SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 número3The necessity of reckoning with metatheoretical assumptions in scientific practical-theological research índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.49 no.3 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v49i3.2066 

ORIGINAL RESEARCH

 

Redaksionele voorwoord

 

 

Gert Breed

Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

 

 

Hierdie feesbundel is 'n viering van die gawes en werk van professor George Lotter. Die massiewe omvang van Lotter se bydrae tot die studieveld van pastoraat is moeilik peilbaar. Iets van hierdie bydrae kan gesien word in die 91 studente wat hulle meesters- en doktorsgrade onder sy suksesvolle begeleiding verwerf het. Sestien studente wat hulle meestersgraad by hom gedoen het, het ook hulle doktorsgraad by hom voltooi. Hy het dikwels verder in sy studente belê deur saam met hulle wetenskaplike artikels te skryf. Baie van die 42 artikels uit sy pen het hy saam met sy studente geskryf. Op hierdie wyse het hy hulle begelei om ná hulle studies met publikasie voort te gaan. Ons is dankbaar dat hy hierdie werk na sy aftrede voortsit en sien uit na sy verdere bydraes.

Die tema van hierdie bundel 'Pastorale Teologie in SA: semper reformanda' wat deur Lotter self gekies is, weerspieël sy toewyding aan die gereformeerde teologie. Sy kritiese denke en soeke na uitnemendheid in die reformatoriese navorsing blyk ook duidelik uit die vele referate wat hy nasionaal en internasionaal gelewer het. Met reg kan na hom verwys word as 'n uitnemende navorser wat onwankelbaar by sy geloofsoortuigings gestaan het en sy navorsing daardeur laat rig het. Die pastoraat is egter nie net vir hom bloot 'n studieveld nie - sy pastorale aanslag kleur sy hele lewe. George Lotter volg in die voetspore van ons Here met sy ontferming oor en deernis vir die mense op sy pad. George was my mentor en raadgewer toe ek na 30 jaar in die bediening voluit die terrein van navorsing moes betree. Vele jong navorsers kan van sy waardevolle en onbaatsugtige hulp op soortgelyke wyse getuig.

Die artikels in hierdie bundel val binne die navorsingsveld van Praktiese Teologie en meer spesifiek binne die pastoraat waar Lotter sy grootste akademiese bydrae gelewer het:

Magezi E. Baloyi se artikel handel oor die pastorale versorging van bejaardes met spesifieke toepassing op swart Suid-Afrikaners. Hy beskryf die verskillende uitdagings wat bejaardes beleef en kom tot die slotsom dat dit die plig van pastorale versorgers is om riglyne te soek en te bied vir die rol wat die kerk kan speel ter verbetering van die lewensomstandighede van bejaardes.

Gert Breed beskryf die lewe voor die aangesig van God (coram Deo) soos dit in die Eksodusboek geopenbaar is. Die artikel kom tot die gevolgtrekking dat die bediening in gemeentes grootliks verryk kan word wanneer die gemeente doelbewus begelei en toegerus word om bewustelik voor die aangesig van God saam te kom, te dien en te leef.

Alfred Brunsdon ontwikkel aanwysings vir 'n positiewe pastoraal-narratiewe benadering wat op die ontwikkeling van wysheid gemik is. Die artikel poog om die verwysingsraamwerk van pastorale versorgers te verbreed deur binne 'n prakties-teologiese raamwerk uit die insigte van die positiewe sielkunde en die narratief te put.

Ben de Klerk se artikel handel oor die verhouding tussen pastorale sorg en liturgie asook die krag van rituele, en gee 'n oorsig oor die ritueel van skuldbelydenis en versoening. Die slotsom waartoe gekom word, is dat die kommunikatiewe handeling van skuldbelydenis en versoening as 'n selfstandige handeling in die liturgie van die gemeente 'n kragtige pastorale bediening vir die gemeente as 'n geheel en vir die lidmate afsonderlik kan wees.

In Wentzel C. Coetzer se artikel word die belangrikheid van kinders as volle lede van die geloofsgemeenskap (ook wat hulle emosies betref) beklemtoon. Die noodsaak van berading aan kinders word aangetoon. Die belangrikheid van die integrering van spiritualiteit en kreatiewe, ekspressiewe tegnieke en strategieë word ook uitgelig.

Rob Elkington, Darryl Meekins, Jennifer Breen en Suzanne Martin se artikel toon die belangrikheid van effektiewe leierskapsontwikkeling in die opleiding en voortgaande toerusting van leierskap in die kerke aan. Die skrywers bied 'n raamwerk vir leierskapsontwikkeling vanuit literatuur oor leierskap in die besigheidsektor en aangepas vir die kerklike bediening.

In Dion Forster en Johann Oostenbrink se artikel word gepoog om aan te toon dat 'n herontdekking van 'n teologie van werk belangrik is ten einde die kerk in die algemeen asook individuele Christene te bemagtig en toe te rus vir die bediening in die markplein. Die gevolgtrekking word gemaak dat die kerk die missionale of sendingsteologie moet heroorweeg, opnuut moet fokus op die uitreik na die breër gemeenskap en lidmate vir bediening in die markplein moet bemagtig en toerus. Sodoende sal die kerk getrou wees aan die medewerking met God in die missio Dei.

Johan Janse van Rensburg ondersoek die huidige konteks van die pastorale teologie. Aangesien epistemologiese keuses die metodiek en uitkoms van die pastoraat bepaal, is daar 'n dringende noodsaak om die epistemologiese invloede op die pastorale teologie te evalueer. Die artikel fokus op die epistemologiese dinamika wat die pastoraat verander het van 'n skriftuurlike fundering na 'n kommunikatiewe handelingsteoretiese en postmoderne narratiewe strategie.

Philippa Strong bespreek die belangrike vraag ten opsigte van die uitgangspunte van jeugbediening en die balans tussen teologies-begronde jeugbediening en jeugbediening wat ook voluit die kulturele situasie van jongmense in ag neem. Die artikel toon aan dat jeugbediening teologies begrond behoort te wees en tog kultureel relevant moet bly.

In Petria Theron se artikel word die uiterste noodsaaklikheid van die verdere ontwikkeling van dosente en studente in die Praktiese Teologie se vaardighede in empiriese navorsing beklemtoon. Daar word aangetoon dat 'n meer sistematiese benadering gevolg moet word tydens die kodering en die data-analisefase van kwalitatiewe navorsing. 'n Model vir die kodering en data-analise vir navorsing in Praktiese Teologie word ook voorgestel.

Die verskeidenheid onderwerpe wat in hierdie bundel hanteer word, reflekteer iets van die ryke genade wat George Lotter ontvang het en steeds voluit benut.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons