SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 issue1Resensies author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.48 n.1 Pretoria Feb. 2014

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis as geloofsvooronderstelling in die gesprek tussen wetenskap en geloof

 

Article 2 of the Belgic Confession as faith presupposition in the science-faith debate

 

 

Jan A. ErasmusI, II

IFaculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
IIReformed Church Odendaalsrus, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely dat God deur twee middele geken word, te wete deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die wêreld (waaronder die wetenskap) en deur die heilige en goddelike Woord (die Bybel). Hierdie belydenis is van groot belang vir die gesprek tussen Wetenskap en Teologie. In hierdie artikel word gepoog om die verskille, maar ook die ooreenkomste tussen hierdie twee middele van openbaring uit te lig, elkeen tot sy reg te laat kom, maar hulle ook in balans met mekaar te stel. Die wyse waarop te werk gegaan word, is die volgende: eers word gestel wat vooronderstellings is, asook die plek wat vooronderstellings in die beoefening van wetenskap sowel as geloof inneem. Daarna word nagevors watter perspektiewe artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis as geloofsvooronderstelling vir die wetenskaps- en teologiebeoefening respektiewelik bied. Hieruit word 'n aantal gevolgtrekkings gemaak wat kan help om die problematiek in die wetenskap-geloofsgesprek op te los. Die kernbevinding van hierdie artikel is die volgende: Vanweë die verskil in die aard en die doel tussen Bybelfeite en wetenskaplike navorsingsresultate kan en sal klaarblyklike harmonieprobleme tussen die Skrif en die wetenskap ontstaan. Hierdie is egter slegs klaarblyklike probleme, omdat 'n verrekening van die verskil in die aard en die bedoeling van die wetenskapresultate en die Bybelfeite hierdie probleem sal oplos.


ABSTRACT

Article 2 of the Belgic Confession confesses that God can be known by two means: firstly by studying the creation, preservation and government of the universe (i.e. science) and secondly by studying the Word of God (the Bible). This confession is very important for the discussion between science and faith. In this article the similarities, but also the differences between these two means of revelation are researched. The aim is to set them in balance and in order to let each one come to its own right. The way the research is done is as follows: In the first place the role of presuppositions in both science and faith are determined. Secondly research is done on the perspectives obtained for both science and faith when Article 2 of the Belgic Confession is taken as a faith presupposition. Finally conclusions are made in helping to resolve the differences in the science-faith debate. The main finding is that harmony problems between facts from the Bible and scientific results will occur because of the difference in nature and meaning between these two entities. However, when the set difference in nature and meaning are taken into account, these problems can be resolved.


 

 

Inleiding en doel van hierdie artikel

In artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) word bely dat God deur twee middele geken word. Eerstens word God geken deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die wêreld. Alhoewel hiermee meer bedoel word as die blote kennis wat deur (natuur-) wetenskaplike navorsing ontdek word (vgl. Polman s.a.:145), is 'n belangrike komponent van hierdie middel inderdaad natuurwetenskaplike kennis.

Ten tweede word bely dat God geken word deur sy heilige en goddelike Woord - die Bybel.

Die problematiek vir baie gelowiges is dat dit lyk asof die Bybel en die wetenskap mekaar weerspreek. Durand (2013:218) stel dit sterk as hy sê dat hierdie problematiek die moontlikheid inhou dat dit meer en meer denkende lidmate van die kerk af wegdryf. Van Wyk (2013:2) noem 'n verdere gevolg, naamlik dat dit vir baie mense onmoontlik begin lyk dat enige intellektuele persoon, of iemand wat erns maak met die resultate van die (natuur-)wetenskap, langer in God kan glo.

Is deel van hierdie problematiek nie dalk die feit dat die besondere aard van die Godsopenbaring in onderskeidelik die Bybel en die (natuur-)wetenskap nie genoegsaam verreken word in nadenke oor hierdie saak nie? Die nalaat van hierdie verrekening lei dan daartoe dat na een van twee uiterstes oorbeweeg word. Aan die een kant word oorgeleun na 'n ateïstiese wetenskapsbeoefening waarin daar geen plek vir God (en die Bybel) is nie, terwyl die swaartepunt na die ander kant 'n fundamentalistiese geloofsbeoefening (en benadering tot die Bybel) is waarin daar feitelik geen plek vir moderne natuurwetenskaplike bevindings is nie.

In hierdie artikel gaan gepoog word om die verskille, maar ook die ooreenkomste in die aard van die twee tipes Godsopenbaring wat artikel 2 van die NGB stel, uit te lig. Hieruit kan enkele afleidings gemaak word oor die verband tussen die twee tipes openbaring en hoe verskille tussen die twee tipes hanteer moet word. Hierdeur wil gepoog word om albei middele van Godsopenbaring individueel tot hulle eie reg te laat kom en 'n balans te stel waarin hulle mekaar kan aanvul en nie weerspreek nie.

 

Vooronderstellings

Die plek van vooronderstellings

Vooronderstellings is aannames waarin geglo word (vgl. Du Plessis 2006:45). Polkinghorne (1994:9) asook Du Plessis (2006:45) wys baie duidelik daarop dat niemand sonder vooronderstellings funksioneer nie. Selfs wetenskaplikes wat hulself as objektief teenoor hulle studieveld beskou, funksioneer nie sonder vooronderstellings nie. 'n Wetenskaplike teorie berus op sekere geloofwaardige of betroubare veronderstellings en aannames, omdat alle vorms van menslike denke 'n metafisiese onderbou het (vgl. Lennox 2009:61). Metafisika gaan verder as wat fisies bewys kan word (Polkinghorne 2011:11). 'n Mens se metafisiese oortuigings is dus die vooronderstellings waarmee jy na die wêreld kyk. Jou vooronderstellings bepaal jou wêreldbeskouing.

Polkinghorne (1994:9) sê dat ter wille van eerlikheid dit noodsaaklik is dat metafisiese oortuigings uitgespel moet word. In die Christelike geloof word vooronderstellings dikwels in belydenisskrifte uitgedruk. Belydenisskrifte druk immers die inhoud van die geloof uit (König 2006:63).

Du Plessis (2006:46-47) toon die noodsaak daarvan aan dat bestaande kennis in 'n vakgebied voortdurend deur die ontwikkeling van nuwe denkstrategieë, paradigmas, selfs metodes en teorieë, krities geëvalueer moet word. Vakgebiede word gemaak (en gebreek) deur die gestoei tussen denkskole en paradigmas wat mekaar gereeld opvolg. Wanneer wetenskaplikes (en dus ook Bybelwetenskaplikes) nie bereid is om hulle standpunte aan die kritiese toetsing van ander bloot te stel nie, verval die wetenskap in 'n ideologie (Conradie 2010:39).

Vooronderstellings kan ook as paradigmas beskryf word. Du Plessis (2006:47) stel dat 'n paradigma die analitiese denkraamwerk van vooronderstellings, waardes en geloofsaannames is waarbinne 'n groep wetenskaplikes hulle ondersoek doen. Vooronderstellings help dus die paradigma bepaal waarbinne die wetenskap beoefen word.

In die westerse wêreld is daar tans veral twee paradigmas wat bestaan interpreteer (vgl. O'Brien & Harris 2012:147; Lennox 2009:28-30, 35). Aan die een kant handhaaf die ateïstiese naturalistiese wetenskap die spontane ontstaan van lewe en evolusie, terwyl die Christelike geloof praat van 'n Skepper, die skepping en die ontwikkeling in die skepping. Die konflik wat tussen wetenskap en geloof ontstaan, is dus in werklikheid eintlik 'n konflik tussen twee paradigmas waarin albei paradigmas die werklikheid op teenoorstaande wyses probeer verklaar.

Alhoewel vooronderstellings subjektief is, impliseer dit nie 'n irrasionele onderwerping aan 'n ongetoetsde outoriteit nie. Net soos wetenskap op grond van goed gemotiveerde oortuigings beoefen word, betrek die religieuse geloof ook rasionele toewyding en goed gemotiveerde oortuigings (Polkinghorne 2011:12-13).

Samevatting 1

1. Geen mens of wetenskap funksioneer sonder vooronderstellings nie.

2. Vooronderstellings is die aannames (of metafisiese oortuigings) waarmee 'n mens na die wêreld kyk. In die Christelike geloof word vooronderstellings dikwels in belydenisskrifte uitgedruk.

3. Vooronderstellings bepaal wêreldbeskouings wat weer die paradigma bepaal waarbinne die wetenskap beoefen word.

4. Dit is gesond om bestaande kennis en teorieë voortdurend te herevalueer, anders kan kennis in ideologieë verander. Die herevaluasie van kennis kan wêreldbeskouings verander.

5. Wêreldbeskouings wat verander, kan uitdagings aan vooronderstellings stel. Veranderings moet verreken word sodat vooronderstellings relevant bly.

6. Vooronderstellings moet dus voortdurend aan goed gemotiveerde, rasionele oortuigings getoets word.

Vooronderstellings in wetenskapskennis

Polkinghorne (2011:9-10) wys op 'n baie belangrike vooronderstelling in die wetenskap, naamlik die oortuiging dat daar in die kosmos 'n diep, rasionele orde is wat wag om ontdek te word. Daar is ook 'n uniforme wyse waarop dinge in die skepping werk, sodat 'n logiese ondersoek van aspekte van die werklikheid kan plaasvind. Daardeur kan wetmatighede wat onderliggend aan die skepping is, ontdek word. Ook Lennox (2011:49) stel dat indien hierdie oortuiging van onderliggende wetmatigheid in die skepping nie daar was nie, geen wetenskaplike navorsing moontlik sou wees nie.

Alhoewel die oortuiging is dat daar 'n sterk onderliggende wetmatigheid in die skepping is, sê Polkinghorne (2011:7) dat die ontwikkeling van die wetenskap dit duidelik gemaak het dat wetenskaplike prestasies nie op absolute en volkome waarheid kan aanspraak maak nie. Die wette wat wetenskaplikes formuleer, klop nie presies met die werklikheid nie. Die wette is niks meer as teorieë wat slegs by benadering waar is nie. Teorieë kan gevolglik later agterhaal word. Einstein het byvoorbeeld aangetoon dat Newton se fisikawette wel geldig is, maar net binne 'n sekere beperkte konteks. Einstein se relatiwiteitsteorie het nie Newton se wette vervang nie, maar dit wel in 'n veel ruimer perspektief geplaas (Conradie 2010:127).

'n Verdere vooronderstelling waarmee rekening gehou moet word, is dat die werklikheid as een samehangende geheel van 'n verskeidenheid dinge beskou moet word. Om die verskeidenheid sake beter te kan verstaan, moet ook van 'n verskeidenheid metodes gebruik gemaak word wat toepaslik op die verskeidenheid sake is. Du Plessis (2006:56-57) wys daarop dat die mens se beste chemiese analises van die verf en doek van Rembrandt se beroemde skildery Die Nagwag jou niks sal vertel van die estetiese eienskappe van die skildery nie (vgl. Conradie 2010:95-96 se gebruikmaking van Da Vinci se Laaste Avondmaal-skildery om hierdie saak te verduidelik). Musiek is ook veel meer as die blote vibrasies in die lug wat wetenskaplik beskryf word (Polkinghorne 2011:4). Wetenskaplike metodes in Chemie, Kunsgeskiedenis of Musiek moet rekening hou met 'n komplekse werklikheid waarin 'n ryke, samehangende verskeidenheid verskynsels aanwesig is wat mekaar nie noodwendig weerspreek nie, maar aanvul.

Conradie (2010:95-97) noem hierdie rekeninghouding met die verskillende vlakke van die werklikheid vlakke toeskrywing. Enige menslike handeling kan byvoorbeeld op die vlak van Fisiologie beskryf word, of in die lig van doelbewuste, doelgerigte handelings ten opsigte van die persoonlikheid, karakter en gewoontes van 'n bepaalde subjek, of as 'n manifestasie van groter sosiale patrone. Elkeen van die weergawes het hulle eie geloofwaardigheid, taalgebruik en logika. Hulle is egter heeltemal met mekaar versoenbaar, al kan die een nie tot die ander gereduseer word nie. Dit is belangrik om die reg van elke beskrywing te erken en hulle verskillende invalshoeke raak te sien.

Samevatting 2

1. Wetenskapskennis kon juis groei weens die vooronderstelling dat daar 'n diep rasionele orde in die skepping is wat wag om ontdek te word.

2. Geen wetenskapsteorie is volkome nie, maar is altyd voorlopig. Nuwe kennis kan 'n teorie verander, of nuwe perspektief op 'n teorie bied.

3. Die werklikheid is 'n samehangende geheel van 'n verskeidenheid dinge. Verskillende vlakke van toeskrywing kan (en moet) gebruik word om die werklikheid te beskryf.

4. Verskillende vlakke van toeskrywing het elkeen hulle eie geloofwaardigheid, taalgebruik en logika. Hulle is versoenbaar met mekaar, maar kan nie tot die ander gereduseer word nie.

Vooronderstellings in geloofskennis

In die Christelike geloof is een van die belangrikste vooronderstellings wat in die debat tussen wetenskap en geloof ter sprake is, die oortuiging dat daar 'n God is wat die heelal ordelik geskape het (Conradie 2010:13; Lennox 2009:20; vgl. ook NGB art. 1). Hierdie God is groter as sy skepping wat Hy transendeer. Omdat God die werklikheid transendeer, kan Hy nie met wetenskaplike ondersoekwerk gemanipuleer word nie. Dit is dus nie vir die mens moontlik om God volledig deur die wetenskap te ontdek nie.

'n Verdere vooronderstelling is dat hierdie God kenbaar is, omdat Hy Homself kenbaar maak. Hy neem die inisiatief en openbaar Homself (Polkinghorne 2011:12). Hy is dus ook immanent in sy skepping werksaam. Artikel 2 van die NGB bely daarom ook dat God geken kan word deur twee wyses, naamlik deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die wêreld, asook deur die Bybel. Hiermee word bely dat wetenskaplike navorsing beperkte kennis van God in die skepping kan vind. Die Bybel is nodig om meer volledige kennis van God te verkry.

Giberson (2012:par. 1565) wys daarop dat Augustinus in die vierde eeu, Thomas Aquinas in die dertiende eeu en ook Luther en Calvyn in die sestiende eeu daarvan oortuig was dat die wêreld 'n planmatige ontwerp gehad het wat deur fyn onderskeidingsvermoë raakgesien kon word. Lennox (2011:53-55) sê dat hierdie waarneming en oortuiging tot die ontwikkeling van die moderne wetenskap in die sestiende en sewentiende eeu aanleiding gegee het. Die oortuiging (en vooronderstelling) het ontwikkel dat die Skepper aan die mens kognitiewe fakulteite gegee het om hierdie planmatigheid te ondersoek en waarhede (wetmatigheid) te vind (vgl. Giberson & Collins 2011:86-87).

Du Plessis (2006:61, 63, 65) argumenteer ook dat gelowiges die wetenskap moet benader en beoefen as die verkryging van kennis wat verantwoord moet word. Daarmee word bedoel dat hierdie kennis en wysheid gebruik moet word tot seën en voordeel van die mens en die wêreld. Wetenskap moet die mens dus tot verwondering, groeiende begrip en diensbare insig (caritas) verbind.

Samevatting 3

1. Die Christelike geloof vooronderstel dat daar 'n God is wat alles ordelik geskape het.

2. God het aan die mens kognitiewe fakulteite gegee om die planmatigheid van die skepping te ondersoek en wetmatighede te vind.

3. Die waarneming en oortuiging van 'n God wat planmatig en wetmatig geskep het, het in die Renaissance van die sestiende eeu en die Verligting van die sewentiende eeu tot die ontwikkeling van die moderne wetenskap aanleiding gegee.

4. Omdat God sy skepping transendeer, kan Hy nie deur die wetenskap volledig ontdek word nie. God maak Homself egter aan die mens kenbaar, sodat kennis van God se almag, wysheid en sy skeppingsplan uit die bestudering van die skepping afgelei kan word.

5. Die Christelike geloof veronderstel dat die kennis wat deur die wetenskap ontdek word, tot verheerliking van en diens aan God gebruik moet word. Hierdie kennis is dus kennis wat tot die nakoming van verantwoordelikheid roep.

Gevolgtrekking 1

Die volgende gevolgtrekkings kan gemaak word uit samevattings 1, 2 en 3:

1. Geen wetenskap of geloof word beoefen sonder vooronderstellings nie. Vooronderstellings is aannames waarin geglo word. In die Christelike geloof word vooronderstellings dikwels in belydenisskrifte uitgedruk.

2. Die Christelike geloof vooronderstel dat daar 'n transendente God is wat die skepping planmatig en wetmatig geskep het. Hierdie God maak Homself egter ook kenbaar aan die mens. Omdat God die mens kognitiewe fakulteite gegee het, kan die skepping se planmatigheid en wetmatigheid wetenskaplik ondersoek word.

3. Verskillende wetenskappe beskryf die werklikheid op verskille vlakke. Hierdie verskillende vlakke van toeskrywing kan nie tot mekaar gereduseer word nie, maar is versoenbaar met mekaar.

4. Vooronderstellings moet voortdurend nuwe kennis verreken om relevant te bly. Wetenskapskennis is daarom nooit volkome nie, maar altyd voorlopig.

5. Wetenskaplike kennis roep tot die nakoming van verantwoordelikheid.

 

Artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis as geloofsvooronderstelling

God openbaar Homself deur twee middele

Die NGB is 'n belydenis wat vanuit die gereformeerde kerklike tradisie ontstaan het. As sodanig is hierdie belydenis dus 'n verwoording van aspekte van die gereformeerde geloof. Artikel 1 van die belydenis verwoord die gereformeerde vooronderstelling en belydenis dat daar 'n God is wat die wêreld gemaak het en wat daarin werksaam is. Conradie (2010:12) stel dit dat hierdie oortuiging naby die hart van die Christelike geloof lê.

Artikel 2 van die NGB bou voort op die belydenis van Artikel 1. Hierdie artikel bely hoe ons die God leer ken van wie artikel 1 van die belydenis getuig (Kruger 2003:605). Artikel 2 stel dat hierdie God Homself openbaar. Openbaring is nodig, omdat nietige mense nie uit hulself tot kennis van die oneindige God kan kom nie (VandenBerg 2010:18; Calvyn 1984:inst. 1.5.14).

Wanneer God openbaar, beteken dit nie dat logika en wetenskap nie meer nodig is om dinge te verklaar nie. Dit wat die mens self kan ontdek of aflei, openbaar God nie aan hom nie (Stoker 2011:834). Logika en wetenskap is onontbeerlik om die inligting wat God ons gee, te prosesseer.

Artikel 2 van die NGB handel oor die middele waardeur God openbaar. Hy openbaar op tweërlei wyse. Aan die een kant is die algemene openbaring (waaronder die orde en skoonheid in die natuur) en aan die ander kant is die besondere openbaring deur die Woord (veral die Bybel, maar vroeër ook deur Jesus Christus, die profete, drome, ens. - vgl. Artikel 3 van die NGB). Hierdie twee openbaringsmiddels staan nie in kontras, parallel, of in stryd met mekaar nie (Henry 1999:71-72), maar vul mekaar aan.

Terwyl die NGB van twee middels praat waardeur God Homself openbaar, gebruik Calvyn die metafoor van twee boeke, naamlik die boek van die natuur en van die Bybel (vgl. VandenBerg 2010:18). Calvyn het teksgedeeltes soos Psalm 104:3-4, Hebreërs 11:3 en Psalm 19:1 gebruik om te wys hoedat die Bybel self verkondig dat daar vanuit die skepping 'n kragtige openbaring van God uitgaan om Homself kenbaar te maak (Calvyn 1984:Jnst. 1.5.1).

Eenheid in die twee middele (boeke) van Godsopenbaring word nie net in die gesamentlike oorsprong daarvan gevind nie, maar ook in die eenheid van die waarheid wat daardeur oorgedra word. Die eenheid van die waarheid wat in die twee middele van Godsopenbaring is, is interafhanklik. Die openbaring in Jesus Christus vooronderstel die openbaring in die skepping, terwyl die finale eskatologiese openbaring die openbaring in die skepping en in Christus vooronderstel (Henry 1999:74). Hieruit word dit duidelik dat die boodskap van die natuur nie met die boodskap van die Skrif in botsing is nie. Indien dit wel gebeur, is dit omdat een of albei die openbaringsmiddels nie reg gelees word nie. O'Brien en Harris (2012:147) verklaar dat indien God die Skepper is, albei openbaringsmiddels dieselfde God moet openbaar. Daarom sal die openbaringsmiddels mekaar nie weerspreek nie.

VandenBerg (2010:19) wys daarop dat wanneer Calvyn van die twee boeke van openbaring praat, hy (net soos Guido de Brès in die NGB) nie van kennis in die algemeen praat nie. Dit gaan in hierdie belydenis spesifiek oor kennis van God - dié kennis van God wat onderskeidelik vanuit die natuur en die Skrif verkry kan word. Dit beteken dat die regte vrae oor die Godsopenbaring aan onderskeidelik die natuur en die Skrif gevra moet word. Verkeerde vrae sal tot verkeerde antwoorde lei.

Samevatting 4

1. Die Christelike geloof vooronderstel en bely dat daar 'n God is wat die ganse heelal geskape het. Omdat hierdie God groter as sy skepping is, kan Hy nie deur die wetenskap volledig ontdek word nie.

2. Die gereformeerde tradisie vooronderstel en bely dat God Homself deur twee middele openbaar, naamlik deur die natuur en die Bybel. Tradisioneel word gepraat van die boeke van die natuur en van die Bybel.

3. Logika en wetenskap kan (en moet) gebruik word om die kennis wat God aangaande Homself en die skepping openbaar, te prosesseer.

4. Wanneer hierdie middels as openbaringsmiddels van God benader word, moet spesifiek gevra word watter kennis hulle van God openbaar. Verkeerde vrae aan hierdie middels sal tot verkeerde antwoorde lei.

5. Omdat albei middels openbaringsmiddels van God is, sal die boodskap mekaar nie weerspreek nie. In interafhanklikheid van mekaar sal hulle mekaar aanvul.

God openbaar Homself deur die natuur

Die vooronderstelling en belydenis dat God Homself deur die natuur openbaar, beteken dat die natuuropenbaring, vanuit 'n geloofshoek gesien, een van twee middele is waardeur kennis van God verkry kan word (vgl. Polkinghorne 2011:110).

Dit is noodsaaklik om hier 'n onderskeid tussen die primêre objek van die wetenskapskapstudie en die primêre objek van die teologiese studie te tref, want VandenBerg (2010:22) wys daarop dat dit nie dieselfde is nie. Die studie-objek in die wetenskap is die fisiese wêreld, terwyl dit in die teologie kennis van God is soos Hy Homself geopenbaar het.

Daar is dus 'n onderskeid tussen die blote bestudering van die natuur en die bestudering van die Godsopenbaring deur natuurstudie. In hierdie verband haal VandenBerg (2010:21) Young (1990:4) aan wat benadruk dat wanneer van natuuropenbaring gepraat word, God se openbaring nie op dié data dui wat die wetenskaplikes ingesamel het nie. Natuuropenbaring is wanneer kennis van God tot openbaring kom wanneer die geskape orde bestudeer word.

VandenBerg (2010:20) wys ook daarop dat Calvyn (wie se invloed in die vorming van artikel 2 van die NGB duidelik aangetoon kan word- vgl. Polman s.a.:144 e.v.) nêrens in sy geskrifte verkondig dat dit wat die wetenskap aangaande wette en prosesse in die wêreld ontdek, eers deur die lens van die Skrif gelees moet word voordat die wetenskaplike data korrek geïnterpreteer kan word nie.

Omdat hierdie artikel argumenteer dat artikel 2 van die NGB vandag steeds as geloofsvooronderstelling vir die gesprek oor die verhouding tussen wetenskap en geloof gebruik kan word, dit insiggewend is om te sien watter hoë waardering Calvyn vir die wetenskapsbeoefening van sy tyd gehad het. Ten opsigte van die waarde van wetenskapsbeoefening (meer spesifiek: astronomie) het hy die volgende gesê (Calvyn 1998:41): 'it cannot be denied that this art unfolds the admirable wisdom of God'.

Alhoewel wetenskap in Calvyn se tyd nog baie onderontwikkeld was teenoor die wetenskap van vandag, was daar tog grense van oorvleueling waar die verskille tussen die wetenskap en die Bybel sigbaar was. Oor die ontdekking dat Saturnus baie groter as die maan is, het Calvyn reeds in ongeveer 1554 in sy kommentaar op Genesis geskryf (Calvyn 1998):

Moses wrote in a popular style things which without instruction, all ordinary persons, endued with common sense, are able to understand; but astronomers investigate with great labor whatever the sagacity of the human mind can comprehend. (pp. 11, 41)

Calvyn was duidelik nie oor die klaarblyklike konflikte tussen wetenskap en geloof bekommerd nie. Vir hom het dit bloot gegaan oor die wyse waarop kennis van God in die natuur sigbaar word deur die bestudering van God se werke. Indien die boek van die natuur afsonderlik en apart van die boek van die Skriftuur gelees word, beteken dit nie dat die wetenskaplike bevindings noodwendig verkeerd sal wees nie. Dit is eerder 'n geval dat die kennis van God wat in die skepping gevind kan word, dan misgekyk word (vgl. VandenBerg 2010:20).

Bogenoemde kan met 'n vergelyking verduidelik word. Deur 'n goed ontwerpte gebou te bestudeer, kan baie interessante feite oor die bouwerk, die materiaal, doelmatigheid, ensovoorts van die gebou verkry word. Uit die studie kan ook in 'n mate van kennis oor die argitek verkry word, byvoorbeeld sy smaak, insig, voorkeure, ensovoorts. Hierdie kennis oor die argitek sal egter gebrekkig bly, omdat dit afgeleide kennis is. Indien 'n outobiografie van die argitek saam met die gebou bestudeer word, sal baie meer volledige kennis van die gebou en die argitek verkry word, want die argitek maak hierdie inligting nou self bekend. Hierdeur word sowel die argitek as die gebou baie beter verstaan.

Calvyn wys op die doel van die (natuur)openbaring van God (Calvyn 1984:inst. 1.5.9; 1.14.20) wanneer hy sê dat hierdie kennis nie doelloos is nie. Hierdie kennis word vrugbaar wanneer dit in die harte van gelowiges wortel skiet. Hierdie kennis bring dan verwondering vir God en dit beïnvloed mense om in gehoorsaamheid tot sy eer te lewe (vgl. Polkinghorne 2011:13). Stoker (2011:835) stel ook dat dit wat ons by wyse van natuurwetenskaplike metodes van God se skepping ontdek, tot gevolg het dat ons God as die Skepper leer ken - die Skepper wat elke ding kunstig en met oorleg ontwerp het; wat elke ding in die skepping, ook die verskillende manifestasies van tyd, aan sy doel laat beantwoord.

Samevatting 5

1. Die vooronderstelling van die gereformeerde geloof is dat die fisiese werklikheid (die natuur) soos 'n boek is waarin God kennis van Homself openbaar.

2. Die wetenskap se doel is nie die studie van God nie, maar die studie van die fisiese werklikheid. Teologie se doel is die bestudering van die openbaring van God.

3. Kennis van God word wel gevind deur die natuurwetenskaplike data te bestudeer. Die orde is dus eers die insameling van die data, daarna die prosessering daarvan en ten slotte die maak van wetenskaplike bevindings. Nadat wetenskaplikes hulle bevindings oor wetenskaplike data gemaak het, moet die teologie die bevindings ondersoek om vas te stel watter kennis van God daarin gevind kan word.

4. Alhoewel die kennis van God wat vanuit die natuur gevind word, belangrik is en tot groot verwondering oor die deugde van God bydra, bly hierdie kennis onvoldoende om God persoonlik te ken.

5. Die verwondering oor God wat voortvloei uit die kennis wat in die natuurstudie opgedoen word, dring die gelowige om in gehoorsaamheid tot eer van God te leef.

God openbaar Homself deur die Skrif

Calvyn (1984:Jnst. 1.5.12) wys daarop dat die natuuropenbaring ná die sondeval nie meer voldoende is om God persoonlik te ken nie. Vanweë die verdorwenheid van die mens se verstand was dit nodig dat God Homself persoonlik aan die mens kenbaar maak. Dit doen Hy deur sy Woord (die Bybel) (Calvyn 1984:inst. 1.6.1).

Artikel 2 van die NGB verwoord die gereformeerde vooronderstelling en belydenis dat God Homself nog duideliker en meer volkome aan ons deur die Bybel bekend maak (vgl. Polman s.a.:153 e.v.). Die primêre doel van God se Woord is dus nie om die mens te vertel hoe die natuur werk nie, maar om aan die mens bekend te maak alles wat nodig is vir God se eer en vir die saligheid van hulle wat aan Hom behoort (NGB art. 2). In 'God openbaar Homself deur twee middele' is dit reeds duidelik gestel dat God kognitiewe fakulteite aan die mens gegee het sodat die mens self die natuur kan bestudeer en uitvind hoe dinge werk.

Daar is dus grense aan wat die mens deur wetenskaplike navorsing kan uitvind. Wetenskap kan met blote logika byvoorbeeld uitwerk hoe dinge werk, maar kan nie vrae beantwoord oor die doel, waarde en betekenis daarvan nie (Giberson 2012:par. 1471; Lennox 2009:42; Polkinghorne 2011:70). Die wetenskap bereik uiteindelik ook 'n grens waar dit nie kan deurbreek nie. Die wetenskap kan byvoorbeeld nie die oorsprong van die heelal naspeur nie. Die vraag na die oorsprong van die heelal vereis 'n antwoord wat metafisiese of religieuse aspekte bevat. Die vraag na die oorsprong van die heelal kan dus nie sonder die openbaring van die Skepper vasgestel word nie.

Conradie (2010:257) gee 'n verdere motivering waarom die Skrif as openbaring van God nodig is. God se kragtige teenwoordigheid in die wêreld is altyd 'n verborge teenwoordigheid. Openbaring impliseer juis verberging. Daarom is daar ook 'n verdere openbaring van God naas die openbaring in die natuur nodig, naamlik om dit wat verborge bly, te openbaar. Hierdie verdere openbaring is die Skrifopenbaring.

Om die Bybel te lees en daardeur kennis van God te vind, is ook nie so eenvoudig nie. Die Bybel moet op die regte manier hanteer en gelees word. Hiermee word die studieterrein van die Hermeneutiek betree, aangesien goeie hermeneutiese beginsels in die Skrifverklaring onontbeerlik is. Dus word hiermee volstaan deur daarop te wys dat Lucas (2005:144) aantoon dat Christelike geleerdes vanaf die vroeë eeue erken het dat die interpretasie van die Bybel ook in die lig van wyer navorsing en kennis gedoen moet word. Augustinus het hom reeds in die vierde eeu sterk uitgespreek teen diegene wat dit nie doen nie (vgl. Lucas 2005:144; vgl. ook die opmerkings van Calvyn in 'God openbaar Homself in die natuur').

Skrifverklaring wat nie rekening hou met wetenskaplike bevindings nie, is nie goeie Skrifverklaring nie.

Die primêre doel van die Bybel is om God aan die mens kenbaar te maak en nie om 'n bron van wetenskaplike inligting te wees nie. VandenBerg (2010:20) wys dus daarop dat dit nie vir Calvyn 'n probleem was wanneer daar disharmonie tussen wetenskaplike en bybelse interpretasies van fisiese eienskappe en prosesse in die wêreld was nie. Dit was slegs vir hom 'n probleem wanneer sulke verskille aanleiding gegee het tot 'n versteurde en/of korrupte kennis van God.

In sy waarderingswoord oor H.G. Stoker se Christelike filosofie stel Heyns (1994) dit soos volg:

Wie die Skrif reg gebruik - gebruik soos God dit bedoel om gebruik te word - en in die lig van die Skrif ook wetenskap gaan beoefen, sal by 'n ander kosmologie, 'n ander gnoseologie, 'n ander antropologie, 'n ander prakseologie en 'n ander politikologie uitkom. (bl. 458)

Hiermee word duidelik bedoel dat deur Wetenskap in die lig van die Skrif te beoefen, 'n uitkyk op God verkry word wat andersins nie moontlik is nie.

Samevatting 6

1. Die vooronderstelling van die gereformeerde geloof is dat die Bybel 'n boek is waarin God Homself persoonlik aan die mens openbaar. Hierdie openbaring is nodig, omdat die mens (sedert die sondeval) nooit uit homself tot persoonlike kennis van God kan kom nie.

2. Die primêre bedoeling van die Bybel is nie om kennis aan die mens te openbaar wat die mens self deur wetenskaplike navorsing kan uitvind nie. Die primêre bedoeling is dus nie om die mens te vertel hoe die natuur werk nie.

3. Daar is grense aan wat die mens met denke en logika kan ontdek. Om verder as hierdie grense te kan gaan, is openbaring van God noodsaaklik. Artikel 2 van die NGB bely dat die Bybel hierdie kennisopenbaring van God is.

4. Om kennis van God in die Bybel te vind, moet die Bybel reg hanteer en gelees word. Goeie hermeneutiese Skrifverklaringsbeginsels hou rekening met wetenskaplike bevindings.

5. Klaarblyklike disharmonie tussen die Skrif en die wetenskap sal noodwendig voorkom vanweë die verskil in die aard en die bedoeling tussen die Skrif en wetenskaplike resultate. Die verrekening van die verskil in die aard en die bedoeling sal die klaarblyklike probleme kan oplos.

6. Wie die verhouding Skrif-wetenskap reg verstaan en die Skrif reg gebruik, sal deur sy wetenskapsbeoefening kennis van God verkry wat andersins nie moontlik is nie.

Gevolgtrekking 2

Die volgende gevolgtrekkings kan gemaak word uit samevattings 4, 5 en 6:

1. Die vooronderstelling van die Christelike geloof is dat daar 'n Skeppergod is wat alles gemaak het en vir die mens kenbaar is.

2. Hierdie Skeppergod is groter as sy skepping en kan daarom nie volledig geken word deur sy skeppingswerk te bestudeer nie. Om Homself aan die in-sonde-gevalle mens bekend te maak, moet Hy Homself openbaar.

3. Die Christelike geloof se vooronderstelling en belydenis is dat God Homself deur twee boeke openbaar: die boek van die natuur en die Bybel.

4. Dit is belangrik om daarop te let dat natuurwetenskaplike studie primêr nie ten doel het om kennis van God in die natuur te vind nie. Die wetenskap wil uitvind hoe dinge werk. Vir die gelowige navorser kan sy resultate en dit wat hy uit sy resultate aflei wel tot verwondering oor die deugde van God lei.

5. Die teologie se bedoeling is om kennis van God te vind. Daarvoor moet die besondere openbaring van God, die Bybel, bestudeer word. Hierby moet egter ook die insigte van die wetenskap verreken word. Die rede hiervoor is dat die God wat die skepping gemaak het (en Wie se deugde uit die skepping afgelei kan word) dieselfde God is wat Homself deur sy Woord openbaar.

6. God het aan die mens kognitiewe fakulteite gegee en openbaar dus nie in die Bybel alles wat die mens self kan uitvind nie. Die Bybel mag dus nie as 'n kitsinligtingsbron aangaande natuurwetenskaplike feite misbruik word nie - dit kan die mens self deur die gebruik van sy godgegewe gawes ontdek.

7. Klaarblyklike verskille tussen die Skrif en die wetenskap is dus nie 'n probleem nie, aangesien dit noodwendig sal ontstaan weens die verskil in die aard en die bedoeling tussen die Bybelfeite en wetenskaplike resultate.

8. Omdat die spanning tussen die Skrif en die wetenskap vandag wel aanleiding tot 'n versteurde kennis van God gee (vgl. die inleiding van hierdie artikel), moet die verhouding tussen die Skrif en die wetenskap duidelik uitgespel word. Spanning word immers geskep deur verkeerde sienings ten opsigte van die verhouding tussen die Skrif en die wetenskap.

9. Om kennis van God in die Bybel te vind, moet die Bybel reg hanteer en gelees word. Goeie hermeneutiese Skrifverklaringsbeginsels hou rekening met wetenskaplike bevindings. Dit beteken dat goeie Skrifverklaring nie die Skrif sal misbruik om inligting te vind wat die Skrif nooit bedoel om te gee nie, omdat die mens dit self deur natuurwetenskaplike navorsing kan verkry.

10. Die gesamentlike kennis van God wat gevind word deur die boeke van die Skriftuur en die natuur te bestudeer, het tot gevolg dat die mens in 'n persoonlike verhouding met God kan tree. Hierdeur verruim die twee tipes openbaring die mens se kennis van God en kan die verhouding met God alle terreine van die lewe oorspan. Dit bly dus nie net tot die religieuse beperk nie.

 

Samevattende gevolgtrekking

Aan die begin van hierdie artikel is die problematiek uitgewys wat veroorsaak word deur klaarblyklike verskille tussen wetenskaplike bevindings en dit wat die Skrif daaroor openbaar. 'n Voorbeeld van sodanige verskille is byvoorbeeld die kwessie of lewe spontaan ontstaan en oor miljoene jare geëvoleer het tot die spesies wat vandag bestaan, en óf daar nie dalk 'n Skeppergod is wat lewe geskep het en deur aanpassing die spesies laat ontwikkel nie.tussen wetenskaplike bevindings en dit wat die Skrif daaroor openbaar. 'n Voorbeeld van sodanige verskille is byvoorbeeld die kwessie of lewe spontaan ontstaan en oor miljoene jare geëvoleer het tot die spesies wat vandag bestaan, en óf daar nie dalk 'n Skeppergod is wat lewe geskep het en deur aanpassing die spesies laat ontwikkel nie.

Hierdie problematiek word deur verkeerde vooronderstellings veroorsaak oor die verhouding tussen wetenskapsresultate aan die een kant en die Bybelinhoud aan die ander kant. Artikel 2 van die NGB gee as Christelike geloofsbelydenis en vooronderstelling leiding hoe om hierdie problematiek te hanteer.

Uit Gevolgtrekkings 1 en 2 hierbo kan die volgende samevattende gevolgtrekkings gemaak word. Dit kan dan dien as riglyne hoe om die problematiek in die wetenskap-geloofdebat te hanteer. 'n Voorbeeld van die gebruik van die riglyne word vervolgens telkens toegepas op toevallige evolusie teenoor 'n Skeppergod wat lewe geskep het deur aanpassing in die spesies te laat ontwikkel het.

1. Wees bewus dat geen wetenskap sonder vooronderstellings beoefen kan word nie. Vooronderstellings moet voordurende nuwe kennis verreken om relevant te bly.
Toepassing: Is jou vooronderstelling oor die ontstaan en ontwikkeling van lewe alleen op die Bybel gebaseer, of verreken jy op 'n verantwoordelike wyse ook nuwe en deeglike wetenskaplike bevindings?

2. Die belydenis (vooronderstelling) van die Christelike geloof is dat daar 'n Skeppergod is wat Homself aan die mens openbaar.
Toepassing: Is jou vooronderstelling dat daar 'n Skeppergod is, of dat lewe spontaan ontstaan het?

3. Die aard en bedoeling van wetenskaplike navorsing is nie om die openbaring van God te vind nie, maar om uit te vind hoe die skepping werk. Uit wetenskaplike navorsingsresultate kan baie deugde van God afgelei word (en sodoende openbaar dit God). Hierdie kennis dring die gelowige tot verwondering.
Toepassing: Wanneer na die merkwaardige ooreenkomste tussen die verskillende dierspesies gekyk word, is dit duidelik dat aanpassing wel voorkom. Gelowiges sien daarin die hand van die Skeppergod wat so sy skeppingsplan ontvou. Sy almag en wysheid is onbegryplik groot.

4. God het aan die mens kognitiewe fakulteite gegee en openbaar nie in die Bybel alles aan die mens wat die mens self kan uitvind nie. God openbaar in die Skrif alles wat die mens nodig het om in 'n persoonlike verhouding met Hom te kan staan. Hierdie openbaring staan nie in stryd met kennis oor die deugde wat God oor Homself vanuit sy skeppingswerk openbaar nie. Die Skrif en die natuur openbaar immers dieselfde God. Toepassing: Die Bybel leer dat die almagtige God wat alles geskep het, en sy skeppingsplan vandag nog ontvou, dieselfde God is wat in Jesus Christus die hemelse Vader van gelowiges is. Hierdie God het aan die mens die opdrag gegee om oor die aarde te heers en die aarde te bewoon en te bewerk. Dit beteken dat die aarde ontwikkel moet word. Die ontwikkeling van die wetenskap is deel van hierdie opdrag. Hoe meer die skeppingswonder deur die natuurwetenskap ontrafel word, hoe groter is die gelowige se verwondering oor die onmeetlike wysheid, grootheid en goedheid van die hemelse Vader.

5. Goeie hermeneutiese Skrifverklaringsbeginsels hou rekening met wetenskaplike bevindings. Dit beteken dat goeie Skrifverklaring nie die Skrif sal misbruik om inligting te vind wat die Skrif nooit bedoel om te gee nie aangesien die mens dit self deur natuurwetenskaplike navorsing kan verkry.
Toepassing: Omdat goeie hermeutiese Skrifverklarings beginsels rekening hou met wetenskaplike bevindings, sal die Hermeneutiek goed moet aandag gee aan die verklaring van onder andere Genesis 1 en 2 in die lig van wetenskaplike bevindings.

6. Vanweë die verskil in die aard en die doel tussen Bybelfeite en wetenskaplike navorsingsresultate kan en sal daar klaarblyklike harmonieprobleme tussen die Skrif en die wetenskap ontstaan. Hierdie is egter slegs klaarblyklike probleme, omdat 'n verrekening van die verskil in die aard en bedoeling van wetenskapsresultate en Bybelfeite die probleem sal oplos.
Toepassing: Bestaan die klaarblyklike disharmonie tussen wetenskaplike bevindings en die Bybelverhale tans nie dalk omdat die besonder aard en bedoeling van die bybelse skeppingsverhale nie deeglik genoeg verreken word nie?

7. 'n Korrekte verstaan van die verhouding tussen Skriffeite en wetenskapsresultate sal nie net die gelowige se kennis oor God verruim nie, maar die gelowige ook tot 'n verwonderde uitkyk op God dring wat alle terreine van die lewe oorspan. Dit sal nie net tot die religieuse beperk bly nie.
Toepassing: Weens die klaarblyklike disharmonie tussen die Skriffeite en wetenskapsverhale twyfel baie mense vandag oor hulle geloof. Hierdie realiteit moet 'n groot aansporing vir die teologie wees om 'n korrekte, harmonieuse verhouding tussen die geloof en die wetenskap te soek. Wanneer harmonie gevind word, word God daardeur verheerlikheid en klink die uitroep Soli Deo Gloria nog harder uit die mond van gelowiges.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Calvyn, J., 1984, 'Institusie van die Christelike godsdiens', Band 1, vert. H.W. Simpson met medewerking van L.F. Schulze en C.M.M. Brink, Calvyn Jubileum Boekefonds (CJBF), Potchefstroom.         [ Links ]

Calvyn, J., 1998, The comprehensive John Calvin collection: Selected works of John Calvin: 'Commentary on Genesis', CD-ROM, Ages Software, Albany.         [ Links ]

Conradie, E.M., 2010, Lewend en kragtig? In gesprek oor ... God se handelinge in die wereld, Bybel-Media, Wellington.         [ Links ]

Du Plessis, P.G.W., 2006, 'Wetenskap met en sonder diepte', Koers 71(1), 43-71. http://dx.doi.org/10.4102/koers.v71i1.231        [ Links ]

Durand, J., 2013, Evolusie, wetenskap en geloof: 'n Biografiese inleiding tot die denke van Teilhard de Chardin, Bybelmedia, Wellington.         [ Links ]

Giberson, K.W., 2012, The wonder of the universe, Kindle edn., viewed 12 July 2013, from http://amazon.com        [ Links ]

Giberson, K.W. & Collins, F.S., 2011, The language of science and faith: Straight answers to genuine questions, Kindle edn., SPCk, London, viewed 13 May 2013, from http://amazon.com        [ Links ]

Henry, C.F.H., 1999, God, revelation, and authority, Vol. 2, Crossway, Wheaton.         [ Links ]

Heyns, J.H., 1994, 'Die betekenis van H.G. Stoker se filosofie vir die wetenskap', Koers 59(3 & 4), 455-471.         [ Links ]

König, A., 2006, Die groot geloofswoordeboek, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.         [ Links ]

Kruger, M.A., 2003, 'The kindom of God and those who have not heard the contents of Scripture', In die Skriflig 37(4) 601-616.         [ Links ]

Lennox, J.C., 2009, God's undertaker: Has science buried God?, Kindle edn., Lion Hudson, Oxford, viewed 21 June 2013, from http://amazon.com        [ Links ]

Lennox, J.C., 2011, Gunning for God: Why the new atheists are missing the target, Kindle edn., Lion Hudson, Oxford, viewed 15 July 2013, from http://amazon.com        [ Links ]

Lucas, E., 2005, 'Science and the Bible: Are they incompatible?', Science & Christian Belief 17(2), 137-154.         [ Links ]

Nederlandse Geloofsbelydenis, 2003, 'Die Nederlandse Geloofsbelydenis' in Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Psalmboek: Die berymde en omgedigte Psalms en ander Skrifberymings in gebruik by die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, bl. 5-32, NG Kerk-Uitgewers, Paarl.

NGB kyk Nederlandse Geloofsbelydenis

O'Brien, G.J. & Harris, T.J., 2012, 'What on earth is God doing? Relating theology and science through biblical theology', Perspectives on Science and Christian Faith 64(3), 147-156.         [ Links ]

Polkinghorne, J., 1994, Science and Christian belief: Theological reflections of a bottom-up thinker, Logos Research Systems, Oak Harbor.         [ Links ]

Polkinghorne, J., 2011, Science and religion in quest of truth, Logos Research Systems, Oak Harbor.         [ Links ]

Polman, A., s.a., Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis, Eerste deel, Wever, Franeker.         [ Links ]

Stoker, P.H., 2011, 'Natuurwetenskaplike kennis en die Woord van God', In die Skriflig 45(4), 825-847. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v45i4.204        [ Links ]

Van Wyk, J.H., 2013, 'Moderne diskoerse in die teologie vandag', In die Skriflig/In Luce Verbi 47(1), Art. #718, 9 pages.         [ Links ]

VandenBerg, M.L., 2010, 'What general revelation does (and does not) tell us', Perspectives on Science and Christian Faith 62(1), 16-24.         [ Links ]

Young, D.A., 1990, 'Where are we? Tensions between biblical and scientific cosmologonies' in H. van Till (ed.), Portraits of creation: Biblical and scientific perspectives on the world's formation, p. 4, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Jan Erasmus
PO Box 383
Odendaalsrus 9480
South Africa
Email: j.erasmus@mweb.co.za

Received: 18 Sept. 2013
Accepted: 11 Mar. 2014
Published: 09 Sept. 2014

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License