SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 issue1Resensies author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.49 n.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4102/IDS.v49i1.1970 

BOOK REVIEW

 

Wees Jesus se hande en voete deur anders te dink en te leef as die wêreld

 

 

Rudy A. Denton

Faculty of Theology, North-West University, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Net soos Jesus: Wees Jesus se hande en voete in die wêreld

Book Cover:

 

 

Author: J. Smit

ISBN: 978-1-4316-0769-3, 2013

Publisher: Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2014, R124.00*

*Book price at time of review

Die tema van hierdie unieke publikasie, Net soos Jesus: Wees Jesus se hande en voete in die wêreld, leer en lei die leser om anders te dink en te leef as die wêreld. Die kernvraag van hierdie publikasie is of Jesus nog 'n impak op die denk- en leefwêreld van die mense van vandag het. Die outeur, Johan Smit, slaag inderdaad in sy doel met die publikasie om deur 38 bybelstudies 'n in-diepte verduideliking te gee van hoe mense anders dink, praat en optree wanneer hulle, in ooreenstemming met bepaalde Skrifgedeeltes, soos Jesus dink en leef. Die inhoud van elke studie word vanuit 'n koninkrykperspektief benader - 'n koninkryk wat naby gekom het soos deur Jesus uitgespel is. Deurentyd word die leser gemotiveer om Jesus as Koning te erken en om volgens die grondwet van sy koninkryk te lewe. Dit lei die leser tot selfondersoek. Verder inspireer en daag dit die leser uit om die grondwet van God se koninkryk as riglyn te aanvaar.

Elkeen van die 38 bybelstudies bespreek 'n bepaalde tema oor verskillende lewenspraktyke na aanleiding van Jesus se woorde en ander Skrifgedeeltes oor dieselfde tema. Die studies is in agt afdelings met verskillende temas verdeel: Die koninkryk het naby gekom; die Nuwe lewe in die koninkryk; Geloof en die koninkryk; Sleutelwoorde in die koninkryk; Nog sleutelwoorde; Gevare wat die koninkryk bedreig; Knelpunte in die koninkryk; en Verhoudings in die koninkryk.

By elkeen van hierdie studies kan die vraag gevra word: Wat sou Jesus doen?; of Wat het Jesus hieroor te sê? Die skrywer volg elke Skrifgedeelte op met vrae oor die onderwerp, sy eie besinning daaroor en 'n gedagte om oor na te dink.

Die publikasie is 'n unieke en handige bybelstudiegids en só geskryf dat gelowiges die inspirasie en uitdaging van die betrokke Skrifgedeeltes kan begryp. Die publikasie lewer 'n waardevolle bydrae tot die 'Ontdek en beleef'-bybelstudiereeks. Deur die oë en begeleiding van die outeur word gelowiges gelei en uitgedaag om Jesus se hande en voete in die wêreld te wees. Dit inspireer en moedig die leser aan om die uitdaging van selfondersoek te aanvaar en binne die koninkrykperspektief anders te dink en te leef as die wêreld - kortom, om Jesus se hande en voete in die wêreld te wees.

Net soos Jesus: Wees Jesus se hande en voete in die wêreld kan aanbeveel word vir persone wat dieper delf in die bestudering van die Bybel. Dit sal lesers toerus om op praktiese wyses te leef volgens Jesus se riglyne vir die koninkryk. Inderdaad 'n besondere versameling studies, ideaal vir sowel individuele as groepbybelstudie, in een publikasie saamgevat. Die skryfstyl is gemaklik, verstaanbaar en getuig van deeglike navorsing.

 

 

Correspondence:
Rudy A. Denton
PO Box 20015
Noordbrug, 2522
South Africa
Email: rudydenton@vodamail.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License