SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 número1Mission, migration and human development: A new approachSpiritual transformation: Reaching and equipping Sub-Saharan African children índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.49 no.1 Cape Town  2015

http://dx.doi.org/10.4102/IDS.V49I1.1883 

ORIGINAL RESEARCH

 

'Met hart en mond en hande': Die integrale bediening van Woord en daad volgens 'n missio Dei-perspektief

 

 

P.J. (Flip) BuysI; André JansenII, III

ISchool for Ecclesiastical Science, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
IIResearcher in Missiology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
IIIThe cooperating congregation of the Free Reformed and Christian Reformed Churches, Woerden, the Netherlands

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Die Sendingwetenskap, kerke en sendingorganisasies dink wêreldwyd opnuut na oor die bybelse fundering vir die integrasie van Woord en daad in die verkondiging van die evangelie. Die Lausanne-beweging het 'n kongres in Kaapstad gehou, waar 4200 kerkleiers van 198 lande vanaf 16 tot 25 Oktober 2010 vergader het. Die program het besinnings ingesluit oor hoe om kwessies soos armoede, ongeregtigheid en die voorspoed-teologie skrifgetrou te hanteer. Die Miga-netwerk is 'n groeiende wêreldwye koalisie van kerke en organisasies wat hulle in die lig van Miga 6:8 tot die uitbou van integrale sending verbind. Die Gospel Coalition is 'n netwerk van teoloë wat hulle daartoe verbind het om gelowiges te stimuleer sodat hulle geloof in die evangelie van Christus verdiep. Die doel is ook dat bedieningspraktyke 'n teosentriese en Christosentriese fokus vertoon. Hierdie koalisie het verskeie debatte oor aspekte van integrale sending in hulle mondstuk, Themelios, gepubliseer. Die World Reformed Fellowship het in hulle geloofsverklaring duidelik gestel dat gelowiges uit gehoorsaamheid aan die opdrag van God met twee hande na alle mense moet uitreik, naamlik die hand wat hulle roep om hulle sonde te bely, om te glo en só die ewige versoening met God deur Christus te ontvang, en tweedens die hand wat deur dade van dankbaarheid en deernis die goedheid van God se koninkryk in die naam van Christus na vore bring.Verskeie missiologiese publikasies het onlangs verskyn wat uitdruklik oor integrale en dus die behoefte aan holistiese sending handel.


ABSTRACT

Missiological reflection indicates that mission organisations and churches worldwide, are reconsidering the biblical foundations of the integration of Word and deed when proclaiming the Gospel. The Lausanne Movement held its global congress in Cape Town, where 4200 church leaders of 198 countries gathered from 16 to 25 October in 2010. The program also included in-depth discussions on dealing in a valid biblical way with issues such as poverty, social justice and prosperity gospel theology. The Micah Network is a growing global coalition consisting of churches and organisations that committed themselves in the light of Micah 6:8 to promote integral mission. The Gospel Coalition is a network of theologians who are committed to stimulate Christian believers in order to deepen their faith in die gospel of Christ. Their aim is that ministry and missionary practice should reflect a Theocentric and Christ-centred vision. This coalition also published several debates in their mouthpiece, Themelios, on aspects of integral mission. The World Reformed Fellowship made it clear in its statement of faith that Christians, in obedience to the commission of our God, have to present two hands to all people, namely the hand calling them to repentance, faith and eternal reconciliation with God through Christ, and secondly, the hand manifesting deeds of mercy and compassion, extending the goodness of God's kingdom on earth in the name of Christ. Several missiological publications have recently been published that explicitly deals with the integration of Word and deeds and the need for holistic missions. Forum discussions and blogs on the Internet are debating whether to embrace, or to reject the concept of integral missions on biblical grounds. This article attempts to make a contribution to the debates by analysing a few key biblical terms in which God reveals himself through the integration of Word and deeds. Thus this calls for a holistic approach in missions, in which people's words and deeds should not be separated when proclaiming the gospel.


 

 

Inleiding

Wêreldwyd nuut besin oor die integrasie van Woord en daad in sendingwerk

Die Sendingwetenskap sowel as kerke en sendingorganisasies dink wêreldwyd opnuut na oor die bybelse fundering vir die integrasie van Woord en daad in evangelieverkondiging. Enkele voorbeelde hiervan is die Lausanne-beweging se kongres in Kaapstad, waar 4200 kerkleiers van 198 lande vanaf 16 tot 25 Oktober 2010 vergader het om die kerke wêreldwyd van die onvoltooide sendingtaak bewus te maak en 'fo bear witness to Jesus Christ and all his teaching - in every nation, in every sphere of society, and in the realm of ideas' (Birdsall & Brown 2010). By die vergadering is onder meer indringend besin hoe om kwessies soos armoede en ongeregtigheid skrifgetrou te hanteer en die vals leer van die voorspoedsgodsdiens af te wys, wanneer die evangelie verkondig word.

Die Miga-netwerk, 'n groeiende koalisie van kerke en organisasies wêreldwyd het vanuit Miga 6:8 oor integrale sending nagedink en 'to grow together in our understanding and practice of Christian discipleship in a global world affected by consumerism, injustice, and oppression' (Haw 2001; Padilla 2012).

Die Gospel Coalition is 'n netwerk van teoloë wat hulle daartoe verbind om gelowiges te stimuleer sodat hulle geloof in die evangelie van Christus verdiep en hulle bedieningspraktyke sodoende 'n duidelike teosentriese en Christosentriese fokus wys. Die Coalition se doelstelling is om die heerskappy van Christus oor die hele lewe met volhardende hoop in die krag van die Heilige Gees so te verkondig dat enkelinge, gemeenskappe en kulture ten goede getransformeer word. Dan sal in die verkondiging van die evangelie 'n ooreenstemming wees 'between our entire lives and God's heart, words and actions, through the mediation of the Word and Spirit' (Peays 2011:8, 12-13). In die konferensies en publikasies wat hierdie organisasie aanbied, word ook breed en diep oor die beginsels ten grondslag van integrale sendingwerk besin.

Die geloofsverklaring van die World Reformed Fellowship (Logan 2011), stel dit duidelik dat gelowiges uit gehoorsaamheid aan die opdrag van God met twee hande na alle mense moet uitreik, naamlik met die hand wat hulle roep om hulle sonde te bely, te glo en so die ewige versoening met God deur Christus te ontvang; en die hand wat deur dade van dankbaarheid en deernis vir ander die goedheid van God se koninkryk, in die Naam van Christus, laat sien. Die verklaring meen dit is die voorbeeld wat Christus gestel het. Deur sy voorbeeld dus na te volg, bewys ons dat ons na sy beeld herskep is en as gelowiges die eerste vrugte van God se groot toekoms deur die Heilige Gees ontvang het as waarborg van God se nuwe skepping. In die paragraaf van die geloofsverklaring (Logan 2011), wat oor 'The transformation of human community' handel, word dit soos volg geformuleer:

Our proclamation of the Gospel has social consequences as we call people to love and repentance in all areas of life. Likewise, our social involvement has evangelistic consequences as we bear witness to the transforming grace of Jesus Christ. If we ignore the world we betray the great commission by which God sends us out to serve the world. If we ignore this commission we have nothing to bring to the world.

Benewens die standpunte van bogenoemde organisasies verskyn 'n groot aantalpublikasies oor integrale en holistiese sending voortdurend. Forumgesprekke op die internet en verskeie wêreldwye konferensies word gehou met die doel om integrale sending vanuit 'n bybelse basis te bevorder of af te wys. Die volgende is voorbeelde van internasionale teologiese publikasies wat onlangs verskyn het en wat oor die bybelse fundering van integrale sending handel: C.J.H. Wright se twee boeke, The mission of God (2011) en The mission of God's people (2010), T. Keller se Generous justice (2010), Gerhard Verbeek se Recht in overvloed (2005), K. deYoung en G. Gilbert se What is the mission of the church? (2011) en Corbett en Fikkert se When helping hurts: How to alleviate poverty without hurting the poor and yourself (2009).

Die soeke na en debatte oor 'n basisteorie vir integrale sending dui aan dat daar steeds met 'n dualisme in denke geworstel word asook die vraag oor waar die aksente van skrifgetroue sendingwerk moet lê. 'n Vurige debat word reeds dekades lank tussen evangeliese en ekumeniese Christene gevoer oor die vraag waar die klem by hulpverlening aan armes gelê moet word, naamlik op barmhartigheid of op geregtigheid (Myers 1999:5 e.v.; Verbeek 2005:45 e.v.)

Stetzer (2011) lewer stewige kritiek op die oorblyfsels van 'n dualistiese benadering by DeYoung en Gilbert (2011).

Battle (1999), Chester (2004) en Van der Walt (2012) verskaf verskeie voorbeelde van teoloë se uiteenlopende denke oor die integrasie van die Woordverkondiging en sosiale betrokkenheid. Van der Walt (2012:479) meen dat dit tyd is om finaal van die dualisme afskeid te neem, omdat dit onbybels is om die verkondiging van die evangelie en sosiale betrokkenheid van mekaar te skei.

Hierdie artikel wil deur die ontleding en bespreking van enkele bybelse begrippe aantoon hoedat woorde en dade in God se selfbekendstelling geïntegreer word en daarom 'n holistiese aanpak vereis waarin Woord en daad nie in die verkondiging van die evangelie losgemaak mag word nie.

 

Skriftuurlike besinning

'n Bybels-teologiese begronding vir basis-teoretiese uitgangspunte is nodig om die integrale eenheid tussen Woord en daad aan te toon. In hierdie artikel word die vrug van eksegetiese woordstudies van enkele sleutelbegrippe in die Bybel opgesom, sodat dit kan help om die verweefdheid tussen Woord en daad te onderstreep.

Verskeie sleutelbegrippe in die Bybel kan wel lig op die integrale eenheid van Woord en daad werp. Dit is onmoontlik om dit in een artikel uit te put. Gevolglik word 'n duidelike keuse gemaak om die betekenis van slegs enkele begrippe deur 'n missio Dei-bril te oorweeg. Hierdie artikel is deel van voortgaande navorsing. Dit wil dus nie voorgee om 'n volledige eksegetiese studie oor die onderwerp te wees nie. Deur literatuurstudie word 'n samevatting en enkele praktiese toepassings van woordstudies van enkele sleutelbegrippe uit die Ou en Nuwe Testament gegee. Die Bybel - nuwe vertaling (met herformulerings; 1983) word deurgaans in die studie gebruik, tensy anders aangetoon. Hierdie studie is daarop gemik om lig op die integrale eenheid tussen Woord en daad in die verkondiging van die evangelie volgens 'n missio Dei-perspektief te werp.

Missio Dei

Wanneer David Bosch (1991:8) sy definisie van missio Dei bespreek, noem hy slegs dat 'n mens die teologiese oorsprong van die begrip in die verbondsteologie van die na-reformatoriese tradisie kan vind, sonder om verder op hierdie oorsprong uit te brei.

Die Latynse missio Dei-begrip is klaarblyklik reeds in die vierde eeu n.C. deur Aurelius Augustinus gebruik om die intertrinitariese verhouding tussen God die Vader, wat Jesus Christus die Seun gestuur het, onder woorde te bring. Daarna het dit 'n algemeen gebruikte term in die Rooms-Katolieke teologie geword (Müller 1980:57-59).

In 1952 het hierdie term in die protestantse wêreld by die internasionale Ekumeniese Sendingkonferensie in Willingen ingang gevind, om te benadruk dat wêreldsending in die drie-enige God gewortel is. Daarna het dit 'n bekende term in ekumeniese protestantse sendingteologie geword. Die boek van George F Vicedom, Missio Dei (1958), asook ander Duits-Lutherse teoloë soos Karl Hartenstein en Walter Freytag wat prominent in ekumeniese sendingorganisasies betrokke geraak het, het die term gepopulariseer. Vicedom (1985) het hieroor geskryf:

Missio Dei declares the sending to be God's own concern, which He began in His Son and which He continues through the Holy Spirit in His Church till the end of time. (p. 352)

Schirmacher (2008) verklaar op sy beurt:

The term is valid to be used by Reformed and Evangelical Christians also, because it belongs to the heart of Christianity, no matter whether this term is used for the fact that God sent Himself for the redemption of the world, or for the fact that missions of the Church is the outcome of God's mission. (p. 22)

Verskillende skrywers se woordgebruik maak dit duidelik dat daar min eenstemmigheid oor die betekenis van die verskillende begrippe in die missionêre debat bestaan (Van Gelder & Zscheile 2011:17). Daarom word die term missio Dei in hierdie artikel soos volg verstaan en ingespan:

  • God is besig om ter wille van sy eer
  • op grond van Jesus Christus se lyding, dood en opstanding;
  • deur die Heilige Gees wat die kerk toerus as God se instrumente;
  • met woorde en dade van liefde en geregtigheid;
  • mense uit elke volk en taal en nasie bymekaar te maak en te verenig;
  • om God ewig in 'n nuwe skepping te dien en te aanbid.

Vrae word as kriteria gebruik om sleutelbegrippe uit 'n missio Dei-perspektief te ondersoek.

Kriteria-vrae

Hierdie artikel hanteer vyf vrae as kriteria waarvolgens enkele sleutelbegrippe in die Ou en Nuwe Testament uitgewys word. Hierdie begrippe word dan uit 'n missio Dei-perspektief ontleed en bespreek om die verweefdheid tussen Woord- en daadverkondiging te onderstreep. Die vyf vrae is die volgende:

  • Wie is God?
  • Waarom het God die aarde geskep?
  • Waarom het Christus mens geword, gesterf en uit die dood opgestaan?
  • Waarom is die Heilige Gees na die wêreld gestuur?
  • Wat is God se doel met die kerk in die wêreld?

Kernbegrippe

Woord -דָּברָ, λόγος, ρήμα

'n Woordstudie oor woord toon aan dat mondelinge Woordverkondiging onlosmaaklik met daadverkondiging verweef is. Woord sluit daad nie uit nie. רָבָּד en λόγος kan albei met woord, sowel as daad vertaal word (Pop 1984:581).

Kalland (1980:179-180) wys op die kernfeit dat die herhaaldelike gebruik van רָבָּד in die Ou Testament aantoon dat God spreek, maar dat dit gevolge het en resultate oplewer. Hy wat woorde uiter (רָבָּד), handel ook daarvolgens (Pop 1984:579). Die woorde maak iets bekend:

so that to grasp the word is to grasp the thought. But the word is also dynamic. It is filled with a power which is felt by those who receive it but which is present independently of such reception. (Procksch 1985:508)

Woord in die Bybel dui dus op sowel inhoud as praktyk. Daar is 'n spesifieke boodskap, maar dit het 'n dinamiese uitwerking in die praktyk.

God: God maak Homself deur sy דָּברָ bekend, deurdat Hy Hom laat geld en sy goddelike krag laat ervaar. Dit is nie net aan Israel gerig nie, maar ook aan die nasies van die wêreld (Jer 31:10; Eseg 36:4) wat uiteindelik na God toe sal stroom om die God van Jakob se woord te hoor (Mig 4:1-2) en te sing oor wat hulle gehoor en gesien het (Eks 20:18). Selfs die dowes sal hoor, die blindes sal sien, mense sal bly wees oor die Here en die arm mense sal juig oor die heilige God van Israel (Jes 29:18-19).

Deur sy דָּברָ is God self aanwesig, omdat Hy self sy דָּברָ is en Hom uit die verborgenheid openbaar in daardie dinge wat Hy tot stand bring (Pop 1984:579, 580). Die Here se woord het effek en is werksaam volgens sy wil en beskikking (1 Kon 13:26). God sê vir Jesaja dat sy דָּברָ sal doen wat Hy gedoen wil hê en dinge tot stand sal bring. Hier is 'n duidelike verband tussen God wat spreek en die konkrete uitwerking daarvan (Kalland 1980:180). Pop (1984:581) maak dit duidelik dat die woord God se hemelse kreatiewe krag is wat op aarde werk. Hierdie verankering van die woord in God self, is noodsaaklik om die eenheid van Woord en daad in die sending te verstaan.

Skepping en mens: God het die hemel en die aarde geskep deur te spreek (Gen 1:3; Ps 33:6; Joh 1:3), waarvolgens die Semitiese gelykwaardigheid van woord as spraak en woord as feit of aksie aangetoon word (Myers 1987). Die wêreld het sy ontstaan in die kreatiewe goddelike Woord (Procksch 1995). Volgens Myers (1987) sluit Paulus in Romeine 10:1718 by hierdie tema as oeroue prediking aan. Die uitgesproke Woord werk geloof in die hand.

Volgens Pop (1984) is die uitgesproke Woord asook die gebeurtenis en die uitwerking daarvan vir die Israeliet één. Pop beskou dit as een lewendige geheel en toon dit aan met die woord דָּברָ:

Een woord moet de zaak niet alleen naar iemand toedragen, maar het moet dat ook zó doen, dat de hoorder erop aan kan, dat de zaak is zoals hij er in het woord uitziet; woord en zaak moeten elkaar dekken. Hij zal dan ook op het ware woord amen zeggen. (bl. 580; Deut 27:15 e.v.; Num 5:22).

Jesus Christus: Pop (1984:582) toon aan hoe Jesus se woorde en dade één geheel vorm. Jesus se Woord is heils-en oordeelswoord ineen. Hierdie woorde bring in Homself die krag van die heil én gerig na vore. Deur daardie woord genees Jesus siekes, roep Hy sy dissipels, oordeel Hy die ongelowiges en skep die toekoms. Sy woorde, maar ook sy wonders wek ontsag. Jesus Christus self, in die eenheid van sy Persoon en werk, is hierdie Woord (Kittel 1985; Louw & Nida 1996; Pop 1984:585). Myers (1987) verstaan die daad van Jesus se vleeswording as die bekendmaking van God se hoogste Woord. Volgens die getuienis van Johannes 1 en Hebreërs 1 is Hy die personifikasie van God se Woord deur Wie alles wat bestaan ook ontstaan het (Louw & Nida 1996:33, 100). 'n Mens kan met reg hieruit aflei dat Jesus Christus die integrale eenheid van woorde en dade vergestalt: 'His word, however, goes hand in hand with his work' (Kittel 1985). Die woord is nooit proporsioneel teologies nie, maar deurgaans relasioneel en persoonlik, aldus Medema (2011:56). Die rede is dat die waarheid na die mens gekom het in Immanuel wat vlees geword het. Die woord wat tot die mens gerig word, is dus die Woord self en self God.

Heilige Gees: Deur die werking van die Heilige Gees het die Woord van God 'n dinamiese krag (1 Kor 1:18) wat konkrete dinge teweeg bring en aan die gang sit. Volgens Louw en Nida (1996:33, 98) verwys λόγος en ρήμα eerstens na die inhoud van die gekommunikeerde evangelieboodskap en verder na die inhoud wat oor Jesus Christus gepreek word (Louw & Nida 1996:417). Kittel (1985) gaan verder deur (met verwysing na Ef 1:13) daarop te wys dat die Heilige Gees diegene wat sy Woord aanvaar, verseël. Die Heilige Gees is onlosmaaklik aan die proses verbind waar Woord en daad geïntegreer word.

Kerk: In die Nuwe Testament vorm Christene saam die kerk as diegene wat met hulle volle lewe op die Woord van verlossing antwoord gee (Pop 1984:582) en tegelyk draers van die Woord word deur wie God self aan die woord kom (1 Pet 4:11). Die woord hou egter deurgaans, maar nie slegs nie, verbale getuienis en verkondiging oor Jesus Christus in. Dit behels die woord van die kruis, versoening en genade, lewe en waarheid en nie slegs 'n konsep nie (Kittel 1985).

Lewe sluit gebeurtenisse en dade in en dien as rekenskap van dinge wat ontvang of gedoen is (Matt12:36; 18:16; Hand 8:21; Fil 4:17; 1 Pet 3:15; vgl. ook Louw & Nida 1996:162). Wanneer God sy Woord deur mense spreek, het dit die uitwerking dat dit mense 'tot die lewe bring' (Jak 1:18).

In 'n missio Dei-perspektief bring die kerk die Woord van God hoorbaar in woorde en sigbaar in dade na alle volke toe. Gelowiges se heilige lewe en optrede het ook die duidelike doel om met hulle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente af te dwing (1 Tess 4:12; die πρός τούς εξω dra die betekenis van ongelowiges, vgl. Greeven 1964:576; Louw & Nida 1996:122).

Slotsom: Die verbale getuienis en verkondiging van die Woord sluit nie die daadgetuienis uit nie, maar kry dit juis aan die gang. Sodoende word Woord en daad saam getuienis van God se genade wat heelmaak en omvorm. Daar bestaan geen spanning tussen 'spreken en doen, woorden en werken, want deze twee zijn één' (Pop 1984:582). Die kerk is 'n gemeenskap wat met hart, mond én hande (Deut 30:11-14; Rom 10:8-10) rekenskap en getuienis van God se Woord gee. Dit is in ooreenstemming met die Openbaring aan Johannes waar die profetiese Woord van God en die getuienis (getuienis gee van God se Woord) volle praktiese werklikheid in die Persoon van Jesus Christus word. 'Receiving the word, when authentic, involves doing' (Kittel1985). Hy beliggaam die logos tou theou (1985).

Die Woord moet vertel én gewys word om God en sy genade in en deur Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees bekend te stel. Daarom is die integrale eenheid van Woord en daad kardinaal in die missiologie.

Seën בּרְַך, εύλογέω, μακάριος

Gesien uit 'n missio Dei-perspektief bied die seën van die Here 'n onmisbare perspektief op die verhouding tussen Woord en daad. In die Bybel word 'n verskeidenheid woorde gebruik om die seën van die Here aan te dui: בּרְַך en εύλογέω en μακάριος. In hierdie artikel word 'n sintese van die betekenisnuanses gemaak en word elke woord nie afsonderlik bespreek nie, weens die beperkte ruimte.

Seën het volgens die Ou en Nuwe Testament 'n geestelike én materiële toepassing. Dit dui volgens Wessel (1986:144) op die geestelike vrug wat die evangelie gebring het (Rom 15:29; Ef 1:3) asook oor die algemeen op die materiële seëninge (Heb 6:7; 12:17; 2 Kor 9:5; vgl. ook Manser 1999).

Daarmee word aan iemand goedheid en guns verleen (Myers 1987). Die doel is om krag te skenk vir onder meer sukses, voorspoed, vrugbaarheid en 'n lang lewe (Oswald 1980:132). Louw en Nida (1996) wys op die inhoudelike voordele van die daad van die seën met die doel dat die ontvanger spesifiek baat daarby vind en dat dit meestal met bepaalde bonatuurlike faktore gepaard gaan. Beyer (1985) wys op die aktiewe oordrag van hierdie seën deur dade én woorde om so aanvaarding en aanmoediging aan die ontvanger te gee sodat so 'n persoon se geluk en welvaart in 'n groot mate bevorder word (Beyer 1985; Thomas 1998).

God: Woord en daad is veranker in God wat self die seën is en dit gee of wegneem. Omdat net Hy God is, kom alles uit sy hand: dood en lewe, siekte en gesondheid. Die Vrymagtige alleen gee ware vryheid.

God se aanwesigheid bring seën oor die skepping en vir die mens wat sonder God se seën, tevergeefs werk (Ps 37:22; Spr 22:10; vgl. ook Beyer 1985:756; Oswald 1980:132). Aangesien God persoonlik is, dui sy seën konkreet aan dat Hy vryheid en genade gee, omdat Hy die mag het om te seën (Beyer 1985; Paschall & Hobbs 1972). God stel Hom bekend as die soewereine God van die heelal teenoor die heidense afgode deur heil sowel as onheil te bring soos Deuteronomium 32:39 dit byvoorbeeld uitspel:

Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond. Uit my mag word niemand bevry nie.

Hy gee sy goddelike guns met die gevolg dat die verbale daad self 'n betekenisvolle voordeel tot stand bring (Louw & Nida 1996). Die hoëpriesterlike seën is bedoel om biddend God se aanwesigheid, genade en versorgende krag oor die geestelike en fisiese lewe van die volk te vra (Oswald 1980:132).

Seën is ook uit die mens as adorasie op God gerig en toon aan dat iemand in aanbidding kniel om God te seën (1 Kon 8:54; 18:42; Esra 9:5; vgl. ook Beyer 1985; Carpenter & Comfort 2000; Strong 2009). Woord en daad bedien die seënende God integraal aan die mens.

Skepping en mens: Wright (2011:221) toon duidelik aan dat seën sterk aan die skepping verbind word en aan die goeie gawes wat God sy kinders skenk om van te geniet: oorvloed, vrugbaarheid, 'n lang lewe, vrede en rus. Die bedoeling is dat mense dit binne die konteks van gesonde verhoudings met God en hulle medemens mag geniet. Die seën van die Here word in die Bybel steeds met gehoorsaamheid aan en vertroue op God en sy wette verbind (Beyer 1985:757). Deur die ontvangde seën eer en verheerlik die gelowige God (1985).

Die bedoeling is dat die meerdere of die groter een die mindere of die kleiner een seën soos 'n vader sy seun en die koning sy onderdaan (Oswald 1980:132). Hierby kan gevoeg word: ryk na arm, sterk na swak, gesond na siek - terwyl die lys ook uitgebrei kan word. Die hooffunksie was om aan iemand 'n oorvloedige, effektiewe en doeltreffende lewe te skenk. Die seën is as reaksie ook gebruik om dankbaarheid en erkenning aan die gewer te gee wie se gawe 'n oorvloedige en doeltreffende lewe moontlik maak (Oswald 1980:132).

Die breë toepassingsveld van seën sluit volgens Achtemeier et al. (1985) onderwerpe in soos lewenskrag, gesondheid, 'n lang lewe, vrugbaarheid en 'n talryke nageslag. Deur seën teenoor vloek te stel, maak Achtemeijer et al. (1985) die bedoeling duideliker: vloek is alles wat tot die dood lei, siekte, kinderloosheid of natuur- en erge rampe soos droogte, hongersnood en oorlog.

Carpenter en Comfort (2000) wys daarop dat die Here die Israeliete geseën het met reën, veiligheid, sekuriteit, die wet, gesondheid en 'many other things'. Psalm 67 maak dit duidelik dat God se volk sy seën ontvang met die doel om op hulle beurt 'n seën vir die nasies te kan wees, sodat die hele aarde God sal eer en vrees.

Met verwysing na Jeremia 29:7, toon Wright (2011:99100, 221) ook aan dat Israel nie net seën ontvang het nie. Hulle moes ook 'n seën wees, selfs tussen hulle vyande in ballingskap. Deur die welvaart van die stad te soek en vir die inwoners te bid, was Israel nie net God se begunstigde nie, maar ook 'n instrument van God se belofte aan Abraham dat alle volke in hom geseën sou word (Gen 12:1-3). God se seën het vir Israel geestelike en praktiese hoop vir die toekoms ingehou. Tog was dit tegelyk ook Israel se opdrag om met woorde en dade God se seën in hulle konteks sigbaar te laat word.

Jesus Christus: Wanneer God sy kinders in Jesus Christus seën, verwys dit oorweldigend na die kenmerkende vreugde wat in die mens toeneem vanweë Christus se verlossingswerk in die koms van die koninkryk van God (Beyer 1985:760; Carpenter & Comfort 2000; Hauck 1985).

Christus het naamlik gekom sodat sy kudde lewe kan hê, en dit in oorvloed (Joh 10:10). Die begrip ewige lewe (Grieks: ζωήν αίώνιον - Bultmann 1964; Sasse 1972:207) dui nie net op lewe ná die dood nie, maar ook op 'n ander kwaliteit lewe wat nou reeds die mens se deel word wanneer iemand werklik in Christus glo (Joh 5:24; 6:47; 20:21). Die ware 'lewe en dit in oorvloed' hou in dat die gelowige soos 'n boom is wat by waterstrome geplant is (vgl. Jer. 17:8), stormwinde kan weerstaan en uit die lewensbron drink. Dít is die lewe in oorvloed waarna Jesus volgens Johannes 10:10 verwys.

Die eenheid tussen hart, mond en hande word ook duidelik wanneer martelare vanweë hulle geloofsgetuienis oor Jesus Christus geseënd genoem word (Matt 5:10; vgl. ook Hauck 1985).

Jesus Christus is die inkarnasie van God se seën wat Hy oor die mens uitstort met die oog op die nuwe hemel en die nuwe aarde. Christus beliggaam en bedien God se seën deur sy soenoffer en instrumenteel deur gelowiges wat dit verkondig en bedien met die oog op die ewige oorwinning. In God se seën is die onlosmaaklike band tussen Woord en daad in Christus beliggaam.

Heilige Gees: Die seën van die Heilige Gees is wesenlik, onlosmaaklik en integraal aan die uitdra van die evangelie met hart, mond en hande verbonde. Wright (2011:189) verbind Jesus se sendingopdrag, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, aan God se belofte aan Abraham om alle volke tot seën te wees as deel van die missio Dei. Só vervul die Heilige Gees as Parakleet 'n sleutelrol in die uitdra van God se seën na alle volke. Met verwysing na Psalm 104:29-30, is die Gees van God die geheim wat die skepping tot lewe bring (Van den Brink & Van der Kooi 2012:447) -die eenheid tussen Woord en daad. In die seën van Jakob en Esau volgens Genesis 27, lê die Gees, lewe en seën in direkte verhouding met mekaar. Volgens Van den Brink en Van der Kooi (2012:448) is seën veral in die Ou Testament van lewensbelang, omdat dit met groei, bloei, voortgang, nakomelingskap, vitaliteit en krag verband hou. Vloek is die keersy hiervan wanneer die lewe stagneer en daar geen vooruitgang in oeste is nie, geen kinders verwek word nie en daar 'n gebrek aan gesondheid is (Frettlöh 1999:55-57). Die Heilige Gees is onontbeerlik in die verbinding tussen Woord en daad, omdat Hy die skepping tot lewe bring.

God se seën word daarom ook in die Naam van die Heilige Gees uitgespreek (Matt 28:19; 2 Kor 13:13), omdat Jesus leer dat die Heilige Gees Hom sal verheerlik deur Hom te verkondig (Joh 16:14). Dit beteken dat die Heilige Gees die mens nadruklik op die oorwinning van Jesus Christus oor die sonde en oor Satan rig, deur sy lyding, kruis en opstanding. Gevolglik kan mense die oorwinning nou reeds as voorsmaak proe. Die Heilige Gees lei die mens om die realiteit van die liefde van Christus te ervaar, maar om daardeur ook met Woord en daad 'n kanaal van God se liefde en ontferming in 'n gebroke wêreld te wees. Sodoende lê die seën van die Heilige Gees daarin dat Hy die gelowiges nou reeds 'n vreugdevolle versekering van God se toekomstige heerlikheid gee.

Die gevolg is dat diegene wat dit ervaar self hierdie ontferming na die gebroke wêreld begin uitdra (Rom 8:23). Die seën van die Heilige Gees is 'n waarborg en voorsmaak van God se groot toekoms wat die mens self in beweging bring om integraal vir ander tot seën te wees. Die holistiese gevolg hiervan word ook duidelik daarin dat die skepping in die geheel verlangend na die volle openbaring van die gelowiges se volle heil in Christus saam sug.

Daar kan dus tot die slotsom gekom word dat 'n geesvervulde gelowige met hart, mond en hande van God se seën getuig en 'n visie op die kosmiese gevolge het wat die evangelie inhou.

Kerk: In die missio Dei-perspektief speel die kerk 'n wesenlike en integrale rol by die deurgee van die seën. Die mees onderskeidende en kenmerkende manier waarop die kerk uitdrukking aan haar geloof gee, is om die Here te seën deur Hom hoorbaar en sigbaar met 'hart en mond en hande' te prys en te eer (Ps 103:1; 134:1, 2; vgl. ook Beyer 1985:758; Manser 1999).

Oswald (1980:133) wys daarop dat mense die seën wat hulle van die Here ontvang, moet deurgee. Mense seën mekaar deur besittings en gesag aan mekaar toe te ken, deur mekaar die beste toe te wens, of tot God vir die ander een se welsyn te bid (Gen 27; 48:9, 15, 20; 24:60; 31:55; 1 Sam 2:20; Hand 2:4247; vgl. ook Easton 1996; Myers 1987). Hieruit blyk duidelik at God sy kinders seën met die bedoeling om dit hoorbaar, sigbaar en voelbaar aan die medemens deur te gee. Daarom is Carpenter en Comfort (2000) se standpunt te eng wanneer hulle met verwysing na Efesiërs 1:3 dit stel dat seën nie fisies is nie, maar slegs geestelik. Seën is wel geestelik, maar dit het 'n praktiese uitwerking tot voordeel van die medemens én om God te loof en groot te maak.

Die omvattende eskatologiese impak van God se seën kom dikwels in die profetiese geskrifte na vore. Jesaja het 'n tyd in die vooruitsig gestel wanneer God se seën nie meer 'n toekomstige nie, maar die huidige werklikheid sou wees (Jes 19:23-24; 61:4-11). Die seëninge van die koninkryk van die hemel word aan mense in spesifieke omstandighede beloof soos die armes, die hongeriges, die treurendes of dié wat gehaat word (Beyer 1985; Hauck 1985). Daar is diegene wat nou reeds die koms van die koninkryk as seën ervaar (Matt 13:16-17). Die strekking van die saligsprekings in die Nuwe Testament is nie tot die toekoms beperk of net as toekomstige troos bedoel nie. Hauck (1985) wys tereg daarop dat die kerk byvoorbeeld prakties met die seën van die Here te make gekry toe hulle uit onvoorwaardelike liefde geld vir die kerk in Jerusalem ingesamel en Paulus hierdie praktiese daad 'n dankofferge noem het. In ooreenstemming hiermee benadruk Schaff (1887:173) dat die lewe op geen manier geseënd kan wees wanneer dit van die ewige lewe losgemaak word nie. Die seën van die ewige lewe bied reeds in hierdie lewe sodanige troos en perspektief dat die kerk nou reeds daardie perspektief geestelik, fisies en materieel uitleef tot troos van diegene wat ly.

Die priesterlike seën van die Here dien hierin as indikatief, imperatief en 'n belofte. Henry (1996) verwys na die priesters se taak volgens die hoëpriesterlike seën in Numeri 6:24-27 om God se mond na die volk te wees en hulle te onderrig, bevele te gee en te seën. Wie die wet ontvang en uitleef, sal ook die seën ontvang. Wanneer 1 Petrus 2:9 na die gelowige as priester verwys, kan met reg afgelei word dat die kerk as 'n priestervolk van God die taak het om alle volke te onderrig, te beveel, te seën en tot seën te wees - met hart, mond en met hande (Matt 28:18-20). Die praktiese belofte van die seën blyk uit Openbaring dat die ewige wêreld van die laaste tye lofprysing en verheerliking sal insluit van Hom wat op die troon sit, en aan die Lam (Beyer 1985). Só sal die uitverkorenes God ewig seën!

Slotsom: Die seën van die Here strek van voor die skepping af tot in die toekomstige bedeling. Dit is bedoel vir die geestelike sowel as die fisiese lewe van die gelowige om alles wat in die hemel en op die aarde is (insluitend die uitverkorene as kind van God), onberispelik voor Hom te stel en met Hom te verenig (Ef 1:3-5, 10). Om hierdie rede ervaar gelowiges reeds hier en nou 'n voorsmaak van die ewige lewe in die hart, die mond en met die hande. Die Bybel noem dit die 'eerste vrug' of 'deposito' (Rom 8:23; 2 Kor 1:22; 5:22) van hierdie ewige seën. Die kerk is God se instrument om in sy Naam hierdie seën na mense uit te dra en só vir hulle tot seën te wees (Matt 25:34-46). In die Nuwe Testament gee die kerk hieraan vorm deur die verkondiging van die evangelie met die holistiese motief van hart, mond en hande.

Godsvrug - ευσέβεια

Godsvrug - ook vertaal met godsaligheid (1953 OAV 1 Tim 6:11) of toewyding aan God (1983 NAV), integreer die vrug van 'n lewe met God met hart, mond en hande vanuit 'n missio Dei-perspektief. In sy kommentaar op 1 Timoteus stel Calvyn (1964:244) dat godsvrug die begin, die middel en die einde van die Christelike lewe in die geheel uitmaak. Waar ware godsvrug in iemand se lewe tot uiting kom, ontbreek niks meer nie.

Godsvrug word ook met goeie werke (1 Tim 2:10), toewyding (1 Tim 4:8) of deug (Fil 4:8) vertaal. Die totale lewe van gelowiges wat 'n lewende verwagting van God se eindoordeel het, moet gekenmerk word deur ευσέβεια (2 Pet 3:11). Dit dui op 'n gesindheid van liefde, ontsag, toewyding en oorgawe aan God self. Só lê God op die totale lewe van 'n gelowige beslag en het 'n impak op alle menslike verhoudings deur gedrag wat 'correct religious beliefs and attitudes' weerspieël (Buys 2012b:58; Louw & Nida 1996).

God: Godsvrug dui op eer vir God as die Skepper en Verlosser van die mens en wat aktiewe gehoorsaamheid aan sy geopenbaarde wil vra, asook 'n persoonlike toewyding wat meer as lippediens behels en wat vrees of bewondering oorstyg (Spr 1:7; Jes 11:2; 33:6; Luk 2:25; Foerster 1964; Wood & Marshall 1996:422). Brand et al. (2003) beskryf dit as respek vir God wat iemand se volledige manier van lewe beïnvloed.

Godsvrug sonder God as die Bron, is moralisme. Godsvrug het in alle opsigte groot waarde (1 Tim 3:8), maar inhoudlose skyngodsvrug weerspieël nie werklik die krag van egte liefde vir God en die naaste nie (2 Tim 3:5). Godsvrug word in geloof (πίστις) gebore, het sy wortels in Christus, word deur die Heilige Gees bemagtig (Gal 5:22, 23) en geskied elke dag om God te eer (Foerster 1964).

Skepping en mens: God het die mens geskep, in staat gestel en beveel om vrugbaar te wees deur die aarde te bewerk, te bewoon en te onderhou. As beelddraer van God is die mens op die aarde geplaas om vir God vrug te dra (Gen 1:26, 28). Openbaring eindig met dieselfde perspektief dat die uitverkorenes in die nuwe hemel en die nuwe aarde vrug sal dra (Op 22:1-5). In hierdie lig stel Foerster (1964) dat godsvrug op respek vir die goddelike geskape orde dui en daarom nie bloot 'n intellektuele denkwyse is nie. Dit is 'n konkrete manier van leef.

Hierteenoor is die gevaar van die Gnostisisme duidelik wat in werklikheid asketisme verkondig en dat die skepping sleg en boos is. Foerster (1964) vermoed dat hierdie beskouings uit die idee ontstaan het dat die wederopstanding (2 Tim 2:18) reeds plaasgevind het. 'n Integrale verstaan van die skepping en die herskepping maak dit duidelik dat inhoud en praktyk, leer en lewe, onafskeidelik is.

Jesus Christus: In 1 Timoteus 3:16 word God se volledige heilsplan deur Jesus Christus as die groot geheim van ware godsvrug uitgespel. Bepaalde ontwikkelings in Jesus se lewe maak godsvrug moontlik: die vleeswording, die bevestiging deur die Heilige Gees, die verskyning aan engele, die verkondiging in die wêreld en sy verheerliking. Achtemeijer, Harper en Row (1985) meen daarom dat egte godsvrug slegs deur Christus moontlik is. Hier verwys hy na 2 Petrus 1:3 waarvolgens God aan die mens alles geskenk het wat ons nodig het om te leef en Hom te dien. Paulus wys in 2 Timoteus 3:12 spesifiek daarop dat 'n godvrugtige lewe (εύσεβώς ζήν) in Christus Jesus geleef word. 'n Lewe van ware godsvrug het dus 'n duidelike Christologiese begronding wat in verskeie ander εύσέβεια-tekste ook na vore gebring word (Tit 1:1; vgl. ook Buys 2012b:58).

Heilige Gees: Die Heilige Gees produseer die geestelike vrug in gelowiges se lewe (Joh 5:5, 8, 16; Rom 7:4; Gal 5:22; Kol 1:10). Verskillende Bybeltekste stel godsvrug (Gal 5:20-21; 1 Tim 2:2; 3:16; 4:7-8; 6:11) teenoor die praktyke van die sondige natuur (Hand 3:12; Gal 5:20-22; 1 Tim 4:7, 8; 6:3, 5-6; 2 Tim 3:5). Paulus sê hieroor dat die gelowige deur die Gees wandel (Rom 8:4). Hierdie tekste onderskryf Floor (1989:138) se stelling dat die inwoning van die Heilige Gees geen verborge saak is nie, omdat die Heilige Gees 'n radikaal nuwe lewensingesteldheid en optrede in die mens tot stand bring. 'n Mens kan dit so uitdruk: Die Heilige Gees integreer godsvrug met hart, mond en hande, want waar Hy in gelowiges woon, is sy krag ook aktief en maak Hy die gestalte van Jesus Christus steeds meer deur hulle lewe sigbaar (1989:138).

Hierdie integrasie word duidelik deur die feit dat εύσέβεια veral in die pastorale briewe van die Nuwe Testament voorkom waar herderlike raadgewing aan die gemeentes gebied word. Floor (1989:139) verwoord die doel van hierdie begeleiding soos volg: 'De inwoning van de Heilige Geest in de gemeente komt in de vrucht van de Geest in het leven van de individuele gelovige tot openbaring'. Die Gees woon in gelowiges, met die gevolg dat die vrugte wat Hy in hulle werk, tot uiting kom. Die Heilige Gees het dus die wesenlike rol om godsvrug met die holistiese dimensies van hart, mond en hande te integreer. Dit is belangrik om in hierdie verband van Conell (1986:432) se opmerking kennis te neem, naamlik dat godsvrug regstreeks uit die regte gesindheid teenoor die Here voortspruit, en nie parallel daarmee loop, asof dit twee treinspore is nie. Die Heilige Gees werk dus die regte houding in die mens.

Kerk: Godsvrug is die uitwerking van 'n lewende geloof in Christus. Vir gelowiges is dit die uiterlike uitdrukking van 'n innerlike ervaring (Zodhiates 1992). Gesien uit die missio Dei-perspektief, is die kerk God se instrument om uit 'n vurige liefde en ontsag vir God die godsvrug met hart, mond en hande te toon. Dit geskied uit 'n gesindheid van liefde, ontsag, toewyding en oorgawe aan God self. Christene behoort konsekwente, godvrugtige lewens te lei. Hulle behoort hulle godsvrug so te toon dat hulle deurgaans daarvan bewus is dat God in elke aspek van hulle lewe teenwoordig is (Anderson 2007:29). Hierdie gesindheid blyk onder meer uit die afwesigheid van geldgierigheid en 'n lewenshouding waarin mense met die vervulling van basiese lewensbehoeftes tevrede is (Buys 2012b:58).

Dit staan juis in teenstelling met die vals leraars van wie 1 Timoteus 6:3 berig dat hulle met Jesus Christus self bots.

Hulle word as verwaand beskryf en met 'n sieklike sug na twisvrae en woordestryd. Hulle is vol afguns, twis, lastering, bose agterdog en dink dat die ευσέβεια winsgewend is. Die άνθρωπος του θεοΰ daarteenoor het 'n innige verlange daarna om voor God en mense reg te wees (δικαιοσύνη) in godsvrug (ευσέβεια), geloof (πίστις), liefde (αγάπη), volharding (ύπομονήν) en minsaamheid (πραϋπαθίαν) (Buys 2012b:58).

Uit die voorafgaande uiteensetting kan 'n mens aflei dat die kerk God se instrument is om met hart, mond en hande 'n toonbeeld te wees van 'n lewenswyse wat God eer. Hierdie leefstyl spruit uit 'n ware kennis van God en sy genade in Jesus Christus (1 Tim 3:16; 4:7-10; 2 Tim 3:10-12; Tit 1:1; 2:1112). 'n Opregte toewyding aan God verander en transformeer verhoudings en gedrag in alle opsigte (Wood & Marshall 1996:423). Gelowiges behoort só te leef dat dit God tevrede stel en terselfdertyd hulle medemens vir Christus wen (1 Pet 3:1-2; vgl. ook Schreiner 2007:296). Achtemeijer et al. (1985) verbind godsvrug aan kenmerkende bybelse begrippe soos geregtigheid, regverdigheid, liefde, standvastigheid, minsaamheid, deugsaamheid, kennis, selfbeheersing en broederlike liefde (1 Tim 6:11; 2 Pet 1:5-7). Hierdeur toon hulle aan dat godsvrug geïntegreer is in die kerk se taak om deur woorde en dade, uit 'n gesindheid van liefde, ontsag, toewyding en oorgawe aan God self, 'n impak op alle menslike verhoudings te hê.

1 Timoteus 4:8 is 'n verdere, duidelike voorbeeld van hierdie integrasie. Hiervolgens verbind Paulus die geestelike én praktiese lewe; die huidige én die ewige lewe regstreeks. Sodoende bevestig hy dat godsvrug groot waarde en 'n kragtige belofte vir die lewe, vir nou en die toekoms inhou.

Die kerk is dus God se instrument om met 'n geïntegreerde godvrugtige bediening menselewens te bevoordeel sodat hulle in hierdie lewe en in die komende lewe godsvrug kan oplewer (Brand et al. 2003). Hierdie integrasie druk Schaff (1887:536) uit as 'For of these two things we speak of - faith and godliness - the hope is the same, even everlasting life', terwyl Foerster (1964:182) stel 'The reference is to the positive effect of this mode of life'. Die eskatologiese perspektief van godsvrug kom duidelik na vore wanneer Paulus 'n godvrugtige lewe spesifiek aan 'die gelukkige dag wat ons verwag' (Tit 2:1113) verbind. Daarom is godsvrug aan die hoop op die ewige lewe verbind (Op 22:2).

Die kerk is deurlopend van hierdie kerntaak as instrument van die missio Dei bewus, naamlik om God met hart, mond en hande aan alle volke en nasies bekend te maak en Hom só te dien. Godsvrug is nie slegs op die persoon of kerk self gerig nie. Dit is 'n ingesteldheid wat steeds bewus is van die uitwerking wat die Christelike lewe op ongelowiges het (Foerster 1964).

Slotsom: God is die Bron van godsvrug. Dit word deel van die lewe van gelowiges wat in Christus gered word en sy voorbeeld van ware godsvrug navolg. Die gevolg is dat hulle in die verskillende fasette van hulle lewe toon dat hulle met die hoop op die ewige vrug, die nuwe aarde en die nuwe hemel bemagtig is. Deur uit genade godsvrug te toon, leef mense uit hulle skeppingsopdrag as beeld van God.

Vrees van die Here - פחד ,ירא, φόβος

Die vrees van die Here dui op 'n mengsel van vurige liefde en heilige ontsag. Hierdie lewenshouding is volgens Handelinge 9:31 duidelik kenmerkend van die eerste Christelike gemeente se spiritualiteit. Terwyl hulle met diep ontsag vir die Here geleef en in die 'vrees van die Here' en die vertroosting van die Heilige Gees opgetree het, het die gemeente juis grootliks in getalle toegeneem: πορευομένη τω φόβω του κυρίου και τη παρακλήσει του αγίου πνεύματος έπληθύνετο (Buys 2012a:7). Kinderlike vrees vir die Here beskryf 'n kernfaset van Christelike spiritualiteit en lê aan alle moraliteit en integriteit asook missionêre visie ten grondslag wat uit die toeëiening van God se trou, genade en liefde voortvloei. Diepgaande eerbied, respek en ontsag vir die Here is die reaksie van die kerk op die groot dade wat die Here verrig het (Louw & Nida 1996; Soanes & Stevenson 2004; Swanson 1997; Wood & Marshall 1996:365).

God: God as die almagtige en soewereine Skepper, Regter en Bewaarder dwing ontsag af wat enersyds angs en bangheid, en andersyds eerbied en respek inhou. God dwing steeds vrees vir Hom af deur die verkondiging, maar ook deur sy magtige dade in die natuur en die lewe van mense waardeur die mens Hom vrees. Kinderlike vrees vir God as 'n mengsel van heilige ontsag en vurige liefde is 'n onmisbare grondhouding vir gelowiges wat God se verstommende vergifnis gesmaak het (Ps 130:4) - 'n gawe wat daarna hulle hele lewenshouding en optrede bepaal.

Skepping: Ná die sondeval het die mense se kinderlike, liefdevolle vrees vir die Here in angswekkende bangheid verander. Dit het daartoe gelei dat die mense vir God weggekruip het, omdat hulle vir hulle naaktheid skaam was en in angs vir God se straf op hulle ongehoorsaamheid geleef het. Die volmaakte liefde en harmonie is weens die sondeval deur angs vir die wraak van die Here verdryf (1 Joh 4:18). Die Bybel eindig egter met die vooruitsig op die nuwe hemel en aarde waar die mens se vrees nie uit angs of bangheid nie, maar uit ontsag, eerbied, liefde en respek vir God bestaan. In hierdie verband begin en eindig die Bybel met kinderlike vrees vir die Here.

Deur sodanige godgegewe heilige vrees is die mense in staat om eerbied en ontsag vir God se outoriteit te toon, sy gebooie te gehoorsaam en alle vorms van boosheid te haat (Jer 32:40; Heb 5:7; Balz 1980). Wood en Marshall (1996) dui aan dat die beginsel van wysheid en opregtheid die vrees vir die Here is. Dit bepaal ook die soort mens van wie God hou asook die mens se hele diens aan God. Gevolglik is dit sinoniem met ware godsdiens.

Vrees vir die Here laat mense in die regte verhouding tot God kom om sodoende die Here gehoorsaam met hulle hele lewe te dien (Eks 20:20). Vrees vir die Here is integraal in die gelowige se woorde en dade, én in die sendingopdrag verweef. Daarom is die doel van die seën vir die nasies dat die eindes van die aarde die Here sal vrees (Ps 67:8).

Jesus Christus: Jesus het die vrees vir God benadruk, omdat God 'n mens se liggaam en siel in die hel kan vernietig (Matt 10:28; Luk 8:50; Mundle 1980:623). Balz (1980) wys daarop dat Jesus steeds 'n direkte verband tussen vrees vir die Here enersyds, en geloof en die daaglikse lewe andersyds, beklemtoon.

Volgens Johannes 14:11-14 stel Jesus sy woorde en dade as uitdaging vir sy volgelinge om uit ontsag vir die verheerliking van die Vader na te volg. Terwyl die vrees vir die Here die implisiete ondertoon en grondhouding vir Jesus se woorde en dade bepaal, is dit op die verheerliking van die Vader gerig.

Heilige Gees: Vir gelowiges wat die teenwoordigheid van Christus deur die Heilige Gees ken, het vrees die element van angs verloor. Dit is merkwaardig dat die Vroeë Kerk, wat grootliks in getalle toegeneem het, se spiritualiteit deur 'n gesindheid van vrees vir die Here en tegelyk ook vertroosting van die Heilige Gees gekenmerk is (Hand 9:31). Hulle het ook nie meer angstige vrees vir lyding (Op 2:10; 1 Pet 3:14) of vir die dood ervaar nie (Heb 2:15), omdat hulle deur Christus se dood daarvan vrygemaak is en kon weet dat God hulle Helper in alle dinge is (Heb 13:6; Rom 8:15, 28-30; vgl. ook Balz 1980).

Die Heilige Gees laat die vryheid wat Christus vir gelowiges verwerf het, in hulle hart 'n werklikheid word en laat daardeur vrees vir die Here as eerbiedige ontsag, respek en verwondering ontluik. Hierdie vrees sluit die vryheid in dat gelowiges God vrymoedig met woorde en dade integraal in hulle hele lewe kan dien en volg.

Kerk: Vrees vir die Here behoort in die missio Dei-perspektief die ingesteldheid van die kerk se woorde en dade te stempel.

Wanneer vrees vir die Here deel van die kerk se onderwys van die Woord van die Here vorm soos in Psalm 34:11, bied en vorm dit norme vir 'n verstandige en doelgerigte lewe (Spr 10:27; 14:26-27; 19:23; 22:4; vgl. ook Balz 1980). Hieruit blyk dat die vrees vir die Here in die geestelike en gewone praktiese lewe van 'n gelowige geïntegreer is. Die kerk is dan God se instrument om mense tot kinderlike vrees vir die Here op te roep (OAV 2 Kor 5:11).

1 Petrus 1:17-19 wys die kerk daarop dat haar ontsag en eerbied vir die Here met heiligheid en gebed verweef is. Dit is voorts tekens van iemand wat van vrees as angs vir die Here vrygemaak is. Die rede is (vgl. die είδότες δτι van vers 19) dat gelowiges weet hulle is met die kosbare bloed van Christus losgekoop - Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

Slotsom: Kinderlike vrees vir die Here is 'n omvattende beskrywing van Christelike spiritualiteit. Hierdie lewenshouding lê ten grondslag van alle moraliteit en integriteit en integreer die geloof, liefde en dade van die kerk. Uit Handelinge 9:31 en 2 Korintiërs 5:9-11 blyk dat die praktiese uitwerking hiervan onder meer die volgende uitwerking het: dit wakker die ontluiking van 'n missionêre visie by die gemeente aan, laat hulle in getalle toeneem en dit gaan juis met rus en vrede gepaard. Die vooruitsig dat elkeen voor die regterstoel van die Here sal verskyn, het vir die Vroeë Kerk as aansporing tot hierdie ingesteldheid gedien. Gesien uit hierdie perspektief, is vrees vir die Here juis God se groot doel met sy volle raadsplan (Buys 2012a:11). God wil sy eer en heerlikheid in 'n stukkende, korrupte en gebroke wêreld herstel sodat gelowiges kan 'smaak en sien dat die Here goed is ... want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie' (OAV Ps 34:9-10). Hierdeur wil God ewige vreugde gee aan elkeen wat deur die Heilige Gees getrek word om God self deur Jesus Christus as die enigste ware God te leer ken en Hom uit liefde en ontsag met hart, mond en hande te gehoorsaam.

Vrede - שָׁלוֹם en ειρήνη

In sendingwetenskaplike publikasies word gereeld debat oor die betekenis van shalom gevoer en die gevolge wat dit vir die omvang asook die aard en doel van sending inhou. 'n Voorbeeld is die debat oor DeYoung en Gilbert (2011) se boek aangaande die soeke na die aard van die kerk se sending en die plek van sosiale geregtigheid, vrede en die groot opdrag daarin. Hulle beklemtoon die proklamasie van die evangelie met die doel om dissipels te maak en beskou sosiale verantwoordelikheid gevolglik as minder belangrik (2011:20, 62). Met goeie reg het Stetzer (2011) egter aangetoon dat DeYoung en Gilbert die missio Dei se fokus versmal deur hulle siening dat praktiese geregtigheid vir die armes sorg en praktiese vrede nie deel van die missionêre taak van die kerk is nie.

Die evangelie getuig dat God Hom as die God van vrede bekend maak, dat Christus vrede is, maak en bring (Ef 2:14-16), dat Hy sy volgelinge oproep om vredemakers te wees (Matt 5:9) en dat die kerk gevolglik in vrede leef (Hand 9:31). Hieruit is dit duidelik dat hart, mond en hande in die missio Dei geïntegreer is. Hierdie aspekte is dus in God se aard, karakter en optrede geïntegreer en word ook so in Jesus Christus en die Heilige Gees geopenbaar. In die lig hiervan pleit die bediening van vrede vir 'n geïntegreerde benadering vir die aard, karakter en optrede van die kerk in ooreenstemming met die missio Dei.

God: Gideon noem die Here JHWH-Shalom (Rig 6:24) - die 'Here van vrede'. Daarmee tipeer hy God. So is God, in sy aard, wese en karakter. Vrede is in God self geïntegreer. Volgens Smith en Cornwall (1998) beteken dit dat God Vrede is en vrede bring. Die verhouding van die Drie-eenheid onderling is een van goddelike vrede. Vrede word in die hemel gemaak, sê Job 25:2. Paulus skryf: 'Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede ... ' (OAV Rom 8:6). God se name dui aan hoe Hy is: God in aksie. Dit is in God se aard om vrede te bewerk en dit is sy geskenk aan die mens (Num 6:26). Smith en Cornwall (1998) verduidelik dat God vrede is en vrede, welvaart, gesondheid, heelheid, guns, perfeksie, welsyn, rus en herstel gee asook die besef om 'n verantwoordelikheid na te kom. Vrede is in God gefundeer, omdat dit volledig met God se openbaring en optrede geïntegreer is.

Skepping en mens: Hoewel die bybelse skeppingsverhaal nie die term vrede in Genesis 1 en 2 noem nie, kan met reg afgelei word dat daar vrede was. Keller (2011:186) redeneer dat God alle dinge in 'n goeie, harmonieuse asook wedersyds afhanklike en in 'n hegte verhouding tot mekaar geskep het. Soos weefsel 'n kleed vorm, so vorm harmonieuse verhoudings 'n gemeenskap. Hierdie verweefdheid verwys na vrede. Hoewel Keller (2011:186) dit harmonieuse vrede noem, moet 'n mens dit nie tot 'n soort geestelike vrede tussen God en die mens en mense onderling beperk nie. Sonder geregtigheid is daar nie vrede nie (Ps 72:3-7; 85:9-11; Jes 32:17). Uit die betekenis van hierdie woord in die res van die Bybel kan vrede as die volmaakte gemeenskap tussen God, die mens, die dier en die res van die skepping omskryf word. Dit is 'n holistiese vrede tussen alle vorms van bestaan.

Die hemelse volheid en rykdom was in allerlei gedaantes -met hart, mond en hande - in die skepping aanwesig. Dit was totdat die sonde die volmaakte gemeenskap tussen God, die mens, die dier en die natuur beëindig het (Keller 2011:186188). Daarom kan 'n mens sonde as gebroke verhoudings omskryf waardeur vrede in al die verskyningsvorms ontbreek.

Alhoewel שָׁלוֹם met vrede vertaal word, wys Keller (2011:186) daarop dat die betekenis veel breër strek. Dit beteken volledige versoening, 'n toestand van volledige bloei in alle dimensies - fisies, emosioneel, sosiaal en spiritueel - omdat alle verhoudings perfek, goed en met vreugde vervul is.

Jesus Christus: Die moederbelofte van Genesis 3:15 bevestig dat die Verlosser vrede sal bewerk deur die vernietiging van die kwaad te beloof. Christus is as God se genadige geskenk van vrede geoffer, sodat die mens vrede met God verkry (Rom 5:1). Christus se verlossing wat 'alle dinge met God versoen' deur die nuwe verbond 'n volle werklikheid te maak, word in die begrip vrede saamgevat (Buys 2010:7). In Johannes (14:27; 16:32; 20:21) vertel Jesus Christus ter bemoediging en aanmoediging dat Hy aan sy dissipels die hemelse vrede agterlaat. Met verwysing na Jesaja 60:17: 'Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders', betoog Carpenter en Comfort (2000) dat God oor die restourasie en glorie van sy herstelde volk in Sion praat. God maak 'n belofte, sodat dit sy lydende volk kan bemoedig dat vrede en geregtigheid in plaas van korrupte diktators oor hulle sal heers. Een eienskap van die nuwe gemeenskap word metafories deur die woord שָׁלוֹם beskryf. Die verbinding van geestelike en fisiese werklikheid is hier duidelik.

Vrede is 'n daad vanuit God se wese wat hy opdra aan die sondige mens wat deur Christus verlos is (Rom 12:18). Foerster (1964) toon aan dat die Nuwe Testament drie konsepte van vrede (ειρήνη) ken, te wete eerstens 'n gevoel van vrede en rus, tweedens 'n staat van versoening met God en derdens die verlossing van die hele persoon in eskatologiese sin. Al drie aspekte van vrede is aanwesig, maar die laaste een vorm die basis (1964).

Volgens Carpenter en Comfort (2000) wil vrede nie soseer die afwesigheid van byvoorbeeld oorlog en onreg bring nie. Vrede wil veral 'n tyd, plek en toestand bewerkstellig waarin liefde, geregtigheid, politieke en morele opregtheid floreer. Wanneer God se vrede op sy volk rus, verkeer hulle in die hoogste staat van sy genade (2000). Dit beteken dat sy volk welsyn, voorspoed, rus, sekuriteit en veiligheid sal ervaar. Vir 'n missionêre bediening binne die missio Dei-perspektief is hierdie integrale verstaan van vrede wesenlik en open talle perspektiewe vir die sendingveld. In Christus is vrede integraal in 'n Persoon uitgedruk.

Heilige Gees: Die Heilige Gees integreer woorde en dade in die missionêre bediening as realisering van vrede. Die Heilige Gees word as die God van vrede verkondig (Fil 4:9; 1 Tess 5:23; Heb 13:20). Hy gee gehoorsaamheid, vrede en vreugde (Rom 14:17), versterk die gelowiges se hoop deur hulle met vreugde en vrede te vervul (Rom 15:13), hulle 'n lewe van vrede te gee (Rom 8:6) en hulle daaglikse gedrag met die vrug van vrede te rig (Gal 5:22-25). Deur vrede te bewerk, bring die Heilige Gees 'n gevoel en bewustheid vir welsyn, tevredenheid en volledigheid aan gelowiges, ongeag wat hulle uiterlike omstandighede behels.

Die Heilige Gees bring vredevolle verhoudings tussen mense (Ef 4:3) en tussen mense en God deur aan hulle vrede in plaas van angs te gee (Rom 8:1-2; 8:11, 14-17). Die Gees gee ook vrede in die gemoed waar mense moeilike situasies in die oë moet staar (Hag 2:5; Joh 16:5-21; 20:21-22). Met verwysing na 1 Tessalonisense 5:23-28 gee Knowles (2001) 'n opsomming hoe die Heilige Gees vrede integreer:

Peace is what happens when we align our hearts with heaven. Peace is a wholeness of body, mind and spirit, so that we are at one with Christ in the will and purpose of God. (pp. 642, 643)

Deur die Heilige Gees kom vrede in woorde én dade na vore. Die Heilige Gees integreer die bediening van vrede op allerlei praktiese gebiede in dade van barmhartigheid om só vrede te stig en te bring.

Die voordele wat die Gees gee en wat tot vrede lei, is nie in die eerste plek die doel op sigself nie, maar lei daartoe dat God verheerlik word.

Kerk: Die kerk is met 'n missio Dei-perspektief self die integrale draer en bewerker van vrede.

Dit is die gelowiges se taak om in die lig van die ewige vrede in Sion (Jes 60:17), nou reeds bakens en tekens van die ryke verskeidenheid van God se vrede op te rig. Met verwysing na 1 Korintiërs 3:9 is die gemeente soos 'n stuk land wat God deur sy dienaars laat versorg, maar waaroor Hy self sy seën gee (Grosheide 1933:42). God gebruik die missionêre bediening van die kerk om sy vrede in die wêreld uit te dra. Hierdeur sal die mensdom in al hulle lewensverbande, byvoorbeeld ekonomie, politiek, gesondheid en die natuur, vrede kan ervaar en tot volle ontwikkeling kan kom.

Die kerk moet vrede soek, daarvoor bid en self vredemakers wees. Hiervan getuig talle Bybelgedeeltes (o.m. Pred 17:1; Matt 5:9; Mark 9:51; Rom 12:18; 2 Kor 13:11; 1 Tim 2:2; vgl. ook Buys 2010:7). In hierdie tekste word die konsep prakties met verskillende betekenisse uitgewerk. Dit kom daarop neer dat onderlinge vrede op eenheid, eensgesindheid en harmonie in alle verhoudings gerig is. Dawid verbind in Psalm 85:1112 liefde, trou, vrede en geregtigheid met mekaar. Hierdie kwaliteite realiseer deur woorde en dade. Die verwagting van 'n ewige staat van vrede het deurgaans in sowel die Ou as die Nuwe Testament 'n eskatologiese fokus.

God gebruik regverdigheid en geregtigheid om vrede te herstel. Slegs geregtigheid kan werklik vrede bring (Buys 2010:8). Die herstel van die shalom-weefsel beteken dat die gelowiges hulle tyd, besittings, mag en middels in opoffering met die lewe en nood van ander mense vervleg (Keller 2011:189). Plantinga (1995) se samevatting van vrede toon die aard en die uitwerking daarvan aan:

In the Bible shalom means universal flourishing wholeness, delight - a rich state of affairs in which natural needs are satisfied and natural gifts fruitfully employed, a state of affairs that inspires joyful wonder at its Creator and Saviour, opens doors and welcomes the creatures in whom He delights. (p. 10)

Die kerk is met woorde en dade die draer, instrument en bewerker van die goddelike vrede.

Slotsom: Samevattend kan gestel word dat vrede in en by God begin - wie Hy is en wat Hy doen. Wanneer God in en deur Christus vrede bring, versoen Hy die mens integraal deur woorde en dade met Homself, om sodoende die gebroke band met Hom te herstel. Dit werk prakties uit in die onderskeie verhoudings waarin gelowiges hulle bevind. Die gevolg is dat die kerk uit die belofte van ewige vrede die opdrag aanvaar om hierdie vrede hier en nou te verkondig in die verskillende verhoudings waarin die mense hulle bevind. Sodoende bewerk die kerk deur die verkondiging vrede as eskatologiese bakens en tekens van die finale koms van die koninkryk. Volgens die missio Dei-perpspektief gee God en bewerk Hy nou reeds vrede as die voorafskaduwing van die ewige vrede. Hy gebruik die kerk as sy instrument in Christus om hierdie vrede te bewerk.

 

Finale gevolgtrekking

Ter afsluiting kan duidelik gestel word dat sleutelbegrippe in die Bybel die aspekte van woord en daad volledig integreer. Anders gestel: God verweef hart, mond en hande in sy pad met die mens. Die begrippe toon aan hoe woorde en dade in God se selfbekendstelling geïntegreer word en daarom 'n holistiese aanpak vereis waarin hierdie twee momente nie losgemaak mag word in die verkondiging van die evangelie nie. In 'n missio Dei-perspektief bied hierdie woorde 'n holistiese verstaan van Woord en daad, en is dit ook onlosmaaklik verbind. Die bestudeerde woorde is soos die verskillende drade van 'n spinnerak met mekaar verweef. Wanneer slegs aan een draadjie getrek word, beweeg die hele spinnerak. So kom alle bestudeerde woorde, integraal en holisties in beweging wanneer een woord aktueel word.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeurs verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

P.J.B. (North-West University) en A.J. (North-West University en the cooperating congregation of the Free Reformed and Christian Reformed Churches) het gelyk bygedra met die navorsing en skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Achtemeier, P., Harper, P. & Row, P., 1985, Harper's Bible dictionary, Harper & Row, San Fransisco. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Anderson, C., 2007, Opening up 2 Peter, Day One Publications, Leominster. (Logos Bible Software, version 5).         [ Links ]

Balz, H., 1980, Φόβος -fobos, Eerdmans, Grand Rapids. (Logos Bible Software, version 5).         [ Links ]

Battle, J.A., 1999, 'A brief history of the social gospel', Western Reformed Seminary Journal 6, 15-11.         [ Links ]

Beyer, H.W., 1985, Εύλογέω - eulogeo, Eerdmans, Grand Rapids. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Birdsall, S.D. & Brown, L., 2010, The Lausanne Movement: The Cape Town commitment - A confession of faith and a call to action, viewed 08 Apr. 2012, from http://www.lausanne.org/docs/CapeTownCommitment.pdf        [ Links ]

Bosch, D., 1991, Transforming mission: Paradigm shifts in the theology of mission, Orbis, Maryknoll.         [ Links ]

Brand, C., Draper, C., England, A. & Bond, S., 2003, Holman illustrated Bible dictionary, Holman Bible, Nashville. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Bultmann, R., 1964, ζάω, ζωή (βιόω, βίος), άναζάω, ζφον, ζωογονέω, ζωοποιέω, in G. Kittel, G.W. Bromiley & G. Friedrich (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 1-6, 9, Eerdmans, Grand Rapids. (Logos Bible Software, version 5).         [ Links ]

Buys, P.J., 2010, 'A biblical response to poverty and social justice: A South African post-Apartheid reformed perspective'. (Unpublished).         [ Links ]

Buys, P.J., 2012a, 'Strome van lewende water: Nuwe Testamentiese perspektiewe op die missionêre karakter van die kerk', In die Skriflig/In Luce Verbi47(1), 1-11.         [ Links ]

Buys, P.J., 2012b, Vorming van 'n man van God: Evaluering van internasionale debatte oor predikantsopleiding in die lig van perspektiewe uit 1 en 2 Timoteus, In die Skriflig/In Luce Verbi 44(1), 47-66.         [ Links ]

Calvin, J., 1964, Calvin's commentaries: The second Epistle of Paul the apostle to the Corinthians and the epistles to Timothy, Titus, Philemon, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Carpenter, E.E. & Comfort, P.W., 2000, Holman treasury of key Bible words: 200 Greek and 200 Hebrew words defined and explained, Broadman & Holman, Nashville. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Chester, T., 2004, Good news to the poor: Sharing the gospel through social involvement, InterVarsity, Leiscester.         [ Links ]

Conell, J.C., 1986, 'Godliness', in J.D. Douglas & B.D. Hillyer (eds.), New Bible dictionary, 2nd edn., InterVarsity, Leicester.         [ Links ]

Corbett, S. & Fikkert, B., 2009, When helping hurts: How to alleviate poverty without hurting the poor and yourself, Moody, Chicago.         [ Links ]

DeYoung, K. & Gilbert, G., 2011, What is the mission of the church? Making sense of social justice, shalom, and the great commission, Crossway, Wheaton.         [ Links ]

Easton, M.G., 1996, Easton's Bible dictionary, Logos Research Systems, Oak Harbor. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Foerster, W., 1964, ευσέβεια, in G. Kittel, W. Bromiley & G. Friedrich (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 1-3, 5-7, Eerdmans, Grand Rapids. (Logos Bible Software, version 5).         [ Links ]

Floor, L., 1989, De doop met de Heilige Geest, 2e dr., Voorhoeve, Kampen.         [ Links ]

Frettlöh, M., 1999, Theologie des segens: Biblische unddogmatische wahrnehmungen, Gütersloher, Gütersloh.         [ Links ]

Greeven, H., 1964, εύσχήμω, in G. Kittel, W. Bromiley & G. Friedrich (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 2, Eerdmans, Grand Rapids. (Logos Bible Software, version 5).         [ Links ]

Grosheide, F.W., 1933, Korte verklaring der Heilige Schrift met nieuwe vertaling: Paulus' eerste brief aan de kerk te Korinthe opnieuw uit den grondtekst vertaald en verklaard, Kok, Kampen.         [ Links ]

Hauck, F., 1985, makários [blessed, happy], makarizö [to consider blessed], makarismós [blessing], G. Kittel, W. Bromiley & G. Friedrich (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 4, Eerdmans, Grand Rapids. (Logos Bible Software, version 5).         [ Links ]

Haw, S., 2001, Micah Network Declaration on Integral Mission, viewed 20 Dec. 2011, from http://www.micahnetwork.org/sites/default/files/doc/page/mn_integral_mission_declaration_en.pdf        [ Links ]

Henry, M., 1996, Matthew:Henry's commentary on the whole Bible: complete and unabridged in one volume (Nu 6:22-27), Hendrickson, Peabody. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Kalland, E.S., 1980, Dabar, Moody, Chicago. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Keller, T., 2011, Ruim baan voor gerechtigheid: Rechtvaardig worden door Gods genade, Franeker, Van Wijnen.         [ Links ]

Kittel, G.,. 1985, Word and speech in the NT, in G. Kittel, W. Bromiley & G. Friedrich (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 4, Eerdmans, Grand Rapids. (Logos Bible Software, version 5).         [ Links ]

Kittel, G., Bromiley, W. & Friedrich, G., 1995, Theological Dictionary of the New Testament, Eerdmans, Grand Rapids. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Knowles, A., 2001, The Bible guide, Augsburg, Minneapolis. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Logan, S., 2011, World Reformed Fellowship: A proposed statement of faith, viewed 14 Sept. 2014, from http://wrfnet.org/articles/2010/03/proposed-statement-faith#.VOt4pEJPr6B        [ Links ]

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996, Greek-English lexicon of the New Testament: Based on semantic domains, vol. 1, electronic edn. of the 2nd edn., United Bible Societies, New York. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Manser, M.H., 1999, Dictionary of Bible themes: The accessible and comprehensive tool for topical studies, Martin Manser, London. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Medema, H.P., 2011, Totaal christendom: Zending in de hele wereld, van Kaapstad tot Lausanne, Medema, Heereinveen.         [ Links ]

Müller, D., 1980, μαθητής, in C. Brown. (ed.), The new international dictionary of New Testament theology, pp. 483-492, Paternoster, Grand Rapids.         [ Links ]

Mundle, J., 1980, Fear, in C.Brown (ed.), The new international dictionary of New Testament theology, pp. 631-624, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

Myers, A.C., 1987, The Eerdmans Bible dictionary, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Myers, B.L., 1999, Walking with the poor: Principles and practices of transformational development, Orbis, Maryknoll.         [ Links ]

Oswald, J., 1980, 3T|., Theological wordbook of the Old Testament, Moody, Chicago.         [ Links ]

Padilla, R., 2012, Dr. René Padilla, viewed 14 De. 2012, from http://www.micahnetwork.org/pt-br/staff/dr-rené-padilla 14-12        [ Links ]

Paschall, F.H. & Hobbs, H.H., 1972, The teacher's Bible commentary: A concise, thorough interpretation of the entire Bible designed especially for Sunday School teachers, Broadman & Holman, Nashville. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Peays, B., 2011, The Gospel Coalition: Foundation documents, viewed 15 Dec. 2012, from http://tgc-documents.s3.amazonaws.com/Foundation%20Documents/FoundationDocuments(English).pdf        [ Links ]

Plantinga, C., 1995, Not the way it's supposed to be: A breviary of sin, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Pop, F.J., 1984, Bijbelse woorden en hun geheim: Verklaring van een aantal Bijbelse woorden, Boekencentrum's Gravenhage.         [ Links ]

Procksch, O., 1985, λέγω, λόγος, ρήμα, λαλέω, λόγιος, λόγιον, άλογος, λογικός, λογομαχέω, λογομαχία, εκλέγομαι, έκλογή, εκλεκτός: The Word of God in the OT, in G. Kittel, W. Bromiley & G. Friedrich (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 4. Eerdmans, Grand Rapids. (Logos Bible Software, version 5).         [ Links ]

Sasse, H., 1972, ζωήν αίώνιον, in G. Kittel, W., Bromiley & G. Friedrich (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 1, pp. 197-209, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Schaff, P. (ed.), 1887, A select library of the Nicene and post-Nicene Fathers of the Christian Church, first series, Volume 3: St. Augustin: On the Holy Trinity, doctrinal treatises, moral treatises, Christian Literature Company, Buffalo. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Schirmacher, T., 2008, World mission: Heart of Christianity, Reformatorischer Verlag, Beese.         [ Links ]

Schreiner, T.R., 2007, 1, 2 Peter, Jude: The new American commentary, Broadman & Holman, Nashville. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Smith, S. & Cornwall, J., 1998, The exhaustive dictionary of Bible names, Bridge-Logos, North Brunswick.         [ Links ]

Soanes, C. & Stevenson, A., 2004, Concise Oxford English dictionary, 11th ed., Oxford University Press, Oxford. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Stetzer, E., 2011, 'Kevin DeYoung & Greg Gilbert: What Is the mission of the Church? Making sense of social justice, shalom, and the great commission' Crossway, Wheaton'. Available from, http://thegospelcoalition.org/themelios/review/what_is_the_mission_of_the_church_making_sense _of_social_justice_shalo 14-12.         [ Links ]

Strong, J., 2009, A concise dictionary of the words in the Greek Testament and the Hebrew Bible, Logos Research Systems, Bellingham. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Swanson, J., 1997, Dictionary of Biblical languages with semantic domains: Greek (New Testament), Logos Research Systems, Oak Harbor. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Thomas, R.L., 1998, New American standard Hebrew-Aramaic and Greek dictionaries, updated edn., Foundation Publications, Anaheim. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Van den Brink, G. & Van der Kooi, C., 2012, Christelijke dogmatiek: Een inleiding, Boekencentrum, Zoetermeer.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2012, 'Ontwikkelingsamewerking vir Afrika, met besondere aandag aan 'n vennootskapsverhouding', Koers-Bulletin for Christian Scholarship 72(3), 468-504.         [ Links ]

Van Gelder, C. & Zscheile, D.J., 2011, The missional church in perspective, mapping trends and shaping the conversation, Baker Academy, Grand Rapids.         [ Links ]

Verbeek, G., 2005, Recht in overvloed: Gerechtigheid en professionaliteit in de ontmoeting tussen arm en rijk, Damon, Budel.         [ Links ]

Vicedom, G.F., 1958, Missio Dei., Chr. Kaiser, Munich.         [ Links ]

Wessel, W.W., 1986, 'Blessed', in D.R.W. Wood, New Bible Dictionary, 2nd edn., p. 144, InterVarsity, Leicester.         [ Links ]

Wood, D.R.W. & Marshall, I.H., 1996, New Bible dictionary, 3rd edn., InterVarsity, Leicester. (Logos Bible Software, version 4).         [ Links ]

Wright, C.J.H., 2011, The mission of God: Unlocking the Bible's grand narrative, InterVarsity, Nottingham.         [ Links ]

Zodhiates, S., 1992, Sermon starters, volumes 1-4, Advancing the Ministries of the Gospel, Chattanooga.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
P.J. (Flip) Buys
PO Box 1042, Rayton 1001
South Africa
buys.flip@gmail.com

Received: 15 Sept. 2014
Accepted: 14 Jan. 2015
Published: 03 July 2015

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons