SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 número1Fulfilment of righteousness: Historical and ontological perspective of Matthew 3:15Who is Theophilus? Discovering the original reader of Luke-Acts índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.48 no.1 Cape Town feb. 2014

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Jesus Christus se begronding van die opstanding (Matt 22) in die Ou-Testamentiese openbaring en die implikasies daarvan

 

Jesus Christ's founding of the resurrection (Mt 22) in the Old Testament revelation, and the implications thereof

 

 

Jaap L. Helberg

Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence to

 

 


OPSOMMING

Anders as die Sadduseërs en ander mense se mensgesentreerde benadering tot die menslike bestaan en daarom tot 'n moontlike opstanding, is Jesus se benadering Godgesentreerd (óp God gerig en déur God verrig) en Skrifgefundeer. Dit wil sê 'n benadering gefundeer in wat God geopenbaar het en wat menslike bespiegeling, teologie of verwerking van wat met Jesus gebeur het, te bowe gaan. Hierdie Skriffundering is gegrond in God as die lewende, onverganklike, aktiewe en lewewekkende God se persoonlike verhouding met die mens in sy konkrete, historiese bestaan (Matt 22:23-33). So word die ware liggaamlike en geestelike bestaan verseker, naamlik 'n onverbreekbare persoonlike verhouding met God - nou en na die dood, rustend in Jesus Christus se lewe, dood en opstanding. Hierdie begronding veronderstel 'n Skrif- en Geesgefundeerde, Godgesentreerde hermeneutiek, eksegese, erediens, prediking en kerklike inrigting, gedra deur selfondersoek en bekering, diensbaarheid in liefde vir God en die naaste (Matt 22:34-41), en verantwoordelikheid teenoor God se skepping.


ABSTRACT

Unlike the Sadducees' and other people's homocentric approach to man's existence, and therefore to a possible resurrection, Jesus' approach is theocentric (focused on God and conducted by God) and founded in Scripture, that is founded in what God reveals, transcending human speculation, theology or processing of what happened to Jesus. This founding in Scripture is grounded in the living, immortal, active and life-giving God's personal relation with man in his concrete, historical existence (Mt 22:23-33). In this way the real physical and spiritual existence is secured, that is an unbreakable personal relationship with God, now and after death, resting in Jesus Christ's life, death and resurrection. This grounding implies a Scripture- and Spirit-founded, God-centered hermeneutics, exegesis, public worship, preaching, and church structuring, conveyed by self-examination and repentance, service in love for God and the neighbour (Mt 22:34-41), and by responsibility towards God's creation.


 

 

Inleiding

Die lewe na die dood, en in besonder die opstanding, lok vandag baie bespreking uit. Hierdie artikel handel egter nie oor hierdie besprekings of die opstanding in sy geheel nie. Dit handel oor die begronding van die nadoodse lewe en van die opstanding volgens Jesus se benadering van die Ou-Testamentiese openbaring in Matteus 22, en in besonder verse 23-33. Verder word die implikasies van hierdie begronding vir die lewe hierna en ook vir nou, bestudeer.

Die artikel gee ook aandag aan Psalms en Jesaja. Hierdie boeke is goed verteenwoordigend van die grondliggende Ou-Testamentiese verkondiging, word dikwels in die Nuwe Testament aangehaal en adem dieselfde gees oor hierdie onderwerp as die stelling wat Jesus gemaak het oor dood en lewe, oor die Skrif (Woord) en oor God.1 Verder word ook kortliks aandag gegee aan die implikasies van die Skrifgedeelte vir die gelowiges se benadering tot hulle eie dood en hulle lewe van hier en nou wat gebed, erediens, prediking en inrigting van die kerk, insluit.

 

Die kwessie van lewe na die dood

Die kwessie van lewe na die dood is vandag besonder relevant (vgl. geskrifte en besprekings daaroor byvoorbeeld Schutte 2006:1513-1526; Konig 2009:236-274; Van Niekerk 2009:320-348; Muller 2006:7-11, 31-38, 39-43, 71-76, 77-89, 115-121). Hierdie artikel gaan egter nie op hierdie besprekings in nie, maar fokus op Jesus se begronding van sy antwoord op die vraag oor die opstanding in die verkondiging van die Ou Testament en watter implikasies dit het.

Daar is min Skrifgedeeltes in die Ou Testament wat uitspraak gee oor 'n opstandingsgeloof, behalwe in van die laaste boeke. Daar is wel 'n verlange by gelowiges om op die een of ander manier konkreet voort te leef (vgl. die bespreking onder die opskrif 'God se krag en onbegryplike optrede in 'n geskiedenis van dood en voortlewing' hieronder). Dit is in ooreenstemming met die feit dat die Ou Testament heel konkreet is oor dinge en veral oor die mens as iemand wat uit grond gemaak is (Vriezen 1966:440).2 Die psalmdigters worstel met die kwessie van lyding en dood, en waarom God doen wat Hy doen, maar hulle twyfel nie daaraan dat God absoluut regeer nie (vgl. Kraus 1979:210). Uiteindelik laat hulle die probleem met vertroue in God se hand, al lyk omstandighede hoe uitsigloos (vgl. byvoorbeeld Ps 73).

Ondanks al die lig wat Nuwe-Testamentiese gelowiges vandag oor die voortlewe ná die dood het, bly die wyse van voortlewe na die dood steeds onbegryplik tot met die volle vervulling wanneer Jesus Christus weer kom (1 Kor 15:42-49; 2 Kor 5:1-10). Die volle klem en lig val in die Skrif op God op sy mag en sy verhouding met die gelowige. Hoe dit presies na die dood sal wees, is buite heldere fokus. Wat uit Jesus se woorde duidelik is, is dat die opstanding nie bloot geestelik of oordragtelik is nie en ook nie 'n blote voortsetting van die huidige liggaam en lewensituasie is nie.

 

Jesus se motivering in vergelyking met die Sadduseërs se benadering

Die Sadduseërs het nie aan die opstanding geglo nie en wou Jesus vasvra met vrae oor kwessies wat hulle as onoplosbare probleme vir 'n opstanding beskou het, soos byvoorbeeld wat gebeur wanneer 'n vrou in haar lewe meer as een man gehad het (Matt 22:23-28). Jesus se keuse van 'n Skrifgedeelte om die Sadduseërs te antwoord en die opstanding te motiveer, is verrassend en op die oog af nie ter sake nie. Hy verwys nie na 'n uitspraak oor opstanding self nie, maar sê:

Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: 'Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob'? Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes. (Matt 22:29)

Die Sadduseërs het net aan die eerste vyf boeke van die Ou Testament geglo, daarom motiveer Jesus sy antwoord daaruit (Davies & Allison 2004:379). Hy grond sy uitspraak ('wat God vir julle gesê het', v. 313) op 'n bekende en, vir sy toehoorders, aanvaarde, Skrifbron. Hierdie keuse is belangrik omdat Jesus die opstanding daarmee fundeer in wat Hy as 'n grondliggende openbaring oor God en sy verbondspad met Israel beskou (vgl. Ridderbos 1972:244).

Jesus rig 'n waarskuwing om nie net mensgerig oor die huidige bestaanswyse te dink nie met die volgende woorde: 'Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos engele' (v. 30). Sy teenstanders staar hulle blind teen die mens en hoe sy huidige aardse lewe sou kon ooreenkom met 'n bestaan hierna (Turner 2008:532). Hulle redeneer antroposentries en in werklikheid vanuit 'n kultuurteologie. Dit open niks meer as menslike moontlikhede, tydelikhede en verganklikhede nie. Daarteenoor gee Hy 'n Godgerigte en Skrifgefundeerde antwoord. Jesus wys met sy motivering wat en wie God is en wat die Skrif van Hom sê.4

Jesus se keuse wys dat Hy die Skrifopenbaring as 'n eenheid benader ('die Skrif') en dat alles daarvolgens Godgesentreerd benader moet word - gesentreer op die almag van God ('die krag van God', v. 29) en sy verbondsverhouding met sy gelowiges ('die God van Abraham, Isak en Jakob', v. 32). Nie alleen God se ondeurgrondelike mag word deur Jesus beklemtoon nie, maar tegelyk ook sy onverbreeklike, lewegewende verbondenheid aan die mens en in besonder, sy gelowiges.

Al die klem in Jesus se uitspraak val op sy en God se optrede. Ridderbos (1972) beweer die volgende:

Hier rust dus het opstandingsgeloof in het geloof in God. Vandaar ook het beroep op de 'kracht Gods', welke niet als een rustende, tijdloze eigenschap Gods bedoeld wordt, maar als de in dienst van zijn koninkrijk staande, naar de voleinding werkende kracht, vgl. Matt. 6:13b. (bl. 244)

Hierdie Godgesentreerdheid stem ooreen met die gedeelte oor die bruilof wat die vraag oor die opstanding voorafgaan (vgl. Ridderbos 1946:109-113 vir 'n bespreking van Matt 22:1-14 in besonderhede).

'n Godgerigte benadering van die menslike lewe laat 'n mens die transendente kant van die menslike bestaan insien, naamlik 'n onverganklike verbintenis en lewe. Jesus se uitspraak oor die opstanding rus op dit wat reeds in/uit die Ou Testament oor 'n blywende verhouding tussen God en sy gelowiges blyk.

Jesus rig ook 'n vermaning tot die Sadduseërs ('Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie', v. 29). Hulle verwerp die opstanding omdat dit vir hulle onverstaanbaar is. Jesus sê dat geloof in die opstanding nie op die (intellektuele) verstaan daarvan berus nie, maar op die aanvaarding van die Skrifopenbaring en God se almag wat bo menslike begrip en moontlikhede verhewe is.

Jesus se motivering van die opstanding is gefundeer in wat God openbaar en wat menslike teologie en verwerking van wat met Jesus gebeur het, te bowe gaan. Die debat oor die opstanding gaan dus wel oor 'n keuse tussen die historiese en die mitologiese benadering (Schutte 2006:1524), maar eintlik oor nog meer, naamlik 'n keuse tussen Goddelike openbaring en menslike teologie, ervaring of belewing.

Skrifgefundeerd en Godgesentreerd beteken dus nie dat die mens se verhouding met God onbelangrik is nie en ook nie dat 'die God van Abraham, Isak en Jakob' (v. 32) aan hierdie persone of hulle kultuur gebonde is nie (vgl. die bespreking oor Jesaja hieronder in die bespreking onder die opskrif 'Die lewende God en sy lewende Woord: die Psalms en Jesaja').

Die vraag oor wat van die mens ná die dood word, is volgens Jesus dus in die eerste plek 'n vraag oor wie en wat God is en wat sy verhouding met die mens is. Sy verhouding met die mens raak die verbintenis tussen lewe en liefde. In Matteus (en Markus) is die Skrifgedeelte oor die opstanding en dié oor die groot gebod bymekaar opgeteken (Matt 22:37-40; Mark 12:29-33). Die mens ontvang lewe van God. Daarom hang die lewe, hier en nou, ten nouste daarmee saam om God lief te hê met jou hele wese en jou naaste soos jouself.

Jesus se motivering van 'n opstandingslewe eendag, gaan gepaard met sy vermaning oor die verkeerde benadering van 'n 'opstanding' nou. Dit wil sê 'n omkering op die pad en 'n opstanding uit die gevangenheid deur nie die Skrif en die krag van God te ken nie. Volgens Jesus word 'n mens deur die Skrif tot so 'n opstanding en 'n lewe van liefde gedring.

Die profeet Jona se 'opstanding' kom nie in Jesus se gesprek met die Sadduseërs in Matteus 22 ter sprake nie.5 Jesus het wel by geleentheid daarna verwys (Matt 12:38-42; vgl. Ridderbos, 1941:242-245 vir 'n breedvoerige bespreking van die gedeelte). By die geleentheid het Hy sy eie opstanding daarby aangeknoop, maar tegelykertyd ook die mense se sug na tekens veroordeel. Hy beklemtoon daarmee dat dit om Hom en die prediking oor Hom gaan - nie om tekens of wonders nie. Die teken van die opstanding word alleen verstaan deur diegene wat sy prediking aangeneem het.6

Jesus se uitspraak oor Jona maak dus aanspraak op sy eie opstanding (wat die basis vir die gelowiges se opstanding is) sonder om vas te haak by die kwessie van 'n vis. Vir die verbondsvolk is die mense van Nineve en die koningin van die suide 'n beskamende voorbeeld. Hulle laat hulle oortuig, onderskeidelik deur die prediking, die Woord, en die getuienis oor die wysheid van Salomo, sonder ondersteunende tekens.

In die voorafgaande gedeeltes in Matteus 22, naamlik die vraag oor die betaling van belasting (v. 15-22) en die gelykenis van die bruilof (v. 1-14), wys Jesus daarop dat die genade van God oor alle grense strek, maar dat die belangrike steeds God se heerskappy is. Die mens het 'n verantwoordelikheid om dit te gehoorsaam sodat daar 'n geordende en gedissiplineerde samelewing kan bestaan. Die gelykenis van die bruilof het veral te doen met Israel se gebrek aan erns oor hulle bevoorregte posisie as verbondsvolk wat deur God geroep is. Dan nooi God ook mense uit ander volke uit. Wie ookal nie die vereiste feesklere aan het nie en nie die regte instelling teenoor Hom het nie, word veroordeel. Hierdie Skrifgedeelte sluit af met 'n stelling oor roeping en uitverkiesing wat inhou dat alles om God sentreer en deur Hom gedrewe/gewerk/bestier word ('Baie is immers geroep, maar min is uitverkies', v. 14).

Hieruit is dit duidelik dat Israel se uitverkiesing sowel as dié van mense uit ander volke net genade is, maar ook menslike verantwoordelikheid insluit. Hoe die uitverkiesing en menslike verantwoordelikheid sowel as die opstanding presies inmekaar steek, gaan die menslike verstand te bowe.

 

Die betekenis van die uitdrukking God van Abraham, Isak en Jakob

Om die opstanding te motiveer, sluit Jesus aan by die selfbekendstelling van God met die roeping van Moses om Israel uit Egipte te lei. Die selfbekendstelling as 'God van Abraham, Isak en Jakob' dui God se verbondsverhouding met sy volk Israel aan. In Eksodus 3 word die uitdrukking 'n paar keer gebruik (met of sonder die lidwoord die en/of 'God van julle voorvaders', v. 6, 15, 16). God word aangedui as die ondeurgrondelike, ontfermende, getroue en lewewekkende God in konkreet-historiese verbondenheid met sy gelowiges. Die uitdrukking word met God se reddende optrede tydens die uittog uit Egipte verbind. Hy het sy volk toe wonderbaarlik uit 'n uitsiglose situasie gered waarin die mens nie kon of wou optree nie, soos bewys deur die onwilligheid van Moses om Israel uit Egipte te lei. God is die inisieerder en deurvoerder. Sy trou en krag is die deurslaggewende faktor agter die uittog.

Sy woorde aan Moses 'Ek is wat Ek is' (Eks 3:14), maak dit duidelik dat Hy nie beperk of omlyn kan word nie. Hy handhaaf daarmee sy algehele soewereiniteit en bepaal self wat Hy oor Homself wil openbaar en hóé Hy Hom openbaar. Dit lê in lyn met sy eis dat Moses sy skoene moet uittrek as hy Hom nader (Eks 3:15). Met hierdie eis benadruk God sy heiligheid, onbereikbaarheid en onbegryplikheid (Helberg 2011:87). Hy is nie 'n passiewe God nie, maar 'n lewende, aktiewe God (Noth 1968:30).

Daarby is Hy 'n ontfermende God, 'n God wat die lyding van sy volk ter harte neem (Eks 3:7-10). Hy stel in mense persoonlik belang en gaan persoonlik met hulle om soos met Abraham, Isak en Jakob. Verder vra Hy persoonlike geloofsvertroue in wat skynbaar onmoontlik is soos met Moses se roeping. Dit gaan om geloofsvertroue in God se wonderbaarlike pad met die gelowiges soos met Abraham se roeping in die doodloopsituasie van kinderloosheid (Gen 11:30; 12:1-2; vgl. ook Van Selms 1967:177). God se latere opdrag aan Abraham om sy seun Isak te offer, word juis gegee om sy geloof in God se mag om lewe uit dood terug te bring, te toets - nie bloot om sy gehoorsaamheid te toets nie. Die opdrag kom teen die agtergrond van die besondere geboorte van Isak (Gen 22:1-18; Heb 11:17-19; Helberg 2011:69-70). Verder gaan dit in hierdie geloofsvertroue om liggaamlike voortlewing, onafgebroke en ewigdurende gemeenskap met Hom en sy volk (Green 2000:236; Gerleman 1971:556-557).7

Die selfbekendstelling 'Ek is die God van Abraham, Isak, Jakob' raak die kern van die geloof in God en is deel van God se historiese verbintenis en omgang met sy volk. Dit wys dat alles uit God is en dat hierdie verbintenis en omgang tegelyk ondeurgrondelik is. Hiervan is God se selfbekendstelling as die God van Abraham, Isak en Jakob (Eks 3:6, 13, 15, 16) en die verbinding daarvan met 'Ek is' en 'Ek is wat Ek is' (Eks 3:14) 'n duidelike bewys. Wat Jesus hier sê is nie alleen ondeurgrondelik nie, maar ook almal-omvattend. Dit sluit die Sadduseërs en die Skrifgeleerdes, met almal wat hulle verteenwoordig asook Moses en die aartsvaders met hulle sondes en al in. Voortbestaan of voortlewe, in watter hoedanigheid ookal, hang nie af van die mens, sy krag en moontlikhede en selfs nie van sy gewilligheid of onwilligheid (soos by Moses; Eks 3) nie, maar van God as die lewende, lewewekkende en herskeppende God. Dit is Hy wat die eintlike en ware inisiatief neem.

Abraham, Isak en Jakob word veral met God se verbond (Gen 15) wat 'n geestelike sowel as konkreet-historiese betekenis het, geassosieer soos blyk uit die belofte van 'n groot nageslag en van 'n land. (Ook in die Nuwe-Testamentiese bedeling word die verhouding konkreet gesien. Dit draai om liefde in dade; Matt 22:37-40; Jak 2:14-26). Verbondstaal weerklink ook sterk in Jesaja, byvoorbeeld in uitdrukkings soos 'julle God' en 'my volk' (Jes 1:3; 5:13; 40:1, 9; 41:13; 43:15, ens.; vgl. ook Jer 31:31-34; Beuken 1979:18). Dat die belangstelling nie tot Israel beperk is nie, blyk reeds by die roeping van Abraham, naamlik dat alle nasies in hom geseën sal word (Gen 12:1-3).

God is ook nie plekgebonde nie. Plekke op sigself besit nie heiligheid nie (vgl. Terrien 1978:109-119 in verband met die heilige grond waarop Moses staan). Hy is nie 'n Landgod nie; hoewel Israel 'n beloofde land gehad het, was die doel daarvan om God daar volgens sy gebooie te kan dien (Eks 19:4; 20:2, vgl. 3-17). Hy is ook nie 'n Stadgod nie; hoewel die stad Jerusalem 'n besondere betekenis in die openbaringsgeskiedenis beklee en dikwels die stad van God genoem word, word God nooit die God van Jerusalem of Sion genoem nie. Wat oor Hom bekend is, is nie die produk van 'n lands- of stadskultuur nie, maar van sy selfopenbaring (Helberg 1990:31, 97).

 

God se krag en onbegryplike optrede in 'n geskiedenis van dood en voortlewing

Die uitdrukking God van Abraham, Isak en Jakob benadruk God se getrouheid aan sy beloftes (Hand 3:13-15; vgl. ook Johnson 1951:522-523). Jesus verbind die opstanding met God se krag en sy optrede wat vir mense onbegryplik is (1 Kor 6:14). Die fokus is gerig op God se verlossende optrede in 'n wêreld waarin die dood, disintegrering en disharmonie ingetree het deur die sonde (vgl. die tweede paragraaf hierna). In hierdie uitsiglose situasie kan redding alleen op 'n wonderdadige manier geskied, naamlik deur wat God in Abraham, Isak en Jakob begin het en waarvan die wondergeboorte van Isak uit Abraham duidelik getuig. Die opdrag aan Abraham om Isak te offer, is 'n verdere bevestiging daarvan.

Die ware lewe vloei voort uit 'n ware verhouding met God en is 'n saak wat reeds bestaan en tog ook nog nie. Abraham, Isak en Jakob bly vreemdelinge in die beloofde land. God se bedoeling draai om iets groters as hier en nou, ook groter as die eie nageslag en die besit van die beloofde land (vgl. 'die nuwe aarde beërwe', Matt 5:5; vgl. ook die verwysing in Luk 20:37-38 na die gebeurtenis van die doringbos en 'want by Hom leef hulle almal'). As die lewende en lewewekkende God beoefen Hy 'n persoonlike verbintenis met die mens; een wat in Jesus Christus as Immanuel, God by ons, sy volle betekenis kry (Matt 1:23).

Die geskiedenis van Abraham, Isak en Jakob is dus 'n geskiedenis van lewe met God en van dood en voortlewe. In hierdie sin is dit 'n voorbeeld van opstandingsgeskiedenis. Die mens is 'n stoflike wese en tog ook méér as dit. Psalm 8 teken die kleinheid van die mens teen die agtergrond van die grootheid van God se skeppingswerk. Tegelykertyd skets die psalm ook die aansien, eer en heerskappy wat God aan die mens verleen. Dieselfde benadering kom in Genesis 1 en 2 voor waarin die mens geteken is as beeld van God en as 'n besielde liggaam wat deur God uit grond gemaak en lewensasem ingeblaas is (Gen 1:26, 27; 2:7).

Deur die mens se sonde stuur sy persoonlike lewe op die dood af. Sy lewe is trouens een van disintegrering van liggaam en gees, van liggaamsdele en van stoflike, familie en sosiale verbande. Verder is die lewe ook 'n disintegrering van visie op 'n mens self en jou naaste en dus op seksuele verhoudinge soos gesien in die mens se ongemaklikheid met naaktheid (Gen 3:7). Die dood bring skeiding met die lewendes. Daarom het dood en dooies nie plek in die Ou-Testamentiese kultus nie. Om kontak met dooies te soek, is streng verbied (Lev 21:1; Num 5:2; 19:11, 14; vgl. Eichrodt 1967:217). Die geleentheid vir gebed is verby vir hulle. Tog is die Ou Testament nie sonder bemoediging vir die een wat sterf en vir dié wat agterbly nie. In albei gevalle is die bemoediging die verhouding met God self.

Die sonde bring skeiding met God, die Skepper en Regeerder. Tog is 'n lewende verhouding met Hom moontlik. Die mens is net stof, en tog 'n besondere wese omdat, en in soverre, daardie verhouding beoefen word. Jahwe is die oorsprong van die lewe (Ps 36:10; 42:9; Kraus 1979:204). Hjh beteken nie net in die lewe wees of in lewe bly nie, maar om 'n volwaardige, ryk en gelukkige lewe te lei (Wringgren 1977:885). 'n Lewende verhouding met God is wesenlik aangetas, maar word tog deur God, dwarsdeur die doodsbestaan heen, lewewekkend aan die gang gehou.

God se lewewekkende en herskeppende optrede loop soos 'n goue draad dwarsdeur die Ou Testament. Die gelowiges behoort sy dood en opstanding in hierdie lig te verstaan, sê Jesus (Mark 16:14; Wheaton 2008:252-253). Daar is voortdurende herskeppende insnydings: 'Eva' (= lewe) ná die doodsaankondiging (Gen 3); die belofte ná die sondvloed (Gen 8); 'n nuwe begin met Abraham ná die mensdom die rug op God keer (Gen 12); en die uittog uit Egipte ná die moord op Israel (Eks). Ook die tyd van die rigters en van die konings wat in ballingskap eindig, vertoon hierdie verloop. Verder is die messiasverwagting sterk daarmee verbind. Daar is ook dikwels abrupte reddende optrede van God (vgl. byvoorbeeld Gen 6:6-7; 8:20-21; Jes 6:10-13; 29:13-24; 53:1-12; Hos 1:6-9).

 

Die lewende God en sy lewende Woord: Die Psalms en Jesaja

Die dood bly vir die psalmdigters onbegryplik. Hulle gee nie 'n uitgewerkte leerstuk nie, maar verskillende beelde van hoe die dood en die persoon wat dood is, prakties ervaar word. Dikwels word dit bloot vanuit menslike oogpunt en daarby digterlik gestel, en soms selfs in aansluiting met ander nasies se voorstellings (Vriezen 1966:442). Veral die feit dat God nie geprys kan word as mens dood is nie! (Ps 6:6; 30:10; 88:11; 115:17). Die psalmdigters het wel volle vertroue in God. Hulle verwysings na God as die God van die aartsvaders, benadruk sy groot mag (Ps 81:5; 84:9; 114:7; 132:2, 5).8

Verder het die psalmdigters volle vertroue dat die band met God tog blywend is (Vriezen 1966:443), selfs ondanks 'n mens se worsteling met die werklikheid wat anders skyn te wees. Dit hang daarmee saam dat hulle, anders as die ander nasies, God ten volle as 'n persoonlike God beskou. 'n Mens kan jou selfs in 'n 'doodsituasie' tot Hom wend, al voel jy dat Hy afwesig is (Ps 42:4). God self is vir die gelowige die lewe (Ps 16:5). Daarom kan'n mens die kwessie van geregtigheid met vertroue aan God oorlaat (Ps 73:21-28). Hy is die lewende en lewegewende God (Ps 36:10; 42:9; 121:4; 103:5; 104:27-30; 145:16).

Die dood hang saam met die mens se sonde (Ps 90:3-11; 103:8-10), maar God se mag en liefde oorkom dit alles (Ps 90:1-2; 103:8-19; vgl. ook die bespreking van Jes 40:8-11 hieronder). Die belangrikheid van die Woord word reeds heel aan die begin van die psalmbundel gestel. In hierdie huidige werklikheid mag dit vir die regverdige lyk of goddeloosheid die oorhand het, maar dit lyk anders as hy hom geheel en al aan die Woord oorgee (dit 'dag en nag oordink'). Dan vind hy dat die Here in die Woord as 'n lewewekkende bron in hom aan die werk is (Ps 1:1-3; Helberg 2009:847-849).

Die regverdige is dus nie op die pad van ondergang soos die goddeloses wat skynbaar net voorspoedig is en daarom benydenswaardig (Ps 73:13-17) is nie. Deur die geloof in God, in sy skeppende mag en verlossende genade, vind die psalmdigter al meer rus in die oortuiging dat hy altyd deur God se beskermende sorg omring sal word (Childs 1986:245).

Jesaja handel oor Israel wat in dodelike bedreiging (veral Jes 1-39) en selfs in die volksdood van ballingskap is (Jes 40-55; vgl. Eseg 37). Die omstandighede was vir die verbondsvolk heeltemal uitsigloos. Jesaja verkondig die ongelooflike en onpeilbare manier waarop God sy mag uitoefen om die sondes te versoen. Die mens word deur God van die dood verlos, soos 'n boomstomp wat wonderbaarlik uitloop (Jes 6:13). Deur sy wonderbaarlike teenwoordigheid in die Woord verlos Hy sy volk en neem hulle herderlik onder sy sorg (Jes 40:6-8). So vind hulle ware lewe by Hom. Veral Jesaja 53 en 55 verkondig die ongelooflike manier waarop God sy mag deur sy onaansienlike dienaar uitoefen (53:1) en versoening van sondes (53:4-8) en lewe deur dood heen bewerk (53:9; vgl. Young 1972:355; North 1967:243).

Ook die Gees speel volgens Jesaja 'n besondere rol in God se heerskappy en sy verlossingswerk vir, en verbintenis met, die mens (Jes 11:2; 30:1; 34:16; 40:7, 13; 42:1; 44:3; 48:16; 59:19-21; 61:1; 63:10-14). Die Gees staan in die nouste verband met die vrymoedigheid om God daarop te wys dat Hy ons Vader is (Jes 63:16; vgl. ook v. 10-14; Gal 4:6).

God se regering kom uiteindelik in Jesus Christus tot vervulling. Hy bring twee openbaringslyne bymekaar: dié van die messias volgens die Dawidsmodel en volgens die lydende dienaarsmodel. Dit kom eers in sy persoon tot duidelikheid (Ridderbos 1972:49). In sy dood en opstanding word die Oorwinnaarkoning as dienend en selfverloënend geopenbaar.

 

'n Doodloopstraat tot en met Christus

In sy antwoord aan die Sadduseërs verwys Jesus nie na Dawid nie, hoewel Dawid 'n besonder belangrike plek in die openbaringsgeskiedenis beklee. Hy is 'n tussenganger wat met die koms van Jesus Christus plek maak vir die nuwe Dawid. Jesus beroep Hom daarop dat die profesie deur die Gees gegee word en dat dit deur Dawid in Psalm 110 getuig word (Matt 22:41-45). Die pad van die ou Dawid, wat met kraguitoefening soos in die onderwerping van die nasies te doen het, het doodgeloop. So leer die geslagsregister en geboortegeskiedenis van Jesus Christus (Matt 1:16). Helberg (2008:409-429) wys op die afdraande gang en uiteindelike doodloop van die geslagsregister deur 'n nuwe begin wat nie uit 'n manlike geslag ontstaan het nie, maar uit 'n vrou en haar Seun wat deur die Gees gebore is. Die geskiedenis wat met Abraham in 'n doodsituasie begin het, word daardeur herhaal. Dit help die hoorders van Jesus niks om hulle as kinders van Abraham voor te doen as hulle Jesus nie aanvaar as die Een wat deur die krag van God die nuwe geboorte en ware lewe bring nie (vgl. ook Heb 1; 4:14-5:10; 7-8; 13:20).

Jesus laat 'die Wet en profete' hulle volle betekenis kry (Matt 5:17).9 Hy is die lydende dienaar van die Here wat sou kom en wat die mens met God sou versoen (Hand 8:32-35). Deur sy opstanding oorwin Hy die liggaamlike sowel as geestelike dood - ook vir die gelowiges.10 God se band met die gelowige is onverbreekbaar.

Jesus is Immanuel, God by ons. Al sterf die gelowige, leef hy voort met God. Hoe dit moontlik is dat die mens as 'n liggaamlik-geestelike wese kan voortbestaan nadat hy sy lewensasem uitgeblaas het en slegs die liggaam oorbly, is 'n geheimenis. Dit is soos by die ontkieming van 'n saadkorrel - hy het dan 'n geestelike en onsterflike liggaam (1 Kor 15:35-58; vgl. Van den Brink, Bette & Zwiep 2003:531). Soos die vraag van die Sadduseërs is die eintlike antwoord die volgende: Vra wie God is. Verwonder jou oor die mag van God en sy onverbreekbare verhouding met die mens wat deur Jesus se dood en opstanding bewys is en nou gestalte kry in die mens se wederliefde teenoor God en liefde vir sy naaste, asook in die opstanding ná sy dood.

Christus dra nie net die mens se geestelike bestaan op die hart nie. Hy het bewoënheid oor die mens in sy stoflike en geestelike armoede en ondergang. Hy dra die belange van die armes en hulpeloses op die hart (Matt 11:4).

God se pad met die mens, soos veral vergestalt in die geskiedenis van die verbondsvolk Israel, is lewewekkend en herskeppend -'n pad van lewe uit die dood. Dit trek uiteindelik saam in Jesus Christus se dood en opstanding (Hand 10:38-41; 13:26-35; 17:31, ens.). Hy was volledig dood, Hy het gedisintegreer na liggaam en gees. Hy is egter op 'n wonderbaarlike en oorwinnende wyse daardeur en het deur sy opstanding uit die dood vir die gelowiges ware lewe - liggaamlike en geestelike lewe - gebring. Hulle is in 'n harmoniese verhouding met God herstel en met 'n onverbreekbare band aan Hom gebind. Dat Jesus self liggaamlik uit die dood opgestaan het, word nie slegs deur die Skrifgedeeltes wat daaroor handel, gestel nie, maar ook deur sy eie stelling oor die opstanding wat berus op 'n grondliggende siening oor God en sy verhouding met die mens volgens die Skrif. Hy het immers in hierdie mens se plek kom tree en hom verlos.

 

Enkele implikasies vir vandag rakende bekering, hermeneutiek, erediens en die materiële bestaan

Die omringende Skrifgedeeltes wys dat nie net die Sadduseërs te kort skiet in hulle benadering van die menslike bestaan nie, maar ook ander hoorders en mense. Almal is mensgerig en aardgerig. Die Sadduseërs se vraag is op hier en nou gefokus en die Fariseërs se vraag oor wat die grootste gebod in die Wet is, getuig van formalisme en wettisisme (Matt 22:34-40; Mark 12:28-34). Ook die Fariseërs se vraag oor belasting aan die keiser (Matt 22:15-22; Mark 12:13-17) en Jesus se vraag oor die Seun van Dawid wys op die aardgerigtheid van sy hoorders (Matt 22:41-45; Mark 12:35-37).

Hierdie soort atmosfeer is nie tot die Sadduseërs en Skrifgeleerdes beperk nie, maar is tipies menslik. Die optrede van die aartsvaders en van Moses, na wie Jesus hier op 'n direkte en indirekte manier verwys, getuig daarvan. Dit hou in dat alle hoorders van Jesus asook alle Bybellesers vandag, en nie net diegene wat nie aan die opstanding glo nie, voortdurend selfondersoek moet doen en tot bekering moet kom. Almal faal op een of ander manier die toets van 'n ware verhouding met God en Christus. Jesus en Johannes roep trouens almal op: 'Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom' (Matt 3:2; 4:17; vgl. Peels 2006:143 oor die duisternis van die kwaad).

Daarom, veral, moet daar groot erns gemaak word met die feit dat Jesus se begronding van sy stelling, met ander woorde sy hermeneutiek en eksegese, Skrifgesentreerd is, dat dit die Skrif as eenheid benader, Godgesentreerd en Godgedrewe is en dat God se mag ook 'n persoonlike verbintenis insluit.

Jesus se teosentriese benadering van die Skrifopenbaring gee 'n visie op die transendente in die menslike bestaan en behels meer as die liggaamlike en stoflike kant daarvan. Tog het dit met die konkrete aardse werklikheid te doen, soos by die persone in Matteus 22. Dit hou in dat daar nóg stoflik of vermaterialiseer, nóg vergeestelik op die lewe gefokus moet word. Bybelgelowiges kan selfs in verband met die uitsigloosheid van die dood op God se blywende en versorgende teenwoordigheid vertrou. Hoe die menslike voortbestaan uiteindelik sal wees, is 'n geheimenis en berus op Christus se dood en opstanding (1 Kor 15:12-58).

Bybelgelowiges se vooruitsig lê 'n verantwoordelikheid op hulle ten opsigte van die gewone stoflike bestaan saam met ander mense. Dit raak die behoefte van magteloses asook dié van die res van die skepping (ekologie) in besonder. 'n Teosentriese benadering verhoed dat die mens se skeppingsopdrag (Gen 1:28) gesien kanword as 'n regverdiging vir die uitbuiting van die natuur. Die huidige probleem van aardverwarming en sy moontlike dodelike gevolge wys dat daar 'n algehele ommekeer in die mens se selfgesentreerde benadering moet plaasvind. Daar moet as 't ware 'n nuutgeborenheid in die mens se benadering van skepping en Skepper sowel as in sy leefwyse kom (vgl. Van Heerden 2009:714 oor die bydraes van, en uitdagings vir, navorsers in Suid-Afrika rakende omgewingsprobleme).

 

Samevatting en gevolgtrekking

Die Sadduseërs se vraag oor die kwessie van opstanding, openbaar 'n mensgesentreerde benadering van die menslike bestaan. Jesus se antwoord, daarenteen, is teosentries, Godgesentreerd (óp God gerig en déur God verrig) en Skrifgefundeer. Dit is dus gefundeer in wat God geopenbaar het en wat menslike bespiegeling, teologie of verwerking van wat met Jesus gebeur het, te bowe gaan. Hierdie fundering is gegrond in God se selfidentifisering as God wat in 'n voortgesette en/of historiese persoonlike verhouding met mense staan: die God van Abraham, Isak en Jakob. Daarmee word die hele Ou-Testamentiese verkondiging, die eenheid van die Skrif sowel as die historiese aard en tegelyk die Goddelike openbaringsaard daarvan, as grondslag vir die opstanding gestel.

Die benadering van Jesus is op God as magtige God en op sy lewende en lewewekkende Woord gerig. Dit wys op die mens se dwaling in sy benadering van die Woord. Jesus waarsku dat daar nie op die stoflike werklikheid en op die hier-en-nou gefokus moet word nie. Sy verwysing is konkreet en histories en wys op die veranderlikheid en verganklikheid sowel as sondigheid van die mens, maar ook op God as die lewende, onverganklike God wat 'n lewende en onverbreekbare verhouding met sy verbondsvolk, die gelowiges, bewerk en onderhou.

'n Benadering wat voluit Godgerig is, openbaar Hom as lewende God en die God van lewendes. Hulle lewe hier voluit en het 'n uitsig vir hier en hierna.

Jesus se antwoord oor die opstanding impliseer nie alleen 'n opstanding ná die dood nie, maar ook 'n huidige 'opstandingslewe'soos by Abraham, Isak en Jakob. Die antwoord impliseer verder 'n Skrif- en Geesgefundeerde, Godgesentreerde en Godgedrewe hermeneutiek, prediking, erediens, daaglikse lewe en gebed. Die gelowige se lewe word deur geloof in God as lewende, onverganklike, almagtige en lewewekkende God gekenmerk. Dit word verder vergestalt in selfondersoek en bekering, in liefde tot God en die naaste, in verantwoordelikheid teenoor God se skepping en in 'n onverbreekbare persoonlike verhouding met God. Die hele mens is betrokke: na liggaam en gees, op 'n geheimenisvolle manier en rustend in Jesus Christus se dood en opstanding.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Baumgart, N.C., 2009, 'Ein Gott, der Atem gibt', Biblische Notizen 143, 45-65.         [ Links ]

Beuken, W.A.M., 1979, Jesaja deelIIa. Callenbach, Nijkerk. (De prediking van het Oude Testament).         [ Links ]

Brueggemann, W., 2003, An introduction to the Old Testament: The canon and Christian imagination, Westminster John Knox Press, Louisville.         [ Links ]

Childs, B.S., 1986, Old Testament theology in a canonical context, Fortress, Philadelphia.         [ Links ]

Davies, W.D. & Allison, D.C., 2004, Matthew. A shorter commentary, Based on the three-volume International Critical Commentary, T&T Clark International, London.

Eichrodt, W., 1967, Theology of the Old Testament, vol. 2, SCM, London.         [ Links ]

Gerleman, G., 1971, 'hjh leben', in E. Jenni & C. Westermann (reds.), Theologisches Handworterbuch zum Alten Testament, vol. 1, pp. 556-557, Kaiser Verlag, Munchen.         [ Links ]

Green, M., 2000, The message of Matthew: The kingdom of heaven, InterVarsity Press, Downers Grove. (The Bible speaks today).         [ Links ]

Hagner, D.A., 1995, Matthew 14-28, Word Books Publisher, Dallas. (Word Biblical Commentary, 33B).         [ Links ]

Helberg, J.L., 1959, 'A communication on the semasiological meaning of basar', in A.H. van Zyl (ed.), Die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap in Suid Afrika, p. 23-28, Papers read at the second meeting.         [ Links ]

Helberg, J.L., 1990, Die verbondsvolkse verhouding tot sy land. Departement Sentrale Publikasies, PU vir CHO, Potchefstroom. (Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 76).         [ Links ]

Helberg, J.L., 2008, 'Die buitengewone geboorte van Jesus Christus en die regering van die kerk, in die besonder rakende die vrou', In die Skriflig 42(3), 409-429.         [ Links ]

Helberg, J.L., 2009, 'Die bron van lewensvreugde volgens Psalm 1 en wat dit vir gereformeerde prediking inhou', In die Skriflig 43(4), 841-859.         [ Links ]

Helberg, J.L., 2011, Die Here regeer: Openbaringslyn deur die Ou Testament, Hersiene uitgawe, Administratiewe Buro van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Potchefstroom.         [ Links ]

Human, D., 2004, 'Jona se "opstanding uit die dood": perspektiewe op die "opstandingsgeloof" vanuit die Ou Testament', Hervormde Teologiese Studies 60(1&2), 221-238.         [ Links ]

Johnson, S.E., 1951, 'Matthew', in G.A. Buttrick (ed.), The Interpreter's Bible, vol. 7, pp. 229-625, Abingdon Press, New York.         [ Links ]

Kaiser, W.C. jr., 1979, Toward an Old Testament theology, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

Kónig, A., 2009, Die evangelie is op die spel, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Kraus, J-H., 1972, Psalmen, vol. 2. Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn. (Biblischer Kommentar Altes Testament).         [ Links ]

Kraus, J-H., 1979, Theologie der Psalmen, vol. 3, Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn. (Biblischer Kommentar Altes Testament).         [ Links ]

Muller, J., 2006, Opstanding, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

North, C.R., 1967, The Second Isaiah, Clarendon, Oxford.         [ Links ]

Noth, M., 1968, Das zweite Buch Mose: Exodus. Vandenhoeck & Ruprecht, Góttingen. (Das Alte Testament Deutsch, 5).         [ Links ]

Peels, H.G.L., 2006, 'Stem en tegenstem. Het beeld van God in de theologie van Walther Brueggemann', Theologia Reformata 49(2), 124-143.         [ Links ]

Ridderbos, H.N., 1941, Het evangelie naar Mattheus, vol. 1, Kok, Kampen. (Korte verklaring der Heilige Schrift).         [ Links ]

Ridderbos, H.N., 1946, Het evangelie naar Mattheus, vol. 2, Kok, Kampen. (Korte verklaring der Heilige Schrift).         [ Links ]

Ridderbos, H.N., 1972, De komst van het koninkrijk, Kok, Kampen.         [ Links ]

Schutte, P.J.W., 2006, 'The resurrection of Jesus: what's left to say?', Hervormde Teologiese Studies 62(4), 1513-1526. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v62i4.400        [ Links ]

Terrien, S., 1978, The elusive presence: Toward a new Biblical Theology, Harper & Row, New York.         [ Links ]

Turner, D.L., 2008, Matthew. Baker Academic, Grand Rapids. (Baker Exegetical Commentary on the New Testament).         [ Links ]

Van den Brink, G.C., Bette, J.C. & Zwiep, A.W., 2003, Het evangelie naar Mattheus: Studiebijbel Nieuwe Testament, vol. 2, Centrum voor Bijbelonderzoek, Veenendaal. (Bijbelcommentaar).         [ Links ]

Van Heerden, S.W., 2009, 'Taking stock of Old Testament scholarship on environmental issues in South Africa: the main contributions and challenges', Old Testament Essays 22(3), 605-718.         [ Links ]

Van Niekerk, A.S., 2009, 'Die stryd om die opstanding aan die Teologiese Fakulteit by UP: 'n Gesprek met Julian Muller', Verbum et Ecclesia 30(1), 320-348. http://dx.doi.org/10.4102/ve.v30i1.76        [ Links ]

Van Selms, A., 1967, Genesis, vol. 1, Callenbach, Nijkerk. (De prediking van het Oude Testament).         [ Links ]

Vriezen, T.C., 1966, Hoofdlijnen der theologie van het Oude Testament, H. Veenman & Zonen, Wageningen.         [ Links ]

Waltke, B.K. & Yu, C., 2007, An Old Testament Theology: An exegetical, canonical, and thematic approach, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

Wessels, W.J., 1987, 'Die boek Jona', in J.J. Burden & S.W. Prinsloo (reds.), Tweegesprek met God. Die literatuur van die Ou Testament, vol. 3, bl. 254-256, Tafelberg Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Wheaton, B., 2008, 'As it is written: Old Testament foundations for Jesus' expectation of resurrection', Westminster Theological Journal 70(2), 245-253.         [ Links ]

Wringgren, H., 1977, 'hajah', in G.J. Botterweck & H. Ringgren (eds.), Theologisches Worterbuch zum Alten Testament, vol. 2, pp. 874-898, Kohlhammer, Stuttgart.         [ Links ]

Young, E.J., 1972, The Book of Isaiah, vol. 3, Eerdmans, Grand Rapids. (The New International Commentary on the Old Testament).         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Jaap Helberg
PO Box 509, Potchefstroom 2520, South Africa
jaaphelberg@telkomsa.net

Received: 08 Apr. 2013
Accepted: 14 Jan. 2014
Published: 20 June 2014

 

 

1. Vergelyk Kraus (1979:223-257) in verband met Psalms. Jesus verwys dikwels na die profete, veral na Jesaja (Matt 1:22-23; 2:6, 14, 18; 4:16; 8:17; 9:13; 10:27; 11:10, 22; 12:7, 17-21; 13:14-15; 15:7-9; 21:4-5, 13; 26:31; 27:10).
2. Vergelyk Helberg, 1959:24: die mens, aangedui as basar, vlees/vleis in die Ou Testament het nooit die betekenis van sondigheid nie, anders as sarx in die Nuwe Testament'. Die psalmdigters kan byvoorbeeld nie met die dood vrede vind nie (Ps 6:6; 30:10; 88:11; 115:17).
3. Alle Skrifverwysings wat slegs deur die vers aangedui word, verwys na tekste of teksgedeeltes uit Matteus 22.
4. Childs (1986:43, 44): 'Divine revelation is never grounded in some need of God, as if he were lonely ... The Old Testament is consistently theocentric. It assumes that God's primary action lies in revealing himself, and it never attempts to penetrate behind this initiative.'
5. Vergelyk Human (2004) vir 'n bespreking van Jona se opstanding uit die dood, met 'n lys van bronne.
6. Die kernsaak in die boek Jona is die selfgerigtheid en selfsug van die profeet waarin hy die profete en die volk verteenwoordig. Daar ontbreek by hulle 'n oop oog vir God se genade en liefde wat wyer is as net die bevoorregte verbondsvolk (Kaiser 1979:200; Wessels 1987:256; Brueggemann 2003:232; Waltke 2007:834). Profeet en volk is meer begaan oor eie bevoorregting en daarom oor tekens en wonders as oor die Woord en die dienende taak wat dit van hulle vereis. Om in die wonders wat met Jona verband hou te glo, help die volk en selfs die profeet niks as hulle God en sy Woord van genade en liefde nie ken of daarmee erns maak nie.
7. n Voortlewe met God is in die Pentateug ook uit die geval van enkelinge soos Henog bekend (Gen 5:24).
8. Vergelyk Kraus 1972:564-565 vir 'God van Jakob' as verwysing na die God van die aartsvaders. Die lewe sowel as die dood kan nie anders as in die verhouding met Jahwe gesien word nie (Kraus 1979:207).
9. Baumgart (2009:252-253) sien 'n verband tussen God se rus ná die skepping en Jesus se opstanding op die eerste dag van die week.
10. Hagner 1995:642-643: ons sal nie ontliggaamde geeste wees nie (vgl. Joh 11:25; Hand 4:2, 33; 10:39-42; 17:18, 32; ens.; Rom 4:18-25; vgl. ook die verbinding met Abraham; Eks 5:10-11; 8:10, 11; 1 Kor 15, ens.).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License