SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 número1Aspects regarding a turnaround processCreative preaching as visualisation of old and new things with particular reference to ecclesiastical discourses as enrichment of the act of listening índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.48 no.1 Cape Town feb. 2014

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die Bergrede as 'n moontlike reaksie teen Paulus

 

The Sermon on the Mount as possible reaction against Paul

 

 

C.F. Meiring; Francois P. Viljoen

Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

'n Verskeidenheid navorsing is al oor die teologiese verband tussen Matteus en Paulus gedoen. Hierdie navorsing het uiteenlopende gevolgtrekkings opgelewer wat in drie groepe verdeel kan word. Sommige navorsers is van oordeel dat die Matteus-evangelie 'n anti-Pauliniese ondertoon bevat wat veral in die Bergrede waargeneem kan word. Hierdie polemiek word betrek by uitsprake oor die siening of interpretasie van die Tora. 'n Vergelyking tussen Matteus 5:17 en Paulus se siening oor die wet soos in die Romeine-brief (3:19; 6:14; 7:6; 8:2; 10:4; ens.), kan tot so 'n gevolgtrekking kom. Daarmee saam word die prominensie van Petrus in die Matteus-evangelie as bewysgrond gebruik dat Matteus teen Paulus reageer. Die oortuiging kan dus bestaan dat Matteus doelbewus met die skryf van hierdie Evangelie teen Paulus reageer, veral wanneer die insident in Antiogië in gedagte gehou word. 'n Tweede groep meen dat Matteus en Paulus teologies naby aan mekaar is, terwyl daar ook 'n derde groep is wat oordeel dat Matteus en Paulus wel van mekaar verskil, maar mekaar ook komplementeer. Met hierdie artikel word daar gepoog om meer duidelikheid oor die teologiese verhouding tussen Matteus en Paulus te verkry.


ABSTRACT

Much research has been done about the theological relationship between Matthew and Paul. This research has numerous conclusions and can be divided into three groups. Some researchers say that the Gospel of Matthew contains an anti-Pauline text or that an anti-Pauline polemic is recognisable in the Sermon on the Mount. The polemic involves the interpretation of the Torah. A comparison between Matthew 5:17 and Paul's stance on the law in Romans (3:19; 6:14; 7:6; 8:2; 10:4; etc.) may lead to such a conclusion. Together with this, the prominence of Peter in the Matthean Gospel is used to prove that Matthew reacted against Paul. All of this and with the incident at Antioch in mind, the idea may arise that Matthew deliberately wrote the Gospel to react against Paul. A second group concludes that Matthew and Paul were theologically close and lastly there is a group that says Matthew and Paul differ but also complement each other. This article attempts to give more clarity on the theological relationship between Matthew and Paul.


 

 

Inleiding

Betz (1985:20) meen dat 'n anti-Pauliniese polemiek duidelik in die Bergrede waarneembaar is. Hy glo dat Matteus 5:171 'n uitspraak teen Paulus se 'law-freegentile Christians' is. Stanton (1993:313) sê egter: '... these verses [i.e. 5:17,19; 7:15, 21-23] are not attacking Pauline Christians of any kind.'

Dit is veral David Sim (1998:92-103; 2002:767-783; 2007:325-343; 2009:478-485) wat redeneer dat die Matteus-evangelie 'n anti-Pauliniese ondertoon bevat. Die grondslag van Sim (2002:778) se argumente kom uit die werk van Brandon (1978) waarin daar veral na 'n insident in Antiogië2 verwys word (vgl. Betz 1985:156). Sim (2002:767-783) en Brandon (1978:231-239) meen albei dat die sogenaamde polemiek wat daar tussen Matteus3 en Paulus bestaan het, teen die agtergrond van hierdie insident beter verstaan kan word.

Die insident in Antiogië verwys na die gebeure wat Paulus in Galasiërs 2:11-154 beskryf. In hierdie gedeelte berispe Paulus Petrus oor sy optrede teenoor die nie-Jode. Die boek Handelinge maak vyf keer melding van besoeke wat Paulus aan Jerusalem gemaak het (Hand 9:26-30; 11:27-30; 12:25; 15:1-30; 18:22; 21:17-23:31). Die vraag is watter een van hierdie besoeke met Galasiërs 2 verbind kan word. Cousar (1996:766-767) meen dat die insident verbind kan word met die Vergadering in Jerusalem, waar die saak van evangelieverkondiging aan die heidene bespreek is (Hand 15:1-34). Die gevolgtrekking van Dunn (1983:38) is egter dat die kwessie van die besnydenis tydens die kerkvergadering van Handelinge 15 opgelos is. Hoewel Paulus na Titus se onbesnedenheid verwys, lyk dit of die saak tussen Petrus en Paulus eerder oor tafelgemeenskap gehandel het (vgl. Longenecker 1998:lxxi-lxxii).

Die Jode het sekere voorskrifte vir gemeenskaplike maaltye gehad wat op die mense én op die voedsel betrekking gehad het. Dat die mense almal by één tafel aangesit het, was simbolies van die band tussen die mense en dat hulle dus 'n eenheid gevorm het. As die Jode só saamgeëet het, het hulle tafelgemeenskap met mekaar gehad.

Die voedselwette van die Jode (ten opsigte van reinheid) het hulle verbied om met nie-Jode tafelgemeenskap te hê (Smith 1992:302-304). Petrus se optrede teenoor die gelowiges uit die heidendom het verander toe die manne van Jakobus in Antiogië aangekom het. Vóór hulle koms 'was hy gewoond om saam met die heidene [wat Christus-gelowiges geword het] te eet; maar na hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis was' (Gal 2:12). Paulus gaan voort deur te verduidelik dat dié wat in Christus Jesus glo, geregverdig word uit die geloof, 'omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie' (Gal 2:165).

Deur Petrus se optrede en die sake wat Paulus in hierdie gedeelte beklemtoon (die invloed van die Jakobus-geselskap, die verwysing na die besnydenis en die verwysing na die vlees), kan moontlik tot die slotsom gekom word dat die twispunt hier eerder oor die besnydenis van nie-Jode gehandel het, 'n saak wat kennelik nog nie opgelos was nie. Wesenlik het dit dus oor die Joodse wet gegaan.

Bogenoemde is die standpunt wat Sim (1998:92-103) inneem en wat hy soos volg verduidelik: Die Jakobus-geselskap wat in Antiogië aangekom het, is baie nóú geassosieer met 'manne van die besnydenis'. Petrus, as 'n Jood, asook ander Jode van die geloofsgemeenskap in Antiogië, onttrek hulle aan die tafelgemeenskap toe die Jakobus-groep, waarskynlik voorstanders van die besnydenis, arriveer. Sim (1998:93) voer aan dat hierdie groep aangedring het dat bekeerlinge uit die heidendom hulle laat besny en dat die Tora stiptelik gehoorsaam word. Sy slotsom is dat die groep van Jakobus die siening van die besnydenisparty (circumcision party) verteenwoordig het - vandaar die interpretasie dat Petrus die gesag van Jakobus in Jerusalem gevrees het. Sim (1998:98-100) meen verder dat Paulus impliseer dat die ooreenkoms met die kerkvergadering in Jerusalem verbreek is en dat Jakobus en die besnydenisparty daarvoor verantwoordelik was. Om hierdie rede het Paulus die geloofsgemeenskap in Antiogië verlaat en sy sendingwerk in die res van die heidendom voortgesit. Die gemeenskap in Antiogië het dus toenemend onder die gesag van Jakobus gekom.

Sim (1998:106-107) meen dat die kerk in Jerusalem sterk gekant was teen die siening van die kerk6 in Antiogië. Sim meen dat Jakobus, wat die kerk in Jerusalem gelei het7, stappe geneem het om die kerk in Antiogië te beïnvloed. Daarom het Jakobus 'n boodskap na hulle gestuur dat alle nie-Joodse Christene besny moes word. Die kerk in Antiogië is dus radikaal getransformeer van 'n wetsvrye gemeenskap na 'n wetsonderdanige gemeenskap.

Dit is teen hierdie agtergrond en die werk van Brandon (1978:231-243), wat reeds in 1951 gepubliseer is, dat Sim (2002:767-783) 'n sterk anti-Paulinisme in die Matteus-evangelie identifiseer.

Brandon is egter nie die enigste een wat oor die verhouding tussen Matteus en Paulus geskryf het nie. Verskillende navorsers het verskillende opinies oor hierdie verhouding en hulle kan in drie groepe verdeel word:

  • Die Matteus-evangelie is 'n anti-Pauliniese teks (Sim 1998:92-107; 2002:767-783; 2007:325-343; Brandon 1978:231-243).
  • Matteus en Paulus is teologies naby aan mekaar (Davies 1963:316-341; Davies & Allison 1991:721-722; Goulder 1974:153-170; Meier 1983:12-86).
  • Matteus en Paulus verskil, maar komplementeer mekaar (Marguerat 1995:212-235; Mohrlang 1984:7-132; France 1997:110-111; Luz 1995:147-153).

Die doel van hierdie artikel is om 'n bydrae te lewer tot die debat wat oor die moontlike polemiek handel wat tussen Matteus en Paulus bestaan het. Dit sal aan die hand van 'n literatuurstudie oor die standpunte van verskillende navorsers gedoen word. Die studie word aangepak vanuit die gereformeerde tradisie en 'n kanon-kritiese benadering (vgl. Klein et al. 2004:116) word gevolg. Daar word dus met die eerste Evangelie gewerk soos wat dit in die kanon opgeneem is. Die Matteus-evangelie word ook as deursigtige teks gelees wat beteken dat die verhaal van Jesus beskou word as 'n inklusiewe verhaal in die Evangelie (Luz 2005:14-17; France 1997:238). Bogenoemde drie verskillende opinies oor die verhouding tussen Matteus en Paulus sal vervolgens bespreek en beoordeel word.

 

Die Matteus-evangelie as anti-Pauliniese teks

Soos reeds opgemerk, meen Brandon (1978) dat die Matteus-evangelie die ondertoon van 'n anti-Pauliniese gesindheid toon. Brandon (1978:232) beweer dat die prominensie van Petrus in die Matteus-evangelie 'n reaksie teen die invloed van Paulus is. Vir hierdie bewering word Matteus 16:18-198 as kernteks geneem. Brandon (1978:233) beskou ook die gedeeltes in Matteus 5:17-199 en 13:24-30 (Die gelykenis van die onkruid) as 'n persoonlike aanval op Paulus. Hy probeer onder andere om die vyandige mens (ἐχθρὸς ἄνθρωπος)in Matteus 13:28 met Paulus te verbind, maar hierdie argumente is moeilik om te aanvaar omdat die interpretasie van die gelykenis later in Matteus 13:36-42 gegee word. Turner (2008) stel dat:

... the developing dualism between landowner and enemy, good seed/wheat and weeds, and barn and fire already offers a glimpse of an ominous battle between the cosmic forces of good and evil. (p. 344)

Sim (2002:776-781) het op Brandon se argumente uitgebrei asook oor die prominensie van Petrus en beweer dat daar 'n treffende ooreenkoms tussen Matteus 16:1710 en Galasiërs 1:1211 is, veral as 1:16-1712 ook in aanmerking geneem word. Sim meen dat Matteus eerder vir Petrus wou voorhou as die een wat 'n goddelike openbaring gehad het, en nie vir Paulus nie. Dit wil tog lyk asof hierdie argument aanvaarbaar kan wees, want die ooreenkoms tussen die tekste is merkwaardig.

Sim gebruik die deursigtige lees-metode soos Luz (2005:14-17) dit beskryf. Uit die verhaal op die eerste vlak word die konflik op die tweede vlak geïnterpreteer. Viljoen (2009:68) waarsku egter dat die narratiewe teks versigtig hanteer moet word as dit vir 'n sosiale analise op die tweede vlak gebruik word. Die narratief het slegs sekere inligting wat op hierdie manier geïnterpreteer kan word (Matt 5:11-12; 10:23; 23:34) en spesifieke gegewens op die eerste vlak kan nie noodwendig op die tweede vlak veralgemeen word nie. Die vraag ontstaan of Sim nie dalk besig is om in hierdie strik te trap en die teks te forseer nie, naamlik om die prominensie van Petrus Sitz im Leben Jesu te veralgemeen na Petrus as die belangrikste Sitz im Leben der Alten Kirche nie.

Dat Petrus 'n prominente rol in die vier Evangelies13 speel, is nie te betwyfel nie. Van al die sinoptiese skrywers gee Markus14 die meeste blootstelling aan Petrus15. Die vroeë kerklike tradisie (onder andere dié van Papias en Origenes) gaan selfs so ver deur te sê dat Markus die Evangelie van Petrus geskryf het (Van Eck 2000:975; vgl. Ook Vander Broek 1983:9). Dit wil egter voorkom asof Matteus vir Petrus ietwat anders voorstel, met die klem op ware dissipelskap. In sy rol as segsman word hy ook indirek as die leier onder die dissipels ge'fdentifiseer (Osborne 1988:1664; Wilkins 1988:209). Daar moet egter daarop gelet word dat Matteus ook oor Petrus se menslike tekortkomings skryf (Matt 14:31).

Matteus se unieke voorstelling van Petrus word volgens Donfried (1992:256) in drie gebeurtenisse uitgebeeld:

  • Petrus loop op die water en word deur Jesus gered (Matt 14:22-36).
  • Petrus se belydenis van Jesus as die Messias en Seun van die lewende God (Matt 16:16-19).
  • Petrus se vraag na die tempelbelasting (Matt 17:24-27).

Die prominensie van Petrus in die Matteus-evangelie, veral met betrekking tot sy seggenskap (as segsman) moet dalk eerder vanuit 'n sosiale oogpunt geïnterpreteer word. Waarskynlik was Petrus die oudste onder Jesus se dissipels. Grond vir hierdie argument kan uit die verhaal van die tempelbelasting in Matteus 17:24-2716 kom. In hierdie gedeelte word die belasting slegs van Jesus en Petrus verreken. Tempelbelasting is betaal deur mans wat ouer as twintig is17 (Hagner 1993b:511; Nolland 2005:723). Nie net impliseer dit dat slegs Jesus en Petrus ouer as twintig was nie, maar ook dat Petrus die oudste onder die dissipels was, want daar is nie vir die ander dissipels belasting betaal nie.

Van die vroegste tye af het die ouderdom van manlike lede van 'n gesin die voorrang, dalk eerder die eer (honor), binne daardie familiestruktuur bepaal. As voorbeeld hiervan kan die tweelingbroers Jakob en Esau geneem word, met Esau wat 'n eersgeboortereg gehad het. Jacobs-Malina (1994:160) skryf dat die oudste seun moes sorg vir die sosiale sekuriteit van die bejaarde ouers. Daar is van hom verwag om die eer (honor) te beskerm in belang van die familie. Sy (Jacobs-Malina 1994:163) skryf verder: 'Time is one of the foundations of power in a patriarchy. Chronology determines precedence on who came first.' Indien hierdie beginsel op 'n groep soos die dissipels toegepas word, sou dit beteken dat die oudste in 'n groep waarskynlik ook die voorrang sou hê, of anders gestel, dat ouderdom een van die faktore is wat bepaal het wie kom eerste. Indien Petrus dus die oudste onder die dissipels was, kan dit ook moontlik 'n verklaring wees waarom hy selfs in Matteus 10:2 die πρῶτος van die dissipels genoem word. Dit kan verder ook 'n verklaring gee waarom hy beskou kan word as die segsman onder die dissipels.

Vanuit 'n anti-Pauliniese oogpunt kan daar uiteraard ook geredeneer word dat Jesus se hantering van die tempelbelasting 'n bewys is van die onderhouding van die wet volgens Eksodus 30:1418. Daar hoef egter nie ver gesoek te word vir 'n antwoord hierop nie. Jesus maak die opmerking in dieselfde gedeelte (Matt 17:26): 'Dan is die seuns vry.' Met ander woorde, Jesus se volgelinge is vry van die tempelbelasting, want Hy is groter as die tempel (Matt 12:6), groter as die Sabbat (Matt 12:8) en is die Weg in God se teenwoordigheid, soos wat konkreet gemanifesteer word in die voorhangsel wat in twee skeur (Matt 27:51; Hagner 1993b:512; Nolland 2005:727; vgl. ook Wenham 2008:198).

Petrus kan ook beskou word as iemand wat 'n impulsiewe karakter gehad het (Matt 14:28-29; 17:4; Mark 9:5; Joh 13:8-9; 18:10; vgl. Inch 2003:11; Borchert 2002:230; Hendriksen 1953:230). Osborne (1988:1661) beskryf Petrus as: 'impulsive, often rash; he is the first to act and speak his mind and was typified by his enthusiasm for everything in which he had a part.' So 'n impulsiewe karakter, veral die 'often rash'-gedeelte daarvan, in kombinasie met sy ouderdom, gee 'n verklaring waarom hy dikwels eerste gehandel of gepraat het.

'n Verdere moontlike verduideliking vir die prominensie van Petrus in die Matteus-evangelie is die Markaanse prioriteit.19 Matteus het waarskynlik die Petrus-prominensie by Markus oorgeneem, maar hy beklemtoon Petrus se dissipelskap. Wilkins (1988:209-216) oordeel dat Petrus positief en negatief in die Matteus-evangelie voorgestel word ten opsigte van sy rol as die volgende (slegs enkele punte word genoem):

  • segsman ('spokesman') vir die dissipels (positief = Matt 8:14; 14:28-29, 33; 16:16-19; 17:24-27; en negatief = Matt 14:30-31; 15:15; 17:4; 18:21; 19:27; 26:37, 40)
  • verteenwoordiger van die dissipels
  • normale mens met sterkpunte en swakhede
  • 'n voorbeeld van wat dissipelskap beteken (positief = Matt 14:28-29; 16:16-19; 17:24-27; en negatief = Matt 14:30; 15:15; 16:22-23; 17:4; 18:21; 19:27; 26:33-35; 37-40; 69-75).

Wilkins (1988:210-211) sluit af met twee opmerking, naamlik: 'Peter is specified by Matthew alone to have ... unique prominence, which swings to both positive and negative extremes'; en, besluit hy: 'Matthew's final emphasis and focus is on the disciples, not Peter.'

Sim (2002:778) beweer ook dat die gedeelte uit Matteus 5:1719 direk na Paulus en sy volgelinge verwys, want Paulus sê byvoorbeeld in Romeine 10:4 dat Christus die einde van die wet is. Sy siening dat nie-Jode nie nodig het om die Tora te onderhou nie, was waarskynlik die onderskeidende kenmerk van sy sendingwerk. Sim (2002:779) redeneer verder: 'The Matthean Jesus therefore corrects the theology of Paul.' Hierdie is sekerlik 'n redelike stelling om vanuit 'n anti-Pauliniese oogpunt te maak, maar andersins klink dit na skerp kritiek, veral as dit in die lig van die voorafgaande bespreking van Matteus 17:24-27 gesien word.

Sim (2002:779) merk heel tereg op dat die woorde in Matteus 5:18, 'voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan nie', die getroue nakoming van die Tora benadruk (Davies 1963:335). Hierdie respek vir die Tora lei daartoe dat Sim (2002:780; 1998:188-213) die kwessie van die besnydenis aanraak en hy (Sim 2002:775-781) is van mening dat die besnydenis die kern van die polemiek in Antiogië was en dat dit ook die insident is waarna Paulus in die Galasiërsbrief20 verwys. Dat Paulus en Petrus van mekaar verskil het oor iets, kan nie ontken word nie. Die vraag is egter of dit wel die besnydenis was waaroor hulle verskil het. Die feit dat Matteus geensins die kwessie van besnydenis aanraak of in die Evangelie daarna verwys nie, maak dit onwaarskynlik dat hy in Matteus 5:18 teen Paulus reageer. Indien Matteus vir Petrus prominent wou voorstel om teen Paulus te reageer, sou hy waarskynlik ook in die Evangelie na die kwessie verwys wat die konflik tussen die twee veroorsaak het.

Met betrekking tot die polemiek tussen Matteus en Paulus, veral in die Bergrede, reageer Sim (2002:776-781; 2007:325-343) op die werke van Davies (1963), Goulder (1974) en Meier (1983). Hy spreek die mening uit dat Davies te ver gegaan het teenoor Brandon (1978). Sim (2002:771) erken die ooreenkomste, maar lig ook die verskille uit.

Sim (2002:776-777) meen dat Betz (1985:20-157) die beste voorbeeld gee, te wete dat die Bergrede 'n eenheid was voordat die Matteus-evangelie gefinaliseer is. Alhoewel Betz (1995:30, 553, 563) van mening is dat dit anti-Paulinies kon wees, noem hy ook dat dit nie die algemene siening van Matteus verteenwoordig het nie. Sim (2002:777) is egter nie tevrede nie en hy meen dat Matteus hierdie geskrif doelbewus in die Evangelie opgeneem het om teen Paulus te reageer (vgl. Sim, 1998:8-9).

Sim (2002:777) steun verder ook op die werk van Segal (1991:21-22), wat meen dat die polemiek in Matteus 7:15-23 en 24:10-12 oor Paulinisme of selfs ekstreme-Paulinisme gevoer is. Sy kommentaar is skerp veroordelend: 'Matthew was engaged in a bitter and sustained polemic against Paul himself' (vgl. Sim 2008:377-392).

Dit is reeds genoem dat Paulus waarskynlik geskrewe of mondelinge werke gebruik het wat in die Vroeë Kerk in sirkulasie was. Fiensy (2010:96) wys op moontlike ooreenkomste tussen Matteus en Paulus met betrekking tot die logia van Jesus in Tabel 1

 

 

Die navorsing van Fiensy (2010:81-98) wys daarop dat daar selfs parallelle tussen die woorde van Paulus en die Bergrede bestaan.

David Wenham (2008:204) het onlangs Paulus se werke met die Bergrede vergelyk en die ooreenkomste is volgens hom 'strikingly'. In 1 Korintiërs 6:9 vra Paulus: 'Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?' 21 Dit klink asof hier iets van Matteus 5:20 weerklink: '... as julle geregtigheid nie oorvloediger is ... [sal] julle nooit die koninkryk van die hemele ingaan nie'. Hy meen verder dat Paulus geweet het dat geregtigheid (δικαιοσύνη) met die koninkryk van God geassosieer word en dat die begrip nié net uit Matteus kom nie. Wenham (2008:204) sien ook 'n verband tussen Romeine 3:3122 en Matteus 5:1723 en noem dat Paulus dalk hierdie uitspraak van Jesus geken het.

Die moontlikheid dat Paulus toegang tot proto-evangelies24 gehad het, kan dus nie uitgesluit word nie, want uit die werke van Fiensy (2010:81-98) en Wenham (2008:187-206) is dit duidelik dat Paulus tog met sekere van Jesus se logia vertroud was. Dit wil dus eerder voorkom asof Matteus en Paulus teologies naby aan mekaar was.

 

Matteus en Paulus teologies naby aan mekaar

Brandon (1978) se werk het die gesprek oor Matteus en Paulus gestimuleer. Een van die sienings wat hieruit voortgekom het, was dat Matteus en Paulus teologies naby aanmekaar is.

Davies (1963:316-414) se klassieke studie van die Bergrede bevat onder andere 'n bespreking van anti-Paulinisme (Davies 1963:316-341). Soos ander ook meen, is Davies (1963:316) se uitgangspunt dat Matteus die Bergrede geskryf het om die invloed van Paulus op die gemeenskap in Antiogië teen te werk. Daar word geredeneer dat Paulus soveel klem op die genade as 'n gawe van God geplaas het, dat sommige Christene hom verkeerd verstaan het. Dit het tot gevolg gehad dat moraliteit of etiese waardes laat vaar is, of as onbelangrik beskou is. Davies (1963:325) beskou die saak vanuit drie hoeke, naamlik die algemene karakter van Matteus, die sogenaamde anti-Pauliniese verwysings in die Evangelie en ook die prominente rol van Petrus. Hy beweer dat daar in al drie gevalle geen grond vir 'n anti-Pauliniese polemiek is nie. Oor die prominensie van Petrus sê Davies (1963):

... it is more than probable that Peter was nearer to Paul than he was to James, and it has been possible to see in Matt. XVI.18f a defence of Peter not against Paul but against James. (p. 339)

Davies (1963:340) kom dus tot die slotsom dat die Bergrede nie 'n reaksie teen Paulinisme is nie.

Die werk van Davies is verder deur Goulder (1974:153170) gevoer. Hy maak 'n meer gedetailleerde analise van die verhouding tussen Matteus en Paulus. Goulder (1974:154-155) argumenteer dat Matteus deur die Pauliniese tradisie beïnvloed is en suggereer selfs dat Matteus van Paulus se briewe gebruik het om sy Evangelie saam te stel.

J.P. Meier (1983:11-86) huldig 'n soortgelyke oortuiging en meen dat Matteus 'n konserwatiewe siening van die wet gehad het. Alhoewel Matteus nie Paulinies was nie, was daar ooreenkomste tussen Matteus en Paulus se uitgangspunte, naamlik:

  • 'n universele sending sonder besnydenis;
  • 'n Evangelie gebaseer op radikale liefde;
  • 'n kerkorde wat benadruk moet word;
  • die dood en opstanding van Jesus, wat die sentrale eskato-logiese gebeurtenis van die openbaringsgeskiedenis is; en
  • die openbaring van God in die Joodse geskrifte en in Christus.

Meier (1983:62-63) se gevolgtrekking is dat Matteus en Paulus in afsonderlike sendingaksies na die nie-Jode kon saamgewerk het.

 

Matteus en Paulus verskil, maar komplementeer mekaar

Met betrekking tot Matteus en Paulus wat mekaar komplementeer, is die werk van Mohrlang (1984) noemenswaardig25. Mohrlang (1984:7-126) vergelyk die etiese beskouings van Matteus en Paulus sorgvuldig. Hy bespreek hulle sienings van die Tora en beweer dat hulle min met mekaar gemeen het, maar redeneer dat hulle mekaar tog komplementeer. Dit is egter noemenswaardig dat die neiging om Paulus as iemand voor te stel wat die Tora getrou nagevolg het26, al hoe sterker word, veral in die werke van Mark Nanos (2002; 2004; 2005; 2007; 2008a; 2008b; 2009; 2010)27. Nanos (2010:19) is daarvan oortuig dat Paulus steeds die Tora onderhou het nadat hy tot geloof in Christus gekom het. In Nanos se eie woorde stel hy Paulus voor as '... a Torah observant Jew who seeks to bring the nations into a relationship with the God of the Jews...'

France (1997) neem ook vorige navorsing (dié van Davies 1963, Goulder 1974; Mohrlang 1984) in ag en sê:

It is then, likely that Matthew's church was aware of and influenced by the teaching of Paul, but most unlikely that Matthew was unhappy with the degree of this influence, or designed his gospel to counter it. (p. 111)

Luz (1995:147-148) neem 'n soortgelyke standpunt in en sê dat die Matteus-evangelie geen anti-Pauliniese polemiek bevat nie. Hy noem nietemin dat indien Matteus en Paulus mekaar geken het, hulle nie hegte vriende sou gewees het nie. Hy redeneer dat hulle nie teenoor mekaar gestel moet word nie, want alhoewel daar verskille tussen hulle is, is daar ook sterk ooreenkomste:

  • albei benadruk genade
  • albei benadruk innerlike geregtigheid
  • albei glo dat die kern van die wet liefde is, en
  • albei huldig die siening van 'n universele geloof in Christus.

Hierdie navorsers is dit eens dat daar wel verskille tussen Matteus en Paulus is, maar hulle sien ook die ooreenkomste raak. Teen Sim (2002:767-783; 2007:325-343; 2008:377-392) reageer Willits (2009) soos volg:

To me, Sim has marshalled evidence from the First Gospel that did not directly or immediately refer to Paul or his mission. And only after one accepts Sim's assumption that Matthew's outlook was anti-Pauline does the evidence connect to the claim. To put it plainly, it is possible that, if Matthew and Paul had been contemporaries - contrary to both Luz and Sim - they could have struck up a splendid friendship. (p. 7)

Vir hierdie studie is dit egter belangrik om ook die sogenaamde 'new perspective' oor Paulus in ag te neem. Dunn (2008:5-10) het in navolging van Sanders (1989:17-167) 'n groot bydrae tot die debat oor Paulus se siening van die Tora gelewer. In 'n bundel van sy gepubliseerde werke kom hy onder andere tot die volgende gevolgtrekkings:

  • Paulus en Matteus soek na vervulling van die wet (Dunn 2008:75).
  • Wanneer Paulus se hantering van die wet in die Galasiërs-en die Romeinebrief vergelyk word, is die algemene eienskap daarvan die godgegewe karakter en funksie van die wet en dit dra by tot die 'continuing positive role of the law' (Dunn 2008:281-282).
  • Vir Paulus bestaan daar 'n sterk kontinuïteit tussen die funksie van die Ou-Testamentiese wet wat ook in die nuwe era van Christus voortgaan (Dunn 2008:310).
  • Die negatiewe houding van Paulus teenoor die Tora moet eerder gesien word teen die agtergrond van Israel wat die Tora gebruik het om hulle van ander nasies af te sonder (Dunn 2008:311).
  • Nomos was vir Paulus 'n omvattende term met die wet van Moses as die middelpunt. Dit is gesien as 'n uitdrukking van die wil en wysheid van God. In Dunn (2008) se eie woorde: Heard as the word of faith, and inciting to deeper trust rather than to sinful passion, it could be the instrument of the Spirit. It remained as ever the measure of God's will and judgement ... (p. 467)

Met hierdie navorsing van Dunn is dit duidelik dat Matteus en Paulus se teologiese sienings baie nader aan mekaar is as wat beweer word en die gevolgtrekking kan gemaak word dat hulle mekaar komplimenteer.

 

Gevolgtrekking

Dit blyk dat daar geen spanning tussen die Bergrede en die res van die Evangelie is nie. Die moontlikheid bestaan wel dat die Bergrede 'n aparte geskrif28 was voordat die Evangelie ontstaan het, maar dit bevat nie 'n eie teologie of eskatologie nie.

Alhoewel daar navorsers is wat meen dat die Bergrede anti-Paulinies is, wil dit voorkom asof Matteus nie doelbewus teen Paulus reageer nie. Die siening dat die prominensie van Petrus in die Matteus-evangelie 'n reaksie teen Paulus is, is nie oortuigend nie. Vier redes is hiervoor geïdentifiseer:

  • Die eerste rede hou verband met die Markaanse prioriteit. Indien Matteus die Markus-evangelie as bron gebruik het, het hy heel waarskynlik die prominensie van Petrus daaruit oorgeneem.
  • 'n Tweede rede kan Petrus se impulsiewe karakter wees. Omdat hy dikwels impulsief gereageer het, is die moontlikheid groter dat sy naam meer dikwels as die name van die ander dissipels genoem word.
  • Die derde en heel waarskynlik die deurslaggewendste rede is dat Petrus die oudste van die dissipels was. Uit 'n sosio-historiese oogpunt maak dit sin om te sê dat Petrus die leiding geneem het, die segsman was en dikwels eerste gehandel het, omdat hy die oudste van die groep was.
  • Laastens moet daar met die redenasie oor die Petrus-prominensie in gedagte gehou word dat dit positief en negatief voorgestel word.

Dit wil verder voorkom dat daar nie wesenlike verskille tussen Matteus en Paulus was nie, maar dat daar eerder sterk ooreenkomste is:

  • albei benadruk genade;
  • albei benadruk innerlike geregtigheid;
  • albei glo dat die kern van die wet liefde is en erken die kontinuïteit van die wet;
  • die wet kan gesien word as die uitdrukking van die wil en wysheid van God;
  • albei het die siening van 'n universele geloof in Christus;
  • die dood en opstanding van Jesus is die sentrale eskato-logiese gebeurtenis van die openbaringsgeskiedenis; en
  • die uitgangspunt dat die openbaring van God in die Joodse geskrifte en in Christus is, kom by albei voor.

Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat Matteus en Paulus teologies na aan mekaar was en dat hulle mekaar ook komplimenteer.

 

Erkenning

Mededingende belange

C.F.M. (Noordwes-Universiteit) het die navorsing en skryf van die artikel onder die leiding van F.P.V. (Noordwes-Universiteit) gelewer.

Outeursbydrae

Die outeurs verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Betz, H.D., 1985, Essays on the Sermon on the Mount, Fortress, Philadelphia.         [ Links ]

Betz, H.D., 1995, The Sermon on the Mount, including the Sermon on the Plain: Matthew 5:3-7:27 and Luke 6:20-49, Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

Borchert, G.L., 2002, John 12-21, Broadman & Holman, Nashville. (The new American commentary, vol. 25B).         [ Links ]

Brandon, S.G.F., 1978, The fall of Jerusalem and the Christian church, 2nd edn., Society for Promoting Christian Knowledge, London.         [ Links ]

Carson, D.A., Moo, D.J. & Morris, L., 1992, An introduction to the New Testament, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

Cousar, C.B., 1996, 'Jerusalem, Council of', in D.N. Freedman (ed.), Anchor Yale Bible Dictionary, pp. 766-769, Doubleday, New York.         [ Links ]

Davies, W.D., 1963, The setting of the Sermon on the Mount, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Davies, W.D. & Allison, D.C.,1991, A critical and exegetical commentary on the Gospel according to Saint Matthew, Clark, London. (International critical commentary, vol. 1-3).         [ Links ]

Donfried, K.P., 1992, 'Peter: Person', in D.N. Freedman (ed.), Anchor Yale Bible Dictionary, vol. 5, pp. 251-264, Doubleday, New York.         [ Links ]

Dunn, J.D.G., 1983, 'The incident at Antioch', Journal for the Study of the New Testament 18, 3-57. http://dx.doi.org/10.1177/0142064X8300501801        [ Links ]

Dunn, J.D.G., 2008, The new perspective on Paul, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Elwell, W.A. & Comfort, P.W. (eds.), 2001, Tyndale Bible dictionary, Tyndale House, Wheaton.         [ Links ]

Fiensy, D.A., 2010, 'The synoptic logia of Jesus in the ethical teachings of Paul', StoneCampbell Journal 13, 81-98.         [ Links ]

France, R.T., 1997, Matthew: Evangelist and teacher, InterVarsity, Downers Grove.         [ Links ]

Gillman, F.M., 1992, 'James, brother of Jesus', in D.N. Freedman (ed.), Anchor Yale Bible Dictionary, vol. 3, pp. 620-622, Doubleday, New York.         [ Links ]

Goulder, M.D., 1974, Midrash and lection in Matthew, Society for Promoting Christian Knowledge, London.         [ Links ]

Hagner, D.A., 1993, Matthew 14-28, Word Books, Dallas. (Word Biblical commentary, vol. 33B).         [ Links ]

Hendriksen, W., 1953, Exposition of the Gospel according to John, Baker Book House, Grand Rapids. (New Testament commentary, vol. 2).         [ Links ]

Inch, M.A., 2003, 12 who changed the world: The lives and legends of the disciples, Nelson, Nashville.         [ Links ]

Jacobs-Malina, D., 1994, 'Gender, power and Jesus' identity in the Gospels', Biblical Theology Bulletin 24(4), 158-166. http://dx.doi.rg/10.1177/014610799402400403        [ Links ]

Josephus, F., 1981, The work of Josephus, transl. W. Whiston, New updated ed., Hendrickson, Peabody.         [ Links ]

Klein, W.W., Blomberg, C.L. & Hubberd, R.L., 2004, Introduction to biblical interpretation, Thomas Nelson, Nashville.         [ Links ]

Longenecker, R.N., 1998, Galatians, Word Books, Dallas. (Word Biblical Commentary, vol. 41).         [ Links ]

Luz, U., 1995, The theology of the Gospel of Matthew, transl. J. Bradford Robinson, Cambridge University Press, Cambridge. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9781139166560        [ Links ]

Luz, U., 2005, Studies in Matthew, Transl. R. Selle, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Mandell, S., 1984, 'Who paid the temple tax when the Jews were under Roman rule?',The Harvard Theological Review 77(2), 223-232. http://dx.doi.org/10.1017/S0017816000014309        [ Links ]

Marguerat, D., 1995, Le lugement dans l'evangile de Matthieu, Labor et Fides, Geneve.         [ Links ]

Meier, J.P., 1983, 'Antioch', in R.E. Brown & J.P. Meier, Antioch and Rome: New Testament cradles of catholic Christianity, pp. 12-86, Chapmann, London.         [ Links ]

Mohrlang, R., 1984, Matthew and Paul: A comparison of ethical perspectives, Cambridge University Press, Cambridge. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9780511520426        [ Links ]

Nanos, M.D., 2002, The irony of Galatians: Paul's letter in first-century context, Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

Nanos, M.D., 2004, Paul and Judaism, viewed on 09 April 2012, from http://www.marknanos.com/Paul-and-Judaism-3-28-04.pdf        [ Links ]

Nanos, M.D., 2005, A Torah-observant Paul: What difference could it make for Christian/Jewish relations today?, viewed 03 April 2012, from http://www.marknanos.com/Boston-Torah-Obs-5-9-05.pdf        [ Links ]

Nanos, M.D., 2007, 'Have Paul and his communities left Judaism for Christianity?' A review of the Paul-related chapters in Jewish believers in Jesus and Jewish Christianity revisited, viewed 03 April 2012, from http://www.marknanos.com/SBL-07-Jewish-Chrstnty.pdf        [ Links ]

Nanos, M.D., 2008a, Paul and the Jewish tradition: The ideology of the Shema, viewed07 May 2012, from http://www.marknanos.com/Paul-Shema-10-27-08.pdf        [ Links ]

Nanos, M.D., 2008b, Rethinking the 'Paul and Judaism' paradigm: Why not 'Paul's Judaism?', viewed 11 April 2012, from http://www.marknanos.com/Paul%27sJudaism-5-28-08.pdf        [ Links ]

Nanos, M.D., 2009, Paul's relationship to Torah in light of his strategy 'to become everything to everyone' (1 Corinthians 9:19-23), viewed 11 April 2012, from http://www.marknanos.com/1Cor9-Leuven-9-4-09.pdf        [ Links ]

Nanos, M.D., 2010, Locating Paul on a map of first-century Judaism, viewed 11 April 2012, from http://www.marknanos.com/Paul-Map-Judaism-11-2010.pdf        [ Links ]

Nolland, J., 2005, The Gospel of Matthew: A commentary on the Greek text, Eerdmans, Grand Rapids. (New International Greek Testament Commentary).         [ Links ]

Osborne, G.R., 1988, 'Peter, the apostle', in W.A. Elwell, W.A. (ed.), Baker encyclopedia of the Bible, pp. 1659-1668, Baker Book House, Grand Rapids.         [ Links ]

Sanders, E.P., 1989, Paul, the law, and the Jewish people, Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

Segal, A.F., 1991, 'Matthew's Jewish voice', in D.L. Balch (ed.), Social history of the Matthean community: Cross-disciplinary approaches, pp. 21-22, Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

Sim, D.C., 1998, The Gospel of Matthew and Christian Judaism, Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Sim, D.C., 2002, Matthew's anti-Paulinism: A neglected feature of Matthean studies', HTS Reformed theological studies 58(4), 767-783.         [ Links ]

Sim, D.C., 2007, 'Matthew 7:21-23: Further evidence of its anti-Pauline perspective', New Testament Studies 53, 325-343. http://dx.doi.org/10.1017/S0028688507000161        [ Links ]

Sim, D.C., 2008, 'Matthew, Paul and the origin and nature of the gentile mission: The great commission in Matthew 28:16-20 as an anti-Pauline tradition', HTS Reformed Theological Studies 64(1), 377-392.         [ Links ]

Sim, D.C., 2009, 'The rise and fall of the Gospel of Matthew', The Expository Times (120), 478-485. http://dx.doi.org/10.1177/0014524609106580        [ Links ]

Smith, D.E., 1992, 'Table fellowship', in Freedman, D.N. (ed.), Anchor Yale Bible Dictionary, vol. 6, pp. 302-304, Doubleday, New York.         [ Links ]

Stanton, G.N., 1993, A Gospel for a new people: Studies in Matthew, Westminster, Louisville.         [ Links ]

Turner, D.L., 2008, Matthew, Baker Academic, Grand Rapids. (Baker Exegetical Commentary on the New Testament).         [ Links ]

Van Eck, E., 2000, 'A Sitz for the Gospel of Mark? A critical reaction to Bauckham's theory on the universality of the Gospels', Hervormde Teologiese Tydskrif 56(4), 973-1008.         [ Links ]

Vander Broek, L.D., 1983, 'The Markan "Sitz im Leben": A critical investigation into the possibility of a Palestinian setting for the Gospel', PhD-dissertion, Drew University, New Jersey.         [ Links ]

Viljoen, F.P., 2009, Studies in Matthew, Potchefstroom Theological Publications, Potchefstroom.         [ Links ]

Wenham, D., 2008, 'The rock on which to build: Some mainly Pauline observations about the Sermon on the Mount, in D.M. Gurtner & J. Nolland (eds.), Built upon the rock: Studies in the Gospel of Matthew, pp. 187-206, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Wilkins, M.J., 1988, The concept of disciple in Matthew's Gospel: As reflected in the use of the term MaBnxqq, Brill, Leiden. http://dx.doi.org/10.1163/9789004266896        [ Links ]

Willitts, J., 2009, 'The friendship of Matthew and Paul: A response to a recent trend in the interpretation of Matthew's Gospel', HTS Reformed Theological Studies 65(1), viewed 31 October 2012, from http://repository.up.ac.za/handle/2263/11005        [ Links ]

 

 

Correspondence:
Cois Meiring
PO Box 1416
Lichtenburg 2740
South Africa
Email: cfmeiring@vodamail.co.za

Received: 19 July 2013
Accepted: 26 Feb. 2014
Published: 21 July 2014

 

 

1. Matteus 5:17 (1953-vert.): 'Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.'
2. Daar word van die veronderstelling uitgegaan dat Matteus vir die gemeenskap in Antiogië geskryf het.
3. Daar word van die veronderstelling uitgegaan dat Matteus vir die finale redaksie van die Matteus-evangelie verantwoordelik was.
4. Galasiërs 2:11-15 (1953-vert.): 'Maar toe Petrus in Antiochië gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het. Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is. En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Bárnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins. Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden lewe en nie soos 'n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe? Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie.'
5. Galasiërs 2:16 (1953-vert.): 'terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.'
6. Alhoewel kerk in hierdie geval anakronisties is, verwys dit na die geloofsgemeenskap.
7. Jakobus, die broer van Jesus het waarskynlik op daardie stadium die kerk in Jerusalem gelei (Elwell & Comfort 2001:665; Gillman 1992:620;Longenecker 1998:38-39).
8. Matteus 16:18-19 (1953-vert.): 'En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.'
9. Matteus 5:17-19 (1953-vert.): 'MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.'
10. Matteus 16:17 (1953-vert.): 'Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.'
11. Galasiërs 1:12 (1953-vert.): 'Want ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar deur 'n openbaring van Jesus Christus.'
12. Galasiërs 1:16-17 (1953-vert.): 'om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie, en ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek en weer teruggekom na Damaskus.'
13. Osborne (1988:1664) meen selfs: 'Peter's authority is more clearly seen in John than in any other Gospel except Matthew.'
14. Indien Markus die skrywer van die Evangelie volgens Markus is.
15. Petrus is prominent in onderskeidelik 15 gevalle in die Markus-evangelie.
16. Matteus 17:24-27 (1953-vert.): 'En toe hulle in Kapérnaum kom, het die wat die tempelbelasting ontvang, na Petrus gegaan en gesê: Betaal julle Meester nie die tempelbelasting nie? Hy antwoord: Ja. En toe hy in die huis inkom, was Jesus hom voor en sê: Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde tol of belasting - van hulle seuns of van die vreemdelinge? 26Petrus antwoord Hom: Van die vreemdelinge. Jesus sê vir hom: Dan is die seuns vry. 27Maar dat ons hulle geen aanstoot mag gee nie, gaan na die see toe, gooi 'n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.'
17. Josephus (1981: Antiquities 18.312-313), die Joodse geskiedskrywer in 37 n.C. tot ongeveer 100 n.C. maak melding van: '... deposited in them that half shekel which everyone, by the custom of our country, offers unto God Mandell (1984:223-232) redeneer oortuigend dat dit steeds die geval onder Romeinse heerskappy was. Alhoewel Donfried (1992:258) 'n ouderdom van 19 jaar en ouer voorstel, merk hy op dat mans vóór en ná 70 n.C. belasting moes betaal.
18. Eksodus 30:14 (1953-vert.): 'Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die Here gee.'
19. In hierdie studie word Markus as een van Matteus se bronne beskou.
20. 'Die brief van die apostel Paulus aan die Galasiërs' (1953-vert.).
21. Paulus gebruik nie die konsep die koninkryk van God baie nie (ongeveer 10 keer). Die verwysing daarna wys dat hy wel daarmee vertroud was, maar die lae digtheid weerspieël waarskynlik die verkondiging van die Evangelie aan die Grieks- Romeinse wêreld (Wenham 2008:204).
22. Romeine 3:31 (1953-vert.): 'Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.'
23. Matteus 5:17 (1953-vert.): 'Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.'
24. Die moontlikheid bestaan dat Bybelskrywers toegang gehad het tot geskrewe bronne wat proto-Evangelies ('Proto-Gospels') genoem word (Carson et al. 1992:36-38).
25. Marguerat 1995) het wel vóór Mohrlang (1984:7-126) hieroor geskryf.
26. Daarmee word nie gesê dat Paulus die Tora probeer afdwing het nie, maar dat hy dit steeds getrou nagekom het omdat hy 'n Jood was.
27. Dit is nadat hy tot bekering gekom het.
28. Die woord geskrif word versigtig gebruik, omdat daar ook 'n mondelinge vorm kon bestaan het.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons