SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 número1Resensies índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.50 no.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i1.2112 

BOOK REVIEW

 

'n Kragtige bydrae tot persoonlike geloofsvorming van kerklike leiers gemoeid met kerkgroei

 

 

Karel P. Steyn

Reformed Church, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Kragtige kerkgroei: Getuienisse en praktiese raad vir jou en jou gemeente

Book Cover:

 

 

Author: Dirkie van der Spuy

ISBN: 978-1-4316-1331-1

Publisher: Christelike, Uitgewersmaatskappy, 2015, R139.95*, *Book price at time of review

Review Title: 'n Kragtige bydrae tot persoonlike geloofsvorming van kerklike leiers gemoeid met kerkgroei

 

 

In Kragtige kerkgroei: Getuienisse en praktiese raad vir jou en jou gemeente, bied Van der Spuy en die mede-outeurs waardevolle raad aan elke kerkleier. Die doel van die publikasie word soos volg in die Voorwoord uitgedruk: 'Dit bevat waarhede wat ons kan help om ons lewensdoel hier op aarde te bereik en ons wedloop suksesvol te voltooi. Hierdie boek wil ons leer hoe ons ons lewensdoel kan ontdek en sinvol God se plan hier op aarde vir ons eie lewe en ook vir die kerk en die wêreld kan volbring.'

Die boek is in tien hoofstukke opgedeel wat grotendeels op die verskillende fasette van leierskap en persoonlike leierskapsontwikkeling vanuit 'n Christelike perspektief fokus. Elkeen van hierdie hoofstukke sluit af met 'n aantal besprekingsvrae wat persoonlik of deur die leierskorps van 'n plaaslike gemeente behandel kan word. Daar is ook heelwat persoonlike getuienisse deur die boek verweef wat die leser onder die indruk bring van die verskillende outeurs se ervaring van leierskap.

Alhoewel die titel van die boek Kragtige kerkgroei is, dui die bostaande doelstelling dat dit eerder oor die persoonlike ontwikkeling van kerkleiers handel. Omdat die doelstelling en die titel van die boek nie werklik korreleer nie, bestaan die moontlikheid dat dit nie aan die leser se verwagtings sal voldoen nie. Tipiese sake wat in die vakwetenskaplike area van gemeentebou hanteer en bespreek word, kom dus nie aan die orde nie.

Vanuit 'n gereformeerde, dogmatologiese en pneumatologiese vertrekpunt is daar 'n aantal sake wat aan die lig gebring moet word. Die eerste saak wat genoem kan word, is dat dit die veronderstelling van die outeur is dat alle gelowiges leiers is. Dit word veral duidelik in stellings soos die volgende: 'Tog roep die Here elke mens om iets in sy groot plan te doen ... as ons 'n taak het, is ons leiers, want ons kan die meeste dinge nie op ons eie doen nie' (bl. 13). Hierdie standpunt staan lynreg teenoor 'n gedeelte soos Romeine 12:6-8 waar leierskap in die konteks van Geestelike gawes geplaas word en dat hierdie Geestelike gawes van gelowige tot gelowige verskil. Dit mag wees dat die outeurs 'n spesifieke gehoor in gedagte gehad het met die skryf van die boek en dat hierdie groep slegs uit verskillende kerkleiers bestaan. Dit word egter nie spesifiek in die boek vermeld nie.

Tweedens word die stelling gemaak dat gelowiges, en kerkleiers in besonder, nie meer aan hulle sondes mag dink nie, omdat God hulle sondes vergewe het en nie meer daaraan wil dink nie (vgl. bl. 19). 'n Groot gedeelte van hoofstuk 1 word op hierdie stelling gebou. Dit is egter onduidelik wat presies met daarmee bedoel word. Dit kan óf geïnterpreteer word dat gelowiges nie meer hulleself as aangeklaagdes moet beskou nie óf dat gelowiges glad nie moet dink aan die sondes wat hulle vergewe is nie. Wat eersgenoemde betref, kan daarmee saamgestem word soos vanuit genoegsame Skrifgetuies dat Christus ten volle vir ons sondes betaal word (vgl. Rom 8:33-34). Laasgenoemde interpretasiemoontlikheid is egter in konflik met die gereformeerde belydenisskrifte (vgl. Heidelbergse Kategismus, Sondag 33 en 44).

Derdens word daar melding gemaak van 'God se droom' en dat leierskap die wyse is waarop hierdie transformasie moet plaasvind. Die konsep van 'God se droom' word in verband gebring met nood wat deur leiers wat deur God daartoe geroep is, hanteer moet word. Hoofstuk 2 bou dan voort op hierdie gedagte van transformasie deur leierskap om sodoende 'God se droom' te verwesenlik. Hierteenoor moet gevra word of noodverligting werklik God se 'droom' of doel is en of God se 'droom' of doel nie in gedeeltes soos Psalm 99:1 ('Die Here regeer: die volke erken bewend sy gesag') verwoord word nie.

Laastens, sommige van die medewerkers se Skrifgebruik sal, volgens die resensent, nie die toets van gereformeerde eksegese slaag nie. 'n Voorbeeld hiervan word in hoofstuk 3 gevind wat oor die woestynsiklusse van die lewe handel. Hosea 2:13-14 word hier gebruik as motivering vir die standpunt dat alle gelowiges deur beproewings gaan en dat elke beproewing 'n geleentheid vir persoonlike groei is. Hosea 2:13-14 gaan egter duidelik oor die ongehoorsaamheid en sonde van die volk. Op hierdie wyse word sonde (nié die gevolge daarvan nie) sowel as beproewings aan mekaar gelyk gestel en word albei in diens van God geplaas.

Afgesien van bogenoemde kritiekpunte, lewer hierdie bundel 'n belangrike bydrae tot die perspektiewe op die persoonlike ontwikkeling van kerkleiers. Dit is waarlik 'n kragtige bydrae tot persoonlike geloofsvorming van kerkleiers wat met kerkgroei gemoeid is.

 

 

Correspondence:
Karel Steyn
karelsteyn@gmail.com

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons