SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue4 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.50 n.4 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i4.2026 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die retoriese funksie van die wisselwerking tussen 'n profeet en sy gehoor in die boek Esegiël

 

 

H.F. (Herrie) van Rooy

Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

In the book of the prophet Ezekiel, indications are found of the interaction between the prophet and his audience. Prophecy always had the aim to convince its audience of something and are therefore always of a rhetorical nature. It happens frequently that the rhetorical aim and situation of a prophetic book receives attention. This article attempts to reconstruct the possible original rhetorical situation of those instances where the prophet uses quotations and react on them. Before discussing the different cases, three theoretical issues receive attention, namely the rhetorical approach used in this article, the use of quotations in the Bible and so-called disputations. In the book, quotations occur in two contexts, namely before and after the fall of Jerusalem. The refutation of the quotations aims to address the despondency of the exiles and exhorting them with the message that God will bring deliverance in the future.


 

 

Inleiding

Die artikel probeer om iets van die moontlike oorspronklike retoriese situasie te rekonstrueer in die gevalle waar die profeet woorde van sy gehoor aanhaal en daarop reageer. Voordat die spesifieke gevalle bespreek word, word daar eers aan drie teoretiese sake aandag gegee, naamlik die retoriese benadering wat gevolg gaan word, die gebruik van aanhalings in die Bybel in besonder en die sogenaamde twisgesprek. In die boek kom die aanhalings in twee kontekste voor, naamlik vóór en ná die val van Jerusalem. Die weerlegging van die aanhalings het soms die doel gehad om die ballinge oor hulle moedeloosheid aan te spreek en soms om hulle aan te moedig met die boodskap dat God tog in die toekoms vir hulle uitkoms sal gee.

In die boek van die profeet Esegiël is daar meermale aanduidings van 'n wisselwerking tussen die profeet en sy gehoor. Dit kom veral na vore wanneer die profeet woorde van sy gehoor aanhaal of woorde van ander mense vir sy gehoor aanhaal en dan daarop reageer. Profesie het altyd die doel om die gehoor van een of ander saak te oortuig en is dus altyd retories van aard. Daar kan wel gevra word in hoe 'n mate die oorspronklike retoriese situasie van 'n spesifieke profetiese woord bepaal kan word. In die navorsing gebeur dit dus eerder dat die retoriese situasie en doel van 'n profetiese boek aandag kry - natuurlik in samehang met die vraag aan wie die boek gerig was en uit watter tydperk dit moontlik dateer. In die geval van Esegiël het die retoriek van die boek reeds meermale aandag gekry soos in die ondersoek van Renz (1999). In hierdie artikel word gepoog om iets van die moontlike oorspronklike retoriese situasie te rekonstrueer in die gevalle waar die profeet woorde aanhaal en daarop reageer. Voordat die spesifieke gevalle bespreek word, word daar eers aan drie teoretiese sake aandag gegee, naamlik die retoriese benadering wat gevolg gaan word, die gebruik van aanhalings in die Bybel in besonder en die sogenaamde twisgesprek.1 Laasgenoemde is veral van belang omdat die meeste van die aanhalings in Esegiël in twisgesprekke voorkom.

 

Retoriek en die bestudering van die Ou-Testamentiese profete

Fox (1980b:4) sê dat enige profesie per definisie retories van aard is. Die bestudering van profetiese uitsprake en boeke se retoriek is dus eintlik vanselfsprekend. Tradisioneel kan 'n mens sê dat retoriek as oorreding deur middel van mondelinge argumentasie beskryf kan word (Eidevall 2012:67). In hierdie verband word dikwels na Burke (1950:41) se definisie van retoriek verwys: 'The use of words by human agents to form attitudes or induce actions in other human agents.' Ook White (1992) wys in sy definisie daarop dat simbole in retoriek gebruik word om verandering by die hoorders teweeg te bring:

The purposive use of symbols in an attempt to induce change in some receiver(s), thereby derivatively modifying the circumstances that provoked, or made possible, the symbolic interaction between persuader(s) and receiver(s). (p. 11)

In die bestudering van die Bybel word ook nie altyd dieselfde onder retoriek verstaan nie. Soms verbind geleerdes retoriek aan stilistiek soos wat Muilenburg gedoen het (vgl. Eidevall 2012:67). Goering (2012:486) noem spesifiek dat sekere formele sake soos 'n refrein of vaste formules vir die beoordeling van 'n skrywer se retoriek wel van belang is.

Eidevall (2012:68) wil egter soos baie ander geleerdes retoriek primêr aan die kuns van oorreding koppel. Retoriek word ook dikwels met spraak geassosieer, maar in die geval van die Ou Testament gaan dit natuurlik oor die gebruik van retoriek in geskrewe dokumente, veral in die geskrifte van die profete (Eidevall 2012:69). Die klem val hier op die tegnieke en strategieë van skrywers om hulle lesers van 'n spesifieke standpunt te oortuig.

Stanley (2004:16) sê dat 'n retoriese handeling begin waar 'n skrywer of spreker die persepsie het dat dinge nie is soos dit behoort te wees nie en dat taal dan gebruik word om die gehoor daarvan te oortuig dat daar 'n verandering in die situasie of in gedrag moet kom. Die effektiwiteit van 'n retoriese handeling hang in 'n groot mate van die gehoor af. Is hulle bereid om beïnvloed te word (Stanley 2004:18)? Eidevall (2012:73) oordeel dat daar in die beoordeling van 'n skrywer of spreker se retoriek veral twee vrae gevra moet word, naamlik watter argument in die teks aangebied word en hoe die argument ondersteun word.

Wat Esegiël betref, het Renz (1999) 'n indringende studie gedoen van die boek se retoriek in sy geheel. Hy wou ondersoek instel na die retoriese funksie van die boek as deel van die kommunikatiewe situasie waarin dit ontstaan het. Sy doel was om aan te toon hoe die boek sy huidige vorm gekry het om op 'n spesifieke manier met die tweede geslag ballinge te kommunikeer (Renz 1999:1). Hy kyk dus na die boek in sy geheel, na die verhouding tussen die skrywer of teks en die leser, en hy lees die boek asof dit op die laat-ballingskapse gemeenskap gerig is (Renz 1999:9). Dit is 'n baie belangrike bydrae. Hy wil egter nie na die moontlike oorspronklike konteks van die profeet en sy gehoor kyk nie, maar na die konteks van die boek in sy huidige vorm. Hiervoor moet hy dus die boek, of minstens 'n groot deel daarvan, dateer en dit dan lees asof dit op 'n spesifieke gehoor gerig is. Hierdie identifisering van 'n gehoor bly egter hipoteties. In hierdie artikel gaan daar eerder gelet word op wat Renz (1999:19) die 'retoriek van die situasies in die narratief' noem. Dit sluit aan by 'n opmerking van Boadt (1997:1) dat die oorredende retoriek van die profete nie net vir die oorspronklike hoorders belangrik was nie, maar ook vir latere lesers en verklaarders.

In Renz se benadering (1999:13-14) onderskei hy vyf stappe, wat ook vir hierdie artikel ter sake is:

Bepaal die retoriese eenheid.

Ondersoek die retoriese situasie.

Bepaal waaroor die teks handel.

Ondersoek die retoriese tegnieke.

Beoordeel die retoriese effektiwiteit.

Ook Möller (2003:37-42) wil vyf stappe volg in die bestudering van 'n profetiese boek se retoriek:

Identifiseer die retoriese eenheid.

Identifiseer die retoriese situasie en die retoriese probleem.

Bepaal die retoriese genre (beoordelend oor die verlede, beredenerend oor die toekoms of epideïkties om waardes en oortuigings te versterk).

Ondersoek die retoriese strategie.

Beoordeel die retoriese effektiwiteit.

Hy het die boek Amos bestudeer. Hiervoor moes hy ook die boek en sy lesers dateer. Hy (Möller 2003:294) meen die boek is op die Judeërs voor die ballingskap gerig as waarskuwing dat hulle nie die foute van die Noordelike Ryk moes herhaal nie.

Alhoewel hierdie artikel op kleiner eenhede gaan konsentreer en sal probeer om die oorspronklike retoriese situasie te rekonstrueer, kan die metodologiese stappe wat hierbo aangedui is van groot waarde wees. Fox (1980b:5) oordeel dat retoriek geskep word as 'n respons op 'n retoriese situasie. Vir Fox is daar twee teenstellende faktore in die situasie, naamlik dat die volk in ballingskap was, maar dat die situasie nie so sleg vir die individuele balling was as wat 'n mens sou verwag nie.

 

Aanhalings in profetiese boeke

Graffy (1984:1) oordeel dat dit 'n besondere kenmerk van Esegiël se toesprake is dat hy aanhaal wat die mense sê en dan hulle woorde weerlê. Op hierdie wyse beantwoord hy die uitsprake van diegene wat in Jerusalem agtergebly het, maar ook die moedelose uitsprake van die ballinge. Hy meen ook dat sulke aanhalings van wat die mense sê nie net in twisgesprekke voorkom nie, maar ook in ander kontekste. So verwys Newsom (1984:151) na Esegiël 20:492 waar die profeet die woorde van die volk aanhaal, maar hom tot God rig. In hierdie geval dui die aanhaling op die volk se reaksie op Esegiël se verkondiging.

In die verband is Fox (1980a) se definisie van 'n aanhaling handig:

Quotations are words that either (1) are taken from another source but used as the speaker's word or (2) are meant to be understood as belonging to a person other than the primary speaker, regardless of their actual source, and only repeated by him. (p. 417)

In die eerste geval stem die spreker of skrywer saam met die aanhaling. Die tweede soort aanhaling is van besondere belang vir die verstaan van 'n teksgedeelte, veral as die skrywer of spreker nie die betrokke aanhaling ondersteun nie. Die aanhalings van Esegiël behoort hoofsaaklik tot die tweede groep. Hierin kommunikeer die skrywer sy boodskap deur 'n stelling aan te haal wat hy oordeel verkeerd is en hy reageer dan deur die korrekte gesigspunt te gee (Willis 1985:63-64). Willis (1985:75) oordeel dat 'n profeet met die aanhaling van die volk se woorde nie doelbewus sou probeer om 'n wanvoorstelling van sy gehoor se gevoel te maak nie.

Die manier waarop Esegiël woorde aanhaal, moet onderskei word van die aanhaling van byvoorbeeld die Ou Testament in die Nuwe Testament. In daardie geval word die aanhalings uit die Ou Testament dikwels gebruik om gesag aan 'n uitspraak te verleen of om 'n debat af te sluit (vgl. Stanley 2004:13). Wat wel ooreenkom, is dat die aanhaling van die Skrif as gesagvolle bron sowel as die aanhaling van 'n gehoor se woorde retoriese handelinge is om die argument van die skrywer of spreker te versterk (vgl. Stanley 2004:3). Dit word ook gebruik om die gevoel van gemeenskaplikheid tussen die spreker en sy gehoor te versterk (Stanley 2004:13). In hierdie verband is dit ook belangrik om twee kontekste te verreken, naamlik die konteks waarin die woorde gebruik is en wat iemand later aanhaal, en die konteks waarin die woorde aangehaal word (vgl. Stanley 2004:29). Deur die aanhaling van die woorde of sentimente van die ballinge gee Esegiël 'n stem aan sy gehoor (Renz 1999:139).

In die bespreking van die gebruik van aanhalings in die boek Esegiël moet die konteks waarin die aangehaalde woorde gebruik is in ag geneem word asook die konteks waarin die woorde aangehaal word. Dit is nie maar net die geval dat Esegiël die woorde van sy gehoor vir sy gehoor aanhaal nie. Soms haal hy die woorde van die mense in Jerusalem aan vir sy gehoor in ballingskap. Soms kom aanhalings ook voor in die kommunikasie tussen God en die profeet. Daar moet dus in elke geval gevra word na die verskeie kontekste, maar ook na die retoriese gebruik van die aanhalings sodat die profeet sy doel kan bereik.

 

Twisgesprekke en die aanhalings in Esegiël

Dit gebeur dikwels dat die profeet in twisgesprekke op uitsprake van die mense antwoord. Dit kan beskou word as een van die opvallendste kenmerke van die boek (vgl. Zimmerli 1979:25, 36). Zimmerli (1979:36, voetnoot 188) wys daarop dat hierdie aanhalings baie kan help om die situasie waarin die profeet hom bevind het te rekonstrueer. Vir Zimmerli (1979:36) het die twisgesprek basies uit twee elemente bestaan, naamlik 'n kort aanhaling van die volk se woorde en die profeet se polemiese boodskap. Zimmerli (1979:25) wys ook daarop dat die woorde van die volk wat deur Esegiël aangehaal word in elk geval deur die Here aan Esegiël gegee is, en nie deur die profeet self aangehaal is nie.

Die presiese vorm van so 'n twisgesprek het baie debat ontlok. 'n Oorsig oor die geskiedenis van die bestudering van die vorm word deur Naidoff (1981, veral 62-66), Graffy (1984, veral 2-23) en Murray (1987) gegee. Die debat het veral daaroor gehandel of 'n twisgesprek uit twee of drie elemente bestaan. Naidoff (1981:64-65) oordeel dat daar drie elemente is, naamlik die basis, die stelling van die saak in geding en die konklusie. Die stelling van die saak is dikwels óf 'n vraag óf die aanhaling van die ander party se woorde. Retoriese vrae wat in die basis voorkom, verwys na 'n gemeenskaplike stel vooronderstellings, terwyl argumentatiewe vrae op die punt van verskil wys.

Graffy (1984:2) wys daarop dat Gunkel die eerste was om die tegniek van aanhaling en weerlegging te bespreek. Graffy (1984:23) definieer 'n twisgesprek as 'n teks waarin die opinie van die sprekers eksplisiet deur die profeet aangehaal en dan weerlê word. Die sintaktiese vorm van 'n twisgesprek is 'n inleiding met die werkwoord 'om te sê' wat die aanhaling voorafgaan, en die weerlegging wat daarna volg (Graffy 1984:105). Die weerlegging bestaan nie net uit 'n ontkenning nie, maar gee ook die redes waarom 'n aanhaling verwerp word en dikwels is daar 'n heenwysing na toekomstige optrede van die Here (Graffy 1984:111). Die historiese plasing van twisgesprekke is net voor, tydens en na die Babiloniese ballingskap in 'n tyd toe die profete se gehoor skepties en krities was. Die twisgesprek was dus 'n geskikte vorm om verkeerde idees te konfronteer en die mense te oortuig van die profeet se boodskap (Graffy 1984:119). Die aanhalings spreek óf van hoogmoed óf van wanhoop (Graffy 1984:120-122). In die meeste gevalle was die twisgesprek gerig tot diegene wie se woorde aangehaal word. Uitsonderings kom voor wanneer Esegiël reageer op die woorde van die mense in Jerusalem (Graffy 1984:123).

Murray (1987:96-97) meen dat Graffy se definisie van 'n twisgesprek te eng is en dat dit verskillende vorme kan aanneem. Die tese en kontratese is nie altyd verpligtend nie. Hy (Murray 1987:98) meen dat 'n persoon in 'n twisgesprek probeer om besware teen sy standpunt te weerlê sonder om werklik in debat te tree met sy opponente. Volgens Murray (1987:99) is daar drie elemente in 'n twisgesprek, naamlik die tese, kontratese en dispuut. Hierdie elemente hoef nie noodwendig op die oppervlak sigbaar te wees nie, maar kan in die dieptestruktuur lê.

Matties (1990:46-56) gee ook 'n breedvoerige oorsig van die twisgesprek met besondere aandag aan Graffy en Murray. Hy (Matties 1990:54) stem saam met Murray se idee van 'n derde soort twisgesprek waarin die spreker argumente waarmee hy nie saamstem nie weerlê en min geleentheid aan sy opponente vir teenstand bied. Hy oordeel dat Esegiël 18 'n voorbeeld hiervan is. Matties (1990:55) stem ook saam met Murray se drie elemente van 'n twisgesprek, naamlik die tese, kontratese en dispuut.

In die bespreking van die voorbeelde in Esegiël sal deeglik op die verskillende elemente van 'n twisgesprek gelet word.

 

Die wisselwerking tussen Esegiël en sy gehoor

In die bespreking van voorbeelde uit die boek Esegiël moet 'n opmerking van Hayes (1968:81) oor die profesieë teen die nasies in gedagte gehou word. Hayes het gesê dat daardie profesieë nie vir die nasies bedoel was nie, maar dat dit binne die Israelitiese gemeenskap gefunksioneer het. Selfs wanneer daar in die boek Esegiël verwys word na opmerkings van die mense in Jerusalem, moet in gedagte gehou word dat die aanhalings vir die mense in ballingskap bedoel was (vgl. ook Renz 1999:143-144). Wat die konteks van die uitsprake betref, wys die boek self op twee belangrike kontekste, naamlik die tyd vóór die ballingskap en die tyd ná die val van Jerusalem soos in Esegiël 33 aangekondig word. In die bespreking van die voorbeelde sal die twee kontekste as vertrekpunte gebruik word. Verder sal daar gelet word op wie se woorde aangehaal word, byvoorbeeld die mense in Jerusalem of die ballinge in Babel. Sommige van die aanhalings kom voor in twisgesprekke en ander nie, sodat hierdie onderskeid ook vir die bespreking belangrik is.

Benewens die aanhaling van mense se woorde is daar wel enkele ander aanduidings van die wisselwerking tussen die profeet en sy gehoor. Dit gebeur byvoorbeeld dat die volk ná een van die simboliese handelinge vir Esegiël vra wat hy doen. Dit word in 12:9 beskryf: 'Mens, die weerbarstige volk Israel het vir jou gevra wat maak jy' (Nuwe Afrikaanse Vertaling - NAV). In 24:19 het die volk 'n vraag aan Esegiël gestel oor die dood van sy vrou: 'Die mense het vir my gevra: "Wil jy nie vir ons sê wat dit vir ons beteken dat jy so maak nie?"' (NAV). In hierdie gevalle het die vraag aan die profeet hom die geleentheid gegee om sy boodskap aan die volk oor te dra. In 17:12 kry die profeet die opdrag om 'n vraag aan die volk te vra: 'Jy moet vir hierdie weerbarstige volk vra: Weet julle nie wat dit beteken nie?' (NAV). In 37:18 word die moontlikheid genoem dat die volk na die betekenis van iets sou kon vra. Tog bly aanhalings die mees algemene manier waarop die profeet met sy gehoor in gesprek tree.

 

Aanhalings voor die val van Jerusalem

Twee twisgesprekke met woorde van mense in Jerusalem

Esegiël 11:2-12 is 'n goeie voorbeeld van 'n twisgesprek waarin woorde wat aangehaal word, weerlê word. Hierdie twisgesprek is deel van die tempelvisioen van Esegiël 8-11. Alhoewel die gedeelte in sy geheel handel oor gebeure wat Esegiël in 'n visioen in Jerusalem gesien het, was die boodskap daarvan vir die ballinge bedoel soos blyk uit 11:25 waar die profeet die hele visioen aan die ballinge meegedeel het. Block (1997:330) beskou die gedeelte as 'n tipiese voorbeeld van 'n twisgesprek, met 'n inleiding (11:1), die tese (v. 2-3), die weerlegging (v. 4-6), die kontratese (v. 7-11) en 'n afsluiting (v. 13). In die gedeelte word die gevoel van die mense in Jerusalem uitgedruk deur die aanhaling in 11:3: 'Dit is nie nou tyd om huise te bou nie. Die stad is die pot en ons is die vleis' (NAV). Alhoewel die presiese interpretasie van die aanhaling problematies is (vgl. Zimmerli 1979:257-258; Block 1997:330-332, 334; Allen 1994:190), is dit duidelik dat die inwoners van Jerusalem hulleself as bevoorreg beskou het, as die vleis wat behoue gebly het, terwyl hulle op die ballinge neergesien het. Die pot (die stad) het diegene wat agtergebly het, beskerm in die tyd toe Sedekia regeer het. Die gesig word gedateer as die sesde jaar van die ballingskap - dus ongeveer vyf jaar voor die verwoesting van Jerusalem.

Die aanhaling van 11:3 kan verbind word aan twee vorige aanhalings van die mense in Jerusalem se woorde in hierdie visioen, naamlik in 8:12 en 9:9. Daardie twee aanhalings is nie deel van 'n twisgesprek nie, maar word ook gebruik om die gesindheid van die mense wat in Jerusalem agtergebly het te beskryf. Esegiël 8:12 is deel van 'n gedeelte waarin die afgodsdiens van die leiers in Jerusalem beskryf word. Hulle gesindheid is dat die Here hulle nie sien nie en dat Hy die land in die steek gelaat het: 'The Lord does not see us; the Lord has forsaken the land' (New International Version - NIV). In 9:9 word presies dieselfde gesê, maar in omgekeerde volgorde. Die gesindheid van die leiers is gekenmerk daardeur dat hulle hul op afgode beroep het, maar tog het hulle gedink dat hulle beter as die ballinge is. In die res van die twisgesprek maak die Here dit duidelik dat die mense in Jerusalem nie die saak reg sien nie. Die stad gaan hulle nie beskerm nie, maar hulle sal geweldige ellende in die stad beleef tydens die oordeel wat aan die kom is.

Die eerste twisgesprek in die visioen van Esegiël 8-11 word opgevolg deur 'n tweede een in 11:14-21. Graffy (1984:112) beskou die gedeelte as 'n tweede weerlegging, maar die tweede aanhaling versterk die gedagte van 'n tweede twisgesprek. Die struktuur van die tweede twisgesprek is baie dieselfde as die eerste een, met 'n inleiding (11:14), die tese (v. 15) die weerlegging (v. 16), die kontratese (v. 17-20) en 'n afsluiting (v. 21; Block 1997:346). Die tese sluit 'n aanhaling in van wat die mense in Jerusalem oor die ballinge sê: 'Hulle is ver van die Here af, en hierdie land is vir ons as besitting gegee' (NAV). Met hierdie uitspraak wou hulle die Here se teenwoordigheid tot Jerusalem en Juda beperk. Omdat die ballinge ver van die land is, moet hulle dus ook ver van die Here wees. Die ballinge het dus ook hulle aanspraak op die land verloor. Die land het nou die besitting geword van diegene wat in die land agtergebly het. In die reaksie hierop word eers 'n oordeel oor die mense in Jerusalem uitgespreek, naamlik dat hulle ook in ballingskap weggevoer sal word. Daarna word 'n belofte van herstel en terugkeer gegee slegs aan diegene wat aan God gehoorsaam bly. Die gedagte dat God tot een plek beperk kan word, word ook weerlê as die Here sê dat Hy 'n heiligdom vir die mense in ballingskap sal wees. Die heiligdom in Jerusalem sal verwoes word, maar God bly by sy volk in Jerusalem en in die ballingskap. Hierdie tweede twisgesprek maak dit duidelik dat die mense in Jerusalem nie die ware volk van die Here is nie (Renz 1999:165). Die ballinge is wel ver van die land, maar nie ver van die Here nie (Graffy 1984:51).

Hierdie eerste twee twisgesprekke in die boek en die twee verdere aanhalings van mense se woorde in Jerusalem moes dien om die ballinge ontvanklik vir die boodskap te maak, om hulle te oortuig om die profeet se boodskap te aanvaar. Hulle het waarskynlik gedink dat die mense in Jerusalem negatief teenoor die mense in ballingskap sou wees. Hulle kon selfs ook gedink het dat ver van hulle land ook ver van God sou beteken. Die negatiewe sentimente van die mense in Jerusalem word weerlê en die ballinge kry 'n positiewe boodskap wat hulleself betref.

Twee twisgesprekke met woorde van die ballinge

In Esegiël 12 word twee kort twisgesprekke aangetref waarin die woorde van die ballinge aangehaal word. In die twee twisgesprekke (12:21-25 en 26-28) word twee verkeerde reaksies op die profetiese verkondiging verwoord. Die woorde wat aangehaal word, vat die twee reaksies kortliks saam. In 12:22 word 'n spreekwoord onder die volk aangehaal: 'Die tyd gaan verby en daar kom niks van al die gesigte nie' (NAV). Dit kom daarop neer dat die ballinge die verkondiging van Esegiël verwerp het. Die toets van 'n profetiese verkondiging was vir hulle in die spoedige vervulling daarvan geleë. Hierdie uitspraak kan dus verbind word aan Deuteronomium 18:21-22 waarin valse profete veroordeel word (Graffy 1984:54). Omdat daar al 'n geruime tyd verloop het sedert Esegiël met sy boodskap van oordeel begin het, het hulle aanvaar dat hy nie 'n ware boodskap bring nie. Die antwoord hierop is dat die vervulling spoedig sal kom.

In 12:27 volg 'n tweede aanhaling: 'Dié gesig wat hy sien, gaan oor lang tye, hy kondig dinge aan vir die verre toekoms.' In hierdie geval word wel aanvaar dat die boodskap reg kan wees, maar dit raak nie die ballinge op daardie stadium nie, want die vervulling lê ver in die toekoms. God se antwoord is egter dat die oordeel nie uitgestel sal word nie, maar spoedig vervul sal word.

Hierdie twee kort twisgesprekke volg direk na die oordeelsaankondiging oor Jerusalem en Sedekia in die eerste gedeelte van die boek. Die valse profete wat in Esegiël 13 aan die orde kom, het verkondig dat daar vrede sou wees. Die ballinge het gehoop op 'n spoedige terugkeer na hulle eie land en Esegiël se verkondiging het daardie hoop as vals bestempel. Die mense se reaksie was dus verstaanbaar, veral toe Jerusalem nie dadelik geval het nie. Die twee twisgesprekke bevestig dat Esegiël met sy verkondiging inderdaad as boodskapper van God opgetree het.

In Esegiël 13 word drie baie kort aanhalings aangetref van wat die vals profete gesê het. Wat hulle verkondig het, word afgewys. In 13:6 en 7 word die feit openbaar dat hulle daarop aanspraak gemaak het dat hulle 'n boodskap van die Here ontvang het deur die gebruik van die vaste uitdrukking: 'Die Here sê' In 13:10 word hulle boodskap saamgevat in een woord: 'vrede' Die verwerping van die vals profete se optrede bevestig dat Esegiël die profeet is wat deur die Here na die ballinge gestuur is. Hulle verkondiging is onwaar, maar syne nie (Graffy 1984:55).

'n Soortgelyke uitspraak teen die vals profete kom in 22:28 voor. Dit is deel van die uitspraak in 22:23-31 waar die leiers van die volk, die priesters, die profete sowel as die gewone mense onder die oordeel kom. Van die profete word ook gesê dat hulle aanspraak maak daarop dat hulle die Here se woord verkondig: 'Die profete in die land pleister alles toe: hulle sien gesigte wat nie daar is nie, verkondig leuens as waarsêery en sê: "So sê die Here my God," terwyl Ek niks gesê het nie' (NAV). Hierdie vers is 'n samevatting van die uitsprake teen die vals profete in Esegiël 13.

'n Komplekse twisgesprek in Esegiël 18

Esegiël 18 is een van die kernhoofstukke in die boek en daar is al baie daaroor geskryf. Twee werke wat in die besonder aandag gegee het aan die problematiek van persoonlike verantwoordelikheid, is dié van Joyce (1989) en Matties (1990). Dit is onmoontlik om aan die hele hoofstuk aandag te gee (vgl. Van Rooy 2012:142-144 vir 'n vollediger bespreking). Hier word dus net op die aanhalings gefokus. Block (1997:555) gee 'n goeie uiteensetting van die struktuur van hierdie twisgesprek. Hy begin met die aanhaling van 'n bekende spreuk (18:2), 'n kontratese (v. 3-4) en 'n weerlegging (v. 5-18). Hierop volg twee aanhalings van die volk se reaksie op die profeet se verkondiging (18:19 en 25). In die eerste gedeelte van die hoofstuk reageer Esegiël op die volk se moedeloosheid (18:1-18) en in die tweede gedeelte op die aanklag dat God onregverdig optree (v. 19-25; Block 1997:557). Dit is duidelik dat die hoofstuk tot die ballinge gerig is (Matties 1990:56-57).

Die eerste aanhaling is 'n bekende spreekwoord: 'Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp' (18:2 - NAV), wat ook in Jeremia 31:29 aangetref word. In hierdie spreekwoord druk die ballinge die gevoel uit dat hulle onregverdig gestraf word vir die sondes van hulle voorvaders. Hulle is dus nie self verantwoordelik vir die ellende van die ballingskap nie. Alhoewel die uitspraak ortodoks klink (Allen 1994:271), is dit 'n ontkenning van hulle verantwoordelikheid vir hulle eie verkeerde optrede. In reaksie hierop word daar deur drie gevallestudies beklemtoon dat elkeen vir sy eie optrede verantwoordelik is en self die gevolge daarvan moet dra. Deur hierdie aanhaling en die profeet se reaksie daarop word die ballinge vermaan om hulle eie skuld te erken en tot bekering te kom. In 18:19 word verwys na die vraag van die volk, naamlik waarom die een geslag nie die vorige geslag se skuld kan dra nie. Die vraag word dan gebruik om die regte perspektief kortliks in 18:20 te stel: die een wat sonde doen, sal self daarvoor boet.

Die volk se reaksie hierop is egter nie bekering nie, maar 'n aanklag teen die Here dat Hy nie reg optree nie: 'Julle sê: "Die Here tree nie reg op nie."' (18:25 - NAV; kyk ook v. 29). Die profeet se reaksie is om die beskuldiging om te keer. Dit is nie die Here wat nie reg optree nie, maar die volk. Die Here oordeel hulle volgens wat hulle verdien. Die doel van die aanhalings en die profeet se reaksie daarop is om die ballinge tot selfondersoek te dwing. Hulle woorde word aangehaal en daar word bewys dat dit vals is, nie net om so hulle gesindheid te verander nie, maar ook om hulle tot die regte optrede aan te spoor. So is Esegiël 18 'n poging om 'n morele gemeenskap te vorm (Matties 1990:219).

'n Twisgesprek (?) verbind aan Israel se geskiedenis

Esegiël 20:32-44 word deur sommige geleerdes as 'n twisgesprek beskou (Zimmerli 1979:414; Allen 1990:13; Joyce 2009:152; Graffy 1984:65) en deur ander nie (Block 1997:648). In elk geval word daar eers verwys na wat die mense gesê het en dan word dit beantwoord. Die eerste gedeelte van Esegiël 20 (v. 1-29) gee 'n oorsig oor die volk se geskiedenis, terwyl die profeet van vers 30 af die ballinge aanspreek. Hulle word eers vermaan om nie die optrede van hulle voorvaders te volg nie. In 20:32 word hulle gedagtes dan onder woorde gebring: 'You say, "We want to be like the nations, like the peoples of the world, who serve wood and stone." But what you have in mind will never happen' (NIV).

Die presiese betekenis van hierdie aanhaling is nie volkome duidelik nie. Zimmerli (1979:434) en Graffy (1984:66) sien dit as 'n uitdrukking van wanhoop, terwyl Block (1997:649) daarin 'n voorneme van die volk sien om by hulle omstandighede aan te pas en ook afgode te dien. Esegiël 20:39 dui waarskynlik aan dat minstens sommige van die ballinge die afgode wou begin dien. Die Here se verdere woorde is egter positief. Die gelowiges sal na hulle land terugkeer en die Here weer op die regte manier dien (20:4044). Waarskynlik is die dubbelsinnigheid van die aanhaling doelbewus. Sommige van die ballinge wou dalk assimileer, terwyl ander aan God se beloftes wou vashou. Nóg die volk se moedeloosheid, nóg hulle opstandigheid sou die deurslag gee. Die Here is in beheer van die geskiedenis wat oordeel sowel as verlossing betref.

'n Reaksie op Esegiël se verkondiging

In 20:45-21:7 (Masoretiese Teks [MT] 21:1-12) kom 'n uitspraak voor waarin Esegiël teenoor die Here woorde van die volk aanhaal. Die eerste gedeelte van wat Esegiël vir die ballinge moes sê, is in beeldryke taal waarvan die betekenis nie direk duidelik is nie. Hierop reageer Esegiël in 20:49 met 'n verwysing na wat die mense van hom sê: 'Ag, Here my God, hulle sê ek praat net altyd in raaisels' (NAV). Die Hebreeus het Die naamwoord is byvoorbeeld in 18:2 gebruik vir die spreekwoord wat die volk uitgespreek het. Die Piël van die werkwoord word net hier gebruik, terwyl die deelwoord aandui dat dit is hoe die volk gewoonlik Esegiël se boodskap beoordeel het. Hy praat in raaisels, sodat die betekenis nie altyd duidelik is nie. Die Here se reaksie hierop is om in die gedeelte wat hierop volg die boodskap van oordeel in duidelike taal uit te spel.

 

Aanhalings ná die val van Jerusalem

'n Twisgesprek met woorde van mense in Jerusalem

In die laaste gedeelte van die boek, vanaf Esegiël 33, word profesieë aangetref wat ná die val van Jerusalem uitgespreek is. Hierin kom minder aanhalings van die mense se woorde voor, en ook net in Esegiël 33-37. Net een van die gevalle handel oor die woorde van die mense in Jerusalem ná die val van die stad. In 33:21-22 word genoem dat iemand uit Jerusalem aangekom het met die berig dat die stad geval het. Die berig word met net twee woorde in die Hebreeus aangedui: 'Die stad is ingeneem!' (NAV). Direk daarna volg 'n twisgesprek waarin die woorde van die mense in Jerusalem aangehaal word.

Volgens Block (1998:258) kan die klassieke struktuur van 'n twisgesprek in die gedeelte opgemerk word, met die tese in die vorm van 'n aanhaling in 33:24, die dispuut in vers 25-26 en die kontratese in vers 27-29. Dit kan egter ook gesien word as 'n bewysuitspraak (proof oracle) (Block 1998:258; Zimmerli 1983:197-198; Allen 1990:150-151). Die uitspraak toon dus iets van 'n gemengde vorm (vgl. Murray 1987:103).

In 33:24 word woorde van Jerusalem se inwoners na die val van die stad aangehaal: 'Mens, dié wat daar tussen die puinhope in Israel woon, sê: "Abraham was net een mens, en hy het die land as besitting ontvang. Ons is baie; dié land is aan ons gegee as 'n besitting!"' (NAV). Hierdie aanhaling toon ooreenkomste met die aanhaling in 11:15. Daar het die mense in Jerusalem die land as hulle besitting opgeëis voor die val van die stad en hier doen diegene wat ná die val in die verwoeste stad oorgebly het presies dieselfde. Hierdie woorde van die mense in Jerusalem beroep hulle nie werklik op die verbond met Abraham nie, maar vergelyk hulle met Abraham om so die aanspraak op die land te bevestig. In antwoord op hierdie aanspraak spreek die Here 'n verdere oordeel uit oor daardie mense wat in Jerusalem agtergebly het. Hulle word veroordeel op grond van afgodsdiens en maatskaplike euwels. Die besit van die land word aan gehoorsaamheid tot God verbind (Renz 1999:104).

Die bedoeling van hierdie uitspraak was om die ballinge daarvan te verseker dat diegene wat agtergebly het, nie die ware Israel is nie. Hulle aanspraak op die land is vals, terwyl die Here in die besonder bemoeienis gaan maak met die mense in ballingskap.

Twisgesprekke met woorde van die ballinge

In Esegiël 33, voordat die berig van Jerusalem se val die ballinge bereik het, word twee twisgesprekke aangetref waarin woorde van die ballinge aangehaal word. Albei die gedeeltes (33:10-16 en 17-20) toon ooreenkomste met Esegiël 18. Die twee twisgesprekke het 'n noue verband met mekaar. Hulle vertoon ook bykans dieselfde struktuur soos deur Block (1998:244) aangedui. Die eerste twisgesprek bestaan uit die aanhaling van die ballinge se woorde in 33:10, die dispuut in vers 11 en die kontratese in vers 12-16. Die tweede bestaan uit die aanhaling in 33:17a-b, die kontratese in vers 17c-19 en die dispuut in vers 20.

Die eerste twisgesprek begin met 'n aanhaling waarvolgens dit voorkom asof die ballinge hulle skuld besef het: 'Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?' (NAV). Dit spreek van moedeloosheid. Esegiël het aan die ballinge verkondig dat hulle die skuld dra vir hulle omstandighede, en hulle skuldbesef druk nou swaar op hulle. Soos in Esegiël 18 verkondig die Here dat Hy nie die dood van die sondaar begeer nie, maar eerder dat die sondaar hom van sy sonde moet bekeer. Dit word deur twee gevalle geïllustreer wat inhoudelik baie ooreenkom met dié wat in Esegiël 18 geskets is.

Die aanklag van die volk wat aan die einde van Esegiël 18 voorgekom het, kom twee keer in die tweede twisgesprek voor. In 18:17 en 20 word die beskuldiging teen die Here aangehaal: 'Die Here tree nie reg op nie' (NAV). Die Here antwoord hierop dat elkeen vir sy eie optrede rekenskap sal moet gee. Dit is nie die Here wat verkeerd optree nie, maar die volk wat deur hulle sonde hulle onder die Here se oordeel gestel het.

Direk na hierdie twee twisgesprekke volg nog 'n aanhaling van wat die ballinge gesê het, maar in hierdie geval, soos in 20:49 (MT 21:5), gee die aanhaling insig in die houding en optrede van die ballinge teenoor Esegiël. In 33:30 sê die volk: 'Kom hoor watter boodskap daar van die Here af gekom het' (NAV). Tog kom hulle nie om werklik te luister na wat Esegiël sê nie. Hulle hoor wat hy sê, maar doen nie wat hy sê nie. Die Here verseker Esegiël egter dat sy woorde waar sal word en dan sal die volk besef dat hy inderdaad 'n profeet was wat in opdrag van die Here opgetree het.

Woorde wat ook van die volk se moedeloosheid spreek, word in 37:11 aangehaal as deel van die verklaring van die gesig van die dooie bene in die vallei. Daar sê die Here oor die volk: 'Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: "Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons"' (NAV). Hierop volg dan 'n duidelike boodskap van hoop en herstel in hulle eie land.

Woorde van Edom en die nasies

Esegiël 35 bevat 'n reeks uitsprake teen Edom. Hier moet in gedagte gehou word dat hierdie uitsprake vir die ballinge betekenis gehad het en nie vir Edom nie. In 35:10 en 12 word woorde van Edom aangehaal. In 35:10 sê Edom: 'Altwee volke en altwee lande is nou myne, ons gaan daardie land vat. Die Here is daar!' (NAV). In 35:12 staan die Here se volgende woorde: 'Ek het gehoor hoe smalend jy oor die berge van Israel gepraat het toe jy gesê het: "Hulle lê verlate, hulle is vir ons gegee om verder te ruïneer"' (NAV). Die Here maak dit egter duidelik dat Edom onder die oordeel sal kom en nie die land sal kan beset nie. Vir die ballinge is dit 'n boodskap van hoop. Hulle land word vir hulle in bewaring gehou tot hulle terugkeer. In Esegiël 36 word die uitspraak van Edom uitgebrei na die nasies met hierdie aanhaling in 36:2: 'Julle vyand het van julle gesê: "A, daardie oeroue hoogtes het nou ons s'n geword!"' (NAV). In die geval word die oordeel aangevul met 'n uitspraak dat die berge vir Israel sal moet onderhou (Renz 1999:108). Dieselfde boodskap kom uit die res van Esegiël 36 waar die woorde van die nasies weer verwerp word.

 

Konklusie

Die Ou-Testamentiese profete en die profetiese boeke het 'n retoriese doel gehad om hulle gehoor of lesers te oortuig van 'n spesifieke standpunt of om hulle tot 'n sekere optrede aan te spoor. In die boek van die profeet Esegiël het die aanhaling van die mense se woorde 'n besondere rol gespeel. Die aanhalings kan die volgende wees: uitsprake van Esegiël se gehoor in die ballingskap, uitsprake van die mense wat in Jerusalem agtergebly het en selfs woorde van ander nasies soos die Edomiete. Hierdie aanhalings kom dikwels, maar nie uitsluitlik nie, voor in twisgesprekke waarin die verkeerde standpunt van so 'n uitspraak weerlê word. In die boek kom die aanhalings in twee kontekste voor, naamlik vóór en ná die val van Jerusalem. Die weerlegging van die aanhalings het soms die doel gehad om die ballinge oor hulle moedeloosheid aan te spreek en soms om hulle aan te moedig met die boodskap dat God tog in die toekoms vir hulle uitkoms sal gee.

 

Erkenning

Hierdie werk is gebaseer op die navorsing ondersteun deur die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika. Enige mening, bevinding en gevolgtrekking of aanbeveling vervat in hierdie materiaal is dié van die outeur en die NRF aanvaar geen aanspreeklikheid in hierdie verband nie.

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Allen, L.C., 1990, Ezekiel20-48, Word, Dallas. (Word Biblical Commentary 29).         [ Links ]

Allen, L.C., 1994, Ezekiel 1-19, Word, Dallas. (Word Biblical Commentary 28).         [ Links ]

Block, D.I., 1997, The Book of Ezekiel chapters 1-24, Eerdmans, Grand Rapids, M.I. (New International Commentary on the Old Testament).         [ Links ]

Block, D.I., 1998, The Book of Ezekiel chapters 25-48, Eerdmans, Grand Rapids, M.I. (New International Commentary on the Old Testament).         [ Links ]

Boadt, L., 1997, 'The poetry of prophetic persuasion: Preserving the prophet's pesona', Catholic Biblical Quarterly 59(1), 1-21.         [ Links ]

Burke, K., 1950, A rhetoric of motives, Prentice-Hall, New York.         [ Links ]

Eidevall, G., 2012, Sacrificial rhetoric in the prophetic literature of the Hebrew Bible, Edwin Mellen Press, Lewinston.         [ Links ]

Fox, M.V., 1980a, 'The identification of quotations in Biblical literature', Zeitscfrift für die Alttestamentliche Wissenschaft 92, 416-431.         [ Links ]

Fox, M.V., 1980b, 'The rhetoric of Ezekiel's vision of the valley of the bones', Hebrew Union Collega Annual 51, 1-15.         [ Links ]

Goering, G.S., 2012, 'Prophetic fulfilment of the prophetic word: Ezekiel's dirges over Tyre and its ruler', Journal for the Study of the Old Testament 36, 483-505.         [ Links ]

Graffy, A., 1984, A prophet confronts his people. The disputation speech in the prophets, Biblical Institute Press, Rome. (Analecta Biblica 104).         [ Links ]

Hayes, J.H., 1968, 'The usage of oracles against foreign nations in Ancient Israel', Journal of Biblical Literature 87, 81-92.         [ Links ]

Joyce, P.M., 1989, Divine initiative and human response in Ezekiel, Sheffield Academic Press, Sheffield. (Journal for the Study of the Old Testament, Supplement Series 51).         [ Links ]

Joyce, P.M., 2009, Ezekiel. A commentary, Clark, New York. (Library of the Hebrew Bible/Old Testament Studies 482).         [ Links ]

Matties, G.H., 1990, Ezekiel 18 and the rhetoric of moral discourse, Scholars Press, Atlanta, G.A. (SBL Dissertation Series 126).         [ Links ]

Möller, K., 2003, A prophet in debate. The rhetoric of persuasion in the Book of Amos, Sheffield Academic Press, Sheffield. (Journal for the Study of the Old Testament Supplement Series 372).         [ Links ]

Murray, D.F., 1987, 'The rhetoric of disputation: Re-examination of a prophetic genre', Journal for the Study of the Old Testament 38, 95-121.         [ Links ]

Naidoff, B.D., 1981, 'The rhetoric of encouragement in Isaiah 40:12-31: A form-critical study', Zeitscfrift für die Alttestamentliche Wissenschaft 93, 62-76.         [ Links ]

Newsom, C.A., 1984, 'A maker of metaphors - Ezekiel's oracles against Tyre', Interpretation 38, 151-164.         [ Links ]

Renz, T., 1999, The rhetorical function of the Book of Ezekiel, Brill, Leiden. (Vetus Testamentum Supplements 76).         [ Links ]

Stanley, C.D., 2004, Arguing with Scripture. The rhetoric of quotations in the letters of Paul, Clark, New York.         [ Links ]

Van Rooy, H.F., 2012, 'Ezekiel: Prophet of the glory of the lord', in H.G.L. Peels & S.D. Snyman (eds.), The lion has roared. Theological themes in the prophetic literature of the Old Testament, pp. 127-148, Pickwick, Eugene.         [ Links ]

White, E.E., 1992, The context of human discourse: A configurational criticism of rhetoric, University of South Carolina Press, Columbia.         [ Links ]

Willis, J.T., 1985, 'Dialogue between prophet and audience as a rhetorical device in the Book of Jeremiah', Journal for the Study of the Old Testament 33, 63-82.         [ Links ]

Zimmerli, W., 1979, Ezekiel 1, Fortress, Philadelphia, P.A. (Hermeneia).         [ Links ]

Zimmerli, W., 1983, Ezekiel2, Fortress, Philadelphia, P.A. (Hermeneia).         [ Links ]

 

 

Correspondence:
H.F. (Herrie) van Rooy
herrie.vanrooy@nwu.ac.za

Received: 31 July 2015
Accepted: 22 Feb. 2016
Published: 14 July 2016

 

 

1 'Twisgesprek' word hier gebruik vir wat in Engels bekend staan as 'n 'disputation' of 'n 'disputation speech'.
2 Verdere verwysings na die boek Esegiël sal slegs met hoofstukke en verse aangedui word.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License