SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue1Thomas F. Torrance: Theology and mission in practiceReflection on pastoral care in Africa: Towards discerning emerging pragmatic pastoral ministerial responses author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.50 n.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i1.2135 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerkorde van 1962: Die Dordtse Kerkorde aangepas by die eise van ons dag?

 

 

Piet Strauss

Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

This article investigates a statement by Dr Koot Vorster, at that stage a leading figure and church politician in the Dutch Reformed Church (DRC), in which he mentions that the proposed church order for the Dutch Reformed Church of 1962 was in essence the Order of Dordtrecht of 1619, adapted to suit the situation of the church in the 1960s. The Dutch Reformed Church's affinity with the Church Order of Dordt over the years is highlighted and the content of the order of 1962 is studied for the influence of, and similarities with the Order of Dordt.


 

 

Inleidend

In die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) van September 1960 maak die toenmalige aktuarius van die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) in Suid-Afrika van Kaapland (NGK 1962:5), dr J.D. Vorster, die volgende stelling ten opsigte van die voorgestelde NG Kerkorde van 1962 (NGKO 1962): 'die Dordtse Kerkorde [is] aangepas by die eise van ons dag' (Vorster 1960:13). Die inhoud of strekking van hierdie stelling word instemmend deur verskeie skrywers gebruik wat die onderwerp hanteer (Jonker 1960:35; Kleynhans sa:109; Loots sa:1; Strauss 2010:7, 31).

Vorster se agtergrond bevestig sy bekwaamheid om hieroor te praat. Sy doktorale proefskrif van 1956 (Vorster 1981:3) handel oor die 'Kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die Kompanjie 1652-1795'. Hierin word die invloed van die Dordtse Kerkorde van 1619 (DKO) op hierdie ontwikkeling duidelik aangetoon. Vorster (1981:136) kom uit tersaaklike dokumente tot die gevolgtrekking dat die DKO die 'vigerende kerkorde vir die Kaapse Kerke was'. Hy (1981) huldig die mening dat die NGK sedert die volksplanting onder Jan van Riebeeck in 1652 en die ontstaan van Kaapstad as die eerste gemeente in 1665, sy affiniteit vir die DKO behou het. Hy wys daarop dat die voorzitter en secretaris van die eerste algemene kerkvergadering van die NGK (1824) die destydse Kaapse goewerneur namens die moderatore van die Sinode (die voorsittendes by die 'groen' tafel) versoek het om naas die pasaanvaarde Algemene Reglement vir die NGK ook die DKO te publiseer. Dit is volgens hulle 'a fundamental Document of all the regulations of our church to which we all are bound to conform' (1981:14; vgl. volledige brief in Dreyer 1936:259).

In dieselfde kerkordelike klimaat besluit die Vrystaatse Sinode van 1937 van die NGK om 'n 'konsep' van die DKO ter inligting van die kerk (gemeentes) te publiseer (NGK in die OVS 1937:191). Twintig jaar later gebruik die Kaapse Sinode van hierdie kerk die hoofstukindeling van die DKO vir sy Bepalinge en reglemente. Volgens Vorster (1960:13) wat hierin 'n leidende rol speel, baan dit die weg vir die NGKO 1962 om dieselfde te doen (vgl. ook Strauss 2010:8).1 Vorster neem ook die leiding met die opstel van NGKO 1962. Hy skryf waarskynlik die eerste vier van die ses hoofstukke en redigeer die res (Langner 2007:87). Later word hy die eerste aktuarius of kerkregkundige van die Algemene Sinode, 'n taak waarvoor hy by die eerste Algemene Sinode in Oktober 1962 verkies word en wat 'n eksplisiete erkenning van sy leiding in die finalisering van die NGKO 1962 is (Van der Watt 1973:165). Vir Vorster (1960:17) is die oriëntasie van die NGKO 1962 op die DKO nie onverwags nie, maar 'n 'natuurlike vrug, 'n logiese gevolg, 'n sluitsteen, 'n verwagte klimaks' in die kerkregtelike ontwikkeling van die NGK.

In ooreenstemming met Vorster se uitspraak dat die DKO aangepas is by die eise van ons dag, beveel die kommissie van vyf aktuarii (NGK 1962:31) wat die NGKO 1962 voorberei, in 1957 by die Federale Raad van NG Kerke aan dat hierdie kommissie nie 'n nuwe kerkorde saamstel nie, maar op 'n hersiening van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland van 1959 (GKN-KO 1959) konsentreer. Hierdie Kerkorde volg, so word aanvaar, die hooflyne van die DKO soos aangepas by die eise van die dag (NGK 1957:73-74; vgl. ook Langner 2007:87). Dit sou dus as 'n goeie voorbeeld vir die NGKO 1962 kon dien wat op die DKO wou steun én eietyds wou wees. Gevolglik kom die hoofstukindeling van die NGKO 1962 en sekere van sy formulerings uit die DKO (Strauss 2010:8). Sommige formulerings spruit weer uit 'n modernisering van die DKO soos wat gedoen is in die GKN-KO 1959. Wat meer is, die vervanging van die uitdrukking 'wette en bepalinge' met die begrip kerkorde dui die weg aan van wette en bepalings wat 'n teruggrype is op die Dordtse kerkordelike tradisie.

Die kommissie van aktuarii bestaan uit een persoon uit elkeen van die vyf sinodes van die NGK wat in 1962 in die Algemene Sinode verenig was, naamlik Kaapland (die NG Kerk in Suid-Afrika), die Vrystaat, Transvaal, Natal en Suidwes-Afrika. Die kommissie was Vorster (Kaapland), H.D. du Toit (Natal), J.J. le Roux (Vrystaat), W.D. Jonker (Transvaal) en P.A. du Toit (Suidwes-Afrika) (NGK 1962:5-13).

'n Berig in Die Kerkbode van 15 Julie 1959 dat die NGK se Federale Raad van Kerke in Mei 1959 die konsep van die NGKO 1962 goedgekeur het, ontlok skerp reaksie in Die Kerkblad van die destydse Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA). In Augustus 1959 noem die rektor van die Teologiese Skool op Potchefstroom, prof. S du Toit, dit ''n radikale omwenteling' in die stelsel van kerkregering in die NGK wat nou, na byna 160 jaar, met die ongereformeerde kollegialisme van De Mist in sy Kerkorde van 1804 breek. Hy impliseer dus dat die NGKO 1962 - anders as wat Vorster aanvoer - nie 'n voortsetting van die NGK se affiniteit vir die DKO verteenwoordig nie, maar teenoor die kollegialisme 'n nuwe gereformeerde rigting vir die NGK aandui. 'n Tendens wat volgens hom 'n stap in die 'verdoppering' ('n bynaam vir GKSA) van die NGK kan wees. Du Toit word deur Jonker uit die NGK weerspreek (vgl. Du Toit H. 1995:62-63; Du Toit, S. 1995:7, 11; Jonker 1995a:8; 1995b:11, 13 ; Kleynhans sa:151). Jonker wat namens die NGK van Transvaal op die kommissie van aktuarii dien, laat hom ook oor ander aspekte van die NGKO 1962 uit. Daarop word later teruggekom. Genoeg egter om te sê dat geeneen van hierdie woordvoerders die invloed van die DKO op die NGKO 1962 ontken nie.

Hierdie toedrag van sake laat die volgende vrae ontstaan: was NGKO 1962 inderdaad op die DKO georiënteer? Watter voorbeelde is daar in die NGKO 1962 behalwe die hoofstukindeling? Hoe wyd het die ywer vir hierdie reformasie oor die NGKO 1962 geloop?

 

Hoofstukindeling van die NGKO 1962

Jonker (1960:36) voer aan dat die NGKO 1962 die 'hele kerklike lewe' probeer orden en reël 'deur enkele groot lyne te trek waarin die kerke (die verskillende NG Kerke in Kaapland, die Vrystaat, ens.) in vryheid en verantwoordelikheid met die Bybel in die hand mag beweeg'. Kleynhans (sa:150) oordeel dat die NGKO 1962 in ooreenstemming met 'Skrif en belydenis' die 'hooflyne' vir die regering van die kerk aandui. Wat hom betref, dra die NGKO 1962 die 'onmiskenbare stempel' van die DKO in sy indelings sowel as sekere van sy bewoordings.

Albei skrywers gee blyke van 'n behoefte aan 'n kerkorde wat by die hoofsake van kerkregering hou en hierdie regering nie in detail reglementeer nie. 'n Kerkorde wat die NGK vrylaat om die Woord te gehoorsaam en nie deur allerlei gedetailleerde menslike bepalings te verkneg nie.2 Dit gaan om 'n orde of om begin- of vertrekpunte en nie 'n wet wat tot in die fynste detail gehoorsaam moet word nie. Dit gaan om ordelike kanale wat hulle loop kan wysig indien die vrye vloei en die heerskappy van die Woord in 'n bepaalde situasie en tyd in die kerklike lewe dit vereis. Dit gaan om 'n kerk waarin die Woord van God die eerste en die laaste sê het (Strauss 2010:93).

Met sy 'in vryheid en verantwoordelikheid met die Bybel in die hand' gee Jonker (1965) 'n kernagtige, goeie gereformeerde definisie van die doel en plek van 'n kerkorde. Christus word bely - Jonker noem dit 'n belydeniswaarheid - as die Hoof van die kerk (1965:3) en Christusgesag is Woordgesag (ibid:12; vgl Strauss 2010:15, 130). Hierdie vryheid en verantwoordelikheid word geïntegreerd verwesenlik indien dit met die Bybel in die hand of as omvattende rigsnoer uitgeleef of aangepak word.

Vanuit hierdie hoek benader Jonker die waarde van die NGKO 1962. Sy behoefte aan 'enkele groot lyne' vir die 'hele kerklike lewe' word oënskynlik deur die DKO-gekoppelde hoofstukindeling en groot lyne van die NGKO 1962 gedek. Die ses hoofstukke met hulle bepalings word in slegs 16 bladsye vervat: die belydenis en orde van die kerk; die ampte van die kerk; die vergaderings van die kerk; die arbeid van die kerk; kerklike opsig en tug; en die betrekkings van die kerk na buite (NGKO 1962:2-14; vgl dieselfde hoofstuktemas en die teks van die DKO in Pont 1981:176-186). So kernagtig en hooflynmatig loop hierdie temas met hulle bepalings dat die Algemene Sinode van 2013 van die NGK vir 'n bykomende nuwe beklemtoning in 'n nuwe artikel 2 prinsipieel-verantwoord ruimte maak vir die sogenaamde missionale kerk. Dit gaan hier om die opbou van die NGK om God te eer en die heil en versoening van Christus te verkondig (NGKO 2013:1). Die artikel met sy op- en uitboukarakter vat die saak suiwerder raak as hulle wat die kerk uitsluitlik in sy missionêre taak laat opgaan.

Sinodes en partikuliere sinodes: Nie dieselfde nie

'n Saak waarteen Jonker hom wel vanuit sy DKO-benadering in 1960 uitspreek, is die ruimte wat die NGKO 1962 laat vir die samestellende sinodes om hulle eie kerkordes of 'bepalinge en reglemente' naas die NGKO 1962 op te stel. Hierdie bepalings moet wel nie met die NGKO 1962 in stryd wees nie (NGKO 1962:7, art 35a), maar met hulle groter detail nie die vryheid wat die NGKO 1962 skep, 'skrap' of bedreig nie. Volgens Jonker impliseer sulke bykomende bepalings en reglemente dat die NGKO 1962 onvoldoende is.

Hy (Jonker 1960:35) gaan verder en maak 'n stelling oor die NGKO 1962, artikel 20 wat die DKO artikel 36 wesenlik oorneem: die gesag van die ring oor die kerkraad wat dieselfde is as dié van die sinode oor die ring of van die Algemene Sinode oor die sinode (vgl DKO, art. 36 in Pont 1981:180), laat die indruk dat die DKO en die NGKO 1962 ten opsigte van meerdere vergaderings ooreenstem. Anders as die NGKO 1962 gee die DKO egter nie aan sy partikuliere sinodes die bevoegdheid om hulle eie bepalings te maak nie. Met hierdie bevoegdheid van die sinodes, wat omskryf is in die NGKO 1962, verword sy Algemene Sinode tot 'n koördinerende vergadering wat, anders as sy adviserende, koördinerende voorganger die Federale Raad, wel bindende besluite kan neem (NGKO 1962:5). Hierdie toestand maak sinodale eenwording 'kunsmatig' (Jonker 1960:35). Die enigste vooruitgang wat die NGK hier sal geniet, sal wees wanneer die 'kosbare erfenis' van die DKO 'volledig' in hierdie kerkverband deurwerk (ibid:36).

Op hierdie punt moet twee waarnemings gemaak word. Die eerste is dat die DKO inderdaad nie volledig in die NGKO 1962 deurwerk nie. Ten opsigte van die take en verhoudings van die partikuliere sinodes (DKO) of sinodes (NGKO 1962) tot die Algemene (NGKO 1962) of Nasionale Sinode (DKO), volg die NGKO 1962 beslis nie die DKO nie. Inteendeel, dit behou grootliks die praktyk soos dit uit die geskiedenis van die verskillende provinsiale NG Kerke kom. In plaas van die DKO se partikuliere sinodes wat deur vier of vyf klasses (meervoud van klassis) gevorm word, word die sinodale grense in die NGK, sover dit die NGKO 1962 aangaan, deur staatkundige provinsiale grense bepaal. Hier gaan dit steeds om die effek van die Loedolff-saak in 1862 op die NGK. Dit is 'n saak wat juis deur die Algemene Sinode in 1962 reggestel moes word (Van der Watt 1973:166), naamlik dat staatkundige en nie kerklike faktore nie, kerkgrense bepaal. Die verskillende (vroeër selfstandige) samestellende NG Kerksinodes gaan na 1962 feitlik onveranderd voort. Daarom ontstaan daar in die sinodale wandelgange van die NGK mettertyd verwysings na die Kaapse, Transvaalse en Vrystaatse standpunte.

Hierdie ongelukkige, ongereformeerde huwelik tussen die DKO en die praktyk van die NGK bly tot vandag toe - dit is die tweede waarneming - 'n onopgelosde probleem. Daarom dan die voortgaande besinning in die NGK oor die verskil in die terreine tussen die sinodes en die Algemene Sinode (Strauss 2005:294-295), en die besinning oor die korrekte samestelling van sinodes en veral die Algemene Sinode (Strauss 2013:149). Dit is sinodes wat uit die NG Kerkverband as 'n verband van gemeentes as strukturele gelykes spruit (Strauss 1989:2). 'n Saak wat tot hierdie probleem bydra, is die feit dat die NGK by die samestelling van sy sinodes en sy Algemene Sinode nie 'n konsekwente beginsel volg nie. In 1962 is elke gemeentepredikant plus 'n ouderling, of alternatiewelik al die gemeentepredikante plus een ouderling per gemeente na sinodes afgevaardig (NGKO 1962:7). In 2014 vaardig gemeentes 'n persoon vir elke predikantspos in die gemeente en 'n gelyke getal (ander) kerkraadslede na sinodes af (ASR 2014:9). Hier is nie 'n gelyke verteenwoordiging van gemeentes of ampte nie (vgl die anti-hiërargiese en gereformeerde beginsel; Strauss 2010:51). Op hulle beurt vaardig sinodes in 2014 volgens 'n formule na die Algemene Sinode af: die helfte word bepaal deur die gelykwaardigheid van sinodes en die ander helfte deur die getal belydende lidmate in die sinodale gebied (NGK 2013:10). In 1962 was dit 25 predikante en 25 ouderlinge per sinode, met die Kaapse Sinode wat 75 predikante en 75 ouderlinge kon stuur (NGKO 1962:8).

By die gemeentes se afvaardiging na sinodes was dit sedert 1962 dus meer amps- as gemeentegerig, terwyl die kerkverband as 'n verband van gemeentes as volledige kerke juis in die samestelling van die vergaderings van die verband weerspiëel moet word. By die Algemene Sinode in 1962 word die strukturele gelykheid van sinodes in hulle verteenwoordiging erken, met die uitsondering van die Kaapse Sinode. 'n Voorbeeld dat hier nie konsekwent prinsipieel gedink is nie. Die moontlikheid van prinsipiële denke is op hierdie stadium ook verskraal deurdat staatkundige grense sinodale grense en groot en klein sinodes bepaal en gevolglik groot ongelykhede tot gevolg gehad het. Teen 2014 is die beginsel van strukturele gelykheid met die staatkundig demokratiese vertrekpunt gekombineer dat elke lidmaat proporsioneel verteenwoordig moet word. Dit is 'n nuwe soort Loedolff-benadering waar staatsdenke kerksake bepaal. Boonop is die getalle van 50 en 25 in 1962 en 2014 arbitrêr gekies. Hier is dus 'n kans verspeel om die NGK uit die pragmatiese vaarwaters te neem en konsekwent gereformeerd of Dordtsverantwoord te dink (vgl DKO, art. 41, 47, 50 in Pont 1981:180-182). Jonker se wens dat die DKO volledig deurwerk in die NGKO, kon 'n alternatief gewees het.

Steeds gerig op die agtergrond van die NGKO 1962 of inleidende vrae rondom die belydenis en orde van die kerk, blyk dat die DKO en die NGKO 1962 aansienlik verskil.

Belydenis en orde

Die DKO het een inleidende bepaling. Artikel 1 verklaar dat die goeie orde in die kerk vereis dat die ses hoofstuktemas of hoofsake in die DKO ordelik behandel sal word (Pont 1981:176). Die DKO voorsien dus 'n orde vir die goeie funksionering van hierdie sake in die kerk. Hoewel die artikel aan die orde van die kerk aandag gee, meld dit egter niks van die belydenis van die kerk nie. Hierdie toedrag van sake verraai waarskynlik iets van die impak van die aanvaarding deur dieselfde Sinode van die Dordtse Leerreëls as 'n belydenis en daarmee saam ook die Nederlandse Geloofsbelydenis en Heidelbergse Kategismus as die Drie Formuliere van Eenheid (De Jong 1987:188). 'n Verdere omskrywing hiervan deur die Sinode in die kerkorde was klaarblyklik onnodig (Strauss 2010:17).

Hierteenoor is die NGKO 1962 meer uitvoerig oor die Woord, die belydenis en die orde van die NGK. Die rede hiervoor is waarskynlik die eietydse omstandighede. Besinning oor die normatiewe aard van 'Skrif en belydenis' bly sedert 1962 'n aktuele kwessie op die agenda van die Algemene Sinode (Strauss 2013:50, 66, 89). Daarom gee die NGKO, artikel 1 duidelik blyke van 'n bewussyn van moderne kwessies oor Skrifbeskouing en die basis waarop die NGK sy belydenisse aanvaar. Die artikel het sedert 1962 onveranderd gebly as 'n kernagtige weergawe van die saak, maar weens sy bondigheid klaar dit skynbaar nie alle vrae op nie. Daarom is daar gereelde sinodale besinning oor die saak. Ironies en jammer genoeg word hierdie artikel nie in sinodale studiestukke en besluite oor Skrifbeskouing vermeld nie. As NGKO, artikel 1 bly dit immers 'n tweederdemeerderheid standpunt van die Algemene Sinode.

Volgens die NGKO, artikel 1 (NGKO 1962:2) is die NGK 'gegrond' op die Bybel as die onfeilbare Woord van God. Dit is 'n objektiewe waarheid, los van enige menslike interpretasie of aanvaarding. Hierdie oortuiging is gangbaar gereformeerd. Volgens die artikel word die leer van die kerk in die Drie Formuliere van Eenheid uitgedruk. Hiermee verwoord die NGKO 1962 die standpunt van die Algemene Sinode van 1998 (NGK 1998:414-415) dat hierdie geskrifte as 'n formulering van die 'gereformeerde geloofsoortuiging' aanvaar word omdat hulle hierin met die Woord ooreenstem. Die belydenisse dra dus gesag in 'n spesifieke saak, naamlik die formulering van die gereformeerde geloof. In hierdie opsig sluit die NGKO 1962 weer aan by die Dordtse Sinode van 1618-1619 wat die leer soos vervat of begrepe in die Drie Formuliere bely as in ooreenstemming met die Skrif (Donner & Van den Hoorn sa:325; Strauss 2006:657). Die 'enigheid' van die NGKO 1962 is 'n Nederlandse uitdrukking en in Afrikaans, 'n Nederlandisme vir eenheid.

NGKO 1962, artikel 2 stem saaklik met die DKO, artikel 1 ooreen. Hierin gaan dit om bepalings - in plaas van Dordt se ordelike behandeling - vir sake onder die ses hoofstukke van die NGKO. 'n Byvoeging in die NGKO 1962 is die verwysing na 1 Korintiërs 14:40, naamlik dat alles in die gemeente 'welvoeglik en ordelik' moet geskied (NGKO 1962:2; Pont 1981:176). NGKO 1962, artikel 2 is 'n vertaling van die GKN-KO 1959 se artikel 1. Daarin word 1 Korintiërs 14:40 net so gebruik (Nauta 1971:43).

Ampte of dienste?

Die DKO gee in artikel 2 tot 28 bepalings vir die 'dienste' in die kerk (Pont 1981:176-179). Hierteenoor praat die NGKO 1962 in artikel 3 tot 17 van die 'ampte van die kerk'. Die NGKO, artikel 3 noem die kerklike ampswerk egter ook dienswerk. Hoewel hy die DKO hierin dus nie woordeliks volg nie, doen hy dit tog saaklik.

Die DKO onderskei vier besondere dienste in die kerk, naamlik die bedienaars van die Woord, die ouderlinge, die diakens en die doctoren in die Teologie (Biesterveld & Kuyper 1905:225 e.v.). Oor hierdie saak kom die NGKO 1962 met 'n verruiming en 'n verryking. Anders as die DKO erken dit slegs die eerste drie ampte, maar met 'n byvoeging: 'Hierdie drie ampte is gelykwaardig, maar word in opdrag en werk onderskei' (NGKO 1962:2). Die uitdrukking 'opdrag en werk' word direk aan die GKN-KO 1959 ontleen (Nauta 1971:47). Hierby gee die NGKO ook die anti-hiërargiese, gereformeerde stelreël in die DKO, artikel 84 (Pont 1981:186), naamlik dat geen ampsdraer oor 'n ander heerskappy mag voer nie, omdat Christus 'die enigste Hoof, Koning en Meester van Sy kerk is' (NGKO 1962:2).

By implikasie gaan die NGKO 1962 met hierdie anti-hiërargiese reëling uit van Jonker se vertrekpunt, naamlik dat Chistusgesag Woordgesag is. Kortliks kom dit daarop neer dat gelowiges as ampsdraers op 'n gelyke voet saam na die Woord moet luister en mekaar hierin moet reghelp. Dit moet gedoen word sodat die Woord goed gehoor én gehoorsaam kan word (Strauss 2010:9). Gereformeerd én Dordts beskou is kerkregering altyd 'n regering deur ampsdraers 'in rade'. Daarom maak die NGKO 1962 daarvoor voorsiening dat slegs die besluite van erkende kerkvergaderings in die NGK (kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode) bindend op die betrokke lidmate is (NGKO 1962:5).

Ten opsigte van die 'predikambt' kom die DKO, artikel 8 met sy welbekende uitsondering dat gelowiges met singuliere gaven van godsaligheid, ootmoedigheid, sedigheid(?),'n goeie verstand en diskresie (let wel! - PJS) én welsprekendheid predikante kan word nadat hulle langs kerklike weë ondersoek en toegelaat is (Pont 1981:177). Die NGKO 1962 skep nie ruimte vir hierdie saak nie, maar in 2014 is die saak van sekere ouderlinge met 'n beperkte opleiding as Woordverkondigers in klein gemeentes wat nie 'n predikant kan bekostig nie, aan die orde van die dag (Vgl. ASR 2014:9).

Tipies Dordts bepaal die NGKO 1962 ook dat die roeping tot 'n kerklike amp of diens nie net 'n saak is vir die individu wat geroep word nie. Die kerk is bepalend by die opleiding, eksaminering, toelating, beroeping en bevestiging van so 'n persoon betrokke. Die kerklike instansies wat die DKO en die NGKO 1962 daarvoor aanwys, verskil wel, maar die beginsel van die kerk wat vir 'n kerklike amp of diens oplei, beroep en bevestig, word deur albei erken en gehandhaaf (Pont 1981:176-179; NGKO 1962:2-4).

Die DKO taak die ouderling vir die opsig in die gemeente, toesig oor die ander ampsdraers om hulle pligte na te kom, huisbesoek, troos en onderwysing voor en na die nagmaal van gemeentelede en om ander na die Christelike godsdiens te lei (Pont 1981:170). Die NGKO 1962 loop tot 'n groot mate dieselfde spore deur te bepaal dat die ouderling regering, opsig en tug in die gemeente uitoefen, waak oor die suiwerheid van die leer, huisbesoek doen en ander na Christus lei (NGKO 1962:4). By albei vervul die ouderling die koningsrol namens Christus as die ewige Koning in die gemeente. Hulle take stem opvallend ooreen.

Volgens die DKO moet die diakens die aalmoezen en armengoedere vir behoeftige lidmate en nie-lidmate versamel, dit met diskresie uitdeel, die benauwden of beproefdes besoek en vertroos en hieroor aan die kerkraad en gemeente verslag doen (Pont 1981:179). Hulle tree dus priesterlik of opofferend teenoor alle mense in nood op. Die NGKO 1962 kies die insameling van die middele vir die 'diakonale werk', die opheffing, vertroosting en ondersteuning van hulle 'wat in een of ander opsig barmhartigheidsdiens' nodig het en die organisering en/of insameling van die liefdesgawes vir die instandhouding van die erediens as die take van diakens (NGKO 1962:4). Die NGKO 1962 loop Dordtse spore en beskou die diaken as 'n opofferende, noodlenigende priester.

Die NGKO 1962 se instandhouding van die erediens is 'n tipiese hedendaagse behoefte van die NGK. 'n Behoefte wat skynbaar nie direkte grond in die DKO vind nie.

Die vergaderings van die kerk

Daar is reeds op die verskille tussen die DKO en die NGKO 1962 ten opsigte van sinodes gewys. Tog is daar ook duidelike ooreenkomste. Hierdie ooreenkomste kom veral by die algemene beginsels vir kerkvergaderings voor.

Die DKO maak gewag van 'vierderlei kerkelijke samenkomsten': die kerkraad, klassis, partikuliere en generale of nasionale sinode (Pont 1981:179). Op sy beurt noem die NGKO 1962 'vier gewone kerklike vergaderinge': die kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode. Volgens die NGKO 1962 is die besluite van hierdie vergaderings bindend, hoewel dit 'vatbaar' is vir 'n beroep en 'n appél) na 'n 'meerdere vergadering' (NGKO 1962:5).3

Die NGKO 1962 sit die NGK-tradisie voort waarin die tradisionele klassis by die eerste Sinode (1824) herdoop is tot die ring. Volgens die Algemene Reglement van 1816 van die Nederlandse Hervormde Kerk kon 'n klassis vir sekere werksaamhede in ringe onderverdeel word. Die NGK het egter die naam klassis met ring vervang (NGK in ZA 1824:7). Soos ander kerkordelike name in die NGK kan hierdie naam na die Nederlandse Hervormde Kerk teruggevoer word (vgl Strauss 1995:426-432). Omdat 'Algemene Sinode' 'n eie naam vir die betrokke vergadering is, word dit met hoofletters geskryf. Die uitdrukking 'meerdere vergadering' is op sy beurt 'n aanvaarde gebruik in die gereformeerde kerkreg. Dit dui op meer gemeentes wat verteenwoordig is in die betrokke vergadering en nie op 'n vergadering met meer gesag nie: op die uitwaaiering van vergaderings naas die kerkraad in die kerkverband. Dit is vergaderings wat die kerkraad komplementeer met 'n gelyke waarde op 'n gelyke vlak, maar 'n eie terrein. Dit is vergaderings, so bepaal die NGKO 1962 op die spoor van die GKN-KO 1959, wat met 'n van Christusverleende gesag (op en met die gesag van Christus) op sy eie terrein optree. Die woorde 'met 'n van Christusverleende gesag' is 'n bewoording uit die Nederlandse Neo-Calvinistiese Wysbegeerte van die twintigste eeu wat die hoogbloei van sy invloed op die NGK in die 1960s gehad het (Strauss 2008:240-242).

Ten opsigte van die algemene beginsels vir kerkvergaderinge neem die NGKO 1962 drie bepalings van die DKO oor.

Op die eerste beginsel is reeds gewys, naamlik dat die gesag van die ring oor die kerkraad dieselfde is as dié van die sinode oor die ring en die Algemene Sinode oor die sinode. Gesag dui hier op die hantering van appèlle teen die besluite van 'n vergadering na die volgende vergadering en beslissingsbevoegdheid oor sake op sy terrein wat homself en die mindere vergaderings in sy gebied bind. So kan die Algemene Sinode oor homoseksualiteit besluit - dit lê op sy terrein - en hy bind die NG Kerkverband. Die besluit van die Vrystaatse Sinode oor gesamentlike sending in Witzieshoek, bind dus al die gemeentes in sy gebied (Pont 1981:180; NGKO 1962:5).

In die tweede algemene beginsel bepaal die DKO dat meerdere vergaderings alleen sake hanteer wat daar tuishoort, of wat nie op 'n mindere vergadering afgehandel kon word nie. Die NGKO 1962 val hierby in, maar voeg by: 'wat daarheen verwys is deur mindere vergaderings' (Pont 1981:179; NGKO 1962:5). Hierdie frase is waarskynlik nie in die DKO opgeneem nie, omdat so 'n neiging tot die onmondigheid van mindere vergaderings kan lei en tot die ongesonde neiging by sulke vergaderings om gekompliseerde kwessies te omseil en te verwys.

Die derde algemene stelreël wat die NGKO 1962 by die DKO oorneem, is dat kerkvergaderings 'alleen kerklike sake en wel op kerklike wyse' hanteer. Dit is 'n ou bepaling wat uit die sestiende-eeuse kerkordes van gereformeerde Nederland kom (Strauss 2010:58). Die doel hiervan is om te verhoed dat die kerk sy eintlike roeping mis en 'n nie-kerklike belange- of drukgroep in die gemeenskap word, en dat die kerk 'n onkerklike agenda en styl met 'n optrede aanvaar wat nie by die kerk as 'n geloofsinstelling in die samelewing pas nie. Hierdie kwessie bly 'n aktuele saak - vir alle tye.

Vanuit hierdie beginsels bepaal sowel die DKO as die NGKO 1962 wat die verskillende vergaderings moet hanteer. Die uitsondering is die kerkraad. Die DKO bepaal niks hieroor nie en die NGKO 1962 bepaal by die take van hierdie vergadering net 'elke gemeente het 'n kerkraad aan wie die opsig oor, die regering van en die tug oor die gemeente toevertrou is'. Die NGKO 1962 verduidelik nie breedvoerig wat hierdie regering van die gemeente behels nie. Hierdie verskynsel spruit uit die vertrekpunt dat die gemeente volledig kerk is en dat die kerkraad daarom aan alle kerklike sake aandag moet gee. Deur sy toetreding tot die kerkverband het die kerkraad namens die gemeente egter toegestem dat daardie sake wat die kerkorde aan sy meerdere vergaderings toewys, slegs deur die betrokke vergadering afgehandel of gefinaliseer moet word. Die kerkraad kan alle kerklike sake hanteer, maar nie alle sake afhandel nie (Strauss 2008:245).

By die klassis of ring staan kerkvisitasie of die behartiging deur die klassis of ring van die welsyn van die gemeentes of genabuurde kerken (DKO; Pont 1981:181) binne sy terrein, voorop. Daar is reeds na die DKO en die NGKO 1962 se doel vir die partikuliere sinodes (DKO) of sinodes (NGKO 1962) verwys. By die DKO gaan dit veral om zwarigheden of daarheen verwysde sake deur die klasses en by die NGKO 1962 gaan dit oor die gesamentlike werksaamhede van die gemeentes in sy gebied (Pont 1981:182; NGKO 1962:6). Hoewel die DKO geen aanduiding gee van watter sake die nasionale sinode moet hanteer nie, was die destydse praktyk op algemene, belydenis- en kerkordelike sake afgestem. Dieselfde soort opdragte kom vir die Algemene Sinode in artikel 43 van die NGKO 1962 voor (Pont 1981:182; NGKO 1962:9).

Met die opskrif van hierdie artikel, 'Die NGKO 1962: Die DKO aangepas by die eise van ons dag?', in die agterkop, kan daar ook na die DKO en die NGKO 1962 se hantering van die arbeid van die kerk en die kerklike tug gekyk word.

Die arbeid en tug van die kerk

Die NGKO 1962(:9) bepaal dat die Algemene Sinode naas die belydenisskrifte, die kerkorde en die formuliere ook oor die liturgiese gebruike in gemeentes besluit. Artikel 48 van die NGKO 1962 reël die openbare erediens. Hierdie artikel noem die erediens 'n ontmoeting tussen God en die gemeente onder leiding van die 'besondere' ampte. Leiding geskied deur die bediening van die Woord en sakramente en met gepaardgaande gebed, die kerklied en offergawes. Kerkrade se besluit oor die gebruik van die amptelike Afrikaanse Bybel, liturgiese orde, Psalm- en Gesangeboek en liturgiese formuliere in die erediens - alles word deur die Algemene Sinode bepaal. Hoewel die DKO nie hierdie take aan die Nasionale Sinode toeken nie, bepaal die DKO ook wat gemeentes in die erediens sing. Daarby bepaal die DKO preektye in die algemeen, lykpredikasies, asook bid- en feesdae (NGKO 1962:10; Pont 1981:182-184). Ten opsigte van die erediens gee sowel die DKO as die NGKO 1962 aan die Algemene Sinode 'n beleidmakende aandeel. Albei vertoon in die proses ook eietydse elemente soos hulle liederebundels. Waar die NGKO 1962 op die destydse Afrikaanse Bybelvertaling en Gesangeboek wys, praat die DKO van 'n bron vir die sing van die 150 Psalms in Nederlands, die tien gebooie, die Ons Vader, die twaalf artikels, en die lofsang van Maria, Sagarias en Simeon (Pont 1981:184).

Die Woordbediening en die sakramente

Die DKO bepaal dat die Heidelbergse Kategismus met sy 52 Sondagsafdelings in een jaar kortelijks in elke tweede diens op 'n Sondag uitgelê word. Hierteenoor bly die NGKO 1962 by die gebruik van die Kaapse Sinode uit die negentiende eeu dat daar twaalf Kategismuspreke jaarliks in die gemeente gelewer sal word. Dit voeg 'in volgorde' by (Pont 1981:184; NGKO 1962:10).4

By die bediening van die sakramente van die doop en die nagmaal bevat die DKO en die NGKO 1962 ooreenkomste oor 'n aantal hoofsake. Albei bepaal dat die doop in die erediens bedien moet word. Hulle stel hierdie bepaling nie eksplisiet by die nagmaal nie, maar praat daarvan as iets - dit word skynbaar veronderstel - wat in die gemeente (erediens?) plaasvind (Pont 1981:183; NGKO 1962:10). Albei veronderstel skynbaar dat die bediening van die sakramente 'n amptelike kerklike handeling is en daarom deur 'n ampsdraer plaasvind. Die DKO bepaal dat die bediening van die Woord en die gebruik van die betrokke formulier deel van die bediening van die sakramente is. Hiermee erken die DKO die gereformeerde waarheid dat die tekens van brood, wyn en water niksseggend is sonder die verduidelikende Woord en formulier. Die Woord en tekens word in die geloof ontvang en deur die Gees in die harte van die ontvangers aan die sakrament bevestig (Pont 1981:183; Strauss 2010:98).

Die DKO reël die viering van die nagmaal vir elke twee maande en die NGKO 1962 vir elke kwartaal. Die konstante of beginsel hieragter het hulle egter in gemeen: dit moet gereeld gebeur.

Kerklike tug

Oor die hoofsake van die kerklike tug loop die NGKO 1962 ook in die spore van die DKO. Albei beskryf die aard en doel van die tug as geestelik. Die DKO noem die 'Christelijke straf geestelijk' en nodig om die sondaar met die kerk en sy naaste te versoen en ergernis uit die gemeente te verwyder. Dit is noodsaaklik naas die burgerlike straf van die staat (Pont 1981:184). Die NGKO 1962 gee aan die kerklike opsig en tug 'n geestelike karakter wat die 'toon' van die burgerlike regspleging moet vermy. Dit is op die eer van God, die heil van die kerk en die behoud van die sondaar gerig (NGKO 1962:12).

In sowel die DKO as die NGKO 1962 strek die kerklike tug oor die hele lewenswandel, die leer en lewe, van die lidmate. Die DKO omskryf dit as 'de zuiverheid der leer, of vromigheid des wandels'. Die NGKO 1962 verkort dit na die 'hele lewenswandel', 'n saak wat hy later, wanneer hy bepaal watter soort oortreding voor 'n kerkvergadering gebring kan word, uitbrei na 'valse leerstellinge en openbare ergerlike gedrag'. Dit impliseer dat sommige sondetjies eenvoudig te 'klein' is vir 'n amptelike kerklike ondersoek. 'n Onboetvaardige houding by die bewese oortreder kan dit egter verander. Daarom maak albei 'n duidelike onderskeid tussen openbare ergerlike sondes en geheime sondes. Laasgenoemde moet aan die hand van Matteus 18:15-16 hanteer word. Die konsekwente volging van hierdie stappe en 'n volhardende verset teen berou kan immers daartoe lei dat 'n 'geheime' sonde openbaar word.

Die DKO sowel as die NGKO 1962 handhaaf vermaning, sensuur en afsnyding van die kerk as geestelike tugmaatreëls. In die DKO moet ampsdraers wat na bewering oortree het, na die advies van twee naburige kerkrade beoordeel word. Wanneer daar 'n saak van 'n 'openbare, grove zonde' teen 'n ampsdraer is, moet afsetting as 'n moontlikheid eers aan die oordeel van die klassis voorgelê word. In die NGKO 1962 moet alle klagtes teen ampsdraers voor die ring dien. Albei oordeel skynbaar dat die kerkraad van die aangeklaagde nie in staat is om so onpartydig as 'n kerklike instansie buite die gemeente te wees nie. In sowel die DKO as die NGKO 1962 moet tug tot berou lei voordat dit opgehef kan word (Pont 1981:184-185; NGKO 1962:12-13).

Ten opsigte van die arbeid en die tug van die kerk is die NGKO 1962 dus ook 'n afstammeling van of verwant aan die DKO, aangepas by die eise van die dag.

Betrekkinge na buite

By die DKO en die NGKO 1962 is die betrekkinge na buite hoofsaaklik op twee sake gerig, naamlik die ekumeniese verhoudings met ander kerke en die verhouding met die eie staat of staatsowerheid. Die NGKO 1962 bepaal bykomstig die verhouding van die NGK tot die maatskappy en vrye vereniging. 'n Kerkorde kan in so 'n verhouding immers slegs die houding van die kerk teenoor die ander instansie bepaal en nie omgekeerd nie. Nie-kerklike instansies is nie aan die kerkorde onderwerpe nie, hoewel hulle van die meriete daarvan oortuig kan word.

Die DKO bevat net een artikel met ekumeniese implikasies. Artikel 85 bepaal dat die Gereformeerde Kerk in Nederland nie met kerke in die buiteland sal breek wat ander gebruike as hy in middelmatige sake het nie (Pont 1981:186). Die feit dat die artikel net na buitelandse kerke verwys, impliseer dat alle gereformeerdes in Nederland volgens die DKO in die Gereformeerde Kerk hoort omdat dit in hierdie land die ware kerk is, aldus die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 28. Hierin word bely dat elkeen verplig is om by die ware kerk aan te sluit (NGK-Uitgewers sa:28). Daarby impliseer die artikel dat die gereformeerde kerke in die wêreld die naaste kring rondom die Gereformeerde Kerk vorm. Vir die DKO loop ekumene langs die lyne van geloofsbelydenisse.

Die kwessie van ekumene word meer uitvoerig en eietyds in die NGKO 1962, artikel 70 uitgewerk (NGKO 1962:16; vgl Strauss 1992:76-77). Hierin word van samewerking met gereformeerde kerke in die binneland en 'n Christelike gemeenskap met gereformeerde kerke in die buiteland gepraat. Kontak met kerke van 'n 'algemeen Protestants-Christelike belydenis' word ook gesoek, maar hier eindig die ekumene van die NGKO 1962 (1962:16). Die invloed van die handhawing van die gereformeerde belydenis op hierdie bepalings - soos in die DKO - is onmiskenbaar.

Die verhouding kerk-staat of, in die DKO, van die Gereformeerde Kerk tot die Nederlandse owerheid, word in die DKO, artikel 28 bepaal in 'n situasie waar hierdie kerk 'n staatsbevoorrregte kerk is. Hier gaan dit om 'n erkende Christelike owerheid met 'n voorkeur vir die Gereformeerde Kerk. Volgens die DKO moet die 'Christelijke overheden' die 'kerkedienst' bevorder, die ampsdraers van die kerk in nood bystaan en hulle beskerm en vir hulle onderdane 'n voorbeeld wees in die hantering van die kerk. Van hulle kant moet die kerklike ampte die 'gansche gemeente' opskerp in gehoorsaamheid, liefde en eerbied vir die staatsowerheid of 'magistraten'. Kerkmense moet deur hulle respek te wek die guns van die owerhede teenoor die kerk behou (Pont 1981:179). Ten opsigte van die verhouding van kerk-staat leun die DKO op artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis van 1561. Dit geskied teen die agtergrond van 'n gemeenskaplike Calvinistiese samelewingsbeskouing (Strauss 2010:126). Daarmee dra die DKO ook die tekens van sy tyd.

In 'n ander tyd en situasie vanuit 'n Neo-Calvinistiese siening van die samelewing, kom die NGKO 1962 met 'n nuwe, uitgebreide bewoording. Die NGKO 1962 stel geen norm vir die staatsowerheid nie, omdat dit 'n orde vir die kerk is. Daarom begin die eerste vier van vyf bepalings elke keer met die woorde 'Die kerk is onderwerp hom aanvaar '. Volgens die NGKO 1962, artikel 65 onderwerp die NGK hom in sy deelname aan die 'regsverkeer en sy uitoefening van burgerlike regte' aan die wette van die staat solank dit nie met die Woord van God bots nie. Die NGKO 1962 aanvaar met 'dankbaarheid' die beskerming van die staat en die erkenning deur die owerheid van die kerk se reg op vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms. 'n Deel van hierdie vryheid in belydenis is die roeping van die kerk om die 'staat en die wêreld waarin hy bestaan', 'profeties en getuigend aan te spreek'. Tipies Neo-Calvinisties noem die NGKO 1962 die kerk 'selfstandig in eie bevoegdheid' of 'soewerein in eie kring'. Hierdie terme is in die Neo-Calvinistiese Wysbegeerte van Kuyper, Vollenhoven en Dooyeweerd van die laat negentiende en twintigste eeu in Nederland ontwikkel (Strauss 1993:13-15).

Die noue band tussen die NGK en die Nasionale Party-regering van die sestigerjare van die vorige eeu blyk ook uit sommige bewoordings van hierdie artikels. Behalwe dat die NGK dankbaar is vir die 'beskerming' van die staat, beloof hy om 'genoemde vryhede' nie te misbruik 'om die fondamente van die staatsgesag te ondergrawe of om wanorde op publiekregtelike terrein te veroorsaak nie' (NGKO 1962:14). Hierdie versekering aan die Regering in 1962 kom te midde van skerp kritiek wat wêreldwyd teen die Suid-Afrikaanse apartheidsbeleid losgebars het na die doodskiet van 69 swartmense by Sharpeville op 21 Maart 1960 en die noodtoestand wat daarop gevolg het. In so 'n situasie betuig die NGK wat in die veertigerjare met sy bybelse steun vir apartheid gekom het, sy solidariteit met sy eie owerheid onder druk (Strauss 2010:128). Die dankbaarheid vir staatsbeskerming en die weerstand teen publieke wanorde verraai 'n eietydsheid en 'n emosie wat normaalweg nie in 'n kerkorde voorkom nie.

Die eie aard van die kerk as 'n geloofsverband teenoor die staat as 'n regsverband word by implikasie in die DKO en eksplisiet in die NGKO 1962 gehandhaaf. Albei kom uit 'n Calvinisties gereformeerde dampkring en vertoon tekens van die eie tyd.

 

Slot

Vorster(1960) se waarneming dat die NGKO 1962 die DKO soos aangepas by die eise van ons dag is, is in die kol. Baie van die hooflyne van die DKO is in die NGKO 1962 gehandhaaf. Waar hierdie lyne nie net so gehandhaaf is nie, was dit ten minste lyne in dieselfde denktradisie, maar in 'n nuwe tyd. Ook die aanpassing van die hooflyne, byvoorbeeld oor die gesag van kerkvergaderings of die verhouding tussen die kerk en die staat, kom uit die Calvinisties-gereformeerde tradisie.

Die NGKO 1962 vertoon dus eietydse elemente in sowel sy hooflyne as sy voorbeelde.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Algemene Steunspan Regte, 2014, Notule.

ASR, kyk Algemene Steunspan Regte.

Biesterveld, P. & Kuyper, H.H., 1905, Kerkelijk handboekje, Kok, Kampen.         [ Links ]

Bouwman, H., 1985, Gereformeerd Kerkrecht, vol. 1, Kok, Kampen.         [ Links ]

De Jong, O., 1987, Geschiedenis der kerk, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Dreyer, A., 1936, Boustowwe vir die geskiedenis van die Nederduits-Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, deel 3, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Donner, J.H. & Van den Hoorn, S.A., s.a., Acta National Synode te Dordrecht, Donner, Leiden.         [ Links ]

Du Toit, H.D.A., 1959, 'Mooi kerkdae', Kerkbode, 15 July, p. 62-63.         [ Links ]

Du Toit, S.J., 1959, 'Belangrike nuwe ontgwikkeling in die N.G. Kerk: 'n Kerkorde aanvaar deur die Raad van die Kerke', Kerkblad, 26 Aug., p. 7, 11.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1995a, 'Die stem van ons lesers', Kerkblad, 16 Sept., p. 8.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1995b, 'Die stem van ons lesers', Kerkblad, 4 Nov., p. 11, 13.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1960, Die bevoegdheid van die streeksinodes van die nuwe konsep kerkorde, Nederduitse Gereformeerde Tydskrif (NGTT), Maart, 33-37.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1965, Om die regering van Christus in sy kerk, UNISA, Pretoria.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J., s.a., Die kerkregtel ike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika 1795-1962, s.n., s.l.         [ Links ]

Langner, D., 2007, Teen die hele wêreld vry - Koot Vorster, segsman of profeet?, Griffel, Pretoria.         [ Links ]

Loots, Z.B., s.a., Het die NG Kerk in Suid-Afrika 'n presbiteriale kerkregeringstelsel?, s.n., s.l.         [ Links ]

Nauta, D., 1971, Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland, Kok, Kampen.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1957, Handelinge Raad van Kerke, s.n., s.l.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1962, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n, s.l.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1998, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n, s.l.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2013, Kerkorde, s.n, s.l. (gebruik as NGKO 2013).         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Oranje Vrystaat, 1937, Wette en bepalinge, s.n., s.l.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika, 1824, 'Handelinge Algemeene Kerkvergadering' (KKAs 1/1).         [ Links ]

NGK, kyk Nederduitse Gereformeerde Kerk

NGKO, kyk NGK.

Pont, A.D., 1981, Historiese agtergronde van ons kerklike reg, dl. 1, HAUM, Pretoria.         [ Links ]

Pont, A.D., 1991, Historiese agtergronde van ons kerklike reg, dl. 2, HAUM, Pretoria.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1989, 'Geen kerk or 'n ander', Acta Theologica 9(1) 1-14.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1992, 'Die Nederduitse Gereformeerde Kerk se "ultimatum" van 1974. Op kerklike wyse?' Acta Academica 24(2), 67-78.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1993, Op die tweesprong? UV, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1995, 'Die aktuarius in die NG Kerk', Nederduitse Gereformeere Teologiese Tydskrif 36(3) 421-436.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2005, 'Watter sake hoort by meerdere vergaderings?' In die Skriflig 39(2), 293-310.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2006, 'Die Dordtse tradisie en binding aan die belydenis', In die Skriflig 40(4), 649-666.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2008, 'Die "kerklike gesag" van kerkvergaderings soos in die kerkorde van die Ned Geref Kerk', In die Skriflig 42(2), 239-252.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag: Met die klem op die NG Kerk, Sun Media, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2013, Kerkwees in die branding: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011, Sun Media, Bloemfontein.         [ Links ]

Van der Watt, P.B., 1973, Die Loedolff-saak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1862-1962, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Vorster, J.D., 1960, 'Die kerkorde vir die Ned Geref Kerke: Besware daarteen en betekenis daarvan', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT), September 1960, 12-18.         [ Links ]

Vorster, J.D., 1981, Die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die Kompanjie 1652-1795, 2e dr., NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Piet Strauss
straussp@ufs.ac.za

Received: 18 Apr. 2016
Accepted: 07 July 2016
Published: 19 Oct. 2016

 

 

1 In sy biografie oor J.D. Vorster toon D.J. Langner (2007:88) aan dat Vorster sedert 1953 die aktuarius van die Kaapse Sinode was en dat die 'Kaapse Wette en Bepalinge' onder sy leiding 'aan die hand van die Dordtse Kerkorde' hersien en by die Kaapse Sinode van 1957 as 'Bepalinge en Reglemente' goedgekeur is. Vorster dien vir 22 jaar as aktuarius van die Kaapse Sinode en vir 8 jaar (1962-1970) in dieselfde hoedanigheid by die Algemene Sinode.
2 Vergelyk die immergroen werk van Jonker (1965): Jonker (1965:6) maak 'n sterk saak daarvoor uit dat Christus as die Hoof van die kerk regeer wanneer sy Woord eerbiedig word. Christusgesag is Woordgesag. Jonker en Kleynhans word in hulle sienswyse van 'n kerkorde deur H Bouwman (1985:324-325) ondersteun. Hy verwys daarna as die 'hoofdbeginselen' vir die regering van die kerk soos in die Nuwe Testament en na die behoefte van die tyd en die omstandighede.
3 Die NGKO 1962 (5-10) gee aan elke vergadering 'n eie terrein vir besluite en werksaamhede, sodat genoemde appèl of beroep ook teen die terreinoorskryding van 'n vergadering kan handel. Die NGKO 1962 praat van meerdere vergaderings wat gelyk in waarde maar met 'n eie terrein uitwaaier soos wat meer gemeentes daarin saamgetrek word. Die gereformeerde meerdere vergadering wat uitwaaier soos in die DKO, verskil aansienlik van bepalings soos die bestuur en hoogste directie vir die Algemene Kerkvergadering in die Reglement van 1824 (Pont 1991:216-217).
4 Die NGKO (2013:13) kom met die vae en daarom impaklose bepaling 48.5 dat die Drie Formuliere van Eenheid 'deurentyd sistematies in die prediking aan die orde gestel word'.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License