SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue2The Confession of Belhar and ecumenism against the backdrop of the Three Forms of UnityA practical-theoretical perspective on the act of making ecclesiastical resolutions: Theory for praxis author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.50 n.2 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i2.1994 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die identiteitsgerigte boodskap van 1 Johannes: Hermeneutiese samehang van teks, situasie en teologie

 

The identity directed message of 1 John: Hermeneutical cohesion of text, situation and theology

 

 

Jan A. du Rand

Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

A fairly recent stimulating and creative article by Judith Lieu on the hermeneutics of 1 John has prompted the Johannine researchers to react. She analyses 1 John from the viewpoint of a rhetorical reading of the text to exclusively provide the hermeneutical meaning of the text. Her article has merits to stimulate Johannine researchers to react, which did not happen. It is the purpose of this contribution to test her hermeneutical conclusions and rather to propose a multidimensional exegetical approach to unlock the meaning of 1 John. A rhetorical reading is to be combined with a projected reconstruction of the socio-historical situation of the first historical readers as well as an exegetical analysis of the theological content to obtain a balanced hermeneutical result, considering the theological message of 1 John. The presentation of the theological content focuses on the Christian identity of the historically intended believing readers.


 

 

'n Johannese hermeneutiese probleem skets die aanleiding, probleemstelling en doel

In 'n belangwekkende navorsingsartikel het Judith M. Lieu (vgl. 2008a:805-819) op kreatiewe wyse die vinger gelê op 'n belangrike aspek van die Johannese hermeneuse. Dit raak die problematiek wat fokus op die ontstaansituasie en die verhouding tussen die Eerste Brief van Johannes en die Johannesevangelie. Die navorsingsreaksie daarop was minimaal. In reaksie op Lieu se siening word daar in hierdie artikel indringend as doelwit gekyk na die moontlike gewig en funksionaliteit van 'n moontlike historiese ontstaansituasie as bydraende faktor tot die hermeneuse van 1 Johannes in samehang met die retoriek van die teks self. Lieu (2014:123-140) het in 'n onlangse publikasie haar standpunte herbevestig en selfs duideliker uiteen gesit. Sy bied dit aan in die reeks Early Christianity and its Literature, gepubliseer deur die Society of Biblical Literature met die titel Communities in Dispute: Current Scholarship on the Johannine Epistles. Volgens hierdie resente publikasie tree sy veral in gesprek met Alan Culpepper en Paul Anderson oor die verhouding tussen die Johannesevangelie en -briewe (Lieu 2014:123-140). Weereens beklemtoon sy haar standpunt dat ' the author ("I") writes the Epistle, but his use of the corporate "we" addresses the audience' (Lieu 2014:128). Die retoriese funksie van 1 Johannes is, volgens Lieu (2014:129) 'to shape the audience'. Daarmee stem die huidige navorser heelhartig saam (vgl. ook Culpepper 2014:95-122). 'n Retoriese lees verlig die teks maar kan nie eksklusief die volle betekenis van die teks uitput nie.

Die vraag ontstaan of die eksegeet nie vasval in 'n hermeneutiese sirkelgang waarvolgens die situasie die retoriese teks voorskryf en die retoriek van die teks die situasie veronderstel nie. 'n Verdere vraag is of die eksegetiese en teologiese verstaan van 1 Johannes deur só 'n sirkelgangargumentasie verhelder of vertroebel word. Die wesenlike vraag bly steeds of die sogenaamde 'Johannese gemeenskap' as 'n historiese werklikheid aanvaar kan word en of dit bloot 'n konstruksie van afgeleide aanvaarding is.

Dit is moontlik dat die sosio-historiese situasie van die eerste historiese lesers van 1 Johannes in Klein-Asië wel eksegetiese inhoudelike gewig dra wat die outeur oortuig om die fokus vir die verstaan van 1 Johannes ook op die lesers se identiteit te plaas (vgl. Du Rand 2006:10-29). Heelwat van die Johannese Christene kom oorspronklik uit die heidendom en het deur proselietmakery oorbeweeg na die Jodedom om uiteindelik die Christelike godsdiens te aanvaar. Hierdie ontworteling van die eerste historiese lesers op politieke, ekonomiese, sosiale, kulturele en godsdienstige terreine, het dus duidelik die vinger na 'n herwaardering van hulle identiteit gewys (vgl. Painter 2014:254 e.v.).

Die bedoeling is om 'n hermeneuties-gebalanseerde benadering te vind wat die tipiese moontlike historiese ontstaansituasie betrek en die retoriek van die teks self in ag neem sonder om ook die teologiese gerigtheid van die vyf hoofstukke van 1 Johannes se inhoud te verreken (vgl. Pakala 2008:44-48). Uiteindelik is retoriek en afgeleide historiese gegewens in diens van die teologiese boodskap.

 

Hermeneutiese verkenning van 'n veelseggende brief

Uit die hoogoond van die eksegetiese instrumentarium kom verskeie benaderings om Johannes hermeneuties verstaanbaar te interpreteer. Sonder om elke benadering volledig te bespreek, word kennis geneem van sommige in die raamwerk van die volgende verstaanshorisonne.

'n Eerste verstaanshorison ontgin 'n moontlike historiese Johannese ontstaansituasie

Volgens 1 Johannes 2:18-191 is daar sprake van 'baie antichriste wat uit ons geledere gekom het, maar hulle was nie werklik deel van ons nie, want as hulle werklik deel van ons was, sou hulle by ons gebly het' (Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte vertaling (BDV)). By wyse van gekontroleerde afleiding verwys so 'n eksplisiete beskrywing waarskynlik na 'n inherente polemiese situasie en 'n gemeenskap wat 'n skeuring beleef het. Verder raak die belangrikste sake waaroor die partye uitmekaar gegaan het inhoudelike Christologiese en etiese interpretasies, veral hoe die Johannese tradisies volgens die Johannesevangelie geïnterpreteer is. Die voorstanders van so 'n moontlike situasie is dit eens dat die sogenaamde skeurmakers of afgeskeidenes ontken het dat Christus in die vlees gekom het of ten minste letterlik gekruisig is (vgl. 2:18, 22; 4:1-3; Beutler 2000; Brown 1979, 1982; De Jonge 1968; Du Rand1991; Marshall 1978; Painter 1986; 2002; Schnackenburg 1979; Smalley 1984; Beutler 2000; Strecker1996; 2000; Du Rand 1991; Van der Watt 2013).

Die sogenaamde skeurmakers wat ook vals profete (4:1) en antichriste (2:18) genoem word, het in leerstellige en etiese opsig drasties met die Johannese hoofstroom-interpretasie oor Jesus se menswording verskil.

Die outeur van 1 Johannes sowel as die skeurmakers het hulle waarskynlik op die Johannese tradisies beroep soos in die Johannesevangelie vervat, maar het dit moontlik oorwegend gnosties geïnterpreteer (vgl. Kellum 2005:54-56; Snodderly & Van der Merwe 2007:185 e.v.) Dit lyk egter meer oortuigend om te aanvaar dat die skeurmakers ten diepste die funksionele kruisdood van Jesus tot verlossing van sonde ontken het. Hulle sou gevolglik met vrymoedigheid volgens 1:8 moes ontken dat hulle enige sonde gedoen het (vgl. Brown 1982:45; Du Rand 1991:144-148).

Volgens aanhalings uit 1 Johannes self is die dwalinge van die afgeskeidenes en skeurmakers uit hulle aansprake af te lei. Daaruit kan wel 'n moontlike ontstaansituasie gerekonstrueer word (vgl. Van der Watt2013:208). Uitdrukkings soos 'As ons beweer' (1:6, 8, 10) en 'Iemand wat sê' (2:4, 6, 9) lei tot die logiese gevolgtrekking dat die afgeskeidenes hewig deur die outeur self teengestaan is. Daarom moet ons onthou dat die teologiese interpretasie van 1 Johannes deur die bril van die outeur aangebied word, veral ook wanneer hy die skeurmakers skerp teregwys.

In die sentrum van die Johannese hoofstroomdenke het Jesus mens geword met die doel om te sterf ter wille daarvan om vergifnis van sonde te bewerk. Daarom is dit te verstane dat die teenstanders volgens 1 Johannes sou moes ontken dat hulle gesondig het (1:8) en dus vergifnis (5:6), dit wil sê Jesus Christus se kruisdood, nodig het. Op so 'n wyse is Christus se kruisdood deur hulle as 'onaanvaarbaar' beskou en verwerp. Die skeurmakers het dus geleef uit 'n misplaaste selfvertroue dat hulle Christus beslis nie nodig het nie omdat hulle God ken (3:9) en die salwing van die Gees ontvang het (2:20, 27). Daarom moet hulle konsekwent ontken dat hulle gesondig het.

Uit bogenoemde argumentasie volgens die inhoud, word die ontstaansituasie hermeneuties op die verstaan van die teks betrek en help die teksgegewens en -afleidings om 'n moontlike ontstaansituasie te konstrueer. Voortspruitend uit hierdie interpretasierigting is ook die Christologie-debatte in die vroeë kerk geformuleer (vgl. Brown 1982:67; Klauck 1991:34-42; Schnelle 2010:19-24; Strecker 1996:69-76;2000:26; Yarbrough 2008:27 e.v.).

'n Tweede verstaanshorison betrek die retoriese lees van die teks self

'n Meer teksgesentreerde interpretasierigting sou moet volg op bogenoemde sosio-historiese situasie-uitlegsleutel. Daarvolgens val die fokus sterker op die teks self en nie net op die sogenaamde eksterne gekonstrueerde polemiese en apologetiese merkers ten opsigte van die moontlike teenstanders nie. Die oorredingsvermoë van die teksargumente self is deur verskeie eksegete verreken (vgl. Lieu 2008a:812; Watson 1989; Neufeld 1994; Schmid 2002; Van der Merwe 2013).

Die bydrae deur Lieu (2008a:805-819; vgl. 2014:134) in hierdie verband is verteenwoordigend van hierdie interpretasierigting, maar tog ook kenmerkend van haar kreatiewe en vars aanslag. Sy verstaan retoriek in die sin van die 'New Rhetoric' soos deur Perelman en Olbrechts-Tyteca (1969) verduidelik, en daarna op haar model toegepas en van 'n eie kommentaar voorsien (vgl. Lieu 2008b; Perkins 2004). Lieu (2008a:808) fokus veral op die retoriese wisselwerking tussen verskillende grammatikale persoonsvoorname.

Volgens haar speel die voornaamwoorde ons en julle dominante rolle in die verstaanstrategie van die brief (vgl. ook Beutler 2000:41-42; Brown 1979:94-96). Ons moet in gedagte hou dat Wilhelm Wuellner dieselfde retoriese verskynsel by Paulus, veral in Galasiërs, reeds in 1986 nagevors en beskryf het (Wuellner 1986:49-77).

Lieu steek ploeg in by 1:1-4, die sogenaamde proloog van 1 Johannes, waar die 'ons' en 'julle' in die aanbieding van die narratiewe styl funksioneer om 'n gekwalifiseerde verbintenis tussen outeur en lesers retories te beklemtoon. Die 'ons' en 'julle' kan daarom antiteties met mekaar vergelyk word. Die 'julle' is volgens Lieu waarskynlik nog buitestanders wat stelselmatig ingelyf moet word. Haar verdere motivering verloop dan soos volg: Die verfynde narratiewe tegniek van Johannes om 'n saak deur antitese te beklemtoon, is opvallend. Volgens voorkeur en keuse word die NAV (1983-Afrikaanse Bybelvertaling) en BDV (2014-Direkte Afrikaanse Bybelvertaling) gebruik:

Die 'ons' neem volgens die narratief die inisiatief en tree aktief op terwyl die 'julle' die buitestanders verteenwoordig in die retoriese verloop van 1:1-4. Die 'julle' tree funksioneel passief op as die ontvangers van die kommunikasie en is afhanklik van die 'ons' se insette.

Die retoriese oorgang vanaf objek tot mede-subjek vind in vers 3 plaas wanneer die 'julle' ook gemeenskap mag hê met ons. Direk daarna word die dominansie van 'ons' egter gehandhaaf deur 'ons gemeenskap,' 'ons skryf' en 'ons blydskap'. Van 'julle' word nog weinig of geen reaksie verwag nie. 1 Johannes poog dus om 'n sekere gedefinieerde lesergroep te beïnvloed en tot oorreding te lei.

Die navorsingsvraag aan Lieu en die teks is of die drama volgens 1 Johannes net tussen die twee, 'ons' en 'julle', afspeel, en of 'n ongedefinieerde 'hulle' ook nog veronderstel moet word. Sou die 'ons' en 'julle' nog saamspan teen 'n sogenaamde 'hulle'? In hoeverre sou die 'ons' verbind kan word aan 'n moontlike eksterne situasie? Dit is immers die kern van ons navorsing. Verder word ook gevra wat die verhouding tussen die 'ons' van 1:1-4 en die 'ek' van 'ek skryf' wat later in die brief voorkom, is (vgl. 2:1, 7, 12-14, 21, 26; 5:13). Die 'ek' word in die enkelvoud slegs met 'sê' en 'skryf' verbind.

Volgens 2:18-26 word die boeiende retoriese verhouding tussen 'ons', 'julle' en 'hulle' verder uitgebou. Dit word deur die derde persoon meervoud ingelui: ' daar is nou baie antichriste' gevolg deur 2:19 se ses voorkomste van die derde persoon meervoud. Die kontrastering, volgens Lieu (vgl. 2008a:811), het nou ontwikkel en oorgegaan in die beklemtoning van die 'ons' en 'hulle'. Laasgenoemde staan in opposisie met die 'ons' en bereik 'n klimaks in 2:19b: ' dat geen een van hulle werklik een van ons is nie'. Volgens 2:20 word die 'julle' egter verwelkom in die kraal van die 'ons' wanneer die 'julle' as dié 'wat egter deur die heilige gesalf is' gedefinieer word. Verder, ' julle ken die waarheid', gevolg deur vier 'julle's in die res van 2:21. In die daaropvolgende vyf verse (2:22-26) domineer die tweede persoon meervoud ('julle').

Volgens 4:1-6 word die posisie van 'ons', 'julle' en 'hulle' kragtig chiasties aangewend. Die oorkruis konstruksie ontvou soos volg:

'Julle behoort aan God' (4:4)

'Hulle behoort aan die wêreld' (4:5)

'Ons behoort aan God' (4:6).

Die emfatiese 'julle' aan die begin van 4:4 word gevolg deur die dominante 'hulle' aan die begin van vers 5 en die 'ons' aan die begin van vers 6. Die beklemtonings aan die begin van elke vers dra bepaalde gewig. Dit vorm 'n klimakspunt in die betoog van die brief omdat die tweede persoon meervoud voornaamwoord nie weer voorkom nie buiten in 5:13. Vanaf 4:7 tot 5:20 is die fokus op die eerste persoon voornaamwoord in die meervoud 'ons'. Dit beteken die 'julle' het retories deel van die 'ons' geword! Hierdie bevinding het definitiewe eksegetiese konsekwensies.

Lieu het met hierdie interpretasie-variasie die klem op 'n belangrike saak geplaas: die retoriese afwisseling in 1 Johannes. Sy (Lieu 2008a) kom die eksegese van 1 Johannes egter te na deur die gevolgtrekking dat

the strategy of the letter can be viewed as a linguistic and therefore rhetorical relocation of 'you' from the position of opposition in the prologue to the inclusiveness of its final chapters. (p. 814)

In haar bydrae het Lieu (2014:123-140) egter ook aandag gegee aan die moontlike historiese konteks (vgl. ook Culpepper 2014:99 e.v.).

Die 'julle', volgens 1 Johannes 1:1-4, was die bedoelde ontvangers, volgens die boodskap van die narratief, nie noodwendig opposisie nie. Deur assosiasie het die outeur juis die 'ons' en 'julle' saamgebind teen die 'hulle' wat ook 'antichriste' en 'vals profete' genoem word (4:1). Die 'julle' word ook met 'kinders' geassosieer volgens 2:28. Die 'kinders' ontwikkel retories en semanties tot 'kinders van God' volgens 3:1 en 'geliefdes' volgens 3:2. Dit is omvattend genoeg om die bedoelde lesers se identiteit as 'kinders van God' te definieer.

Die wins van Lieu se retoriese lesing is dat sy op die teks self fokus deur die 'hulle' met die skeurmakers, ook genoem die 'antichriste' (2:18) en die 'vals profete' (4:1) te identifiseer. Meer oor die 'hulle' ontbreek egter volgens die teks en dit laat die eksegetiese deur oop om sosio-historiese moontlikhede te ondersoek wat met die waarskynlike ontstaansituasie verband hou en, daarmee saam, die eksegetiese beklemtoning van die bedoelde lesers se identiteit.

'n Derde verstaanshorison: fokus op eksegetiese en teologiese inhoud

Nog 'n horison in ons naspeur van 'n geskikte gebalanseerde hermeneutiese benadering om 1 Johannes sinvol te ontleed, lê in die ordening van die eksegetiese inhoud self. Formeel en inhoudelik ontvou bepaalde teologiese merkers wanneer die vyf hoofstukke, geheel as Grieks, soos volg uiteengesit kan word (vgl. Du Rand 1979:29-34; 1983:68-71): Johannes fokus tematies op 'die lewe wat gekom het', (1:2), dit is Jesus Christus 'wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is' (1:2). Dit is die bron en basis van die gelowiges se identiteitsbestemming op aarde. Dit lei tot die skryf van die brief (5:13) 'sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het ' (5:13).

Die belewenis van hierdie 'wete' of sekerheid wat as die keersy van 'gemeenskap' funksioneer, word struktureel soos volg benoem, gemotiveer, uitgebou en toegepas:

  • God is lig: leef in die Lig - leef in 'n 'gemeenskapsverhouding' met Hom en met mekaar (1:5-2:17);

  • God 'is' Vader: leef in 'n verhouding met Hom - leef as kinders van God in verhouding met mekaar (2:18-4:6);

  • God is liefde: leef in 'n liefdesverhouding met Hom en met mekaar - leef in 'broederliefde' (4:7-5:5).

Die getuienis dat Jesus funksioneel mens geword het, dit wil sê gekom het om te sterf en verlossing te bewerk, ontvou veral as die Goddelike bron van sekerheid in 1:1-4 en 5:6-13. Jesus, die Lewe, is die enigste weg tot 'n gemeenskapsverhouding met die Vader (1:4). Dit is ook die enigste basis vir dieidentifikasie van die gelowiges en verwys definitief na die Johannesevangelie (vgl. 20:31; Chang2014:268; Rockwell 2010:19-22; Zimmermann 2011:527). Die Vader skenk die ewige lewe deur die Lewe in Persoon bekend te maak (5:12). God wat lig (1:5) en liefde (4:8, 16) en regverdig (2:29) is, het deur die bloed van Jesus, sy Seun, 'ons' van alle sonde gereinig (1:7). Hy is 'die versoening vir ons sondes' (2:2) en het sodoende die raamwerk van 'n nuwe identiteitsverhouding bewerk wat toegang gegee het tot 'n gemeenskapsverhouding met die Vader (1:6, 7). Op grond van só 'n sondevergifnis en gemeenskap met die Vader, neem die gelowiges stelling in teenoor die 'antichriste' en 'vals profete' (2:18 e.v.; 4:1 e.v.) deur hulle geloofsbelydenis (3:23) en gehoorsaamheid aan die gebooie deur die begeleiding van die Heilige Gees (3:24).

Kort en kragtig sou die teologiese boodskap van 1 Johannes dus saamgevat kon word deur twee basiese begrippe: Bely jou Christusgeloof en Beleef die etiese liefhê van God en mekaar. Die omvattende betekenis van Christus se menswording volgens 1 Johannes kan in die begrip verhouding(e) saamgevat word. God se verhouding met sy eie word deur Christus beliggaam, die verhouding tussen Jesus en sy eie deur Christus se liefdesdood, en die verhouding tussen volgelinge onderling, deur die liefde.

Die waarborg van hulle identiteit lê in die gelowiges se begeleiding en bemagtiging deur die Gees (3:24; 4:13), want dit is deur in 'n vehouding met die Gees te leef, dat hulle kon bely en liefhê. Daarteenoor is die kenmerkende van die 'antichriste' se identiteit dat hulle leuenaars is omdat 'hulle nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie' (2:22). Die 'vals profete' se 'gees is nie van God afkomstig nie' (4:1) en hulle is 'uit die wêreld' (4:5). Hoe sterk word die kinders van God wat uit God is nie narratologies gekontrasteer met die kinders van die duiwel wat uit die wêreld is nie.

Daarom beleef gelowiges hulle identifiserende sekerheid ('wete') en gemeenskap met God en mekaar deur hulle etos wat realiseer in die 'gemeenskap' (1:7), 'kindskap' (3:1v.) en 'liefde' (2:3-11; 4:19; 5:1; vgl. Du Rand 1979:31; Van der Watt 1999:497).

Dit is die teologiese argumentasie wat 'n basis bied vir verdere analise en gevolgtrekkings (vgl. ook Rensberger 2006:280-284; Van der Merwe 2006:174-178; 2007:231-262).

 

Wesenlike inhoud van hierdie identiteit

Na aanleiding van die gebalanseerde benutting van bogenoemde metodologiese drie moontlikhede, 'n gerekonstrueerde en afgeleide ontstaansituasie, retoriese lees van die teks en teologiese analise van die inhoud van 1 Johannes, kan die voortvloeiende grondslag van identiteit volgens hierdie brief soos volg geformuleer word: Die inisiatief tot gemeenskapsbeoefening kom van God. Dit vergestalt inkindskapsverhouding met God (2:29; 3:1, 2, 9, 10; 4:7; 5:1, 4, 18) en die bevestigende salwing met die Gees (2:20, 27). Metafories is hierdie twee uitdrukkings deur 'n identiteitsbinding as gerigtheid gekoppel.

Kinders van God

Die hartklop van die Johannese Christelike identiteit lê in die statusaanduiding, 'gebore uit God' (2:29; 3:9; 4:7; 5:1, 4, 18) en 'kind van God' (3:1, 2, 10; 5:2). Die Christologies-gefundeerde verhouding tussen God en die gelowiges is, volgens 1 Johannes, nie slegs 'n juridiese (adopsie tot kind) of 'n etiese (liefde tussen Vader en kind) saak nie, maar veral 'n identifiserende bestaansaangeleentheid (saak van syn en ontstaan) - nie in natuurlike biologiese sin nie, maar in Geestelik genetiese sin. Die uitdrukking gebore uit Godbeklemtoon juis die Goddelike inisiatief en 'verwekking' as bestaansgrond vir die Christelike identiteit. 'n Vertaling van 'gebore uit God' sê volgens die ko-teks soveel meer as die dinamiese 'kind van God' omdat hierdie genetiese segswyse ondersteun word deur die 'saad (sperma) van God' (3:9) wat in die gelowiges bly. Só 'n identiteit word beleef in 'n verhouding en staan lynreg teenoor 'die kinders van die duiwel' (3:10).

Die antichris(te) (2:18) en leuenaar (2:22) wat Christus nie bely nie en nie in 'n verhouding met die waarheid, Jesus Christus, leef nie, is net soos die ongelowiges wat Jesus as God se mensgeworde waarheid ontken. Kenmerkend van die identiteit van duiwelsaanhangers is die feit dat 'hulle aanhou om sonde te doen' (3:7; vgl. Lieu 1981:214-216). Christus se verlede ('om die werke van die duiwel tot niet te maak' - 3:8) en sy toekoms ('sodat ons niks te vrees het wanneer Hy kom nie' - 2:28), skep vir die kind van God 'n triomfantelike hede. Dit stel die gelowige kind van God reeds gedurende die hede in staat om die eskatologiese lewe nou en hier te vier. Deur Christus het God die prys vir kindskap reeds vereffen. Om kind van God te wees en as sy kind te leef, is eskatologies alreeds 'n sigbare teken van wat nog verwag word.

Die wese van kindwees is om as identiteitsdraer van die Gees nou reeds die verhouding van kindwees te beleef en as eskatologiese sigbare teken op te rig om die Vader se bedoelinge te demonstreer. Daarom is kindskap wesenlik Goddelik van oorsprong en eskatologies as identiteitsaanduiding gerig. Die gelowige is ingeplant in die 'van bo' - dit is in die Goddelike sfeer (vgl. 3:1, 24; 4:13).

Die volmaakte belewing van die kindwees-identiteit is 'om soos Christus te wees' wanneer Hy weer kom (3:2), dit wil sê om volmaak aan sy heerlikheid deel te hê. Die identiteit wat alreeds bestaan toon volledige heerlikheid: om volmaakte heerlikheid by die wederkoms van Christus te beleef (Du Rand1983:31). Die Goddelike geestelike 'verwekking' ('gebore uit God') is 'n unieke Johannese segswyse om identiteit aan te dui en word deur die passiewe perfektum van die Griekse werkwoord 'om gebore te word' gedra (vgl. 3:9). Dit word ook versterk deur 'die saad van Hom' wat in die 'gelowiges as verwektes bly' (3:9; vgl. Keck 1996:249 e.v.). Ook dít dui op die kindskapsverhouding van God se kinders.

Gesalfdes met die Gees

Die tweede been van die wesenlike inhoud van identiteit, volgens 1 Johannes, setel in die uitdrukking 'Maar julle het 'n salwing van die heilige ' (2:20). 'n Soortgelyke uitspraak volg in 2:27: 'Maar julle het die salwing wat julle ontvang het van Hom '

Die vraag is of eksegeties aanvaar kan word dat die letterlike 'salwing van die heilige' (2:20) en 'die salwing van hom' sonder meer op die Heilige Gees dui. Volgens die teksverband is daar dalk sprake van die antichris (2:18) wat nie die waarheid, dit is dat Hy moes sterf vir sondevergifnis, van Christus se menswording wil erken nie (2:19-20). Daarteenoor, in tipies Johannese styl, word die teenpool, naamlik die gelowiges wat wel die waarheid ken en bely, se identiteit aangedui deur hulle wat 'die salwing van die heilige' het (2:20 en herhaal in 2:27; vgl. Beutler 2000:72-72; Brown 1982:339-349; Schnackenburg1979:151-155).

Die term salwing (chrisma) kom drie keer in die Nuwe Testament voor: in 2:20 en 27 (twee keer), en die werkwoord om te salf vyf keer: vier keer oor Jesus se salwing en slegs een keer in 1 Korintiërs 1:21 oor die salwing van Christene (vgl. Painter 2002:197). Ons moet 'salwing' beslis simbolies verstaan. Volgens Lukas 4:18 pas Jesus Jesaja 61:1 op Homself toe: 'Die Gees van die Here is op My omdat Hy my gesalfhet om die evangelie aan armes te verkondig.' Die eksegetiese verband tussen salwing en Gees word algemeen aanvaar (vgl. Brown 1982:338; Painter 2002:198), alhoewel De la Potterie (1959:234) en Marshall (1978:114) verkies om 'salwing' eerder met 'die woord van God' gelyk te stel. Die term salwing(chrisma) sou moontlik ook deur die geledere van die antichriste en vals profete gebruik geword het as die inlywing in kennis met verwysing na gnostiese invloede. Net soos Jesus egter met die Gees messiaans gesalf is (1:33; vgl. 14:26; 20:22), is die gelowiges wat die waarheid van Jesus se menswording aanvaar het, wesenlik in die Goddelike identiteit 'ingelyf' (vgl. 14:17; 16:13). Die ideale toestand om die Christus-etos te leef, setel in 'n Geesverhouding, dit wil sê om in die Gees te leef wie jy is.

Die 'salwing' met die Heilige Gees fokus dus op 'n innerlike waarborg dat 'die kinders van God' 'n Goddelike indentiteit dra. Sodoende deel die 'kinders' nou reeds in die eskatologiese gawe van die inwoning van die Gees (vgl. ook Rom 8:9). Op grond van hierdie inwoning van die Gees, het die kinders ook 'n 'goeie gewete' om die waarheid te kan beoordeel (vgl. Frey 1997:68; Lieu 1991:27 e.v.; Schnackenburg 1979:164 e.v.).

 

Die etos om hierdie identiteit te verwerklik

Vanuit die belydenis en grondslag van hierdie identiteit groei die tipiese Johannese belewenis van só 'n identiteitsverhouding en -houding deur die nuwe lewe in 'n bepaalde sigbare etos of lewenswandel te realiseer. Die volgende ses uitinge van die belewenis van hierdie etos in 1 Johannes word onderstreep:

Om in Hom te bly

Eerstens, die gelowige beleef sy identiteitsverhouding besonder intens deur in Hom te bly. Dit beskryf 'n bepaalde geloofsgemeenskap met God deur die Gees. In die gelowige bly God (4:16); Christus (3:24); die lewe (3:15); die liefde van God (3:17); die waarheid (2 Joh 2) en die salwing van die Gees (2:27; vgl. Brown 1982:195 e.v.; Van der Merwe 2007:241 e.v.). Volgens 1 Johannes setel God se etiese bemagtiging van die gelowige in die bly in-etos (vgl. Du Rand 1983:34; Jones 2010:184). Die gelowige se bly in, as uiting van 'n identiteitsverhouding, realiseer soos volg:

in God (2:6; 3:24; 4:13, 15, 16);

in Jesus Christus (2:27, 28; 3:6);

in Jesus en die Vader (2:24);

in die lig (2:10) teenoor in die duisternis (2:11) of in die dood (3:14);

in die liefde (4:16)

in die leer oor Christus (vgl. 2 Joh. 9; vgl. ook Heise 1967:70).

1 Johannes 2:6 raak die hartaar van die saak oor Christelike identiteit. Volgens hierdie vers toon dit aan dat iemand wat in God is, ook in Hom bly. En dan die epeksegetiese verduideliking: 'Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.' God se liefde het in sy Seun se menswording gerealiseer. Daarom gaan dit in vervulling (om sy doel te bereik) in die liefde as gehoorsaamheidsgestalte (2:5). Om in God te bly of te wees dui nie op 'n mistieke 'eenwording' nie, maar eerder op 'n intense geloofsverbintenis. Jesus se voorbeeld (aan die kruis) bly die etiese grondslag en maatstaf vir die gelowige as draer van die Christus-identiteit. Dit is die Gees wat só 'n identifikasie moontlik maak (3:24; 4:13).

Die salwing (van die Gees) wat in die gelowige bly, moet daartoe lei dat die gelowige ook in die Seun bly (2:27). Die Gees is die bemiddelaar tussen God se liefdeswerk deur sy Seun en die voortgaande liefdesantwoord van die gelowige. Christus se vernietiging van die bose (3:8) en die wegneem van die sonde (3:6) het die waarborg geword vir die gelowiges om hulle ware identiteitsverhouding deur hulle leefstyl te realiseer.

'Wie sy broer liefhet, bly in die lig' (2:10). 'n Persoon met só 'n grondslag as vertrekpunt het ook 'niks in hom wat ander laat struikel nie' (2:10). Iemand wat die kind-van-God-identiteit dra, opereer, soos Johannes sou sê: 'van bo' Elkeen wat deur die Gees in God rus gevind het, bly in die kragveld van God se liefde (vgl. Burge 2014:184).

Om te ken en gemeenskap te hê

'n Tweede belangrike belewenis van identiteit manifesteer deur die gelowiges se 'gemeenskap' met God en met mekaar (1:3; 2:3). 'Om te ken' en 'om gemeenskap te hê', kan, volgens Johannes, as die twee kante van dieselfde muntstuk gesien word (vgl. Du Rand 1983:8-10). 'Om te ken' dui op die subjektiewe belewenis van iemand se identiteit as kind van God en om 'gemeenskap te hê' op die objektiewe deelhê aan die Christusgebeure. Na binne voed 'gemeenskap' die gelowige se selfbewussyn as identiteit in 'n geloofsverhouding en na buite, sy sigbare identifisering. Een van die etimologiese gebruike van die Hebreeuse 'om te ken' groep woorde beklemtoon juis die intense ken en intieme eenwording tussen man en vrou. Die 'ken' en 'gemeenskap hê' as belewing, is dus allermins net 'n kennisname van God en medemens. Dit is eerder 'n intieme en intense geloofsverbintenis met God en liefdesverbintenis met die medemens, met die klem op 'n verhouding.

Volgens 1:3 beteken 'gemeenskap' dat die gelowige deur Christus se bemiddeling, objektief gesien, inskakel by die verlossing wat God bewerk het. Sodanige verbintenis met God en met mekaar konstitueer weereens 'n intense geloofsverhouding. Die versteurde gemeenskap as gevolg van sonde en die herstel deur God moet beleef word 'sodat ons blydskap volkome kan wees' (1:4). Blydskap is juis een van die besondere gawes van die eindtyd (vgl. Du Rand 2006:42).

Die Vader is die gewer van hierdie gemeenskap, die Seun die bemiddelaar (1:1-2), die Gees die waarborg(3:24; 4:13) en die kinders van God die erfgename daarvan (1:3, 7). Op sodanige wyse vind die gelowige 'n Goddelike selfbewussyn en beleef elkeen 'n identiteit en plek binne God se geestelike heelal.

Om te leef in die lig

Die derde belewenis van hierdie identiteit manifesteer, volgens 1 Johannes, deur 'n 'leef in die lig' (1:6-7). Om in die lig te leef, beteken om die waarheid van Jesus se menswording te bely en die lig-verhouding sigbaar te gaan leef. Dit staan lynreg teenoor 'n 'leef in die duisternis' (1:6). Om te 'leef in die lig' en nie 'in die duisternis' nie, is nie 'n mistieke gemeenskap met God nie, maar 'n berekende geloofswandel wat uit 'n intieme geloofsverhouding opwel. Dit is 'n eskatologiese kenteken van 'n bevryde etos. Teenoor gebrokenheid staan bevryding in Christus.

Om die gebooie (opdragte) te gehoorsaam

Volgens 1 Johannes fokus 'n belangrike deel van die etos (etiese leefstyl) van identiteit veral op die geloofsbelydenis en 'broederliefde' as die sigbaarmaking van identiteit. Deur die gebooie te gehoorsaam, om te bely dat Jesus die Messias is en die liefde te gaan leef, neem die kinders van God stelling in teenoor die bose, die duisternis en sonde.

Die 'gebod' of 'opdrag' moet volgens Johannese gebruik egter nie as 'n gekodifiseerde wet of bepaling gesien word nie. Dit word eerder gekontekstualiseer deur die Gewer (vgl. 13:34), die ontvangers (kinders van God as volgelinge) en die situasie (postkruis- en opstandingsgebeure) (vgl. 3:23; 4:21). Daarom is dit meer gepas om entole nie deur 'gebod' nie, maar 'opdrag' te vertaal. Dit bring die gesaghebbende semantiese gerigtheid daarvan duideliker na vore.

Die bespreking in die volgende drie paragrawe in 1 Johannes toon aan dat 'belydenis' en 'liefhê' die twee dominante Johannese lewensuitinge van identiteit is en dat dit die Johannese gemeenskap in die situasie geïdentifiseer het.

Gaan leef die Christelike identiteit (2:3-11)

Wie God 'ken' (2:3) en 'in Hom bly' (2:6), maak dit sigbaar deur 'die opdragte te gehoorsaam' en te 'bewaar' deur dit uit te voer. Metafories gestel: God het 'n vereffende leningsrekening geopen deur Christus se menswording. Dit word slegs betaal deur die gebod van liefhê te gaan leef, 'net soos Jesus dit gelewe het' (2:6). Die gehoorsaming van die 'nuwe gebod of opdrag' (vgl. 13:34) is die klinkklare en sigbare bewys dat iemand ware kennis van God het. Die nakom van die gebod (opdrag) kan nooit die voorwaarde tot kennis wees nie, maar is slegs 'n kenteken van 'gemeenskap' en 'kennis'. Identiteit word sigbaar en hoorbaar wanneer die liefde van God sy doel bereik deur wederliefde aan die volgeling (2:5) volgens die selfopofferende voorbeeld van Jesus (2:6).

Dié 'gebod' of 'opdrag' is oud (vgl. Lev 19:18) en nuut op grond van Jesus se voorbeeld van liefde (hupodeigma) (13:15). Deur mekaar soos Jesus 'lief te hê' neem die kinders van God sigbaar deel aan die deurbraak van God se eskatologiese heerskappy op aarde.

Johannese liefhê en haat hou beslis nie hande nie (3:11-18)

Hierdie paragraaf beklemtoon die daadkarakter van die 'broederliefde' as konkretisering van die gehoorsaming van die 'opdrag'. Ten spyte van die aanslag van die 'antichriste' en 'vals profete' (2:18-25) leef die kinders van God in gemeenskap met God en met mekaar (2:28-3:10). Net soos Kain sy broederhaat gekonkretiseer het deur sy broer dood te maak (3:12), só het Christus sy liefde deur sy kruisdood bewys en die model vir broederliefde geword (3:12-16). Die begrip broederliefde moet binne die konteks van die besondere Johannese situasie verstaan word waar die liefde vir die medegelowige binne groepsverband verstaan is en daarom identiteitsaanduidend is. In die konfliksituasie waar van moontlike verdeeldheid tussen die ondersteuners van die outeur en die skeurmakers sprake was, is so 'n identiteitsaanduiding van groot belang (vgl. Du Rand 2006:128-131) - weereens 'n afleiding dat teologiese inhoud en leefsituasie verwant is.

Die haat van die kosmos lei tot die dood terwyl broederliefde tussen God se kinders tot die lewe lei (3:14).

Hy wat haat (Kain) neem 'n ander se lewe terwyl Hy wat liefhet sy eie lewe ter wille van ander gegee het (3:15-16). Jesus is die model en prototipe van die broederliefde. Daar waar die naasteliefde geld, word die kind van God se identiteit sigbaar. Dit geld ook veral ten opsigte van aardse besittings volgens 3:17-18. Met die selfbewussyn van só 'n identiteit kom die hart ('gewete') van God se kind voor Hom tot rus en gee 'vrymoedigheid' om na God toe te gaan (3:21). Gehoorsaamheid wat deur die Gees moontlik gemaak word (3:24), is 'n eskatologiese teken van God se bedoeling met sy wêreld.

Om God én die 'broer' lief te hê (4:21-5:3)

Volgens 4:21 moet die een wat God liefhet ook sy broer liefhê. Dit word weereens in 5:2-3 beklemtoon dat die horisontale liefde vir die naaste of medegelowige die identiteitsaanduidende en sigbare bewys is dat iemand God liefhet. Vanuit geloofsgemeenskap met God groei die geloofsbelydenis en die sigbare liefdesetos as antwoord op God se liefde. Op hierdie wyse deel God se kind in die voortgang van God se oorwinningstog deur hierdie wêreld. Die gelowige hoef nie weer self te gaan oorwin nie, maar moet slegs deur geloofsbelydenis en 'broederliefde' die oorwinning wat Christus behaal het op elke lewensterrein gaan proklameer.

Om nie die wêreld lief te hê nie (2:15)

Volgens 1 Johannes herinner die gelowige se vyfde belewenis van hierdie identiteit die leser ook aan 'n negatiewe sy daarvan: 'Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie' (2:15). Die termwêreld (kosmos) in hierdie voorkoms word nie in sy neutrale gebruik 'skepping' of 'mensheid' aangehaal nie, maar in die negatiewe: die verpersoonliking daarvan deur opstandigheid en rebellie teen God (vgl. Brown 1982:223; Wendland 2007:177).

Die identiteit van God se kinders word gekontrasteer met dié van die ongelowiges van die wêreld. Die skeurmakende antichriste en vals profete is volgens 2:15-17 in diens van die wêreld. Alhoewel God se verlossing op die hele skepping of mensheid (kosmos) gerig is, het die wêreld (mensdom) sy Seun verwerp (3:16, 19) en het die begrip wêreld (kosmos) die korporatiewe noemer geword van hulle wat Christus se menswording verwerp het en daarom as kinders van die duiwel bekend staan (3:19).

Deurdat die bedoelde lesers die bose oorwin het, moet hulle 'n identiteitsaanduidende keuse maak teen die duisternis en die rebellerende wêreld (2:7-11), die broederliefde omarm en nie mekaar haat nie.

Die Griekse woord vir 'liefhê', volgens 2:15, sou kragtens hierdie ko-teks ook deur 'absoluut lojaal wees' weergegee kon word: lojaal aan die lig, die medegelowige en God; en dislojaal teenoor selfsug wat die 'wêreldse dinge' betref (2:16). Die 'wêreldse dinge' (2:16) word duideliker omskryf as 'alles wat die sondige mens begeer' en 'alles wat sy oë sien en begeer' (2:16).

Die sensuele (wat die 'oë sien en begeer') is nie as sodanig boos nie, maar belemmer geestelike insig en moet eers deur die 'filter' van die Gees herskep word. Saamgevat: Die 'van onder' moet plek maak vir die 'van bo' (Du Rand 1983:24-25); wêreldliefde staan teenoor Vaderliefde (2:15); 'uit die wêreld' teenoor 'uit die Vader' (2:16); en 'die wêreld gaan verby' teenoor 'die wil van God wat vir ewig bly' (2:17).

Oorsprong bepaal dus identiteit, en identiteit definieer die leefstyl en bestemming van hulle wat uit God gebore is.

Om nie meer sonde te doen nie (3:6-9)

'n Belangrike sesde belewenis van identiteit lees volgens 3:6 só: 'Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie', uitgedruk deur die Griekse Praesens of teenwoordige tyd, en in 3:9: 'Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie omdat die Gees van God in hom bly en hy nie meer sondig nie.' Hierdie twee uitdrukkings funksioneer om die identiteit van die kind van God nog sterker te beklemtoon. Om 'nie sonde te doen' nie, volgens 3:9, is 'n sterker uitdrukking as 'om nie te sondig nie' volgens vers 6. Die uitspreek 'nie kan sondig', volgens vers 9, is 'n sleutelstelling. Dit vloei logies uit die voorafgaande, naamlik dat Jesus gekom het 'om die sondes weg te neem' en 'dat daar geen sonde in Hom is nie' (3:5). Om dus 'soos' Jesus te wees, beteken om nie van sonde 'n voortgaande lewensbestaan te maak nie.

Die sleutel tot die verstaan van 3:4-10 is opgesluit in die uitdrukking: 'om in Hom te bly' (3:6). Dit weerspieël 'n identiteitsaanduidende intieme geloofsgemeenskap volgens 'n analise van hoofstuk 3 (vgl. Du Rand 1983:26-37). Die vraag is of die kind van God regtig nie sonde kan doen nie, want 3:9 pas eintlik nie in by die tipiese Johannese uitsprake oor sonde nie (vgl. 2:1, 15, 29; 3:12, 18; 5:21). Meer as een verklaring is al aangebied. Smalley (1984:172, 173; vgl. Schnelle 2007:239 e.v.) meen die grammatikale verklaring pas die beste. Die werkwoord 'sondig' en aanhou 'sonde doen' in die teenwoordige tyd, fokus op die duratiewe aspek met die betekenis dat sonde nie 'n gewoonte of leefstyl van die kind van God kan wees nie - om dus nie aan te hou sonde doen of om 'n sondebestaan te voer nie. So 'n verklaring is eksegeties in gelid met die res van die Nuwe Testament. Die teologiese verklaring (vgl. Brown 1982:430) meen 1 Johannes onderskei tussen bewustelike en onbewustelike sonde en dat ons in hierdie voorkoms met 'n bepaalde soort bewustelike sonde te doen het. Dit is moontlik dat 'n situasie-gekoppelde verklaring ook in ag geneem kan word. Die antichriste en vals profete hou aan om te sondig, deur nie te erken dat Jesus mens geword het en vir sonde gesterf het nie.

'n Sterk moontlikheid, gebaseer op die kulterele situasie en omgewing, is dat die tipiese skeurmakers, volgens 1 Johannes, moontlik die lesers tot perfeksionisme aangespoor het. Daarom die kragtige uitspraak 'kan nie sondig nie' (3:9).

'n Eksegetiese besluit kan daarop neerkom dat die kind van God, uit God gebore, net nie meer sonde as 'n leefwyse kan handhaaf nie (3:6, 9), maar dat só 'n persoon tog te kort skiet en nog sonde doen (2:1). Dan is Jesus Christus 'ons Voorspraak by die Vader' (2:1). Omdat die saad van God in sy kind bly (3:9), is daar geen plek vir 'n voortgaande sondebestaan nie.

 

Gevolgtrekkende besluit

Die mees rigtinggewende benadering tot die eksegetiese verstaan van 1 Johannes lê daarin om metodologies multidimensioneel te werk te gaan. Dit wil sê, om die retoriek van die teks self as uitgangpunt te neem, dit in sy groter inhoudelike teologiese kontoere te analiseer en vanuit só 'n geheelbeeld 'n bepaalde ontstaansituasie te veronderstel wat die inhoud van die brief nog meer betekenisvol maak.

Lieu het op meesterlike wyse die retoriese lees beklemtoon, maar nie genoeg rekening gehou met die moontlike Johannese situasie nie. In haar nuutste bydrae oor hierdie saak (Lieu 2014:123-140) het sy wel die moontlike ontstaansituasie van die historiese eerste Johannese lesers in ag geneem, maar nog nie reg laat geskied aan die teologiese bedoeling van 1 Johannes nie. Dit kan algemeen aanvaar word dat die moontlike sosiologiese situasie van die eerste historiese lesers beslis 'n rol gespeel het in die formulering van Johannes se teologiese bedoelinge. Dit geld natuurlik ook omgekeerd. Daarom is die bepaling van die teologiese kontoere van 1 Johannes van soveel belang. Die teologiese parallesering tussen Jesus se identiteit as God en mens, en die lesers se identiteit gee aan 1 Johannes 'n dinamiek van sy eie. Lieu se bydraes het verdere navorsing gestimuleer en haar retoriese beklemtoning is verhelderend, maar kan slegs sinvol aangewend word as dit saam met die historiese situasie van die eerste Johannese lesers asook die teologiese bedoeling van 1 Johannes verreken word.

Daarom is die gekose en bewese sleutel of teologiese hoek waaruit die Johannese inhoud tot spreke gebring word op die identiteit van die bedoelde lesers gerig. Die grondslag en fondament van die Johannese (1 Johannes en Johannesevangelie) identiteit word tweërlei beskryf as 'kindskap van God' en om 'gesalf te wees met die Gees'.

Só 'n Goddelike gekonstitueerde identiteit word beleef deur in God te bly; Hom te ken en gemeenskap met Hom en mekaar te hê; in die lig te leef; die gebooie (opdragte) te gehoorsaam en te realiseer deur geloofsbelydenis en die liefhê van die broer; om nie die wêreld lief te hê nie, en om nie sonde te doen nie.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Beutler, J., 2000, Die Johannesbriefe, Verlag Friedrich Pustet, Regensburg.         [ Links ]

Brown, R.E., 1979, The community of the beloved disciple, Paulist Press, New York.         [ Links ]

Brown, R.E., 1982, The Epistles of John, Doubleday, New York.         [ Links ]

Burge, G.M., 2014, 'Spirit-inspired theology and ecclesial correction: Charting one shift in the development of Johannine ecclesiology and pneumatology', in R.A. Culpepper & P.N. Anderson (eds.), Communities in dispute: Current scholarship on the Johannine Epistles, pp. 179-186, SBL, Atlanta, GA.         [ Links ]

Chang, W., 2014, 'The love commandment (John 13:34-35)', Asia Journal of Theology 28(2), 263-282.         [ Links ]

Culpepper, R.A., 2014, 'The relationship between the Gospel of John and 1 John', in R.A. Culpepper & P.N. Anderson (eds.), Communities in dispute: Current scholarship on the Johannine Epistles, pp. 95-122, SBL, Atlanta, GA.         [ Links ]

De Jonge, M., 1968, De Brieven van Johannes, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

De la Potterie, I., 1959, 'L'arrière fond du theme johannique de vérité', in K. Aland (ed.), Studia Evangelica 1, pp. 227-294, Akademie, Berlin.         [ Links ]

Du Rand, J.A., 1979, 'A discourse analysis of 1 John', Neotestamentica 13(1), 1-42.         [ Links ]

Du Rand, J.A., 1983, Beleef julle sekerheid: 'n Verkenning van die Briewe van Johannes, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Du Rand, J.A., 1991, Johannese perspektiewe: Inleiding tot die Johannese geskrifte, Orion, Midrand.         [ Links ]

Du Rand, J.A., 2006, Beleef julle sekerheid: 'n Bybelstudie oor 1 Johannes vir dieper delwers, Christelike Uitgewers Maatskappy, Vereeniging.         [ Links ]

Frey, J., 1997, Die johanneische Eschatologie, vol. 1, Mohr-Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Heise, J., 1967, Bleiben: Menein in den johanneischen Schriften, Mohr-Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Jones, P.R., 2010, 'A presiding metaphor of First John: menein en', Perspectives in Religious Studies 37(2), 179-193.         [ Links ]

Keck, L.E., 1996, 'The oneness in Johannine Christology', in R.A. Culpepper & C.C. Black (eds.), Exploring the Gospel of John: In honor of D. Moody Smith, pp. 247-288, Westminster, Louisville, KY.         [ Links ]

Kellum, L.S., 2005, 'On the semantic structure of 1 John', Faith and Mission 23(1), 34-82.         [ Links ]

Klauck, H.-J., 1991, Der erste Johannesbrief, Kirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.         [ Links ]

Lieu, J.M., 1981, 'Authority to become children of God: A study in 1 John', Novum Testamentum 23(3), 210-228.         [ Links ]

Lieu, J.M., 1991, The theology of the Johannine Epistles, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Lieu, J.M., 2008a, 'Us or you? Persuasion and identity in 1 John', JBL 127(4), 805-819.         [ Links ]

Lieu, J.M., 2008b, 1, 2 3 John: A commentary, Westminster, Louisville, KY.         [ Links ]

Lieu, J.M., 2014, 'The audience of the Johannine Epistles', in R.A. Culpepper & P.N. Anderson (eds.),Communities in dispute: Current scholarship on the Johannine Epistles, pp. 123-140, SBL, Atlanta, GA.         [ Links ]

Marshall, I., 1978, The Epistles of John, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Neufeld, D., 1994, Receiving texts as speech acts: An analysis of 1 John, Brill, Leiden.         [ Links ]

Painter, J., 1986, 'The opponents in 1 John', NTS 32, 48-71.         [ Links ]

Painter, J., 2002, 1, 2, 3 John, Liturgical Press, Collegeville, PA.         [ Links ]

Painter, J., 2014, 'Identity in the Fourth Gospel', in R.A. Eklund & J.E. Phelan (eds.), Doing theology for the church: essays in honor of klyne snodgrass, pp. 247-263, Wipf & Stock, Eugene, OR.         [ Links ]

Pakala, J.C., 2008, 'A librarian's comments on commentaries: 1-3 John', Presbyterion 33(1), 44-48.         [ Links ]

Perelman, C. & Olbrechts-Tyteca, L., 1969, The new rhetoric: A treatise on argumentation, transl. J. Wilkinson & W. Purcell, University of Notre Dame Press, Notre Dame.         [ Links ]

Perkins, P., 2004, The Johannine Epistles, Veritas, Dublin.         [ Links ]

Rensberger, D., 2006, 'Conflict and community in the Johannine letters', Interpretation 60(3), 278-291.         [ Links ]

Rockwell, S., 2010, 'Assurance as the interpretation key to understanding the message of 1 John',Reformed Theological Review 69(1), 17-33.         [ Links ]

Schmid, H., 2002, Gegner im 1 Johannesbrief? Zu Konstruktion und Selbstreferenz im johanneischen Sinnsystem, Kohlhammer, Stuttgart.         [ Links ]

Schnackenburg, R., 1979, Die Johannesbriefe, 6th ed., Herder, Freiburg.         [ Links ]

Schnelle, U., 2007, Theologie des Neuen Testaments, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Schnelle, U., 2010, Die Johannesbriefe, Evangelische Verlaganstalt, Leipzig.         [ Links ]

Smalley, S.S., 1984, 1, 2, 3 John, Word Books Publisher, Waco, TX.         [ Links ]

Snodderly, B. & Van der Merwe, D.G., 2007, 'Status degradation in First John: Social scientific and literary perspectives', ActaPatByz 18, 179-213.         [ Links ]

Strecker, G., 1996, The Johannine letters: A commentary on 1, 2 and 3 John, transl. L. M. Maloney, Fortress, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Strecker, G., 2000, Theology of the New Testament, German edition. F.W. Horn, Walter de Gruyter, New York.         [ Links ]

Van der Merwe, D.G., 2006, 'Having fellowship with God according to 1 John. Dealing with the intermediation and environment through which and in which it is constituted', Acta Theologica suppl. ser. 8, 165-192.         [ Links ]

Van der Merwe, D.G., 2007, 'Experiencing fellowship with God according to 1 John 5-2:28', Acta Patristica et Byzantina 18, 231-262.         [ Links ]

Van der Merwe, D.G., 2013, 'Early Christian spirituality according to the First Epistle of John: The identification of different "lived experiences"', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 69(1), 1286, 9 p. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v69i1.1286        [ Links ]

Van der Watt, J.G., 1999, 'Ethics in First John: A literary and socio-scientific perspective', QBC 61, 491-511.         [ Links ]

Van der Watt, J.G., 2013, 'Etiese besluitneming volgens 1 Johannes', Acta Theologica 33(2), 207-225.         [ Links ]

Watson, D.F., 1989, '1 John 2:12-14 as distributio, conduplicatio and expolitio: A rhetorical understanding',Journal for the Study of the New Testament 11, 97-110.         [ Links ]

Wendland, E., 2007, 'The rhetoric of reassurance in first John: "Dear children" versus the "Antichrists"',Neotestamentica 41(1), 173-219.         [ Links ]

Wuellner, W., 1986, 'Paul as pastor: The function of rhetorical questions in First Corinthians', in A. Vanhoye (ed.), L'Apôtre Paul: Personalité style et conception du ministère, pp. 49-77, University Press, Leuven.         [ Links ]

Yarbrough, R.W., 2008, 1-3 John, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Zimmermann, R., 2011, 'Remembering the future: Eschatology in the letters of John', in J.G. van der Watt (ed.), Eschatology of the New Testament and some related documents, pp. 514-534, Mohr-Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Jan du Rand
jdrth@yahoo.com

Received: 03 June 2015
Accepted: 01 Nov. 2015
Published: 19 May 2016

 

 

1 Verder verwysings na 1 Johannes sal slegs met hoofstukke en verse aangedui word.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License