SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 issue1Resensies author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.48 n.1 Pretoria Feb. 2014

 

BOOK REVIEW

 

Geloofsmomente wat van God se genade getuig

 

 

Hendrik Goede

Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: 'Kairoi' van genade

Book Cover:

 

 

Author: F. Viljoen (ed.)

ISSN: 978-0-86955-212-4

Publisher: Potchefstroom Theological Publications, Potchefstroom, 2013, R180.00*

*Book price at time of review

Hierdie publikasie is die tweede in 'n reeks, uitgegee deur Potchefstroomse Teologiese Publikasies, wat gerig is die op die verdieping van prediking, die erediensbelewing, groepsbediening en huisgodsdiens. Die eerste publikasie het op die kerklike kalender gefokus terwyl hierdie boek aandag skenk aan kairoi-momente in die lewe van gelowiges en gemeentes. Die Nuwe-Testamentiese gebruik van die woord kairos om te verwys na 'n besondere of beslissende geleentheid wat 'n voelbare en selfs sigbare en tasbare impak het, is hier van belang. Na aanleiding van hierdie betekenis belig 'Kairoi' van genade daardie oomblikke in die gelowige se lewe wat nuwe moontlikhede en geleenthede oopmaak maar ook elke gelowige tot verantwoording oproep. As uitgangspunt word hierdie kairoi as waardevolle geskenke uit die hand van God beskou. Dit is in Christus aan elke gelowige toegedeel en word deur die Gees as 'n openbaring van God se genadige betrokkenheid en ingryping in gelowiges se lewens gebruik.

Die publikasie fokus op die volgende geloofsmomente: doop; voorbereiding, nagmaal en nabetragting; aflegging van geloofsbelydenis; huwelik; begrafnis en troosdiens; bevestiging van diakens; bevestiging van ouderlinge; sending en evangelisasie; en barmhartigheidsdiens. Die onderskeie afdelings is deur predikante en teoloë geskryf wat hulle insigte in die Skrif en praktiese ervaring op 'n verstaanbare en toeganklike wyse met die lesers deel. Elke moment word belig met behulp van agtergrondopmerkings, prediking, gebed, ander relevante teksgedeeltes en sprankelspreuke. Hierdie patroon vergemaklik die leeservaring, terwyl die bladuitleg ook sinvol is. Die genade van God word deurlopend in elkeen van hierdie lewensmomente duidelik uitgewys.

'Kairoi' van genade behoort tot 'n wye verskeidenheid lesers te spreek. Die agtergrondopmerkings en preke bied inspirasie vir predikers vir wie prediking oor hierdie momente 'n uitdaging geword het. Die versoeking om in 'n groef te verval, is groot! Die publikasie herinner predikers aan die belang van relevante prediking by geleenthede wat soms as bloot roetine beskou word (miskien veral die bevestiging van ampdraers). Predikante in die pastoraat of beraders sal baat vind by die pastorale inslag van die afdelings. Vir leiers in Bybelstudie- of kleingroepe is daar baie stof tot nadenke en gesprek oor hierdie kernmomente in die lede se lewens. Die stof kan ook deur begeleiers as 'n voorbereiding van lidmate met die oog op huweliksluiting, doop, belydenisaflegging en selfs die bevestiging van ampsdraers gebruik word. Vir elke gelowige is hierdie publikasie 'n kragtige herinnering aan God se genade in elkeen van hierdie kernoomblikke in jou geloofslewe. Daarin sal elke leser troos en bemoediging vind.

Ek beveel 'Kairoi' van genade met groot vrymoedigheid aan vir predikers, ampsdraers, pastors en beraders, Bybelstudie- en kleingroepleiers en elke individuele lidmaat. Gelowiges sal aanklank vind by die herinnering aan hierdie momente in elkeen se persoonlike lewe, of die vooruitsig om dit nog te ervaar. Hierdie momente sal dieper betekenis verkry en 'n meer blywende impak op hulle lewe maak. Lesers sal tot selfondersoek en bekering opgeroep word: gryp ek die kairos of die geleentheid aan wat God in Christus en deur sy Gees vir my met my doop, belydenisaflegging, huweliksluiting, deelname aan die nagmaal, bevestiging, ensovoorts geskenk het? Lewe ek vanuit die genade wat God met elke kairos-moment vir my gee? Lees hierdie boek en kom weer onder die indruk van God se oneindige genade en liefde!

 

 

Correspondence:
Hendrik Goede
PO Box 264311, Three Rivers
1935, South Africa
Email: henniegoede@telkomsa.net

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License