SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 issue1Equipping lay facilitators to support emotionally wounded children in Africa by means of healing communitiesThe Sermon on the Mount as possible reaction against Paul author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

In die Skriflig

On-line version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.48 n.1 Cape Town Feb. 2014

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Aspekte van 'n omkeerproses

 

Aspects regarding a turnaround process

 

 

Sophia (Phia) van Helden

Faculty of Theology, North-West University, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word gefokus op aspekte wat deel uitmaak van 'n omkeerproses. Sodanige proses behoort oorweeg te word waar krimpende gemeentes in 'n doodloopstraat verkeer. Alhoewel die kompleksiteit van so 'n proses duidelik na vore kom, is 'n omkeerproses tog moontlik. Die Skrifbeginsels wat so 'n proses moontlik maak, behoort binne elke gemeentelike konteks uniek ontdek en toegepas te word. Die diepgrondige selfleerproses en die voordele wat 'n waarderende taalaanpak ('Waarderende Ondersoek') in die proses het, lei tot die besef dat nie net die inhoud nie, maar ook die manier waarop dit gedoen word van 'n omkeer behoort te getuig. Die talle verweefde aspekte waaraan aandag gegee word, kan rigtinggewend wees vir diegene wat erns maak met die moontlikheid om groeiende en gesonde kerkpraktyke daar te stel.


ABSTRACT

This article focuses on aspects regarding a turnaround process. Such a process ought to be considered where declining congregations face a dead end. Although the complexity of a turnaround is clear, such a process is still possible. The scriptural principles regarding the possibility of such a process ought to be discovered and contextually applied by each unique congregation. A deep whole-hearted self-learning process, as well as the positives of an appreciative language approach (Appreciative Inquiry), conclude that not only the contents of the turnaround, but also the manner in which it is done, ought to speak of a turnaround. The many intertwined aspects discussed in this article can direct those who are serious about the possibility of establishing growing and healthy church practices.


 

 

Inleiding

In hierdie artikel word 'n breë raamwerk vir die moontlikheid van 'n omkeerproses bespreek. 'n Voorafproses wat in die denke van elke gelowige plaasvind, is die beginpunt van 'n diep volhoubare verandering. Die onontbeerlike eerste treë van omkeer is derhalwe om eers die bestaan van 'n krisissituasie te erken, om selfondersoek te doen van die eie bestaande denke of praktyk en om tot die eerlike besef te kom dat werklike bekering die enigste uitweg is (Rheeder 2012). Elke denkaksie vind deur middel van woorde plaas, dus deur taal. Die taalaanpak behoort as deel van die omkeer beskou te word. Taalgebruik aan die hand van Waarderende Ondersoek (WO) (Branson 2004:xi, 40, 43-58; Chaffee 2004:2, 10; McLaren 2006:49; Strong, 2007:106) kan die diepsnydende proses van denkverandering grootliks bevorder en vergemaklik (vgl. Jackson 2013:12; Niemandt 2007:69, 70; vgl. 'Waarderende Taalaanpak').

Indien die voorafstrategie nie deurtastend beleef en deurleef word nie, kan daar nie sprake wees van omkeer of enige verdere verloop van 'n omkeerproses nie. Met 'n waarlik bekeerde, volhoubare ingesteldheid en openheid aangaande die wil van God, kan dan op die onontbeerlike aspek van omkeer gefokus word, naamlik die vier beginsels wat uit die Groot Gebod (liefdesgebod) spruit.

Nadat gehoorsaamheid aan die Groot Gebod deeglik en duidelik begryp is, kan voortgegaan word om 'n Christosentriese, gebedsgedrewe, missionale en organiese gemeente-aanpak op 'n menslike wyse te benader. Die aanpak behoort deur die omkerende gemeente teologies, kontekstueel en ekklesiologies ondersoek en geanaliseer te word, sodat die skriftuurlike beginsel van natuurlike groei (opbou en uitbou; Schalekamp 2005:4, 31, 34; Venter 2013), ook bekend as die biotiese strategie, op menslike wyse stelselmatig verwesenlik kan word. Terselfdertyd behoort duidelik kennis geneem te word van drie ander gelyklopende strategieë, naamlik die kommunikatiewe, die leierskap- en die revisioneringstrategieë. Kennis van die breë samehang van 'n omkeerproses kan vir gemeentes wat erns maak met bekering of verdieping van deurslaggewende waarde wees.

 

Bewuswording van 'n omkerende beweging

Diepgrondige en volhoubare verandering vind nie oornag plaas nie (Thom 2013). Omkeer word ook nie geredelik deur elke gelowige aanvaar of verstaan nie. 'n Bewusmaking van die noodsaaklikheid van 'n omkeer moet eers tot die gelowige se denke deurdring (vgl. Van Helden, P 2013). Die gelowige se denke en wil behoort diep en eerlik aangeraak te word om dan só in erkentlikheid voor God skuldbelydenis te doen. Dit is die eerste en bepalende stap op hierdie omkeerpad. Die nuwe-wyn-nuwe-sak-beginsel (nwns-beginsel; vgl. Matt 9:17; vgl. ook ''n Strategie om verandering daar te stel') en Romeine 12:2 is by die bewusmaking van 'n denkverandering (verdieping/bekering/omkeer) en wanneer onsekerhede noodwendig na vore kom, 'n behoudende en vertroostende anker (Rheeder 2012; Van Helden, S 2013).

Wat verwag kan word tydens die omkeertydperk

Om van die een ingesteldheid tot 'n ander ingesteldheid om te keer, gaan vanselfsprekend 'n wye kontinuum met reaksie-en refleksievlakke toon. Volgens Browning (Burger 1999:313) is refleksie altyd deel van 'n veranderingstydperk en dit op sigself veroorsaak alreeds dat gelowiges se individuele denke stelselmatig, maar teen verskillende tempo's, in beweging kom om tot veranderende denke oor te gaan. Tydens 'n omkeerproses sal daar noodwendig verskillende denkposisies wees (vgl. ook 'Kommunikatiewe strategie').

Wat tydens die aanvang van die omkeertydperk verwag kan word, word kortliks aan die hand van die stoomrollertendens verduidelik (vgl. Brouwer et al. 2007:49). Nadat besef is (voorafstrategie) dat opnuut daarna gestreef moet word om die Skrif ten volle te gehoorsaam, word 'n mate van geloofsopwinding ervaar. Hierdie inisiëringspunt begin 'n emosiefase. Aanpassings word algaande voorgestel en 'n verskeidenheid emosionele reaksies word ontlok wanneer die werklikheid en die implikasies van die aanpassings tot die mens deurdring. Die reaksies kan wissel tussen skok, verwarring, ontwyking en selfs veglustigheid. In die verwerking van hierdie emosies kan nostalgie, woede en angs beleef word en soms ook 'n intense gevoel van verlies. Dit is in hierdie stadium dat gelowiges uitermate krities word en soms die wens uitspreek om van die kerk te onttrek. Sommige gelowiges gaan wel tot hierdie stap oor, terwyl ander by die keerpunt verbybeweeg.

Die keerpunt begin 'n rasionele fase deur die opregte wens uit te spreek om deel van ware, Christosentriese verandering te wees. Gedryf deur die soeke na dit wat waarlik Skrifgetrou is, word nuwe keuses en ontdekkings gemaak, probleme word op 'n nuwe wyse aangepak en nuwe doelwitte word bedink en beplan volgens die Skrifbeginsels wat in die Groot Gebod en die Groot Opdrag ingebed is. Hierdeur ontstaan 'n omkeer wat van hoop en toegewydheid getuig. Die rasionele punt van refleksie, evaluering en meting word deurgevoer en 'n hernude verbintenis tot gehoorsame en volhoubare verandering vind plaas. Dit lei tot die ervaring van ware opwinding en dankbaarheid in die geloof.

Volgens hierdie proses is dit duidelik dat daar diegene sal wees wat die denkverskuiwingsproses vinniger as ander sal deurloop; wat dus ook leiding sal neem. Remming en weerstand is egter ook deel van die proses (Van Gelder 2009:179). Die logiese wat verwag kan word, is dat groeperings sal ontstaan wat onderlinge wantroue kan bewerkstellig en verlammend op die gemeentelike omkeer kan inwerk (Botha 2006:47). Gelowiges moet hiervan bewus wees en nie daardeur afgeskrik word nie, maar biddend op onberispelike gehoorsaamheid aan die Skrif bly fokus (vgl. Luk 1:6; 1 Tim 6:14; Spr 11:20) en daadwerklik aandag skenk aan WO (vgl. 'Waarderende taalaanpak').

Ter verswaring van die toestand stel Strong (2007:52) dat die oorgang tot verandering langer kan neem as wat beoog is. Die moeilikheidsgraad daarvan en die onkunde van gelowiges rakende die omkeerproses, asook die komplekse proses van aktiewe implementering, kan ook volgens Gilbert (2004:9) 'n geruime tyd neem. Dit hang ook af van die gemeente se posisie binne die lewensiklus1 (Saarinen 1992:7-16). 'n Meer realistiese benadering rakende die aanvanklike veranderingsproses behoort van dag een af daargestel te word, naamlik om te aanvaar dat 'n finale spertyd nie rigied gestel moet word nie. Onvoorspelbaarheid binne 'n saak soos verandering, veral binne tradisioneel-konserwatiewe gemeentes (Giliomee 2004:126, 127; Van Helden 2010:466, 467), behoort voortdurend in gedagte gehou te word. Aan die ander kant kan die omkeerproses ook nie onbepaald onveranderd en onwaarneembaar bly nie. Gelowiges behoort dus terselfdertyd te besef dat 'n lewende, diepgaande omkeerproses nooit afgehandel en afgesluit kan word nie, aangesien beweging binne die geloofsgemeenskap voortdurend plaasvind en die nuwe sak voortdurend aandag verg (vgl. ''n Strategie om verandering daar te stel - nwns-beginsel'; Tickle 2008:145-150).

In die veranderingsproses word kennis ten opsigte van sekere sake verwag. Gelowiges moet bewustelik kennis neem en bewus wees van die volgende tien aspekte.

  • Die gemeentelike lewensiklus (Brouwer et al. 2007:16-20, 105; Saarinen 1992:1-23).
  • Elke stadium wat die lewensiklus het en die feit dat kleiner manifestasies van groei (societas-fase) en krimping (communitas-fase) kan voorkom. Dit sal afhang van die unieke samestelling van die betrokke gemeente, maar ook van interne en eksterne omstandighede.
  • Die ontsetting van blokkasies kan plaasvind indien gefokusde refleksie, evaluering (meting), visionering en beplanning hoë prioriteit geniet (Saarinen 1992:5-7). Binne die kerkpraktyk is dit op sigself 'n nuwe denkwyse en dit behoort geduldig aangepak en uitgebou te word.
  • Dit is 'n feit dat geen twee gemeentes identies is nie, maar op 'n eie, spesifieke punt in die gemeentelike lewensiklus verkeer en derhalwe nie met ander gemeentes vergelyk kan word nie (meegedeel deur Pretorius en Lindeque op 03 Februarie 2009; vgl. ook Burger 1995:34).
  • Beginsels is hier ter sprake - geen handboek met voorskrifte bestaan hiervoor nie. Beginsels is 'n saak wat binne elke unieke gemeente in gebedsafhanklikheid self toegepas moet word.
  • Die daarstel van 'n moontlike omkeer is 'n ongelyke pad, maar omkeer is wél moontlik. Na die aanvanklike verwarring en onsekerheid (McLaren 2006:181, 228) word verandering wel teweeggebring (Roxburgh 1997:67). Die gegewe van God se soewereiniteit, te midde van 'n onsekere en verwarrende tydsgewrig, behoort opnuut aanvaar en geglo te word, terwyl menslike verbondsaktiwiteit terselfdertyd ernstig en dringend aangewend moet word (De Kock 2003:110-18; Du Toit et al. 2002:49; Schwarz 1999:184-186).
  • Geen menslike strategie kan sukses waarborg nie. Slegs die Heilige Gees (Van Gelder 2009:59-61) wat die krag/energie/kreatiwiteit/beweging in die mens lê, kan diepgaande verandering bewerkstellig wat in vernuwende dade na vore kom (Hendriks 1999:19; Roxburgh 1997:67; Schwarz 1999:21; Strong 2007; Tit 3:5 en 8).
  • Gemeentes beleef tans die menslike laagtepunt van 'n communitas-fase en dit kan deurbreek word. Dit is immers in tye van menslike swakheid dat God kragdadig te werk gaan (Bosch 1991:509; Burger 1995:9). Met denke wat aktief volgens God se verbondsbeloftes omgekeer word, sal in die toekoms, wanneer 'n stygende kurwe (societas-fase) vertoon word, met dankbaarheid en verwondering getuig kan word van die vernuwende herskeppingswerk van God soos dit blyk uit die herskepte, gesonde kerkpraktyk (Hendriks 1999:19; McLaren 2006:182).
  • Die omkeerproses is nie voorskriftelik, korttermyngerig, oppervlakkig, resepmatig, kitsoplossend of liniêrveranderend van aard nie (Branson 2004:22; Gilbert 2004:50; Hendriks 1996:143).
  • Alhoewel verandering as die enigste uitweg verstaan word, is die besef van die impak daarvan net so oorweldigend. Dit is derhalwe nie vreemd dat leiers vreesbevange raak oor hulle gebrek aan kennis oor die nuwe rigting en die veranderings wat dit inhou nie.

'n Strategie om verandering daar te stel

Die nuwe-wyn-nuwe-sak-beginsel impliseer dat bybelse beginsels die rigsnoer bly (wyn), maar dat hierdie beginsels binne die veranderende een-en-twintigste-eeuse konteks van elke besondere gemeente, uniek toegepas moet word (sak) (vgl. Van Gelder 2009:48, 49). Mead (1993:70) stel dit as 'transformation at its very core'. Ook Tickle (2008:143) meen dat daar nie 'n ander alternatief is vir 'n gelowige omkeer nie. Sodanige omkeer is meer kompleks as die blote opnoem van 'n paar kernbegrippe en gepaste gonswoorde. 'n Omkeer wat die denke vanaf die voorafstrategie as die eerste omkeerstap betrek, is ten nouste aan die spreekbuis van die denke verbind, naamlik taalgebruik - taalgebruik wat as instrument op 'n waarderende wyse die omkeerproses kan vergemaklik.

'n Waarderende taalaanpak (WO = Waarderende Ondersoek)

'n Waarderende taalaanpak spruit uit 'n dankbaar heidsgesindheid (Branson 2004:43) en dit kan die huidige krisissituasie soos 'n eksodus uit die woestynlewe laat verander. Taal wat op 'n waarderende wyse gebruik word, het die potensiaal om deur menslike kommunikasie (gesprekke) problematiese sake te wysig. 'n Waarderende taalaanpak kan in die krisissituasie (Niemandt 2013:163, 164) die aangewese skrifbegronde instrument ter vergemakliking van die proses wees, aangesien die menslike denke deur taal gerig word om vanuit die ou denke tot die nuwe denke te groei (Branson 2004:43-64; Cooperrider & Whitney 2005:2-5). WO as 'kreatiewe invalshoek ... help om die gesprek op dreef te kry ... dat 'n luisterproses kan help om te onderskei (waardeer) waar God reeds met sy sending besig is' (Niemandt 2007:69, 70, 111).

Die waarderende taalaanpak (WO) is volgens Chaffee (2004:7, 110) 'n bemoedigende en revitalizing approach vir diegene wat omkeer as dringend en ernstig beskou. Branson (2004) gee 'n sistematiese en werkbare uiteensetting van WO. Hy beskryf dit soos volg: an understandable and doable model for attentive conversation, critical reflection and faithful envisioning' (bl. iv). Ook Chaffee (2004:7) voeg hierby dat menslike verhoudings of gesprekke as 'n belangrike bron van kennis vir sinvolle verbetering gereken word. Die keuse om ook die manier van gemeentelike gesprekke om te keer en met 'n dankbaarheidsgesindheid aan die hand van waarderende vrae die gesprek te voer om tot veranderde insigte te kom, bevestig dat die hoe van omkeer ernstig behoort geag te word. In der waarheid is die manier (hoe) waarop die omkeer plaasvind 'n herontdekking van die bybelse taalgebruik. 'n Omkeer in taalgebruik met 'n uitkoms soos in die Skrif, behoort vir tradisionele gelowiges 'n nuwe, dog verfrissende manier te wees om 'n gesprek te benader waar ernstig geluister moet word (Van Gelder 2009:112).

Deur die wyse van gesprekvoering word terselfdertyd ook by mekaar geleer en op 'n organiese wyse word deure oopgemaak vir die moontlikheid van verandering (Branson 2004:37-40; Cooperrider & Whitney 2005:3-5, 7-10). Hierdie aanpak hou talle kommunikatiewe voordele in (Branson 2004:9, 17-20, 28, 39, 54) en dit versterk die natuurlike (organiese) ontsluiting van bestaande en nuwe denke. Die energieke kragte wat op hierdie manier spontaan deur die gesprekke ontsluit word, dryf die menslike denke organies vorentoe; menslike denksisteme groei immers in die rigting wat ontstaan deur die stel van waarderende vrae (taal). Die tradisionele manier van probleemoplossing skuif op die agtergrond, aangesien 'n waardering van dit wat reeds bestaan en waartoe gegroei kan word, as kragte deur die gesprekke na vore kom, aldus Branson (2004:22; Nel 2009). Branson dui op 'n eenvoudige wyse aan hoe taal as instrument die denkveranderingsproses in sy eens gestagneerde en krimpende Amerikaanse Presbiteriaanse gemeente bevoordeel en vergemaklik het en hoe hierdie herontdekte bybelse manier tot nuwe denke en dade bygedra het.

Die leiers van 'n gemeente, oftewel die gemeentelike ingenieurs (Niemandt 2007:34), behoort reeds vanaf die voorafstrategie elke gespreksituasie waarderend te rig om so gou as moontlik by die kern van die omkeerproses te kom, naamlik die Groot Gebod. Uit die eerste en grootste gebod leer die mens vier allesomvattende, geïntegreerde Skrifbeginsels, naamlik Christusgesentreerde denke, gebedsafhanklikheid, die eenheidsisteem van opbou en uitbou soos gevind word in die Groot Opdrag en die natuurlike of organiese groeibenadering (bioties). Sonder hierdie vier beginsels sal enige omkeer en bedieningsplan wat daaruit mag voortspruit, wankeling toon. Nadat die beginsels deeglik in die omkerende denke geïntegreer is, kan aanbeweeg word na ondersoeke wat op die Skrif (teologies) fokus (Roxburgh & Romanuk 2006:16, 17; Van Gelder 2009:146, 147), uit die konteks (Van Gelder 2012:19, 23, 27, 48-54) en die aard van die betrokke kerkpraktyk (Van Gelder 2012:56; vgl. 'Begrondings van die bedieningsplan'). Laasgenoemde fokus op 'forming and reforming', wat sinoniem is met opbou (ecclesia semper formanda) en uitbou (ecclesia semper reformanda) (Van Gelder 2012:56). Weens die geïntegreerde aard van die kerkpraktyk is dit nodig om 'n kommunikatiewe, leierskap-en revisioneringstrategie van die begin af as ontontbeerlik te beskou en in plek te stel (vgl. 'Gelyklopende strategieë').

Die gelowige wegspringpunt: Die Groot Gebod

Volgens Gilbert (2004:51) is die bedoeling met strategiese beplanning dat die gemeente selfondersoekend met mekaar begin praat oor die gemeente se geskiedenis, wie die gemeente tans is en wat die gemeente dink God se roeping vir hulle in hierdie spesifieke gemeentelike bediening is (vgl. teologiese ondersoek; Rheeder 2012) Van Gelder (2009:61) stel dat 'n Geesbegeleide strategie doelbewuste beplanning, wysheid, onderskeidingsvermoë en geloof behels. Deur die gemeentelike storie te verwoord, groei die betrokke gemeente tot die besef van wat God in hierdie unieke kerkpraktyk wil bewerkstellig: Die kerk 'doen wat die kerk is' en 'organiseer wat die kerk doen' (Niemandt 2013:17). Die besef sluit in dat daar totaal weggebreek behoort te word van voorheen onbegronde en tans steeds gevestigde veronderstellings, werkswyses, heersende blokkerende gewoontes, ongegronde tradisies, om eerder gelowig oop te wees vir nuwe maniere om tot nuwe insigte en besluite te kom. Die wegspringpunt bring die gelowige heel eerste uit by die vraag: Wat wil U hê moet ek doen? Die antwoord is eenvoudig: Jy moet die Here jou God liefhê en so ook jou naaste. Die Bergrede toon God as die fontein van sendende liefde waarvan mense deel word deur liefde teenoor die medemens te bewys (Bosch 1991:67, 390). In 2012 het die Wêreldraad van Kerke (WRK) dit soos volg verwoord: 'All who respond to the outpouring of the love of God are invited to join in with the Spirit in the mission of God.'

Die Groot Gebod: Vier omvattende aspekte

Met die voorafgaande as die beginstappe, is dit nodig om die vier omvattende en geïntegreerde aspekte van die Groot Gebod onder oë te neem. Om hierby uit te kom, word gevra wat behoort die inhoud van die nuwe denkruimte wat ontstaan het, te wees nadat bekering of verdieping en aflegging van die ou, geblokkeerde denkruimte plaasgevind het. Die vraag is na die inhoud van die beginsels om diepgaande denkverandering vas en seker te anker.

Die anker is in die begin geleë, naamlik by God se liefde vir die mens (World Council of Churches 2011; Bosch 1991:36, 67, 390). Omdat God liefde is en Jesus die opdrag van die Vader voluit gehoorsaam het, het die geredde verbondsmens deel aan die opdrag om hierdie liefde onderling tussen alle mense te betoon. Die gehoorsame liefdesbetoning teenoor God en gelykstaande hiermee, teenoor alle mense (Groot Gebod), vloei oor in 'n deelname aan die Groot Opdrag. Dit behels 'n marsbevel (Van Rooy 2007a:39) en is omsluit deur 'n magstentoonstelling van God (Bosch 1991:78). Hiervolgens behoort die mens deel te wees van die oordra van die verlossende liefdesboodskap aan alle mense. Missio Dei beteken dat die missie van die kerk in die wêreld God se missie is. Die mens deel in die voorreg om deur die liefdesopdrag (Joh 3:16, 17) al sy kragte, sy hele verstand, sy siel en hart deur die leiding van die Heilige Gees (Bosch 1991:113-115, 391) in 'n verbondsverhouding uit te leef2 (Cope 2006:194; Niemandt 2007:147; Schwarz 1999:77; Schwarz & Schalk 1998:24). Bosch (1991:82) stel dit soos volg: 'The love commandment which is the basis for the church's involvement... is an integral part of the mission commandment.'

Die vier allesomvattende en geïntegreerde beginsels is geleë in die Groot Gebod2 waarop die missio ecclesiae van die begin tot die einde deur liefde staan. Dit word sigbaar wanneer gelowiges die liefdegebod leef deur met hulle hele hart op Christus te fokus, wanneer die hele siel daarby betrokke is deur in 'n intens-afhanklike gebedsgesindheid te leef, deur die roeping en taak wat die mens deur die Groot Opdrag (Niemand 2007:148) gekry het in hulle gebrokenheid of swakheid met al hulle krag deurgevoer word, en wanneer die gelowiges met hulle hele verstand betrokke is om 'n godwelgevallige (gesonde) kerkpraktyk te bou (Van Gelder 2009:61). Die verbondsvolk deel dan in die missio Dei deur die huis op die rots te bou (Matt 16:18; 7:24-29; Bosch 1991:120) waar die Gees organies sou kan werk, as dit sy wil is (Van Gelder 2012:89, 90, 110, 11). Die vier beginsels vorm 'n geïntegreerde eenheid. Die dele kan onderskei word soos die onderstaande paragrawe dit aantoon, maar inderwaarheid kan die dele nooit geskei word nie.

Allesomvattende fokus: Christus

Gedryf deur die Groot Gebod fokus die gelowiges in liefde met hulle hele hart op Christus.

In Christus is stilstand (stagnasie of status quo) in 'n gemeente onmoontlik, want in Christus is die mens altyd geroep om voortdurend te verander en te vernuwe (Rom 12:2), geestelik volwasse te word en meer soos Hy te word (Schwarz 1999:33, 34). In Christus lê die locus classicus, die kern, van alles wat goed en funksioneel is. Gefokus op die Here Jesus Christus (Kurios)2 ontstaan die 'Christologically based'-denkwyse (World Council of Churches 2011). Christosentriese denke is die balanserende paradigma tussen twee ongebalanseerde denkwyses, naamlik die institusionalistiese denkwyse en die spiritualistiese denkwyse (Du Toit et al. 2002:49; Schwarz 1999:14-48). Christosentriese denke beteken dat 'n gesonde balans getoon word tussen organisatoriese/nie-lewende en organiese/lewende aspekte (Schwarz 1999:71, 218-220). Dit is inderwaarheid 'n paradigmaskuif wat plaasvind (Niemandt 2013:40). Christusgesentreerde denke, sonder enige menslik-geformuleerde plusse of minusse, toon reformerende denke (Botha 2006:47; Van Gelder 2009:56). Christus dra die fokus. Die fokus van die Heilige Gees is immers altyd op Christus gerig (Joh 16:14-15). Derhalwe behoort die verbondsgelowige se hooffokus in die omkeerproses ook op Christus, die Hoof van die kerk, te wees (vgl. Niemandt 2013:28).

Allesomvattende gesindheid: Gebed

Gedryf deur die Groot Gebod, word die gelowige verbondskind se liefdevolle gesindheid getoon deur met die hele siel in afhanklike gebed betrokke te wees (Niemandt 2007:118; 2013:187).

Die Gees dra die mens se gebede tot God as onuitgesproke versugtings, terwyl Jesus voortdurend as voorspraak by die Vader vir sy kinders intree (Rom 8:26, 27, 33). Verbondskinders het derhalwe vrymoedigheid om alles biddend (Ef 6:18) te doen en om sonder ophou (1Tes 5:17) te bid. Gebed is die kommunikatiewe verbondsfaset wat elke aspek van die bediening voorafgaan, begelei en afrond. Gebed is allesomvattend en allesinsluitend - soveel te meer (Burger 1999:120; Gilbert 2004:154; Warren 2005:330) in 'n tydperk wat roep om diepgaande reformasie. In die gemeentelike veranderingsproses, asook waar kerkplanting as voortplantende resultaat van gesonde kerke plaasvind, behoort die volle betekenis van bewustelike afhanklikheid deur 'n lewende gebedslewe getoon te word (Gilbert 2004:105, 152-154, 200-202; Murahashi 2001:51, 57; Muswubi 2011, Van der Merwe 2009a). Binne 'n diensknegkerk (Rheeder 2008; vgl. 'Leierskapstrategie') werk die Gees vernuwend en energiegewend. 'n Opvallende lewende gebedsgesindheid is een van die grootste omkeerveranderings wat in 'n gemeentekultuur sigbaar word (Burger 1999:120; Gilbert 2004:154; Warren 2005:330).

Allesomvattende roeping: Groot Opdrag

Gedryf deur die Groot Gebod word die gelowiges geroep om deur liefde al hulle krag deel te maak van God se missie (Groot Opdrag).

Die kerk, met Jesus Christus as die hoof, is vanuit die Groot Gebod en die Groot Opdrag deel van God se missie dat daar groei en vermeerdering moet plaasvind (Cope 2006:194; Niemandt 2007:147; Schwarz 1999:77; Schwarz & Schalk 1998:24). Onderdanigheid aan hierdie opdragte is onafwendbaar en ononderhandelbaar in die bekeringproses.

Saam met die Groot Gebod en die Groot Opdrag verwys Lukas 4:17-19 en Johannes 17:18 onder andere na Jesus as die uitvoerder en vervuller van die missie (missio Dei) (Gilbert 2004:123). Uitvoering van die Groot Opdrag dui op God se groter, oorkoepelende doel met die kerk. 'Mission is the result of God's initiative rooted in God's purpose to restore and heal his creation' (Niemandt 2007:147, 148; Van Gelder 2009:18, 19). Gemeentes reageer derhalwe bloot dankbaar vir die voorreg om deel van God se sending te wees (Bosch 1991:372, 389393; Hendriks 2003; Van der Merwe 2009a).

Die Groot Opdrag (Matt 28:16-20) gee 'n duidelike raamwerk en 'n begrensing vir die mens se taak. Die roepingsbeginsels wat in die Groot Opdrag ingebed is, word in die totale gemeentelike praktyk weerspieël as missionaal. Wanneer gemeentes die missionale karakter vertoon, word die merk van 'n gehoorsame kerk geopenbaar (De Kock 2003:15; Hendriks 2003). Niemandt (2007:53) beskryf missionaalgerigte gelowiges as 'moedige innoveerders wat 'n nuwe era inlui deur aanpasbare veranderings aan te bring en nie bloot te volstaan met tegniese veranderings nie' (vgl. Mead 1993:71-73).

Die volle implikasie van 'n missionale kerk behels bekering, die pynlike afsien van 'n status quo-praktyk en om in hierdie tydvak van aardse onsekerheid, die sekerheid van Jesus Christus se belofte saam met die Groot Opdrag (indikatief) ten volle aan te gryp en te glo. Omkeer/verdieping/bekering kan derhalwe slegs diepgaande plaasvind indien die kerk sekerheid het oor wat die missie van die kerk presies is (Van Gelder 2009:17). Die missionale gemeente se holistiese benadering van eenheid in vorming en hervorming (Van Gelder 2009:56), oftewel opbou en uitbou, behoort derhalwe eksplisiet met 'al jou (menslike) krag' ook in die beplanning of organisering van die kerkpraktyk te figureer2. Tog is die mens as missionale getuie intens bewus van sy eie swakheid en feilbaarheid. Gefokus op Christus en deur afhanklike gebed, kan die Gees kragtig deur die mens werk wat, ten spyte van swakhede, tog met al sy krag deel is van God se kragtige, dinamiese missie (Bosch 1991:77, 389-393; Van Gelder 2009:27, 28, 110). God wat sy missie vooruitgaan, voorsien die energie wat die mens nodig het. In dade, gedagtes en woorde ontvang die mens ook die doodgewone, maar kragtige WO-instrument om in diens van die mens en die koninkryk te gebruik (Branson 2004:22; Nel 2009).

Allesomvattende uitgangspunt: Natuurlike en/of organiese groei

Gedryf deur die Groot Gebod is die uitgangspunt dat gelowiges se liefde getoon word deur betrokkenheid met hulle hele verstand, sodanig dat groei op 'n natuurlike of organiese wyse plaasvind.

Indien daar bewustelik met die hele verstand (vgl. Calvyn 1991, 1:330) aan die hand van die Christosentriese bipolêre denkparadigma gedink en opgetree word, bestaan die moontlikheid dat blokkasies verwyder kan word om die natuurlike of organiese groeimoontlikhede binne die nuwe kerkkultuur moontlik te maak (vgl. Niemandt 2013:144; Schwarz 1996). Van Gelder (2009:56, 61) stel dat vorming of opbou en hervorming of uitbou deur intensionele beplanning, met ander woorde met die verstand, plaasvind sodat die verlangde resultaat daargestel kan word. Oor die verlangde resultate maak Bosch (1991:68) die volgende stelling: 'not bearing fruit means bearing wrong fruit.'

Die vraag wat na vore kom, is hoe die gemeente behoort op te tree sodat die potensiaal wat God deur die gelowiges in die gemeente gestel het, op 'n natuurlike manier kan ontvou (Roxburgh & Romanuk 2006:3, 4). Die antwoord is geleë in God se groeibeginsels binne die werking van die Gees om herstel in elke aspek te bring (Van Gelder 2009:111) en sodat die gelowige dit deur energie-/krag- en verstandsaksie binne die unieke gemeentelike konteks kan (her)ontdek en toepas. Die beginsel is om die natuurlike moontlikhede binne die kerkgroei te verstaan, sensitief te wees vir die beweging van die Gees en oor te gaan tot die verstandige beplanning volgens die bybelse beginsels en die onmiddellike konteks (Van Gelder 2006:19, 56, 66, 113-119). Hierdie aanpak rig die gelowiges in so 'n mate dat die omstandighede en uitkomste sodanig georganiseer kan word dat die moontlikheid van 'n gesonde kerkpraktyk op 'n natuurlike wyse gevorm kan word, indien dit die Gees behaag (Niemandt 2013:144; Schwarz 1999:6-10, 49, 233-235; Van Gelder 2006:40).

Indien die waarderende taalaanpak (vgl. Niemandt 2007:69, 70) toegepas is in die voorafstrategie, tydens die ankerende tydperk van die vier allesomvattende beginsels van die Groot Gebod, asook in die drie gelyklopende strategieë (vgl. 'Gelyklopende strategieë'), kan voorts oorgegaan word tot die stelselmatige ontwikkeling van die missionale gemeente.

Gemeente-ontwikkeling

Gemeente-ontwikkeling is 'n doelgerigte en dinamiese proses om die gelowige lidmaat te begelei en te bemagtig tot 'n geroepe lewe in gehoorsaamheid voor God (Coram Deo) (Van der Merwe 2009b:30, 31; vgl. Hendriks 1996:143, 144; 1999:19; Pieterse 2010:3; De Kock 2003:12). Gemeente-ontwikkeling behels die verbondsmatige, dog sistematiese ontwikkeling van 'n gemeente se opbou en uitbou as 'n eenheidsisteem.

Met gemeentegroei word organiese groei bedoel wat numeriese (uitbou of hervorming) en individuele geloofsgroei (opbou of vorming) behels. Hiervolgens is gemeente-ontwikkeling/-bou groter as die blote ontwikkeling van 'n eenmalige plan of die organisering van 'n paar projekte (Niemandt 2013:21-23). Daar behoort voortdurend erns gemaak te word met 'n hersiening van die bedieningsplan en met die geloofshandelings van die gemeente (Burger 1999:194; Van der Merwe 2009b:8; 2009c:7, 8) sodat die veranderingsproses as volhoubare kultuur sigbaar kan word in 'n vernuwende lewe voor die aangesig van God (Coram Deo) (Van der Merwe 2009b:30, 31; vgl. Hendriks 1996:143, 144; 1999:19; Pieterse 2010:3; Roxburgh & Romanuk 2006:167-182).

Begronding van die bedieningsplan

Die bedieningsplan behoort aangepak te word deur aspekte wat volgens die Skrif (teologies), kontekstueel en volgens die aard van die spesifieke kerk se praktyk is. Laasgenoemde word gerig na aanleiding van die teologiese en kontekstuele bevindings.

Teologiese begronding

Na die integrering van die vier alomvattende pilare kan die onderbou van 'n bedieningsplan vasgelê word deur identiteitsvinding (Burger 1995:34; 148-151; Van der Merwe 2009a; 2009c:10).

Visiestelling, as die eerste konkrete stap van die bedieningsplan, handel oor die vooruitsigte vir die toekoms, maar ook oor die waarneming en interpretering van die hede met die oog op die uitvoering van die roeping in die toekoms. Gilbert (2004:25, 148) haal Herrington se definisie van visiestelling aan: '... a clear, shared and compelling picture of the preferred future God is calling the congregation ... in three to five years' (Gilbert 2004:189). Die oorsprong van die visiestelling is dus by en van God af. God gee die mens die vermoë om die visie te ontdek deur die kreatiewe, onderskeidende gesprek of kommunikasie wat plaasvind (deur die WO-aanpak), met die weergawe of storie van die gemeente (in die lig van die Woord) en die nood van die wêreld (konteks) as gesprekspunte (Gilbert 2004:154; Hendriks 2000:295; gesprek met Pretorius & Lindeque 2009; Saarinen 1992:22; Van der Merwe 2009c:8, 9, 17, 18).

Dekker en Stoffels (Brouwer et al. 2007:55) definieer identiteit soos volg: Die kenmerkende 'waardoor zij zich zelf onderscheidt van andere groeperingen, als waardoor zij herkenbaar blijft in tijden van verandering'. Die kerk se identiteit bepaal sy relevansie en betrokkenheid - soveel te meer tydens 'n transformasieproses (Bosch 1991:378; Smit 1995:22). Die identiteit word deur die visiestelling sigbaar in die vier bedienings, naamlik wie of wat die gemeente is (koinonia), wat die gemeente bid (leiturgia), wat die gemeente sê en glo (kerugma en didache) en wat die gemeente doen (diakonia) (Du Toit et al. 2002:45; Burger 1999:108; Van der Merwe 2009b:10; Van Gelder 2006:146, 147).

Roepingsformulering (missie) word tweedens gedoen deur te antwoord op die volgende vrae: Waarheen is God op pad met hierdie spesifieke gemeente? Wat is God se roeping vir die spesifieke gemeente? Hoe wil die Here die spesifieke gemeente gebruik en hoe moet hierdie gemeente lyk sodat God se koninkryk daardeur kan kom? Die kernwaardes is die dryfveer agter die missie en visie en sentreer grootliks om die vrae oor die siening, belewing, verstaan en droom van die gemeente oor die teenwoordigheid van God in die lewe van hulle spesifieke gemeente.

Van der Merwe (2009c:6-10) verduidelik die proses aan die hand van 'n bergklimmetafoor: Om op die kruin van die berg te kan staan (visie), moet die berg bestyg word (roeping of missie) en gedryf word (kernwaardes) volgens 'n spesifieke roete (strategie).

Effektiewe visie- en roepingsformulering word binne die gereformeerde stroom verbondsmatig benader. Dit beteken dat die visie en die roeping of missie Godgegewe is, maar dat dit gelyklopende menslike insette vertoon deur verbeeldingryke, navolgingswaardige, bereikbare, gefokusde, buigbare, kommunikeerbare en bondige formulering. Hiervoor is 'n inklusiewe visioneringsgroep/stuurspan/ taakspan/pioniers nodig (Niemandt 2013:161-163). Die formulering behoort sodanig te wees dat dit binne vyf minute verduidelik kan word én geïnteresseerdheid wek. Indien dit nie die geval is nie, is die proses skynbaar nog nie genoegsaam deurdink nie (Burger 1999:151, 152; Gilbert 2004:8, 9, 157-159; Hendriks 2000:295; Murahashi 2001:66).

Wanneer die proses deur die visioneringsgroep aan die gang is, behoort daar egter op 'n gereëlde basis met die kerkraad en predikant(e) geskakel te word om die roeping soos dit tot op daardie punt geformuleer is, deur te gee. Dan word dit saam geïnterpreteer, eienaarskap van geneem en die toewyding word versterk. Daarna word besluit om dit kommunikatief aan die gemeente vir bespreking deur te gee. 'Effective communication makes it clear that the persuit of God's vision is to be the congregation's singular priority' (Gilbert 2004:161, 162).

Die manier waarop dit vir elke besondere gemeente uitgestip word (Roxburgh & Romanuk 2006:13, 14), kan in geen handboek of enige bron gekry word nie. Elke gemeente moet hulle eie visie en roeping, kernwaardes en voortspruitende doelstelling(s) ontdek. Wanneer dit geformuleer is, behoort kommunikasie daarvan aan die hand van 'n kort spreuk/sin en/of embleem/logo plaas te vind wat by elke geleentheid onder groot en klein, verbaal en/of sigbaar moet wees. Hierdie saambindende spreuk bevorder die eienaarskap en ontwikkel die gemeentelike klimaat; dit versterk die logika rondom die veranderingsproses, asook die dringendheid van die proses. Ten spyte van die dringendheid vir omkeer, behoort genoegsaam tyd gegee te word vir 'n ware visie-en roepingformulering. In hierdie tydperk behoort die leierskorps die gemeente geestelik diep en grondig voor te berei, te begelei en toe te rus (vgl. ook Gilbert 2004:95-105; vgl. 'Leierskapstrategie').

Gemeentebestuur aan die hand van die visioneringsproses is nooit 'n afgehandelde proses nie (vgl. Saarinen 1992:1). Dit is eerder om heeltyd op reis te wees (Niemandt 2013:176). Trouens, die feit dat dit 'n proses is, beteken dat dit altyd oop behoort te wees vir aanpassing soos wat die gemeente God se stem in die ontwikkeling en beweging van die spesifieke gemeente se lewe hoor en ervaar (Niemandt 2013:73). Op hierdie manier kan 'n gemeente in die immer-veranderende wêreld begelei word om effektief en relevant kerk te wees en 'n status quo-toestand kan voorkom word (Bosch 1991:509; Gilbert 2004:18, 19, 159; Van der Merwe 2009b:1).

Kontekstuele begronding

Voordat die visie en die roeping of missie gefinaliseer word, is dit nodig om 'n konteksbegronde eksterne ondersoek en analise in die gemeenskap, maar ook 'n interne ondersoek en analise in die spesifieke gemeente te doen (Saarinen 1992:22; Roxburgh & Romanuk 2006:171-182). Hierdeur kan die swak en die sterk punte, asook die hoë, gemiddelde en lae prioriteite vasgestel word wat van waarde kan wees in die spesifieke gemeente se missionale plan (Bulley 1994:1; Jansen 2001; Kruger 2005; Nel 2009; Venter 2009).

Kontekstuele begronding: Gemeenskap

Elke gemeente word daagliks aan die veranderende en beïnvloedende samelewing blootgestel (Van Gelder 2009:48). 'n Ondersoek van die gemeenskap behoort daarom veral op die afgelope 10 tot 15 jaar te fokus, maar ook op die impak daarvan op die gemeente. Deur sodanige eksterne ondersoek kan bedreigings of vyande geïdentifiseer word soos dwelmgebruik/-toename, satanisme, vermaak, kerklike (dwaal)stromings en nie-bybelse spiritualiteite. Gesprekke met gemeenskapsleiers behoort gevoer te word om die invloed van die gemeente in die gemeenskap te probeer peil, terwyl ander kulture, tale, denominasies, buurgemeentes, ringe of klassisse, sinodes en die stadsraad ook deel van die ondersoek behoort te wees. Politieke en maatskaplike faktore, byvoorbeeld misdaad, veiligheid, werksdruk/-stres, regstellende aksie, werkloosheid, armoede, molestering, kinderverwaarlosing, rolverdeling, huwelikstendense en siektetoestande soos vigs, is onder andere sake wat ondersoek en geanaliseer behoort te word (Venter 2009).

Kontekstuele begronding: Gemeente

Hieronder volg 'n aantal sake wat die gemeentekonteks kan belig wanneer die bedieningsplan aangepak word.

  • Die fase van die lewensiklus waarin die gemeente tans verkeer; gemeentegroei in die lig van die gemeenskap se demografie en die veranderende gemeenskap; die grootte van die gemeente (getalle); die huidige bestuurstyl en bediening en watter tipe aanpak vereis word in byvoorbeeld die familietipe gemeente, die pastorale tipe, die liggaamstipe, 'n korporatiewe of tussen-in gemeente (Van der Merwe 2009b:4).
  • Die kennisvlak onder gemeentelede oor die krimpende toestand; die besef van die dringendheid van evangelisering volgens die Groot Opdrag; beperkings binne die gemeente; statistiese gegewens van die gemeente; kernwaardes en bedienings van lidmate in die gemeente; ander moontlike kommunikasiemaniere met buite-gemeentelike mense; beskikbare hulpbronne, byvoorbeeld beskikbare fisiese fasiliteite, infrastruktuur, uitbreidingsmoontlikhede, finansies, personeel, mense en tyd as gemeentelike gawes, die beskikbaarheid van enige ander eksterne hulpbronne (Van der Merwe 2009a; 2009b; Venter 2009); die huidige swak en sterk punte van die gemeente se bestaande kultuur, teologie en styl; vaardighede; implementeerbaarheid van dissipelskap (Oswald & Friedrich 1996:32-45; Gilbert 2004:272-281).
  • Emosies soos angs, woede, onsekerheid, vreugde; 'n inventaris oor die vasstelling van die gemeentelike klimaat (Oswald & Friedrick 1996).
  • Mense as gemeentelike gawes: hulle potensiaal van geestelike verdieping en groei in diensbaarheid; lidmate se persoonlike spiritualiteit; menslike verskeidenheid (Du Toit et al. 2002:47; Brouwer et al. 2007:38, 39; Janse van Rensburg 2000:85; Smit 1995:23); die mate van 'n mensvriendelike gesindheid; Afrika-gerigtheid.
  • Die behoefte aan God se sorg, verlossing en bewaring (Warren 2005; Niemandt 2007:529; Van der Merwe 2009b:29); spiritualiteitstipes, spiritualiteitshouding en -uitlewing wat tot die vorming van individuele en gemeentelike waardes lei; die voorkoms van die toenemende nuwe gelowigheid (Burger 1999:119; Niemandt 2007:50; Schwarz 1999:265-267); 'n wegbeweeg van die I-paradigma af en 'n toenaderingsoeke by die S-paradigma; gereedheid deur die gemeente om te verskuif en om te keer/te bekeer/te verdiep; die vloeibaarheid van 'n gemeente (Burger 1999:147-151; Van der Merwe 2009b:4); gemeentelike seisoene (Burger 1995:23); kragte wat gearriveerdheid en 'n status quo-toestand aanmoedig; of daar werklik 'n krisis in die gemeente bestaan of nie; of daar genoeg hulpbronne is; of daar 'n lae vlak van aktiwiteit, strukture, meting en kommunikasie is; die vlak van verdraagsaamheid teenoor sake waarvan soms liefs nie gehoor wil word nie; situasies rondom die lidmate wat nie die status quo-taal praat nie en gevolglik maklik geïsoleer kan word (Gilbert 2004:123-124, 213, 214).
  • Die mate van 'n oorlewingsmentaliteit deurdat die gemeente hulself na binne keer; of daar na God se Groot Opdrag as eenheidsisteem geluister word; of daar na die gemeenskap uitgereik word (Gilbert 2004:62; Roxburgh 1997:30); die emosionele reaksievlak, weerbaarheid en intensiteit van die gemeente en die leiers (Gilbert 2004:75, 90, 244-249); persoonlike voorkeure, eie agendas, afsydigheid teenoor nuwe lidmate, konflik, 'n wen-verloor mentaliteit (Rendle aangehaal in Gilbert 2004:247); blokkasies; belydenis van blokkasie, aanvaarding van vergifnis, die gee van vergifnis (Venter 2009).

Ekklesiologiese begronding

Een van die eerste vrae wat 'n mens in die omkeerproses behoort te vra, is hoe organiese verandering daargestel en gemeet kan word. Verandering en die meting van verandering is skynbaar albei turksvye. In die Suid-Afrikaanse gereformeerde kerkgeskiedenis is verandering skaars waar gelowiges diepgrondige regstellings moes deurvoer. Tog kan met reg genoem word dat daar daadwerklik opgetree is toe standpunt ingeneem is teen apartheid (NG Kerk: Boesak 2007; GKSA: Du Plooy 2003:498, 499), maar terselfdertyd moet genoem word dat die standpuntwysiging nie by alle gelowiges plaasgevind het nie. Indien dit die geval was, sou 'n toegewyde missionale Afrika-gesindheid deel van gemeentes se kultuur gewees het (vgl. Van Helden 2010:297 350).

Wat die meting van denkverandering in 'n gemeente betref, kan slegs teoretiese instrumente genoem word. Meting word histories benader deur die vier wesenskenmerke wat in die Apostolikum en die Belydenisskrif van Nicea genoem word, naamlik eenheid, katolisiteit, apostolisiteit en heiligheid (Burger 1999:287; vgl. Schalekamp 2005:473-475).

Die enigste manier om hierdie vier eienskappe te vertoon, aldus Burger (1999:291-299), is om op die eerlikste manier in gehoorsaamheid en getrouheid aan Christus toe te neem (groei te toon). Die werklikheid is dus dat die vier eienskappe nie as meetinstrumente funksioneer nie en daarom ook nie as meetinstrument deel uitmaak van die kerkpraktyk nie (Burger 1999:287).

Die rede hiervoor is grootliks omdat die vier eienskappe as onbereikbaar, idealisties en vaag beskou word. Verder is die gelowiges skynbaar intens bewus van hulle onvolkomenheid. Geen meting, refleksie of evaluasie vind in die tradisionele kerkpraktyk hiervolgens plaas nie en derhalwe kan gehoorsaamheid, getrouheid, groei en effektiwiteit van die kerk ook nie gemeet en vasgestel word as beginpunt vir effektiewe groei in opbou en uitbou nie.

Die gedagte aan meting bestaan nie binne die denke van die tradisionele kerkpraktyk nie. Hierteenoor is die bybelse opdrag duidelik dat die huishouding van God sodanig bestuur moet word dat dit gesond kan wees en dat groei kan plaasvind (Tit 1:13; 1 Kor 3:6). Die verstommende stelling volgens 'n gesprek met Pretorius en Lindeque op 03 Februarie 2009 te Linden Gereformeerde Kerk, is dat die kerk skynbaar bang is vir behoorlike kerkbestuur, of dat skynbaar gedink word dat aangesien dit die kérk is, kerkbestuur maar half gedoen kan word, of om oënskynlik gelowig terug te staan, oor te gee en passief te wag op die werking van die Gees.

In kontras met hierdie moontlike interpretasies is die waarheid dat bestuur, gerig op die eenheidsisteem van vorming/ opbou en hervorming/uitbou binne die kerkpraktyk, 'n blywende, beplanbare en uitvoerbare opdrag aan die mens is (Matt 22:34-40; Bosch 1991:67). Indien die beginsel van 'n eenheidsisteem ter wille van 'n missionale bediening nie die geval binne 'n bestaande gemeente is nie, behoort vernuwing en meting van opbou/vorming en uitbou/hervorming deur die leiers (mense) as 'n hoë prioriteit gestel te word (Burger 1999:v; Hendriks 2003; Saarinen 1992:1).

Indien die Apostolikum as meetinstrument eerlik beskou word, kan gelowiges slegs by die volgende antwoord uitkom: die meetinstrument is inderdaad vaag en ontoetsbaar. Die gebrek aan meting, oftewel beheersde ondersoek met die doel om deur selfondersoek te verbeter, verduidelik moontlik die skynbare afwesigheid van die vier eienskappe en skok oor die krimping binne die tradisionele kerkpraktyk. Die bestuurloosheid saam met die fokus op opbou/vorming sonder uitbou/hervorming (Van Rooy 2007a:39; vgl. Van Helden 2010:288) is skynbaar 'n oorsaak waarom die tradisionele kerkpraktyk ongesond vertoon (Luk 14:28). Indien die aspek van gehoorsame bestuurders binne 'n volhoubare praktyk nie in die gereformeerde Christosentriese denke tot 'n eerlik besef, evaluering en beginselgerigte besluite oorgaan nie, is alle goedbedoelde pogings om 'n omkeer daar te stel (vgl. Acta 2012:509-511), doodgebore.

Gemeenteprofiel

Die beginsel van natuurlike of organiese gemeente-ontwikkeling is om die gemeentelike potensiaal wat deur God in die gemeente geplaas is, te ontsluit. Hierdie aspek van die omkeerproses is, in die lig van die afwesigheid van meting binne die tradisionele kerkpraktyk, skynbaar 'n ingrypende aspek van vernuwing. 'n Gemeenteprofiel kan deur die leierkorps self deurgevoer word, of soos Schwarz en Schalk (1998:8-44) aanbeveel, aan die hand van 'n wetenskaplike vraelys gedoen word (vgl. 'Allesomvattende roeping: Groot Opdrag').

Indien die profiel tot doelgerigte beplanning gelei het, behoort daar na verloop van 'n vasgestelde tydperk 'n evaluering van die kerkpraktyk plaas te vind. Na 'n eerlike evaluasie en gebed word 'n opvolggemeenteprofiel dan geloods wat revisionering (vgl. 'Revisioneringstrategie') insluit en tot hernude aanpassende doelwitte lei. Met gebed en voordurende revisionering behoort beweging waargeneem te word (Niemandt 2013:70). Die natuurlike/organiese benadering word dan die gemeente se oorkoepelende missionale strategie vir opbou/vorming en uitbou/ hervorming as eenheidsisteem (Schwarz & Schalk 1998:8).

Wanneer hierdie punt in die bedieningsaanpak bereik word, kan die veelvoud van stadia en projekte gelyktydig as kompleks, 'like wheels within wheels' (Gilbert 2004:119), dinamies en selfs slordig ervaar word. Die proses is inderdaad nie eenvoudig, liniêr of analities nie. Vir 'n gevestigde status-quo-leier kan die besef van wat die proses vereis, oorweldigend voorkom. Omdat daar menslikerwys geen alternatief vir natuurlike groei in die kerk is nie en die Skrif ook geen ander moontlikheid daarstel nie, behoort die huidige leiers wat hulle jarelank reeds op hulle geroepenheid in die koninkryk beroep, die dooie, ou wynsakke bewustelik te vervang (vgl. Niemandt 2013:58-69; vgl. Roxburgh & Romanuk 2006:5-13).

Die troos is dat verbondsgemeentes glo en vertrou dat die onvoorspelbaarheidsbeginsel, wat deel is van 'n omkeerproses, deur God geseën sal word en dat die missionale gemeentes wél mettertyd tot gesonde groei sal oorgaan. Deur 'n oorgegewe lewenswyse voor God, kan die Gees, as dit sy wil is, orde skep in 'n menslike, verwarde, slordige, ongeordende en skynbaar komplekse kerkpraktyk (Branson 2004; Gilbert 2004:202; Niemandt 2007:29).

Deur die natuurlike of organiese aanpak kan die gemeente stelselmatig groei, deurdat sigbare hervorming plaasvind (kwantitatief) en meetbare vorming of geestelike volwassenheid (kwalitatief) toeneem. Hierdie beweging in groei kan mettertyd die punt bereik waar gemeentedeling, of kerkplanting, kan plaasvind (Schwarz & Schalk 1998:1522). Teen hierdie tyd behoort die totale gemeentekultuur al sodanig verander het dat 'n missionale kerkpraktyk binne Coram Deo-uitnemendheid waarneembaar is; 'n praktyk wat spreek van lidmaatintegrasie, 'n missionale kultuur, praktyk en teologie (Roxburgh & Romanuk 2006:6-170). Verbondsmatige pneumatiese funksionaliteit en verandering is dan nie eerstens die vrug van die mens se arbeid nie, maar wel die vrug van die werk van God deur die gehoorsaamheid van die mens (Runia 1988:100; Schwarz 1999:70-72, 217; Van Gelder 2009:19).

Die realiteit is dat verandering as gevolg van menslike tekortkomings nie so maklik bereikbaar is nie. Bewusmaking, begrip, evaluasie, eksperimentering en toewyding aan verandering kan onderbreek word en die pas op hierdie wyse vertraag word (vgl. Mead 1993:78; Niemandt 2013:142, 143; Thom 2013; Roxburgh & Romanuk 2006:105). Ten spyte hiervan moet met die hele verstand dringend en ernstig gestreef en volhard word om die missionale kerkpraktyk, wat Christus as middelpunt het, binne die nwns-beginsel organies deur gebed in die hede daar te stel (vgl. Schwarz 1999:23, 40, 212-223).

Gelyklopende strategieë

Die kommunikatiewe, leierskaps- en revisioneringstrategieë behoort vanaf die heel eerste stappe van omkeer, ernstig aandag te kry.

Die kommunikatiewe strategie

Kommunikasie is die bloedtoevoer in die gemeentelike veranderingsproses (Niemandt 2013:144, 145; Whitney et al. 2004:62). Kommunikasie is egter daarom ook een van die stremmendste faktore in die veranderingsproses. Faktore wat tot gebrekkige kommunikasie lei, is die gebrekkige besef van die dringendheid van ernstige en diepgaande verandering, 'n gebrekkige visioneringsplan met die gevolglike onderskatting van die visie as kernsaak, asook die neiging om toe te laat dat hindernisse die visie ondermyn (Gilbert 2004:110-118, 162; vgl. Hendriks 1996:143, 144). Samevattend is die ontoegewyde mens die oorsaak van gebrekkige kommunikasie.

Ten spyte van menslike tekortkomings, kan elke kommunikatiewe situasie tog positief benader word deur waarderende vrae te stel. Dit beteken dat voortdurend gevra word wat dit is wat lewegewend is en wat dit is wat die kommunikeerders op sy beste kan laat werk. Die proses verloop deur 'n verhouding van onderlinge deel-met-mekaar en verbondenheid wat die taalgebruik in die gemeente laat verskuif na die woord ons (Burger 1995:31; George 1994:12; Gilbert 2004:88-90, 102; Schwarz 1999:188, 214-218; Van der Merwe 2009b:7; Whitney et al. 2004:5, 21, 44-60, 68-80, 260).

Kommunikasie na aanleiding van die emosionele stand van die gemeente

'n Verskuiwing in kommunikasie volg dieselfde stappe as in die stoomrollerbeweging (vgl. 'Wat verwag kan word tydens die omkeertydperk'). Die leierskorps behoort dus kommunikatief sensitief te wees en toepaslik op te tree, wetend dat verwoorde emosies verbygaande is en deur rede of logika opgevolg moet word. Wanneer emosie voorkom behoort leiers kommunikatief meer te luister en bewus te wees van die feit dat luister nie noodwendig beteken dat toegegee of saamgestem word nie (Niemandt 2013:113-130). Leiers behoort soms deur hulle kommunikatiewe swye die gemeente deur die fases te lei deur hulle kans te gee om self tot besluitneming (rede) te kom. Deur te luister, verwerf die leier die reg dat ná die luisterproses ook na hulle geluister moet word (vgl. ook Gilbert 2004:169).

Gilbert (2004) stel voor dat 'n kommunikatiewe strategie van die eerste stap van die omkeerproses daargestel moet word, dat soveel as moontlik gemeentelede teenwoordig moet wees en dat soveel as moontlik lidmate mettertyd bemagtig behoort te word (vgl. Hendriks 1996:144; 1999:19). Bemagtiging deur kommunikasie word deur Gilbert (2004:303) soos volg bewoord: 'Empowerment is not a program or even a training course. It's a gift from God.'

Die kommunikatiewe aanpak behoort derhalwe 'n natuurlike optrede van die leierskorps te wees, veral van die predikant. Buitengewone moeite moet gedoen word om binne die gemeente bepaalde woorde en metafore (Dreyer 2009; Gilbert 2004; Ricoeur 1976:69; Van der Merwe 2009b; Van Helden 2010; 1 Kor 3:9) ter wille van die groter doel (visie en roeping) te gebruik. Dit moet ook funksioneel tydens byeenkomste, die prediking en in kommunikasiemiddels (nuusbriewe, kennisgewings) aangewend word. Branson (2004:30) meen dat metafore die interpretasievlak sodanig kan vergemaklik, dat denkverandering teen die spoed van verbeelding kan geskied. Hiermee saam kan analogieë, herhaling, vrae wat gevra word, kreatiewe en verbeeldingryke prediking, asook tegnologiese aanwending effektiewe kommunikasie daarstel (Niemandt 2013:55, 134; Venter 2009).

Die kommunikatiewe strategie kan egter net effektief wees indien dit in werking gestel word deur die leierskap volgens 'n leierskapstrategie.

Leierskapstrategie

Die eerste vraag wat Roxburgh en Romanuk (2006:3) rakende missionale leierskap vra is: But how do you do it? Bybels gesien is dit die leiers se taak om mense te lei om self tot skrifgefundeerde oplossings te kom (Gilbert 2004:12-38, 43; vgl. Smit 1995:85-93, 112). Ook Calvyn (1991; 4:1317, 1318) het leierskap 'n belangrike aspek binne die gemeente geag (vgl. Nel 2009:75). Die veranderende tye noodsaak dat leierskap aanpas om 'n gesonde kerkpraktyk daar te stel (Hendriks 2003; Nel 2009:76; Rheeder 2008; Schwarz 1999:187, 188). Missionale leiers sien hulself as mense wat gawes gekry het en deur die Gees toegerus is om betrokke te wees waar God in die kerk werksaam wil wees (Niemandt 2013:171). Waar omkeer oorweeg word, behoort 'n leierskapstrategie derhalwe vooraf duidelik deurdink te word (vgl. Niemandt 2013; Roxburgh & Romanuk 2006).

Stuurspan as leierskorps

In die formulering van 'n leierskapstrategie is 'n stuurspan noodsaaklik (vgl. Gilbert 2004:130-151; Niemandt 2013:155156). Pretorius en Lindeque het hierdie noodsaaklike aspek tydens 'n onderhoud in 2009 bevestig. Die stuurspan word uit die hele gemeentelike spektrum saamgestel, alhoewel die kerkraad nie deel van hierdie span vorm nie. Die gebedsgedrewe stuurspan se taak is spesifiek om die visioneringsproses met die gemeente vanaf die visiestelling tot en met die daarstel van 'n strategie te kommunikeer. Die gebedsgedrewe span rig, formuleer, dokumenteer, moniteer en kommunikeer die hele proses vanaf die visiestelling tot en met die daarstel van 'n strategie. Gilbert (2004:285-298, Appendiks D) verskaf waardevolle bronne en instrumente vir 'n stuurspan.

Transformerende en bemagtigende leierskap

Gilbert (2004:10-42, 223-239) bestee baie aandag aan die verhouding tussen leierskap en gemeentelike verandering, asook die kuns van transformerende verandering. Daar word gestel dat die predikant asook die ander lede van die leierskorps, transformerende leierskap werklik moet verstaan. Die pad is nie reguit en eenvoudig nie, terwyl daar ook 'n duidelike besef moet wees van die spoed van veranderings in die groter samelewing, asook in die gemeente (Thom 2013).

Die hantering van verskuiwende denke en transformerende leierskap is geleë in die kommunikatiewe aanslag deurdat in die onsekere tyd van verandering prontuit gesê kan word dat antwoorde op vrae nie duidelik klinkklaar is nie (vgl. ook Fraker & Spears 1996:15, 30, 108-110; Smit 1995:30). Die leiers behoort nie die rol van 'n alwetende inligtingsbron te probeer speel nie. Nog minder mag hulle met skynantwoorde, wat nie die volle waarheid is nie, lidmate probeer gelukkig hou.

In die omkeerproses word van die bedieningstyl van leiers, waaronder die predikant, ernstige besinning en aanpassing verwag. Die bediening vereis 'n visiegerigte, holistiese aanpak omdat die gemeente gedurig aan die beweeg is. Die bedieningsfokus van die predikant behoort op bemagtiging gerig te wees, wat grootliks binne groepsverband geskied (Niemand 2013:135). As herder funksioneer hy as die missionale koordineerder en evalueerder ter wille van die groter missionale doel van die kerkpraktyk. Die predikant behoort bewustelik die beeld af te lê van die tradisionele superleiersfiguur, naamlik die een wat elke kerksaak sogenaamd behoort te implementeer. Deelfunksies, wat die predikant tradisioneel besig gehou het, is die taak van die bemagtigde leierskorps (vgl. Hendriks 1996:143, 144; 1999:19).

Bemagtigende leierskap is die Skrifbeginsel wat 'n omkeer vereis. Lidmate is die kerk en leiers het die taak om hulle te bemagtig en die geleentheid te gee om waarlik kerk te wees. Predikante binne predikantskerke is die enkele grootste hindernis in die omkeerproses, hoofsaaklik omdat hulle nooit geleer is om hierdie beginsel oor hulself en hulle roeping en taak binne die kerkpraktyk te gehoorsaam nie. Angstigheid en selfs aggressiwiteit oor 'n herstrukturering mag ontstaan, skynbaar as gevolg van die besef van hulle eie onkunde van die onvermydelike veranderingsproses. Die predikant-is-die-kerk-uitspraak is vir sommige predikante steeds vlyend en in hierdie egogesentreerde benadering word die gemeentelike mensepotensiaal gevolglik nie raakgesien nie (Burger 1999:147, 148, 193; Fraker & Spears 1996:169-280; Gilbert 2004:184-186; Hendriks 1996:143).

Greenleaf (Fraker & Spears 1996:64) stel bemagtiging soos volg: 'The prime formative challenge of our times, of all times ... is the nurture of servants.' In die bemagtigende groeiproses word die bemagtigdes gesonder, wyser, vryer, selfstandiger en meer soos dienaars wat self ook groei. Die dienaarsgestalte behoort derhalwe in die leierskapstrategie prominent na vore te kom (Fraker & Spears 1996:14, 40, 198; Smit 1995:2534). Bemagtiging is om direk in Jesus Christus se voetspore te volg, aangesien Hy as dienaar, sy volgelinge toerus om self dienaars te word (George 1994:12). Dit is belangrik dat begeleiding, onderhouding en ondersteuning van die bemagtigdes, ter wille van volgehoue leer, voortdurend behoort plaas te vind (vgl. ook Fraker & Spears 1996:305; Gilbert 2004:222-237). Ingewyde bemagtigdes ervaar geleidelik nie meer vrees indien 'n konflik ontstaan nie, aangesien die besef van groei deur die konflikproses wel plaasvind. Die groei en oorkoming van vrees in die wydste sin van die woord, word deur Ricoeur as neutralisering beskryf, omdat God se beskermende intrede vrees verdryf (Joh 4:18; Ihde 2004:440, 455).

Bemagtigende leierskap kan deur voortdurende leierskapsassessering (meting) ontwikkel asook deur die daarstelling van 'n leierskapsontwikkelingsplan (Fraker & Spears 1996:40, 191-211; Gilbert 2004:176-185, 303, 304). Deurlopende assessering deur die leiers, die stuurspan, die kerkraad en diensgroepe is die aangewese manier om effektiwiteit te verbeter. Sukses word verseker deur die bewustelike afsien van outoritêre kontrole en gesag. In die plek daarvan word 'n deelnemende en gawesgeoriënteerde, bemagtigende kerkkultuur daargestel (De Kock 2003:90; Murahashi 2001:114; Roxburgh & Romanuk 2006:12, 13). Op hierdie wyse word 'n spiritualiteit ontwikkel wat die leiers bemagtig om helder te kan hoor wat die Gees deur die verandering daar wil stel (Niemandt 2013:137-145, 188). Die vestiging van 'n veranderende kultuur en visiegerigtheid wat algaande versterk word, word ook daardeur bevorder (Gilbert 2004:202-208, 218) en hy stel dit soos volg: 'Implementing the vision is a specific set of high-leverage actions that move the congregation toward realization of God's vision' (p. 208).

Missionale leierskap

Bemagtigende leierskap spruit voort uit missionale leierskap soos Niemandt (2007) dit verwoord: 'Mission is the result of God's initiative rooted in God's purpose to restore and heal his creation' (p. 147). Missionale leierskap en gerigtheid lei tot groeiende, nuwe insigte wat terselfdertyd deur voortdurende bemagtiging en leer ondersteun word (Botha 2006:22, 23; 2006:157, 158; Van Rooy 2007b:31, 32; Whitney et al. 2004:5). ' God empowers leadership, but we have to get ourselves to the place where it happens' (Gilbert 2004:173).

Sisteemsensitiewe leierskap

Die plek waar leierskap sigbaar word, is van binne die gemeente buitentoe (vgl. Hendriks 2003), maar ook van buite af binnetoe. Dit beteken dat die gemeente nie net vir hulself binne die gemeente leef, of bloot net die omliggende gemeenskap bedien nie, maar dat hulle deel van die omliggende gemeenskap word. Dit staan in skrille kontras met die introverte, na binnegekeerde, krimpende gemeentes (Gilbert 2004:43, 44; Tickle 2008:120-143; Walls 2002:69, 73). Die vermoë om die verandering te maak deur nuwe maniere van binne en van buite die gemeente aan te neem, stel die gemeente as 'n menslike sisteem in staat om bewustelik te leer hoe om tot 'n relevante gemeente te ontwikkel (Gilbert 2004:230, 250; vgl. Niemandt 2013:146-151).

Binne die sisteemveranderende gemeente word van die leierskorps sensitiewe en onbevreesde leierskap vereis (Van der Merwe 2009b:25-27; Warren 2005:xvi). Warren (2005:8, 313) noem ook dat groei dáár plaasvind waar die predikant 'n lang tydperk van ten minste 10 jaar in 'n gemeente kan werk. Volgens die gesprek met Pretorius en Lindeque (2009) vertoon die kerkpraktyk beter waar die bestuurstruktuur verklein word (vgl. Rheeder 2008). Sisteemsensitiewe leierskap sluit ook direk aan by bemagtigende en organiese leierskap, omdat gevra word na 'n verskeidenheid in die gemeentelike bedieningstyl (Niemandt 2013:151). Dit behels 'n buigbare bedieningstruktuur om onder andere verdraagsaamheid in die hele gemeente te bevorder, terugvoering in die metings-en besluitnemingsproses kommunikatief te laat slaag, die verstaan en beoefening van vloeibare sisteemsensitiwiteit uit te bou en om die visiestelling te alle tye voor oë te hou (Van der Merwe 2009b:25-27).

Revisioneringstrategie

Bronne waarin omkeer bespreek word, stel dit dat voortdurende revisionering vereis word (vgl. Branson 2004:110, 111; Gilbert 2004:107, 118; Schwarz & Schalk 1998:82, 101; Warren 2005:220; Whitney et al. 2004:81). In hierdie verband het Pretorius en Lindeque (tydens 'n gesprek in 2009) melding gemaak van 'n kernsaak wat Maxwell soos volg aanbeveel: 'What gets measured, gets done.'

Revisionering behels die vraag waartoe die Here die gemeente opnuut roep. Refleksie, evaluering en revisionering word dan die bron van 'n nuwe visie, nuwe energie, nuwe entoesiasme en nuwe doelstellings. Wanneer revisie deurgevoer word, begin 'n nuwe siklus (Gilbert 2004:68, 69) in die omkeerproses. Gilbert (2004:26-29), asook Burger (1999:135-140) stel dat leer deur refleksie die beste leermetode vir volwassenes is. Sonder revisionering as deel van die gelyklopende strategieë (kommunikasie, leierskap) sal leer ontbreek en beweging in denke sal taan. Dit is belangrik om te besef dat die leerproses nie net teen die einde van die veranderingsproses plaasvind nie. Evaluering, meting en refleksie is immers voortdurend deel van al die verskillende stadia wat tydens die voortgaande proses afspeel (vgl. Roxburgh 2006:170, 185; Niemandt 2013:155).

Met die nuwe kennis wat deur refleksie verkry is, kan nuwe besluite geneem word om te implementeer. Die omkeerstrategie word dus nie eenmalig deurgevoer en afgehandel nie, maar dit is 'n voortdurende proses, deur binne elke situasie sensitief te wees rakende nuwe leerinsigte. Omkeer is voortdurende reformasie. In die volledige sirkelproses van doen, reflekteer, leer en besluit waartydens die breë bewegende natuurlike proses afspeel, is daar voortdurend talle kleiner sirkelprosesse wat plaasvind. Hierdie wiele binne wiele beweeg stelselmatig om die uitbou of hervorming (kwantitatief) en die opbou of vorming (kwalitatief) daar te stel.

Verskuiwende Coram Deo-uitnemendheid

Coram Deo dui aan waar en hoe die verbondsgelowige voor die aangesig van God inpas deur in diens van God in uitnemendheid te lewe (Van der Merwe 2009b:31, 32). Coram Deo-uitnemendheid dui op die 'plek waar hoop gevorm word' (Burger 1995:75, 76-85). Hoop word slegs deur die Gees gegee en word binne die kerk se bedienings voor die aangesig van God gebore (vgl. Hendriks 1999:19). Hoop en uitnemendheid vloei deur opbou en uitbou oor na die alledaagse lewe en getuig van 'n missionale-gesonde gemeente. Gehoorsaamheid aan die Skrifbeginsels behoort derhalwe die ware kerk se droom, begeerte en gebed te wees (Burger 1999:7; Du Toit et al. 2002:49; Gilbert 2004:88-90).

 

Samevatting

Die feit dat die strewe na 'n diepgaande omkeer vanuit die midde van die huidige geslag kerkleiers na vore gekom het, toon dat God as die Verbondsgod reeds vóór die leiers aan omkeer begin dink het, die inisiatief geneem het om bekering en verdieping te bewerkstellig (Strong 2007:52, 59, 445). Dit bied troos en gee hoop en moed vir die groot taak om voortdurend en verbondsmatig volgens Skrifbeginsels te leef. Aspekte wat deel uitmaak van 'n omkeerproses waar die Gees werk, kan egter nie in 'n vaste orde vasgepen word nie. Tog is die noodsaaklike elemente wat in die proses na vore kom, wel aantoonbaar. Saam met die waarderende taalaanpak as instrument, kan die aspekte van 'n omkeerstrategie in die volgende vyf punte saamgevat word:

  • Voorafstrategie: erken die krisis, doen selfondersoek en besef dat bekering die enigste moontlike uitweg is.
  • Gehoorsaamheid aan die Groot Gebod: Jy moet jou naaste liefhê
  • met jou hele hart (fokus: Christosentries),
  • met jou hele siel (gesindheid: gebed),
  • met al jou kragte (roeping: Groot Opdrag),
  • met jou hele verstand (uitgangspunt: organiese groei).
  • Gemeente-aanpak: teologies - visie, roeping of missie, doelwitte,
  • kontekstueel - gemeenskap en gemeente,
  • ekklesiologies - gemeenteprofiel.
  • Gelyklopende strategieë: kommunikatief,
  • leierskap,
  • revisionering.
  • Verskuiwende Coram Deo-uitnemendheid.

Die omkeerstrategie in al sy kompleksiteit en verweefdheid is in werkliklikheid slegs gehoorsame, gebedsgedrewe bekering wat oorgaan in deelname aan die verbondsopdragte en voorskrifte van die hoof van die kerk, Jesus Christus. Die vertroue is gerig op die Gees se werk wat op 'n organiese wyse die opbou en uitbreiding van die koninkryk laat plaasvind.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Acta, kyk Gereformeerde Kerke.         [ Links ]

Boesak, A., 2007, 'Vreugde, waarheid, gedeelde belydenis', Beeld, 25 Oktober, bl. 33.         [ Links ]

Bosch, D.J., 1991, Transforming mission - Paradigm shifts in theology of mission, Orbis Books, New York.         [ Links ]

Botha, N., 2006, 'Nou ken ons ons ellende beter', Kerkblad, Mei, bl. 47.         [ Links ]

Branson, M.L., 2004, Memories, hopes and conversations: Al and congregational change, Alban Institute, Virginia.         [ Links ]

Brouwer, R., De Groot, K., De Roest, H., Sengers, E. & Stoppels, S. (reds.), 2007, Levend liggaam: Dynamiek van christelijke geloofsgemeenschappen in Nederland, Kok, Kampen.         [ Links ]

Bulley, G., 1994, Developing a contextualized church planting strategy, North American Mission Board, viewed 06 June 2010, from http://avira.search.ask.com/web?locale=en_MU&o=APN10267&l=dis&tpr=5&gct=sb&q=Chrches+Seeking+Pastors        [ Links ]

Burger, C., 1995, Gemeentes in transito - Vernuwingsgeleenthede in 'n oorgangstyd, Lux Verbi, Kaapstad.         [ Links ]

Burger, C., 1999, Gemeentes in die kragveld van die Gees oor die unieke identiteit, taak en bediening van die kerk van Christus, BUVTON, Stellenbosch. (Gemeente en bediening, 4).         [ Links ]

Calvyn, J., [1559] 1991, Institusie van die Christelike godsdiens, Deel 1, vert. J.W. Simpson, Heer drukkers, Potchefstroom.         [ Links ]

Calvyn, J., [1559] 1991,Institusie van die Christelike godsdiens, Deel 4, vert. J.W. Simpson, Die Herald, Potchefstroom.         [ Links ]

Chaffee, P., 2004, Claiming the light: Appreciative inquiry and congregational transformation, viewed 10 June 2008, from http://www.congregationalresources.org/Appreciative/Introduction        [ Links ]

Cooperrider, D.L. & Whitney, D., 2005, Appreciative inquiry - A positive revolution in change, Berrett-Koehler, San Fransisco.         [ Links ]

Cope, L., 2006, An introduction to the Old Testament Template, The Template Institute Press, Burtigny.         [ Links ]

De Kock, H.K., 2003, ''n Prakties-teologiese beoordeling van Natural Church Development se agt kwaliteitseienskappe van groeiende kerke', MA-skripsie, Fakulteit Teologie, PU vir CHO.         [ Links ]

Dreyer, W.A., 2009, ''n Prakties-teologiese perspektief op kerkwees met besondere verwysing na die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika', PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Du Plooy, A le R., 2003, 'Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika 1859-2002', In die Skriflig 37(3), 485-504.         [ Links ]

Du Toit, F., Hofmeyr, H., Strauss, P. & Van der Merwe, J., 2002, Moeisame pad na vernuwing: Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na 'n nuwe relevansie, Barnabas, Bloemfontein.         [ Links ]

Fraker, A.T. & Spears, L.C. (eds.), 1996, The private writings of Robert K. Greenleaf Seeker and servant reflections on religious leadership, Jossey-Bass, San Francisco.         [ Links ]

George, C.F., 1994, The coming church revolution - Empowering leaders for the future, Fleming H. Revell, Michigan.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2012, Acta - Handelinge van die tweede algemene sinode te Potchefstroom op 04 Januarie 2012 en volgende dae, V & R Drukkery, Pretoria.         [ Links ]

Gilbert, D.E., 2004, '"Deep change" or "slow death"? A practical road guide for the highway of change: A learning manual for church boards', PhD thesis, Faculty of Theology, Western Theological Seminary, Michigan.         [ Links ]

Giliomee, H., 2004, Die Afrikaners: 'n Biografie, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Hendriks, H.J., 1996, 'Kerkspieël en die NGK statistiek in die wyer perspektief van die Suid-Afrikaanse bevolkingsensusse 1911-1991', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 37(1), 138-145.         [ Links ]

Hendriks, H.J., 1999, 'Verwagting vir die nuwe millennium: Gaan gereformeerde kerke groei, kwyn of verdwyn?' Woord en Daad 13, 17-19.         [ Links ]

Hendriks, H.J., 2000, 'Tussen ideologiese ontnugtering en 'n nuwe visie. Waarom Afrikaners se wiele pap is', Tydskrif vir Geesteswetenskappe 40(4), 292-295.         [ Links ]

Hendriks, H.J., 2003, Die toekoms van die kerk, die kerk van die toekoms, besigtig op 10 Mei 2010, vanaf http://academic.sun.ac.za/theology/Profiles/Profiledocuments/Prof_Jurgens_Hendriks_Intreerede.pdf        [ Links ]

Ihde, D. (ed.), 2004, Paul Ricoeur: The conflict of interpretations - Essays in Hermeneutics, Continuum, London.         [ Links ]

Jackson, N., 2013, 'Protestantse Christendom moet aanpas', Beeld, 29 Mei, bl. 12.         [ Links ]

Janse van Rensburg, J., 2000, The paradigm shift: An introduction to postmodern thought and its implications for theology, Van Schaik, Pretoria.         [ Links ]

Jansen, H.U., 2001, 'n Ondersoek na die proses van gemeente-analise, besigtig op 10 Mei 2010, vanaf http://ujdigispace.uj.ac.za:8080/dspace/bitstream/10210/199/10/UysJansen9907479.pdf        [ Links ]

Kruger, F., 2005, Die Efesiërs 4-model, besigtig op 10 Mei 2010, vanaf http://www.gkmn.co.za/Die%20Efesiers%204-model%20(GTV-lesing).doc        [ Links ]

McLaren, B.D., 2006, The secret message of Jesus: Uncovering the truth that could change everything, Thoms Nelson, Nashville.         [ Links ]

Mead, L.B., 1993, The once and future church: Reinventing the congregation for a new mission frontier, Alban Institute, New York.         [ Links ]

Murahashi, K., 2001, A church planting strategy for reaching a multi-racial target group in the Pacific Northwest, viewed 11 February 2009, from http://www.tren.com/e-docs/search_w_preview.cfm?p006-1420        [ Links ]

Muswubi, A., 2011, 'The significance of prayer and participating in a life of prayer in church revitalization: Towards a reformed missionaloracticum of church revitalization', Paper delivered on 12/13 September 2011, CRUMA, Pretoria.         [ Links ]

Nel, M., 2009, Congregational analysis revisited: Empirical approaches, viewed 10 May 2010, from http://www.scielo.org.za/scielo.php?pid=S0259-94222009000100033&script=sci_arttext        [ Links ]

Niemandt, N., 2007, Nuwe drome vir nuwe werklikhede, Lux Verbi.BM, Wellington.         [ Links ]

Niemandt, N., 2013, Nuwe leiers vir nuwe werklikhede, CUM, Vereeniging.         [ Links ]

Oswald, R.M. & Friedrich, R.E. Jr., 1996, Discerning your congregation's future: A strategic and spiritual approach, Alban Institute, Bethesda.         [ Links ]

Pieterse, H.J.C., 2010, Die noodsaak van metateoretiese aspekte rakende 'n hermeneutiese benadering tot die Praktiese Teologie, e-pos, 13 Julie, pietehjc@absamail.co.za        [ Links ]

Rheeder, H., 2008, The leadership dynamic, Crossway Books, Illinois.         [ Links ]

Rheeder, H.L., 2012, 'From embers to a flame: How God can revitalize your church', Paper delivered at From embers to a flame conference, Good News Convention Centre, Muldersdrif, 8-10 May.         [ Links ]

Ricoeur, P., 1976, Interpretation theory: Discourse and the surplus of meaning, Texas Christian University Press, Fort Worth.         [ Links ]

Roxburgh, A.J., 1997, The missionary congregation, leadership and liminality, Trinity Press International, Harrisburg.         [ Links ]

Roxburgh, A.J. & Romanuk, F., 2006, The missional leader, ch. 16, Jossey-Bass, San Fransisco.         [ Links ]

Runia, K., 1988, Waar blijft de kerk?, Kok, Kampen.         [ Links ]

Saarinen, M.F., 1992, The life cycle of a congregation, The Alban Institute, New York.         [ Links ]

Schalekamp, M.E., 2005, 'Missiones Ecclesiae: 'n Missionale visie en strategie in gemeentebou ten opsigte van multikulturele kerkplanting', PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, Noord-Wes Universiteit.         [ Links ]

Schwarz, C.A., 1996, Natural church development: A guide to eight essential qualities of healthy churches, Church Wise, Randhart.         [ Links ]

Schwarz, C.A., 1999, Paradigm shift in the church - How natural church development can transform theological thinking, ChurchSmart Resources, Emmelsbull.         [ Links ]

Schwarz, C.A. & Schalk, C., 1998, Implementation guide to natural church development, ChurchWise, Randhart.         [ Links ]

Smit, A. (red.), 1995, Nuut gedink oor leierskap in gemeentes: Die begeleiding van 'n Christelike geloofsgemeenskap, Lux Verbi, Kaapstad. (Gemeente en bediening, 4).         [ Links ]

Strong, P., 2007, 'Romans 12:2 as an important paradigm for transformation in a Christian: A practical theological study', PhD thesis, Faculty of Theology, North West University.         [ Links ]

Thom, R., 2013, 6 secrets of turnaround churches, viewed 02 July 2013, from http://www.churchleaders.com/pastors/pastor-articles/168421-thom-rainer-secrets-turnaround-churches.html?utm_source=newslettr&utm_medium=email&utm_campaign=clnewsletter&utm_content=CL+Daily+20130701        [ Links ]

Tickle, P., 2008, The great emergence, Baker Books, Michigan.         [ Links ]

Van der Merwe, C., 2009a, e-pos, 26 Februarie, christo@kpo.co.za        [ Links ]

Van der Merwe, C., 2009b, e-pos, 03 Maart, christo@kpo.co.za        [ Links ]

Van der Merwe, C., 2009c, e-pos, 03 Maart, christo@kpo.co.za        [ Links ]

Van der Watt, J., Barkhuizen, J., Du Toit, H., De Villiers, P.G.R., Du Rand, J., Janse van Rensburg, F., Steyn, G.J., Tolmie, F., Van Zyl, H. & Vergeer, W., 2012, Interliniêre Bybel: Grieks-Afrikaans Nuwe Testament, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.         [ Links ]

Van Gelder, C., 2009, The ministry of the missional church, Baker Books, Grand Rapids.         [ Links ]

Van Helden, P., 2013, 'Denke as krisisterrein in die verskynsel van kerkkrimping by tradisioneel Afrikaanssprekende susterkerke', Verbum et Ecclesia 34(1), Art. #677, 12 pages.         [ Links ]

Van Helden, S., 2010, ''n Hermeneuties-empiriese strategie rakende die verskynsel van kerkkrimping in tradisioneel Afrikaanse "susterkerke" in Suid-Afrika - 'n Prakties-teologiese studie', PhD-tesis, Fakulteit Teologie, Noordwes Universiteit, Potchefstroom.

Van Helden, S., 2013, 'Verskuiwende denke van die 2012-GKSA-Sinode', In die Skriflig/ In Luce Verbi47(1), Art. #117, 16 pages.         [ Links ]

Van Rooy, J.A., 2007a, 'Kan die Gereformeerde Kerke hoegenaamd nog met die evangelie uitreik?' Die Kerkblad, bl. 39-41.         [ Links ]

Van Rooy, J.A., 2007b. 'Sendingwerk in die toekoms ... Hoe en waarheen?' Die Kerkblad, April, bl. 30-32.         [ Links ]

Venter. F., 2009, e-pos, 04 Maart, fanie@ksm.co.za        [ Links ]

Venter, P., 2013, Opbou en uitbou van die Kerk: Die omkeerstrategie en kerkeenheid, Streeksinode Pretoria, Meyerspark op 01 Junie.         [ Links ]

Walls, A.F., 2002, The cross-cultural process in Christian history - Studies in the transmission and appropriation of faith, Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Warren, R., 2005, Doelgerigte kerk, Struik Christelike Boeke, Kaapstad.         [ Links ]

Whitney, D., Trosten-Bloom, A., Cherney, J. & Fry, R., 2004, Appreciative team building, iUnivers, New York.         [ Links ]

World Council of Churches, 2011, 'Together towards life: Mission and evangelismin changing landscapes', Proposal for a new WCC affirmation on mission andevangelism, Submitted by the Commission on World Mission and Evangelism(CWME) WCC 10th Assembly Commission on World Mission and Evangelism,viewed 02 November 2013, from http://www.oikoumene.org/en/resources/documents/wcc-commissions/mission-and-evangelism/together-towards-life-mission-and-evangelism-in-changing-landscapes?set_language=en        [ Links ]

 

 

Correspondence:
S. (Phia) van Helden
PO Box 16197
Lyttelton 0140
South Africa
Email: phia@telkomsa.net

Received: 15 July 2013
Accepted: 19 Nov. 2013
Published: 30 June 2014

 

 

1. Saarinen (1992:2) toon in breë trekke aan dat die twee hooffases, naamlik groei en krimping onderskeidelik onderverdeel word in vier stadiums. Die groeifase behels die geboorte-, kleuter-, tiener- en fleurstadiums, terwyl die krimpfase die volwasse, aristokratiese, burokratiese en sterfstadiums behels. Elke fase vertoon kenmerke wat deur die 'gene structures common to congregational life' opgebou is.
2. Die vier sake wat in die Groot Gebod genoem word (Mark 12:29-31; Kurios, kardias, psuches, ischuos, dianoias), word binne die konteks van verlossing deur die evangelie of missionale aanpak in verband gebring met vier rigtinggewende sake: 1) die hart (kardias) wat binne die missionale konteks gefokus is op die verlossing deur die Here Jesus Christus (kurion/Christo/Christos lesous; Bosch 1991:75; 1 Tim 1:15); 2) die siel en/of gees (psuches; pneumati) wat deur gebede (deësis; proserchon) die mens se gesindheid binne die konteks van die evangelie en redding toon (Rom 1:9; 10:1); 3) die mens wat geroep word om al sy krag (ischuos; dunamin; energeian - energoumenen) in te span om aan elke mens die evangelie (Groot Opdrag) te bring (2 Tim 1:8-10; Kol 1:28, 29; 4) die mens wat sy hele verstand (dianoias; dianoian, kardias) aktief inspan sodat groei verbondsmatig op 'n natuurlike en/of organiese wyse kan plaasvind (Heb 8:10; Van der Watt et al. 2012:265, 266, 823, 862, 1071,1108, 1125, 1174).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License