SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 número1Yahweh's 'lord' and Unrestrained Evil: An Exegesis of Psalm 110Focus on the world: The Keswick Convention and mission índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.49 no.1 Cape Town  2015

http://dx.doi.org/10.4102/IDS.V49I1.1956 

ORIGINAL RESEARCH
DOI:10.4102/IDS.V49I1.1956

 

'n Eeu van Gereformeerde jeugbeweging (1888-1988): 'n Histories-evaluerende verkenning

 

A century of Reformed youth movement (1888-1988): A historical-evaluative reconnaissance

 

 

Bennie J. van der Walt

School for Philosophy, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Vir 'n eeu (1888-1988) het daar 'n groeiende en florerende Gereformeerde jeugbeweging, die Jongeliedeverenigings op Gereformeerde grondslag (afgekort as JV), in Suid-Afrika bestaan. Hierdie min of meer onafhanklike beweging het 'n belangrike rol gespeel om by jongmense 'n Christelike lewensvisie tuis te bring en hulle daardeur te inspireer. Hierdie artikel begin met 'n motivering, waarna dit 'n kort historiese skets oor die ontstaan en ontwikkeling van die beweging bied gevolg deur 'n oorsig oor die bronne wat nog beskikbaar is en hieroor geraadpleeg kan word. Die volgende gedeelte van die artikel bevat twee gevallestudies. Die eerste bied 'n oorsig oor die breë spektrum van aktiwiteite van 'n spesifieke JV (nl. JV Gideon). Die spesifieke aktiwiteite van hierdie JV het dit in staat gestel om sy lede met 'n wye koninkryksperspektief toe te rus. In die tweede geval toon die bedrywighede van die Transvaalse Bond van JV's (bv. deur sy leierskampe en verdere publikasies) dieselfde omvattende formatiewe waarde. In die lig van die voorafgaande gegewens, kan die besluit van die sinode (1988) van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) om finaal die jeugwerk van die JV's te termineer en met kerklike jeugsorg te vervang, bevraagteken word. Die skrywer van hierdie artikel is van mening dat sowel kerklike jeugsorg as selfstandige jeugwerk elkeen 'n eie, unieke bydrae tot die vorming van Christelike jongmense kan maak en dus langs mekaar mag bestaan. In die lig van die steeds groeiende sekularisasie in die land word ten slotte die dringende noodsaaklikheid van iets soortgelyks aan die destydse JV's vir vandag beklemtoon.


ABSTRACT

For a century (1888-1988) a growing and flourishing Reformed youth movement, called the 'Jongeliedeverenigings op Gereformeerde grondslag' (abbreviated as JV) existed in South Africa. This more or less independent movement played an important role in shaping the Christian worldview of its members. This article starts with a motivation for this reflection; it then provides a brief historical sketch of the origin and development of the movement, followed by a review of the sources consulted. The next section of the article presents two case studies. Firstly, it provides an overview of the broad spectrum of the activities of a specific JV (viz. JV Gideon). Its activities enabled it to equip its members with a wide kingdom perspective. In the second case, activities (e.g. leadership camps and added publications) of the then 'Transvaalse Bond' (Alliance) testifies to the same encompassing formative power. In the light of the preceding information, the decision of the synod of the Reformed Churches of South Africa (1988) to terminate the JV's youth work to be replaced by the youth care of the churches is queried. The writer of this article is of the opinion that ecclesiastical care for its young members, as well as an independent youth movement, have a unique role to fulfil in the moulding and equipping of young Christians. It should therefore not exclude but rather complement each other. In the light of the growing secularisation in our country the conclusion emphasises the urgent need of re-establishing something similar to the erstwhile JV movement.


 

 

Motivering vir die ondersoek

Om ou koeie uit die sloot te grawe, is vandag nie juis populêr nie - vandaar die tweeledige motivering vir hierdie refleksie, naamlik 'n historiese en 'n meer sistematiese benadering.

Vanuit 'n historiese hoek beskou, is daar drie redes vir die besinning. In die eerste plek, behalwe vir flitse en fragmente (vgl. 'Historiese bronne nog beskikbaar' hieronder), is die breëre geskiedenis van die JV-beweging nog nie op skrif gestel nie.

Tweedens het navorsing aangetoon dat weinig historiese materiaal nog in kerklike argiewe beskikbaar is. Die skrywer se persoonlike argief (Van der Walt 1956-2014) bevat gelukkig nog 'n hele aantal bronne (vgl. weer 'Historiese bronne nog beskikbaar'). Heel waarskynlik is sy versameling bronne van die min versamelings wat behoue gebly het. Aan die een kant hou so 'n meer persoonlike weergawe die beperking in dat 'n mens hoofsaaklik deur jou eie oë en ervarings die geskiedenis beskryf. Aan die ander kant (onder andere as gevolg van 'n postmodernistiese wending) word sodanige individuele weergawes vandag naas die meer akademiese historiografieë wel ook as belangrik beskou en waardeer (vgl. Klep, Hoetink & Emons 2005). Historiografiese werk is vandag nie slegs toelaatbaar in die vorm van 'n objektiewe, maar dikwels droë akademiese relaas nie (bv. volgens 'n eenvoudige skema van oorsake en gevolge). Interessante gegewens wat tussendeur gevleg word, maak dit boeiender en dit is nie meer verbode nie - solank 'n deurlopende draad of argumentasielyn nie daarin ontbreek nie.

In die derde plek wil hierdie bydrae nie net by die verlede bly staan nie, maar ook daaruit vir die toekoms leer (vgl. die slotgedeelte).

Vanuit 'n sistematiese perspektief bekyk, toon die skrywer aan dat die JV-beweging breë en grondige Christelike lewensbeskoulike vorming in die lewens van talle jongmense tot gevolg gehad het (vgl. ''n Gevallestudie: JV Gideon gedurende 1959-1961' en 'Die werk van die Transvaalse Bond van JV's').

Die (prinsipiële) hipotese van waaruit hierdie ondersoek plaasvind, is die volgende: Hoewel min of meer selfstandige jeugwerk en kerklike jeugsorg belangrik is en dus naas mekaar kan bestaan (en selfs tot 'n mate mag oorvleuel), moet die twee tog duidelik van mekaar onderskei word. Die rede is omdat elkeen 'n eiesoortige aard het en elkeen 'n unieke taak in die vorming van Christelike jongmense behoort te vervul (vgl. 'Die JV-werk deur kerklike jeugsorg vervang' en 'Verdere besinning nodig').

Om die verwarring tussen jeugwerk en jeugsorg aan te toon, word eers 'n kort historiese oorsig oor die ontstaan en ontwikkeling van veral eersgenoemde verskaf.

 

Historiese agtergrond

'n Voëlvlug word eers oor die vroegste ontwikkelings in die Europese en Angel-Saksiese wêreld gemaak, waarna enkele grepe uit die latere geskiedenis in Suid-Afrika (1888-1988) gemaak word.

'n Kort historiese oorsig oor die Europees-Angel-Saksiese agtergrond

Heel waarskynlik is die ou, tweedelige standaardwerk van Knoppers (1931-1932) nog steeds een van die belangrikste bronne oor die geskiedenis van jeugwerk vanaf die vroeë ontstaan daarvan tot in die dertigerjare van die vorige eeu.

Verskillende soorte jeugwerk

Knoppers behandel in deel 2 onder andere die Protestantse jeugwerk in die algemeen, asook die Gereformeerde, Roomse, Joodse en Kommunistiese jeugwerk. In deel 1 van hierdie massiewe werk van byna 1100 bladsye, behandel hy inleidend ook die verskillende doelstellings waarop jeugwerk deur die geskiedenis gefokus het, byvoorbeeld seksuele, liggaamlike, geestelike, estetiese, politieke en sosiale opvoeding asook die rol wat die gesin, die kerk, die staat en die breë maatskappy daarin gespeel het.

Hieruit blyk duidelik dat jeugwerk vanaf die ontstaan daarvan nie tot die jeugsorg van verskillende kerklike denominasies beperk was nie. Die jeugbewegings wat alreeds aan die einde van die agtiende eeu ontstaan het, het ook geleidelik gegroei, sodat daar teen die helfte van die negentiende eeu (1855) reeds 'n Wereldbond ontstaan het wat nie net die Europees-Engelse nie, maar ook die Amerikaanse jeugaksies saamgesnoer het.

Gereformeerde jeugwerk

Die fokus val nou verder spesifiek op die Gereformeerd-Protestantse jeugwerk (vgl. ook Van der Walt 1962b:57-60). Die belangrike godsdienstige herlewing, die Réveil, gedurende die negentiende eeu (vgl. Kluit 1970 vir detail; en Van Dyke 2013 vir 'n kort oorsig met die name van die belangrikste leiers van die Réveil) was ook 'n stimulus tot die ontstaan van allerlei soorte jeugaksies in talle Europese lande. Reeds in 1853 is die eerste Jongelingsbond in Nederland gestig om die werk van die afsonderlike verenigings te koördineer.

In die lig van die sterk invloed wat die Duitse piëtisme en die Engels-Amerikaanse metodisme op die ontwaking van Christene gedurende die Réveil gehad het, was die jeugaksies aanvanklik dikwels sterk op die onderlinge stigting van die jeug in kerke (soortgelyk aan jeugsorg) gefokus, óf na buite op evangelisasie en sending gerig. Dit moet teen die agtergrond gesien word van pogings om 'n destydse verstarde en vervalle kerklike lewe van binne te verander.

'n Verskeidenheid selfstandige Calvinistiese organisasies

Die verdere verloop van die geskiedenis na die Réveil en veral die ontwikkeling van die Neo-Calvinisme daarna deur byvoorbeeld die bekende Abraham Kuyper (1837-1920), het tot die totstandkoming van talle selfstandige reformatoriese verenigings, organisasies en instellings gelei (vgl. Skillen & McCarthy 1991:229 e.v.).

Volgens die samelewingsbeginsel van soewereiniteit in eie kring (later in hierdie Calvinistiese tradisie die 'gedifferensieerde verantwoordelikheid van die verskillende samelewingsverbande', of ook 'strukturele en konfessionele pluralisme' genoem), het die verskillende Christelike aksies wat toe ontstaan het, 'n eie, spesifieke taak, roeping en bestaansreg in die omvattende koninkryk van God gehad. Christelikheid is nie tot die kerklike lewe beperk nie. Om op 'n gereformeerde grondslag te werk en aanspraak op 'n eie taak en selfstandigheid te maak, het dus nie beteken dat 'n organisasie buite die kerk in kompetisie met enige kerk wou wees nie. (Vir meer inligting oor die verskillende denkers i.v.m. sodanige reformatoriese samelewingsfilosofie, vgl. Skillen & McCarthy 1991; en vir 'n sistematiese uiteensetting, vgl. McCarthy et al. 1981; asook Van der Walt 2006:259 e.v.; 2010:410 e.v.)

Uitgangpunt vir hierdie ondersoek

Soos uit hierdie artikel blyk, bied so 'n samelewingsvisie ook die prinsipiële vertrekpunt vir 'n evaluering van die latere verloop van die JV-geskiedenis in Suid-Afrika. In die lig daarvan kan die vraag beantwoord word of kerklike jeugsorg alleen voldoende vorming vir die Christelike jeug kan bied. Is 'n selfstandige, Christelike jeugbeweging daarnaas nie ook belangrik om die jeug ten volle geestelik weerbaar te maak nie?

Eers 'n kort historiese blik op die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

'n Vlugtige Suid-Afrikaanse oorsig

Op 25 Oktober 1888 is in 'n kamertjie in Amsterdam, Nederland die eerste Bond van Jongeliedeverenigings op Gereformeerde grondslag gestig. Dit het spoedig as model vir sulke bewegings ook in Suid-Afrika en in ander lande gedien.

Doelstelling

Die doelstelling en grondslag van die Suid-Afrikaanse JV's was feitlik identies met dié van hulle Nederlandse voorgangers. Hulle amptelike doelstelling was volgens Van Maarleveld en Van der Walt (1964) die volgende:

Die JV stel hom ten doel om die jongmense in die geleentheid te stel om hulle onderling te oefen in alles wat kan bydrae tot die vorming wat hulle nodig het om hulle toekomstige roeping as lidmate van die kerk, burgers van die staat en lede van die maatskappy ooreenkomstig die eis van die Woord van God te vervul. (bl. 6)

Hierdie bron (Van Maarleveld & Van der Walt 1964:6 e.v.) bied vervolgens ook in twaalf punte 'n uiteensetting van wat hierdie doelstelling behels en verduidelik daarna ook wat met die woorde 'op Gereformeerde grondslag' bedoel word. Die bedoeling is naamlik dat die vorming in die lig van 'n gereformeerde belydenis, wat die Woord van God as grondslag aanvaar, moet geskied.

Noodsaaklik vir albei geslagte

Reeds in 1894 het die KJV (Christelike Jongelingsvereniging) Dient Elkander in Pretoria bestaan. In ongeveer dieselfde tyd het JV's ook in Venterstad en Steynsburg ontstaan. Soos die naam aandui, was dit aanvanklik 'n jongelingsbyeenkoms, dit wil sê net vir die manlike jeug.

Indien 'n mens deur die notuleboek van Dient Elkander van 1914-1915 blaai, vind jy dat onderwerpe soos die volgende bespreek is: 'Is het goed dat vrouwen stemreg hebben?' (15 Julie 1914); 'Is het wenslik om vrouwen stemreg te geven in de kerk?' (17 Februarie 1915); 'Welke gezelschap is leerzamer: met het mannelijk of het vrouwelijk geslacht?' (03 Maart 1915). (Dit is interessant dat hierdie KJV wat by die Nederlandse Bond aangesluit het, tog die kroning van koningin Wilhelmina van Nederland gevier het.)

Volgens oorlewering het die jongedogters egter nie op hulle laat wag nie: in Pretoria is spoedig 'n Jongedogtersvereniging met die naam, Thabita, gestig. Dit is vandag byna onbegryplik dat dit so 'n lang stryd was - waarvoor die plaaslike Gereformeerde kerkraad bowendien eers in 1923 toestemming moes gee - voordat die jongelingsvereniging omskep kon word in 'n jonge liedevereniging. Op die ou einde het daar slegs een voorwaarde oorgebly: Die jongedogters moes vir vergaderings deur die jongehere by hulle woonplekke opgelaai word en daarna weer veilig tuis besorg word. Die amptelike naam is ook na 'Jongeliedevereniging op Gereformeerde Grondslag Dient Elkander' verander. 'n Pluimpie vir die jongmense van destyds, omdat hulle met hierdie stap toe al die gelykwaardigheid van die twee geslagte erken het asook die noodsaaklikheid van Christelike lewensbeskoulike vorming vir albei geslagte.

 

Fokus op die aktuele van destyds

Voordat verder deur die geskiedenis gestap word, eers nog 'n paar voorbeelde waaroor die debatte by Dient Elkander 'n eeu gelede gevoer is. Oor sommige van die onderwerpe sou 'n mens vandag nog kon debatteer - niks nuuts onder die son nie!. Op 05 Augustus 1915 het 'Is doodstraf wenslik, of is die afskaffing daarvan beter?' aan die orde gekom en 'Mag lede van die J.V. lid van die Vrymesselaars word?' (11 Augustus 1915).

Sommige ander onderwerpe het vandag egter so antikwaries geword dat dit 'n mens laat glimlag. Op 'n sekere vergadering het die debat gegaan oor 'Is bioskoop zonde of niet?' en op 'n latere vergadering oor 'Is het zonde om op Zondag lekkernijen (sweets enz.) te kopen?' Die volgende gewigtige vraagstuk waaroor op 06 Januarie 1915) gedebatteer is, span dalk die kroon: 'Is het wenzelijk voor een Christelijk perzoon om naar de dieretuin te gaan? '

Ook al klink sulke onderwerpe vandag lagwekkend, moet 'n mens begryp dat hulle destyds aktueel was en deur daaroor te besin, is jongmense se denke geslyp.

 

Samewerking in verskillende bonde

Die verdere voetspore van die JV's word tot enkele bakens beperk. In April 1925 het die bestaande Transvaalse JV's in 'n Bond van JV's op Gg (Gereformeerde grondslag) in Transvaal verenig. In die daaropvolgende jaar (30 September 1926) het ook 'n Kaaplandse Bond tot stand gekom en op 20 April 1935 is 'n Vrystaatse Bond in die lewe geroep. Hierdie drie bonde het in 1940 in 'n Federale Raad vir die hele land verenig. Die Raad het egter om die een of ander rede binne 'n jaar ontbind. Eers in 1953 het daar weer uniale samewerking gekom, en nog later (1961) het die drie bonde 'n Federale Bond gesluit. In 1964 is daar ook in Natal 'n eie bond gebore.

 

Historiese bronne nog beskikbaar

Voordat een spesifieke JV se werksaamhede as 'n voorbeeld geneem word van aktiwiteite waarmee die JV's hulle na die totstandkoming van die verskillende Bonde besig gehou het, volg (puntsgewys en chronologies) 'n lysie van beskikbare, geraadpleegde bronne. Moontlike toekomstige navorsers sou daarvan gebruik kon maak indien hulle hierdie geskiedenis vollediger op skrif wil stel1:

  • Gedenkboek, 1925-1940 van die Bond van Jongeliedeverenigings op Gereformeerde grondslag in Transvaal (Taljaard & Kruger [reds.] 1940): Behalwe verskeie groeteboodskappe (ook uit Nederland), bevat die gedenkboek flitse oor die aktiwiteite van die verskillende Transvaalse JV's van destyds. Op bladsy 95 word die name van ongeveer 40 JV's genoem.
  • Handleiding vir die Jongeliedevereniging op Gereformeerde grondslag (Venter 1942): Aangesien hierdie publikasie nie 'n fees- of gedenkuitgawe was nie en 'n belangrike saak, naamlik die eie aard en selfstandigheid van die JV's bepleit het (vgl. ''n Kort historiese oorsig oor die Europees-Angel-Saksiese agtergrond' hierbo), word Venter (en die Sinode van die GKSA van destyds) se standpunt kortliks hier weergegee, sodat later (vgl. 'Die JV-werk deur kerklike jeugsorg vervang') verder daaroor besin kan word.

In sy inleiding sê Venter dat die Suid-Afrikaanse JV's geskoei was op dié wat in 1888 in Nederland saamgekom het. Hy verwys ook na die reeds genoemde werk van Knoppers (1931-1932), waaraan hy heelwat ontleenhet.

Venter (1942) maak 'n belangrike prinsipiële onderskeid tussen jeugsorg en jeugbeweging en toon aan dat die JV's tot laasgenoemde kategorie behoort en hy skryf:

Jeugsorg is belangstelling, arbeid, sorg, inisiatief wat uitgaan van die huis, kerk, staat en die maatskappy en as voorwerp het die ryper jeug, die jongmens. Jeugbeweging, aan die ander kant, wys op 'n inisiatief wat van die jongmense self uitgaan. Hier is die jongmens self die handelende persoon. Hy is nie die voorwerp nie, maar die onderwerp van die handeling. Ons het dus met twee duidelik onderskeie aksies te doen. Dit moet vir ons vasstaan. (bl. 3)

Verder skryf hy dat die jongmense by 'n jeugbeweging self hulle doel bepaal. Die JV's se doel is volgens hom voorbereiding en die vorming van die jongmens vir sy toekomstige roeping en taak op alle terreine van die lewe. Hier word jongmense nie meer (soos in jeugsorg) voorberei nie. Hulle doen dit hier self. Dit is selfwerksaamheid, wat vir die jongmens in sy spesifieke lewensfase onontbeerlik en enig van aard is (Venter 1942:4).

Soos sal blyk, is die presiese verhouding tussen die kerk en die JV egter blykbaar nooit finaal opgeklaar nie. Aanvanklik (by 'n konferensie in 1917) het, volgens Venter, die kerklike jeugsorgbeginsel nog oorheers. Eers in 1925 het enkele JV's in Transvaal bymekaar gekom en die eerste Bond gestig (Venter 1942:50).

Van die verdere bronne wat die skrywer van hierdie artikel nog tot sy beskikking gehad het, volg nou 'n kursoriese oorsig:

  • Gedenkboek, 1935-1945 van die Bond van JV's op Gereformeerde grondslag in die OVS (Liebenberg & Van Rooy [reds.] 1945). Behalwe verskillende groeteboodskappe (onder andere van dr J.D. du Toit en die Transvaalse Bond), bevat dit ook historiese gegewens oor 14 JV's in die Vrystaat.
  • Feesuitgawe, 1935-1965: Bond van JV's op Gereformeerde grondslag in die OVS ('n Spesiale uitgawe van Die Bondsbode). Ook hierdie uitgawe bevat, behalwe die gebruiklike groeteboodskappe uit verskillende oorde, historiese gegewens oor die verlede, nuus van die OVS Bond se werksaamhede, asook van die verskillende JV's.
  • Feesbundel: 'Die Here is my Banier' van die Bond van JV's op Gereformeerde grondslag in Transvaal, 1925-1965. (Van der Walt [red.] 1965a). Soos gewoonlik bevat dit groeteboodskappe - hierdie keer uit Australië, Noord-Amerika, Nederland, die Nederduitsch Hervormde Jeugvereniging, die Kaapse, Vrystaatse en Natalse Bonde en van die heel eerste Bondsvoorsitter van Transvaal, mnr. A.H. Rooseboom. Anders as die reeds genoemde feesbundels is daar ook artikels oor talle aktuele probleme wat op verskillende lewensterreine Christelik-lewensbeskoulike rigting bied.
  • Die Koninkryksroeping: Gedenkalbum, federale saamtrek, 24-27 Maart 1967 (Pretorius et al. [reds.] 1967). Behalwe verskeie groeteboodskappe, bevat dit die lesings wat by die federale saamtrek gegee is oor die jongmens se roeping op verskillende terreine van God se koninkryk.
  • Feeskongres Bond van JV's op Gereformeerde grondslag in Transvaal: 50e bestaansjaar, 1925-1975 (Van Wyk [red.) 1975]. Weereens bevat dit groeteboodskappe van die Federasie van Bonde van JV's, en die Bonde van Kaapland, Vrystaat en Transvaal. Daarna bied dit 'n oorsig deur 13 bondsvoorsitters wat gedurende verskillende periodes die leisels gehou het. Dit begin by 1894 en eindig by die periode 1972-1975. Die JV's in Transvaal het nou tot byna 100 verenigings gegroei (indien 'n mens op slegs 10 lede per JV sou reken, dus ongeveer 1000 jongmense).
  • Die Kaaplandse Bond van JV'S op Gereformeerde grondslag, 1926-1976, (Mulder [red.] 1976). Die geskiedenis word in 11 tydperke verdeel en elke bondsvoorsitter vertel iets daaroor. Die res van die bundel bevat flitse oor 11 JV's wat op daardie stadium tot die Kaaplandse Bond behoort het.
  • Die Bondsblad en Die Bondsbode: Die skrywer besit nog 'n aantal uitgawes van Die Bondsblad uit die dertigerjare. Blykbaar was die blad eers (vanaf sy ontstaan in 1926) die orgaan van die Transvaalse Bond, en het dit eers later (vanaf 1940?) die amptelike publikasie van al vier bonde geword. Die naam is toe ook na Die Bondsbode verander. Dalk nog meer as al die reeds genoemde publikasies bied dit belangrike historiese gegewens oor dit wat die lede van die JV's gelees het en die verskillende aktiwiteite waarmee die JV's oor die land hulle destyds besig gehou het - oor die groot vormende krag wat 'n Christelike jeugbeweging kan hê2.

By spesiale geleenthede het gedenkuitgawes van hierdie blad ook verskyn. In Die Bondsbode, (jg 11[86] Maart 1959) het in hierdie Eeufeesjaar van die GKSA byvoorbeeld verskeie artikels verskyn. Ook in 1975, by die vyftigjarige herdenking van die Transvaalse Bond, het daar weer 'n spesiale uitgawe van Die Bondsbode (72 p.) verskyn.

Verdere oorsigtelike (historiese) bydraes is dié van Duvenage (1955) en Buys (1959).

  • Die volgende publikasie behandel nie die JV-geskiedenis nie. As 'n omvattende handleiding (soortgelyk aan Venter 1942) vir alle JV-werk, bied dit egter 'n goeie beeld van wat die JV-werk destyds alles behels het. Dit is 'n bundel onder redaksie van Van Maarleveld en Van der Walt (1964) met die titel, Dit is die JV! Stippellyne by die JV-werk. Dit handel oor die doel en grondslag van die JV, die wapens en motto's van drie Bonde, die plaaslike JV se organisasie, vergaderings en programme, die organisasie van afdelings en die bond, jeugkampe asook 'n handleiding vir Junior (skoolgaande) JV's.

Behalwe al hierdie bronne, sal hieronder (vgl. 'Verskillende publikasies') nog enkele verdere publikasies genoem word wat na aanleiding van die leierskampe van die Transvaalse Bond die lig gesien het en verdere historiese materiaal bied.

 

'n Gevallestudie: JV Gideon gedurende 1959-1961

Die belangrikste oogmerk van hierdie ondersoek is om vas te stel presies wat die JV's se aktiwiteite destyds ingehou het. Dit stel 'n mens in staat om die vormende waarde van hierdie jeugwerk te bepaal en dit mag dan help met 'n antwoord op die belangrike vraag wat sover reeds verskeie kere opgeduik het, naamlik of so 'n jeugbeweging ook 'n eie bestaansreg het.

Omdat die skrywer persoonlik by JV Gideon betrokke was (een van die talle JV's wat destyds op Potchefstroom bestaan het),3 word dit as 'n gevallestudie gebruik. Gegewens oor hierdie JV se werksaamhede (tussen 1959 en 1961) is in die skrywer se persoonlike argief (Van der Walt 19562014) bewaar. Dit sluit verskillende items in soos (getikte) programme, notules asook gedrukte materiaal. Aangesien hierdie materiaal nog argivalies verwerk en geïndekseer moet word, word in die bespreking nie na (genommerde) individuele items verwys nie.

Die breë agenda van JV Gideon gedurende 1959

Die leser word genooi om saam na die sestigerjare terug te stap. Vyftig jaar na JV Dient Elkander (1915) het tye en omstandighede verander en dus ook die dinge wat destyds vir die jongmense van JV Gideon aktueel was. Vandag, weer 'n halwe eeu later, klink baie van die onderwerpe waarmee die jeug hulle destyds besig gehou het, weer antikwaries. Nogtans is dit duidelik dat daar by jongmense 'n wesenlike behoefte bestaan het om sääm oor eietydse vraagstukke te besin om daardeur hulle eie lewenskoers te kan bepaal.

Deur die aktiwiteite in besonderhede weer te gee, word aangetoon hoe hierdie JV gepoog het om omvattende vormingswerk vir sy naskoolse, reeds werkende en jong studerende lede te bied.

Gedurende die eerste semester van 1959 is buiten die gereelde Bybelstudie (deur verskillende JV-lede aangebied met samesang daarna) kort toesprake met bespreking daarna oor die gevare van rook, Bybelfilms en - let op - ook oor gemengde baaiery gehou. Ds. Beyers Naude (toe nog NG-predikant op Potchefstroom) het oor koshuislewe gepraat; 'n professor van die Puk oor die rassevraagstuk; en 'n debat is oor Volkspele gevoer (op 24 April 1959). (Moontlik 'n bietjie skynheilig, omdat baie van die JV-lede toegewyde volkspelers was.) Behalwe Calvyn het die kommunisme in Rusland ook die nodige aandag geniet.

Afgevaardigdes van die JV kon ook die eeufeesvierings van die GKSA (1859-1959) op Rustenburg bywoon.

Gedurende die tweede semester van 1959 (op 21 Augustus 1959), is JV Gideon se 15e bestaansjaar feestelik herdenk met die vertel van sy geskiedenis, voordragte, orrelspel en sang. Ander JV's (soos Rotsvas) is besoek; JV Klerksdorp het JV Gideon vir 'n Bybelvasvra uitgedaag en JV Mooirivier het teen die Gideoniete ringtennis, jukskei en tafeltennis gespeel.

Behalwe boekbesprekings het die volgende onderwerpe onder andere ook aan die orde gekom: Die godsdienste van die wêreld; Die verhouding tussen jongman en -dame (altyd aktueel); en Wat met die mens by die dood gebeur. Die jaar se werksaamhede is met speletjies, 'n vleisbraai en daarna 'n filmvertoning in die eerste Gereformeerde Kerkie op Potchefstroom (vandag 'n historiese monument) afgesluit.

Variasie van aktiwiteite gedurende 1960

Ook die program van die eerste semester van 1960 het 'n wye verskeidenheid onderwerpe op kerklike, sosiale en politieke terrein gebied. Voorbeelde hiervan is oor sendingwerk, sektes, alkoholisme en doodstraf, 'n debat oor die vraag of die moderne mens te besig is, oor die natuurwetenskappe, oor wat sal gebeur wanneer Suid-Afrika 'n Republiek word,oor groot volksfigure soos die staatsman Paul Kruger, die beeldhouer Coert Steynberg en die digter NP van Wyk Louw. Die jongste uitgawe van Die Bondsbode of een of ander belangrike boek is ook gereeld bespreek.

Dit is opmerklik dat die belangrike sosiale faset van jonkwees nie verwaarloos is nie. Saterdagmiddae is byvoorbeeld gereeld ring- en tafeltennis gespeel. Selfs tydens vakansies is informele byeenkomste aan huise van lede gehou. Gedurende die Kerstyd het die JV-lede hulle ouers en bejaarde kerklidmate met 'n serenade verras. Die Uniale Kongres en die jaarlikse kamp op JV-eiland naby Parys het ook vormingservarings van uiteenlopende aard gebied.

Ander fasette wat gedurende die tweede helfte van hierdie jaar opgeduik het, was kort toesprake oor die moderne beeldende en literêre kunste en musiek, 'n gespreksreeks oor wêreldgebeure, 'n besoek aan die plaaslike KJV (die Kerkjeugvereniging van die NG Kerk), nuusflitse oor die jeugaksies in Nederland en die VSA, gesprekke oor die omgang tussen die twee geslagte jongmense, die Christelike huisgesin en nog 'n leierskamp op JV-eiland (3-5 Sept.).

Die Gideoniete word toneelspelers

In 1960 het JV Gideon Die twisappel, 'n blyspel van W.A. de Klerk, op die planke gebring - nie net op Potchefstroom nie, maar ook in Johannesburg en Pretoria. Al die akteurs was lede van JV Gideon. 'n Jaar later (1961) het 'n tweede toneelopvoering, Die wildsboudjie, 'n blyspel van Fritz Steyn, gevolg.

Omdat nie net die toneelspelers by sulke projekte betrokke was nie (dit het heelwat beplanning en organisasie geverg), het dit onderlinge samewerking bevorder, estetiese waardering gestimuleer, vrymoedigheid om in die openbaar op te tree bevorder en ook die JV se beperkte finansiële inkomste uit jaarlikse ledegeld aangevul (die JV het nie finansiële steun van die plaaslike kerkraad ontvang nie).

Enkele flitse uit 1961

Uit die program vir 1961 blyk verder hoe belangrik gedrukte handleidings vir die JV-werk was. Op die spyskaart was daar dikwels 'n onderwerp uit My roeping 1 of uit My roeping 2, en later uit Meetsnoere vir die jeug.

Gedurende die apartheidsjare (op 08-09-1961) het ds. Simon Seadira, 'n swart predikant, die JV toegespreek. Die JV-lede het in 1962 'n vroeë mis by die plaaslike Rooms-Katolieke Kerk bygewoon - natuurlik met 'n bespreking daarna. Daar was ook 'n diens by die plaaslike swart Gereformeerde Gemeente van Ikageng op die program en 'n vraebus waarin lede hulle vrae kon plaas met die oog op moontlike onderwerpe vir bespreking.

Onderwerpe wat vandag nog net so aktueel is, het ook op die program verskyn soos die bedreiging van die (radikaler) Islam. Verder is daar deurentyd oor die JV se eie doel en werkswyse besin om meer jongmense te betrek en die werk effektiewer te kan doen. Dit blyk verder dat die JV nie bloot 'n serebrale vereniging was wat net vir die 'intellektueel' voedsel verskaf het nie. Daar was ook byeenkomste (meestal in die aande) vir speletjies, plate luister (daar was nog nie CD's nie), pannekoek bak, sang, vasvra, besoeke aan en van ander JV's en veldpieknieks.

Gevolgtrekkings

Aan die einde van hierdie oorsig oor JV Gideon se aktiwiteite oor 'n periode van drie jaar (1959-1961) kan die volgende konklusies gemaak word.

Eerstens het dit omvattende lewensbeskoulike vorming vanuit 'n Christelike perspektief gebied. Feitlik alle lewensterreine is op die een of ander stadium gedek deur verskillende aksies en onderwerpe wat destyds aktueel was.

Soos duidelik uit al die werksaamhede blyk, is vele fasette van jongmenswees geslyp, naamlik die fisies-biotiese (bv. verskillende soorte ontspanning en sport); die emosionele (in die vorming van die onderlinge verhoudings tussen die twee geslagte en mense van verskillende geaardhede, of die hantering van eie spanning om byvoorbeeld 'n lesing te kon aanbied); die logiese (om denkend oor vraagstukke van allerlei aard te besin); die linguale (om 'n mens se gedagtes duidelik te kan verwoord); die sosiale (wat voortdurende onderlinge samewerking vereis het); 'n historiese besef (deur bv. kennis te neem van belangrike figure en gebeurtenisse uit die verlede); die ekonomiese kant (om behalwe vir ledegeld ook vir groter uitgawes te beplan en daarvoor te werk); die estetiese (o.a. die bespreking van verskillende kunsvorms, asook toneelopvoerings); die juridiese faset (bv. deur lesings oor onpartydige geregtigheid in 'n tyd van apartheid); die morele (in verskeie onderwerpe oor die verhouding tussen die twee geslagte); ook 'n verdieping van die eie geloofslewe (deur o.a. gesamentlike Skrifstudie en sang).

Tweedens was die vorming intensief. Elke lid het 'n geleentheid gekry om op die een of ander wyse met 'n eie bydrae 'n 'vuurdoop' te ondergaan of 'n ander verantwoordelikheid te aanvaar.

In die derde plek het 'n buitestander net by uitsondering op die program verskyn. Bereidwillige lede het die geleentheid gekry om deur selfstandige nadenke, die raadpleging van bronne en vakkundiges, 'n Bybelstudieonderwerp of ander lesing aan te bied. Daarbenewens het die verskeidenheid ander verantwoordelikhede aan alle lede die geleenthede gebied om hulle talente te ontwikkel.

Vierdens was die program gebalanseerd in dié sin dat dit nie net vir serebrale, verstandelike vorming gesorg is nie, maar ook vir die sosiale en ander fasette van menswees. Daar is byvoorbeeld lewenslange geesgenootlike vriendskapsbande gesmee. Natuurlik is ook vir die amoreuse gesorg - baie lede het destyds hulle toekomstige lewensmaats by die JV ontmoet.

Laastens kon die jongmense hulle Christelike geloof werklik beleef - iets wat vandag baie belangrik geword het (vgl. Van der Stoep, Kuiper & Ramaker 2007).

Vanselfsprekend het al bogenoemde elemente nie by alle JV's gerealiseer nie. JV Gideon was in die bevoorregte posisie om op Potchefstroom reeds werkende lede, en ook 'n hele paar teologiese en ander studente as lede te hê. Nogtans dien hierdie JV as 'n voorbeeld van wat sodanige vereniging destyds vir jongmense se toerusting op pad na volwassenheid kon beteken.

 

Die werk van die Transvaalse Bond van Jongeliedeverenigings op Gereformeerde grondslag

Na die gevallestudie oor 'n spesifieke JV, word vervolgens die werk van die Bond van JV's vir die hele destydse Transvaal vlugtig bekyk.4 Dit het veel meer ingehou (o.a. leiding, voorligting en 'n jaarlikse kongres tydens die Paasnaweek), maar dit word kortheidshalwe hier net tot twee belangrike fasette beperk, naamlik leierskampe en publikasies.

Leierskampe as vormingsmiddel

Omdat die Bond van Transvaal (en ook die ander Bonde) besef het dat 'n vereniging soos die JV slegs met 'n goed toegeruste en geïnspireerde leierskorps kan floreer, is vroeg al leierskampe vir JV-bestuurslede aangebied. Vanaf die middel van die vyftigerjare het die Transvaalse Bond leierskampe op Sondagseiland (tot JV-Eiland herdoop) in die middel van die Vaalrivier naby Parys (gewoonlik gedurende die destydse langnaweek aan die begin van September) begin aanbied. Hierdie kampe het so gewild geword dat, na die sesde kamp op die eiland, afsonderlike kampe vir ander streke in Transvaal gereël moes word.

Die vormingswerk tydens sulke kampe was egter nie tot organisatoriese sake beperk nie. Die Christelike, lewensbeskoulike vorming van die JV-leiers het ook die nodige aandag ontvang. Dit blyk uit die inhoud van die volgende publikasies wat na afloop van die verskillende kampe verskyn het en dus ook vir 'n wyer leserskring as bloot die kampgangers beskikbaar gestel is.

Verskillende publikasies

Addisioneel tot 'historiese bronne nog beskikbaar', word hier 'n aantal kamppublikasies genoem.

Die tema van die lesings by die vyfde kamp het oor 'Die roeping van die Gereformeerde jeug in die huidige politieke konstellasie in Suid-Afrika' gehandel en is in 1960 onder die titel, Jeug en politiek, (Taljaard, Coetzee & Van Wyk de Vries 1960) gepubliseer.

Die sesde kamp (Sept. 1961) het oor verskillende aspekte van die JV se organisasie en werksprogram gehandel asook Skrifstudiewenke en is as Koers in ons JV-werk (Van der Walt 1961) uitgegee.

Aan die einde van 1962 het Perspektief in ons JV-werk, nr. 1 (Van der Walt 1962a) verskyn. Dit het die lesings van die sewende kamp op JV-eiland en die eerste kamp vir Noord-Transvaal te Marble Hall bevat.

Hierdie publikasie is deur Perspektief in ons JV-werk, nr 2 (Van der Walt 1963) opgevolg, wat die lesings van twee leierskampe, te wete te Tierpoort (vir Noord-Transvaal) en Meredale (vir die Rand, Suid- en Wes-Transvaal) bevat. Hierin lê die klem sterk op hoe die JV-werk in die praktyk aangepak kan word.

Die laaste uitgawe (nr. 3) in die Perspektief-reeks (Van der Walt 1965b) het in 1965 die lig gesien. Hierdie bundel bied, anders as sommige van die voriges, meer prinsipiële stof oor 'n Calvinistiese lewensvisie en die implikasies daarvan vir die verskillende lewensterreine.

Terugskouende evaluering

Sowel op die plaaslike JV-vlak as in wyer verbande is die skrywer nie netself deur die JV gevorm nie, maar hy kon ook die besondere slypingsproses van sy medejongmense van naby waarneem. Sy persoonlike indruk is dat dit op verskeie vlakke plaasgevind het.

Feitlik alle dimensies van menswees is aangeraak. Dit het gestrek vanaf die fisiese (ringtennis of pluimbal) en die biotiese (van die voorsiening van verversings by vergaderings tot by volledige etes tydens kongresse en kampe) tot by die geloofslewe (gesamentlike Bybelstudie, 'n diens tydens 'n kamp, of om saam kerk toe te gaan). Tussen die fisiek-biotiese en die geloofsaspek is die ander fasette van menswees ook vanuit 'n Christelike oriëntasie geslyp. Soos reeds genoem, sluit dit die ontplooiing van die emosionele, logiese, kulturele, linguale, sosiale, ekonomiese, estetiese, juridiese en morele fasette van menswees in. Dit is belangrik dat hierdie vormingswerk in groepsverband deur die jongmense self onderling plaasgevind het.

Onder mekaar kon hulle nie net hulle eie beperkings en gebreke nie, maar ook hulle talente en gawes ontdek en oefen, byvoorbeeld hulle organisasievermoë om 'n aksie te beplan, aan te bied en om te leer wat eie verantwoordelikheid beteken. Talle ander vaardighede is in die proses ontwikkel.

Van kardinale belang

Dat hierdie vorming in groepsverband deur jongmense self uiters belangrik vir die res van hulle lewe is, is reeds deur talle studies vanaf die vorige eeu aangetoon (vgl. die uitgebreide literatuurlys daarvoor in Van der Walt 2007c:41-46). Gedurende die verskillende lewensfases (vanaf die kindertyd, gedurende die adolessensie, by volwassenheid, in die middeljare en gedurende bejaardheid) bestaan daar groot verskille in 'n mens se geloof en lewensvisie.

Die lewenseisoen van die meeste jongmense wat lede van JV's was (tradisioneel die adolessensietyd genoem), staan algemeen bekend as 'n soekende periode. Antwoorde moet dan op baie lewensvrae gevind word. Kenmerkend egter is dat jongmense in hierdie fase baie krities ingestel is teenoor dit wat hulle van hulle ouers, onderwysers en ander ouer mense geleer het. Hulle wil self antwoorde vind en in die soeke daarna dikwels eerder na hulle eie leeftydsgroep luister. Vorming in groepsverband tussen medejongmense van dieselfde geloofsoortuiging lewer dus 'n onontbeerlike bydrae tot die ontwikkeling van gesonde volwassenheid.

Die nuutste navorsing wys selfs daarop dat die adolessensiejare deesdae (veral in die westerse wêreld) langer duur as in die verlede. Die Christelike psigiater, Van Belle (2012) onderskei daarom 'n nuwe lewensfase, ontluikende volwassenheid, tussen die adolessensie en volwassenheid. Twenge (2006) beskryf hierdie periode in detail. Albei toon aan dat wat gedurende hierdie soekende seisoen van die lewe gebeur, van deurslaggewende betekenis vir die res van 'n mens se lewe kan wees.

 

Die Jongeliedeverenigings op Gereformeerde grondslag -werk deur kerklike jeugsorg vervang

Soos uit Van Wyk (1975) blyk, het die Transvaalse Bond 'n besondere hoogtepunt bereik, toe dit tydens 'n kongres op Potchefstroom gedurende die Paasnaweek van 1975 sy vyftigjarige bestaan kon vier.

Dieselfde bundel bevat egter alreeds 'n voorbode van wat binne 'n dekade sou gebeur. Van Wyk (1975:6) verwys na die standpunt van die GKSA dat die JV 'n kerkie binne 'n kerk wou wees - presies wat die JV's self nie wou wees nie.

Slegs tien jaar later (GKSA 1985:519-520) het 'n ramp die hele JV-beweging getref. Die eeu lange onsekerheid oor die verhouding tussen die Gereformeerde Kerke en die JV-beweging het tot 'n punt gekom. By die daaropvolgende sinode (GKSA 1988:796-803) is besluit om die JV met die kerklike jeugsorg van elke afsonderlike gemeente te vervang.

'n Herhaling van die geskiedenis?

By 'n vroeëre sinodebesluit oor 'n georganiseerde vroue-organisasie het dieselfde problematiek heel waarskynlik 'n rol gespeel en die antwoord daarop het moontlik 'n presedent geskep waarvolgens die JV-saak later gehanteer is. Die verloop daarvan word daarom eers kortliks hier weergegee (vir die geskiedenis van die Gereformeerde Susters-organisasies vanaf 1918, vgl. Van der Merwe & Venter 1963:8, 9).

Geen onafhanklike sustersvereniging

Die sinodes van 1949, 1952 en 1955 het breedvoerig oor die voortbestaan van die Gereformeerde Sustersvereniging as vereniging gedebatteer. 'n Kommissie van die sinode het by die sinode van 1949 aanbeveel dat so 'n vereniging haar oop kerklike belydenisgrondslag mag stel en (as selfstandige liggaam) in vrywillige verband met die kerk kan tree. Die sinode self het egter besluit dat die susters alleen onder toesig van die plaaslike kerk mag funksioneer. Die sinode van 1952 het hierdie besluit herbevestig, naamlik dat die susters nie 'n onafhanklike vereniging met 'n eie statute en bestuur mag hê nie.

Beswaar aangeteken

By die sinode van 1958 het daar egter verskillende beswaarskrifte teen genoemde besluit en sy implikasies gedien. Die besluit het volgens die beswaardes (onbedoeld) daartoe gelei dat die GKSA in Roomse vaarwaters beland waarvolgens die kerk die hele lewe sou oorkoepel. Die roeping van vrouelidmate (en elke ander lidmaat) strek volgens die amp van die gelowige verder as die kerk as instituut. Vroue behoort dus self eie inisiatief te kan neem om 'n vereniging met 'n eie gesagstruktuur te bestuur.

Die kommissie wat die beswaarskrifte gehanteer en die sinode moes adviseer, het egter aanbeveel dat 'n selfstandige vroue-aksie nie in ooreenstemming met die belydenis en die kerkorde is nie, sodat die sinodebesluit 'dat die beginsel dat op kerklike erf geen verenigings bestaansreg het nie, onverswak gehandhaaf word' (GKSA 1958:288; 1961:453-454).Die implikasies was egter nie duidelik nie, sodat ook die Partikuliere Sinode van Wes-Transvaal later by die sinode vir 'n nadere verduideliking gevra het (vgl. ook Anon. 1964).

Verwarring

Die Gereformeerde susters het hierdie besluit intussen sodanig verstaan dat daar binne die kerk geen verenigings mag bestaan nie (dan word dit 'kerkies in die kerk'), maar buite die kerk mag dit wel bestaan. Daarom het hulle besluit om in ooreenstemming met die sinodebesluit, die Gereformeerde Susters-Oranisasie (GSO) te organiseer as 'n organisasie buite die kerk, maar steeds in 'n goeie verhouding met die plaaslike kerk (Van der Merwe & Venter 1963). Hulle wou op 'n veel breër terrein as net die kerklike werk en hulle amp as gelowiges op die verskillende lewensterreine uitleef. By die 1964-sinode het hulle 'n brief, vergesel van 'n konsepstatute en reglement ingedien met die versoek dat dit goedgekeur word. In die lig van die sinodebesluit van 1958 het die sinode egter nie daaraan gevolg gegee nie.

Te midde van die onduidelikheid het die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Noord intussen goeie prinsipiële leiding aan sy susters verskaf oor 'n te stigte, selfstandige Christelike Vrouevereniging naas die kerk, maar wat terselfdertyd nie die taak van die susters binne die kerk ophef nie. Daardie leiding is ook in die blad van die GSO gepubliseer (Taljaard 1963).

Die sinode het die 1958-besluit egter anders as die susters verstaan. Daarom het hy die bestaan van die GSO nie goedgekeur nie - ongeag of dit binne of buite die kerklike instituut wou funksioneer. Hierdie selfde verwarring het uiteindelik ook tot die ondergang van 'n selfstandige Gereformeerde jeugbeweging gelei. Daarop word nou kortliks gelet.

Die agtergrond en finale besluit van die sinode oor die JV

Omdat dit so 'n ingrypende besluit was, nie net vir die reeds honderdjarige JV-beweging nie, maar ook vir die GKSA, word die agtergrond en aanloop tot die finale besluit van 1988 hier kortliks weergegee. Die breedvoerige rapport van die Deputate vir Jeugsorg by die 1985-sinode (GKSA 1985:486-522) dien as bron. Die onderstaande aspekte word daarin vermeld.

Nog 'n duidelike onderskeid

Eers op die sinode van 1939 is besluit om jeugdeputate te benoem. Hulle het by die 1942-sinode gerapporteer en het 'n duidelike onderskeid tussen jeugwerk (deur die JV's) en kerklike jeugsorg getref. Tussen 1942 en 1955 het die betrokke deputate egter telkens gerapporteer dat daar 'nie veel aandag aan die uitbouing van kerklike jeugsorg gegee kan word nie'. By die sinode van 1961 is nie weer deputate vir jeugsorg benoem nie.

Erkenning vir die Jongeliedeverenigings op Gereformeerde grondslag -werk

Volgens die GKSA (1985) het die JV's vanaf 1961-1982 egter:

nog steeds voortgegaan om opbouende werk onder 'n deel van die jeug te verrig. Waar die jeug in groepe bearbei word, word die JV gesien as die vereniging wat die Gereformeerde kerkjeug versorg. (bl. 489-90).

In 1982 (GKSA 1982:613) word (na aanleiding van 'n beskrywingspunt) besluit om deputate te benoem om ''n studie te maak van die Gereformeerde beginsels van kerklike jeugsorg en die volgende sinode met praktiese lyne in dié verband te adviseer'. Hierdie deputate het drie jaar later (1985) met 'n lywige rapport gerapporteer.

Hierdie rapport beklemtoon opnuut dat jeugsorg 'n wesenlike taak van die GKSA is. Daar word ook erken dat 'daar tot nog toe geen gemeenskaplike aksie ten opsigte van jeugsorg bestaan het nie en in die meeste gemeentes nie voldoende aandag aan die eiesoortige behoeftes van die jeug gegee is nie' (GKSA 1985:507). Vir die doel van hierdie artikel is egter slegs die gedeelte van die rapport wat op die JV betrekking het nou ter sprake.

Daarin word vermeld dat die deputate met die voorsitter van een van die JV-bonde 'n gesprek gehad het oor die vraag:

'In watter mate word die JV se aktiwiteite as genoegsame kerklike versorging of as bykomende kerklike versorging van die kerkjeug gesien?' Die JV is 'n selfstandige Christelike vereniging wat naas die plaaslike kerk funksioneer en mag nie as iets kerkliks beskou word nie. Daarom mag die plaaslike kerke ook nie hulle verantwoordelikheid om die jeug op te voed op 'n nie-kerklike vereniging afskuif nie. Die praktiese situasie is egter dat daar nie in al die gemeentes 'n JV bestaan nie. Waar 'n JV wel bestaan, beskou die kerkrade dit gewoonlik as genoegsame aandag aan die kerkjeug (vgl. GKSA 1985:508).

Tot sover kan 'n mens alleen waardering hê vir hierdie rapport met sy groot klem op die belangrikheid van kerklike jeugsorg. Die huidige lesers sal egter verbaas staan oor die gevolgtrekkings wat daaruit gemaak is (GKSA 1985:508).

'n Moeilike verstaanbare besluit

Die besluit wat uit bogenoemde rapport voortgevloei het, lui soos volg:

Indien kerkrade vanaf die begin af die versorging van die kerklike jeug as 'n eiesoortige bedieningsvlak gesien het en die kerklike jeug as 'n groep daadwerklik versorg het, sou daar nie 'n behoefte vir die bestaan van die JV gewees het nie [kursivering bygevoeg].

Verder:

Die JV het in die verlede op besondere wyse die versorging van die jeug behartig, maar nou moet kerkrade hulle jeugsorg selfstandig doen. Op hierdie wyse behoort die JV as vereniging in die versorging van die kerkjeug deur die aktiewe bediening van die kerkrade vervang te word [kursivering bygevoeg].

Heelwat vrae sou hieroor gestel kon word. Hoe klop dit byvoorbeeld dat daar aan die een kant net die grootste waardering is vir wat die JV's 'n eeu lank vir die soms verwaarloosde kerkjeug beteken het, maar aan die ander kant moet hierdie werk nou gestaak word? So 'n besluit kan moontlik verklaar word indien 'n mens sou aanneem dat die deputate onbewus was van die duidelike verskil (volgens 'n reformatoriese samelewingsvisie) tussen kerklike jeugsorg en die eiesoortige werk van 'n selfstandige reformatoriese jeugbeweging soos die JV. Die feit dat die kerk sy eie verpligtings teenoor sy jong lidmate wou nakom, impliseer geensins dat dit hulle sou verplig om 'n Christelike jongmensvereniging op te skort nie. Die rapport bied ook geen motivering waarom dit noodwendig moes gebeur nie.

Die finale afloop

Uit die volgende kort rapport van die Deputate vir Jeugsorg (GKSA 1988:796-803) word die verdere verloop duidelik. Die deputate het gerapporteer dat daar ook gesprekke met van die ander JV-bonde gevoer is en dat hulle oorreed is om die besluit te aanvaar dat die JV's nie 'n eie bestaanreg sou hê nie. (Die Hoëveldse Bond van JV's is bv. reeds in Maart 1987 ontbind.)

Blykbaar was die JV's egter tog nie heeltemal oortuig dat dit die regte stap was nie, want in die rapport staan ook:

Indien die kerke jeugsorg tot sy volle konsekwensies deurvoer en dit bied wat die JV tans aan sy lede bied [kursivering bygevoeg] en dit kan geleenthede skep vir koördinering, opleiding en onderlinge skakeling, sal die behoefte aan 'n JV as aparte vereniging verdwyn. Intussen gaan die Bonde voort in afwagting van 'n groter konkretisering van kerklike jeugsorg - veral in groepsverband5.

Vir die sinode was die terminering van die JV egter 'n voldonge feit. Sy deputate het ten slotte die opdrag gekry om kerkrade van inligting te voorsien 'om die oorgang van die JV-bedeling na kerklike jeugsorg te vergemaklik' (GKSA 1988:802).

Die laaste woorde oor die JV's lees 'n mens in die volgende Handelinge van die Sinode (1991):

Die Sinode neem kennis van die brief wat die Deputate vir Jeugsorg aan kerkrade gerig het waarin gestel word 'dat die Sinode die oorgang nä die JV-bedeling as 'n geleidelike oorgang sien en dat dit eerder moet geskied langs die weg van die aktivering van kerklike jeugsorg, as dat dit 'n doelgerigte teenkanting teen die JV moet wees'. (bl. 458) [kursivering bygevoeg]

Vanaf die ontstaan van die JV tot by sy einde is die verwarring oor die bestaan al dan nie van 'n Christelike vereniging op gereformeerde grondslag buite die kerk dus nooit opgeklaar nie.

 

Verdere besinning nodig

Aangesien hierdie onsekerheid oor die JV ook gedurende die sestigerjare bestaan het, het die skrywer alreeds vantevore prinsipieel daaroor besin (Van der Walt 1962b:51-79). Op die volgende drie sake is in besonderhede ingegaan: Wat is die kerk?, Wat is die JV?, en Wat behoort die verhouding tussen hulle te wees? Vir hierdie besinning is talle bronne wat destyds beskikbaar was, geraadpleeg, insluitende lektuur wat destyds uit Nederland beskikbaar was, byvoorbeeld Van Riessen (1958; 1961), en Firet en Van Riessen (1960). Daaruit blyk duidelik dat jeugwerk uit die jeug, van die jeug en vir die jeug iets anders as kerklike jeuggroepe vir jeugsorg is en 'n eie bestaansreg het.

Die vraag waarvoor die geskiedenis 'n mens stel, is of die huidige situasie eenvoudig aanvaar moet word of - met die oog op die toekoms - verdere besinning daaroor belangrik is. Die skrywer verkies laasgenoemde. Aangesien die sinode nie 'n duidelike motivering gebied het waarom die JV's getermineer behoort te word nie, word vragenderwys vervolgens vyf moontlikhede ondersoek waarom dit moontlik kon gebeur het.

'n Ongelukkige verwarring?

Eerstens is 'n jeugaksie, soos dié wat van die JV's uitgegaan het, iets uit die jeug, in beheer van die jongmense en spesifiek vir hulle leeftyd en behoeftes bedoel. Kerklike jeugsorg gaan uit van die kerk, 'n kerkraad en veral die dominee. Hoeveel ruimte bestaan daar vir die eie inisiatief en die ontwikkeling van leierskap by die jongmense self? As gevolg van generasiegapings mag dit wat aangebied word, ook vir die jongmense aan aktualiteit te kort skiet.

Ongelukkig is dit juis op die breë terrein van die daaglikse lewe waar jeugsorg se vormende invloed in vergelyking met 'n jeugaksie versmal is. Die JV's se amptelike doel was immers om die jeug die geleentheid te bied om hulle onderling in alles te oefen wat tot die vorming kan bydra wat hulle nodig het om hulle roeping in die koninkryk van God te vervul (vgl. 'Doelstellings' hierbo).

Kompetisie of aanvulling?

Uit ''n Herhaling van die geskiedenis' en 'Die agtergrond van die finale besluit van die sinode oor die JV' wil dit lyk asof kerke dalk 'n bietjie jaloers op 'n volwasse vroueaksie en 'n selfstandige jeugaksie was. Daaragter mag egter 'n dieper rede skuil, naamlik die verkeerde idee dat die omvattende koninkryk van God en alles wat Christelik is tot die kerk beperk is en dat die kerk gevolglik daaroor toesig moet hê. Selfstandige Christelike inisiatief buite die kerk is waarskynlik daarom nie verwelkom nie.

Die vroulike lidmate en die jongmense wou egter nie in kompetisie met die kerk tree nie, maar aanvullend hulle eie roeping vervul. Indien daar dalk gereken is dat die JV's die jongmense van die kerk sou vervreem, was dit 'n foutiewe gedagte. Die JV het onder andere die jeug aangemoedig om meelewende kerklidmate te wees.

Gebrekkige prinsipiële denke?

Vervolgens kan die vraag dus gestel word of so 'n sinodebesluit nie prinsipieel verkeerd was nie. Soos reeds genoem, het jeugsorg (deur die gesin, skool, kerk, ens.) sowel as 'n jeugbeweging 'n eie bestaansreg. Dit is nie tipies van 'n reformatoriese lewensvisie en samelewingsbeskouing om te redeneer dat alles wat met Christelikheid te make het onder die kerk se toesig en beheer moet wees nie. Met so 'n redenasie sluit 'n mens, soos reeds gesê, God se koninkryk op binne die kerkmure. Christelike aksies buite die kerk moet eerder gestimuleer as gesmoor word.

Daar moet bygevoeg word dat sulke Christelike verenigings en instellings 'n eie taak en gesag het - die beginsel van soewereiniteit in eie kring of van gedifferensieerde verantwoordelikheid, is alreeds beklemtoon.

Volgens so 'n pluralistiese samelewingsvisie is dit prinsipieel ook onaanvaarbaar om van die standpunt uit te gaan dat, omdat die JV op die terrein van die koninkryk van God beweeg, dit onder kerklike toesig moet geskied (vgl. Breed 2009:110). Dit bevestig bloot wat alreeds gesê is, naamlik dat die kerk dan sy institusionele grense oorskry en die veel omvattender koninkryk van God inpalm.

Ook die argument dat die JV onder kerklike toesig sou hoort omdat dit op 'n Gereformeerde grondslag wil staan, hou volgens dieselfde samelewingsbeskouing nie water nie. Om op 'n reformatoriese belydenis of credo te werk, is die voorreg van enige Christelike organisasie of instelling met 'n gereformeerde oriëntasie en behoort nie as die monopolie van 'n kerk alleen beskou te word nie.

Swak opvoedkundige insig?

Die sinodebesluite was, opvoedkundig beskou, heel waarskynlik swak besluite. Op die voorafgaande bladsye is in besonderhede oor die JV-werk geskryf ten einde die intensiewe en omvattende vormingswaarde daarvan te bewys. Hierdie vormende waarde kan alleen effektief in die groepsverbande van die jongmense self plaasvind.

Die gesin, skool, kerk, en so meer kan 'n Christelike lewensvisie en -wandel aan die jongmense oordra, maar hulle moet dit self verwerk en hulle eie maak. Tipies van hierdie belangrike adolessente lewensfase is immers die begeerte om sake selfstandig en krities te oordink en tot 'n eie oordeel te kom (vgl. 'Van kardinale belang').

Firet en Van Riessen (1960) het destyds al daarop gewys dat die onvervangbare waarde van jeugwerk juis daarin bestaan dat dit in groepsverband, deur selfbestuur en selfwerksaamheid plaasvind en só 'n unieke vormingswyse is wat deur geen ander instansie gebied kan word nie. Jeugwerk mag nie met kategetiese onderwys of kerklike jeugsorg verwar of vereenselwig word nie.

Samehangend met die vorige punt word die volgende vraag gestel.

Onvoldoende historiese bewustheid?

Moontlik het genoemde sinodes die JV-geskiedenis en werk nie van naby genoeg geken nie, of die lede van die sinode was dalk nooit self aktief by JV-aktiwiteite betrokke nie.

'n Verkenning soos hierdie artikel kan as 'n korreksie vir sodanige gebrek aan historiese insig dien. Die inligting kan by vele voormalige JV-lede getoets word en steeds sal die reaksie ongeveer dieselfde wees, naamlik dat sodanige lede besonder dankbaar is vir die breë vorming wat hulle as jongmense in die JV ontvang het.

Die getuienis van 'n paar senior burgers wat oud JV-lede is, dien as voorbeeld wanneer hulle onder andere skryf: Die JV leef tog nog! (Botha 2014):

Verskeie leiers in die kerklike lewe, die onderwys en die akademie, in die sakewêreld, in die lands- en provinsiale regerings tot op kabinetsvlak en op talle ander lewensterreine, was manne en vroue wat die eerste keer in hulle lewe juis in 'n JV-vergadering of tydens 'n kongres 'n lesing gelewer of 'n beskrywingspunt toegelig het. (bl. 37)

Die volgende anonieme stelling kan ook in die geval van die JV's bevestig word, naamlik: Indien 'n mens vir slegs een jaar beplan, saai dan koring wat jy binne 'n paar maande kan oes. Indien jy vir tien jaar beplan, plant dan bome. Maar as jy vir 'n leeftyd wil beplan en belê, vorm dan jongmense.

Die jeugsorg van die GKSA

Aangesien die sinode van 1988 besluit het om die JV-werk met kerklike jeugsorg te vervang, sou 'n mens ten slotte ook laasgenoemde werk oor die afgelope byna drie dekades wou evalueer en dit selfs met die vroeëre JV-aktiwiteite wou vergelyk.

Om veral twee redes is die huidige skrywer nie daartoe in staat nie. Eerstens was hy nie persoonlik daarby betrokke nie, sodat hy nie eerstehandse kennis daaroor beskik nie. Tweedens wil dit voorkom asof daar ook oor hierdie werk min bronne vir navorsing beskikbaar is. Behalwe die gereelde driejaarliks Rapporte van die Jeugdeputate (vgl. GKSA 2015a), bestaan daar min ander materiaal (vgl. Breed 2009). Daar bestaan egter ander moontlikhede vir verdere navorsing soos vraelyste wat aan die jong lidmate van gemeentes gegee kan word (vgl. Nel & Van der Westhuizen 2015).

 

'n Terug- en vooruitblik

Die skrywer gaan van die veronderstelling uit dat jeugwerk, soos dié van die destydse JV's en kerklike jeugsorg twee verskillende sake is. Hoewel hulle nie waterdig van mekaar geskei kan word nie, behoort hulle tog duidelik onderskei te word. Albei is noodsaaklik vir die vorming van jong gelowiges, maar elkeen kan 'n eie, unieke bydrae daartoe lewer.

Terugskouend

Op grond van die voorafgaande ondersoek kan twee gevolgtrekkings gemaak word. Eerstens, dat die JV's van destyds 'n onvervangbare taak vervul het om die jeug vir hulle roeping in die omvattende koninkryk van God te skool. Tweedens, dat iets soortgelyks as die destydse JV's dus ook vir die toekoms opnuut oorweeg behoort te word. Laasgenoemde stelling word kortliks in die lig van veral die toenemende sekularisme en relativisme van huidige, nuwe omstandighede gemotiveer.

Die jeug in die branding

Word die gees van die huidige tyd beproef (1 Joh 4:1), besef 'n mens dat dit wat die apostel Paulus aan die jongman, Timoteus (1 Tim 3:1-8) geskryf het, ook die dinge is waarmee ons jongmense van vandag daagliks gekonfronteer word. In hedendaagse taal word dit sekularisme genoem. Dit beteken om te lewe asof God nie bestaan nie en sy verordeninge nie van belang is nie (vgl. Van der Walt 2007a).

'n Lewensbelangrike vraag is dus hoe die jonger generasie in hierdie doolhof van goddelose sekularisme en koerslose relativisme staande sal kan bly sonder die nodige Christelike lewensbeskoulike toerusting.

Seuns word in die Bybel as skerp pyle (Ps 127:3, 4) beskryf. Watter jeugaksie bestaan daar om hierdie pyle met 'n duidelike, Christelike lewensvisie op te skerp? Dogters word met die sierlike, stewige hoekpilare van 'n paleis vergelyk (Ps 144:12). Hoe kan hulle in die relativistiese tye waarin ons vandag lewe, vas bly staan sonder 'n stewige lewensen wêreldbeskouing wat op die fondament van God se openbaring gegrondves is?

'n Strategie

Een van die belangrikste insigte van die afgelope aantal jare is dat die burgerlike samelewing (civil society) sal moet ontwaak (vgl. Chaplin 2011:271 e.v.). Vir Christene impliseer dit dat Christelike verenigings, organisasies en instellings 'n belangrike hulpmiddel kan wees om hulle lede teen die tsunami van versekularisering op talle terreine buite die kerke te bewapen. Selfs in Nederland, waar Christene (in reaksie teen die pillarisering of verdeeldheid tussen Christelike organisasies wat op verskillende geloofsoortuigings gegrond is) vir 'n ruk lank nogal skepties teenoor enige eksplisiet Christelike aksie was, word so 'n idee reeds vanaf die einde van die vorige eeu weer beklemtoon (vgl. Klapwijk 1995; en later Buijs 2003).

Die JV's van die verlede was 'n duidelike voorbeeld van presies so 'n inisiatief (vgl. Van der Walt 1993; 2007b). Hierdie verkenning is dus nie primêr oor die verlede geskryf nie, maar ook met die oog op die toekoms.

Die GKSA se pas afgelope sinode het 'n ingrypende en omvattende omkeerstrategie aanvaar (vgl. GKSA 2015b). Mag hierdie ontwaking - soos met die Réveil gedurende die negentiende eeu - ook vernuwing buite die kerke impliseer, sodat iets soortgelyks as die destydse JV's weer, maar in die een-en-twintigste-eeuse 'klere en kleure', uit die as van die verlede opstaan.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Anon., 1964, 'Die sinodebesluit in verband met die Susters', Die Gereformeerde Vroueblad 18(11), 4.         [ Links ]

Botha, G.N.V., 2014, 'Die J.V. leef tog nog!', Die Kerkblad 117(3278), 36-37.         [ Links ]

Breed, D.G., 2009, 'Jeugsorg', in GKSA, Uit dankbaarheid: Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika 1959-2009, bl. 109-113, V&R Drukkery, Pretoria.         [ Links ]

Buijs, G., 2003, Wat je zegt, ben jezelf: Identiteit en christelijke organisaties, Boekencentrum, Zoetermeer.         [ Links ]

Buys, P.W., 1959, 'Die Gereformeerde Jeugbeweging', in Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, 1859-1959, bl. 189-193, s.n., s.l.         [ Links ]

Chaplin, J., 2011, Herman Dooyeweerd: Christian philosopher of state and civil society, University of Notre Dame Press, Notre Dame.         [ Links ]

Duvenage, S.C.W., 1955, 'n Geskiedkundige oorsig, 1925-1955: Gedenkprogram ter geleentheid van die dertigjarige jubileum van die Tvlse Bond tydens die eerste Uniale Kongres van die JV's in S.A., s.n., s.l.         [ Links ]

Firet, J. & Van Riessen, H., 1960, Een dozijn is meer dan twaalf: De functie van de groep in het jeugdvormingswerk, Kok, Kampen.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1958, Handelinge van die sinode, Administratiewe Buro van die GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1961, Handelinge van die sinode, Administratiewe Buro van die GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1982, Handelinge van die sinode, Administratiewe Buro van die GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1985, Handelinge van die sinode, Administratiewe Buro van die GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1988, Handelinge van die sinode, Administratiewe Buro van die GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1991, Handelinge van die sinode, Administratiewe Buro van die GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2015a, 'Rapporte van die deputate vir jeugsorg', in Agenda van die derde algemene sinode, bl. 127-136, Administratiewe Buro van die GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2015b, 'Rapporte deputate omkeerstrategie', in Aanvullende agenda van die derde algemene sinode te Potchefstroom, bl. 428-466, Administratiewe Buro van die GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

GKSA, kyk Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.         [ Links ]

Klapwijk, J., 1995, 'Christelijke organisaties', in J. Klapwijk (ed.), Transformationele filosofie, pp. 91-123, Kok Agora, Kampen.         [ Links ]

Klep, P., Hoetink, C. & Emons, T. (reds.), 2005, Persoonlijk verleden: Over geschiedenis, individu en identiteit, Askant, Amsterdam.         [ Links ]

Kluit, E.M., 1970, Het Protestantse Réveil in Nederland en daarbuite, 1815-1865, Paris, Amsterdam.         [ Links ]

Knoppers, B.A., 1931-1932, Jeug en jeugbeweging: Handboek, 2 dele, Zomer & Keuning, Wageningen.         [ Links ]

Liebenberg, P.J. & Van Rooy, A.C. (reds.), 1945, Gedenkboek, 1935-1945 van die Bond van JV's op Gg in die OVS, s.n., s.l.         [ Links ]

McCarthy, R., Oppewal, D., Peterson, W. & Spykman, G., 1981, Society, state and schools: A case for structural and confessional pluralism, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Mulder, I. (red.), 1976, Die Kaaplandse Bond van JV's op Gg, 1926-1976, s.n., s.l.         [ Links ]

Nel, M. & Van der Westhuizen, Z. (reds.), 2015, Skokkend positief: Insigte vanuit nuwe navorsing oor aktiewe Afrikanse kerkjeug, (Ter perse Bybel-Media).         [ Links ]

Pretorius, B., Van Jaarsveld, B., Venter, J. & Lessing, J., 1967, Die koninkryksroeping: Gedenkalbum,federale saamtrek, 24-27Mrt. 1967, s.n., s.l.         [ Links ]

Skillen, J.W. & McCarthy, R.M. (eds.), 1991, Political order and the plural structure of society, Scholars Press, Atlanta.         [ Links ]

Taljaard, J.A.L., 1963, 'Die Christelike Vrouevereniging', Die Gereformeerde Vroueblad 18(7-8), 19-29, Desember.         [ Links ]

Taljaard, J.A.L., Coetzee, H.J. & Van Wyk de Vries, J., 1960, Jeug en politiek, s.n., Potchefstroom.         [ Links ]

Taljaard, J.A.L. & Kruger, C.M.E. (reds.), 1940, Gedenkboek 1925-1940 van die Bond van Jongeliedeverenigings op Gereformeerde grondslag in Transvaal, s.n., s.l.         [ Links ]

Twenge, J.M., 2006, Generation me, Free Press, New York.         [ Links ]

Van Belle, H.A., 2012, Integration lost and found, Legacy Press, Edmonton.         [ Links ]

Van der Merwe, M.J. & Venter, L., 1963, 'Die Sustersaksie', Die Gereformeerde Vroueblad 17(9), 8-13, Februarie.         [ Links ]

Van der Stoep, J., Kuiper, R. & Ramaker, T. (reds.), 2007, Alles wat je hart begeert? Christelijke oriëntatie op een op beleving gerichte cultuur, Buijten & Schipperheijn, Amsterdam.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 1956-2014, Persoonlike argief.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. (red.), 1961, Koers in ons JV-werk, Bond van JV's op Gg in Transvaal, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 1962a, Perspektief in ons JV-werk, nr. 1, Bond van JV's op Gg in Transvaal, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 1962b, 'Hoe moet die verhouding tussen die JV en die kerk wees?', in Perspektief in ons JV-werk, nr. 1, bl. 51-79, Bond van JV's op Gg in Transvaal, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. (red.), 1963, Perspektief in ons JV-werk, nr. 2, Bond van JV's op Gg in Transvaal, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. (red.), 1965a, Feesbundel: 'Die Here is my Banier' van die Bond van JV's op Gg in Transvaal, 1925-1965, s.n., s.l.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. (red.), 1965b, Perspektief in ons JV-werk, nr. 3, Bond van JV's op Gg in Transvaal, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 1993, 'Christelike organisasies en instellings: 'n Strategie vir samelewingsverandering', in B.J. Van der Walt (red.), Die noodsaaklikheid van Christelike organisasies en die geheim van 'n geslaagde jeugaksie, bl. 1-13, Instituut vir Reformatoriese Studie, Potchefstroom. (Studiestuk nr. 307, Julie).         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2006, The liberating message: A Christian worldview for Africa, The Institute for Contemporary Christianity in Africa, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2007a, Transforming power: Challenging contemporary secular society, The Institute for Contemporary Christianity in Africa, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2007b, 'Identity and relevance: The urgent need for Christian organisations and institutions in an increasing secular world', in B.J. van der Walt (ed.), Transforming power, pp. 297-318, The Institute for Contemporary Christianity in Africa, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2007c, 'Growing together in faith', in B.J. van der Walt (ed.), Transforming power, pp. 11-46, The Institute for Contemporary Christianity in Africa, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2010, 'A Christian social philosophy', in B.J. van der Walt (ed.), At home in God's world, pp. 410-555, The Institute for Contemporary Christianity in Africa, Potchefstroom.         [ Links ]

Van Dyke, H., 2013, 'Abraham Kuyper: Heir of an anti-revolutionary tradition', in S. Bishop & J.H. Kok (eds.), On Kuyper, pp. 1-26, Dordt College Press, Sioux Center.         [ Links ]

Van Maarleveld, P. & Van der Walt, B.J. (reds.), 1964, Dit is die JV! Stippellyne by die JV-werk, Bond van JV's op Gg in Transvaal, Pretoria.         [ Links ]

Van Riessen, H., 1958, Jeugdwerk onder de loep: Een onderzoek naar het gereformeerde jeugdwerk voor boven-sestienjarigen, Kok, Kampen.         [ Links ]

Van Riessen, H., 1961, Twintig gesprekken: Discussiebijeenkomsten over het gereformeerd jeugdwerk, Nederlandse Gereformeerde Jeugdraad, Amersfoort.         [ Links ]

Van Wyk, A. (red.), 1975, Feeskongres Bond van JV's op Gg in Transvaal: 50e bestaansjaar, 1925-1975, s.n., s.l.         [ Links ]

Venter, D.G., 1942, Handleiding vir die Jongeliedevereniging op Gereformeerde grondslag, Kalvyn Jubileum Boekefonds, Potchefstroom.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Bennie van der Walt
07 Bezuidenhout Street, Oewersig, Potchefstroom 2531, South Africa
benniejvanderwalt@gmail.com

Received: 23 Mar. 2015
Accepted: 09 July 2015
Published: 28 Aug. 2015

 

 

1 Na die afhandeling van hierdie artikel skenk die skrywer sy persoonlike argief vir hierdie doel aan die Argief van die GKSA. Hoewel hierdie publikasies van datums voorsien is, ontbreek die uitgewer en die plek van uitgawe daarvan dikwels (vgl. die 'Bibliografie'). Die rede hiervoor is heel waarskynlik omdat sulke gegewens destyds nie as belangrik beskou is nie. Verder het die meeste van hierdie bronne by bepaalde herdenkingsgeleenthede verskyn, sodat hulle 'n meer algemene historiese oorsig bied. Dikwels ontbreek die meer spesifieke sake waarmee JV's hulle besig gehou het. Daarom die noodsaaklik om ook op 'n spesifieke JV se konkrete werksaamhede te fokus (vgl. ''n Gevallestudie: JV Gideon gedurende 1959-1961').
2 Vanaf 1960 tot 1968 het die skrywer in verskillende hoedanighede op hierdie blad se redaksie gedien.
3 Aangesien die skrywer se weergawe die bril is waardeur hy na JV Gideon en wyer kan kyk, volg hier enkele datums oor sy betrokkenheid. Ongeveer 1956 het hy lid van JV Gideon geword en ongeveer 1957 en 1958 die eerste Bondskongresse bygewoon. In 1959 het hy voorsitter van JV Gideon en later ook van Afdeling Mooirivier (wat die JV's van Potchefstroom, Klerksdorp, Parys en omgewing verteenwoordig het) geword - en dus ook lid van die Bondsbestuur, wat gereeld eers in Johannesburg en later in Pretoria vergader het.
4 Om die skrywer se ervaring van die verskillende werksaamhede van hierdie Bond gedurende 'n dekade (1958-1968) te bevestig, kan die volgende datums uit die skrywer se JV curriculum vitae genoem word. In 1962 is hy as publikasiebeampte van die Bond benoem; in 1962 en 1963 het hy as kampkommandant op twee leierskampe op JV-Eiland (naby Parys) opgetree; in 1965 is hy as voorsitter en in 1867 as president van die Bond verkies. Tydens 'n studieverblyf in Nederland het hy ook die voorreg gehad om, op versoek van die Bond, navorsing oor die Gereformeerde jeugbewegings aldaar te doen en (in 1971) daaroor verslag te doen.
5 Verskeie JV's van Transvaal het ook 'n byeenkoms gehou waar die artikelskrywer as spreekbuis opgetree het om hulle protes teen die sinodebesluit te laat hoor.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License