SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 issue1Virtuous suffering and the predicament of being handicapped. Towards a theology of the 'disabled God puffing in a wheelchair' author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

In die Skriflig

On-line version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.48 n.1 Cape Town Feb. 2014

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Christus as Dawidgestalte in Openbaring

 

Christ as Davidic figure in Revelation

 

 

Jaap L. Helberg

Faculty of Theology, Northwest University, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Die geweldsoptrede in Openbaring herinner baie aan die tyd van Dawid en dit laat die vraag ontstaan of die 'regering in liefde' soos dit in die res van die Nuwe Testament verkondig word, nou plek maak vir 'geweldsregering'. In hierdie artikel word die antwoord gesoek in die apokaliptiese taal en styl (oortreffende vergelykingstrappe en skerp teenstellings) en in die omraming deur God as die Alfa en die Omega, op wie die hele fokus gerig is en wat alles integreer. Daar word ondersoek hoe dit God se regverdigheid en genade raak en watter rol Dawid in God se koningsheerskappy speel, in die lig van sy verbinding met Christus as die Leeu en die Lam. Aandag word geskenk aan Dawid as koning, as voorbeeldige gelowige en tog sondige mens en aan die betekenis van berou en bekering en 'n persoonlike verhouding met God. Die bevinding is dat die verbandlegging met Dawid 'n verlange vertolk na 'n integrasie van geregtigheid en liefde wat in Dawid skaduagtig was en ten volle tot vervulling kom in die wonder van God in Jesus Christus se lewe, sterwe, opstanding en wederkoms. Openbaring is 'n teken van God se genade deur die ernstige en onophoudelike waarskuwing en oproep tot geloofsvolharding en bekering. Tegelykertyd is dit 'n uitnodiging om na Hom te kom omdat daar net deur en by Hom, die lewende en persoonlike God, lewe is. Buite Hom is daar net disintegrasie.


ABSTRACT

The violence in Revelation resembles much of the violence in the time of David, and this raises the question whether the 'loving rule' as proclaimed in the rest of the New Testament gives way to 'violent rule'. In this article the answer is sought in the apocalyptic language and style of the book (superlatives, sharp contrasts), and in the framing of God as the Alpha and the Omega on Whom everything is focused and Who integrates all. The research investigates how this affects God's justice and his mercy, and what role David plays in God's kingly rule, in view of him being linked to Christ as the Lion and the Lamb. The investigation pays attention to David as king, as exemplary believer and yet sinful human, and to the significance of repentance and conversion and a personal relationship with God. It is found that the link to David gives expression to a longing for an integration of righteousness and love, which was shadowy in David and comes to fulfilment in the wonder of God in Jesus Christ's life, death, resurrection and second coming. The book Revelation is a token of God's grace, by being a serious and ceaseless warning and call to perseverance in faith and to conversion. Simultaniously it is an invitation to come to Him, because only through and with Him, the living One and personal God, there is life. Outside Him there is only disintegration.


 

 

Inleiding

Maak 'n 'regering in liefde' volgens die nuwe bedeling in Openbaring plek vir 'n 'geweldsregering' soos dit in die ou bedeling was?

Openbaring bemoedig veral die gelowiges wat in die tyd van die skrywer, oor hulle geloof in God tot die dood toe vervolg en verdruk is. Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het en die bron van die lewe is, kom gou om hulle te verlos (Op 1:1-8; 22:1-2, 14), al die vyande te verslaan en sy koninkryk te vestig (Du Rand 2007:127; Lioy 2003:90).

By al hierdie troos voel baie lesers tog ongemaklik oor sommige van die beskrywings in Openbaring. Die Christusregering lyk baie soos die heerskappy van koning Dawid met sy geweld, oorlog en bloedvergieting. Openbaring praat baie van die mag van God en Christus, van heerskappy en oorwinning, van pyn en smart, van roep om wraak en van goddelike straf wat gepaard gaan met strome bloed (bv. Op 8, 14, 16). Die gelowiges word selfs opgeroep om dit wat Babilon hulle aangedoen het, op haar te wreek (Op 18:6-7). Hierdie soort bedeling het tog mos plek gemaak vir 'n bedeling waarin die volk van Christus met liefde en diensbaarheid moet oorwin (Matt 5:3-12; 6:43-48; 22:37-40; vgl. hieroor Du Rand 2007:34, 460). Nêrens elders in die Nuwe Testament word mense opgeroep om die swaard op te neem om die koninkryk van God te laat realiseer nie (Peels 2007:41; vgl. Groenewald 1986:13-15 vir die negatiewe houding van Martin Luther en andere teenoor die boek Openbaring).

In Openbaring 21:1-8 word aangrypend vertroostend die verdwyning van alle lyding en trane aangekondig, maar in dieselfde asem ook skrikwekkende lyding as straf vir diegene wat nie in die verskriklike geloofsvervolging volhard het nie. Is daar dan nie ontferming vir die sondaarmens nie, selfs nie vir die menslike swakheid in die poging om te volhard nie? Is die mens in die geloofstryd dan tog maar op homself of op die onderhouding van die wet aangewese?

Hierdie artikel soek die antwoord in die apokaliptiese styl van die boek en in God se selfbekendstelling wat die boek omraam en beheers (Op 1:1-3, 8; 21:6; Du Rand 2007:129). Die omraming verkondig God as die almagtige regeerder wat alles oorkoepel en streng regverdig is ('Al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag'; Op 1:7), maar wat tog 'n persoonlike verhouding met die mens wil onderhou ('Uit liefde vir ons het Hy ons van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader'; Op 1:5-6). 'n Sterk verband word gelê tussen Christus en koning Dawid en daar word beklemtoon dat Christus die Leeu uit die stam van Juda, die geslagte Lam is (Op 5:5, 6, 8, 12, 13; 6:1, 9, 12, 16; 7:9, 10, 14, 16; 8:1; 22:16; vgl. ook die sinspeling in 1:5 op Dawid; vgl. Ps 2:6-8). God (en Christus) is 'die Alfa en die Omega, die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige' (Op 1:8; vgl. ook 1:17 en 21:6). Hierdie tekening getuig van oorkoepelende integrering, maar tegelyk van teenstelling en botsing; die integrering het 'n positiewe maar ook 'n negatiewe gevolg. Dié wat deel van die koninkryk is, is geseënd, maar die ander weeklaag (Op 1:3, 6, 7).

 

Die apokaliptiese aard van die voorstellings en die beskrywings in die Openbaring-visioene, teenstellings en oordrewe styl

Openbaring is apokalipties, maar ook profeties van aard (Op 1:3; Boxall 2006:27; Lioy 2003:43, 121; Gilbertson 2003:79; Rowland 1998:560). Apokaliptiek het ontstaan in tye van groot vervolging en is deels geheimsinnig van aard om onder meer te verhoed dat dit as bewysstukke in die geloofsvervolging gebruik kon word. Verder was sulke tye soms chaoties en monsteragtig. Vandaar die monsteragtige beskrywings. Openbaring sluit by die apokaliptiese styl aan in soverre hierdie soort literatuur sy doel dien. (Oor die verskil tussen die geskiedenisbeskouing van apokalipse en Openbaring, vgl. Helberg 1994:11-14; Rowland 1998:559-562; Du Rand 2007:22-25 en König 2009:14-16.) Die boek het onstaan in die outeur se tyd, is eerstens bedoel vir sy tyd en moet sodanig benader en gelees word (Behm 1949:3).

Beskrywings word soms ingelui met 'was soos' (Op 10:1; 11:1; 13:3, 11). Menslike taal en begrip skiet te kort om dit wat gebeur, te peil of te beskryf. Gebeurtenisse en sake word soms hiperbolies (oordrewe) gestel, as teenoorgestelde pole, as skerp teenstellings en in die oortreffende trap. Dit kan die indruk wek dat daar nie tussenposisies is nie, asof daar byvoorbeeld geen begrip daarvoor is dat volharding by sommige vervolgdes van vlees en bloed net te veel is nie (Op 21:8). Daarby is Openbaring in 'n visionêre styl gestel wat nie letterlik opgeneem kan word nie en ook nie altyd volgens ons logiese beredenering inmekaargesit is nie.

Getalle en tydsaanduidings in Openbaring (bv. die getalle 1, 3, 4, 7, 10 en 12) is nie bedoel om juiste berekenings oor sake te maak nie, maar het veral simboliese betekenis en wil die bepaaldheid en vastigheid, die goddelike heerskappy en ingryping aandui (Du Rand 2007:29, 107-109; König 2009:1725). God is ten volle in beheer van die omstandighede en van hoe lank dit duur, onder andere met die doel dat dit nie vir die vervolgdes onmoontlik raak nie (Op 13:8).

Die taal en styl van Openbaring gee ook 'n saamgedronge tekening van dinge. Verlede, hede en toekoms word soms inmekaargedruk asof dit een gebeurtenis is, selfs asof dit na net een van daardie gebeurtenisse verwys (bv. die geloofsvervolgings in die tyd van die Vroeë Kerk en van die eindtyd). Dit beteken egter nie dat daar fundamentele diskontinuïteit tussen historiese gebeurtenisse en die goddelike werklikheid, tussen geloof en die geskiedenis is nie (vgl. Gilbertson 2003:1-2, 206 oor Bultmann, Pannenberg en Moltmann; vgl. ook Brueggemann 2003:xi-xii; 391-396 oor die retoriek en imaginitive remembering as die belangrike faktor en nie die geskiedenis nie; vgl. Childs 2000:228-231 se grondige kritiek op Brueggemann 1997 se benadering veral bl. 743-750; vgl. ook Bergsma 2000:105-135).

 

Die Dawidgestalte - koningsheerskappy

Openbaring is 'n samehangende eenheidskomposisie en maak dikwels op 'n geïntegreerde wyse aanhalings uit en sinspelings op die Ou Testament, veral uit Genesis, Psalms, Jesaja, Esegiël en Daniël (Lioy 2003:108-110). Beale (1998) wy sy hele boek aan Johannes se gebruik van die Ou Testament in Openbaring.

Die inleidende gedeelte van Openbaring plaas die fokus op Jesus Christus se heerskappy en sy versoenende liefde en op die dienende koningskap van die gelowiges. Hy word genoem:

... die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. (Op 1:5-6)

Hier word in verband met Jesus Christus op Dawid in Psalm 2:6-8 gesinspeel:

Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg ... Jy is my seun, vandag het Ek jou Vader geword. Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.

Psalm 2 is messiaans en koning Dawid verteenwoordig God se koninkryksheerskappy in die Ou-Testamentiese bedeling (Ps 89:1-5). Openbaring 1:7 sinspeel op Jesaja 53:5 en op Psalm 2:8-12 ('Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag').

Die verbandlegging met Dawid integreer die Ou en Nuwe Testament en daarmee die hele geskiedenis. Dit raak die verhouding tussen die goddelike en die menslike koningskap, dié van die amptelike koning sowel as van die gewone gelowige wat regeer as die beeld, verteenwoordiger en kind van God (Gen 1:26-28; 5:1-3). Dawid verteenwoordig met sy persoonlike lewe ook die gewone gelowiges as 'n koninkryk van priesters (Eks 19:4-6; Op 1:6).

Anders as by ander volke was die koning in Israel nie die eintlike wetgewer nie, maar hy het onder die wet van die Here gestaan en was net so daaraan onderworpe soos sy onderdane. God was eintlik Israel se koning. Reg en geregtigheid was die fondament van die regering en nie die koning se mening of belange nie. Selfs die beste bedoelings is nie die maatstaf vir optrede nie, maar die Woord van God. Vir elke gebeurtenis moet dáárna geluister word soos Dawid en selfs die profeet in verband met Dawid se voorgenome tempelbou moes leer (2 Sam 7:5, 12). Die koning moes deur God se wet regeer. Hierdeur is die koningskap en die wil van God geïntegreer, veral by Dawid wat deur die profeet met die Woord tot verantwoording geroep word (2 Sam 12:7). Die onderworpenheid aan die wet staan in skerp teenstelling met die keisersaanbidding in die tyd van Openbaring.

In Dawid se geskiedenis word ook beklemtoon dat God nie onpersoonlik regeer nie, nie in 'n tempel wil woon nie, maar in mense, nie net oor mense wil regeer nie, maar in mense en wel in 'n Vader-seunverhouding (2 Sam 7:14; Helberg 2011:157). Dawid was net in oordragtelike sin die seun van God en net 'n aangenome seun (Ps 2:7). Die seunskap sou ten volle vergestalt word in die Messias wat in reg en geregtigheid sou regeer, naamlik die Seun van God wat self ook God is en wat die vyande sou verslaan (Op 21:6; Gal 4:47; Rom 8:17). Die verbandlegging met Dawid in Openbaring vertolk 'n verlange na 'n integrasie van geregtigheid en liefde wat in Dawid skaduagtig was, maar ten volle tot vervulling kom in die wonder van God in Jesus Christus se lewe, sterwe, opstanding en wederkoms.

Seibert (2012:8-12, 95-128) skryf die gebruik en misbruik van geweld in die Ou Testament toe aan die kultuurgebondenheid van die bybelse outeurs en wy sy boek aan maniere om die Bybel 'eties' en 'geweldloos' te lees. Hierdie benadering van eties mis egter werklike begronding en handel ook eerder oor die simptome as die werklike probleem van God se betrokkenheid. Verder maak Seibert nie erns met die diepgaande sondebesef in die Skrif nie.

Die evangeliste Matteus (1:1, 6, 17) en Lukas (1:32) ken aan koning Dawid 'n besonder belangrike plek toe. Dit gebeur ondanks die mislukking van die koningskap soos blyk uit die magsverlies, wat sy klimaks bereik in die ballingskap (vgl. die dalende lyn volgens Matt 1:6, 16). Ná die ballingskap verkry die koningskap in Israel nooit weer werklik 'n selfstandige of onafhanklike plek nie. Die verbandlegging met die koningskap en koning Dawid geskied nie net ondanks die mislukking van die koningskap en Dawid nie, maar juis omdat hulle misluk het. Deur Christus met Dawid te verbind, bring dié Evangelie 'n band met die ou bedeling, maar op so 'n manier dat daar iets heeltemal nuuts kom. Hierdie gevolg van 'oud maar tegelyk nuut' blyk daaruit dat die evangelis in Christus die fokus op God en sy onverwagse, wonderbare en onpeilbare heerskappy in hierdie sondige en stukkende aardse bestaan laat val. Hy bring redding vir die mensdom wat in die dodelike greep van ondergang is. Net Hy kan daardie redding bring en dit gebeur uit genade alleen, sonder 'n bydrae van die mens se kant. (Vgl. Israel se opstanding uit die situasie van ballingskap - Eseg 37:1-14).

Openbaring benadruk ook hierdie feit deur Christus te skilder as die geslagte Lam: 'n teken en bewys van God se versoenende genade. Tog bly God volgens Openbaring die regverdige regter en bly die mens verantwoordelik vir sy dade. God se straffende geregtigheid word nie opgehef nie en die boosheid van die mens verdwyn nie sommer nie. Die menslike bestaan is nog vol stryd, teleurstelling en lyding. Openbaring teken die harde werklikheid van 'n bose wêreld wat God se heerskappy minag en gelowiges dodelik vervolg. Die menslike verantwoordelikheid moet gestalte kry in berou en bekering en daarom is die boek Openbaring een groot oproep dat dit moet gebeur en is ook 'n bewys van God se ontferming en genade.

Dawid is 'n treffende voorbeeld van hoe regverdig, maar ook genadig God optree waar daar berou en bekering is. Dawid faal om geregtigheid, wat hy as koning verteenwoordig, in homself te vergestalt. Christus, van Wie hy 'n afskaduwing is, verteenwoordig en vergestalt egter regverdige heerskappy ten volle. Hy doen ook meer, Hy is ten volle diensbaar en verloën Homself ten volle. Hy is die Here, maar ook die Lam wat geslag is, die offer vir die sondes van die mens.

Dawid word nóú met die psalmdigters vereenselwig (vgl. Ps 3 en die baie psalms wat aan Dawid toegeskryf word). Vir hulle regsgevoel was dit 'n voortdurende probleem dat onreg nie gestraf word nie, dat goddeloses soveel voorspoed geniet en dat die regverdiges soveel onreg en lyding ondergaan. Hulle het die probleem altyd ten laaste aan God oorgelaat (vgl. Ps 73). Tog bly hulle klag, net soos dié van die siele van die martelare in Openbaring 6:9-10, as 't ware 'n roep dat God geregtigheid moet laat geskied. Dawid het self ook onreg gepleeg, byvoorbeeld in sy optrede teenoor Batseba en Uria (2 Sam 11). Sy lewe word egter gekenmerk deur berou en bekering. Hy was menslik gesproke in die geheel getrou aan die Here, 'n voorbeeld vir die konings (1 Kon 9:4; 14:8). Sy eintlike kenmerk was dat die Here 'by hom was' (1 Sam 18:14). Menslike verdienste gee nie in hierdie benadering van die geskiedenis die deurslag nie, maar goddelike genade. Dit is 'n waarskuwing aan die getroues in die stryd in die tyd van Openbaring dat hulle nie op hulleself moet staatmaak nie (Op 21:8).

Die koningskap van Israel bereik sy hoogtepunt in Dawid, maar die mislukking daarvan soos dit gereflekteer is in hierdie groot koning en die afdraandepad ná hom (Waltke 2007:662), word duidelik aangedui in die geslagsregister van Jesus Christus (Matt 1). Hierdie pad loop dood. Daar kom 'n nuwe, ingrypende, lewewekkende heerskappy deur Jesus Christus (Waltke 2007:701). Hy is die nuwe, anderster Dawid (Op 5:5). Hy heers deur geregtigheid, liefde en selfverloëning; Hy vereis dat 'n mens jouself moet ontdek as onregdoener en dat jy as ontvanger van genade en liefde by God selfs jou vyande moet liefhê (Matt 5:43-48).

God tree deur hierdie Seun van Hom in en betaal self die prys vir die genade wat sondaars verlos (Op 1:4-6): dit is die 'dwaasheid van die kruis' (1 Kor 1:18). Dit sluit egter nie uit dat God/Christus ook geweld gebruik nie. Die kruisiging van Jesus bewys juis dat die geregtigheid van God nie sonde ongestraf laat bly nie, maar dit eerder plaasvervangend aan sy Seun straf. Van die mens se kant gesien, gee Jesus se soenverdienste 'n troosvolle antwoord op die kwessie van geregtigheid deur plaasbekledende verlossing. Van Christus se kant gesien, bly die onreg, haat en dodelike vyandskap wat nog steeds, onbekeerlik, teen God/Christus en daarmee saam teen sy gelowiges gerig is, nog onbeantwoord. Openbaring toon wat God in sy almag hieraan gaan doen en reeds besig is om te doen. Peels (1992) stel in hierdie verband:

Die wraak van God kan omskryf word as die straffende vergelding van God wat in koninklike soewereiniteit - trou aan sy verbond - rigtend en strydend opkom vir die eer van sy naam, waak oor die handhawing van sy reg en werk aan die verlossing van sy volk. (bl. 266)

Openbaring wys ook dat God wat Homself in Christus voluit gee, met niks minder tevrede is nie as dat die mens Hom voluit tot die einde liefhet en aan Hom gee, wat die prys ookal mag wees selfs al is dit die dood (vgl. ook Deut 6:4, naamlik om God met hart en siel lief te hê). Die nuwe lewe met God deur Christus is méér as alles (vgl. ook Ps 16:2 oor God as die lewe). Indien die dwaasheid van die kruis dan vrede in 'n mens se gemoed bring, hoeveel te meer nie die dwaasheid of wysheid van die troon nie, naamlik die onbegryplike almag en wysheid van God. Dit gaan trouens om straf vir die onbekeerlikheid van die goddelose mense en die Bose. God is nie 'n gevangene van die menslike benadering van liefde nie. God is liefde, maar liefde is nie God nie.

 

Die openbaring van God wat almagtig, allesoorkoepelend en integrerend is en op wie alles gerig is

Die inleidingshoofstuk van Openbaring, soos trouens die hele boek, wys dat alles sterk Godgesentreerd benader moet word (vgl. Op 1:1-8). Dit fokus op God drie-enig in sy almag en allesoorkoepelende, lofwaardige heerlikheid en kragvolle optrede, ondanks die dodelike aanslag op Christus wat uit die dood opgestaan het. God het in sy liefde die gelowiges sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader, terwyl dié wat Christus se dood bewerk het in selfverwyt weeklaag. Die gelowiges word kragtig bemoedig en getroos, maar die volle lig val op God in sy allesoorkoepelende almag. Die fokus is nie op God as voorwerp van wat mense dink of gedink het nie, maar op God as die onderwerp (subjek). Hy het die openbaring gegee. Dit geld ook vir die geskrewe vorm daarvan. Openbaring is God se Woord, sy dekreet teenoor die menslike dekreet van die keiser. God weet wat gebeur en wat gaan gebeur. Hy gee vir sy volk wat hulle in die verskriklike lyding nodig het om in die stryd staande te bly, omdat hulle nie aan 'n menslike god glo en hom aanbid nie. Hulle het 'n vaste geloofsfondament wat vir hulle tot seën sal wees.

Die seën beteken nie dat hulle net voorspoed sal beleef nie, anders as die verwagting van die mens wat sy eie belang in plaas van God se wil die prominente plek laat inneem. Openbaring praat immers in die harde werklikheid van geloofsvervolging en troos nie met 'n onwerklike utopie van 'n probleemlose lewe nie. Daar is 'n eis aan seën verbonde: God se woorde moet naamlik ter harte geneem word.

God gee die openbaring nie direk aan Johannes of ander gelowiges nie, maar bemiddel dit. Openbaring benadruk dat God verhewe is, dat Hy die Skepper is en mense net skepsels is. God is wel die gewer van die openbaring, waaraan niks bygevoeg of weggeneem mag word om die mens te pas nie, selfs ook nie die vervolgde gelowiges nie (Op 22:18-19). Alles en almal word by die gegewe Woord van God geïntegreer en tot sy diens gestel in 'n koninkryk wat groter as hulleself is: Christus, sy dienaar Johannes, die ander dienaars, engele en die lesers (Op 1:1-3). God stel Homself met 'n plegtige verklaring bekend: 'Ek is die Alfa en die Omega'. Hy is die Here God, 'Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige' (Op 1:8).

Hierdie gedeeltes stem sterk ooreen met Efesiërs 1. Floor (2011:469-478) wys op die onthulling van die 'geheim' van hoe alles in God se geskiedenisplan met die hele skepping in Christus verenig en herstel word (vgl. ook die afdeling, 'God is verhewe bo tyd en ruimte en menselike gedagtes oor oorsaak en gevolg' hier onder). Die ooreenstemming met Efesiërs bevestig ook die integrasie en eenheid in die openbaringsgeskiedenis, net soos die integrasie van Dawid by Christus.

In Openbaring 21:5-8 praat God self, in die direkte rede. Net iemand wat geheel en al op Hom gefokus en aan Hom oorgegee is, kan in die verskriklike lyding en veragting van die geloofsvervolging en keiseraanbidding moed hou en staande bly. Dit is nie uit angs en onsekerheid dat die gelowiges in God glo en Hom dien soos soms beweer word nie. Hulle moet juis bereid wees om selfs verskriklike lyding ter wille van Hom te ondergaan. Diegene wat nie volhard nie, is volgens Openbaring 21:8 juis dié wat bang is. Wie homself nie verloën en op God en sy eer as die Een en Alles gerig is nie, kan nie standhou nie.

Die verhewenheid van God en sy bemiddelde openbaring aan die mense as skepsels maak God se omgang met die gelowiges nie onpersoonlik nie. Inteendeel, die bemiddeling geskied deur Hom wat in Openbaring 21:6 Homself identifiseer met dieselfde goddelike bekendstelling ('Ek is die Alfa en die Omega'), gevolg deur die belofte dat Hy elkeen wat die oorwinning behaal se God sal wees en daardie gelowige sal sy seun wees (Op 21:7). Hy het ons volgens Openbaring 1:5-6 so lief dat Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos het en ons sy koninkryk gemaak het, priesters vir God sy Vader, in 'n besonder noue verhouding met God.

Sy liefde word in die begin van Openbaring as 'n beheersende saak gestel. Tog word liefde in Openbaring slegs hier genoem. In Openbaring 1:5-6 word daarop gewys dat die liefde nie op sigself beskou moet word nie, maar in verhouding tot God, soos die laaste woorde dit stel: 'Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid'. Sy heerlikheid lê in heerserwees, gewigtig en magtigwees (vgl. die vertaling 'magtige teenwoordigheid' in Jesaja volgens die 1983-vertaling). Alleen Hy kan die Alfa en die Omega wees, niemand en niks anders nie, selfs nie die liefde nie. Die liefde van Christus se soenverdienste getuig trouens ook van God se geregtigheid wat die verkeerde nie ongestraf laat bly nie, maar eerder sy Seun plaasvervangend daarvoor straf laat ervaar. Christus se koms gaan dus nie net met vreugde gepaard nie, maar ook met selfverwyt van die volke (Op 1:7-8). Dit geld vir almal wat hulle nie aan Hom steur nie, maar Hom beveg soos in die geloofsvervolging gebeur. Net soos in die geval van liefde, word onreg en wat daaromtrent gebeur, godgesentreerd benader, naamlik hoe dit God en sy heerskappy raak, sy God-wees en wel enigste God-wees en hoe dit dus straf oproep.

God self beheers alles so geheel en al dat chronologie, die tyd en die tydsduur van sy optrede, heeltemal daaraan ondergeskik en diensbaar is en dus relatief word (König 2009:106). Die gelowige beleef dus die uitkoms as naby en vind sy krag in God. As God vir 'n mens die Een en Alles is, die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, dan kry alles buite Hom betreklike betekenis, byvoorbeeld die gou of die binnekort van die gebeure (Op 1:1). (Vgl. ook die naby van die dag van die Here se optrede by die Ou-Testamentiese profete deur Helberg 2011:224; ook die bespreking van Op 21:1-8 wat volg; en verder Beale 1998:164-188 oor Op 1:19.)

Synde die God wat is en wat was en wat kom (Op 1:4, 8; 4:8), sal God die heerskappy nie eers eendag uitoefen nie, maar is Hy reeds aktief daarmee besig. (Vgl. ook 'Ek is wat Ek is' in Eks 3:14; Greijdanus 1938:26, 27; Boxall 2006:31; vgl. ook Du Rand 2007:126 oor die weglating van 'wat kom' in Op 11:17; 16:5 omdat God reeds in Christus gekom het om te verlos en te oordeel.) König (2009:108) wys op die verskil met die Griekse god Zeus wat net op 'n hoë berg is, was en sal wees. God se voortdurende betrokkenheid blyk ook uit die integrering van koning Dawid by Jesus Christus en die baie verwysings na en sinspelings op die Ou Testament.

 

God is verhewe bo tyd en ruimte en menslike gedagtes oor oorsaak en gevolg

Openbaring 21:1-8 verkondig en benadruk dieselfde as Openbaring 1 en laat die allesoorkoepelende regering van God nog sterker na vore kom. Hier is God self aan die woord, en sy woorde 'is betroubaar en waar' (Op 21:5). Hulle moet dus opgeskryf word as bemoediging vir diegene wat in die geloofstryd volhard. Wat hier oor die nuwe hemel en die nuwe aarde, oor die lewende water en die innige verhouding met God verkondig word, staan vas. Daarvoor is die geskrewe Woord en Christus as die Woord 'n kragtige bemoediging. Dit staan egter ook vas dat die mense wat nie in die geloofstryd volhard nie, asook die goddeloses verskrikking sal ervaar.

Die uitdrukking Alfa en Omega in Openbaring 21:6, ook geïnterpreteer as die Eerste en die Laaste, word deur Christus op Homself toegepas en dit omraam die Openbaringboek en sy verkondiging (Op 1:8, 17; 2:8; 22:13). Dit sluit ook aan by Jesaja 44:6 en 48:12 (vgl. 41:4) en beteken dat God as skepper die geskiedenis begin en dit by die eskaton beëindig. In sy almag oefen Hy ook volle heerskappy uit oor alles wat tussenin gebeur (Bette et al. 2000:427; Beale 1999:1055; Osborne 2002:738). Hy is die bron en die doel van alles (Witherington III 2003:256). Alles voldoen aan die doel van God se ewige raadsplan (De Moor 1926:440). Die verskillende werkwoordtye en die spronge tussen gebeurtenisse van die verlede, hede en eskatologiese toekoms (Beale 1999:1074) hang ten nouste daarmee saam dat God en dit wat Hy doen, bo tyd en ruimte verhewe is. Hy is ewig, steeds en deurentyd daarmee besig (Greijdanus 1938:318). Die gelowiges se name staan reeds in die boek van die lewe geskrywe (Op 22:11). Wie kwaad doen, gaan voort om kwaad te doen.

God oorkoepel en integreer die stoflike/konkrete en die geestelike/onsigbare. Hy laat 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde kom (Op 21:2). Verder oorkoepel en integreer Hy tyd en gebeurtenisse, die geskiedenis, asook menslike inspanning en goddelike redding. Net soos ruimte en tyd het menslike volharding en menslike prestasie of verdienste in die redding relatiewe betekenis, want God sê:

Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die Einde. Dit het klaar gebeur. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. (Op 21:6)

Volgens die hele verband gaan dit om God wat agter alles is en wat ewig is. Alles wat gebeur het, nou gebeur en nog sal gebeur, is vir Hom geïntegreer in een gebeurtenis, in nou. Alles (gister, vandag en more) staan reeds vas volgens sy bepaling daarvan. (Die vraag of die uitdrukking 'dit het klaar gebeur' op die eskatologiese gebeurtenisse of op die betroubare woorde in Op 21:5 slaan, is dus vir hierdie artikel onbelangrik; vgl. Aune 1998:1126.)

Die oordeel oor die mense word gefel volgens wat in die boek van die lewe staan; hulle sal dus enersyds geoordeel word volgens hulle dade, volgens die regverdigheid van God se oordeel. Andersyds gebeur dit volgens Openbaring 1 se getuienis dat alleen God voorop staan en dat sy genade en versoening net in en deur Christus realiseer (Behm 1949:106; König 2009:375-376). Dit is ten diepste nie aan die mens en sy dors te danke dat God optree en dat die mens deur lewende water verlos word nie. Inteendeel, wanneer die mens dors word, besef hy dat God dit bepaal en bewerk het en dat Hy die oplossing bied (vgl. ook Jes 55:1).

God maak die gebeurtenisse doelgerig, ondanks die bose, lyding, onreg, ensovoorts. Aan die einde van Openbaring is daar weer 'n tuin en 'n lewensboom soos aan die begin van die skepping. Ondanks die aanslag van Satan hou God sy werk in stand (König 2009:377).

Menslike verantwoordelikheid word in Openbaring baie sterk beklemtoon, asook die mens se sondigheid en onvermoë om die verantwoordelikheid na te kom. Die mensdom moet besef hoe afhanklik hulle van God is, veral van sy genade. Dit geld ook van die sterk eis vir menslike verantwoordelikheid enersyds, en die sterk verkondiging van die goddelike voorbeskikking en uitverkiesing andersyds. God gee die ware lewe verniet, maar Hy vereis inspanning en volharding by dié wat dit ontvang. Hy integreer gawe en eis. Om die ware lewe te ontvang en te behou, is ook 'n saak van stryd en oorwinning. Mense se huidige gedrag is 'n aanduiding van hulle uiteinde (Lioy 2003:158).

Alles gebeur onder God se toelating; Hy bepaal dinge en stel daarom ook perke daaraan. Die ruiter met die naam Die Dood wat verskrikking oor die aarde saai, is byvoorbeeld net 'mag oor 'n kwart van die aarde gegee' (Op 6:8). Integrasie met God veronderstel steeds dat Hy die skepper is en die mense skepsels. Skynbaar is onreg en die bose/Bose in beheer van sake, maar in werklikheid is God in beheer; Hy het sake geïntegreer deur sy goddelike almag as Vader, deur die lewewekkende gebeurtenis van sy Seun Jesus Christus se dood en opstanding en deur die krag van die Heilige Gees (Op 1:4; 3:1; 4:5; 5:6).

God laat die Woord na sy kerk toe kom, verteenwoordig deur (geïntegreer in) die sewe gemeentes (Op 2-6) en Hy toets, vermaan en bemoedig hulle daarmee (vgl. die opdragrefrein om te hoor wat die Gees vir die gemeente sê in Op 2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22; die agtergrond hiervan is Jes 6:9-10 ten opsigte van Israel wat horende doof is; Beale 1998:316). By die Ruiter op die wit perd val die klem dus nie op krygswapens nie, maar op Hom, gewapen as die Woord van God en as die Getroue en die Betroubare, wat vergestalt word in Jesus Christus (Op 19:13; vgl. ook Joh 1; Behm 1949:100-101).

Dieselfde gedagte van integrasie verskyn in Psalm 1, wat verkondig dat indien die mens hom dag en nag met die Woord besig hou, hy tot die ontdekking kom dat God alreeds met hom besig is. Hy is dan soos 'n boom wat deur God uit dorre grond oorgeplant is en deur God se Woord as die lewende bron gevoed word (Miller 1986:83; Helberg 2006:7). Die mens is dus nie in sy geloofstryd aan homself oorgelaat om te volhard en te oorwin nie. Inteendeel, hy word deur God daartoe gebring. Hy hoef nie in vrees te leef dat dit dalk vir hom te veel gaan word en hy in die geloof sal beswyk nie. Wat hy wel moet doen, is om homself geheel en al in vertroue op God te verlaat en nie op homself en sy eie vermoë te vertrou nie.

Openbaring 21:6-7 toon dat 'n mens nie kan ontrafel hoe God se optrede en dié van die mens presies inmekaarsteek nie. God is net so min aan die menslike beredenering van oorsaak en gevolg gebind as wat sy optrede aan die menslike chronologie gebind is. 'n Mens kan nie eers die tyd van Christus se koms bereken of deurgrond nie (Matt 24-25), hoeveel minder dan God se regterlike optrede en straf. Die belangrike wat geopenbaar word, is dat God nie die onreg en goddeloosheid ongestraf laat nie.

Openbaring wil sy lesers se lewens beïnvloed en hulle tot geloofsvolharding aanspoor deur die aardse hede binne die konteks van die uiteindelike temporele en ruimtelike horisonne te plaas: verlede en toekoms, hemel/bo en aarde/onder (Gilbertson 2003:79-85, 107). Hiermee word die menslike verstaanshorison verruim en die fokus word op die goddelike gedagtes en optrede geplaas wat hoër as die menslike is. Dit vind sy klimaks in die aankondiging van die nuwe hemel en die nuwe aarde (Op 3:12; 21:2, 10), waarin Johannes nie 'n tempel sien nie. Die teenwoordigheid van God oorheers alles. Die skeiding tussen hemel en aarde is opgehef en die aardse en eskatologiese vyande is oorwin.

God straf die sonde ook nie buitensporig nie. Die wraakroep en die ontsettende straf vir mense (bv. in Op 21:8) moet teen die agtergrond van die monsteragtige vervolging van die gelowiges gesien word en in die lig van die visionêre en oordrewe styl van die apokaliptiek.

Die stelling Dit het klaar gebeur en dat die tyd vir bekering verby is, moet dus nie chronologies of fatalisties verstaan word nie, maar in die lig van die geïntegreerdheid van alles by God en van die uitnodiging aan almal wat dors het (Op 21:6-7). (Vgl. ook Jes 55:8-9 en 40:3 oor die onbegryplikheid van God se optrede en sy geduld, ontferming en liefde.)

 

Persoonlike integrasie: Die lewende, lewewekkende en persoonlike God - buite Hom is disintegrasie

Soos reeds gesien, dra integrering (saamvoeging, kombinering) in Openbaring 'n sterk persoonlike karakter. Alles is in die drie-enige God, die almagtige Regeerder, die lewende, lewewekkende en persoonlike God geïntegreer (Op 21:1-7). Die integrasie word tot volle vervulling gebring in en deur die nuwe Dawid, die eintlike Koning, die Here van die heersers (Op 17:14; 19:16), die Koning wat ook die geslagte Lam is wat deur sy bloed versoening bring (Op 7:14; 12:11; 22:14). Hy laat 'n nuwe Israel tot stand kom, 'n koninkryk, priesters wat bereid is om Hom en sy Vader enduit te dien, selfs al kos dit hulle lewe (Rist 1957:370; Du Rand 2007:128). Alles gebeur deur Jesus Christus en die Heilige Gees deur wie alles nuut word (Op 5:5; 22:16; 1:4-6). Dit word skaduagtig en gebroke in Dawid gesien en in almal wat in God glo (Op 4:8-11; 5:914; 15:2-4).

Die integrasie geskied in 'n groeps- sowel as individuele verbondsverhouding: 'n persoonlike, wederkerige verbon denheid met God soos 'n ouer-kindverhouding ('sy God wees', 'my seun wees', 'hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God'; Op 21:3, 7). Die integrasie gaan gepaard met integriteit by die gelowiges wat in die stryd van die geloof volhard (Op 2:7, 11, 17, 26; 3:5, 12, 21) sowel as die ander mense wat die waarskuwing om te bekeer ter harte neem en die uitnodiging aan die dorstiges aanneem (Op 22:2, 3, 17).

Net by God is daar lewe; buite Hom is daar dood, disintegrering en uitmekaarskeuring. By Hom is die lewende water (Op 22:1-2, 17), maar sonder Hom is daar net dors en 'n vuurpoel. Diegene wat die uitnodiging van Christus versmaai, is horende doof en siende blind vir die lig van die nuwe Dawid wat die verkondiging van die ou en die nuwe bedeling integreer en tot volle vervulling bring - Hy wat die blink Mörester is wat die volle lig aankondig (Op 22:16; Num 24:17). Wat by Christus se geboorte aangekondig is, gebeur voluit: God is by ons, Immanuel (Matt 1:23; vgl. ook Jes 7:14 en 8:8).

Liefdesoptrede alleen werk nie vir alle mense nie. Volgens Openbaring kom daar 'n tyd dat die onbekeerlikheid ryp is vir die oordeel. Daar is mense in wie die Bose en boosheid geïnkorporeer is en wat 'n valse integrasie vorm, sodat dit wat positief behoort te funksioneer, in die negatiewe omgekeer is.

Daar is 'n volhardende anti-goddelike faktor wat op God se heerskappy aanspraak maak. Hierdie faktor span al sy kragte in om deur verleiding en vervolging die erkenning wat God ontvang, uit te doof. Waar die erkenning van God se heerskappy die ware lewe, verlossing en vryheid bring, bring hierdie verknegting, vervolging en die dood soos blyk uit die keiseraanbidding en die vervolging in die finale eindtyd. Hierdie boosheid word gestraf en is 'n verhoring van die mens se versugting na geregtigheid, verteenwoordig deur die psalmdigters en die siele van die martelare onder die altaar. Christus/God self sal dit doen. Dit moet aan Hom oorgelaat word om op sy tyd en manier op te tree.

Wat presies die lot behels van die onbekeerlike, die Bose en sy trawante wat anti-goddelik en anti-lewe is, is nie duidelik nie. Openbaring is apokalipties en visionêr en kan nie letterlik opgeneem word nie. Wat duidelik is, is dat God voluit regeer, dat onreg gestraf word en dat diegene wat hulle bekeer, verlos word. Daar is egter ook die onbekeerlikheid en die Bose op wie die boosheid boemerang en wat tegelykertyd God se straf op die boosheid is. Waar die band met die lewende God verwerp word, is daar disintegrasie.

Openbaring wys die bron van die boosheid aan, naamlik die Bose, die Satan, maar gaan nie in op die vraag na sy oorsprong nie. Net soos Genesis 1-3 oor die begin van die menslike geskiedenis handel, is die fokus hier op die mens se verantwoordelikheid, insluitende sy skuld ten opsigte van die onreg en lyding op die aarde.

 

Alles word nuutgemaak deur die opstanding van Jesus Christus

God straf onreg en laat reg seëvier soos bewys in die lewe, lyding, sterwe en opstanding van Jesus Christus. Vir dié wat in God se verlossingswerk in Christus glo, is daar versoening en ware lewe (vgl. die afdeling, 'Die Dawidgestalte -koningsheerskappy' wat vantevore bespreek is).

Die dood en opstanding van Christus bring nie alleen 'n groot vernuwing nie, daarvoor is die huidige wêreld se sondigheid en gebrokenheid te grondig. Dit roep na 'n verandering tot in die wortel, na 'n herskepping (Op 21:5; vgl. Jes 43:19; ook 2 Kor 5:17 se verbandlegging tussen Jes 43:18-19 en 65:17 en die dood en opstanding van Jesus Christus; Beale 1999:1052; Aune 1998:1125). Hierdie herskepping beteken nie 'n vernietiging of verdwyning van die bestaande nie, maar 'n nuwe integrasie (vgl. ook Osborne 2002:737). Die koninkryk van God is nie revolusionêr of bloot evolusionêr nie, maar dit is soos dood en opstanding. Daar is kontinuïteit in God se koninkryksheerskappy tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament.

Die vernuwing dui veral op die ware en persoonlike verhouding tussen God en die mens. Dit is deur die liefde gedrewe soos bewys is in die liefde van Christus, met as vrug die liefde vir Hom met hart en siel, met 'n diensbaarheid en dankbaarheid wat bereid is om vir Hom te leef en te sterf. Dit vra die uiterste volharding. Hy gee die sekerheid dat Hy van alles weet en die gelowiges bystaan. Tussen Hom en die gelowige bestaan daar 'n innige en lewende verhouding wat meer is as alles wat vir 'n mens gegee of van jou weggeneem kan word. Hierdie belangrike en bemoedigende feit lê opgesluit in die woorde van Openbaring 21:6-7:

Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. (vgl. ook Jer 31:31-34; Eks 19:4-6)

 

Samevatting en gevolgtrekking

Vanweë die geweldsoptrede in Openbaring ondersoek hierdie artikel of die regering in liefde dalk plek maak vir 'n geweldsregering. Die antwoord word gesoek in die apokaliptiese styl van die boek, in God se selfbekendstelling wat die boek omraam en beheers en in die fokus op koning Dawid. Die bevinding is dat Openbaring in sy apokaliptiese taal en styl (oortreffende vergelykingstrappe en skerp teenstellings) aansluit by die harde werklikheid van die verskriklike geloofsvervolging. Die boek troos, bemoedig en waarsku die gelowiges van destyds en vandag om in die stryd van die geloof te volhard, omdat Christus weer kom as die finale oorwinnaar en vir die uiteindelike en finale afrekening. Die verbandlegging met Dawid vertolk 'n verlange na integrering van geregtigheid en liefde wat in Dawid skaduagtig was en ten volle tot vervulling kom in die wonder van God in Jesus Christus se lewe, sterwe, opstanding en wederkoms. Die verskriklike tekening van die lot van hulle wat buite Hom is, is 'n geïntegreerde verkondiging van straf en van liefde. Dit is 'n ernstige en onophoudelike waarskuwing en dringende oproep tot bekering; 'n uitnodiging aan almal wat dors het om by Hom verniet van die water van die lewe te drink. Die straf is tegelyk die goddelike antwoord op die mens se sug na geregtigheid soos deur die psalmdigters en die geloofsmartelare geuiter. Hierdie verkondiging is implisiet 'n opdrag aan die gelowiges om uit liefde vir die naaste en vir God, mense te evangeliseer.

In die Openbaringboek word egter nie op die mens gefokus nie, maar voluit op God wat self sy Woord gee en alles doen en bepaal. Openbaring verkondig dat God alles integreer: Dawid en Christus, die Ou en Nuwe Testament; dus die hele geskiedenis en die skepping, ja, alles: ruimte en tyd, menslike inspanning en goddelike bepaling, goddelike geregtigheid en liefde, straf en genade. Selfs in chaotiese omstandighede en gebeurtenisse is alles geïntegreer en daarom sinvol en doelgerig. Selfs die negatiewe en anti-goddelike getuig uiteindelik van God se koninkryksheerskappy.

Die fokus op Dawid in Openbaring beklemtoon 'n koning en/ of regeerder, asook 'n gewone persoon se onderworpenheid aan God en sy wil soos wat dit in sy wet en die Woord gegee is. Verder beklemtoon die fokus die persoonlike verhouding tussen God/Christus en die mens, asook die belangrikheid om na die wil van God te lewe. Voorts word die mens se mislukking om sy deel na te kom asook die belangrikheid van berou en bekering benadruk.

Nie die eie verdienste of onderhouding van die wet bewerk verlossing nie, maar alleen God se genade in Christus. Hierdie geloof in God gaan gepaard met algehele en volhardende oorgawe en vreugdevolle diensbaarheid aan Hom. Buite Hom as die lewende, lewegewende en persoonlike God is daar net disintegrasie.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Aune, D.E., 1998, Revelation 17-22, Nelson, Nashville. (Word Biblical Commentary).         [ Links ]

Beale, G.K., 1998, John's use of the Old Testament in Revelation, Sheffield Academic Press, Sheffield. (Journal for the Study of the New Testament Supplement Series, 166).         [ Links ]

Beale, G.K., 1999, The book of Revelation, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Behm, J., 1949, Die Offenbarung des Johannes, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen. (Das Alte Testament Deutsch).         [ Links ]

Bergsma, J.S., 2000, 'Useful for the church? Critique of W. Brueggemanns' "Theology of the Old Testament"', Calvin Theological Journal 35(1), 105-135.         [ Links ]

Bette, J.C., Van den Brink, G. & Zwiep, A.W. (reds.), 2000, Bijbelcommentaar Openbaring: Studiebijbel Nieuwe Testament, Studiecentrum voor Bijbelonderzoek, Veenendal.         [ Links ]

Boxall, I., 2006, The Revelation of Saint John, Hendrickson, London. (Black's New Testament Commentaries).         [ Links ]

Brueggemann, W., 1997, Theology of the Old Testament: Testimony, dispute, advocacy, Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

Brueggemann, W., 2003, An introduction to the Old Testament: The canon and Christian imagination, Westminster John Knox, Louisville.         [ Links ]

Childs, B.S., 2000, 'Walther Brueggemann's "Theology of the Old Testament: Testimony, dispute, advocacy"', (Article review), Scottish Journal of Theology 53(1), 228-231. http://dx.doi.org/10.1017/S0036930600050742        [ Links ]

De Moor, J.C., 1926, De hemel geopend: De Openbaring van Johannes, Kok, Kampen.         [ Links ]

Du Rand, J., 2007, Die A-Z van Openbaring: 'n Allesomvattende perspektief op die boek Openbaring, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.         [ Links ]

Floor, L., 2011, 'Een blauwdruk voor de toekomst, Efesiërs 1:9-10', In die Skriflig 45(2 & 3), 467-480.         [ Links ]

Gilbertson, M., 2003, God and history in the Book of Revelation: New Testament studies in dialogue with Pannenberg and Moltmann, Cambridge University Press, Cambridge. (Society for New Testament Studies, Monograph Series, 124).         [ Links ]

Greijdanus, S., 1938, De Openbaring des Heeren aan Johannes, Kok, Kampen. (Korte verklaring der Heilige Schrift).         [ Links ]

Groenewald, E.P., 1986, Die Openbaring van Johannes, NG Kerkuitgewers, Kaapstad. (Skrifuitleg vir Bybelstudent en gemeente).         [ Links ]

Helberg, J.L., 1994, Die boek Daniël, NG Kerk-uitgewers, Kaapstad. (Skrifuitleg vir Bybelstudent en gemeente).         [ Links ]

Helberg, J.L., 2006, 'Die verhouding tussen Psalm 1 (en 2) en die ander psalms oor vyande', In die Skriflig 40(1), 1-17. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v40i1.330        [ Links ]

Helberg, J.L., 2011, Die Here regeer: Openbaringslyn deur die Ou Testament, Administratiewe Buro GKSA, Potchefstroom.         [ Links ]

König, A., 2009, 'n Perspektief op Openbaring, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.         [ Links ]

Lioy, D., 2003, The book of Revelation in Christological focus, Peter Lang, New York. (Studies in Biblical Literature, 58).         [ Links ]

Miller, P.D., 1986, Interpreting the psalms, Fortress, Philadelphia.         [ Links ]

Osborne, G.R., 2002, Revelation, Baker Academic, Grand Rapids. (Baker Exegetical Commentary on the New Testament).         [ Links ]

Peels, H.G.L., 1992, De wraak van God, Uitgeverij Boekencentrum, Zoetermeer.         [ Links ]

Peels, H.G.L., 2007, God en geweld in het Oude Testament, Theologische Universiteit, Apeldoorn. (Apeldoornse Studies, 47).         [ Links ]

Rist, M., 1957, 'Revelation', in G.A. Buttrick (ed.), The Interpreter's Bible, vol. 12, pp. 345-613, Abingdon, New York.         [ Links ]

Rowland, C.C., 1998, 'The book of Revelation', in The New Interpreter's Bible: General articles & introduction, commentary & reflections for each book of the Bible in twelve volumes, vol. 12, pp. 501-736, Abingdon, Nashville.         [ Links ]

Seibert, E.A., 2012, The violence of Scripture: Overcoming the Old Testament's troubling legacy, Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

Waltke, B.K. & Yu, C., 2007, An Old Testament theology: An exegetical, canonical, and thematic approach, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

Witherington III, B., 2003, Revelation, Cambridge University Press, Cambridge. (The New Cambridge Bible Commentary).         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Jaap Helberg
PO Box 509, Potchefstroom 2520, South Africa
Email: jaaphelberg@telkomsa.net

Received: 26 July 2013
Accepted: 29 Oct. 2013
Published: 20 Mar. 2014

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License