat God bekragtig of met 'n eed bevestig het, dieselfde (Gal 3:15-20; Showers 1990:23, 62). God sal vir Israel doen wat Hy onvoorwaardelik aan Israel belowe het.

By Sinai sluit God 'n voorwaardelike (die Mosaïese) verbond met die nasie uit Jakob se nageslag: God sal doen wat Hy belowe het, mits Israel doen wat húlle belowe (Eks 19-24; Schreiner 2010:243). Indien Israel die Mosaïese verbond nakom, geniet hulle as 'n nasie die seën van die vier onvoorwaardelike verbonde tesame met die seëninge wat in die Wet van Moses gebied word. Indien Israel ongehoorsaam is, kom die nasie onder die vloek van die Wet van Moses. Positief gestel: Christus het die Wet van Moses vervul (Matt 5:17-19; Gal 3:19; Heb 7:11-16). Negatief gestel: vanweë Israel se ongehoorsaamheid oor 'n lang tyd, is die voorwaardelike Mosaïese verbond by die kruis beëindig en is dit nie meer van krag nie (Rom 10:4; Gal 3:1-3, 24-25; Heb 8:13). Oor Galasiërs 3:23-4:7 sê Peterman (2014:1835) dat 'believers are no longer under the chaperone, the law'. Schreiner (2010) merk die volgende oor Galasiërs 3 op:

Paul has emphasized the temporary role that the law played in salvation history [the law] functioned as the pedagogue or custodian until Christ came The Judaizers, who insisted on circumcision, failed to see that the Mosaic law was not designed to be permanent. Now, however, a new era in the history of salvation has commenced. (pp. 248-249)

Indien die voorwaardelike Mosaïese verbond by die kruis uitgedien is, was dit ook die einde van die vier onvoorwaardelike verbonde? Nee, glad nie. Toe God die verbond met Abraham gesluit het, het Hy aan Abraham 'n spesifieke land belowe - en Abraham het sedertdien nog nie hierdie land ontvang nie (Gen 15:18-21). Genesis 23 toon byvoorbeeld aan dat Abraham 'n stuk grond in die land moes koop om Sara daar te begrawe. Dit wys dat Abraham nog nie die land ontvang het nie. Toe God die Abrahamitiese verbond met 'n eed aan Isak bevestig het, het Hy die land eweneens aan Isak belowe - en Isak het ook nooit hierdie land ontvang nie (Gen 26:3). Dieselfde geld vir Jakob (Gen 28:13) - en daarom sal God nog hierdie aartsvaders uit die dood opwek en die land aan hulle gee. Sonde kan ook nie die Dawidiese verbondsbeloftes wegmaak nie. God belowe in sy verbond met Dawid 'n ewige koningshuis, 'n ewige koninkryk, 'n ewige troon en 'n ewige afstammeling (of 'saad'), naamlik die ewige God, die Here Jesus Christus (2 Sam 7:11-17; 1 Kron 17:10-15; Fruchtenbaum 1989:585).

Wanneer Christus eendag oor Israel heers, sal hulle 'n gelowige nasie wees, of een wat soos in die Ou Testament herhaaldelik staan en val? Volgens Jeremia 31:31 is die Nuwe Verbond aan Israel en Juda belowe (vgl. ook Heb 8:6-13); dit is juis nié 'n hernude Mosaïese verbond nie (Jer 31:32-33). Soos later in meer detail bespreek sal word, sal die hele Israel uiteindelik gered word (v. 34; vgl. ook Jes 59:20-21). Die Nuwe Verbond is 'n onvoorwaardelike, ewige verbond (Jer 31:35-40) waarvolgens God sy wet in die binneste gee en dit op gelowiges se harte skryf; die Heilige Gees gee die krag of vermoë om dit na te kom (Jer 31:33; Eseg 36:27). Die Nuwe Verbond het nie net op geestelike seëninge vir indiwiduele persone betrekking nie, maar ook op nasies (Jer 31:34; Rom 11:25-27).

Waar sal Israel bly? Deuteronomium 29:1 dui spesifiek aan dat die Landverbond 'n aparte, onvoorwaardelike verbond is (sien bv. Cranfield 1979:462). Moses praat profeties oor Israel se toekomstige ongehoorsaamheid aan die Wet en haar gevolglike verstrooiing oor die hele aarde (Deut 29:2-30:1). Sedert 70 n.C. is die Jode inderdaad oor die hele aarde verstrooi. Deuteronomium 30 dui egter ook profeties aan dat Israel hulle sal bekeer (v. 2), dat hulle sal terugkeer (v. 3a), bymekaargemaak sal word (vv. 3b-4), hulle fisiese land in besit sal neem (v. 5), vernuwe sal word (v. 6), dat hulle vyande geoordeel sal word (v. 7) en dat Israel oorvloedig geseën sal word (vv. 8-20). Die genietings en seëninge van die land hang van Israel se gehoorsaamheid af, maar ten spyte van hulle ongeloof en ongehoorsaamheid deur die loop van die geskiedenis, verander dit steeds nie die feit dat God die titelakte van die land onvoorwaardelik aan Israel gegee het nie (Benware 2006:56). Daar kom 'n tyd wanneer al die onvoorwaardelike beloftes wat God aan Abraham en Israel gemaak het, vervul sal word, naamlik wanneer die hele Israel gered is (Jes 59:21; Jer 31:34; Rom 11:25-27), in die land gevestig is en deur die Koning van die Jode regeer sal word.

Daar kan nou gevra word: "Wie is 'n Jood?" en "Wie is die nageslag van Abraham?" Die rede waarom hierdie vrae belangrik is, is om aan te dui dat nie-Joodse gelowiges wat geestelik die nageslag van Abraham is, nie die nageslag van Jakob (Israel) is nie en daarom nie in die onvoorwaardelike fisiese of nasionale verbondsbeloftes wat God aan Israel gemaak het deel nie - en dat nie-Joodse gelowigs ook nie hierdie beloftes oorneem nie.

Wie is 'n Jood?

Is 'n Jood iemand wat ʼn bepaalde godsdiens of politieke party aanhang en in ʼn sekere geografiese gebied bly, of word 'n Jood anders in die Bybel gedefinieer (Sibley 2002:25-27)? Soos genoem, stam elke mens sedert die sondvloed biologies van Sem, Gam of Jafet af (Gen 10-11). Abraham, 'n Semiet, se biologiese kinders is vanselfsprekend die 'nageslag van Abraham'; derhalwe is Ismael, Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag beslis almal deel van die biologiese nageslag van Abraham (Gen 17:18-22; 25:1-4). Die onvoorwaardelike verbond wat God met Abraham gesluit het, is egter net met een van Abraham se seuns, naamlik Isak, bevestig (Gen 17:19; 26:1-5). Isak se tweelingseuns, Esau en Jakob, is sonder twyfel ook die biologiese 'nageslag van Abraham', maar God bevestig die Abrahamitiese verbond net met Jakob, wie later ʼn nuwe naam, Israel, kry (Gen 28:13-15; 32:28). Die Abrahamitiese verbond is ook met die nageslag van Jakob (Israel; d.w.s. die nasie Israel) bevestig (Gen 50:24; Neh 9:8; Ps 105:8-11). 'n Jood is dus 'n biologiese afstammeling van Abraham, Isak en Jakob (Ger 2004:224-226). Israel is die nasie wat uit Jode bestaan. Volgens Fruchtenbaum (2016:305-309; vgl. ook Ger 2004:224) is etniese en stamverband deur die biologiese lyn van die vader en nie dié van die moeder bepaal nie, op een belangrike uitsondering na: die Messias se Joodsheid en stamverband is deur die moeder oorgedra deur die saad van die vrou en geprofeteer voordat daar nog enige menslike afstammelinge was (Gen 3:15; vgl. ook Jes 7:14; Matt 1:23).3 In sy behandeling van Romeine 9-11 skryf Blaising (2016:94) dat 'the term Israel here has not been resignified. Paul is speaking of ethnic Jews, "Israelites", his "kinsmen according to the flesh"'.4 In sy bespreking van Handelinge 13:15-48 stel Coetzee (1965) dit eweneens duidelik:

Daar is direkte ononderbroke kontinuïteit tussen die λαὸς Ἰσραήλ van die O.T. en die λαὸς Ἰσραήλ van die Nuwe-Testamentiese tyd na die kruisiging. En die band: die natuurlike geslagslyn. "Hierdie λαὸς" is verbind aan die Ou-Testamentiese λαὸς deurdat die destydse λαὸς "ons vaders" is. Die ononderbroke lyn tussen die Ou-Testamentiese Godsvolk Israel en die Nuwe-Testamentiese Godsvolk Israel in die hede is die geslagslyn vanaf "die vaders" na "ons, hulle kinders" (vs. 32). Die huidige Israel is as "kinders van die geslag van Abraham" (υἱοὶ γένους Ἀβραάμ - vs. 26) die Godsvolk Israel. Sterker as dit kan die histories-etniese, die konkrete volksaard van die Israel wat ook in die tyd van Paulus Godsvolk is, nie uitgedruk word nie. (pp. 135-136)

Wie is die nageslag van Abraham?

Indien iemand 'n biologiese afstammeling van Abraham, Isak en Jakob is, beteken dit dat hierdie Jood outomaties van sy of haar sonde gered is? Nasionaliteit of godsdienstige tradisie red geen Jood (of nie-Jood) van sy of haar sondes nie (Coetzee 1965:130, 137). Israel is 'n uitverkore nasie (Eks 19:5; Deut 7:6-7) en spesiaal in God se oë (Sag 2:8), maar dit beteken nie dat elke Jood indiwidueel uitverkies is nie. Van altyd af en vir alle mense is redding op God se genade alleen gegrond, deur geloof in Christus alleen. Die evangelie van Christus is ''n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek' (Rom 1:16).5

Vir Jode sê die Here deur Moses: 'Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie' (Deut 10:15-16). Baie jare ná Moses ontvang 'n mismoedige Elia hierdie antwoord van die Here: 'Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie' (1 Kon 19:18). Na die Babiloniese ballingskap keer 'n oorblyfsel na die land van Israel terug, maar ook in die tyd van Maleagi is dit duidelik dat nie elke Jood 'n gelowige is nie, want slegs 'n oorblyfsel uit Israel vrees die Here en eer sy Naam (Mal 3:16).

Die Nuwe Testament gebruik die term Israel meer as 70 keer, maar elkeen van hierdie tekste verwys steeds na die verbondsvolk Israel (Fruchtenbaum 1989:684-690; vgl. ook Saucy 2015:193). Daar bestaan verskillende interpretasies oor enkele van hierdie tekste. In 'n Skrifgedeelte waar die fokus op Jode val ('jy dra die naam van Jood en steun op die wet' - Rom 2:17 e.v.), onderskei Paulus tussen gelowige en ongelowige Jode (Coetzee 1965:78; Murray 1965:9): 'Want nie hý is 'n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is 'n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie' (Rom 2:28-29). Die daaropvolgende verse maak dit nogmaals duidelik dat Paulus in hierdie Skrifgedeelte oor Jode praat (Rom 3:1-8). Paulus bevestig bloot wat Moses geleer het en wat in die dae van Elia en Maleagi geïllustreer is, naamlik dat slegs 'n oorblyfsel uit die biologiese nageslag van Jakob (Israel) óók weergebore gelowiges is wie se harte deur die Gees besny is.

Indien alle biologiese Jode nie ook die geestelike nageslag van Abraham is nie, wie of wat is die ware Israel dan? Dit is oor sy mede-Jode - 'my broers, my stamgenote na die vlees hulle is Israeliete' (Rom 9:3-4) - waaroor Paulus die volgende skryf: 'hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie' (Rom 9:6). Binne die etniese Israel is daar 'n kleiner groep Jode wat gelowig is (Coetzee 1965:162-175; Cranfield 1979:473-474; Murray 1965:9). Die ware Israel bestaan net uit gelowige Jode; hulle is die Joodse oorblyfsel ooreenkomstig die verkiesing van genade (1 Kon 19:18; Rom 11:5). Die 'Israel van God' in Galasiërs 6:16 verwys na Joodse gelowiges wat leef volgens die reël wat in Galasiërs 6:15 genoem word (Betz 1979:323; Coetzee 1965:224; Johnson 2009:41, 49; Vlach 2010:143-145).

Wat dan van nie-Jode? Kan hulle die nageslag van Abraham word? Abraham is die vader van almal wat glo, vir die besnedenes en die onbesnedenes (Rom 4:11-12). Nie-Joodse biologiese afstammelinge van Abraham, byvoorbeeld die nageslag van Ismael en Esau, kan in 'n geestelike sin ook die nageslag van Abraham word indien hulle in Christus glo, maar dit maak nie van hierdie Ismaeliete of Edomiete skielik Jode nie (Fruchtenbaum 1989:702). Die nageslag van Gam, Jafet, of Sem wat nie biologies van Abraham afstam nie, kan ook in 'n geestelike sin die nageslag van Abraham word, mits hulle in Christus glo, maar dit maak nie van hierdie nie-Jode skielik Ismaeliete, Edomiete of Jode nie. In sy bespreking oor Romeine 4 en Galasiërs 3-4 stel Coetzee (1965) dit so:

Ongetwyfeld word hier gesê dat die gelowiges uit die heidennasies deur die geloof in Christus geestelike kinders, geestelike nageslag van Abraham, is. Hier word inderdaad mense alleen op grond van hulle geloof sonder enige etniese verbintenis kinders en nageslag van Abraham genoem. Maar! Dit is nie vergeesteliking van die Abrahamkindskap van Israel, van die verbond van God met Israel, van die volk Israel, nie! (pp. 172-173)

Ses soorte saad of nageslag van Abraham kan geïdentifiseer word. In die eerste plek is Jesus Christus die unieke saad of nageslag van Abraham (Matt 1:1; Gal 3:16). In sy menslikheid is en bly Jesus 'n Jood (Matt 1:1-17; Rom 9:5). Tweedens is gelowige Joodse afstammelinge van Abraham biologies én geestelik die nageslag van Abraham (Rom 4:12). Derdens verander die ongeloof van baie Jode nie die feit dat hulle die biologiese, Joodse nageslag van Abraham bly nie (Luk 16:24; Joh 8:37; Hand 13:26; Rom 4:12; 11:1). Vierdens is daar gelowige, nie-Joodse biologiese afstammelinge van Abraham (vgl. Gal 3:29): hierdie kategorie sluit gelowiges uit die nageslag van Ismael, Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak, Suag en Esau in. Vyfdens is daar ongelowige nie-Joodse, biologiese afstammelinge van Abraham. Hierdie nie-Jode is net in 'n biologiese sin die nageslag van Abraham. Sesdens is daar gelowiges wat geen biologiese verbintenis met Abraham het nie. Hierdie gelowiges is alleen in 'n geestelike sin die nageslag van Abraham (Rom 4:11; Gal 3:29). Figuur 2 stel bogenoemde skematies voor.

Teologiese implikasies

Ses teologiese implikasies kan uit bogenoemde afgelei word. Eerstens, en positief gestel: al is Christus die unieke saad van Abraham (Matt 1:1; Gal 3:16), is daar tegelykertyd ook nog ander 'sade' of 'nageslag van Abraham' (vgl. Gal 3:29). Vlach (2010:3; vgl. ook König 1986:104) stel egter ook die negatiewe: al is Christus die unieke saad van Abraham (Gal 3:16), beteken dit nie dat ander 'sade' of 'nageslag van Abraham' op 'n Hindoeïstiese of Platoniese wyse in Christus bloot verdwyn nie. Net so, al sou Jesus Christus as kneg van die Here, as die 'ware Israel' beskou kon word, beteken dit nie dat alle identiteite of alle profesieë in Christus as die 'ware Israel' verdwyn of getransformeer word nie (in teenstelling met Brand & Pratt 2015:239; Riddlebarger 2003:70; Strimple 1999:89). Die feit dat daar soteriologiese eenheid in Christus is, beteken nie dat alle identiteite in Christus opgehef word of wegval nie. Inteendeel, nie net onderskei Jesaja 49:3-6 tussen die Kneg van die Here en Israel nie, maar hierdie Kneg is in werklikheid die basis van Israel se toekomstige herstel (Saucy 2015:171).

Tweedens is daar verskeie referente en betekenisse van 'die nageslag van Abraham', maar een referent of betekenis (byvoorbeeld die geestelike) kanselleer nie die ander betekenisse of referente, of die implikasies daarvan nie (Feinberg 1988:71-73; Vlach 2010:3). Die meeste motors ry op vier wiele, maar dit is 'n logiese fout om te redeneer dat alles wat op vier wiele ry motors is. As almal wat aan Christus behoort kinders van Abraham is, wil dit sê dat al Abraham se kinders aan Christus behoort (Scholtz 2016:8)? Nee, glad nie. Gelowiges wat géén biologiese verbintenis met Abraham het nie, deel nie of neem nie daardie fisiese beloftes oor wat God aan die nageslag van Ismael of Esau gemaak het nie (vgl. Gen 17:20; 27:39-40). Net so wys Fruchtenbaum (1989:702-703) tereg uit dat nie-Joodse gelowiges wat geestelik die nageslag van Abraham is, nie die nageslag van Jakob (Israel) is nie en daarom nie deel in die onvoorwaardelike fisiese of nasionale verbondsbeloftes wat God aan Israel gemaak het nie, en dit ook nie oorneem nie. Nie-Joodse gelowiges deel egter beslis in al die geestelike verbondsbeloftes wat God in die Abrahamitiese verbond gemaak het (Gen 12:3; Gal 3:8, 16; Ef 3:6). Die geestelike referent of betekenis van 'die nageslag van Abraham' kanselleer, verander of transendeer egter nie ander referente of betekenisse van hierdie begrip nie.

Derdens het alle gelowiges soteriologiese eenheid in hulle Verlosser, maar alle gelowiges pas nie onder die banier, Israel, nie. Daar was 'n gemeente of qāhāl (קהָל) in Israel in die Ou Testament, maar nie alle Jode was gered nie. Verder, nie alle Ou-Testamentiese gelowiges was deel van Israel se qāhāl nie. Daar moet ten minste toegegee word dat die manne van Nineve en die koningin van Skeba gered was (Jon 3; Matt 12:41-42), maar hulle was nie deel van die qāhāl in Israel nie. Meer nog, Ou-Testamentiese gelowiges wat vóór Abraham gebore is - byvoorbeeld Henog en Noag - was nie deel van Israel of van Israel se qāhāl nie. Is alle verskille tussen Jode en Grieke, mans en vrouens, of werkgewers en werknemers opgehef (vgl. Gal 3:28-29)? Nee, dit is nie (vgl. ook Coetzee 1965:192). Soteriologies gesproke is daar in regverdigmaking, heiligmaking en uiteindelike verheerliking géén onderskeid tussen Jood of Griek nie: elke gelowige is gered op grond van God se genade alleen, deur die geloof in Jesus Christus alleen (sonder enige verdere toevoeging). Soteriologiese eenheid in Christus hef egter nie alle etniese, nasionale, funksionele of geslagsverskille op nie.

Vierdens, word nie-Joodse gelowiges nie miskien 'geestelike Jode' nie? 'n Gelowige wat deur die Gees wandel is 'geestelik', of die persoon nou ookal 'n Jood of 'n nie-Jood is (Gal 5:16-25). Nie-Joodse gelowiges kan as die geestelike nageslag van Abraham beskou word (Rom 4:11; Gal 3:29), maar die Bybel leer nie dat 'n nie-Joodse gelowige 'n geestelike afstammeling van Jakob (Israel) en sy 12 seuns word nie. Die idee dat die Kerk die nuwe, ware of geestelike Israel is, kan dus nie deur hierdie skrywer ondersteun word nie. In die Ou Testament het die mense van Nineve nie geestelike Jode geword nie (Matt 12:41); proseliete word ook nêrens in die Bybel sodanig beskryf nie. Onderskeide bly bestaan: nadat Christus alreeds sy Kerk begin bou het, leer die Nuwe Testament nog steeds dat die apostel Petrus 'n Jood is (Gal 2:14), skryf Jakobus (1:1) 'n brief vir gelowige en ongelowige Jode (Allison 2015), en skryf die apostel vir die besnedenes (1 Pet 1:1; 2 Pet 3:1) vir gelowige Jode briewe (Couch 1996:300; Fruchtenbaum 1989:186-189). Nie-Joodse gelowiges word nie 'geestelike Jode' nie; in Romeine 2:28-29 word daar byvoorbeeld duidelik tussen gelowige en ongelowige Jode onderskei.

Vyfdens, kan geestelike beloftes dalk fisiese beloftes kanselleer, verander of transendeer? Die analogie van die geloof beteken nie dat die Skrif die Skrif herinterpreteer deur nuwe betekenisse aan oorspronklike tekste te gee en sodoende die normale beginsels vir interpretasie ongedaan maak nie. Om te beweer dat die Nuwe Testament beloftes wat aan Israel gemaak is, verander, kanselleer, geestelik transendeer of tot die ewige bestel idealiseer, is 'n ontkenning van die hermeneutiese beginsel van normale interpretasie en die grammaties-historiese metode.6

Sesdens is vervulling en tipologie belangrik vir Israelologie, maar tipologiese, analogiese of opsommende vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament kan egter nie onvoorwaardelike, Ou-Testamentiese verbondsbeloftes of profesieë wat steeds in die Nuwe-Testamentiese era onvervul bly, uitskakel nie (Scholtz 2016:8). Ook verander of kanselleer 'n Nuwe-Testamentiese antitipe nie die betekenis van 'n Ou-Testamentiese tipe nie, tensy die Nuwe Testament eksplisiet so sê (Feinberg 1988:79). Soos reeds genoem, word die term, Israel, meer as 70 keer in die Nuwe Testament gebruik om na die verbondsvolk Israel te verwys. Israel word dus nie eksplisiet in die Nuwe Testament deur 'n antitipe verander of gekanselleer nie (in teenstelling met Strimple 1999:86). Israel is nie 'n Ou-Testamentiese skaduweetipe wat in die Nuwe Testament deur die Kerk as antitipe vervang word en daarna verdwyn nie (Vlach 2010:115-117).

 

Israel se hede

Onder die term, 'Israel se hede', word die tydperk vanaf Jesus se eerste koms tot naby sy weerkoms verstaan.

Jesus se eerste koms en die onvergeeflike sonde

Jesus se woorde en dade in Matteus 4-12 bevestig nie net dat Hy die Messias is nie, maar ook sy boodskap aan Israel oor die evangelie van die koninkryk (Scholtz 2014:3). Tydens sy eerste koms is die evangelie van die koninkryk net aan Israel verkondig (Matt 3:2; 4:17; 10:5-7; 15:24), want die vier onvoorwaardelike verbonde en die voorwaardelike Mosaïese verbond behoort aan Israel. Indien Israel vir Jesus as die Christus, die Seun van die lewende God, aangeneem het, sou die messiaanse koninkryk op aarde gevestig gewees het kragtens bogenoemde onvoorwaardelike verbonde en ander onvervulde Ou-Testamentiese profesieë (Scholtz 2014:3-5). Ongeag of Israel Jesus as die Messias-Koning en Verlosser aangeneem het, sou Christus steeds tydens sy eerste koms aan die kruis moes sterf (Scholtz 2014:4).

In Matteus 12:22-32 dryf Jesus 'n duiwel uit 'n man wat blind en stom is. Die skare erken dit as 'n messiaanse wonderwerk en vra vir hulle leiers: "Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?" (Matt 12:23). Die wonderwerk kan nie geïgnoreer word nie, en die Fariseërs skryf die werk wat die Heilige Gees deur Jesus gedoen het toe aan Beëlsebul, die owerste van die duiwels (Matt 12:24). Hierdie lastering van die Heilige Gees is die onvergeeflike sonde wat 'hierdie geslag' in Israel gepleeg het. Fruchtenbaum (1989; vgl. ook Thomas 2015:98-100) beskryf dit soos volg:

The content and definition of the unpardonable sin is the national rejection of the Messiahship of Jesus by Israel while He was physically present on the basis that He was demon-possessed. This sin is unpardonable, and judgment was set. The judgment came in the year A.D. 70 with the destruction of Jerusalem and the Temple and the worldwide dispersion of the Jewish people. It was a national sin committed by the generation of Jesus' day, and for that generation the sin was unpardonable. From this point on a special emphasis is placed on this generation in the gospels, for it was guilty of a very unique sin. At this point, His offer of the Messianic kingdom was rescinded. (p. 617)

Die oprigting van die messiaanse koninkryk ingevolge die Dawidiese verbond is uitgestel omdat 'hierdie geslag' in Israel se geskiedenis hulle nie wou bekeer en in Jesus as die Messias glo nie (Thomas 2015:99). Die koninkryk is van hierdie godsdienstige leiers en hulle ongelowige volgelinge weggeneem (Matt 21:43) en sal aan 'n toekomstige Joodse generasie gegee word wat wel hulle geloofsvertroue in Jesus as die Messias sal plaas (Thomas 2015:105; vgl. ook Allison 1983:77-81). Volgens Matteus 23:39 sal die Jode vir Christus nie weer sien nie totdat (of tensy) hulle sê: 'Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here'. Aangaande Matteus 23:39 skryf Fruchtenbaum (1989; vgl. ook Allison 1983:78):

Jesus will not come back to the earth until the Jews and the Jewish leaders ask Him to come back. Just as the Jewish leaders led the nation to the rejection of the Messiahship of Jesus, they must some day lead the nation to the acceptance of the Messiahship of Jesus. (p. 307)

Na sy opstanding uit die dood leer Jesus sy apostels vir 40 dae oor die dinge van die koninkryk van God, en dan vra die apostels: 'Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?' (Hand 1:3, 6). Jesus korrigeer nie die apostels se begrip van die koninkryk nie, maar Hy antwoord dat die tydsberekening van die oprigting van die koninkryk vir Israel deur die Vader bepaal word (Hand 1:7; Ger 2004:22-24; vgl. ook Matt 24:36).

Soos wat Jesus geprofeteer het, is Jerusalem en die tempel in 70 n.C. verwoes en die Jode onder al die nasies oor die hele aarde verstrooi (Luk 21:12-24). Sedertdien is Jerusalem vir byna 1 900 jaar deur die nasies vertrap. Jesus impliseer egter ook dat wanneer die 'tye van die nasies' vervul is - 'n frase wat na nie-Joodse dominasie van Jerusalem verwys - daar 'n toekoms vir Jerusalem is (Bock 1996:1680-1682). Wanneer Petrus in Handelinge 3 met die Jode praat, bevestig hy dat indien 'n toekomstige Joodse generasie hulle bekeer, Christus sal terugkom en die tyd van die weeroprigting van alle dinge sal begin - 'n verwysing na die messiaanse koninkryk (Bock 1996:1682; Ger 2004:64-67).

Die Joodse oorblyfsel van Israel in die Kerk

Jesus belowe in Matteus 16:18 dat Hy sy Kerk sal bou (in die toekomende tyd) en in Handelinge 1:5 belowe Hy as opgestane Here dat Hy met die Heilige Gees sal doop (vgl. ook Matt 3:11-12). Hierdie beloftes word vanaf Pinksterdag bewaarheid, toe hierdie universele Kerk begin is - iets wat Petrus in Handelinge 11:15-17 bevestig nadat hy die sleutels van die koninkryk van die hemel gebruik het en die deur van Christus se verlossingswerk vir drie groepe oopgemaak het, naamlik die Jode in Handelinge 2, die Samaritane in Handelinge 8 en die nie-Jode in Handelinge 10-11 (Ger 2004:43, 121, 160). Eers ná Christus se dood, opstanding en hemelvaart is Hy as die Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, en eers daarná het Christus vir die Kerk geestelike gawes gegee (Ef 1:19-23; 4:7-12; Kol 1:18). Die Kerk begin op Pinksterdag en bestaan uit weergeborenes wat Christus, deur die Heilige Gees, in sy liggaam doop (1 Kor 12:13). Hierdie bediening van doop is uniek tot die Kerkera: gelowige dissipels uit die nasies word nie net met die Hoof van die liggaam, Jesus Christus, verenig nie, maar ook met ander gelowiges wat in die liggaam van Christus ingedoop is (Lightner 1996:172).

Paulus bevestig dat die verbonde (die onvoorwaardelike verbonde) en die wet (Mosaïese verbond) aan Israeliete, sy 'stamgenote na die vlees', gegee is (Rom 9:4-5; vgl. ook Ef 2:12). Al stamp baie Jode hulle teen die klip en al struikel baie Jode oor die rots (vgl. Jes 8:14; Rom 11:17-20), behoort hierdie verbonde ter wille van die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob steeds aan die uitverkore nasie Israel, want die genadegawes en die roeping van God is onherroeplik (Rom 11:28-29). Die feit dat Israel die uitverkore nasie is, beteken nie dat elke Jood daarom ook indiwidueel uitverkore is nie. Soos vroeër genoem is, is ongelowige Jode deel van die onvoorwaardelike verbonde en kan hierdie Jode dalk tydelik in die fisiese seëninge van die nasie deel, maar hulle verbeur geestelike seëninge omdat hulle nie glo en nie gered is nie.

Wat is die verhouding van die Kerk tot die onvoorwaardelike verbonde wat steeds aan Israel behoort? Paulus beklemtoon dat nie-Joodse gelowiges mede-erfgename, medelede en mededeelgenote in die belofte in Christus is (Ef 3:6). Die Kerk neem egter geensins enige van die onvoorwaardelike verbondsbeloftes aan Israel oor nie (Rom 9:4-5; 11:28-29). Joodse gelowiges deel in al die beloftes van die vier onvoorwaardelike verbonde met Israel; nie-Joodse gelowiges deel in die geestelike beloftes van hierdie verbonde (bv. Gen 12:3; Gal 3:8). Nie-Joodse gelowiges sal ook tydens die Millennium en in die ewige bestel op die aarde wees, maar Joodse gelowiges sal die land van Israel beërwe.

Indien die verbond met Abraham steeds van krag is - en dit is wel (Gal 3:8, 15-20; Coetzee 1965:175) - dan geld die teken van die Abrahamitiese verbond ook nog steeds (Gen 17:9-14). Wie moet dan besny word? Joodse seuntjies moet steeds in terme van die onvoorwaardelike Abrahamitiese verbond op die agste dag besny word (Fruchtenbaum 1989:630; Ger 2004:223-226), maar geen Jood behoort op grond van die Mosaïese verbond besny te word nie (Gal 5:2-4). Moet nie-Joodse seuns of mans fisies besny word? Nee, nie op grond van die Abrahamitiese verbond nie, en nog minder op grond van die Mosaïese verbond (Gal 5:2-4; Fruchtenbaum 1989:170). Waarom nie? Die verbond met Abraham is met sy Joodse nageslag deur Jakob (Israel) bevestig, nie met enige ander nasie nie. Verder het Christus die Wet van Moses vervul en is die middelmuur van skeiding afgebreek; daar is dus geen rede vir 'n persoon (Jood of nie-Jood) om op grond van die voorwaardelike Mosaïese verbond besny te word nie (Gal 6:12-13; vgl. ook Hand 15:1-34).7

Voorstanders van sowel die verbondsteologie as die nuwe verbondsteologie ontken dat die beloftes wat aan die nasie Israel gemaak is, nog van krag is. Dispensasionaliste tref wel 'n onderskeid tussen Israel en die Kerk, maar is soms huiwerig om te sê dat Joodse gelowiges in die Kerk terselfdertyd nog steeds deel van die nasie Israel is. Fruchtenbaum (1989; vgl. ook Ger 2009:248-250) merk egter tereg op:

[I]n Israel, past, present, and future, it is the remnant that is faithful to the revelation of God. The remnant is always within the nation, not outside of it; the Messianic Jews, the present-day remnant, are part of Israel and the Jewish people. Their Jewishness is distinct. It is true that Jewish believers are part of the Church. But the Jewish believers are also the Remnant of Israel, which is always part of the nation of Israel and not separated from it. Jewish believers are part of the Church and part of Israel. (p. 757)

As Joodse gelowiges tydens die Kerkera deel is van sowel die Kerk as die nasie Israel, is nie-Joodse gelowiges wat deel is van die Kerk, nie ook steeds deel van 'n nie-Joodse nasie nie? Nie-Joodse gelowiges tydens die Kerkera is inderdaad deel van die Kerk en ook steeds deel van hulle onderskeie nasies (Coetzee 1965:180-181). Die Kerk is egter nie 'n nasie nie maar eerder 'n internasionale liggaam wat aan die Hoof verbind is. Nogtans bly elke lid van die liggaam van Christus deel van 'n nasie. Jesus se opdrag aan die Kerk is immers om dissipels van al die nasies te maak (Matt 28:19). In die toekoms sal Christus aan sekere dissipels mag oor die nasies gee (Matt 25:21-23; Op 2:26; 3:21).

Het die nasie Israel 'n hede en 'n toekoms in God se raadsplan? Indien Israel 'n toekoms sou hê, is hulle dan tydelik in die hede verwerp? Israel het oor Christus gestruikel en word ongetwyfeld deur God gedissiplineer, maar Israel het nie geval nie (Rom 9:32-33; 11:11). Dissipline deur tydelike en gedeeltelike verharding impliseer nie verwerping nie (Sibley 2015:575-576). Paulus verwerp ten sterkste die idee dat God Israel verwerp het; God het hulle selfs nie eens tydelik verstoot nie (Rom 11:1-2; Sibley 2015:577-579). Coetzee (1965) stel dit sterk:

Daar is, sê Paulus, absoluut geen sprake daarvan dat Israel se huidige ongeregtige staat in hulle ongeloof beteken dat God se woord verval het nie. Daar is dus geen sprake daarvan dat Israel deur God verwerp is as sy Godsvolk nie. Gods woord bly staan in sy krag! Israel bly staan as Godsvolk! Daaroor laat Paulus geen twyfel nie. Daaroor val vir hom niks meer te sê nie. Die teendeel is onmoontlik! Waarom? Wat is Paulus se grond? God se verbondstrou! (p. 162)

Israel is tydelik en ten dele verhard, maar dit beteken steeds nie dat God Israel verwerp het nie (Rom 11:1, 25). Die Joodse oorblyfsel waarvan Paulus deel is, bewys dat Israel 'n hede en 'n toekoms het (Rom 11:1-6, 25-31; Coetzee 1965:172). Derhalwe word Sibley (2015) se mening as juis beskou:

Romans 11:15, far from teaching that God has rejected the Jewish people, actually provides the church with a rationale for Jewish evangelism and missions in the present and also anticipates the time when Israel will be spiritually reborn as a nation. The rejection of the salvation which was offered through Jesus the Messiah by the majority of Israel has meant that salvation could be offered to the nations, even as the Abrahamic covenant had promised. In verse 15, Paul argues that if their rejection of salvation has brought such blessing to so many, how much greater the blessing when they accept that salvation, for it will not only mean the salvation of individual Israelites, but the spiritual restoration of the nation. (p. 581)

 

Israel se toekoms

Die wêreld se sogenaamde 'Joodse probleem' is skynbaar opgelos omdat Jode sedert 1948 weer na hulle land kon terugkeer. Soos vroeër genoem, verskil teologiese stelsels egter op grond van hulle sienings oor Israel. Dit dui daarop dat daar skynbaar steeds 'n 'Joodse probleem' is. 'Israel se toekoms' verwys hier na die tydperk ná afloop van die twee wêreldoorloë en tot in die ewige bestel.

Huidige herstel in die land Israel

In 70 n.C. oordeel God 'hierdie geslag' in Israel wat tydens Jesus se eerste koms die onvergeeflike sonde gepleeg het. Volgens die profesieë is Jode sedertdien oor die hele aarde verstrooi (Deut 30:1; Luk 21:24). Is die terugkeer van Jode na hulle land sedert 1948 van profetiese belang?

Die Bybel bevat profesieë oor twee fisiese, wêreldwye herversamelings van Jode na hulle land. Die terugkeer ná die Babiloniese ballingskap was nie 'n wêreldwye herversameling nie. Volgens Esegiël 20:33-38 en Sefanja 2:1-2 sal daar egter 'n wêreldwye herversameling van oorwegend ongelowige Jode na hulle land plaasvind ter voorbereiding vir die oordeel van die sewe jaar lange Verdrukkingstydperk (Fruchtenbaum 1989:716; White 2014:1401). Ná die eerste herversameling sal daar 'n tweede herversameling in Israel plaasvind (Matt 24:31; Mark 13:27), hierdie keer van gelowige Jode ter voorbereiding vir die seën van die messiaanse koninkryk (Benware 2006:319; Rydelnik & Spencer 2014:1027). Hoe kan 'n mens weet dat daar twee wêreldwye herversamelings van Jode na hulle land sal plaasvind, en nie byvoorbeeld drie of sewe herversamelings nie? Jesaja 11:11-12:6 praat van 'n herversameling vir 'die tweede keer', en soos duidelik uit die konteks afgelei kan word, is genoemde tweede herversameling vir die seën van die messiaanse koninkryk. Daar is dus net twee wêreldwye herversamelings (Fruchtenbaum 1989:718). Die moderne staat van Israel wat in 1948 tot stand gekom het, is dus nie 'n historiese toevalligheid nie, maar 'n vervulling van bybelse profesie (Rydelnik 2007:132-134).

Drie aanverwante kwessies is relevant tot die tema van die moderne staat van Israel. Eerstens verklaar Daniël 9:24-27 (vgl. ook Jes 28:14-22) dat die sewe jaar lange Verdrukkingstydperk sal begin wanneer Israel 'n verbond met die Antichris sluit. Dit impliseer dat daar 'n Joodse staat moet bestaan, dat die Antichris kort voor die Verdrukkingstydperk 'n persoon van aansien sal wees en dat die Tweede Wêreldoorlog en die Joodse volksmoord nie die geprofeteerde Verdrukkingstydperk kon gewees het nie. Tweedens sal die 'seun van die verderf' teen die middel van die sewe jaar lange Verdrukkingstydperk die tempel in Jerusalem binnegaan en aanbidding eis (2 Tess 2:3-4; vgl. ook Dan 9:27; Matt 24:15; Op 11:1-2). Dit impliseer dat daar ten minste teen die middel van die Verdrukkingstydperk 'n funksionerende tempel sal bestaan, wat eweneens impliseer dat Israel ten minste tydelik in beheer van die Tempelberg sal moet wees. Selfs al is dit moontlik net tydelik, is Israel sedert 1967 in beheer van Jerusalem en die Tempelberg. Derdens het God die land onvoorwaardelik aan Israel belowe, en daarom het Israel die volste reg om in haar land te wees. Beteken dit dat Christene die huidige Israeliese regering se foute miskyk of alles wat Israel vandag doen, moet ondersteun en goedpraat? Nee. Eers wanneer die Seun van Dawid oor Israel regeer, met die twaalf apostels wat oor die twaalf stamme van Israel oordeel, eers dán sal daar vrede wees (Jes 2:2-4; Matt 19:28).

Die basis van die weerkoms van Christus

In God se soewereiniteit en volgens die werking van die Heilige Gees sal die Here Jesus Christus na die aarde toe terugkeer op 'n tyd wat deur die Vader bepaal is (Matt 24:36; Hand 1:7). Albei Testamente getuig egter dat die weerkoms van Christus ook aan Israel se nasionale bekering gekoppel is (Vlach 2016:161).

Levitikus 26:40-45 bevat 'n profesie dat die Jode, nadat hulle as gevolg van hulle ongehoorsaamheid oor die aarde verstrooi is, weer die seëninge van die Abrahamitiese verbond - veral die land - kan geniet, mits hulle hulle sonde en dié van hulle nasie bely (Fruchtenbaum 1989:781). Jeremia 3:12-18 handel oor die seëninge van die messiaanse koninkryk, maar hierdie seëninge hang eweneens af van Israel se bekentenis en belydenis van 'n spesifieke sonde (Jer 3:13) wat die nasie teen die Here hulle God gepleeg het (Vlach 2016:168). Op soortgelyke wyse verklaar Hosea 5:15: 'Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle my soek.' Die Seun van God het met sy menswording die hemel verlaat en met sy hemelvaart daarheen teruggekeer. Die Tweede Persoon van die Drie-eenheid sê dat Hy nie na die aarde toe sal terugkom voordat hulle [Israel] hul 'skuld' beken nie. Watter skuld? Volgens Fruchtenbaum (1989:783) is dit die onvergeeflike sonde wat 'hierdie geslag' in Israel tydens Jesus se eerste koms gepleeg het.8

Nuwe-Testamentiese tekste getuig ook dat daar seën op Israel se nasionale bekering sal volg. Dit was die boodskap tydens Christus se eerste koms (Matt 3:2; 4:17; 10:7), en dit sal ook voor sy tweede koms die boodskap wees (Scholtz 2014:5). Beteken dit dat Jode gered gaan word net omdat hulle Jode is? Nee, glad nie. Vir altyd en vir alle mense is redding op God se genade slegs deur geloof in Christus alleen gegrond. Tydens die Verdrukkingstydperk sal twee derdes van alle Jode omkom, maar terselftertyd sal 'n derde oorbly wat die Naam van die Here gelowig sal aanroep (Sag 13:8-9; vgl. ook Mal 3:2-6; 4:1-2). Die meerderheid van die Joodse generasie wat aan die einde van die Verdrukkingstydperk nog fisies lewe, sal dus hulle geloofsvertroue in die Messias plaas en hulle Verlosser-Koning aanroep met die woorde: 'Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here' (Matt 23:39). Die hele Israel sal gered word soos daar geskrywe is: 'Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem' (Jes 59:20-21; vgl. ook Rom 11:26-27; Coetzee 1965:203-210; Cranfield 1979:574-579).

Die messiaanse koninkryk en die ewige bestel

Is daar 'n interimperiode, die Millennium, voor die ewige bestel? Aangesien sonde die dood voortbring en die dood die laaste vyand is wat vernietig gaan word (1 Kor 15:26, 56), sal daar nie meer sonde of dood in die ewige bestel wees nie. Sagaria 14:16-21 sê dat almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, jaarliks sal optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare te aanbid en om die huttefees te vier. Hierdie profesie is nie in die tyd van Sagaria ná die Babiloniese ballingskap vervul nie; dit is nie tydens die Here Jesus se eerste koms vervul nie, en dit word beslis nie vandag vervul nie. Sagaria 14:17-19 praat verder van straf vir die ongehoorsaamheid van sekere nasies. Omdat daar in die ewige bestel nie meer sonde of dood is nie, verwys Sagaria 14:16-21 na 'n 'interimperiode', die messiaanse koninkryk. 'n Soortgelyke argument geld vir Jesaja 65:17-25: al is daar sprake van 'n nuwe hemel en ʼn nuwe aarde, is daar steeds sonde en dood (v. 20) en verwys hierdie tydperk dus na die messiaanse koninkryk wat in die ewige bestel sal oorgaan (Rydelnik & Spencer 2014:1099-1100). Die Ou Testament sê nie hoe lank die messiaanse koninkryk gaan duur voordat dit in die ewige bestel sal oorgaan nie, maar die Nuwe Testament sê in Openbaring dat hierdie 'interimperiode' 1 000 jaar lank sal duur (Op 20:1-7).

In die Millennium sal God se raadsplan vir die nasies tot vervulling kom. In dieselfde area waar die eerste Adam gefaal het, sal die laaste Adam oor die aarde heers (Gen 1:28; 3:17-19; Ps 8:4-10; Heb 2:5-9). In dieselfde area waar 70 nasies gefaal het, sal Christus suksesvol oor die uitverkore Israel en die nasies heers (Jes 9:6-7; 11:1-2; Jer 23:5-8; Dan 7:14, 27; Matt 19:28; Luk 1:32-33; Op 11:15). Israel is nie 'n doel op sigself nie, maar bestaan nog altyd om God te eer, om sy heerlikheid aan die nasies te verkondig en om ander nasies tot seën te wees (Jes 43:10-12; vgl. ook Matt 20:25-26). In die Millennium sal Israel nie die enigste nasie wees wat as die Here se volk beskryf word nie. Dit is in die eskatologiese 'Dag van die Here' dat Jesaja 11:10 direk vervul sal word, naamlik wanneer nasies as nasies na die 'wortel van Isai' sal vra. Sowel Egipte as Assirië sal in daardie tyd nasies word wat die Here dien (Jes 19:19-25; Vlach 2010:170-171; Rydelnik & Spencer 2014:1033). Nogtans bly nasies onderskeibaar, want Israel is die Here van die leërskare se erfdeel (Jes 19:25).9 Tydens die messiaanse koninkryk sal alle onvervulde, onvoorwaardelike verbondsbeloftes en profesieë vervul word. Al is daar soteriologiese eenheid in Christus, is Israel (Op 21:12), die Kerk (Op 21:9; 22:17) en verskillende nasies (Op 21:24, 26; 22:2) onderskeibaar - selfs in die ewige bestel.

 

Slot

In hierdie artikel is daar aangetoon dat Israel nie net 'n verlede in God se raadsplan het nie, maar ook 'n hede en 'n toekoms. Die kern van die argument is dat God aan Israel sekere onvoorwaardelike verbondsbeloftes en profesieë gemaak het, en die Nuwe Testament verander, kanselleer, vergeestelik, transendeer of idealiseer nie hierdie beloftes nie. Die feit dat die term 'nageslag van Abraham' na die geestelike nageslag van Abraham van nie-Joodse afkoms kan verwys, verander of kanselleer ook nie die onvoorwaardelike beloftes wat God aan die Joodse nageslag van Abraham gemaak het nie. Ten spyte van Israel se sonde en ongehoorsaamheid bly God aan sy onvoorwaardelike beloftes getrou. Die feit dat daar tans 'n gelowige Joodse oorblyfsel is, bevestig dat God sy volk Israel nie verwerp of verstoot het nie, selfs nie eens tydelik nie. Die Joodse oorblyfsel in die Kerkera vandag is nie net lede van die liggaam van Christus nie, maar bly steeds ook deel van die nasie Israel. Verskeie onvoorwaardelike verbondsbeloftes en profesieë bevestig eweneens dat Israel 'n toekoms as 'n gelowige nasie het. Israelologie behoort dus 'n akademiese dissipline in eie reg binne die raamwerk van die Bybelse en Sistematiese Teologie te wees. Israelologie is nie net belangrik vir die ekklesiologie en eskatologie nie, maar op grond van die leer oor Israel soos dit in hierdie artikel voorgestel word, kan verdere navorsing ook op Israel se rol in Missiologie en in die sendingopdrag van Matteus 28:18-20 fokus, profesieë oor Israel wat vervul gaan word (vgl. Joël 3:2; Sag 12:2; 1 Tess 5:2-3), asook die leer oor die nasies. Die Kerk is vandag God se instrument om dissipels van al die nasies te maak (Matt 28:18-20). In die diepte van die rykdom, wysheid, kennis en ewige heerlikheid van God kom daar egter 'n tyd wanneer alle volgelinge van die Here Jesus Christus sal aanskou hoe die oënskynlike 'Joodse probleem' eens en vir altyd verby sal wees. As Israel se val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie (vgl. Rom 11:12, 33-36)!

Erkenning

Hierdie artikel word aan Dr Arnold G. Fruchtenbaum en Ariel Ministries opgedra.

Mededingende belange

Die skrywer verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Allison, D.C., 1983, 'Matt. 23:39=Luke 13:35b as a conditional prophecy', Journal for the Study of the New Testament 18(5), 75-84, https://doi.org/10.1177/0142064X8300501803        [ Links ]

Allison, D.C., 2015, 'The Jewish setting of the epistle of James', In die Skriflig 49(1), Art. #1897, 9 pages, https://doi.org/10.4102/ids.v49i1.1897        [ Links ]

Barrick, W.D., 2005, 'The new perspective and "Works of the Law" (Gal 2:16 and Rom 3:20)', The Master's Seminary Journal 16(2), 277-292.         [ Links ]

Benware, P.N., 2006, Understanding end times prophecy: A comprehensive approach, Moody Publishers, Chicago.         [ Links ]

Betz, H.D., 1979, Galatians: A commentary on Paul's letter to the churches in Galatia, Fortress, Philadelphia.         [ Links ]

Blaising, C., 2016, 'Biblical hermeneutics: How are we to interpret the relation between the Tanak and the New Testament on this question?', in G.R. McDermott (ed.), The New Christian Zionism: Fresh perspectives on Israel and the land', pp. 79-106, InterVarsity, Downers Grove.         [ Links ]

Bock, D.L., 1996, Baker exegetical commentary on the New Testament: Luke 9: 51-24:53, Baker Academic, Grand Rapids.         [ Links ]

Brand, C.O., 2015, 'Introduction', in C.O. Brand (ed.), Perspectives on Israel and the Church: 4 Views, pp. 1-15, B&H Publishing Group, Nashville.         [ Links ]

Brand, C.O. & Pratt, T., 2015, 'The Progressive Covenantal view', in C.O. Brand (ed.), Perspectives on Israel and the Church: 4 Views, pp. 231-285, B&H Publishing Group, Nashville.         [ Links ]

Busenitz, I.A., 1999, 'Introduction to the biblical covenants; the Noahic covenant and the priestly covenant', The Master's Seminary Journal 10(2), 173-189.         [ Links ]

Coetzee, J.C., 1965, Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament, Pro Rege Pers, Potchefstroom.         [ Links ]

Couch, M., 1996, 'Peter, 1&2, Eschatology of', in M. Couch (ed.), Dictionary of Premillennial Theology, pp. 300-302, Kregel Publications, Grand Rapids.         [ Links ]

Cranfield, C.E.B., 1979, A critical and exegetical commentary on the epistle to the Romans, volume II (ICC), Clarke, Edinburgh.         [ Links ]

Du Toit, P. la G., 2016, 'Does the New Testament support Christian Zionism?', In die Skriflig 50(1), a2164, https://doi.org/10.4102/ids.v50i1.2164        [ Links ]

Feinberg, J.S., 1988, 'Systems of discontinuity', in J.S. Feinberg (ed.), Continuity and discontinuity: Perspectives on the relationship between the Old and New Testaments, pp. 63-88, Crossway, Wheaton.         [ Links ]

Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The missing link in Systematic Theology, Ariel Ministries, Tustin.         [ Links ]

Fruchtenbaum, A.G., 2016, Yeshua: The life of Messiah from a messianic Jewish perspective, vol 1, Ariel Ministries, San Antonio.         [ Links ]

Gentry, P.J. & Wellum, S.J., 2015, God's kingdom through God's covenants: A concise biblical theology, Crossway, Wheaton.         [ Links ]

Ger, S., 2004, The book of Acts: Witnesses to the world, AMG Publishers, Chattanooga.         [ Links ]

Ger, S., 2009, The book of Hebrews: Christ is greater, AMG Publishers, Chattanooga.         [ Links ]

Hsieh, N.S., 2015, 'Abraham as "heir of the world": Does Romans 4:13 expand the Old Testament Abrahamic land promises?', The Master's Seminary Journal 26(1), 95-110.         [ Links ]

Johnson, S.L., 2009, 'Paul and the "Israel of God": An exegetical and eschatological case-study', The Master's Seminary Journal 20(1), 41-55.         [ Links ]

König, A., 1986, Die doop as kinderdoop èn grootdoop, NG Kerkboeke, Pretoria.         [ Links ]

Ladd, G.E., 1994, A Theology of the New Testament, rev. edn., Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Lightner, R., 1996, 'Holy Spirit, baptism of the', in M. Couch (ed.), Dictionary of Premillennial Theology, p. 172, Kregel Publications, Grand Rapids.         [ Links ]

McAvoy, S.L., 1996, 'Abrahamic covenant', in M. Couch (ed.), Dictionary of Premillennial Theology, pp. 27-32, Kregel Publications, Grand Rapids.         [ Links ]

Merrill, E.H., 2008, Kingdom of priests: A history of Old Testament, Baker Academic, Grand Rapids.         [ Links ]

Murray, J., 1965, The epistle to the Romans, Eerdmans, Grand Rapids. (New International Commentary on the New Testament, vol. 2).         [ Links ]

Osterhaven, M.E., 2001, 'Covenant theology', in W.A. Elwell (ed.), Evangelical dictionary of theology, 2nd edn., pp. 301-303, Baker Academic, Grand Rapids.         [ Links ]

Peterman, G., 2014, 'Galatians', in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible commentary, pp. 1827-1843, Moody Publishers, Chicago.         [ Links ]

Reisinger, J.G., 1998, Abraham's four seeds, New Covenant Media, Frederick.         [ Links ]

Reymond, R.L., 2015, 'The Traditional Covenantal View', in C.O. Brand (ed.), Perspectives on Israel and the Church: 4 Views, pp. 17-68, B&H Publishing Group, Nashville.         [ Links ]

Riddlebarger, K., 2003, A case for Amillennialism: Understanding the end times, Baker Books, Grand Rapids.         [ Links ]

Rydelnik, M., 2007, Understanding the Arab-Israel conflict: What the headlines haven't told you, Moody Publishers, Chicago.         [ Links ]

Rydelnik, M. & Spencer, J., 2014, 'Isaiah', in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible commentary, pp. 1005-1102, Moody Publishers, Chicago.         [ Links ]

Saucy, R.L., 2015, 'The Progressive Dispensational view', in C.O. Brand (ed.), Perspectives on Israel and the Church: 4 Views, pp. 155-208, B&H Publishing Group, Nashville.         [ Links ]

Scholtz, J.J., 2014, 'The kingdom of heaven and Matthew 10', In die Skriflig 48(1), Art. #1782, 8 pages, https://doi.org/10.4102/ids.v48i1.1782        [ Links ]

Scholtz, J.J., 2016, 'Vooronderstellings wat die eskatologie beïnvloed', In die Skriflig 50(1), a2170, https://doi.org/10.4102/ids.v50i1.2170        [ Links ]

Schreiner, T.R., 2010, Galatians, Zondervan, Grand Rapids. (Zondervan exegetical commentary on the New Testament).         [ Links ]

Showers, R.E., 1990, There really is a difference! A comparison of covenant and dispensational theology, The Friends of Israel Gospel Ministry, Bellmawr.         [ Links ]

Sibley, J.R., 2002, 'Christianity vis-À-vis Judaism', Southwestern Journal of Theology 44(2), 24-43.         [ Links ]

Sibley, J.R., 2015, 'Has the Church put Israel on the shelf? The evidence from Romans 11:15', Journal of the Evangelical Theological Society 58(3), 571-581.         [ Links ]

Strimple, R.B., 1999, 'Amillennialism', in D.L. Bock (ed.), Three views on the Millennium and beyond', pp. 81-129, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

Thomas, R.T., 2005, 'Hermeneutics of the New Perspective on Paul', The Master's Seminary Journal 16(2), 293-316.         [ Links ]

Thomas, R.L., 2015, 'The traditional Dispensational view', in C.O. Brand (ed.), Perspectives on Israel and the Church: 4 Views, pp. 87-136, B&H Publishing Group, Nashville.         [ Links ]

Vlach, M.J., 2010, Has the Church replaced Israel? A theological evaluation, B&H Academic, Nashville.         [ Links ]

Vlach, M.J., 2016, 'Israel's repentance and the Kingdom of God', The Master's Seminary Journal 27(1), 161-186.         [ Links ]

White, W., 2014, 'Zephaniah', in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible commentary, pp. 1397-1404, Moody Publishers, Chicago.         [ Links ]

Wright, C.J.H., 2006, The mission of God: Unlocking the Bible's grand narrative, InterVarsity Academic, Downers Grove.         [ Links ]

Wright, N.T., 1997, Jesus and the victory of God, Augsburg Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Jacob Scholtz
jacojanscholtz@gmail.com

Received: 23 Dec. 2016
Accepted: 09 May 2017
Published: 12 July 2017

 

 

1 . Daar is ongetwyfeld indiwiduele sienings en nuanses wat oor die skerp grense van Figuur 1 strek. So word die verskille tussen progressiewe en tradisionele Dispensasionalisme byvoorbeeld nie in Figuur 1 aangedui nie.
2 . 'n Moontlike Priesterlike verbond (Num 25:10-13) word nie in hierdie artikel behandel nie.
3 . Volgens Fruchtenbaum (1989:170, 748-750) kan die kind van 'n Joodse vrou en 'n nie-Joodse man kies of hy of sy as 'n Jood beskou wil word soos wat Timoteus gedoen het, en dan in terme van die Abrahamitiese verbond besny is (Hand 16:3).
4 . Daar is verskillende historiese, literêre en ander kontekste waarin die terme Israeliet, Jood en selfs Hebreër soms met spesiale en onderskeidende nuanses gebruik word, maar oorkoepelend gesien bly 'n Jood 'n biologiese afstammeling van Jakob (Israel).
5 . Hierdie artikel maak gebruik van die Afrikaanse 1933/1953-vertaling.
6 . Artikel 7 van die Chicago Statement on Biblical Hermeneutics (1982) stel dit duidelik dat die betekenis van die Bybelteks enkelvoudig, bepaald en vas is, maar dat die erkenning van sodanige enkelvoudige betekenis nie 'n verskeidenheid van toepassings uitskakel nie.
7 . Indien iemand (
ʼn Jood of nie-Jood) vandag tot geloof in Jesus die Messias kom, doop Christus daardie persoon deur die Heilige Gees in sy liggaam in, en daarna behoort die gelowige in gehoorsaamheid aan Christus se opdrag as ʼn dissipel die waterdoop te ondergaan (vgl. Matt 28:18-20).
8 . Ander relevante Ou-Testamentiese tekste sluit Deuteronomium 4:25-31; 30:1-10 en Sagaria 12-14 in (Vlach 2016:166-169).
9 . Met verwysing na Romeine 4:13 merk Hsieh (2015:106-110) op dat
κόσμος na mense en na land kan verwys en dat κληρονόμος nie altyd na die beërwe van land verwys nie, maar dat dit ook na die beërwe van geregtigheid, lewe, mense, ensovoorts kan verwys. Hsieh (ibid:110) beskryf hierdie interpretasie van Romeine 4:13 as Abraham se 'beërwe van baie nasies', die idee dat Abraham 'n baie groot geestelike nageslag uit al die nasies gaan erf. So gesien, gaan Romeine 4:13 nie oor Ou-Testamentiese landbeloftes wat uitgebrei word nie (ibid:110). Indien hierdie interpretasie reg is, het dit implikasies vir ander tekste in die debat oor die land van Israel (bv. Matt 5:5; Ef 6:2-3; Heb 4:1-11).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons