SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 número1Resensies índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.49 no.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v49i1.1961 

BOOK REVIEW

 

Kerk en teologiese opleiding in 'n post-Christelike wêreld

 

 

Rian Venter

Department Dogmatology, Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Kerk op een kruispunt: Kerken, werkers in de kerk en hun opleiding in de 21ste eeuw

Book Cover:

 

 

Author: Bronsveld, G. et al. (reds.)

ISBN: 978-90-5881-753-2

Publisher: Apeldoorn: Theological University, 2013, R132.22*

*Book price at time of review

Ingrypende kulturele verandering in die samelewing noodsaak kerke om ernstig oor hulle bediening en die opleiding van hulle leiers te besin. Hierdie bundel bevat voordragte van 'n simposium wat in 2013 deur die Nederlands Gereformeerde Predikantenopleiding saam met die Theologische Universiteit Apeldoorn gereël is en wat oor hierdie vraagstuk besin het.

Daar word kortliks op die drie hoof-akademiese referate gefokus. 'Postchristendom' is die noemer wat deurgaans gebruik word om die nuwe sosiale werklikheid te identifiseer. Sake Stoppels bied 'n interessante oorsig van wat hierdie oorgang impliseer en hy belig dit vanuit 'n gevallestudie in 'n Nederlandse dorp. Uit onderhoude en waarneming is dit duidelik dat die plaaslike PKN kerk nie net letterlik leegloop nie, maar dat inwoners van die dorp bykans totaal onbekend met die kerk is, en dit in elk geval glad nie vertrou nie. Stoppels verskil van ander waarnemers, naamlik dat die afname van geïnstitusionaliseerde godsdiens deur 'n nuwe belangstelling in spiritualiteit gebalanseer word; hy sien egter baie min tekens hiervan.

Robert Doornenbal hanteer in sy bydrae moontlike praktiese reaksies en lê veral klem op die Ou-Testamentiese wysheidsbegrip. Dit vra nie net 'n sensitiwiteit vir verandering en 'n gepaste reaksie nie, maar ook 'n antenna vir goddelike handeling in die situasie. Leierskap en die ontwikkeling daarvan is volgens hom die sleutel vir toekomstige optrede. Die kerk moet ook eerder as 'n beweging en as 'n projek verstaan word, en minder klem moet op institusionalisering en tradisie geplaas word. Tydens die opleiding moet besondere aandag aan geestelike vorming en missionale teologie gegee word.

'n Sistematies-teologiese benadering word deur Gerard den Hertog gebied. Hy is veral sensitief hoe die begrip antitese ingevul word. Daar moet teen isolering van die kultuur gewaak word. Juis omdat God in die geskiedenis aanwesig is, moet God se beweging in die kultuur van die samelewing erken word. Daar moet uitdruklik gevra word wat God se Gees deur die kultuur aan die kerk wil sê. Den Hertog lê terselfdertyd daarop klem dat die kerk na haar spesifieke eiesoortige taak moet vra. Die boodskap van die evangelie - dat Christus mense se lewens verander, en dat Hy 'n 'spoor trek deur die geskiedenis' - moet in die sentrum van die kerk se oriëntasie staan. In sy voorstel hoe teologiese opleiding benader moet word, keer hy weer na die hierdie aksent toe terug: teologie moet 'n oog ontwikkel 'voor het eigen spoor dat Christus in deze wereld trek' (p. 52).

Uit die drie hoofbydraes is dit duidelik waarmee die kerk in Nederland worstel en hoe daar in die algemeen gedink word. Die kerk in Suid-Afrika en teologiese opleiding staan ook voor talle eiesoortige veranderings en uitdagings. Hierdie bundel opstelle kan interessante leesstof wees veral vir teologiese dosente en predikante wat vir teologiese opleiding verantwoordelik is. Die akademiese gehalte van die opstelle wissel en geen besondere nuwe kennis word gegenereer nie. Die waarde van die boek lê waarskynlik daarin dat dit getuig dat die kerk in Nederland ernstig met verandering worstel en met 'n oop gemoed na wysheid vir die toekoms soek en getrou aan die evangelie wil wees.

Die vrae wat by die leser opkom, is of daar nie indringender oor die aard van sekularisasie gedink moet word nie, en 'n mens wonder hoe godsdiens-sosioloë daaroor dink. Die konvensionele sekularisasieteorie is al ingrypend deur navorsing verander. Die opstelle gee egter weinig blyke hiervan. Hoe kategorieë soos postmoderniteit en postsekularisasie op post-Christendom inspeel word ook nie ondersoek nie. Verder staan teologiese opleiding internasionaal in die branding, en baie en goeie stof verskyn hieroor. Weinig interaksie met die stand van navorsing vind egter in die bundel neerslag. Vrae oor byvoorbeeld die spesifiek teologiese aard van teologie opleiding, die fragmentering van teologiese dissiplines, missionale modelle van teologiese opleiding en die onderliggende epistemologiese aard van teologiese kennis word eenvoudig nie verreken nie. Ingrypende verandering vra interaksie met die denkarbeid van ander internasionale teoloë. Die teologiese antwoord op verandering en wat dit vir die aard van teologisering impliseer, is ook teleurstellend. Dat radikale sosiale verandering indringende hermeneutiese refleksie oor 'n nuwe verstaan van Transendensie en van menslike welwese vra, word nie behandel nie. 'n Mens kry deurgaans die indruk dat 'n afwesigheid van teologiese kreatiwiteit die opstelle kenmerk.

Ek beveel die lees van die bundel aan, maar met die voorbehoud dat my drie punte van kritiek in gedagte gehou moet word. Verder vra die konteks in Suid-Afrika 'n unieke kartering, 'n eiesoortige ekklesiologie en 'n nuwe benadering tot teologiese opleiding.

 

 

Correspondence:
Rian Venter
PO Box 43396
Bloemfontein, 9332
South Africa
Email: rventer@ufs.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons