SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 número1The education of prospective ministers as an invitation to life: Moving from moral failure to moral excellence through a process of moral formationThe Double Love Commandment índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.49 no.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4102/ids.v49I1.1795 

ORIGINAL RESEARCH

 

Landskap van gemeentesang in die Nederduitse Gereformeerde Kerk aan die begin van die een-en-twintigste eeu: voorlopige verkenning

 

Landscape of congregational singing in the Dutch Reformed Church at the beginning of the 21st century: Preliminary exploration

 

 

Coenie Calitz

Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Musiek en sang binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) is in 'n proses van radikale verandering. Binne 'n 'global village' kan die ses strominge van kerkmusiek soos Paul Basden (2004) dit beskryf het, van groot waarde wees om die huidige prosesse in die NG Kerk te identifiseer en te beskryf. Hierdie prosesse word dikwels oorvereenvoudig deur die gebruik van die term 'blended worship'. 'n Dieper kyk na die bedoeling en betekenis van die term 'blended worship' wys dat die term in baie gevalle nie vir die huidige situasie of prosesse in die NG Kerk geskik is nie. Die huidige situasie veronderstel nie net die gebruik van nuwe vorms van musiek naas die oue nie, maar in baie gemeentes impliseer dit 'n wegbeweeg van die oue na die nuwe. Die uitdaging bly steeds om binne hierdie situasie getrou aan die Woord van God te bly, maar ook om effektief na die behoefte van die mense van ons tyd te handel.


ABSTRACT

Music and singing in the Dutch Reformed Church (DRC) is in a process of radical change. Within a global village, the six views of worship as identified by Paul Basden (2004) could be of great value in understanding die processes and streams within the music of the DRC. Variations and combinations of these views (streams) could be observed within the present-day liturgical singing within the DRC. This process is often oversimplified by using the term blended worship; a closer look at blended worship illustrates that the term blended worship in its original intention does not fit the current situation or process. The current situation does not only imply new forms of music combined with the old forms, it often implies a move away from the old in the direction of the new. Within this process the challenge of the DRC will be to stay faithful to the Word of God as well as contemporary society.


 

 

Inleiding

Vir honderde jare was die sang en musiek in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (hierna NG Kerk) grootliks voorspelbaar: dieselfde repertorium, aanbieding en styl kon in alle gemeentes van die NG Kerk waargeneem word en dit is eenvoudig as gereformeerde sang beskryf. In die afgelope eeu is die repertorium saamgevat en in gedrukte vorm beskikbaar gestel via die Psalmberyming (1937), die Gesangebundel (1944), die Psalms en Gesange (1978) en die Liedboek van die Kerk (2001) (Du Toit 1983). Die begeleiding is deur die kerkorrel verskaf met 'n min of meer voorspelbare ritme en inkleding (vgl. Strydom 1983:192-193).

In die afgelope aantal jare (25 jaar?) het hierdie prentjie egter dramaties verander. Sang en musiek verskil vandag van gemeente tot gemeente binne dieselfde denominasie (NG Kerk) en is grootliks onvoorspelbaar. Die repertorium het in baie gemeentes verbreed na 'n onbeperkte aantal liedere uit 'n onbeperkte aantal bronne, tydvakke, tradisies en genres. Die begeleiding is nie meer per se die van die kerkorrel nie en die begeleier of musikant is nie noodwendig 'n orrelis nie. Terme soos aanbiddingsleier, worship leader, musiekgroep, orkes, band, en nog meer het algemene begrippe binne baie gemeentes geword. Dikwels word verskillende eredienste vir verskillende groepe binne die kerk gehou. In baie gevalle lê die enigste of grootste verskil tussen die verskillende eredienste in die sang en musiek: die repertorium, begeleiding, musikant(e), style, genres, of kombinasies daarvan (Calitz 2011:2). Met betrekking tot die liturgie hoor 'n mens al hoe meer die term bricolage1 (vgl. Barnard 2008). Hierdie term word al hoe meer ook met betrekking tot musiek en sang in die erediens gebruik (vgl. Hoondert 2009). Binne die konteks van sang en musiek hoor 'n mens ook al hoe meer die term 'blended worship' en 'convergence music' (Van der Merwe 2009b:251-252). Hierdie proses van verandering word met verskillende sentimente en emosies deur verskillende rolspelers en deelnemers beoordeel.

Hierdie artikel is slegs 'n voorlopige verkennende studie en poog om die verskuiwings en bewegings met betrekking tot gemeentesang in die NG Kerk te identifiseer en daarmee saam moontlike implikasies vir die breër gereformeerde kerk aan te dui. Die vertrekpunt is dat die verskuiwings binne die musiek van die NG Kerk nie beperk is tot die NG Kerk of Suid-Afrika nie. Die vraag is watter benaderings tot gemeentesang en -musiek vandag waarneembaar is, watter verskuiwings besig is om plaas te vind, en watter uitdagings dit vir die plaaslike (gereformeerde) gemeentes inhou.

Eerstens word kortliks na die ses groot benaderings tot gemeentesang gekyk soos Paul Basden (2004) dit identifiseer, beskryf en beoordeel. Vervolgens word aan die hand van enkele liturgiese variasies op hierdie groot benaderings geïllustreer wat in gemeentesang en -musiek binne die NG Kerk (en waarskynlik ook in ander gereformeerde kerke) neerslag vind. Laastens word gepoog om hierdie proses te beskryf.

Die volgende afkortings of simbole word deurgaans in die artikel gebruik:

FLA: Formeel-liturgiese aanbidding (Formal liturgical worship').

TLGA: Tradisionele liedboekgebaseerde aanbidding (Traditional hymn-based worship).

KA: Kontemporêre aanbidding (Contemporary worship).

CA: Charismatiese aanbidding (Charismatic worship).

GA: Gemengde aanbidding (Blended worship).

OA: Opkomende of ontluikende aanbidding (Emerging worship).

Ses benaderings tot die erediens (gemeentesang)

Basden (2004) identifiseer ses prominente bewegings in of benaderings tot die erediens (dus ook kerksang en-musiek) in Noord-Amerika. Basden se publikasie is uniek daarin dat die verskillende benaderings tot die erediens opgesom en beskryf word deur kenners van die betrokke aanbiddingstyle2 self; dus 'n beskrywing en waardering van binne. Calitz (2011) dui aan dat musiekstyle en -genres nie van buite beoordeel kan word nie, aangesien alle vorms van kerkmusiek en -sang ten nouste met die kultuur van die denominasie of die plaaslike gemeente verbind is; musiek is deel van die gemeente se kleinverhaal. Die publikasie is verder uniek daarin dat die verteenwoordigers van die verskillende benaderings tot die erediens met mekaar in gesprek tree oor die erediens (asook die musiek binne die erediens) en daar dus ook 'n waardevolle waardering en evaluasie van buite plaasvind. Hierdie gesprek is wesenlik belangrik in die ontlonting van die voortgaande 'worship wars' (vgl. Long 2001:1) en in die soeke na oplossings vir die dilemma waarin die gereformeerde kerke hulself met betrekking tot die kerklied bevind. 'n Eensydige waardering en evaluering van buite deur slegs een benadering tot die kerklied bied weinig waarde.

Basden (2004) se ses benaderings tot aanbidding (die erediens) sou goedskiks gesien kon word as 'n meer gedetailleerde beskrywing van die drie kragte waarvan Long (2001) melding gemaak het.3 'n Baie kursoriese opsomming van elkeen van hierdie benaderings word aangebied, asook die moontlike waardes en leemtes van elke benadering soos dit in die interaksie tussen voorstanders van die verskillende benaderings duidelik word. Elke soort musiek binne die erediens kan slegs verstaan word binne die groter prentjie van die erediens (liturgie) waarbinne dit funksioneer. 'n Beskrywing van sang en musiek noodsaak daarom ook 'n kort beskrywing van die liturgie. So 'n beskrywing is altyd onvolledig omdat liturgie meer is as net die opeenvolging en vloei van bepaalde elemente. Die belewenis en atmosfeer binne die erediens asook die werking van die Heilige Gees in deelnemers se harte tydens die erediens kan ongelukkig nie hier beskryf en verreken word nie.

Formeel-liturgiese aanbidding4(Formal liturgical worship)

Zahl (2004:21-36) beskryf die formeel-liturgiese erediens (FLA van hier af) as 'n erediens (en dus ook musiek) met 'n bybelse vertikaliteit (gerig op God). Die musiek kan moeilik verstaan word buite die liturgiese raamwerk waarin dit funksioneer. Dit het 'n vaste vorm en laat weinig ruimte vir spontaniteit. Dit is voorgeskrewe musiek en word grootliks deur die plek binne die liturgie bepaal. Dit het 'n meer formele karakter en is by uitstek liturgiese musiek. FLA is Skrifgesentreerd en Zahl (2004:24) beklemtoon dat dit nie prediker-georiënteerd is nie. Dit berus baie sterk op die beginsel van Lex Credendi Lex Orandi - wat ons glo die bepalende is van hoe ons (aan) bid. FLA is op die Sola Scriptura-beginsel van die Reformasie gebou met die klem op '(r)ight (Bible) thoughts of God, right (Bible) thoughts of Christ, right (Bible) thoughts of the human being' (Zahl 2004:26). Binne die formeel-liturgiese beweging het die nagmaal 'n sentrale plek. Musiek vervul verskeie funksies binne die formeel-liturgiese beweging. Eerstens dien dit as katalisator vir menslike emosies, naamlik as 'sighs too deep for words' (Rom 8:26). Tweedens het dit 'n lerende funksie deurdat dit tot geestelike verdieping en geestelike opbou bydra. Musiek in FLA is meesal 'music of quality married to words of substance' (Zahl 2004:29) waar 'music of quality' primêr op musiek uit die westerse Christelike kanon dui. Zahl (2004:30-33) dui tereg self drie besware teen FLA aan, naamlik dat dit die werking van die Heilige Gees beperk (quench), dat dit dikwels koud en klinies is, en dat dit nie gebruikersvriendelik is nie (veral ten opsigte van buitestanders en dus ten opsigte van evangelisasie).

Kritiek vanuit die ander vyf benaderings (Basden 2004: 37-55) tot hierdie erediensbenadering sluit onder andere in die oorbeklemtoning van die vertikale dimensie en die onderbeklemtoning van die horisontale dimensie, voorspelbaarheid (vaste orde), wêreldvreemdheid, beperking van die werking van die Heilige Gees, ontkenning van die postmoderne mens en die wêreld, die afwesigheid van nuwe en moderne style soos Kelties, blues, urban, en so meer.

Tradisionele liedboekgebaseerde aanbidding (Traditional hymn-based worship)

Best (2004:59) beskryf die tradisionele liedgebaseerde aanbidding (TLGA) as aanbidding wat op die uitgangspunt rus dat ons nie geskep is om te aanbid nie, maar dat ons aanbiddend (worshiping) geskep is. TLGA sluit gesonge teks (lirieke) en instrumentele musiek in. Dit bevat instruksionele en responsoriese sinne wat gesê of gesing kan word, asook geselekteerde Skrifgedeeltes. Dit sluit grootliks drie soorte gebede in, naamlik kort bedes (invocations, petitions, of benedictions), gemeentelike gebede en pastorale gebede (namens die gemeente). Daar is normaalweg ook 'n preek - dikwels in die vorm van 'n homilie. Binne die liturgie is daar ruimte vir offergawes asook periodieke vierings van die nagmaal; laasgenoemde het meestal 'n eie, unieke kombinasie van musiek, teks en gebede. Met betrekking tot die musiek binne die TLGA meld Best (2004:64) dat liedboeke 'n belangrike rol speel en dat liedere meestal in gedrukte vorm gebruik word. Binne hierdie korpus van liedere is daar 'n sterk verbintenis tussen musiek en artefakte. Saam met die Bybel en opsionele gebedeboeke of liturgieboeke vorm die liedboek (hymnal) die primêre bron vir gemeentesang. Best (2004:65-71) noem die volgende eienskappe van die liedbundel binne hierdie stroom:

  • Dit is 'n tydelike en mensgemaakte dienskneg van die Woord.
  • Dit is 'n boek met 'n diversiteit van style.
  • Dit bevat tekste en musiek van hoogstaande gehalte.
  • Dit floreer op beskikbare gedrukte materiaal.
  • Dit druk die geskiedkundige stryd uit om nie-bybelse tekste te sing.
  • Dit is 'n uitstekende instrument vir persoonlike toewyding.
  • Dit is 'n uitstekende wetenskaplike en musikale bron.

Kritiek vanuit die ander vyf benaderings teen die TLGA (Basden 2004:76-94) sluit onder andere die volgende in: selfvoldaanheid met min ruimte vir die werking van die Heilige Gees; geneigdheid om te vergeet dat die Heilige Gees steeds mense inspireer om liedere te skryf; die fokus op mense wat reeds in die kerk is en 'n mindere fokus op buitestanders; dit weerspieël dikwels 'n ou vergange kultuur; die afwesigheid van elemente van die kontemporêre kultuur soos die digitale kuns, video, fotografie, populêre musiek, ensovoorts.

Kontemporêre aanbidding (Contemporary worship)

Horness (2004:99-116), 'n 'worship leader' van Willow Creek Community Church, beskryf kontemporêre aanbidding (KA) as aanbidding wat gebou is op dié God wat begeer om in 'n verhouding met die mens te staan. Hy begeer harte wat Hom ken. Kontemporêre musiek is daarom gebore uit 'n intense begeerte om van 'disinterested reciting of creeds and singing of hymns' (Horness 2004:102) na 'n outentieke tyd van intieme interaksie met God te beweeg. Daarom maak musiek in die KA gebruik van moderne instrumente (soos kitare, tromme, sintetiseerders, perkussie en horings) en kontemporêre musiekstyle (soos rock, jazz, hip-hop, rap, gospel, ens.). Nuut-gekomponeerde asook nuut-gerangskikte5 liedere (nuwe verwerkings van ou liedere [hymns]) binne die taal en idioom van die huidige generasie is belangrik (Horness 2004:102). Hierdie vorms van musiek word dikwels met ander kreatiewe elemente soos Skrif, gebede, liturgiese elemente en visuele voorstellings gekombineer. Op die oppervlak word musiek in KA dikwels met tromme, kitare, refreine, dataprojektors, 'n worship team (met mikrofone) en 'n worship leader geassosieer. Die klem in KA val egter nie net op die instrumente en die genres van musiek nie, maar veral op die begeerte om God outentiek te aanbid. Ervaring speel 'n groot rol in die KA-beweging. Die strewe van KA is 'n verhouding met God; hierin speel tweerigtingkommunikasie tussen God en die mens 'n groot rol. KA het ten doel 'to produce authentic worshipers of Jesus Christ'6(Horness 2004:109). Binne die KA-beweging word van die standpunt uitgegaan dat die orrel nie 'n appèl tot moderne generasies en jonger mense maak nie (Horness 2004:105). KA sluit by die kultuur van die dag aan en maak dit makliker vir buitestanders om in te kom. Horness (2004:110) meen dat KA nie verbruikersgeoriënteerd is nie, maar in die hart van God ontstaan. Die 'contemporary worship leader speel 'n belangrike rol in die liturgie van die KA-beweging en skep die geleentheid vir deelnemers om God te ontmoet. Musiek binne die KA-beweging is 'n offer en vereis elke deelnemer se beste (Horness 2004:115).

Voorstanders van die ander vyf benaderings opper tereg die volgende kritiek teen die KA-beweging (Basden 2004:117-136): KA maak dikwels verkeerdelik aanspraak daarop dat dit die enigste musiek is wat tot 'n ontmoeting met en 'n belewenis van God lei; dit kom dikwels werksgedrewe voor in plaas van geloofsgedrewe; die persepsie word geskep dat KA noodwendig tot 'n ontmoeting met God lei (die styl van aanbidding bemiddel of veroorsaak dus die ontmoeting); die (foutiewe) aanname dat die orrel nie ook mense in die moderne konteks kan aanraak nie; asook 'n persepsie van 'n tekort aan artistieke diepte in KA Verder neig KA dikwels tot oppervlakkigheid en is daar steeds min ruimte vir ander style soos jazz. Gevoel word dikwels die maatstaf vir aanbidding. Die persepsie word soms geskep dat die worship leader en die worship team in staat is om God voluit lief te hê en voluit te aanbid; die herkenning van die gebrokenheid van die mens (ook in hulle aanbidding) is dikwels afwesig. Morgenthaler (2004:134) wys daarop dat kontemporêr dikwels nie so kontemporêr is nie, maar tot die musiek van die tagtigerjare van die vorige eeu beperk is.

Charismatiese aanbidding (Charismatic worship)

Williams (2004:139) beskryf charismatiese aanbidding (CA) as aanbidding wat uit die politieke en kulturele krisis van die sestigerjare in die VSA gebore is. CA kan teologies gedefinieer word as 'worship where the leadership and gifts of the Spirit (charismata) are evidenced and welcomed in personal and corporate praise, responding to a mighty act of God' (Williams 2004:139). CA is uit die Amerikaanse Pentekostalisme gebore. Laasgenoemde het uit die Azusa Street herlewing in 1906 ontstaan en groot klem is op die doop met die Heilige Gees gelê wat uiting in glossolalie en 'n ervaring van die Heilige Gees gevind het. Williams beskryf die Pentekostalisme as 'evangelical in its theology and revivalist in its worship' (2004:140). Pentekostalisme het in 1960 in die Episkopaalse kerk ingang gevind en in 1967 neerslag in die Rooms-Katolieke Kerk gevind. Die kontra-kulture van die sestiger jare en die ontstaan van nuwe genres van musiek binne hierdie kontra-kulture het via die Jesus-beweging bygedra tot nuwe vorms van musiek (dikwels genoem Jesus music). Hierdie beweging is deur 'n sterk apokaliptiese verwagting,'n groot ywer vir evangelisasie en ook 'n baie eenvoudige en onkritiese geloof gekenmerk. Die CA-beweging is verder deur die Third Wave gevorm waar glossolalie nie meer so belangrik was nie. John Wimber speel 'n belangrike rol in hierdie beweging en beklemtoon dat aanbidding (sang) nie 'n middel tot 'n doel is nie, maar 'n doel op sigself. Wimber ontwikkel 'n vyffase model vir aanbidding met die doel om intimiteit met God te ervaar. Dit sluit die volgende elemente in: Oproep tot aanbidding (call to worship), betrokkenheid (engagement), verhoging (exaltation), bewondering (adoration) en intimiteit (intimacy) (Williams 2004:143). Deur middel van CA is die plek van die Heilige Gees in die erediens herstel. CA is nie mens- of emosiegesentreerd nie, maar Godgesentreerd (trinitaries). Die gemeente is aktief in CA betrokke en die musiek het 'n transformerende effek. Williams (2004) beskryf musiek in CA (soos die musiek van Matt Redman) van binne as:

God-centered worship with spiritual depth, poetic power, and contemporary relevance

... scriptural, revealing the tensions of the biblical revelation of God - transcendent and immanent, holy and loving, inviting us into the paradox of friendship and fear. (p. 147)

Kenmerke van CA sluit die opheffing van hande, die sing in die Gees, die ontvangs van geestelike gawes, die fisiese manifestasies van die Gees se krag asook gebedsbediening in die tweede deel van die erediens in. Williams (2004:149152) noem dat kritici van CA dit dikwels as musiek met 'n gebrek aan teologiese diepte sien, maar met 'n oordrewe subjektiwiteit en 'n oordrewe sentimentaliteit.

Kritiek vanuit die ander vyf benaderings tot aanbidding (eredienste en musiek) (Basden 2004:153-171) sluit die volgende in: Daar is dikwels 'n eensydige klem op oorwinning (deur die Gees) en 'n onderbeklemtoning van die kruis, redding en heiligmaking; die vraag of worship werklik tot gevolg het dat God sy mense hoor soos Wimber beweer; die vraag of CA werklik spontaan is indien dit op 'n vaste skema (Wimber se vyffasemodel) gebaseer is; die vraag of CA op 'n pneumatologiese Christologie of 'n Christologiese Pneumatologie rus; die vraag of CA werklik tot 'n meer intieme lewe met God lei as die ander benaderings tot musiek; die vraag waarom die nagmaal binne die CA-beweging verwaarloos word; die verwaarlosing van die persoon en werk van Jesus Christus in CA. Vanuit die ander benaderings tot aanbidding word op 'n positiewe noot ook opgemerk dat daar binne die CA 'n dimensie teenwoordig is wat dikwels binne die ander benaderings afwesig en selfs gemis word.

Gemengde aanbidding (Blended worship)

Webber (2004:175-191) beskryf blended worship [gemengde aanbidding7] (GA) as 'n sintese tussen die Liturgiese Vernuwingsbeweging (sestiger- en sewentigerjare) aan die een kant en die Kontemporêre Vernuwingsbeweging aan die ander kant. Die Liturgiese Vernuwingsbeweging van die twintigste eeu sluit volgens Webber (2004:176) verskeie tradisies in, naamlik die Liturgiese, Gereformeerde, Anabaptiste, Restorasie (Restoration), Herlewing (Revivalist), Kwaker, Heiligheid en Afro-Amerikaanse tradisies. Die Liturgiese Vernuwingsbeweging het in ses groot bewegings in die erediens gekulmineer. Hierdie bewegings is: die herstel van die teologie van aanbidding, 'n nuwe waardering vir die historiese viervoudige struktuur van die erediens, 'n nuwe besinning oor die nagmaal, die herstel van die Christelike jaar, nuwe vrae oor die rol en plek van musiek asook ander kuns binne die erediens, en nuwe pogings om die deelname van die gemeente te vergroot.

Binne die Kontemporêre Hernuwingsbeweging onderskei Webber (2004:177-178) die invloed van die Pentekostalistiese beweging, die Latter Rain Movement en die opkoms van die 'chorus tradition' onder invloed van Bill en